Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 290]
| |
Hoofstuk IX
| |
[pagina 291]
| |
Zuid Afrika het baai seuns gespeen
Deur al die jare van ons eerste stryd
In sonskyn pret en swartvolGa naar eind4 onweerstyd
Van kinners tot half reuse maar geen een
Het hooer peil bereik als hy en leen
Sy land so groot 'n glorie. Ver en wyd
Van waar die water droppel deur die kryt
In Cangos grot tot waar Sambesi ween
Sy duisend trane oor die donker bos
Staan ver ons fas gefondament sy naam
Als sieraad ver sy volk die roem daarvan.
Los uit die wereld worstelwoede, los
Van laak of prys van byval of van blaam
Vas in ons hart ver altyd Onze Jan.Ga naar eind5
Maar ook met ander gebeurtenisse, sowel in Brittanje as op die vasteland van Europa, leef Leipoldt in dié jare intens mee. In 1905 kom die Liberale Party met Henry Campbell-Bannerman as premier aan die bewind, terwyl Leipoldt se vriend Ramsay Macdonald, iemand wat tydens die Anglo-Boereoorlog sterk kritiek op Brittanje se krygsverrigtinge gehad het, in 1911 leier van die Arbeidersparty word. In 1908 word Campbell-Bannerman opgevolg deur Herbert Asquith. In 1910 sterf koning Edward VII na slegs enkele jare op die troon. In 1911 vind die kroning van George V plaas, maar 'n mens kan jou voorstel dat die aweregse Leipoldt, wat nooit juis op uiterlikhede gesteld was nie, nie veel erg aan die vertoon en praal van optogte deur die strate sou gehad het nie. Met al die besoekers wat vir die plegtigheid na Londen stroom, vind Harry Bolus en Lulu Kensit dit moeilik om plek op 'n skip te bekom.Ga naar eind6 Die vervolging van die Jode in Rusland en die opkomende Bolsjewisme van Lenin, wat juis in hierdie jare in Londen woon, gaan nie by Leipoldt verby nie. Op sy besoek aan Duitsland in 1908 val die militarisme van veral die Pruise hom teen en spreek hy profeties die vermoede uit dat dié ingesteldheid die een of ander tyd op 'n oorlog met Brittanje sal uitloop. Op die gebied van die letterkunde is George Bernard Shaw in Leipoldt se Londense jare as skrywer die meeste in die kalklig met sy stroom dramas, vanaf Man and Superman (1903) tot Pygmalion (1912), al trek J.M. Barrie ook die aandag met sy speelse Peter Pan (1903), wat baie gou 'n gewilde werk vir die toneelrepertorium word. In 1908, wanneer Leipoldt in Duitsland studeer, verskyn Rainer Maria Rilke se magtige bundel Neue Gedichte, ter- | |
[pagina 292]
| |
wyl Thomas Mann se Der Tod in Venedig en H.G. Wells se The new Machiavelli in 1911 gepubliseer word. 'n Mens kan aanvaar dat Leipoldt, selfs al het hy hulle almal dan nie sorgvuldig gelees nie, van hierdie werke by hul eerste publikasie kennis geneem het, want as leser was hy iemand met 'n omnivore aptyt wat alles verslind het wat hy in die hande kon kry. Wanneer hy in dié jare op 'n besoek aan Venesië 'n lys van die honderd beste boeke opstel, is dit juis opvallend hoe uiteenlopend sy smaak in verskeie tale is. Buiten Keats en Milton se poësie, wat hy vooropstel, sluit hy filosofiese werke van Spinoza en Locke naas die Talmud en die Koran in, maar ook die gedigte van Longfellow en Tennyson. Onder die Engelse romans wat hy noem, is daar die bekendes van Dickens, Scott se Heart of Midlothian, Austen se Pride and prejudice en Fielding se Tom Jones. In Duits sonder hy Goethe se Faust, Heine se poësie, Schiller se Maria Stuart en Grillparzer se dramas uit, terwyl hy in Frans Hugo se Les misérables en Molière se L'Avare noem. In Latyn word Lucretius, Vergilius en Cicero spesiaal vermeld, in Russies Tolstoi se Oorlog en vrede en Dostojewski se Misdaad en straf, terwyl hy ook die groot werke van Camõens in Portugees en Cervantes in Spaans noem. Wat Nederlands betref, figureer, naas Multatuli en Limburg Brouwer, skrywers wat hy reeds as kind leer ken het, ook Van Lennep, De Genestet, Beets, Couperus en Bosboom-Toussaint. Opvallend dat van Shakespeare net A midsummernight's dream op sy lys verskyn. Jare later sou Leipoldt beweer dat hy Grillparzer as 'n veel groter skrywer as Shakespeare beskou. Met die bewindsoorname van die Liberale Party, wat sterk krities teenoor die Konserwatiewe regering se oorlogsoffensief was, kom daar van Britse regeringskant 'n toeskietliker beleid teenoor die twee gewese republieke in Suid-Afrika en 'n begeerte om aan dié kolonies 'n sekere mate van onafhanklikheid toe te ken. In 1905 word Louis Botha, een van die bekwaamste generaals in die oorlog, die hoofleier van Het Volk-party in Transvaal. Met die toekenning van verantwoordelike bestuur word hy premier en saam met J.C. Smuts predik hy 'n beleid van ‘vergewe en vergeet’, met as hoofdoel die bevordering van samewerking en eensgesindheid tussen die twee blanke volksgroepe. In 1908 word Leipoldt se ou vriend Merriman eerste minister van die Kaapkolonie. Wanneer 'n premier vir die nuutgestigte Unie van Suid-Afrika in 1910 gekies moet word, gee Brittanje egter om oorwegings van versoening voorkeur aan die Boeregeneraal Botha bo die meer gesoute politikus Merriman. Leipoldt word deur die Manchester Guardian gevra om van sowel die totstandkoming van die Unie as die eerste Volksraadsverkiesing verslag te doen. | |
[pagina 293]
| |
Intussen het daar reeds teen die verengelsingsbeleid van lord Alfred Milner onmiddellik na afloop van die oorlog 'n reaksie begin intree. In 1905 lewer Hofmeyr op Stellenbosch sy beroemde toespraak ‘Is 't ons ernst?’ waarin hy die volk oproep om die Hollandse taal te handhaaf. Hierop antwoord Gustav S. Preller in De Volkstem met 'n reeks artikels Laat 't ons toch ernst wezen! Die skryftaal, sê Preller, wyk in so 'n mate van die gesproke moedertaal af dat Afrikaners dit as 'n vreemde medium ervaar en hulle eerder vir die uitbouing van hul eie taal moet beywer. Wanneer dié reeks artikels kort daarna as brosjure gepubliseer word, haal Preller Eugène Marais se ‘Winternag’ uit Land en Volk van 23 Junie 1905 aan as voorbeeld van waartoe Afrikaans reeds in staat is. Saam met Jan F.E. Celliers se gedig ‘Die vlakte’, oorspronklik in De Volkstem van 12 Mei 1906, staan ‘Winternag’ aan die begin van die bewuste literêre tradisie in Afrikaans. In 1906 verskyn ook J.H.H. de Waal se historiese roman Johannes van Wyk en Preller se geskiedkundige studie Piet Retief, terwyl die eerste twee digbundels van die nuwe beweging, Totius se Bij die monument en Celliers se Die vlakte en andere (later: ander) gedigte, in 1908 gepubliseer word. Wanneer Leipoldt hom jare later in sy Bushveld doctor oor hierdie vroeë Afrikaanse geskrifte uitspreek, skryf hy ook oor die klaarblyklike geskiktheid van Afrikaans as medium vir Afrikaners om hulle diepste gedagtes uit te druk, al kan 'n mens by sommige van sy opmerkings vraagtekens plaas. ‘It is old Dutch as spoken by the first settlers,’ sê hy, ‘modified by usage into an inflexionless language that abounds in short syllables and open vowels, and is eminently suited to express the feelings of a simple people who delight in homely, domestic similes and who are by nature emotional and sentimental. Like English it is adaptable; it borrows readily, sometimes picturesquely colouring its loans and savouring them with a refreshing, idiomatic, racily pungent flavour.’Ga naar eind7 Die eerste gedigte van Celliers en Totius, gaan hy voort, ‘(were the) first indications of the cultural value of Afrikaans (and) had an almost immediate and lasting effect upon the development of the language, for they showed the people who used it that they talked something that was no longer a mere 'kitchen Dutch' but a vernacular that could hold its own with English as a competitor in the cultural development of the nation.’Ga naar eind8 Aanvanklik sou dit in Londen vir Leipoldt, wat hoofsaaklik Engelstalige koerante uit Suid-Afrika in die Britse Museum kon raadpleeg, moeilik gewees het om van al hierdie nuwe ontwikkelinge op die hoogte te kom. Deur middel van Johannes Smith, iemand vir wie hy reeds in 1907 | |
[pagina 294]
| |
in Londen leer ken het en wat intens geïnteresseerd was in die ontwikkeling van Afrikaans as taal, sou hy egter weldra met dié vroeë geskrifte kennis maak. Smith, wat sy B.A. aan die Victoria Kollege op Stellenbosch voltooi het, was in hierdie jare student in tale aan die Londense University College, maar het ook 'n regskursus by die Middle Temple gevolg. In 1918 sou hy die eerste persoon word wat 'n leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch beklee. Veral ná 1909, die jaar toe Smith sy regstudie voltooi en in die huwelik getree het, was Leipoldt 'n gereelde besoeker by hom en sy vrou in hulle woning naby Hampstead Heath. Saam, so kon Smith later vertel, het hulle gedagtes oor die literatuur gewissel en werke soos The strange case of Dr. Jekyll and Mr. Hyde van Stevenson en The faerie queen van Spenser gelees. Dikwels het Leipoldt dan vroeg in die aand oorgekom en eers in die kombuis 'n gereg berei.Ga naar eind9 Dat Leipoldt in hierdie jare baie goed met Smith bevriend was en dat Smith hom op die hoogte gehou het van die ontwikkelinge in Afrikaans, lei 'n mens ook af uit 'n brief van Leipoldt op 14 Februarie 1913 aan Ewald Esselen. ‘Johannes Smith’, skryf hy, ‘is my very good friend, a very hot Afrikaner who keeps me from forgetting that I ought to be one myself. He did his B.A. at Stellenbosch under Viljoen and then came here to take his London B.A. and M.A. in Teutonic languages, specialising in Anglo-Saxon and cognate languages. Incidentally he took his law and won the scholarship at the Middle Temple, but he does not intend to practise and lives quietly with his wife at Hampstead where he devotes himself wholly to Afrikaans, being examiner for the War Office in that subjectGa naar eind10 and a translator with more work than he can do. He has been offered several appointments at Stellenbosch but has refused them because they are assistantships which do not give him a vote on the senate. He is 'tainted' with modernism as our predikante would say, and is therefore not quite personagratissima with the powers that made Broome resign because he opposed Marais's antiquated notions about cosmogony. I heartily sympathise with him. Meanwhile he is president of our little Afrikaans Studenten Vereeniging which flourishes exceedingly though the membership is small.’ Uit al hierdie mededelings kan 'n mens aflei dat die onortodokse, aweregse Leipoldt met sy afkeer van predikante en Afrikanerintriges in Smith 'n geesgenoot gevind het. En die werk van Marais, Celliers en Totius sou by hom die gedagte kon laat ontstaan het dat ook hy graag een van die eerstelinge in hierdie taal, waaroor sy vriend Smith nou so gaande was, wou wees. | |
[pagina 295]
| |
IIMaar vir eers was Leipoldt met ander skryfwerk besig. Van tyd tot tyd onderneem hy steeds joernalistieke werk vir die koerante en tydskrifte waarvan hy deur die jare medewerker was. Toenemend skryf hy egter, naas die verslae wat hy gereeld as skooldokter van die London County Council moes opstel, wetenskaplike artikels op sy vakgebied, soos sy ‘Some remarks on omnopon anaesthesia’ wat in 1911 in The Lancet verskyn. Intussen het hy begin voel dat hy nou oor genoeg materiaal beskik om hom aan 'n werk in boekvorm te waag. Reeds in 1909 was daar soveel belangstelling vir sy artikels oor nagraadse mediese studie in Duitsland in The Hospital dat die Scientific Press dit in brosjurevorm onder die titel The ideal graduate study institution: What Germany has done laat druk het. Maar 'n volledige boek was hierdie brosjure van twee en dertig bladsye nie. Vir 'n werk van groter omvang, het hy gevoel, wou hy 'n gebied kies waarin hy gaandeweg al hoe meer begin belang stel het, naamlik die verband tussen die geneeskunde en die kookkuns. In die sewentiende en die agtiende eeu, so het hy in sy studie van die kulinêre kuns agtergekom, is baie van die Engelse kookboeke deur mediese praktisyns geskryf, terwyl skrywers in die negentiende eeu toenemend die aandag op die belangrikheid van 'n gesonde dieet begin vestig het. Dr. Joseph Lister, die dokter van koningin Anne, het by geleentheid opgemerk: ‘No man can be a good physician who has not a competent knowledge of cookery.’Ga naar eind11 Van hierdie opmerking was Leipoldt bewus. 'n Uitspraak wat hom besondere plesier verskaf het en wat hy ook by geleentheid aanhaal, was dié van dr. Samuel Johnson: ‘For my part, I mind my belly very studiously, and I look upon it that he who does not mind his belly will hardly mind anything else!’Ga naar eind12 In sy eerste volledige werk in boekvorm verbind Leipoldt dus sy kennis van die geneeskunde en die kookkuns. Dit is 'n werk van 243 bladsye wat hy in 1911 by die Londense uitgewersfirma Williams & Norgate onder die titel Common-sense dietetics publiseer. Dit word opgedra aan sy vriend en kollega Valentine St. John, waaruit 'n mens kan aflei hoe goed hulle verhouding in hierdie jare was. Die boek is 'n inleiding wat gerig is op die gastrosoof, ‘a person’, so verklaar Leipoldt die begrip, ‘who, having carefully studied dietetics and the art of eating, pays the greatest attention to the general principles while at the same time allowing himself the widest latitude in their application to his habits of dining. He is the dietetic artist, the expert who | |
[pagina 296]
| |
knows how to eat, when to eat, and what to eat; who never permits convention to interfere with his appreciation of a tasty and wholesome dish, and who despises the dictates of fashion that attempt to make him sit down to a meal which he cannot relish.’Ga naar eind13 By die aanvang word die behoefte aan 'n boek soos dié gestaaf deur die verwysing na boeke wat die voorafgaande halfeeu oor dieetkunde gepubliseer is, 'n aanduiding van die uitgebreide verwysingsveld wat Leipoldt deur sy leeswerk op dié gebied verwerf het. Reeds in die inleiding lê hy die verband tussen goeie gesondheid en gesonde eetgewoontes. Hy skryf: ‘A knowledge of the rudiments of the science and art of feeding - in other words, of the principles of dietetics - is of the greatest service to anyone who wishes to preserve his health, and to couple with such preservation the enjoyment which comes from a sane and liberal use of the senses with which nature has endowded him.’Ga naar eind14 Daarna staan Leipoldt stil by die basiese dele waaruit die menslike liggaam saamgestel is, hoeveel voedsel hy nodig het, watter rol ouderdom, werk en omgewing in sy voedselinname speel, en die gevare van ‘diet fads and fallacies’ aan die een kant en van ooreet aan die ander kant. Die boek sluit af met 'n kort geskiedenis van die kuns van eet en die bydrae, met voorbeelde van hul spyskaarte, van beroemde sjefs soos Carême, La Chapelle en Brillat-Savarin tot die kulinêre bedryf. Common-sense dietetics is, soos 'n mens van die bedrewe joernalis Leipoldt in hierdie tyd kan verwag, 'n boeiende, vlot geskrewe boek met talle staaltjies ter illustrasie van uitsprake, nie 'n onleesbare tegniese handleiding oor voedsel en voeding nie. Daarby aarsel Leipoldt nie om 'n gesonde, ewewigtige standpunt in te neem oor sake waarvan hy oortuig is nie, selfs in gevalle waar dit indertyd teen die stroom ingegaan het. So byvoorbeeld sê hy, anders as wat destyds in Brittanje geglo is, dat wyn tydens etes nie alleen nié die normale spysvertering versteur nie, maar dit in sommige gevalle juis aanhelp.Ga naar eind15 Groot hoeveelhede alkohol, gaan hy voort, ‘and the use of highly alcoholised pick-me-ups and cock-tails, no one who has any regard for his health or stomach will be likely to defend. Their use is detrimental to taste, and owing to that, apart entirely from the question of any specific action upon the food, they may be regarded as interfering with digestion.’Ga naar eind16 Maar wyn behoort 'n normale bestanddeel van die daaglikse hoofmaal te wees, en behoort ook nie van kinders weggehou te word nie. ‘Children’, skryf hy, ‘are best without alcohol in any form as habitual drink, but the modern fashion of keeping all wine from them is to be deprecated. It is far better to allow the child to become acquainted | |
[pagina 297]
| |
with the taste of wine and to make him sensible from the first of the importance of sobriety and moderation by example than to preach the evils of wine drinking without allowing him to form a standard for himself. The French custom, which allows children to drink wine, is one generally followed by the Latin nations, and it is a well-known fact that nowhere is drunkenness less common than in those countries where the children have been accustomed to the taste of the wine from early youth. An occasional glass of wine at dinner can harm no child who is in normal health.’Ga naar eind17 'n Mens kan alleen gis oor hoe hierdie gedagte ontvang sou gewees het in 'n land waarin wyn vir kinders nie 'n gewoonte was nie en waarin die somber Calvinisme van die Skotse Hoogland selfs sterk teen so iets in reaksie sou gekom het. Later sou Leipoldt trouens dieselfde gedagte in sy mediese handleidings in Suid-Afrika stel - een van sy ‘vrysinnighede’ wat die mense destyds skeef laat opkyk het, veral in die noordelike provinsies, waar wyn, anders as in die Boland, nie algemeen gedrink is nie. En tog getuig sy helder geformuleerde standpunt van 'n redelikheid en vanselfsprekendheid, 'n voorbeeld van die ‘common-sense’ waarvan die titel praat. In die Transvaal Leader van 2 Januarie 1912 word die boek dan ook deur 'n anonieme maar ingeligte resensent verwelkom as ‘a most entertaining treatise on a subject which the ordinary reader is justified in looking at askance.... For those who have no acquaintance with dietetics, Mr. Leipoldt will be found a bright and helpful cicerone, and indeed many of his pages are worth reading for the mere sake of the entertainment they afford.’ | |
IIIOmdat Leipoldt die werk van die verpleegster in skoolmediese dienste van soveel kardinale belang geag het, en omdat geen handleiding vir dié beroep in Engels beskikbaar was nie, publiseer hy in 1912 by die Scientific Press in Londen The school nurse: Her duties and responsibilities, 'n boek van 197 bladsye. Leipoldt dra dié boek ‘in grateful recognition of his kindness and in respectful admiration of his pioneering work on behalf of medical inspection of school children’ op aan dr. James Kerr, hoof van skoolmediese dienste in die London County Council. Dit begin met 'n historiese oriën- | |
[pagina 298]
| |
tering. Reeds teen die einde van die agtiende eeu, sê hy, was daar 'n vorm van mediese skoolinspeksie in Frankryk en teen 1833 was skooldokters in verskeie lande van Europa reeds 'n instelling. In Brittanje het die stelsel baie stadig ontwikkel en was daar aanvanklik heelwat teenstand. By baie onderwysers en ouers was daar die gedagte dat verpligte mediese ondersoek 'n inbreuk op die vryheid van die indiwidu is en dat die staat niks met die materiële welsyn van die kind te make het nie. Reeds in 1891 het die London School Board egter 'n spesiale skooldokter benoem en sedertdien is die stelsel, ondanks teenstand, uitgebrei. Die skooldiens het, soos dit in 'n spesiale memorandum geformuleer is, gemik na ‘a physical or anthropometric survey, or at a record of defects disclosed by medical inspection, but at the physical improvement, and, as a natural corollary, at the mental and moral improvement, of coming generations’.Ga naar eind18 Binne hierdie stelsel was dit die taak van die skoolverpleegster om die kinders te sien wat deur die onderwyser na haar verwys is. Sy moet dan aan die skooldokter verslag doen en sorg dra dat sy voorgeskrewe behandeling uitgevoer word. Verder moet sy toesien dat algemene higiëniese toestande in die skool heers. Wat dít betref, verskaf Leipoldt inligting oor sake soos geraas in die onmiddellike omgewing van die skool, beligting, ventilasie en verhitting in die klaskamer, toiletgeriewe en drinkwater. Hy beveel aan dat onderwysers met behulp van meubels en die verfraaiing van mure en plafon 'n aangename atmosfeer in die klaskamer skep. Daarna wei hy uit oor watter lengte en gewig 'n normale skoolkind op 'n spesifieke ouderdom moet hê, watter mate van groei hy moet toon, hoe sy liggaam (naels, ore, neus en tande) higiënies versorg moet word en watter kleredrag en skoene die beste vir hom is. Hy skryf 'n gebalanseerde dieet met die regte proporsies voor, maaltye wat verteerbaar is en lekker om te eet, sonder dat dit deur die herhaling van dieselfde artikel eentonig vir die kind word. Ten slotte staan hy stil by allerlei siektes, liggaamlike gebreke, senuweetoestande en verstandelik vertraagde gevalle. By die lees van Leipoldt se handleiding kry 'n mens die indruk dat die titel misleidend is en dat hy oor veel meer as net die taak en verantwoordelikhede van die skoolverpleegster skryf. Daarby wei hy dikwels uit oor dinge wat vir vandag se leser as vanselfsprekendhede voorkom. Tog moet 'n mens onthou dat daar by die publikasie van die boek in 1912 selfs in 'n ontwikkelde land soos Brittanje nog baie wantoestande in skole geheers het en dat die elementêrste higiëniese ‘klimaat’ vir 'n behoorlike opleiding nie altyd aanwesig was nie. In dié opsig het die boek dus wel die | |
[pagina 299]
| |
belangrike funksie gehad om opvoeders op skool in die regte rigting te lei. Toe hy later na sy eie land terugkeer, sou Leipoldt die inligting in dié boek as basis vir baie van sy publikasies oor skoolgesondheid, maar dan getransponeer na Suid-Afrika, gebruik. Volgens 'n brief wat hy op 1 Mei 1913 skryf aan Lulu Kensit - wat intussen met Harry Bolus se seun Frank getroud is -, was dit Leipoldt se plan om ook oor sy ervarings as skooldokter 'n boek te publiseer. Aangesien hy egter op sekere aspekte van die stelsel in die London County Council kritiek het, gaan hy voort, kan hy dit moeilik doen sonder om op mense se tone te trap. Onder sy nalatenskap is daar 'n uitvoerige manuskrip van vyftien hoofstukke in Engels oor dié onderwerp, waarskynlik in Brittanje begin maar later in Suid-Afrika voortgesit. In dié vorm is dit nooit gepubliseer nie, maar later het hy van die gegewens daarin vir sy artikelreeks ‘Herinneringe van 'n skooldokter’ in Die Huisgenoot gebruik. 'n Uitvoerige opstel oor ‘The child in fiction’, ook onder sy nalatenskap, het, sover vasgestel kon word, nooit verskyn nie. | |
IVMaar Leipoldt was in die eerste plek 'n skeppende kunstenaar, nie 'n navorser wat net wetenskaplike bevindings op skrif wou boekstaaf nie. En sy vriend Johannes Smith se hartstogtelike ywer vir Afrikaans het hom opnuut laat kyk na die talle verse in Afrikaans wat êrens in sy kamer in 'n laai weggebêre was maar waaraan hy nou reeds enkele jare geen aandag meer gegee het nie. Dat dié gedigte oorwegend in Afrikaans was terwyl hy hoofsaaklik Engels as joernalistieke taal gebruik het, is waarskynlik toe te skryf aan die temas - die veld en vlei en die Anglo-Boereoorlog - wat hy spesifiek vir sy poësie gereserveer het en wat deel van sy Afrikaanse ervaringswêreld was. Dit is trouens temas wat regstreeks voortkom uit die Afrikaanse wêreld van sy kinder- en vroeë jongmansjare. Volgens sy eie mededeling is die gedigte ‘Ou Booi se pondok’, ‘Sterretjie’ en ‘Oktobermaand’ in sy eerste bundel in 1896-1897 geskryf, terwyl ‘Die ou meul’, ‘Mordegai’, ‘Op my ou Karoo’ en die sonnette alles jeugwerk is wat van voor sy sestiende jaar dateer.Ga naar eind19 Aangevuur deur sy ervarings as joernalis en onder die indruk van alles wat hy in Suid-Afrika agterlaat, skryf hy, volgens wat Lulu Bolus later sou meedeel, tydens sy seereis na Brittanje baie van die verse ‘whose publication in 1911 placed | |
[pagina 300]
| |
him in the front rank of Afrikaans poets’.Ga naar eind20 Self stel Leipoldt dit in die voorrede vir sy eerste bundel as volg: ‘Die meeste van die gediggies is gemaak geword toen ik nog half flou was met die skok van die oorlog, en toen die donder van die Engelse kanonne nog altijd in mijn ore was.’Ga naar eind21 ‘Japie’ is, volgens wat hy self beweer, in 1899 geskryf, ‘Aan 'n seepkissie’ en ‘In die konsentrasiekamp’ in 1901, ‘Vrede-aand’ in 1902 in Brittanje, kort ná die beëindiging van die oorlog. Die ‘Opdrag: Aan almal wat voorgegaan het’ is egter eers in 1910 tydens die persklaarmaak van die bundel geskryf. Indien Leipoldt se inligting korrek is, beteken Lulu Bolus se opmerking dus in werklikheid dat Leipoldt tydens die seereis die meeste van dié verse in 'n finaler vorm afgewerk het. Die titelgedig ‘Oom Gert vertel’ is, weer volgens wat hy in ‘Oor my eie werk’ sê, in 1901 in potlood neergeskryf, ‘kort na die geveg van Labuschagnesnek’Ga naar eind22 van 4-5 Maart 1900, en 'n jaar later in verbeterde vorm oorgetik. Aan T.J. Haarhoff het hy by geleentheid gesê dat dit eers in Engels geskryf is.Ga naar eind23 Of 'n mens hierdie laaste mededeling inderdaad as juis kan aanvaar, is by die feitlik volledige afwesigheid van alle manuskripte van sy eerste bundel onmoontlik om vas te stel, al kan jy by 'n poliglottiese skrywer by die aanvang van sy skeppende werk probeerslae in verskillende media verwag. Wanneer Leipoldt oor sy werke praat en hulle agterna dateer, moet 'n mens egter, gedagtig aan sy dikwels onnoukeurige omgang met feitelike inligting en sy neiging om te terg en opsetlik te mislei, besonder versigtig wees. In enkele gevalle weet ons trouens uit getuienis van elders dat sy mededelings definitief foutief is. ‘Aan my ou vrind’, sê Leipoldt in 1933, ‘is gedig op die ope veld, vlak agter die huis waarin ek nou woon.’Ga naar eind24 Hierdie huis, die woning Arbury in Kenilworth naby Kaapstad, waar Leipoldt in 1927 ingetrek het en wat tydens sy eerste Kaapstadse periode van 1898 tot 1902 nog nie bestaan het nie, was, soos hy ook elders beweer, 'n hanetreetjie van Harry Bolus se woning, Sherwood. Hoewel Bolus ten tyde van sy dood slegs sewe en sewentig was, is dit na genoeg aan die ‘tagtig’ jaar waarna Leipoldt in die eerste reël verwys en slaan die gedig met betreklike sekerheid op sy ou vriend vir wie hy soveel waardering gehad het. Leipoldt sê verder dat slegs enkele gedigte, waaronder ‘Amsterdam’ en ‘Vrede-aand’, tydens sy studiejare in Engeland geskryf is.Ga naar eind25 Die reël ‘agtien-dertig tot aan neëntien-tien’Ga naar eind26 in ‘Aan my ou vrind’ is egter 'n aanduiding dat ook dié gedig betreklik laat en in Brittanje moes ontstaan het en dat Leipoldt se bewering dat dié gedig ‘op die ope veld’ in Kenilworth geskryf is, nie anders as verkeerd kán wees nie! Van ‘In die konsentrasie- | |
[pagina 301]
| |
kamp’ sê hy dat dit in 1901 geskryf is; ná die titel volg trouens die woorde ‘Aliwal-Noord, 1901’. Leipoldt was wel in 1901 saam met die rondgaande hof vir die rebelleverhore op Aliwal-Noord, maar die gedig in sy geheel kon nie ten tyde van dié besoek ontstaan het nie. In die finale teks lui die slotstrofe as volg: Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
Die smarte, die angs het so baie gepla!
Die yster het gloeiend 'n merk vir die eeue
Gebrand op ons volk; en dié wond is te ná -
Te ná aan ons hart, en te diep in ons lewe -
‘Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!’Ga naar eind27
Dit is onwaarskynlik dat iemand, midde-in die geweld van die oorlog, daardie stryd as ‘'n merk vir die eeue’ sal bestempel; sulke insigte kom gewoonlik eers na afloop van 'n oorlog wanneer die betrokkene die geleentheid gehad het om dit alles van 'n afstand te betrag en te deurdink. In elk geval gee die woorde ‘Vergewe? Vergeet?’ 'n nadere aanduiding van 'n moontlike datering. Die pleidooi vir ‘vergewe en vergeet’ het eers van 1906 af in Louis Botha en J.C. Smuts se versoeningstoesprake begin voorkom, en ná Uniewording in 1910 sou dit uitgroei tot 'n volwaardige beleid van konsiliasie. Op grond hiervan moet 'n mens tot die gevolgtrekking kom dat ‘In die konsentrasiekamp’ eers ná 1906 voltooi kon gewees het. ‘Aan my ou vrind’ en ‘In die konsentrasiekamp’ is dus sprekende voorbeelde van hoe slordig Leipoldt met sake soos datering en plekaanduiding te werk gegaan het en hoe onbetroubaar hy as getuie oor sy eie geskrifte is! Die vraag ontstaan waarom Leipoldt nie sy gedigte vroeër, al was hulle dan toe in 'n meer rudimentêre vorm as dié waarin hulle uiteindelik gepubliseer is, vir publikasie aangebied het nie. In die voorrede van sy debuutbundel gee hy 'n aanduiding, selfs al noem hy dié oorwegings dan nie eksplisiet nie. Vir die ‘gevoelens’ in die verse, so stel hy dit, is hy ‘alleen verantwoordelik’, al weet hy nie ‘of die gevoelens bijval sal vind bij ons mense wat nog gediggies lees’ nie. ‘Miskien’, gaan hy voort, ‘het dit mijn snare al te veel laat tril. Miskien is dit beter dat ons nie meer oor sulke goed praat of sing nie. Maar daar is ook 'n ander kant: en dit kan wees dat daar onder mijn lesers is wat nie maklik vergeet nie, hoe gou hul ook vergewe.’Ga naar eind28 | |
[pagina 302]
| |
Uit hierdie woorde kan 'n mens aflei dat Leipoldt huiwerig was om agt jaar na afloop van die oorlog verse soos ‘Oom Gert vertel’, ‘Vrede-aand’ en veral ‘'n Nuwe liedjie op 'n ou deuntjie’ en ‘In die konsentrasiekamp’ te publiseer, uit vrees dat hulle in 'n tyd van versoening weer ou wonde kon oopkrap en selfs wrok en haat opnuut kon laat opvlam. Ten grondslag hiervan lê na alle waarskynlikheid Harry Bolus se negatiewe reaksie op die publikasie van Leipoldt se prosaskets ‘The rebel’ in 1904. Hoewel Bolus se brief oor dié aangeleentheid nie bewaar gebly het nie, is dit duidelik dat hy sterk besware teen Leipoldt se negatiewe voorstelling van die Engelse soldate en hul optrede tydens krygswet gehad het. 'n Mens kry selfs die indruk dat hy as lojale Britse onderdaan nie bereid was om dié wreedhede te glo nie, selfs komende van Leipoldt wat as verslaggewer van die rondgaande hof regstreeks met die vergrype op die hoogte gekom het. Uit sy reaksie van 13 Julie 1904 voel 'n mens dat Leipoldt uit eerbied vir sy mentor nie sterk beswaar teen Bolus se kritiek het nie. Die idee van 'n onafhanklike Boerestaat op die wyse waarop Kruger dit, sonder volwaardige burgerregte vir die uitlanders, in stand wou hou, was volgens hom 'n politieke hersenskim, maar aspekte van Brittanje se optrede tydens die oorlog beskou hy steeds, soos indertyd, as 'n morele onreg. Hy gaan egter voort: ‘If I thought that anything I wrote would encourage another war, another such calamity as that out of which we have barely emerged, I would not write.’Ga naar eind29 Jare later sou hy trouens weer op dié aangeleentheid terugkom. In 1933 skryf hy: ‘dit sou my spyt as daar nog lesers is wat dink dat wat ek ook skryf, ooit gemotiveer word deur persoonlike haat of neigings wat oorgedra word op partikuliere groepe van my medemense waar en wie hulle ook mag wees.’Ga naar eind30 'n Mens kan aanvaar dat Bolus se kritiek op ‘The rebel’ en Leipoldt se eie onsekerheid, soos geformuleer in sy voorrede, oor wat die impak van die verse sou wees, hom aanvanklik van publikasie weerhou het, iets wat bevestig word deur die nawerking wat hierdie onsekerheid nog tot in 1933 by hom gehad het. Daarby kom die feit dat hy kort ná sy aankoms nog meer krities teenoor die saak van die twee republieke begin voel het, veral ná sy ontmoeting met die soort mense wat hulle in Brittanje vir die Boere beywer het. Baie van dié mense, so skryf hy reeds in 1902 aan Bolus, was vir hom blote sentimentaliste wat onkundig was oor die toedrag in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek en die bose basis van korrupsie ‘which makes the Boer far more of a human being than (an) angel’.Ga naar eind31 Saam met hierdie kritiek het sy drukke werksaamhede as mediese student en as me- | |
[pagina 303]
| |
dikus hom ver verwyder van die veld en vlei van sy jeug en die droewige dinge in sy vaderland wat hy in 1902 agter hom gelaat het. Maar die lokstem van Suid-Afrika saam met sy vreugdes én probleme het met die jare vir Leipoldt steeds helderder begin klink, en toenemend was daar 'n onvergenoegdheid met sy lewe in Brittanje en die onplesierige weer wat hy jaar na jaar moes verduur. In 1911 was hy een van die stigterslede van die vereniging wat Suid-Afrikaners in Londen gereeld bymekaar laat kom het en waardeur hy nuwe vriende uit sy geboorteland kon maak. Hierdie mense was meestal as studente net 'n paar jaar lank in Brittanje en het daarna uitgesien om terug te keer. Ook by Leipoldt met sy missionêre inslag en pligsbesef het die gedagte sterker as voorheen begin groei dat dit die hoogste tyd was om hom weer in Suid-Afrika te vestig waar hy 'n aandeel aan die opbou en ontplooiing van nuwe inisiatiewe kon hê. Die sterkste prikkel om hom weer met hernieude ywer in sy eie skryfwerk in Afrikaans te laat belang stel, was sy vriendskap met Johannes Smith. In die loop van 1910, so vertel Smith in sy belangwekkende artikel ‘Chris Louis Leipoldt - my vriendskap en 'samewerking' met hom’,Ga naar eind32 het Leipoldt hom by geleentheid 'n pak los papiere gewys met die woorde: ‘Dè, Smith, jy hou mos van sulke ou rympies. Lees die goed op jou gemak maar deur en sê my dan wat jy daarvan dink.’Ga naar eind33 Smith het die pak papiere, wat Leipoldt se Afrikaanse verse oor baie jare bevat het, met verrassing en stygende bewondering begin lees. In die ‘woelende en krioelende wêreldstad’Ga naar eind34 Londen, vertel hy, is hy getref deur die stuk egte Afrikaanse natuur en lewe wat daar vir hom by die lees oopgegaan het, alles geskryf in 'n ‘ongekunstelde, maar tog smaakvolle en doeltreffende Afrikaans’.Ga naar eind35 Hy het gevoel ‘soos die ontdekker van 'n nuwe land’Ga naar eind36 en was onmiddellik daarvan oortuig dat dié gedigte ‘veels te goed was om in 'n Londense tafellaai te lê en vergaan’.Ga naar eind37 By 'n volgende ontmoeting het hy dan ook by Leipoldt daarop aangedring dat die gedigte nie langer ongepubliseerd mag bly nie, ‘veral nie in 'n tyd wanneer daar in Suid-Afrika so sterk geywer word vir die erkenning van 'n suiwer Afrikaanse skryftaal, en wanneer letterkundige werke so broodnodig is om die bestaansreg van die nuwe skryfvorm te regverdig (nie)’.Ga naar eind38 Daarop het Leipoldt gesê dat Smith maar met die ‘rympies’ kon maak wat hy wou. Smith moes die bestes uitsoek en persklaar maak en 'n inleiding daarvoor skryf. Indien hy dan 'n uitgewer kon vind, sou Leipoldt die drukkoste betaal.Ga naar eind39 So het dit gekom dat Oom Gert vertel en ander gedigte teen die einde van 1911 | |
[pagina 304]
| |
deur J.H. de Bussy in Kaapstad en die Hollandsch-Afrikaansche Uitgeversmaatschappij (HAUM) in Pretoria gepubliseer is.Ga naar eind40 Die geheel het 92 bladsye beslaan, 'n boek van 18 cm by 12 cm met 'n blou omslag en goue letters. Leipoldt het self die drukkoste van £27.10.0 vir die oplaag van 1 000 eksemplare betaalGa naar eind41 en enkele onafgesnede eksemplare aangevra wat Smith op die digter se versoek op groter papier deur die firma Rivière & Son, bekende Londense kunsboekbinders, laat inbind het - die eerste keer dat 'n spesiale bibliofiele uitgawe van 'n boek op die gebied van die Afrikaanse letterkunde gepubliseer is.Ga naar eind42 Aangesien die oorspronklike ‘pak los papiere’ waaruit Smith sy keuse moes saamstel, nie bewaar gebly het nie, is dit onmoontlik om vas te stel of hierdie keuse inderdaad die beste uit Leipoldt se vroeë poësie verteenwoordig, al hoef 'n mens by 'n sensitiewe leser soos Smith haas nie te twyfel dat hy 'n gedig van waarde, hoe gering dan ook, verlore sou laat gaan het nie. Wat die werk aan die voorbereiding van die publikasie betref, het sowel Smith as Leipoldt hulle by geleentheid uitgespreek. Smith skryf: ‘Op talle van plekke het ek gewys op wat ek as techniese foutjies, onjuiste taalgebruik, of onlogiese uiteensetting beskou het; en al sulke gevalle is toe aan Leipoldt voorgelê en een vir een met hom bespreek. Slegs met een uitsondering het hy my kritiek dadelik gebillik; en op baie plekke het hy dit aan my oorgelaat om maar self verbeterings aan te bring - verbeterings wat hy later elkeen afsonderlik nagegaan en goedgekeur het.’Ga naar eind43 Leipoldt self verklaar: ‘Vir die spelling sowel as sekere wysigings in sommige gedigte is hy verantwoordelik, maar ek deel die verantwoordelikheid met hom, want hy het nooit iets verander sonder om my eers daaroor te raadpleeg nie, en sover ek kan onthou, het ek ook nooit die minste beswaar teen sy kritiek of voorstelle gemaak nie.’Ga naar eind44 Oor die enkele geval waaroor Leipoldt nie onmiddellik akkoord wou gaan nie, verstrek Smith in sy artikel nader besonderhede. Onder die pak verse wat Smith van Leipoldt ontvang het, vertel hy, was...'n langerige gedig oor die dood - 'n gedig wat ek veels te prosaïes gevind het; ek het hom gesê dat daar net sestien reëls in was wat m.i. as poësie kon geld, en dat ons dié reëls maklik kon uitlig en as 'n selfstandige gediggie kon publiceer. ‘Maskas, Smith,’ het Leipoldt geantwoord, ‘maar dis darem te kwaai: 'n mens kan 'n gedig darem nie somaarso in stukke sny nie.’ ‘Nou ja,’ het ek gesê, ‘dis natuurlik jou werk; jy verstaan dit bes; en jou oordeel is altyd finaal. | |
[pagina 305]
| |
Maar lees darem nou eers self die oorspronklike gedig weer noukeurig oor en besluit dan self. Onthou, dis net daardie sestien reëls wat ek wil behou.’ In die finale weergawe, soos opgeneem in die Versamelde gedigte, lui die gedig as volg: Die see is wild, die see is blind:
Hy slaan so oor die rotse grof;
Véraf nog dreun sy donder dof,
En oor hom huil die noordewind.
Die wind is wild, die wind is kwaai:
Hy gons die bome deur en breek
Die takke van die stam en steek
Die haelbui aan met sy lawaai.
Die hael is wild, die hael is sterk:
Hy maak die see se branders glad
En stamp die koringvelde plat
En breek die sekretaars se vlerk.
Nog wilder as die see en wind,
Nog strammer as die haelstormnood,
Nog blinder as dié drie - die Dood,
Wat op jou voorkop sit, ou vrind!Ga naar eind46
Hoewel die manuskrip van die oorspronklike lang gedig verlore gegaan het en die finale produk plek-plek in die woordkeuse iets te wense oorlaat, illustreer die hele gang van die gedig, die agtereenvolgende beligting van ‘see’, ‘wind’ en ‘hael’ in die eerste drie strofes en die rekapitulasie van dié | |
[pagina 306]
| |
drie in die slotstrofe watter strukturerende ingryp Smith met sy uitlig van dié sestien reëls in dié geval moes gehad het. Ook oor twee ander gevalle waarvan hy die teks verander het, verstrek Smith in sy artikel besonderhede. Hy skryf: 'n Eienaardigheid van Leipoldt was dat hy daarvan gehou het om mense so af en toe te skok deur sy heterodoxe uitsprake oor algemeen-heersende menings en gevestigde belange; en sowel in die inhoud as in die taal en styl van sy geskrifte is 'n soortgelyke verskynsel te bespeur. 'n Mens kry so 'n ligte skok as hy somaar onverwags op 'n sonderlinge bewering of op 'n gemeensame woord of uitdrukking afkom.... Binne streng-beperkte grense het ek wel my invloed laat gelde om 'n aantal van die mees ooglopende aanstootlikhede te verwyder.... So het daar in die eerste reël van ‘Die verkleurmannetjie’: Daar op die vy'boom sit die vabond,Ga naar eind47
in plaas van vabond 'n heel plat Afrikaanse kragwoordGa naar eind48 gestaan; en die verkleiningsvorm daarvan het ook nog in elkeen van die twee laaste strofes voorgekom, waar Leipoldt dit, om aan my besware tegemoet te kom, later in die mooi kleurklasie verander het. Verbrand my liewers, dat ek boontoe rys,
In vuur en vlam kan opklim tot die Heer,
Deur al die wêreld se rumoer en woel,
Die Jood Jesaja het die pad gewys!
Die laaste versreël is toe verander, en dit lui vandag: Tot oor die drumpel van die Paradys!Ga naar eind49
Met die uitwys van dergelike en ander swakhede het Leipoldt dadelik besef dat hy in Smith naas 'n uitstekende kenner van Afrikaans ook 'n | |
[pagina 307]
| |
uiters gevoelige leser van verse het. Daarom dat hy vir hersiene uitgawes van Oom Gert vertel en ander gedigte en sy latere publikasies sy uitgewers versoek het om, waar moontlik, Smith as taalkundige medewerker te betrek. Smith het dan ook, soos Leipoldt in 'n artikel in 1940 sê, ‘inderdaad in byna alles wat ek tot omtrent 1926 geskryf het,...my altyd getrou bygestaan...as taalkundige vriend en raadgewer, en...ek was maar alte bly...om van sy welwillendheid gebruik te maak’.Ga naar eind50 Dat Smith ná 1926 'n tyd lank nie met Leipoldt-manuskripte gemoeid was nie, is toe te skryf aan verskille tussen hom en die taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Smith het voorkeur gegee aan 'n tipe spelling (soos ‘anglicisme’ en ‘technies’) wat so na as moontlik aan die Nederlands bly, terwyl die taalkommissie nader aan 'n ‘uitspraak’-spelling wou beweeg. Ter wille van eenvormigheid wou die uitgewers nie van die Akademie-spelling afwyk nie en kon hulle nie meer van Smith, wat sy spelling gehandhaaf wou sien, gebruik maak nie. Eers in die veertigerjare het Smith weer van Leipoldt se tekste taalkundig versorg. In watter mate Smith die verse van Leipoldt met elke heruitgawe opnuut nagegaan en, met enkele uitsonderings, taalkundig verbeter het, blyk uit 'n vergelyking van die opeenvolgende drukke van Oom Gert vertel en ander gedigte. Naas die eerste uitgawe van 1911 was Smith gemoeid met die tweede druk van 1917, die vierde van 1926 en die vyfde van 1953; laasgenoemde uitgawe is, volgens 'n nota van die uitgewers,Ga naar eind51 einde 1947 in oorleg met Smith hersien.Ga naar eind52 Vir al hierdie nougesette teksversorging het Leipoldt, met uitsondering van dié vir die vyfde toe hy nie meer in die lewe was nie, weer sy erkentlikheid getoon. ‘My opregte dank’, skryf hy in die voorrede tot die vierde druk van 1926, ‘is ek verskuldig aan my ou vrind, prof. J.J. Smith, vir die verbeteringe en wysiginge deur hom geïnspireer en vir die algemene hersiening van taal en taalvorm. Dit is grootliks aan hom te danke - aan sy uitstekende prosa-voorrede waarmee hy my skippie ingeloods het - dat hierdie boek 'n populêre boek geword het. Daarom is dit my meer as 'n genoeë om al weer vir die vierde - maar ek hoop nie laaste maal nie - my hartlike dank aan hom te betuig vir sy hulp.’Ga naar eind53 Die eenvoudigste wysigings wat Smith aangebring het, is veranderinge wat spelling en interpunksie betref, ‘nietighede’,Ga naar eind54 soos hy dit stel, waarvoor Leipoldt nooit tyd gehad het nie.Ga naar eind55 Hierdie veranderinge is veral in die derde druk ingevoer en sluit wysigings in soos dié van ij tot y, ik tot ek, toen tot toe, banja tot baie en als tot as (en tot soos in 1926). Soms is die spelling | |
[pagina 308]
| |
van plekname gewysig, 'n dubbelpunt in 'n punt of 'n kommapunt, 'n komma in 'n aandagstreep, en 'n aandagstreep in 'n beletselteken verander, of woorde vervang wat blykbaar ‘uit die mode’ geraak het. Daarnaas het Smith in baie gevalle die tweede partikel van die dubbele ontkenning, soms deur vervanging van woorde, probeer invoer waar dit in die eerste drukke ontbreek of die ontkenning heeltemal weggewerk en 'n positiewe stelwyse in die plek daarvan geplaas. Die gevaar van invoegings is natuurlik dat hulle maklik in versvulsels kan ontaard. Smith vermy dit effektief in die volgende voorbeeld uit die gedig ‘Oom Gert vertel’: Geeneen van ons kon praat nie; Piet was stom
En net so naar as ek; en een van ons -
Ek weet nie, wie dit was - het hard gesnik.
In die vierde druk is die laaste versreël verander tot ‘Ek weet nie wie nie - het ook hard gesnik.’Ga naar eind56 Die problematiese woord hier is ‘ook’, wat met die eerste oogopslag na vulsel lyk. Die voegwoord ‘en’ in die voorafgaande reël berei die leser egter reeds op die ‘ook’ voor, sodat die wysiging in hierdie geval die drie versreëls eintlik 'n verdere bindingselement bygee. Ook met die weglating van die ontkenning kon Smith in sommige gevalle die teks versterk. So byvoorbeeld is die reëls Ek bring my kinders op in sedigheid:
Hul het van sulke sake nie te weet!
in die vierde druk verander na: Ek bring my kinders op in sedigheid:
Wat moet die goed van sulke dinge weet?Ga naar eind57
- 'n wysiging waarmee die kunsmatige in die volgorde van die woorde verval en wat met die woorde ‘goed’ en ‘dinge’ gewone Afrikaanse spreektaal word. Dieselfde strewe na die spreektaalwerklikheid vind 'n mens ook in 'n ander tipe wysiging. Veral vanaf die vierde druk het Smith die posisie van die hulpwerkwoord in baie gevalle gewysig deur dit deur 'n ander woordsoort te vervang of die volgorde van die woorde te wysig. In sy voorrede tot die vierde druk skryf Leipoldt: ‘Die hinderlike posisie van die hulp- | |
[pagina 309]
| |
werkwoord 'het' in ondergeskikte sinne, wat my reeds vroeër gepla het, is hierdie keer verbeter om so veel moontlik ooreen te stem met ons daaglikse spraakgebruik.’Ga naar eind58 So byvoorbeeld is ‘Dat hy nog altyd grappies het gemaak’ verander na ‘Dat hy nog altyddeur wou grappies maak’Ga naar eind59 en ‘Haar stem wat in die onweer het geklink’Ga naar eind60 na ‘Haar stem wat in die onweer helder klink’, albei gevalle waarin die Afrikaans veel natuurliker klink. In 'n besonder geslaagde verandering in ‘Oom Gert vertel’ gaan Smith vernuftig met die volgorde van woorde te werk. Die reëls en waarlik, as jy self
Soveel het deurgemaak...
word verander na: en waarlik as jy self
Soveel reeds deurgemaak, soveel gely,
Soveel geworstel, en soveel gesien hetGa naar eind61
Afgesien van die verskuiwing van ‘het’ na die einde van die volgende reël voeg hy ook die woord ‘reeds’ in, wat, hoewel die metrum dit ‘vereis’, in die konteks heeltemal natuurlik klink. In elk geval bring die toevoeging van ‘het’ aan die einde van reël 3 mee dat die oorweging van die ‘daaglikse spraakgebruik’ nou prioriteit oor die vaste metrum van die vers geniet. Een van die opvallendste tipe wysigings in die opeenvolgende uitgawes is Smith se konsekwente poging om die bundel van alle Anglisismes of vermeende Anglisismes te suiwer. In dié verband skryf Smith: ‘Ek het...op talle van anglicismes en germanismes gewys...; maar in 'n digreël was dit soms erg moeilik om so 'n 'isme' te verwyder, en dan moes dit maar bly - en daar het ook inderdaad 'n heel party gebly.’Ga naar eind62 Veral Leipoldt se ‘al’-konstruksies het probleme veroorsaak. So word die reël ‘Dan word oor al die wêreld’ verander tot ‘Dan word oor heel die wêreld’,Ga naar eind63 'n wysiging wat buite die praatsfeer van Leipoldt se poësie val en in die rigting van literêre taal neig. Gelukkiger was Smith in gevalle waar die verandering van die ‘al’-konstruksie 'n groter herskrywing van die versreël meegebring het. So byvoorbeeld is ‘En al sy vel blink soos die skulpies’Ga naar eind64 tot ‘Sy hele vel blink soos die skulpies’ en ‘al die lug is swart’Ga naar eind65 tot ‘die hele lug is swart’ verander. So 'n tipe wysiging verg egter 'n groter omswaai van woorde, veral omdat ‘hele’ teenoor ‘al’ tweelettergrepig is, en | |
[pagina 310]
| |
in sommige gevalle was Smith se wysigings dan ook nie heeltemal geslaag nie. So byvoorbeeld kry ons die volgende: Iets wat jy nie met oë kyk;
Iets wat jy nie met vingers vat;
Iets wat deur al die kamer reik.
Later is die laaste reël verander tot ‘Wat deur die hele kamer reik’,Ga naar eind66 'n wysiging waarin die Anglisisme wel ontbreek maar waarin die spanning ook enigsins deur die verandering van die ‘iets’-patroon van die voorafgaande twee reëls verminder word. In heelparty gevalle is daar egter glad nie aan die Anglisisme verander nie. So byvoorbeeld het Smith die aanvang van die bekende ‘Lenteliedjie’Ga naar eind67 afgesien van die wysiging van ‘velde's’ tot ‘veld is’ onveranderd gelaat, hoewel dit hom, soos hy dit self stel, ‘van die begin afgehinder het’.Ga naar eind68 In die voorlaaste strofe van dieselfde gedig bring hy egter 'n slinkse wysiging aan. ‘Vrolik al die vlei!’ word ‘Vrolik rand en vlei’,Ga naar eind69 al tas dit die topografie van die wêreld aan. Veral wanneer die Anglisisme in 'n rymposisie voorkom, moes Smith taamlik drasties ingryp. In die eerste druk lui die sewentiende strofe van ‘In Amsterdam’: Maar verder - wat? 'n Nasie groei
Nie somaar als die koring op:
Dit moet deur werk, deur vlijt, deur smart,
Deur lewe ook word opgeprop.Ga naar eind70
Reeds in die tweede druk is dit verander na: Maar verder - wat? 'n Nasie word
Nie somaar als die koring groot:
Dit moet deur werk, deur vlijt, deur smart,
Deur lewe ook word voortgestoot.Ga naar eind71
Hoewel die ‘voortgestoot’ beslis beter as die oorspronklike ‘opgeprop’ is, bevredig die wysiging tog nie heeltemal nie. Afgesien van die posisie van die hulpwerkwoord val ‘voortgestoot’ buite die ‘koring’-beeld van die tweede reël, terwyl die dubbelpunt na ‘groot’ juis die verwagting skep dat dié beeld verder gevoer sal word. | |
[pagina 311]
| |
Een van die belangrikste gedigte in Oom Gert vertel en ander gedigte, wat verskeie ingrypende wysigings ondergaan het, is die titelvers. In die eerste druk lui dit taamlik aan die begin as volg: Maar jij kom
Verkeerd bij mij; daar's banja 'n beter man
Wat jou die storie...
In die tweede druk is dit verander tot: Maar jij kom
Verkeerd bij mij; daar's menige beter man
Wat jou die storie...
In die plek van ‘banja’ het nou die meer ‘literêre’ woord ‘menige’ gekom, al word dieselfde getal lettergrepe gehandhaaf. Die Anglisisme self is nie verander nie. In die vierde druk lui dit: Maar jy kom
By die verkeerde man; daar's baie ander
Wat jou die storie...
In hierdie lesing herstel Smith die ‘baie’ en wysig hy die hinderlike eerste deel van die versreël só dat die woord ‘man’, wat in die tweede deel van die versreël verval het, nou na die eerste deel verskuif word. Daarmee voer hy die natuurlike gang in die woordgebruik verder deur. Minder gelukkig was Smith met drie ander veranderings in die vierde druk. Tot die derde druk lui die betrokke gedeelte: Nou ja, jy weet, neef, toe ons mense hier
Almal beteuterd deur die oorlog was,
Het kakies op kommando hier ons dorp
Beset en Martjie Louw geproklameer.
Ou Smith, die magistraat - hy is 'n man
Vir wie ek eerbied voel, al is hy Engels:
Hy was tog altyd nog 'n jentelman
En het met onse mense akkordeer;
Maar hulle het hom soetjies afgesit
| |
[pagina 312]
| |
En na Oos-Londen toe gestuur, omdat
Hy nie na hulle pype vlot wou dans,
En in sy plaas 'n kolnel aangestel.
In die vierde druk is die sewende en die agtste reël verander tot: Hy was tog altyd nog 'n egte heer
En het met onse mense klaargekom
en die laaste reël tot: En 'n kol'nel toe in sy plek benoem.
Wanneer oom Gert in hierdie passasie oor die Engelse se oorlogsmetodes en oor die Engelse magistraat Smith praat, gebruik hy in ooreenstemming met die natuurlike gang van die taal en Leipoldt se strewe om so ná as moontlik aan die ‘daaglikse spraakgebruik’ te bly, woorde uit daardie sfeer. Met ‘magistraat’, ‘Martjie Louw’, ‘geproklameer’ en selfs met die Anglisisme ‘afgesit’ word daar dus hier 'n bepaalde gang in die vers bereik. Die wysiging van ‘jentelman’ tot ‘egte heer’ druis egter heeltemal in teen die natuurlike taal van die voorafgaande reëls, terwyl ‘klaargekom’ in die plek van ‘akkordeer’, wat goed in die normale woordeskat ingeburger is, die gang van die vers verder bevestig. Dieselfde oorweging geld vir ‘plaas’ (Engels ‘place’...of Nederlands ‘plaats’?) wat onmiddellik 'n verband met die ander Anglisisme ‘afgesit’ lê. 'n Mens vermoed dat die toevoeging van ‘toe’ hier 'n blote metriese vulsel is, terwyl ‘kol'nel’ in die vorige druk sintakties beter geplaas is. Die woord ‘benoem’ het 'n enigsins beperkter betekenis as ‘aangestel’, wat deur sy rymbinding met ‘kol'nel’ buitendien sterker van klank is. Dit is jammer dat Smith hier, in 'n poging om deurgaans 'n ‘suiwer’ Afrikaans te handhaaf, die literêre noodsaak van woorde soos ‘jentelman’, ‘akkordeer’, ‘plaas’ en ‘aangestel’ geïgnoreer en met sy wysigings Leipoldt se oorspronklike teks verswak het. Hoewel D.J. Opperman, soos hy dit in sy ‘Verantwoording’ stel, by die samestelling van sy Groot verseboek in 1951 van tekste gebruik maak ‘wat die digter òf self versorg het òf waarvoor hy verantwoordelik gehou kan word’Ga naar eind72 en derhalwe Smith se wysigings van 1926 volg, maak hy vanaf die tweede uitgawe van 1959 in die geval van Leipoldt 'n uitsondering en behou hy ‘jentelman’, ‘akkordeer’, | |
[pagina 313]
| |
‘plaas’ en ‘aangestel’. Ander bloemlesers het Opperman weldra in hierdie keuse uit verskillende uitgawes gevolg. Gelukkiger was Smith met die verwydering van twee ander Anglisismes uit ‘Oom Gert vertel’. Die woord ‘lyn’ (Engels ‘line’) verander hy na ‘reël’ wat in die betrokke gedeelte (‘daar's die reël/ Wat sy oorlede ma geskrywe het’)Ga naar eind73 op sy plek is. Die oorspronklike By die poort
Het hul ons twee by twee laat binnekom
verander hy na By die poort
Het hul ons twee-twee toe laat binnekom.Ga naar eind74
Hoewel die woord ‘toe’ wat Smith hier byvoeg, skynbaar na 'n metriese vulsel lyk, sluit dit volledig aan by die spreektaalwerklikheid van die gedig en is dit dus volkome op sy plek. Ook 'n ander wysiging bring die betrokke versreël nader aan Leipoldt se strewe om so ná as moontlik aan die ‘daaglikse spraakgebruik’ te bly: ‘uitgesnede’ wat in die derde druk ‘uitgesnyde’ en in die vierde druk tot ‘uitgeknipte’ verander is: Ja, ou neef,
Hy het na Gerrie hier gevry; en ek
Was ook nie teen die saak, want Bennie was
'n Uitgeknipte jongetjie vir haar.Ga naar eind75
Dit is met sulke veranderinge dat Smith 'n waardevolle bydrae tot die finale teks van Oom Gert vertel en ander gedigte lewer. Wanneer Opperman later sy Groot verseboek saamstel, 'n bloemlesing wat by geleentheid as 'n ‘gevoelige barometer’ en die ‘akkolade van erkenning’Ga naar eind76 vir 'n jong digter bestempel is, neem hy uiteindelik in die finale uitgawe nie minder nie as twaalf gedigte, méér as uit enige ander debuut, uit dié bundel op. Dit is 'n aanduiding van die hoë status wat Oom Gert vertel en ander gedigte steeds in die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse poësie geniet. En daaraan het Smith met sy nougesette taalversorging, sy enkele vergissings ten spyt, geen geringe aandeel gehad nie. | |
[pagina 314]
| |
VOom Gert vertel en ander gedigte is, soos Celliers se Die vlakte en andere gedigte, en anders as die hegter gekonstrueerde Bij die monument van Totius, 'n betreklik heterogene versameling verse. In 'n artikel wat hy in 1964 publiseer,Ga naar eind77 sê S.J. du Toit dat Leipoldt, wat in die jare 1898-1899 aan die redaksie van Het Dagblad verbonde was, goed met die versies en gediggies in Di Patriot en Ons Klyntji vertroud moet gewees het en dat van die natuurverse 'n verwantskap met veral dié van M.H. Neser toon. As voorbeeld haal hy uit Neser aan: Elke insek, elke diir
Is bly; die muggies dans en wals,
Saam met muskiit en miir
In jou o'e, ore, haar en hals.
O, rustige aand-uur, wat is jy skoon!
Dié reëls herlei Du Toit dan na Leipoldt se ‘Lenteliedjie’: Hier galop 'n goggatjie
Daarso dans 'n mier.Ga naar eind78
'n Sekere ooreenkoms is wel te bespeur, maar dit is só periferaal en haas beperk tot die woorde ‘dans’ en ‘mier’, dat daar van 'n diepgaande invloed geen sprake kan wees nie. Dit is eerder 'n voorbeeld van 'n skerf poësie wat 'n gevoelige woordkunstenaar in 'n andersins vaal oeuvre gewaar en wat hy sinvol in 'n veel glansender vers benut. Waarskynlik is Du Toit in sy artikel verlei deur wat Leipoldt in sy voorrede tot die bundel sê. ‘Ver jare’, skryf Leipoldt, ‘het ik mij vermaak met versies draai, en met die loop van tijd het ik 'n hele boel van die rijmpies in mijn tafellaai opgegaar. Dit was, en is, 'n onnosel vermaak, waarmee ik net maar mijselwe gekwel 't, deurdat ik somtijds nie 'n rijm in die hande kon krij nie, en nog meer kere nie goed in woorde kon uitdruk wat ik gevoel en ondervind 't.’Ga naar eind79 Hoewel Leipoldt hier van sy gedigte as blote ‘versies’ praat wat hy om vermaaklikheidsredes ‘draai’ en later in die bundel sê dat hy ‘uit puur verstrooiing’ sy gedigte ‘maak’, sal dit 'n groot fout wees om hom hier op sy woord te glo en dié woorde as 'n digterlike credo te aanvaar. Sy bundel en sy poëtiese praktyk sien daar tog heeltemal anders uit as | |
[pagina 315]
| |
dié van negentiende-eeuse versiemakers. Daarom ook dat Du Toit in sy artikel met haas geen ander bewysmateriaal as die enkele geval uit Neser te voorskyn kom nie. Vir 'n leser wat die literatuurgeskiedenis op die hoogte is, toon Leipoldt se debuut 'n feitlik totale breuk met die poësie van die Eerste Afrikaanse Beweging voor hom, sterker as wat dit met die eerste bundels van Celliers en Totius die geval was. As 'n mens die gedigte in Oom Gert vertel en ander gedigte tematies met dié in sy twee tydgenote se debute vergelyk, is dit onmiddellik duidelik dat Leipoldt se bundel enersyds sterker aards-sintuiglik, andersyds veel meer persoonlik van inslag is.Ga naar eind80 Teenoor Celliers se stemmingskuns en die emblematies-simboliese aard van Totius se eerste bundel, wat in albei gevalle in hoë mate biografies onbetrokke poësie is, reik heelparty verse van Leipoldt terug na die wêreld van Clanwilliam en omstreke waar hy grootgeword het en vind sy eie gevoelslewe neerslag in sy werk. Dit geld in die besonder vir die twintigtal meestal natuurverse wat hy aan die einde van die bundel opneem en wat hy as ‘slampamperliedjies’ aandui, 'n woord wat in die briewe van sy moeder uit Soematra aan haar ouers voorkom en wat indertyd betreklik onbekend in Afrikaans was. Ook uit die natuurweelde van gedigte soos ‘Oktobermaand’ en ‘Lenteliedjie’ en 'n vers soos ‘Op my ou Karoo’ blyk Leipoldt se vertroudheid met die onmiddellike omgewing van Clanwilliam, terwyl hy in die drietal sonnette - die eerstes in Afrikaans - die leegheid en ylheid verwoord van die nabygeleë Boesmanland wat hy as jong seun tydens sy reis saam met die botanikus Rudolf Schlechter leer ken het. In ander verse kom figure soos ‘outa Booi’, ‘outa Klaas’ en die Joodse smous Mordegai voor, almal mense met wie hy as kind kennis gemaak het en wat van vroeg af ook in van sy sketse en verhale oor Clanwilliam en omstreke hul verskyning maak. Dat Leipoldt die wêreld van sy jeug deeglik geken het, sien 'n mens veral in die neerslag wat die natuur van dié streek met sy groot verskeidenheid plante en diere in sy poësie het. Dit geld selfs vir die kleinste dingetjies, soos die ‘gho-koffie’ wat outa Booi op sy vuurherd laat prut - 'n soort koffie wat in Leipoldt se jeug uit wildeamandelpitte gemaak is maar wat sedertdien in onbruik verval het.Ga naar eind81 Met die verwerking van motiewe uit die Suid-Afrikaanse natuur, soos dit in Clanwilliam en ander dele van die Noordweste voorkom, ontaard Oom Gert vertel en ander gedigte egter allermins in heimatpoësie. Daarvoor is die lokalisering nie sterk genoeg nie en word ander motiewe met dié van die natuur verweef. In die natuurverse is Leipoldt byvoorbeeld dikwels | |
[pagina 316]
| |
bewus van die verganklikheid van alles of van 'n basiese dualisme tussen hom en die wêreld, en is daar ook in enkele verse sprake van sy eie eensaamheid - die eerste keer dat 'n Afrikaanse digter sy eie binnelewe tot boustof vir sy poësie verhef. Soms, meestal na aanleiding van bepaalde natuurdinge, mymer hy oor die lewe, stel hy vrae oor die misterie van die bestaan en oor sy plek in die wêreld en kom hy soms tot 'n persoonlike bieg. Dikwels neem die verse die vorm aan van 'n gesprek met 'n diertjie of plantjie en vertoon hulle'n bedrieglike eenvoud of 'n skynvreugde oor die natuur waaragter tog 'n dieper betekenis of 'n weemoed om die wêreld skuilgaan. In enkele verse kry ons ook die eerste besinning oor die skryfkuns in die Afrikaanse letterkunde, al is hierdie besinning, in aansluiting by Leipoldt se voorrede, kwasie-naïef verwoord - in teenstelling tot die hoë erns wat dit by die latere digters van Dertig sal aanneem. Hoewel van hierdie verse reeds literêr tot die belangrikste deel van die bundel behoort, was dit veral die gedigte met die Anglo-Boereoorlog as motief wat by die eerste publikasie tot die kritici en die algemene leespubliek gespreek het. Dat Leipoldt hierdie verse ook tot die belangrikste korpus tekste in sy debuut gereken het en aan hulle prominensie wou verleen, blyk uit die feit dat hy die bundel inlei met 'n ‘Opdrag’ en afsluit met die epilogiese ‘Die einde’, albei gedigte waarin die oorlog as motief sentraal gestel word - een van die min tekens in die bundel waaruit ons, naas die aparte groepering van die slampamperliedjies, iets van 'n bundelkomposisie bespeur. Naas hierdie twee gedigte en die titelvers figureer die Anglo-Boereoorlog as motief sterk in ‘'n Nuwe liedjie op 'n ou deuntjie’, ‘In die konsentrasiekamp’, ‘Aan 'n seepkissie’, ‘Japie’, ‘Vrede-aand’ en ‘Die ou blikkie’. Soms is dit egter ook 'n ondertoon in ander gedigte, soos in ‘In Amsterdam’ waarin die verband tussen die onafhanklikheidstryd van die Afrikaner en die Nederlander (tydens die Tagtigjarige Oorlog) tot 'n besinning lei oor die Afrikanernasie wat ná die oorlog platgeslaan is. Hoewel enkele van hierdie verse met die jare heelwat van hul oorspronklike roem moes inboet, is die beste onder hulle vandag nog steeds indrukwekkend. Leipoldt het trouens selde hierdie hoë peil in sy latere werk geëwenaar. In die inleidingGa naar eind82 wat hy op versoek van Leipoldt tot die uitgawe van Oom Gert vertel en ander gedigte skryf, staan Smith stil by die ontwikkeling van Afrikaans as skryftaal uit sewentiende-eeuse Nederlands. In aansluiting by taalstryders soos J.H.H. de Waal, G.S. Preller, D.F. Malherbe en D.F. Malan neem hy die standpunt in dat alleen die Afrikaanse taalvorm ‘die | |
[pagina 317]
| |
draer van 'n eg nasionaal-Afrikaanse letterkunde’Ga naar eind83 kan wees. 'n Bewys vir hierdie standpunt vind hy in die werk van Celliers en De Waal en in ‘die onmag van hoogbegaafde Nederlands-skrywende Afrikaners om tot die hart van die volk deur te dring’.Ga naar eind84 Smith beroep hom hiervoor op die noue verbondenheid tussen volk en taal en op die ‘mag van die volkstaal as 'n middel om die volk te ontwikkel en aan te vuur’.Ga naar eind85 Hoewel dit 'n standpunt is waarteen die poliglottiese Leipoldt later stelling sou inneem, het hy by herhaling sy waardering vir Smith se inleiding en die gehalte van sy suiwer prosa uitgespreek.Ga naar eind86 In die besonder sou hy altyd met Smith se houding teenoor Nederlands akkoord gaan (en daarmee C.J. Langenhoven se verset teen Nederlands kritiseer), naamlik dat dit vir Afrikaans in sy wordingstyd dwaas sou wees om hom van die ‘ou Nederlandse taalskuur’Ga naar eind87 te vervreem en dat ons deur 'n kennis van die Nederlandse letterkunde voortdurend in voeling kan bly ‘met die bakermat van ons stam en met die kultuur wat daardie stam ontwikkel het’.Ga naar eind88 Daarnaas, en ook daarmee sou Leipoldt vir die hele duur van sy loopbaan as Afrikaanse skrywer saamstem, moet die Afrikaner sy eie taalgebruik nie onder Nederlandse invloed laat ‘verbaster’Ga naar eind89 nie. Die ‘treurige vernederlandsing van ons taal’, skryf Smith, ‘wat ons so dikwels in boeke en nuusblaaie aantref, getuig nie alleen van onvoldoende Afrikaanse taalkennis nie, maar ook van 'n skroomlike gebrek aan selfrespek’.Ga naar eind90 Aan die einde van sy inleiding kom Smith by Leipoldt se gedigte uit. Dié verse, skryf hy, was weer vir hom 'n bewys ‘dat ons eie Afrikaans tog maar die natuurlikste voermiddel vir die Afrikaner is’.Ga naar eind91 Leipoldt weet volgens hom hoe om ‘die leed van homself en sy volk te vertolk’,Ga naar eind92 en hy skryf in ongekunstelde, melodiese Afrikaans’.Ga naar eind93 Van die verse bevat ‘pragtige natuurprentjies in bekoorlik-eenvoudige taal’,Ga naar eind94 maar dit ‘dien maar vir teëstelling of vir agtergrond vir sy eie diepgevoelde smart. Hy is in die eerste plaas 'n digter wat onthou wat sy volk wedervaar het.’Ga naar eind95 Smith laat val dus in sy kort karakteristiek van sy vriend se werk die aksent op die ongekunsteldheid en eenvoud van taal en poësie. In sy bespreking van die bundel wys ook De Waal,Ga naar eind96 redakteur van De Goede Hoop, op die rykdom van Leipoldt se taal en die feit dat hy nooit, soos Celliers soms, sy toevlug tot Nederlandse vorme neem nie, al bly die resensent in gebreke om spesifieke voorbeelde van Leipoldt se taalvermoë aan te dui. Hoewel J. Kamp, professor in die teologie in Potchefstroom, in sy uitvoerige beskouing oor die bundelGa naar eind97 die uitbeelding van die ‘reële...Afrikaanse leven met z'n mensen, dieren, planten en dingen’Ga naar eind98 loof, meen hy | |
[pagina 318]
| |
dat Leipoldt meestal nie daarin slaag om ‘het geheimnisvol daarachtere’Ga naar eind99 bevredigend te verwoord nie en dikwels in ‘grofheden, zomaar plompverloren uitgestoten’,Ga naar eind100 verval. ‘Waar Leipoldt ver in achterstaat bij Celliers en Totius,’ gaan Kamp voort, ‘dat is in zangerigheid en in kleurige beeldingskunst. Daar zijn verzen - en niet weinige - die horten en stoten, strompelen en struikelen in plaats van luchtig te zweven; die kraken en knarsen in plaats van te klinken.’Ga naar eind101 As voorbeeld noem hy dan ‘'n Nuwe liedjie op 'n ou deuntjie’. ‘Van die tere dichterstaal’, sê hy na aanleiding van dié gedig, ‘vindt men bij Leipoldt niets: hij werkt net met de woordenschat van ons alledaagse Afrikaanse leven, waar hij zo goed in thuis is.’Ga naar eind102 Van die verse oor die oorlog het net ‘enkele gedeelten...tot poëzie uitgegroeid’;Ga naar eind103 onder hulle sonder hy ‘Aan 'n seepkissie’ vir volledige aanhaling uit. Egte poësie lewer Leipoldt volgens hom verder slegs met ‘Die sterretjie’, ‘Woltemade se spook’ en ‘Die see het juwele, robyne’. Hy beveel ten slotte vir Leipoldt aan om op te hou om, soos hy in sy voorrede sê, ‘versies te draai’, om te besef dat poësie arbeid is en om die Tagtigers deeglik te lees!Ga naar eind104 Afgesien van die gebrek aan werklike insig en oordeel wat Kamp met hierdie artikel openbaar, moes veral die aanbeveling om die Tagtigers te lees, Leipoldt se gramskap gewek het. Met die Tagtigers maak hy reeds as joernalis in Kaapstad kennis, soos 'n mens trouens uit een van sy artikels in The South African News kan aflei.Ga naar eind105 Intussen het die nuwe Afrikaanse digters, wat ná die eeuwisseling en die Anglo-Boereoorlog begin publiseer het, ook die aandag in Nederland begin trek.Ga naar eind106 In 1909 en 1910 word die eerste bundels van Totius en Celliers in Groot Nederland geresenseer, terwyl Carel Scharten in De Gids van Junie 1910 'n aanval op Afrikaans en Celliers loods. In sy artikel sê Scharten dat literatuur in Afrikaans 'n saak van onmoontlikheid is. ‘Afrikaners zou goed doen’, skryf hy, ‘óf het “prettig te spreken” Engels aan te nemen, óf “een zeer eenvoudig maar zuiver Nederlandsch” te schrijven. Hun eigen taal is “gestamel”, “een ding zonder pooten, staart of ooren”, “een gebarsten viool.”’ Tereg reageer die invloedryke A.G. van Hamel in De Gids van Februarie 1911 skerp op hierdie onverantwoordelike uitlatings van Scharten. ‘Heeft een dergelijke hooghartige opmerking niet eerder zelf iets pijnlijklachwekkends; en komt zij niet alleen voort uit 't in Holland helaas nu eenmaal te veelvuldige gevoel van afkeuring voor alles wat een béétje anders is: uit een typisch klein “Klein-Hollanderschap”?’ Die beskouings in Groot Nederland en die stuk van Scharten is geskryf deur outeurs wat as literatore geen hoë aansien geniet het nie en ver van | |
[pagina 319]
| |
die aktiewe sentrum van die Nederlandse literêre lewe verwyder was. In elk geval het die negatiewe reaksie van Scharten die belangstelling in die Afrikaanse literatuur in Nederland eerder versterk as gedemp. Die groot deurbraak vir hierdie belangstelling kom met die publikasie van 'n artikel deur die Utrechtse taal- en letterkundige C.G.N. de Vooys in De Beweging, die invloedryke literêre tydskrif waarvan die Tagtiger Albert Verwey die redakteur was. In hierdie uitvoerige studie, wat onder die opskrif ‘Afrikaner taal en poëzie’ verskyn, bespreek De Vooys die werk van onder andere Celliers, Totius en Leipoldt. Celliers se werk is, ondanks sy waardering, vir hom alte literêr, want hy vind daarin 'n voortdigting op Shelley en Perk en reminissensies aan Potgieter, De Genestet en Gezelle. By Celliers, sê De Vooys, kom dit nie voort uit 'n ‘geestelike verwantschap’ nie; die ‘bontheid van letterkundige herinneringen’ ontstaan eerder ‘uit oefening van het aanpassingsvermogen dan uit onbewuste overgave’.Ga naar eind107 Ten spyte van sy waardering vir Totius, wie se werk vir hom ‘voor de jonge letterkunde een kracht van betekenis’Ga naar eind108 is, bemerk hy by hom ook 'n verering van Gezelle, veral in die gedig ‘Die os’. Meer as die ander bundels het die kennismaking met Oom Gert vertel en ander gedigte De Vooys egter geboei en oortuig van ‘de levensvatbaarheid van een Zuid-Afrikaanse letterkunde...(en van) de noodzakelikheid van het Afrikaans als uitingsmiddel voor de (Zuid-Afrikaanse) kunstenaar’.Ga naar eind109 Wat hy veral waardeer, is die beskeie voorrede waarin die digter na sy ‘rijmpies’ verwys. De Vooys skryf: ‘Een enkel Italiaans motto, een gedicht op zijn verblijf in Amsterdam, is in dit boekje het enige bewijs dat wij een “gestudeerd” man leren kennen. Hij staat met beide voeten op Afrikaanse bodem en schijnt niet anders te kennen dan de taal die hij van zijn moeder leerde.... Daardoor is hij de tegenvoeter van Celliers, die zijn Europees-getinte kultuur, zijn voorliefde voor Europese litteratuur nergens verbergt. Maar daardoor krijgt de taal van Leipoldt vaak een gaafheid en een kracht, die Celliers mist. We voelen de zeggenskracht, de gevoelsdiepte die aan het eenvoudige woord eigen kan zijn. Door zulke poëzie moet hij zijn land- en tijdgenoten in het hart grijpen. Zulk een eenvoud kan een hechte basis worden voor de opbouw van een echt nationale letterkunde.’Ga naar eind110 Wat De Vooys dus in die besonder tref, is die ‘volstrekte kunsteloosheid’Ga naar eind111 van Leipoldt se poësie, soos J.D.F. van Halsema in 1992 in 'n voordrag op Stellenbosch die Utrechtse literator se reaksie op Oom Gert vertel en ander gedigte formuleer. Daarmee sluit De Vooys aan by Smith se opmerking | |
[pagina 320]
| |
oor die ‘ongekunstelde, melodiese Afrikaans’, al val die aksent by Smith eerder op Leipoldt se taalgebruik as sy onafhanklikheid van literêre voorbeelde. Wanneer De Vooys sy stuk op 20 Augustus 1913 vir publikasie aan De Beweging stuur, sluit hy enkele bundels van die Afrikaanse digters wat hy ter sprake bring, vir Verwey daarby in. In die bygaande brief motiveer hy hierdie toesending: ‘Mijn bedoeling is niet alleen, van u te weten of u het met mijn oordeel (in 't biezonder over Leipoldt) eens is, maar ook om u uit te lokken - in verband met het slot van mijn artikel - bij gelegenheid eens een dieper gaande beschouwing over de betekenis van deze opkomende poëzie in De Beweging te geven. Mij dunkt dat u er, ook voor de Afrikaners zelf, een goed werk mee doet.’Ga naar eind112 Inderdaad word Verwey uitgelok. Hy lees Oom Gert vertel en ander gedigte en ook die bundels van die ander Afrikaanse digters uit dié tyd, maar dit is veral oor Leipoldt dat hy werklik gaande raak. Die neerslag van sy reaksie publiseer hy onder die titel ‘De poëzie van Zuid-Afrika’, met die naam ‘C. Louis Leipoldt’ as subtitel daarby gevoeg, in De Beweging van November 1913.Ga naar eind113 In sy beskouing verwys Verwey na die toesending van die Afrikaanse bundels deur De Vooys en sê hy dat hy sy kollega se bewondering vir die werk van Leipoldt deel. Hy maak die uitspraak dat ‘de poëzie van Zuid-Afrika... in de verzen van Leipoldt plotseling zichzelf geworden (blijkt)’.Ga naar eind114 Terwyl die Afrikaanse poësie vóór Leipoldt hoofsaaklik in die teken van die taalstryd en die taalontwikkeling staan, is Leipoldt se poësie ‘de onmiddellijke weergave van de dichterlijke inhoud van Zuid-Afrika’.Ga naar eind115 Om Leipoldt se poësie van dié van die ander Afrikaanse digters vóór hom te onderskei, maak Verwey gebruik van wat Van Halsema in sy Stellenbosse rede die teenstelling tussen ‘spraak’ en ‘schriftuur’ noem.Ga naar eind116 Vóór Leipoldt is die Afrikaanse poësie die resultaat van 'n bewuste strewe tot skryf, ‘de beproeving van nu deze, dan gene uitheemsche vorm’Ga naar eind117 soos dit by Gezelle, Shelley en Perk aangetref word. Teenoor hierdie ‘schriftuur’ is die poësie van Leipoldt ‘spraak’, ‘natuurlijke klank en weerklank’.Ga naar eind118 Daar is by hom ook reëls en verse wat aan Tennyson of Keats herinner, maar altyd is sy gedigte ‘de éénmalige uiting van een éénmalig innerlijk, en niet een bemoeiing met de taal terwille van haar uiterlijke gelijkmaking aan een andere’.Ga naar eind119 Hoewel hy ‘een rijkelijk bewust kunstenaar’Ga naar eind120 is en ontvanklik staan vir die hele Europese digkuns van sy tyd, is sy inhoud en toon suiwer Afrikaans.Ga naar eind121 Wat dít betref, neem Verwey dus stelling in teenoor wat sowel Smith in sy inleiding as De Vooys in sy arti- | |
[pagina 321]
| |
kel sê. Leipoldt is vir hom nie Smith se ongekunstelde sanger nie en sy werk getuig vir hom ook nie van 'n ‘volstrekte kunsteloosheid’ soos De Vooys beweer nie. Verder is Leipoldt vir Verwey nie ‘de verkondiger van vaderlandsche denkbeelden’Ga naar eind122 nie, maar ‘eenvoudig dichter, dat wil zeggen een mensch die gevoel en verbeelding heeft, en die genoodzaakt is zich uittespreken.... Hij is de stem en het geweten van dat volk, hij is de beeldenaar die in de taal de penning stempelt voor de gedachtenissen van het nageslacht.’Ga naar eind123 Dit beteken nie, en hier dink hy in die besonder aan die titelgedig, dat Leipoldt hom tot ‘patriottische of moraliserende welsprekendheid’Ga naar eind124 laat oorhaal nie. ‘Hij sentimentaliseert niet,’ gaan Verwey voort, ‘hij heeft geen ander doel dan te verdwijnen achter het tafreel dat hij ontwerpen wil. Hij geeft het humoristische evenzeer zijn deel als het aandoenlijke. Want hij weet dat zijn kracht niet ligt in een beperkend partijkiezen, maar in zijn menschelijkheid die vanzelf het waardevolle tot zijn recht brengt.’Ga naar eind125 En Verwey sluit hierdie besondere insig, wat later ook in die Afrikaanse kritiek tot nuwe perspektiewe op Leipoldt se poësie sou lei, met die volgende belangrike paragraaf af: ‘De vijand van deze dichter is niet de man van een ander volk, die toevallig met de wapens tegen over hem staat: zijn vijand is de onedele, de waardigheidlooze, de brute macht, ieder die menschelijkheid en natuurlijkheid, geestes-schoonheid en mannelijkheid uitschudt terwille van weelde of winst.’Ga naar eind126 Wat 'n mens in Verwey se stuk oor Oom Gert vertel en ander gedigte in die eerste plek opval, is dat hy, in teenstelling tot Kamp, soos De Vooys onomwonde voorkeur gee aan die poësie van Leipoldt bo dié van Celliers en Totius. 'n Mens sou geredelik verwag dat die werk van Celliers, wat in die eerste druk van sy gedig ‘Die vlakte’ nog vorme soos ‘wrong’ en ‘kwam’ gebruik, en dat Totius, wat in die eerste druk van Bij die monument nog ‘vond’, ‘samebond’ en ‘bad’ (vir ‘gebid het’) skryf, sterker tot 'n Nederlander sou gespreek het. Soos De Vooys het Verwey egter meer waardering vir Leipoldt, omdat hy in dié poësie die ware spreektaal vind wat die ‘dichterlijke inhoud van Zuid-Afrika’ sterker as dié van Celliers en Totius verwoord. In die tweede plek bemerk hy, in teenstelling tot Smith en De Vooys, dat Leipoldt 'n deeglike kennis van die Wes-Europese literatuur van sy tyd het en dat sy aansluitings by dié tradisie nie tot geïsoleerde gevalle en blote navolging beperk is nie. En in die derde plek sien hy in dat hierdie poësie nie uit 'n beperkende ‘partijkiezen’ voortkom nie, maar 'n reaksie is op alle skendings van menswaardigheid, ongeag wie die dader is. Dit is veral hierdie waarneming van Verwey waarvoor Lei- | |
[pagina 322]
| |
poldt later sy besondere waardering sou uitspreek. As hy in 1933 in Die Huisgenoot 'n artikel oor die ‘Eerste skoffies’ op sy pad as skrywer publiseer, skryf hy: ‘Van al my kritici - en die meeste het my vleiend behandel oor Oom Gert vertel - was Verwey die enigste wat raakgesien het dat dit nie suiwer 'n ad hoc-pleidooi was nie, maar 'n vertolking van 'n jong seun se innige verontwaardiging oor onbillike behandeling en snode onreg, waar en deur wie ook.’Ga naar eind127 Die Brandwag het intussen, waarskynlikGa naar eind128 sonder Verwey se medewete, ‘De poëzie van Zuid-Afrika’ in sy uitgawe van 15 Februarie 1914 oorgeneem. In Augustus 1914 verskyn in De Beweging J. Kamp se ‘Afrikaans pleidooi’, 'n reaksie op Verwey se artikel, gevolg deur Verwey se repliek. Hoewel hy in sy artikel Leipoldt se poësie nou hoër as vroeër aanslaan, voel Kamp dat Verwey veels te min waardering vir Celliers en Totius het. Hy meen dat die digterlike inhoud van Suid-Afrika by Celliers en Totius nie soos by Leipoldt in 'n kleurige veelvoud van aanskouing weergegee word nie, maar in 'n dieper deurskouing. Agter ‘de tijdelike verschijning der dingen heenschouwend’ wil hy hê dat die digter vir ons ‘het blijvende daarin en daarachter’ moet suggereer. Hy vra: ‘En is het niet bij uitstek dit, wat we bij een dichter zoeken, en wat verzen tot poëzie maakt?’ Hierop sal Verwey met instemming reageer, mits die verse wat ter sprake kom, ‘spraak’ geword het, iets wat juis nie vir hom in die geval van Celliers en Totius in dieselfde mate die geval is as by Leipoldt nie. In sy artikel vereenselwig Kamp Verwey se teenstelling tussen ‘spraak’ en ‘schriftuur’ verkeerdelik met dié van volkstaal en gestileerde taalgebruik. Verwey is van mening ‘dat Leipoldt zeer veel letterkundige indrukken ondergaan heeft, (en) zijn taal minstens zooveel heeft bewerkt als zijn tijdgenooten. Maar tevens meen ik dat zijn, zoo bewerkte, taal in meerdere mate spraak is geworden dan de taal van de anderen. De taal van die anderen, al dan niet letterkundig bewerkt, bleef veel meer dan de zijne schriftuur.’ Vir Verwey het die ontlenings uit ander digters by Leipoldt 'n volkome en integrerende deel van sy poësie geword, terwyl hy in sy vaderlandse verse ‘geen ander doel heeft dan te verdwijnen achter het tafreel dat hij ontwerpen wil’. Veel meer as die ander Afrikaanse digters is Leipoldt vir Verwey dus, soos Van Halsema dit stel, ‘een dichter van een moderne gecompliceerdheid, wiens verkeer met de letterkunde...is overgegaan in wat het kenmerk is van de ware poëzie: “spraak”’.Ga naar eind129 Drie jaar later sou A.D. Keet opmerk dat Kamp, grotendeels omdat hy Verwey se motiewe (en begrippe) nie goed begryp het nie, in die polemiek ‘'n paar vere laat lê (het)’!Ga naar eind130 | |
[pagina 323]
| |
Só begeesterd was Verwey met Leipoldt se poësie dat hy nog voor die publikasie van sy artikel in 1913 na Suid-Afrika skryf om 'n eksemplaar van Oom Gert vertel en ander gedigte aan te vra. Ná 'n kaartjie om die korrekte adres te bekom, stuur hy 'n oordruk van sy artikel aan Leipoldt in Londen. Hy nooi Leipoldt ook om met hom in Noordwijk te kom kennis maak.Ga naar eind131 In 'n brief wat hy op 12 November 1913 skryf, reageer Leipoldt op Verwey se artikel. Hierdie brief, waaruit Van Halsema in sy Stellenbosse rede aanhaal en wat tot op daardie stadium in Suid-Afrika volkome onbekend was, is só belangrik dat dit hier in sy geheel afgedruk word:Ga naar eind132 Hooggeachte Heer en (sta mij toe er bij te voegen) Vriend! | |
[pagina 324]
| |
houden, maar toch als maat voor wat ik wou bereiken - Multatulis Golgotha. En U hoeft slechts ‘Vaterland und Politik’ te lezen om te weten hoezeer ik onder de invloed van GrillparzerGa naar eind133 stond toen ik de Slampamperliedjies schreef! Ik weet noch U noch dr de Vooys zou het mij kwalik nemen omdat ik, zoals ieder andere die tracht zichzelf te zijn, geenszins altijd die invloed van herinnerde stijl, vorm, en maat, kon ontwijken. Ook was, en is, dat mijn doel niet, want ik besef dat het werk van 'n voorloper op letterkundig gebied niet al te pyrotechnisch[?]-oorspronkelik moet te voorschijn komen. Mijn streven in zover ik eigenlik 'n streven had of ervan bewust was, begon en eindigde met de taak wat ik te zeggen had zoo eenvoudig mogelik en verstaanbaar als ik het kon uit te drukken. In zeker opzicht is mijn werk, zoals U ook zegt, nader aan het eigenlike Afrikaans wat eenvoudigheid en een ‘dwars door alles heen er op uitgaande’ stijl betreft, dan dat van Celliers. Maar of ik eigenlik recht heb mijn werk te beschouwen als meer vertegenwoordigend, waar het nationale begrippen, gevoel, vooroordeel [etc?] geldt, daarvan ben ik niet zo zeker, al schrijft U ook zoo aanmoedigend erover. Want ik weet dat sommige van mijn gedichten mijn landgenoten niet zullen [behagen?] - integendeel. Toen ik die verzen maakte was het nog natuurlik geheel onverschillig wat of hoe iemand anders erover zou denken. Ik gevoelde de geweldige aansporing, aan de eene kant van onze fraaie Afrikaanse natuur, op de andere van die ellendige omwenteling die in 1899-1902 ons allen in ZA. een vooruitstotende schok gaf. Wat ik dichtte was voor eigen vermaak, deels om mijn heimwee, mijn ‘huis toe gaan pijn’ te verzachten, deels om lucht te geven, al was het maar in eenzaamheid, aan gedachten en gevoelens die ik had. Van politiek, laat staan voor kampvechterij voor het Afrikaans was er geen sprake. Want ik heb altijd onze taal als 'n fait accompli aangenomen, en bekommer mij er heel weinig over wat er ten nadele daarvan gezegd of geschreven wordt. Maar juist mijn ‘versies maak uit puur verstrooiing’ zonder eigenlik een doel voor oogen te houden, zullen mijn landgenooten afkeuren, zoals ze reeds nu mijn ‘platheid’ afkeuren in tegenstelling met de deftigheid van Totius en Celliers. Psychologies is het mij hoogst interessant die punten van verschil en afwijking tusschen mij en genoemde dichters na te gaan en mijn werk bij het hunne te vergelijken. De slotsom van zo 'n studie is dat de meeste Afrikaners de Slampamperliedjies niet zullen goedvinden zo- | |
[pagina 325]
| |
lang De Kinderharp het model blijft van alles wat in ZA. als dichtkunst wordt aangezien. Hierdie brief is 'n bevestiging dat Smith en De Vooys se siening van Leipoldt as die ongekunstelde sanger verkeerd was en dat Verwey inderdaad korrek was om agter die skynbaar eenvoudige verse 'n wye erudisie te vermoed.Ga naar eind134 En indien iemand Leipoldt met sy gedigte oor die oorlog as 'n vurige vaderlander en hartstogtelike stryder vir die saak van die Boere wou voorstel, is hierdie brief, waarin hy eksplisiet sê dat daar by die skryf van dié verse van politiek geen sprake was nie, die finale bevestiging dat so 'n siening nie met die werklikheid klop nie. Leipoldt se basiese altruïsme en sy deernis met lydende mense het voortgekom uit 'n ander bron, nie uit 'n eng patriotisme nie. En tog is Leipoldt jare lank deur die Afrikaanse kritiek as die vurige vaderlander voorgehou. In groot mate was Smith met sy voorrede hiervoor verantwoordelik deur herhaaldelik van die digter en ‘sy volk’ te praat en Leipoldt te sien as digter wat meevoel met sy volk’.Ga naar eind135 E.C. Pienaar praat in sy Taal en poësie van die Twede Afrikaanse Taalbeweging van Leipoldt as iemand wat sy volk verpersoonlik,Ga naar eind136 terwyl M.S.B. Kritzinger hom ‘die mondstuk van die Afrikaanssprekendes’Ga naar eind137 en die ‘onversoenlike patriot’Ga naar eind138 noem en S.P.E. Boshoff hom in 1936 nog sien as die digter wat ‘vertolk wat daar in daardie tyd van vertwyfling in die volksiel omgegaan het’.Ga naar eind139 Dit is eers met die verskyning van die eerste uitgawe van G. Dekker se Afrikaanse literatuurgeskiedenis in 1935 dat die meer genuanseerde siening van Verwey sy eerste neerslag in die Afrikaanse kritiek vind. Hoewel Leipoldt se verwerking van die oorlog volgens Dekker vir hom ‘'n kreet van afgryse en ontsetting (is) oor al die onreg’,Ga naar eind140 is dit nie slegs ‘die onreg wat Brit aan Boer gedoen het nie, maar...die onreg van álle brute geweld’.Ga naar eind141 Wanneer F.E.J. Malherbe in 1948 oorsigtelik oor Leipoldt skryf, sê hy dat dié digter ‘die gees steeds bo alle gebeure (verhef) wat aan tyd en | |
[pagina 326]
| |
plek gebonde is. Daarom hoef sy oorlogsverse nie te steun op bepaalde herinneringsbeelde uit die oorlog nie, maar wek hulle deur suiwer uitbeelding 'n eggo van meelewende menslikheid by almal.’Ga naar eind142 Maar steeds het kritici Leipoldt se taalgebruik en wat hy in sy brief aan Verwey as sy modelle en voedingsbronne aandui, nie genoegsaam bestudeer nie, ook nie nadat hy in 1940 in sy artikel ‘Oor my eie werk’Ga naar eind143 van die skrywers noem wat hom beïnvloed het nie. In sy brief aan Verwey sê hy uitdruklik dat sy eintlike strewe as digter ‘begon en eindigde met de taak wat ik te zeggen had zoo eenvoudig mogelik en verstaanbaar als ik het kon uit te drukken’. Eers in 1940 het N.P. van Wyk Louw in sy voortreflike opstel oor Leipoldt, wat by geleentheid van die digter se sestigste verjaardag verskyn het, dié strewe tot die egte spreektaal nader ontleed. Hy wys daarop dat Leipoldt se verse dikwels ‘so snel van wending as die gesprek self’Ga naar eind144 is. Die slampamperliedjies is selde sang, maar eerder ‘liriese verse in die toon van die digter se gewone gedempte mymerpraat’.Ga naar eind145 In 'n gedig soos ‘Oom Gert vertel’ loof hy die ‘effektiewe “understatement”’ en die ‘emosionele struktuur’ van die vers: ‘Die pragtige styg en daal, verhewiging en verstilling beurtelings van die gevoel, wat verhoed dat die gedempte spraak eentonig word.’Ga naar eind146 Hierdie strewe tot die spreektaal is indertyd deur kommentators soos Kamp nie na waarde geskat nie, terwyl latere kritici weinig erkenning gehad het vir die rigting wat Leipoldt daarmee vir die verdere ontwikkeling van die Afrikaanse literatuur én van Afrikaans as medium vir die poësie aandui. Juis daarom is Peter Blum se opmerking in 'n brief uit 1948, naamlik dat Leipoldt met al sy swakhede en Anglisismes ‘die vader van die Letterkundige Afrikaanse taal geword het’,Ga naar eind147 so 'n sensitiewe en raak siening van die werklike groot bydrae wat Leipoldt met sy taalgebruik gelewer het. Waarskynlik het Lowell, Browning, Stevenson en Multatuli, van die skrywers wat Leipoldt as sy voedingsbronne aandui, hom die weg gewys om die gewone spreektaal in sy poësie aan te wend en op dié wyse, onbewustelik waarskynlik, van die meer verhewe woordgebruik van digters soos Celliers, Totius en Malherbe weg te breek. Hierdie tydgenote wou ná die plat taal van baie verse voor 1900 aan Afrikaans 'n sekere waardigheid gee deur hulle taal met Nederlandse wendinge te voed en om deur bewuste navolging van modelle uit die werk van digters soos Shelley en Gezelle vir hul leespubliek te illustreer dat Afrikaans net so geskik as Engels en Nederlands vir verhewe gedagtes is. Waar Leipoldt by ander digters aansluit, bou hy egter sinvoller as sy tydgenote op bestaande tradisies voort. Wanneer hy skryf: | |
[pagina 327]
| |
Ek sing van die wind wat te keer gaan;
Ek sing van die reën wat daar val;
Ek sing van ons vaal ou Karooland;
Van blomme wat bloei by die wal;Ga naar eind148
dink 'n mens momenteel aan Robert Herrick se ‘The argument of his book’: I sing of brooks, of blossoms, birds, and bowers,
Of April, May, of June, and July flowers.
I sing of Maypoles, hock carts, wassails, wakes,
Of bridegrooms, brides, and of their bridal cakes.Ga naar eind149
En by die bekende ‘Lenteliedjie’ herinner die reëls Al die velde's vrolik;
Al die voëltjies sing;
Al die kriekies kriek daar buite;
Elke sprinkaan spring.Ga naar eind150
aan Norman Gale se ‘Spring’: Hierdie invloede is egter hoogstens tot die gebruik van die katalogustegniek en die inset van elk vers beperk. Daarna slaan Leipoldt sy eie rigting in, onafhanklik van sy voorbeeld. Dit is eers wanneer 'n mens Leipoldt se gedig ‘Oom Gert vertel’ naas sy modelle lê dat jy begin besef in watter mate hy, as driftige leser deurdrenk van die literatuur, deeglik van die tradisie vóór hom kennis neem maar daarna sy eie koers kies. Reeds in sy brief aan Verwey verwys hy na Multatuli se ‘Golgotha’,Ga naar eind152 'n lang alleenspraak oor die lyding van Jesus tydens die kruisiging. In die beskrywing maak Multatuli telkens, soos Leipoldt, gebruik van interpolasies wat die verhaalgang vertraag, soos | |
[pagina 328]
| |
Hy struikelt weer...(Op zy wat, Jöchaz!
Ei, laat my ook wat zien...gy dringt me weg,
Of 't hele schouwspel waar voor u alleen!)Ga naar eind153
of (Wees rustig, Mirjam, vader is vermoeid!).Ga naar eind154
Ook die oproep om by die openbare teregstelling aanwesig te wees, laat dink aan die boodskap wat die hoofkonstabel van die kolonel aan oom Gert moet oordra.Ga naar eind155 Leipoldt se verontwaardiging oor sulke teregstellings, wat hy in sy gedig deur oom Gert se emosionele uitbarsting oordra en waarteen hy in sy hoofartikels vir The South African News en as korrespondent in sy bydraes vir die Manchester Guardian en Het Nieuws van den Dag tydens die oorlog heftig te velde getrek het, vind 'n bevestiging in Multatuli se sterk gevoel oor so 'n vertoon. ‘Daarby’, skryf Multatuli, ‘is my iets in den zin gekomen over publieke executiën. Ik bedoel 't aangapen. In de vonnissen staat: die man moet hangen...goed! Neen, eigenlyk niet goed...men moest nooit iemand ophangen. Doch, hoe dit zy, er staat niet in de vonnissen: die man moet, vóór 't hangen, bekeken worden door Publiek.’Ga naar eind156 Sterker nog as by Multatuli sluit Leipoldt met ‘Oom Gert vertel’ aan by die tradisie, soos D.J. Opperman in 'n lesing van Maart 1961 in Pretoria sou aantoon,Ga naar eind157 van die dramatiese alleenspraak, soos dit deur Browning en Tennyson beoefen is. Reeds in sy doktorale proefskrif het J. Kromhout gewys op die verwantskap tussen Browning se gedig ‘The bishop orders his tomb at Saint Praxed's Church’ en ‘Oom Gert vertel’: die akkurate en lewendige karaktertekening, die onderbrekings en tussenwerpsels in die biskop se alleenspraak, en die gebruik van die eenvoudige volkstaal en die byna sorgelose, pretensielose manier van skryf.Ga naar eind158 Wanneer 'n mens egter by die bestudering van ‘Oom Gert vertel’ The poetry of experience betrek,Ga naar eind159 Robert Langbaum se belangwekkende studie oor die dramatiese alleenspraak waarop Opperman wys, word dit nog duideliker watter groot prestasie hierdie gedig in so 'n vroeë stadium van die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en sy letterkunde was. Hoewel nie kenmerkend van alle dramatiese alleensprake nie, sê Langbaum, vind ons dikwels dat 'n bepaalde spreker hom in dié tipe gedig tot 'n spesifieke hoorder of hoorders rig en oor 'n bepaalde voorval uit die verlede praat, sodat daar altyd twee | |
[pagina 329]
| |
tye en twee agtergronde aan te dui is. Terselfdertyd is daar sprake van 'n interaksie tussen spreker en hoorder, soos in dié geval blyk uit die herhaalde inskink van die koffie en die wyse waarop oom Gert by sensitiewe dele van sy vertelling Gerrie vra om iets anders te gaan doen. Die stuk geskiedenis waaroor hy vertel, die twee jong rebelle wat hulle by die Boeremagte aansluit en later deur die Engelse gevang en tereggestel word, skep 'n morele spanning by oom Gert en die behoefte om homself te verdedig, feitlik asof hy aan 'n skuldgevoel ly en daardeur gekwel word. Hierdie skuldgevoel kom voort uit sy kwelling of hy tydens die nagtelike besoek van Gerrie en Johnnie, om sy perde vir hulle rit na Smuts se laer te kom haal, nie sterker moes opgetree het en die twee jong mense, albei in werklikheid nog maar kinders en derhalwe ongeskik vir oorlogvoering, moes belet het nie. Vandaar dat hy, wanneer die Engelse kolonel en sy ‘gespuis’ die volgende dag ‘soos 'n brommer (by hom kom) gons en gons’, die skuld rats van hom na hulle verskuif: ek staan pal.
Ek kon mos nie gehelp het dat die perde
Nog in die tuin gestaan het, en ek sê
Dat dit sy skuld was, en nie myne nieGa naar eind160
Opvallend telkens in die gedig is dat oom Gert nie uitdruklik sê dat hy skuldig voel oor die dood van die twee jong mense nie, maar die skuld op ander probeer pak. Oom Gert wil voortdurend sy eie perspektief op die gebeure aan die luisterende neef opdwing, maar die oplettende leser kom gou agter dat dit 'n beperkte, vertekende beeld is wat hy gee. Dit is 'n procédé wat kenmerkend is van die negentiende-eeuse tradisie van die dramatiese monoloog en waaroor Langbaum insiggewend skryf. Die ‘meaning of the dramatic monologue’, skryf hy, ‘is in disequilibrium with what the speaker reveals and understands. We understand the speaker's point of view not through his description of it but indirectly, through seeing what he sees while judging the limitations and distortions of what he sees. The result is that we understand, if not more, at least something other than the speaker understands, and the meaning is conveyed as much by what the speaker conceals and distorts as by what he reveals.’Ga naar eind161 Opperman se Pretoriase lesing het saamgeval met die publikasie van 'n opstel wat juis op hierdie spanning tussen ‘reveals’ en ‘conceals’ konsentreer, naamlik Merwe Scholtz se ‘Wat vertel “Oom Gert vertel”?’Ga naar eind162 Voor | |
[pagina 330]
| |
Scholtz se opstel is oom Gert deur die kritiek telkens gesien as ‘een typiese, oude boer’ (De Waal),Ga naar eind163 iemand wat in die ‘trant van die ras-egte Boer’Ga naar eind164 praat en ‘die eerste lewende mens in ons letterkunde’Ga naar eind165 (Dekker) is, 'n kensketsing wat Dekker tot in die laaste uitgawe van sy literatuurgeskiedenis handhaaf. Scholtz se standpunt is dat oom Gert eerder 'n swakkeling met verborge Britse lojaliteite is, iemand wat self niks tydens die oorlog gedoen het nie en nou skuldig daaroor voel. En al sal 'n mens E. LindenbergGa naar eind166 in sy reaksie op hierdie interpretasie waarskynlik gelyk gee dat oom Gert se skuldbewussyn in die eerste plek berus op die feit dat hy met die verskaffing van perde en proviand die twee jong rebelle op die weg gehelp het wat uiteindelik tot hulle dood sou lei, bly dit die groot verdienste van Scholtz dat hy ons bewus gemaak het van aspekte van dié belangrike gedig wat geslagte kritici nie raakgelees het nie. Wanneer 'n mens verder, uitgaande van Van Wyk Louw se waarneming, die telkens wisselende emosionele register van die gedig in ag neem en sien hoe oom Gert ook by Engelse soos ou Smith en die hoofkonstabel bewus is van wat André P. Brink by geleentheid in 'n ander verband Leipoldt se ‘verskuilde menslikheid’Ga naar eind167 genoem het, word die prestasie van ‘Oom Gert vertel’ nog groter. As 'n mens daarby in 'n klein flentertjie manuskrip, wat klaarblyklik 'n vroeë poging tot hierdie vers moet gewees het, bemerk hoe sukkelend Leipoldt se Afrikaans aanvanklik was, word die finale ‘Oom Gert vertel’ in dié spesifieke wordingstadium van ons taal en literatuur iets van 'n klein wonderwerk. Aanvanklik het die betrokke gedeelte as volg daar uitgesien: En hy ‘Maar oompie wat dan verder wat
Hierna? Waar moet ons heen wat wort van ons.
'n Mens ge mos nie somaar alles op
Ver niks nie.’ nooit ver niks en niemental.
Ver vryheid ver om vry te lewe en vry
Als eens jou tyd te sterwe kom te sterwe...Ga naar eind168
Uiteindelik het dit ontwikkel tot: ‘Ons kan dit nie hier uithou nie, oom Gert:
'n Mens moet tog iets vir sy nasie doen.’
‘Doen? Doen? Iets doen! Ag, wat kan julle doen?
Wat kan ons algar doen?’Ga naar eind169
| |
[pagina 331]
| |
En as 'n mens sien hoe Leipoldt van Multatuli se ‘Golgotha’ en Browning se dramatiese monoloë kennis neem maar dan sy eie weg volg, is ‘Oom Gert vertel’ in Afrikaans een van die beste illustrasies van wat Gerard Manley Hopkins by geleentheid opgemerk het: ‘The effect of studying masterpieces is to make me admire and do otherwise.’Ga naar eind170 | |
VIDit is waarskynlik in 1911 dat Leipoldt, volgens 'n mededeling wat hy later in 'n onderhoud met P. de V. Pienaar doen,Ga naar eind171 op 'n aand in die teater besonder getref word deur 'n produksie van Friedrich Freska se gebarespel Sumerün, opgevoer deur Max Reinhardt. Na sy tuiskoms dieselfde aand het hy die hele drama, wat jare later as Die heks bekend sou word, onmiddellik in Engels geskryf.Ga naar eind172 Die stof van Freska se stuk is ontleen aan die Arabiese nagte, maar afgesien van die hartstog van die liefde, wanhoop, jaloesie, haat en wrok is daar weinig ooreenkomste met Leipoldt se stuk. Waarskynlik is dit eerder geïnspireer deur Ernst von Wildenbruch se Das Hexenlied waarin die motief van heksevervolging sentraal staan en waarin, soos in Leipoldt se drama, ook 'n nagtelike besoek aan 'n kerker en die suggestie van die heks se onskuld voorkom. As hy in Brittanje nie 'n regisseur kry wat in 'n opvoering geïnteresseerd is nie, verloor hy aanvanklik belangstelling in die stuk.Ga naar eind173 Intussen het van sy kennisse in Suid-Afrika Oom Gert vertel en ander gedigte begin lees, al was mense soos Lulu Bolus se Afrikaans nie goed genoeg om die boek sonder die hulp van Leipoldt se ou vriend dr. F.C. Kolbe te volg nie. Wanneer sy tog in 'n brief waarderend oor die bundel skryf, maak Leipoldt in sy antwoord die gedigte af as ‘most immature attempts to express what I felt, and in part still feel’, al sal sy maklik invloede van R.L. Stevenson, Swinburne en Browning bespeur. Indien hy geweet het ‘that the Taal poems would have appealed to you I would have dedicated them to you. But I am not sure you are quite in accord with some of the sentiments expressed.’ Die gedigte, gaan hy voort, ‘are all experiments - potboilers in a sense - as all first poetry must be, echoes of what the writer has heard and read.... I would like to be back at the Cape before I tried again seriously to interpret veld and vlei in verse.’ Aan sy oom Ewald Esselen stuur Leipoldt nie 'n eksemplaar van die bundel nie, omdat, soos hy dit later in 'n brief sou formuleer, ‘I knew you scorned the art of rhyming’. | |
[pagina 332]
| |
Met sy aweregsheid en sy gebrek aan insig en oordeel oor sy eie werk, iets wat hom sy lewe lank bygebly het, skryf hy in 'n stukkie Nederlands in 'n andersins Engelse brief neerhalend oor sy bundel: ‘T'is een prul en ik ben er niet hoogst op gesteld.’ Van John X. Merriman ontvang hy 'n brief ‘to tell you how much touched both my wife and I were with (these poems).... They awaken many old memories and stir many chords.’ Volgens wat hy later in 'n artikel in Die Huisgenoot meedeel, ontvang hy ook 'n brief van Kolbe om te sê dat hy gedeeltes van die bundel aan Merriman voorgelees en van die gedigte in Engels vertaal het. Hy ken baie van hulle nou uit sy hoof.Ga naar eind174 Wat Kolbe van die bundel gedink het, kom 'n mens te wete uit 'n mededeling wat M.E.R. in haar outobiografiese My beskeie deel maak: Ek kry dr. Kolbe eendag in die straat in Kaapstad en groet hom. 'n Mens moes dit uit jou eie doen, want hy het in later jare meer as half blind geword. Sommer op die goeiendag sê hy: ‘And Afrikaans has broken out into poetry!’ |
|