Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 34]
| |
Hoofstuk II
| |
[pagina 35]
| |
Simon van der Stel, wat van Augustus 1685 tot Januarie 1686 geduur het. Met 'n imposante stoet wat uit 'n koets, vyftien waens, agt karre, dertig perde, agt muile en twee kanonne bestaan het, bereik hulle die Koperberge naby die huidige Springbok.Ga naar eind5 Van der Stel het baie van die Koikoikapteins op sy reis ontmoet en 'n besondere genot uit die oop ruimtes van die land geput. Hy het wel die kopermyne van die Koikoi bereik en van die koper gesmelt, maar besef dat die myne te ver van die kus af lê om ekonomies ontgin te word. In die gedig ‘Die Koperberg’ kon Leipoldt jare later op dieselfde plek peins oor die pioniersdrif wat Van der Stel, op soek na wins, daartoe aangespoor het om in ‘wintertyd, toe hierdie veld 'n tuin/Van bloeisels was’, al verder noord te reis, van ‘die water van die vars fontein (te)/Geniet en ver die wêreld oor (te skou)’.Ga naar eind6 Daar is weinig streke in ons land, so skryf Leipoldt by geleentheid, wat die Olifantsrivierkloof in natuurskoon oortref.Ga naar eind7 In die rivier kry 'n mens seekoegate, ‘beskadu deur fluitjiesriet en hoë varings en dig besoom met kafferskuil, wat 'n grysblou rand maak teen die blinkende silwer van die water as die son daarop skyn’.Ga naar eind8 Latere reisigers en jagters soos Thunberg, Barrow en Lichtenstein, wat op die eerste pioniers se spore gevolg het, was diep onder die indruk van die omgewing, veral as die vleiland in die voorjaar ‘in 'n trotsige Josefsrok van kleure’Ga naar eind9 uitspat. ‘Hier,’ skryf Leipoldt, ‘groei surings in ontelbare skakeringe van lewendige verf; vleilelies, suurknolle, kalkoentjies, tjienkerientjees, afrikaners, klossies, keurbosblomme, en die honderd en meer soorte wat eenmaal die hart van Burchell so aangeroer het dat hy amper rapsodies daaroor geword het.’Ga naar eind10 En daarnaas word die kloof bevolk met allerlei soorte diere: van die geitjies, wat die mense van dié geweste galgsalmandertjies noem, tot lang koperkapelle en 'n menigte voëls en visse. Op talle plekke in sy poësie sou Leipoldt later die veld besing wanneer dit in die voorjaar so ‘blomtuin-vol van kleure’Ga naar eind11 word en wanneer ‘Al die voëltjies sing;/...(en) Al die koggelmannetjies/Kom om fees te vier’.Ga naar eind12 Die dorp Clanwilliam, met die Sederberge en Karookoppies regs as jy noordwaarts kyk en ‘die behaaglike groenblou van die laer Olifantsberge’Ga naar eind13 links, is aangelê by die samevloeiing van die Olifantsrivier en die Jandisselsrivier. Eintlik is dit die omgewing van die Jandisselsrivier op die rand van die dorp wat die jong Christie as kind goed leer ken het. In Galgsalmander, een van drie romans waarin die wêreld en geskiedenis van Clanwilliam die agtergrond vorm,Ga naar eind14 skryf hy oor dié rivierGa naar eind15 ‘wat, vergeur met die ruik van drywende boegoeblare, uit die klowe van die steil en | |
[pagina 36]
| |
rotsige Sederberge in westelike rigting voortvloei om onderkant die dorp...in die arms van sy groter broer opgeneem te word’.Ga naar eind16 Die veld wat aan hierdie rivier grens, was die eintlike ‘blomtuin’ van Leipoldt se jeug. ‘Rooi is daar, in die skeurtjies van die klip, in die vroeë wintermaande as die wildesuring begin te bloei,’ skryf hy in Galgsalmander; ‘blou waar die kalkoentjies in die voorjaar hul weelde ten toon sprei; en groen is daar volop - van die grysvaal groen van die kafferskuil en palmiet tot die jong, teer groen van die pas ontluikende wilgerblare en die donker, diep groen van die wateruintjies.’Ga naar eind17 Hy gaan voort: ‘In die winter en in die voorjaar, as alles groen en lewendig is, is die omtrek van die rivier 'n paradys van aantreklike skoonheid. Dan kry die waboom sy nuwere loof, en die botterboom vergroen, sodat sy jong blare lyk asof hulle verfris is. Dan word die vogterige plekke langs die oewers oordek met nuwe gras, waarin surinkies soos ontelbare juwele opduik, terwyl die keurbos sy goud in oorvloed aan die wêreld vertoon. Op die klein Karrookoppies wat hier en daar te sien is, pryk daar 'n weelde van blomme en bossies. Die groot bobbejaan-ore lê plat op die grond, en die heuningpotjies, wat die kinders uitsuig, omdat die soetigheid daarin so lekker smaak, kom in bloei en vergeur die omgewing, alreeds bewierook deur die wildekatjiepierings en die afrikaners, wat tussen die gras so deftig uitgroei. Dan is die rivier onstuimig en vol, sy water meer troebel as in die late somermaande, en sy wilgerboomtakke oorlaai met vinke wat, besig om nes te bou, die hele dag 'n vrolike gekwetter aanhef. In die diep seekoegate, vlak onder die kafferskuil, swem die groot silwervisse, en in die modderige poele rus die karpers en die moggels vlak op die modder.’Ga naar eind18 Die vroeë jare van Clanwilliam was 'n tyd van verskrikking en bloed. Ruwe mense het die gebied bewoon en 'n slaaf se lewe was in hierdie tyd niks werd nie. Ou miesies Ankes het glo haar slawe in die rooiwarm bakoond verbrand. Volgens oorlewering was Koenraad Fiet die eerste nedersetter van Europese herkoms wat hom in dié geweste gevestig het, waarskynlik vroeg in die agtiende eeu. Hy was 'n man wat met verloop van tyd met die hulp van sy baie slawe 'n plaas opgebou het waar hy alleen kon woon, met sy naaste buurman tagtig kilometer ver. Hy was 'n wreedaard wat in sonde geleef het. Aan oshandelaars en slagtersknegte, wat in die binneland vee moes gaan koop, het hy graag herberg verskaf, maar hy het sy oog op hulle geldsakke gehad. Soms het hy hulle vermoor en onder die vloer begrawe. Ander kere het hy op 'n geslepe wyse uitgevind watter roete hulle die volgende dag sou volg en hulle dan deur sy werkers laat | |
[pagina 37]
| |
voorlê en met knopkieries laat doodslaan. Hulle beendere is in putte afgegooi en geen haan het ooit weer na hulle gekraai nie.Ga naar eind19 Later het die assistent-landdros egter agterdogtig geraak, Fiet se huis laat omsingel en die wreedaard gevange laat neem. Uiteindelik is hy op 'n plek agter die latere tronk opgehang. In sy gedig ‘Ver in die Troe-troe-vlakte’Ga naar eind20 in sy bundel Dingaansdag gebruik Leipoldt dié gegewe as die oskoper Piet Ryneveld by Koenraad Fiet oornag. Deur sy sukses in die kaartspel maak Ryneveld sy gasheer só woedend dat Fiet 'n mes gryp en sy gas steek: En op die mis-gesmeerde vloer het Ryneveld geland,
Met skaars 'n roggel in sy keel en bloed was op my hand.
Sy bloed was net soos ossebloed, blou-rooi soos donderweer;
Rooi harte-aas was rooi daarteen, rooi ruite-aas nog meer
Die stroom het oor die stoel gespat, die kaarte vuil gevlek;
Sy val het van die tafel af die tafelkleed getrek.Ga naar eind21
Die stryd teen die elemente en gevaarlike diere in hierdie vroeë jare het ook vir vermaaklike verhale en verdigsels gesorg. By geleentheid het Jan van Zyl, een van die vroeë intrekkers van dié gebied, by 'n beboste waterpoel afgeklim om te drink. In plaas van sy eie weerkaatsing het hy dié van 'n luiperd in 'n boom agter hom gesien. ‘Ha! Jan van Zyl! Lyk jy vanoggend só?’ het hy geskree en laat spaander.Ga naar eind22 Die ondraaglike hitte wat Clanwilliam in die somer kan teister, het tot allerlei verhaaltjies gelei wat by geleentheid deur Leipoldt opgeteken is. So is daar die oubaas wat op 'n lykstapel in ou miesies Ankes se bakoond verbrand is. Toe van die werkers die groot ysterdeur oopmaak om te sien of daar nog iets van die ou oorgebly het, skree hy: ‘Eina, so 'n trek! Maak tog toe, anders verkluim Oubaas van die koue.’ Daar is ook die verhaal van 'n ander oubaas wat vreeslik gespook het. Toe die dominee hom tot bedaring probeer bring, het hy gekla dit is so koud ‘daaronder...dat hy teruggekom het om sy oorjas te kom haal’.Ga naar eind23 Dit is 'n gegewe wat Leipoldt later by die teregstellingsgeskiedenis in sy eerste bundel sal inskakel wanneer die ‘grappiesmaker’ Piet van Ryn, in 'n poging om die somberheid by die naderende dood van die twee jong rebelle te verdryf, vir oom Gert sê: ‘Die wind skeer glad, neef Gert,...
Jy moet vir Ben jou oorjas leen: miskien
Kry hy swaar weer daar boontoe!’Ga naar eind24
| |
[pagina 38]
| |
Van Koenraad Fiet en ou miesies Ankes het net legendes oorgebly, terwyl die verhale oor die hitte van die streek tipies is van die soort stories en folklore wat met die jare rondom 'n streek ontstaan. Dit is egter bekend dat die eerste veeboere in 1725 oor Piekenierskloof getrek het. In 1726 is aan Jan Dissel 'n leningsplaas by die samevloeiing van die twee riviere toegeken en het die omgewing as Jan Disselsvalleij bekend begin staan. Vanweë die uitgestrektheid van die buitedistrikte is die noodsaaklikheid van 'n verdere afbakening ingesien. Aanvanklik is voorgestel om 'n nuwe drosdy op Jan Disselsvalleij aan te lê, maar uiteindelik het die keuse in 1804 geval op Tulbagh as setel van die landdros, met 'n assistent-landdros van 1808 af op Jan Disselsvalleij.Ga naar eind25 Die eerste inwoners van dié gemeenskap was feitlik almal ryk boere wat groter plase kom soek het en mense van bekende Kaapse families was, meestal afstammelinge van vername ou Kompanjiesamptenare wat uit Swede en die noordwestelike streke van Europa gekom het.Ga naar eind26 Onder hulle was die Berghs, die Linds, die Burgers en die Van Wyks.Ga naar eind27 Teen 1814 het sestien van hierdie families daar gewoon. In dieselfde jaar is die dorp deur sir John Cradock, die Britse goewerneur, herdoop tot Clanwilliam, ter ere van sy skoonvader, die graaf van Clanwilliam.Ga naar eind28 In 1820 kry die distrik 'n nuwe oes van inkomelinge wanneer 'n klein groepie Iere onder die Britse Setlaars hulle op Clanwilliam vestig. Vermoedelik is hulle juis na Clanwilliam gestuur omdat daar in dié geweste 'n groot behoefte aan ambagsmanne was en omdat die grond met die twee riviere daar groot moontlikhede vir ondernemende boere gebied het. Onder hierdie groep setlaars was die Shaws, die McGregors, die O'Callaghans, die O'Kennedys, die O'Dwyers, die Fosters en die Fryers. Hierdie mense was meestal ambagslui, maar het ontsettend veel daartoe bygedra om aan Clanwilliam, in die besonder die noordelike gedeelte van die dorp, in die middel van die negentiende eeu sy eienaardige, ouderwetse voorkoms te gee wat dit van die meeste ander Kaapse dorpe onderskei. Dit is húlle wat in Parkstraat die pragtige huise met Georgiaanse vensters en soldergewels laat bou het, onder meer dié van die drosdyamptenare uit die setlaarsperiode. Dit is ook hulle wat die mooi erwe op die dorp in pragtige tuine met 'n blommeprag omskep het en wat buite die dorp Shawskloof - vandag Kleinvlei - en die pragtige Vleiplaas (vroeër Valley Farm) aangelê het. Met die koms van die Duitse sendelinge na Wupperthal in 1830 het Clanwilliam weldra 'n derde groep inwoners bygekry. Saam met eerwaar- | |
[pagina 39]
| |
de Leipoldt het die Wageners, die Fismers en die Budlers op Wupperthal gaan woon - almal families wat deur introu met Afrikaners later deel van die Clanwilliam-gemeenskap geword het, al het hulle dit deur die sendelingtradisies met 'n besondere leefwyse verryk. Die ou Clanwilliam van Leipoldt se kinderjare het net uit twee strate bestaan. Die deurpad, vandag Hoofstraat, was 'n verlenging en verbreding van die ou Kaapse wapad, wat suidwaarts na die hoofstad en noordwaarts in die rigting van die Hantam en die Troe-troe gelei het. Ooswaarts het dit by 'n vurk na links geswenk om in die vlei van die Jandisselsrivier dood te loop. Vandag word hierdie gedeelte Parkstraat genoem. Aan albei kante van die deurpad was daar huise. Die ry naaste aan die rivier het met hulle agterkant na die straat gestaan. Aan hulle voorkant was daar 'n voetpaadjie, die vrypad, wat vandag nie meer daar is nie en wat vir die hele lengte van die dorp onder sierlike eikebome tot by die noordelike ingang gestrek het. Parallel daarmee was die watersloot waaruit die klein badshuisies volgetap is. Die ander ry huise het met hulle voorkant na die straat en met hulle agterplaas na die sanderige veld gestaan. Hierdie veld het opgeloop na Ramskop en van daar afgedaal na die Olifantsrivier. Van die noordekant het 'n mens die dorp met die Mieliedraai binnegekom, so genoem omdat daar op Vleiplaas, die aangrensende skilderagtige landgoed, altyd mielies gekweek is. Volgens oorlewering het Koenraad Fiet sy beeste daar laat kraal en het van sy slagoffers snags daar gespook. In sy slampamperliedjie ‘Outa Adam en ek het gisteraand’ in Uit drie wêrelddele maak Leipoldt van dié assosiasie gebruik wanneer die sprekende seun en outa Adam daar in ‘die wit maanlig 'n spook gewaar’ wat deur die outa as ‘Tannie haar spook’ geïdentifiseer word. Teen middernag, wanneer die spoke se ‘fluitjie blaas’: ...kruip sy t'rug na die spokeland,
En dan maak sy daar groot lawaai
Oor haar kinders hier wat verjaarsdag vier
By Jiems in die Mieliedraai!Ga naar eind29
Gaan 'n mens die hoofstraat binne, is daar aan die linkerkant vandag die Criterion, die hotel waarin Leipoldt dikwels tydens sy latere besoeke aan Clanwilliam tuisgegaan het. Vroeër het die huis van die Foster-familie hier gestaan; met 'n sitrusboord tot aan die rivier het dit die naam Orange | |
[pagina 40]
| |
[pagina 41]
| |
Grove gehad.Ga naar eind30 Aan die regterkant was in die laaste kwart van die negentiende eeu die regeringsgeboue (die geregshof en magistraatskantoor) en aan die linkerkant die biblioteek (ongeveer waar Eerste Nasionale Bank vandag is). Vir hierdie biblioteek het oubaas Grisold van Bonteheuwel 'n aansienlike som geld nagelaat en sy eie biblioteek as kern vir 'n dorpsbiblioteek geskenk. In sy matriekjaar het Leipoldt as bibliotekaris daar gewerk. In sy artikel ‘Clanwilliam: Herinneringe aan 'n ou dorpie’ staan hy stil by ‘die kostelike boeke wat daar was - byvoorbeeld 'n eerste uitgawe van twee van Scott se werke, een dieto van Dickens se Pickwick Papers in die oorspronklike papieromslag - altwee skatte wat baie meer werd is as die erf waarop die biblioteek gestaan het, en altwee, net soos die ander skatte, ongewaardeer deur ons in dié dae’.Ga naar eind31 Verder af in die Hoofstraat is die fraai Anglikaanse kerkie regs wat deur Sophia Gray ontwerp, in 1866 voltooi en in 1876 vergroot is. Daar is 'n sandsteenkruis bokant die oostelike gewel en kruise oos en wes van die naaf. Die plafon is van sederhout, die banke van eik en seder. Die vierhoekige, gekerfde eikehout-preekstoel dateer van 1897 ter ere van koningin Victoria se diamantjubileum. Die oktagonale steenfont het 'n houtbeslag en word ondersteun deur agt klein swart kolomme op 'n steenbasis. Die ysterhekke van die kerkhof rondom dateer ook van die Victoriaanse era, terwyl die klok uit Engeland in 1875 opgerig is. In die kerkhof is die graftes van twee en twintig Britse soldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het.Ga naar eind32 Die Clanwilliam Hotel aan die regterkant, oorspronklik die Masonic, dateer van 1888 en is sedert die veertigerjare in die besit van die Strassberger-familie, afstammelinge van een van die Wupperthalse sendelinge.Ga naar eind33 Verder aan die linkerkant is die rektorswoning van die Anglikaanse gemeente. Dit is met 'n vleuelplan en binnehof in die dertigerjare van die negentiende eeu gebou, die oudste ongeskonde gebou in die straat.Ga naar eind34 Die ou Ned. Geref. kerk regs aan die einde van Hoofstraat dateer van 1864. Die argitek was Carl Otto Hager, wat in die negentiende eeu baie Ned. Geref. kerke in die Kaapkolonie ontwerp het. Dit is van sandsteenblokke in die Gotiese styl gebou. Die deure is van sederhout en die preekstoel, van Amerikaanse greinhout, is vas aan die buitemuur en kom met 'n trap uit in die konsistoriekamer. Soos in die geval van die Engelse kerkie is daar ook hier 'n begraafplaas rondom die gebou. Die grootste dubbelgraf, versier met 'n swart engel, is dié van Leipoldt se ouers. Op sy moeder se gedeelte staan die woorde: ‘Ter gedachtenis aan mev. A.M.C. Leipoldt | |
[pagina 42]
| |
geb. Esselen, geb. 29 Maart 1848 te Worcester, ontslapen 24 November 1903 te Clanwilliam. Van zusters der Gemeente. Zalig zijn de dooden, die in den Heere sterven van nu aan: Ja, zegt de Geest opdat zij rusten moge van hunnen arbeid! Openb. 14 v. 13. Jezus leeft, nu is de dood ons een ingang in het leven!’ Christian Leipoldt lê langsaan haar begrawe, maar sy naam word nie op 'n steen aangedui nie.Ga naar eind35 In plaas daarvan is 'n gedenknaald in 1926 vir hom regoor die konsistoriedeur opgerig. Hierop staan die volgende woorde: ‘In liefdevolle nagedagtenis van Christian Frederik Leipoldt geb. 4 Okt. 1844, gest. 11 November 1911. Leraar van die Gemeente 1884-1911. Zalig zyn de doode die in de Heer sterven, zy rusten van hun arbeid, en hun werken volgen hen. Openb. 14:13.’ Die gebou op die sogenaamde ‘kosterserf’ langsaan was die Gedenksaal wat in 1904 ter ere van die toe reeds oorlede moeder van Leipoldt ingewy is. Dit het gedien as vergaderplek vir jongmense, vir die verenigingslewe en byeenkomste soos vergaderings en basaars. Regoor die kerk, in die Ou Kaapse Weg, is die Tronk waarin vandag die museum gehuisves word, ‘'n steengebou’, soos Leipoldt dit in Galgsalmander beskryf, ‘wat fors en sterk gelyk het, maar wat in werklikheid, wat uiterlik betref, nie baie rede gehad het om te spog nie’.Ga naar eind36 Op die vooraansig van die Tronk verskyn die datum 1808, waarskynlik as aanduiding van die stigting van die subdrosdy, aangesien die gebou van 'n latere datum is. Aan die teenoorgestelde kant van die Tronk was die stalle van die drosdy, terwyl die assistentlanddros tot in die vyftigerjare van die negentiende eeu in die aangrensende huis gewoon het. In 1867 het dit die eiendom geword van P.H.S. van Zyl. Die huis langsaan het as tuishuis vir die sekretaris en boodskapper in die vroeë dae van die subdrosdy gedien en het ook in 1867 in besit van die Van Zyl-familie gekom. Die groot huis daarnaas was die pastorie van die Ned. Geref. kerk, opgerig in 1833 en in 1899 vergroot. Die pastorie het oorspronklik nog misvloere gehad en plankvloere is eers in 1878 in die studeerkamer ingesit. Dit is hier waar Leipoldt sy kinderjare deurgebring het. In sy ‘Jeugherinneringe’ beskryf hy die huis met sy tuin en hoë stoep, met die watervoor vlak daarby: ‘'n vyf voet breë rivier waarin geelvisse geswem het en wat so diep was dat jy daarin kon verdrink’.Ga naar eind37 Die tuin en wat Leipoldt die ‘bossieveld’Ga naar eind38 regs van die huis noem, was 'n ‘wonderlike paradys’,Ga naar eind39 'n soort veldskool waarin hy tussen blomme, fluitjiesriet en bamboes feitlik soos 'n natuurkind kon ronddwaal.Ga naar eind40 Langsaan die pastorie was die huis van die Budlers, ook afstammelinge van Duitse sendelinge. | |
[pagina 43]
| |
Reeds in een van sy eerste publikasies, 'n reeks artikels wat hy onder die titel ‘Sketches in C-’ in 1896-1897 vir The Cape Illustrated Magazine skryf, wei Leipoldt uit oor die Clanwilliam van sy jeug, 'n stil, onromantiese plekkie waaroor 'n skrywer nie 'n driedelige roman sou kon skryf nie,Ga naar eind41 al is dit tog 'n interessante gemeenskap. ‘On all sides’, skryf hy, ‘we are encircled with mountains. A fine range, whose dark blue tops are capped with snow in a severe winter, rises in the south; a smaller and nearer range of low lying karroo hills, seems a continuation of the southern range towards the east, and this again is carried in a series of peaks and sandstone battlements as far as the eye can reach round till it joins the eastern end of the southern range. Between lies veld and valley, parched and barren in summer, but clothed with blooms and greenage in spring and winter.’Ga naar eind42 Op twee plekke in sy prosa gee Leipoldt uitvoerig 'n plattegrond van die dorp, al dui hy dit nêrens spesifiek as Clanwilliam aan nie en versluier hy selfs die identiteit met fiktiewe name (soos Janfiskaalsrivier in plaas van Jandisselsrivier). In Stormwrack, die Engelse vervolg op Galgsalmander, skryf hy oor die hoofpad, wat die grootpad na die westelike deel van die ou Kolonie was en wat van die dorpie 'n verkeersentrum, 'n halfweghuis tussen die hoofstad en die allenige buiteposte in die sanderige, verlate gebiede met hulle yl bevolking gemaak het. Betreklik vroeg in die roman gee hy 'n noukeurige beskrywing van wat die Clanwilliamiete die Agter- en Voorstraat genoem het: ‘The main road through the Village formed the back street. The majority of the houses turned their backs towards it, but the two churches, the gaol, and half-a-dozen other buildings erected on the bare veld behind the Village, fronted it. Between their frontages and the yard walls of the regular line of houses was a comparatively wide space, so that the back street was a broad thoroughfare, bare except for a few blue-gum trees and the straggling shrubs of the yard hedges. The court house, in which were the Government offices, the library and the post and telegraph office, possessed two fronts, one overlooking the back street and the other abutting on the shadowed walk. Its own stoep, wide and grassed, was rarely used, for most people approached by way of the road, and its front door, which could also be called its back door, opened on the back street.’Ga naar eind43 Die volledigste beskrywing van die uitleg van die dorp, soos dit in die middel van die negentiende eeu en in sy kinderjare daar uitgesien het, gee Leipoldt in Galgsalmander. ‘Die huise,’ skryf hy, is ‘uit harde, maar ongebakte stene gebou, met strooidakke, en al die houtwerk van stewig-getim- | |
[pagina 44]
| |
merde sederhout, wat die deure en kosyne 'n mooi verniste uiterlik gegee het, weens die menigvuldige aansmeer van rou lynolie, was eenvoudig van styl en boutrant, maar met iets deftigs en imponerends in die breë, leiklip-belegde stoepe, waarvan sommige opgeskik was met lemoenbome of selonsrose. Die huise was nie algar bewoon nie, ofskoon daar maar 'n twaalftal was, want sommige was kerkhuise,Ga naar eind44 waar die eienaars net vir 'n paar dae ingetrek het as dit Nagmaaltyd was en wat die res van die jaar leeg gestaan het, ofskoon die tuine daaraan verbonde altyd goed onderhou is deur die outa wat daaroor moes toesig hou en wat in die lokasie gewoon en daagliks afgekom het na die dorp om sy werk in die lemoenboord of groentetuin te verrig. Elke huis het 'n ruim agterplaas gehad, met waenhuis en stal, en voor, net anderkant die watervoor, 'n klein badhuisie met 'n sementbad waarin die water gedurig gevloei het, en wat jy, as jy 'n bad daarin wou hê, eers moes vul deur die groot eikehoutprop in die onderste opening te steek en daarna geduldig te wag totdat die bad vol was. Maar dit was mooi helder water, en dit was werd om te wag totdat die bad vol was, want die dorpie was baie warm, en in die somermaande was 'n koue bad iets verkwikkends as die hitte tot oor die honderd-en-tien in die skaduwee gestyg het.’Ga naar eind45 In die besonder staan Leipoldt stil by die noordelike deel van die dorp. ‘Die grootste en mooiste huis in die dorp’, skryf hy, ‘was dié van die magistraat, wat naas die regeringskantoor gestaan het. Daarna was die pastorie die eerste in rang, ofskoon oom Martinus Rekker se kerkhuis daarmee gewedywer het. Agter die straat, aan die kant van die duine, het die tronk gestaan...Daarvoor was die kerkplein, en daaragter het die lokasie, 'n groep pondokke en armoedig-geboude huisies, waarvan die bestes 'n tuintjie wat maar 'n skralerige bestaan daar in die sand gevoer het, voor hulle gehad het. Aan die bultkant van die plein was die kerk, wat as die argitektoniese sieraad van die dorp kon beskou word, ofskoon dit, net soos die tronk, glad geen rede gehad het om op dak of toring of gewel of voorportaal te roem nie. Maar die houtwerk was hier ook van gepolyste sederhout, en dit alleen sou die kerkie die reg gegee het om te spog as hy geneig was om dit te doen. Maar gewoonlik het hy sedig en bedaard gestaan, soos dit 'n Gereformeerde kerk betaam, en nie eens op Sondae, as Porfiet, die kleurling-koster, die klok kom lui het, het hy uit sy bedaarde sedigheid ontwaak om te probeer bewys dat hy die beste gebou in die dorp was nie.’Ga naar eind46 Met die Duitsers, Ierse setlaars en Afrikanerboere was Clanwilliam betreklik gou 'n kosmopolitiese gemeenskap in die kleine, 'n vreedsame sa- | |
[pagina 45]
| |
melewing waar almal vir almal geken en hartlik met mekaar omgegaan het. Leipoldt praat van die hoë kulturele standaard van die ou Clanwilliam. Boekverkopers het in die distrik rondgegaan en boere het biblioteke gehad.Ga naar eind47 Van spanninge tussen die verskillende taalgroepe was daar geen sprake nie. Die isolasie van die buitewêreld het 'n sekere verdraagsaamheid gekweek, want almal het besef dat dit in almal se belang was om in vrede te lewe en begrip vir onderlinge probleme te hê. In sy roman Stormwrack meen die verteller dat ‘where communal interests are so intertwined, and intercourse between the two sections is frank and free, the tendency is for both sections to develop side by side without creating a sense of inferiority in one and an overbearing pride in the other’.Ga naar eind48 Clanwilliam was ‘a sort of miniature paradise with the tree of knowledge left out’.Ga naar eind49 Wanneer Leipoldt in Galgsalmander skryf oor hoe die Britse mnr. Seldon gou Hollands-Afrikaans aangeleer het en sy seun dit net so goed soos die Afrikanerseuns kon praat, gee sy hele beskrywing 'n baie getroue beeld van hoe die verhoudinge in die middel van die negentiende eeu op Clanwilliam was: ‘Engels was...die offisiële taal, ofskoon die distrik by uitstek Nederlands gepraat het as daar sprake van offisiële verrigtinge was, en Afrikaans, of, soos hulle dit self genoem het, die plat taal, as hulle daaglikse aangeleenthede onder mekaar bespreek het. In sy omgang met die mense het Seldon gevind dat hulle meestal Engels kon verstaan en dat hy maar selde sy eie Afrikaans moes gebruik; maar uit hoflikheid het hy met hulle Afrikaans gepraat, net soos hulle uit hoflikheid jeens hom soms Engels probeer praat het. Hul Engels was gewoonlik egter van so 'n gehalte dat hy dit beter geag het om sy besigheidsonderhandelinge altyd in Afrikaans te dryf.’Ga naar eind50 Aan hierdie idilliese, feitlik paradyslike, leefwyse en goeie verhouding tussen Afrikaners, Engelse en Duitsers kom 'n einde met die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog, wanneer Afrikaners met familiebetrekkinge in die twee noordelike republieke sterk gekant raak teen die Britse koloniale bewind en die Engelse in hul eie midde vir die spanninge kwalik neem. Hierdie spanninge is die boustof van Leipoldt se roman Stormwrack. Voor die tyd het almal jaarliks op koningin Victoria se verjaarsdag bymekaargekom om Ouma geluk te wens en 'n sportdag te hou. Die Engelse predikant was ook die dorp se skoolmeester, en niemand het ooit gekla oor sy gewoonte om Engels as vernaamste voertaal te gebruik nie. Die Afrikaanse kinders kon goed Engels praat en al die Engelse kinders kon Afrikaans praat, ofskoon hulle nie 'n eksamen in Afrikaans sou kon geslaag het nie.Ga naar eind51 | |
[pagina 46]
| |
Naas hierdie spanninge wat met die uiteenlopende politieke oortuigings die verhoudinge op die dorp vertroebel en van Clanwilliam 'n onplesierige plek gemaak het, is onberekenbare skade tydens die oorlog op die dorp aangerig. In die laaste fase van die oorlog het die distrik die vegplek van Maritz se Boerekrygers geword. In Augustus 1901 is die openbare geboue van Clanwilliam - die magistraatskantoor, die poskantoor, die biblioteek en die meeste huise in Hoofstraat - in 'n brand totaal vernietig - die grootste ramp wat die dorp ooit getref het. Slegs die Anglikaanse kerkie, die rektorswoning en die Ned. Geref. kerk van die geboue in Hoofstraat het behoue gebly; gelukkig het die huise in Parkstraat die brand ook vrygespring. Vanweë die brand het waardevolle dokumente in verband met die dorp se geskiedenis verdwyn, terwyl die verlies van die waardevolle versameling boeke onherstelbaar was. Oor die oorsaak van die brand het verskillende verhale die ronde gedoen. ‘Sommige’, so skryf W.P.L. van Zyl, ‘het beweer dat die kommandant van die Britse troepe sekere bewyse wou vernietig; ander het gemeen dat Boerevegters verantwoordelik was.’Ga naar eind52 Uit die roman Stormwrack kry 'n mens die indruk Leipoldt self het gemeen dat die Boere die brand gestig het. Dit was in elk geval die indruk van sy ouers. In 'n briefGa naar eind53 wat sy op 31 Augustus 1901 aan ene mev. Howard skryf, sê Leipoldt se moeder dat sy aanvanklik, toe die alarms begin afgaan het, nie wou glo dat dit werklik 'n brand was nie; in die verlede het die alarms by herhaling afgegaan en niks het gebeur nie. Op aandrang van haar jongste dogter het hulle egter gaan kyk. ‘I rushed into the back street & saw a flame up to the heavens in the direction of the Court room exactly like the pictures one sees of the destruction of Sodom & not a smoke smouldering one but as if the whole part from earth to heaven was one big bonfire, with fireworks display in the midst. We ran as fast as we could to the village, the noise cracking, roaring, hissing, shouting, sounded as if the Boers had come set fire to the place & were fighting. It was awful!’ Maar in 1884, toe die Leipoldts hulle op Clanwilliam gevestig het, was die dorpie, met net oor die 800 inwoners, nog 'n rustige plek om in te woon. As die jong Christie in sy kindertyd nie gelukkig was nie, is dit nie toe te skryf aan die gemeenskap waar sy vader toe predikant was nie. | |
[pagina *1]
| |
1. Titelblad van Reize in de binnenlanden van Zuid-Afrika gedaan in den jare 1803 (1806) deur baron Alexander Wilhelm Ludwig Friedrich von Buchenröder, eerste bekende skrywer onder die Leipoldt-voorsate. (J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch.)
Tensy anders vermeld, kom alle foto's uit die C. Louis Leipoldt-versameling by die Universiteit van Kaapstad. | |
[pagina *2]
| |
2. Graftes van barones Friederike Charlotte Louise Johannette von Buchenröder (gebore Meyer) en haar dogter Catherina Wilhelmina Knobel op die hoek van Feldhausen- en Bishopleaweg in Claremont. Catherina is die oumagrootjie van die digter Leipoldt. (Foto: Malcolm Bates.)
3. Hierdie huis in Plohn, Duitsland, staan oorkant die terrein van die ou kerkgebou wat tydens die Seweweekse Oorlog van 1866 vernietig is. Dit was, so word algemeen aanvaar, die pastorie tydens die kinderjare van Johann Gottlieb Leupold, stamvader van die Leipoldts in Suid-Afrika. Die bewoording op 'n muurplaat in die kerk in Plohn lui: ‘Johann Gottlieb Leupold * 17.3.1803 in Plohn † 5.1.1872 in S-Afrika ging 1829 als einer der ersten Barmer Missionare nach S-Afrika und gründete die Station Wuppertal bei Kapstadt.’ (Foto: Molly Wilson.)
| |
[pagina *3]
| |
4. Johann Gottlieb Leopold, grootvader van die digter en stigter van die sendingstasie Wupperthal in die Sederberge. Later spel hy die familienaam Leipoldt. (Wupperthal.)
5. Die stamvader se graf op Wupperthal. (Foto: Sheila Wallis.)
| |
[pagina *4]
| |
6. Die in 1997 gerestoureerde Leipoldt-huis, die eerste woning van die sendelinge op Wupperthal. (Foto: Sheila Wallis.)
7. Die kerk met sy Kaaps-Hollandse gewel wat grootvader Leipoldt op Wupperthal laat bou het. (Foto: Sheila Wallis.)
| |
[pagina *5]
| |
8. Wupperthal. (Foto: Clanwilliam-Museum.)
9. Eerwaarde Louis Esselen, grootvader van die digter aan moederskant, saam met Ferdi, sy seun Ewald se oudste kind.
| |
[pagina *6]
| |
10. Christian Friedrich Leipoldt, vader van die digter.
| |
[pagina *7]
| |
11. Anna Meta Christina Esselen, moeder van die digter.
| |
[pagina *8]
| |
12. Die Toba-meer in Soematra, Indonesië, soos dit vandag daar uitsien. Rondom dié meer woon vandag nog die Batak-stam onder wie Christian Friedrich Leipoldt van 1869 tot 1879 as sendeling gewerk het. Sy sendingstasie Prau Sorat was nie ver van die meer nie. (Impact.)
13. Die tipiese huise van die Batak-stam op 'n eiland in die middel van die Toba-meer. Voor die huise is 'n vergaderplek van die voorvaders. (Impact.)
| |
[pagina *9]
| |
14. Graf van Charles William Leipoldt (5.5.1879-15.5.1879), die digter se jonggestorwe broertjie, in Soematra. Die bewoording op die grafsteen is 1 Korintiërs 15: 42-43 in die Bataks-Angkola-dialek, 'n skrifgedeelte wat vader Leipoldt self vertaal het.
| |
[pagina *10]
| |
15. Rynse sendingpastorie op Worcester, geboortehuis van die digter. (Foto: Mark Kannemeyer.)
16. Die pastorie op Clanwilliam, waar Leipoldt van vierjarige ouderdom sy kinderjare deurgebring het. (Clanwilliam-Museum.)
| |
[pagina *11]
| |
17. Die ou Clanwilliam van Leipoldt se jeug. (Clanwilliam-Museum.)
18. Die Anglikaanse kerkie op Clanwilliam, in 1866 voltooi. As kind was Leipoldt bevriend met eerwaarde Robert Sheard, die rektor. Van ‘Oubaas’ Roberts, wat 'n tyd lank waarnemende Engelse predikant op Clanwilliam was, het hy kundige advies oor versifikasie en prosodie ontvang. (Foto: Sheila Wallis.)
| |
[pagina *12]
| |
19. Die ou Ned. Geref. kerk op Clanwilliam, soos dit vandag daar uitsien. Leipoldt se vader was van 1884 tot 1910 leraar in dié kerk. (Foto: Sheila Wallis.)
| |
[pagina *13]
| |
20. Leipoldt as kind, ongeveer tien jaar oud, saam met sy ouer broer Johnny (regs).
| |
[pagina *14]
| |
21. Vir 'n kortverhaalwedstryd in The Boy's Own Paper ontvang Leipoldt op elfjarige ouderdom 'n geldprys en 'n sertifikaat waarvan 'n brokstuk behoue gebly het.
22. F.W. Junghuhn wie se boek Lichten schaduwbeelden 'n belangrike invloed op die jong Leipoldt uitgeoefen het. (J.S. Gericke-Biblioteek, Universiteit van Stellenbosch.)
| |
[pagina *15]
| |
23. 'n Gravure uit Johan Herman Francken se handleiding oor die chirurgie, 'n boek wat Leipoldt in sy ‘Jeugherinneringe’ foutiewelik aan Franck toeskryf. Waarskynlik is dit dié gravure (figuur 5) wat by die jong Leipoldt 'n angsaanval ontlok het. (Foto: Antonie M. Luyendijk-Elshout.)
| |
[pagina *16]
| |
24. Nog 'n gravure uit Francken se handleiding. Soos die eerste is dit 'n afbeelding van 'n pasiënt wat vir 'n blaasoperasie gereed gemaak word. Waarskynlik was dit die eerste keer dat die jong Leipoldt 'n afbeelding van 'n naakte man, met die geslagsdele ontbloot, gesien het.
| |
[pagina 47]
| |
IIIn Junie 1884 vestig Christian Leipoldt hom met sy vrou en drie kinders op Clanwilliam en neem hulle hul intrek in die pastorie in Parkstraat. Op 28 Junie 1884 word hy bevestig as predikant van die Ned. Geref. gemeente. Op 14 Maart 1888 word op Clanwilliam nog 'n tweede dogter, Catharina (Katie) Wilhelmina, vir hulle gebore. In die gesin was Issa dus agt en Johnny vier jaar ouer as Christie, terwyl Katie agt jaar jonger as hy was. Die gemeente Clanwilliam het in 1884 nog die uitgestrekte gebied van die Bo-Olifantsrivier tot in die Sandveld omvat, met die gevolg dat Christian dikwels in die loop van die week op huisbesoek en vir dienste in die distrik weg was. Daarby moes hy dikwels as konsulent na Nieuwoudtville en Vanrhynsdorp. In 1905 is die Sandveldgedeelte afgestig tot 'n nuwe gemeente wat die naam Leipoldtville ter ere van hom gekry het. Hy het 'n derde afstigting na die suide toe bepleit, maar dit het eers in 1916 'n werklikheid geword met die totstandkoming van die gemeente Citrusdal. Ds. Leipoldt was bekend vir sy deeglikheid en buitengewone werkkrag. Met sy sagte, innemende geaardheid was hy besonder gewild op Clanwilliam en die gemeentelede het na hom opgesien as 'n soort heilige.Ga naar eind54 Op die kansel was hy geklee in 'n preekrok, soos die bruin mense dit genoem het, terwyl hy op huisbesoek dikwels suurklontjies - die ‘Cape sweets’ van destyds - saamgeneem het om aan die kinders uit te deel. Omdat hy 'n besonder sagte vel gehad het en nie 'n baard kon laat groei nie, het hy as die ‘meisie-predikant’ bekend gestaan!Ga naar eind55 In die roman Galgsalmander modelleer sy skrywer-seun later die karakter van ds. De Smee duidelik op hom. Ds. De Smee, so skryf Chris Leipoldt, ‘was 'n goedhartige, natuurlik beskaafde man van middelbare leeftyd, wat in Nederland sy opleiding geniet het, maar wat van geboorte Afrikaner was. 'n Christen in die ware sin van die woord, was hy lankmoedig in sy oordeel oor sy medemense, taktvol, mensliewend en, ofskoon van nature sedig gestemd tot bykans 'n strenge swygsaamheid, wat 'n vreemdeling die indruk sou gegee het dat hy terughoudend en sku was, bedeel met die gawe om die verspotheid van iets dadelik raak te sien.’Ga naar eind56 Die jong Christie, tóé so agt of nege jaar oud, was geamuseer om te hoor hoe sy vader tydens 'n preek telkens 'n kwaaddoenerige kind regstreeks kon aanspreek: ‘En zullen wij gelijk de Filistijnen met een stem roepen - jongeling wat doet gij onder de bank?’Ga naar eind57 In 'n passasie in Galgsalmander maak ds. De Smee ook in sy ‘hoogs vereenvoudigde Hollands’Ga naar eind58 van hierdie tipe ‘uitdraaiings’ gebruik: ‘Liewe kin- | |
[pagina 48]
| |
dertjies,...ons bepaal ons aandag vanmiddag by die gelykenis van die saaier wat uitging om te saai. Sy saailand was net soos ons saailande hiernee, kindlief, moenie jou neusie op jou mou afveeg nie; daarvoor is immers je sakdoek bestemd - soos ons saailande hier. Jullie weet tog dat daar verskillende soorte grond in 'n saailand is: steenagtige grond, suur grond, vet grond, sanderige grond. En jullie het wel seker opgemerk - steek die albasters in je sak, Gerrie, daar is 'n tyd vir speel en 'n tyd vir toeluister, en je is nou hier om toe te luister - wel seker opgemerk dat die gesaaide land nie orals en telkens ewe veel oplewer van wat daarop gesaai word nie. Boerekinders soos jullie is, verstaan tog iets van die boerdery, en jullie weet - moet ek nou weer knor oor Katryntjie? Die aia kan tog sorg dat sy nie telkens die stigtelikheid stoor nie - jullie weet dat, as die saad op steenagtige grond te lande kom, waar daar maar min grond is, dit geen diepte vind waarin dit kan gedy nie.’Ga naar eind59 In die ses en twintig jaar as leraar het Christian hom veral vir die onderwys beywer en selfs in die dorpsraad gedien. Tydens sy dienstyd was daar spanning onder 'n deel van die gemeente oor die klompie bruin mense wat tot die moederkerk behoort het, maar hy het hulle lidmaatskap bly handhaaf. Tydens die Anglo-Boereoorlog het hy probeer om nie kant te kies nie, al het die militêre owerheid hom van simpatie met die Boere verdink. In werklikheid was dit eerder by hom 'n gevoel van verontwaardiging en verset teen die behandeling van die Kaapse rebelle as werklike simpatie met die Boere. Wanneer sy digter-seun in 'n artikel van 14 Mei 1902 in The Manchester Guardian skryf oor 'n Ned. Geref. predikant wat in 'n persoonlike brief skryf ‘how he is absolutely debarred from visiting any of his congregation’, kan ons met sekerheid aanvaar dat Leipoldt hier na sy vader verwys. In 'n brief van 15 Maart 1902 aan sy seun, wat in daardie stadium in Londen gewoon het en sy vader se brief in Engelse vertaling weergee, skryf Christian Leipoldt oor die toestande waarin hulle leef en gee hy 'n aanduiding van die streng sensuur wat met die toepassing van krygswet gepaard gegaan het: In addition to our present woes, there have been very heavy rains. Fortunately they have not been so bad as in other districts. In Swellendam and Riversdale the floods destroyed the houses, and some 50 people were drowned. Many families are quite homeless. I can give you no details without running the risk that the letter may be stopped and destroyed. You may take it, however, that matters are not | |
[pagina 49]
| |
getting any better, and that the end seems as far off as ever. God grant that there may be peace, but when I see the people and hear how they express themselves I cannot but be doubtful about the future. Op 30 Maart laat Christian sy seun weet dat hy saam met Chris se moeder en suster deur die militêre owerheid gelas is ‘to leave the district as soon as convenient for Stellenbosch’ en dat hulle tot verdere kennisgewing nie op Clanwilliam toegelaat sal word nie. Chris Leipoldt voeg hierby: This gentleman has been a clergyman resident in that district for almost the last twenty years, and has never taken the slightest part in politics, not even attending election meetings. He is an old man, by no means in the best of health, and has been entirely dependent on his salary. Under the existing circumstances he has no means of livelihood, and will have to incur expense and debt in residing at Stellenbosch or Capetown. Ná sy vertrek skryf Christian uit Kaapstad 'n herderlike brief aan sy mense. Daarin sê hy: Wat de zeer moeilijke tijden in welke wij leven aangaat, waaronder wij gebukt gaan en menigeen zwaar te lijden heeft, en met zorg en bekommernis in de donkere toekomst ziet, houdt in gedachtenis dat onze God en Heiland leeft, en dezelfde eeuwige en almagtige Heere is, dat Hij getrouw is in de vervulling Zijner beloften als ook Zijner dreigingen. Zonder Zijnen wil kan geen haar van 't hoofd der Zijnen vallen, en dengenen die Hem liefhebben moeten alle dingen medewerken ten goede. In Augustus 1902 kon die gemeente hom weer op Clanwilliam verwelkom.Ga naar eind60 'n Brief wat Christian op 30 September 1889 aan 'n klaarblyklik baie ernstig siek gemeentelid skryf, gee 'n aanduiding van die nougesette wyse waarop hy as predikant opgetree het. In 'n baie netjiese handskrif skryf hy dit spyt hom om te hoor dat dit slegter gaan met sy vriend se gesondheid. Saam met die brief, so skryf hy, stuur hy ‘2 pakjes medicijn’. Hy hoop en | |
[pagina 50]
| |
vertrou ‘dat de Heere de krankheid nog keeren zal en u tot vreugde en zegen voor de uwen en uwe gemeente sparen zal. Hij is de Heiland en geneesmeester, die ook nog ziekten kan genezen, die geen dokter genezen kan. Hij heeft ook nu nog uitkomsten tegen den dood indien Hij wil, en wij Hem daarom bidden. Leg dus uw vertrouwen in deze zaak geheel en al op den Heere, en zoek vooral te verstaan hoedanig Zijn wil met u en de uwen is. Denkt u echter ook daaraan dat de Heere het anders met u besloten hebben kan? Dat het misschien Zijn wil kan zijn u weg te nemen? Een christen mag niet zeggen: “Het kan niet!” of “het mag niet!” Hij moet te allen tijden bereid en klaar zijn om voor zijnen God te verschijnen. Indien nu de Heere u zal willen afroepen of wegnemen, zijt gij bereid? Hebt gij in Jezus Christus vergeving uwer zonden gezocht en gevonden? Is Hij alleen uwe gerechtigheid of bouwt gij nog op iets anders? Och, indien deze zaak nog niet in orde is, doe toch alles tot gij vrede in uwen Heer gevonden hebt. Ga het dan hoe het wil - of ten leve of ten sterven, gij zijt veilig en gelukkig. Misschien dat de blijdschap in den Heere dan ook uwe genezing laat wassen.’Ga naar eind61
Met sy werk aan die onderwys op Clanwilliam is Christian Leipoldt getrou deur sy vrou bygestaan. Sy het baie gedoen om konserte te reël, Christelike verenigings te organiseer en die kerk te vergroot. Sy het ook 'n groot aandeel aan die opvoeding van die kinders in die gemeente gehad en 'n skool vir die gekleurde kinders begin. G.T. Amphlett vertel byvoorbeeld hoe hy in 1896 saam met 'n geselskap van die Bergklub baie vriendelik deur ds. Leipoldt en sy gesin op Clanwilliam ontvang is en hoe beïndruk hulle was deur die sendingskool van die Ned. Geref. kerk, wat onder die beheer van mev. Leipoldt gestaan het. ‘The singing drill, handwriting &c., of the children,’ skryf Amphlett, ‘were most creditable, and it was evident from the excellent order maintained and the interest displayed by the youngsters in their work, that they had in Mrs Leipoldt a lady peculiarly fitted for that particular post. The school was indeed made so attractive, that although several of the little ones were clearly unwell, they could not be induced to remain at home. There were over a hundred coloured children, to whom the English and Dutch languages appeared equally familiar. It is evident that the work being done there is worthy of the highest encouragement, and compared with other state-aided schools, it seems a pity that the Departmental regulations preclude a grant of more than £25 per annum in this particular case.’Ga naar eind62 Sy het 'n sterk em- | |
[pagina 51]
| |
patie met die bruin bevolking van Clanwilliam gehad en as 'n militante negrofilis bekend gestaan, iets wat haar, veral deur haar dikwels taktlose optrede in 'n blanke gemeenskap waar bruin mense oor die algemeen goed en regverdig behandel is, nie baie gelief gemaak het nie. Christina wou die bruin mense tot op 'n pedestal verhef waartoe die blanke gemeenskap nog nie ryp was nie en het tydens die Anglo-Boereoorlog die Boere van die noordelike republieke verwyt dat hulle nie hul verpligtinge teenoor hul inheemse onderdane nakom nie. Wat Chris Leipoldt later in Stormwrack oor dié aspek van die Ned. Geref. predikant se vrou skryf, is in groot mate waar van sy eie moeder. ‘Mrs Uhlmann, like her husband,’ skryf hy, ‘had been brought up in a missionary atmosphere, where the natural, humane reaction against the gross injustice of that orthodox prejudice had been intensified by both ethical and sentimental considerations. In her reaction against the orthodoxy of her community, she allowed these considerations to have more weight with her than would have been the case were her sympathies deflected towards the poor of her own race who stood in want of her help. For her the political situation was not so much a question of preserving the integrity of the country as a part of the Empire as of forcing the northern Republic to recognise its obligations towards its native subjects.’Ga naar eind63 Met haar regop, trotse gestalte, altyd in swart geklee, was Christina Leipoldt 'n baie mooi en intelligente vrou. Sy het egter bekend gestaan as 'n kwaai mens wat soms baie onhoflik kon optree. Daar was tye dat sy en haar man baie gelukkig saam was. In sulke tye sou 'n mens kwalik kon dink dat twee mense beter met mekaar kon saamleef. Dan het Christina ook nie geduld dat daar iets ongunstigs oor haar man gesê word nie. Maar tog was die huislike lewe in die pastorie nie sonder ernstige probleme nie. Christina se siekte het nie alleen haar liggaam aangetas en pyn veroorsaak nie, maar ook haar gees. By tye kon sy baie opvlieënd wees, met haar man en kinders in rusies betrokke raak en Christian - op wie sy vreeslik jaloers was - van allerlei dinge verwyt. Dan was dit met haar eenvoudig nie uit te hou nie. Op 'n keer het sy hom beskuldig dat hy met sommige van die meisie-katkisante flankeer en selfs 'n klag teen hom by die kerkraad ingedien. Die kerkraad moes in die huweliksonmin ingryp, maar het ds. Leipoldt van alle blaam onthef.Ga naar eind64 By meer as een geleentheid was haar woede en gekyf so erg dat sy op 'n Sondagmôre voor die kerkdiens sy manel, swart broek, hemp en bef deur die venster gegooi het sodat hy in die tuin moes gaan aantrek.Ga naar eind65 Dikwels het sy hom voor sy | |
[pagina 52]
| |
kerkraadslede verneder en verkleineer. Op 'n keer, toe hy met 'n ouderling ná kerk by die pastorie aankom, het sy gesê: ‘Dis nou 'n mooi Christen. Hy gebruik kastig Nagmaal, maar hy het nie eens sy vrou gegroet toe hy vanoggend hier weg is nie. So 'n Fariseër!’Ga naar eind66 Soms, wanneer 'n ouderling of 'n diaken hom by die huis kom besoek, het sy eenvoudig gesê: ‘Ek groet nie sulke vals mense nie!’ Dan het sy weer jammer gevoel dat sy mense seergemaak het en dit probeer vergoed.Ga naar eind67 Christina Leipoldt was dus 'n vrou met uiterstes van liefde en haat, in so 'n mate dat 'n mens aanduidings van 'n manies-depressiewe psigose in haar optrede kry. Wanneer sy in 'n goeie bui was, het dit wonderlik gegaan. Wanneer sy egter in een van haar rasende toestande was, het sy die lewe vir haar man ondraaglik gemaak. Dan het hy eenvoudig van die tafel opgestaan, sy stoel ingestoot en vertrek. Ander kere weer, wanneer sy beledigende en vernederende dinge teenoor hom kwytgeraak het, is hulle na die studeerkamer, waar sy hom tot twee-uur in die oggend of later besig gehou het.Ga naar eind68 Dit spreek vanself dat hierdie toedrag van sake sy invloed op almal in die huis moet gehad het. Christina het haar huis streng georganiseer, maar kon as gevolg van haar veelvuldige eise nie mense lank in haar diens hou nie. Frieda Nel, wat as Frieda Budler in die huis langsaan die pastorie grootgeword het, kon in later jare vertel dat 'n jong bruin seun met die naam Aderjan op 'n keer by die Leipoldts gewerk het. Dié is só deur Christina geslaan dat hy meer as een keer weggehardloop het, maar dan gaan haal sy hom weer.Ga naar eind69 Veral op die kinders het die huislike omstandighede neerdrukkend ingewerk. Op 'n keer was hul moeder se woede-aanval so erg dat hulle verplig was om hul vader drie dae lank weg te steek. 'n Ander keer het Christie en sy vader op die solder vir haar gaan wegkruip. Hulle kon aan allerlei voortekens sien dat haar bui weer aan die kom was, byvoorbeeld as sy ds. Leipoldt daarvan beskuldig het dat hy nie die messe en vurke in die huis tel nie! Dan het van die kinders vir mekaar gesê: ‘Die donderweer steek weer op!’Ga naar eind70 Hulle is feitlik soos perde op stal in die huis gehou, omdat Christina met haar adellike herkoms gemeen het die dorpskinders is te minderwaardig en eenvoudig om met haar kinders te meng. Dikwels het hulle tog saans deur die vensters geglip om by die Budlergesin langsaan te gaan speel. Wanneer Christina dit agterkom, is hulle teruggeroep en vreeslik met 'n kweperlat geslaan. Aan Christie het sy op 'n keer tydens so 'n strafsessie gesê: ‘Jou ellendeling, van jou sal niks word nie.’ In later jare kon Chris Leipoldt op sy besoeke aan Clanwilliam vir Lily Louw die plekke in die pastorie uitwys waar hy vreeslik geslaan is.Ga naar eind71 | |
[pagina 53]
| |
Aan Markus Viljoen, redakteur van Die Huisgenoot, het hy gesê sy moeder was 'n ‘helleveeg’. Teenoor sy vriendin Helen Burton het hy opgemerk: ‘It is a terrible thing to say but I hated my mother.’Ga naar eind72 By geleentheid het hy gesê: ‘Ons gesin was nie gelukkig nie, want my ma was mos mal!’Ga naar eind73 En as gevolg van die waansin in sy familie het hy gevrees dat sy kinders by geboorte ook met die erflas aangetas sou wees. In groot mate is Christina se optrede teenoor haar kinders, in die besonder teenoor Christie, die model vir die onmenslikheid en ongevoeligheid wat Cornelis Gram aanvanklik teenoor sy seun Pieter in Die donker huis, Leipoldt se roman van 1931, openbaar. ‘Vir sy kinders’, so skryf Leipoldt oor Cornelis Gram, ‘was hy nooit, in die regte sin van die woord, 'n vriend gewees nie. Hulle het van jongs af aan na hom opgekyk as tot iemand wat oor hulle gestel is om hulle van kwaaddoen af te skrik en hulle deur preek, voorbeeld en straf op die regte pad te hou. Onnatuurlik en onmenslik soos die verhouding was, het Cornelis dit nooit in sy ware perspektief raakgesien nie, wat te wyte was aan sy ingeprente regverdigheid, wat hom nie toegelaat het om sy eie gebreke onder 'n vergrootglas te bring nie.’Ga naar eind74 Waarskynlik het Christina Leipoldt nie die instelling, geestesgesteldheid en gawes gehad wat vir die huwelik en moederskap nodig was nie. Sy was bekend as iemand met weinig geduld en verdraagsaamheid en sy het haar man se sagsinnigheid as swakheid gesien. Tog was sy in staat tot 'n sterk gevoel van medemenslikheid wanneer sy werklik van iemand gehou het. Hiervan kon Ka (Catharina) Bergh jare later getuig.Ga naar eind75 Ka Bergh, in 1865 gebore en dus vyftien jaar ouer as Christie Leipoldt, was met ds. Leipoldt se koms na Clanwilliam een van sy katkisante. Christina Leipoldt, Sondae altyd agter in die kerk op haar bank, was beïndruk deur die mooi meisie wat so ‘kwikstert’ na haar plek loop en het dadelik van haar gehou. Aan Ka, in daardie stadium saam met haar ouers op die plaas Frisdaalden anderkant die Pakhuispas, het sy gesê: ‘I've no big daughter. Come and live with me.’ Die gedagte was dat sy as 'n soort ‘cultural finishing off’Ga naar eind76 in die pastorie sou bly. So het dit gekom dat Ka by die Leipoldts gaan inwoon het, aanvanklik vir ses maande, later weer vir periodes van drie maande en langer. Baie gou het sy volkome deel van die gesin geword. Ka het volgens haar eie getuienis van Christina meer liefde en vriendskap ontvang as van enige iemand anders, al is sy soms ook sterk aangespreek. Hoewel sy dikwels, wanneer Christina met haar siekte in die bed was, die vloere moes skrop en die kos moes kook en haar ouers bekommerd was dat daar 'n ‘vloervel’ | |
[pagina 54]
| |
van haar in die pastorie gemaak word, het hulle goed met mekaar oor die weg gekom. Christina het 'n baie sagte gevoel vir die jong meisie gehad en het aan haar gesê dat sy altyd so 'n jong vriendin wou hê om lief te hê en te help. Wanneer haar man, soos dikwels gebeur het, op huisbesoek in die distrik weg was, het Ka saam met haar in die dubbelbed geslaap. ‘I always wanted a Katarina’, het sy dan gesê. Baie mense het hulle oor die goeie verhouding tussen Christina en Ka verwonder. Mev. Esselen, Christina se moeder, het byvoorbeeld by geleentheid vir Ka gevra: ‘Maar hoe kom julle klaar? Dit sal nie hou nie. Van jou kant dalk wel, maar nie van my dogter se kant nie. Sy kon met haar vader nie klaarkom nie - ook nie met my, met haar susters en haar man nie. Sy sal ook nie op die duur met jou klaarkom nie.’Ga naar eind77 Ten spyte van hierdie bedenkinge het hulle goeie vriendskap voortgeduur, al het Christina later met te veel dinge fout gevind en het sy nie nagelaat om haar adellike afkoms soms te laat geld nie. Wanneer Ka haar rug gemasseer en ingevryf het, kon sy byvoorbeeld sê dat Ka se hande te grof was vir die fyn vel van 'n barones! Tydens haar laaste siekte het Ka en haar suster Jenny vir Christina tot die einde toe bygestaan. Christina het aan 'n verskeidenheid siektes gely. Dit is bekend dat sy 'n diabeet was, met 'n temperament wat haar by tye heeltemal paranoïes laat optree het. Toe sy op 23 November 1903 op die vroeë ouderdom van vyf en vyftig jaar sterf, is die oorsaak van die dood aangegee as beri-beri, 'n siekte wat degeneratiewe afwykings in die senustelsel veroorsaak, die bloedsomloop versteur en tot hartkloppings en benoudheid lei.Ga naar eind78 Aan die einde het sy pynlike karbonkels tussen die skouerblaaie gehad wat later oor die hele liggaam versprei het. Hoewel die lewe saam met haar nie maanskyn en rose was nie, het Christian Leipoldt by die dood van ‘mijner dierbare echtgenoote’Ga naar eind79 'n roerende brief aan sy gemeente geskryf om vir die blyke van deelneming te bedank, selfs al was Christina volgens 'n mededeling van Jenny BerghGa naar eind80 nie bemind onder die mense nie en was niemand uit die gemeente, behalwe twee bruin vroue, bereid om met haar versorging te help nie. ‘Haar ziekte’, skryf Christian, ‘was zeer smartelijk, eene loutering in de smeltkroes onzes Heeren en een afbreken haars aardschen tabernakels. Maar mijn, en ik vertrouw ook haar eenige hoop en vertrouwen voor sterven en eeuwigheid, is slechts de genade van onzen Heere Jezus Christus, onzen grooten en barmhartigen Hoogepriester, dat Hij haar met Zijn bloed gewasschen en in genade aangenomen heeft.’Ga naar eind81 | |
[pagina 55]
| |
Christian se verdriet is egter nie in dieselfde mate deur sy skrywer-seun gedeel nie. Chris Leipoldt was in Londen met sy mediese studie besig toe sy moeder oorlede is. In 'n byvoegselGa naar eind82 tot 'n brief wat hy op 19 Oktober 1949 vir M.P.O. Burgers skryf, sê Leipoldt se medestudent Val St. John dat sy vriend van tyd tot tyd met toegeneentheid oor sy vader gepraat het. ‘But this’, gaan hy voort, ‘reminds me of an incident which at the time left me speechless. We had been sitting before the fire in my rooms for some time, L puffing away at his corn cob, when he suddenly seemed to remember something, drew a folded paper out of his waistcoat pocket and tossed it over to me with something of a grunt and a chuckle. It was a cable from S.A. announcing the death of his mother. In response to my shocked and questioning look he explained that it left him quite cold, she had always hated him, from the day of his birth.’ Aan Dorothy O'Connor het Leipoldt kort voor sy dood gesê sy moeder was ‘a very harsh woman. I dropped out of her belly on the floor and that's how she regarded me for the rest of her life. My father was a gentle man.’Ga naar eind83 Ook die ander kinders was ongeveer dieselfde mening toegedaan. Christian Leipoldt was na 'n beroerte in 1910 verplig om sy emeritaat te aanvaar, maar was nogtans sterk genoeg om, vergesel van sy dogter Katy, 'n reis na Europa te onderneem waartydens hy sy seun Chris in Londen die laaste keer gesien het. Die laaste maande van sy lewe het hy op Hopefield by sy dogter Issa en haar man, Robert Pattison, ingewoon. Daar is hy op 11 November 1911 oorlede. By sy dood is hy op Hopefield begrawe, maar met die gedagte dat die lyk na Clanwilliam geneem en herbegrawe sou word. Issa, volgens alle getuienis net soos haar ma 'n moeilike entjie mens, wou nie toelaat dat haar vader langs haar moeder begrawe word nie en het verkies dat hy elders in die kerkhof, so ver as moontlik van haar af, moes rus. Uiteindelik is hy tog langsaan haar begrawe, maar sonder enige aanduiding op die graf. Die gedenknaald wat die gemeente in 1926 langs die ou kerk op Clanwilliam ter ere van hom laat oprig het, dui nie die plek aan waar sy stoflike oorskot weggelê is nie.Ga naar eind84 | |
[pagina 56]
| |
IIIMet die gesin se verhuising na Clanwilliam was Christie Leipoldt 'n klein seuntjie, nog nie vier jaar oud nie. Saam met hom was die twaalfjarige Issa, wat van kleins af eksentriek was, eienaardige gewoontes gehad het en nog voor Christina Leipoldt se dood getroud is met Robert Pattison, wat later Engelse predikant geword het. Hulle het later in Pretoria gewoon. Sy is op 27 Maart 1932 oorlede. Katy, die jongste suster, wat in 1888 gebore is, was as baba baie swak en die ouers het nie gemeen sy sal oorleef nie. As kind was sy, soos haar ouer suster, ook eienaardig, van vroeg af 'n indiwidualis. By geleentheid is sy as straf deur haar moeder opgesluit. Toe Christina later vra of sy al soet is, was die antwoord: ‘Nee, nog nie!’ Sy het haar ma verwyt omdat sy nie 'n seun is nie en soms Christie se broeke en baadjies aangetrek. Toe sy groter word, was dit duidelik dat sy haar vader se musiektalent geërf het. Later was sy uitgesproke ateïsties. Sy was 'n mooi jong meisie, maar kon eintlik deur die invloede van haar familie nie heeltemal tot haar reg kom nie. Mense wat haar geken het, meen sy het goed gehandel deur geselskapsdame van 'n welgestelde vrou te word, saam met haar op 'n wêreldreis te gaan en haar uiteindelik as onderwyseres in Australië te vestig, waar sy op 2 Augustus 1964 oorlede is. Sy was ongetroud. Van die hele gesin was die agtjarige Johnny met hul aankoms op Clanwilliam die normaalste. Hy was 'n bedaarde kind wat sy eie koers gekies het en duidelik wis waarheen hy op pad was. In die ou Zuid-Afrikaansche Republiek het hy hom by die artillerie aangesluit. Tydens die Anglo-Boereoorlog is hy by Colenso gewond en na Ceylon verban. Ná die oorlog het hy hom as landmeter bekwaam en is hy deur kollegas as 'n voortreflike wiskundige, kunstenaar en geoloog bestempel. In 1911 het hy hom by die Unie-verdedigingsmag aangesluit en in 1915 was hy saam met generaal Louis Botha in Duitswes. Op dit alles sinspeel Chris Leipoldt in Stormwrack as hy besonderhede oor ds. Uhlmann se oudste seun verstrek: ‘Educated at home, partly, when the whim to teach took her, by his mother, and, almost as intermittently, by his father, whose parochial affairs often took him away from home for a week or more, the pastor's elder son had that year obtained the parental permission to seek work in the Transvaal where his uncle [Ewald Esselen - JCK] was said to have some influence in government circles. Apparently work had speedily been found for him, and he wrote glowing letters home, abounding in expressions of admira- | |
[pagina 57]
| |
tion for the way people lived on the Rand, and intimating his intention of joining the State Artillery and becoming a professional soldier.’Ga naar eind85 Omdat hy lief was vir die eensaamheid en verlate plekke, het hy ná die Eerste Wêreldoorlog as landmeter en geoloog verkies om op verafgeleë gebiede, soos die Noordwes-Kaap, te werk. In twee hoofstukke in Something rich and strange vertel Lawrence Green hoe Johnny met 'n fyn stukkie speurwerk 'n belangrike aandeel daaraan gehad het om die Seitz-diamante op te diep en hoe hy op die spoor van die Lobengula-miljoene in Angola gekom het. Hy het heelwat op die gebied van die geologie gepubliseer en ook 'n amptelike geskiedenis van die Duitswes-veldtog geskryf. Kolonel R. Meinertzhagen, wat deel gehad het aan die veldtog in Duits-Oos-Afrika, skryf met waardering oor hom. ‘Leipoldt’, sê hy, ‘is a curious character. He has the brain of a scholar and the academic application of a philosopher...He would make an ideal secret service agent or unraveller of some secret cipher.’Ga naar eind86 Johnny is op 1 Maart 1945 oorlede. Twee kinders - 'n seun en 'n dogter - is uit sy huwelik gebore. Van die Leipoldt-kinders het Ka Bergh se voorkeur egter - in teenstelling tot vader Leipoldt, wat 'n groter toegeneentheid tot Johnny gehad het - uitgegaan na Christie. Op hoë ouderdom kon sy nog onthou hoe lieftallig hy kon wees en hoe hy, met sy kort beentjies, probeer opklim het na waar sy sit en werk om haar te omhels en te soen.Ga naar eind87 Hy het haar dan ook sy ‘groot suster’ genoem en sy hom ‘my klein sustertjie’, 'n aanspreking wat hom groot plesier verskaf het.Ga naar eind88 Met die geboorte van Katy was Christie baie hartseer en het hy aan sy ma gesê dat hy nou nie meer Ka se ‘klein sustertjie’ sal kan wees nie. Klaarblyklik het Ka, wat nooit getroud is nie, haar aan die klein Christie geheg en al haar verplaaste moederliefde op hom uitgestort. In groot mate is Chris Leipoldt se karakter mej. Smith in Die donker huis wat by die Gram-gesin inwoon en baie vertederend teenoor die seun Pieter en die dogter Katrien optree, op Ka Bergh gemodelleer. Op ‘slot van rekening’, skryf Leipoldt in dié roman, ‘was mej. Smith een van die vroumense wat deur die natuur bestem is om 'n moeder en kindervriend te wees. Omstandighede het haar genoodsaak om haar lewe in 'n ander groef te laat loop as dié waarin dit moes geloop het, en sy het haar moederliefde op 'n vikarieuse manier uitgestort op die twee oudjies wat gedeeltelik aan haar sorg toevertrou was.’Ga naar eind89 As kind - en ook toe hy volwasse was! - het Christie 'n ‘ruig verbeelding’Ga naar eind90 gehad, om sy eie woorde van later te gebruik. Toe hy nog baie klein was, het hy op 'n dag vir een van die kerkraadslede wat by die pastorie | |
[pagina 58]
| |
aangekom het, die spoortjies gaan wys waar hy geloop het toe hy nog 'n engeltjie was. Hoewel hy later sou sê dat hy oor geen musiekaanleg beskik nie en sy ma se musieklesse vir hom iets vreesliks was, het hy tog soms voor die klavier gaan sit en sy eie denkbeeldige woorde en wysies bedink. Van kleins af was hy lief om te sien hoe plante groei en diere grootword. Op die grondvloer van hulle skool- en speelkamer in die pastorie het hy selfs gespit en graan gesaai, tot wrewel van sy moeder, wat aan hom verduidelik het dat die huis aan die kerkraad behoort en dat hulle met sy tuinmakery in hulle huis ontevrede sal wees. Toe daar weer 'n kerkraadslid opdaag, het hy die deur op werwel gesit sodat niemand kon binnekom nie.Ga naar eind91 Hy het baie tyd bestee om op hulle erf plante en klein diertjies te soek, soos bessies, wortels, geitjies, skerpioene en spinnekoppe. Wanneer hy en Louis Budler, die bure se seun, saam op jag was na skerpioene en slange, was mev. Budler ongerus. Sy het aan hom gesê: ‘Maar Christie, wat maak ek as 'n skerpioen of 'n slang vir Louis doodbyt?’ ‘Maar tannie’, was sy antwoord, ‘dan kom bly ék by jou!’Ga naar eind92 Toe een van sy baie hansdiere, veral een van die marmotjies, dood is, het hy en Kareltjie,Ga naar eind93 die seun van die Anglikaanse leraar eerwaarde Robert Sheard, ‘hom plegtig en met gepaste lykredes onder die groot shaddock-boom begrawe, waar in die loop van tyd 'n klein kerkhoffie ontstaan het, behoorlik met grafsteentjies voorsien’.Ga naar eind94 Naas sy belangstelling in die natuur wou Christie van vroeg af skryf. In 'n verfdoos wat hy op sy sewende verjaardag van sy vader present gekry het, was hy net 'n tyd lank, bloot om die nuwigheid, geïnteresseerd, maar hy het vroeg al besef dat hy geen skilder sou word nie en dat handewerk nie vir hom bedoel is nie. Volgens Ka Bergh het hy, toe hy nog baie klein was, aan haar gesê dat hy eendag sy geld wil verdien deur mense te dokter, maar dat hy ook graag sou wou skryf. Die Esselens, so het hy opgemerk toe hy al 'n bietjie groter was, kon nog nooit te lank dieselfde ding doen nie; die Esselen-bloed in hom maak dit noodsaaklik om 'n tweede beroep te hê.Ga naar eind95 Daarom wou hy naas dokter 'n ‘snelskrywer’ word. Sy moeder het dan ook van kleins af vir hom baie foliopapier gekoop om op te krabbel. Toe vader Leipoldt - met sy klein salaris altyd in die skuld en bedag op besparing - teenoor haar kla oor die verkwisting van die papier, het sy gesê: ‘Nee, hy is besig om te leer. Elke vel papier wat hy gebruik, bring hom nader aan sy doelwit.’Ga naar eind96 Ten spyte van alle besware teen Christina getuig hierdie voorval van die uitstekende pedagogiese insig waaroor sy beskik het. | |
[pagina 59]
| |
Tuis het die Leipoldt-kinders almal naas Afrikaans en Engels ook Duits gehoor, terwyl die ouers, wanneer hulle wou hê die kleintjies moes nie weet waaroor hulle praat nie, ook dikwels Maleis of Bataks met mekaar gepraat het, iets waarvan die jong Christie met sy gevoelige oor vir tale gou enkele woorde kon volg. Vir kinders wat só poliglotties grootword, is 'n enkele moedertaal nie 'n uitgemaakte saak nie. In later jare kon Leipoldt die eis om moedertaalonderwys van iemand soos C.J. LangenhovenGa naar eind97 glad nie begryp nie en het hy die leuse dat die ‘taal gans die volk is’ ten sterkste ontken. Wanneer Leipoldt sulke argumente gehoor het, so skryf hy in sy ‘Jeugherinneringe’, vra hy hom af ‘hoe op aarde ek dit sover gebring het om iets aan te leer voordat ek regtig met waarheid kon sê wat my huistaal eintlik was.... Sover ek my kan herinner, het ek die drie huistale Engels, Duits en Nederlands tesame geleer (as dit geleer kan genoem word) en sekerlik het ek al drie met dieselfde belangstelling en gemak gelees lank voordat ek iets in Afrikaans geskrywe ter hande gekry het.’Ga naar eind98 Op Clanwilliam was daar in Christie se jeugjare 'n goeie dorpskool wat onder leiding van eerwaarde Sheard gestaan het. Die meeste van die leerlinge was dagbesoekers, maar enkele plaaskinders was kosgangers en het by Sheard in die pastorie in Hoofstraat geloseer. Leipoldt se moeder, wat 'n kompleks oor netheid en onsedelikheid gehad het en van mening was dat haar kinders nie met dié van die dorp behoort te meng nie, het egter besluit dat hulle tuis in die pastorie 'n beter opvoeding en opleiding kon ontvang.Ga naar eind99 Die gevolg was dat Christie, buiten enkele lesse wat hy later by dr. Daniel Hahn in Kaapstad bygewoon het, nooit 'n enkele dag op die skoolbanke deurgebring het nie. Hy het eintlik geen geleentheid gehad om met ander seuns van sy ouderdom maats te maak nie en sy kontak met ander kinders was grotendeels beperk tot die pastoriegrond. Langsaan hulle was die Budler-gesin met wie se seun Louis hy bevriend was, terwyl hy ook die twee seuntjies van die sipier van die tronk en die volwasse seun van die hoofkonstabel geken het. Aan die ander kant van die pastorie was die huis van die Van Zyls waar Hennie van Zyl, later regter-president, grootgeword het. ‘Vir ons kinders’, skryf Leipoldt later, ‘was hy die model wat ons voor die oë gehou is, en van die begin af het ons vooruitgesien na 'n briljante loopbaan vir hom. Dit sê baie vir die seun se karakter dat daar geen enkele Clanwilliamiet is wat hom ooit sy akademiese, politieke en juridiese sukses misgun het nie, en dat hy vandag nog die populêrste persoonlikheid | |
[pagina 60]
| |
in daardie ou omgewing van hom is.’Ga naar eind100 Met Hennie sou hy egter eers in sy volwasse lewe bevriend raak. Sy enigste werklike jeugmaat, so sê hy in sy ‘Jeugherinneringe’, was Kareltjie Sheard, die jongste seun van die eerwaarde; hulle het albei daarvan gehou om versies op te sê wanneer hulle ook al 'n gehoor gemonster kon kry.Ga naar eind101 In hoë mate was hy egter 'n alleenkind, ook omdat hy nie sy ouer broer se slag gehad het om vriende te maak nie en omdat hy as nukkerig, terughoudend en soms onbeskof beskou is.Ga naar eind102 Nêrens in sy ‘Jeugherinneringe’ maak hy melding van enige deelname aan georganiseerde sport saam met sy jaargenote nie. Wat Peter Ackroyd van William Blake sê, geld in groot mate vir Leipoldt. By Blake, so skryf Ackroyd, ‘there is never any mention of shared sports such as football or skating, no games such as prisoner's base or pitch-in-the-hole..., no pastimes such as kite-making or fishing. It is as if nothing ordinary could touch him, and in his recollection of childhood he sees himself already pursuing his own lonely course.’Ga naar eind103 Ka Bergh onthou Christie dan ook vertederend as ‘a very loveable, but solitary type of child, occupying most of his free time with his writings and his poisons’.Ga naar eind104 Hierdie onbeskoftheid en terughoudendheid, gaan Leipoldt in sy ‘Jeugherinneringe’ voort, was 'n soort verdedigingsmeganisme wat 'n kind in sulke omstandighede aanneem, veral een soos hy wat basies introspektief aangelê is.Ga naar eind105 Tog het hy kontak gehad met enkele van die ouer bruin mense wat in die Kamp bokant die Sluis gewoon het, meestal afstammelinge van slawe of vroeër self slawe. Een van hulle, 'n ‘skraal, maer, imponerende gestalte,’Ga naar eind106 wat hom aan 'n heks laat dink het, kon hom vertel van die vroeë geskiedenis van Clanwilliam en van ‘oorlewerings omtrent Eenoog en Voetoog en die diamant-gekroonde slang wat in die seekoegate onderkant die tuine geboer het’.Ga naar eind107 In die lokasie het outa Klaas in een van die biesieshutte gewoon, ‘a small old native, grey-haired and grey-bearded’, soos Leipoldt hom in sy reeks artikels ‘Sketches in C-’Ga naar eind108 beskryf. Outa Klaas het 'n groot reputasie as toordokter gehad. ‘In him’, sê Leipoldt, ‘is centred the knowledge of a whole pharmacopia; he knows the value and effect of every plant and every drug that is to be found in C-. Whether it is a love potion, a cure for snakebite, a draught to cure fever, or an embrocation for some sprain - at all he is equally expert.’Ga naar eind109 Op 'n baie vroeë leeftyd lei hierdie outa Klaas die jong Christie in die geheime van plante en kruie in. Hy wys hom waar om sekere plante in die veld te vind: die geneesmiddels vir slangbyt, die plante wat liefdesdranke verskaf, die bolle wat 'n seer keel genees, die noorsdoring of melk- | |
[pagina 61]
| |
bos wat die pyn van die bobbejaanspinnekop verlig, die medisynebossie vir maagontsteking. Outa Klaas het ook wildedagga gerook - nie die gevaarlike soort met sy narkotiese, gewoontevormende nadele nie, maar die soort wat in tuine op die dorp as 'n onkruid gegroei en wat Leipoldt altyd as onskadelik beskou het.Ga naar eind110 Daarby het outa Klaas oor 'n skat van idiome en segswyses en 'n myn vol geestigheid en humor beskik. Sy verhale oor die dae van die slawe, toe geweldenaars in die geweste rondgeloop het, was vol afgryslikhede wat 'n kind se hare laat rys het. Naas outa Klaas was daar op die dorp ook outa Booi en outa Hendrik: outa Hendrik wat al die legendes en leuens van die dorp op sy vingerpunte geken het, outa Booi wie se koolkoppe altyd groter as ander mense s'n was en wie se pere lekkerder gesmaak het.Ga naar eind111 Met van hierdie mense kon die jong Christie op wintersdae diepsinnige gesprekke voer wat later in verse soos ‘In ou Booi se pondok’Ga naar eind112 en ‘Kleingelowige’Ga naar eind113 in sy eerste bundel neerslag sou vind. En dan was daar aia Toontjies, outa Adam se vrou. Op 'n seepkookdag moes outa Adam ‘as van die vaal renosterbossies (bring)...klewerig as 'n mens dit in die hande vrywe, en sout as jy dit proe. In die groot pot het hulle loog gekook, en in 'n kleiner pot daarnaasaan, waaroor Tant Mieta die opsig gehou het, die “seep” wat nog nie seep was nie. En dan die uitgooi, net soos deeg in die koekmaaktyd, en die stukke sny met die yslike groot mes, die seepmes soos Tant Mieta dit genoem het! En dan die ruik van dit alles, gemeng met die wasem van die wilde kanferfoelie en die suikerbosknolle! Vir ons kinders was dit 'n grote, 'n wonderlike tyd; en as ons later die seep gebruik het, dan het ons dit met eerbied aangevat, want ons het geweet hoeveel moeite en verdriet sy maak gekos het.’Ga naar eind114 Reeds in sy moeder se kombuis op Clanwilliam het Christie begin geinteresseerd raak in koskook en het hy met allerlei geregte - dikwels vreemdsoortig vir dié jare - geëksperimenteer. In die kombuis het ai Hanna hom die eerste lesse in die kookkuns gegee. Hoewel hy baie jare later 'n lekkerny soos pienangvleis vir sy gaste kon voorsit en ook 'n resep daarvoor in een van sy kookboeke kon opneem, was ai Hanna daarvan oortuig dat hy nooit pienangvleis so goed soos sy sou kon berei nie. ‘My basie,’ het sy gesê - so kon hy nog in die veertigerjare onthou -, ‘rasyntjies en pienangvleis is nou iets wat Basie nooit sal leer om te maak nie soos dit behoort te wees. Dis net ons swartgoed wat dit behoorlik kan maak, nie die Duismense nie.’Ga naar eind115 Die gekleurde mense van Clanwilliam het in sy kinderjare die vertrekkende swaeltjies, vet na die lang somer, | |
[pagina 62]
| |
tydens die jaarlikse ‘swawelslaan’ in Maart met lang bamboesstokke aangekeer en hulle gebraai of met aartappels en uie gestoof - vir die jong Chris 'n heerlike dis. Wanneer die gesin in die somer op Lambertsbaai vakansie gehou het om van die Clanwilliamse hitte te probeer ontsnap, het hulle mosselsop met melk en room, mosselsnippers, skulpvis met pietersielie en kerrie en malmok - albatros - geëet. Waarvan Chris veral gehou en wat hy help berei het, was die seldsamer vissoorte: die baardmannetjie, die bamboesvis, die tambryn en die kliptongvis.Ga naar eind116 Naas sy belangstelling in kosmaak en die gesprekke met die kleurryke karakters in die Kamp het Christie gereeld in die dorpswinkel langs die Ou Kaapse Weg gekom.Ga naar eind117 Die eienaar was Berend Ginsberg,Ga naar eind118 'n Russiese Jood wat vroeër as smous op die plase rondgegaan het. Naas die ware in sy winkel het hy ook aan die gemeenskap 'n diens gelewer deur geld aan behoeftiges te leen, regsadvies te gee en medisyne aan te beveel as 'n kind 'n pyn het. In sy deurmekaar winkel het dit nie altyd lekker geruik nie, want die mottegif het alle ander geure oorheers. Hy het van alles gehad: ruwe meubels, allerlei artikels soos velhoede, sakdoeke, glashouers met ‘ticky sweets’, medisyne soos ‘Jones' Pile Pills’ en ‘Adam's Booseberry Elixir’, koffie, rys, suiker, tee, bossietee, messegoed en glasware, tabak en seep, klerasie e.d.m. ‘Oom Berend’, skryf Chris Leipoldt later, ‘is cute, he knows the value of position as well as a staff officer does. Half-penny worth of sweets is doled out to a two-feet-high little customer who comes to fetch a pennyworth of brown sugar for maame..., and a dark-skinned lady receives a span of tobacco twist and a cup of rice in exchange for a threepenny-bit. Then there is a lull, and Oom Berend very likely stands talking with a friend or bustling with needless energy amongst his wares. There are generally two or three persons about, and on an average ten persons a day make up the total of Oom Berend's customers.’Ga naar eind119 Hoewel daar heelwat verdigsel bykom en hy van hom 'n Poolse in plaas van 'n Russiese Jood maak, gebruik Leipoldt waarskynlik sy kennismaking met Ginsberg vir sy verhaal ‘Die smous’ in Die Huisgenoot van 26 November 1943. Hoe intelligent en belese hierdie winkelier was, blyk uit 'n ervaring wat Leipoldt in dié verhaal vermeld. Sy vader het in sy besit 'n poliglottiese Bybel in Hebreeus, Aramees, Duits en Latyn gehad. Om vas te stel of Berend, in die verhaal Abram genoem, werklik die Joodse taal magtig is, het sy vader dié besondere Bybel aan die smous voorgelê, net om uit te vind dat hy ál vier tale kon lees en vlot kon vertaal. Heel moontlik is die figuur in die gedig ‘Mordegai’ uit die bundel Oom Gert | |
[pagina 63]
| |
vertelen ander gedigte,Ga naar eind120 die Jood van sy jeug wat hom ‘lekkergoed gegee (het) as kind’, gemodelleer op Ginsberg. In 'n artikel wat hy in Die Huisgenoot van 1 Desember 1933 publiseer, sê Leipoldt: ‘Dit het my altyd gespyt dat sommige van my...Joodse vriende nie die liefde en bewondering wat ek vir my ou smousvriend wat ek Mordechai genoem het...geopenbaar het, kon insien nie.’Ga naar eind121 Die belangrikste mense op die dorp in Leipoldt se kinderjare was die magistraat, die twee predikante - eerwaarde Robert Sheard en van 1892 af eerwaarde Basil Hampden-Jones van die Anglikaanse Kerk en Leipoldt se vader van die Ned. Geref. Kerk - oubaas Fryer, die prokureur, en oubaas Foster, die handelaar wie se winkel op die Mieliedraai-end van die dorp was. Van hierdie mense het dikwels saam by oubaas Foster se winkel kom gesels. Amper die hele manlike bevolking van Clanwilliam was op twee namiddae in die week by die poskantoor bymekaar in afwagting van die aankoms van die poskar wat van Piketbergweg gekom het. Hierdie poskar was ‘a two-wheeled hooded vehicle drawn by six mules and driven by a half-caste approaching middle age,’Ga naar eind122 soos hy dit in Stormwrack beskryf. ‘(It) arrived at the Village on Wednesdays and Saturdays, according to schedule precisely at four in the afternoon, but, in deference to the vagaries of the road, the weather, and the moods of the driver, usually much later...Its arrival was a matter of profound local interest.’Ga naar eind123 Van die gebruiklike feeste in die loop van die jaar kon Leipoldt in later jare die driemaandelikse Nagmaalsnaweke onthou wanneer die boere van die omtrek na hul ‘kerkhuise’ op die dorp gekom of met hulle waens in die oop veld agter die Ned. Geref. kerk kom uitspan het. Dan het die winkeliers oortyd gewerk en is die prokureur en dokter druk besoek. Gewoonlik het die perdekarre en waens op Saterdae ingekom, die kerkbasaar is laatmiddag gehou en almal het dinge saamgebring wat op 'n openbare verkoping vir die voordeel van die kerkfondse aangebied is. Van sy eerste Kersaand op Clanwilliam onthou hy, so skryf hy op 1 Desember 1939 in Die Huisgenoot, die Kersboom in die pastorie. Dit was nie moontlik om 'n hele denneboom te kry nie, maar ‘daar was mooi dikstammige piesangbome in die omgewing, en ons het 'n kersboom gemaak deur dennetakke in 'n piesangboom se stam te steek’. Die fees wat die grootste indruk op Leipoldt gemaak het en waarby hy sowel in Galgsalmander as Stormwrack uitvoerig stilstaan, is die jubileumviering op 24 Mei 1886 by geleentheid van koningin Victoria se vyftigste jaar op die troon.Ga naar eind124 'n Hele komitee is saamgestel waarin iedereen gedien het wat iets was of, soos Leipoldt dit stel, hom ‘verbeel het dat hy | |
[pagina 64]
| |
iets was. Groot planne is beraam. 'n Park sou uitgelê word vlak voor die duine, waar, volgens tradiesie, so baie slawe begrawe lê. 'n Kommando sou opruk. 'n Geskenk sou aan “Ouma” gestuur word. Baie stoei en stry oor wat die geskenk sou wees. Eindelik besluit dat Ouma 'n mandjievol Clanwilliamse lemoene en naartjies sou kry. Maar dit moes uitgesoekte lemoene wees, en die toets was of 'n lemoen in Maskew [die magistraat en voorsitter van die reëlingskomitee - JCK] se pluishoed kon gaan ofte nie!’Ga naar eind125 Leipoldt weet nie of ‘Ouma’ wel die lemoene ontvang het nie, maar 'n bedanking het hulle tog van die goewerneur se kantoor in Kaapstad bereik. ‘Die vieringsdag’, so gaan hy voort, ‘steek nog in my herinnering. Daar was 'n optog, sports in die voormiddag, skyfskiet in die namiddag met ou Sniders en Martini's. Om eenuur die saluutskote met die ou voorlaaier-kanonnetjie in die voorplein van die tronk; in die namiddag die plegtige opening van die “park”, waar die eikeboom as gedenkboom geplant is....In die aand was daar verligting van al die huise en vuurwerk. In elke venster was Ouma se portret, omraam met kerse, en Maskew se huis, soos dit betaam het, was die allermooiste van 'n mooi ry.’Ga naar eind126 In 1887 was die jong Christie, toe pas sewe jaar oud, langdurig siek as gevolg van sinkingskoors. Eers met die tweede aanval kon sy ouers gebruik maak van die behandeling met wilgersuur wat sy oom, dr. Louis Esselen van Worcester, in Suid-Afrika ingevoer het. Teen daardie tyd het die siekte egter reeds Christie se hart skade berokken, al het 'n dokter eers op sestienjarige ouderdom aan hom gesê dat hy ‘iets met die hartkleppe verkeerd het’.Ga naar eind127 Die gevolg daarvan was dat hy as kind nooit aan sport deelgeneem het nie, al het hy baie gestap, berg geklim en later tennis gespeel. Vir die res van sy lewe moes hy altyd waak daarteen dat hy sy hart nie ooreis nie. In ‘Die gat in die kamer’ in die bundel Waar spoke speel (1927) gebruik Leipoldt hierdie gegewe. In dié verhaal is daar sprake van 'n seuntjie - met die naam Kristie! - wat ernstig siek raak en wie se hart aangetas word. Toe hy baie jare later 'n mediese ondersoek ondergaan, sê die dokter: ‘Jou kwaal was akute sinkingskoors, wat jy gekry het deur 'n kiem....Die koors het jou hartspier aangetas - nou dat jy my daaraan herinner, ek sal vanaand na jou hart luister, ofskoon ek dink dat jy goed oor die bult isGa naar eind128...Jy was...(destyds) ylhoofdig, amper van jou sinne af.’Ga naar eind129 Veertig jaar ná hierdie siekte bundel Leipoldt dus 'n verhaal waarin dié ervaring as sewejarige kind 'n nawerking het. In dieselfde verhaal kry ons ook een van die mooiste prosabeskrywings van sy Clanwilliamse veld, die wêreld van sy jeug, waarna hy later altyd sou terugreik: | |
[pagina 65]
| |
So teen einde Oktobermaand is die heuningpotjies vol stroop. Hulle groei by honderde in die bossiesveld agter ons huis, en dit is 'n pret om hulle uit te suie. Soms is hulle vol miere - rooi miere wat byt; en dan moet jy 'n bietjie versigtig wees, anders kry jy 'n mier in jou mond. Hulle staan in die sand, met die blare vlak op die grond - twee groot blare, so groen soos 'n brander van die diep see, en altyd koud teen die warm sand. Ek kon amper hulle geur ruik, selfs bo die sterk wierook van die katjiepierings - daardie dooierige wierook wat my altyd aan lykstasies laat dink. Die wind wat reguit van die bossiesveld in my kamer gewaai het, was belaai met Karo-dons en die gees van die wilde-jasmyn wat om die kraalbos gevlieg het - 'n wonder van reine waswit blomme. In verbeelding kon ek die bossiesveld sien, want dit was my speelplek, vol vriende, en altyd ryk met die volop belofte van wat nog sal kom. Die gekorste leiklippe wat daar lê, verleen skuilte vir 'n lewe so rojaal as jy êrens kan kry: die geitjie gly daaroor, en die streepmuis soek stokkies om daaronder sy nes te bou, en die duisendpoot krul hom op om bo-op in die sonskyn te slaap; die wilde-suring, blou met 'n oorkleur van robyn wat hom amper pers maak, groei in hulle groefies, en die spinnekopblom en die tingerige viooltjies sê dankie vir die skaduwee wat hulle kry; die breed-geblaarde katdorings bekrans hulle, en in die holtetjies waar die reënwater nog nie opgedroog is nie, swem klein paddavissies saam met ander waterskepseltjies wat later 'n wyer lewenskring sal kry; en tussenin, waar die sandkolle is, waarin die geel skerpioen sy skagte grawe, groei die heuningpotjies, naas-aan bobbejaanuintjies heerlik blou, en kalkoentjies bonter nog as 'n naaldekoker.’Ga naar eind130 | |
IVIn sy ‘Jeugherinneringe’ vertel Leipoldt van twee reise wat 'n belangrike verruimende invloed op hom gehad en hom aan 'n groter wêreld as Clanwilliam voorgestel het.Ga naar eind131 In 1886 gaan hy saam met sy ouers, Ka Bergh, broer en oudste suster na Kaapstad, waar sy vader die sinodesitting moes bywoon. Die verewarit met die herhaalde onverwagte nuwe vergesigte onderweg, die uitspannings langs die Olifantsrivier en die oornagtings by gasvrye mense op die plase maak 'n onvergeetlike indruk op hom. By die eerste uitspanning het hulle geurige wit jasmyn gepluk. Dit was, so | |
[pagina 66]
| |
skryf hy, ‘'n nuwe ontdekking vir my, en ek glo dat daardie reis my die eerste aangeprikkel het tot 'n belangstelling in die botanie, wat later my geliefkoosde stokperdjie sou word’.Ga naar eind132 Vir 'n sesjarige kind was die eerste aanblik van Kaapstad met sy gewoel op die strate, die perdetrems, die hoë geboue met drie verdiepings en die skepe in die hawe 'n ewe onvergeetlike ondervinding. Ses weke lank het hulle in Soutrivier in die huis van ene meneer Roubaix tuisgegaan, 'n man wat 'n geelkuifpapegaai besit het. In teenstelling tot haar onverdraagsaamheid op Clanwilliam was Christina Leipoldt in Kaapstad meer toeskietlik en het sy Ka en die kinders aangemoedig om alles te sien en in hulle op te neem, selfs ander kerke te besoek. Op 'n dag is hulle na die Athenian, die skip waarmee oupa Esselen van Europa teruggekeer het. Kaptein Bainbridge, destyds een van die bekendste gesagvoerders van die Union-Castle-redery, het moeite gedoen om hulle alles op die skip te wys. Oupa Esselen het 'n Steinberger-ryksdomeine-wyn oopgemaak waarvan elkeen 'n slukkie gekry het, 'n geskenk wat hy glo van niemand minder nie as Bismarck ontvang het. Tydens dié Kaapse verblyf het Christie die eerste keer mnr. Haylett se restaurant, die White House, besoek, waar allerlei koddige wilde diere te sien was en waar ai Sara, die lywige ou kok, hom verder in die geheime van die gastronomie ingelei het, sy ander geliefkoosde stokperdjie van later jare.Ga naar eind133 In oubaas Charles Ritter se winkel in Burgstraat kon hy by herhaalde besoeke die rakke vol speelgoed bewonder.Ga naar eind134 In 1890 was daar weer 'n sinodesitting in Kaapstad. Onderweg na Piketberg-stasie het Christie verder die geleentheid gehad om met die wonderlike natuur kennis te maak. By een uitspanning kon hy 'n kudde modderkruipervisse bestudeer wat van een pan na 'n ander getrek het. So 'n indruk het hierdie visse op hom gemaak dat dit op twee plekke in sy skeppende werk terugkeer. In Galgsalmander skryf hy: ‘In die verder-afgeleë gate, wat die oorvloed van winterwater agterlaat as die rivier vol is, woon die kriewelkarpers, wat van die een watergat na die ander trek, net soos sprinkane, oor die droë sand.’Ga naar eind135 En in sy artikel in Die Huisgenoot van 22 Maart 1929 praat Leipoldt van die kriewelkarper as die koddige sandkruiperkarper wat, ‘as sy eie watergat droog word, vandaar verhuis na 'n ander gat, al moet hy ook, om sy nuwe waterskuilte te bereik, 'n paar tree oor die stofferige sandpad spartel’. Op dié reis het hy ook die eerste keer 'n erdvarkie aanskou en gesien hoe 'n spoorwegman die olielampe, die enigste verligting in die trein, aansteek. In Kaapstad het hulle dié keer in die | |
[pagina 67]
| |
destyds bekende Stanley-huis in Drieankerbaai tuisgegaan. Elke week is tyd ingeruim vir besoeke aan die een of ander gebou van historiese of opvoedkundige belang, soos die Kasteel, vuurtorings, die Parlementsgebou, die Suid-Afrikaanse Biblioteek, die Museum. Soms is ouma Esselen as gids saam, aangesien sy sedert haar kinderjare op die landgoed Feldhausen in Claremont goed met die geskiedenis van Kaapstad vertroud was. In die White House het hy ure in ai Sara se kombuis deurgebring, want sy was danig gesteld op die jong seun wat voortdurend inligting oor haar resepte gesoek het. By geleentheid is die afgevaardigdes na die sinode met hul gesinne genooi na 'n onthaal wat die goewerneur vir hulle aangebied het. Toe Christina Leipoldt haar kom kry, is Christie skoonveld. Later vind hulle hom in 'n hoekie van die tuin, diep in gesprek oor allerlei verwikkelde aangeleenthede met die goewerneur!Ga naar eind136 Maar die verruiming van die jong Christie se gemoed was nie beperk tot sy besoeke aan Kaapstad nie. Die dikwels ongelukkige huislike omstandighede op Clanwilliam het daartoe gelei dat hy vir hom uitvlugte in die natuur en in boeke geskep het. Reeds in sy kinderjare het hy geestelik begin reis en dinge ontdek wat hom 'n lewe lank sou vergesel. |
|