Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XIX Soos 'n borrelende vink sy hart verlos Van die sang wat opbruis en uiting moet vind As hy swaai op die tak van die swarthoutbos, Gestreel deur die sag-koel môrewind; Soos die seemeeu sing as hy ooswaarts gly Op sy sterke wieke die branders oor, Omhoog, omhoog in die blou lug, vry, Deur die skyn van die son en die see bekoor - So sing ook die hart wat die skoonheid min, Want skoonheid bekoor soos die son en die see; En hy wat vir skoonheid sy siel ontgin, Skenk terug in sy lied wat die lewe hom gee. Vorige Volgende