Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 659]
| |
[pagina 661]
| |
Ikort ná leipoldt se dood was daar uit verskeie oorde belangstelling in sy letterkundige nalatenskap. In dié vroeë stadium was sy dokumente by die Universiteit van Kaapstad - wat vanaf 1947 deur skenkings van Lulu Bolus, Jeff Leipoldt en Peter Shields tot stand gekom en met die jare deur ander skenkings aangegroei het - nog nie ontsluit nie. Navorsers moes hulle dus aanvanklik tot publikasies in tydskrifte beperk. Op dié wyse het die uitgebreide bundel C. Louis Leipoldt, eensame veelsydige (1948) onder redaksie van P.J. Nienaber tot stand gekom: 'n versameling oorsigtelike en gedetailleerde studies oor aspekte van Leipoldt se lewe en werk, gevolg deur boekbesprekings en 'n bylae oor sy afkoms. Nienaber redigeer met die medewerking van J.R.L. van Bruggen twee bundels poësie: Die Moormansgat en ander verhalende en natuurverse (1948) en Geseënde skaduwees (1949), terwyl Lulu Bolus en R.F.M. Immelman die manuskrip van The ballad of Dick King and other poems (1949), wat Leipoldt onder die pseudoniem Pheidippides wou laat verskyn, vir publikasie gereed kry. In 1952 verskyn sy 300 Years of Cape wine met 'n inleiding deur Hastings Beck, in 1953 word die voltooide ‘Jeugherinneringe’, wat die eerste hoofstuk van sy outobiografie sou wees, as bylaag tot Markus Viljoen se 'n Joernalis vertel gepubliseer en in 1963 versamel Fred le Roux die reeks artikels wat Leipoldt in die veertigerjare onder die titel ‘Kelder en kombuis’ vir Die Huisgenoot gelewer het, onder die skitterende titel Polfyntjies vir die proe. En in 1976 verskyn Cape cookery met 'n inleiding deur Brian Lello en illustrasies deur Keri Swift. Naas hierdie bestendige reeks publikasies uit sy nalatenskap het Leipoldt se skeppende werk met die jare steeds die aandag van letterkundiges getrek. Afgesien van die twee doktorale proefskrifte van Jan Kromhout (Leipoldt as digter, 1954) en M.P.O. Burgers (C.L. Leipoldt: 'n Studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling, 1960) is talle ondersoeke van kleiner omvang aan sy werk gewy. Reeds in 1940 het N.P. van Wyk Louw sy belangwekkende studie oor ‘Leipoldt as digter’ op Leipoldt se sestigste verjaardag in Die Huisgenoot gepubliseer, en later word dit opgeneem in Opstelle oor ons ouer digters (1972) en Versamelde prosa 2 (1986). W.E.G. Louw bundel sy opstelle oor | |
[pagina 662]
| |
die ‘Vormprobleme by Leipoldt’ (1947) en ‘Leipoldt se skryfmetode’ (1948) in Ou wyn van vreugde (1958), terwyl P. du P. Grobler sy indringende studies oor die hele oeuvre en ‘'n Nuwe liedjie op 'n ou deuntjie’ in die tweede uitgawe van Perspektief en profiel (1960) en Verkenning (1962) onderskeidelik in boekvorm besorg. J.C. Kannemeyer se ondersoek na Leipoldt se teksversorging word opgeneem in Konfrontasies (1977) en dié van T.T. Cloete oor ‘Leipoldt as digter van besonderhede’ in Kaneel (1970). Twee opstelle wat in die sestigerjare verskyn en feitlik 'n Copernicaanse rewolusie in die lees van ‘Oom Gert vertel’ tot gevolg het, is dié van D.J. Opperman (opgeneem in Naaldekoker, 1974), wat die aksent op die gedig as dramatiese monoloog laat val, en dié van Merwe Scholtz (opgeneem in Herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle, 1975), wat die geykte siening van oom Gert as ‘rasegte’ Boer omdop. Bepaalde aspekte van Scholtz se interpretasie is later deur E. Lindenberg genuanseer (Onsydige toets, 1965), maar dit doen nie afbreuk aan die belangrike nuwe kyk op die hooffiguur waarmee Scholtz hier kom nie. In 1979 verskyn E.M. Sandler se belangwekkende versameling Leipoldt-briewe onder die titel Dear Dr Bolus, 'n voorspel tot die eeufeesjaar 1980 met 'n hele stroom publikasies. Naas bloemlesings uit sy kinderverse en -verhale (Die issiegrimmiebonso deur Pieter Grobbelaar) en kortverhale (O'Callaghan se waatlemoen deur A.P. Grové) redigeer Merwe Scholtz Leipoldt se nagelate drama Moederplig en 'n nuwe uitgawe van die Slampamperliedjies, terwyl Stephen Gray met ingrypende redigering daarin slaag om 'n leesbare Stormwrack op die mark te bring. Leipoldt in woord en beeld onder redaksie van P.J. Nienaber is 'n gedeeltelike herdruk, met byvoeging van foto's, van sy 1948-bundel, terwyl Pieter Grobbelaar vir 'n fraai fotoboek onder die titel C. Louis Leipoldt 28 Desember 1880 - 12 April 1947 sorg. Van die beste kritiek oor Leipoldt verskyn in die huldigingsbundel Leipoldt 100 wat Merwe Scholtz redigeer. J.C. Kannemeyer versorg 'n uitgawe van die Versamelde gedigte. Die firma Human & Rousseau bring 'n hoogs nodige heruitgawe van Bushveld doctor op die mark, terwyl van Leipoldt se resepte deur Peter Veldsman in Eet saam met Leipoldt in meetbare eenhede ‘vertaal’ word, 'n publikasie wat by die faksimilee-uitgawe van Kos vir die kenner (1978) aansluit. En na afloop van die eeufeesjaar kry ook Leipoldt se kritiese opstelle en resensies aandag in twee uitgawes wat deur J.C. Kannemeyer geredigeer word: Kritiese aanloop (1989) en Literêre causerie (1990). | |
[pagina 663]
| |
IIMaar naas hierdie aandag aan Leipoldt was daar met die jare 'n reeks ‘uiterlike’ en ‘innerlike’ huldigings waaruit blyk in hoe 'n mate Leipoldt op ander vlakke steeds van bewonderaars en medekunstenaars aandag kry. Reeds van 1952 af is 'n Leipoldt-beurs vir leerlinge van die Hoërskool Clanwilliam, wat hulle studie aan die Universiteit van Kaapstad wou voortsit, beskikbaar gestel. In 1957 is die Leipoldt-Nortier-gedenkbiblioteek met borsbeelde van albei deur F. Cuairan oopgestel, terwyl 'n afdeling van die museum op Clanwilliam ook aan Leipoldt gewy is. Van tyd tot tyd is met die jare huldigingslesings oor verskeie fasette van sy werk gehou. In Kaapstad was daar selfs jare lank 'n groep vriende wat gereeld vir 'n Leipoldt-ete bymekaargekom het. By sy graf in die Pakhuispas is 'n boek geplaas waarin besoekers hulle naam kon teken en opmerkings kon skryf. Maar belangriker nog as hierdie ‘uiterlike’ huldigings is die aandag wat Leipoldt van medekunstenaars gekry het. Reeds vroeg het die digter Toon van den Heever 'n parodie op die tipe vraagstellings in Leipoldt se slampamperliedjies geskryf: Bommelby, bommelby met jou wit bandolier,
Met jou vlerke wat blits in die sonlig en gons,
En jou swartpak verguld met die blomme se dons,
Wat beteken jou singe en wat maak jy hier?Ga naar eind1
Opperman wy nie 'n parodie aan Leipoldt in sy ‘Met apologie’-reeks nie, maar kyk in ‘Slapamperras’ 'n bietjie meewarig neer op Leipoldt se begeerte om so afgesonderd van almal in die Karoo te rus: Dit was jou wens
om in die Pakhuispas
ver van die mens
te rus by das
en nagskade,
maar langs jou as
in die bakkrans
lê 'n leë bottel Limonade.Ga naar eind2
| |
[pagina 664]
| |
In 'n heel ander trant is die ‘nadigting’ van Leipoldt in N.P. van Wyk Louw se ‘Hommage à C.L. Leipoldt’, 'n gedig wat 'n mens aan ‘Ek het 'n mannetjie van potklei gemaak’ uit Uit drie wêrelddele laat dink: Kom ons maak 'n plakkiesplaas
blougruis hiers my pad
plakkiebeeste plakkies-persies
blikkie water in die gat
vetstert van die bandjiebos
vir die skááp vir sterte
nee jong vat koesnáátjie
vir jou blêrrie-groen pê-re
perd se rûe is mos krom
het jy bandjie in jou mond
Hè, dan kry jy, hè, dan kry hy
krimpsiek teen die winter kom!Ga naar eind3
Parodieë, maar dan ‘ernstige’ navolgings en met gelaaide ander ‘inhoude’ as gevolg van siektetoestande, gee Opperman en Pirow Bekker later in hul nadigtings van ‘Boggom en Voertsek’,Ga naar eind4 terwyl Joan Hambidge 'n vers op die ‘wysie’ van ‘Wys my die plek’ by TachycardiaGa naar eind5 insluit. Johann de Lange gee in sy ‘Leipoldt’-tweeluik met die gebruik van toespelings op sekere verse sy besondere interpretasie van die mens Leipoldt,Ga naar eind6 terwyl T.T. Cloete in sy huldevers ‘Leipoldt 100’, ook met subtiele toespelings op bepaalde gedigte, tot 'n ‘nuwe’ interpretasie kom van sekere vrae en probleme wat Leipoldt aan die orde stel.Ga naar eind7 Vanaf die sewentigerjare het komponiste en sangers soos Laurika Rauch, Jannie du Toit en Koos du PlessisGa naar eind8 by herhaling van Leipoldt-tekste vir hulle liedjies begin gebruik maak, terwyl Katinka Heyns met Chris Barnard as draaiboekskrywer vir die uitmuntende video Slampamperman oor die lewe van Leipoldt sorg. Een van die grootste huldes vir Leipoldt is ‘Leipoldt sterf’, die laaste volwaardige gedig wat Opperman voor sy beroerte van 1981 publiseer. Dit is 'n gedig waarin Opperman sekere hoofmomente in die lewe en werk van Leipoldt gebruik as hiëroglief vir sy eie lewe en die bestemming waarheen hy op pad is. Dit eindig, ten spyte van die gevaar van die ‘tifone’, met die vreugdevolle oorgawe aan die ‘spese- | |
[pagina 665]
| |
rye’ van die slotstrofe en die oorgawe aan die wonder van die ‘klip’ en die ander bekende konstantes van Leipoldt se verse. Dus: onder 'n Swart (beduiwelde!) Suidoos
laveer die leste skip vannag
na hierdie hospitaal in Tamboerskloof.
Vergeefs het ek by Soekaradja
Boeddha na geheime varings
agter die waaiervarings uitgevra.
Vergeefs by Hyde Park gesoek na wondermedisyne
om agter rododendrons fyner rododendrons
te gewaar, konyne agter die konyne!
Niks by Clanwilliam in die Pakhuispas
verwag - met Vader se viool kisgepak
deur manne van Calvyn - as 'n handvol as!
Van my eerste tot hierdie trombotiese gesnik
was die grootste wonder elke oomblik elke klip,
elke kriekie, ramkie, varing wat nóú daar vir my knik.
Bog, Boetie, met betoë! Vaak is vaak,
en narkoties damp reeds uit die kombuis
tifone vol speserye vir gaar maak!Ga naar eind9
| |
IIIIn die verlede is Leipoldt veral geloof as dié digter wat die leed van die Boerevroue en -kinders tydens die Anglo-Boereoorlog meer as enigiemand anders verwoord het en as die sanger wat die Suid-Afrikaanse natuur en veld tot poësie omgetower het. Om dié rede is hy dan ook as volksdigter by uitstek bestempel. Toe daar in sy latere poësie sprake was van 'n sterker kosmopolitiese tendens in sy werk en 'n afkeer van 'n eng nasionalistiese strewe, is by tye uit politieke oorwegings standpunt teen hom ingeneem. | |
[pagina 666]
| |
As 'n mens Leipoldt se dokumente nagaan, kom 'n ander beeld van die skrywer en mens tot stand. Leipoldt het nooit van nasionalis tot liberalis en wêreldburger oorgegaan of van 'n aanvanklike geloofsaanvaarding tot 'n ‘on-Afrikaanse’ Boeddhisme nie. Die dokumente toon onteenseglik aan dat hy reeds in sy ouerhuis krities teenoor die Calvinisme in die besonder en teenoor die Christelike godsdiens in die algemeen gestaan het en dat hy van die Boeddhisme en ander denkrigtings reeds vroeg in sy lewe deur die werk van Junghuhn kennis geneem het. Junghuhn se Lichten schaduwbeelden was 'n seminale invloed wat hom tot 'n ateïstiese of dan ten minste 'n agnostiese lewensvisie gelei het. Op dieselfde wyse is daar nie sprake dat hy aanvanklik 'n blinde verering vir president Paul Kruger en die onafhanklikheidstrewe van die Boererepublieke gehad het nie. Onder sy berigte vir Het Nieuws van den Dag is daar reeds in dié vroeë tyd duidelike kritiese geluide teen 'n eng nasionalisme. In sy eerste bundel verse praat hy by tye van ‘my’ land, volk en nasie, ook in gevalle waar hy nie die stem van 'n gedramatiseerde spreker aanneem nie. Tog skryf Leipoldt nooit versetverse wat in die spesifieke aktualiteit vassteek nie. Sy gedigte oor die Anglo-Boereoorlog het voortgekom uit 'n intense meelewing met menslike leed as sodanig, waar ook al ter wêreld. Verby die spesifieke geval groei sy verse uit tot 'n universeler klag en is hulle geen wapens in die nasionale stryd van die Afrikaner nie. Daarby moet 'n mens onthou dat die Afrikanernasionalisme tot en met 1911 - Leipoldt se debuutjaar as digter - nog nie so sterk omlyn as later was nie en dat hy hom in dié stadium met baie aspekte daarvan kon versoen. Met die enigsins latere Hertzog-impuls het die Afrikanernasionalisme 'n koers ingeslaan waarteenoor hy afkerig gestaan het. Hoewel hy afsydig was van die tradisionele godsdiens en dogma van sy vader en grootvader, beteken dit nie dat Leipoldt die sendinggees en sendingywer van sy voorgeslagte afgesweer het nie. In 'n ander rigting en idioom - as medikus, maar veral as opvoeder en pleegvader van hulpbehoewende kinders - het hy daardie sendinggees uitgeleef. Dit verklaar die herhaalde voorkoms van die woord ‘plig’ met al sy variante en sinonieme in sy poësie en die hoë morele waardes wat daar uit so baie van sy geskrifte spreek, ook waar hy hom krities uitlaat oor die politieke benepenheid en kortsigtigheid van mede-Afrikaners en hul houding ten opsigte van mense wat in velkleur van hulle verskil. Feitlik profeties voorspel hy iets noodlottigs vir Suid-Afrika indien Afrikaners nie drasties in hul politieke uitkyk tot inkeer kom nie. Aan die vooraand van die apartheidsera sterf | |
[pagina 667]
| |
Leipoldt, sodat die onreg, misdade en geweld wat diskriminerende wette meer as veertig jaar lank tot gevolg gehad het, vir hom gespaar is. In die post-apartheidsera is sy politieke uitsprake en insigte egter steeds van soveel waarde dat 'n mens opnuut daarvan behoort kennis te neem. In plaas van slegs die hand vol gedigte oor die Anglo-Boereoorlog en sy slampamperliedjies - verse wat steeds hulle bekoring behou en met die jare selfs in waarde gegroei het - moet 'n mens vir 'n vollediger beeld van Leipoldt dus ook van sy ander werk kennis neem om die veelkantigheid van die figuur te sien. Afgesien van sy deeglike studie oor die wynbou en sy kulinêre geskrifte - waaronder Polfyntjies vir die proe van sy mooiste prosa bevat - is daar 'n aantal kortverhale en kinderstories wat steeds lesenswaardig is. Sy romans is waarskynlik van sy mindere werke, al gee Stormwrack 'n pragtige beeld van 'n bepaalde era. Naas enkele voortreflike vroeër opstelle uit sy Londense jare is dit egter met Dear Dr Bolus en Bushveld doctor dat hy sy beste werk in Engels lewer. Afgesien van sy meesterlike beheer oor Engels is dit sy beeld van die Britse hoofstad en sy indrukke van Europa wat 'n mens in die briewe tref, terwyl hy oor sake wat vandag steeds aktueel is, met oortuiging en drif in sy Bushveld doctor skryf. Met dit alles verander die beperkte beeld van Leipoldt as ‘volksdigter’ tot 'n ware bevryder van Afrikaners uit die eng grense wat hul lewensuitkyk en kultuur in so 'n groot mate in die verlede beperk het. Leipoldt was by uitstek dié digter van sy geslag wat die geestelike horisonne van Afrikaners versit en nuwe wêrelde vir sy mense oopgemaak het. |
|