Voorwoord
Hierdie eerste uitgawe van C. Louis Leipoldt se Versamelde gedigte verskyn by die herdenking van sy honderdste geboortejaar in 1980. Dit bevat alle digwerke wat tydens Leipoldt se lewe die lig gesien het, gedigte wat postuum in drie bundels opgeneem is, verse wat in tydskrifte en weekblaaie versprei lê, en gedigte wat deel vorm van sy nalatenskap en nooit voorheen in druk verskyn het nie.
Iemand wat Leipoldt se poësie opnuut wil uitgee, kom voor groot en byna onoorkomelike probleme te staan. Dit is bv. bekend dat Leipoldt sommige van sy verse eers betreklik laat gepubliseer het, sodat die bundels nie 'n getroue weergawe van die chronologiese gang van sy oeuvre is nie. Aangesien gegewens in verband met die ontstaan van die meeste verse egter ontbreek en lank nie alles in tydskrifte of koerante gepubliseer is nie, het ek besluit om die bundeleenhede wat Leipoldt self afgebaken het, te behou. In die geval van Die Moormansgat en ander verhalende en natuurverse en Geseënde skaduwees wat ná sy dood verskyn het, is dit wel moontlik om die eerste publikasie in tydskrif of koerant te agterhaal en - aangevul met ander verspreide gepubliseerde verse - die chronologie van die niegebundelde nagelate werk vas te stel. In die geval van die postume The ballad of Dick King and other poems ontbreek hierdie gegewens egter by die meeste gedigte, aangesien slegs enkeles vooraf in The Cape Times gepubliseer is. Daarom - en omdat die titels reeds inslag gevind het - handhaaf ek hier ook die bundeleenhede van die postume versamelings.
'n Moeiliker probleem by die versorging van Leipoldt se poësie is die tekswysigings wat sy gedigte in die verskillende uitgawes van sy bundels ondergaan het. Wat die taalkundige versorging van sy bundels betref, het Leipoldt in verskillende tydperke verskillende medewerkers gehad. Die belangrikste was prof. J.J. Smith wat die eerste, tweede, vierde en vyfde drukke van Oom Gert vertel, die eerste, derde, sewende en agtste drukke van Uit drie wêrelddele en die derde druk van Skoonheidstroos taalkundig hersien het. Vir die eerste druk van Dingaansdag het Leipoldt hulp ontvang van dr. W.M.R. Malherbe en vir Die bergtragedie van prof. D.B. Bosman, terwyl dr. L.W. Hiemstra met latere uitgawes - o.m. met die 1948-druk van Uit drie wêrelddele - gemoeid was.
Oor die algemeen het die versorgers goeie wysigings aangebring en die teks verbeter, maar dikwels is 'n vers deur die ywer van die taalkundiges jammerlik geskaad. Leipoldt het by meer as een geleentheid te kenne gegee dat al die wysigings deur homself nagegaan en goedgekeur is, al kan 'n mens - gedagtig aan sy traak-my-nie-agtige afwerking van manuskripte - bedenkinge hê oor die sorg wat hy hieraan bestee het. Terwyl 'n versamelde uitgawe van 'n digter se werk dus gewoonlik die laaste deur die digter self geredigeerde teks bevat, is daar in die geval van Leipoldt belangrike literêre oorwegings om van hierdie beginsel af te wyk.
Ten einde die beste teks in elke geval vas te stel, het ek al die verskillende uitgawes van alle Leipoldt-gedigte nagegaan, met mekaar vergelyk en uiteindelik dié variant gekies wat na my mening literêr die beste verantwoord is. Dit beteken bv. dat ek soms 'n bepaalde reël uit die eerste druk gehandhaaf en vir die daaropvolgende reël die vierde druk gekies het en - alhoewel net in die uiterste gevalle - 'n gedig heeltemal moes ‘rekonstrueer’. My standpunt was egter telkens dat die literêre meriete in elke geval die deurslag moes gee.
Om die leser wat in die teksgeskiedenis geïnteresseerd is, of my ‘definitiewe’ uitgawe in twyfel trek, behulpsaam te wees, het ek die teksvariante in 'n uitvoerige ‘Verantwoording’ aan die einde van hierdie uitgawe gekatalogiseer. Oor die