Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 333]
| |
Hoofstuk X
| |
[pagina 334]
| |
te hou. Meestal was daar egter, behalwe wanneer van die matrose ná 'n hawebesoek hulle aan allerlei dinge te buite gegaan het, weinig pasiënte om na om te sien. Leipoldt verlaat die hospitaal op 14 Januarie 1912. Blykbaar het hy dadelik met die Alfred Holt-lyn, wat deur Abraham by hom aanbeveel is, oor 'n moontlike reis na Nederlands-Oos-Indië, of Insulinde, soos Leipoldt in navolging van Multatuli verkies om dié eilandryk te noem, in verbinding getree. Feitlik onmiddellik het hy 'n aanbod van die hoof mediese amptenaar van die maatskappy ontvang en het Leipoldt laat weet dat hy die eerste die beste skip sou aanvaar. Die eerste skip wat sou vertrek, was die SS Ulysses, ‘'n afgeleefde stoomboot’,Ga naar eind3 al was hy later nie een oomblik spyt dat hy met dié skip gereis het nie. Klaarblyklik was die oorspronklike gedagte dat hy die reis twee keer sou onderneem en dat hy van 21 Januarie tot 4 Julie 1912 teen 'n salaris van £29.12.0 per maand in diens van die Holt-redery sou wees. Hy het egter verkies om net die eerste reis te voltooi, want op 12 Mei was hy terug in Londen.Ga naar eind4 Op 17 Januarie vertrek Leipoldt uit Londen na Birkenhead aan die Britse weskus, waar hy hom op 18 Januarie aanmeld, die nodige dokumente onderteken en die SS Ulysses met sy hoë blou skoorsteen die eerste keer sien. Op die gure namiddag van 21 Januarie vaar hulle by die breë monding van die Merseyrivier uit die hawe van Liverpool uit. Met 'n feitlik ondeurdringbare mis om hulle is daar nie veel om te sien nie, al sê Leipoldt tog later in 'n brief aan sy suster Issa dat hy die Isle of Man in die verte kon gewaar. Indien dít die geval was, moes die skip aanvanklik noord en derhalwe óm Ierland gevaar het. Dit verklaar waarskynlik die feit dat hulle eers vier dae later, op 25 Januarie, die Spaanse kus by die Baai van Biskaje bereik. Van die begin af was Leipoldt, ten spyte van die skip se hoë ouderdom, baie ingenome met die inrigting van die SS Ulysses en die atmosfeer aan boord. Naas kaptein C.E. Day en hyself het die ‘aristokrasie van die skip’Ga naar eind5 bestaan uit die eerste, die tweede en die derde offisier (W. Invik, W. Beswick en Hugh Nish onderskeidelik), die hoofhofmeester (F. Dowsett) en die hoof- en assistentmasjiniste (F. Ashton en H. Fothergill). Verder was daar ses hofmeesters en blanke personeel en 'n twintigtal Chinese matrose, van wie die leier die enigste was wat Engels kon praat en wat as tolk moes optree. Leipoldt het 'n ruim kajuit, wat ook as spreekkamer ingerig was, gehad en het die etes en die bediening, eersteklas gevind. Ná die Baai van Biskaje, waar hulle 'n onstuimige see trotseer, vaar die | |
[pagina 335]
| |
[pagina 336]
| |
skip in beter weer verby Kaap Rocca en Kaap St. Vincent, twee punte wat Leipoldt duidelik kon waarneem en wat later in die beskrywing van Da Gama se suidwaartse vaart in ‘Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig’ in Uit drie wêrelddele sal verskyn: Dan langsaam die rivier af met die wind,
Voort na die suidpunt - voort, en dwars verby
Die rots van Rocca en Sint-Vincentskaap,
Met al die bloue onbekende see
Nog bakenloos en bibberend in die wesGa naar eind6
Hulle vaar ook verby die Baai van Trafalgar, toneel van die groot seeslag waar die Engelse vloot onder Nelson in 1805 die Frans-Spaanse vloot beslissend verslaan het. Op 27 Januarie is die skip by Gibraltar. Die ‘bloeiende vygies op die kaal rotse,...(en) die uitgestrektheid van grys sandsteen en verweerde leiklip aan weerskante van die Gibraltar-straat’Ga naar eind7 laat Leipoldt dadelik dink aan die bodemgesteldheid van die Karoolandskap van sy jeug. Die ‘windgemartelde spitse van die Marokkaanse gebergte’Ga naar eind8 in die verte is, soos hy dit in 'n brief aan Issa stel, ‘my first glimpse of African land for nearly 10 years’, 'n gesig wat hom na alle waarskynlikheid aan die eienaardige rotsformasies van sy eie Sederberge naby Clanwilliam laat dink het. Maar dit is veral ‘die geweldige massief’ van die Gibraltar-rots, ‘die vestingrots...(van) een van Herklaas se pilare’Ga naar eind9 wat hom as ‘amper verpersoonlikte natuurkrag’Ga naar eind10 imponeer. Die reeks verse ‘Uit my Oosterse dagboek’ in Uit drie wêrelddele, een van die neerslae wat hierdie reis in Leipoldt se poësie vind, open met 'n gedig waarin hy Gibraltar loof as die vasstaande ‘vestingswerk’ waarop die ‘ou pilare / Van Herklaas’Ga naar eind11 gestut word. Ná Gibraltar vaar hulle in die saffierblou water van die Middellandse See verby Pantelleria, ‘'n rotseiland wat deur die Italiaanse regering as 'n bandiete-stasie gebruik word’.Ga naar eind12 Leipoldt, nog nie op volle sterkte ná sy operasie nie, herlees Dickens se Bleak house en speel verder saans skaak met lede van die bemanning. Op 3 Februarie bereik hulle Port Saïd, vandag Bür Sa'id, die ingang van die Suezkanaal. Hoewel dit as ‘poort van die Ooste’Ga naar eind13 vir Leipoldt 'n kleurvolle en interessante plek is, word hy geïrriteer deur die ‘aanhoudende geraas van die stoombaggermasjiene’,Ga naar eind14 die onaangename reuk wat met die inlaai van die steenkool gepaard gaan en die smouse wat allerlei prulle aan hulle wil afsmeer - die eerste keer dat hy | |
[pagina 337]
| |
met hierdie lasposte en die voortdurende onderhandelinge en afbieëry van die Ooste te doen kry. Wat Leipoldt egter veral beïndruk, is die feit dat hy hier by die Suezkanaal op die snypunt van drie godsdienste staan: die Christendom, die Islam en die Vuuraanbidders. En die historiese en simboliese belangrikheid van dié wêreld fassineer hom. ‘Ten weste’ van die kanaal, skryf hy, ‘lê die spokeland van Memphis en die Nyl; ooswaarts strek die ewe geheimsinnige wêreld van die steenagtige Arabië, waar die profeet jarelank rondgedwaal het en die nuwe evangelie aan strydlustige afgodedienaars gepreek het. Êrens hierlangs was vroeër die plek waar die Middellandse See die Rode See ontmoet het en die water van die twee seë saamgespoel het.’Ga naar eind15 Maar boweal word Leipoldt beïndruk deur die standbeeld van Ferdinand de Lesseps by die ingang tot die kanaal, die man wat ‘teëstand, bespotting, beskimping, selfs dreigemente’Ga naar eind16 moes trotseer en sy opponente met bewyse, argumente en sy entoesiasme moes oortuig dat die kanaal inderdaad 'n werklikheid kon word. Uiteindelik het ook die Engelse regering in 1869 van gevoelens verander, maar tóé was die werk feitlik reeds voltooi, want in November van daardie jaar is die eerste gedeelte daarvan geopen. Leipoldt, wat sy lewe lank 'n bewondering vir alleenstaande enkelinge soos hyself sou hê, word meegevoer deur die imposante bronsfiguur van De Lesseps en die aanblik van die kanaal. Dit is vir hom nie net 'n triomf van ondernemingsgees nie, maar ‘'n oorwinning...vir geduld, deursettingsvermoë en naarstige, beredeneerde werk’.Ga naar eind17 In die tweede van sy ‘Uit my Oosterse dagboek’-verse huldig hy De Lesseps: Die standbeeld van 'n held, wat koen
Terugblik op sy reusewerk,
Alleen probeer, alleen gedoen -
Hy het alleen gestaan, want hy was sterk.Ga naar eind18
Omdat geen skip op eie stoom deur die kanaal mag vaar nie maar gesleep moet word, duur dit 'n hele paar uur voordat die Ulysses Bür TawliqGa naar eind19 bereik. Met die deurvaart kry Leipoldt reeds, ‘met 'n soort van verhoogde geestesstemming’,Ga naar eind20 'n gevoel vir ‘die siel van die Ooste (en) die geheimsinnigheid van die Oriënt’,Ga naar eind21 'n gevoel wat jou verbeelding aangryp en ‘hulde, liefde, byna aanbidding, van jou afdwing’.Ga naar eind22 Hy het nou ten volle van die operasie herstel en sy kragte herwin. Met die kus van Arabië aan die linkerkant vaar hulle deur die Rooi See, | |
[pagina 338]
| |
wat sy naam gekry het van die rooi sand wat by tye deur die wind op die water gewaai word. In teenstelling tot die rotsagtige kuslyn is die see 'n gladde gelykte. In die verte gewaar hy Jiddah, waar pelgrims hulle reis na die heilige stad Mekka 'n entjie verder land in begin en waar Eva volgens oorlewering begrawe lê. Regs van Jiddah lê die berg Sinaï, wat Leipoldt alleen met 'n verkyker kan waarneem. Dan gaan hulle verby Perim by die eindpunt van die Rooi See en draai hulle ooswaarts in die Golf van Aden. Aan die Somalilandse kus is Mons Elephas, ‘die Olifantsberg, wat sy naam verdien, want hy lyk werklik soos 'n reusagtige olifant wat oor die see kyk’.Ga naar eind23 Aan die punt van die Horing van Afrika ‘gryns Kaap Gardafui,’ volgens Leipoldt ‘een van die gevaarlikste plekke hierlangs, want die stroom is daar geniepsig sterk’.Ga naar eind24 Of Leipoldt inderdaad ál hierdie plekke self waargeneem het, is te betwyfel. Afgesien daarvan dat die geografiese volgorde in sy weergawe in Uit my Oosterse dagboek plek-plek foutief is,Ga naar eind25 het die skip klaarblyklik nader aan die Arabiese kus as dié van Afrika gewaar en kon hy dus, selfs met 'n verkyker, onmoontlik Mons Elephas en Kaap Gardafui self gesien het, veral nie as hy, soos uit die beskrywing blyk, deur die ‘geweldige massief van Ras Fartak’Ga naar eind26 beïndruk is nie. En indien hy Ras Fartak wél gesien het, moes die eiland Sokotra regs en buite sig van die skip gewees het, nie links soos hy beweer nie.Ga naar eind27 Ras-Fartak is die kaap waar volgens die Arabiere die moesonwinde tot rus kom en die winde van Afrika gebore word. Saam met ander plekke wat Leipoldt op sy vaart deur die Rooi See waargeneem het, figureer Ras Fartak as 'n kontras met die Kaapse ‘Kaap van die Wind en Storm’ prominent in 'n besonder geslaagde en klankryke gedeelte van ‘Voorspel vir 'n Afrikaanse heldedig’: Ver in die steenland, waar die dor woestyn
Vlak afdaal tot die blougroen watergrens,
Daar rys 'n rif van rotse tot 'n kaap
Waarteen die moesson sonder meely waai -
Ras Fartak, in die Arabier se taal.
Kaap van die Wind se Dood! Kaap waar die see
Glad soos 'n spieël en sonder rimpel speel
Oor wit, gestrande skulpe met sy skuim;
Want agter sy grys rotse-rif verkwyn
Die warrel-moesson en word mak en stil
En fluister teen die water wat hy vroeër
Verkondig het met buld'rende basuin.
| |
[pagina 339]
| |
Daar strooi hy geure van Gomorras meer -
Die ruik van dadelbloeisels en die dons
Wat wilde aalwyn oor Sokotra sprei,
En malvabossies oor Mons Elephas.
Daar slinger hy 'n waas van rooigeel sand
Uit die woestyn waar Moses met sy volk
Verdwaal het in die skadu van die berg
Van Sinaï, en waar die bloeiende staf
Van Aaron 'n almagtig' voorspraak was -
En voetpad-stof deur hadjie-heer getrap
Van Evas graf in Djidda - waar geen graan
In somer of in winter groei, verbrand
Deur jare van verwoesting - na die stad
Waar die profeet Mohammed eers sy mag
Verkondig het; en waar die Kaaba-klip
Geheilig word, en Zemzems put vandag
Sy veelvergewende saal'ge water stort;
Waar eers die nuwe evangelie-woord
Vertolk is vir die mensdom deur die voog,
Die koopman van Medina; waar die sjeik
Nog op sy wit kameel die Koran lees,
En elke vroom, gelowige gebed,
Vyfmaal herhaal, Gods eenheid luid vertel
As teen sonsondergang die muezzin roep
En Allah il Allah oor alles klink.Ga naar eind28
Hierna is die ‘Voorhof’ van die Ooste vir Leipoldt ‘'n uitgestrektheid van stil, donkerblou water’Ga naar eind29 en hy word veral bekoor deur die vlieënde visse van die tropiese water en die ‘wonderlike kleurligte’Ga naar eind30 wat die fosfor snags vorm. Die miljoene klein seediertjies fassineer hom, en hy trek emmers vol water uit die see op om al die soorte met 'n mikroskoop te bekyk.Ga naar eind31 Eers met die Maldive suid van Indië gewaar hulle weer land. Naby die kus van Soematra, die eerste eiland van die Nederlands-Oos-Indiese argipel wat die skip sou aandoen, vaar hulle verby die eilande Siberut en Pulu-Bodje en bereik Emmahaven op 23 Februarie verby Pulu-Pisang met sy vuurtoring. En as hy van die skip af die apies op Pulu-Pisang sien, vervul dit Leipoldt met heimwee na sy eie land en die see by Kaappunt waar die bobbejane die besoeker ook begroet. Later vind dié ervaring | |
[pagina 340]
| |
neerslag in die sonnet ‘Op Poeloe-piesang’ wat eers postuum in Geseënde skaduwees opgeneem sou word: Rond om my grens die apies, en die see
Wat sag die seeskuim skommel teen die klei,
Net soos 'n moeder wat haar kind wil gee
'n Droomloos sluimer, sing sy lied vir my -
'n Lied wat ryk is in sy sag refrein,
Wat my laat dink hier, wat my hier laat voel
Weemoedig in my hart die huistoe-pyn,
As op die strand die warm seebranders spoel.
Hier pryk die klapper-palme; 'n prieël
Vol bloeisels geurig as 'n vlei by nag
Is oor my, en die son maak goud en geel
In plasse teen die struikgewas se prag -
'n Vreemde wêreld, om my vreemde vee,
Maar tog my eie son, my Kaapse see.Ga naar eind32
| |
IIMet sy aankoms in Soematra teen die laatmiddag teken Leipoldt in sy dagboekie aan: ‘Glorious sunset. Very fine entrance to harbour. Lay aside the jetty at Emmahaven.’ Die sonsondergang wat hy hierdie middag beleef, maak so 'n groot indruk op hom dat hy dit jare later in Uit my Oosterse dagboek steeds - selfs in vergelyking met dié wat hy in die Kalahari, die Dolomiete, die Adriatiese See, Moskou, die bergmere in die Asore en die Karibiese See ervaar het - as die mooiste van sy lewe onthou. ‘Waar die son aan die daal was,’ skryf hy, het die wolke in lynregte massas gelê, soos 'n lang uitgerekte floers, wat die ligstrale getemper het, maar hulle nie kon doodmaak nie. Onmiddellik benede hierdie wolke was die seevlak violet-swart, soos 'n laan in die bos waaroor die boomstamme 'n gewelf maak om die lig uit te sluit. Verder vorentoe was kringe van groen, waarop die drywende puimsteen kolle van spierwit gemaak het, sodat die hele uitgestrektheid van stil, amper roerlose water gelyk het soos 'n plat stuk amandola-marmer. In die ooste was dit weer grys, met lyne | |
[pagina 341]
| |
| |
[pagina 342]
| |
van donkerblou daartussen, en 'n voorgrond van suiwer smaraggroen. Bo, waar die lug wolkeloos was, het die bleek ametisblou stadig maar kennelik verander in 'n skakering van kleur wat so warm en geil was dat jy met moeite die verskillende tinte daarvan kon raaksien. Regs en links van die son het enorm groot strale opgeskiet, robynrooi en goudgeel, en die weerkaatsing van die strale teen die wolkelaag het allerhande nuwe kleure te voorskyn gebring - dit was eenvoudig 'n mosaïek van ryke pers, roesrooi, skitterende geel en donkerblou. Die skemering duur nie lank nie, maar die son gaan stadig onder, en hierdie vertoning van skitterende, pragtige kleure het omtrent 'n halfuur geduur. Daarna was die son onder, en byna onmiddellik daarna was dit donker genoeg om die haweligte aan te steek - so donker dat jy skaars die aankomende loodsboot kon gewaar.Ga naar eind33 Dit is opvallend dat Leipoldt nie in Uit drie wêrelddele of in latere bundels 'n gedig aan hierdie besondere sonsondergang wy nie. Wanneer hy oor sy indrukke van Emmahaven skryf, noem hy slegs die mangobome, die rooi hibiskus en die kronkelende rivier met ‘'n oupa-krokodil / Waaroor die muggies tier’Ga naar eind34. In die plek van die sonsondergang teken hy Emmahaven in die maanlig na 'n reënbui wat in die middag geval het. Die volgende dag, 24 Februarie, het Leipoldt, terwyl die skip afgelaai en weer vol gelaai word, die geleentheid om die stad Padang, ongeveer nege kilometer en 'n halfuur per perdekar van Emmahaven, te verken. In plaas van per trein reis hy met 'n klein karretjie, bestuur deur 'n chauffeur met 'n groot, puntige hoed soos dié wat die Kaapse Maleiers in die ou dae gedra het. Op dié reis sien Leipoldt die eerste keer die merkwaardige Mimosa pudica, die rooskleurige plantjie met sy gesplete blare. Sodra een van die blare aangeraak word, loop daar, soos hy dit beskryf, ‘'n siddering deur die hele plant, en elke blaartjie word onmiddellik toegevou’.Ga naar eind35 Hierdie beweging word voortgesit deur die aangrensendes, al oordryf Leipoldt darem 'n bietjie waar hy sê dat dit weldra 'n golfbeweging deur die hele mimosaveld teen die berghelling op veroorsaak. Die toevou van die blare laat hom egter wonder of daar ‘nie miskien net so 'n krampagtige wegsluit en terugtrek is onder die menslike bevolking van die land teenoor enige aanraking of prikkel van die Westerling nie’.Ga naar eind36 Só fassinerend is dié waarneming vir Leipoldt, dat hy dit ook in sy gedig ‘Padang’ verwerk en dieselfde vraag in verband met die mense van dié land stel: | |
[pagina 343]
| |
Dis Padang hier. Waar die hibiskus ophou,
Daar word die veld 'n wilde wêreld, vol
Met fyn-geblaarde bossies, vyf duim hoog,
Die hele helling van die berge op
Tot boontoe. Snaakse bossies, hierdie, snaaks -
Want as jy net 'n blaartjie aanraak, gril
Die hele helling van die berge deur,
En elke blaartjie vou hom toe en slaap,
Om ná 'n rukkie wakker weer te word
En weerom toe te gaan as jy hom raak.
Ek wonder, is dit net so met die land
En met sy mense? Moet jy vrinde maak
Versigtig en geduldig - nie te stoor
Die fyngevoeligheid van elke vent
Voordat jy hom hand kan gee as 'n vrind?
Dis Padang hier, en kruidjie-roer-my-nie
Die hele helling van die berge op.Ga naar eind37
In Padang self is Leipoldt veral geïnteresseerd in die basaar met sy talle klein winkeltjies en die openbare mark wat hom aan die Kaapse Parade laat dink. In die Hotel Oranje eet hy - soos later weer in De Nederlanden in Batavia, die Bellevue op Buitenzorg en privaat by mense - sy eerste rystafel in 'n tyd toe dié tipe maaltyd kennelik nog nie in Londen bekend was nie. Hoewel hy reeds in dié stadium 'n kenner van goeie kos was en 'n boek oor die kookkuns geskryf het, is sy eerste rystafel, soos hy dit self stel, vir hom 'n ‘openbaring’.Ga naar eind38 Later het hy probeer om dit weer tydens 'n besoek aan Den Haag of elders te geniet, maar telkens gevind dat iets ontbreek. ‘Want’, skryf hy, ‘die Indiese rystafel kry sy geur en sy smaak deur die verstandige mengselmetodes wat die kokkies gebruik, en die samesmelting van die verskillende geure dra by om dit sy eienaardige smaak te gee.’Ga naar eind39 Telkens tydens sy reis was Leipoldt vir sy verkennings verder land in gebonde aan die tyd wat die skip in 'n spesifieke hawe sou deurbring. Wanneer die skip 'n paar dae in 'n hawe vertoef het, kon hy meestal die stad en die onmiddellike omgewing verken. Dit spreek vanself dat hy vanuit Padang graag Prau Sorat, sy vader se ou sendingstasie, wou besoek, maar dit is te betwyfel of hy wel daar was. Aan die begin van hoofstuk XIV van Uit | |
[pagina 344]
| |
my Oosterse dagboek sê hy, feitlik terloops, dat hy naby Sipirok, onderweg na Prau Sorat, sy eerste blik op 'n werklike gedeelte van die oerwoud gehad het.Ga naar eind40 Nêrens in sy reisverslag blyk dit egter uit 'n beskrywing dat hy wél op die sendingstasie was nie. As 'n mens van die aankoms- en vertrekdatums van die SS Ulysses uitgaan, kan jy met veiligheid aanneem dat hy nooit die interessante klein dorpies en die pragtige omgewing verder noord rondom die berg-omsoomde Tobameer, tradisionele woonplek van die Bataks onder wie sy vader werksaam was, gesien het nie. Wat Leipoldt wel tydens dié reis onderweg na Sipirok moes beïndruk het, is die mensliewende en bedaarde wyse waarop die inheemse mens teenoor diere, in die besonder teenoor sy karbou of buffel met sy lang horings, optree. Wanneer 'n karbou vir 'n vreemdeling skrik en hom driftig toesnel, fluit die wagtertjie net, kom hy bedaard by hom, neem hom by die neusring ‘en vloek en vlei hom in die allerbeste Maleis of Javaans en lei hom terug na sy lêplek’.Ga naar eind41 Daarby is die Soematrane, meestal groter en stewiger gebou as die kleiner Javane wat hy later sou ontmoet, pragtige mense om te sien: ‘Hy is manlik in sy voorkome, mooi van gedaante en gesig, en gewoonlik sierlik en netjies in sy drag. Sy vroumense is 'n bietjie stywer en lomper as die Javaanse vroue, en deurgaans nie so kinderlik en innemend nie. Hulle is algar baie hoflik, met 'n soort natuurlike deftige hoflikheid, wat veral uitkom in sy verhouding tot vreemdelinge, bejaardes en kinders, met wie hy in sy omgang sag en gemoedelik is.’Ga naar eind42 Wat Leipoldt verder in Soematra geboei het, was die worstelstryd van die noordelike Atjehs teen die Hollandse oorheersing, en die kannibalisme onder die Bataks. Ten tyde van Leipoldt se besoek het sowel die stryd van die Atjehs as die kannibalisme tot die verlede behoort. Die vryheidstryd figureer egter in ‘Aan die ketting’Ga naar eind43 in die reeks ‘Uit my Oosterse dagboek’-verse, terwyl hy na aanleiding van Junghuhn se inligting in die reisverslag oor die kannibalisme onder die Bataks uitwei. Hierdie kannibalisme was deel van 'n ritueel en het alleen voorgekom wanneer 'n misdadiger gestraf moes word. Vir die meeste misdade, selfs vir moord in bepaalde omstandighede, was 'n losprys betaalbaar. In die geval van egbreuk was die misdaad egter nie loskoopbaar nie. ‘Daarvoor’, skryf Leipoldt, was net een straf - en dit was die doodstraf. En die doodstraf was altyddeur opvreet deur die stam.... Dae voordat dit geskied, word kennis gegee aan die stamgenote dat op dié en dié dag 'n vyand sy | |
[pagina 345]
| |
straf op 'n vasgestelde plek sal ondergaan. Hierdie plek is altyd buite die kota, gewoonlik 'n ou saailand, omring met bome. Hier vergader dan 'n groot menigte, en elke gesin hou hom besig met sy vuurtjie waaroor die vroue en kinders waak. In die middel van die plek word 'n paal opgesit, en daaraan word die misdadiger vasgebind. Die hoof van die stam kom dan vorentoe en spreek die gemeente toe. Hy gee besonderhede omtrent die gepleegde misdaad en kenskets die misdaad self as die werk van 'n begu, of duiwel, wat in die misdadiger steek, en wat grondig moet verdelg word. Dan gaan hy na die gevangene en sny 'n klein stukkie vleis uit die kêrel se onderarm. Hy toon dit aan die gemeente, en gaan dan stadig na die eerste naaste vuurtjie, waaroor hy die stukkie vleis braai en dan opeet. Daarna kom die oudste manne van die stam, en elkeen sny sy stukkie vleis en doen dieselfde; en eers dan kry die gemeente 'n kans. Binne 'n paar minute is daar niks oor van die misdadiger nie as net 'n bloedige geraamte. Junghuhn, wat so 'n opvretery beskryf, sê dat 'n halfuur nadat die hoof die eerste stukkie vleis afgesny het, daar niks as bene te sien is nie, en die gemeente staan sedig en bedaard daarom en bepraat die vooruitsigte van die graan- of rysoes!Ga naar eind44 | |
IIIOp 26 Februarie verlaat die SS Ulysses Emmahaven en vaar verby die eiland Krakatau in die Soendastraat tussen Soematra en Java. Krakatau is jare lank as 'n sogenaamde ‘dooie’ vulkaan beskou tot die groot uitbarstings van 20 Mei en 26-28 Augustus 1883, waartydens die kuste van Suid-Soematra en Wes-Java met 'n lewensverlies van 36 000 slagoffers oorstroom is en die helfte van die oorspronklike eiland verdwyn het. Van die skip af kon Leipoldt, soos hy in die sonnet ‘Krakatau’ skryf, die ‘duister reus van driemaal donker rots (sien) / Waaroor 'n wolk van wasem soos 'n kroon / Elk oomblik opstyg’Ga naar eind45. In Uit my Oosterse dagboek bring hy ook dié uitbarsting ter sprake en later sou hy in Die Huisgenoot van 7 Januarie 1938 'n hele artikel daaraan wy. Op 27 Februarie kom hulle in Tanjungpriok aan, die hawe van Batavia, die hoofstad wat vandag as Djakarta bekend staan. Nog meer as in Soematra word Leipoldt nou bekoor deur die oorheersende groen van die landskap, die weelderige groei van die natuur en die vrugbaarheid van | |
[pagina 346]
| |
[pagina 347]
| |
die land. ‘Nêrens in die wêreld’, skryf hy, ‘is die berghellings so egaal groen nie; die bosse wat die steil berghoogtes bekroon, nêrens so sierlik, weelderig en ruig nie. Waar jy ook kyk, gewaar jou oog gesaaide, bewerkte akkers, verfrissende groen, bome en bosse, aanplantings, weilande en plantasies. Elke duim van bruikbare grond lyk asof dit bewerk word.’Ga naar eind46 In die basaar word hy getref deur die drukte en die feit dat almal hard werk. Die batikwerk, die besondere patroon wat geduldig op sy of linne uitgekrap en daarna in die gewenste kleurstof gedompel word, vereis besondere toewyding en geduld, net soos dié van die silwersmid wat self sy stene slyp en van soggens vroeg tot saans laat by sy lae werktafeltjie gehurk bly sit. Onderweg na Batavia ervaar hy twee van die besondere vrugte van die land. In 'n plantasie klapperpalms drink hy van die heerlike koel klappermelk en vind hy dit heerlik en verfrissend. Hy word ook bewus van 'n onaangename reuk. Later blyk dit die reuk van die doerian te wees, die betreklike groot vrug wat van buite stekelig soos 'n pynappel daar uitsien en van binne in ‘huisies’ soos 'n lemoen verdeel is. Leipoldt se moeder, so vertel hy, was versot op dié vrug, maar sy vader was minder entoesiasties daaroor en kon die reuk nie verdra nie.Ga naar eind47 Leipoldt het self van hierdie vrug, waarvan die Engelse sê ‘it smells like hell but tastes like heaven’, geproe. Hoewel hy by die eet van die roomagtige soet vesel, gemeng met die smaak van neute, perskes en pistasie, gehou het, kry 'n mens tog die indruk dat hy in so mate deur die reuk van die vrug afgestoot is dat dit vir hom geen plesierige ervaring was nie. Met hulle terugkeer na die skip wou die kaptein, wat die doerian 'n vieslike vrug gevind het, ook nie toelaat dat hulle een aan boord bring nie. Uit die gedig wat Leipoldt aan die doerian wy, kom die leser egter niks te wete van die vrug se vieslike stank nie: Vrug van die vrugte, koning, wees gegroet!
Jou steeklig' skil versluier godespys.
Ek, vreemdeling uit 'n vreemde land, verstaan
Die krag wat joue is; en as ek staan,
Hier in die dessa-straatjie,Ga naar eind48 waar die rys
Die randjies op in modderplaatjies groei,
Hier waar die mangostan so pragtig bloei,
Hier waar jou geur die wêreld rond omraam,
Bring ek jou ook my hulde toe: Salaam!Ga naar eind49
| |
[pagina 348]
| |
'n Mens kan dus sê dat Leipoldt hom hier aan een van sy ‘romantiese leuens’Ga naar eind50 skuldig maak, soos D.J. Opperman dit later in 'n ander verband sou formuleer. Op 2 Maart vertrek hulle na Cirebon aan die noordelike kus van Java, waar Leipoldt 'n uitvoering deur Javaanse toneelspelers van die tradisionele wayang gedog bywoon, die lewensgeskiedenis van die erfprins Raden Panji, wat vir die Javane die verpersoonliking van manlike skoonheid, moed, onkwetsbaarheid en onoorwinlikheid is.Ga naar eind51 Vervolgens doen die skip Semarang met sy ‘laan van kanarie-bome’Ga naar eind52 en sy kolonie Chinese aan voordat hulle op 9 Maart in die hawe van die handelshoofstad, Surabaya, aanlê. Hier vertoef die skip 'n hele aantal dae en gebruik Leipoldt die geleentheid om die talryke winkeltjies te besoek waar sarongs en slendangs en veral die kosbare batik uit Yogyakarta te koop is. Hier maak hy ook kennis met dit wat die Westerling tradisioneel met die ‘geheimsinnige’ Ooste assosieer, naamlik towery en goëlery, waaraan hy 'n aparte hoofstuk in sy reisverslag wy. Die merkwaardigste ondervinding wat hy in dié verband het, noem hy in 'n artikelreeks wat hy onder die titel ‘Bo ons vuurmaakplek’Ga naar eind53 in Die Huisgenoot publiseer. Hy skryf: Ek het eenmaal die geleentheid, miskien moet ek sê, die voorreg gehad om 'n hooggeplaaste Boeddhistiese lhama of priester te ontmoet in die Ooste. Ek kon geen woord van sy taal verstaan nie, en ons gesprek was met behulp van 'n tolk wat Nederlands kon praat. Sy eerste bewering was dat hy 'n boodskap vir my had van my vader, wat 'n paar jare tevore, toe ek nog student in die medisyne was, op Hopefield oorlede is.Ga naar eind54 Iedereen kan beweer dat hy 'n boodskap van dié aard het en sy bewering het my dus nie geïmponeer nie. | |
[pagina 349]
| |
met datum en plaasnaam, net soos ek my dit kon herinner (die brief self was in Londen, waar ek dit agtergelaat het met my boeke en private goed toe ek op reis gegaan het). Nog meer, hy onderbreek dit by dieselfde punt waar my vader opgehou het om te skryf. Leipoldt gebruik ook die paar dae in Surabaya om in geselskap per motor landinwaarts in die rigting van Prigen te reis en 'n paar dae by die vakansieoord Trètes te oornag. Hier is hy in die onmiddellike nabyheid van die vulkane Arjoeno en Welirang.Ga naar eind56 Arjoeno en Welirang is twee van die lewende vulkane wat, soos SemeroeGa naar eind57 verder ooswaarts en Salak naby Bogor, vir besoeke beskikbaar is. ‘Hulle is van twee- tot tienduisend voet hoog, en die opklim is gewoonlik nie alte steil nie; jy kan 'n sekere gedeelte van die weg te perd gaan en die res gemaklik loop totdat jy by die kraterwal kom, vanwaar die klim inspannend en moeilik is. Jy kan selfs afklim in sommige van die kraters en swawelkristalle - wat binne 'n paar dae hul mooi, deurskynende geel kleur verloor - optel om huis-toe te bring as 'n aandenking. Die grond daar is wel warm, alte warm om plesierig te wees, en die lug is bedompig en vol swawelgas wat jou laat nies en hoes, maar so 'n stappie is nogal die moeite werd, veral as jy so 'n mooi vulkaan as Smeroe, met sy wêreldberoemde geriffelde sandsee kan bekyk.’Ga naar eind58 Oor Welirang en Arjoeno skryf Leipoldt in 'n kort vers wat postuum in Geseënde skaduwees opgeneem word: Welirang en Ardjoeno
Kyk trots op Trettes neer,
En oor hul swem die wolke,
Wat half hul lig verteer.
Welirang en Ardjoeno
Glim Soerabaja oor,
Oor lae sawa-landeGa naar eind59
In môre-mis versmoor.
| |
[pagina 350]
| |
Welirang en Ardjoeno
Kyk noord toe na die see,
Tot waar die son sy middaggoud
Ruim aan Madoera gee.Ga naar eind60
Of Leipoldt self teen die hang van 'n lewende vulkaan uit is, blyk nêrens direk uit sy weergawe in Uit my Oosterse dagboek nie. Dit is ook onwaarskynlik dat hy tydens hierdie reis van Surabaya af tot by Yogyakarta, die belangrike kultuurstad met sy batikvervaardigers en sy musieksentra, kon gevorder het. Indien hy dié besondere stad wél besoek het, sou 'n mens in Uit my Oosterse dagboek die neerslag daarvan verwag. As jy die roete van die SS Ulysses in sy dagboekie volg en die aankoms- en vertrekdatums van die skip uit die verskillende hawens in ag neem, kon hy ook nie die twee belangrike tempels in die onmiddellike nabyheid van Yogyakarta, die Prambanan en die Borobudur, gesien het nie, hoewel hy in sy ‘Uit my Oosterse dagboek’-reeks 'n gedig aan die Borobudur wei.Ga naar eind61 'n Mens vermoed dat hy vir die gegewens oor dié tempel op gidsboeke en veral op sy kennis van die Boeddhistiese godsdiens steun. Wanneer Leipoldt in hoofstuk VII van sy reisverslag sê dat hy in die hawe van Cilacap - wat hy ‘Tjilitjap’ skryf - met sy eerste aardbewing kennis gemaak het terwyl hy in sy kajuit besig was om een van die Chinese bemanning se tand te trek,Ga naar eind62 kan dié mededeling onmoontlik korrek wees. Ná Surabaya is die SS Ulysses, volgens Leipoldt se dagboekie, na Balikpapan en daarvandaan op sy spoor terug na Semarang en Tanjungpriok, sonder om ook maar in die verste verte naby Cilacap aan die suidkus van Java te kom. Waarskynlik verwar Leipoldt hier Cilacap met Cirebon. Waar Leipoldt wél deeglik op besoek was, is in die oerwoud van Borneo. Op 21 Maart verlaat die skip Surabaya en op 23 Maart kom hulle aan in die oliestad Balikpapan aan die ooskus van Borneo. Hier besigtig hy van die fabrieke en werkswinkels en lê hy ook besoek af by 'n groot hospitaal, waar veral die pasiënte wat - soos sy moeder - aan beri-beri ly, hom besonder interesseer. Drie dae lank,Ga naar eind63 van 25 tot 27 Maart, het hy die geleentheid om die tropiese oerwoud ten noorde van Balikpapan in die rigting van Sanga-Sanga, waarvandaan die olie kom, te besoek. In die diepste dele van die bos, sê Leipoldt, is die oorheersende kleur 'n soort donkergroen. Heeltemal donker is dit dus nie. Ofskoon die son nooit regstreeks val nie, is die indruk dié van 'n skemereffek wat verskillende kleure in mekaar laat smelt.Ga naar eind64 ‘Orals’, skryf hy, | |
[pagina 351]
| |
hang die lang rottangs - die apiesranke - wat honderde voete lank is en soms so dik soos 'n man se been. Hierdie liana-soorte is besonder interessant, omdat ons so min weet van hulle manier van bestaan. Hoekom klim hulle, op of af? Wat is die doel van hul slinger? Ons weet baie min van klimopplante, ofskoon ons jarelank proefnemings gemaak het om uit te vind wat dit is wat 'n plant laat rank. In die lianas loop daar groot weefselvate, vol met water. As jy drinkwater in die oerbos wil hê, hoef jy net een van hulle af te kap en bo 'n sny te maak; van die afgekapte ent loop dan 'n stroompie water af - helder, koel en fris.... Vir middagete het ons by 'n klein riviertjie gekamp. Selfs hier, waar die bos min of meer ope was, het 'n soort groen skemering geheers; daar het geen direkte sonstrale op die grond, wat met dik mos getapyt was, geval nie. Die draers het bosvrugte en drie lekker kokosneute gebring, waarvan die melk, of klapperwater, baie lekker gesmaak het. Ek was heeltemal in my skik, maar die maats het gekla dat daar geen lewe in die bos was nie. Waar is die duiwe, die paradysvoëls en die kolibris waarvan hulle so baie gehoor het? Ek het beduie dat paradysvoëls nie hier aangetref word nie, en kolibris net maar in Amerika. Duiwe sou ons wel later vind. Maar dit het my ook opgeval dat die oerbos so stil, so sonder dierelewe was. Skoenlappers, motte en hier en daar 'n paar slange - gewoonlik die groen boomslangetjie - maar niks meer nie, het ons aangetref. Die draers het my verseker dat hier in die buurt geen mias boer nie. Mias is die inboorlingnaam vir ons orang-oetang of groot bos-aap, wat met die sjimpansee en die gorilla die naaste by die mens staan. Dieper in die bos kon ons miskien een vind, maar dit was onwaarskynlik.... Die aand het ons vroegtydig 'n kampvuur aangelê op 'n eersteklas kampplek tussen twee reusagtige rasamala-bome. Ons kon nie weet dat dit sonsondergang was nie, maar het die horlosie dopgehou en vroeg genoeg staanplek gevind. Maar toe ons daarmee klaar was, het die son ondergegaan, en die kort skemering het die oerbos aanmerklik donker gemaak. Binne 'n paar minute was dit stikdonker om ons heen - 'n bewys dat die buitelug, ofskoon dit nie binne in die bos indring nie, tog deur weerkaatsing baie indirekte verligting gee. Ons vuur het ons genoeg lig gegee vir ons doel, en ons het gesellig daar rondom gesit onderwyl die Chinese gids ons van die seerowers en van die mias vertel het. Nou eers het ons gewaar hoe oorvol van dierelewe die oerbos is. | |
[pagina 352]
| |
Met die donker het die stilte van die oerbos opgehou. Van alle kante het geluide gekom. Die apies het begin skree. Jy kon drie, vier soorte herken deur die verskil in die geluide wat hulle maak. Die weemoedige ‘O-a, o-a’ van een van die gibbon-ape was veral lastig; dit het aanhoudend gekom, en die mannetjie en die wyfie het in 'n boom nie ver van ons met hul kleintjie begin speel. In die lig van die vuur kon ons hulle duidelik sien, en hulle was so menslik, die uitgelate pret van al drie was so innig dat ons ons daarin sou vermaak het as hulle maar net wou stilbly. Maar hulle het telkens daardie nare, eentonige geluid gemaak wat die hele nag deur geduur het. Selfs toe ons hulle van hul skuilboom verwilder het, het hulle teruggekom. In versvorm sou Leipoldt sy ervaring van die twee nagte op Borneo verwoord in die gedig ‘In die oerwoud’, wat eers postuum in Geseënde skaduwees gebundel word,Ga naar eind66 maar wat reeds in Die Brandwag van Desember 1916 verskyn en dus waarskynlik saam met die ander in die reeks ‘Uit my Oosterse dagboek’ in Uit drie wêrelddele ontstaan het. Hoewel ‘Die oerbos’, soos W.E.G. Louw in sy knap herlesing van dié gedig aandui,Ga naar eind67 nie sonder vlekke is nie, is dit 'n veel beter gedig, selfs al lees die hedendaagse leser die slotstrofe deur die oë van Van Wyk Louw se ‘Swart luiperd’ heen. Iets wat opval, is dat die orangoetangs, anders as in die reisverslag, waarin hulle volledig afwesig is, strofe 2 van die vers dig bevolk: In die oerwoud van Borneo,
Waar die takke druip met mos,
En die rasamala-bome
Die son groet bo die bos,
| |
[pagina 353]
| |
Klouter oor die reusestamme
Die orang-oetangs rond,
En die boomslang, dors na water,
Stuur stadig oor die grond.
Daar hang die tou-lianes,
Wat vol met water sit;
Daar swewe in die bruine lig
Die vlinders groen en wit.
Daar troon die taai doring-rottang,
Wat alles wil omklem;
Daar kruip die modder-krokodil
Om in die see te swem.
Daar is dit soos die dood so stil,
In berg en bos en dal:
Jy hoor net waar 'n oer-ou stam
Sy varing-las laat val.
Maar as dit skemeraand word,
Dan breek die stilte los,
In elke laan en lommeroord,
In hierdie oerwoud-bos.
Dan vonkel teen die swarte stam
Die kewer soos 'n ster,
En in die stilte hoor jy hoe
Die klein bos-apies blêr.Ga naar eind68
En wanneer hy die oggend ontwaak, aanskou hy saam met sy medereisigers die ‘wonderskone sonsopgang’,Ga naar eind69 iets wat hom aan Multatuli se verhaal oor Saïdja in die Max Havelaar laat dink. Multatuli, soos De Lesseps ook iemand wat alleen kon staan, huldig hy in 'n sonnet in sy reeks ‘Oosterse dagboek’-verse as ‘Apostel, hoëpriester, lyder, Man!’Ga naar eind70 In die titel van die gedig ‘Meta api’Ga naar eind71 betrek hy trouens ook die Max Havelaar as die noemnaam vir 'n vrou wie se oë so besonder kon skitter, al speel sy herinnering hom parte en is die naam by Multatuli ‘Mata-api’.Ga naar eind72 | |
[pagina 354]
| |
Op 28 Maart verlaat die SS Ulysses Balikpapan en op 30 Maart is hulle by Semarang. Op 1 April vertrek hulle na Tanjungpriok, waar die skip twee dae lank voor die terugvaart sal vertoef. | |
IVOp sy tweede besoek aan Batavia (Djakarta) kry Leipoldt die geleentheid om suidwaarts per trein te reis en Buitenzorg, vandag Bogor, met sy paleis en pragtige tuin te sien. Die stasie vir Buitenzorg het die naam Meester Cornelis, die plek waar die laaste geveg tussen die Engelse onder Thomas Raffles (die luitenantgoewerneur wat so baie vir Java en later Singapoer gedoen het) en die Nederlandse leër onder bevel van generaal J.W. Janssens plaasgevind het. Dit was dieselfde Janssens wat in 1806 tydens die Bataafse bewind aan die Kaap in die Slag van Blouberg deur die Engelse invallers verslaan is. Terug in Nederland het keiser Napoleon, volgens Leipoldt, ‘hom hartlik op die skouer geklop en met 'n glimlag aan hom gesê...: “Meneer, u is nou 'n Franse generaal, en ek hoef u nie te sê dat 'n Franse generaal hom nie tweemaal oorgee nie.”’Ga naar eind73 Vir 'n tweede maal was Janssens egter in bevel van 'n klein garnisoen en sonder enige middele om hom te verdedig. ‘Na die eerste botsing met Raffles se mag’, skryf Leipoldt, ‘het hulle padgegee, en na die tweede slag by Meester Cornelis moes Janssens vir die tweede maal soebat om 'n wapenstilstand, wat gevolg is deur sy oorgawe en wat feitlik die oorgawe van die hele Java aan die Engelse mag beteken het.’Ga naar eind74 Hierdie stuk geskiedenis lei Leipoldt tot sy gedig ‘Meester Cornelis’: Janssens, ek voel vir jou
Wat hier die tweede maal
Beswyk het in die klou
Van 'n vyands seëpraal.
‘Maarskalk van Frankryk! Nooit
Gee tweemaal vir jou oor!’
Het jy in jou lewe ooit
So wat gehoor?
Maarskalk, ek voel vir jou;
Jy het jou bes probeer -
Sal jy, bitter in berou,
| |
[pagina 355]
| |
Onthou die tweede keer?
Waar die Noodlot teen jou veg,
Kan jy wae en verdra
Vir wat skyn vir jou die reg?
Antwoord jy: ‘Ja’?Ga naar eind75
Op Buitenzorg besoek Leipoldt die pragtige hospitaal met 'n besondere afdeling vir lyers aan beri-beri en by die ingang tot die ‘Landstuin’ loop hy die talle winkeltjies deur. Van die Hotel Bellevue, waar hy weer vir 'n rystafel aansit, het die besoeker 'n skitterende uitsig op die omgewing, in die besonder op die twee beroemde vulkane Pangrango en Salak met sy talle spitse.Ga naar eind76 Die omgewing van die ‘paradystuin’Ga naar eind77 was vir Leipoldt met sy botaniese belangstelling en opgaan in die weelde van die aarde die aanleiding tot een van die mooiste beskrywende gedeeltes in sy dramatiese alleenspraak ‘Van Noodt se laaste aand’: Dáár, waar verskuil in frisse môre-mis,
Gordyn-gesluier deur goud-bestraalde gloed,
Rys pragtig teen die môreson die prag
Van Bogors ryk, die wolk-bekroonde berg
Met sewe spitse, Salak, waar hy spog
En oor die oerwoud opkyk na die son,
En dwars oor paddieveldeGa naar eind78 na die see,
En neersien op die land van Wehstenburg,
Oor SoekaradjaGa naar eind79 en oor Buitenzorg,
En oor die geil vergroende groei van veld
En wilde donkerpurper lommer pronk -
'n Paradys die wêreld deur vergeur
Met donserig'geur van duisend soorte dons -
Daar was my paradys.Ga naar eind80
By die ingang tot die tuin het die goud- en silwersmede hulle uitstallings, terwyl sommige handelaars ook krisse, die Javaanse sabels of snymesse met hulle pragtige versierings en inlegwerk van goud en edelgesteentes te koop aanbied. In sy reisverslag sê Leipoldt dat hy 'n paar van dié krisse gekoop het.Ga naar eind81 'n Mens kan bedenkinge hê by die kwistige meervoudsvorm wat hy hier gebruik, want 'n waardevolle kris, wat altyd 'n erfstuk is, kos heel wat geld en is nie maklik te kry nie. Een van die krisse | |
[pagina 356]
| |
wat hy saam met hom kon terugneem, was besonder kosbaar, maar dit was 'n present: ‘'n pragtige met pêrels ingelegde Bali-kris’.Ga naar eind82 Die kris is vir die Javaan 'n magiese dolk, meestal, hoewel nie altyd nie, met 'n gegolfde lem wat vanuit die greep na 'n skerp punt kronkel.Ga naar eind83 In ‘Van Noodt se laaste aand’ is dit 'n haat- en moordwapen wanneer Martha wraak op haar eertydse minnaar oorweeg: Een sieraad van die ou tyd was vir my -
Herin'ring van die reënboog-dae weg -
Sy kraal-versierde kris. Die hef daarvan
Was fynste elpebeen, robyn-bestèr,
Fraai uitgesny met Boeddhatjies wat bid;
Die staal daarvan was Samarkandse staal,
Geriffel, ingelê met Birma-goud,
In fyn fatsoen van varings ingevleg
Met driehoek-hakies duisendmaal herhaal.Ga naar eind84
Maar dit is veral die tuin wat Leipoldt beïndruk, die handewerk van J.E. Teijsmann, nog iemand wat, ondanks sterk teenstand uit Nederland, met toegewyde arbeid sy groot droom kon verwesenlik en vir wie Leipoldt in sy gedig ‘Buitenzorg’Ga naar eind85 huldig. Teijsmann is ook die persoon wat ‘kultuurplante’ soos kina, koffie, vlas, suikerriet, kanfer en ander soorte ingevoer en op dié wyse gesorg het vir produkte wat later die ruggraat van die Javaanse ekonomie sou vorm. Ná Teijsmann het dr. R.H.C.C. Scheffer en ná hom dr. Melchior Treub gevolg. Treub het die herbarium en die laboratorium met al sy onderafdelings ingerig en 'n lywige katalogus van al die plante opgestel. Afgesien daarvan dat dit studente van oor die hele wêreld lok, het die bestaan en die inrigting van die tuin nie alleen siektes van die Javaanse ‘kultuurplante’ help oplos nie, maar ook deur die invoer van nuwe gewasse groot dienste aan die land bewys. ‘'n Wandeling deur die tuin op Buitenzorg’, skryf Leipoldt, is die moeite werd. Die besoeker tree in die tuin deur die pragtige kanarieboom-laan, waarvan elke boom sestig tot honderd voet hoog is en besaai met blomme en varingplante. Op een van hulle was daar tydens my besoek 'n orchidee in volle bloei, so belaai met bloeisels dat dit onmoontlik was om hulle te tel. Pragtige rooi Freycinetias met swart-groen gepolyste blare rank teen die boomstam- | |
[pagina 357]
| |
me, en elke boom is in homself 'n klein tuintjie met vyf, ses verskillende soorte plante wat op hom groei. Die meeste van hierdie boomblomme is epiphyte wat hul voedsel uit die lug trek, en byna algar is donkergroen. Tussen die boomstamme deur is die marmersuil oor die graf van mev. Raffles sigbaar. Verder weg lê die vywer of waterplas met die groot blare van die Victoria regia, die waterplant waarvan die blare ses tot tien voet groot is en so stewig dat 'n kind daarop kan staan. Dáárlangs groei die ‘worsboom’ wat ook in Natal en Delagoabaai te sien is. Agter lê die Goewerneur se paleis, met daarnaas 'n boord van ramboetanbome - 'n soort lukwart wat rooi vrugte dra. Slingerplante is oral te sien en in die voortuin is daar oor die twaalfduisend soorte plante. Daaronder is die uppasboom een wat altyd die aandag van die besoeker trek, omdat daar 'n bygeloof is dat hierdie boom so giftig is dat iemand wat onder hom slaap, nie wakker word nie. In werklikheid is die uppas glad nie gevaarlik nie en dit is nogal 'n mooi boom. Miskien is die gedeelte van die tuin waar die orchideë staan die pragtigste, nie soos by ons in 'n broeikas nie, maar in die ope lug. As hulle in bloei is, dan maak hulle 'n wonderlike vertoning van kleur en vorm, en die besoeker kan ure lank onder hulle vertoef sonder om van hulle moeg te word.Ga naar eind86 Reeds op 28 Februarie, tydens sy eerste besoek aan Batavia, sien Leipoldt 'n gedenkteken wat hy in sy dagboek noteer maar waaroor hy geen woord in Uit my Oosterse dagboek rep nie, al wy hy in die Engelse teks van sy reisjoernaal 'n hele hoofstuk daaraan. Dit is die gedenkteken vir Pieter Elberfeld (soms ook Erberveld gespel), wettige halfbloed-seun van 'n welgestelde Duitse kolonis en 'n Javaanse vrou. Vroeg in die agtiende eeu was Elberfeld een van die vermoëndste en invloedrykste mense in die nedersetting. 'n Halfbloed het egter destyds nie al die regte en voorregte van die blanke koloniste gehad nie en Elberfeld was in hoë mate uitgeslote van die elite wat deur die regerende amptenare en die gegoede blankes gevorm is. Vandaar dat hy vir vriende en 'n sosiale lewe aangewese was op die inheemse gekleurde bevolking aan wie se lot hy hom, deur die skenking van groot bedrae geld vir liefdadigheid, met oorgawe as filantroop toegewy het. Met die verloop van jare het hy 'n vertroude leiersfiguur onder die Javane geword. Saam met 'n paar ander sweer hy in 1721 saam om op die eerste dag van 1722 alle Europeërs en hul halfbloed-simpatisante te vermoor, die heerskappy van die Vereenighde G'octroyeerde Oostindi- | |
[pagina 358]
| |
sche Compagnie (die VOC) omver te gooi en om die regering oor te neem. Ongelukkig vir Elberfeld en sy konfraters is hulle verraai, waarskynlik deur een van sy niggies wat op een van die Hollandse amptenare verlief was. Die regering het onmiddellik opgetree. Elberfeld se huis is tydens 'n byeenkoms van die samesweerders omsingel en almal is in hegtenis geneem. Vyftig van die belangrikste deelgenote is op verskeie maniere tereggestel, maar vir Elberfeld en Kartadrya, sy belangrikste vennoot, het die hof, soos Leipoldt dit in sy Engelse reisverslag stel, ‘a sentence of almost unexampled cruelty’ opgelê. ‘They were crucified on iron crosses,’ skryf hy, their right hands hewn off, and their bodies pinched in various parts with red hot pincers. And then, proceeded the sentence, ‘their vile bodies shall be cut to pieces, starting from the feet upwards, their hearts taken out from their chests and dashed violently into their traiterous faces, and their heads cut off by the executioner. Finally their dismembered remains shall be hung in chains before the city, and their houses razed to the ground.’ This atrocious sentence was carried out in all its details. Op die terrein van Elberfeld se huis is 'n stukkie van die muur behou. ‘It stands’, skryf Leipoldt, like a huge grave stone, and on it is a slab of coarse, ungainly greywacke, sculptured in Javanese and Latin characters. Above it, gauntly throning on the narrow ridge that forms the summit, unreachable by the climber, is a stone skull impaled on a spear point which sticks out through the dome. It is a large, white washed death head with staring eye sockets and a Goliath jaw, thrust forward in an eternal spasm of stony mockery. Such is the memorial of Pieter Elberfeld, traitor, philanthropist, rebel, hero, madman, genius, scoundrel, patriot, anything you please, but certainly and decidedly one who failed and paid the price for his failure. The inscription on the block of stone let into the wall gives, in quaint old world Dutch and curiously figured Javanese that looks like filigree tracery, the reason why this monument was put up. ‘To the damnable memory of Pieter Elberfeld, the punished Traitor. Nobody shall build, cultivate, or plant on this spot now or at any future time. Batavia, April 14, 1722.’Ga naar eind87 | |
[pagina 359]
| |
Die geskiedenis van Elberfeld het Leipoldt beetgepak. Dele van wat later ‘Van Noodt se laaste aand’ sou word, dra in een van sy aantekeningboeke oorspronklik die titel ‘Pieter Elberfeld’, terwyl hy in 'n later aantekeningboek 'n drama oor Elberfeld in Afrikaans beplan, bestaande uit 'n voorspel, ses bedrywe en 'n naspel. Hiervan het hy, terug in Suid-Afrika, aanvanklik twee gedeeltes, die tweede onvolledig, geskryf en later ook 'n skets vir die slotgedeelte gemaak. 'n ‘Samespraak in verse’ oor ‘Elberveld in die tronk’ verskyn in Die Huisgenoot van Augustus 1922, terwyl hy op 22 Februarie 1929 in sy rubriek ‘Diwagasies van oom Gert’ in Die Volkstem oor die hele geskiedenis skryf. Kort voor sy dood het hy nog aan sy vriend Markus Viljoen vertel dat hy 'n drama in Engels oor Elberfeld beoog, maar onder sy nalatenskap is daar slegs 'n ontwerp vir ‘A tragedy in three acts’ oor dié figuur.Ga naar eind88 Elberfeld sou trouens tot die publikasie van Henriette Grové se Ontmoeting by Dwaaldrif in 1980 moes wag voordat sy ‘versoek’ aan Leipoldt om sy skanddood reg te stel en sy naam aan die vergetelheid te ontruk, beantwoord word in 'n drama oor die begrip ‘vryheid’ en veral die verskil tussen ‘feite’ en ‘versies’, die historiese feitelikheid van die geskiedkundige en die waarheid wat die digter deur sy vers ontdek. Van Leipoldt se voltooide stukke oor Elberfeld is die gedig ‘Hier sal geen mens’ in Geseënde skaduwees, oorspronklik in die Nuwejaarsnommer vir 1924 van Die Burger, die volledigste. Hierdie gedig begin met 'n toespeling op die woorde op die gedenkteken: Hier sal geen mens òf plant òf saai òf oes,
Hier sal geen mens òf bid òf aalmoes soek;
Bly dit vir altyd aaklig en verwoes,
'n Vlek op aarde, want dit is vervloek!
Daardie gekalkte skedel was van hom
Wat eenmaal eervol man was in sy land,
Fortuin se gunsteling, bemind alom,
'n Milde patriot met ope hand.
En dit is alles wat daar oorbly nou -
Die witgekalkte doodskop op die hoek;
Die grafklip hier, die boom daarginds wat rou;
En op die grafklip is gegrif die vloek.
| |
[pagina 360]
| |
Die grou gragwater spieël die hemel af
Die apies klouter in die takke rond;
'n Keffertjie staan onderaan en blaf;
Die skedel gooi 'n skadu op die grond.
Nee, hier sal geen mens plant of saai of oes,
En niemand sal hier skuil of uitkoms soek;
Vir altyd dood, verlate en verwoes,
Bly dit 'n skandvlek, want dit is vervloek.Ga naar eind89
Waarom het Leipoldt niks oor die boeiende en dramatiese geskiedenis van Elberfeld in Uit my Oosterse dagboek geskryf nie? In sy voorwoord sê hy dat sommige indrukke wat die Afrikaner in Nederlands-Oos-Indië kry, nie in 'n boek wat vir die gewone leser bedoel is, ter sprake kan kom nie, aangesien die Afrikaanse leser ‘nog baie prikkelbaar en oorgevoelig is wat kritiek oor ons eie aangeleenthede betref’. Daarom het twee van die hoofstukke wat destyds in Engels geskryf is, dié oor die sending in die Ooste en dié oor wat Leipoldt ‘die kleurlingkwessie’ noem, in die Afrikaanse teks verval. Waarskynlik het Leipoldt gevoel dat die hele vraag of Christelike sendingwerk moreel verdedigbaar is onder hoogs beskaafde Moslems wat reeds oor 'n stel waardes en 'n ontwikkelde godsdiens beskik, te sensitief vir die Afrikanergemeenskap van sy tyd sou wees. Wat die politiek betref, kritiseer hy in twee hoofstukke wat hy wél opneem, die beleid van die VOC om die inheemse bevolking as onderdane sonder enige burgerregte te beskou en trek hy, met verwysing na Multatuli, te velde teen die sogenaamde kultuurstelsel wat op die willekeurige beskikking oor persone en eiendomme van die onderhoriges neerkom. Wat die landbouer betref, skryf Multatuli in sy Max Havelaar, ‘verplicht (de Regering) hem op zyn grond aan te kweken wat haar behaagt, ze straft hem wanneer hy het aldus voortgebrachte verkoopt aan wie het ook zy buiten háár, en zyzelf bepaalt den prys dien ze hem daarvoor uitbetaalt. De kosten op den overvoer naar Europa, door bemiddeling van een bevoorrecht handelslichaam, zyn hoog. De aan de Hoofden toegelegde aanmoedigingsgelden bezwaren daarenboven den inkoopsprys, en...daar toch tenslotte de gehele handel winst afwerpen moet, kan deze winst niet anders worden gevonden dan door juist zóveel aan den Javaan uit te betalen, dat hy niet sterve van honger, hetgeen de voortbrengende kracht der natie verminderen zou.’Ga naar eind90 Hy | |
[pagina 361]
| |
gaan voort: ‘Wel wordt dus de arme Javaan voortgezweept door dubbel gezag, wel wordt hy dikwyls afgetrokken van zyn rystvelden, wel is hongersnood vaak het gevolg van deze maatregelen...doch vrolyk wapperen te Batavia, te Semarang, te Soerabaja, te Pasoeroean, te Besoeki, te Probolinggo, te Patjitan, te Tjilatjap, de vlaggen aan boord der schepen, die beladen worden met de oogsten die Nederland ryk maken.’Ga naar eind91 Die feit dat die kultuurstelsel tot die ekonomiese ontwikkeling van Java bygedra het, neem vir Leipoldt, soos vir Multatuli, nie die feit weg dat dit eties 'n mislukking was nie.Ga naar eind92 En Leipoldt laat nie na om sy Afrikaanse lesers op die verwante situasie in Suid-Afrika te wys nie. In sy slothoofstuk, wat hy in 1931 of vroeg in 1932 voltooi toe hy die Afrikaanse teks van sy reisverslag vir publikasie moes gereed maak, gaan Leipoldt verder. Dié hoofstuk is geskryf ná die Nasionale Party onder Hertzog se verkiesingsoorwinning van 1929 op grond van die gevaar van swart oorheersing indien die beleid van Smuts en 'n groter rassegelykheid veld sou wen.Ga naar eind93 Teen dié agtergrond skryf Leipoldt: ‘Een van die allergrootste vrae wat die Afrikaner homself moet afvra, is in hoever hy die sedelike reg het om in 'n land met 'n gemengde bevolking 'n afsonderlike politiek uit te voer waarin die inboorling nie regstreeks aandeel of seggenskap het nie.’Ga naar eind94 In ‘Reflections on a stone skull’, die hoofstuk oor Elberfeld in die ongepubliseerde Visitto the East Indies, gaan Leipoldt selfs verder. Hy wys daarop dat die ‘colour question’ in Nederlands-Oos-Indië bevredigend en op die enigste moontlike logiese wyse opgelos is, naamlik om huwelike tussen mense van verskillende rasse te wettig. Die kinders uit sulke huwelike vorm ‘a cementing tie between the two races which is bound to have its influence on the future of both’. Volgens Leipoldt was die algemene mening tot dusver dat die halfbloed al die foute en weinig verdienstes van die twee rasse kombineer. ‘We forget’, gaan hy voort, that he has been produced under the worst possible conditions, from, usually, the most vitiated stock on one side at least, and has grown up in the most pernicious moral atmosphere in which a child can be trained. When, therefore, we are faced with half breeds who have arisen from legal marriages of stock that may be regarded as selected, and who have been brought up in a congenial atmosphere and with the rights of ordinary children, we are at once struck by the excellent physical and mental qualities which they possess.... I am well aware that there are authorities who state the contrary, and who | |
[pagina 362]
| |
allege that from an ethnological point of view such intermixture is bad for both races and that endogamy is the ideal principle for the whites. But I am unaware that such an opinion is backed by evidence that convinces, while the testimony of exogamy among all nations is strongly in favour of mixing the breeds. Leipoldt was waarskynlik reg dat sy Afrikaanse lesers indertyd, nog voordat daar van apartheid as 'n politieke beleid sprake was, skeef sou opgekyk het by so 'n standpunt, veral komende van iemand wat op grond van sy verse oor die Anglo-Boereoorlog as ‘volksdigter’ voorgehou is. In Julie 1942 sou hy egter in 'n praatjie voor die Sons of England oor ‘Suid-Afrika ná die oorlog’ 'n gemengde ras êrens in die toekoms vir Suid-Afrika voorspel en die oortuiging uitspreek dat dit nie noodwendig 'n ontaarding sal beteken nie. As voorbeeld verwys hy na Amerika, waar 'n volk uit baie elemente, onder wie die Indiane, saamgesmee is. Ons moet daarom, gaan hy voort, van die valse voorstelling van 'n gemengde ras as 'n soort degenerasie wegbeweeg.Ga naar eind95 Wat Leipoldt in 1942 nie kon voorsien het nie, was dat daar ná sy dood 'n regering in Suid-Afrika aan die bewind sou kom wat, in 'n poging om ‘blanke baasskap’ tot in die oneindige te perpetueer, nie alleen alle huwelike tussen blankes en gekleurdes nie, maar ook alle seksuele kontak tussen hulle deur die wet ontoelaatbaar sou maak. Op 4 April verlaat die SS Ulysses die hawe van Tanjungpriok vir die terugvaart na Brittanje. Tydens die seereis skryf hy sy indrukke van die land vir 'n artikel in The South African News, maar begin hy ook reeds met die Engelse verslag van sy ervarings. Op 17 April vaar hulle verby Sokotra, op 20 April is hulle in die Rooi See en op 24 April bereik hulle die Suezkanaal. Na 'n dag of wat in Port Saïd vaar hulle verder in die Middellandse See. In hierdie stadium ondervind Leipoldt las van 'n asma-aanval, wat hy met chloroform-inaseming probeer stuit. Op 6 Mei is hulle in die Baai van Biskaje. Op 10 Mei kom die skip in 'n mistige Amsterdam aan en dieselfde middag besoek Leipoldt die Rijksmuseum, waar hy Pienneman se skets van die oorgawe van die Javaanse prins Diponegoro aan die Hollandse heersers besigtig. Diponegoro, seun van die sultan van Yogyakarta, het in 1825 'n oorlog teen die Hollandse oorheersing begin, maar het hom in 1830 self aan die bewindhebbers oorgegee en is daarna gevonnis en verban. ‘Whether he voluntarily surrendered himself or whether his confidence was abused’, skryf Leipoldt in sy Visit to the East Indies, ‘is not quite clear, but | |
[pagina 363]
| |
with his imprisonment and exile to Macassar the war ended. He died in 1855, respected by his former opponents as a man of courage and talent whose career had been checked...by his passionate love of independence and his desire to free his country from all taint of foreign rule.’ In die gedig ‘Dipa Negara’ huldig Leipoldt hierdie man: Wie meely oor het in sy manlik' hart
Vir moedige misslag en mislukte doel;
Wie vir 'n vyand self erbarming voel
In diepste neerlaag en in droefste smart;
Wie weet hoe ru die Noodlot ons kan tart;
Hoe vryheidshartstog in die hart kan woel;
Hoe sonde deur berou word afgespoel;
Hoe rassetrots die reinste siel verswart -
Gee hom 'n woord van eerbewys, want hy
Het geprobeer met moed, misluk met moed
En kloek sy harde noodlot getrotseer.
Nie syne nie die lot te lewe vry
Ná braaf geofferde heldekrag en -bloed;
Net dit te win - die meely wat hom eer!Ga naar eind96
‘The simple oil canvas’ wat Leipoldt in die Rijksmuseum sien, so skryf hy, ‘shows the native prince, with his calm almost spiritual face, turned heavenwards, reaching his hands for his kneeling retainers to kiss for the last time. Behind him stands the Dutch officer, at the side a native lancer; in the background is the white villa of the Resident overshadowed by palms, and above the clear blue sky of Insulinde.’ Hoewel die skets nie vir Leipoldt die Oosterse atmosfeer bevredigend oordra nie, beïndruk dit met die direkte eenvoud en die stille krag en grootsheid van die sentrale figuur in sy eensaamheid en waardigheid. Met die nagboot tussen die Hoek van Holland en Harwich verlaat Leipoldt Amsterdam op 11 Mei en die volgende dag kom hy aan in Londen, waar hy in die Hotel Faulkner tuisgaan. Die reis na die Ooste was vir Leipoldt se herstel ná die operasie en vir sy afgematte gestel nie alleen goud werd nie, maar ook 'n ervaring wat hom geestelik verruim het en waarop hy vir sy skeppende werk baie lank kon teer. Wanneer hy op 1 Oktober 1912Ga naar eind97 aan Lulu Bolus skryf, kan hy nie uitgepraat raak oor die oorheersende groen van die natuur en hoe fantasties | |
[pagina 364]
| |
die mense is nie. ‘You must go one day and see for yourself!’ skryf hy. ‘Buitenzorg surpasses description; the Bornean forest at night outshines (or outdarkens if you like it better) anything I have seen in the Kei, in Central or South America.... You must cook in the glorious sun that hazes the foreshore and makes a paradise of every clump of greenery it touches: you must watch and learn to know the people. Oh, such people! I have never seen any like them...They are handsome in face and figure, but they possess something more distinctive... - imagination in their talk, intelligence, a sort of wild docility if you can imagine such a thing.... I never saw or mingled with folk I grew to like so much in so short a time.’ Sy belewing was egter, soos hy in Uit my Oosterse dagboek sê, veel korter as wat hy sou gewens het.Ga naar eind98 Of hy Suid-Afrika vir Oos-Indië sou wou verruil? Hy vind dit moeilik om op so 'n persoonlike vraag 'n ondubbelsinnige antwoord te gee. As hy dink aan die ‘gordel van smaragd’,Ga naar eind99 as ek in verbeelding die statige bosse sien, die natuurweelde van kleur en jaar-in, jaar-uit bloeiende groen, die vrugbare grond wat sestigvoudig weergee wat daarin gesaai word, die skilderagtige deurmekaar van velde en berge en riviere wat die landskap aldaar so totaal anders maak as wat dit hier is, dan moet ek eers die beeld van ons ou Tafelberg, van ons fraai September-Karroo, van ons Skiereilandprag en ons eie kuswêreld se skoonheid voor my oë hou om die vergelyking nie alte baie ten gunste van Java te laat word nie.Ga naar eind100 In sy reeks verse oor die Ooste stel hy dit nog positiewer ten gunste van Suid-Afrika. ‘Die wêreld hier is baie mooi’, skryf hy in ‘Insulinde’, ‘Maar hou sy prag, en gee vir my ons vaal, vlak ou Karoo!’Ga naar eind101 En indien hy nie meer in hierdie Karoowêreld van hom kan aard nie, wil hy by die afskeid 'n nuwe vaderland hê: Mirakelland van oerwoud en vulkaan
Ek groet jou in jou glorie! Elke teug
Van die koel suidewind hernu my jeug
En maak my amper kind weer, en verslaan
'n Dampwolk van gedagtes en die waan
Dat net maar in die wes die lewensvreug
'n Weerklank vinde, en dat trou en deug
Alleen kan bloei in lande waar die maan
| |
[pagina 365]
| |
Oor louter ys en wit kapok sy glans
Op wintermôres werp. Ag, ek gewaar
My liefde groei tot byna bo verstand!
Ken ek nie meer my eie koppie en krans,
My hoogland-vlak van Beaufort tot De Aar,
Leen dan vir my 'n nuwe vaderland!Ga naar eind102
| |
VNá sy aankoms in Londen is Leipoldt 'n paar dae lank in die Britse Museum met naslaanwerk vir sy Visit to the East Indies besig en skryf hy verder aan sy reisverslag. Op 6 Julie voltooi hy die manuskrip. Hoewel geen brief aan 'n uitgewer bewaar gebly het nie, het hy dit waarskynlik sonder welslae vir publikasie voorgelê.Ga naar eind103 Eers omtrent twintig jaar later sou hy dit in 'n Afrikaanse verwerking in Die Huisgenoot en in 1932 in boekvorm publiseer. Kort ná sy terugkeer locum hy weer vir dr. Maitland en daarna vir dr. Daniell. Teen einde Augustus is hy terug in sy ou pos by die London Council County as skooldokter. Hy geniet dit opnuut om met kinders te werk en wy baie van sy tyd aan die Boys' Club naby die kamers op Ampthill Square wat hy intussen gehuur het. In 1913 gaan hy met 'n groep kinders op reis deur België. Hy skryf aan die verse wat later in Uit drie wêrelddele opgeneem sou word en voltooi ook die drama Die laspos, wat eers later sou verskyn. Maar toenemend, so skryf hy aan sy oom Ewald Esselen, is daar nou ‘the call of South Africa, insistent and clamorous’, soos daar vroeër ‘the call of the East’ was.Ga naar eind104 Hy oorweeg die moontlikheid om private sekretaris vir Esselen te word of om in Johannesburg te gaan locum. Op 25 Augustus 1913 ontvang hy 'n brief van die Suid-Afrikaanse Departement van Verdediging waarin die pos van adjudant van mediese eenhede, met die opdrag om lesings te gee en om mediese dienste te verrig, hom aangebied word. Vanweë die karige salaris en die diensvoorwaardes kan hy dit egter nie aanvaar nie. Kort daarna verneem hy dat die Transvaalse Onderwysdepartement van plan is om 'n stelsel van mediese inspeksie van skole te skep. Een van sy korrespondente het hom 'n verslag gestuur waarin op die hoë persentasie van siek of gebreklike kinders in Transvaalse skole gewys is, 'n verslag wat, hoewel onvolledig, die aandag op die groot nood in dié provinsie gevestig het. Op 18 November 1913 ontvang hy 'n telegram van die administra- | |
[pagina 366]
| |
teur van Transvaal wat hom vra om aansoek te doen om die nuwe pos van mediese inspekteur van skole in dié provinsie. Die salaris sou £800 per jaar wees, met 'n inkrement van £25 per jaar tot 'n maksimum van £950. Hier was nou vir Leipoldt 'n kans om, met 'n vaste betrekking in die vooruitsig, na Suid-Afrika terug te keer en dieselfde werk te doen waarvoor hy in Londen 'n hartstog ontwikkel het. Sy eerste stap was om die hele aangeleentheid met dr. James Kerr te bespreek. Kerr was dadelik entoesiasties. Dat Leipoldt in Transvaal 'n kleiner salaris sou ontvang, was vir hom geen oorweging nie. Om 'n skoolmediese diens uit die niet op te bou en pionierswerk te verrig, was egter 'n geleentheid wat 'n jong ondernemende man nie kon afwys nie. Daarom raai hy Leipoldt sterk aan om aansoek te doen. Met 'n getuigskrif van Kerr en met Centlivres in Suid-Afrika en Chiappini en Burdett in Londen as sy referente doen Leipoldt dan aansoek om die betrekking. Op 30 Januarie ontvang hy 'n kabel dat hy aangestel en dat nadere besonderhede aan die hoë kommissaris in Londen gestuur is. Hy kon egter nie dadelik vertrek nie en wou ook eers in min of meer vergelykbare gebiede meer van die administrasie van skoolmediese inspeksie te wete kom. In Engeland besoek hy die diens in die West Riding-area van Yorkshire, waar die skole ver uitmekaar gelê het en die inwoners betreklik arm was. Hy neem ook die kans waar om nog eens die toestand in België en Noord-Frankryk te gaan bekyk en hom op die terugreis op die hoogte te stel van die Rotterdamse stelsel. Hy bestudeer ook 'n breedvoerige verslag oor die stelsel in Argentinië en Japan.Ga naar eind105 Dit was vir Leipoldt geen aangename vooruitsig om van sy kring en skole afskeid te neem nie, want in die tyd dáár het hy baie goeie vriende gemaak en baie lekker en met vrug gewerk.Ga naar eind106 By sy vertrek skryf dr. T. Hancock Nunn van die Hampstead Council of Social Welfare in 'n persoonlike brief aan Leipoldt dat ‘the gain to the Transvaal will be a very heavy loss to Hampstead, and I know that everyone will share my very deep personal regrets that you have been with us so short a time’. Op 3 Februarie skryf sy vriend dr. James Kerr: ‘I congratulate you very heartily on the chance that has come to you. You ought to be able to make the Transvaal teach the old country lessons in school work in a short time, if you so contrive it that each worker can find selfexpression in his work, and get credit out of it - and make the desire for school doctoring and its benefits a spontaneous upgrowth among the people rather than a routine impressed upon them.’ | |
[pagina 367]
| |
Leipoldt se gedagte was om Brittanje op 18 April 1914 te verlaat. Aangesien sy dienste egter dringend nodig is, word hy versoek om reeds vroeër te vertrek. Op 4 April 1914 verlaat hy dan Londen vir goed en reis hy met die Armadale Castle van Southampton na Kaapstad. |
|