Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 404]
| |
Hoofstuk XII
| |
[pagina 405]
| |
dr. P. de V. Hugo, bekende velspesialis, hom genooi om by hom waterblommetjiebredie te kom eet. Vir dié geleentheid maak Hugo 'n fles van oom Koos Mostertpotjie van Worcester se beroemde soetwyn oop, 'n wyn wat Leipoldt in sy kinderjare tydens elke sinodebesoek aan die Kaap by sy oupa Esselen aan tafel gedrink het. Met sy ‘wonderlike muskaatagtige...geur..., wat ook effens aan suringbloeisels herinner het’,Ga naar eind2 was dit vir Leipoldt die allerbeste soetwyn wat in die Worcesterse omgewing gemaak is. Hugo het nog 'n fles uit 1864 gehad en het dit versigtig oopgemaak. ‘En wat 'n wonderlike geur het daar toe uit die bottel te voorskyn gekom,’ skryf Leipoldt. ‘'n Effense apteekagtige byreuk was daar ook, (maar die) kleur was...goed.’Ga naar eind3 Nadat die wyn 'n rukkie oopgestaan het, was die smaak nog lekkerder. Hugo het die fles weer versigtig toegemaak, 'n etiket daarop geplaas en dit vir Leipoldt gegee: ‘Dè, jy kan dit nou maar kry, mits jy dit nie oopmaak voordat jy gaan trou nie!’Ga naar eind4 Leipoldt het die geskenk glimlaggend geneem en jare lank weggebêre. Hy was van mening sy troudag lê nog ver in die verskiet! Maar as ongetroude moes hy met sy aankoms in Pretoria 'n woonplek soek. Sy suster Issa, getroud met die Engelse predikant Robert Pattison, het vroeër op Hopefield gewoon, maar was toe reeds 'n tyd lank in die Pretoriase buurt Waterkloof gevestig. Met Issa het hy ooreengekom om die huis met hulle te deel, 'n reëling wat vir Issa en haar man finansieel baie voordelig was, aangesien Leipoldt meer as die helfte van die huur, water en ligte vir sy rekening geneem het. Van die begin af was dié saamwonery egter nie geslaag nie. Issa het die temperament van haar moeder gehad en haar huishouding was nie goed georganiseer nie. Daarby was haar kinders moeilik en ongedissiplineerd, en het Leipoldt dit moeilik gevind om in dié wanorde rustig te werk. Aangesien hy in die eerste jare van sy termyn as skoolmediese inspekteur in hoë mate 'n nomadiese bestaan gevoer het en baiekeer - soos met sy sekondering tydens Louis Botha se veldtogte, die kere wat hy in Durban en Kaapstad hulp aan ander provinsies vir die instelling van skoolmediese dienste verleen het en sy besoeke aan skole in die Bosveld - lang tye van die huis af weg was, kon hy die irritasies die hoofbied. Op 10 Oktober 1918 laat hy Lulu Bolus egter weet: ‘The partnership with Issa was dissolved; I really could not have stood another year of it.’ Intussen, so skryf hy aan Lulu, woon hy by die Pretoria Club. Met sy broer Johnny, wat in daardie stadium in Johannesburg gevestig is, het hy 'n goeie verhouding. Johnny, skryf hy, het 'n gawe vrou en twee kinders wat goed grootgemaak is, ‘not a | |
[pagina 406]
| |
pain as it was with Issa's brats’. Vir Johnny se dogtertjie Susanna, 'n hoogs intelligente kind, sou hy later die slampamperliedjie ‘Susanna’ skryf.Ga naar eind5 In dié onderskatte vers moedig hy Susanna aan om na die ‘deuntjies van die suidewind’ en na die geluide van die blare en ‘elke diertjie of goggatjie’ te luister, soos hy as kind gedoen het: En jy, Susanna, as die wind
Jou geel voshare streel, miskien
Kan jy ook iets verstaan, my kind,
En waar daar niks nie is, iets sien.
Ek gee jou hierso vir vermaak
Wat ek as kind gehoor het. Val
Wat ek jou hier bring, in jou smaak,
Dan is dit loon genoeg. Dis al.
Neem wat ek gee, Susanna. Vra
Nie waarom of hoekom nie. Droom
Al slaap jy nie, en sê maar: ‘Ja,
Ek doen dit net maar soos my oom
Wat versies maak en vissies sien
Waar glad geen water is nie. Hy
Sê dáár is ander goed; miskien
Is daar ook ander goed vir my.’Ga naar eind6
Sy skoonsuster, Johnny se vrou, is iemand, so laat hy Lulu Bolus weet, wat Grieg se musiek goed speel, iemand wat ‘strong-minded’ is en met heelwat ‘common sense’ goed na die kinders kyk. Waarskynlik is dit in hierdie tyd, nadat hy die Waterkloof-woning verlaat het, dat Leipoldt en Eugène Marais 'n kort tydjie saamgewoon het. In later jare kon Marais se seun, die biograaf Leon Rousseau se informant oor dié aangeleentheid, nie met sekerheid sê of sy vader en Leipoldt wel by mekaar gebly het nie en klaarblyklik ook nie in watter huis nie. Die saamwonery, indien dit dan werklik plaasgevind het, moet egter, volgens Rousseau, binne enkele maande in 'n botsing geëindig het. Wanneer Leipoldt later in Die Huisgenoot 'n reeks artikels oor wildevoëls skryf en die invloed van die endokriene stelsel op die kleur van voëls bespreek, ontlok dit 'n reaksie van Marais waarin hy sy wrewel teenoor Leipoldt, wat met dié reeks artikels op sy gebied as kenner van die natuur ‘oortree’, kwalik | |
[pagina 407]
| |
verberg: ‘Ek dink nie dat dit 'n ware voorstelling van die saak genoem kan word nie. Daar is iets baie meer wonderlik, baie meer geheimsinnig in die bestaan van organiese kleure as wat die geleerde skrywer waarskynlik tyd of geleentheid gehad het om aan te dui.’Ga naar eind7 In Die groot verlange, sy biografie oor Marais, skryf Rousseau die botsing en latere kwaaivriendskap tussen Leipoldt en Marais naas uiteenlopende politieke oortuigings toe aan persoonlikheidsverskille. Hy skryf: ‘So hoflik en bedagsaam as wat Marais op sy beste was, so bruusk, bot en taktloos kon Leipoldt wees.’Ga naar eind8 Leipoldt kon wel by geleentheid, wanneer hy nie van iemand gehou het nie, uiters onbeskof wees, maar volgens die getuienis van baie van sy vriende was hy basies baie beleef en het sy primêr altruïstiese ingesteldheid hom daartoe gelei om na mense in nood om te sien. Dit is dus nie onwaarskynlik nie dat hy hom wou ontferm oor Marais, wat, hoewel hy in dié stadium 'n periode van herstel en onthouding beleef het, aan morfine verslaaf was. Leipoldt het homself by twee geleenthede met opium behandel: die eerste keer, terwyl hy joernalis in Kaapstad was, toe 'n dokter 'n klaarblyklike aanval van blindedermontsteking verkeerdelik as 'n nierprobleem gediagnoseer het; die tweede keer toe hy later in Londen weer ernstige las van die blindederm gehad het.Ga naar eind9 Maar by hom was dit 'n suiwer mediese aangeleentheid en tot enkele gevalle beperk, nooit 'n verslawing nie. Waarskynlik het hy gou na die begin van die saamwonery besef dat Marais, hoewel hy tydelik nie morfine gebruik het nie, die persoonlikheid en ingesteldheid van 'n verslaafde gehad het en dat hy as medikus en vriend daar niks aan sou kon verander nie. Dat dit tot botsings en tot Leipoldt se sporadiese bruutheid sou kon gely het, spreek vanself. In die tweede helfte van 1919 is Leipoldt vir ses maande na die Kaapse onderwysdepartement gesekondeer. Met sy studieskuld aan die boedel van dr. Bolus in November 1919 finaal afbetaal,Ga naar eind10 kan hy nou die eerste keer ernstig daaraan dink om 'n huis te koop. Hy besluit op 'n woning in Mearsstraat 125, Sunnyside, 'n betreklik onpretensieuse sinkdakhuisie met loodvenstertjies, en vra sy neef Ewald Esselen om saam met sy gesin die huis met hom te deel. So het dit gekom dat Leipoldt en die Esselens meer as drie jaar saamgewoon het. Ewald Esselen het drie seuns gehad, Danie, Deon en Ewald, en dikwels is hulle naweke saam met Leipoldt veld toe en in die geheime van die plantlewe ingewy. By sulke geleenthede het hulle plante huis toe gebring waarvan sommige, soos 'n kanferboom, 'n aalwyn en 'n wildeolyf, in die tuin geplant is. Later het Leipoldt daar ook 'n mooi rotstuintjie met | |
[pagina 408]
| |
vetplante aangelê. Van tyd tot tyd is hulle saam op een van Leipoldt se spookjagte, want sy belangstelling in die geheime van die ander wêreld het hy, ná sy lidmaatskap van die Londense genootskap vir paranatuurlike verskynsels, steeds behou. By geleentheid is hulle na Nylstroom, waar mense glo snags by 'n driffie ossewaens en sweepklappe gehoor het, net om te ontdek die geluide is afkomstig van ysterklippe wat bedags warm word en snags by afkoeling geluide voortbring. In later jare kon die jong Ewald Esselen nog onthou watter heldeaanbidding hulle vir hul oom gehad het en hoe meesterlik Leipoldt se periodieke maaltye in die veld was. ‘En maklik’, vertel hy, ‘het hy sommer my ma se kombuis oorgeneem, in 'n outydse baaikostuum (sy Cordon Bleu-uitrusting) geklim en begin kook en dan kon jy jou lippe afeet. My vrou...het 'n tyd lank by hom lesse ontvang, maar dit was 'n onbegonne taak, want hy kon nooit sê hoe presies hy kook nie...hier 'n titselGa naar eind11 en daar 'n vingerpuntjie en hier 'n handvol. Sy was raadop.’Ga naar eind12 Met die inrigting van die huis het Leipoldt nou die geleentheid gehad om hom, soos vroeër in Londen, oor behoeftige kinders te ontferm en hulle by hom te laat inwoon. Reeds in 1917, toe hy en die Pattisons nog saam was, sorg hy vir Reggie Farquharson, 'n seun wat hy in Johannesburg gaan haal. Op 3 Julie 1917 teken hy in sy dagboek aan: ‘He is shy but very frank. Only hope Issa will not interfere with him.’ In April 1919 laat hy Lulu Bolus weet hy het 'n seun aangeneem, ‘one of the Children's Aid's pick ups’. Klaarblyklik bedoel Leipoldt hier dat hy verantwoordelikheid vir die sorg van hierdie verdere seun, wat - te oordeel na sy dagboekie - na alle waarskynlikheid Japie Moller was, aanvaar het, want 'n wettige aanneming was dit nie. By geleentheid het Reggie se broer Eric ook by Leipoldt ingewoon. Wanneer hy in April 1925 Pretoria verlaat om hom in Kaapstad te vestig, gaan groet hy die Farquharsons - ‘the best friends I've had in Pretoria’, teken hy op 16 April 1925 in sy sakdagboekie aan. Op 2 Augustus 1922 skryf hy aan Lulu Bolus dat hy nou drie seuns tuis het; saam met sy neef se drie is hulle ses. ‘The newest’, gaan hy voort, ‘is a lad from Carolina; I found him living alone with a little kaffir in a tin shanty, miserable underfed, preparing his evening meal of pap and meat.’ Die seun is dertien jaar en in standerd IV. Die vader is ‘deadly miserably’ en die moeder oorlede. Die vader was bereid dat die seun by Leipoldt woon tot die voltooiing van sy matriek. Leipoldt het hom in die Afrikaanstalige Oost Eind-skool geplaas, aangesien sy Engels te swak is, maar met Duits met hom begin, ‘to which he had taken like a duck to water’. Dit is haas on- | |
[pagina 409]
| |
moontlik om vandag die name van al die kinders vir wie Leipoldt grootgemaak het, te agterhaal. 'n Naam wat 'n paar keer in sy sakboekies voorkom, is Peter Schrooder, waarskynlik die seun uit Carolina, 'n knaap wat met sy arrogansie later probleme vir Leipoldt veroorsaak het. Sommige van die seuns was verstandelik nie in staat om verder op skool te vorder nie en moes na 'n kort tydjie hulle pad self vind, terwyl ander mooi vooruitgegaan het. Uit wat van Leipoldt se werk op dié gebied in hierdie jare bekend is, blyk dit in watter hoë mate hy na die welsyn van mindergegoede seuns omgesien het. By die huis in Mearsstraat laat hy 'n buitehuisie aanbou wat hy spesiaal laat inrig vir die seuns vir wie se opleiding hy finansieel verantwoordelikheid aanvaar.Ga naar eind13 Omdat hy nog meer ruimte wou hê, verkoop hy later hierdie huis en trek hy op 1 Mei 1923 in in Bereastraat 381, Sunnyside, 'n dubbelverdieping op die heuwel, destyds met 'n mooi uitsig oor die stad. In hierdie huis sou Leipoldt woon totdat hy Pretoria in 1925 verlaat. Hier het hy die ruimte gehad om nog meer seuns by hom in te neem. Baie van die seuns vir wie Leipoldt gesorg het, was kinders wat hy tydens sy skoolbesoeke aangetref het en wat hy dan óf besonder skrander óf baie agterlik gevind het. Wanneer dié kinders uit meestal swak ekonomiese huise was, het hy hulle met die toestemming van die ouers na Pretoria saamgeneem en vir korter of langer periodes vir hulle gesorg. Hoeveel seuns hy só grootgemaak het, is onbekend. By geleentheid het hy egter aan mnr. J.E. Rossouw, hoof van die skool op Dejagersdrif, vertel dat sy huisrekenings een maand, terwyl hy nog met Issa-hulle saamgewoon het, só hoog was dat hy sy suster daaromtrent moes waarsku. ‘Ja, dis alles goed,’ was haar antwoord, ‘maar tel 'n bietjie hoeveel kinders jy hier in die huis het.’ Hy het in die twintig kinders getel en nie weer oor die rekenings gekla nie!Ga naar eind14 Op sy skoolbesoeke het Leipoldt se liefde vir kinders en die gemaklike wyse waarmee hy met hulle omgegaan het, duidelik te voorskyn gekom. As hy aan Leipoldt dink, so vertel mnr. J. de Klerk baie jare later, kom daar in sy gedagte die beeld op ‘van 'n heerlik laggende man’. Hy was destyds in standerd V by die skool op Bloemhof en Leipoldt het hulle as skoolmediese inspekteur besoek. Leipoldt het nie net belang gestel in die liggaamlike welsyn van die kinders nie, maar wou ook hulle verstandelike bekwaamheid toets. Intelligensietoetse soos dié wat later gebruik is, het in dié stadium nog nie bestaan nie, maar Leipoldt het sy eie manier gehad om vas te stel of 'n kind intelligent was. ‘In ons klas’, skryf De Klerk, | |
[pagina 410]
| |
het hy as volg te werk gegaan: Nadat hy so 'n rukkie met ons sommer so oor dit en dat gesels en ons iets laat skryf het, tel hy 'n stukkie kryt op, maak 'n sirkeltjie op die swartbord en vra wie van ons hom dit presies kan nadoen. 'n Hele paar outjies was dadelik gereed om te probeer en het een na die ander ook so 'n kringetjie op die swartbord getrek. Geeneen was egter volgens die Dokter reg nie, en 'n tweede keer neem hy die kryt en sê: ‘Let nou goed op.’ Daarop trek hy weer so 'n kringetjie. Nou was ons egter uit die veld geslaan, en geeneen wou dit waag nie, hoewel hy 'n halfkroon as beloning aangebied het vir enigeen wat dit reg kon doen. Toe steek 'n seun, Ou Baan was sy naam, sy hand op en sê hy sou dit doen. Glimlaggend oorhandig dr. Leipoldt die kryt aan hom. Ou Baan trek so 'n skewe sirkeltjie, glad nie so mooi soos enige van dié wat reeds afgekeur was, en waarlik, dr. Leipoldt oorhandig die halfkroon aan hom, wat natuurlik moes beteken dat hy reg was! Verbasing was op die gesigte van die res van die klas te lees. | |
[pagina 411]
| |
| |
[pagina 412]
| |
mol-speletjie plaasgevind. Ou Baan, met oë nog steeds getrou styf toegeknyp, al op die geluid van die proeslagbuie agter dr. Leipoldt aan. So lekker het ek nog selde weer 'n mens hoor lag, en die voortvlugtende Dokter was naderhand letterlik so slap van die lag dat hy die grypende arms van sy agtervolger nie kon ontwyk nie en maar moes toelaat dat Ou Baan in sy hande voel waar die halfkroon is, en sodoende het Ou Baan die vierde geldstuk in die hande gekry en daarby 'n omhelsing van dr. Leipoldt ontvang wat byna sy ribbes laat kraak het. Leipoldt se werk as skoolmediese inspekteur was dus alles behalwe 'n roetinewerk. Dit was 'n roeping waarvoor hy as sendelingkind alles veil gehad het. En sy deernis teenoor kinders het nie beperk gebly tot dié wat hy tydens sy besoeke aan blanke skole teengekom het nie. Wanneer hy in 1919 die Kaapse onderwysdepartement oor die inrigting van skoolmediese dienste moet adviseer, beveel hy sterk aan dat dié dienste tot bruin en swart leerlinge uitgebrei moet word. Reeds op 10 Oktober 1918 skryf hy aan Lulu Bolus: ‘I feel more convincingly every day that we are not doing our duty towards the natives in matters of communal health; nothing to stop the awful death rate of the black babies, nothing to teach them the benefits of cleanliness and fresh air; I could do with three native nurses myself for the native schools. I am afraid there is much prejudice against such a scheme among the white nurses; they hold stiffly to the colour bar, but the time will come when we shall need native nurses, and the sooner we start training them the better.’ Dikwels teken Leipoldt in hierdie jare sy daaglikse bedrywighede kripties in sy sakdagboekies aan. Hy lees baie in die aande, gaan speel brug by vriende of het afsprake vir ete by die Diners' Club. Bedags besoek hy skole, dikwels deur ver afstande te reis, of woon hy vergaderings by. By geleentheid skryf hy aan Lulu Bolus dat hy op 'n enkele dag honderd kinders ondersoek, vyf kongresse bygewoon en agtien skole besoek het en ‘dead tired’ is! Tussendeur kon hy nog kennis neem van sake van die dag. In sy sakdagboekie vir 1915 is daar byvoorbeeld 'n verwysing na die verhoor van generaal C.R. de Wet, wat as rebel skuldig bevind is en gevangenisstraf moes uitdien. | |
[pagina 413]
| |
Die volksraadsverkiesing van 1915 is vir hom ‘very quiet, no great excitement’, en die uitslae is ‘very good from SAP point of view’, al teken hy later in die jaar by die provinsiale verkiesings aan: ‘OFS swept by Nats.’ Met so 'n drukke aktiwiteit is dit geen wonder dat Leipoldt soms werklik siek is nie. Op 17 Augustus 1921 laat weet hy Lulu Bolus dat hy aan die nagevolge ly van die rumatiekkoors wat hy as kind gehad het en reeds sedert eind Julie plat lê. Sy hart word ontsteld as hy probeer regop sit. 'n Keer of wat moet hy weens 'n ernstige griepaanval die bed hou. Terwyl hy in die Bosveld op skoolbesoek was, het hy nooit malaria opgedoen nie. Tog het hy twee aanvalle binne die bestek van vyf jaar gehad. ‘The first I contracted during a rail way journey,’ skryf hy in Bushveld doctor, ‘for all carriages are unscreened and it is impossible always to safeguard oneself against infection by mosquitoes.’Ga naar eind16 Die tweede het hy op die Hoëveld gekry ná die ondersoek van 'n swart vrou wat vermoedelik aan tifus gely het. In albei gevalle het hy egter ná die gebruik van kina gou herstel. | |
IILeipoldt se intense belangstelling in die welsyn van kinders vind ook neerslag in die talle artikels en boeke wat hy in hierdie jare oor kindersiektes en die gesondheid van die skoolgaande jeug publiseer. Reeds in Desember 1914, nog in dieselfde jaar dat hy as skooldokter in Transvaal aangestel word, skryf hy sy eerste artikel in Die Mediese Tydskrif van Suid-Afrika. Dit handel oor ‘Chronic appendicitis in school children’ en is oorspronklik aangebied as referaat voor die Pretoria-tak van die Mediese Vereniging. Hierdie artikel word gevolg deur vele ander in dieselfde blad. In Januarie 1917 publiseer hy 'n stuk oor bloeddrukmetings van malariakinders, in Maart van dieselfde jaar gevolg deur ‘A note on the treatment of enuresisGa naar eind17 in children’. Uitvoerige studies oor hartsiektes by skoolkinders verskyn in November 1917 en Maart 1920, terwyl hy in Februarie 1920 'n geval van lipodystrophia progressiva, vetonttrekking in die boonste deel van die liggaam, by 'n kind beskryf. Twee belangrike artikels wat regstreeks met die twee groot gevare onder die skoolgaande Transvaalse jeug van destyds verband hou, handel oor malaria (Maart 1921) en wanvoeding (Februarie 1923). 'n Goeie artikel, waarin hy van die probleme behandel waarmee hy as skooldokter te kampe gehad het, is ‘Some ethical points in regard to medical inspection of schools’. | |
[pagina 414]
| |
Reeds in hierdie jare kon Leipoldt met dinge op die gebied van gesondheid vorendag kom wat later deur ander medici as verregaande en uiters onwetenskaplike uitsprake en bevindings uitgewys is. Dikwels het hy as medikus onortodokse diagnoses gemaak en eerder op sy intuïsie as op 'n behoorlike ondersoek vertrou, soos sy artikel oor ‘Venereal disease in Transvaal school children’ in Die Mediese Tydskrif van Suid-Afrika getuig. 'n Syagtige vel het byvoorbeeld vir Leipoldt op bilharzia gedui, terwyl 'n meisie met 'n reuk vir hom 'n teken was van vulvovaginitis.Ga naar eind18 Later sou hy dit as sy oortuiging uitspreek dat sifilis van koppies, borde, pype, skeermesse en selfs luise en vlieë verkry kon word!Ga naar eind19 Dit is weer een van daardie gevalle waaroor 'n mens jou maar net kan afvra waar Leipoldt dit vandaan gehaal het om sulke onsin te publiseer. Soms het hy egter lynreg, en meermale met 'n stewige en logies gemotiveerde standpunt, teen die algemene konsensus oor 'n aangeleentheid ingegaan. Wanneer sommige skole met die 1918-griep 'n paar maande lank gesluit word, is hy heftig gekant daarteen. ‘My view has always been’, skryf hy in Die Mediese Tydskrif van Suid-Afrika van Desember 1918, ‘that school closure prevents proper supervision at a time of epidemic outbreak, and, consequently, inflicts greater suffering on the child population than in the interests of the public health is either necessary or desirable. The experience of this epidemic has amply confirmed that view, for when the schools were closed, it became much more difficult to locate patients, to visit them promptly, and to deal with them in areas instead of as individuals....Keeping open the schools in Pretoria gave us this great advantage that we were able to see children in the incubation stage of the disease, and to take effective measures, so far as it was possible to do so, against secondary infection.’ Ná The school nurse, wat nog verskyn terwyl Leipoldt in Londen woon, is Skoolgesondheid van 1916 sy eerste omvattende publikasie op mediese gebied. Dit is ook die eerste van 'n hele paar boeke waarmee hy 'n groot diens aan die Afrikaanse publiek bewys in 'n stadium toe daar nog geen handleiding in Afrikaans oor dié onderwerp en ook geen studie oor die Suid-Afrikaanse toestand in dié verband bestaan het nie. Vir die tweede uitgawe van 1919 kry hy die medewerking van dr. P. Elias, wat ook aan die Transvaalse skoolmediese inspektoraat verbonde was. Van die vierde uitgawe van 1923 af neem Leipoldt weer die volle verantwoordelikheid vir dié boek, aangesien Elias uitgetree en in Nederland gaan woon het. Uit erkentlikheid en vriendskap dra hy die boek op aan die direkteur van onder- | |
[pagina 415]
| |
wys, John Adamson, ‘wat so baie gedoen het vir die opleiding en onderwys van Afrikaanse kinders’. Baie van die sake wat in The school nurse ter sprake gekom het, word ook in Skoolgesondheid behandel, soos die omgewing waarin die skool opgerig word, die bouplan van die skoolgebou, die inrigting van die klaslokale, waskamers en toilette, en hoe die speelterrein en die tuin daar moet uitsien. Leipoldt gee veral baie aandag aan sake soos beligting, ventilasie en verwarming, en beklemtoon die belangrikheid van mooi meubels en illustrasies aan die mure, wat naas 'n estetiese 'n opvoedingswaarde kan hê. Hy wys op die belangrikheid van blomme en plante in die klaskamer, aangesien dit die kind se skoonheidsin kan help ontwikkel. Die swartbord, die skoolbanke en die lessenaars moet netjies wees en hy spreek hom uit teen die wenslikheid om die onderwyser se tafel en stoel op 'n soort verhogie te plaas. Dikwels voel 'n mens by die lees dat Leipoldt oor vanselfsprekende dinge skryf. As jy egter onthou dat hy in pioniersomstandighede begin werk het, was dit waarskynlik nodig om hierdie voor die hand liggende sake 'n keer sterk onder die aandag te bring. Daarna behandel Leipoldt allerlei siektes en gebreke wat by kinders in Transvaal voorkom. Wat malaria betref, verskil hy - in 'n byvoeging tot die latere uitgawes van die boek - met dr. W.A. Murray se verslag vir die Carnegie-kommissie. Murray was van mening dat Leipoldt die nagevolge van malaria en ondervoeding oordryf en dat sy syfers nie oortuig nie. Leipoldt het egter deur die jare veel meer kinders ondersoek as wat Murray met sy paar steekproewe kon doen. In antwoord op die amptelike verslag sê hy dat hy ná jare se ervaring sonder enige redelike twyfel kan konstateer dat malaria en ondervoeding van die grootste probleme in die Laeveld is en dat dit in 'n uiterste graad die gestel van 'n kind blywend kan knak. Hy is nie teen lyfstraf vir seuns gekant nie, maar waarsku teen onnodige wreedheid en veral ‘verspotte strawwe soos “reëls skryf”, ontbering van kos, of opsluit in 'n donker kamer’.Ga naar eind20 Hy is baie toegeeflik in verband met rook en is ook nie afwysend in verband met sterk drank nie. Sy standpunt is dat die kind geleer moet word om matig in alles te wees. ‘Daar is hoegenaamd geen rede’, skryf hy, ‘om wyn totaal uit die dieet van die kind uit te sluit nie, en ook geen rede om hom elke dag wyn of bier te gee nie. 'n Verstandige ouer of onderwyser sal hierin sy gesonde verstand gebruik.’Ga naar eind21 Waarskynlik is so 'n liberale standpunt in die konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap van destyds - die suidelike wyndistrikte miskien uitgesonderd - nie geduld nie en afgemaak as een van Leipoldt se idiosinkrasieë. | |
[pagina 416]
| |
In sy roman Die donker huis skryf hy selfs by geleentheid van seuns wat ná die marsjeerdery op ‘kadetmôrens’ op skool na die naaste verversingswinkeltjie stroom, ‘waar hulle wat van hulle sakgeld oorgebly het, uitgegee het op roomys en die gekleurde water waaraan afskaffers die voorkeur gee bo gesonde wyn of ligte bier’.Ga naar eind22 Moontlik was dié enkele uitlating van Leipoldt destyds genoeg om dié roman nooit as voorgeskrewe teks vir die skole te oorweeg nie! Hy is nie ten gunste van lesse in klasverband oor geslagtelike sake nie. ‘Op hoe 'n manier die onderwyser dit moet doen’, skryf hy, ‘hang natuurlik van die omstandighede af. Die onderwyser moet in die eerste plaas goed op die hoogte met die onderwerp wees. In die tweede plaas moet hy die geaardheid en temperament van sy leerling verstaan voor hy die delikate onderwerp onder vier oë met hom of haar aanroer.’Ga naar eind23 In teenstelling tot die algemene opvatting destyds dat masturbasie nie net 'n onhigiëniese gewoonte is nie, maar ook om godsdienstige redes afkeurenswaardig is, neem Leipoldt die standpunt in dat dit algemeen onder skoolkinders van albei geslagte voorkom. Om ‘dit as 'n sonde en onvergeeflike misdaad aan te reken’, skryf hy, ‘is onsinnig en onregverdig teen die kind. Die ondervinding bewys, dat dit nie die betreurenswaardige gevolge het, wat sommige mense daaraan toeskrywe nie, en dat die groot gevaar in die saak nie in die gewoonte steek nie, maar in die geheimhouding en die invloed op die gemoed van die somtyds heel ongepaste waarskuwinge wat die kind kry.’Ga naar eind24 Moontlik is Leipoldt in sy sterk standpunt oor dié aangeleentheid beïnvloed deur wat waarskynlik sy eie ervaring as kind met 'n gevoellose moeder en die trauma met Francken se grusame illustrasie van 'n blaasingreep was. In die konserwatiewe, post-Victoriaanse Afrikanergemeenskap van destyds is daar egter liefs nie oor sulke aangeleenthede gepraat nie en het die deursnee-gemeenskap verkies om oor so 'n ‘gruwelike sonde’ eerder na 'n predikant as na 'n medikus te luister. Destyds is masturbasie nou eenmaal as iets verderfliks beskou en die beste argumente sou nie die mense in daardie stadium, veral waar predikante die uitroei van die ‘euwel’ gesanksioneer het, tot beter insigte bring nie. In 'n artikel in Die Brandwag van 25 Oktober 1919, wat by hierdie gedagtes oor die geslagsleer aansluit, spreek Leipoldt hom uit ten gunste van gemengde skole waar seuns en dogters die geleentheid kry om mekaar op 'n natuurlike wyse te leer ken. ‘Iedereen wat vertrouwd is met hedendaagse menings oor geslagsontwikkeling,’ skryf hy, ‘sal ook weet dat die afgeskeie skool die neiging besit om bij jonge kinders aan homoseksualiteit, | |
[pagina 417]
| |
wat bij iedere kind aangebore is, vaste vorm te gee, vóórdat die trap van geslagsrijpheid bereik word.’ Die hele indeling van Skoolgesondheid volg in groot mate dié van The school nurse, maar in die plek van die Britse verwysingsveld en voorbeelde het Leipoldt, waar moontlik, na Suid-Afrikaanse gevalle verwys en sy ervarings as skooldokter in Transvaal betrek. In Praatjies met die kinders, wat in 1917 verskyn, rig hy hom, soos die titel aandui, op die jeug en is dit sy doel ‘om kinders iets te gee waaroor hulle 'n bietjie kan nadink’. Sommige van dié ‘praatjies’ het vroeër in Die Brandwag verskyn. Met die oog op 'n uitgawe in boekvorm het Leipoldt se vriend Johannes Smith, soos vroeër met Oom Gert vertel en ander gedigte, die teks nagegaan en die taal verbeter. In sy voorwoord tot die derde uitgawe van 1925 praat dr. W.J. Viljoen, superintendent van onderwys in Kaapland, van Leipoldt as ‘die kinderliewende vrind en kinderryke pleegvader’. Die onderwerpe wat Leipoldt hier aanraak, is uiteenlopend van aard en sluit sake in soos weerlig, diamante, sout, spinnekoppe, wind, bloed, die weer, klapper, seep, kleure, goud en metaal, aalwyne, komete en die maan. Daarnaas wei hy ook uit oor hoe om die sintuie te gebruik en hoe om te onthou. In 'n boek soos dié sien 'n mens in watter mate Leipoldt, net soos C.J. Langenhoven, basies didakties ingestel was en hoe hy graag, deur sy kennis met hulle te deel, kinders wou opvoed en opskerp. Hy openbaar hier trouens, soos Langenhoven, die vermoë om regstreeks met die kind te praat en onderhoudend te gesels, soms deur sy kennis vraenderwys mee te deel en sy lesers op dié wyse regstreeks te betrek. In dieselfde causeurtrant is Praatjies met die oumenseGa naar eind25 (1918), waarin Leipoldt hom tot die ouers van die kinders rig en, nog méér as in die geval van sy standpunt oor masturbasie, uitsprake maak waarvoor mense hom destyds erg kwalik geneem het. Volgens die ‘Voorwoord’ het hy die boek, net soos Praatjies met die kinders, geskryf om ouers ‘aan te spoor om vir hulle self te dink’. Hy het probeer, so gaan hy voort, om ‘eenvoudig en openhartig’ te wees en om maklik en toeganklik te skrywe. Die sake wat hy aanroer, sê hy verder, is van belang vir ons volk, en dit is sake waaroor 'n verstandige mens behoort na te dink. Wat patriotisme betref, stem Leipoldt nie met dr. Johnson se ekstreme uitspraak saam dat dit ‘the last refuge of a scoundrel’ is nie. Die ‘scoundrel’, die skobbejak, reduseer volgens hom patriotisme tot die ‘skim van vaderlandsliefde’.Ga naar eind26 Leipoldt se opvatting van wat patriotisme behoort te wees, wyk wel deeglik af van dié van die Afrikanernasionaliste uit dié tyd. | |
[pagina 418]
| |
Hy gaan voort: ‘Ons behoort patriotisme, soos dit hom onder volke en rasse openbaar, te beskouw als die begeerte om die omgewing, waarvan jij kennis het en waarmee jij meer intiem in verband staan, beter te maak en beter te hou.’Ga naar eind27 Teenoor politieke leiers wat in hierdie jare eng chauvinisties op taal en nasionaliteit toegespits was, meen Leipoldt dat die mens in sy strewe na hoër ontwikkeling eerder 'n bewussyn van die volk as deel van die mensdom moet ontwikkel. ‘Die edele mens sien verder als sij werf,’ skryf hy, ‘verder als sij land, verder als die drimpel van sij eie gevoelens. Sij blik omhels die wêreld, en vir hom is die mensdom, - en nie die volk, die famielie, of die partij nie, - die eerste en die grootste belang.’Ga naar eind28 So 'n uitspraak het waarskynlik weer baie mense skeef laat opkyk. Leipoldt, die ‘volksdigter’ wat die smart van die oorlog in sulke roerende verse kon verwoord, draai, so was die algemene konsensus, nou sy rug op sy volk en heg geen waarde meer aan 'n nasionale strewe onder Afrikaners nie. Wat baie mense nie kon insien nie, was dat Leipoldt nooit 'n volksdigter in die eng sin van die woord was nie en dat hy nêrens in sy poësie die nasionale strewe van die Afrikaner verwoord het nie. Sy verse oor die leed van die oorlog het voortgekom uit 'n intense humanitêre meelewing met die leed van mense. En wanneer hy in Praatjies met die oumense 'n breër blik as die eng nasionalisme bepleit, kom dit nie voort, soos baie gemeen het, uit 'n politieke ommekeer nie, maar uit die konsekwente deurvoering van dieselfde humanitêre beginsel waaruit die verse oor die leed van die oorlog ontstaan het. Leipoldt was bewus daarvan dat hy met dié strewe teen die heersende openbare mening van baie Afrikaners ingaan en met baie ondank en teenwerking, selfs spot en beskimping, te kampe sou hê. Dit was egter, soos 'n mens kan aflei uit ‘Sendelingskinders’ - die sleutel tot Leipoldt se psige, wat juis in hierdie tyd in Die Brandwag van Maart 1916 verskyn - die lot van die sendeling om deur baie misken en bespot te word. Maar juis onder die ou sendelinge, sê hy in Praatjies met die oumense, kry ons mense wat hulle op die groter wêreld rig en só van 'n eng nasionale strewe distansieer. Dit is opvallend dat Leipoldt, wat nie veel erg aan J.C. Smuts gehad het nie, met hierdie uitsprake van hom juis Smuts se holistiese ideaal in die kiem verwoord. In Praatjies met die oumense staan Leipoldt ná hierdie inleiding allereers stil by die gevare van malaria. As skooldokter het hy agtergekom dat baie Laeveldse boere onkundig is oor die slopende uitwerking van die ‘vergif’ wat die siekte na maande lange woeker in die kinders se liggaam opgaar. Daarom gee hy inligting oor malaria en die geneesmiddels daarvoor, en | |
[pagina 419]
| |
maak hy sy lesers bewus van die erns van dié siekte, wat in die verlede hele volke laat uitsterf het.Ga naar eind29 Wat kanker betref, verset hy hom teen allerlei middeltjies waarmee kwaksalwers rondloop en wat deur baie mense as werklike geneesmiddels beskou word. Sulke middels, sê hy, kan in 'n geval van egte kanker nie die minste invloed op die verloop van die siekte hê nie en dikwels die pasiënt van sy enigste kans beroof om deur 'n operasie gered te word.Ga naar eind30 In 'n hoofstuk waaraan hy die opskrif ‘Opvoeding als faktor in die volksontwikkeling’ gee, onderskei Leipoldt tussen opleiding of onderwys en opvoeding. Die doel van onderwys is om 'n geleerde, 'n wetende mens te vorm, terwyl dit die doel van opvoeding is om iemand te vorm ‘wat sij plaas in die samelewing kan inneem sonder dat hij daardeur verwarring in sy omgewing te weeg bring’.Ga naar eind31 In hierdie hoofstuk spreek Leipoldt hom uit teen die stelsel van godsdiensonderrig op skool, 'n uitspraak wat seker weer baie mense die josie in sou gemaak het. Hy gee voorkeur aan die gebruik van stories uit die Bybel wat 'n suiwer opvoedkundige waarde het en deel van geskiedenisonderrig kan vorm. Dit is volgens hom die taak van die ouer, en nie die skool nie, om godsdienstige en etiese beginsels by die kinders tuis te bring en hulle in die geslagsleer in te wy. Wanneer Leipoldt by geslagsiektes uitkom, sê hy in 'n inleidende gedeelte dat baie Afrikaners in baie opsigte erg preuts en in ander opsigte weer nie preuts is nie. Preutsheid omskryf hy as 'n valse en voorgewende skaamte. Afrikaners, sê hy, sien baie meer as die bevolkings in Europese lande naakte mense, soos die swart seuntjies op die werf, Zoeloevrouens wat in Natal met ontblote borste loop of mense op die strand en by die badplase. Wanneer hulle egter ontblote mense in 'n kunswerk sien, is dit vir hulle afstootlik, omdat die naakte liggaam dan die geslagsgevoel sou prikkel. Leipoldt trek te velde teen hierdie soort preutsheid, omdat dít wat tot 'n artistieke belewing moet lei, tot 'n kwessie van sedelikheid vervlak word. Multatuli, 'n skrywer vir wie se Ideën Leipoldt groot waardering gehad het, sê juis onsedelikheid is geleë in die verwaarlosing van die skoonheidsgevoel. Wat die kwessie van masturbasie en geslagsleer betref, is Leipoldt hier nog meer uitgesproke as in Skoolgesondheid en skryf hy oor sake waaroor die preutse Victoriane van sy tyd verkieslik hoogstens gefluister het. Selfbevlekking of onanie, skryf hy, is iets waaraan elke seun en dogter ‘gewend’ is, wat - nieteenstaande alles wat daaroor gesê word - nie die minste | |
[pagina 420]
| |
kwaad of skade doen nie.Ga naar eind32 In 'n gesprek met sy latere vriend Markus Viljoen sou Leipoldt dit trompop stel: ‘As 'n seuntjie met sy piepermannetjie wil speel, laat hom speel. Hy sal niks daarvan oorkom nie.’Ga naar eind33 Die gevaar vir die liggaam en gees, gaan Leipoldt in Praatjies met die oumense voort, skuil in die geheimhouding daarvan, in die gemoedsgesteldheid wat die geheimhouding kweek en die angs wat veroorsaak word as die persoon wat dit pleeg, allerlei dinge oor die gevolge daarvan hoor.Ga naar eind34 By normale kinders rig die gewoonte geen blywende liggaamlike of geestelike skade aan nie. Kinders wat te veel masturbeer, is soms lui en afgemat, skamer as ander kinders en dikwels agter met hul werk. Daar bestaan 'n geloof dat die gewoonte gevaarlik en sondig is. ‘Oor die sondigheid kan ik niks sê nie,’ skryf Leipoldt, ‘maar die gevaarlikheid ontken ik, behalwe in die geheimhouding en die onkunde wat met die gewoonte saam gaan.’Ga naar eind35 Eerder as om die kind bang te praat, meen hy die verstandige ouer moet die kind op die eenvoudige feite van die saak wys: dat masturbasie 'n natuurlike ding is, maar dat dit soms in stryd kan wees met die skoonheidsgevoel wat 'n normale persoon behoort te besit, veral by meisies, waar dit tot 'n chroniese ontsteking van die skede kan lei. Verder waarsku Leipoldt teen die gevaar om kennis van geslagsomgang van kinders te weerhou. Die ouer behoort sy seun daarop te wys dat die doel van die geslagsprikkel is om kinders te verwek, dat sy saad vir hom gegee is vir die bevrugting van die vroulike eier. Dit is die hoofdoel, die ‘wellus verbonde aan die geslagsverkeer is bijsaak’.Ga naar eind36 Tensy die seun bevoeg is om vrou en kind te onderhou, behoort dit by hom tuisgebring te word dat hy geen reg het om die geslagsdaad net vir sy plesier te pleeg en die vrou aan die smart en kommer van swangerskap en barensnood bloot te stel nie. 'n Eerlike man regverdig sulke dinge nie met die feit dat swangerskap kunsmatig gekeer kan word of dat daar vroue is wat bereid is om dit ter wille van geld te doen nie. ‘En die hele opvoeding van jouw kind moet wees’, skryf Leipoldt, ‘om hom 'n eerlike mens te maak, iemand wat bewus is van die regte wat ander persone besit, en wat nie lig sal ontken of daarop inbreuk maak nie.’Ga naar eind37 Ook wanneer Leipoldt hom oor die ‘drank-kwessie’ uitlaat, neem hy 'n standpunt in wat afwyk van die algemeen aanvaarde konsensus wat indertyd onder sy leespubliek geheers het. Hy sê dit is nie waar dat drank en dronkenskap die grootste vyand van die hedendaagse samelewing is nie. Die grootste vyand is onkunde.Ga naar eind38 Soos in vroeër publikasies bepleit Leipoldt hier matigheid, nie afskaffing nie. Geen wetgewing ter wêreld, skryf | |
[pagina 421]
| |
hy, kan 'n bevolking sedelik, sober of selfstandig maak as die bevolking nie reeds, ‘deur geaardheid en toeleg’,Ga naar eind39 deur sy ondervinding en omgewing, tot soberheid, sedelikheid en selfstandigheid geneig is nie. In Mei 1924 sou Leipoldt op 'n kongres in die Paarl, wat gewy is aan ‘Wyn en dronkenskap: Die vraagstuk van die dag’, 'n referaat lewer oor ‘Die mediese kant van die matige gebruik van alkohol’ en die standpunt inneem dat die matige gebruik onskadelik is en selfs die gesondheid van die gebruiker kan verbeter. In watter mate Leipoldt met hierdie boek die volksopvoeder is, blyk verder uit 'n hoofstuk wat hy ‘Die kuns om te lees’ noem. Ook hier, soos in sy afwysing van sensuur en die geringskattende en negatiewe uitlatings oor die Calvinistiese uitverkiesingsleer, trap hy op tone. As 'n mens die boeke nagaan wat jy in plaas- en dorpshuise aantref, skryf hy, is dit opvallend dat godsdienstige werke, wat getalsterkte betref, die eerste plek inneem. Suiwer wetenskaplike boeke, behalwe enkele boeke oor die Jogaleer en bespiegelings oor die hiernamaals, tref 'n mens selde aan. Boeke met 'n politieke kleur is soms aanwesig, maar werke op die gebied van die geskiedenis, lewensbeskrywings en reisbeskrywings is dun gesaai. Wat wel voorkom, is kookboeke en boeke oor landbou en veeteelt. Koerante, tydskrifte en godsdienstige week- en maandblaaie is klaarblyklik die populêrste leesstof, maar Leipoldt vind dit efemere geskrifte. ‘Wie’, skryf hy in 'n gedeelte wat destyds beslis aanstoot sou gegee het, ‘maak ooit 'n versameling van sij ou “Volkstemme” of “Koningsbodes” of hoe die dinge ook heet? Hulle word vandag - of liewers vanaand - gelees; en môre verflenter en kapot, word hulle gebruik vir minder intellektuele doeleindes.’Ga naar eind40 En hy waarsku: ‘solang die huisbibliotheek verwaarloos word, solang dit nie sij volle rang als iets eweredigs met die skool, met die kerk, met die politiek, met die plaas, krij nie, solang sal ons volksontwikkeling belemmer word’.Ga naar eind41 Vir ‘ons volksbestaan, vir ons volkselfstandigheid (en) ons eie taal’Ga naar eind42 is die lees van goeie en grondige lektuur en literatuur trouens noodsaaklik. Leipoldt se omvattendste publikasie op die gebied van die populêre geneeskunde is Die Afrikaanse kind in siekte en gesondheid, wat in 1920 verskyn. Die doel van die boek is om ouers en onderwysers, almal wat met kinders te doen het, iets aangaande die normale kind en sy kinderlewe te vertel. In die voorwoord sê Leipoldt dat hy ‘elke dag sulke verregaande onkunde aangaande die behandeling van kinders’ teëkom dat hy dit nodig vind om die welbekende feite omtrent die gesondheid van die kind onder die aan- | |
[pagina 422]
| |
dag van Afrikaanse ouers te bring. Agtereenvolgens behandel hy dan die voorgeboortelike fase, die geboorte, die suigeling- en kindertyd en die puberteit. Daarna laat val hy die soeklig op aangeleenthede soos higiëne van die liggaam; werk, slaap en speel; klere en kos; tande en oë; neus en ore; allerlei siektes; liggaamsgebreke; en ‘ligte ongevalle’ en hulle behandeling uit die ‘medisynekassie’. In baie opsigte is die boek 'n herhaling van vroeër uitsprake, hoewel Leipoldt sommige aangeleenthede op 'n nuwe wyse aanbied en nie klakkeloos van reeds gepubliseerde geskrifte oorneem nie. In 'n bespreking in Die Burger van 8 September 1921 beveel dr. Karl Bremer die boek baie sterk aan en loof hy die praktiese inslag en die openheid waarmee Leipoldt oor sensitiewe aangeleenthede skryf. Leipoldt se boeke op mediese gebied is gerig op mense wat ten tyde van die publikasie nog baie oningelig was oor selfs die elementêrste sake wat die welsyn van hul kinders geraak het. Juis daarom dat hy so bevatlik as moontlik skryf en alles eenvoudig uiteensit. Leipoldt wou nie alleen sy mense opvoed om op 'n verantwoordelike wyse na hul gesondheid om te sien nie, maar hulle waarsku teen wanpraktyke soos dié wat deur kwaksalwers beoefen is. Terselfdertyd wou hy baie taboes, soos dié oor masturbasie en geslagsiektes, afbreek en die mense opvoed om goeie leesgewoontes aan te kweek. Baie van sy uitsprake, soos sy swak verbloemde verwerping van die godsdiens en sy poging om die mense verby die eie volk se beperkinge heen 'n groter wêreld te laat sien en ervaar, het in 'n stadium van nasionale volksbou groot opslae gemaak. 'n Mens kan Leipoldt miskien 'n gebrek aan takt en 'n sekere mate van moedswil verwyt, maar in wese was hy 'n eerlike mens wat dinge wou uitroei wat volgens hom die ontwikkeling van die Afrikaner gerem het. Met dit alles wou die sendelingskind, didaktikus en kindervriend 'n diens lewer. | |
IIIReeds toe hy nog in Londen was, het Leipoldt onder die indruk gekom van hoe stimulerend 'n skoolreis vir kinders, veral vir die behoeftiges onder hulle, kon wees. Hy het gesien hoe elke kind weekliks 'n klein bedraggie vir die reis wegsit en maande voor die tyd die gebied waardeur die reis sou gaan, geografies en histories verken, die nodige kaarte teken en aantekeninge maak. Aangesien so 'n reis betreklik goedkoop kon wees, het Leipoldt hom voorgeneem om dit so gou doenlik ná sy diensaanvaarding | |
[pagina 423]
| |
in Transvaal ingestel te kry. Hy het verder gehoop dat hy die nodige fondse êrens vandaan sou kon haal om 'n herstellingskool vir kinders wat aan die een of ander gebrek ly, opgerig te kry. Sedert hy met die herstellingskool van dr. Codavilla naby Bologna en dié van dr. Stephanie in Mannheim kennis gemaak het, was hy oortuig daarvan dat so 'n skool ook in Suid-Afrika met groot welslae ingerig kon word. Terselfdertyd kon dié skool tydens vakansies as woonplek vir kinders tydens skoolreise dien. As gevolg van die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en Leipoldt se betrokkenheid by die mediese keuring van voornemende soldate en as lyfarts vir generaal Louis Botha het sy werk by die Transvaalse skoolmediese inspektoraat vir eers tot stilstand gekom. Toe hy in Junie 1915 sy ontslag by die departement van verdediging kon neem, het hy die kans gebruik om tydens 'n tiendaagse verlof 'n aantal kinders van die Hoërskool Gimnasium in Pretoria na die destydse Lourenço Marques, vandag Maputo, en Delagoabaai te neem. Hoewel die organisasie van dié reis iets te wense oorgelaat het en weinig meer as 'n vakansiekamp was, het dit as die eerste skoolreis in Transvaal vir Leipoldt nuttige wenke verskaf oor hoe om verdere skoolreise aan te pak. Hy kon byvoorbeeld sien hoe goedkoop en maklik sulke reise in Suid-Afrika aangebied kon word.Ga naar eind43 Suid-Afrika as land was trouens deur sy klimaat en natuurverskeidenheid uitnemender geskik as baie ander lande om kinders van 'n bepaalde omgewing na 'n totaal nuwe omgewing te neem en deur die natuur, die bodemgesteldheid en die geskiedenis nuttige kennis by hulle tuis te bring en hulle sintuie op te skerp. In Julie 1916 kon Leipoldt met die wel willendheid en geesdrif van die hoof van 'n skool tussen Louis Trichardt en Pietersburg deel hê aan 'n tweede dergelike reis na Lourenço Marques, maar nou met meer kinders en haarfyn georganiseer. As gevolg van malaria en rooiwater was hierdie kinders se gesondheid nie altyd na wens nie, maar die skoolhoof het volhard met sy reëlings. Elke kind moes geografies en histories vir die reis voorberei en elkeen het 'n boek ontvang om aantekeninge in te maak. Die kinders het liedere geoefen en gesamentlike liggaamsoefeninge gedoen om fiks te word. Daarby het elkeen, naas 'n waterbottel en 'n sysakkie wat deur die departement van verdediging aan hulle geleen is, 'n kortbroek, 'n woltrui, 'n swembroek en 'n pet met die skool se voorletters daarop ontvang. Elkeen het gereeld in die spaarbank iets weggesit, die ouers het kos bygedra en op baie ander maniere gehelp, en vriende het flink gehelp, sonder dat van die skool se kant 'n bedelveldtog uitgegaan het. Dan moes | |
[pagina 424]
| |
elke kind skoene, sokkies, sakdoeke, handdoek, seep, kam, borsel en tandeborsel en 'n ekstra stel klere vir gebruik op Sondae saambring. Anders as in Duitsland en Engeland, waar kinders vir so 'n skoolreis gratis kaartjies ontvang, moes hierdie spannetjie die volle reisgeld betaal. Op 'n dag in Julie 1916 het die groepie, bestaande uit twee onderwysers, 'n huismoeder, Leipoldt en die kinders, wie se ouderdom van sewe en 'n half tot agtien gewissel het, vertrek. By Komatipoort het hulle die geleentheid gehad om die mooi spoorwegbrug en die rivier met sy krokodille en seekoeie te sien en die begraafplaas te besoek waar die ingenieurs begrawe lê wat die spoorlyn gebou het. Na die middagete is hulle na Mosambiek, waar hulle die aand om agtuur in Lourenço Marques aangekom het. Die seuns is gehuisves in die militêre kwartiere, maar die dogters moes die eerste aand in die Grand Hotel oornag. In die volgende paar dae het die kinders alle moontlike besienswaardighede in die stad besoek. Naas uitstappies na die museum, 'n moskee, 'n Sjinese kerk en die dieretuin kon hulle die seep- en die sigarettefabriek gaan sien en die staatsdrukkery, stadsaal en 'n oliefabriek besoek. Vir baie van die kinders was dit hul eerste blik op die see, maar by meer as een geleentheid het die hele spannetjie in die water gebaljaar. Op 'n oggend is hulle na 'n Portugese skool, waar hulle saam liedjies gesing het. Dieselfde middag is hulle na die goewerneurswoning, waar die goewerneur hulle op tee en versnaperinge onthaal het, 'n ‘eettafel’ wat soos 'n outydse Nagmaalbasaar daar uitgesien het. Saans is telkens 'n halfuurtjie of wat bestee aan 'n informele eksamen en het die leiers hulle afdelings ondervra om vas te stel hoe oplettend hulle was. Die veertien dae lange uitstappie het, alles ingeslote, £ 2.2.0 per kind gekos. Die kinders het vir hulself betaal en die bykomende onkoste is deur 'n skoolkonsert gedek. Toe Leipoldt ses maande later weer die kinders ondersoek, kon hy vasstel dat hulle baie gesonder en vlugger as vroeër was. Ook die onderwysers kon bevestig dat die reis die kinders se oplettendheid en vlyt, soos uit die resultate van hul skoolwerk af te lei was, baie goed gedoen het.Ga naar eind44 Na hul terugkeer, skryf Leipoldt die gedig ‘Trekkerkinders’, waarin hy hulle reis per trein na Mosambiek vergelyk met dié van die ou Voortrekkers wat dieselfde roete gevolg het, 'n gedig waarin iets van die geesdrif en pioniersdrif van ‘Sendelingskinders’ ook opklink. Die laaste twee strofes van dié gedig lui as volg: | |
[pagina 425]
| |
Hierdie pad wat ons nou reis, was eenmaal hulle pad,
See toe waar die maanhaar-branders rol -
Deur die diepste drifte met die buikplank waternat,
oor die steilste bulte ruigte-vol -
Hulle in die ossewa wat in die stof verdwyn,
Stadig soos die slakkie pad toe steun;
Ons, die Trekker-kinders, in 'n hedendaagse trein,
Vinnig dat die spoorpad kraak en kreun.
Trekkers was ons oumense, en ons is weer op trek,
Oos toe na die wit-gestrande see.
Trekkers was ons oupas in die ou tyd na die plek;
Ons is Trekkers-kinders; wie kom mee?
Reën die hele wêreld dat die ou blikdakkie lek,
Modderpoeltjies orals langs die pad,
Ons is Trekker-kinders, en ons is nou weer op trek
Oos toe waar die see se branders spat.Ga naar eind45
Buiten dié twee reise na Mosambiek het Leipoldt talle kere kinders, veral seuns, vir naweekkampe na die Hartebeespoortdam, Warmbad en ander dele van die BosveldGa naar eind46 geneem. Toenemend het hy egter met seuns na Umkomaas aan die Natalse kus gereis. In 1919 het hy saam met mnr. Jack, skoolhoof van Yeoville, 'n groep kinders vir die eerste Transvaalse skoolkamp na Umkomaas geneem. Aangesien dit sy ervaring was dat kinders tydens 'n vakansie te ‘indiwidualisties’ word, is die tyd in Umkomaas só ingerig om hulle sosiaal besig te hou.Ga naar eind47 Maar Leipoldt het steeds die behoefte gevoel aan 'n herstellingsoord wat in die vakansies ook vir skoolreise benut kon word. In 1917 het hy en dr. Anne Cleaver die aandag gevestig op die groot behoefte aan so 'n oord waar veral kinders wat aan chroniese malaria, rumatiekkoors en maltakoors ly, behandel kon word en terselfdertyd hulle skoolwerk kon voortsit. Die Transvaalse provinsiale administrasie het egter as gevolg van 'n geldtekort nie vir so 'n onderneming kans gesien nie. Met die steun van Die Volkstem is 'n Skoolreis-Tehuis-fonds in die lewe geroep en deur bemiddeling van 'n ruim donasie van sir Charles Smith is so 'n oord vir kinders op Isipingo ingerig. By herhaling is hierdie tehuis ook vir skoolreise gebruik.Ga naar eind48 | |
[pagina 426]
| |
Tydens die kampe en skoolreise het Leipoldt telkens saans, dikwels om 'n vuur terwyl hulle wag dat die ete moet gaar word, vir die kinders stories vertel. Hy was, as hy die aand op sy stukke was, 'n meesterlike verteller en die kinders het aan sy lippe gehang, veral as dit 'n skrikkerige spookstorie was. Baie van die verhale wat hy eers later sou bundel, is oorspronklik so in die aande om die kampvuur vertel. Maar Leipoldt, fyn opvoedkundige wat hy was, het met vertellings uit die verhaalskat van die ou Nore en die Grieke vir die kinders 'n stuk kultuur gebring waartoe hulle in daardie stadium in Afrikaans geen toegang gehad het nie. Uit hierdie vertellings groei Leipoldt se versamelings Stories vir die kinders (1922) en Kampstories (1924). Die eerste afdeling van Stories vir die kinders bevat verhale uit die Noorse sages, terwyl die tweede afdeling uit ‘ander stories uit die ou doos’ bestaan: naas twee verhale uit Japan ook die Griekse storie van koning Midas. Baie van dié oorvertellings munt uit deur die ritmiese prosa en die gespanne aandag in die vertelling, en die boek in sy geheel is die voorloper van P.V. Pistorius se Waar Asgard blink en Droomhelde uit Hellas en nog later P.J. Conradie se Avonture van die Griekse helde en gode. In Kampstories bundel Leipoldt verhale wat hy na alle waarskynlikheid in sy Clanwilliamse jeug by die bruin mense van die Kamp gehoor het - al slaan die titel van die bundel op verhale wat hy op sy gereelde skoolreise en naweekuitstappies aan kinders vertel het, nie op die Kamp, die bruin woonbuurt, van sy Clanwilliamse jeug nie. Van die ander verhale, soos ‘Die slim kraai’, is gebaseer op die sprokiesmodelle wat met hul herhalings en variasies aan Leipoldt bekend was, maar getransponeer na die ‘agterveldse Hantam’Ga naar eind49 wat hy as kind geken het. Maar ook die wêreld van Pretoria, waar hy in dié jare woon, figureer in die verhale, soos in ‘Gogga en Gorra’ oor hoe die Apiesrivier ontstaan het. Opvallend is die stories wat uit die Sjinese verhaalskat geput is, soos ‘Die stout seun’, terwyl Leipoldt vir die kleiner kinders met sy vertellings vrae soos ‘Waarom die see huil’ en ‘Waar die reënboog vandaan kom’ beantwoord. As 'n geestige variasie van sy later gebundelde grillige vertellings skets hy in ‘Die arme spook’ die lot van afgestorwenes wat hul gesag by lewendes nie kan handhaaf nie. ‘Soos dit nou toegaan,’ sê die voorsitter by een van hulle byeenkomste, ‘word ons spoke net maar so stadigaan geminag deur die mense. Hulle sien ons nie en dus glo hulle nie in ons nie.’Ga naar eind50 In aansluiting by hierdie oorspronklike verhale en oorvertellings, en in 'n poging om vir kinders boeke in hul eie taal te verskaf, verwerk Leipoldt in hierdie jare Carl Ewald se NatuursprokiesGa naar eind51 en Die swarttulp van Alexandre | |
[pagina 427]
| |
Dumas (albei 1924).Ga naar eind52 Kort ná sy terugkeer uit Brittanje begin hy ook verhale publiseer waarin kinders dikwels 'n rol speel, soos die pragtige ‘Die weeskindjie wat 'n moeder wou hê’ wat in Die Brandwag van 1 Augustus 1914 verskyn: 'n verhaal oor die diepste verlange van 'n weeskind, waarin van die herhalingsprinsipe van die sprokie gebruik gemaak word, maar wat aan die slot tot 'n allegorie verdiep. Vir die jongspan vertel hy in Die Brandwag van 1 Augustus 1915 die verhaal van Dawid Stomparmpie wat deur 'n rinkhals aan die regterhand gebyt is. Om sy lewe te red, het die dokter sy arm bo die elmboog geamputeer en later 'n ysterhaak aan die stompie vasgemaak waarmee hy elke oggend op die minuut die markklok gelui het.Ga naar eind53 Naas gedigte, waarvan baie later in bundels sou verskyn, publiseer Leipoldt in hierdie jare deurlopend in Die Brandwag en Die Huisgenoot artikels oor uiteenlopende onderwerpe. In Die Brandwag van 25 Junie 1917 verskyn byvoorbeeld 'n artikel oor die welkomsgroete, met aanhalings van die Nederlandse geleentheidsverse, wat pres. Paul Kruger en sy metgeselle tydens hulle Europese reis van 1884 te beurt geval het, 'n artikel waarvoor Leipoldt duidelik steun op die mededelings en dokumente van sy oom Ewald Esselen, wat saam op dié reis was. In Desember 1918 publiseer hy in Die Huisgenoot 'n artikel oor die geneeskrag van ons veldgewasse, terwyl van sy eerste spookstories, soos ‘Karbolsuur’ en ‘Wit angeliere’, ook in dié jare in dieselfde tydskrif verskyn. Van tyd tot tyd resenseer Leipoldt ook nuwe boeke. Na aanleiding van C.F. Groenewald se Rympies en raaisels: 'n Bydrae tot die Suid-Afrikaanse volkskunde maak hy die interessante opmerking dat hy self eenkeer 'n versameling gemaak het van Suid-Afrika se geheimsinnige en grieselige volksgesegdes aangaande die dood en die hiernamaals en - sonder dat hy die publikasie vermeld - dat hy dit as materiaal vir artikels in 'n Europese tydskrif gebruik het.Ga naar eind54 Hoewel nie uitsluitlik nie, is die oorgrote meerderheid van Leipoldt se stories en vertelseltjies uit hierdie jare gerig op kinders vir wie hy wou opvoed en vir wie hy leesstof in hul eie taal wou verskaf. Uit dit alles blyk in watter groot mate die kindervriend Leipoldt, naas hul fisieke welsyn waarna hy as skooldokter moes omsien, ook in die geestelike gesondheid en ontwikkeling van sy mense geïnteresseerd was. In dié opsig, maar dan meer toegespits op die jeug, het Leipoldt net soos Langenhoven, die ander groot didaktikus van hierdie jare, met sy publikasies 'n belangrike opvoedkundige funksie vervul. | |
[pagina 428]
| |
IV'n Mens vra jou af waarom Leipoldt, wat so baie van kinders gehou en so baie tyd aan hulle bestee het, nie tot 'n huwelik oorgegaan en self eie kinders in die lewe gebring het nie. Op hierdie vraag is daar nie 'n enkelvoudige antwoord nie. Leipoldt het, soos hy dit by geleentheid aan sy vriendin Helen Burton sou stel, gevoel dat hy as gevolg van die kranksinnige streep in sy familie nie die moontlikheid van eie kinders kon oorweeg nie.Ga naar eind55 Op 'n keer, so vertel Lily Louw, bring ouers 'n kind met 'n waterhoof na hom toe. Leipoldt ondersoek die kind en sy gesig kry 'n somber uitdrukking. Hy sê: ‘Hierdie kind moes by geboorte gesterf het; niemand, nie ek of enige dokter waar ook al, kan iets vir hom doen nie.’ Die ouers was baie ontsteld en die vader het heftig gereageer op wat hy as Leipoldt se ongevoeligheid beskou het. Agterna sê Lily Louw vir hom: ‘Maar Christie, kon jy nie vriendeliker met die mense gepraat het nie? Weet jy nie hoe erg sulke ouers oor so'n kind voel nie?’ Leipoldt antwoord: ‘Dis nie dat ek nie saam met die ouers voel nie, maar dit is soms nodig om dinge duidelik en onomwonde te stel. So 'n kind is die rede waarom ek nooit getrou het nie. Ek is daarvan oortuig dat as ek 'n kind sou hê, sou iets met hom verkeerd wees. En dan word ek mal!’Ga naar eind56 Maar is dit nie alles 'n rookskerm vir 'n sekere onmagtigheid om op 'n vrou verlief te raak, terwyl sy seksuele belangstelling anders gerig was nie? Oor die moontlike seksuele oriëntasie moet 'n mens jou versigtig uitlaat, want, soos D.J. Opperman dit by geleentheid gestel het, die liefdeslewe van 'n mens, en veral 'n gekompliseerde mens soos Leipoldt, is 'n groot en ingewikkelde ding.Ga naar eind57 'n Moontlike sleutel tot die problematiek vind ons in die werk van die Britse seksuoloog Havelock Ellis, wie se hoofwerk, Studies in the psychology of sex, in sewe dele tussen die jare 1897 en 1928 gepubliseer is en met wie Leipoldt in hierdie jare gekorrespondeer het. Op p. 49 van sy Skoolgesondheid noem Leipoldt die werk van Ellis as een van die gesaghebbende boeke oor die geslagsleer en onder sy dokumente is daar kopieë uit Ellis se studies. Hy was dus deeglik vertroud met Ellis se publikasies. In sy boek sê Ellis dat die geïnverteerde persoon meestal nie, behalwe as hy werklik biseksueel is, met iemand van die teenoorgestelde geslag daardie intieme, onvoorwaardelike en emosionele vreugde en ekstase kan ervaar wat die essensie van heteroseksuele liefde is nie.Ga naar eind58 Een van sy pasiënte, 'n man wat nooit homoseksuele verhoudings gehad het nie, kon groot bevrediging vind in nie-seksuele vriendskappe en het aan Ellis ge- | |
[pagina 429]
| |
skryf: ‘I am not in any way effeminate and by my own choice I have led a hard and often dangerous life. My desire for the companionship of men who have a sexual attraction for me is very great and the happiest days of my life have been spent in the companionship of such. My desires are not only sexual, but composed of about 50 per cent. of the desire for complete mental harmony which accompanies such attraction.’Ga naar eind59 By so 'n verklaring dink 'n mens aan Val St. John se getuienis oor die baie jong mense van geringe skoolkwalifikasies met wie Leipoldt op 'n klaarblyklik goeie vriendskaplike voet verkeer en wat in sy studiejare by Guy's gereeld vir hom kom kuier het. By 'n groot aantal geïnverteerde persone, sê Ellis, is die seksuele impuls nie besonder sterk nie en kan dit 'n groot mate van bevrediging in 'n platoniese vriendskap met 'n geesverwant van dieselfde geslag vind. Die geïnverteerde seksuele impuls is buitendien besonder geskik vir sublimering op die een of ander wyse. ‘It has often happened’, skryf Ellis in 'n uitspraak wat 'n uiters belangrike sleutel tot hierdie aspek van Leipoldt kan wees, ‘that inverts have devoted themselves with ardour to valuable social and philanthropic work for the benefit of the young of their own sex, and found joy and satisfaction in the task.’Ga naar eind60 Een van Ellis se korrespondente het dan ook verklaar: ‘On my personal theory the essence of love is unselfish devotion, and I believe that service is the only key to genuine happiness.’Ga naar eind61 Dit is in hierdie onselfsugtige toewyding en diens aan kinders dat Leipoldt sy hoogste vreugde en klaarblyklik 'n sublimering van die geslagsdrang gevind het. As 'n mens daarby voeg dat die skeppingsdrang volgens baie sielkundiges 'n sublimering van die seksimpuls is, verklaar dit Leipoldt se drukke aktiwiteit en veelvuldige publikasies in hierdie en ook in later jare. In 'n brief van 15 Augustus 1938 skryf Leipoldt trouens aan M.P.O. Burgers dat elke ‘kunswerk tog maar net 'n metamorphose van die geslagsdrifte (is), insoverre as hulle die skeppingsdrang beïnvloed’. Dit is nie toevallig dat die woord ‘plig’ en sy sinonieme so baie kere en in feitlik kaleidoskopiese variasies in sy poësie hul verskyning maak nie. As iemand wat hom in baie opsigte eensaam in 'n dikwels vyandige wêreld bevind het, kon Leipoldt met die jare ontsnappingsroetes prakseer om sy verlatenheid te besweer. Een van dié ontsnappingsroetes het hy gevind deur aan kinders iets van die vreugde en geluk te gee wat hy self as kind moes ontbeer. Op dié wyse kon hy die bevrediging hê dat hy iets vir ander kon doen en dat daar 'n plekkie in die wêreld was waar hy diensbaar kon wees. En hierdeur kon hy iets ervaar van die geluk wat vir iedere diensbare mens weggelê is. |
|