Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 68]
| |
Hoofstuk III
| |
[pagina 69]
| |
se prikkel vir 'n reeks oorloë wat van die oosgrens 'n voortdurende terrein van kommer en geweld gemaak het, iets waaraan die vestiging van die Britse Setlaars in 1820 in die omgewing van Grahamstad niks kon wysig nie. Saam met die vrystelling van die slawe in 1834 en die daarmee gepaardgaande finansiële verliese vir die burgers lei hierdie onrus tot die Groot Trek (1834-1840), 'n landsverhuising van Hollandstalige Afrikaners wat die demografiese opset van die latere Suid-Afrika ingrypend wysig. In vergelyking met die eerste vyftig jaar was die tweede helfte van die negentiende eeu op die oppervlak skynbaar veel rustiger, al was daar allerlei strominge aanwesig wat die laaste dekade onstuimig sou maak en wat aan die einde van die eeu tot 'n volle uitbarsting sou lei. In 1852 en 1854 het Transvaal en die Oranje-Vrystaat onderskeidelik hul onafhanklikheid as republieke verkry, terwyl die instelling van die eerste parlement in 1854 aan inwoners van die Kaapkolonie groter seggenskap in die regering gegee het. Die ontdekking van diamante (1867), die Britse anneksasies van Basoetoland (1868) en die diamantvelde (1871), en die voortdurende bedreiging van die Transvaalse onafhanklikheid stimuleer egter die vorming van 'n nasionaliteitsbewussyn, ook onder Koloniale Afrikaners wat dikwels familielede in die noorde gehad en die Britse politiek ten opsigte van Transvaal afgekeur het. Wanneer Brittanje Transvaal annekseer, lei dit ná 'n kampanje van ‘lydelike verset’ uiteindelik tot die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881, wat op 27 Februarie 1881 in die Transvaalse oorwinning by die Slag van Majuba kulmineer. Daarna word die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek herstel, al sou die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1885 uiteindelik opnuut die staatkundige posisie van Transvaal bedreig. Van hierdie onrus was daar in die tagtigerjare van die negentiende eeu op Clanwilliam nog niks merkbaar nie. Die dorp was die rustigheid self en niemand was ooit haastig nie. In die winter was die omringende berge dikwels met sneeu bedek, terwyl die dorp in die somermaande in die son lê en bak het. Só warm kon die dorp word dat ou dr. Schreiber, wat saam met Christian Leipoldt die Nuwe Testament in Bataks vertaal het en as bewoner van die trope aan 'n onhoudbaar warm klimaat gewoond moet gewees het, die ongenadige hitte nie kon uithou nie. Tydens sy besoek aan Clanwilliam het hy een hele namiddag in een van die badshuisies gelê en slaap.Ga naar eind1 Tussen Afrikaans- en Engelssprekendes op die dorp was daar, so skryf Leipoldt by meer as een geleentheid, 'n uitstekende verhouding. Wanneer | |
[pagina 70]
| |
die burgemeester of die magistraat by openbare plegtighede oorwegend Engels gepraat het, was dit vir niemand snaaks nie en het niemand dit ongewoon gevind nie. In die negentigerjare het die inwoners met belangstelling kennis geneem van die koloniale politiek, waarin J.H. Hofmeyr, die leier van die Afrikanerbond, verenig met die Boerebeskermingsvereniging, 'n belangrike rol gespeel het. Onder die Engelssprekendes van die Kaap was John X. Merriman bekend as voortreflike parlementariër. Cecil John Rhodes kon met die steun van Hofmeyr se Bondsparty eerste minister word. ‘The District’, skryf Leipoldt in Stormwrack, ‘felt a certain complacent pride in the fact that the party to which its sympathies, as a whole, went out was now the party in power, under the chieftainship of a man whose reputation transcended that of the republican leaders in the north. Mr Rhodes, the Prime Minister, had visited and had been charmed by the Valley. His geniality, his bluff, direct manner, and his evident goodwill towards them, had impressed the farmers and townspeople alike. The fact that he, an Englishman of the English, had allied himself with the party of their choice, the Farmers' Party, generally known as the South African Bond, and that he was shaping his policy in conformity with the wishes expressed at a recent conference, had done much to satisfy them, and they were quite content to entrust the directions of affairs to him.’Ga naar eind2 Reeds in die tagtigerjare het die ontdekking van goud met die binnestroom van talle uitlanders 'n nuwe situasie van onrus in die noorde geskep. Die Clanwilliam-gemeenskap se aanvanklike reaksie was dat die nuwe setlaars, indien hulle belasting betaal en die wette gehoorsaam, nie van deelname aan die landspolitiek weerhou moet word nie en dat hulle uiteindelik, anders as die aanvanklike plan van die Kruger-regering, stemreg moes kry.Ga naar eind3 Aan hierdie reaksie kom onder Afrikaanssprekendes 'n einde met die onbekookte Jameson-inval van 29 Desember 1895. Hofmeyr onttrek sy steun aan die Kaapse regering en Rhodes word as gevolg van sy aandeel aan die inval verplig om as premier te bedank. Die Bondsparty van Hofmeyr groei uit tot die sterkste verteenwoordiger van Afrikanersentimente en -aspirasiesGa naar eind4 en die politieke skeidslyn tussen Afrikaans- en Engelssprekendes word weldra duideliker as voorheen. Maar hierdie verskille was in Christie Leipoldt se kinderjare afwesig. In baie opsigte het hy in 'n idilliese en gelukkige gemeenskap grootgeword, klein maar stimulerend genoeg om aan hom 'n ryk jeug te besorg. Daarom ook dat hy later kon praat van ‘die wonderskat my toebedeel as kind’.Ga naar eind5 | |
[pagina 71]
| |
IIOmdat sy moeder gemeen het dat die ander kinders op Clanwilliam ‘onchristelik en onsedelik’Ga naar eind6 is en omdat hy hom van vroeg af noodgedwonge teen haar voortdurende gekyf moes weer, het die jong Christie hom al hoe meer verdiep in die boeke wat hy in sy vader se studeerkamer gevind het. Christian Leipoldt se studeerkamer was aan die linkerkant van die pastorie, met 'n deur na die stoep en met 'n groot venster. Op die boonste rak was sy gereedskap vir die ondersoek van klippe en sy apparate vir chemiese eksperimente, terwyl die res van die rakke met sy ruim boekery gevul was. Op een van die boonste rakke was boeke oor onderwerpe soos verloskunde, chirurgie en kontroversiële teologiese aangeleenthede wat hy verkies het om uit die hande van sy opgroeiende kinders te hou. Onder die boeke wat hulle wel kon raadpleeg, was 'n Duitse ensiklopedie, 'n Bybel-ensiklopedie, die twaalf boekdele van Lange se Bibelwerk, allerlei wetenskaplike werke in Duits en Nederlands, 'n viertalige Bybel, woordeboeke wat Christian vir sy vertaling van die Nuwe Testament in Bataks gebruik het en handleidings uit sy studentetyd. Verder was daar klassieke werke in Latyn, Grieks, Frans en Engels, en selfs 'n paar in Italiaans. Hierdie rakke het vir die kinders ‘vrye weiding’Ga naar eind7 gebied. Van sy vader het Christie naas stories uit die Bybel van vroeg af verhale uit die klassieke mitologie gehoor. Sy vader het ook 'n eksemplaar van John Bunyan se Pilgrim's progress en The holy war - albei in die Nederlandse vertaling - besit, en ook daaruit het hy vir die kinders voorgelees. Wanneer Leipoldt later in ‘Die gat in die kamer’ in Waar spoke speel skryf oor 'n jong seun se hallusinasies en yl - waarin 'n mens die naswewende beeld van sy eie siekte op sesjarige ouderdom aan sinkingskoors kan herken - word die lampetkan in die seun se verbeelding ‘iets reusagtigs groot, met bene, 'n stert en vlerke, soos die duiwels wat ek in Bunyan se Heilige Oorlog gesien het’.Ga naar eind8 Maar toenemend het Christie, wat vroeg reeds op Worcester by sy oupa Esselen leer lees het, self sy vader se biblioteek gebruik en 'n alleenlewe begin lei. Dit is, so skryf hy later in sy ‘Jeugherinneringe’, ‘nie die allerbeste manier...om 'n seun selfstandig en kordaat te maak nie. Hy behoort van jongs af aan geleentheid te kry om hom teen sy gelykes, sy meerderes en sy minderes te meet, om die skerp kante van sy temperament te slyp teen die weerstand van maats. Net deur van sulke geleentheid gebruik te maak, ontwikkel hy sy eie karakter en word hy ten volle bewus van sy eie menslike | |
[pagina 72]
| |
gebreke.’Ga naar eind9 Dié kans, so gaan hy voort, ‘het ek nie gehad nie - wat waarskynlik een van die redes is waarom ek vandag, in my omgang met my medemense, so ongeduldig, en, na ek verneem, onbeskof is’.Ga naar eind10 Tog was die pedagogiese metodes van Christie se ouers, soos hy self kort voor sy dood erken, uitstekend ‘om in 'n introspektiewe kind die begeerte te wek om kennis te kry en sy kennis te ontwikkel’.Ga naar eind11 Daar is nie van hom verwag om bepaalde tye aan sy ‘lesse’ te wy nie. In die voormiddag moes hy egter 'n paar uur bestee aan die lees van sekere boeke en die bestudering van Latynse en Griekse grammatika, geskiedenis, aardrykskunde en eenvoudige wetenskaplike werke. Oor dít wat hy aangeleer het, moes hy weekliks 'n opstel in Engels of Nederlands skryf. Soms was sy vader 'n hele week op huisbesoek in die distrik en dan is eers die week daarna oor die lesse gepraat en misverstande of moeilikhede uit die weg geruim. Sy vader, so skryf Leipoldt in sy ‘Jeugherinneringe’, het hy beskou ‘as iemand wat baie geleerd was, maar wat glad nie in die omgang so minsaam en tegemoetkomend was as byvoorbeeld oupa Esselen nie. Hy was altyd so besig dat 'n vraag of 'n versoek, ofskoon dit antwoord en toeligting uitgelok het, gelyk het asof dit 'n groot guns was.’Ga naar eind12 Dit was sy gewoonte om nie dadelik op elke vraag inligting te verskaf nie, maar om aan die hand te doen dat Christie self die antwoord in een van die boeke in die studeerkamer vind. Dit het die jong seun daartoe gelei om van vroeg af baie gebruik te maak van leksikons, ensiklopedieë en handleidings. Met die weeklikse hersiening van wat hy geskryf het, was daar die geleentheid om foute te ontdek en vir verdere toeligting na die bronne van inligting terug te keer.Ga naar eind13 Die nadeel van sy opleiding - en 'n nadeel wat later baie ernstige probleme vir hom sou besorg - was dat hy nie genoegsaam in rekenkunde of meetkunde geskool is nie en dat selfs sy kennis van ‘tafels’ tot aan die einde van sy lewe erg gebrekkig was.Ga naar eind14 Sy geheue is versterk deur die vrywillige aanleer van talle verse en stukke prosa. ‘Voor my tiende jaar’, skryf Leipoldt in sy ‘Jeugherinneringe’, ‘het ek die eerste twee canto's van Milton se Verlore Paradys, die hele Lady of the Lake van Scott...(en) kort en lang stukke in Nederlands, Duits en Engels uit my kop geken.’Ga naar eind15 Tydens een van die sinodesittings in Kaapstad het Christie in dr. Daniel Hahn se studeerkamer kennis gemaak met die werk van die Oostenryker Franz Grillparzer, wat hom later sou beïnvloed. In Drieankerbaai het hy ook oubaas Combrink leer ken wat met Vondel gedweep het en wat honderde reëls uit dié skrywer se Lucifer en Gijsbrecht van Aemstel kon aanhaal. Die | |
[pagina 73]
| |
oubaas het in sy pragtige handskrif uittreksels uit Vondel op blou foliopapier uitgeskryf wat Christie van buite moes leer en vir hom, met 'n roomys by Cole se kafee as beloning, moes deklameer.Ga naar eind16 Wanneer Leipoldt later in sy roman Stormwrack oor ds. Uhlmann se jongste seun, Louis, skryf, het hy duidelik homself in die gedagte. Louis is ‘a dreamy, rheumaticky boy who was not allowed to mingle with the Village boys and was taught at home with the result that his knowledge was surprisingly unequal. Young Louis Uhlmann could write Latin, read Hebrew, and quote Goethe and Heine, but was hopelessly at fault when it came to calculating how long it would take for a cistern to be filled or a ditch to be dug according to the conditions so exhaustively detailed in Hamblin Smith's arithmetic.’Ga naar eind17 Naas die uitgebreide boekery van Christie se vader was die gesin ook ingeteken op De Zuid-Afrikaan, The Cape Times en De Kerkbode, terwyl sy moeder Sunday at Home, Leisure Hour en die Ladies' Home Journal, laasgenoemde met sy goeie vervolgverhaal, ontvang het. Meer spesifiek vir die kinders was daar The Boy's Own Paper en The Girl's Own Paper. Christie se moeder was ook die plaaslike verteenwoordiger van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap en as kolporteur het sy altyd 'n klompie boeke ontvang. So het hy kennis gemaak met die populêre kinderlektuur in Engels. The Boy's Own Paper het goeie vertalings van Jules Verne en André Laurie gepubliseer, almal boeke, soos Leipoldt dit stel, ‘met 'n sterk “opvoedkundige” agtergrond, uiters geskik om die belangstelling van 'n nuuskierige seun te wek’.Ga naar eind18 Een van Laurie se verhale het hom byvoorbeeld gelei tot 'n studie van die geskiedenis van die Mede en Perse en die leer van Zoroaster. Op dié wyse het hy ná die verhale van sy ouers oor hul eie wedervaringe in Soematra vroeg in sy lewe die lokstem van die Ooste gehoor. Soos met die begrafnis van hul hansdiere het Christie en sy vriend Kareltjie Sheard in hul ‘Tempel van Stilte’ in navolging hiervan ruspers ritueel geslag met 'n gebed tot die son, iets wat die ‘owerheid’ gou stopgesit het.Ga naar eind19 Van musiek het Christie niks gehou nie en sy moeder se klavierlesse was vir hom 'n ‘ellende’. Sy eie aanleg was nooit, soos hy dit self stel, vir handwerk nie. Sy eie handskrif het nooit in die verste verte by dié van sy oupa Esselen gekom nie en hy het sy hele lewe deur niks gehou van 'n pen en later 'n tikmasjien, die instrumente waarmee hy moes skryf, nie. Teen die einde van sy lewe het hy sy spyt uitgespreek dat hy nie in sy jeug geleer het hoe om met 'n skaaf, 'n saag, 'n hamer en 'n beitel te werskaf nie, want vir die geringste werk van dié aard moes hy altyd sy toevlug neem tot iemand wat iets daarvan verstaan.Ga naar eind20 | |
[pagina 74]
| |
Vanaf sy agtste jaar is Christie toegelaat om die dorpsbiblioteek te besoek en om weekliks 'n boek uit te neem en tuis deur te lees. In sy matriekjaar kon hy ook as bibliotekaris diens doen. Naas enkele titels in Duits en Nederlands was daar 'n buitengewoon goeie versameling Engelse boeke: pragtig ingebonde stelle van die werke van Scott, George Eliot, Jane Austen, Maria Edgeworth, die Elizabethaanse dramaturge, Byron, Shelley, Browning, Tennyson, Hood en Swift. Vir Christie was dit 'n belangrike aanvulling by sy vader se boekery, waarin die Engelse klassieke net ‘spaarsaam’Ga naar eind21 verteenwoordig was. Toe hy tot die biblioteek toegelaat is, was die digwerk van Scott reeds aan hom bekend, maar nou kon hy dié skrywer se geskiedkundige verhale ontdek en hom maande lank in die deurlees daarvan verdiep. ‘Dat ek vandag Scott se Heart of Midlothian nog beskou as een van die vooraanstaande klassieke in die Engelse letterkunde,’ sê hy in sy ‘Jeugherinneringe’, ‘is miskien toe te skryf aan die enorme indruk wat dit op my kinderlike gemoed gemaak het toe ek dit vir die eerste keer in hande gekry het. Ek kon toe natuurlik nie die kuns daarvan besef nie, en waarskynlik was die grootste gedeelte daarvan nog bo my vuurmaakplek, maar die dialoog is so eenvoudig en so treffend dat dit my dadelik bekoor het. Ek was 'n gevoelige kind, met daardie mate van ver- en inbeelding wat normaal by 'n introspektiewe kind is; en enige verhaal wat op my gevoel gewerk het, afgesien van sy kunswaarde, het my sterk geïmponeer.’Ga naar eind22 Onder die boeke wat Christie in sy jeug leer ken en wat 'n onuitwisbare indruk op hom gemaak het, was die Nibelungen- en Roelantsliedere. Die grootste deel van die Nibelungenlied het hy reeds op sewejarige ouderdom geken. Multatuli se Max Havelaar en sy Minnebrieven was aan sy ouers goed bekend en die verhaal van Saidjah en Adinda kon hy oor en oor hoor. Sy vader het E.J. Potgieter se prosa beskou as die allerbeste wat moontlik is, 'n oordeel wat Leipoldt gedeel het. Potgieter se Jan, Jannetje en hun jongste kind was in hulle huis 'n tafelboek.Ga naar eind23 Naas die talle kinderboeke het hy deur sy Latyn-studie onder die indruk gekom van die logiese redeneervermoë en dramatiese gang van Cicero se beroemde pleidooi ter verdediging van Sextus Roscius. Jare later, as Leipoldt gevra word om te skryf oor ‘Boeke wat my beïnvloed het’, is hy diep dankbaar dat hy Cicero se rede nie in eerste instansie as voorgeskrewe boek moes bestudeer nie maar self ontdek het.Ga naar eind24 Uit die inligting wat Leipoldt in sy ‘Jeugherinneringe’ en elders oor sy leeswerk as kind verskaf, lei 'n mens af dat hy baie vroeg ontsettend veel | |
[pagina 75]
| |
gelees en verwikkelde werke leer ken het. So byvoorbeeld skryf hy op 18 Januarie 1935 aan W.J. du P. Erlank dat sy vader hom attent gemaak het ‘op die mooi eenvoudigheid van Spinoza, Lessing, Hegel, en, die een wat altyd vir my die interessantste was, Fichte. My lees was alles wat ek maar in die hande kon kry, in Engels, Nederlands, Duits of Frans; later, toe ek met Italiaans kennis gemaak het, ook Dante en Ariosto. Daarby het ek baie van die natuurwetenskappe gehou, en hierdie neiging het my vader, wat ook daarin sinnigheid gehad het, soveel as moontlik aangemoedig.’ In 'n onderhoud met M.P.O. Burgers sê hy dat hy die Engelse, Nederlandse en Duitse literêre klassieke almal voor sy twaalfde jaar, die Latynse klassieke vanaf sy dertiende jaar, en Italiaans en Frans vanaf sy veertiende jaar gelees het, terwyl hy in Grieks net 'n paar werke, in hoofsaak 'n bietjie Plato, leer ken het. 'n Mens moet egter onthou dat Leipoldt die hebbelikheid geopenbaar het om sy leser veral met lyste skrywers en filosowe en 'n barokagtige oordaad van name en titels te oorbluf. Waarskynlik is ‘al die klassieke’ dus 'n bietjie oordrewe. Wanneer hy later in 'n onderhoud met P. de V. Pienaar opmerk dat hy 'n Boeddhis en 'n aanhanger van Taoïsme is en in sy jong dae met Spinoza en later met Condillac gedweep het,Ga naar eind25 laat dit N.P. van Wyk Louw opmerk 'n mens vermoed ‘- naas 'n glinstering in die oog om te sien watter uitwerking die opnoem van die mooi name op die luisteraar het - dat dit eerder die vreemdheid, die eksotiese van hierdie heterogene groep rigtings en denkers as die immanente logika van die denkprobleme was wat hom van die een na die ander gedryf het’.Ga naar eind26 'n Mens moet egter versigtig wees met so 'n tipe afleiding, want tussen Leipoldt se latere natuurpoësie en Condillac se sensualisme, wat die ervaring deur sintuiglike waarneming primêr stel, is daar besliste raakpunte, terwyl Fichte se oproep tot plig en verantwoordelikheid en sy beklemtoning van die eiewaarde van die mens later in Leipoldt se besondere soort altruïsme en die uitlewing van sy sendeling-erfenis neerslag sal vind. In elk geval het hy reeds in sy kinderjare die Oosterse reisiger F.W. Junghuhn se Licht- en schaduwbeelden uit de binnenlanden van Java leer ken, 'n boek wat in sy vader se besit was. Dit het in 1854 in Nederlands by J. Hazenberg in Leiden en in 1855 in Duits verskyn. By sy publikasie in Nederlands het dit 'n sensasie veroorsaak en binne die bestek van 'n paar jaar is nie minder nie as vyf drukke gepubliseer, maar vreemd genoeg het 'n Engelse vertaling nooit verskyn nie. Christie se vader het die Nederlandse weergawe van Junghuhn se boek besit, 'n eksemplaar wat Leipoldt reeds in sy kinderjare met aandag gelees het. In sy artikel oor ‘Boeke wat my beïnvloed het’ | |
[pagina 76]
| |
staan hy uitvoerig by dié boek stil. Dit is volgens hom ‘een van die grootste boeke wat ooit geskryf is.... Die boek is in menige opsig enig wat betref die digterlike beskrywing van natuurtonele, die meegevoelige bespreking van Oosterse sedes, gewoontes, en geloof, en die amper profetiese voorspellings wat deur die skrywer as gevolgtrekkings uit sy beredeneerde uiteensetting van toestande gemaak word. Uit 'n wetenskaplike, sowel as uit 'n etnologiese oogpunt beskou, is dit 'n uiters merkwaardige boek, en saam met sekere digwerke...(was dit vir my)...vir baie jare (toonbeeld van)Ga naar eind27 die deurligtende waarheidsliewende opregtheid van die skrywer, daardie iets wat die Romeine “sinceritas” genoem het...In Licht- en schaduwbeelden kom dit so duidelik en ongekunstel te voorskyn dat dit selfs 'n jong seun, soos ek destyds was toe ek vir die eerste maal daarmee kennis gemaak het, so sterk beïnvloed (het) dat dit in 'n sekere mate sy lewensbeskouings, veral oor punte soos ons verhouding tot die eerlike opvattings van anderes, tot broeders van 'n ander ras en van andere insigte, en tot die gemeenskap in die algemeen, aanmerklik gewysig het.’Ga naar eind28 En hy sluit af: ‘In sekere mate kan ek dus aanneem dat hierdie boek, meer as miskien enige ander my beïnvloed het, op dieselfde wyse waarop ek steeds beïnvloed is deur die groot digters wie se boeke my hele lewe deur altyd my eerste troos, toeligting, en raadgewers was.’Ga naar eind29 Dit is veral Junghuhn se helder uiteensetting van die Islam en die Boeddhistiese stelsels en sy vergelyking met die Christelike godsdiens wat die jong Christie geïnteresseer het.Ga naar eind30 Junghuhn was 'n prominente vrydenker van die tweede helfte van die negentiende eeu, maar geen oppervlakkige ateïs nie. Sy vryheidsin het gebots met die streng regsinnige denkbeelde van die Lutherane en Calviniste en in sy geskrifte slaan hy 'n fel toon teen die Christendom aan. In die besonder reageer hy op die missionêre onderneming in 'n land soos Java, waar die inwoners geen barbare is nie en geen behoefte aan 'n nuwe geloof het nie. Later sou Leipoldt in sy ongepubliseerde Engelse verslag van sy reis na die Ooste oor hierdie aspek van Junghuhn se standpunt skryf, 'n standpunt wat hy ten volle gedeel het. In dié verslag vertaal hy gedeeltes uit Junghuhn in 'n meevoerende Engels:Ga naar eind31 How clearly, concisely, reasonably, has Junghuhn pleaded for the Javanese, pleaded that they should be left alone, untouched by the welter of religious strife and the aigre of that seething sea of dogma which has been the bane of other peoples. In (his)...book...he put forward the main arguments in support of his contention that | |
[pagina 77]
| |
Christianity was unsuitable for this mild mannered race who hold their Mohammedanism so firmly and interpret its rules so liberally. ‘The Christian religion’, he wrote, ‘can teach the Javanese no new truth; it can show them no further good than what they already dream of. I ask you, who come to preach Christianity among them, why do you wish to convert them? Why do you want to tamper with these good, still unspoiled people? Do you want to sow dissension among them, to bring about inevitable results that must come from the teaching of a religion that commences with a miracle and ends with an absurdity? Do you want to promote sectarian hate and religious strife with your Bibles and testaments? Do you want to plant the Cross and argue hair splitting points of dogma with them? Do you desire to make them discontented, do you want to force them from their peaceful pursuits into the woes of a holy war...? For heavens sake desist! Do not, for God's sake, plant on these beautiful mountain slopes your horrible Cross - do not overwhelm them with Bibles and miracles that will inevitably, sooner or later, create a monster to destroy them and you...What makes me regard the future with some equanimity is that I am conscious of the fact that the Javanese, with all their gentleness, are logical and not fools. It will be by no means easy to make the native gulp down the tissue of contradictions on which your principal theological hypothesis is based...But remember this; in his bosom are the germs of furious passions that may be developed into burning resentment and headlong fanaticism. The lower the moral and intellectual development of a race, the less it has elevated itself by civilisation above its original simple state of nature, the more dangerous are its passions when they are aroused. Take care you do not lightly put a spark to that inflammable material...Spare them your Christianity.’Ga naar eind32 Vir 'n seun wat in die pastorie grootgeword het en wie se vader vroeër sendeling op Soematra was, moes Junghuhn se beskouinge oor missionêre aktiwiteite onder die Islamiete op die buureiland Java van meer as gewone belang gewees het. In 'n onderhoud met M.P.O. Burgers in die veertigerjare sê Leipoldt met klaarblyklike wrewel dat hy elke Sondag drie vervelige ure in die kerk moes deurbring, 'n roetine wat hom teen die bors gestuit en waarvoor Junghuhn 'n uitvlug gebied het. Met sy oorrompelende styl en streng logiese inslag het Licht- en schaduwbeelden vir Leipoldt op 'n | |
[pagina 78]
| |
vroeë leeftyd nie alleen ander wêrelde en perspektiewe geopen nie. Dit het by hom ook ernstige twyfel oor die godsdienstige oortuigings van sy ouers laat ontstaan en hom op die pad van 'n eie soeke geplaas. Reeds voordat hy uit die ouerhuis weg is, het hy volgens 'n mededeling van Ka Bergh op 'n vraag van sy vader geantwoord dat hy sy breuk met die tradisionele godsdiens en sy afkeer van die Christendom ‘uit boeke’ gekry het.Ga naar eind33 Die één boek by uitstek wat hom in hierdie rigting gelei het, was Junghuhn se Licht- en schaduwbeelden. | |
IIIReeds in hierdie stadium moes Christie dus al afvallig van die Christelike godsdiens gewees het. Hy was krities teenoor sy vader se ampsbroers en het die Puriteinse preutsheid van iemand soos dr. Andrew Murray van Worcester gehoon - ‘die grootste ou huigelaar’, soos hy hom in sy onderhoud met Burgers noem. Vir ds. William Murray, die opsteller van die liederebundel De kinderharp (1876), het hy meer waardering gehad; dié het vir hom as jong kind 'n glasie whiskey ingeskink!Ga naar eind34 Later sou hy egter met ewe veel wrewel oor De kinderharp as maatstaf vir die Afrikaanse poësie skryf! Twee voorvalle uit sy jeug het Leipoldt later by meer as een geleentheid in die herinnering geroep, 'n aanduiding van die groot indruk wat dit op hom gemaak het. Hoewel hy van die eerste voorval in sy ‘Jeugherinneringe’ sê dat hy eers ‘baie later’ daarvan verneem het, was hy na alle waarskynlikheid lank voor sy vertrek uit die ouerhuis daarmee op die hoogte en moes dit sy afkeer van die kerk en kerklikes net verder versterk het. Reeds op Worcester, skryf Leipoldt in sy ‘Jeugherinneringe’, ‘het ek my vader hoor viool speel, en ek het later verneem dat hy as 'n eersteklas speler bekend was; maar kort nadat hy as opvolger van die tydelik aangestelde ds. Beyers op Clanwilliam georden was, het hy sy viool weggesluit en dit nooit weer gehanteer nie. Baie jare later eers het ek uitgevind hoekom. “Die Kerkeraad het my versoek om tog nie dansliedjies in die pastorie te speel nie,” het hy my jare later vertel....“Daar was nog altyd die klavier oor, en klavier speel was minder onstigtelik.”’Ga naar eind35 In sy ‘Jeugherinneringe’ gee Leipoldt hierdie onsmaaklike en afskuwelike voorval baie beknop en sonder die verskriklike uiteinde weer, waarskynlik in ooreenstemming met sy oortuiging, wat hy op meer as een plek | |
[pagina 79]
| |
uitdruklik verwoord het, dat die prikkelbare en oorgevoelige Afrikaanse publiek nie met kritiese opmerkings teen die kerk genoeë sou neem nie. Al wat hy opmerk, is dat die gebeurtenis sy vader se besondere ‘toegewendheid’Ga naar eind36 mooi illustreer. Wanneer hy later hierdie voorval aan Burgers vertel, sê hy dat hy die kerkmanne anders sou gehanteer het. Hy sou vir hulle gesê het: ‘Gee hier die viool, laat ek speel sodat julle kan dans!’Ga naar eind37 In 'n brief wat Leipoldt op 17 November 1906 aan sy vriend dr. Harry Bolus skryf, lei 'n mens uit sy woordkeuse sy afkeer van hierdie soort bekrompenheid nog duideliker af. Hy spreek sy spyt uit dat hy nooit geleer viool speel het nie. ‘My father was,’ gaan hy voort, ‘and is still I believe, an expert fiddler, and his hobby used to be playing his old violin, a relic of his Utrecht student days. After a while he gave it up - I believe because some of the congregation thought Mozart and Beethoven were dans liedjies or dancing tunes, and objected to their predikant spending his leisure hour in playing such worldly compositions.’Ga naar eind38 In sy roman Stormwrack betrek Leipoldt dié gebeurtenis in meer besonderhede. ‘In his Utrecht days’, skryf hy oor ds. Uhlmann, wat duidelik op sy vader gemodelleer is, ‘he had devoted himself enthusiastically to the violin, and had pleaded with his father to be allowed to become a professional violinist. That could not be permitted in a missionary's son whose career had been mapped out from the day of his birth, and whose life had been consecrated to mission service. But while he had given up the idea of earning a living with his fiddle, that instrument had been a solace and a comfort to him for many years. He played it in Sumatra, and his playing had won him a mild reputation which he had brought with him to the Colony. After his induction as pastor at the Village he had played it often, in the quiet afternoons and the quieter evenings - Bach and Beethoven and Mozart, Hungarian, Russian, Polish and Italian compositions, improvisations of his own. The Village had listened and admired, and the location, that appreciated anything that could be fiddled with any semblance of tune, had been in ecstacies. But the Church Council had called on him as a deputation, and asked him, for the sake of his cloth and the edification of the congregation, to refrain from playing “fiddle music”. No former pastor had fiddled, and it was beneath the dignity of their pastor to descend to such vulgarity.’ Leipoldt gaan voort: ‘A less self-disciplined man would have laughed at them, and argued with them; one with more knowledge of men would have played to them, and mastered their prejudice by the wizardry of his art. Mr Uhlmann did none of these things. He gave them | |
[pagina 80]
| |
coffee and cake, and locked up his violin in his study cupboard which he never opened, although he had listened in silence and had given them no promise. But he never played the violin after the deputation had left. No one but he knew what the sacrifice had meant to him.’Ga naar eind39 In die Stormwrack-weergawe verswyg Leipoldt egter die skrynende afloop van die saak. Toe Leipoldt se vader op Hopefield op sterwe gelê het, kon hy vanweë 'n beroerte nie praat nie. Hy het egter tekens gemaak dat hy graag sy viool wil hê. Sy dogter Issa het die viool na hom toe laat bring en met die viool in die hand het hy gesterf.Ga naar eind40 In sy ongepubliseerde roman The mask verwerk Leipoldt later hierdie addisionele gegewe: ‘I often listened to him for he played beautifully. Mozart and Beethoven chiefly, but sometimes Italian things with a lilt in it. But the church council did not like it, and it sent a deputation to ask him to stop playing godless things. I remember there was a squabble.... Mr Uhlmann gave them coffee and cake, and listened to what they had to say, and then he locked up his violin case and never opened it till the day of his death. When he was dying he called for the key, and had the case opened, and he lay fingering the bow when he died.’Ga naar eind41 Oor die tweede voorval in sy jeugjare skryf Leipoldt in meer besonderhede in sy ‘Jeugherinneringe’, hoewel hy oor die eintlike aanleiding tot die gebeurtenis nie uitwei nie. Leipoldt sê dat hy ongeveer agt jaar oud was toe die gedagte by hom posgevat het dat hy eendag mediese dokter wil word, al bestaan die moontlikheid ook - in die lig van sy neiging om altyd sy ervarings as kind te vroeg te dateer - dat die voorval op die drempel van puberteit kon plaasgevind het, daardie fase in 'n seun se lewe - soos hy later in Die donker huis sou skryf - ‘waar die liggaamlike en geestelike ontwikkeling onvermydelik gepaard gaan met die eerste probeerslae tot 'n uiting van die natuurlike, instinkmatige drifte van die jeug’.Ga naar eind42 Leipoldt dui hierdie drifte nie nader aan nie, maar in die voorwoord vir sy roman sê hy dat die ‘kundige leser...maklik die leemtes wat daar in beskrywing en gevolgtrekkings voorkom, (sal) kan aanvul’.Ga naar eind43 Die ‘kundige leser’ sal hierdie ‘drifte’ gemaklik herken as die ontdekking van die geslagtelike en eksperimente met masturbasie. Of die gebeurtenis wél op agtjarige leeftyd (soos Leipoldt beweer) of later plaasgevind het, weet ons nie. Uit Burgers se aantekeninge weet ons egter dat Leipoldt se moeder, 'n vrou wat ten spyte van haar intelligensie dikwels baie kortsigtig en onverstandig kon optree, haar fynbesnaarde seun op 'n dag betrap het terwyl hy met sy geslagsdele aan die speel was. | |
[pagina 81]
| |
Of dit bloot ‘speel’ of inderdaad masturbasie was, weet ons ook nie. Op 'n bruuske manier het sy hom egter toegesnou dat sy hande sal afval en gedreig dat sy geslagsdele afgesny sou word.Ga naar eind44 Op 'n sensitiewe kind sou so 'n dwase ongevoeligheid wel sy uitwerking gehad het. In sy weergawe van die jeugervaring verswyg Leipoldt dié agtergrond, maar vir 'n volledige begrip is dit noodsaaklik om die hele gebeurtenis teen dié aanloop te sien. In sy ‘Jeugherinneringe’ skryf hy: Dit was in hierdie tydperk ook dat ek besluit het om, as ek eenmaal groot was, dokter te word. Die aanleiding daartoe was 'n nare affêre, iets wat eintlik in koolswart kryt in my herinneringe moet aangestip word, omdat dit my 'n uiters droewige paar dae berokken het. Die omstandighede was as volg. | |
[pagina 82]
| |
righeid te voldoen nie, want 'n knaende gewete het altyd gewaarsku teen ongehoorsaamheid, maar op die ou end het die kinderlike duiwel die oorhand gekry: ek het op die leertjie geklim en een van die onbehoorlike boeke vir insage afgeneem.Ga naar eind45 Dit was die eerste wat my hand teengekom het, en ek dink ek het dit gekies omdat die formaat en dikte so min of meer dieselfde as die interessante martelaarsboek van Foxe was. Maar dit was 'n leerboek wat Vader vir sy mediese studie gebruik het, Franck se Chirurgie, met ietwat ouerwetse houtsneeillustrasies van dinge en gebeurtenisse waarvan ek in my ergste nagmerrie nooit gedroom het nie. Hoe lank ek dit bekyk het en hoeveel van die teks ek gelees het, onthou ek nie meer nie, maar ek herinner my nog goed dat ek die aaklige boek teruggesit het, en amper duiselig afgeklim en in die tuin gaan rondloop het. Daar het ek wat miskien die naarste tyd in my lewe is, deurgemaak, deur my te verbeel dat een van die afgryslike prentjies wat ek na gekyk het, niks anders kon wees as 'n voorstelling van wat met my sou gebeur. Die afskuwelike vrees wat ek ondervind het, was 'n nuwe, ondraaglik pynlike gevoel, wat al hoe erger en aakliger geword het, sodat ek in vertwyfeling rondgestap het, sonder om êrens die minste verligting of troos te kry. Hulle het my onder een van die tuinbome gevind, ‘half van sy verstand af’ soos die ou aia later vertel, en ek het eers die volgende dag tot verhaal gekom. Dr. Fraenkel, wat ingeroep is, kon alleen konstateer dat ek diep geskok was, en daar was natuurlik groot nuusgierigheid om uit te vind wat eintlik gebeur het. Maar my vrees was so groot, en my bewussyn van die sondigheid wat daardie angs op my afgelaai het so intens, dat ek net maar kon snik en my kop in die kussings druk. | |
[pagina 83]
| |
maal net so bang was en dat hy nog altyd vir baie dinge bang is, maar dat die regte manier van doen is om iemand anders te vertel waarvoor jy bang is en probeer om uit te vind of dit die moeite werd is om bang te wees vir iets wat miskien niks beteken nie. Sy verstand van die kindersiel, sy kennis van my eie temperament, en miskien ook sy besef van my werklike angs en opgewondenheid, het hom genoop om te probeer uitvind wat die oorsaak van my aandoening was, en daarin het hy ook geslaag. Met skaamte het ek beken dat ek bang was vir iets wat ek in een van die boeke op die verbode rak gesien het. ‘Jy sien nou,’ sê hy met 'n glimlag, ‘wat jy kry as jy ongehoorsaam is. Ek sou julle mos nie verbied het om daardie boeke te lees as ek nie 'n goeie rede daarvoor gehad het nie. En ek dink nou ek weet watter een dit is. Wag, ek sal hom gaan haal...’ Dit was vir my egter 'n alte groot toets, en ek het weer in trane uitgebars en geskree dat ek dit nooit weer wou sien nie. In my verbeelding het daardie afskuwelike prentjie voor my verrys; ek kon elke détail daarvan weer sien; net die dink daaraan het my koue koors gegee. Maar hy het my gepaai. ‘Vertrou jy my dan nie?’ het hy gesê. ‘Lê nou mooi stil, en ek sal vir jou wys hoe dom dit is om oor so iets te skrik.’ | |
[pagina 84]
| |
ander mense te vertrou, sodat hulle ook vir hom kan vertrou. Trek nou jou klere aan en loop sê vir Ma dat dit jou spyt dat jy ons so baie kommer en sorg gegee het.’Ga naar eind46 In sy jeugdige gemoed het die jong Christie die verwydering van stene met kastrasie verwar en gevrees dat dít - soos sy moeder op onbesonne wyse gedreig het - ook met hom sou gebeur. Dat die gebeurtenis op 'n seksuele basis berus het, word duidelik uit sy sterk gevoel van ‘sondigheid’, wat nie net na die hantering van 'n verbode boek teruggevoer kan word nie. Die hele voorval het, soos hy in sy ‘Jeugherinneringe’ sê, daartoe bygedra dat sy vertroue in sy vader versterk is en dat sy vader se hantering van die aangeleentheid 'n groot indruk op hom gemaak het. ‘Ek dink vandag nog’, skryf hy, ‘dat, as ek op 'n ander manier behandel was, ek miskien 'n blywende skok sou gekry het, en dat die dadelike opspeuring van wat my bang gemaak het, en die gesonde verstand waarmee die saak vir my opgehelder is, altwee bygedra het om die geestelike littekens van daardie onvergeetlike vrees wat ek moes deurstaan, grootliks te versag en byna uit te wis.’Ga naar eind47 Hoewel hy maande lank daarna nog by tye angstig en besorg was, het sy vader se hantering van die saak die weg berei om die voorval volkome te verwerk. By die lees van Leipoldt se verslag is die leser uit die aard van die saak nuuskierig om te wete te kom hoe die illustrasie daar uitsien wat die katatoniese aanval geaktiveer het. By navraag kon sowel die mediese skool van die Universiteit van Stellenbosch as dié van die Universiteit van Kaapstad geen inligting verskaf oor 'n Franck wat 'n handboek oor chirurgie geskryf het nie. Leipoldt vermeld nie in watter taal die boek geskryf is nie, maar uit sy vroeëre mededeling dat sy vader se Engels en Frans nie baie goed was nie, vermoed 'n mens by voorbaat dat die boek in Duits of Nederlands is. Indien die vader eers in sy Utrechtse studiejare met die boek kennis gemaak het, is dit waarskynlik 'n Nederlandse handleiding waarna 'n mens moet soek. Verdere bibliografiese oorsigte en navrae, ook in Nederland, kon niks oplewer nie. In 'n artikel in Die Huisgenoot van 14 Junie 1946, wat hy onder die titel ‘Die stryd teen pyn’ publiseer, verwys Leipoldt weer na Franck se Chirurgie, sê hy dat die boek ‘twee honderd jaar gelede’, dit wil sê in die omgewing van 1746, gepubliseer is en haal hy 'n stukkie daaruit in sy eie Afrikaanse oorsetting aan. Met hierdie gegewens en die vermoede dat die betrokke boek, in die gees van die sewentiende- | |
[pagina 85]
| |
en agtiende-eeuse publikasies, eerder 'n uitvoerig informatiewe as 'n enkelwoordige titel sou gehad het, is die navorser aangewys op G.A. Lindeboom se Dutch medical biography.Ga naar eind48 Lindeboom het nie 'n inskrywing oor 'n Franck wat met Leipoldt se inligting klop nie, maar wel oor 'n Johan Herman Francken. Die geboorte- en sterfdatum van dié Francken is onbekend, maar hy het in 1694 vanuit Duitsland na Nederland verhuis en in 1730 stadschirurg van Amersfoort en later van die provinsie Utrecht geword. In 1733 publiseer hy Nieuwe oeffeningsverhandelingen der vier hoofdhandgrepen. Over het stryken van verscheidene cataracten, het snijden der blaasesteenen...het snijden van alle breuken...en het verlossen...van kraamvrouwen. Met die aanduiding dat dit onder meer oor ‘het snijden der blaasesteenen’ handel, vermoed 'n mens dít is die boek (of een van die verskeie herdrukke) wat die vader besit en wat die jong Christie so die skrik op die lyf gejaag het. Hierdie vermoede word bevestig deur die ‘ouerwetse houtsnee-illustrasies’ wat die boek bevat. Dit is waarskynlik veral figuur 5, waarin die pasiënt, met die blaas en geslagsdele ontbloot, stewig deur twee mans vasgehou word, wat hom so ontstel het (kyk nommer 23 by die fotoseksie). En dit is nie onwaarskynlik nie dat Francken se beskrywing van hoe die pasiënt vir die operasie (sonder enige narkose!) gereed gemaak word, sy angs vererger het: ‘Den Lyder word op een tafel gelegt, met sterke banden gebonden, de handen aan de knyen, en de koorde verscheide slaagen om den hals over beide schouderen; vier sterke Mannen werden, twee aan de regter, en twee aan de linker zyde gestelt, die den Patient onbeweeglyk vast houden;...dan brengt den Operateur zyn Sny-staf door den Schaam tot in den blaas; dan doet hy den Snee, een weynig na den linker zyde, langs de naat van het Perinei, omtrent twee vinger breed van den aars.’Ga naar eind49 | |
IVAfgesien van die boeke waardeur hy hom van sy moeder se nukke en grille kon weglees, was die jong Christie van vroeg af lief daarvoor om alleen in die pastorie se ruig begroeide tuin te speel, myle ver in die veld langs die Jandisselsrivier te stap en plante, diere en klippe te versamel. So kon hy wegkom van sy moeder en self vir hom 'n eie ‘wonderwêreld’ skep. In hierdie belangstelling is hy sterk aangemoedig deur sy vader, in wie se biblioteek daar genoeg handleidings oor die dierkunde en plantkunde was, al het hierdie boeke nie op die Clanwilliamse natuur betrekking ge- | |
[pagina 86]
| |
had nie. As gevolg hiervan, sê Leipoldt in sy ‘Jeugherinneringe’, ‘kon (ek) dus my vondste net betitel met hulle klasname en nooit met hulle individuele name nie. Dus nadat ek 'n bietjie botanie geleer het, kon ek 'n viooltjie rangskik as een van die leliesoorte, maar dit was glad onmoontlik om dit onder die genus Lachenalia te klassifiseer en nog minder om te weet dat die gewoonste soort, wat altyd die eerste in ons bossieveld sy verskyning gemaak het, Lachenalia pendula was.’Ga naar eind50 In sy vroeë kinderjare het hy ook besonderse klippe versamel, voëls dopgehou en met sy kettie geskiet, en motte en skoenlappers bymekaargemaak. Die motvangery het egter nagtelike uitstappies vereis, ‘want die beste manier om nagmotte beet te kry, is om boomstamme met 'n mengsel van moskonfyt en 'n bietjie brandewyn te smeer; die motte, aangelok deur die ruik, kom die soetigheid suip en word so hoenderkop dat dit maklik is om hulle te vang’.Ga naar eind51 Ongelukkig het die ‘owerheid’, soos Leipoldt dit stel, onsimpatiek op hierdie soort bedrywighede gereageer. Hy moes hom beperk tot skoenlappers, waarvan daar nie veel soorte op Clanwilliam voorkom nie.Ga naar eind52 Die belangstelling in plante en diere, wat aanvanklik by Christie 'n soort ontvlugting van die onaangename atmosfeer in die ouerhuis was, het baie gou tot 'n hartstog en 'n belangstelling ontwikkel wat hy lewenslank sou behou. In sy Bushveld doctor staan hy by hierdie belangstelling stil. Hy kan hom, so sê hy, geen beter studieveld en vormende invloed op die ontwikkelende bewussyn van 'n jong seun voorstel as die natuur nie. Hy skryf: ‘It is a subject not taught at schools, and not usually included in any curriculum, but it is nevertheless the one subject that, if it evokes any response at all in the boy, is likely to yield him, through its inculcation of correct observation and precise attention to detail, the most lasting pleasure and benefit in later years. I do not allude to systematic biology or any other “ology”, but to the practical teaching in the field of botany, of the habits and life-history of birds, insects, and indeed all living things. The instinctive urge of every small boy to be mildly sadistic, whether inspired by mere curiosity or by the wish to prove his own superiority to his own satisfaction - an urge that leads him to kill harmless small birds with his “catty” or airgun, or wantonly to pick wild flowers by uprooting them - can be turned to good account by interesting him in field work of this nature. In the jargon of the psycho-analysts, it can be sublimated to serve a higher and more cultural purpose.’Ga naar eind53 In elk geval het Christie gou geen erg daaraan gehad om diertjies vir sy eksperimente dood te maak nie en het hy hom uitsluitend op plante en | |
[pagina 87]
| |
klippe begin toelê. Dat hy die milde sadisme waaroor hy in Bushveld doctor skryf, inderdaad kon sublimeer, blyk nie alleen uit sy latere natuurpoësie waarin hy plante en diere noukeurig betrag nie, maar uit die wetenskaplike grondslag waarop sy belangstelling reeds in sy kinderjare berus het. In die uitbouing van hierdie belangstelling het hy die voorreg gehad om in sy jeug enkele vooraanstaande persone op die gebied van die plantkunde en skeikunde te leer ken. Toe die gesin einde 1890 en begin 1891 vir die sinodesitting in Kaapstad was, het hy sy vader se vriend dr. Daniel Hahn weer opgesoek. Hahn was 'n goeie skeikundige en het graag die mineralieë in sy kabinet getoon aan belangstellendes vir wie hy ure lank kon onderhou deur land en sand oor barnsteen en kwarts te praat. By hom het Christie en Johnny geleer hoe om goud uit klippe te smelt, iets waarmee hulle tuis op die klippe in die Jandisselsrivier kon eksperimenteer. 'n Ander goeie vriend was Louis Péringuey, wat met hulle oor kewers en die gespitste klippe op Papegaaiberg naby Stellenbosch kon gesels. In die Kaapstadse Museum kon hy hulle sy groot laaikaste vol kewers wys en met belangstelling kyk na die voorbeelde wat hulle uit Clanwilliam saamgebring het. Saam met Péringuey was die jong R.M. Lightfoot, wat ‘die gesig en temperament van 'n ou man besit het, 'n geboggelde, geduldige seun, skerp en snydend in sy uitlatings, 'n hartstogtelike orrelis en musikant en 'n ewe hartstogtelike liefhebber van die Natuur. Ook hy het bygedra om ons te help en meer as een wenk gegee.’Ga naar eind54 Roland Trimen, ook by die museum, was die erkende deskundige op die gebied van skoenlappers en het Christie pragtige skoenlappers vir sy eie versameling gegee. Maar Christie was veral in plante geïnteresseerd. Tot in daardie stadium het hy byna al sy kennis van die botanie uit 'n ou Hollandse boek gekry, aangesien daar indertyd geen goeie bekostigbare beskrywing van Suid-Afrikaanse plante bestaan het nie en die driedelige Flora Capensis (1859-1865) van W.H. Harvey vir hom te duur was. Tydens die sinodesitting van 1890-1891 wou hy op 'n dag van Hahn die naam weet van 'n varingsoort wat in hulle watersloot op Clanwilliam gegroei het. Hahn kon hom nie help nie en het hom verwys na die staatsplantkundige, prof. Peter MacOwan. Die professor het 'n kantoor in Parlementstraat, destyds nog Gravestraat, in Kaapstad gehad. Christie is daarheen. MacOwan, so skryf Leipoldt later in De Volkstem van 21 Julie 1923, was ‘besig om 'n Wellingtonse boer om te haal om olijfbome op sy plaas te plant. Die oubaas het op die hoflikste manier mij varingkie betrag, boeke en sij versameling geraadpleeg, en eintlik gesê dat dit skijnbaar 'n nuwe soort was. Daarna het hij | |
[pagina 88]
| |
met mij gepraat, vir 'n uur lang; sij versameling getoon, mij allerhande plante gewijs wat honderd jare tevore in mij distrik deur ou versamelaars gekry was, en mij gevra om ook plante te versamel. Hij het mij gewijs hoe om plante te prepareer, hoe om hulle droog te maak en teen goggatjies te beskerm as hulle droog was, en mij daarna na Kamps Cafe geneem waar hij mij op koffie en koek getrakteer het, altijd met 'n deurlopende gepraat, gespek met anekdotes en aanhalings. Ek hoef nie te sê dat van dié tijd af ek MacOwan vereer het, en toe ons later bevriend geword het, had ek ruimskoots geleentheid om sij vriendskap, sij kennis, sy bonhomie, en sy werkkrag te bewonder en te waardeer.’ Veral die feit dat MacOwan hom van die begin af as 'n volwassene behandel het, was vir hom 'n besondere ervaring.Ga naar eind55 Dikwels het Christie hom dan ook tydens die sinodesittings opgesoek wanneer hy geen raad met sy planteversameling geweet het nie. Sy verhouding met MacOwan toon duidelik die jong Leipoldt se voorkeur om hegte vriendskappe te sluit met mense wat veel ouer as hy was. Toe Christie weer 'n keer Kaapstad besoek het en Hahn afwesig was, het hy aan MacOwan drie klippies uit sy versameling voorgelê wat hom en sy vader dronkgeslaan het. Dié kon die klippies ook nie klassifiseer nie, maar het hom verwys na dr. Rudolf Marloth, wat in Kerkstraat 'n kantoor gehad het. Toe hy daar met sy monsters opdaag, so skryf Leipoldt baie jare later, was Marloth ‘juis besig om met sy assistent...'n versameling grondsoorte te bekyk en het my vriendelik bejeën. Daar was toe, meer as in later tyd, 'n soort van bruuske, vinnige direktheid in sy manier van praat, wat soms vir vreemdelinge afgestoot het - temeer omdat sy woorde altyd vryuit, reguit was, sonder doekies omdraai. Dit het hy ook toe by my eerste kennismaking met hom getoon. Die meeste van my monstertjies het hy minagtend opsy gesit. Dit was somar prulle wat hom nie geïnteresseer het nie. Die drie stukkies wat ek beskroomd hom voorgehou het met die beleefde versoek om hulle 'n naam te gee, het hy ewe minagtend betas en kortweg geklassifiseer.’Ga naar eind56 Die eerste het hy as gewone serpentyn afgemaak, terwyl die tweede verweerde assuriet êrens uit Concordia se wêreld afkomstig was. Die derde stukkie, 'n swaar, kristalglansende soort klip wat met kwartsare deurdraad was, het egter sy aandag getrek. Hy kon dit klassifiseer as bariumsulfaat, ‘nogal seldsaam. Ek het dit nie.’Ga naar eind57 Marloth se kortaf houding en sy bruuske manier van praat was vir die jeugdige Christie by die eerste ontmoeting tog 'n bietjie ‘skrikwekkend’.Ga naar eind58 'n Werklike vriendskap kon eers ontstaan toe Leipoldt hom in 1898 as joer- | |
[pagina 89]
| |
nalis in Kaapstad gevestig het. Op Clanwilliam het hy egter in 1895Ga naar eind59 kennis gemaak met 'n botanikus en reisiger wat baie gedoen het om die kennis van die Suid-Afrikaanse plantewêreld uit te brei, naamlik Rudolf Schlechter.Ga naar eind60 Toe Christie op 'n Saterdagmiddag terugkom van 'n wandeling in die veld met 'n arm vol plante en bossies vir sy versameling, vind hy op die Clanwilliamse dorpsgrond, regoor die ou Tronk, 'n uitgespande ossewa. Om die wa was 'n paar bokseile waarop 'n honderdtal botaniese ‘rame’ met allerlei plante gelê het. Christie het 'n gesprek aangeknoop met die touleier, Porfiet, en hy is voorgestel aan die lede van die geselskap: 'n jong Duitser met die naam Penther, Max Schlechter, die botanikus se broer, en Herr Mally. Uiteindelik het hy ook Rudolf Schlechter ontmoet, ‘'n kêrel van omtrent agt-en-twintig jaar, kort en sterk van bou, met lig-blonde hare en 'n bruin-verbrande gesig’.Ga naar eind61 Schlechter, wat vroeg al die begeerte gehad het om in Suid-Afrika - volgens Drège, Ecklon, Zeyher en Harvey ‘'n mirakelland van botaniese weelde’Ga naar eind62 - navorsing te kom doen, het dadelik Christie se vrag bossies deurgesnuffel en twee soorte ontdek wat hy nie in sy versameling gehad het nie en waarvan hy die staanplek wou weet. Christie het die geselskap na sy vader geneem en hulle is dadelik genooi om die pastorie hulle hoofkwartier tydens hulle besoek aan die omgewing te maak. Saam met Schlechter is Christie die volgende dag, 'n Sondag, die Karooberg uit. ‘Dit was die eerste keer dat ek die Sondagmôrediens in die kerk nie bygewoon het nie, en dit spreek baie vir Schlechter se takt en oortuigingsvermoë dat hy my ouers daartoe gekry het om my met hom mee te neem.’Ga naar eind63 Om die Jandisselsrivier het hulle 'n aantal interessante blomme gevind wat aan Schlechter onbekend was; een daarvan het hy later in 1897 ter herinnering aan hierdie uitstappie en ter ere van sy jong vriend Aspalathus leipoldtii genoem.Ga naar eind64 Onder die rondloop het hy Christie vertel van sy verering vir Goethe se Faust en Cicero. ‘In verbeelding’, skryf Leipoldt, ‘kan ek hom nog hoor toe hy daar op sy knie op die sand gelê het, worstelende met die nare, langgerekte wortels van 'n euphorbia-soort, die golwende sinne van die laaste reëls van die Pro Sex. Roscio deklameer.’Ga naar eind65 Op Schlechter se aandrang het Christie se ouers toegestem dat hy met die geselskap saamreis deur die dor Namakwalandse streke tot by Garies. Hierdie reis, het Leipoldt later self gesê, was een van die interessantste ondervindings van sy lewe. Die skofte het soggens om vyfuur begin, na 'n ontbyt van koffie, beskuit en soms 'n stuk Duitse koek. Daarna het hul- | |
[pagina 90]
| |
le, terwyl Porfiet die osse gelei het, links en regs in die oop veld of teen die heuwelhange blomme gesoek of klippe omgekeer om spinnekoppe en skerpioene vir hul vriend W.F. Purcell by die Kaapstadse Museum te kry. Om nege-uur is uitgespan, die groot bokseile op die grond uitgesprei en die versamelde voorbeelde in drukrame gelê om in die son droog te word. Max Schlechter het die middagmaal berei, meestal 'n bredie van rys en wildsvleis. In die namiddag het hulle die veld verder verken, en by die terugkeer na die wa was daar gewoonlik 'n honderdtal of meer voorbeelde wat gepers moes word. Daarna was die aandete, 'n variant op die noenmaal, en dan het die donker op hulle toegesak. ‘Die papier-gelaaide drukrame’, skryf Leipoldt, ‘is op die buikplank opgestapel, mooi egaal; daarom het ons matrasse en karosse gelê, met 'n oop plekkie teen die voorkis, waar die lamp gebrand het en waar Schlechter met sy mikroskoop en sy boeke besig was. Op die agterbank was Mally se troon, en op 'n sybankie het Max met sy musiekgereedskap gesit....Die aande was 'n plesier en 'n genot, omdat dit getuig het van die werklik eersteklas samewerking en broederliefde van die reisgeselskap. Schlechter, wat gedurig aan die werk was, met Duitse deursettingsvermoë en Duitse arbeidsvermoë, het altyd tyd en sinnigheid gehad om hom in die gesprekke te meng. Herr Mally het Goethe en Schiller en Shakespeare voorgelees; Herr Penther het oor wêreldgeskiedenis gepraat en ons vertel van Oosterse sake waarin hy gekonfyt was, en van die gewoontes van die goggawêreld. Schlechter self het, uit sy skat van opgestapelde kennis, die plantkunde maklik gemaak en ons geleidelik ingewy in die klassifikasie van plante. Sy doseervermoë was eersteklas, want hy het die ware opvoedersgees gehad waarvan Erasmus praat, en daarby 'n entoesiasme vir sy vak wat hom gedwing het om sy bes te doen om die belangstelling van ander daarvoor te win. Hy het homself Latyn geleer, en in dié dae het hy dit so goed al gehanteer dat hy met sommige van sy geleerde kollegas in dié taal in briefwisseling kon tree. Sy plante het hy in Latyn beskryf, en sy studie van Harvey, wat in dié tyd amper sy Bybel was, was grondig en noukeurig.’Ga naar eind66 Op hierdie reis kon die jong seun die wyer wêreld van die Noordweste, van Clanwilliam en Namakwaland tot by Garies en terug deur Boesmanland, baie goed leer ken en in die herinnering bewaar. Later sou hy in 'n gedig soos ‘Die soutpan’ oor hierdie wêreld skryf waar ‘die veld 'n onverstaanb're taal (praat)’, 'n arm wêreld ‘en tog so mooi’.Ga naar eind67 En in sy gedig ‘In die Boesmanland’, soos ‘Die soutpan’ ook uit sy debuutbundel Oom Gert vertel en ander gedigte, roep hy die prag van die natuur op wat vir hom 'n ‘tuiste | |
[pagina 91]
| |
(was) in my woeste jaar,/ Toe ek nog kind was’. Die reis saam met Schlechter en sy geselskap sweef na in die treffende siening van die nag: Dis vir my
Asof die son die wêreld self wil soen,
En ook die sterre daaraan mee wil doen
By nagtyd, as die veld sy sluier kry.Ga naar eind68
In dieselfde jaar, 1895, het Christie deur MacOwan kennis gemaak met 'n ander botanikus wat 'n baie groot invloed op hom sou hê en met wie hy 'n uitgebreide en belangrike briefwisseling sou voer, naamlik mnr. (later dr.) Harry Bolus. Bolus is op 28 April 1834 in Nottingham, Engeland, gebore. In 1850 kom hy na Suid-Afrika en begin hy in Grahamstad werk by die handelaar William Kensit, met wie se suster hy later in die huwelik tree. Wanneer sy seun Alfred in 1864 aan witseerkeel sterf, begin hy hom uit neerslagtigheid en op aandrang van sy vriend Frank Guthrie op plantkunde toelê en met internasionaal bekende botanici korrespondeer. In 1874 verhuis hy na Kaapstad, waar hy en sy broer die eerste aandelemakelaarsfirma begin. Hy onderneem baie botaniese reise na verskeie dele van Suid-Afrika en doen veral navorsing op die gebied van orgideë en erikas. In 1888 verskyn The orchids of the Cape Peninsula, gevolg deur die eerste deel van sy Icones orchidearum Austro-Africanarum extratropicarum in 1893. Teen die middel van 1890 begin hy en Guthrie werk aan die geslag Erica vir die Flora Capensis.Ga naar eind69 Jare later, wanneer Leipoldt op 21 Julie 1905 uit Londen aan Bolus skryf, roep hy hulle eerste ontmoeting op Wupperthal in herinnering toe Bolus in eerw. Gustav Schmolke se studeerkamer besig was om 'n orgidee te skilder wat hy op die vorige dag se uitstappie teen die berg gevind het.Ga naar eind70 Feitlik onmiddellik was die jong Christie aangetrokke tot Bolus, meer as ses en veertig jaar ouer as hy, en word die grondslag gelê vir 'n vriendskap wat tot Bolus se dood op 25 Mei 1911 sou duur. Oor die ontstaan van dié vriendskap skryf dr. Lulu Bolus - niggie van Harry Bolus, wat later met sy seun Frank in die huwelik sou tree - in die inleiding van Leipoldt se postume bundel Engelse verse The ballad of Dick King and other poems: ‘The boy's charming courtesy and friendly offers of help to act as guide to the best hunting-grounds were completely captivating, and the friendship born at that auspicious meeting grew and brought ever-increasing happiness to these two men who were so kindred in spirit...’Ga naar eind71 | |
[pagina 92]
| |
Leipoldt was reeds bewus daarvan dat Bolus baie gedoen het om belangstelling in sy vak aan te moedig en dat hy ander botanici, soos Schlechter, finansieel gesteun het. Die verskeidenheid gebiede waarop Bolus werksaam en kundig was, het hom ook aangetrek. Christie se eerste twee briewe aan Bolus wat bewaar gebly het, dateer van 1897, sy matriekjaar op Clanwilliam, toe hy 'n seun van sestien en Bolus 'n man van drie en sestig was. Dit handel in hoofsaak oor botaniese sake en oor die pakkies genommerde spesies van plantsoorte wat hy met MacOwan vir Bolus saamstuur of pos. In sy brief van 30 Oktober bedank hy Bolus vir die eksemplaar van sy studie oor orgideë. ‘I shall value the Orchids of the Cape Peninsula, and look upon it as a memento of the time when I first had the pleasure of meeting the author’,Ga naar eind72 skryf hy. Met behulp van dié boek, so laat hy Bolus in November 1897 weet, kon hy reeds sekere van die orgideë in die Clanwilliam-omgewing identifiseer. Op 28 Desember skryf hy dat hy erikas uit sy duplikaatlegger en die rooibostee (aspalathus) wat Bolus graag wil hê, sal aanstuur. In 'n brief van 4 Oktober 1898 laat hy Bolus weet dat hy vir die staatsdienseksamen na Kaapstad moet kom, die stad wat hy weldra sy tuiste sou maak. Dit is juis in Kaapstad dat Bolus en Leipoldt se vriendskap nog hegter sal ontwikkel. Op 'n baie jong en ontvanklike ouderdom het Leipoldt dus geïnteresseerd begin raak in die veld van sy onmiddellike omgewing waarin hy kon wegkom van die ongelukkige huislike omstandighede, waarin hy hom kon oorgee aan 'n ‘wonderwêreld’ en waarin hy lewenslank sy ‘skoonheidstroos’ sou vind. Betreklik gou ontwikkel hy hierdie belangstelling tot 'n diepgaande botaniese studie. Die geluk wou dit so hê dat hy op die regte tydstip mense soos MacOwan, Marloth, Schlechter en Bolus ontmoet het wat hom die nodige leiding kon verskaf om sy belangstelling in die regte rigting te stuur. Hoewel hy, soos Lulu Bolus later sou sê,Ga naar eind73 nooit 'n wetenskaplike verhandeling oor die botanie sou kon geskryf het nie, was sy bydrae as bedrewe amateur besonder groot. Reeds in dié vroeë jare het sy versameling meer as duisend voorbeelde bevat, meestal vergesel van waardevolle notas. Sy groot belangstelling was die surings, die Oxalidaceae, waarvan hy talle soorte versamel en help klassifiseer het. Deur 'n vreemde gril van die noodlot heet geen suringspesie egter na hom nie. Schlechter het wel 'n Oxalis leipoldtii beskryf en na sy vriend genoem, maar die bepaalde suringsoort kon nog nêrens opgespoor word nie en bestaan gevolglik slegs as 'n boeknaam. En omdat hierdie boeknaam bestaan, is | |
[pagina 93]
| |
dit - volgens die internasionale ‘spelreëls’ van die botanie - ‘beset’ en kan geen ander suringsoort na Leipoldt genoem word nie.Ga naar eind74 | |
VDit spreek vanself dat 'n talentvolle, kunssinnige kind soos Christie, wat van vroeg af deur boeke en die belangstelling in die natuur van sy huislike omgewing en sy eie eensaamheid wou wegkom, na 'n uitdrukkingsvorm sou begin soek om sy binnelewe en waarnemings te vergestalt. Terwyl sy broer betreklik vroeg mooi kon teken, was Christie se pogings in dié rigting hopeloos. Maar deur te skryf, kon hy algaande vir hom maters op papier skep. Reeds sedert sy sesde jaar, so deel Leipoldt ons mee in sy artikel ‘My jubileumjaar’Ga naar eind75 in Die Huisgenoot van 17 Januarie 1947, het hy op papier begin ‘krabbel’.Ga naar eind76 Sy eerste bewuste neerskrywe van dinge wat hy self waargeneem het, was egter die briewe wat hy aan sy oupa Esselen op Worcester geskryf het. Hy het sy oupa, ná die gesin se vestiging op Clanwilliam, slegs al om die vier jaar tydens die sinodesittings gesien wanneer hulle gewoonlik ook 'n paar weke op Worcester gaan kuier het. Oupa Esselen, so skryf hy, ‘was my eerste en tot sy dood my vernaamste korrespondent, wat nooit versuim het om elke brief van my met nougesette beleefdheid en ouerwetse, amper pedagogiese verduidelikings te beantwoord nie. Hy het op alles ingegaan wat ek in my briewe aangeroer het; styl en taalfoute berispe en verbeter; wenke gegee oor wat ek moes lees en waaraan ek aandag moes skenk....Dit het hy gedoen in 'n trant en op 'n manier wat my as kind laat voel het dat hy werklik in my doen en late belang gestel het. Ek het hom alhoemeer as my vertrouelike boesemvriend beskou aan wie ek kon vertel wat ek sou beskroom het om aan ander, selfs aan my ouers, te openbaar. Sy briewe, elkeen gewoonlik vier bladsye lank en geskrywe in sy fyn Italiaanse handskrif, het ek so by my rondgedra en so dikwels gelees dat hulle eindelik deur aanhoudende gebruik uitmekaar geval het, en vandag besit ek tot my spyt nie een daarvan nie. Die korrespondensie was grotendeels in Engels, hoewel ook soms in Duits en in Nederlands, en van my kant was dit gewoonlik 'n opstel oor wat in ons eie pastorie plaasgevind het.’Ga naar eind77 Toe Christie ongeveer twaalf en 'n half jaar oud was, is sy geliefde oupa Esselen op Worcester oorlede - sy ‘eerste groot droefenis’,Ga naar eind78 soos hy dit later aan Burgers sou meedeel. | |
[pagina 94]
| |
Terwyl sy oupa nog in die lewe was, het hy egter ook sy eerste eie stukke begin skryf. Jare later kon hy nog onthou watter indruk sy vader se Danteuitgawe in 'n Duitse vertaling en Bunyan se werke op hom gemaak het. Sy eerste bewuste poging - ná die briewe aan sy oupa - om iets op papier te sit, so skryf hy in ‘Eerste skoffies’, wat op 1 Desember 1933 in Die Huisgenoot verskyn, was 'n samespraak tussen Elshadai en Dante. ‘Ek sou vandag graag’, gaan hy voort, ‘daardie gekrabbel wil oorlees, want ek is daarvan oortuig dat een van die twee die spreektrant van my vader moes gehad het en die ander dié van ou Jantjie Ruiters, ons hoof-kleurlingkonstabel, wat maandeliks ons hare gesny en altyd oor moord en doodslag met ons gepraat het.’Ga naar eind79 In dié tyd het hy ook allerlei opstelle, verhale, versies en toneelstukkies geskryf, sowel in Engels as in Nederlands. Wat die versies betref, het hy kundige advies oor versifikasie en prosodie ontvang van ‘oubaas’ Roberts, wat in die afwesigheid van eerwaarde Basil Hampden-Jones as Engelse predikant op Clanwilliam waargeneem het. Oubaas Roberts het self versies in Latyn gemaak en het Christie bekend gestel aan sulke woordmeesters soos Newman, Aquinas en Blake.Ga naar eind80 Onder dié stukke was 'n soort treurspel in navolging van Schiller se Maria StuartGa naar eind81 en 'n avontuurverhaal met P.A.S. Limburg Brouwer se Akbar (1872) as model,Ga naar eind82 'n roman wat met sy Oosterse sfeer en die verhewe humanitêre idees tot Christie moet gespreek het. Hierdie vroeë skryfsels het hy, koddig genoeg, ‘plegtig in die graf van een van ons afgestorwe reiers’Ga naar eind83 in die pastorietuin ‘onder 'n ou pampelmoesboom’Ga naar eind84 begrawe. ‘Hoekom ek juis so 'n manier bedink het om hulle te bewaar,’ skryf hy, ‘weet ek self nie; maar vandag is ek maar bly dat daar niks van hierdie onryp vrugte ooit op 'n stellasie uitgedroog is om my vandag 'n lelike skok te gee nie.’Ga naar eind85 As deel van sy ‘formele’ opvoeding moes Christie weekliks opstelle skryf, al was dit geen ‘huiswerk’ in die gewone sin van die woord nie. Hy was trouens, soos hy dit self stel, as kind ‘gedurig aan die skryf, maar sonder om wat ek op papier gesit het vir beoordeling en verbetering aan iemand voor te lê’.Ga naar eind86 Vir sy vader moes hy stukke uit Latyn en Frans en later ook Grieks in Engels of Nederlands vertaal, wat dit dan nagesien en gekorrigeer het. Hy kon dan ook Frans en Latyn gemaklik lees en het met Latyn geen probleme vir die matrikulasie-eksamen ondervind nie. Die eerste stukkie wat Christie aan 'n buitebeoordelaar voorgelê het, was 'n opstel wat hy vir 'n wedstryd van The Boy's Own Paper ingeskryf het. Hiertoe is hy aangespoor deur sy broer, wat 'n jaar of wat tevore vir 'n tekenwedstryd oor 'n kaart van Stevenson se skateiland 'n tweede prys | |
[pagina 95]
| |
verwerf het. Johnny se sertifikaat ‘met sy gekrulde goudversiersels’ was vir Christie só pragtig dat sy ‘eersug sterk geprikkel is’.Ga naar eind87 Hy wou opsluit ook 'n wedstryd wen, maar teken kon hy nie. Daarom dat hy hom vir die opstelwedstryd ingeskryf het. Aan Burgers skryf Leipoldt op 15 Augustus 1938 in 'n brief dat hy die opstel geskryf het toe hy nege jaar oud was, terwyl hy in die eerder gepubliseerde ‘Eerste skoffies’ in Die Huisgenoot van 1 Desember 1933 dit tot ‘tussen sewe en ag’Ga naar eind88 vervroeg! Dit is weer 'n voorbeeld van Leipoldt se neiging om sy jeugwerk vroeër te dateer as wat dit inderdaad ontstaan het. In ‘My jubileumjaar’ sê hy darem dat die wedstryd uitgeskryf is toe hy twaalf jaar oud was.Ga naar eind89 In werklikheid moes hy die opstel geskryf het toe hy elf was, want die wedstryd vir die junior afdeling met die opskrif ‘Story Needing Words’ word in The Boy's Own Paper se uitgawe van 31 Oktober 1891 aangekondig. Leipoldt vertel dat hy sy stukkie netjies op blou foliopapier uitgeskryf en aan die Londense adres gepos het. ‘Drie maande later,’ skryf hy, ‘toe ek die saak byna vergeet het, kom daar 'n wissel vir tien sjielings en 'n sikspens, saam met 'n sertifikaat dat ek die eerste prys “in die afdeling 12 tot 16 jaar” gekry het.’Ga naar eind90 Ook dié inligting is foutief, want volgens 'n brief van The Boy's Own Paper aan Burgers van 11 Mei 1939 is die uitslag van die wedstryd eers in die uitgawe van 4 Februarie 1893 aangekondig.Ga naar eind91 Die prentjie waaroor die opstel moes handel, skryf Leipoldt, ‘was van 'n geveg tussen twee ridders, en ek het daaruit 'n klein verhaaltjie - die opstel mog nie langer as 500 woorde wees nie - aanmekaar getimmer. My ridders het ek in die Sederberge laat beland, waar hulle, sover ek my nou herinner, gebaklei het oor die besit van 'n groot skat wat in een van die reusagtige stamme van die ou sederbome bewaar is deur 'n voetoog of eenoog of so iets.’Ga naar eind92 In werklikheid wys die illustrasie, volgens die brief aan Burgers, ‘not two knights in combat,...but a troop of armour-clad horsemen (one of whom has, presumably, been wounded, and is falling from his steed) attacking a party of foot-soldiers in the mountains. In a smaller inset illustration a young man is seen standing with bowed head at the head of a sick-bed, beside which an older man kneels in an attitude of great grief, his head resting and arms outflung on the bed, where a third knight is lying. The whole setting is mediaeval.’ Die verhaaltjie is nooit deur The Boy's Own Paper gepubliseer nie en by navraag van Burgers in 1939 het dit geblyk dat die leggers waarin nie-ge- | |
[pagina 96]
| |
publiseerde materiaal uit 1891-1893 bewaar is, nie meer bestaan nie. Omdat Christie sy verhaal in die geheim geskryf en weggestuur het, kon hy die sertifikaat behou, maar hy moes op bevel van sy ouers - waarskynlik méér die aandrang van sy moeder as van sy vader - die halwe ghienie in die binnelandse sendingkas stort. Van dié dag af, sê Leipoldt gelate, ‘het ek 'n hekel aan die binnelandse sending wat dit miskien nie verdien nie’.Ga naar eind93 Christie se ontmoeting met MacOwan en Bolus was die aanleiding tot 'n volgende fase in sy ontwikkeling as skrywer. Albei botanici het hom aangemoedig om van die lewe en die mense in sy omgewing te vertel en ook, as daar die nodige inval ontstaan, iets uit sy eie verbeelding te skep.Ga naar eind94 Aan die begin van 1896 het hy dan ook sy eerste bydraes aan The Cape Argus gestuur, 'n blad waarvoor MacOwan die rubriek ‘Saturday Sallies’ geredigeer het en wat volgens hom geneë was om jong aspirante te verwelkom. Leipoldt skryf: ‘Ek het 'n kortverhaal ingestuur, en 'n week of wat nadat ek dit op die pos gedoen het, kry ek 'n brief van die redakteur, mnr. Powell. Maar sy handskrif was so onduidelik dat nòg my vader nòg ek dit pront kon lees. Sover ons egter kon uitmaak, het hy die stuk aangeneem en iets gesê omtrent twee pond wat daarvoor moes of sou betaal word. My vader het sy kop geskud en opgemerk dat hy nie twee pond kon betaal om my eerste stukkie skrywe in druk te sien nie en my aangeraai om maar terug te skryf dat daar onder die omstandighede liewer niks gedoen moes word nie. Dit het ek ook, bitter teleurgestel, gedoen - om met die volgende pos 'n leesbaarder brief te ontvang met 'n tjek vir twee pond daarin, wat natuurlik die hele wêreld verander het tot iets waarin dit werklik die moeite werd was om 'n rukkie langer te bly lewe.’Ga naar eind95 Leipoldt sê dat sy vader hom in hierdie stadium vermaan het om meer aandag aan sy studie te bestee en minder aan ‘stories draai’ en dat ‘hy liewer nie my naam aan sulke verbeeldingswerk vasgeknoop wou sien nie’.Ga naar eind96 Waarskynlik is die verhaal dan ook - om die pastorie te beskerm - onder 'n skuilnaam ingestuur. Om daardie rede is dit haas onmoontlik om Leipoldt se bydrae in die Januarie-Maart-uitgawes 1896 van The Cape Argus te identifiseer. Van Maart 1896 het hy egter gereeld stukke vir The Cape Argus begin skryf, waarskynlik plaaslike beriggies en anonieme bydraes tot MacOwan se rubriek. In The Cape Illustrated MagazineGa naar eind97 van 1896-1897 publiseer hy 'n reeks artikels ‘Sketches in C-’ waarin hy 'n beeld van die Clanwilliam van sy jeug gee, die eerste reaksie op MacOwan en Bolus se oproep dat hy iets oor sy onmiddellike omgewing skryf. Hierdie artikels verskyn onder die pseudoniem F.W.B., die voorletters van Frank William Baxter, wat | |
[pagina 97]
| |
in Oktober 1896 in 'n Matebele-opstand gesterf het en vir wie Christie - klaarblyklik as uiting van 'n soort jeugdige SchwärmereiGa naar eind98 - 'n heldeverering gehad het. Dieselfde voorletters gebruik hy ook vir ‘The melancholy man’ en ‘A typical South African farm’, onderskeidelik in The Cape Illustrated Magazine van 1896 en 1900-1901. In dieselfde tydskrif se 1896-uitgawes verskyn verder ‘A South African village on Nachtmaal days’ deur F.W.K. en ‘The strangeness of oom Stephanus’ deur H.W.H. Hoewel die voorletters verskil van dié wat Leipoldt in ‘My jubileumjaar’ as destydse pseudoniem aandui, is dit deur die aansluiting by ‘Sketches in C-’ feitlik seker dat hy ook die outeur van dié twee stukke is. Onder die naam J.M. Kerdic - 'n karakter uit een van André Laurie se Franse romansGa naar eind99 - skryf hy in The Scientific African van Maart 1896 'n kort artikeltjie oor Suid-Afrikaanse akkedisse waarin hy tussen likkewane, koggelmanne, geitjies en gewone akkedisse onderskei. ‘The (name of the) koggelman’, skryf hy, ‘is derived from a “Taal” verb meaning to mock’, 'n aanduiding van hoe hy Afrikaans in hierdie jare nog betrag het. In dié stadium het hy dan ook uitsluitlik in Engels en Nederlands geskryf en gereeld verslae oor plaaslike gebeurtenisse vir The Cape Times en De Zuid-Afrikaan gestuur. Hoewel die betaling vir hierdie verslae maar karig was, het hy 'n ‘salige genot’Ga naar eind100 daaruit geput om sy stukkies in druk te sien. Die jong Leipoldt was dus reeds goed onderweg om 'n bedrewe joernalis te word. Dit is juis as joernalis en sy eerste proewe as polemikus dat Leipoldt sy belangrikste stuk in hierdie jare skryf en 'n klein opskudding veroorsaak. In September 1896 stuur hy, nou onder die swierige skuilnaam Forsythe W. Bancombe, in reaksie op 'n berig in Ons Land dat die middel tot vereniging van die twee blanke bevolkingsgroepe in Suid-Afrika daarin lê dat hulle moet saamwerk om ‘het zwarte baas te raken’,Ga naar eind101 'n uitvoerige brief aan The Cape Times. Dit word op 24 September prominent geplaas deur Edmund Garrett, die redakteur. In sy brief sê Leipoldt hy het gehoop die haat van die witman vir sy swart broers behoort tot die verlede, maar nou vind hy onder die Hollandssprekende deel van die bevolking bestaan steeds die idee ‘that it is possible to raise a distinction between men of the same country on the grounds of a different colour’. Waartoe sal dit alles lei? ‘The nation who puts a restriction on freedom will ere long cease to be a nation. The man who has no love for his fellow creature - the man who, moreover, despises his comrade and contrives in the long struggle of life to hamper and handicap him as much as possible, who would give all he can to see his comrade rooted out and left to perish...that man has not | |
[pagina 98]
| |
the right to be called a man.’ Die swart huidskleur van die gekleurde is die enigste rede wat vir sy uitsluiting van dieselfde vryhede, voorregte, verwagtings en vreugdes as dié van die blanke aangevoer kan word. Daar is geen enkele rede waarom die swartman nie dieselfde hoë ontwikkeling as dié van die witman kan bereik nie. Selfs al gee 'n mens toe dat hy lui, ledig, oneerlik en dom (!) is, kan dit nog nie 'n rede vir sy uitsluiting wees nie. ‘Is that’, skryf Leipoldt, ‘not a greater reason for his sharing the rights that have made the white man what he is today, and that prevents him from going backward to the state of inaction, bigotry and superstition that has cost science centuries to rescue him from?’ En hy roep sy landgenote op om alle vorme van rassevooroordeel uit die weg te ruim: ‘Away with the doctrine that teaches a difference between a “maaksel” and a “schepsel”. Fling it to the winds the law that bars the completion of the triumph. Efface the distinction and join the hand with your black comrade...Teach it to our children's children...and proclaim it to the nations that South Africa no longer recognizes a bar between two races of man.... If our ages of chivalry are past, we have at least the age of honour...Let us be worthy of that honour, and let us show our worthiness by carrying out the principle of equal rights and equal freedom for black and white alike.’Ga naar eind102 Op hierdie brief kom daar onmiddellike reaksie van heelparty korrespondente waaruit die patronerende houding van baie van die blanke briefskrywers teenoor hulle minder wit medeburgers duidelik blyk en waarin Leipoldt gevra word of hy 'n nuwe ras bepleit, ‘half-castes who hate their fathers for being white and despise their mothers for being black’.Ga naar eind103 Die sterkste reaksie verskyn in Ons Land van 1 Oktober 1896, waarin F.S. Malan 'n hoofartikel onder die titel ‘De kwestie van kleur’ aan die aangeleentheid wy. Malan het dit veral teen Leipoldt se voorstelling dat die rassehaat uitsluitend by die Hollands-Afrikaanse bevolkingsgroep voorkom. Dit is egter juis in die oorwegend Engelstalige stede in die land dat die ergste diskriminasie te vinde is, terwyl Engelstalige parlementslede uit die Oos-Kaap onversetlik in verband met vryheidsbeperkinge vir die swartes was. ‘Wij zouden meer voorbeelden van dergelijken aard kunnen aanhalen om aan te toonen dat gelijkheid en broederschap tusschen blank en gekleurd alles behalve een in de praktijk algemeen toegepaste Engelsche leerstelling is. Maar waartoe dat? Slechts een door zijn eigen woordenrijkdom bedwelmde rhapsodist zou het tegendeel beweren.’ Die woorde ‘een door zijn eigen woordenrijkdom bedwelmde rhapsodist’ was vir die jong Leipoldt in hierdie stadium 'n geniepsige | |
[pagina 99]
| |
raps, maar dit het sy ‘selftevredenheid’ laat styg en sy ‘verwaandheid’ vergroot: ‘Verbeel jou, 'n stuk van 'n seun van vyftien jaar, wat nog nie sy matriek gemaak het nie, veroorsaak so 'n bohaai!’Ga naar eind104 Hierdie brief was, soos Leipoldt dit self later sou stel, sy ‘eerste les in die polemiek’.Ga naar eind105 Die sterk uitgesproke politieke standpunt, so kragtig geformuleer en met soveel oortuiging geskryf deur 'n pastorieseun uit die behoudende klein Clanwilliam van die laat negentiende eeu, is 'n merkwaardige dokument vir dié tyd en 'n belangrike datum in die tradisie van die liberale denke onder Afrikaners, 'n tradisie waaraan ‘Onze Jan’ Hendrik Hofmeyr en later ook F.S. Malan met hul standpunte oor die stemreg van bruin en swart mense prominente bydraes sou lewer.Ga naar eind106 Dit illustreer nie alleen hoe anders en onafhanklik Leipoldt reeds in die betreklik konserwatiewe gemeenskap van sy jeug moet gedink het nie. Dit is 'n aanduiding in watter mate die vryheidsgedagte en die sendelinggees van sy voorvaders in hom werksaam was. Baie jare later sou hy hierdie vryheidsgees eksplisiet na sy kinderjare as sendelingkind terugvoer. ‘I come from a missionary family’, skryf hy in Bushveld doctor. ‘Hereditarily, if there be anything in heredity, I am of those that can see no specific distinction in the human race and that recognize all mankind as belonging to one family, however diversified by colour, custom, or creed its various components may be.’Ga naar eind107 Van hierdie oortuiging is sy brief van 24 September 1896 die eerste neerslag. | |
VITeen die einde van 1896 het Christie en Johnny saam met 'n aangetroude oom wat 'n prospekteerder in Australië was, langs die Doringrivier gaan diamante soek. Hoewel hulle geen diamante kon vind nie, het dit Christie die geleentheid gegee om nuwe plante in die hande te kry en by sy versameling te voeg.Ga naar eind108 Omdat hy nou hard moes werk vir sy eksamen, kon hy minder joernalistieke bydraes lewer. In Julie 1897 lê hy die matrikulasie-eksamen van die destydse University of the Cape of Good Hope suksesvol in die derde klas af. Vir Engels verwerf hy 94,5%, vir Nederlands 60%, vir Geskiedenis 65%, vir Latyn 50%, vir Grieks 71% en vir Fisiologie 75%. Opvallend in die matriekuitslae was dat hy veel beter punte in Engels as in Nederlands verwerf. | |
[pagina 100]
| |
Daarmee was Leipoldt se eienaardige ‘skool’-opleiding tuis by sy ouers afgehandel. Teen dié tyd was hy reeds só belese en kundig in 'n verskeidenheid vakgebiede dat hy ander weivelde buite Clanwilliam moes gaan soek. Die aangewese plek vir hom was Kaapstad en die aangewese beroep dié van joernalis. Op 4 Oktober 1898 skryf hy aan Harry Bolus dat hy Kaapstad toe wil kom, maar dat sy finansies nie 'n blote vakansiereis toelaat nie. ‘I have for the past few months tried to look for a situation in Town, but have not been able to obtain suitable employment.’Ga naar eind109 Hy hoop nietemin om 'n geskikte aanstelling êrens te kry. Waarskynlik het Bolus en ander vriende van die jong Leipoldt gehelp om vir hom 'n betrekking in die joernalistiek te vind, want aan die einde van 1898 vertrek hy na Kaapstad, waar hy die volgende meer as drie jaar sal woon en werk. |
|