Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse letterkunde
(1924)–F.E.J. Malherbe–
[pagina 229]
| |
C.L. Leipoldt.Daar is skrywers wat in eie sieleweedom dit soms enkel nog kan uitsnik in woorde vol van saamgeprangde ontroering soos Breero of Verlaine. Daar is ook andere wat die diepste menslike lye, die skeurendste menslike smart en die skrynendste herinnering van gans 'n nasie weer kan deurleef; maar met byna bowe-menslike mag die stormende ontroering kan bedwing in heldhaftige strewe na berusting, waar haat en bitterheid verstom: Bedaar, bedaar my hart, al kraak jy ook;
Ons moet die drimpel oor al breek ons dood!
So een is my ook Leipoldt. By hom meer as by enig ander vind ek die gekonsentreerde oorlogsleed van gans ons smartverlee. En die magtigste uiting daarvan in Oom Gert vertel en ander Gedigte. Tog kan ek u juis uit die tragiese sange van Leipoldt ook die tragiese humor illustreer. Die meeste van sy verse in hierdie bundel het ontstaan ‘toe ek nog half flou was met die skok van die oorlog, en toe die donder van die Engelse kanonne nog altyd in my ore was.’Ga naar voetnoot1) Daardeur moes ook sy humor van die gebroke soort wees. Ek noem u eers om sy bittere ironie en verskeurdheid My nuwe Vaderland. Hier skyn sy geloof te wankel aan die hoëre idee, deur my tevore aangedui, wat tot verlossing en humor lei. Dit is 'n kreet van vertwyfeling, waarby | |
[pagina 230]
| |
meerderheidsgevoel en gemoedshoogheid verwoes skyn, en die stukkend geslae siel 'n uitweg soek - see-toe! Hy wil weg uit die omgewing van vermoorde ideale en heldemoed, wil die verkoelende seewind - die veldson brand so heet! Ek het so lief ons blougroen see,
Ons witgeskulpte strand;
Was ek geen Blikoor nie, dan was
Die see my vaderland.
My tuiste-veld is baie mooi,
In winter baie groen:
Ja, goudgeel blink die doringboom daar,
As son en wind hom soen.
My eie veld is baie nat
(Vervloek die tyd!) met bloed –
Daar sing vandag die mense nog
Van Volk en Heldemoed!Ga naar voetnoot1)
Volmaak die sug na onbewustheid in die verlange na die blougroen see met die bleke verlatenheid op die kuste. Veral die woord ‘witgeskulpte’ wek by ons die assosiasie van absolute sielsdesolasie. Die see is vol met trane, tot in sy hart vol met bloed, en tog sing die visse nie van Volk en Heldemoed nie. En dit snik in sy siel omdat hy - 'n Blikoor is, en nie weg kàn: Ek is 'n Blikoor, want my wieg
Het op die veld gestaan;
Maar as ek na die branders kyk,
Loop oor my wang 'n traan.
En dan skree hy dit uit in bitterheid, soos nog nooit in Afrikaans gehoor is nie, en wat alleen deur die verkropte liefde daarin geëwenaar word: | |
[pagina 231]
| |
My land is nie meer myne nie;
My volk is doodgestry;
My moed is nie meer heldemoed -
O God, vergewe my!
Maar wie sy veld só lief het, en hom só smartlik moet losskeur van sy volk, kàn geen vergetelheid in seegedreun vind nie, kàn geen visselewe lei nie. Hy wil nie die dood nie, ook nie gevoelloosheid vir pyn en leed nie; wil alleen ‘vergeet en uithou’. Vergeet èn uithou! ... Onder die ironie voel ons en hyself, dat só 'n Blikoor ook op die vèld móet bly, móet leer om weer saam te sing die vryheidslied, móet weer die gedrenkte aarde ploeg en saai vir 'n nuwe oes. Vir wie wáarlik sielsbankrot is bly daar nog altyd oor: die see, die visse, die witgeskulpte strand .... So kry ook die ironie van die gegewe in die persoonlikheid-sintese van die digter vir ons 'n nuwe betekenis, wat raak aan die stemming van ironies-tragiese humor. Daar is ook die bittere ironie van Vrede-aand - die ondraaglike oomblik as die gruwel van vrede die digter met drake-gestalte wil oormeester. Die verhewene lê vermoor, lelieblanke onskuld besoedel. Buite word gejuig om oorwinning, die vlag waai hoog, materiële voordele is op koms, en hy moet drink, diep-bitter drink op die vrede! By die duistere omwoeling van sy siel moet die positiewe vorm agterweë bly: Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu die strate vol?
Sien jy, die hele wêreld is op hol?
Kom, hier's 'n bottel soetwyn; laat ons drink!
Ons het ons nasie in die see gesink;
Ons het geen land meer nie: dis klaar met Kees!
Dis vrede nou: kom skreeu - of is jy hees
Van lag? Nou, lag maar, want die storie's uit:
Ons nasie's weg, ons kan daarnaar maar fluit!
Drink, drink jou glas! Die son skyn deur die wyn:
| |
[pagina 232]
| |
Is dit te soet, of smaak dit soos asyn?
Nou ja, dan kom hier by die venster staan
En skou met my al die gedoente aan.
Daar waai die vlag, daar word hoerê geskree:
Die aandeelmark rys weer, en ons daarmee!
Wat is ons land teenoor die aandeelmark?
Wat 'n kanarievoël teenoor 'n vark?
'n Lelieblom teenoor 'n stronk tabak?
Ons nasie, wat so wild was, is nou mak
En kan getrein word soos 'n jong bobjaan,
Wat, as hy steeks is, jy weer goed kan slaan.
Hoerê! hoerê! Skreeu saam met my:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Maar dáar rys voor sy vertwyfelende siel die nobele gestalte van wie martelares is vir die vryheidsideaal, en hy moet weer glo aan die toekoms - Heldin en vrou! Die beste, wat ons land
Nog voortgebring het.
Die oplossing van sy smartgevoelens soek hy nie in die wyse raad van Almag nie, maar deur denke en herinnering aan die adel van háar siel - Dié het geblink
Tot aan die kruis-ster, toe die donker nag
Rondom ons was.
Sy oog is nou hoopvol gerig op die toekoms, waar nuwe omstandighede nuwe eise stel. Die vrede self moet hy nou aanvaar as plig. Die verwensing van die ironiese gebeure verklink, die haat verstom, daar kom 'n traan in sy oog, en uit die diepste van sy wese rys 'n gebed aan sy volk, maar ook 'n gelouterde vreugde: Waak oor die stem; let op die siel; behou
Die beste, wat ons nasie het - die vrou!
Gooi neer die glas; die stukkies skop opsy:
| |
[pagina 233]
| |
Daaruit sal ons geen ander heildronk drink
As dié aan haar! maar roep, man, tot dit klink:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Deur die negatiewe aanvang word die endstemming des te oortuigender. Weer in die woesteny van die werklikheid en as deel daarvan verskyn die waarde. Dit is die manlike denke wat verlossend werk en die weg berei vir die latere siening van humor in die ironies-tragiese gebeure. Wrange humor is daar in 'n Nuwe Liedjie op 'n ou Deuntjie. Dit is 'n lokasieliedjie en die digter sing dit 'n sterwende kindjie toe in die vrouekampe van die Oorlog: Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Vou maar jou handjies saam, my kind:
Hoor tog hoe huil die noordewind!
Hier in die kamp is alles stil,
Net maar die wind waai, soos hy wil:
Net maar jyself kan kreun en steun:
Niemand sal hoor nie, niemand, seun!
Almal is besig: Oor die land
Drywe 'n wolk van die noordekant -
Swart as die rook uit die skoorsteen puil,
Swart as die nag, en as roet so vuil:
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies en sê ame!
In die twede strofe oorval die digter eindelose jammer en leed, maar teen die slot is sy stemming weer meer berustend. In die laaste is daar selfs plaas vir 'n glimpie van humor: Siembamba, Siembamba,
Mama se kindjie, Siembamba!
Kinkhoes en tering, sonder melk:
Bitter vir jou is die lewenskelk!
| |
[pagina 234]
| |
Daar is jou plek, by die graffies daar –
Twee in een kissie, 'n bruilofspaar!
Alles vir ons wat die oorlog hou,
Alles vir ons en niks vir jou:
Jy het van ons jou plig geërwe –
Plig om as kind vir ons land te sterwe!
Al, wat jy wen, is dat ons onthou:
Meer was die vryheid as kind of vrou!
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en sê - ame!
Voel u iets van 'n lugubere spel, waar 'n kinkhoes- en tering-lyertjie moet ophou kreun omdat almal besig is en niemand tog kan luister nie, en maar weggesus word na 'n bruilofskissie toe op die deuntjie van 'n kafferlied! 'n Meer-versoende humor is in Die ou Blikkie. Hier spreek teer-gevoelig die sin vir die kleine en geringe, wat die digter direk weet te verbind met sy geesdrif vir die verhewene. Iets komies is daar, nie waar, in die troeteling van 'n moeder van smarte van iets so gerings as 'n armsalige ou blikkie. In die ou-blikkie-vertroosting egter rys vir Leipoldt weer die visioen van die vernietiging van onskuldige lewentjies. Ja, daar is 'n glimlag, maar so deurdrenk van trane en ook so geadeld deur bewondering en geloof, dat dit met die haas onverskillig-eenvoudige taal ons die diepste smart weer bring. Wat is die ding, wat jy daar hou?
Wat droom jy oor 'n blikkie, vrou?
'n Armsalige ou blikkie?
Wat is die ding tog nou vir jou?
Op dié vraag antwoord die moeder: ‘Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
Die armsalige ou blikkie,
Daaruit het Gert en Griet gedrink.
| |
[pagina 235]
| |
‘Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier waar die suring bloei so gul,
Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul,
‘Ek wil daarin 'n plantjie plant,
Wat groei aan Griet haar graf se kant –
Die armsalige ou blikkie,
Was vasgeklem in Griet haar hand.
‘As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit ....’
Hoe kàn sy die verlede vergeet: dis alles wat sy nog het - die herinnering! ‘Solank jy op die vensterbank
Hier by my staan, so skoon en blank,
Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank,
‘Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp
My kinders al twee in die kamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Die lewe so het uitgestamp,
‘Nog in my hart het hoop gegee,
Dat ek bedaard was in my wee,
Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink, ek sien hul weer, al twee!
‘Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou 'n deel;
Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!
Verbeelding - dit is alles nou,
Wat ek nog het: laat my dit hou!
Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!’
| |
[pagina 236]
| |
Die humoris is die groot waarde-kenner. Daartoe help die herinnering mee. Hy is die ordener in die gaos van lewenservaringe, die sintetikus wat op ons verontrustende analiese die lig van sy ruimere denke en voele laat val en eenheid aantoon waar tevore alleen disharmonie, tweestryd was. So is ook hier tussen die geluk en vreugde van vroeër en die verlate eensaamheid van vandag 'n smartlik vertroostende ou-blikkie, 'n droefnis-kullertjie, 'n silwere skakeltjie waarop sonlig val..... Sulk 'n reine persoonlikheidswaarde, suiwer geobjektiveer buite alle werklikheidsbelange om, hoef op geen bepaalde herinneringsbeeld te reken nie, maar wek deur uitbeelding 'n eggo van meelewende menslikheid. Ons hoëre bewussyn word wakker geroep, wat ons in staat stel om sèlf op die oomblik die dankbare treurende moeder te wees. Deur estetiese betragting van wat Leipoldt ons hier bied, ontstaan die besondere kunsgenot van hierdie aangrypende siening. Sien vervolgens in Oom Gert vertel die deur humor gebroke tragiek. Die ou Boer is nog lang nie sy smart te bowe nie, maar wil dit nie voor andere toon nie; elke keer moet hy 'n knop wegsluk en haastig 'n lugtige opmerking maak om nie, deur die smart van herinnering oorstelp, dit luid uit te snik nie Dan moet Gerrie, sy dogter, dit doen of dat doen; dan weer vertel hy allerlei minder saaklike details, of verval in uitwydings en herhalings om tog maar nie op die vreeslike gebeurtenis te kom nie: twee jong kêrels, een sy peetseun Bennie, verloof met Gerrie en deur almal gelief, as rebelle op die mark voor hul famielie opgehang. Die kwasie-onverskillige houding van die ou Boer, sy treusel, sy langsaam opdreef raak, sy gevoel van magteloosheid teenoor die smart wat in hom oprys, sy poging dit met 'n norse opmerking te verdrywe of af te lei met 'n beuselagtige opmerking oor koffie of hoenders - dit alles is so smartvol-realisties uitgebeeld, dat die tragiese deur die onderbrekende humor nog intenser word in subliem gevoel. | |
[pagina 237]
| |
Oom Gert begin: Ja, neef, wat kan ek oumens, jou vertel?
Jy wil die storie van ons sterfte hoor?
Nou goed!
.................
.....ek weet maar uit my eie siel,
En kan maar grawe uit my eie hart.
.................
'n Lang geskiednis is dit! Treurig ook,
Want daar gaan snikke en trane deur, ou neef!
Wil jy dit aanhoor? Goed!
Maar sit, man, sit:
Ek kan jou nie vertel nie as jy staan.
Sit daar. (En, Gerrie, gee hom wat te drink.
En pa kan ook 'n slukkie koffie sluk.)
Met pragtig bedwonge gevoel vertel hy van die skriklike krygswet-dae. Luister hoe hy die kolonel wat sy Bennie tot die dood veroordeel het nog kan teken: Sy naam - nou Gerrie, wat was ook sy naam?
Jones? Nee, kind, dat was maar sy offisier -
Jy weet, die aap met strepies op sy mou -
Ek het dit! Wilson was die vent se naam:
'n Dik vet kêrel, met 'n grysgeel snor,
En lang slagtande, en rooi in die gesig;
Die mense sê, hy suip; maar ek het nooit
Hom dronk gesien; en wil ook nie meer
Agter sy rug die man beskinder nie,
Al was hy ook 'n deugniet - dit maak niks!
Nee, niks by die daad wat oom se ganse siel vervul nie en alleen nog in hierdie simpele taal 'n uiting vind: Hy het ons onderdruk; sy hand was hard
................
Ja, neef, sy hand was hard!.....
| |
[pagina 238]
| |
Langsaam vorder sy verhaal. Oom gee eers nog algemeenhede in verband met die toestand op die dorp. Die koffie-skink doen handige diens om Gerrie smart te bespaar. Maar kom,
Ek gaan te vinnig met die saak vooruit.
Dan die strakke blik op die een punt totdat dit knak in sy siel; die dappere herstelling in die geforseerde glimlag; die vaderlike trots van 'n Boer nie omdat sy peetseun as 'n waardige soon van 'n ras van helde fier die galgetrap kon bestyg in die naam van vryheid nie, maar om - sy mooi-vroulike uiterlik! Dit is dan ook veral gerig tot die ‘beteuterde’ meisiekind. Hier op my stoel het ek gesit, en daar
Waar jy nou sit, het Bennie ook gesit.
En Johnnie vlak naas hom. Ek sien hom nog,
'n Opgeskote kêreltjie, nog nie
Heel droog agter die ore was hy toe,
Nogal astrant en sniprig met sy mond,
Dié jaar nog aangeneem. (Gerrie, my kind,
Haal tog die album.) - Hier is sy portret,
En hier is Bennie syne; daar is die rëel,
Wat sy oorlede ma geskrywe het,
Die dag na - na - sy dood. Jy kan dit lees;
My bril die pas nie mooi, en in die rook
Kan ek so goed nie sien nie. Lees maar voor.
‘Barend Gerhardus Barends,’ - Reg! en nou?
‘Geboren op den zesden Mei,’ - Ja reg!
‘Ge...’ - Maak die boek maar toe: ek weet dit al!
(Hartlam, kom neem dit weg. Wat staan jy daar
Beteuterd as 'n kat? Kom, skink weer in:
Ons het mos melk genoeg en suiker ook,
En Martjie Louw is nou nie in die dorp!)
Ja, Bennie was 'n egte witmenskind!
My peetseun - en, ofskoon ekself dit sê,
| |
[pagina 239]
| |
'n Regte mooi soort vroumens-kêreltjie,
So paal-orent en met 'n kaal gesig;
'n Skeermes het hy glo nog nie gebruik.
(Hartlam, gaan kyk, of Leentjie al die hout
In die kombuis gebring het.)
Die droewe gebeure mag Bettie nie weer hoor nie: immers Jy sien, sy is nog nie goed oor die bult, -
asof hy dit wèl is! Oom vertel hoe hy tevergeefs getrag het om die seuns van hulle planne af te bring. Nonnie het toe my knapsak volgeprop
Met biltong en beskuit; en ek het self
Die saalsakkies met hardgekookte eiers
En ander padkos volgelaai -
En hy laat naïewelik volg: want hy
Was tog my peetseun, en dan Johnnie ook
Neef Saarl se seun - en Saarl en ek was maats!
So het sy gewete hom nog nooit gekwel nie! En hierdie man wat gewetenskwelling wil suggereer deur ‘iets vir jou nasie te doen,’ is in sy siel oortuig dat dit goed was! (Sien die moraal van oom se vertelling in sy eie woorde by die aanvang). Raak is die aanduiding van wat die volgende môre bring, met die karakteristieke woord van oom Gert dat dit die kolonel se skuld was, dat hy nog twee perde gehou het. So maak hy die offisier medepligtig aan die rebelledaad! Maar dan gaan die verhaal waar oom Gert homself nie meer meester is nie. Die seuns word gevang en ter dood veroordeel. Dié môre kom die hoofkonstabel sê:
‘Die kolnel stuur sy komplimente!’ - God!
Sy komplimente, hoor! Het jy verstaan?
Verstaan jy, neef? - Sy komplimente!
| |
[pagina 240]
| |
Nee!
Bedaar, bedaar, my hart, al kraak jy ook:
Ons moet die drimpel oor, al breek ons dood!
Maar gou weet hy hom weer deur lugtigheid te herstel. Die hoofkonstabel - Nichols was sy naam:
Hy 't later in die Vrystaat lood geëet
En dit nie goed verteer nie .....
En eindelik - die brekend-smartvolle slot. Hier is skoonheid wat die diepste, uitputtendste sielehouding teenoor die positiewe en negatiewe kante van die lewe raak in grote humor. Die kakies het oor Bennie se gesig
'n Sakdoek, of 'n kopdoekie of iets
Net soos 'n mus wil trek, maar Bennie vra -
En nog op Engels ook: hy kon dit praat -
Of hulle hom nie sonder dit kon hang.
Die kolnel knik; en toe ...
Nee, neef, laat staan!
Wat vat jy weer my hand? Laat bly my hand!
Vervlaks, hoe kan ek nou vir jou vertel,
As jy my somaar afbring van my rym?
Blaas net jou rook uit na die ander kant:
My oë is te oud vir jou tabak!
(En, hartlam, haal vir pa 'n sakdoek).
Hier is geen tragie-komedie meer wat by 'n gruwelike noodlot, wat ons diep-tragies aangryp, die indruk van 'n demonies-groteske spel wek nie; geen bitter-ironiese lag in verskeurdheid nie; maar tot op sekere hoogte oorwonne smart - smart oorwonne in menslikheid. Hier is ook geen stil-elegies klae om 'n treurverlee nie, nòg manlik-forse verset teen barbaarse verdelgingsug, of stille berusting in geloof; maar die tragiese in aksie, die gedramatiseerde sielsepiek, die oorlogsmart met humor geobjektiveer in 'n lydende mensesiel .... | |
[pagina 241]
| |
Ek het hierbo die humoris die groot waarde-kenner genoem. Hy is ook die groot waarde-ontdekker. Dit ook is na te gaan in die heerlike natuur-liriek van Leipoldt. Die waarde alhier is 'n misterieus-kosmies gevoel in skoonheid - die vreugde (hoe weinig onvermengd dan ook by Leipoldt) that in our embers
Is something that doth live,
That Nature yet remembers
What was so fugitive.
Inderdaad moet ek by ons outeur dink aan die Ode van Wordsworth: Intimations of Immortality from Recollections of early Childhood. Want Leipoldt kenmerk die lewensgevoel wat puur en nobel is van kinder-reine fantasie en emosie, iets van die wonderdiepte van Wordsworth se Mighty Prophet! Seer blest!
On whom those truths do rest,
Which we are toiling all our lives to find.
Ook die wonder-vertroulike ekspansie van gevoel in ... those obstinate questionings
Of sense and outward things,
Fallings from us, vanishings ...;
en die kinderlike ekstase in lentegeure en sonnegoud. Maar dit alles as een element in die dualistiese grondgevoel van die digter. Oor sy kinder-vreug, -intuïesie, -visioene, val die skadu van manlike bewussyn van lewensdwang, tweestryd. Die dualisme is weer die oer-teëstelling tussen vryheid en gebondenheid - vryheid hier in die eteriese lig van ideële waardes van louter skoonheid; gebondenheid aan 'n materialistiese wêreld, soos gesimboliseer in geld. By Leipoldt self dink ons dikwels aan sy vraag tot 'n ‘krulkop-klonkie’ gerig: | |
[pagina 242]
| |
Krulkop-klonkie,
Waarvandaan
Kom jy hierso
Gou-gou aan?
Van die hemel, krulkop-klonkie, van die sterre, van die maan?
Krulkop-klonkie,
Is jou hart
Nog nie klaar nie,
Nog nie swart?
Of is dit al lank verdor al, grysgemaak deur al die smart?
Krulkop-klonkie
Wat wil jy
Op die wereld
Hier by my
Nou kom haal of lewer, klonkie? Wat is hier te gee of kry?
Krulkop-klonkie,
Slaap gerus,
Van die drome
Onbewus:
Vroeg genoeg kry jy nagmerrie; wie sal jou dan, klonkie, sus?
In hierdie gedig, wat om geen besondere eienskappe as kuns uitmunt nie, lê egter dié antinomie, wat ons die natuurliriek van Leipoldt laat verstaan. Dit is ook die bron van die tragiese en humoristiese gevoel in bewustheid vir wie die onbewustheid ken! Die liefde van Leipoldt vir die natuur kan dus nie onpersoonlik wees nie. Dit is 'n wesenstrilling wat probeer harmoniëer met die essensiële vryheid, maar ook 'n humoristies-tragiese bewussyn van eie innerlikheid geprojekteer in die natuur. En voor ons hiervan nie diep deurdronge is nie, kan ons nie die visionêre skoonheid en die diepte van dramatiese deurlewing in die skynbaar eenvoudige vraagtoon van die digter verstaan nie; staan ons ook buite sy wondere kommunie met klossies in die wind of 'n ou doringboom, | |
[pagina 243]
| |
met 'n soutpan of 'n boomsingertjie, met 'n sekretaris-voël of 'n kriekie. Alleen die ‘reine vorme’ wil hy besing en tog hoor u sag-dreunend die naruise van die storm: Ek sing van die wind, wat tekeer gaan;
Ek sing van die reën, wat daar val;
Ek sing van ons vaal ou Karooland;
Van blomme, wat bloei by die wal;
Van water, wat bruis oor die klippe;
Van duikers, wat draf oor die veld;
Van voëls, wat daar sing in die bossies -
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!
Deur die natuurvreugde heen is die wrange bewussyn van hebsug wat ewig stryd voer met die skone. Die dubbele ontkenning in beide strofes, ná die huppelende maat herhaal in aarselende, huiwerende slotakkoorde, bevat die nie te miskenne motief van stryd teen wat sy vreugde wil verdring - geld, goud, gejammer! Daar is ook die heerlike verklanking van natuur-geluk in Die Beste.Ga naar voetnoot1) Geil lusern in die laagste landjie;
Geil groen blare en blomme blou;
Aalwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en safier daarbowe;
Ruik van die keurbos rondgesprei;
Kort klein skadu's oor die klowe;
Somer en son en safier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei -
Wat is daar meer deur die dood te rowe?
Somer en son en safier vir my!
| |
[pagina 244]
| |
Nog heerliker juig die skoonheidsritme in die twede strofe, maar enigsins gemengd word die gevoel in die laaste reëls: Heer, wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
‘Somer en son en safier vir my!’
En dan juig dit nie enkel meer nie: Het jy 'n vrind wat jou hand kan vashou?
Vrinde vergaan en faal in nood!
Het jy 'n vrind, jou grootste las nou?
Vyande, vrinde gaan algar dood!
Wat's dit vir my as die gras vergrys word?
Somer sal kom met sy groen daarby;
Wat as in winter die water ys word?
Somer en son en safier sal bly.
Boetie, ek vra jou, wai sê jy?
Wat's dit vir ons as die gras vergrys word?
Somer en son en safier sal bly.
In die herhaling van die een gedagte vind ek weer die weemoedige ironie van Leipoldt, wat sy bewustheid wil verloën in onbewustheid - 'n ander aspek van sy innerlike antinomie - en wat weer herinner aan die hierbo gesiteerde strofe in Oktobermaand, waarin hy met gans sy hunkerende siel bly vasklem aan die skoonheid wat moet sterwe .... ‘Ek is nòg in Oktober, .... ek is nòg in Oktober .... die mooiste, mooiste maand,’ smeek dit byna deur sy lentejubeling, waarin die newe-tema van die winter reeds gehoor word. Die kensketsing van Leipoldt as 'n uitbundige natuurverheerliker is dan ook onjuis. Leipoldt is geen Pallieter nie; en selfs Pallieter is, soos ons gesien het, as sodanig verkeerd beoordeel. Wie só liefhet is sielsverwant, wil éen wees met sy geliefde. Hy is 'n klonkie nòg, maar met 'n hart wat soms grysgemaak voel deur al die smart. En dan rys in hom onweerstaanbaar die verlange om gesus te word. | |
[pagina 245]
| |
Op my ou Karoo.
Hier wil ek rus, op ons vaal Karoo,
Hier, waar die veld 'n leegte is,
Hier, by die slang en die akeldis,
Hier, met die hemel blou daarbo.
Grawe hier, boetie, 'n graf vir my:
Hier is ek tuis, my land is hier;
Hier, waar die korhaan bruilof vier -
Hier wil ek lê in ons grougeel klei.
Stel nie 'n klip of 'n kruis daarbo,
Skrywe geen teks, wat 'n mens kan lees;
Sê net: ‘Hy slaap, waar hy wou wees -
Hier in die skoot van ons vaal Karoo.....’
Daar wil hy rus sonde-vry, omdat sonde deur die lewe self vergelde is; vry ook van mensegevoel, omdat sy natuurwese hoër is en dié wil terugkeer tot die Al-bestaande.... Die liebe Erde allüberall blüht auf im Lenz und grünt
Aufs neu! Allüberall und ewig blauen licht die Fernen!
Ewig!...... Ewig!...............
Dié eenheidsgevoel bring Leipoldt daartoe om sy gevoel te objektiveer in sy natuurviesies. Dink aan sy siening van die Ou Doringboom, wat ons sielsverwant kan noem met 'n afgeleefde ou grysaard, groots nog in sy sterwens-eensaamheid. En hoe mateloos verskillend in sekere opsigte, hoe weinig modern ook die uiterlike vorm, wek hierdie tragies-humoristiese siening van Leipoldt by my tog die herinnering van sekere (natuurlik veel forsere en veel tragieser) skeppinge van die geweldige siener Vincent van Gogh. Kyk, hier is 'n ou kameeldoring, amper kaal;
Sy blaartjies vuil en donkerbruin verbrand;
Sy stam gestrooi met geelgrys stof en sand;
Sy dorings wit as silwer, skerp as staal.
| |
[pagina 246]
| |
Hier staan hy nog, hoe dor die veld en skraal;
Hou stewig nog teen wind en storm sy stand -
Die oudste doringboom in ons doringboomland,
Wat reeds sy bloeityd tel vir honderdmaal.
Vir jare het hy hier sy goud gestrooi,
Die hele wêreld oor sy geur versprei,
Voor nog 'n witmens hier was of 'n pad;
Vir jare was hy bobaas hier, en mooi
Vol groen en goud: maar nou 's sy tyd verby -
'n Afgeleefde doringboom, droog en glad!
Iets anders as realisme vind ek ook in die volgende potlood-krabbel in die sketsboek van 'n moderne kunstenaar: Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?
Veral die twede strofe het vir my iets sterk impressionisties. Die topografiese en ritmiese indeling van die gekursiveerde woorde suggereer 'n langer lyf en groter oë dan dié voël in die gewone werklikheid wel besit. Tesame aksentueer dit met die vaalgrys kleur, lange bene en die penne agter die ore styf, 'n verskyning wat bo getrou fotografiese siening gaan. Was dit ook enkel maar rake gelykenis in enige strepe, wat sou die betekenis daarvan wees, veral by herhaalde betragting? Maar nou is daar iets in onthuld, iets van moontlike wesenlikheid, iets wat ons bybly as ideële skoonheid. So gewaar ons andermaal die besondere innerlikheid van ons digter teenoor 'n verskyning met 'n geheimsinnige vorm van lange bene, lang, lang lyf en groot oë, wat as wesenlikheid net so weinig as die digter in hierdie wêreld skyn te pas. Daar is ook die huiwering van wie in die groot oë van onbewustheid staar, - oë na hom gekeer wat self as | |
[pagina 247]
| |
sekretaris-voël deur die lewe moet slampamper. Vandaar ook die tragies-humoristiese tint wat oor die impressionistiese siening lê. Ek noem u verder die weemoedige vreugde van ‘klossies.’ Medelydend vra hy aan kortstondige skoonheid: Klossies, jul bewe en bibber:
Is dan die aandlug so koud?
Moet julle so teen die westewind koes?
Sal hy vir julle die blou en die goud,
Alles verwoes?
En daar spook weer so báie dinge van die ou lewe ... Klossies jul bewe en bibber:
Drink maar die son, en wees bly!
Let op die uitroepsteken: dit staan vir 'n weemoedige glimlag! Goud, blou en rooi is die lewe,
wil dit nog éwetjies opglans, maar dan verruis dit gevoeliger in andere toonaard: en sag
Waai ons ou westewind koel oor die vlei:
Nog is dit dag.
Dit is humor so subtiel-fyn as die skoonheid self van blommelewe. Gestrooi die blou en goud van bibberende klossies .... so sterwe skoonheid in die koele awendwind. Sien in wrange kontras elders 'n materie-mens wat sy laaste prys betaal het: Vanmôre was die see weer stil; die strand
Gestrooi met seegras, maar met meer as gras;
Want daar was een - hy het sy prys betaal,
En lê bankrot en brandarm op die sand,
Half met sy hand nog aan 'n houtblok vas –
'n Lyk met ope oë, doodsbleek en vaal.
| |
[pagina 248]
| |
Laat my eindig met nog 'n ‘liedjie’ waarin die misterieuse lewensgevoel van Leipoldt so heerlik weer verklank word. Kriekie, jy, wat op die solder sanik,
Wat het jy tog vir ons te vertel?
Glo jy ouderwetse ou geheimpies?
Is daar iets, waarop jy agting stel?
Of moet jy, dag in, dag uit maar sanik,
Kriekie, tot ek dol word van jou dreun?
Is jou lofsang maar 'n kriekie-klaaglied,
En jou deuntjie, kriekie, maar 'n kreun?
Wat sou die klonkie, die klossies, die sekretarisvoël, die kriekie tog aan materie kan offer? Sou die kriekie ook sy geheim ken - sy geheim wat sy lofsang, maar 'n kriekie-klaaglied maak, sy deuntjie maar 'n kreun? Sulke slampamperliedjies het iets opgevang van die diepe ruise van die lewensstroom waarin humor en tragiek nog ongeskeie is. |
|