weet waarvan jy beskuldig staan - dat jy bystand aan Schoeman verleen het, wat verraad is teen die regering. Wat het jy te sê?’
Broderick was, behalwe sy ander geestesgawe, ook 'n goeie akteur. Hy skyn 'n tyd lank in vertwyfeling te verkeer en toe hy antwoord, was dit langsaam en stemmig.
‘Kommandant, ek weet nie wát om te sê nie. Om eerlik te verklaar of ek skuldig of onskuldig is, kan ek nie. Miskien sal jy my uit die moeilikheid kan help, Kommandant?’
‘Hoe kan ek jou help?’ vra Paul Kruger. ‘Dit is jy wat beskuldig word, nie ek nie.’
‘Nou ja,’ vervolg Broderick, ‘ek sal in elk geval my moeilikheid aan jou duidelik maak: In hierdie saak is ek net mooi in twee verdeel - in die middel deur. My linkerkant het hulp en raad aan Schoeman verleen - ek kon nie anders nie; maar die regterkant van my het trou gestaan by die kant wat jy verteenwoordig, Kommandant.’
‘Ek dink jy stel jou die saak moeiliker voor as wat dit werklik is,’ antwoord Paul Kruger. ‘Vir my skyn dit baie eenvoudig, só eenvoudig dat ek in staat is om dadelik die vonnis van die hof uit te spreek: Burger Broodryk se linkerkant, jy pleit skuldig op aanklag van hoogverraad. Die hof beboet jou vir die misdaad met vyfhonderd riksdalers en die laer-kommandant sal beslag lê op die linkerkant van jou liggaam en die linkerbeen in die blok sluit totdat die bedrag betaal is.
Burger Broodryk se regterkant, ek verwelkom en groet jou as 'n getroue burger van die staat ... Ons het maar min in Pretoria aangetref. Jy weet natuurlik dat die regering 'n kommando opgekommandeer het om die staat te beskerm en daar jy, getroue burger, nie in staat was om diens by die kommando te doen of 'n plaasvervanger te stuur nie, is dit vir my 'n genoeë om jou die kans te gee om op ander wyse by te dra, waaroor jy natuurlik bly sal wees.
Burger Broodryk se regterkant, ek kommandeer van jou tien slagosse ter ondersteuning van die kommando tans onder die wapen.’
Daar was 'n groot gelag, maar nie aan die kant van Broderick en sy maats nie!