Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 458]
| |
Hoofstuk XIV
| |
[pagina 459]
| |
hy as skoolseun so bewonder het. Die deftige brief wat hy aan die president skryf, is deur sekretaris Bok kort en bondig mondeling beantwoord: ‘Jy kan die President môre kom besoek, Doktor, so omtrent sewenuur in die oggend.’ Vir iemand wat teen daardie tyd nog diep in die bed gelê en slaap het, was dit 'n verrassing dat staatsoudiënsies só douvoordag kon plaasvind. Maar met Kruger om halfses al op die been en in die gewoonte om reeds kort ná agtuur kantoor toe te stap, was besoekers só vroeg in die oggend by sy huis in Kerkstraat 'n alledaagse verskynsel. Engelenburg, so gee Leipoldt later dié voorval weer, het hom in konvensionele drag gekleed: pluishoed, wit handskoene, wit das, swart manel, net soos hy sou gedoen het as hy sy opwagting by koningin Alexandrina Victoria moes maak. 'n Rytuig het hom na die presidentswoning geneem en voor die stoep het hy afgeklim. Die President was alleen, aan pyprook op 'n bank op die stoep, en toe die jong vreemdeling die trappies opkom,...het die oubaas soos gewoonlik gebrom: ‘Dag, kom maar nader.’ Ten spyte van hierdie enigsins ongelukkige kennismaking het Engelenburg en Kruger van die begin af goed klaargekom en het die president dikwels, veral waar dit buitelandse aangeleenthede aanbetref, die advies van die jong Nederlander gevra. Engelenburg het van sy kant, soos Leipoldt dit stel, groot eerbied vir die ou president gehad en as sy verdediger opgetree, ofskoon hy nie ongevoelig was vir Kruger se gebreke nie. Later, toe Leipoldt aan 'n biografie oor Kruger gewerk het, kon Engelenburg hom baie inligting verskaf wat tot in daardie stadium onbekend was. Dit was ook Kruger wat Engelenburg se loopbaan in die rigting van die joernalistiek gestuur het. Toe Jonker sterf, het Kruger aan die hand gedoen dat die bestuur van die koerant die ‘jong Hollander-advokaat wat nou hier is’,Ga naar eind4 moet nader om die betrekking te aanvaar. So het dit gekom dat Engelenburg hoofredakteur van De Volksstem (soos die naam van dié koerant in daardie vroeë dae nog gespel is) geword het. | |
[pagina 460]
| |
Met 'n onderbreking, toe die koerant as gevolg van die rampspoedige koers van die Anglo-Boereoorlog van Junie 1900 tot Maart 1903 gestaak is, het hy dit gebly tot 1924 en weer van 1925 tot sy finale uittrede in 1929. Toe die koerant 'n jaar of wat vóór die Anglo-Boereoorlog in finansiële moeilikhede was, het Engelenburg met die steun van Wallach die nodige kapitaal verkry om voort te gaan. In 1905 het Wallach 'n drukkersfirma in die lewe geroep om die publikasie van die koerant te behartig. Oorspronklik was die doel van die blad om die regte van die Zuid-Afrikaansche Republiek teen aanvalle van binne en buite te verdedig. Ná die oorlog het dit Louis Botha en J.C. Smuts se Het Volk as 'n politieke party en ná uniewording die Suid-Afrikaanse Party van die twee generaals ondersteun. Aanvanklik was die koerant gehuisves in 'n gebou in Pretoriusstraat, maar later het dit verhuis na ruimer kantore in Andriesstraat. Belangrike joernaliste wat korter of langer tye aan De Volkstem verbonde was, sluit in Harm Oost, Frederik Rompel (wat later tot die redaksie van De Burger toegetree het), Nathan Levi, J.P. la Grange Lombard (later redakteur van De Vriend des Volks), J.M.H. Viljoen (later redakteur van Die Huisgenoot), L.W. Hiemstra, E.A. Malga en veral Gustav S. Preller.Ga naar eind5 Engelenburg se werk was by sy aanvaarding van die hoofredakteurskap nie maklik nie, want hy moes hom inwerk in plaaslike omstandighede en in voeling met sy lesers kom. Met sy takt en bedaardheid, sê Leipoldt, kon hy egter dikwels 'n tussenkoers kies, al het hy, waar dit 'n saak van beginsel gegeld het, onwrikbaar vas gestaan. Soms het sy regskennis by sy joernalistieke werk goed te pas gekom. In ten minste een geval het sy besondere soort geestigheid vir 'n insident gesorg wat jare lank die regskringe in Suid-Afrika laat skaterlag het. ‘Engelenburg’, skryf Leipoldt, het met jeugdige voortvarendheid sy mening uitgespreek oor iets wat eintlik nog in die hof hangende was, en die regters het dit so sleg opgevat dat hulle hom voor die regbank gedaag het weens ‘minagting van die hof’. Hierdie misdaad is onbekend in die Romeins-Hollandse reg, en Engelenburg, wat dit goed geweet het, besluit toe om met die Edelagbares 'n bietjie die gek te skeer. Op die môre waarop hy sy verskyning voor die hof moes maak, stap hy deftig van sy kantoor, destyds nog bo in Pretoriusstraat, gekleed in sy toga en bef en gevolg deur twee Kaffers wat elkeen 'n kruiwa, volgelaai met wetboeke stoot, Markstraat af, Kerkplein skuins oor, Kerkstraat op en regs Andriesstraat in, om die ou hooggeregshofgebou ... te be- | |
[pagina 461]
| |
reik. Hy het met opset sy ommegang so lank en indrukwekkend as moontlik gemaak en self met 'n doodernstige gesig voor sy twee Kaffers gestap. Sy intrede in die hof het dan ook 'n opskudding verwek, wat regter Jorissen, erg gesteld op sy waardigheid, glad nie aangestaan het nie, ofskoon regter Ameshoff, wat dadelik lont geruik het, die saak nugter opgevat het. Engelenburg lewer toe 'n lang pleidooi waarin hy bewys dat daar nie so iets as ‘minagting’ van die hof bestaan nie en eindig met 'n beroep op die regbank om hom tog nie alte swaar te straf nie. ‘Ek weet nie wat die straf sal wees nie,’ sê hy, ‘aangesien ek nêrens in die deur my geraadpleegde boeke enige inligting oor die aard van hierdie misdaad kan kry nie, maar ek versoek die edelagbare hof, ingeval die misdaad met die dood strafbaar is, om my ten minste tyd en geleentheid toe te staan om my wêreldse sake in orde te bring voordat die vonnis voltrek word.’ Wyle meneer Rooth, wat teenwoordig was en my van hierdie insident vertel het - Engelenburg het dit later as ‘'n kwajongstreek’ beskou en liefs nie daaroor gepraat nie - het gesê dat die regters en die balie (met uitsondering van Jorissen, wat so kwaad was dat hy werklik lus gehad het om op die verspotte advokaatjie die doodstraf toe te pas) hulle lag nie kon bedwing nie. Daar was natuurlik geen sprake van straf nie; ál wat die regters kon doen, was om Engelenburg te waarsku om hom in die toekoms nie in te laat met nog onbesliste hofsake nie.Ga naar eind6 Engelenburg se kennis van die volkerereg het hom in die bespreking van ingewikkelde vraagstukke goed te pas gekom en in tal van aangeleenthede van nasionale belang het sy koerant die voortou geneem. Sy skryfstyl in sy hoofartikels was altyd 'n bietjie ingewikkeld en deftig en sy Afrikaans, wat hy van 1915 af begin skryf het, was nooit heeltemal spontaan nie. Hoewel inherent 'n liberalis wie se oortuigings nie altyd met die opvattinge van sy leserspubliek gestrook het nie, was hy gesteld daarop om nooit, in die besonder waar dit godsdienstige gevoelens betref, aanstoot te gee nie. By geleentheid het generaal C.R. de Wet die kantore van De Volkstem besoek ‘om daardie dit-en-datse doktor dit en dat aan te doen’.Ga naar eind7 Engelenburg het hom egter so mooi behandel dat die generaal by sy vertrek sy subskripsie vir die volgende jaar vooruit betaal het!Ga naar eind8 Chris Leipoldt en Engelenburg het mekaar reeds in 1914 ontmoet en feitlik onmiddellik het daar 'n hegte vriendskap tussen die twee ontstaan. Engelenburg was sewentien jaar ouer as die jong mediese skoolinspek- | |
[pagina 462]
| |
teur, nog 'n voorbeeld - ná dié met Harry Bolus en die Ford-susters van Leeds - van Leipoldt se vermoë om 'n intieme verhouding met 'n ouer persoon op te bou. Albei was bekwame joernaliste, albei het 'n lewendige belangstelling in landsake en die geskiedenis gehad, albei was belese in verskeie letterkundes, en albei het verskeie tale met gemak gepraat.Ga naar eind9 Toe hulle mekaar leer ken het, was Engelenburg net soos Leipoldt 'n klaarblyklik verstokte oujongkêrel. Eers láát in sy lewe het hy sy vriende verras deur met Lorraine Cox, gebore Halliday, te trou. Dit was 'n baie gelukkige huwelik en haar dood was vir hom 'n slag wat hy nooit heeltemal kon verwerk nie. Leipoldt was dikwels op besoek by Engelenburg in sy ‘Witte Huis’ in Hamiltonstraat, wat later die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sou word. Engelenburg was, soos Leipoldt, 'n uitstekende kaartspeler. Hy het 'n groot belangstelling gehad in die skilderkuns en 'n studie gemaak van Sjinese glasuurwerk. ‘Hy was’, skryf Leipoldt, ‘'n goeie geselser, met 'n vonkelende geselstrant wat hy kon opluister met tal van anekdotes en aanhalings uit wat hy gesien, ondervind en gelees het. Fyngevoelig, 'n “gentleman” nie slegs deur opleiding en beskawing nie, maar deur sy natuurlike inbors, het hy daarby 'n sekere charme besit wat die omgang met hom 'n plesier gemaak het.... Ek is, wat my letterkundige werk betref, baie aan hom verskuldig vir sy leiding en kritiek. Dit was altyd konstruktiewe kritiek, soms verpletterend in die begin, maar op die ou end opbouend en aanmoedigend.’Ga naar eind10 Engelenburg was intens geïnteresseerd in die ontwikkelende Afrikaanse kultuur en die groeiende nasionalisme, al was hy, soos Leipoldt dit - enigsins omslagtig en sintakties lomp - stel, ‘deur opvoeding en van nature 'n wêreldburger, wat nie verskil gemaak het suiwer op grondslag van kleur, ras of geloof nie, maar slegs beskawing gesoek het en met daardie uitdrukking bedoel het die breë mensliewendheid wat verdraagsaam is en liberaal, die gevoelens van ander respekteer, terwyl dit aan eie sienswyses vaskleef’.Ga naar eind11 Ook in dié opsig sou die kosmopolitiese redakteur en die sendelingkind dus by mekaar aanklank gevind het. Reeds kort ná sy terugkeer uit Londen het Leipoldt, naas sy joernalistieke werk vir ander koerante en tydskrifte, bydraes vir De Volkstem begin lewer. De Volkstem het die beleid van die Suid-Afrikaanse Party van Botha en Smuts ondersteun en Engelenburg self het 'n groot bewondering gehad vir Botha, oor wie hy later 'n biografie sou skryf. Hy het Botha na die vredeskonferensie by Versailles vergesel om as Franse tolk op te tree. Meer | |
[pagina 463]
| |
as een keer het hy beweer dat Botha by daardie geleentheid op hom 'n groter indruk gemaak het as Wilson van die VSA of Clemenceau van Frankryk.Ga naar eind12 Hoewel Leipoldt skepties gestaan het teenoor Smuts en ‘slim Jannie’ se insig in die politiek nie vertrou het nie, was hy soos Engelenburg 'n groot bewonderaar van Botha. Later sou Leipoldt skryf dat Engelenburg se Botha-biografie, ofskoon haastig voltooi, 'n goeie voorbeeld is van ‘sy kritiese deursig en sy objektiewe manier om sake te beskou’.Ga naar eind13 Voordat Engelenburg saam met Botha na Frankryk is vir die vredesonderhandeling, het hy 'n tyd lank in Londen vertoef en, net soos Leipoldt in 1902, die geesdrif op die ‘vredeaand’ ondervind. ‘Hy het’, skryf Leipoldt, ‘met die ou verslaggewersneiging om dinge van naby te beskou, deur die strate geloop en toevallig 'n groep Kanadese vrywilligers teëgekom wat hom eenparig tot hul vaandeldraer gekies het, en as sodanig het hy voor Buckingham-paleis verskyn - glo die eerste maal in sy lewe dat hy aktief aan vlagswaaiery deelgeneem het.’Ga naar eind14 Dit is nie onwaarskynlik nie dat Leipoldt se tweede ‘vredeaand’-vers, die sewentiende slampamperliedjie in Uit drie wêrelddele, nie op die Vrede van Vereeniging slaan nie, maar op Engelenburg se ervaring in Londen - 'n vers waarin Engelenburg se skeptisisme en sinisme, wat vir Leipoldt so aantreklik was, deurskemer: Hulle skreeu hoera in die strate
Dat stoele en tafels kreun;
Die vensterglas is vol gate;
Jou ore is moeg gedreun.
En vra jy waarom die bohasie
Waaronder die vensters ly,
Dan praat hul oor ‘eer van die nasie’,
Oor vlae en vrymakery.
As ek deur die strate slampamper,
Dan sien ek maar min van die eer;
En vrymakery lyk my amper
'n Knoop vir die mensdom meer.Ga naar eind15
Met die dood van Botha in 1919 het die Suid-Afrikaanse Party steun begin verloor en Smuts kon as Botha se opvolger die verkiesing van 1920 slegs met 'n aansienlik verminderde getal setels wen. Dit het hom | |
[pagina 464]
| |
laat besluit om sy party deur 'n amalgamasie met die Unioniste te versterk en 'n vroeë verkiesing in 1921 uit te skryf. Dié verkiesing wen die Suid-Afrikaanse Party dan met 'n groter meerderheid. Tog was Smuts ongerus oor die steeds groeiende aanhang wat die Nasionale Party van generaal Hertzog geniet het. Bekwame joernaliste wat sy beleid kon propageer, so het hy gemeen, sou vir die Suid-Afrikaanse Party goud werd wees. In Die Burger, die suidelike koerant wat die beleid van die Nasionale Party ondersteun het, publiseer C.J. Langenhoven op 24 April 1922 die eerste aflewering van sy Aan stille waters. Dit is 'n rubriek wat weldra gretig gelees is en waarin Langenhoven met die buigsaamheid van sy styl, die onverwagte sinswending, die verrassende inval en die geestige effek tot sy lesers gespreek het. Waarskynlik het Smuts gemeen dat Leipoldt met 'n soortgelyke rubriek in De Volkstem 'n noordelike teenvoeter vir Langenhoven kon wees. Teen die middel van Januarie 1922 praat Engelenburg en Wallach dan ook op voorstel van Smuts met Leipoldt oor die moontlikheid om tot die personeel van De Volkstem toe te tree. 'n Maand later dring Smuts self by hom daarop aan en in die eerste week van Maart bied Engelenburg skriftelik vir hom 'n pos aan teen 'n salaris van £ 1400 per jaar. Dit was aansienlik meer as die maksimum van £ 950 plus plaaslike reistoelaag wat hy as mediese skoolinspekteur verdien het. Teen hierdie tyd het Leipoldt vir die skoolmediese dienste in Transvaal 'n stewige infrastruktuur gevestig waarop sy kollegas kon voortbou. Hy was moeg van die alewige politieke geknoei in die Transvaalse provinsiale administrasie en hy was vererg oor wat hy as inmenging van die departement van binnelandse sake in aangeleenthede rakende sy salaris beskou het. Hoewel die betrekking by De Volkstem vir hom aanloklik was, moes hy eers administratiewe sake by die skoolmediese dienste in orde bring en kon hy nie dadelik sy pos by die provinsie neerlê nie. Daarom bedank hy eers op 7 September 1922. Op 9 Oktober 1922 skryf dr. John Adamson, direkteur van onderwys, aan Leipoldt dat hy die bedanking ‘with very deep regret’ aanvaar. ‘I should like to put on record’, gaan hy voort, ‘my appreciation of the signal services you have rendered to this Department and, of course, through the Department to the Province, by the work you have done in connection with the medical inspection of schools. The scheme and its organisation are your own and have been adopted, I believe, wholly or largely by the other provinces of the Union. You will have the satisfaction of know- | |
[pagina 465]
| |
ing, therefore, that you have inaugurated and organised this vitally important work. I am satisfied that future developments will follow on the lines you have laid down.’ Hy gaan voort: ‘I should also like to refer to the energy and self-sacrifice with which you have devoted yourself to the executive side of the work since its inception. It must be a source of abiding satisfaction to you to know that among pupils, parents and teachers your name will stand for personal sympathy and professional efficiency.’ Op 3 Januarie 1923 begin Leipoldt dan as assistentredakteur van De Volkstem met Engelenburg as hoofredakteur te werk. | |
IIVan die begin af was Leipoldt se samewerking met Engelenburg by De Volkstem baie hartlik. Hy het in Engelenburg 'n redakteur gevind wat in alle opsigte lojaal teenoor sy kollegas was. Hy skryf: ‘Ons verskille van mening - en niemand wat joernalis is, kan op die staf van 'n redaksie wees sonder verskil van mening met sy editeur nie - is vriendskaplik bespreek en ewe vriendskaplik bygelê. Dr. Engelenburg het soms hardnekkig aan sy menings vasgekleef, maar hy was nooit kleinsielig nie, en altyd verdraagsaam jeens 'n ander se mening, hoeseer hy ook daarvan verskil het. In sy liefde vir die waarheid was hy byna wetenskaplik objektief, van hom kan sekerlik nooit gesê word, wat van Coleridge gesê is, dat hy kleinmoedig was in die toepassing daarvan nie. Inteendeel, hy het dit beklemtoon - of tenminste iets waarvan hy gevoel het dat dit daarmee gelykstaan - en dit met alle middels tot sy beskikking. Dit is wat sy hoofartikels vir hulle wat sulke strenge objektiwiteit bewonder het, so interessant en leersaam gemaak het.’Ga naar eind16 Hoewel Leipoldt in die loop van 1923 'n reeks artikels in De Volkstem skryf om kiesers vir die komende provinsiale raadverkiesings te beïnvloed deur die beleid van die Suid-Afrikaanse Party uiteen te sit, was hy nie in die eerste plek 'n politieke joernalis nie. Tog het hy van tyd tot tyd kommentaar op die politieke stand van sake gelewer. So wys hy in De Volkstem van 9 Julie 1923 daarop dat mense in Suid-Afrika meer waarde heg aan die persoonlikheid van die kandidaat as aan sy beleid. Daarby vind hy dit jammer dat die leed in die Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog steeds as 'n akute grief beleef word. Hy pleit daarvoor dat ons nie moet toelaat dat destydse gevoelens en vooroordele ons | |
[pagina 466]
| |
oordeel oor sake wat tans van belang is, benewel nie. Selfs al spel ons dit nie altyd met 'n hoofletter N nie, skryf hy op 23 Augustus 1923, is ons almal nasionaliste in die sin dat ons Suid-Afrika eerste plaas. Na aanleiding van die sensus en die besorgdheid van sommige lesers oor die verhouding van die aantal ‘inboorlinge’ tot die aantal blankes, sê hy op 18 Oktober 1924 dat dit kwaliteit is, en nie kwantiteit nie, wat in sulke sake van belang is. Later spreek hy hom openlik uit teen Hertzog se pleidooi vir 'n groter selfstandigheid vir Suid-Afrika. ‘Opgevoed soos ek is,’ skryf hy, ‘in die ou skool, waarin die leermeesters Onze Jan en mnr. Merriman was, kan ek my onmoontlik vereenselwig met die nuwe leer, wat voorgee dat ons, as nasie en as volk, onafhanklik is in die sin wat Frankryk, Duitsland, Roemenië en andere nasies onafhanklik is nie. Koddig genoeg, ek, wat tot hiertoe rots-sterk in my gevoel van nasionale selfstandigheid was, kan my nie warm maak oor die gedagte dat, as ek nie daardie nuwe leer pront onderskryf nie, ek my eie gevoel van selfstandigheid en nasionaliteit moet prys gee en alleen staan as 'n minderwaardige, wat nie werd is om aan die Afrikaner volk te behoort nie.’Ga naar eind17 Dikwels laat Leipoldt hom ook uit oor sake waarvan blanke Afrikaners van destyds liefs nie wou weet nie. Wanneer hy oor die vooroordeel teen Jode, Portugese en bruin mense skryf, sê hy dat daar in baie Afrikaanse families ‘kleurlingvoorouers’ voorkom en pleit hy vir begrip en verdraagsaamheid.Ga naar eind18 By geleentheid, toe hy nie meer aan De Volkstem verbonde was nie maar nog gereeld vir die koerant geskryf het, aarsel hy ook nie om die Suid-Afrikaanse Party striemend aan te val nie. Wanneer Hertzog hom, regstreeks téén besluite op kongresse van die Nasionale Party, uitspreek teen die benoeming van 'n gebore Afrikaner tot goewerneur-generaal en die SAP-pers dié uitspraak toejuig, skryf Leipoldt: ‘Ek kan dit van die Engelse SAP-pers verwag, want ek weet deur ondervinding hoe verkeerd dit soms ingelig is oor eintlike Suid-Afrikaanse aangeleenthede, en hoe dit soms totaal verkeerd is in sy vertolking van ons nasionale gevoelens.’Ga naar eind19 Maar, hoewel hy in die politiek geïnteresseerd was, het Leipoldt verkies om sake rakende die partypolitiek in die hande van sy kollegas te laat, veral nadat hy in 'n artikel in Ons Vaderland van 18 September 1923 daarvan beskuldig is dat hy ter wille van politieke gewin vir sy party weersprekende dinge in De Volkstem en The Star publiseer. Só boos was hy oor dié beskuldiging van politieke oneerlikheid dat hy 'n regsmening oor die aangeleentheid ingewin het. Hy is egter geadviseer dat die betrokke arti- | |
[pagina 467]
| |
kel, hoewel moontlik lasterlik, 'n grensgeval is en dat 'n lastereis waarskynlik nie sou slaag nie. In plaas van oor die politiek het Leipoldt dus meermale geskryf oor sake wat hom na aan die hart gelê het, soos geneeskundige aangeleenthede en mediese skoolinspeksies, skoolreise en skoolkoshuise. Veral oor volksgesondheid laat hy hom etlike kere uit. Op 'n keer het hy die mielieboere kwaad gemaak met die uitspraak dat die mielie nie voldoende voedingswaarde het nie, behalwe as dit met die nodige kennis gekweek word. By 'n ander geleentheid het hy gesê geen enkele blanke vrou in die land verstaan die kuns om rys te kook nie. Met dié uitspraak het hy die vrouens in die harnas gejaag, maar hulle het die saal vol gesit toe hy 'n maand later 'n praatjie oor rysgeregte moes lewer.Ga naar eind20 Soos dikwels wanneer hy oor aangeleenthede geskryf het waaroor hy heftig gevoel het, aarsel hy nie om sy saak sterk te stel nie. By geleentheid vaar hy uit teen onkundige en agterlike parlementslede wat wetgewing oor volksgesondheid in die parlement ophou en van volkshospitale politieke stokperdjies maak. Hy bepleit matigheid wat eetgewoontes betref en 'n gesonde lewenstyl waarvoor selfs 'n oormatige belangstelling in die politiek 'n verderflike ding is! ‘Die meeste van ons’, skryf hy, ‘besef nie dat onmatigheid in baie dinge 'n ietsie aftrek van ons lewe nie. Onmatige belangstelling in die politiek, opbruis van die gemoed deur dit of dat, dus te baie uitstorting van kliervogte wat daardie opbruis van die hartstogte veroorsaak, kan invloed hê op die lewe van 'n indiwidu.’Ga naar eind21 Wanneer hy skryf oor hoe noodsaak lik dit is dat 'n kind na sy liggaam moet kyk, aarsel hy nie om die kerke in te klim nie. ‘Dit was altyd vir my 'n snaakse iets’, skryf hy, ‘om te sien hoe dat die kinders in kerk-koshuise aangemoedig word om aandag te bestee aan oordenking van sake wat [lees: waaroor - JCK] hulle net so min as ons iets beslis kan weet en om die sorg van hulle eie liggame te verwaarloos. Dit was verregaande bedroewend, om kinders te sien versamel vir wat genoem word “huisgodsdiens” terwyl die kinders nog ongewas en sleggevoed was.’ Wanneer 'n wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê word om naas owerspel kranksinnigheid, melaatsheid en lewenslange tronkstraf as redes vir egskeiding toe te laat, maak 'n kerklike deputasie daarteen beswaar. Dit gee Leipoldt weer die geleentheid om die kerk 'n geniepsige raps te gee. ‘My beskouings oor die saak’, skryf Leipoldt op 24 April 1923, ‘is van nul en geen waarde, omdat dit 'n kwessie van geloofsbeginsel is wat iedereen vir homself moet beslis. Ik kan slegs sê dat, uit 'n bloot mediese oogpunt beskou, is daar weinig beswaar teen die wetsontwerp.’ Die ver- | |
[pagina 468]
| |
slag van die kerklike deputasie is egter só dogmaties dat hy wel daaroor wil skryf. Die ou kerkvaders, sê hy, het wel egskeiding vir 'n ‘burgerlike dood’ toegelaat, net soos die huidige wetsontwerp bepleit. Die Rooms-Katolieke kanonieke wetgewing het egter, ten spyte van teenkanting van onder andere Beza en Calvyn, slegs owerspel as rede vir egskeiding erken. Die Suid-Afrikaanse kerklike deputasie bepleit dus nou die Roomse standpunt! ‘Daar kan’, skryf hy, ‘geen huwelik bestaan tussen diegenes wat nie deur opregte liefde aanmekaar geheg is nie. Dit is dus die plig van kristelike oorhede om te sien dat daar geen huwelik blij bestaan onder hulle onderdane as alleen sulkes wat gegrond is op blijwende liefde en opregte getrouheid, want die behoorlike, volledige en virnaamste doel van die huwelik is die gemeenskap van alle pligte, goddelik en menselik, onderling, een aan die ander, met die hoogste mate van welwillendheid en liefde.’ Wat volksgesondheid betref, wei hy by herhaling uit oor die gevare van inteelt en erflike belasting en die behoefte aan 'n studie van die genealogie. Onder mense met goeie Afrikaanse familiename bespeur hy 'n toename in geestelike minderwaardigheid, hoofsaaklik as gevolg van uitputting deur groot gesinne en swak versorging van die liggaam. ‘Ons het’, skryf hy, ‘'n behoorlike ondersoek van die jong geslag nodig, veral kinders van die derde en vierde geslag, wat in Suid-Afrika gebore is.... Intussen behoort die publiek te besef dat, hoe ons ook daardie groot vraagstuk behandel, ons op groot moeilikhede sal stuit, grotendeels te wyte aan ons opvatting van sedelikheid en ingewortelde eerbied vir wat ons in die verlede geleer is. Wie sou dit waag om vandag ronduit te verklaar dat seker gewoontes onder ons volk daartoe lei dat ons stadigaan biogeneties versleg? Of wie om te beweer dat ons beskouings van die geslagslewe nie akkordeer met die waarheid nie, en dat daar 'n ekonomiese sy aan die intieme saak is, wat ons nie wil of kan besef nie?’Ga naar eind22 Hoewel Leipoldt van enige vergelyking met Langenhoven sou gegru het, gaan Smuts se gedagte van 'n soort noordelike Aan stille waters in vervulling wanneer Leipoldt enkele weke ná sy aanstelling by De Volkstem, op 18 Januarie 1923, met sy Diwagasies van oom Gert begin, 'n rubriek wat hy (met 'n onderbreking in 1925) tot 1931 (toe hy nie meer aan die redaksie verbonde was nie) volhou. By geleentheid omskryf hy sy ‘diwagasies’ - 'n nogal vreemde begrip wat nooit in Afrikaans as woord ingang gevind het nie - as ‘afdwalings’ en ‘'n rondloperij met woorde’Ga naar eind23 - dus, 'n soort prosaekwivalent vir sy slampamperliedjies. In Julie 1923 verskyn ook die eerste | |
[pagina 469]
| |
van 'n rubriek oor Taal, lettere, kuns en wetenskap, wat daarna iedere Saterdag verskyn. Soos Langenhoven se rubriek in Die Burger is Leipoldt se Diwagasies druk gelees, al het dit by die lesende publiek nooit heeltemal dieselfde impak gehad nie. Hoewel baie van die stukke goeie leesbare joernalistiek is, skryf Leipoldt by tye skokkend slegte Afrikaans, in teenstelling tot Langenhoven, wie se bydraes altyd netjies afgewerk word en geen redigering nodig gehad het nie. As 'n mens wil sien hoe swak Leipoldt se Afrikaans by tye kon wees, moet jy naas sy manuskripte sy Diwagasies lees. In De Volkstem is sy taalgebruik soms só beroerd dat 'n mens wonder of die koerant ooit van 'n sub gebruik gemaak het! Tog is daar, naas verskille, ooreenkomste tussen Aan stille waters en Diwagasies van oom Gert. Leipoldt was, soos Langenhoven, ook in 'n sekere sin didakties in sy bydraes, maar hy het sy lering grotendeels tot die gebied van medisyne en geneeskunde beperk en selde vir sy lesers leiding op die gebied van geestelike en etiese sake verskaf. Sowel Langenhoven as Leipoldt was dikwels aweregs en stroomop in hul rubrieke; by meer as een geleentheid het hulle die heersende menings van hul lesers krities bekyk. Langenhoven se kritiek is getemper deur sy geestigheid en hy kon met sy woordspel en grappies sy lesende publiek aan sy kant hou. Leipoldt het egter by herhaling die ‘heilige koeie’ van die blanke Afrikaner gekritiseer en dikwels, bitsig of venynig, uitlatings gemaak wat prikkelend was maar in die tydsomstandighede as ‘onverantwoordelik’ deur sy lesers ontvang is. Langenhoven het hom nooit op die ‘heilige’ terreine van die Afrikaner begewe nie en in alles wat hy geskryf het, die ‘oortuiging van sy naaste’ gerespekteer en oor sy eie verwerping van dogmas en van 'n vormlike godsdiens geswyg.Ga naar eind24 Daarteenoor het Leipoldt sy dikwels wisselende agnostisisme, ateïsme of Boeddhistiese oortuigings openbaar gemaak en terselfdertyd die opvattinge van die deursnee-Afrikaner belaglik en argaïes probeer voorstel. Selfs die status van mense wat as heldefigure bekend was, bevraagteken hy. So sien hy pres. M.T. Steyn, in 'n beskouing van 18 Januarie 1923 oor die tweedelige biografie van sy skoonseun, dr. N.J. van der Merwe, as 'n ‘bedrukte senulijer, belas met die eienaardige wankelende, negatiewe gemoedstemming van lijers aan die siekte, en bowe-op met 'n sekere mate van ewe patologiese ekstase, wat vir mij as wetenskappelike persoon slegs 'n teken, nie van meerderwaardigheid, maar van sedelike en liggamelike ontaarding is’. Wanneer daar reaksie kom op die nogal kras blik op 'n man wie se staatsmanskap ten tyde van die Anglo-Boereoorlog hooggeag is, | |
[pagina 470]
| |
antwoord Leipoldt met kwalik verhulde selfvoldaanheid: ‘Ek vra van mij lesers die verstand om wat ek geskrijwe het aandagtig te lees en daarna logies te oordeel. As hulle geen van die twee kan doen nie, is ek nie verantwoordelik vir hul misverstande en valse opvattinge nie, net so min as wat ek aanspreeklik is vir hul gebrek aan logika en gesonde verstand. En dit's al wat nodig is om te sê.’ In sy antwoord op Leipoldt se uitlatings sê Van der Merwe dat Leipoldt hom laat dink aan 'n vandaal wat Rembrandt se Nachtwacht skend, terwyl Leipoldt in sy repliek Steyn se weifelende handelswyse in 1914 en sy onwil om sy mense tydens hul flirtasie met die Duitsers en die Rebellie tot orde te roep, aan sy ernstige siekbed van 1912 toeskryf. Ook teen Kapenaars se selfingenomendheid spreek hy hom uit wanneer hy weer in die Boland kom. Elke keer dat hy Kaapstad besoek, skryf hy, vind hy die inwoners kleinsieliger, meer insulêr en onbeskofter as vroeër, al is die Maleiers van die Bo-Kaap nog altyd hoflike mense. Wat hom dwars in die krop steek, is die ‘self-tevredenheid, die smoesige droogstoppelagtige ingenomenheid met hulself en met alles wat Kaaps is’.Ga naar eind25 Vroeër was daar 'n openheid by die inwoners, maar deesdae vind hy hulle onvatbaar vir redenering en ingestel op hulself, sonder inagneming van die res van die land. Hulle ly ‘aan skiereilandse verkalking van die verstand’!Ga naar eind26 Wanneer 'n Kaapse komitee voorkeur gee aan 'n ruiterstandbeeld van generaal Louis Botha in militêre uniform op Stalplein, spreek Leipoldt hom baie sterk daarteen uit. Hy vind die perd in verhouding tot die figuur te klein en die baadjie te kort. Daarby is min ruiterstandbeelde werklik geslaag, omdat die perd die eintlike aandag trek en die figuur van sy omgewing verwyder.Ga naar eind27 En hy aarsel nie om die Kapenaars te berispe as hulle nie meer die eg Kaapse geregte behoorlik kan gaarmaak nie. Sosaties moet op bamboesstokkies oor 'n houtvuur gebraai word - ‘om dit op steenkole te sit, is 'n belediging, om dit in 'n pan te braai, is 'n misdaad en om dit in 'n oond te sit, is 'n gruwel.’ Sy advies by die voorbereiding van waterblommetjies, wat hy wateruintjies noem, stel die skitterende postuum gebundelde Polfyntjies vir die proe in die vooruitsig: ‘Behandel dit tog in hemelsnaam asof dit 'n nugebore babatjie is, want die goed is fijn, uiters fijn, en dit kan so lig bedorwe raak, sodat die eienaardige, onvergetelijke smaak verlies.’Ga naar eind28 Ook die Transvalers bly nie skotvry nie. Wanneer die rusoord vir Transvaalse kinders wat hy op Isipingo aan die Natalse kus help oprig het, as gevolg van 'n gebrek aan ondersteuning van plattelandse Afrikaners mis- | |
[pagina 471]
| |
luk, voel Leipoldt baie sterk daaroor. ‘Ek het,’ skryf hy, ‘sedert die opening van die Tehuis, my opinie omtrent die Afrikaanssprekende plattelander gewysig. Ek moet nou dink dat hy dit nie werd is dat daar iets vir hom en sy kinders gedoen word nie, eenvoudig omdat hy so lang verwend is deur regeringsondersteuning dat hy nie meer sy eie hande kan gebruik nie en nie meer op homself kan vertrou nie.’Ga naar eind29 In 'n bitter oomblik haal hy aan wat 'n inspekteur aan hom gesê het toe hy hom in Transvaal gaan vestig het: die Kaapse mense werk, terwyl die Transvalers lui is, die swart arbeiders laat werk en by die regering bedel.Ga naar eind30 By meer as een geleentheid reageer Leipoldt in Diwagasies van oom Gert op die rol wat tradisionele waardes op sedelike gebied in Suid-Afrika speel en dikwels laat hy hom amper uitdagend-spottend en aweregs uit oor die Afrikaner se voorliefde vir stigtelike en godsdienstige lektuur. Wanneer daar 'n opskudding kom oor Remarque se Im Westen nichts Neues - 'n roman waarin die skrywer die sin- en uitsigloosheid van oorlog deur die oë van 'n gewone soldaat weergeeGa naar eind31 - sê Leipoldt in 'n besonder insiggewende artikel dat die boek nie as 'n stuk propaganda teen oorlog gelees moet word nie, maar as 'n realistiese voorstelling van wat 'n oorlog in werklikheid is. ‘Die beoordeling wat dit verwens as 'n onsedelike en onwelvoeglike boek’, skryf hy, ‘is ewe onberedeneer as dié wat dit wil opvysel tot 'n tweede Bybel. 'n Boek is onpaslik, onstigtelik, en onsedelik as sy bepaalde doel is om by die leser onpaslike, onwelvoeglike of onsedelike gedagtes te wek. Sommige boeke word net met daardie doel geskryf en uitgegee. Hulle is boeke wat iedereen wat die minste smaak of kunsgevoel het dadelik sal herken as pornografiese werke, wat die owerheid billikerwys mag verbied, want hulle strekking is onstigtelik, net soos hulle kuns vals en bedrieglik is. Remarque se boek is dit nie...Niks nuuts uit die Weste is joernalis-werk, realistiese beskrywing van oorlogsepisodes, sonder veel samehang, en sonder enige draad; sonder ook enige poging om karakter te teken, temperament te analiseer, motief en gevolg van handel en wandel te ontleed net soos Die hut van oom Tom vergaan het, en net soos enige tendensboek vergaan as die belangstelling deur die gebeurtenis wat tot sy skepping aanleiding gegee het, begin te taan. Ons hoef ons nie al te veel oor hom te bekommer nie, want kunswerk, in die hoogste en beste sin van die woord, is hy nie, net so min as doeltreffende propaganda teen oorlog.’Ga naar eind32 Tekenend van Leipoldt se breë humanisme en liberale kyk op die lewe pleit hy in 'n verdere stuk die vrye beskikbaarstelling van Radcliffe Hall se | |
[pagina 472]
| |
The well of loneliness, 'n werk wat blyke gee van tegniese bekwaamheid en sielkundige insig. Dit is 'n roman waarin karakters optree wat natuurlik praat en handel en waarin geen beskrywing onbehoorlik of onbetaamlik is nie. Die verspreiding van die boek is egter deur die polisie verbied, skryf Leipoldt, omdat dit oor 'n onderwerp handel wat, soos ons Katolieke voorvaders gesê het, ‘inter Christianos non nominanda sunt’ (wat nie onder Christenmense genoem word nie). En tog is dit onderwerpe wat deur ons magistrate, ons skoolmeesters, ons predikante en ons ouers behoort bestudeer te word, omdat dit 'n sekere invloed op ons volkslewe uitoefen en omdat dit onderwerpe van puur menslike belang is. Die boek, in 't kort, handel oor die liefde van persone van dieselfde geslag, in hierdie geval van 'n meisie wat geen liefde vir 'n man kan voel nie, maar wel vir 'n ander meisie. Volgens ons wet en die wet van sommige ander lande - nie van alle beskaafde lande nie; in Frankryk, Italië en in baie ander beskaafde lande bestaan so 'n wet nie - is geslagsverkeer tussen persone van dieselfde geslag 'n misdaad. Dit is iets wat ons van kanonieke of kerkwet oorgeërf het, maar omdat die saak self vir die meeste van ons aanstootlik en walglik voorkom, het ons dit nog nooit grondig bespreek nie, soos byvoorbeeld in ander lande, waar die wet op sekere punte herroep is. | |
[pagina 473]
| |
bestudeer moet word om die publiek te laat insien dat daar werklik 'n probleem ook in ons land bestaan, en dat mej. Hall nie somaarso haar karakters uit die lug gegryp het nie.Ga naar eind33 Ten slotte stel Leipoldt dit as sy oortuiging dat ook Suid-Afrikaners die geleentheid moet hê om openhartig en vrymoedig oor dié onderwerp te praat. Daarom pleit hy vir die bekendstelling van die boek. ‘Soos ek gesê het’, skryf hy, is mej. Hall...[se] boek nie 'n sentimentele verhaaltjie, geskrywe om die emosies te prikkel nie. Dit is 'n ernstige, letterkundige bydrae tot die bespreking van 'n ernstige, nasionale vraagstuk, geskrewe in die besef van die erns van die saak, en in dié opsig vergelykbaar met Wedekind se bekende stuk oor die geslagsemosies van die ontluikende kind. Dieselfde besware wat ons teen Wedekind se Fruehlings Erwachen kan inbring, kan ons ook teen mej. Hall se boek opper, maar Wedekind se drama is vandag 'n klassieke stuk in die Duitse letterkunde en geen poliesiemag sal dit waag om dit vir die publiek te verbied nie. Altwee handel oor onderwerpe wat ons nie in geselskap bepraat nie, maar ons bepraat ook nie baie ander sake in geselskap nie, en 'n kwessie soos hierdie het meer as een kant. Die feit bly dat die verbode boek verkrygbaar is onder ons, en dat dit gelees kan word in die geheim. Sou dit nie beter wees om die sensuur daarop weg te neem en dit openlik te laat versprei sodat die vraagstuk wat daarin van een sy voorgestel word, van alle kante kan bespreek word nie?Ga naar eind34 By herhaling skryf Leipoldt in Diwagasies van oom Gert oor die stelsel van voorgeskrewe boeke en die wyse waarop letterkunde op skool onderrig en geëksamineer word. Werke soos Celliers se Martjie en Totius se Trekkerswee is volgens hom nie geskik vir voorskryf nie en hy het dit teen ‘die doodmaak van letterkunde’ op skool. Hy sien met genoegdoening dat 'n Vrystaatse onderwyser beswaar het teen die voorskryf van Dingaansdag en hy gaan heeltemal akkoord met die beswaar dat die gedigte in dié bundel te moeilik vir kinders van standerd 8 is. ‘Die ware doel’, skryf hy in 'n passasie waarin Keats se opvatting van ‘Beauty is Truth, Truth Beauty’ meespreek, ‘behoort te wees om die kind te leer besef wat letterkunde regtig beteken, nie soseer in blote verhewendheid van stijl nie as in getroue na- | |
[pagina 474]
| |
volging van alles wat eties opreg is, wat skoon is en wat, sover ons menslike verstand reik, waar is.’Ga naar eind35 Hy is verder teen gedwonge onderwys in die moedertaal en sê dat ouers die geleentheid moet hê om self te kan kies. Baie Afrikaanse ouers verkies om hul kinders in belang van die kinders self na Engelstalige skole te stuur. Wanneer hy later weer op die saak terugkom, betreur hy dit dat sommige mense politieke vooroordeel of partydigheid in sy uitsprake lees. Uit eie ervaring met kinders weet hy watter groot voordeel dit vir hulle inhou wanneer hulle in twee tale vlot kan kommunikeer. Juis daarom moet Afrikaanse ouers, indien hulle dit verkies, die geleentheid hê om hulle kinders na Engelstalige skole te stuur.Ga naar eind36 Dit bring hom, in 'n artikel wat hy op 7 Mei 1926 publiseer, by die rigting waarin Afrikaans aan die ontwikkel is, 'n artikel waarin hy duidelik standpunt inneem teen Langenhoven, wat Afrikaans as onderwystaal volgens hom te vroeg ingevoer en Nederlands as voedingsbron vir Afrikaans onnodig vroeg uitgewerk het. ‘Ons, wat vir Afrikaans gewedywer en gestry het, lank vóór die teenswoordige taal-jingoes [en hier het hy kennelik Langenhoven in die gedagte - JCK] die moed gehad het om daarmee voor die dag te kom, het geen twyfel oor die toekoms van Afrikaans nie.’ In die onmiddellik daaropvolgende passasie weerspreek Leipoldt hom egter. Afrikaans, skryf hy, sal bly of dit sal wegsink; en of dit sal bly en of dit sal wegsink, hang nie af van die taal-jingoes nie; ook nie van hierdie ongewenste ordonnansietjie nie; maar alleenlik van sy eie weerstands-vermoë; sy eie lewenskrag en sy eie moontlikheid om te ontwikkel en te bloei. Niemand van ons, wat voorvegters en pioniers op Afrikaanse taalgebied is, sal daaraan dink om die taal te probeer stut en ondersteun deur kunsmatige stellasies, wat tog nooit die bouvalligheid van die mure kan verskuil nie. Vir ons is Afrikaans, in medewerking met Nederlands, 'n taal wat lewensvatbaar is en kan bly. Maar sonder Nederlands, met hoegenaamd geen begrip van Nederlands, is Afrikaans, vir my ten minste, 'n gedrog, wat op die ou end vir ons, as ons Nederlands verwerp en ons bloot op Afrikaans toelê, na ons kulturele ondergang sal lei, en wat in die stryd teen Engels onvermydelik die onderspit sal moet delf. Hy gaan voort: | |
[pagina 475]
| |
Afrikaans gaan agteruit, in die laaste paar jaar, omdat Afrikaans kunsmatig vermoeilik word, omdat Nederlands totaal onbekend raak, en omdat ons in die gewoonte raak om die grootste taal-gemors, wat gedruk word, as Afrikaans te beskou.... Die teenstrydigheid, wat daar bestaan, die swak gehalte van die boeke, wat geskryf word, en die feit dat ons in Afrikaans nog bitter weinig het wat ons kulturele ontwikkeling kan bevorder, terwyl ons daaroor praat asof dit 'n taal is, wat op gelyke voet staan met Engels en Nederlands, is genoeg rede vir die agteruitgang daarvan.... Ek dink dit word tyd dat ons hierdie waarhede ronduit sê. Laat diegenes aanstoot neem, wat wil aanstoot neem.... Ons kan ons die verwyt van anti-Afrikanisme getroos - ons, wat die voortou gevat het en wat tot hiertoe gewys het hoe ons nie bang is vir die waarheid, al gaat dit teen ons politiek beginsels of selfs teen ons fyngevoeligheid. Leipoldt verswyg in hierdie artikel Langenhoven se naam, maar in ander stukke wat hy in Diwagasies van oom Gert publiseer, verwys hy regstreeks na sy suidelike skrywerkollega, aan wie se skeppende werk en taalpropaganda hy toenemend 'n hekel ontwikkel. Reeds in 'n resensie wat hy in September 1919 in Die Huisgenoot oor Ons weg deur die wêreld publiseer, het hy beswaar teen die mediterende essays met hulle ‘preekstoeltrant’Ga naar eind37 in dié bundel. Op 7 September 1924 meen hy in De Volkstem ons het die verkeerde weg met Langenhoven se 1914-mosie ingeslaan om Afrikaans tot skooltaal te verhef. Dit het tot 'n kunsmatige vaslegging van spelling en grammatika gelei en van Afrikaans 'n ‘broeiskas-plant’ gemaak. Wanneer Langenhoven in 1926 skerp reageer op 'n resensie in Die Volkstem waarin W.F.J. Steenkamp op die gebrek aan karakterisering, die marionette-Engels van die karakters, die soetsappige verkleinwoordvorming en die Anglisismes in Mofen sy mense wys, sê Leipoldt dit is 'n kalm, beredeneerde en bedaarde beoordeling. Langenhoven toon volgens hom 'n kleinserigheid en kleingeestigheid, hy skryf te veel en hy leer nie uit sy foute nie. ‘Dit is 'n snaakse psiekologiese verskynsel’, skryf hy, ‘dat dieselfde teergevoeligheid nie skroom om ander skrywers “swyne” en niksnutse te noem nie en ook nie skroom om voor die publiek te verskyn met 'n lang klaagdreun oor die onregverdigheid, wat hom aangedoen word nie.’ Hy sien Langenhoven as 'n verwende kind en hy vind dit nie manlik om te grens as die les seermaak nie.Ga naar eind38 Sy sterk kritiek blyk ook uit sy reaksie wanneer Langenhoven se vertaling van Gray se ‘Elegy written in a country | |
[pagina 476]
| |
churchyard’ verskyn. In 'n brief van 29 Mei 1928 aan Engelenburg skryf hy die vertaling is ‘'n aandoenlike bewys...van hoe sleg die kêrel Engels verstaan; dit word a la Langenhoven voorgegaan deur 'n dedicatio in Latyn waarvan die Latyn so vrot is dat dit selfs 'n kerkvader se hare sal laat rys hoër as ons karoheuweltjies - en hy publiseer dit, wragtig, met blykbaar welgevalle as iets waaroor hy en ons hoogmoedig kan wees.’ In 'n reeks oorsigartikels oor die Afrikaanse letterkunde verwys Leipoldt smalend na ‘die middelslag Afrikaner wat in Ons weg deur die wêreld en dergelike vermoeiende handewerk voorbeelde van letterkundige grootheid vind’.Ga naar eind39 Hy vind ook dat ‘Die stem van Suid-Afrika’ plagiariese ooreenkomste met Kipling se ‘The native born’ toon, 'n onbillike uitspraak soos M.S.B. Kritzinger later sou aantoon.Ga naar eind40 In dieselfde jaar resenseer hy Langenhoven se A first guide to Afrikaans in die Cape Times en sê hy dat Langenhoven se kennis van sowel Afrikaans as Engels gebrekkig is. Hierop reageer Langenhoven heftig in Aan stille waters in Die Burger van 3 Desember 1928. ‘Nog nooit’, begin hy, ‘het ek Dr. C. Louis Leipoldt die minste kwaad of leed aangedoen nie, en nog nooit het daar 'n woord van my teen hom of teen sy werk verskyn nie. Hoe ons in ons smaak ook die een van die ander verskil, en hoe min geesverwantskap daar ook tussen ons mag wees - ons kan mos ook nie almal eners wees nie - ek beskou dit onwelvoeglik vir een skrywer om die werk van 'n ander skrywer van sy eie tyd en volk uit 'n letterkundige standpunt te veroordeel.’ Maar nou, sê Langenhoven, hou ‘die dokter...aan om my te vervolg’. Hy wys sy lesers daarop dat Leipoldt se manuskripte voor publikasie deur sy uitgewers hersien en verbeter word. Dit pas ‘so 'n leerling nie om vir hom die gesag van 'n meester aan te matig om ander die les te leer nie’. Daarby - en hier begin 'n politieke renons by Langenhoven deurskemer - repudieer Leipoldt deesdae self die gedigte ‘waarmee hy oorspronklik ingang tot die hart van die volk gekry het’: hulle ‘nasionale strekking (is) hom teenswoordig tot aanstoot’. Langenhoven se aanklag teen Leipoldt se beroerde kennis van Afrikaans en die swak versorging van sy manuskripte - 'n beskuldiging wat, hoewel deur Langenhoven oordrewe voorgestel, meer as net 'n korrel waarheid bevat het - was vir Leipoldt 'n onaangename episode. Op 4 Desember 1928 teken hy in sy dagboekie aan: ‘Saw Langenhoven's spiteful and childish article on me in yesterday's Burger. It is libellous but scarcely worth while.’ Uit 'n aantekening van 5 Desember 1928 lei 'n mens af dat Leipoldt 'n lasteraksie teen Langenhoven wou instel. Tydens samesprekings het H.A. Fagan, in | |
[pagina 477]
| |
daardie jare advokaat in Kaapstad, en Fasie de Wet van die Nasionale Pers hom egter geadviseer om die saak maar liefs daar te laat en het hy besluit ‘to ignore it as the fool is not worth powder and shot’. Al gaan 'n mens akkoord dat Langenhoven soms onnodig kleinserig op kommentaar op sy eie werk gereageer het, vermoed jy dat naas politieke verskille ook die koers waarin Langenhoven se taalywer Afrikaans laat ontwikkel het, 'n bydraende faktor tot Leipoldt se heftigheid en afkeer was. Daarby moet hy besware gehad het teen Langenhoven se leefstyl. Dit was onder joernaliste bekend dat Langenhoven hom van tyd tot tyd aan oormatige gebruik van alkohol skuldig maak en dat hy 'n verhouding met Sarah Goldblatt, sy ‘sub’, het. Dat Langenhoven dikwels die onderwerp van gesprekke tussen Leipoldt en Engelenburg was, lei 'n mens af uit 'n brief van Engelenburg aan Leipoldt, in daardie stadium reeds in Kaapstad woonagtig. Hy skryf: ‘Ek weet u is nie baie pro-Langenhoven nie. Maar u kan hom nie die verdienste betwis nie dat hij “die vensters oop gegooi het”! En so iets was hoogs nodig in die Afrikaanse pers, aan Tafelberg se voet!’ In 'n besonder openhartige passasie gaan hy voort: ‘Al vind ik Langenhoven se manier om aand-ontspanning te soek in dubieuse geselskap nie juis gedistingeerd nie, u sal my toegee hoe insake sexualiteit, daar nie so iets as “sonde” bestaan nie. Elke mens het sij eie maniere om uiting te gee aan sij sexuele temperament. Daar is nie twee mense, wie se sexuele aanleg dieselfde is nie! En jij kan nie sodanige aanleg reglementeer nie!’ Ook op ander Afrikaanse skrywers en kritici reageer Leipoldt skerp. Wanneer die derde bygewerkte uitgawe van E.C. Pienaar se Taal en poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging verskyn, sê Leipoldt ons het suiwer, gesonde kritiek nodig, nie die persoonlike menings van iemand wat ‘die kritiese vermoëns mis omdat sy lees en studie nie omvangryk genoeg was nie’.Ga naar eind41 Die eerste uitgawe van Pienaar se werk was volgens hom nie imponerend nie, omdat hy nie op die hoogte van die vergelykende liriek was nie. Sy studie is geen objektiewe beskouing met stawende aanhalings nie, maar net persoonlike menings oor wat tot hom spreek. Behalwe by die bespreking van Totius se vertaling uit Goethe wys hy, enkele Engelse en Nederlandse gevalle uitgesonder, op geen analogie met werk in ander tale nie. Hy verhef banaliteite tot diepsinnighede en kies swak verse as goeie voorbeelde van 'n digter se werk. So byvoorbeeld noem hy onder die keur uit Leipoldt ‘Die beste’; hy is ‘blykbaar salig onbewus dat dit veel minder Leipoldt is as die weerklank van wat Leipoldt ergens moet gelees | |
[pagina 478]
| |
't, want daardie gedig in Uit twee (sic!) wêrelddele is blote plagiarisme, wel met 'n sluier van Afrikaanse kleur daaroor, maar hoegenaamd nie die kern van die digter se werk nie’. Só sterk is sy renons in Pienaar dat hy by geleentheid 'n sonnet met 'n akrostigon skryf waarin die eerste letters van elke reël die woorde ‘Pienaar's 'n domkop’ uitspel: Praeterea nihil
In die bedroefte skemerte van die nag
En deur die afwesigheid van Lig gekwel
'n Man mismoedig wat sy nood vertel
Aan elkeen wat wil luister, en sonder krag
Arm aan verstand en insig sonder mag
Ryk in onkunde in vooroordeel geknel
Spreek ernstig imponerend - o let wel
Nooit praat 'n kenner met meer kuns gesag -
Die orakel - wit moet wit wees, waarheid waar
Oog oor en neus moet oordeel elke kind
Moet pront uit weet wat wert is om te kry...
Kom lees en leer onnosele kunstenaar
Of bly in koppige eiewysheid blind
Pronksugtig met gemaakte rymlaary.Ga naar eind42
Met Eitemal se Weerklankies is hy nie baie ingenome nie en hy keur dit af dat die digter 'n inleidende voorrede deur Imker Hoogenhout in die bundel opneem. ‘So 'n inleidingswoord’, skryf hy, ‘klink baie na 'n pleidooi om genade van die krietikus en dit is jammer dat mnr. Hoogenhout Eitemal se versievrag op dié manier inloods. 'n Digter moet beoordeel word, nie na sy piëteit, sy bekwaamheid as onderwyser nie. Dit is 'n fout wat ons baie keer begaan, nl. deur ons Afrikaanse skrywers te beoordeel volgens wat ons weet van hulle persoonlikheid en hulle meninge oor dit en dat, wat op slot niks met hulle letterkundige bedrywigheid te doen het nie. By die een sien ons die skadelike gebruik van kombuis-woorde oor die hoof omdat hy in 'n ander veld uitgeblink het; by 'n ander verskoon ons gebrek aan verbeelding deur die veronderstelling dat pure vaderlandsliefde daarsonder kan klaarkom.’Ga naar eind43 Veral in die geval van 'n skrywer wat van 'n pseudoniem gebruik maak, gaan hy voort, wil hy liefs niks persoonliks weet nie. ‘Daardie sluier’, skryf hy, ‘durf ek nie optel nie, veral nie om sy versies | |
[pagina 479]
| |
te verstaan en om te sien of hy werklik tot digterlike ridder geslaan is of maar êrens spore van iemand anders opgeraap het nie. Uit sy gedigte self moet ek kan beslis wie en wat hy is, soos uit daardie versies blyk. Dan kan ek vasstel of die versies vir die leser iets beteken.’Ga naar eind44 Wanneer hy by die gedigte self uitkom, vind hy baie van die verse ‘somar so 'n gekunstelde sentimentaliteit, bietjie Werther-agtige self-verkleinering’.Ga naar eind45 Tegnies haper daar nog veel, al vind hy die kort vlugtige pensketse van die natuur van die beste in die bundel. By geleentheid skryf Leipoldt die agterstand van die Afrikaanse roman toe aan ondeurleefde gevoel wat in ‘geforseerde sinne’Ga naar eind46 uiting vind. Juis daarom is dit vreemd dat hy Marie Linde se Onder bevoorregte mense so 'n goeie roman vind. Hoewel hy besware het teen die ‘snaakse’ psigologie van die heldin en sommige karakters vir hom marionette is, het hy waardering vir die forse tekening van Bettie. In die roman sal sommige lesers aanstootlike dinge vind. ‘Jy sal sê’, skryf hy, ‘daarin word oor Afrikaanse sedes en gewoontes gespot. Die skryfster veroorloof haar 'n glimlag oor Afrikaanse poësie en Afrikaanse liedere; sy sê dinge wat seer maak - oor die arm-blankes byvoorbeeld, oor ons predikante, oor ons gekloosterde opvattings van wat betaamlik is vir 'n vroumens.’Ga naar eind47 Wanneer hy by die roman self uitkom, is hy hooggestem in sy lof, al formuleer Leipoldt hier buitengewoon sleg. ‘Hier het ons, myns insiens’, skryf hy, ‘'n eersteklas roman, wat nakom aan al die vereistes wat aan elke roman behoort gestel te word. Hier is karakterisering; hier is natuurlike eenvoud, ingekleed deur die ware, tere kunsgevoel.’Ga naar eind48 Blykbaar het Leipoldt later die wind van voor gekry oor sy hooggestemde lof vir dié roman en self begin voel dat hy Linde se werk oorskat. Wanneer hy hom op 10 November 1928 oor die gebrek aan kundige resensente uitlaat, skryf hy: ‘'n Vriend met wie ek die saak onlangs bespreek het sê dat my eie houding bygedra het om ons gebrek aan gesonde kritiek te versterk. Hy wys op die resensie van Onder bevoorregte mense in Die Volkstem. Daarin het ek die boek aangeprys as die enigste daarnatoe gedrukte boek in Afrikaans wat kon aanspraak maak op die titel van roman. My begroeting van Onder bevoorregte mense was hartlik, omdat ek in die boek die eerste poging gesien het om natuurlik en reguit te skryf, sonder juis bewus vir die smaak en plesier van 'n sekere klas leser te boer. Dáárom het ek dit verwelkom. Die menigvuldige foute - onrype opvatting en afwesigheid van deurtastende ontleding van temperament en karakter - het ek verswyg omdat iedereen wat bietjie verstand van die saak het dit dadelik | |
[pagina 480]
| |
kon sien. Dit was die eerste voortbrengsel van 'n nuwe skrywer en as sodanig het ek dit aangemoedig. Ek het geen berou dat ek dit gedoen het nie.’ Om egter, soos nou aan die gebeur is, Onder bevoorregte mense vir eksamendoeleindes op skool voor te skryf, is glad 'n ander saak, want 'n ‘eksamenboek verfoes ons smaak en vergroot ons onkunde’. Hy betreur dit dat skoolkinders deesdae min van die Engelse letterkunde en feitlik niks van die groot letterkunde van die Europese vasteland weet nie. ‘Ek kan’, skryf hy, ‘'n halfdosyn beroemde prosaskrywers van die Vasteland opnoem wie se name in elke letterkundige kring in Europa en Amerika bekend is, maar wat onder ons heeltemal vreemd is.’ Om dié kennis uit te brei, skryf Leipoldt by geleentheid oor die goeie tegniek en karakterbeelding van Thomas Mann se romans, onder meer Buddenbrooks, wat met sy breë opset as die verhaal van 'n hele familie die voorloper van Galsworthy se Forsyte saga is.Ga naar eind49 Later, op 2 September 1929, skryf Leipoldt aan Engelenburg dat hy ‘à la Mann se Buddenbrooks’ met 'n roman oor twee Kaapse families begin het, 'n aanduiding dat hy vir sy Valley trilogy - Gallows gecko, Stormwrack en The mask - Mann se roman as model geneem het. In 'n hele paar bydraes vir Diwagasies van oom Gert verskaf Leipoldt agtergrondinligting vir sy eie werk. Wanneer hy op 23 Augustus 1924 skryf oor Ernst Zahn se Jonas Truttmann, 'n roman oor 'n skewe verhouding tussen 'n vader en sy seun, herken 'n mens in die opsomming van die verhaal duidelike trekke van Die donker huis, waaraan Leipoldt 'n paar jaar later sou werk. Feitlik in die verbygaan, wanneer hy oor die onbaatsugtige toewyding van 'n navorser op die gebied van die plantkunde skryf, verwys hy na die ou Boeddhistiese vermaning: ‘Leer om lief te hê sonder om te begeer’, 'n belangrike sleutel tot baie van Leipoldt se verse en tot Die donker huis.Ga naar eind50 Onder die titel ‘Die gruwelike in die letterkunde’ skryf hy op 11 Oktober 1924 oor die grense van gewettigde bangmakery en die sielkunde van ‘plesier-in-vrees’, die voorloper van sy inleiding tot die bundel verhale Waar spoke speel. Op 8 November 1924 vertel hy van sy besoek aan Vasco da Gama se graf en die kloosterkerk van Belem en verstrek hy belangrike agtergrondinligting vir 'n passasie in ‘Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig’. Wanneer hy op 1 Desember 1928 oor ‘kriewelrige goed’ en die ‘thriller’ uitwei, lees 'n mens sommige van sy opmerkings in die lig van sy eie latere speurverhale. Onder die titel ‘Verbrokkeling van kragte’ skryf hy op 24 Desember 1927 oor Patrick Geddes, 'n besonderse man wat sy kragte gewy het aan 'n groot aantal uiteenlopende sake, soos die biologie, | |
[pagina 481]
| |
botanie, volkskunde, sosiologie, ekonomie, aardrykskunde, toneel, biblioteekwese, kuns, poësie en filosofie. Wanneer hy die vraag stel of Geddes nie dalk meer en beter werk sou gedoen het as hy meer bepaald op een van hierdie veelvuldige terreine toegespits was nie, wonder 'n mens of Leipoldt met sy groot en uiteenlopende belangstellingsvelde nie ook homself hier in gedagte het nie. Dat Leipoldt geen erg aan die Christelike geloof gehad het nie en dikwels met die kerk die spot gedryf het, blyk uit meer as een artikel in Diwagasies van oom Gert. By geleentheid, op 23 Januarie 1925,Ga naar eind51 word sy afkeer en spot treffend geïllustreer wanneer hy by Plettenbergbaai aan die swem is, in 'n stroming beland en meen hy gaan sterf. Terwyl hy see in gedryf word, waai hy vir sy ontstelde vriende en roep: ‘Goodbye, I'm going to little Jesus.’ Teenoor hierdie afkeer het hy by herhaling deur die jare sy waardering vir die Boeddhisme uitgespreek. Vir sy aanleuning by die Boeddhisme is 'n reeks artikels wat hy van 5-19 Mei 1928 in Diwagasies van oom Gert publiseer, van kardinale belang. Die groot ideaal van die oortuigde Boeddhis, sê Leipoldt, is om tot die besef te kom dat alles waan is en om nie meer aardse begeerte en hartstogte te ken nie, 'n uitspraak wat 'n belangrike sleutel vir Leipoldt se eie seksuele ingesteldheid - of a-seksualiteit? - kan wees. ‘Baie van ons, wat opgegroei het in die Kristelike geloof,’ skryf hy, ‘sal heel waarskynlik verontwaardig voel oor die Boeddhistiese leer. Dit is so letterlik teenstrydig met baie van wat ons meegedeel is in ons jong dae, met wat ons as heilig en onaantasbaar beskou het. Maar 'n bietjie nadenking en oorpeinsing sal ons oortuig dat dit grotendeels vooroordeel is wat ons noop om 'n slegte oordeel te vel. Die kanonieke boeke van die Boeddhiste bevat die verhewendste sinsnedes, die hoogste gedagtes van die mensdom, wat so oud soos die mensdom self is; dit sou kinderagtig wees om te weier om iets uit hulle te leer.’ In die verlede, so gaan Leipoldt voort, is Boeddha se woorde dikwels verkeerd vertolk, sowel deur sy dissipels as deur die vertalers van die kanonieke boeke. So byvoorbeeld is beweer dat die siel van die dode volgens Boeddha in 'n nuwe liggaam - óf van 'n mens óf van 'n dier - gehuisves word, al na gelang die gestorwene op aarde sondig of rein gelewe het. Eers nadat die siel deur boetedoening in verskillende onrein liggame gehuisves is, bereik hy die volkome onsterflikheid en die nirwana of niebestaan. Dit is volgens Leipoldt 'n totaal verkeerde voorstelling van wat Boeddha verkondig het. ‘Boeddhisme, in 't kort,’ skryf hy, ‘leer dat hierdie wê- | |
[pagina 482]
| |
reld nie die eerste en laaste bestaan is nie. Dit is maar een uit duisende, wat die stoflike en geestelike moet deurreis totdat dit uiteindelik, gereinig en bevry van aardse vlekke, die volle vryheid van die nie-bestaan bereik. Boeddhisme ontken beslis dat elkeen van ons net maar een lewe het en daarna opstyg na die hemel of neerdaal na die hel. Hemel en hel, so verklaar dit, is op aarde; elke sonde word op aarde bestraf, so nie in hierdie lewe nie, dan in die daaropvolgende. Net soos die ander wêreldgodsdienste verkondig dit die bestaan van 'n siel; die dood is net maar 'n tydelike skeiding tussen siel en liggaam. Met die dood keer die siel, onsterflik, in 'n nuwe sterflike liggaam, nie van 'n dier of plant nie, maar van 'n nuwe mens; in die nuwe gedaante boet hy vir sondes gepleeg in 'n vroeër bestaan of kry hy geluk vir goeie dienste aan sy medemense bewys in die vorige bestaan. Daar kan by die Boeddhis dus hoegenaamd geen sprake wees van enige versoening vir sonde en ongeregtigheid nie, nòg minder van 'n vikarieuse versoening deur 'n verlosser. Die “Atma” of siel kan alleen verlossing kry deur eie deugde en die ideaal waarna die mens dus moet strewe is om op aarde [so] deugdelik as maar moontlik te lewe, om deur sy dade die gepleegde sonde in 'n vorige bestaan uit te wis.’ Leipoldt het soms uitdagend verklaar dat hy 'n Boeddhis is, en waarskynlik wou hy met so 'n uitspraak baie van sy mede-Afrikaners skok. 'n Mens moet egter onthou dat hy reeds vroeg in sy lewe met die Boeddhisme kennis gemaak het en sy hele lewe lank 'n belangstelling in die leer van Boeddha behou het. Waarskynlik was hy geen praktiserende Boeddhis nie. Tog is daar baie elemente van die Boeddhisme in sy skeppende werk en in sy naastediens en pligsgevoel aanwesig. Hierdie elemente van die Boeddhisme is belangrike sleutels om ons nader aan die essensiële Leipoldt te bring. | |
IIIVroeg in 1924 wou Smuts sy geledere versterk deur sy party vir Afrikaanssprekendes aantrekliker te maak en sy kwynende aanhang in Afrikanergeledere te besweer. Sedert die algemene verkiesing van 1921 het hy die een tussenverkiesing na die ander verloor en het sy meerderheid in die volksraad aanmerklik gekrimp. Juis om hierdie onrusbarende tendens vir sy party teen te werk, wou hy kandidate nomineer wat vir Afrikaanssprekendes 'n sekere aantreklikheid sou hê. Leipoldt, die ‘volksdigter’ wat woor- | |
[pagina 483]
| |
de gegee het aan die smart van die Afrikanervolk tydens die Anglo-Boereoorlog, so het hy gemeen, was iemand wat tot die volk kon spreek. Deur Louis Esselen, neef van Leipoldt en organiserende sekretaris van die Suid-Afrikaanse Party, het Smuts reeds in Januarie 1924 voelers na die joernalis-digter begin uitsteek om hom vir die belangrike tussenverkiesing in Wakkerstroom verkiesbaar te stel. Van die begin af was Engelenburg teen Leipoldt se moontlike toetrede tot 'n politieke loopbaan gekant en hy het nie gehuiwer om sy besware teen die plan onomwonde aan sy vriend oor te dra nie. Tot 'n benoeming van Leipoldt het dit in dié stadium egter nie gekom nie. Omdat Wakkerstroom 'n grenssetel was, het die hoofbestuur van die Suid-Afrikaanse Party besluit om die dienste van 'n bekender persoon met ervaring in die politiek te verkry. A.G. Robertson, Transvaalse administrateur, is as SAP-kandidaat vir die tussenverkiesing benoem. Robertson moes daarvoor sy betrekking as administrateur neerlê. Dit was 'n geweldige slag vir Smuts en sy party toe hul kandidaat teen 'n totaal onbekende Nasionalis, A.S. Naudé, die onderspit moes delf.Ga naar eind52 Wanneer Smuts in Februarie 1924 die jeugdige Jan Hofmeyr as administrateur van Transvaal aanstel, 'n pos wat Leipoldt self heimlik begeer het,Ga naar eind53 teken sowel hy as Gustav Preller, sy kollega by De Volkstem, telegrafies beswaar aan by die eerste minister. In 'n brief van 24 Februarie 1924 uit Kaapstad wys Smuts Leipoldt daarop hoe moeilik dit was om 'n geskikte persoon vir die amp te kry. Sommige mense wat oorweeg is, was buite die kwessie, omdat hulle setels waarskynlik in 'n tussenverkiesing vir die Suid-Afrikaanse Party verlore sou wees. Daarby het hy vertroue in sy keuse vir die administrateurskap. ‘Hofmeyr’, skryf Smuts, ‘is admittedly one of the ablest men in South Africa and has impressed even those able men with whom he has been associated in his recent commission work. He will go into politics soon in any case and will go very far in my opinion. His youth and ability are in his favour, especially as it is essential for the South African party to encourage and push on young men.’ De Volkstem, gaan Smuts voort, het 'n fout gemaak om Hofmeyr aan te val toe hy in die provinsiale verhoudingskommissie aangestel is. ‘I really do think’, skryf hy, ‘you will make a greater and more mischievous one if you repeat the attack after his appointment. As in your own case on the Volkstem, I want new blood, new ideas, courage and the forward look, and you will get them from Hofmeyr much more than your old estimable gentlemen whose inertia will mean the disappearance of the South African party. When I was appointed state attorney in the Transvaal at the age of twen- | |
[pagina 484]
| |
ty-eight, a member of the volksraad said: “My God, het Paul nou sy kop verloor!” It would be unpardonable if now a young man like you said the same thing.’Ga naar eind54 Blykbaar het hierdie antwoord van Smuts Leipoldt se kritiek besweer, want in De Volkstem verskyn geen besware toe die aanstelling van Hofmeyr bekend gemaak word nie. Ten spyte van Engelenburg se bedenkinge was Leipoldt steeds geïnteresseerd in die moontlikheid van 'n politieke loopbaan. Ná die teleurstellende Wakkerstroom-uitslag het Smuts gevoel dit is die hoogste tyd om sy aanhang oor 'n breë spektrum te toets en 'n volksraadsverkiesing vir 17 Junie 1924 uit te skryf. Wanneer hy in April 1924 in Kaapstad is, word Leipoldt gevra om hom as SAP-kandidaat in Calvinia, Wonderboom-Suid of Pretoria-Noord verkiesbaar te stel. Uiteindelik word hy in Wonderboom-Suid benoem. Op 27 Mei 1924 spreek Leipoldt in die St. Hildasaal in Gezina 'n vergadering van die Suid-Afrikaanse Party toe, klaarblyklik die enigste wat hy as kandidaat in die Wonderboom-kiesafdeling hou. In sy toespraak sit hy, in Engels, kortliks sy sienswyse omtrent belangrike vraagstukke, onder meer werkloosheid, uiteen. Hy staan 'n stelsel van versekering voor om werklose mense te help en sê dat die regering reeds met 'n ondersoek na die aangeleentheid besig is. Wat die opgroeiende jeug betref, is dit noodsaaklik om deur vrye industriële en vakonderwys die Suid-Afrikaanse nywerhede verder te ontwikkel. Baie is in die onlangse jare gedoen om fabrieke en nywerhede uit te bou, maar nog meer kan in dié rigting gedoen word.Ga naar eind55 In die vraetyd wou een van die aanwesiges weet waarom Leipoldt, skrywer van Oom Gert vertel en ander gedigte en iemand wat die verskrikkinge van die konsentrasiekampe gesien het, vandag ‘op die verkeerde platform staan’. ‘Ek staan vandag nog’, was Leipoldt se antwoord, ‘waar ek gestaan het toe ek die seepkissies gesien het - by my volk. Ek staan waar genl. Hertzog gestaan het toe hy saam met genl. Smuts die beginsels van die S.A. Party opgetrek het. Hulle het nie verander nie; net genl. Hertzog het gedraai.’Ga naar eind56 Wanneer 'n ander vraesteller wil weet waarom Leipoldt nie ook Afrikaans praat nie en of hy die Afrikaanse taal voorstaan, antwoord hy: ‘My hele verlede is antwoord op dáárdie vraag. Ek denk ek het my bes gedoen vir die taal, miskien meer as genl. Hertzog. Ek het gevra of ek my toespraak in Afrikaans moes herhaal, en dit het geblyk dat dit nie nodig was nie.’Ga naar eind57 Aan die einde van die vergadering word 'n mosie van vertroue in die kandidaat aanvaar. | |
[pagina 485]
| |
Die Suid-Afrikaanse Party, versterk deur die vereniging met die Unioniste, is in die verkiesing van 1921 met 'n oorweldigende meerderheid aan die bewind gestel, maar in 1922 het stakings oor lone in die mynbedryf aan die Witwatersrand tot 'n werkersopstand gelei wat die regering eers na bloedige gevegte kon onderdruk. Die politieke gevolg hiervan was sterk teenstand van die mynwerkers teen die regering. Smuts en sy Suid-Afrikaanse Party moes dus die verkiesing van 1924 in besonder ongunstige omstandighede voer, veral ook omdat die Nasionale Party 'n ‘Pakt’ met die Arbeidersparty gevorm het om geledere teen die regerende party te sluit. Die gevolg is dat die Suid-Afrikaanse Party die verkiesing verloor. Die Nasionale Party behaal 63 setels, die Arbeiders 18 en die Suid-Afrikaanse Party 53, met 1 onafhanklike.Ga naar eind58 As 'n mens die onafhanklike kandidaat by die verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Party tel, het die ‘Pakt’-regering van Hertzog en kol. F.H.P. Creswell dus 'n stewige meerderheid van 27 gehad. Smuts moes die vernedering beleef dat hy in Pretoria-Wes verslaan is.Ga naar eind59 In Wonderboom-Suid word Leipoldt verslaan deur Ben Pienaar van die Pakt. Die uitslag was 1672 stemme ten gunste van Pienaar en 602 vir Leipoldt. Op 17 Junie 1924 teken Leipoldt in sy sakdagboekie aan: ‘Election day. Smuts defeat. My own. General landslide for Pact.’Ga naar eind60 | |
IVIn September 1924 bedank Engelenburg as redakteur van De Volkstem nadat sy gesondheid drie maande tevore begin las gee het. Reeds in dié stadium was die verhouding tussen Leipoldt en Gustav Preller, ná Engelenburg die senior joernalis by die koerant, nie goed nie. Preller het, waarskynlik tereg, gevoel dat hy deur Engelenburg op 'n sylyn gerangeer word. Leipoldt is die vorige jaar teen 'n hoër salaris aangestel as wat Preller ná twintig jaar by De Volkstem gekry het. Preller was oortuig dat hierdie aanstelling sy promosie in bepaalde omstandighede by die uittrede van Engelenburg in gevaar sou stel. Wanneer hy buitendien in Junie 1924 moet verneem dat die salarisse van alle personeel, behalwe syne, verhoog is, praat hy met hy Smuts, wat belowe om die saak te ondersoek.Ga naar eind61 Wanneer Engelenburg uittree, word Preller, waarskynlik deur bemiddeling van Smuts, tog as sy opvolger aangewys. Op 30 September 1924 skryf Leipoldt in sy dagboekie: ‘Dr. Engelenburg resigned. Preller suc- | |
[pagina 486]
| |
ceeds him as Editor. I do not approve but will await developments.’ Klaarblyklik het die verhouding tussen Leipoldt en Preller nie verbeter nie, veral nie nadat De Volkstem in November 'n heftige aanval publiseer op H.S. Scott wat moontlik John Adamson as direkteur van onderwys kon opvolg nie. Tydens sy jare as mediese skoolinspekteur moes Leipoldt ten nouste met Scott saamwerk en het hy 'n goeie indruk van Scott se bekwaamheid gekry. Dat Scott nou op so 'n onregverdige wyse deur sy eie koerant behandel word, was vir hom verregaande. Ná 'n gesprek met Preller oor die Scott-episode teken Leipoldt in sy sakboekie aan: ‘He [Preller] is very indignant and can't see ungentlemanliness of it all. Personally felt quite unconcerned and not in my usual indignant emotional frame when discussing such things.’ Uiteindelik loop die spanning tussen Leipoldt en Preller, wat naas beroepsbelange van Preller se kant waarskynlik ook op botsende persoonlikhede berus het, op 'n breekspul uit. Op 10 Februarie 1925 deel Preller Leipoldt op 'n aanstootlike manier mee dat De Volkstem sy dienste nie langer nodig het nie. Leipoldt was nou in 'n dilemma, want hy sou weldra sonder inkomste wees. Van sy mediese vriende het hom aangeraai om, hoewel sy kanse weens gebrek aan ondervinding in dié tipe werk nie goed is nie, by die Randse myne as mediese dokter aansoek te doen. Aan dr. W.J. Viljoen, superintendent van onderwys in Kaapland, skryf hy om te hoor of daar nie vir hom 'n betrekking by die Kaapse mediese inspektoraat beskikbaar is nie. Aangesien sowel dr. Elsie Chubb as dr. M. Brown die beskikbare poste vul, was dit egter nie vir Viljoen moontlik om nog 'n mediese inspekteur te benoem nie. In die lig hiervan neem Leipoldt hom voor om hom as konsultant vir kinders in Kaapstad te vestig indien hy geen aanstelling in Johannesburg kry nie. ‘I will either stay here, at some other job,’ skryf hy op 22 Februarie 1925 aan Chubb, ‘or come to Cape Town to specialise in children.’ Reeds op 16 Februarie 1925 sê Leipoldt die huurkontrak van sy huis op. Op 31 Maart verlaat hy die kantore van De Volkstem vir goed. 'n Paar dae tevore het hy in sy dagboekie aangeteken: ‘Relations with Preller strained. Preller is profoundly anti-English and Jaapish.’ Op 1 April vertrek hy na Johannesburg, maar op 4 April verneem hy dat iemand anders met meer ervaring by die Randse myne aangestel is. Hy besluit derhalwe om sy voorneme uit te voer en hom in Kaapstad as pediater met 'n eie praktyk te vestig. Op 17 April verlaat hy Transvaal en vertrek na Kaapstad. | |
[pagina 487]
| |
Ook Preller se verdere verbintenis met De Volkstem was van korte duur. Later in 1925 aanvaar hy, wat teen dié tyd ernstige bedenkinge gehad het oor die beleid van die Suid-Afrikaanse Party, 'n betrekking as hoofredakteur van die Nasionaalgesinde Ons Vaderland. Engelenburg, wie se gesondheid intussen verbeter het, hervat sy werk as hoofredakteur en Leipoldt willig in om vanuit Kaapstad sy rubriek Diwagasies van oom Gert voort te sit. Tussen Leipoldt en Preller was daar sedert die breuk nooit weer regstreekse kontak nie. Wanneer Preller hom in Desember 1928 om drie artikels vir Ons Vaderland nader, weier Leipoldt. ‘Wrote back thanks but declined for political reasons’, skryf hy op 24 Desember 1928 in sy dagboekie. Toe Preller op 6 Oktober 1943 sterf, word Leipoldt egter deur Piet Meyer van die Kaapstadse radio-omroep, wat nie van die gestremde verhouding tussen die twee skrywers geweet het nie, gevra om vir die Afrikaanse radiodiens 'n huldeblyk te lewer. Na aanvanklike aarseling stem Leipoldt in, 'n getuienis van die grootmoedigheid wat hy by sulke geleenthede aan die dag kon lê. ‘Hy was’, sê Leipoldt, ‘een van ons eerste, laat my byvoeg, een van ons oorspronklikste vertolkers van ons Afrikaanse kultuurlewe, en as sulks sal hy 'n blywende plek onder ons prosaskrywers inneem. 'n Man van vorse inbors, met baie selfvertroue, deurdronge met 'n innige geloof in die toekoms van sy volk en sy taal, het hy soms die indruk gegee van 'n voortvarendheid wat hom gelei het buite die perke wat menigeen sal stel vir die noukeurige geskiedkundige. Maar in wese was hy 'n getroue vertolker van sy stamgenote, 'n kranige voorvegter vir die belange van sy taal, en 'n stoere kampioen vir wat hy as reg en geregtigheid beskou het.... As een van sy koerantkollegas en as een van diegenes wat sy werk ten behoewe van ons Afrikaanse kultuur op prys stel, is dit vir my 'n droewige blydskap om vanaand hierdie paar woorde ter gedagtenis aan hom en sy werk uit te spreek.’ |
|