Maar vir ons was die grootste bewys van alles haar gedrag ná sy die eiers gelê het. Dit is natuurlik nie wetenskaplike bewys nie. Ons wil die verband van oorsaak en gevolg vasstel en dan neem ons die gevolg as bewys van die oorsaak! Die leser sal egter insien dat algemene kennis van dierlike gedrag op sigself bewyse kan lewer. Wanneer ons vertel dat ons by die eerste gewaarwording dadelik seker was dat die liggaamlike bewegings van die koningin 'n gevolg van pyn was en dat ons toe dadelik kon voorspel dat sy in alle waarskynlikheid haar eerste kleintjies sou versorg, ofskoon beide dinge so onwaarskynlik was as enigiets in die natuur ooit kan wees, dan beteken dit dat ons 'n klein bietjie spesiale kennis besit wat desnoods 'n bewys kan lewer. Ons het voor die tyd reeds vermoed dat geboortepyn die sleutel in die natuur was om die moederliefdekompleks gevoelig te maak.
Laat ons nou sien wat haar volgende gedrag was. (Ons veronderstel dat die leser die geleentheid het vir waarneming, wat ons onmiddellik hierna sal beskrywe.)
Op die klein tuinkoekie waar die eerste eiers gelê word, sien jy die koning of koningin gedurig ronddwaal. Hulle is meestal besig met besproeiing en bemesting van die paddastoelplantjies. Spoedig verskyn die eerste larwes. Jy sien hulle in die tuin beweeg. Klein, spierwit, hulpelose babatjies, maar alreeds kan jy die soorte onderskei: die sogenaamde soldaat en die gemandibuleerde werker. Die koningin verskyn tussen hulle. Jy sien iets blink in haar monddele. In die ligstraal skitter dit helder soos 'n deurskynende en vleklose diamantjie. Onder vergroting sien jy dat dit 'n druppeltjie vloeistof is. Sy raak een babatjie na die ander aan; hulle lig hulle koppies en jy sien die druppel in hulle monddele verdwyn. Die koningin is besig om haar kleintjies te voer.
Soos ek tevore gesê het, is iets dergeliks by 'n insek van dieselfde rang van ontwikkeling onbekend. Die naaste daaraan deur enige waarnemer vermeld, is die verklaring van Von Buttel-Reepen dat 'n sekere Halictus-by haar eiers so stadig lê dat die eerstes uitgebroei is voor sy met die laastes klaar is, sodat sy met haar eie lewende kleintjies in aanraking kom. Ek dink dit is blote toeval; maar selfs dit is so 'n uitsondering op die natuurreël dat dit spesiaal en met nadruk vermeld word. Van versorging en voeding is daar g'n sprake nie.
En met hierdie voeding en voorbereiding van die eerste soldate en werkers kom die enkeling-arbeid van die koning en koningin tot 'n einde en ook die kans van verder aanhoudende waarneming. Daarna word die gemeenskap so ligsku dat die gewone metodes van waarneming onmoontlik is.
En hier wil ek die leser op iets attent maak wat op sigself net so geheimsinnig is as die vervoer van die koningin van een kamer na die ander - geheimsinnig as 'n mens die oplossing van mieregedrag nog nie ontdek het nie: die koning en koningin besit nie die ligsku-instink nie. Hulle is gewone, gevleuelde insekte, en kort tevore het ons hulle nog buite in die oop lug en lig sien rondvlieg. Die sol-