Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 430]
| |
Hoofstuk XIII
| |
[pagina 431]
| |
as 'n bondgenoot en Engels bestry as die enigste vyand, dan had ek nooit die Engelse ondersteuning gekry waarsonder my eerste poginkie in die Provinsiale Raad reeds hopeloos sou misluk het nie. En ook dit was nie 'n saak van berekende taktiek nie maar soos dit vir my eenvoudige vernuf gelyk het en vandag nog lyk, 'n saak van blote logika. Engels moes, en sou, in elke geval voortbly en die helfte van die terrein behou; die ander helfte, óns helfte, moes op een of ander manier tussen Afrikaans en Nederlands verdeel word - van hierdie twee kon die een alleen plek kry waar hy die ander kon weghou.’Ga naar eind2 Aan die taalstryders se energieke ywer vir Afrikaans en aan Langenhoven se oorweldigende hartstog vir wat hy later as sy ‘lewensroeping’Ga naar eind3 op aarde sou beskou, het Leipoldt geen aandeel gehad terwyl hy in Londen as mediese inspekteur skole besoek of op die vasteland van Europa en Nederlands-Oos-Indië gereis het nie. In Londen was hy wel lid van die Afrikaanse studente se vereniging en was hy bevriend met Johannes Smith, wat hom in dié jare reeds met oorgawe aan 'n studie van die herkoms van Afrikaans gewy het. Hoewel hy onder invloed van Smith se entoesiasme opnuut geinteresseerd begin raak het in sy Afrikaanse ‘versies’, wat 'n paar jaar reeds byna vergete in een van sy laaie weggebêre was, kon hy, wat poliglotties grootgeword en as kind meer as een taal gelees en gepraat het, nooit soos Langenhoven 'n stryder vir Afrikaans word nie en het hy veral geen waarde geheg aan die nasionale beweging onder Afrikaners nie. ‘Johannes Smith’, so skryf hy by geleentheid aan sy oom Ewald Esselen, ‘is my very good friend, a very hot Afrikaner who keeps me from forgetting that I ought to be one myself’, 'n uitspraak waarin 'n mens, selfs al gaan die geestige element daarin nie by jou verby nie, 'n sekere onverskilligheid in verband met ‘Afrikanersake’ bemerk. In later jare kon Leipoldt dan ook nie begryp waarom van sy vriende so 'n sterk standpunt oor moedertaalonderrig inneem nieGa naar eind4 en was die stelling ‘die taal is gans die volk’ vir hom bykans sinledig en iets wat nie met sy eie jeugervarings gestrook het nie. In die pastorie op Clanwilliam is Afrikaans, Nederlands, Duits en Engels afwisselend gepraat, al het die jong Christie graag en by voorkeur geluister na baie van die oumense in die bruin woongebied wat met hulle verhale en toorgoed, maar ook met hulle besondere woordgebruik, gesegdes en idiome, hom vasgenael kon laat sit en luister. Met 'n vader wat lank in Duitsland gestudeer en op Soematra gewerk het, was daar egter geen sterk vaderlandsliefde in sy ouerhuis aanwesig nie; eerder vanuit die sendelingingesteldheid 'n breë humanitêre gevoel vir die hele mensdom. | |
[pagina 432]
| |
Daarom ook dat Leipoldt ná die publikasie van Albert Verwey se beskouing oor Oom Gert vertel en ander gedigte in 'n brief kon skryf: ‘Van politiek, laat staan voor kampvechterij voor het Afrikaans was er [in Leipoldt se debuutbundel - JCK] geen sprake. Want ik heb altijd onze taal als 'n fait accompli aangenomen, en bekommer mij er heel weinig over wat er ten nadele daarvan gezegd of geschreven wordt.’Ga naar eind5 Ook ná sy terugkeer staan hy in baie groot mate afsydig van die taalywer van skrywerkollegas, terwyl hy weldra in die teenoorgestelde politieke kamp as die meeste van hulle teregkom. Wanneer G. Dekker in sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis van Celliers, Totius en Leipoldt as die ‘Driemanskap’Ga naar eind6 praat, is dit waarskynlik die mees inhoudlose begrip wat ooit op die gebied van die Afrikaanse letterkunde gemunt is, óók en verál as 'n mens die uiteenlopende geestelike agtergronde van die drie digters in ag neem. Terwyl Celliers en Totius hulle akademiese opleiding op beperkte gespesialiseerde gebiede ontvang het aan inrigtings wat indertyd nie vir groot strominge toeganklik was nie en weinig ervarings naas dié van losiesplek en kollegesaal beleef het, staan Leipoldt van die begin af oop vir invloede in die indertydse metropool Londen, verken hy landskappe en agterbuurte, en verdiep hy hom in 'n vakgebied waardeur hy die geleentheid het om die mens in sy versnyding en distorsie - sowel liggaamlik as geestelik - waar te neem. Aan die Vrije Universiteit van Amsterdam met sy geloofsvooroordeel en -beperktheid probeer Totius so gou moontlik sy studie afmaak om na sy land terug te keer, terwyl Leipoldt die vasteland van Europa deurreis om sy mediese kennis te verruim en hom met besoeke aan kunsmuseums nog verder as mens te verbreed. En terwyl Celliers hom as bittereinder ná die Anglo-Boereoorlog in die (vir Europa) betreklik geïsoleerde Switserland tussen die berge en die melkkoeie afsonder en weinig indrukke van die res van Europa opdoen, bereis Leipoldt die hele kontinent, tot selfs in Moskou, en besoek hy die twee Amerikas en die Verre-Ooste. Die begrip ‘Driemanskap’ berus hoogstens op die feit dat al drie digters ongeveer dieselfde tyd debuteer en dat al drie verse oor die Anglo-Boereoorlog skryf. By Leipoldt is hierdie gedigte egter tot sewe in sy debuutbundel beperk! In latere jare sou Leipoldt bedenkinge hê oor die vroeë amptelike erkenning van Afrikaans, omdat dit sekere verwagtinge geskep het waaraan die taal in daardie stadium van ontwikkeling kennelik nie kon voldoen nie. Afrikaans was volgens hom sedert sy amptelike erkenning in 'n bevoorregte posisie en dit het die sigbare teken van die wit Afrikaanse kul- | |
[pagina 433]
| |
tuur geword: die taal waarin die nasionale ideale van die wit Afrikaner geformuleer is. Hierdie posisie het Afrikaans volgens hom bereik deur 'n ongelukkige politieke verknooptheid en deur 'n beroep op die misleidende leuse dat die taal ‘gans die volk’ is. Sommige van die protagoniste van Afrikaans - en hier het Leipoldt duidelik Langenhoven in gedagte - het die ryk skat van die Nederlandse taal en literatuur van hulle probeer afskud ‘and to look upon the sister language and culture as inherently inimical to the development of a real Afrikaans nationalism. That has undoubtedly been detrimental to the natural growth of Afrikaans.’Ga naar eind7 Ten spyte van hierdie bedenkinge het Leipoldt tog kort ná sy terugkeer uit Londen hom op die hoogte gestel van die geskrifte van Afrikaanse tydgenote en is hy deur sommige gedigte besonder beïndruk. In 'n artikel wat hy in 1946 op versoek van Die Burger skryf nadat Totius 'n ernstige hartaanval kry en daar vir sy lewe gevrees word,Ga naar eind8 sê Leipoldt dat Celliers, vir wie hy persoonlik kort ná sy aankoms in Pretoria leer ken het, hom na 'n gesellige aand in Sunnyside Wilgerboombogies en Verse van Potgieter's trek geleen het. ‘Ek het altwee boekies nog voor ek gaan slaap het deurgelees,’ skryf hy, ‘en ek onthou nog goed hoe aangenaam ek verras, hoe innig ek aangedoen, en hoe hoog ingetoë ek was oor die oorspronklikheid, die eenvoudigheid, en veral die openhartige opregtheid wat kenmerkend van altwee bundeltjies was. Die tegniese moeilikhede van 'n digterstaal wat nog nie heeltemal uit die bakermat geklim het nie, kon ek, deur eie ondervinding van die gesukkel om die nare woordjie “het” op die regte plek te gebruik, goed verstaan, en uit 'n puur mede-arbeidersoogpunt kon ek meevoel met iemand wat nog te veel eerbied vir die ouer woorde-koppeling gevoel het om nie dit heeltemal te verwerp nie.’ Hoewel 'n mens vermoed dat Leipoldt, waar hy hier 'n artikel skryf wat as lyk rede bedoel is, sy kritiek op Totius 'n bietjie versag en dat hy self - met of sonder die hulp van Smith - meer raad met ‘die nare woordjie “het”’ geweet en sy taal verder weg van die Nederlandse inslag van sy tydgenote gestuur het, voel jy sy beklemtoning van Totius se eenvoud en sy ‘openhartige opregtheid’ tog as eg aan. Sy eie lewensbeskouing en godsdienstige oortuigings - of gebrek daaraan - was in hierdie tyd ligjare verwyder van dié van Totius. Tog verhinder dit hom nie om waardering daarvoor uit te spreek nie. Totius se poësie is dan ook, skryf hy, ‘die beste voorbeeld wat Afrikaans opgelewer het van die ongeveinsde, kinderlike onderwerping van 'n ryke, gevoelvolle verbeeldingskrag aan die onvermydelike beskikking van die goddelike bestiering volgens van kindsbeen ingeprente geloofsopvatting’. | |
[pagina 434]
| |
'n Mens kan bedenkinge hê oor die mate van Leipoldt se kennis van Afrikaanse tydgenote se werk. In sy bydrae tot The Cambridge history of the British Empire verstrek hy byvoorbeeld foutiewe publikasiedatums by Trekkerswee en by sy eie Uit drie wêrelddele en Die heks, terwyl hy D.F. Malherbe se roman Vergeet nie 'n bundel poësie noem en die twee Van Bruggens as outeur van Ampie verwar. Ook A.G. Visser se sterfdatum dui hy verkeerd aan. In Bushveld doctor gee hy 'n kort karakteristiek van die ontstaan van Afrikaans en die eerste geskrifte in dié taal: (Afrikaans) is old Dutch as spoken by the first settlers, modified by usage into an inflexionless language that abounds in short syllables and open vowels, and is eminently suited to express the feelings of a simple people who delight in homely, domestic similes and who are by nature emotional and sentimental. Like English it is adaptable; it borrows readily, sometimes picturesquely colouring its loans and savouring them with a refreshing, idiomatic, racily pungent flavour. Then it was not yet recognized as a language that could hold its own with either English or Dutch. Even among the Dutch there were many who scoffed at its pretensions, and denied that it could be classed as a cultural factor. But a few years before Celliers had published his poem ‘Die Vlakte’, which proved how suitable a vehicle Afrikaans could be for expressing poetic emotion, and Dr du Toit had followed with his war poems. These first indications of the cultural value of Afrikaans had an almost immediate and lasting effect upon the development of the language, for they showed the people who used it that they talked something that was no longer a mere ‘kitchen Dutch’ but a vernacular that could hold its own with English as a competitor in the cultural development of the nation.’Ga naar eind9 Hoewel 'n mens oor die algemeen met hierdie karakterisering en die impak wat die eerste geskrifte gehad het, kan akkoord gaan, sal 'n taalkundige frons by die uitspraak oor die kort sillabes en oop vokale wat Afrikaans dan kwansuis in vergelyking met die Nederlands van die eerste nedersetters sou toon. Om Totius se By die monument - kennelik die bundel waarna Leipoldt hier verwys - as oorlogspoësie te bestempel, lê die aksente verkeerd. En 'n mens vra jou af of Leipoldt as gevolg van kwaaivriendskap Marais se ‘Winternag’, wat vóór ‘Die vlakte’ van Celliers gepubliseer is, verswyg, en of hy dit gewoon vergeet het. Tog is die passa- | |
[pagina 435]
| |
sie 'n mooi samevattende aanduiding van die ‘eerstelinge’ in die Afrikaanse taal, waaronder sy eie debuutbundel, wat hy om redes van fatsoen verswyg, gereken kan word. Hoe ook al, in die jare ná sy terugkeer was Leipoldt só besig in sy nuwe betrekking dat sy vriendskappe in groot mate, waar dit nie met sy verantwoordelikhede as pleegvader saamgehang het nie, tot die oorwegend Engelstalige mediese kringe van Pretoria en Johannesburg beperk was. Van die Afrikaanse skrywers van Pretoria en elders in Transvaal leer hy naas Celliers en Totius in dié jare sy mediese kollega A.G. Visser ken wanneer hy van tyd tot tyd skole op Heidelberg aan die Suikerbosrand besoek. Reeds by die eerste ontmoeting is hy beïndruk deur Visser se biblioteek, wat naas boeke oor sy vakgebied literêre werke en studies oor die geskiedenis ingesluit het. Visser sou eers later in boekvorm debuteer en was in hierdie jare nog nie aan Leipoldt bekend as digter nie, al het hy reeds vóór 1900 enkele geestige gedigte in Ons Klyntji gepubliseer. Wat Leipoldt egter opgeval het, was Visser se erudisie en die ‘beskroomde gesag’ waarmee hy sy goed deurdagte uitsprake gemaak het - vir Leipoldt ‘'n bewys, opsigself, van 'n denkvermoë wat innig indiwidueel en ongeskakel aan die weerklanke van ander was’.Ga naar eind10 In Pretoria leer hy ook Gustav Preller ken wat as assistentredakteur aan De Volkstem verbonde was en van 1919 die redaksie van Die Brandwag behartig. In later jare kon mev. Johanna Preller onthou hoe Leipoldt saam met Jan Celliers en sy vrou op 'n keer by hulle geëet het. Die Prellers het in dié jare, soos die Celliers's en Leipoldt, in Sunnyside gewoon. Eers tydens die ete het mev. Preller agtergekom watter fynproewer Leipoldt was en hoeveel hy van die voorbereiding van geregte geweet het. Toe sy egter die pragtige vingerbakkies uithaal wat sy en haar man uit Kaïro saamgebring het, pak Leipoldt al die bakkies op 'n hopie en sit dit met 'n ‘Ons gebruik mos nie sulke dinge nie’ op die buffet neer.Ga naar eind11 Hy was altyd wars van aanstellery en dié soort geaffekteerdheid het hom nie aangestaan nie. Dit is nie onwaarskynlik dat dié voorval die begin van sy wantroue in Preller was nie. Wanneer Leipoldt in dié jare van tyd tot tyd in Kaapstad kom, lê hy dikwels ook besoek af by Johannes Smith op Stellenbosch. ‘Read over poems with Smith & made some alterations’, teken hy op 3 September 1919 in sy dagboekie aan. Vroeg in 1920 en ook in Oktober 1921 is hy weer op Stellenbosch en bring hy en Smith verdere veranderinge aan. Smith is in hierdie jare saam met Tobie Muller en Gordon Tomlinson verantwoordelik vir die redigering van Ons Moedertaal wat in 1916 (onder redaksie van | |
[pagina 436]
| |
Smith en C.J.L. Ruysch van Dugteren) tot Die Huisgenoot oorgaan, en Smith verkry Leipoldt se medewerking om vir dié tydskrif bydraes te lewer. Leipoldt moet ook in dié jare kennis gemaak het met dr. W.M.R. Malherbe, redakteur van Die Brandwag, want heelparty van sy verse en verhale uit dié tyd word in dié blad opgeneem. Ook vir De Volkstem, waarvan dr. F.V. Engelenburg redakteur was, begin hy kort ná sy aankoms in Pretoria bydraes lewer, onder meer 'n resensie oor Oswald Spengler se beroemde Der Untergang des Abendlandes in die uitgawe van 7 Julie 1923. Deur Engelenburg behou hy sy belangstelling in Nederlands en reeds in 1915 word hy - waarskynlik op instigasie van Verwey - benoem tot lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden. Ten spyte van die karigheid van sy kontak met skeppende kollegas resenseer Leipoldt in sy Pretoriase jare naas mediese boeke en kulinêre geskrifte enkele publikasies op die gebied van die Afrikaanse letterkunde.Ga naar eind12 As 'n mens dit lees teen sy latere nogal wrewelige afkeer van Langenhoven se werk, toon hy in sy bespreking van Ons weg deur die wêreldGa naar eind13 heel wat waardering vir die spreektaalwerklikheid van die samesprake en die enkele alleenspraak in dié versameling. Sowel wat die woordgebruik as die bespiegelende inslag betref, hou hy egter minder van die mediterende essays met hulle ‘preekstoeltrant’. Vir Reenen J. van Reenen se Celestine en ander spookstoriesGa naar eind14 het hy minder waardering, omdat die skrywer 'n onvermoë openbaar om 'n verhaal pakkend te vertel. By die ‘gewigtige punt’ kan Van Reenen hom glad nie inhou nie: ‘hij moet skree; hij moet die klem-woorde met groot letters skrijwe.’ Die ware kunstenaar, sê Leipoldt daarenteen, ‘fluister as hij bij so 'n punt kom: juis die sagte gefluister gee die indruk van geheimsinnigheid, moedeloosheid, angs, gevaar, smart, vertwijfeling’. Dat hy by tye wel analities te werk kon gaan, blyk uit sy beswaar teen Die lewenstuinGa naar eind15 van Celliers met sy ‘gebruik van kort, geklemtoonde woorde’ en 'n te weinig musikale vers, al het Leipoldt aan die ander kant te veel lof vir dié meditatiewe poësie waarin hy die ‘oorspronklikheid’, ‘gevoeligheid’ en veral ‘wijsgerigheid’ waardeer. 'n Merkwaardige resensie, as 'n mens die tyd van ontstaan daarvan in ag neem, is dié wat Leipoldt oor Roy Campbell se The flaming terrapinGa naar eind16 publiseer. Alhoewel hy sê dat die skrywer soms deur die sangerigheid verlei word en die ‘inhoud en sin’ van sy gedig prysgee, sien hy dit as ‘een van die beste, een van die allerbeste sou ek waag om te skryf, wat hier in Suid-Afrika ontstaan het’. Hy het beswaar teen die ‘verhalende meter (sic!) van Pope’ waarin die gedig geskryf is, maar hy meen dat Campbell daarin geslaag het om | |
[pagina 437]
| |
meestal ‘boeiend’ te vertel. Die gedig maak indruk weens sy ‘bekoorlikheid’ en ‘digterlike verbeelding’ en hy waardeer die afwesigheid van pessimisme en ‘die pure genot van die lewe’ wat daaruit straal. Uit hierdie resensies leer 'n mens Leipoldt ken as 'n belese en beleë persoon wat gevoelig kan lees en wat deur sy besondere indiwiduele kyk op sake afwyk van die indertydse hoofstroom van die Afrikaanse kritiek met sy aksent op die werklikheid - heel dikwels die Afrikaans-nasionale werklikheid - as basis. Daarmee lewer hy 'n persoonlike bydrae tot die Afrikaanse literêre kritiek. | |
IINog in 1914, die jaar van sy terugkeer uit Londen, dra Leipoldt verse soos ‘Vaarwel aan Insulinde’, ‘Krakatoa’, ‘Aan Multatuli’, ‘Die verlate plaas’ en ‘Die hamerkop’ by tot Ons Moedertaal, almal gedigte wat hy later in Uit drie wêrelddele sal opneem. Ook in 1915 en 1916 publiseer hy verdere gedigte, nou ook in Die Huisgenoot en Die Brandwag, wat hy later bundel of wat eers postuum in Geseënde skaduwees vesamel word. Toenemend sien 'n mens egter in 1917 van hom verse oor die Groot Trek in die verskillende tydskrifte, 'n aanduiding dat hy in dié jaar aan 'n reeks gedigte oor die geskiedenis van die Afrikaner begin werk het. 'n Verdere neerslag van dié historiese belangstelling vind 'n mens in sy artikels oor pres. Kruger en sy metgeselle se besoek aan Europa, wat hy ‘Vergete welkomsgroete’Ga naar eind17 noem, en ‘Afrikaner heiligdomme’,Ga naar eind18 waarin hy die geskiedkundige betekenis van Amajuba bespreek. Voordat Leipoldt tot die bundeling van die verse in Uit drie wêrelddele oorgaan, besluit hy om die gedigte oor die Groot Trek in boekvorm uit te gee. Volgens 'n mededeling van M.P.O. Burgers was Dingaansdag, die bundel waarin hierdie gedigte in 1920 opgeneem is, reeds in 1918 gereed.Ga naar eind19 Die bundel is dus in 'n baie kort bestek, waarskynlik in net iets meer as 'n jaar, in sy geheel geskryf. Dit verskil van Oom Gert vertel en ander gedigte deurdat die geheel, soos Leipoldt dit in sy voorwoord stel, ‘'n aaneenskakeling (is) van los gedagtes wat by die oorpeinsing van ons volkstoestande by... (hom) ontstaan het’. Hoewel hy verder beweer dat hy geen aanspraak maak op ‘dramatiese samehang’ nie, is dit tog nie 'n versameling losstaande verse nie, maar toon die geheel 'n sekere mate van interafhanklikheid. In dié opsig sluit die bundel aan by die klein epe, Trekkerswee (Totius) en Die | |
[pagina 438]
| |
timmerman (D.F. Malherbe), van hierdie jare, al is Dingaansdag deur die losser konstruksie eerder verwant aan Totius se Verse van Potgieter's trek of Rachel en Langenhoven se Die pad van Suid-Afrika. Dingaansdag begin byvoorbeeld met 'n aanroeping van die moederland, gevolg deur beskrywings van die vertrek van die Voortrekkers uit die Kolonie en oorpeinsings van die dood wat op almal wag. Ná voorbeelde van die verhale wat saans om die kampvure vertel word, konsentreer die epiese draad op die gang van die Trekkers, die aankoms in Natal en die moord op Retief en sy makkers, gevolg deur rouliedere met 'n sekere verering van die helde en - anders as in die latere ‘Grysblou bulte’ - 'n vervloeking van Dingaan. Die bundel sluit af met 'n siening van die toekoms. 'n Mens kry die indruk dat Leipoldt, veral waar dit regstreekse verwerkings uit die geskiedenis van die Voortrekkers in Natal betref, taamlik lukraak te werk gegaan het en dat sy liberale gees skepties begin staan het teenoor baie dinge wat in die verlede as heldedade aangebied is. Aan Burgers het hy by geleentheid gesê dat hy uiteindelik tydens die werk aan die bundel moeg geraak het van al die onverkwiklike twiste tussen die Voortrekkers en ‘hulle minderwaardige opvatting van vryheid en liberalisme’.Ga naar eind20 Wat dus waarskynlik as 'n epos van 'n volkswording gekonsipieer is, het deur Leipoldt se toenemende kritiek op die Afrikaners ná hul optrede tydens die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie en sy bedenkinge oor die opkomende eng nasionalisme langs die pad agterweë geraak. Opvallend is dan ook dat Leipoldt by die verhale om die kampvure, in plaas van heroïese dade, verkies om herinneringe uit sy eie Karoo-kontrei in versvorm te verwerk, soos die bloedige verhaal van Koenraad Fiet in ‘Ver in die Troe-troe-vlakte’,Ga naar eind21 of om van die ou heldedade uit die tyd van die VOC oor te vertel, soos dié van Wolraad Woltemade.Ga naar eind22 As gevolg van die geografiese afstand tussen Stellenbosch en Pretoria en albei se drukke aktiwiteite in dié jare was dit nie vir Johannes Smith moontlik om die manuskrip, soos in die geval van Oom Gert vertel en ander gedigte, sorgvuldig met Leipoldt deur te gaan nie, al het hy tydens sy vriend se sporadiese besoeke aan die suide tog van die gedigte met hom bespreek. Miskien het die uitgewers, in dié geval die noordelike firma J.L. van Schaik met 'n Nederlandse eienaar wat die fyner aspekte van die Afrikaanse taal in daardie stadium nog nie goed geken het nie, uit Leipoldt se mededelings afgelei dat Smith die verse inderdaad deeglik hersien het. Aangesien hulle graag, veral ná Albert Verwey se hooggestemde lof vir Leipoldt se poësie, die bundel gou op die mark wou bring, is dr. | |
[pagina 439]
| |
W.M.R. Malherbe van Die Brandwag gevra om die manuskrip taalkundig te versorg. Blykbaar het Malherbe maar baie oppervlakkig te werk gegaan of gevoel dat daar min aan 'n digter se werk verander kon word, want die publikasie van Dingaansdag, en veral die onversorgde taalgebruik in baie van die verse, was selfs vir die groeiende getal Leipoldt-bewonderaars 'n skokkende ervaring. In Die Huisgenoot van Julie 1921 sê E.C. Pienaar byvoorbeeld dat Leipoldt sy grammatika, in die besonder sy sintaksis en woordgebruik, skromelik verwaarloos en dat hy in so 'n mate ‘redeneer en filosofeer’ dat baie van sy verse ‘eenvoudig ontaard in berymde of onberymde prosa wat met poësie as sodanig baie min te doen het’.Ga naar eind23 Later sou G. Dekker praat van die gebrek aan ‘'n grootse konsepsie’ agter die verse, die talle voorbeelde van retoriek, die serebrale beelde en ‘al die storende van gebrekkige taal en vers’.Ga naar eind24 In sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis sou hy, ‘hier en daar 'n mooi vers of beeld’ ten spyt, sê dit is ‘moeilik om in hierdie gestamel die woordkunstenaar te erken’.Ga naar eind25 Waarskynlik moes ook Verwey se oordeel oor dié verse negatief gewees het. Wanneer A.D. Keet hom daarop attent maak dat daar in Die Brandwag van Maart 1915 nuwe verse van Leipoldt verskyn, skryf Verwey al hierdie gedigte, waaronder langes, netjies oor - haas die enigste voorbeeld van so 'n daad in die Verwey-argief! Ná die verskyning van Dingaansdag in 1920 laat Leipoldt via sy uitgewer in Pretoria 'n eksemplaar van die bundel aan Verwey stuur.Ga naar eind26 Maar Verwey laat hom dié keer nie tot 'n tweede artikel uitlok nie en bedank Leipoldt ook nie persoonlik vir die toesending nie. Dit kan wees dat die historiese agtergrond van die Groot Trek vir Verwey 'n te onbekende stuk geskiedenis was en dat hy hom daarom vir 'n moontlike verdere studie op 'n te vreemde terrein bevind het. 'n Mens is egter geneig om te aanvaar dat Verwey as sensitiewe poësieleser nie met die intrinsieke gehalte van die verse tevrede was nie en ná sy hoë lof vir Oom Gert vertel en ander gedigte verkies het om oor Leipoldt se tweede bundel te swyg. Toe die tweede druk van Dingaansdag in 1925 moes verskyn, is Smith spesiaal deur die uitgewer gevra om te help. Hierdie heruitgawe, skryf Smith in sy artikel oor sy en Leipoldt se samewerking, ‘het heelwat bespreking en briefwisseling gekos. “Al die storende van gebrekkige taal en vers” - om professor Dekker se woorde te gebruik - kon natuurlik nie oral verwyder word nie; maar die digter en sy handlanger het ten minste hulle bes gedoen. Die tweede druk verskil dan ook in baie opsigte van die eerste: nie alleen is die taal en spelling op ingrypende wyse hersien nie, maar | |
[pagina 440]
| |
die digter het ook op verskeie plekke toevoegings en verbeterings ingelas, terwyl daar op ander plekke versreëls en strofes geskrap is.’Ga naar eind27 Met hierdie tweede uitgawe was die taalkundige afwerking van die bundel veel beter. 'n Mens sien dit reeds in die verskille tussen die berymde opdragvers aan Smith en Malherbe aan die begin. In die eerste druk lui dit, haas onverstaanbaar: Neem wat ek aanbring as 'n blyk
Van vrindskap wat sy dank erken
Vir wat hy wederkerig wen
Deur vrindskap wat die vrind beryk.
In die tweede uitgawe is dit verbeter tot: Neem wat ek hier bring as 'n blyk
Van vrindskap aan; want ek erken
Met dankbaarheid dat wat ek wen
Uit vrindedaad my siel verryk.Ga naar eind28
Ongelukkig kon die bundel selfs met hierdie verbeterings nie gered word nie. Al is die taal ná Smith se chirurgie nou veel beter, is baie van die verse steeds strompelend en bly die hele konsepsie van wat Leipoldt wou bereik, erg newelagtig. In sy oorsig oor die Afrikaanse poësie in die derde deel van Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner skryf W.E.G. Louw dat die ‘epiese draad’ wat deur die bundel loop, ‘nie voldoende (is) om daar enige eenheid aan te gee nie’,Ga naar eind29 terwyl Rob Antonissen die bundel as geheel 'n insinking noem: ‘In geen enkele gedig word die beste uit Oom Gert vertel benader nie. Naas en selfs ín sommige fragmente van beheerste gedagtepoësie, dramatiese bewoënheid en vlae van lirisme is daar herhaaldelik dreunerige, hortende of doodse gerym, onbesielde personifiëring, retoriese praal, onmagtige enumerasie.’Ga naar eind30 Tog sal dit 'n fout wees om by die talle futlose verse verby nie die enkele goeies raak te sien nie en binne-in andersins swak gedigte oor goeie beelde en fyn woordgebruik heen te lees. In sy belangrike opstel oor ‘Leipoldt as digter’ sê N.P. van Wyk Louw, byvoorbeeld, dat Leipoldt ‘ons poësie verryk (het) met beelde van 'n krag en 'n oer-Afrikaansheid soos daar min is’.Ga naar eind31 Selfs in die swak bundel Dingaansdag, sê hy, is daar voorbeelde hiervan. So kry ons uit die mond van 'n boerverteller die beeld van ‘Die | |
[pagina 441]
| |
branders so hoog as 'n mied na die oes’ of die volgende voorstelling van die Zoeloekoning: En in sy ore dreun die haat
Soos bier wat borrel in die vat...Ga naar eind32
Iets van die vroeëre oorlogsverse is ook terug te vind in die ontroerende beeld van die kinders se ‘tingerige lykies’ in LXIII,Ga naar eind33 terwyl ‘Van die lotosland waar die lelies groei’ (VII)Ga naar eind34 die verlange van die slaaf na haar eertydse tuiste in die Ooste pragtig evokeer en ‘Waar die Koorsboom’ (XXXI)Ga naar eind35 ten spyte van die opsigtelike anapestiese maat die kleurvolheid en beweeglikheid van Leipoldt se beste natuurverse benader. Vir die voltooiing van die beeld van Leipoldt, soos 'n mens dit in sy verse vind, is, soos Antonissen dit stel, enkele van die bespieëlende verse met die groeiende ‘eensaamheidsgevoel (en die) konfrontasies met die dood’Ga naar eind36 (soos ‘Ek wag hom in my kamer’Ga naar eind37 en ‘As my asem uit is’)Ga naar eind38 belangrik. ‘Hier en daar’, gaan Antonissen voort, ‘kry ons al 'n aanduiding van wat voortaan die doel sal wees van die soeker se tog deur die lewe: die ontdekking en kultus van “die Skoonheid”, die hoogste waarde in die wêreld en weldra sy enigste troos.’Ga naar eind39 Die hoogtepunt van die bundel, reeds deur Pienaar uitgelig, is egter die gedig waarin die reaksie van die diere na die moord op Retief en sy manne gegee word: Die koperkapel kom uit sy gat
En sluip die rantjie rond:
‘Dit het gereën; die veld is nat
En nat is die rooi-geel grond.’
Die meerkat kom en sy ogies blink,
En hy staan orent en wag.
En die stokou ystervark sê: ‘Ek dink
Die reën kom weer vannag.’
Maar die geitjie piep: ‘Dis glad nie reën!
Dis klewerig, swart en rooi.
Kom jy sulke reën in jou lewe teen -
So glad, so styf, so mooi?’
En die wyse steenuil waag sy woord:
‘Dis bloed, dis mensebloed!
Dis lewensbloed wat hierdie oord
Se bossie-wortels voed.’Ga naar eind40
| |
[pagina 442]
| |
Dit kan wees dat Leipoldt hier met die patroon van die gesprek tussen die diere die Engelse volksrympie ‘Who killed cock robin’ en W. Versfeld se ‘Wie het mossie doodgeskiet?’Ga naar eind41 in sy Springbok rympies en stories voor die kindersGa naar eind42 navolg, al voel 'n mens dat Leipoldt se gedig met die reaksie van net vyfdiere veel meer dramaties is en met die woorde van die uil op 'n hoogtepunt eindig. Later sou Ina Rousseau met ‘Die krieke weet’Ga naar eind43 en D.J. Opperman met ‘'n Mirakelspel: Wie't mossie doodgemaak?’Ga naar eind44 by Versfeld en Leipoldt se gebruik van die fabel met sy dierewysheid aansluit. 'n Vermaaklike stuk in die Burgers-versamelingGa naar eind45 is die anonieme vertaling van dié gedig, gevolg deur 'n kriptiese briefie van Leipoldt aan die vertaler. In Engels dra die gedig die opskrif ‘After the battle’: The cobra snake comes creeping forth,
And slily looks around:
‘It's been raining here the field is wet,
And wet the reddish ground!’
The wild-cat blinks its little eyes,
And awaits the falling rain,
And the hedgehog says: ‘I'm pretty sure
It will not rain again!’
But the lizard pipes: ‘This is not rain!
It's sticky, thick, and red!
Have you ever met rain like this before?
It's where wild men have bled!’
And the wise old barn-owl says its say:
‘It's blood, it's human blood!
Our plants will be refreshed today!
It's an ill wind that blows no good!’
Onderaan die vertaling het Leipoldt in potlood geskryf: ‘Dear Sir - Please don't! I do not like your translations at all. Yours CLL.’ | |
IIIDat Leipoldt, die digter van sterk dramatiese verse soos ‘Oom Gert vertel’ en ‘Vrede-aand’, hom die een of ander tyd tot die skryf van 'n drama aangetrokke sou gevoel het, spreek eintlik vanself. In sy ‘Eerste skoffies’ | |
[pagina 443]
| |
vertel hy trouens sy eerste bewuste skryfpoging ná die briewe aan sy oupa was 'n samespraak tussen Elshadai en Dante en 'n soort treurspel in navolging van Schiller se Maria Stuart en P.A.S. Limburg Brouwer se Akbar.Ga naar eind46 'n Mens frons by so 'n mededeling, want by voorbaat weet jy by 'n kind van sewe of agt jaar, al is hy hoe intelligent, ontbreek eenvoudig die lewenservaring om 'n tragedie aan te durf. Aangesien Leipoldt en sy vriend Kareltjie Sheard egter dié vroeë geskrifte saam met hul afgestorwe hansdiere op die pastorie-erf op Clanwilliam begrawe het, is dit onmoontlik om vandag na te gaan hoe hierdie eerste treurspel daar uitgesien het. Leipoldt se eerste bewaar geblewe toneelstukkies het egter nie veel om die lyf nie. Die laspos, wat in Mei 1919 in Die Brandwag verskyn, is eintlik net 'n gedramatiseerde skets van 'n bruin man wat ná 'n ongeluk verlam en vir sy mense 'n oorlas is. Jannie, in 1920 geskryf en in 1952 deur Gerhard J. Beukes uit die Van Schaik-kluisGa naar eind47 opgediep en in Nuwe eenbedrywe gepubliseer, sit die blyspeltradisie van Melt Brink en J.H.H. de Waal met hulle situasiekomiek op 'n enigsins hoër vlak voort. Dit geld ook vir die komedie 'n Vergissing, wat Leipoldt in verhaalvorm reeds in 1896 onder 'n skuilnaam in The Cape Times gepubliseer het en in die twintigerjare vir die toneel verwerk en wat in 1927 in boekvorm verskyn. Die ‘samespraak in verse’, wat onder die titel Elberveld in die tronk in Augustus 1922 in Die Huisgenoot gepubliseer word, is die eerste neerslag van 'n figuur en gegewe wat hom tot aan die einde van sy skrywersloopbaan sou besig hou maar waaraan hy klaarblyklik nie 'n finale vorm kon gee nie. Maar die Engelse dramateks oor die verbranding van die hekse wat Leipoldt, volgens 'n mededeling aan dr. P. de V. Pienaar, na alle waarskynlikheid in 1911 ná bywoning van Freska se gebarespel Sumerün onder regie van Reinhardt in één nag geskryf het, was nog altyd in sy laai. Of 'n mens sy mededeling aan Pienaar as juis kan aanvaar, is egter onseker, want aan sy vriend dr. F.C. Kolbe het Leipoldt by geleentheid vertel dat die verhaal van die drama deur 'n Rooms-Katolieke priester aan hom vertel is toe hy die Midde-Ooste tydens die oorlog besoek het.Ga naar eind48 Het hy bedoel vóór die oorlog, want met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog was Leipoldt reeds terug in Suid-Afrika? Of verwys dit na die Balkan-oorlog van 1912-1913? Waarskynlik het daar by Leipoldt of Kolbe, in die oorspronklike mededeling of in Kolbe se weergawe daarvan, 'n vergissing ingesluip.Ga naar eind49 Hoe ook al, omstreeks 1919 of vroeg in 1920 het Leipoldt die stuk weer opgeneem, in Afrikaans begin verwerk en onder die titel Die hamer van die hekse by die uitgewersfirma J.L. van Schaik vir publikasie ingelewer. Die | |
[pagina 444]
| |
manuskrip dra die datum Julie 1920. In hierdie vorm het dit egter nooit verskyn nie. Dit is weer hersien en verwerk en in 1923 as Die heks deur die Nasionale Pers gepubliseer. Hoe dit gekom het dat die manuskrip uiteindelik by die Nasionale Pers beland het, is onbekend. Ook die persoon wat vir die intensiewe redigering en herskrywing van die teks verantwoordelik was, bly steeds 'n geheim. Volgens Smith was dit 'n proefleser van die Nasionale Pers.Ga naar eind50 Prof. J. du P. Scholtz, die betrokke leser, het Burgers op navraag egter die versekering gegee dat hy nie die titel verander of die ingrypende wysigings ten opsigte van taal en styl aangebring het wat Die heks in vergelyking met Die hamer van die hekse toon nie.Ga naar eind51 Hierdie onbekende persoon het Leipoldt egter 'n groot guns bewys. ‘'n Noukeurige vergelyking (van die twee manuskripte)’, skryf Beukes, ‘toon groot en ingrypende veranderinge. En hierdie persoon het beslis 'n sterk en intuïtiewe gevoel gehad vir wat dramaties en toneelwaardig is. Hy het die vloeiende aaneensluiting van gebeure, die hoogs gekonsentreerde bouvorm en toespitsing op die hooftema wat ook in Die hamer van die hekse so 'n besondere eienskap was, nog verder versterk deur groter gebondenheid en woordekonomie. Dele wat bietjie geselserig was, is òf heeltemal weggelaat òf in 'n paar woorde saamgevat en heelwat onnodige byvoeglike naamwoorde is geskrap. Selfs nuwe byvoegings is aangebring wat egter so suiwer by die oorspronklike aansluit, ook sover dit toon en atmosfeer betref, dat 'n mens dit nooit sal vermoed as komende van iemand anders nie.’Ga naar eind52 Eers met die tweede druk van 1927 het Smith 'n hand in die hersiening gehad. ‘In hierdie verband’, skryf hy, is dit miskien interessant om te vertel dat daar in die eerste druk 'n griffier onder die persone van die toneelstuk verskyn, en dat hy dwarsdeur die werk onder daardie naam optree. Toe ek vir Leipoldt daarop wys dat 'n griffier darem eintlik niks met die bewaring van gevangenes te doen het nie, en toe ek hom ewe belangstellend vra of dit nie miskien 'n cipier hoort te wees nie, het hy sy groot verbasing uitgespreek. ‘Staan griffier regtig daar?’ het hy gevra. ‘Dit moet natuurlik cipier wees,’ het hy met sy bekende laggie bygevoeg. ‘Hoe is dit nou godsmoontlik dat ons dit nie raakgesien het nie?’Ga naar eind53 Smith het ook die vyf bladsye aantekeninge agterin op versoek van die uitgewers en met goedkeuring van Leipoldt bygevoeg. | |
[pagina 445]
| |
Hoewel Leipoldt later geringskattend oor dié drama sou praat en ander mindere dramas van hom hoër geag het, verteenwoordig Die heks 'n belangrike datum in die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse drama. As eerste Afrikaanse toneelwerk wat teen 'n Europees-geskiedkundige milieu - die eerste kwart van die vyftiende eeu in die denkbeeldige kasteel Ahrweiler in Duitsland ten tyde van die heksevervolging - afspeel, toon dit 'n totale breuk met die klugte en blyspele van Brink en De Waal. Wat Leipoldt hier gee, is die onthulling van 'n liefdesgeskiedenis. Veertig jaar vóór die aanvang van die drama was die Kardinaal, Ysaye D'Orilla, die minnaar van Elsa die Heks (of Orsinia, soos sy tóé bekend was) en die vader van haar dogter. Nóú, egter, is hy die persoon wat hulle lot verseël en die vorm teken wat hulle verbranding as hekse beteken. Wanneer hy die verskriklike waarheid tydens sy besoek aan hulle kerker agterkom, wil hy die vonnis herroep, maar 'n floute oorval hom. Wanneer hy uit sy bewusteloosheid herstel en probeer ingryp, moet hy hoor dat die vroue reeds ‘vir die afgelope tien minute’ brand. Naas die kontras tussen verlede en hede, wat met die teenstelling tussen die sonnige suide van Italië (die land van hul liefde) en die koue van die noordelike Duitsland (van die heksevervolging) saamval, word die floute van die Kardinaal psigologies mooi voorberei deurdat die twee broeders in die eerste toneel by herhaling na sy swak gesondheid verwys. Daarby ervaar die Afrikaanse dramaleser met dié drama vir die eerste keer iets van die anagnorisis of herkenning waarvan Aristoteles praat: die Kardinaal wat in die tweede toneel te wete kom wie Elsa en haar dogter werklik is en die voltrekking van die vonnis probeer keer. Met die floute wat intree, word die moontlikheid van redding egter uitgeskakel en word 'n mens bewus van 'n hoër mag, die noodlot, wat werksaam is - 'n mag wat op die moment van die wending na die goeie die verloop van sake in 'n fatale rigting laat ontwikkel. Al kan 'n mens sê dat die Kardinaal nie werklik in die tweede toneel tot 'n insig ontwikkel nie en dat daar van 'n dramatiese botsing tussen hom en Elsa geen sprake is nie, is Die heks tog die eerste Afrikaanse drama waarin die mens as sodanig sentraal staan en iets van die tradisie van die Griekse tragedie neerslag vind. Ook vir die spesifieke stofkeuse, naamlik die geskiedenis van die heksevervolgings en die Rooms-Katolieke wêreldbeeld, moet 'n mens waardering hê. Soos met die liberale perspektief, wat reeds in sy poësie duidelik waarneembaar was en van die dikwels eng nasionale boustof van baie van sy medeskrywers wegswaai, openbaar Leipoldt daarmee 'n sekere geestelike vryheid wat vir dié tyd 'n tematiese wins vir die | |
[pagina 446]
| |
Afrikaanse letterkunde beteken het. Uit kerklike oord is hy juis in hierdie jare daarvan beskuldig dat hy ‘anti-Roomsgesind’Ga naar eind54 was en moes sy vriend monsignor Kolbe hom by geleentheid teen dié aanslae verdedig.Ga naar eind55 Dit is nie toevallig nie dat André P. Brink vir sy eie Die hamer van die hekse, waarin hy die oorspronklike drie tonele tot ses uitbrei, die gesuggereerde moontlikhede van die Leipoldt-teks verder voer, die gegewens oor Kerk en heksevervolging konkretiseer en die ondergang van 'n man in die Leipoldt-drama tot die ondergang van 'n stelsel laat uitgroei. | |
IVToe Leipoldt se werke by die Nasionale Pers begin verskyn het, kon Johannes Smith verder by die persklaarmaak betrokke raak. Reeds in 1920 het hy die manuskrip van Die Afrikaanse kind in siekte en gesondheid nagegaan. Toe die groot stroom prosawerke uit Leipoldt se pen teen die middel van die twintigerjare 'n aanvang neem, kon Smith, wat toe deur Die Huisgenoot aan die Nasionale Pers verbonde geraak het, hulle feitlik almal nasien en verbeteringe aanbring. Een van Smith se belangrikste bydraes wat die teksversorging van Leipoldt-tekste aanbetref, was sy werk aan Uit drie wêrelddele, 'n bundel waarin naas swakker gedigte van Leipoldt se allerbeste verse verskyn. Die manuskrip is sonder titel deur Leipoldt by die uitgewers ingelewer en Smith het die titel Uit drie wêrelddele aan die hand gedoen, 'n voorstel wat deur Leipoldt ‘met geesdrif en dankbaarheid’Ga naar eind56 aanvaar is. Die titel slaan in werklikheid eerder op die feit dat sommige van die verse in Europa, sommige in die Ooste en sommige in Suid-Afrika ontstaan het, want daar is - as 'n mens die kort passasie oor Da Gama se graf in ‘Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig’ buite rekening laat - haas geen gedigte met Europa as tema in die bundel nie. In 'n ongepubliseerde voorwoord wat hy onderteken en as ‘Kaapstad, 28 September 1928’ dateer, skryf Smith: ‘Die gedigte is almal geskrywe tussen 1912 en 1922, behalwe die “Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig” wat reeds omstreeks 1910 in Londen geskryf is.’ Volgens Leipoldt se getuienis aan Burgers het die meeste van die agttal sonnette wat 'n aparte rubriek vorm, egter reeds vroeër ontstaan, iets wat die manuskripmateriaal bevestig. En hoewel Leipoldt met ‘'n Voorspel tot 'n Afrikaanse heldedig’ na afloop van sy vaart saam met Pulitzer en ná sy besoek aan Lissabon en die graf van Da Gama kon begin het, is dit buite die kwessie dat die deel | |
[pagina 447]
| |
oor die suidelike vaart met die verwysing na die ‘Rocca en Sint-Vincentskaap’Ga naar eind57 en die gedeelte oor ‘Ras Fartak’ en al die herkenningspunte in die Rooi See en die Golf van AdenGa naar eind58 vóór sy eie vaart in 1912 met die SS Ulysses na die Ooste kon ontstaan het. Daarvoor is Uit my Oosterse dagboek met dieselfde herkenningspunte getuienis genoeg.Ga naar eind59 Die voltooiingsdatum van dié gedig kan dus op die vroegste êrens in 1912 wees. 'n Aantal verse wat in die meeste gevalle saamgegroepeer is en 'n subreeks in Uit drie wêrelddele uitmaak, wek die indruk dat hulle op die een of ander wyse 'n restant is van gedigte wat Leipoldt vir Dingaansdag bedoel het, maar om die een of ander rede nie in daardie bundel onderdak kon kry nie. Dit is die geval met ‘“Kriek, kriek!” in die sand sing my wiele’Ga naar eind60 en ‘Waar die Katberg, wit-kapok-gekroon’,Ga naar eind61 waarin die (Voortrekker-)wa en twee osse onderskeidelik oor hulle ervarings tydens die Trek praat, verse waarin Leipoldt van die soort personifiëring van Celliers se vlakte en Totius se besembos gebruik maak. Ook ‘Saal en toom en buikgort’, ‘Yster roes van nattigheid’, ‘Jy vra my: “Is jy dapper?”’ en ‘Daar's nog die lang rooi wapad voor my’, almal verse wat op die eerste twee volg,Ga naar eind62 klink na gedigte wat eerder in die vorige bundel tuishoort, al het hulle dikwels - soos trouens baie in Dingaansdag - net 'n sydelingse verband met die Trekgeskiedenis. ‘Grysblou bulte’,Ga naar eind63 'n gedig wat deur die meeste kommentators tereg as die alleenspraak van die vlugtende koning Dingaan geïnterpreteer is, staan aan die einde van die bundel, verwyder van die ander verse waarin die Trek figureer. Waarskynlik kon dié gedig nie 'n tuiste in die vorige bundel vind nie, aangesien Leipoldt se ‘verskuilde menslikheid’,Ga naar eind64 teenoor sy vroeëre afsku van Dingaan se wandade, hier in die ontroerende verhaal van die vlugteling se lewe en sy skuldgevoel deurbreek en 'n ander blik gee op 'n figuur wat deur geskiedskrywers soos Gustav Preller as 'n onmenslike geweldenaar gesien is. Later is daar by geleentheid van Leipoldt as ‘the apostle of the opposite view’ gepraat; hierdie gedig is een van die vroeë treffende gevalle waar hy téén die algemeen aanvaarde beeld onder die Afrikaners van sy tyd ínskryf en 'n ander sy van 'n gehate figuur belig. Met dié gedig kom die gedagte wat hy reeds in sy slampamperliedjie oor Van Noodt in Oom Gert vertel en ander gedigte verwoord het, treffend tot gestalte: Daar is geen mens so aaklig goed,
Daar is geen vent so vals en swart,
Of in sy bors klop daar nog deur
'n Brokkie van 'n mensehart.Ga naar eind65
| |
[pagina 448]
| |
Dit is juis hierdie ‘verskuilde menslikheid’, die liberaal-kosmopolitiese kyk op dinge en Leipoldt die sendelingkind se beklemtoning van arbeid en plig - 'n ingesteldheid wat reeds volledig in Oom Gert vertel en ander gedigte aanwesig was - wat die kritici indertyd in hulle kommentaar op Uit drie wêrelddele nie kon verstaan nie. 'n Gedig wat veral vraagtekens laat ontstaan het, is ‘Droom en doen’.Ga naar eind66 In haar resensie van die bundel staan Lydia van Niekerk by dié gedig stil. Sy skryf: As 'n ‘sendelingskind’ is die digter een wat besef dat ‘die hele land lê wag vir werk, vir dolwe en eg en ploeg. En 'n mens se lewe is baie kort, net soos 'n wintersdag,’ en in ‘Droom en doen’ spoor hy ons aan om nie net na die verlede te kyk nie maar om te wees | |
[pagina 449]
| |
Wat Van Niekerk hier 'n ‘wanklank’ noem, word deur Dekker blatanter aangedui. In die eerste uitgawe van sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis sê hy, ook onder meer na aanleiding van ‘Droom en doen’, dat daar in Leipoldt se ‘politieke gevoelens...'n groot omkeer gekom (het)’,Ga naar eind68 'n uitspraak wat hy later laat verval. 'n Mens vra jou af of Van Niekerk en Dekker dan nie in 'n vers soos ‘My nuwe vaderland’Ga naar eind69 in Oom Gert vertel en ander gedigte die enigsins smalende afkeer van mense wat oor ‘Volk en Heldemoed’ sing, raakgelees het nie en of hulle vergeet het dat Leipoldt reeds in dié gedig na die ‘volksgeskied'nis’ as ‘leuens’ verwys. En kan iemand wat, soos hy hier in die slotstrofe doen, van die visse as sy volk en van die see as sy vaderland praat, werklik, selfs al maak 'n mens vir 'n sekere skalksheid voorsiening, 'n volksdigter wees in die sin wat iemand soos Celliers dit was? Van Niekerk knoop haar argument veral vas aan ‘Droom en doen’, maar daar is baie ander verse waaruit Leipoldt se liberale ingesteldheid en sy kyk verby die eng Afrikanernasionalisme van dié tyd blyk. In sy gedig ‘Vandag’, geskryf ná sy ervaring tydens die Rebellie van 1914 en sy teleurstelling met Afrikaners se gesindheid tydens die Eerste Wêreldoorlog, skryf hy byvoorbeeld: Leer dat die louter liefde vir jou land
Die groter liefde vir jou medemens
Nie uit- maar insluit;Ga naar eind70
'n passasie wat illustreer in hoe 'n mate Leipoldt, soos N.P. van Wyk Louw dit stel, ‘iets in hom gehad (het) wat buite die denk van ons volk gereik het’.Ga naar eind71 Daarom ook dat hy hom in dieselfde gedig nie tot 'n blote ‘agterwerf’, die klein wêreld van die eie volk, beperk nie, maar sy holistiese ideaal in 'n breë humanisme laat opgaan: Leer dat die band wat volk aan volk moet heg,
Nie meer verbreek mag worde deur 'n hand
Wat nie almagtig is nie; dat die see,
Die lug hierbo, die aarde waar ons trap,
Vry vir elke mensekind moet wees en bly -
Nie afgebaken soos 'n agterwerf
Vir een of ander wat die sterkste is.Ga naar eind72
| |
[pagina 450]
| |
Wat 'n mens jammer vind, is dat Leipoldt hierdie positiewe oproep tot die nasie nie in literêr geslaagder gedigte gestalte laat vind het nie. In een van sy opstelle in Wiggelstok haal D.J. Opperman 'n strofe uit ‘Droom en doen’ aan, onder meer die woorde: ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand!’
Kêrel, droom jy nog van gisternag?
Hoor hoe raas die stampers bokant op Witwatersrand
Net soos branders van die see so sag.Ga naar eind73
Na aanleiding hiervan merk Opperman kripties op: ‘'n Latere geslag het dit nie teen Leipoldt se vrysinnigheid nie, maar teen sy romantiese leuens.’Ga naar eind74 In 'n skerpsinnige passasie in Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede sê Rob Antonissen dat Leipoldt in Uit drie wêrelddele, anders as byvoorbeeld in die heftig emosionele ‘Oom Gert vertel’, oor die gruweldade van die Anglo-Boereoorlog, soos in die gedig ‘Salmon van As’, hoogstens nog ‘neutraal’ rapporteer; ‘waar ánder wil herdenk, span hy hom in om dié neiging met drogredenasies die kop in te druk. Dit moet beklemtoon word, dat die poëtiese beswaar teen gedigte soos “Droom en doen” nie betrekking het op die strekking (op die “bedrog”) as sodanig nie, maar op die gestalte- én gehalteloosheid van die redenasie; die gestalte is mét die gehalte blindweg pragmaties; die terminologie is òf álte naïef vir die erns van die oomblik, òf dié van die mees onpoëtiese gedagteloosheid, die progressisme van gister en hede. Intussen moet daar aan Leipoldt se eerlikheid nie getwyfel word nie. As daar “bedrog” was, dan was dit selfbedrog, wat vir die prinsipiële nonkonformis nou en dan onontkombaar is.’Ga naar eind75 Vir iemand wat in so 'n mate afwyk van die algemeen gangbare opvattinge en waardes van die volk in wie se taal hy skryf en wat in so 'n mate nonkonformis is, was dit die natuurlikste ding om vrae oor die self te vra en te probeer deurdring na wat agter die ‘sluier’ verborge lê. Hierdie soeke word verwoord in twee verse wat as die voorlopers van Dertig se geding-met-God en profeetgestaltes gesien kan word, naamlik ‘By die vlei’Ga naar eind76 en ‘Die man met die helm’.Ga naar eind77 Só belangrik het Leipoldt ‘Die man met die helm’ in sy eie ontwikkeling as digter geag dat hy dit jare later as basis vir ‘The cauled man’ in The ballad of Dick King and other poems gebruik.Ga naar eind78 In sy soeke na waarheid kom Leipoldt in ‘By die vlei’ uit by die gedagte dat jy as mens ‘enkel apart en alleen (moet) staan’, dat jy ‘krag in jouselwe’ | |
[pagina 451]
| |
moet hê en kennis ‘om selwers te kies tussen werklike waarde / En wat niks werd is’. Dit is trouens dié eienskap by uitnemendheid wat hy in alleenstaande enkelinge soos De Lesseps en Multatuli elders in die bundel so bewonder. In ‘Die man met die helm’ bekla hy die lot van die mens wat met ‘sienersmart’ gebore is, wat verkies het om die wêreld op sigwaarde te ken en bloot die vreugde van die aarde te aanvaar, maar wat nou as gevolg van sy besondere vermoë ‘moet sien, al wil ek ook nie kyk, / En luister ook, al wil ek liefs nie hoor’. Hoewel dele in albei dié verse beeldend oortuig, sou die Afrikaanse letterkunde tot Van Wyk Louw se ‘In waansin het ek gevra’ en ‘Die profeet’ moes wag voordat dié gedagtes in versvorm beter verwoord kon word. Reeds in die man met die helm se voorkeur vir die bruin ‘braakland’, die ‘boggel-koppies’ en die ‘weduprag van winter in sy bruin’ (waarin die Karoowêreld van Leipoldt se jeug herkenbaar is), vind die gedagte van die skoonheid wat troos en uiteindelik as die enigste waarheid aangehang en bely word, sy eerste neerslag in Leipoldt se poësie. Dit is 'n gedagte wat ook in ‘Jy wat staan treur’Ga naar eind79 en ‘Gemmer-geur in die tuin’Ga naar eind80 verwoord word en waarmee hy aansluit by die bekende dictum van John Keats in sy ‘Ode on a Grecian urn’: ‘Beauty is Truth, Truth Beauty’, - that is all
Ye know on earth, and all ye need to know,Ga naar eind81
al sal die hele gedagte eers later meer sentraal in Leipoldt se poësie word. Met verse oor die ‘sienersmart’ en die gedagte van skoonheid en waarheid as identiek moet 'n mens egter nie die indruk kry dat daar by Leipoldt in Uit drie wêrelddele of elders in sy poësie 'n duidelike lewensbeskouing aanwesig is of dat daar ten grondslag aan sy werk 'n filosofiese substraat lê nie. Van Wyk Louw het heeltemal gelyk dat daar in Leipoldt se werk ‘so te sê geen lewensbeskouing, geen beredeneerde standpunt, geen filosofiese oortuiging’Ga naar eind82 voorkom nie. 'n Mens lees dan ook nie Leipoldt se werk ter wille van enige ‘wysheid’Ga naar eind83 wat daarin aanwesig mag wees nie, want basies is sy poësie 'n poësie van die waarneming, vervul met allerlei kleure en geluide. By die lees van sy poësie word 'n mens, soos Van Wyk Louw dit so treffend stel, eerder deur die ‘lyflikheid’Ga naar eind84 as die ‘wysgerigheid’Ga naar eind85 getref: ‘dis volkome die byna tasbare verbeelding van die digter, nie die kleurlose begrip van die denker nie’.Ga naar eind86 Iets van die kleurloosheid van die denker is aanwesig in die agttal son- | |
[pagina 452]
| |
nette wat 'n aparte rubriek in die bundel vorm. Van dié gedigte, veral ‘Dood’ met sy mooi uitstromende slot en ‘Die aakligste’, wat in sy geheel bevredig, was indertyd van die beste sonnette in Afrikaans, maar sedertdien is hulle deur die fyner tegniese afwerking van digters soos Van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers en Opperman oortref. In die meeste van dié sonnette is dit veral die sinsbou en die ryme wat hinder en iets troebels in die verse bring. Hoewel Van Wyk Louw in die eerste plek aan die talle sonnette in die latere Skoonheidstroos dink, is sy knap geformuleerde beswaar ook waar van die meeste sonnette in Uit drie wêrelddele. Meestal, skryf hy, ‘gly ... (Leipoldt) onseker, tastend van een rymwoord na die ander totdat hy die draad van wat hy eintlik wou sê, verloor en totdat die sin, die hele verloop van die gedig, volkome deur die ryme bepaal is’.Ga naar eind87 Hiermee saam hang die baie gevalle waar Leipoldt se vers in batos versink en waarmee hy, soos Van Wyk Louw dit stel, ‘'n sekere ongevoeligheid vir die emosionele toonhoogte van woorde’Ga naar eind88 verraai. 'n Voorbeeld wat op die rand hiervan beweeg, is die slot van ‘Mymering’: Maar as ek dink: ‘Miskien, ag, kom ons weer,
T'rug in die lewensworst'ling en -gewoel,
Waar bitter Noodlot al ons vreug verniel
En al ons ideale ru verteer,’
Dan is dit amper of ek in my voel
Koud - koud my hart en hoendervel my siel.Ga naar eind89
Miskien word hierdie slotreël nog deur die afwisseling van die konkrete en abstrakte selfstandige naamwoorde geregverdig, terwyl die ongevoeligheid vir die presiese betekenisnuanse elders in die bundel tot ontstellende insinkings in andersins mooi gedigte lei. En ewe ontstellend is die talle mooi reëls en woordgebruik wat orals in vaal gedigte versprei lê: ‘Die sterwe-skrik van koeël, kanon en strop’,Ga naar eind90 die ‘lighuis.../ Wat met sy rooi lig bokspeel met die maan’,Ga naar eind91 ‘Groenspaan op 'n koper-oulap’Ga naar eind92 en ‘O boetie, waar skuil jy weg met 'n grafsteen om jou hart?’Ga naar eind93 Enkele kere toon 'n gedig 'n enigsins horterige, struikelende gang, net om uit te mond in 'n pragtige slotstrofe, soos die volgende waaruit W.E.G. Louw die titel van sy reisverhaal Sover as 'n engel te perd kan ry gehaal het: | |
[pagina 453]
| |
As ek van verbeelding praat,
Dan glo maar ek preek van 'n paradys
Waarheen net 'n engel te perd kan reis,
Want daar is geen gids wat die weg kan wys -
En hoe vroeg jy opsaal, jy kom te laat.Ga naar eind94
‘'n Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig’ met sy verkenning van die vasteland in al sy kontraste bevat boeiende onderdele, soos die siening van die Karoo aan die begin, die vaart van die reisigers langs die kus van Afrika, die vertrek van die skepe uit Lissabon en die kontras tussen die oostelike Ras Fartak, die ‘Kaap van die Wind se Dood’, en die westelike ‘Cabo de los Tormentos’, maar 'n mens mis 'n progressie in die opbou. Tog was hierdie gedig 'n belangrike groeiloot vir latere digters: vir Van Wyk Louw se Dias en vir Opperman, wat in sy Joernaal van Jorik by Leipoldt se siening van die Kaap as die ‘wilde neushoringdier’ aansluit. In Leipoldt se voorkeur vir die lyflike en die aardse bo die wysgerige lê ook sy liefde vir die katalogus en die liefde vir die magiese bekoring van name, albei verskynsels wat - soos 'n mens in dele van die ‘Voorspel’ kan sien - sy poësie nie altyd ten goede kom nie. Daarom ook is - naas verse soos ‘Die oerbos’ uit die reeks ‘Uit my Oosterse dagboek’, ‘Reisigers’, ‘Die beste’ en boweal die dramatiese alleenspraak ‘Van Noodt se laaste aand’ - die bekoorlikste deel van Uit drie wêrelddele steeds die twee en vyftig verdere slampamperliedjies wat hy tot sy oeuvre toevoeg. Hoewel ook van dié verse ongelyk in waarde en soms hinderlik didakties is, oortref die bestes dié in Oom Gert vertel en ander gedigte. Onder hierdie gedigte moet in die besonder vermeld word ‘'n Handvol gruis uit die Hantam’, wat 'n pragtige inkanterende oproep van 'n stuk jeugwêreld is en die ‘skoonheidstroos’ van sy latere verse in die vooruitsig stel; ‘Op my ou ramkietjie’, die traak-mynieagtige digterlike apologie vir sy ‘versies’; ‘Boggom en Voertsek’, die geskiedenis van twee diere, moontlik 'n bobbejaan en 'n hond, maar in werklikheid feitlik droomgestaltes wat die spreker in sy eensaamheid troos en uit wie se hele lewe en hulle ervaring van vreugde en smart niks geleer kan word nie - vandaar die kwasimoralisering aan die slot; ‘Waar die koue noordpool-naarheid’, wat - ten spyte van die lang uitswaaiende ‘waar ... daar’-sinskonstruksie wat Leipoldt so dikwels gebruik en wat sy verse dikwels ontsier - 'n pragtige beeld van die wit ysbeer se bestaan gee; ‘Ek het 'n mannetjie van potklei gemaak’ en ‘In 'n gat daar onder die sukkeldoring’, wat albei die speel- en sprokieswêreld van die kind oproep. | |
[pagina 454]
| |
Soos Oom Gert vertel en ander gedigte is Uit drie wêrelddele betreklik vry van invloede en toon Leipoldt met gedigte soos ‘Van Noodt se laaste aand’ en ‘'n Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig’ in watter mate hy in staat is om met grootmeesters soos Browning en Racine saam te praat, hoewel laasgenoemde gedig uiteindelik in sy geheel nie slaag nie. In sy opstel oor Leipoldt wys Van Wyk Louw egter op ‘die populêre en gevaarlike klank van 'n sekere Engelse tradisie, Stevenson - Newbolt - Kipling’Ga naar eind95. In die ‘banjo-ritme’Ga naar eind96 van ‘Scheepers lê begrawe in Graaff-Reinet se sand’ klink byvoorbeeld Newbolt se ‘Drake's drum’ na, in ander verse weer Kipling.Ga naar eind97 In sy Letterkundige kragte wys M.S.B. Kritzinger op Alfred Noyes se ‘Seven wise men on an old black settle’, wat Leipoldt in die strofiese bou en in die metriese en rymskema van ‘Die beste’ naboots, ongeveer op die wyse waarop Celliers met ‘Die vlakte’ by ‘The cloud’ van Shelley aansluit. Noyes skryf: What will you say when the world is dying?
What, when the last wild midnight falls
Dark, too dark for the bat to be flying
Round the ruin of old St. Paul's?
What will be last of the lights to perish?
- What but the little red ring we knew.
Lighting the hand and the hearts that cherish
A fire, a fire, and a friend or two!
Up now, answer me, tell me true!
What will be last of the stars to perish?
The fire that lighteth a friend or two!Ga naar eind98
By Leipoldt word dit: Hoog oor die water skommel die vinkies,
Vol van die vreug van die somerdag;
Bly die gekwetter van bruin tinktinkies;
Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister, en so is dit hede -
Somer en son en saffier vir my!
| |
[pagina 455]
| |
Heer, wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
‘Somer en son en saffier vir my!’
Het jy 'n vrind wat jou hand kan vashou?
Vrinde vergaan en faal in nood!
Het jy 'n vyand, jou grootste las nou?
Vyande, vrinde gaan algar dood!
Wat's dit vir my as die gras vergrys word?
Somer sal kom met sy groen daarby;
Wat as in winter die water ys word?
Somer en son en saffier sal bly.
Boetie, ek vra jou, wat sê jy?
Wat's dit vir ons as die gras vergrys word?
Somer en son en saffier sal bly.Ga naar eind99
In vergelyking met Oom Gertvertelen ander gedigte kom daar in die herdrukke van Uit drie wêrelddele veel minder wysigings voor, waarskynlik omdat die belangrikste veranderinge deur Smith in oorleg met Leipoldt voor die eerste publikasie aangebring is. In die vierde slampamperliedjie het Smith later Leipoldt se neiging tot woorde wat uit die toon val, behendig weggewerk. In die eerste drukke lui dit: Son-vrindjie, as die ou gevreet
Van wêreld-naarheid om my swig,
Dan kyk ek na jou blou en weet
Daar is nog son, daar is nog lig!
In dié geval is die ‘ou gevreet’ te kras en die tweede reël heeltemal onverstaanbaar. Smith verander dit na: Son-vrindjie, as die wêreld-leed
En wêreld-naarheid my laat swig,Ga naar eind100
'n wysiging wat die hele vers verstaanbaarder maak. In ‘Die man met die helm’ is die reël ‘Waardeur die son val op my bleek gesig’ verander in ‘Die sonnegloed val op my bleek gesig’,Ga naar eind101 'n wysiging wat die reël nie alleen beter laat klink nie, maar dit ook met die woord ‘sonnegloed’ laat skakel | |
[pagina 456]
| |
met ‘sonneprag’ in die tweede reël en op dié wyse hegter bind. In enkele gevalle het Smith later egter die teks verswak, soos in die gedig ‘Padang’. Die oorspronklike teks: Want as jy net 'n blaartjie aanraak, gril
Die hele helling van die berge deur,Ga naar eind102
is verander tot: Want as jy net 'n blaartjie aanraak, tril't
Die hele helling van die berge op.
Die elisie ná die klinker (‘tril't’) lyk in dié spesifieke geval geforseerd, terwyl die woord ‘gril’ veel beter die gewaarwording en menslike fyngevoeligheid oordra wat die digter voor die gees moet gesweef het toe hy dié versreël gekonsipieer het.Ga naar eind103 Uit drie wêrelddele toon ná Dingaansdag 'n geweldige styging in Leipoldt se poësie, al word die peil van die beste oorlogsgedigte uit Oom Gert vertel en ander gedigte nie geëwenaar nie. Tot vandag toe is dit egter steeds, selfs vergeleke met groot bundels soos Van Wyk Louw se Tristia en Opperman se Komas uit 'n bamboesstok, een van die omvangrykste versamelings verse in die Afrikaanse taal. In sy oorsig oor die Afrikaanse poësie ná 1900 in die derde deel van Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner skryf W.E.G. Louw dat 'n mens verbaas is ‘om te verneem dat daar in daardie jare 'n Hertzogprys vir poësie beskikbaar was, maar dat dit nie toegeken is nie!’Ga naar eind104 Uit so 'n opmerking vermoed 'n mens dat Leipoldt se politieke standpunt, wat in hierdie jare aan baie mense bekend was, die konserwatiewe lede van die Akademie teen die bors moes gestuit het. Regverdigheidshalwe moet jy egter onthou dat die Akademie in daardie jare slegs werke bekroon het wat - gepubliseer of in manuskripvorm - voorgelê is en dat dit onbekend is of Uit drie wêrelddele deur die skrywer of uitgewer ingestuur is.Ga naar eind105 In dié jaar het, anders as wat W.E.G. Louw blykbaar vermoed, nog alle genres, en nie net die poësie nie, vir bekroning in aanmerking gekom, sodat ook Die heks oorweeg kon geword het indien dit voorgelê was. Die keurkommissie het in dié jaar bestaan uit F.V. Engelenburg, G. Besselaar, D.F. Malherbe, T.H. le Roux en J.J. Smith.Ga naar eind106 Met mense soos Smith en Engelenburg, wat ook besonder goed met Leipoldt bevriend was, is dit onwaarskynlik dat die kommissie sonder openbare protes 'n ‘politieke’ besluit kon geneem | |
[pagina 457]
| |
en Leipoldt op dié wyse van 'n bekroning kon weerhou het. By gebrek aan enige stawende inligting wat die teendeel bewys, moet 'n mens dus tot die gevolgtrekking kom dat die prosedure van voorlegging indertyd deurslaggewend vir Leipoldt se nie-bekroning was. | |
VTerwyl Leipoldt in die jare 1914 tot 1922 as mediese inspekteur werksaam was, kon hy dikwels hoor hoe sy eie verse op skool vir memorisering en voordrag aangewend is. Die keuse van die verse, veral die konsentrasie op sy gedigte met die Anglo-Boereoorlog as tema, het hom teen die bors gestuit. Daarby het die hele metode vir hom die wesentlike gevaar ingehou dat kinders 'n afsku van poësie kon ontwikkel. Om die onderwysers en kinders behulpsaam te wees, stel hy in 1923 uit sy eie werk die bloemlesing Uitgesoekte gedigte vir Jong Suid-Afrika saam. In die voorwoord draai hy geen doekies om die feit dat sy poësie op skool ‘misbruik’ word nie. Die verse wat hy uit sy eerste drie bundels, tesame met 'n paar ander verspreide gedigte opneem, beskou hy almal, volgens die inleiding, as ‘meer of min geskik ... vir kinders’. Dit is opvallend dat hy geen enkele gedig oor die Anglo-Boereoorlog opneem nie. Dergelike gedigte, meen hy, maak aanspraak ‘op 'n vertolking wat alleen ondervinding, wat 'n skoolkind nog nie besit nie, kan gee’. Die vier ‘verspreide gedigte’ wat hy opneem, is almal duidelik op die kind gerig; veel later sou hulle in sy bundel 'n Versieboord vir kinders verskyn. Onder hulle is ‘Die Slamaierwinkel’ wat, as 'n mens dit met ‘In die Slamaaierwinkel’ en ‘Abdoel se storie’ in Kampstories in verband bring, op 'n jeugherinnering kan berus. Dit is een van Leipoldt se verse waarin die gehoorsaamheid aan 'n uiterlike prosodiese en strofiese model nie tot onnodige geforseerdhede lei nie en wat die vreugde van die kind by die aanskouing van die ‘deurmekaar ophoping’ pragtig verwoord. Met hierdie bloemlesing en die viertal nuwe gedigte daarin is Leipoldt se poëtiese produksie, die ‘ruig verbeelding’Ga naar eind107 waarvan hy later in Skoonheidstroos sou praat, vir eers afgelope. Dit is opvallend dat hy ná 1923 minder poësie en meer prosa in tydskrifte publiseer. In die tweede helfte van die twintigerjare neem sy omvangryke produksie op die gebied van die prosa 'n aanvang. Intussen het hy ook sy betrekking as mediese skoolinspekteur neergelê en 'n nuwe werkkring betree. |
|