Leipoldt. 'n Lewensverhaal
(1999)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1]
| |||||||||||||
I
| |||||||||||||
[pagina 3]
| |||||||||||||
Hoofstuk I
| |||||||||||||
[pagina 4]
| |||||||||||||
en aan die Kaap verander het, kon die Morawiërs hulle werk op Genadendal voortsit.Ga naar eind5 Met die merkwaardige missionêre élan in verskeie Wes-Europese lande is die negentiende eeu die sendingeeu by uitnemendheid. Die ontstaan van die Rynse Sendinggenootskap kan teruggevoer word na 'n gebedsgroep van nege mense wat vanaf Julie 1799 in Elberfeld, Duitsland, byeengekom het om die bearbeiding van mense in die sogenaamde heidenlande te bevorder. Uit hierdie byeenkomste ontstaan die Barmer Missiongesellschaft wat in September 1818 opgerig word. Aanvanklik werk hulle ten nouste saam met 'n soortgelyke genootskap in Basel, maar in Julie 1825 begin hulle met hul eie sendingseminarium in Barmen.Ga naar eind6 Reeds in 1828 was die eerste vier kandidate gereed om na arbeidsvelde uitgestuur te word, maar die bestuur in Barmen het hom nog nie sterk genoeg vir so 'n onderneming gevoel nie. In 1829 smelt die bestaande sendinggenootskappe van Keulen, Elberfeld en Barmen saam en in Mei van daardie jaar kom die Rynse Sendinggenootskap met sy hoofkantoor in die stad Barmen aan die Wupperrivier tot stand. Op die aansporing van dr. John Philip, die Britse sendeling wat in die Kaapkolonie werksaam was en juis op daardie tydstip Duitsland besoek het, word besluit om die eerste vier afgestudeerdes na die Kaap te stuur. Volgens Philip was daar nog baie werk in die kolonie en was die gematigde klimaat in Suid-Afrika vir Westerlinge veel beter as in die meeste Oosterse lande waar sendingstasies opgerig is. Daarby was daar 'n Protestantse regering aan die Kaap aan die bewind en het die Kaaps-Hollandse taal 'n verwantskap met Platduits getoon.Ga naar eind7 In ooreenstemming met Christus se opdrag was die taak van die sendeling allereers om die evangeliese boodskap oor te dra aan mense wat dit as gevolg van geografiese isolasie en kulturele verskille nog nie deelagtig was nie, maar wat nietemin na verlossing uitgereik het. Die taak van die sendeling was egter nie tot die verkondiging van die evangelie beperk nie. Deur sy ywer en sy uitlewing van eie geloofsoortuiging moes hy 'n voorbeeld stel wat navolgenswaardig was. Die dikwels nomadiese mense onder wie gearbei is, moes opgevoed word om op 'n vaste plek te woon en deur die nodige higiëne en maatskaplike orde beter lewensomstandighede vir hulself te skep. Die mense is deur die oprigting van skole ingewy in die skryf- en rekenkuns, hoewel die opleiding in die Christelike lewe en leer voorrang geniet het. En daarnaas moes die sendeling verligting van pyn en siektes bring deur as lekedokter op te tree.Ga naar eind8 | |||||||||||||
[pagina 5]
| |||||||||||||
Die Bybel, skoolboek en medisynetas was dus die daaglikse begeleidende attribute van die sendeling. Daarmee moes hy in die plek van die ‘heidense’ geloof vir die inboorling die heilsboodskap van Christus bring, sy kennis uitbrei en sy liggaamlike gebreke en swak woonomstandighede deur genesing, goeie higiëne en goed ontwerpte huise verbeter. Die negentiende-eeuse sendeling, so sê Gunther Pakendorf,Ga naar eind9 was die produk van die Victoriaanse era en van Charles Darwin. Hy het nooit getwyfel aan die heil wat die Christelike godsdiens en die Wes-Europese beskawing vir die ‘onbeskaafde’ volkere inhou nie. Teologies het dit beteken dat hy hulle moes lei tot insig in hul eie sonde, waarop verlossing en saligheid kon volg. Ideologies het dit 'n sin vir ordelikheid, netheid en spaarsaamheid meegebring. En deur selfdissipline en die aksent op plig, ywer en verantwoordelikheid het hy vanuit sy eie oortuigings en leefwyse 'n sekere werksetiek aan sy lidmate oorgedra.Ga naar eind10 Die negentiende-eeuse sendelinge is gekenmerk deur besonder sterk karaktertrekke. Hulle werk het 'n absolute oorgawe, pligsbesef en 'n volkome aflegging van die self vereis. Hierdie mense was bereid om die beskaafde Europa van destyds te verlaat, hulle op afgesonderde plekke in die kolonies te vestig en volledig en fanaties op te gaan in hul taak as missionarisse, dikwels sonder om ooit na hul geboorteland terug te keer. Hulle het hulle volkome gewy aan die diens aan hul medemens wat die allesoorheersende rigsnoer in hul lewe geword het, 'n missie wat feitlik 'n ontdaanwees van die self en 'n verbete altruïsme meegebring het. Hoe 'n mens hierdie haas onpeilbare sendingywer ook al sien, met hulle koms het Suid-Afrika 'n groep kwaliteitsburgers bygekry, 'n klas mense wat, sover dit werkywer, deugsaamheid, pligsgevoel en opregtheid betref, 'n aanwins vir enige land sou wees. Onder hulle was familiename soos Alheit, Bam, Budler, Büttner, Dönges, Esselen, Franz, Gerdener, Grosskopf, Hahn, Hartwig, Holzapfel, Leipoldt, Lückhoff, Schröder, Söhnge, Strassberger, Weber en Weich. Van hulle afstammelinge het, elk volgens eie aard en aanleg, met die jare groot bydraes tot Suid-Afrika op 'n verskeidenheid gebiede gelewer en prominente posisies in die samelewing beklee. Onder hierdie afstammelinge is ook die digter, dramaturg, prosaskrywer, medikus, natuurkundige en koskenner Christian Frederik Louis Leipoldt,Ga naar eind11 wat op 28 Desember 1880 op Worcester gebore is. | |||||||||||||
[pagina 6]
| |||||||||||||
IIDie herkoms van C. Louis Leipoldt kan aan die Leipoldt-kant, danksy die navorsing van C. Pama, tot in die sewentiende eeu teruggevoer word. Oor sommige van sy ander voorsate is die kennis egter betreklik karig. Volgens Pama is die stamvader van die Leipoldts in Suid-Afrika, Johann Gottlieb Leupold, wat sy familienaam later as Leipoldt geskryf het, op 13 Maart 1803 in Plohn in die gewese Oos-Duitsland gebore. Plohn is 'n klein dorpie in Sakse-Turinge, met Hof en die Vogtlandse hoofstad Plauen as die enigste groter stede in die onmiddellike nabyheid. Uit die doopregister 1803-1809 van die Lutherse gemeente in Plohn blyk dit dat die familienaam agtereenvolgens as Leupold, Leubold, Leidelt en Leithold gespel word.Ga naar eind12 Die eerste deel van die naam het geen etimologiese verband met leeu soos sommige nasate blykbaar meen nie, maar is 'n vervorming van Liut, die enkelvoud van mens, wat vandag nog in die meervoudige Duitse Leute voortbestaan. Die poldt- of bold-gedeelte is die oerste vorm van boud in die betekenis van dapper, braaf, kloek of gevegsmoedig. Leipoldt beteken dus niks anders nie as 'n dapper man.Ga naar eind13 Met al die verskillende spellings, veral met Leupold en Leubold, ontstaan die treiterend-tergende vraag of die Afrikaanse digter nie dalk in die verste verte aan die groot Nederlandse Negentiger, Jan Hendrik Leopold, verwant sou kon wees nie. Die voorvaders van die Nederlandse digter is egter die Duitse stamheer Johann Joachim Leopold uit Hamburg (ongeveer tussen 1758 en 1776), wie se seun Jan Hindriks hom in Groningen gevestig het.Ga naar eind14 Dit lyk dus onwaarskynlik dat daar 'n familieverband tussen Leopold en Leipoldt bestaan. Ongelukkig hou die kerkregister van Plohn vroeg in die sewentiende eeu op; die voorafgaande boek het in die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) verlore geraak. Uit die oorgelewerde bron is die vroegste opgetekende lid van die familie Paulus Leithold, wewer in Plohn, wat met Anna Simon uit Waldkirchen, 'n buurdorpie van Plohn, in die huwelik tree. Sy seun Michael (1660-1738), wat sy van later Leidelt spel, was plaaslike regter in Plohn en getroud met Rosina Bendschubner uit Röthenbach, nouliks twee kilometer suid van Plohn. Op sy beurt was hy die vader van Hans (1702-1766), wat ook regter geword het en later as Hans Leubold bekend was. Soos sy vader trou hy met 'n nooi uit Röthenbach: Anna Rosina Winkelmann. Sy seun, Gottlieb Leubold (1731-1798), eweneens regter in Plohn, trou met Maria Günthel van Röthenbach. Hy was die vader van | |||||||||||||
[pagina 7]
| |||||||||||||
[pagina 8]
| |||||||||||||
Gottlieb Leupold (1767-1834), wat die b in sy familienaam in 'n p verander het. Hy was ook regter in Plohn en trou in Wildenau, 'n ander nabygeleë dorpie, met Johanna Rosina Petermann. Hulle was die ouers van Johann Gottlieb Leupold, stamvader van die Leipoldts in Suid-Afrika. Van die Petermann-voorgeslagte is verder niks bekend nie. In Plohn staan die ouerhuis steeds soos dit by die stamvader se geboorte op 13 Maart 1803 daar uitgesien het. 'n Gedenkplaat ter ere van die sendeling is in die plaaslike kerk aangebring.Ga naar eind15 Johann Gottlieb was die tweede kind van die gesin en sy ouers word deur J.A. Heese as ‘welgestelde’ mense beskryf.Ga naar eind16 'n Mens wil dit ook geredelik aanneem, aangesien sy vader, Gottlieb, soos etlike van sy voorsate, in die regsberoep gestaan het en klaarblyklik vooraanstaande inwoners van Plohn was, selfs al vermoed jy dat die regsplegende posisie op 'n klein dorpie soos Plohn baie beskeie was. Voor sy vertrek na Suid-Afrika was Johann Gottlieb as leerlingskoenmaker in diens by 'n meesterskoenmaker met die naam Rahlenbeck, iemand wat noue verbintenisse met die Rynse Sendinggenootskap gehad het. Met sy aankoms by Rahlenbeck, so lei 'n mens af uit 'n anonieme artikel in De Kerkbode van 16 Julie 1924, was Johann Gottlieb baie bly dat hy werk kon kry. In die loop van die dag ‘vertelde hij dan aan Rahlenbeck, terwijl hij vlijtig het leer bewerkte, dat hij in het jaar 1803 als zoon van arme ouders was geboren, dat hij nog 6 zusters en broeders te huis had, en dat hij weggegaan was, om de wereld te zien en nog meer kennis op te doen in zijn ambacht’.Ga naar eind17 Oor die vraag of die stamvader uit 'n welgestelde of arm gesin gekom het, bestaan daar dus teenstrydige inligting. Dat hy as skoenmaker opgelei is, verklaar egter die oprigting van 'n skoenmakery as een van die prominente nywerhede op sy sendingstasie kort nadat hy as missionaris in Suid-Afrika begin het. 'n Ander mededeling in die berig in De Kerkbode is egter ewe merkwaardig en verraai 'n element van die stamvader se karakter wat in sy digterkleinseun teruggevind kan word. Twee dae ná sy aankoms kon die jong Leipoldt dit nie meer by die streng gelowige Rahlenbecks in die huis uithou nie en het hy met sy tasse reisvaardig in die voorhuis gestaan, gereed om te vertrek. Op die vraag waarom hy nie langer onder hulle dak wou bly nie, het hy geantwoord: ‘Meneer, ik kan het bidden in uw huis niet uithouden!’ Sy gasheer het geantwoord: ‘O, gij arme man! Kijk mij toch eens recht in de oogen! Beloof mij, net nog sommige dagen bij ons te blijven, en als het u dan niet bevalt bij ons, dan kunt gij maar heengaan in de naam | |||||||||||||
[pagina 9]
| |||||||||||||
van de Heer.’Ga naar eind18 Die stamvader het onderneem om nog agt dae te bly. Spoedig, so gaan die artikel in De Kerkbode voort, het hy besef dat hy by ware Christene inwoon, dat hy hom nie teen die liefde van sy huisgenote kon verset nie en hom ook nie langer van hulle geloofsoortuiging kon distansieer nie. Hy het tot bekering gekom en nog 'n paar jaar by die Rahlenbecks ingewoon. In 1825 het hy hom as student by die Barmense instituut as kandidaat-sendeling laat inskryf, maar ook 'n tyd lank in Basel gestudeer.Ga naar eind19 Ná voltooiing van sy kursus word Johann Gottlieb Leipoldt op 30 Junie 1829 tot sendeling georden. Aanvanklik was dit, volgens 'n mededeling van C. Louis Leipoldt in Uit my Oosterse dagboek,Ga naar eind20 die plan dat hy onder die Chinese sou gaan werk, maar daarvan het niks gekom nie. Saam met Daniel Paulus Lückhoff, Theobald von WurmbGa naar eind21 en Gustav Adolf Zahn - die eerste vier afgestudeerde Rynse sendelinge - kom hy met die Charles Kerr in Kaapstad aan. Na aanvanklike verkenningstogte en besoeke aan die sendingstasies op Mamre en Genadendal het Lückhoff besluit om op Stellenbosch die werk van die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap oor te neem, terwyl Zahn hom saam met eerwaarde Arie Vos op Tulbagh gevestig het. Von Wurmb het 'n reis na die Sederberge onderneem en teruggekeer met gloeiende indrukke en die nuus dat die plaas Rietmond, sewentig kilometer suidoos van Clanwilliam in 'n pragtige vallei met standhoudende water uit die Tra-tra-rivier,Ga naar eind22 te koop is. Leipoldt het gaan kyk en onmiddellik besluit dat dit die plek is waar hy 'n sendingstasie wil vestig.Ga naar eind23 Met die ossewa het die reis daarheen sowat twee weke geduur, maar op ses en twintigjarige leeftyd was hy jonk en lus vir die uitdaging wat so 'n onderneming van hom geverg het. Sonder toestemming uit Barmen koop hulle die plaas van sowat 3 000 morge vir 'n bedrag van £ 3 000.Ga naar eind24 Op 4 Januarie 1830 begin Leipoldt op Rietmond met sy lewenswerk: die oprigting en uitbouing van die eerste Rynse sendingstasie in Suid-Afrika. Weldra word Rietmond (en die aangrensende plaas Ezelsbank wat later aangekoop is) herdoop tot Wupperthal,Ga naar eind25 ter herinnering aan die Wuppervallei in Duitsland waar die Rynse Sendinggenootskap sy ontstaan gehad het. Aanvanklik moes die sendelinge self die akkers skoonmaak, landerye aanlê en die eerste geboue, waaronder 'n tydelike kerkgeboutjie, oprig. Baie gou, nadat 'n skool, leerlooiery, skoenmakery, watermeule en 'n smidswinkel gevestig was, word 'n begin gemaak met die bou van 'n strooidakkerk met 'n Kaaps-Hollandse gewel. Dit is in 1835 in ge- | |||||||||||||
[pagina 10]
| |||||||||||||
bruik geneem. Aan die begin was daar net sewe plaaslike inwoners wat met die werk kon help. Binne ses weke het hulle egter tot honderd aangegroei.Ga naar eind26 Weldra het die plaas verander in 'n florerende sendingstasie, en binne twintig jaar was Wupperthal finansieel onafhanklik. Leipoldt en sy assistente het uitmuntend daarin geslaag om die Christelike beginsels van deug en arbeidsaamheid met ekonomiese realiteite te versoen en met die klein nywerhede in 'n inkomste te voorsien. Na twee jaar het Von Wurmb die stasie verlaat. Vir die leerlooiery, die skoenfabriek en die boerdery het Leipoldt hulp uit Duitsland verkry, terwyl die onderwys in 1859 aan P. Sterrenberg oorgedra is. In die twee en veertig jaar van sy bediening het Leipoldt met streng reëls vir 'n geordende samelewing gesorg. Op Sondae moes almal die dienste bywoon, alle bygeloof en uiterlike sondes moes afgelê word, die gebruik van sterk drank is ten strengste verbied en elke inwoner is verplig om sy huis, diere, tuin en landerye goed te versorg.Ga naar eind27 'n Aanduiding van die sorg wat Leipoldt aan die handhawing van sy neergelegde reëls bestee het, sien 'n mens in sy dagboek waarin die kleinste besonderheid aangeteken is. Onder die datum 2 Oktober 1866 staan byvoorbeeld, klaarblyklik as afkondigings by die erediens, die volgende ingeskryf:
In die skool het Leipoldt naas die noodsaaklike skryf- en rekenvermoëns daagliks die Christelike leer en leefwyse aan sy leerlinge voorgehou. So, byvoorbeeld, is 'n gesonde en deugdelike lewe van vroeg af by hulle ingeprent aan die hand van 'n lang, anonieme gedigGa naar eind29 wat hulle van buite moes leer. Die inset daarvan lui as volg: | |||||||||||||
[pagina 11]
| |||||||||||||
Als ik van slaap verkwikt ontwaak
Is 't dankgebed mijn eerste zaak.
Ik danke God, wijl Hij mij geeft
Wat lijf of ziel van noode heeft.
Ik bid tot God, want Hij is goed
Dat voor het kwaad Hij mij behoed.
Dan wasch ik mij en trek mij aan
En maak mij klaar naar school te gaan.
Ik let wel op mijn les, ik leer.
Ik praat niet veel, maar hoor wat meer.
Mijn Heiland was een zoete kind,
O, mogt ik zijn als Hij gezind!
Van buiten schoon, van binnen rein,
Zo Jezus was, zo wil ik zijn.
'n Geskel, stryery en handtastelikheid moet hulle so ver as moontlik vermy: Het schelden past, voor kind'ren niet,
Wijl Gods gebod ons dat verbiedt;
Ver zij van mij Twist, Nijd en Haat,
En vechterij, want dat is kwaad;
Wie bijt en slaat, heeft straf verdiend;
Wie vreedzaam is, wordt steeds bemind.
Ik knijp geen kind, noch stoot en schop,
Maar valt een kind, ik help hem op.
Wanneer die kind in die skool is, moet hy ophou met speel en eet, wakker wees en veral stilsit: Het spelen staat een kind zeer wel.
Maar bij de les past niet het spel.
Het eten is ons allen nood,
Maar in de school eet men geen brood.
Mij lust veel vrucht, maar als ik leer,
Smaakt appel niet, noch druif, noch peer.
De slaap bij nacht verkwikt den geest,
Maar niemand slaapt, wanneer hij leest.
| |||||||||||||
[pagina 12]
| |||||||||||||
Het spreken is op zich niet slecht,
Maar somtijds is het zwijgen recht.
Ik loop wel rond, en dat is goed,
Maar als ik lees, roer ik geen voet.
Ik vouw de hand en zit zo zoet
En leer mijn les gelijk ik moet.
Hierdie lang stuk lewensetiek op rym adem volledig die gees van die negentiende-eeuse Duitse piëtisme met sy klem op vroomheid, ordelikheid, arbeidsaamheid en gehoorsaamheid. 'n Mens kan egter die vraag stel of so 'n vreugdelose onderwerping aan uiterlike reëls nie dempend op 'n kind se persoonlikheid kon inwerk en van hom 'n onnatuurlike wese kon maak nie. En 'n mens wonder of iets van hierdie gedragsreëls nie deur die stamvader se kinders aan hulle kinders oorgedra is nie. Was dit miskien een van die aanleidings tot die digter-nasaat se latere aweregsheid en opstandigheid teen die vormgodsdiens? Met die jare is Johann Gottlieb Leipoldt goed bygestaan deur Duitse vakmanne soos Christian Häfele en Friedrich Fismer, terwyl sendelinge soos J.F. Budler en J.M. Dönges hom in die bediening gehelp het. Op 15 September 1835 is hy in die Lutherse Kerk in Kaapstad getroud met Carolina Jacoba Maria Lind. Sy was 'n dogter van Christian Michiel Lind, sekretaris van die Hof van Justisie en later magistraat van Simonstad.Ga naar eind30 Hoewel sy, soos haar vader, in Kaapstad gebore is, stam die Linds uit die stad Wisbey in Swede. Haar oupa was getroud met 'n nooi Jurgens. Die stamouers se oudste seun, Johann Gottlieb Christian, wat soos sy vader sy opleiding in Barmen ontvang het, was van 1868 tot 1874 hulpprediker op Wupperthal. Hulle vierde seun, Christian Friedrich, was die vader van die digter.Ga naar eind31 Johann Gottlieb Leipoldt is op 5 Januarie 1872 oorlede en op Wupperthal begrawe. Sy vrou, wat hom getrou bygestaan het en behulpsaam was met die maak van leerbroeke en -baadjies,Ga naar eind32 sterf op 30 Januarie 1885. Aangesien die digter Leipoldt, tot sy vierde jaar op Worcester woonagtig en dus ver van Wupperthal, net oor die vier jaar oud was toe sy ouma Leipoldt oorlede is, kon hy slegs 'n baie vae herinnering aan haar gehad het. Sy grootvader Leipoldt het hy nooit geken nie, maar die pioniersgees, die oorgawe en drif van die sendeling, die groot pligsbesef en iets van die vroeë godsdienstige afvalligheid van die stigter van Wupperthal was in sy samestelling aanwesig. | |||||||||||||
[pagina 13]
| |||||||||||||
IIIGaan 'n mens die kwartierstaat van C. Louis Leipoldt en lemmas oor sy ander voorsate in die Suid-Afrikaanse Biografiese WoordeboekGa naar eind33 na, is dit opvallend hoe karig die besonderhede oor die herkoms van sy grootvader aan moederskant is. Al wat ons weet, is dat sy oupa, Louis François (Franz) Esselen, op 15 Maart 1817 in Hofgeismar, Duitsland, gebore is en dat hy die seun was van Nicolaus Esselen en sy vrou Wilhelmine Kersting. Van hierdie Kerstings het hulle later in Amsterdam gevestig en eers laat in die negentiende eeu, maar dan met die familienaam Kesting, na Suid-Afrika geëmigreer. Dit is dus nie onmoontlik nie dat daar 'n verre verwantskap bestaan tussen Leipoldt en die haikoe-digter Deon Kesting wat saam met sy vrou, Hélène, in 1979 die bundel Klein akkoord gepubliseer het. By gebrek aan die nodige genealogiese besonderhede bly so 'n moontlike verwantskap egter blote gissing. Louis Esselen het, soos grootvader Leipoldt, sy opleiding in Barmen ontvang. In 1840 word hy na Suid-Afrika gestuur en staan hy aanvanklik as hulpprediker eerwaarde D.P. Lückhoff op Stellenbosch by. Kort daarna word hy egter gestuur na Sarepta, tans 'n deel van Kuilsrivier, wat hy tot 'n onafhanklike sendingstasie uitbou. In Maart 1848 word hy oorgeplaas na die sendinggemeente op Worcester, waar hy as gevolg van probleme tussen die vorige leraars met onmin in die gemeente te kampe het. Met sy mensekennis en sterk persoonlikheid slaag hy egter gou daarin om hierdie probleme te bowe te kom. Met Esselen se koms na dié gemeente, waar hy altesaam ses en veertig jaar werksaam sou wees, begin 'n nuwe tydvak in die sendinggeskiedenis van Worcester. Esselen was 'n man van imponerende gestalte en besonder energiek. Hy kon die stempel van sy persoonlikheid op die hele gemeenskap afdruk en met sy enorme energie berge versit. Met sy welsynwerk en ander aktiwiteite ontwikkel Worcester, soos J.A. Heese dit stel, tot 'n ‘modelsendinggemeente’Ga naar eind34 en word hy deur die Rynse Sendinggenootskap as superintendent aangestel. Esselen het veral aan die onderwys besondere aandag gegee. Toe hy uit Stellenbosch weg is, het hy die negentienjarige Cornelia February, wat haar hele lewe toegewyd in die onderwys sou staan, met hom saamgeneem om met die opvoeding van die heel kleintjies te help. In 1858 het hy 'n nuwe skool in gebruik geneem en in 1890 nog, kort voor sy dood, laat hy die ou ‘oefeninghuis’ afbreek en deur 'n nuwe skoolgebou vir die | |||||||||||||
[pagina 14]
| |||||||||||||
laer standerds vervang. Met sy merkwaardige persoonlikheid kon hy in sy gemeenskap 'n groot invloed as onderwyser en opvoedkundige uitoefen. Hiervan getuig sy digter-nasaat in sy onvoltooide outobiografie. ‘Terwyl hy teenoor sy volwasse tydgenote soms streng en kortaf was,’ skryf C. Louis Leipoldt, ‘het hy hom in sy omgang met sy kleinkinders altyd met 'n ouderwetse hoflikheid gedra en hulle behandel asof hulle sy gelykes was. Hy was 'n groot pedagoog, gekonfyt in die skool van Herbart, en het deur aanhaling en voorbeeld in alles vir ons iets gelewer wat ons belangstelling geboei het. My eerste proefneming - die saai van 'n paar rogkorrels tussen watte op 'n stukkie gepolyste marmer - is onder sy toesig onderneem, en ek onthou my verbasing en hartstogtelike tevredenheid toe ek ná 'n paar dae die groen rogblaadjies sien opskiet en Oupa, met 'n vergrootglas, my wys waar die tingerige worteltjies 'n houvas in die klip gekry het.’Ga naar eind35 Hierdie besondere belangstelling in kinders en sy by tye kortaf houding teenoor volwassenes sou C. Louis Leipoldt van hom erf. Hoewel Esselen sy gemeente met 'n streng tug gelei het, was hy bekend vir die ‘ontfermende vriendelikheid’Ga naar eind36 waarmee hy almal behandel het wat in hul nood na hom gekom het. Sy gemeente het dan ook voortdurend uitgebrei. Aangesien die ou kapel te klein was, begin hy in 1851 met die bou van 'n nuwe kerk met 'n imposante toring wat in 1853 ingewy is. Reeds in 1861 moes die kerk egter met twee vleuels vir die groeiende gemeente vergroot word. Toe 'n groep Duitse immigrante hulle in 1870 op Worcester kom vestig het, is hy gevra om ook hulle geestelike bediening te behartig. Van 1879 tot 1884 het hy in die gemeente die hulp gehad van sy skoonseun, Christian Friedrich Leipoldt, vader van die digter. Met sy afnemende kragte het hy in April 1891 Johann Leipoldt, broer van Christian en hulpprediker op Wupperthal, beroep om hom by te staan. Op Woensdag, 28 Junie 1893, is hy in die ouderdom van ses en sewentig jaar op Worcester oorlede en die Saterdag daarna begrawe. Volgens die plaaslike koerant was dit met 4 000 aanwesiges die grootste begrafnis in menseheugenis, ongeëwenaard in die geskiedenis van Worcester.Ga naar eind37 Louis Esselen is op 18 Februarie 1845 in die St. Stephens-Kerk in Kaapstad met Catherina Wilhelmina KnobelGa naar eind38 getroud. Hulle het nege kinders gehad. Daniël Johannes Esselen (1851-1919) was later een van die stigters van die Nieuwe Republiek in Natal en die vader van Louis Esselen (1879-1945), wat as hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Party en later die Verenigde Party 'n belangrike rol agter die skerms in die Suid-Afrikaanse politiek van sy tyd gespeel het. Ewald Esselen (1858-1918) het geneeskunde in | |||||||||||||
[pagina 15]
| |||||||||||||
Edinburg gestudeer, maar is daarna na Londen om hom as regsgeleerde te bekwaam. In Pretoria was hy aanvanklik strafregter, maar hy bedank om as advokaat te praktiseer. Onder Paul Kruger se bewind tree hy toe tot die politiek. Ná die Anglo-Boereoorlog is hy weer advokaat, maar beland dan opnuut in die politiek as lid van Het Volk-party. Waarskynlik sou Ewald Esselen, ongetwyfeld 'n man met besondere vermoëns, dit nog verder gebring het, maar hy het aan 'n ernstige drankprobleem gely. C. Louis Leipoldt het 'n groot bewondering vir hierdie oom van hom gehad. In 'n reeks van drie artikels in Die HuisgenootGa naar eind39 skryf hy met groot waardering oor Ewald Esselen en kry 'n mens die indruk dat hy sekere karaktertrekke van sy oom in homself teruggevind of doelbewus nagevolg het. Ewald Esselen was geneig, so skryf Leipoldt, om selfs op sy oudag ‘sy eie mening oor sekere lewensopvattinge rondborstig uit te spreek sonder om eers te vra of hy daardeur iemand anders kon seermaak, en hy het daardeur soms die indruk verwek dat hy aanstootlik dogmaties en pouslik-eiegeregtig wou optree. In werklikheid was dit nie die geval nie, want hy was verdraagsaam van aard, en ofskoon hy hardnekkig aan sy eie oortuigings vasgeklem het, het hy altyd aan 'n ander persoon dieselfde reg toegeken om 'n eie mening te besit.’ En van vroeg af was Ewald Esselen, volgens Leipoldt, geneig om liberaal, vrygewig en simpatiek op te tree. ‘Die sendinggemeente waarin hy opgegroei het,’ skryf Leipoldt, ‘het noodwendig sy liberalisme sodanig versterk dat hy later deur baie van sy tydgenote en party vriende aangesien is as iemand wat hierdie sy van sy geleerdheid ontwikkel het tot 'n stadium wat in sekere opsigte buite voeling was met die algemene opvattings van die meerderheid vir wie hy kant gekies het.’ Dit is opvallend dat Leipoldt hierdie ‘liberalisme’ na Ewald Esselen se sendingagtergrond terugvoer, iets wat Leipoldt in sy eie geval later ook sou doen. En net soos Esselen is Leipoldt verwyt dat hy met ‘sy’ mense voeling verloor het. | |||||||||||||
IVCatherina Wilhelmina Knobel, Leipoldt se ouma aan moederskant, was van adellike afkoms en 'n kleindogter van baron Alexander Wilhelm Ludwig Friedrich von Buchenröder,Ga naar eind40 volgens C. Pama ‘one of those colourful personalities who make South African history so interesting’.Ga naar eind41 Van hierdie voorsaat het die digter geweet, want hy het J.B. Knobel se boek | |||||||||||||
[pagina 16]
| |||||||||||||
The Knobel family and its relationships as far as known to me (1894) in sy besit gehad en dit ook by geleentheid in die veertigerjare aan M.P.O. Burgers, wat in daardie jare oor Leipoldt navorsing gedoen het, ter insae gegee.Ga naar eind42 Dit is moontlik dat die digter se vader en die digter self met hul voornaam, Friedrich of Frederik, nie na hul voorsaat Johan Frederik Heydenreich heet nie, maar na Von Buchenröder, wie se vierde voornaam ook Friedrich was. Knobel beweer in sy boek die baron kom uit 'n ou ‘freiherrliche’ familie, volgens een bron uit Sakse en volgens 'n ander uit Frankryk, maar Heese sêGa naar eind43 dat hy in Hesse, Duitsland, gebore is. Die baron is op 7 Oktober 1758 gebore en was aanvanklik lid van 'n Pruisiese regiment. Daarna het hy as majoor in die Verenigde Nederlandse leër diens gedoen. Wanneer die Napoleontiese oorloë 'n einde maak aan die Verenigde Nederlande, werk hy as immigrasie-agent vir die Nederlandse regering en verkry hy 'n som geld van die Nederlandse staatsman Gijsbert Karel van Hogendorp om van die verarmde Nederlandse bevolking in die kolonies, in die besonder aan die Kaap die Goeie Hoop, gevestig te kry. Met die oorname van die Bataafse Bewind aan die Kaap vertrek Von Buchenröder in Desember 1802 na Suid-Afrika. Na 'n reis van vyf maande kom hy in Simonstad aan, vergesel van sy vrou, drie kinders en 'n gevolg van nie minder nie as vier en dertig. Sy vrou, Friederike Charlotte Louise Johannette Meyer, was vroeër 'n hofdame van keiserin Maria Theresia van Oostenryk. Onder sy drie kinders was sy enigste dogter, Maria Therese Wilhelmina Eleonora, gebore op 24 November 1786, wat gedeeltelik na die Oostenrykse keiserin vernoem is. Von Buchenröder se plan was om gebiede naby Plettenbergbaai en Algoabaai as kolonies in te rig. Reeds tydens die seereis het hy egter moeilikheid veroorsaak, in so 'n mate dat 'n mens tot die gevolgtrekking moet kom dat hy 'n verskriklike humeur gehad het en hoogs ongebalanseerd was. Hy het met die kaptein van die boot in 'n woordewisseling betrokke geraak, sy personeel het gekla oor sy hooghartige houding en die feit dat hy vir hom van hul rantsoen toeëien,Ga naar eind44 en sy huweliksverhouding was só beroerd dat sy vrou as gevolg van mishandeling al by een van die hawens onderweg wou omdraai. Aan die Kaap het hy uitgevaar teen kommissaris-generaal Abraham de Mist, terwyl hy ook met generaal J.W. Janssens, ná die goewerneur se terugkeer van 'n landsreis, begin rusie maak het. ‘In fact,’ skryf Pama, ‘there was hardly anybody in the Colony with whom he did not quarrel at one time or another.... He was especially dismayed to | |||||||||||||
[pagina 17]
| |||||||||||||
find that few colonists had much faith in the welfare of the Colony, let alone in plans hatched in Holland for wholesale colonization; and that intrigues were rife among all classes. He then developed a mistrust of everybody in authority, decided not to rely on any official information and would have preferred to make short excursions along the coast to see for himself. The news that war had broken out again in Europe, however, made him fear for the safety of his goods while on such a journey.... He, therefore, had no choice but to continue his endless discussions with the authorities, which in the end proved quite fruitless and left everybody exasperated. Janssens and De Mist came to consider him a great nuisance and - probably just to get him out of their way - finally suggested what he wanted to do all along: to go personally on a journey of inspection along the South East coast as far as Plettenberg Bay to see for himself whether there were any free government lands suited for his purpose.’Ga naar eind45 Met 'n koets uit Europa en 'n span van twaalf osse, tesame met 'n uitgebreide gevolg, het Von Buchenröder sy reis begin. Aan moed en deursettingsvermoë het dit hom nie ontbreek nie. ‘It must have been a curious sight’, gaan Pama voort, ‘to see this baronial party in their imported coach setting out from Cape Town and travelling through the Overberg and the wilderness beyond. In fact nothing like this had ever been seen in the Cape. He proved his point: one could indeed travel the European aristocratic way in Africa, and where an ordinary oxwagon could go the coach could go as well.’Ga naar eind46 Terug in Kaapstad het hy aan Janssens gerapporteer dat kolonies met immigrante uit Nederland op Plettenbergbaai en Mosselbaai ontwikkel moet word. Teen hierdie tyd het die baron se vrou reeds om 'n egskeiding aansoek gedoen op grond van liggaamlike leed en haar man se weiering om haar te onderhou. Hulle huwelik is in 1803 finaal ontbind. Sy seun Friedrich het in 1804 die Raad van Justisie om beskerming gevra teen sy vader se wreedheid, terwyl die baron die owerheid versoek het om die seun in die tronk te gooi. Uit die gevangenis het Friedrich op sy beurt die klag ingedien dat sy vader die skeiding van Nederland en Oos-Indië beplan.Ga naar eind47 Die voortdurende probleme en die onmoontlike gedrag waaraan Von Buchenröder hom opnuut skuldig gemaak het, was nou vir Janssens genoeg. Op 15 Augustus 1804 het die baron 'n resolusie van die goewerneur en die Raad van Justisie ontvang wat in werklikheid 'n uitsettingsbevel was. Met 'n ompad op 'n Amerikaanse boot moes hy via Suid-Carolina na Nederland terugkeer. Daar dien hy 'n klag in teen die Kaapse owerheid | |||||||||||||
[pagina 18]
| |||||||||||||
en publiseer hy twee boeke oor sy ervarings aan die Kaap. In Reize in de binnenlanden van Zuid-Afrika gedaan in de jare 1803 (1806) sit hy sy planne uiteen vir die intensiewe ontwikkeling van die kolonie. Hy sien die San, soos Heese dit stel, ‘as inherent regverdig en vreedsaam en betreur die feit dat gewapende strooptogte op hulle uitgevoer word’.Ga naar eind48 In sy tweede boek, Beknopt berigt nopens de volksplanting de Kaap de Goede Hoop (ook 1806), spreek hy kritiek uit op die koloniale regering se ekonomiese beleid en beskuldig hy die goewerneur en sy vriende dat hulle ten koste van die Bataafse Bewind besig is om hul eie sak te vul. Volgens die historikus G.M. Theal is hierdie beskuldiging verregaande bespiegelings.Ga naar eind49 Hy meen Von Buchenröder was 'n hardkoppige idealis en teoretikus, terwyl Janssens, 'n eerlike en vérsiende man, besef het dat Von Buchenröder se planne nie uitgevoer kon word nie.Ga naar eind50 Wat 'n mens interesseer, is hoe die boeke van hierdie eerste bekende skrywer-voorsaat van C. Louis Leipoldt daar uitsien. Die Reize is 'n besonder uitvoerige en sistematiese reisbeskrywing met baie besonderhede oor die roete, al bevat dit, in vergelyking met die agtiende-eeuse reisigers se verslae, weinig wat nuut is. Die Beknopt berigt is 'n mindere werk en ontaard in 'n selfverdedigende weerlegging van wat die skrywer as foutiewe inligting van J.A. de Mist beskou. Opvallend is hoe dikwels Von Buchenröder lang uitswaaiende sinne met allerlei bysinne en kwalifiserings gebruik. In Reize sê hy byvoorbeeld dat hy met die oog op kolonisering ook die Nederlandse besittings in Indië oorweeg het. ‘Daar het mij echter toescheen,’ gaan hy voort, ‘dat onder alle de Bezittingen dezer Republiek in andere Werelddeelen, naauwelijks een Kolonie beter geschikt zoude zijn voor gewigtige verbeteringen dan de Kaap de Goede Hoop, zoo wel uit hoofde van derzelver gezond, en voor de Europeanen zoo gunstig klimaat, als van de bijna onmeetbare uitgestrektheid van thans onbebouwde, edoch voor de cultuur van kostelijke voortbrengselen zeer geschikte landerijen; gelijk mede wegens hare voordeelige ligging tot den Oostindischen handel; ja dat deze Kolonie zelfs tot de voornaamste Stapelplaats van koopgoederen tusschen Europa en de beide Indiën geschikt zoude zijn; zoo heb ik...’Ga naar eind51 En so gaan hierdie sin, telkens met kommas en kommapunte as markeerders, nog drie en twintig reëls voort! 'n Mens kan sê dat Von Buchenröder die tipiese amptenarestyl van sy eeu en beroep beoefen, maar 'n mens moet nie vergeet dat sy digter-nasaat in Suid-Afrika hom ook dikwels in sy beskrywings, en dan nog in die versvorm, aan dergelike lang uitweidings skuldig gemaak het nie! | |||||||||||||
[pagina 19]
| |||||||||||||
Met die baron se vertrek uit Suid-Afrika het sy gewese vrou, haar dogter en een seun, Friedrich of Fritz, in die Kaap agtergebly. Friedrich het iets van sy vader se skryftalent gehad en later die joernaal van Simon van der Stel se beroemde reis na Namakwaland vir die South African Quarterly in Engels vertaal.Ga naar eind52 Aangesien hy nooit getroud was nie, het die manlike lyn van die Von Buchenröders in Suid-Afrika met hom uitgesterf.Ga naar eind53 Dit was altyd die barones se wens om na Duitsland terug te keer, maar met die Napoleontiese oorloë en die Britse oorname van die Kaap was dit vir haar onmoontlik om dit deur te voer, veral ook omdat sy finansieel beroerd daaraan toe was. Tog het sy haar ingebore aristokrasie behou. ‘Mama’, het haar dogter gesê, ‘was a very proud and particular old lady, even up to her death. She never allowed us to go out without long gloves.’Ga naar eind54 Dat die barones in sulke haglike omstandighede hoegenaamd kon oorleef, is te danke aan die steun wat sy van haar skoonseun ontvang het. Hy was Johann Balthazar Christian Knobel, gebore op 15 Februarie 1781 by Schwarzenfels in Duitsland, seun van Franz Helfrich Knobel (1741-1810) van Kassel, direkteur van die indigo-fabriek naby Schwarzenfels. Wanneer C. Louis Leipoldt in sy roman Stormwrack skryf dat die predikant Uhlmann, 'n karakter wat duidelik sy vader as model het, getroud is met die dogter van 'n sendeling, ‘the descendant on the one side of a Silesian baron, and on the other of a French indigo-manufacturer’,Ga naar eind55 het hy Von Buchenröder en Franz Knobel in gedagte. Johann Knobel was 'n student in die staatswetenskap en is aangestel as sekretaris van die Rentkammer in Hanau. Omdat hy toe reeds verlief geraak het op die sestienjarige Maria Therese, die Von Buchenröders se dogter, wou hy graag met haar trou. Vanweë haar jeug wou die ouers nie toestemming gee nie, maar die baron was bereid om hom as lid van sy gevolg na die Kaap saam te neem. Dit kan ook wees dat die baron darem gevoel het dat iemand uit die burgerstand nie waardig genoeg vir sy dogter was nie, al het die moontlikheid bestaan dat Knobel 'n adellike titel kon erf.Ga naar eind56 Dit is opvallend dat die adellike hoogmoed en standverskil lank in die Von Buchenröder-Knobel-nasate bly leef het en onder meer sou meebring dat die kinders van die nasate dikwels eenkant gehou en opgelei is. In sy boek oor die familiegeskiedenis beskryf J.B. Knobel sy ouers in sy tyd as kind as ‘very particular with whom the children were allowed to play, and many a punishment I received for playing out of my class’.Ga naar eind57 Dieselfde sou later met die digter-nasaat en sy broer en susters gebeur. Toe Von Buchenröder terug is na Europa, het Johann Knobel agterge- | |||||||||||||
[pagina 20]
| |||||||||||||
bly om by sy geliefde te wees. Aanvanklik was hy sekretaris van die landdros op Uitenhage, later, ná sy huwelik met Maria Therese in 1809, landmeter in die Oostelike Provinsie. Toe eerwaarde C.I. Latrobe in 1815 op Uitenhage op besoek was, het hy tot sy vreugde gevind dat Knobel goed klavier en fluit kon speel; saam het hulle duette van Mozart en Haydn uitgevoer.Ga naar eind58 In 1819 het hulle in Kaapstad gaan woon, maar teen dié tyd was Maria Therese se gesondheid na elf babas nie meer na wens nie. Sy is op 31 Maart 1827 in Kaapstad oorlede; haar moeder iets meer as vier jaar later op 11 Junie 1831. Hulle lê langs mekaar begrawe in twee groot, taamlik somber grafte in 'n Nederlandse oondvorm op die hoek van Feldhausen- en Bishopleaweg in Claremont, Kaapstad, naby die Grove Primêre Skool, oorspronklik deel van die Veldhuyzen-landgoed. Die grond, met 'n serwituut daarop, is vandag in besit van die Anglikaanse bisdom van Kaapstad. Maria Therese en Johann Knobel se agtste kind, Catherina Wilhelmina, gebore op 6 September 1821 in Kaapstad en oorlede in 1905, was die vrou van eerwaarde Louis Esselen. Hul dogter Anna Meta Christina was die moeder van C. Louis Leipoldt. Op dié wyse vloei daar dus Knobel-bloed in die digter. Wanneer C. Louis Leipoldt egter in die bylaag tot 'n brief van 15 Augustus 1938 aan M.P.O. Burgers skryf dat hy deur die Knobels ook verwant is aan die Engelse familie Bedford na wie die Bedford-distrik vernoem is en dat daar dus ook Engelse bloed in hom vloei, slaan hy die bal heeltemal mis en lei 'n mens af dat hy die boek van Knobel oor die familiegeskiedenis, wat in sy besit was, maar taamlik oppervlakkig gelees het. Maria Therese en Johann se negende kind, Johann Ludwig, is getroud met Clara J.M. Bedford. Hulle was die ouers van Wilhelm Friedrich Knobel, wie se seun Gideon Jacobus Volksraadslid was vir Bethlehem en die vader van die digter Wilhelm Friedrich Knobel (1935-1974). In hierdie Knobel-tak was daar wel Engelse bloed, nie in Leipoldt nie. Wilhelm Knobel se vader en C. Louis Leipoldt was dus kleinneefs en Wilhelm 'n agterkleinneef van Leipoldt.Ga naar eind59 Met 'n voorsaat wat twee verslae oor sy Suid-Afrikaanse ervarings geskryf het en met 'n nakomende digter in die verwante familielyn, wil dit dus vir 'n mens voorkom of Leipoldt se skryftalent na Von Buchenröder teruggevoer sou kon word. Tog was daar met sy musiekvaardigheid ook 'n artistieke komponent in Johann Knobel se samestelling, terwyl die moontlikheid nie uitgesluit kan word dat daar 'n splinter poësie van die | |||||||||||||
[pagina 21]
| |||||||||||||
Kesting-voorgeslagte aan die Leipoldt-kant aanwesig was nie. Die digter se een Leipoldt-oom het trouens van die Lutherse gesange in Nederlands vertaal. En kan die onstuimigheid, aweregsheid en geestelike labiliteit wat van tyd tot tyd by Leipoldt verskyn het, nie teruggevoer word na die baron nie? Een van die baron se nasate, die digter Wilhelm Knobel, moes feitlik sy hele volwasse lewe voortdurend veg teen 'n telkens terugkerende geestesiekte, iets waaroor hy verslag doen in sy ‘Brief vir Breyten’Ga naar eind60 as hy praat van die waansin wat ‘ongewapen’ uit die stilte groei en die stem doof ‘wat wil roep na gestorwe gode’, al kan hierdie waansin en angs tog ook die vers ‘bevrug’. Meer as veertig jaar vroeër sou Leipoldt trouens ook ‘deurmekaar’ (in 'n dubbele betekenis!) op sy eensnaarramkietjie speel, selfs as dit die kommentaar ‘halfpad mal’ van mense ontlok: Gaan 'n mens Leipoldt se kwartierstaatGa naar eind62 na, heet hy met sy eerste twee voorname, Christian Frederik,Ga naar eind63 na sy vader, al het die Duitse Friedrich by hom Frederik geword. Die Christian-voornaam het die vader ontvang van sy oupa aan moederskant, Christian Michiel Lind, terwyl die Friedrich moontlik oorgeneem is van sy oupagrootjie aan moederskant, Johan Frederik Heydenreich (van Duitse afkoms, maar - soos die Hollandse vorm van die naam aandui - in Suid-Afrika gebore). Die digter se Christian kan egter 'n dubbele vernoeming wees, want Johann Knobel se derde naam was ook Christian. Ook die Frederik is waarskynlik 'n dubbele vernoeming, aangesien baron Von Buchenröder se vierde voornaam Friedrich was. Leipoldt se derde voornaam, Louis, is afkomstig van sy oupa Esselen, aan wie hy as kind besonder geheg was. Leipoldt is as kind Christie genoem en vir sy vriende was hy Chris, maar in sy skryfwerk was hy, waarskynlik uit erkentlikheid aan sy grootvader, altyd Louis. Of was dit omdat sy moeder, met wie hy nooit 'n goeie verhouding gehad het nie, ook Christina as een van haar voorname gehad het? Het die naam Frederik, ook as voorletter in sy skryfnaam, vir hom nie lekker ‘gevloei’ nie of was dit gewoon te lank? Hoe dan ook, die naam Frederik het hy nooit gebruik nie. | |||||||||||||
[pagina 22]
| |||||||||||||
VChristian Friedrich Leipoldt, vader van die digter, is op 4 Oktober 1844 op Wupperthal gebore as die vierde kind van sy ouers. Reeds op vyfjarige ouderdom moes hy egter, soos die meeste sendelingskinders van sy tyd, vir sy skoolopleiding na Barmen in Duitsland vertrek, waar hy tot sy vyf en twintigste jaar skoolgegaan en sy opleiding as Rynse sendeling ontvang het. In Barmen was sy leermeesters G.L. von Rohden met sy aksent op dissipline en orde, F.G.K.E. Fabri met sy beklemtoning van die letterlike vertaling van die Bybel en Gustav Warneck wat veral die opvoeding van die mense met die oog op 'n beter begrip van die Bybel voorgestaan het. Die missionêre taak, so vat Jan S. Aritonang Warneck se gedagtes saam, ‘is to communicate the Gospel from the white race, including Germanic peoples, to the dark-skinned pagans, and at the same time to spread a higher civilization. Because evangelism must run parallel with civilization, white-skinned western people who are already Christian with a high civilization become the bearers of civilization for the whole of humankind; if others wish to advance, they must follow the lead of the white race’.Ga naar eind64 'n Mens kan aanvaar dat Christian Leipoldt deeglik kennis geneem het van die riglyne van sy leermeesters, want as sendeling in die Ooste sou hy later juis baie sterk die aksent op die beskawende invloed van die Westerse beskawing laat val. Om Nederlands aan te leer en vlot te leer praat, is Leipoldt na die Universiteit van Utrecht, waar hy 'n diploma as hulponderwyser verwerf terwyl hy hom verder as sendeling bekwaam. In sy jeugherinneringe sê sy digter-seun dat sy vader later sy preke altyd in suiwer Nederlands gelewer het, al het hy in sy omgang met gemeentelede 'n gewysigde Nederlands met baie Afrikaanse idiome gebruik. Christian Leipoldt het by voorkeur Duits gelees en geskryf, al was sy beheer oor Nederlands ook goed. Engels en Frans het hy nooit goed leer praat nie, ofskoon hy al twee kon lees en skryf.Ga naar eind65 Waar C. Louis Leipoldt in sy roman Stormwrack oor die vroeë jare van die sendeling Uhlmann skryf, het hy duidelik sy vader in gedagte: ‘Uhlmann was the son of a Hanoverian missionary and a South African born daughter of a Dutch merchant. His father had come to the Colony in the early part of the century, and had settled behind the mountains, devoting himself exclusively to the development of the mission station which he had made one of the best in the Colony - it was still in the charge of his brother.... The pastor had been sent “home” to Germany as a boy | |||||||||||||
[pagina 23]
| |||||||||||||
of five, and had lived there, first at the big mission hostel where the sons of the missionaries were educated, and later on at the University of Utrecht, where he had graduated and qualified for service in the mission field in the Dutch possessions in the East.’Ga naar eind66 In sy bydrae tot The Cambridge history of the British Empire staan Leipoldt stil by die Rynse sendingstasies as ‘small centres of civilization’Ga naar eind67 en skryf hy die groot bydrae van die afstammelinge van die sendelinge tot die politieke en kulturele lewe in Suid-Afrika toe aan die feit ‘that the children of missionaries were brought up in more cultured homes than those of the majority of the rural settlers, and were sent, at a comparatively early age, to complete their education in Europe’.Ga naar eind68 In 1869 word Christian Leipoldt tot sendeling georden en kort daarna vertrek hy na die noorde van Soematra om onder die Batak-stam sendingwerk te doen. Onderweg daarheen doen hy Suid-Afrika aan om sy ouers na 'n afwesigheid van bykans twintig jaar weer te sien. Tydens sy besoek aan Suid-Afrika moes hy ook besoek aflê op Worcester, waar eerwaarde Louis Esselen, superintendent van die Rynse Sendinggenootskap, gestasioneer was. Daar ontmoet hy Anna Meta Christina, die derde kind en tweede dogter van die Esselens, wat 29 Maart 1848 op Worcester gebore is en dus sowat vier jaar jonger as Christian Leipoldt was. Christina, soos sy genoem is,Ga naar eind69 het haar opleiding naskools op Stellenbosch ondergaan en was onderwyseres in haar vader se Rynse Sendingskool op Worcester. Klaarblyklik het die ingetoë Leipoldt onmiddellik verlief geraak op die aantreklike Christina, maar sy aanvanklike aansoek om 'n huwelik het sy afgewys. In 1870 sit hy sy reis voort na Soematra, waar hy saam met eerwaarde A. Schreiber by die sendingstasie Prau SoratGa naar eind70 naby Sipirok en die Toba-meer gestasioneer word. Saam met Schreiber vertaal hy die Nuwe Testament in die Bataks-Angkola-dialek en stel hy 'n grammatika van dié taal op. Betreklik kort ná sy aankoms word hy voltyds belas met die onderwys in die kategetiese skool, waar hy naas eksegese van die Bybel ook vakke soos geografie, geskiedenis, natuurstudie en rekenkunde aanbied. Die gebrek aan die nodige handleidings in die inheemse tale probeer hy en Schreiber met vertalings aanvul.Ga naar eind71 Die reaksie op Leipoldt se onderrig was baie positief en betreklik gou kon die eerste vyf Batak-gegradueerdes saam met die Duitse sendelinge die gemeentes bedien. Jare later kon Christian aan sy skrander seun vertel van die Bataks onder wie hy gewerk het en van die klein dorpies rondom die meer waarin hulle huise was. Die Batak-gemeenskap het sy eie maatskaplike, politieke, kul- | |||||||||||||
[pagina 24]
| |||||||||||||
turele en godsdienstige stelsels gehad en die dorpies was 'n klein netwerk wat ekonomies en kultureel 'n hegte eenheid gevorm het.Ga naar eind72 Veral die feit dat die Bataks tot in die negentiende eeu mensvreters was en die twee Amerikaanse sendelinge H. Lyman en S. Munson deur kannibale doodgemaak is, het die digter-seun, met sy drang om oor allerlei rare en afwykende gedragspatrone meer te wete te kom, besonder geïnteresseer. Sy ouers kon hom nie genoeg daaroor vertel nie en later het hy self verder daaroor navorsing gedoen. In Uit my Oosterse dagboek wei hy daaroor uitGa naar eind73 en in twee artikels in Die Volkstem skryf hy verder daaroor.Ga naar eind74 Vir Leipoldt, wat later tot 'n gedugte gastrosoof sou ontwikkel, was die vraag hoe mensvleis smaak en lyk ‘as dit vir die tafel klaargemaak is’. Daarvoor kon hy in sy tweede artikel steun op die gerapporteerde verslag van William Seabrook, wat in Jungle ways (1931) skryf oor sy ervarings met kannibale in Wes-Afrika en oor hoe mensvleis proe. Reeds in sy vader se dagboek kon hy egter al 'n beskrywing lees van 'n stukkie gedroogde mensvleis wat as biltong voorberei is en soos goeie kalfsvleis gesmaak het.Ga naar eind75 Met sy werk in die Ooste sit Christian dus die tradisie van sy vader en ouer broer voort. ‘The tradition of his family’, so skryf C. Louis Leipoldt oor die Uhlmann-karakter in Stormwrack, ‘had been the missionary tradition, zeal, and selfsacrifice for ideals, conformation rather than reformation, the enthusiasm of the student and the apostle rather than the fanaticism of the reformer. Both tradition and training, added to his natural disposition that made him averse from obtruding himself and inclined to the peaceful calm of a student's life, had made him far more cosmopolitan than he realised himself to be.’Ga naar eind76 So 'n karaktersamestelling, gaan Leipoldt in sy beskrywing van Uhlmann met sy vader as model voort, het selfs die flouste sprankie nasionalisme gedemp: ‘He felt no attachment to Germany, or Holland, or England, or even the Colony. If the truth had to be told, his heart sometimes yearned for the verdant luxuriance of that tropical beauty amidst which he had spent fifteen yearsGa naar eind77 of his best life among the Battas of Soematra.’Ga naar eind78 Soos in sy vader was daar vroeg in die jong Christie Leipoldt 'n kosmopolitiese gees werksaam wat hom verhinder het om in nasionalistiese ideale op te gaan. As kind sou hy baiekeer van sy ouers hoor hoe asemrowend mooi Indonesië is en in sy familie was daar 'n soort Oosterse tradisie werksaam. Die ‘drang na die Ooste’ en die wondere van daardie wêreld, ‘wat die bakermat is van ons beskawing, ons wysbegeerte en ons mensdom’, so skryf hy in Uit my Oosterse dagboek,Ga naar eind79 het hy van sy vroegste jeug af gevoel. Waar hy egter skryf dat | |||||||||||||
[pagina 25]
| |||||||||||||
hy self - in navolging van sy ouers, wat dit met mekaar gepraat het - 'n ‘afgestompte Maleis gebabbel het voordat...(hy) pront Afrikaans of Engels of Duits kon praat’,Ga naar eind80 kan 'n mens dit maar glimlaggend as 'n Leipoldtiaanse oordrywing afmaak. In sy ‘Jeugherinneringe’ sê hy buitendien dat sy ouers Bataks met mekaar gepraat het as iets geheims bespreek is, maar dat hy dit ‘nooit aangeleer het nie’ en dat sy ‘ouere suster en broer (dit) gou-gou op Worcester afgeleer het’.Ga naar eind81 Dit is maar een van die talle gevalle waar Leipoldt hom in sy geskrifte weerspreek! 'n Mens kan rustig aanneem dat hy op Clanwilliam behoudens enkele woorde geen Maleis aangeleer het nie. Christian Leipoldt was geen heethoof-Christen nie, al was hy 'n diepgelowige mens. In Soematra het hy gewerk onder mense wat naas die animistiese geloof van hul voorvaders die Islam aangehang het. Wanneer 'n mens, soos sy seun later sou doen, sy dagboek nagaan, kom jy af op die probleme, die twyfel en die dilemmas wat 'n eerlike denker ondervind as hy 'n geloof wil verkondig wat in so baie opsigte radikaal verskil van dít wat die Islamitiese imams oordra. Ondanks die heilsame resultate wat die ywer van die sendeling se werk vir minder ontwikkelde samelewings kon hê, het Christian se skrywer-seun blykbaar van vroeg af bedenkinge gehad oor die nut daarvan om die Christelike geloof en godsdiens op te dring aan mense wat reeds oor 'n stel waardes beskik wat in die praktyk bevredigende resultate lewer. In die ongepubliseerde Engelse manuskripGa naar eind82 oor sy reis na die Ooste skryf hy: ‘The missionary who works among the heathen, who is the pioneer of morals, and of the best type of civilisation, is a valuable auxiliary in the struggle against savagery. (But) missionary enterprise is uncalled for among a people already civilised, already moral, already in possession of a religion whose merits, in comparison with Christianity, must be a matter for academic discussion.’ Waarskynlik was Leipoldt se oortuiging dat een religie moreel nie noodwendig hoër as 'n ander is nie, in die kiem aanwesig in sy vader. In Stormwrack laat sy skrywerseun die Uhlmann-karakter die volgende dink: ‘There [in die Ooste - JCK] he had lived in contentment, though not in ease, arguing without loss of dignity or prestige on either side with the imams on the principle of the Trinity, and with the monks from the Singha Monga Radjahs Iamaserai across the lake on the attributes of the Ultimate Perfection, teaching, in his little atap roofed house, the proselytes whose numbers had remained so lamentably small. He hardly liked to confess, even to himself when he thought quietly over these things, that his contentment there had been | |||||||||||||
[pagina 26]
| |||||||||||||
in some measure treason to his faith and to his principles, and that he had found as much intellectual satisfaction from his study of Buddhism and Mohammedanism as in his student days he had found from the perusal of Lange and Christlieb.’Ga naar eind83 | |||||||||||||
VIKort na sy aankoms in Soematra begin Christian Leipoldt aan Christina Esselen skryf en in 1874 oorreed hy haar om by hom in Soematra aan te sluit en met hom te trou. In April 1874 vaar sy met die Windsor Castle na Europa, waar sy Londen, Barmen en Amsterdam besoek. Op 9 Augustus 1874 vertrek sy uit Southampton om deur die Suezkanaal na Soematra te reis, waar sy op 21 September aankom. Op 15 Oktober 1874 trou sy en Christian. Die briewe aan haar ouers, susters en vriende tydens haar Europese reis en haar verblyf in Soematra wat bewaar gebly het, vorm deel van die familiebriewe.Ga naar eind84 Wat 'n mens by die lees van hierdie briewe allereers opval, is die wisselende handskrif: soms skryf sy slordig en onnet, ander kere is die skrif baie netjies en feitlik kalligrafies versorg. Christina kon, volgens haar digter-seun, Duits goed skryf en lees, maar haar Nederlands was nie ‘eersteklas’Ga naar eind85 nie en sy het by voorkeur Engels en Afrikaans gepraat. Die briewe is dan ook oorwegend in Engels geskryf, maar met heelparty Afrikanismes en Nederlandse woorde en frases. So byvoorbeeld skryf sy ‘kinders’ in plaas van ‘kinderen’, ‘kombers’ in plaas van ‘deken’ en verwys sy na die Batak-kinders as ‘klein snotneusies van drie jaren die rooken al net zoo fluksch als de ouden’. Bataks bly vir haar vreemd. Wanneer 'n sendeling in die kerk vir 'n man sê: ‘Poepoe ma in’ (Kom in, gaan voort), wil sy lag; ‘it sounds like something else’. By twee geleenthede praat sy oor haar kleredrag in die warm Ooste en gebruik sy 'n woord wat haar seun later in die Afrikaanse taal sou invoer en waaraan hy 'n besondere soort vers van hom sou koppel: ‘I think it awfully stupid to go about like slampampers in sarong kabaja & sloffen the whole day, & then when evening comes to dress up’; ‘You see a young lady dressed in a white Muslim dress so dirty that you shudder to look at it, ribbons, laces, everything to match by way of dirt & tawdryness, quite as your Papa would say a la 'slampamper meid'.’ En dat sy naas 'n sekere woordgevoeligheid 'n digterlike aanleg gehad het, lei 'n mens af uit die kaartjie wat sy op 29 Maart 1877 aan haar moeder stuur: | |||||||||||||
[pagina 27]
| |||||||||||||
Geluk! geluk! myn lieve Mamma,
Daar U heden jarig zyt.
Gav' en briefje brengt u Isa,Ga naar eind86
En hoopt, dat 't U verblyd.
Mogt de lieve Heer U sparen,
Lieve Ma' nog vele jaren!
Hy schenke U gena' en zegen
In ryke mat' op al Uw' wegen!
En brenge U na dezen tyd
Tot zich in de zal'ge eeuwigheid!
Dit wenscht van harte lieve Ma'
U zeer liefhebbende Louisa.
Uit hierdie briewe oor 'n periode van ses jaar kan 'n mens 'n goeie indruk kry van die tipe mens wat Christina Esselen was. Die oplettende leser kan trouens hier reeds sekere persoonlikheidstrekke bespeur wat normale verhoudings met haar uiters moeilik sou maak en wat later die lewe van haar man en kinders sou versuur. As onderwyseres was Christina Esselen, so lei 'n mens uit die briewe af, baie gesteld op netheid, beleefdheid en uiterlike beskawingsvorme, terwyl sy absolute toewyding en vlyt van haar leerlinge vereis het. Ongelukkig was haar kompromisloosheid, opvlieëndheid en gebrek aan takt daarvoor verantwoordelik dat sy nie altyd die gewenste resultate kon bereik nie. Daarby was sy fel uitgesproke oor dinge wat haar nie aangestaan het nie. Tydens haar Europese besoek het sy klaarblyklik van Londen en die Engelse gehou, maar die Duitsers beskuldig sy van formaliteit en huigelary. Sy vind dat Duitse vrouens tuis slordig en onnet aantrek: ‘They don't wear drawers & onderlyfjes & have old jackets & flannels that smell 15 yards off.’ Wanneer sy later in Prau Sorat is, vind sy die Batak-vrouens verskriklik. ‘Oh! good gracious,’ skryf sy in 'n brief van 6 November 1874, ‘my stomach turned & my whole harslag turned topsy turvy at the sight of them.... (M)ost of them have no other covering but what the good God sent them into the world with, and then to see those unmentionables dangling before your eyes before gentlemen etc. is “alles behalve aangenaam.”’ Wanneer een van die prinsesse vra om in lees, skryf en ‘fancy work’ ingewy te word, aanvaar sy dit, ‘on condition that she chewed no sirie pruims while in my presence’! Die Bataks, so laat weet sy op 3 | |||||||||||||
[pagina 28]
| |||||||||||||
Februarie 1875 aan haar suster Minna, ‘are the dirtiest, laziest set of creatures on the face of the earth - no sooner have you got one a little to your hand than he is lodja (tired) & wants to rest altogether or try his hand at something else.’ Sy vrees dat hulle lewenslank in Soematra gaan bly, behalwe as haar vader Christian na Worcester kan beroep. Nog voor haar troue, terwyl sy in Amsterdam op besoek was, het Christina ernstige bedenkinge of sy geskik is vir die soort werk wat haar huwelik met Christian Leipoldt sou meebring. Tog is sy intens gelukkig wanneer sy haar aanstaande man na bykans vier jaar in die hawestad Padang terugsien. ‘Those days in Padang’, skryf sy, ‘will ever remain like an oasis in the desert of my memory. If our future life passes like our first week I shall have the happiest lot on earth & I know surely that it will be my fault if it does not.’ Op haar huweliksdag, 15 Oktober 1874, kla sy egter in 'n brief aan haar ouers dat haar trourok haar nie geval het nie. ‘What I looked like’, skryf sy, ‘I don't know nor care. All I know is that it was miserable to marry at all but a thousand times worse to marry in that way.’ Uit so 'n opmerking lei 'n mens af dat Christina die huwelik met weinig vreugde ingegaan het. Nogtans is sy by tye baie gelukkig. Sy en haar man, so skryf sy op 1 Mei 1875 aan haar moeder, verstaan mekaar en het mekaar lief. Sy vra haar moeder ‘to pray continually that this mutual love & trust may never be broken or interrupted’. Hulle geluk word egter dikwels bedreig deur mense rondom haar. Die ander sendelinge is ‘a dishonest, lying & cheating set of hypocrites’ en hulle is so nuuskierig ‘like Stellenbosch in its mission circle’. Sy skryf haar liggaamlike, geestelike en sedelike lyding toe aan die sendeling Standte se aanwesigheid in hulle huis: sy onbeskaafde, growwe, huigelende maniere en sy kwetsende opmerkings oor haar Engels-Hollandse gewoontes. Sy verag die Hollandse burokrate met wie hulle opgeskeep sit. ‘I hate the very sight & mention of them’, skryf sy in 'n ongedateerde brief. Hulle dink blykbaar aan niks anders as eet, drink, dobbel en ‘associating with bad women & girls’ nie. Hoewel 'n mens in kolonies ver van die moederland 'n ruwe en losbandige tipe mens te wagte kan wees, dui Christina se voortdurende reaksie en kritiek op alles en almal in haar onmiddellike omgewing op asosiale gedrag en 'n ernstige graad van onverdraagsaamheid. Dit is dan ook nie verbasend dat sy met so 'n geestesingesteldheid feitlik altyd die prooi van die een of ander psigosomatiese siekte is nie. Uit haar briewe kry 'n mens die indruk dat sy geestelik van die een uiterste na die ander gewissel het. Nog voor haar troue laat weet sy 'n vriendin uit Duitsland dat sy só angs- | |||||||||||||
[pagina 29]
| |||||||||||||
tig is ‘that the least thing startles me so that I tremble all over & my heart jumps into my mouth’. Deels is dié toestand toe te skryf aan haar felle reaksie op gebeure en mense wanneer sy Barmen besoek. ‘From all the ergernis there’, skryf sy, ‘I got so ill that I did not know what to do.’ Ná haar aankoms in Soematra en haar huwelik word sy gepla deur hoofpyne en uitputting. Wanneer sy só siek voel, sluit sy haarself toe en kan ook haar man nie by haar uitkom nie. ‘I am miserably ill, every day something new’, skryf sy op 19 Februarie 1875 aan haar ouers. ‘My good Christian is such a good fellow, far too good for me & he does all in his power to lighten & ease my often terrible pains.’ Sy kla oor die vreeslike aanvalle van maagpyn wat sy kry en dat daar in haar omgewing nie 'n enkele verstandige vrou is om mee te praat nie. Uit al hierdie besonderhede kry 'n mens die indruk dat Christina in Soematra feitlik altyd siek was. Ten spyte hiervan neem sy vanaf 1874 die inisiatief om skoolopleiding vir Batak-dogters in te voer, want tot in daardie stadium was daar slegs skole vir seuns.Ga naar eind87 In Soematra bring sy ook drie kinders in die lewe, alhoewel die geboortes in al drie gevalle moeilik verloop. Op 20 September 1875 word die Leipoldts se eersteling, Louisa Frances Carolina, wat altyd Issa genoem is, gebore. Op 2 Augustus 1877 skenk sy die lewe aan Johann Gottlieb Wilhelm, hul eerste seun. Die derde kind, met die naam Charles William, is op 5 Mei 1879 gebore, maar sterf tien dae later op 15 Mei 1879.Ga naar eind88 Waarskynlik was die verlies van hierdie derde kind en sy vrou se kwynende gesondheidstoestand die regstreekse rede vir Christian Leipoldt se besluit om sy werk in Soematra te laat vaar en met sy gesin na Suid-Afrika terug te keer. In Oktober 1879 vertrek hulle en op 10 November kom hulle in die Kaap aan. As gevolg van haar toestand was Christina met haar aankoms half verlam. Met hul aankoms op Wupperthal moes sy van die wa afgedra word. Ook later, ná haar herstel, het sy moeite gehad met beweeg en wiegend, waggelend geloop. Omdat alle poste binne die Rynse Sendinggenootskap in daardie stadium gevul was, kon Christian slegs as hulpprediker in sy skoonvader se gemeente op Worcester beroep word, 'n pos wat hy tot 26 Februarie 1883 beklee, al was hy hoofsaaklik belas met die onderwys in die sendingskool. Gelukkig het sy vrou se gesondheid onder die sorg van sy skoonmoeder geleidelik verbeter en kon sy weer die huishouding begin behartig. Aangesien Louis Esselen en sy vrou in die nuwe pastorie van die gemeente gehuisves was, het die Leipoldts in die ou sendinghuis ingetrek. | |||||||||||||
[pagina 30]
| |||||||||||||
So het dit gekom dat Christian Frederik Louis Leipoldt op Dinsdag, 28 Desember 1880, in die ou sendinghuis op Worcester gebore is, 'n Kaaps-Hollandse huis met 'n grasdak en vierpilastergewel wat van omstreeks 1840 dateer. Sy vader was toe ses en dertig jaar oud, sy moeder twee en dertig. Jare later het oom Swart Andries Nieuwoudt van Clanwilliam in 'n radio-uitsendingGa naar eind89 gesê dat Leipoldt, volgens die digter self, in die Ooste gebore is op 'n plek waar daar vandag as gevolg van 'n vulkaniese uitbarsting geen land meer is nie. Nieuwoudt se mededeling berus op 'n misverstand, want Leipoldt is beslis, volgens die inskrywing in die doopregister, op Worcester gebore. Die vulkaniese uitbarsting waarna Nieuwoudt verwys, was dié van Krakatau in die Soendastraat tussen Soematra en Java, wat op 26-28 Augustus 1883 tot 'n rampspoedige uitbarsting gekom het en waaroor Leipoldt in sy bundel Uit drie wêrelddeleGa naar eind90 'n gedig en in Die Huisgenoot van 7 Januarie 1938 'n artikel skryf. Dat hy daar gebore kon gewees het, is eweneens 'n vergissing, want Leipoldt se ouers het in die noorde van Soematra naby die Toba-meer gewoon. Tog het Leipoldt daarvan gehou om te dink dat hy deur sy ouers se lang verblyfop Soematra iets van 'n Oosterling in sy samestelling het. In 'n brief aan W.J. du P. Erlank van 18 Januarie 1935 sê hy dat sy belangstelling in Oosterse sake - filosofie en godsdiens - ‘glo van my geboorte (dagteken), want ofskoon ek hierso gebore is, is ek in Soematra, op Prau Sorat, gemaak’. Die woord ‘gemaak’ kan hier egter nie inseminasie beteken nie, want Leipoldt se ouers was beslis voor die begin van die swangerskap terug in Suid-Afrika. Die vroegste ervaring wat Leipoldt later kon onthou, so deel die skrywer ons in sy ‘Jeugherinneringe’Ga naar eind91 mee, was die aanblik van sy boetie se lyk met katjiepierings rondom in 'n kamer, 'n verwysing na nog 'n kind van die Leipoldt-egpaar wat in 1883 klein dood is. Hierdie herinnering, as dit dan 'n herinnering was en nie 'n aanvulling van latere mededelings nie, strek volgens Leipoldt terug na sy derde jaar. Daarna het sy herinneringe veral gesentreer rondom sy oupa Esselen, wat volgens hom ‘die vernaamste invloed op...(sy) kindergemoed gehad het, 'n invloed veel groter as dié van...(sy) ouers’.Ga naar eind92 Hy onthou sy oupa se forse gestalte, sy ‘wonderlike slag om met kinders om te gaan’Ga naar eind93 en die reuk van sy Duitse sigare. ‘Ek onthou goed’, gaan Leipoldt voort, ‘hoe ek met hom in die studeerkamer gesit het, besig om blokkies-letters bymekaar te rangskik en dan die geluide na te boots wat hy daaroor gemaak het. Dit was die manier waarop ek leer lees en skryf het. Ek weet nie presies wanneer ek vir die eerste maal 'n pen gehanteer het nie; potlood en kryt was vir lank my | |||||||||||||
[pagina 31]
| |||||||||||||
enigste skryfgereedskap, want Oupa het nog sy eie skryfpenne, van gansvere, mooi gesny met 'n skerp, egte “pennemessie”, wat ek nog goed onthou omdat dit een van daardie nou glad vergete soort was met 'n gaatjie in die hef waarin, as jy dit vlak voor jou oog hou, jy 'n prentjie van 'n kasteel aan die Ryn kon sien. My eerste brief aan Oupa was waarskynlik in medewerking met iemand anders geskryf; die antwoord daarop - dit onthou ek goed - het ek maande lank by my rondgedra, trots soos 'n koning op sy eerste en beste skat. Dit was dan ook in groot letters geskryf, elke letter 'n kwartduim hoog, en slegs 'n paar reëls. Later, toe ek omtrent sewe jaar oud was, het ek gereeld elke drie maande aan Oupa geskryf, en ewe gereeld van hom briewe ontvang, altyd geskryf in sy fyne, Italiaanse handskrif, en altyd in 'n trant wat bewys dat hy 'n eersteklas insig gehad het in wat vandag die kinder-sielkunde genoem word.’Ga naar eind94 Al is dit nie een van sy beste verse nie, is hierdie oupa Esselen die model vir die sagte en geduldige figuur met die wit hare en bysiende oë wat Leipoldt in sy slampamperliedjie ‘Oupa is oud’Ga naar eind95 teken. En in die Familiebybel wat Everardus in die roman Galgsalmander besit, toon die ‘fyn, opdraande handskrif’Ga naar eind96 ooreenkomste met oupa Esselen se skrif soos sy kleinseun dit onthou, soos ook die gansveerpenne waarmee mnr. Seldon skryf en waaraan hy ‘met vaardige hand van tyd tot tyd met sy sakmessie 'n nuwe en bruikbare punt (gee)’.Ga naar eind97 Op Worcester moes Christian Leipoldt as hulpprediker en onderwyser onder 'n betreklik outokratiese skoonvader met die karige salaris van £7 per maand uitkom, terwyl hy in Soematra £ 15 gekry het. Aangesien daar in daardie stadium geen moontlikheid was om 'n volle pos as sendeling te bekom nie, bespreek hy sy posisie met ds. Andrew Murray, Ned. Geref. leraar op Worcester. Murray haal hom - tot die aanvanklike wrewel van sy skoonvader, wat dit as onverskoonbare afvalligheid beskou het - oor om 'n mondelinge eksamen ter toelating tot die Ned. Geref. Kerk af te lê. In 1883 verlaat Christian die Rynse Sendinggenootskap en die Lutherse geloofsoortuiging en stel hy hom beroepbaar as leraar van die Calvinistiese Ned. Geref. Kerk. In dieselfde jaar, op 27 November, word hy as Ned. Geref. leraar gelegitimeer en in 1884 aanvaar hy 'n beroep na die gemeente Clanwilliam. Saam met sy ouers, sy suster Issa en sy broer Johnny verhuis die vierjarige Christie Leipoldt dan na 'n wêreld wat in baie opsigte anders as Worcester daar uitgesien het. Van die trek met 'n verewa en ses perde vanaf Piketweg-stasie, soos Gouda indertyd genoem is, onthou hy die ontmoe- | |||||||||||||
[pagina 32]
| |||||||||||||
ting duskant Piekenierskloof met die transportwa wat hulle meubels vervoer het en ‘die lang opdraende pad oor die pas, met die groot waboombosse in volle bloei’.Ga naar eind98 Uit so 'n herinnering kan 'n mens reeds aflei hoe gevoelig Leipoldt van jongs af vir die natuur rondom hom was. Op Clanwilliam sou hy van vroeg af die geleentheid hê om in die weelde van die natuur op te gaan en sy belangstelling in plante uit te leef. | |||||||||||||
VIIIn latere jare het Leipoldt - wat betreklik vroeg in sy lewe die Christelike vormgodsdiens van hom afgewerp het - hom by tye morrend, selfs met weersin, uitgelaat oor sy familie wat ‘deurtrek (was) met die nare sendelingsgees...(en) die jeuk om mense te gaan bekeer, hoe verder van huis af, des te beter’.Ga naar eind99 Met sy vader se toetrede tot die Ned. Geref. Kerk het die Heilige Gees en die erfsonde 'n belangrike rol begin speel en is sy kinderjare ‘deurgebring in 'n lug van vergelykende goddienery’.Ga naar eind100 Tot sy wrewel, so skryf Leipoldt, het sy vader, ‘wat so liberaal gesind was dat die Imams hom vertel het dat hy amper 'n goeie Islamiet sou wees as hy hom maar wou laat besny, later predikant van die “religie” geword, en die Kalvinistiese geklets onderskryf’.Ga naar eind101 As kind het hy naas die Bybel in verskillende tale 'n geskiedenis van die vervolgings deur die Dominikane en die onthoofdings en martelings van heiliges gelees. ‘Dit’, so skryf hy, ‘was die soort biltong waarop ek in my kinderjare gebyt het, en ek het dit goed verteer.’Ga naar eind102 Meermale het Leipoldt hom egter gunstig uitgelaat oor sy sendelingvoorsate. In sy bydrae tot The Cambridge history of the British Empire het hy waardering vir die goeie organisasie en streng dissipline wat hierdie mense gekweek het en loof hy die uitstekende resultate wat deur hulle behaal is. Die sendelinge was, so skryf hy, ‘men and women embued with a spirit of selfsacrificing zeal that has contributed something to the formation of national character’.Ga naar eind103 In ‘Sendelingskinders’ in sy bundel Uit drie wêreld-dele,Ga naar eind104 'n gedig wat as 'n belangrike sleutel tot die psige van Leipoldt beskou kan word, waai die Suidewind in alle windrigtings en bestuif dit plekke soos Stellenbosch, Sarepta, Genadendal, Roodezand by Tulbagh, Worcester, Saron, Wupperthal, Ebenhaëser, Concordia, Komaggas en Pella - almal plekke waar veral die Morawiese en die Rynse sendinggenootskap stasies gevestig het.Ga naar eind105 Hul vaders, so gaan hy voort, was bereid | |||||||||||||
[pagina 33]
| |||||||||||||
‘om alles op te gee’ en ‘deur te werk met vlyt en smart in worstelstryd en wee’. Die kinders het - ‘teen wil en dank’, 'n wending waaruit die gedeeltelike onvergenoegdheid met hierdie ‘erfnis-las soos lood’ duidelik blyk - 'n deel daarvan geërf om alleen te staan en te ly, terwyl hulle deur andere misken is, ‘misgun, bespot, vertrap (en) verstote’. Nogtans is dit hul taak om onwrikbaar in hul trou te staan, hul ideaal luid te verkondig, die hele land om te dolwe en te ploeg, ‘gebore om te gee/Alles die beste wat ons het’. Die sendeling, in wese 'n pionier, baanbreker en voortrekker, het hierdie gees en ingesteldheid in sy nasate agtergelaat. Vir 'n insig in Leipoldt is dit belangrik om met hierdie erkenning van sy skatpligtigheid teenoor sy afstamming rekening te hou. Ten spyte van sy kritiek, sy afkeer van die tradisionele vormgodsdiens en sy belewing van hierdie ‘erfnis-las soos lood’ het hy sy sendelingafstamming nooit heeltemal verloën nie. In die aangrypende sonnet ‘Voorbeelde’ uit Skoonheidstroos kom hy op sy voorgeslag terug: Soms as allenigheid my moedloos maak,
En van my wegruk broedersteun en trou,
Dan, eer die ooste met die daglig grou,
En die koel maan sy opklim-koers versaak,
Nog voor sy lig die verste vleiland raak,
En die vuurvliegies in die gras verflou
Of glinster op die nuut-geplaste dou
Waaroor die middernag se vrede waak,
Rys voor my op, in droomgestaltes dig,
Die ontelbre siele van die voorgeslag
Wat ook alleen gestaan het om te stry
Vir wat hul reg geag het, eer en plig.
Dan kry ek in my eensaamheid 'n krag
So sterk as ooit 'n sterflik mens kan kry!Ga naar eind106
|
|