Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die ou meul Rol, rol, ou wiel, en spat die skuim Rondom die eende in die sluis! Die water kom bo van die berg Om in die meulstroom hier te bruis. Twee groot pop'liere skadu jou, Ou wiel; en as die winter kom, Dan val die blare om jou as En bewe as jou speke brom. Want nimmer het jy lang tyd rus: Jy werk aldag en maak geraas. Dof in my ore klink jou stem: Ek hoor hoe jy die water blaas. [pagina 26] [p. 26] Dis al 'n jaar of dertig so - Toe het ek eers jou stem gehoor - 'n Donker Meidag met 'n lug Half toe, met wolke hoog daaroor; Die ou pop'liere was nog kaal; Die winter, ag, was lankal daar, En op die berge was kapok - Ja, dit was bitter koud en naar! Ek het gekoes, verkluim van kou, Maar jy het altyddeur gesing - En al die ys daar in die sluis Het jou nie van jou stuk gebring. Vorige Volgende