| |
10 Pyn en Geboortepyn in die Natuur
Ons gaan van nou af die eerste gesamentlike gedrag van die koning en die koningin meer in besonderhede aanskou en ons gaan die drie wonderlikste dinge sien wat miskien in die hele natuur te vind is. Die woord wonderlik word in hierdie verband met voorbedagte rade gebruik. Gewoonlik is dergelike woorde ontuis in die wetenskap, want enige gebeurtenis in die natuur is - uit een oog- | |
| |
punt - net so wonderlik as enige ander. Maar dié woord is geregverdig wanneer jy 'n gebeurtenis teëkom wat so 'n groot uitsondering is op die natuurreëls waaraan jy gewoond is, dat dit na 'n mirakel lyk; en so 'n gebeurtenis verskaf die eerste gesamentlike gedrag van die termietkoning en -koningin. Dit het een waarnemer herinner aan die Goeie Fee in die sprokie. Jy sien haar een gebaar met haar towerstokkie maak, en voor jou oë verander die pampoen in 'n rytuig, en die muise word spogperde.
En net so wonderlik as die gebeurtenisse wat ons gaan beskrywe, is die feit dat die werklike betekenis baie maklik vir selfs geoefende toeskouers verborge bly. Ons weet byvoorbeeld dat die waarnemer Grassie dieselfde dinge onder baie gunstige omstandighede gesien het en die werklike betekenis - en derhalwe ook die wonder - het hom ontwyk. Dit hang natuurlik af waarin die toeskouer meer bepaald geïnteresseerd is. Ons wat maar let op gedrag en 'n bietjie daarin geoefen is, sien natuurlik dinge wat die entomoloog ontgaan. Sy opmerkingsgawe is toegespits op vorm; hy dink meer aan benaming en rangskikking; vir hom is die dooie dier dikwels van meer waarde en belang as die lewende. Ons wil vir geen oomblik te kenne gee dat sy werk daarom minderwaardig is nie. Dit is van groter belang, miskien, as rein sielkundige ondersoek; en baie moeiliker, dermate dat dit veel minder interessant is. Ewenwel, as die geoefende entomoloog die dinge miskyk, watter kans het die leser wat ongeoefen is in alle natuurkundige ondersoek?
Die leser volg dus noukeurig wat nou kom, stappie vir stappie. Ons sal probeer om dit baie duidelik te maak en ook probeer om duidelik te maak hoe die dinge in die groot natuurskema pas, en - die laaste en belangrikste - hoe dit alles die mens raak.
Ons keer nou terug na die gedrag van die koning en die koningin in hul nuwe, onderaardse omgewing.
Die leser moet goed verstaan dat tot op die moment dat die eerste tuin gemaak en beplant is en die eerste eiers gelê word, is twee goggatjies, gewone viervleuel-neuroptiese insekte, besig met huisbou en eiers lê net soos duisende ander om hulle heen. Dit is waar, hulle het hul vlerke kwytgeraak; maar hul gedrag bly nog dié van rein gevleuelde insekte. Maar van nou af aan gebeur dinge so sonderling, so verbasend, dat die natuurkenner homself gedurig hoor sê: dit kan nie wees nie, dit kan nie wees nie! Maar dit is!
Daar is drie afsonderlike vorms van gedrag wat van die ondersoeker die noukeurigste studie vereis, want die belang daarvan vir die algemene vergelykende sielkunde kan nooit vergroot word nie.
Die eerste is die gedrag van die koningin terwyl sy besig is om haar eiers te lê; die tweede is die versorg en voer van die eerste babatjies; en die derde is die finale metamorfose van die koningin.
Ons sal die drie in die gegewe volgorde behandel.
| |
| |
Terwyl die koningin besig is om haar eiers te lê, stoor die soekliggie haar minder as onder enige ander omstandighede. (Ons sal later metodes van waarneming beskrywe.) Dit is duidelik dat die vername werk voorhande haar aandag so volkome in beslag neem dat selfs so 'n kataklisme as die skielike inslaan van 'n elektriese ligstraal haar nie langer verskrik nie.
Sy maak snaakse voorbereidings. Lank voor die proses begin, staan sy op die plekke waar die eerste eiers gelê moet word. Haar liggaam is in gedurige beweging. Die voelhorings swaai in sirkels, en die kake roer onophoudelik. Telkens lig sy die agtergedeelte van haar lyf, net soos toe sy haar eerste sein aan haar toekomstige gemaal uitgestuur het. Twee of drie maal voordat die eiers werklik gelê word, draai sy om en visenteer die grond asof sy verwag om iets te sien. Met die werklike lê van die eiers verdubbel al die liggaamlike bewegings. As dit klaar is - die eerste klompie - draai sy weer om en ondersoek hulle lank en noukeurig. Sy raak hulle saggies met die kake en voorpote aan en dan lê sy vir 'n tyd bewegingloos by hulle.
Wat beteken dit alles? Die toeskouer sien in werklikheid een van die beloofde wonderlikste dinge wat hy ooit in die natuur sal raakloop. Die weerga daarvan sal hy nooit weer by 'n gevleuelde insek sien nie - nooit weer by enige insek van soortgelyke ontwikkeling nie. En hy sal nooit op die spoor daarvan kom nie, tensy hy die kans gehad het om dieselfde gedrag gade te slaan in 'n dier wat 'n bietjie hoër die trap op is. Hy sien buitendien die eerste, vroegste uitwerking van 'n kompleks wat 'n magtige rol speel in die diep ontaarde en onnatuurlike toestand van die mens. Hy sien die eerste verskyning van geboortepyn in die natuur. Geboortepyn by 'n gevleuelde insek? Dit kan nie wees nie! Maar dit is! Hoe weet ons dat die gedrag die gevolg is van pyn? - Ons sal netnou sien. Dit, ten minste, is buite alle twyfel bewysbaar.
Die leser is bekend met die gewone reël van eiers lê in die natuur - vernaamlik onder gevleuelde enkel-insekte. Die moeder maak gewoonlik 'n huisie, prop dit vol kos en lê haar eiers daarin, net so maklik, net so onbesorg as wat sy eet of drink of haar voelhorings skoonmaak. Die gelukkige vader maak nooit sy verskyning nie. Ná die wittebroodsdae is sy aandeel aan die gesamentlike arbeid gedaan - wie praat van werk? En met die maak van die huisie en die verskaf van kos is die arbeid van die moeder ook gedaan. Daarna laat sy Gods water oor Gods akker loop. Sy sien haar babatjies nooit. As sy hulle toevallig moes sien, sou sy hulle nie ken nie, want hoe kan Madame, so hoog-geskilderd en so fyngepoets, ooit geboorte gegee het aan dié snaakse papies of dié vormlose wurmpies? Ek wonder of die leser nog 'n ander wonderlike ding opgemerk het. Val dit hom nie by dat hy nog nooit 'n insektebabatjie gesien of van gehoor het nie? Hy weet hulle is wurms, dan papies, en uit die papie kom die imago, die volmaakte, volwasse insek wat nie van die ouers te onderskei is nie. Maar 'n klein, wit insektebaba, net soos 'n mensebaba wat nooit enige metamorfose on- | |
| |
dergaan nie; wat swak en hulpeloos gebore word en stadig groei en sterk word, presies net soos 'n mensebaba? Dit, natuurlik, het die leser nog nooit tevore gesien nie.
Daar kom wel soortgelyke gevalle voor, maar nooit by 'n insek van dieselfde natuurrang as die termietkoningin nie. Ons sal die gedrag van 'n ander dier beskrywe wat ook as 'n insek geklassifiseer word, maar wat sielkundig onder die soogdiere kom: die Suid-Afrikaanse skerpioen. Dit sal help om hierdie dinge te verstaan en die afwyking sal die leser gedoë, want ons is in werklikheid in die nabyheid van die brandende braambos van die vergelykende sielkunde. Dit betaam ons om geestelik blootsvoets en sorgvuldig te loop.
Onder my mak skerpioene was een reuse-dame wat 'n groot vermaardheid verwerf het. Sy was vyf en 'n half duim lank. Sy het haar oorspronklik aan mnr. Charlie Pienaar (ons gewese handelskommissaris in Europa) voorgestel deur, in sy bysyn, 'n volveerde hoenderkuiken dood te steek. Sy het die kuiken aan die poot beetgepak en vasgehou en haar dodelike lans net een maal gebruik. Die deurboring was kort bo die beengewrig. Die kuiken was binne 'n paar sekondes totaal verlam en binne tien minute het die dood ingetree. Later het sy so mak geword en my so goed geken dat ek my pinkie skielik voor haar kon stoot en haar kon toelaat om dit met altwee knypers beet te pak. Sy bring haar naald oor totdat die punt teen die vel druk, en dan eers word sy my gewaar. Dadelik verslap die lyf en die gevaarlike wapen kom weer tot rus. Ek kon haar op alle maniere hanteer. Sy was lief om saggies gekrap te word.
Kort ná ons haar gekry het, het dit ons duidelik geword dat 'n belangrike voorval ver op weg was. Ek het haar goed opgepas, want ek wou elke stadium van die proses sien. Ek moet erken dat my entomologie dié dae so swak was dat ek al die tyd verwag het om haar te sien eiers lê; selfs maatreëls daarvoor getref! Groot was my verbasing om haar die lewe te sien skenk aan sestien lewende babas! Geharnas en gespoor het hulle die wêreld ingekom - twee-twee gelyk! - klein, wit, hulpelose babatjies, maar volmaakte skerpioentjies. Dat die proses vir die moeder baie pynlik was, was nie aan te twyfel nie. Ek herinner my hoe een mensmoeder met jammerende besorgdheid verneem het of die kleintjies met angels en knypers hulle verskyning maak en 'n dankgebedjie opgesê het dat die mens sulke dinge ten minste nie besit nie.
En wat ook baie eienaardig is, was dat die skerpioenmoeder haar snaakse ou kleintjies liefhad. Sorgvuldig het sy hulle op haar rug gehelp. Daar sit hulle in twee soldaatrye met die koppies en knypers na buite gerig en die stertjies op die middellyn inmekaar gevleg. Ek het haar goed genoeg geken om te kon sien dat sy geen aanraking van haar babatjies sou verdra nie. Ek kon dit nie waag voor hulle heeltemal groot was nie. Sy skeur hulle kos sorgvuldig stukkend en voer hulle; en bo-oor hulle swaai altyd beskermend die dodelike angel. 'n Meer liefdevolle moeder sal jy nouliks in die natuur vind. Onthou dit goed.
| |
| |
Dadelik het geblyk dat ons hier te doen had met een van die diepste geheime van die natuur; ook, dat ons op die grens was van 'n geweste nog nooit tevore betrap deur mens van vrou gebore nie, of, as daar een voor ons was, dan het hy sorgvuldig alle melding daarvan vermy. Van die verskyning van pyn in die algemeen in die natuur self kon ons geen suiwer uitleg vind nie. Daar is baie wat geraai het en taamlik naby die waarheid gekom het, maar ek weet van geen natuurondersoeker wat voor ons tyd deur uiterste ontleding tot 'n gegronde en suiwer besef van pyn geraak het nie. Diegene wat deur oorspronklike ondersoek naby die geheim van geboortepyn gekom het, kan jy op die vingers van een hand tel.
Die leser sal dadelik insien dat geboortepyn by die eerste oogopslag 'n baie donker saak is. Een ding weet ons almal: dat pyn in die algemeen die brandwag op die voorposte van die lewe is (buiten in die ontaarde mens en net so ontaarde, mak diere - waarom, sal ons later sien). As pyn vandag van die aarde verdwyn, sou die lewe binne 'n baie kort tyd ophou om te bestaan. Sonder pyn kan georganiseerde materie nooit voortbestaan nie. Oral in die natuur tree pyn beskermend op; oral - behalwe in die geval van geboorte. Waarom dan dié ontsettende las by die geboorte van die hoogs ontwikkelde diere? Ons weet dat so 'n belangrike en so 'n algemene kompleks 'n eweredig belangrike doel moet hê - wat is die doel waarheen die uitsoeking gerig was om so 'n verbasende uitsondering op 'n algemene natuurbeginsel teweeg te bring? Want geboortepyn is klaarblyklik nie alleen nie beskermend nie: dit is die teenoorgestelde. Soos dikwels die geval is, kan ons die beste in abnormale en ontaarde manifestasies die normale strekking van 'n kompleks leer ken. Ons weet dat by die bobbejane, by mak diere en by die mens die meganisme wat geboortepyn bewerkstellig, dikwels die lewe van moeder en kind in onmiddellike gevaar bring. Verbeel jou dat geboorte, die groot doel van die hele bestaanstryd, die voorval wat die natuur self, by wyse van spreke, as die hoogste en belangrikste beskou, wat hy met al sy vernuf, met al sy kragte beskerm en veilig maak vir moeder en kleintjie (die natuurlike beskerming van die moeder is meestal ter wille van die voortbestaan van die ras). En dat dit gepaard moet gaan met ontsettende en nie-beskermende pyn, wat al hoër styg hoe hoër jy die leer van ontwikkeling opklim! Wat beteken dit?
Luister dan: Ons sal die donker paadjie weer loop soos ons dit oorspronklik geloop het. Eers moes ons 'n suiwer begrip kry van pyn - beskermende pyn - in die algemeen. Ons het laag af begin. Met 'n gewone immersielens in 'n druppel kraalmiswater gedoop (jy kan met 'n dooplens lewe sien, sonder vlek of olie) en die water met 'n rafel gedurig aangelei, het ons die bewegings van volvox, die pylstert, en amebe ure lank bestudeer. Jy kan baie soorte onnatuurlike toestande van die omgewing veroorsaak. Met 'n rooiwarm naaldpunt teen die glas gedruk, kan jy 'n skielike temperatuurstyging in een deel van jou watersmeer- | |
| |
sel veroorsaak - warm genoeg om die eensellige diere dadelik te dood. Jy kan strignien, karbolsuur, arseen en vergiftigde kleurstowwe oor die grens van die smeersel invoer. Jy kan 'n sterk rooi ligstraal (skerper as die punt van die skerpste naald) van bo oor die veld laat beweeg - wat ook die dood ten gevolge het. En hier reeds begin die ding duidelik word. Jy sien die eensellige diere skrik en wegruk van die gevaarlike toestande wat jy veroorsaak. As jy soortgelyke gedrag in hoër diere studeer, dan sien jy dat die natuur alle weë wat na die dood lei, versper - deur pyn. Aan die ander kant sien jy die eensellige diere uitbot, verdeel en voortteel.
Dit is alles so eenvoudig, so duidelik dat, as jy dit alles vir die eerste keer raaksien, jy verwonderd staan dat geen sielkundige dit nog ooit tevore in duidelike bewoording beskrywe het nie.
Iemand het eenmaal gesê dat alle gedrag in die natuur herlei kan word tot honger - alles was een of ander soort honger, ook die liefde. Wie dit eerste gesê het, weet ek nie, maar dié gesegde is duisende male herhaal, meestal met al die misterieuse nadruk wat op 'n nuwe en verbasende ontdekking gelê word. Die verklaring is absoluut vals. Honger self is pyn - in die laaste stadiums die hewigste pyn - waaraan die liggaam kan ly; dors nog erger. Liefde mag in een opsig 'n honger genoem word, maar dit is seker geen pyn nie.
Is dit nou nie so duidelik as die lig self nie? Wat beskerm diere, wat hou hulle aan die lewe, wat verseker die voortteel van die ras? Dit is 'n sekere eienskap van georganiseerde materie. Sodra jy lewe sien, vind jy tegelyk dié eienskap. Dit is iets inherents in die lewe; soos die meeste natuurverskynsels is dit gepolariseer: daar is 'n negatiewe en 'n positiewe pool. Die negatiewe pool is pyn, die positiewe is die geslagsin. 'n Mens sou dit die fundamenteel behoudende eienskap van die lewe kon noem; en dit is waar die ondersoeker die naaste kom aan iets wat na 'n algemene doel lyk wat van buite die natuur inwerk.
Alle diere, die grootste en die kleinste, besit 'n sekere meganisme om verskillende soorte pyn te voel - en die pyn beskerm hom altyd teen die dood. 'n Dier spartel om uit diep water te kom, nie omdat hy bang is vir die dood nie (daarvan weet hy niks), maar omdat die eerste stadiums van verdrink vir hom uiters pynlik gemaak word. By die pynpool kom vrees as 'n ondergeskikte dryfveer van gedrag.
Die ander pool, die geslagsin, is baie meer ingewikkeld. Die uiteinde daarvan is moederliefde.
By die bobbejane (in 'n minder graad) en by die mens (in die hoogste graad) is daar diepe ontaarding van beide beskermende pole. By die mens bestaan daar geen uitsoeking meer teen die inval van patologiese organismes of teen duisende organiese kwale nie. Die gevolg is dat die meganisme wat ontwikkel het om alleen beskermende pyn in die natuur te bewerkstellig, nutteloos gevoelig word as 'n gevolg van die duisende siektes en kwale waaraan menslike vlees
| |
| |
en bloed onderhewig is, en waarvan die natuurdiere vry is. Ons kan van kopseer nooit weghardloop nie.
Net so diep ontaard in die mens is die seksuele drang. In die natuur het die seksuele drang - soos alle rasherinnerings - 'n uitwendige prikkel nodig om gevoelig te word. Soos ons tevore aangetoon het, is dit by die meeste soogdiere reuk alleen. Soms gaan reuk en gesig saam om die sleutel of prikkeling te verskaf. In sulke gevalle is daar altyd tesame met geur in die wyfie ook briljante, seksuele kleure. As jy by 'n manlike soogdier wat van geur alleen afhanklik is, die reuksintuig vernietig, dan eindig die seksuele lewe op die daad en kan nooit weer, so lank hy lewe, gevoelig gemaak word nie.
Wat gebeur nou by die mens en die bobbejaan? Hier vind jy vir die eerste keer diere (ons sluit altyd mak diere uit - waarom, sal later duidelik word) waarvan die seksuele sin gevoelig kan word sonder enige uitwendige prikkeling. Onder wilde diere is die bobbejaan die enigste in Suid-Afrika waarby jy ooit so iets sal vind. Hoe kom dit? As die leser hom ons vorige uitleg herinner, sal dit alles dadelik duidelik wees. By die mens en die aapsoorte word alle gewaarwordings, alle ondervindinge as individuele kousale herinnerings geregistreer. Die breinkors is ongetwyfeld daarvan die orgaan. Die eerste gevoeligwording van die seksuele sin moet as 'n gewone kousale omgewingsherinnering deur die groot skakelbord gaan waar dit dadelik as 'n afsonderlike herinnering opgeneem word. Die bobbejaan en die mens onthou dit as 'n genotvolle ondervinding en op hierdie herinnering kan hy altyd daarna na keuse reageer. Die eerste gevolg is dat die grootste van die natuurwette, periodisiteit, by die mens totaal verlore is. Die periodieke organiese toestand wat die gevoeligwording van die seksuele sin behoort te bewerkstellig, het 'n absoluut nuttelose, ontaarde, rein patologiese toestand geword. Die uiteinde van die saak, geboorte, wat vir alle diere veilig en seker is, het by die mens 'n geneeskundige operasie van die eerste rang geword waarby die lewe van moeder en kind altyd in gevaar kom. Sonder kunsmatige hulp by geboorte sou die beskaafde rasse binne drie geslagte van die aarde verdwyn, het 'n beroemde Duitse verloskundige verklaar. Twee-derdes van alle menslike organiese en sielkrankhede is om die ontaarde seksuele sin geskaar, verklaar 'n ander groot deskundige. 'n Hele entjie agteraan kom die bobbejaan, met dieselfde ontaarding en dieselfde gevolge - alles egter in veel geringer graad.
Ons het nou vlugtig en oorsigtelik gekyk na die twee pole van die behoudende eienskap van georganiseerde materie: pyn en die seksuele sin.
Nog bly die geheimsinnige uitsondering geboortepyn. Die leser sien dadelik dat dit niks te doen het met beskermende pyn nie. Dit versper geen weg wat na die dood lei nie; geen dier kan dit ontvlug nie. Ek wonder of die leser van hierdie werk reeds geraai het, net soos ons geraai het, en reg geraai het. Met die algemene reël het hy reeds kennis gemaak: elke instinktiewe kompleks moet
| |
| |
deur een sleutel - net een - ontsluit word. Hy weet hoe die seksuele sin in die mier deur vlug gevoelig gemaak word; hoe dit in die koedoe deur geur ontsluit word; hoe die hele waterlewe van die otter deur die aanraak van water gaande word - net so: Die moederliefde in alle diere, van die termietkoningin tot die walvis, word deur geboortepyn ontsluit. Waar die pyn dof is, is die moederliefde en moedersorg swak. Waar daar geen pyn is nie, is daar hoegenaamd geen moederliefde nie. Op hierdie reël het ons geen enkele uitsondering gedurende 'n tienjarige ondersoek gekry nie. Een of ander natuurkenner het eenmaal geraai dat die doel van geboortepyn is om die aandag van die moeder op die kleintjie te vestig. Dit is natuurlik verkeerd. In die instinktiewe siel is daar nie so iets as ‘aandag vestig’ nie. Die ontsluiting van die moederliefdekompleks deur pyn geskied volkome onbewus, buite kennis van die moeder, en het niks met ‘aandag vestig’ te doen nie.
Dit was natuurlik nie voldoende om die verhouding tussen geboortepyn en moederliefde vas te stel om te bewys dat die een die gevolg van die ander is nie. 'n Lang reeks eksperimente het dit buite alle kwessies gestel. Die volgende aantekeninge sal dien om die algemene beginsel duidelik te maak:
Proefneming op 'n trop half-wilde ‘kafferbokkies’ (sowat sestig). Volgens aanneembare getuienis was daar gedurende vyftien jaar geen enkele geval van weiering van 'n lam deur die moeder onder normale omstandighede nie.
(a) Ses gevalle van geboorte gedurende volle bewusteloosheid en ongevoeligheid van die moeder onder chloroform en eter. Bewusteloosheid het nooit langer as vyf-en-twintig minute ná die geboorte geduur nie. In al ses gevalle het die moeder absoluut geweier om haar lammetjie uit eie beweging aan te neem.
(b) Vier gevalle van geboorte gedurende verlamming; bewustheid en gevoel belemmer maar nie vernietig nie, onder invloed van die Amerikaanse pylgif kurare. In al vier gevalle het die moeder vir (gemiddeld) meer as 'n uur in die duidelikste twyfel verkeer. Daarna het drie van die moeders hul lammertjies aangeneem; een het geweier.
Dit kon natuurlik wees dat die weiering die gevolg was van algemene sielstoring as gevolg van die verskillende soorte vergiftiging.
Die volgende proefnemings bewys die teendeel:
(c) In ses gevalle van geboorte is die moeder onder chloroform gesit onmiddellik ná die geboorte geheel afgeloop het, maar voor sy met haar lammetjie kennis gemaak het. Bewusteloosheid het gemiddeld 'n halfuur geduur. In al ses gevalle het die moeder sonder enige twyfel haar lammetjie aangeneem onmiddellik ná terugkeer van bewustheid. Die toediening van kurare ná die geboorte het dieselfde gevolg gehad.
Sonder pyn, derhalwe, kan daar geen moederliefde in die natuur wees nie, en die pyn moet 'n werklike psigologiese gewaarwording wees: dit is nie genoeg dat dit as 't ware bloot liggaamlik geskied nie. Moederliefde is 'n psigologiese kom- | |
| |
pleks; die sleutel wat dit gevoelig maak, moet ook psigologies wees - net soos die gewaarwording van vlieg by die mier.
Die leser het reeds gesien wat die gevolg van geboortepyn by die skerpioenmoeder is. In 'n volgende hoofstuk sal ons sien hoe die verhouding (op diep interessante wyse) by ons mierkoningin volhou.
Soos by alle komplekse van die instinktiewe siel, het die verhouding lank reeds by die mens opgehou om te bestaan. Geboortepyn het lank reeds psigologies 'n nuttelose rudimentêre oorblyfsel geword wat nou net 'n bron van gevaar is - soos die meeste rudimentêre oorblyfsels.
Een deskundige skrywe: ‘Waar die natuur besluit het om 'n ras uit te delg, is die eerste rigting van aanval die seksuele sin.’ Dit is verkeerd-om gesê en ek weet ook nie of dit juis waar is nie. Maar een ding bly waar: dat die ontaarding van die seksuele sin verantwoordelik is vir die grootste aandeel van menslike lyding; en tog het een deel daarvan, die moederliefde, 'n wending aan sy sielsontwikkeling teweeggebring wat grotendeels verantwoordelik was vir sy heerskappy van die aarde. |
|