| |
| |
| |
| |
| |
The study of the life and associations of a great writer must always possess an interest, which adds to and enhances the pleasure to be derived from his works. More especially is this study intrinsically valuable where the case concerns the great poet. Environment in relation to its influence on the mind is not only interesting from a purely psychological point of view: it is equally instructive to the literary student who wishes to know the forces which moulded the thought, the impressions which stamped themselves indelibly on the memory of the master, and the associations which modified or broadened his views or cramped and stultified his methods of expression. These items of personal detail often afford valuable clues to the individuality of the man. They make a biography of the poet doubly absorbing to the student, because, in many instances, they furnish the key to problems which are otherwise vague, puzzling, or altogether incomprehensible.
C. Louis Leipoldt, ‘John Keats, medical student’,
Westminster Review, April 1907
| |
| |
| |
Voorwoord
Reeds op skool, toe my belangstelling in die digkuns geprikkel is, het ek met die poësie van C. Louis Leipoldt kennis gemaak. Soos baie mense van my geslag het ek onder die indruk gekom van sy dramaties-bewoë verse oor die Anglo-Boereoorlog en sy slampamperliedjies. Die Nasionale Boekhandel het sommige Afrikaanse digbundels destyds besonder goedkoop aangebied. So het dit gekom dat ek reeds in 'n vroeë stadium eksemplare van Oom Gert vertel en ander gedigte, Uit drie wêrelddele, Skoonheidstroos, Die bergtragedie en Slampamperliedjies besit het. Ook met sy twee bekendste dramas, Die heks en Die laaste aand, het ek in daardie jare kennis gemaak. Ek het egter geen herinnering dat ek op skool enige van sy romans of kinderverhale gelees het nie. Sy spookverhale het my teleurgestel; ek het voorkeur gegee aan dié van C.J. Langenhoven. Boeke soos Uit my Oosterse dagboek en Bushveld doctor het ek beslis nie op skool gelees nie. Waarskynlik was hulle nie in die dorps- of skoolbiblioteek beskikbaar nie.
Toe ek in 1960 as honneursstudent vir die poësiekursus onder leiding van D.J. Opperman, wat in daardie jaar hoogleraar in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch geword het, die opdrag kry om 'n uitgebreide opstel na eie keuse te skryf, het ek as tema ‘Teksversorging by C. Louis Leipoldt’ gekies. Waarskynlik het 'n opmerking van Opperman oor die boeiende variante van Leipoldt se verse in die opeenvolgende uitgawes van sy digbundels my aangespoor om die verskillende tekste te vergelyk en die literêr mees geslaagde variante aan te dui. Die ondersoek het aan die een kant 'n opdiep en vrystelling van gegewens meegebring, aan die ander kant 'n nougesette waardebepaling deur vergelykend te werk te gaan - in alle opsigte dus 'n soort studie wat vir 'n student alleen 'n opskerping van sy literêre sintuie kan meebring. Daarby het Opperman my opstel met die grootste deeglikheid nagesien, nie alleen deur kritiek op my vergelyking en gevolgtrekkings te lewer nie, maar deur my te wys op sekere aspekte van 'n teks wat ek nie raakgesien het nie. Verder was hy intens gesteld op 'n bevredigende stelwyse en 'n deeglike stilistiese afwerking van die studie. Aangesien ek onbekende gegewens in dié opstel bekend maak, het hy aan die hand gedoen dat ek dit publiseer, maar nie voordat ek dit in sy geheel drie keer herskrywe het nie! 'n Jaar of wat later het dit in Inset verskyn, 'n literêre tydskrif waarmee 'n paar van ons op Stellenbosch toe doenig was. Vir opname in my
| |
| |
bundel Konfrontasies in 1977 het ek dit weer oorgewerk om die formulering en stelwyse verder te verfyn.
Aan die einde van die studie het ek geskryf dat daar nie berus kon word by die tekste wat die digter self versorg het nie, omdat hulle dikwels nie die beste is nie. ‘Leipoldt,’ het ek voortgegaan, ‘sal dus teenoor homself in beskerming geneem moet word, en daarom wil ek ernstig aanbeveel dat die Versamelde gedigte van Leipoldt (wat een of ander tyd móét kom) versorg moet word deur 'n verantwoordelike letterkundige, en dat die variante wat nie aanvaar word nie, in 'n bylaag tot so 'n uitgawe gevoeg moet word.’ Min het ek tóé kon dink dat juis ék twintig jaar later self daardie ‘verantwoordelike letterkundige’ sou wees. Die ‘Verantwoording’ aan die einde van my uitgawe van Leipoldt se Versamelde gedigte (1980) is wesentlik 'n voortsetting van die werk waarmee ek in 1960 onder Opperman se leiding in my honneursjaar begin het.
Reeds in my Stellenbosse studiejare het Leipoldt my, naas die studie van sy teksversorging, verder begin interesseer. Deur Opperman se derdejaarsklasse, wat ek in my honneursjaar bygewoon het, kon ek kennis maak met die verwikkelde probleme wat die dramatiese alleenspraak as literêre soort inhou en hoe fyn Leipoldt in sy ‘Oom Gert vertel’ enersyds by die tradisie van Robert Browning aansluit, andersyds daarvan wegswaai en sy eie koers inslaan. Opperman het later sy gedagtes oor die dramatiese alleenspraak in Afrikaans, wat hy aan die hand van Robert Langbaum se uitmuntende The poetry of experience (1957) ontwikkel het, in 'n opstel uitgewerk wat in sy bundel Naaldekoker (1974) opgeneem is. Ongeveer gelyktydig met sy Stellenbosse lesings het Merwe Scholtz se ‘Wat vertel “Oom Gert vertel”?’ in Standpunte (later opgeneem in Herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle, 1975) verskyn, 'n studie wat feitlik 'n skokgolf deur die land gestuur en ons, ná die dinge waarvan Opperman ons reeds bewus gemaak het, met nuwe oë na Leipoldt se gedig laat kyk het. Ek het begin besef dat daar in Leipoldt se werk veel meer aanwesig is as wat die kritiek tot in daardie stadium kon ontrafel. Ernst Lindenberg se Stellenbosse lesing oor ‘Die duister Leipoldt’ in 1961 (later opgeneem in sy Onsydige toets, 1965) het dié indruk bevestig.
Hoewel ek nie aanvanklik aan Leipoldt verder kon werk nie en my doseer- en navorsingswerk in die sestiger- en sewentigerjare my na ander gebiede en skrywers gelei het, was Leipoldt steeds 'n sluimerende aanwesigheid by my. Toe ek vir die eerste deel van my Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1978) oorsigtelik oor Leipoldt moes skryf, het ek vlugtig kennis
| |
| |
gemaak met sy manuskripte en dokumente wat by die Universiteit van Kaapstad bewaar word, 'n kennismaking wat verdiep het toe ek sy ongepubliseerde verse vir my uitgawe van die Versamelde gedigte moes deurgaan.
Eers ná die voltooiing van my Langenhoven-biografie in 1994 kon ek weer by die Leipoldt-dokumente uitkom. Die materiaal en die Leipoldt-figuur met al sy veelkantighede en glibberigheid was vir my só boeiend dat ek besluit het om 'n biografie oor hom te skryf, selfs al sal bepaalde fases en aspekte van sy lewe vir altyd newelagtig bly en al sal 'n ondersoeker, hoe naarstig hy die dokumente ook al deurgaan, nie in staat wees om deur al die veelvuldige maskers van hierdie verwikkelde mens te dring nie. Daarby het Leipoldt se dokumente en mededelings oor homself 'n probleem geskep wat ek nie by Opperman en Langenhoven, die twee ander literêre figure in wie se lewe ek geïnteresseerd was, teengekom het nie. Leipoldt is uiters onnoukeurig wanneer hy datums, name van mense en titels van boeke verskaf, en jy kan niks wat hy sê, op sigwaarde aanvaar nie. Dit is nie 'n geval dat hy doelbewus wou lieg of mislei nie, maar deel van 'n ingeboude slordigheid wat kenmerkend van hom was. Baie navorsers wat nie met hierdie sy van Leipoldt rekening gehou het nie, het in die verlede op dwaalspore beland en lelik kleigetrap. Hierdie traak-my-nieagtigheid het tydens my ondersoek oneindige probleme geskep, al was dit soms 'n plesier om, dikwels na 'n lang speurtog, uiteindelik die korrekte inligting en feite te agterhaal.
My navorsing met die oog op my uitgawe van die Versamelde gedigte het my reeds in die sewentigerjare laat kennis maak met die uitgebreide M.P.O. Burgers-versameling wat tans in die Staatsargief in Pretoria bewaar word. Burgers se studie van Leipoldt strek oor meer as twee dekades tot die publikasie van sy C.L. Leipoldt: 'n Studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling (1960). As psigologies-kritiese ondersoek bevat hierdie studie te veel veronderstellinge, maar dit neem nie die feit weg dat Burgers baie onbekende gegewens oor Leipoldt beskikbaar stel nie. Uit briewe van Burgers laat in die veertiger- en vroeg in die vyftigerjare blyk dit dat hy van plan was om 'n biografie oor Leipoldt te skryf. Daartoe het hy nooit gekom nie, hoewel hy met al sy sorgvuldige aantekeninge van onderhoude met mense wat Leipoldt intiem geken het, oor meer as genoeg materiaal vir 'n lewensbeskrywing beskik het. Ek vermoed - trouens, ek is feitlik seker - dat die slagskaduwee van N.P. van Wyk Louw se Die ‘mens’ agter die boek, wat in die vyftigerjare verskyn en 'n geweldige invloed op ons literatuurbeskouing uitgeoefen het, op hom geval en hom van so 'n plan
| |
| |
laat afsien het. In die vyftigerjare was die klimaat nie gunstig vir die skryf van 'n biografie nie. Dat Burgers van sy boeiendste materiaal nooit benut het nie, maak sy versameling in die Staatsargief 'n ryk bron waaruit 'n navorser baie kan put. Terwyl ek vir my lewensbeskrywing van Langenhoven oor die nalatenskap van Sarah Goldblatt kon beskik wat elke enkele stukkie papier in verband met Langenhoven veilig bewaar het, was daar in die geval van Leipoldt vir my die dokumente van Olivier Burgers wat met ewe veel ywer Leipoldt-tekste oorgeskryf en alle relevante besonderhede opgeteken het. Vir my werk aan Leipoldt staan ek by Burgers diep in die skuld.
Daarom wil ek mev. Eugenie Olën, weduwee van dr. Burgers, baie hartlik bedank dat sy my volle toegang tot haar man se versameling gegee en die embargo op dele daarvan opgehef het. Ek is ook dank verskuldig aan die Universiteit van Kaapstad, huidige kopiereghouer van die Leipoldt-dokumente, wat my toestemming gegee het om uit ongepubliseerde materiaal aan te haal. Aan mev. Leslie Hart (en voor haar mej. Leonie Twentyman-Jones) en hulle kollegas van die Department of Manuscripts and Archives van die Jagger-biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad vir hulle hulp met fotokopiëring en die opspoor van dokumente gaan my hartlike dank uit. Dieselfde geld die personeel van die Staatsargief in Pretoria, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (NALN) in Bloemfontein, die National English Literary Museum (NELM) in Grahamstad, die Kaapse Mediese Museum en die Clanwilliam-Museum. My dank ook aan mev. Hanna Botha en haar kollegas van die Dokumentasiesentrum in die J.S. Gericke-biblioteek aan die Universiteit van Stellenbosch wat my ontsettend veel hulp met die opspoor van ontbrekende gegewens en tydskrifartikels verskaf het. In die N.P. van Wyk Louw-, W.E.G. Louw- en D.J. Opperman-versameling by dié inrigting kon ek trouens addisionele materiaal bekom. In die Sentrale Klankargief van die SAUK in Johannesburg kon ek alle opnames van en oor Leipoldt beluister en kopieë van sommige bande aanvra. By die Colindale Newspaper Library in Londen en in die biblioteek van die Guy's Hospital, ook in Londen, kon ek van die joernalistieke geskrifte van Leipoldt tydens sy jare in Brittanje opspoor, terwyl ek in die hulpmagasyn van die Amsterdamse Universiteitsbiblioteek in Nederland die jaargange van Het Nieuws van den Dag met Leipoldt se artikels daarin kon deurgaan. Aan die personeel van die Klankargief en die drie biblioteke in die buiteland my hartlike dank vir die hulp met kopieë.
| |
| |
Terwyl ek met my ondersoek besig was, kon ek gesprekke voer met mnr. Jeff Leipoldt (intussen oorlede) en dr. Peter Shields, die twee bekendste van Leipoldt se ‘grootmaakkinders’. Mnr. Leipoldt kon in 'n gesprek van bykans drie uur baie inligting verskaf, terwyl dr. Shields tydens 'n besoek aan hom en sy vrou in Berkhamsted, Brittanje, naas verdere inligting ook drie waardevolle notaboeke met Leipoldt se aantekeninge oor sy pasiënte tydens sy jare as pediater in Kaapstad aan my oorhandig het. Hierdie boeke het ek intussen vir bewaring by die Universiteit van Kaapstad besorg. Mnr. H.D. Büttner, 'n boorling van Wupperthal, was so vriendelik om die eerste vier hoofstukke te lees en waardevolle kommentaar oor dié gebied en die geskiedenis van die Duitse sendelinge te lewer. My vriend prof. Kay de Villiers het my aan die hand geneem om die diep waters van die geneeskunde, wat ek van tyd tot tyd moes inwaad, veilig deur te swem en my bewus gemaak van aangeleenthede wat ek sonder sy hulp alleen met moeite sou kon agterhaal het. Ek wil hom besonder bedank dat hy my in'n baie vroeë stadium van my ondersoek gewys het op die sentrale plek wat die gedig ‘Sendelingskinders’ in Leipoldt se poësie inneem en watter belangrike sleutel dit tot sy psige is. Daarby het hy 'n groot bydrae gelewer deur my in verbinding te stel met mev. A.M. Luyendijk-Elshout van Oegstgeest, Nederland, wat afdrukke van enkele bladsye en tekeninge uit 'n agtiende-eeuse mediese geskrif beskikbaar gestel het. Daarmee is een van die tergendste raaisels tydens my Leipoldt-ondersoek opgelos. My hartlike dank ook aan mev. Luyendijk-Elshout. Mnr. Chris Barnard het 'n belangrike bydrae gelewer deur my op die spoor van Jeff Leipoldt te bring, terwyl sy vrou, Katinka Heyns, so vriendelik was om 'n kopie van haar voortreflike film oor Leipoldt, Slampamperman, tot my beskikking te stel. Aan hulle albei my hartlike dank.
Verder wil ek my dank uitspreek teenoor die volgende persone met wie ek almal onderhoude kon voer of van wie ek inligting op skrif ontvang het: dr. C.F. Albertyn, prof. Hennie Aucamp, ds. A.J. Beukes, mev. Audrey Blignault, me. Amanda Botha, mev. Susanna Bruins, mnre. Rayford Daniel en Attie de Villiers, proff. Stephen Gray en Deon Knobel, mevv. Ria le Roux en Nestie Mouton, dr. C.A.R. Schulenburg, mnre. Reinhold Strassberger en Hannes van der Merwe, prof. J.D.F. van Halsema, dr. A.J. van Zyl, mnre. Paul van Zyl en W.P.L. van Zyl en mev. Leona Visser.
In die meeste gevalle word in die loop van die teks of by die verwysings die datum van 'n brief of publikasie vermeld. Waar die vindplaas nie genoem word nie, is dit aanwesig by die Leipoldt-dokumente in die Jagger- | |
| |
biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad. Waar ek dit nodig gevind het om dié bewaarplek spesifiek te vermeld, word dit slegs aangedui as Jagger. In die geval van die M.P.O. Burgers-versameling, waarvan ook druk gebruik gemaak is, word slegs die naam Burgers of Staatsargief (na gelang van die konteks en sinsverband) vermeld. In alle ander gevalle, byvoorbeeld gegewens by NALN of die Stellenbosse Dokumentasiesentrum, word die bewaarplek (en, waar toepaslik, versameling) in elke geval vermeld.
Omdat baie van die waardevolste Leipoldt-materiaal alleen in Londen en Amsterdam te vinde is, het ek van die begin af geweet dat 'n Leipoldt-biografie 'n duur onderneming sou wees. Uit die feit dat Leipoldt se ouers sendelinge op Soematra was, dat hy met ‘'n drang na die Ooste’ in sy ouerhuis grootgeword het, dat hy self dié eilandryk in 1912 besoek het en dat die Ooste 'n sterk neerslag in sy werk vind, het dit vir my duidelik geword dat 'n besoek aan Indonesië vir 'n behoorlike biografie oor Leipoldt essensieel sou wees. Self het ek egter nie oor die middele vir sulke ondernemings beskik nie. Om die uitgawes aan hierdie reise en verblyf, en ook uitgawes aan fotokopieë, kassette, tikpapier e.d.m., te dek, het ek - deur bemiddeling van wyle mev. Rona Rupert - 'n ruim finansiële toekenning van dr. Anton Rupert van Stellenbosch ontvang. Daarvoor spreek ek my hartlike dank uit, want sonder dié hulp sou hierdie biografie nooit tot stand gekom het nie. Ek is ook dank verskuldig aan Rapport en die Van Ewijck-Stigting vir toekennings om navorsing in Nederland te doen en aan die Karoo-Boekehuis op Calvinia vir verblyf tydens my werk aan die projek. Mnre. P.A. Joubert en Danie Botha het met hul gebruiklike deeglikheid die manuskrip deurgegaan, terwyl mnr. Malcolm Bates - soos in die geval van my Langenhoven-biografie - vir 'n voortreflike omslagontwerp en vir die tipografie verantwoordelik was. Aan hulle al drie my besondere dank.
j.c. kannemeyer
Stellenbosch
30 Januarie 1998 |
|