Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 351] [p. 351] Waar die onderveld... Waar die onderveld se bloute in die onderveld se groen In uitgestrekte slingerlyn versink, Waar die onderveld se sonskyn elke bult en koppie soen As die môre-dou soos diamante blink, Daar sien ek in my drome my witmuur strooidakhuis, Met sy puntige ou gewels en die blomtuin voor die deur, En ek hoor nog hoe die windjie deur die dennetakke suis, En ek ruik die grys renosterbos se geur. Ja, ek sien die groot ou voorhuis met sy misgesmeerde vloer, En sy dik kajaathouttafel waar die stinkhoutstoele staan, En die klein gordynde raampies waar ons kinders deur kon loer, As die eerste wind die hael bring wat die pad met wit beslaan, En die mooi gebreide velle wat die vloer tot sieraad strek, En die muurkas met sy borde en sy koppies wit en blou, En die Bybel en Gesangboek op hul vasgestelde plek Vir die aande na die ete as die Oubaas aanddiens hou. En die hane kraai daarbuite en die vinke tjirp en sing, En die spreeus hou vergadering waar die moerbeibome bloei, En die onderveld se sonskyn wat die land tot lewe bring Gooi 'n gloed van goud oor alles eer sy lig die skadu snoei. Vorige Volgende