Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 381]
| |
Deel IV
| |
[pagina 383]
| |
Hoofstuk XVI
| |
[pagina 384]
| |
wortel...(van die Afrikaner se) kwaad is dat hy 'n beterweter is. Sy beter-wetenskap bestaan daarin dat elkeen beter weet as al die ander wat elkeen beter weet as hy en beter as mekaar. Daarom kan jy nooit 'n Afrikaner-leier kry nie. Net so gou as jy een het, het jy twee; en daar is skaars twee of elkeen van die twee is weer twee; nes die onsterflike, ongebore, eensellige kiemgoggatjies wat die merkwaardige rekenkundige probleem opgelos het om met verdeling te vermenigvuldig.’Ga naar eind7 Maar Langenhoven kon hierdie erns afwissel deur vlymskerp met veral die Sappe te spot. In De Burger van 22 Augustus 1916 verskyn die volgende geboorteberig: ‘Heden schonk ons de Heer een frisse Z.A.P. Beide ogen open.’ Dit laat Langenhoven as volg reageer: ‘Vergun mij om die enigste beswaar wat ik tegen die advertensie het te melde. Ik beskouw dit namelik nie billik om die Here die skuld te gee nie. Anders sou ik dit prijs van die ouers om nie 'n gegeede perd in die mond te kijk nie; viral wanneer jouw oge toe is en sijne oop.’Ga naar eind8 Reeds in 1915, kort na die totstandkoming van die Nasionale Party, stig Langenhoven 'n tak op Oudtshoorn, waarvan hy die eerste voorsitter word. Betreklik vroeg is hy in die hoofbestuur van die Kaaplandse Nasionale Party en van 1929 tot sy dood voorsitter, terwyl hy van die begin af lid was van die Federale Raad. In Maart 1915, toe hy reeds 'n jaar lank LPR vir Oudtshoorn was, word hy deur A.P. van der Merwe gevra om in die komende verkiesing vir die Volksraad die Nasionale Party se kandidaat in Ladismith te wees. Volgens Van der Merwe wil hulle iemand in die veld stoot in wie hulle vertroue het, wat met die Hollandssprekende bevolking simpatiseer, wat belang stel in hulle distrik en wat sterk genoeg is om die sittende SAP-lid te beveg. Ook van I.J. Marais ontvang hy 'n soortgelyke brief. In sy antwoord sê Langenhoven dat hy ook uit Oudtshoorn deur verskeie persone genader is, maar dat hy tog Ladismith sal oorweeg. ‘Maar’, so skryf hy, ‘ik moet u, en die vriende wat mij die eer aangedaan het om mij deur u en ook direkt te nader, uit die staanspoor uit eerlik behandel. Ik vrees dat ik nie 'n al te bruikbare stemvrijer sal uitmaak nie. Ik sal vireers nie mijn opienies buigbaar en inskiklik maak net om stemme te vang nie, maar elke kieser reguit seg wat mijn oortuiging is en dan kan hij voor mij stem of teen mij stem soos hij wil. En ik sal geen man persoonlik om sijn stem vraag of laat vraag nie, hoewel ik natuurlik gewillig sal wees om in alle wijke vergaderinge toe te spreek. Dit seg ik vooraf om nie diegene te mislei nie wat natuurlik graag die belowendste opposiesie- | |
[pagina 385]
| |
kandidaat sou wil opset om julle teenswoordige jabaas-lid uit te krij. So iemand sal natuurlik net so goedkoop wees met sijn konsensie wanneer hij eers in die Parlement is - en daardeur lijk ons politiek vandag so dat ons nie weet wat van ons oorspronkelike Afrikaanse Partij geword het nie; dat ons met Botha en Hertzog tussen die duiwel en die diep blou see is; en dat ons nie tien politikusse in die land het wat hulle siel hulle eige kan noem nie.’Ga naar eind9 Tog het Langenhoven uiteindelik 'n moontlike kandidatuur vir Oudtshoorn verkies, selfs al moes dit dan deur 'n nominasiestryd voorafgegaan word. In 'n berig in De Burger word verslag gedoen oor 'n vergadering van Nasionaalgesindes wat op 23 Julie 1915 op Oudtshoorn gehou is om 'n kandidaat vir die Volksraad aan te wys. Die vergadering is ontwrig deur 'n twintigtal Sappe wat op die galery tussenwerpsels gemaak en drie hoera's vir die Koning en Botha geskree het. Daarna is Langenhoven se vriend Atties Fourie tot voorsitter verkies. As kandidate is voorgestel Atties Fourie (wat dadelik teruggetrek het), John Anderson, C.J. Serfontein en Langenhoven. Op 'n voorstel is besluit dat die kandidate eers toesprake moes hou. In sy toespraak sê Langenhoven dat die verkiesing nie net in die belang van die distrik is nie, maar in belang van die volk in sy geheel, aangesien die uitslag die toekoms van ons nasie raak. Hy bely sy onbevoegdheid, maar verseker die gehoor van die één bevoegdheid waaroor hy wel beskik: waar daar ooit 'n uitdraaipad kom en 'n keuse noodsaaklik is, sal hy nie die koers van sy eie nasie laat vaar om die koers van 'n ander nasie in te slaan nie en dat hy nie uit vrees of guns vir enige mens in die wêreld vir 'n voorstel sal stem wat volgens sy oortuiging verderflik vir die belange van die Afrikanervolk is nie. Met verlof van die voorsteller en sekondant trek Anderson daarop sy benoeming terug. Serfontein se toespraak was 'n bietjie deurmekaar en na ondervraging van hom en Langenhoven trek ook hy sy kandidatuur terug. Daarop word Langenhoven benoem tot Nasionale kandidaat vir die Oudtshoorn-setel. In sy toespraak wat hierop volg, wys Langenhoven daarop hoe vergaderings van die Nasionale Party deur die Sappe met die gooi van dooie katte en vrot eiers ontwrig word. Hy wys ook op die vyandigheid van die Engelse pers en die dreigemente om Nasionaliste in die tronk te gooi. Die konstitusie vereis egter van die burger verantwoordelikheid en van die regering 'n konstitusionele handelswyse. In plaas daarvan kry ons stakings deur arbeiders, geweld deur Britse onderdane teen weerlose | |
[pagina 386]
| |
Duitsers in Duitswes (‘wat beter bewijs sou word in die loopgrawe in Europa waar daar gelegenheid is om die Duitse legermag te verminder’), krygswet en rebellie. Langenhoven het die Rebellie in die Vrystaat veroordeel, want ons moet 'n keuse maak tussen die konstitusionele hantering van ons griewe en gewapende verset. Die wyse waarop die regering egter teen rebelle, in die besonder teen Jopie Fourie, opgetree het, is 'n voorbeeld van die wanbestuur wat tans aan die orde van die dag is. Daarby word die taalregte van die Hollandssprekende bevolking steeds verontagsaam. Met die verkiesing op 20 Oktober 1915 kon Langenhoven nie daarin slaag om Oudtshoorn vir die Nasionale Party te verower nie. Hy het 1 069 stemme op hom verenig, terwyl die SAP-kandidaat, J.H. Schoeman, 1 350 en die Arbeider, A.F. Symons, 36 stemme gekry het. Langenhoven verloor dus die verkiesing met 281 stemme. In hierdie verkiesing - die eerste sedert die stigting van die Nasionale Party - het die Suid-Afrikaanse Party van Botha 54 setels verower, terwyl die Unioniste van sir Thomas Smartt 39 verteenwoordigers gekry het. Daarteenoor het die Nasionale Party 27 kiesafdelings gewen en die Arbeiders 4, terwyl 6 Onafhanklikes verkies is. Dit was vir die Nasionale Party teleurstellend dat dr. D.F. Malan in Cradock en mnr. W.A. Hofmeyr in Beaufort-Wes verslaan is. Aangesien die Unioniste hulle vir alle praktiese doeleindes by die Suid-Afrikaanse Party geskaar het, was die regering van Botha en Smuts dus nog ver in die meerderheid. Langenhoven was egter steeds lid van die Kaaplandse Provinsiale Raad. In sy bydraes vir De Burger gaan hy voort om die saak van die Nasionale Party te bevorder, veral deur heftig te reageer op die jingomentaliteit van baie van sy teenstanders. In 'n Sagmoedige Neelsieartikel van ná die oorlog skryf hy onder die titel ‘Ryk-Famielie’Ga naar eind10 oor die verarmde Brittanje wat nou sy dominiums wil inspan om grondstowwe te stuur en hom so van ekonomiese ondergang te red. Die ryk familie het nou arm geword. Eeue gelede het sekere frases, soos die ‘Heilige Romeinse Empaaier’, mense heeltemal ‘beswaap’. Deesdae is dit die ‘British Commonwealth of Nations’, die ‘Pax Britannica’ en ‘the Empire on which the sun never sets’. Hy gaan voort: ‘Solank as die Empaaier 'n voordelige toevlugsoord was vir die avonturiers en behoeftiges van die home-bevolking, en hy die bande met hulle heg gehou het en hulle met hom, sodat hulle harte tuis gebly het terwyl hulle hande elders geld gemaak het, was dit vir die uitgewekenes sowel | |
[pagina 387]
| |
as vir die home-blywendes 'n baie mooi sentiment en 'n baie mooi materiële reëling ook, dat die Empaaier hulle beskermer was oor die aardbol rond en hulle sy dienaars om grondstow we te kry en 'n afsetgebied te verseker. Dat dit geskied het ten koste van die ou bevolkings wat vir hierdie reëling moes opdok, het nie die minste saak aan die sentiment of aan die vrome frase gemaak nie. 'n Man kan maklik vroom wees solank dit voordelig is.’ As tye egter verander en die ryk familie arm word, is dit 'n ander storie. As gevolg van die uitputting van sy steenkoolvoorrade, die wedywering van gelyk-bevoorregtes en 'n wêreldoorlog is Brittanje se ekonomie só verswak dat hy nie meer sy skuld kan betaal en sy werkloses kan onderhou nie. Wat moet nou gedoen word, vra Langenhoven. Hierop laat hy Brittanje self antwoord: ‘Roep my ryk-famielie bymekaar wat hier weg is as my arm-famielie. Die Dominiums sal my red. Hulle sal bydraag tot die vloot sodat ek weer die waves kan rule; hulle sal hulle grondstowwe nie self bewerk in hulle eie fabrieke nie maar hierheen stuur om myne soos van te vore aan die gang te hou; hulle sal 'n mark wees vir my afset; hulle sal hulle goud soos voorheen hierheen stuur en self op 'n papierbasis bly soos waar ek heen verval is om geen voorsprong in die buitewêreld te kry nie; hulle sal selfs duurder betaal vir die ware wat ek hulle stuur as wat hulle dit van ander plek kan kry want hulle sal uit liefde en jammerhartigheid tariefhekke opsit teen my mededingers.’ Met so 'n stuk het 'n mens 'n illustrasie van Langenhoven se satiriese vermoë, die honende spot waarmee hy gevestigde belange kon ondergrawe en tot die ware motiewe van 'n persoon of instansie kon deurdring. Dat hy dit hier het teen Brittanje se uitbuiting van sy dominiums, moet 'n mens lees teen die agtergrond van Langenhoven die prokureur wat deur sy praktyk dikwels met bedrog, skuld en uitbuiting te make gehad het, Langenhoven die taalstryder wat saam met Hertzog gelyke beregtiging vir sy eie taal wou verkry en Langenhoven die politikus wat in die beleid van Smuts en sy vryery met Brittanje 'n afvalligheid van die eie land en van die beginsel van ‘Suid-Afrika eerste’ gesien het. Met sy pakkende stelwyse en sy meevoerende betoog kon hy baie lesers boei en tot sy standpunt oorhaal. Die Nasionale Party was gelukkig om in sy vroeë jare 'n skrywer van die polemiese en satiriese formaat van Langenhoven te hê. | |
[pagina 388]
| |
IIAs daar kandidate vir die Volksraadsverkiesing van 1920 benoem moet word, nader verskeie mense weer vir Langenhoven om hom op Oudtshoorn beskikbaar te stel. Alhoewel hy gelukkig was in die Provinsiale Raad, aanvaar hy die benoeming. Onmiddellik na die nominasie het S.P. le Roux, in daardie stadium 'n boer op Middelplaats naby De Rust en 'n groot vriend van Langenhoven, na Arbeidsgenot gegaan en sy hulp tydens die eleksiestryd aangebied. Saam is hulle dag na dag in Le Roux se Fordkarretjie deur die kiesafdeling om oral op plase vergaderings te hou en organisasiewerk te doen. Tydens die vergaderings het dit Le Roux telkens opgeval met watter nougesette eerlikheid Langenhoven die stryd voer en watter voortreflike spreker hy was.Ga naar eind11 Aan huisbesoek tydens die eleksie het Langenhoven egter nie geglo nie en hy het dit aan ander oorgelaat om stemme te werf. Só sterk was sy gevoel oor dié saak dat hy selfs nie wou toelaat dat Le Roux 'n leë petrolblik vir 'n plaasvrou aanbied nadat hy sy motor volgemaak het nie. ‘Ons koop nie stemme nie’, was sy woorde. Met die verkiesing op 10 Maart was Langenhoven suksesvol. Hy verenig 1 545 stemme op hom, terwyl mnr. A.H. Mulder van die Suid-Afrikaanse Party net 1 320 stemme kon kry. Langenhoven verower die setel dus met 'n meerderheid van 225. Alhoewel die Nasionale Party nie die verkiesing landswyd kon wen nie, het hy in die vyf jaar sedert 1915 geweldige vordering gemaak en as die sterkste enkele party uit die verkiesing getree. Hy het sy seteltal van 27 in 1915 tot 44 opgeskuif, terwyl die Suid-Afrikaanse Party slegs 41 en die Unioniste slegs 25 kiesafdelings kon verower. In vergelyking met 1915 moes die Sappe dus 13 en die Unioniste 14 setels afstaan. Nie al hierdie verliese was egter winste vir die Nasionale Party nie, want die Arbeiders het hulle seteltal van 4 tot 21 opgestoot en uit die verkiesing getree as 'n faktor waarmee deeglik rekening gehou sou moes word. Tydens die verkiesingstryd het Langenhoven by geleentheid op sy gebruiklike geestige manier verwys na die onbevoegdheid van die Sappe se organiserende sekretaris, wat op die verhoog ‘'n nat vadoek’ is, iemand wat aan die gehoor die indruk gee ‘van 'n baie bekwame koster wat liewer by 'n bruilof sou opgetree het’. Nou is dit egter 'n begrafnis en hy moet maar sy bes doen. Hy meen die Sappe kon nie ‘'n beter | |
[pagina 389]
| |
lykbesorger’ kry nie! Na afloop van die verkiesing kon Langenhoven weens skielike ernstige ongesteldheid nie die onthaal bywoon wat vir hom voorberei is nie. In 'n brief aan De BurgerGa naar eind12 spreek hy sy dank uit teenoor almal wat hom in die stryd gehelp het. Hy meen hulle het 'n opdraande stryd in Oudtshoorn gehad, veral omdat die teenparty van kop tot toon gewapen was en omdat die kiesafdeling net so sterk stedelik as plattelands - dit wil sê Engels- as Afrikaanstalig - is. Daarby was die kandidaat ‘nie die voordeligste soort perd om op die reisies te set nie’. Hy het, so skryf Langenhoven, ‘vooraf geseg dat ik geen huisbesoek sou doen, dat ik niemand persoonlik om sij stem sou vra en dat ik niemand sou vra om vir mij te werk nie; en hieraan het ik mij stiptelik gehou. Soiets mag nou mooi independent lijk, maar dis nie besigheid nie.’ Die oorwinning is dan ook bereik deur die ‘onvermoeide ijver en offervaardigheid van al ons mense’. Noudat hy verkies is, moet hy en sy kollegas in die Volksraad 'n opdraande stryd voer en met 'n minderheid sukkel ‘teen 'n kombinasie wat nog koers nog prijs waardeer’. Daar is egter een ding waarteen geen meerderheid of oormag bestand is nie, dít ‘wat agter die vordering sit wat ons reeds gemaak het op die bittere sware opdraande pad. Die een ding gaat alle stoffelike tegestand te bowe omdat hij geestelik is: dit is die siel van Suidafrika.’ En hy meen dat ook die Sappe deelgenote is in ‘die eindelose liefde van die siel van Suidafrika.... Dit kan mos nie anders wees nie! En daar kan nie hier twee liefdes wees nie, daar is maar een en hij sal ons weer een maak: die Sap en die Nat. Ons sal nog weer bijmekaar kom; die ompad en die napaadjie, al lewer die een meer tegespoed op als die ander.’ Hulle sal weer bymekaar moet uitkom, want albei lei na ‘die een gemeenskappelike bestemming’. In die Kaapse Provinsiale Raad kon Langenhoven as leier van die Nasionale Party sy man staan teen die gedugte en outokratiese administrateur, sir Frederic de Waal. Die vraag was egter of hy in die Volksraad sou aard en of hy die nodige geduld aan die dag sou lê as hy in die koukus nie gou genoeg sy sin kon kry nie. Wat sy vriend S.P. le Roux gevrees het, is gou bewaarheid. Langenhoven was ongelukkig in die Volksraad en gefrustreerd as hy nie sy oogmerke gou genoeg kon bereik nie. Kort na die verkiesing het hy op Ladismith aan S.P. le Roux gesê hy wil teruggaan na die Provinsiale Raad en dat sy vriend hom dan in sy plek vir die Volksraad moet beskikbaar stel.Ga naar eind13 Hiervan wou Le Roux egter nie hoor. | |
[pagina 390]
| |
Ten spyte van sy aanvanklike teleurstelling met die opset van die Volksraad was Langenhoven van die begin af een van die indrukwekkendste sprekers van die Nasionale Party. Meestal het hy geen uitgewerkte voordrag of selfs aantekeninge voor hom gehad nie; hoogstens 'n lys punte wat hy in sy sak gedra het. As hy begin praat, was dit egter - soos M.E.R. dit by geleentheid gestel het - of jy 'n sterk sydraad uit 'n gespanne kokon sien afrol. Aan die begin het hy gewoonlik met 'n grappie of 'n paar van sy eienaardige bogpraatjies die aandag van die ander lede gegryp en hulle van daar na die kern van sy betoog gevoer.Ga naar eind14 Voortdurend kon hy in die Volksraad van luim verander en 'n sekere afwisseling in sy toesprake bring, in so 'n mate dat die lede nie presies wis wat die volgende oomblik sou volg nie en dus met gespanne aandag geluister het. Tussendeur kon hy dan by herhaling sy kwinkslae en woordspelings invleg. As dit bekend geraak het dat Langenhoven op 'n bepaalde dag aan die woord sou wees, het lede gesorg dat hulle op hulle plek is om na hom te luister. In die parlementêre teekamer en in die Kaapstadse Koffiehuis, waar Langenhoven dikwels gekom het, het mense hulle om hom geskaar om al sy slim sêgoed te hoor. In die Volksraad het hy dikwels ook in Engels gepraat, iets wat hy voortreflik kon doen. Met sy redenaarsvermoë en sy insig in sake het Langenhoven dus by almal, ook by sy politieke vyande, respek afgedwing. By geleentheid het hy tydens 'n politieke vergadering op Oudtshoorn met 'n taamlik vyandige gehoor te make gehad. Hy sou sy toespraak in Engels lewer, maar die gehoor het hom van die staanspoor uitgejou en in die rede geval. Toe maak hy aan hulle 'n ‘sporting offer’: hy moet toegelaat word om net vyf minute ongestoord te praat en dan kon die gehoor self besluit of hy moet voortgaan of nie. Die lawaaimakers aanvaar die voorstel en Langenhoven trek los met sy indrukwekkende Engels en 'n logiese betoog. Naderhand kyk hy op sy horlosie en sê: ‘Gentlemen, the five minutes have elapsed. Shall I continue?’ Van alle kante kom die antwoord: ‘Yes, continue, go on speaking.’ Hy het hulle binne dié paar minute in die holte van sy hand gehad.Ga naar eind15 Naas sy optrede in die Volksraad en op politieke vergaderings het Langenhoven met sy toetrede tot die Parlement ook 'n gewilde spreker vir allerlei ander geleenthede geword. Reeds sedert sy Akademierede oor ‘Afrikaans as voertaal’ in 1914 was hy by 'n klein kring akademici bekend as 'n voortreflike spreker, terwyl hy dikwels in Oudtshoorn en | |
[pagina 391]
| |
omgewing voor skoliere opgetree het. Nou het sy voortreflikheid as redenaar algemener bekend geword. Naas sy logiese betoog en presiese woordkeuse en stelwyse was daar sy besondere geestigheid en sy vermoë om blitsvinnig te antwoord. Veral by 'n Stellenbosse studentegehoor het hy groot aanklank gevind. Dikwels het hy met hulle oor politieke kwessies gepraat, maar die onderwerp aanvanklik opsetlik vaag gehou sodat niemand kon weet ‘presies watter aap daar uit die mou sou kom nie’.Ga naar eind16 Dikwels het hy aan die begin sy onvermoë bely om oor die spesifieke onderwerp te praat, maar dan as verskoning aangevoer dat hy nooit vir Stellenbosch nee kan sê nie. Meestal was sy rede dan juis 'n besondere bydrae. Wat 'n mens veral opval in sy talle redes en toesprake - waarvan net 'n klein aantal in die Versamelde werke verskyn - is Langenhoven se wye belangstellingsveld en kundigheid. Hy kon oor onderwerpe praat wat wissel van letterkundige styl en ‘die roeping tot verheerliking’ tot kwessies soos inkomste en uitgawe en die vooruitsigte van die Britse Ryk. Gewoonlik was die teks nie vooraf uitgewerk nie en het hy dit eers agterna op skrif gestel. Van betreklik vroeg af het hy 'n renons gehad in verslaggewers wat sy woorde nie presies kon weergee nie of heeltemal verdraai het. Hy het verkies om self verslae oor sy vergaderings te skryf of om glad nie gerapporteer te word nie. By meer as een geleentheid het hy hom sterk uitgespreek teen verslaggewers wat slordige werk doen en in 'n moedswillige oomblik het hy hulle beskryf as ‘our anonymous opponents who can lie with impunity and are paid to misrepresent’, 'n uitspraak wat hom die gramskap van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Joernaliste op die hals gehaal en tot 'n heftige briefwisseling gelei het.Ga naar eind17 'n Ander keer het hy sy afkeer 'n bietjie hofliker gestel en sy besware in meer besonderhede aan die begin van sy toespraak geformuleer: ‘I see there is a reporter again, already primed. On two former occasions I made the request not to be reported, but I was reported notwithstanding, and wrongly reported. A reporter is not necessarily dishonest, but it is simply impossible to condense a reasoned speech to a fourth or tenth of its length and do justice to the speaker. If he says two things in connection and one is omitted, then no matter how accurately the other is given, there is a misrepresentation.’Ga naar eind18 Ten spyte van sy besondere redenaarsvermoë en sterk politieke aanvoeling was Langenhoven nooit 'n politikus of parlementariër in die | |
[pagina 392]
| |
tradisionele sin van die woord nie. Hy was wel 'n vegter en stryder, maar primêr was die doel van sy toetrede tot die politiek die bevordering van die Afrikaanse taal in die besonder en die nasionale strewe van die Afrikaner in die algemeen. Hy het dan ook nie dikwels van 'n spreekbeurt in die Volksraad gebruik gemaak nie. In 'n resensie oor Die pad van Suid-Afrika wat in Oktober 1921 in Die Brandwag verskyn,Ga naar eind19 sê sy letterkundige kollega Eugène N. Marais dit is jammer dat Langenhoven sy tyd aan ‘sulke nodelose prutserij’ soos wette moet afstaan. ‘Ik het hom nog nie in die Parlement bijgewoon nie,’ skryf Marais, ‘maar hul vertel mij dat hij daar nie eintlik beantwoord nie - tenminste d.w.s. nie uit die standpunt van die “party-hack” of die gedweë stem-hamel nie. Hij stel nie genoeg belang in al die blinkerige bog waarmee die wetgewer se arbeid omgewe is, en hij stel ook nie genoeg belang in al die wetjes en mosietjes en dingetjes, wat daar van dag tot dag voorgebreng en uitgepluis word van hoekie tot kantje en weer terug, en uitgerafel en deurgevleg met 'n gestadige misreën van kleurlose woorde.... Maar, as Langenhoven denk dat 't nodig is om te praat - só word mij tegelijkertijd verseker -, dan luister almal aandagtig. Hij praat nie of hij moet iets te sê hê, en dan sê hij dit op 'n wijse wat 't tot 'n plesier maak om naar hom te luister. Hij is en blij ook daar meer kunstenaar as wetgewer, hoewel die atmosfeer van ons wetgewing helaas maar baie min met kuns uitstaande het.’ Juis Langenhoven se onvermoë om tot 'n geykte politikaster te ontwikkel, was dikwels die bron vir sy goedige spot met die parlementêre verrigtinge en die mense wat hy daar leer ken het. Vir die Nuwejaarsnommer van Die Burger in 1922 maak hy 'n aantal tekeninge van parlementariërs, met versies by sommige van hulle. Oor dr. D.F. Malan, iemand wat lank oujongkêrel was en eers op gevorderde leeftyd getroud is, skryf hy byvoorbeeld: Dokter Malan
Is ons almal se man,
'n Eersteklas leier
En 'n vastrap-bakleier -
Maar eenkanttoe is hy nog altyd geweier:
Hulle sê hy's te koud en bedaard vir 'n vryer.
Dus dokter Malan -
Is nog niemand se man.Ga naar eind20
| |
[pagina 393]
| |
Oor sy medeskrywer Jannie de Waal, van wie hy in sy ‘Engelse’ dae niks gehou het nie, laat hy hom baie gunstig uit, maar met 'n bietjie hekeling oor sy vriend se Bolandse uitspraak: ‘Jannie het vir Afrikaans geywer toe die meeste van ons wat uit die nuwe-mode-se kringe ontspruit nog ons melkbotteltjies stukkend gegooi het. En nie net geywer, soos sommige mense wat hulle mond vol liefde het vir ons taal omdat al die liefde wat hulle het dáár is nie - maar Jannie het geywer en gestry en gewerk en honderde vir die eerste maal in hulle eie taal aan die lees gekry. En daarvoor is sy verdienste onskatbaar. En nou sou ek, net om Jannie te terg, want hy is vreeslik kort-gebonde, nou sou ek met 'n lawwe ou spotrympie kom om te skimp dat daar 'n krakie is aan Jannie se Afrikaanse uitspraak - so een, byvoorbeeld: Nief Dsjannie de Waal
Spriek die Boelandse taal;
Vir neus seg hy nuus,
En hy's klein vir 'n ruus -
Maar hy staat op sy poetsjie
Soe vas as 'n paal;
En hy leer vir sy groetsjie
Om die kos uit 'n eier te haal.
‘Dit sou mos onvergieflik onduuend wies.’Ga naar eind21 In dieselfde artikel praat Langenhoven oor die wrede ontnugtering wat op 'n nuwe parlementariër by sy eerste sitting wag. ‘'n Man kom die eerste maal parlement toe’, skryf hy, ‘met 'n wonderlike rooskleurige idee van die hamerhoue wat hy hier sal slaan...; en daar is miskien hier en daar van sy ondersteuners wat ook so 'n verhewe dunk van hom koester - hoewel dit nog lank nie met almal so is nie, want gewoonlik stem 'n mens maar nie vir hierdie kandidaat omdat jy hom liefhet nie, maar teen daardie ander een omdat jy hom haat. Maar tog op 'n man se eie eleksie-vergaderings is jy geneig om die oordrewe waarde aan jou eie betekenis te heg van die hoenderhaan op sy eie mishoop. Die platform is joue alleen; wat daar langes jou sit, voorsitter en vertoonmakers, is almal daar om jou aan te beveel; die gehoor is daar om na jou te luister - want daar is niemand anders nie; selfs die opposisie wat daar teenwoordig is, dra tot die indruk by want dis om jou ontwil wat hulle daar is.’Ga naar eind22 As so 'n man nou na die Volksraad kom, verwag hy dieselfde | |
[pagina 394]
| |
ontvangs en entoesiasme. Maar, so gaan Langenhoven voort, hy merk gou ‘dat geen mens die minste notisie van jou neem nie, buiten jou vrou daar bo op die galery (as jou huwelikslewe taamlik gelukkig was of nog nie lank geduur het nie). Die ander lede gesels onder mekaar of lees of skryf of gaap of slaap of stap uit - buiten díe wat nog nie aan die beurt was nie en daaraan wil kom en klaar sit om een voor die ander op te spring so gou as jou armsalige kraantjie leeggetap is. Want hier is jy geen kampioen nie buiten van jouself, en wie anders stel in daardie saak belang? Al die ander lede, vriend en vyand, is jou konkurrente - almal bieërs op die vendusie waar aandag so duur verkoop word, almal tongambagsmanne net soos jy - en waar kry jy die ambagsman wat van dag tot dag en week tot week en maand tot maand sal rondloop om die werk van sy mededingers te bewonder?’Ga naar eind23 Hierdie geestige siening van die verrigtinge in die Parlement - tog weer nie heeltemal van die werklikheid verwyder nie! - vind 'n mens ook in ‘Belangstelling’ in Die opdraande pad, oorspronklik in Augustus 1920 as lesing voor die Filosofiese Vereniging op Stellenbosch gehou. Langenhoven skryf: ‘Toe julle voorsitter, mnr. Blignault, my laaste Vrydag daar kom sien het om die regeling van hierdie lesing met my te bespreek, was daar 'n belangrike maatreël onder behandeling. Nou meneer Blignault sal julle sê - hy het seker alreeds aan die Filosofiese Vereniging verslag gedoen - dat 'n aanmerklike proporsie van die volksdienaars van wie die uiteindelike beslissing van daardie maatreël afhanklik is, in die korridor besig was met rook en koffie drink en grappies vertel. Nadat ons self daar koffie gedrink het, het ek hom 'n toegangskaartjie gegee na die galery vanwaar hy die verrigtinge kon waarneem van die belangrikste wetgewende liggaam van die Unie van Suid-Afrika. Die banke van die Raadsaal was vir 'n driekwart leeg. Die lede wat nog daar was - wat alreeds koffie gehad het of dit later sou gaan drink - was besig om te sit en skryf, of gesels, of lees, of gaap, of slaap. En al die tyd deur was daar 'n gedreun van 'n ernstige stem - die stem van 'n roepende in die woestyn. Eén van die lede, wat self nie geluister had na sy voorganger nie, was besig om die Raad toe te spreek. Sy enigste toehoorder was meneer Blignault daarbo in die galery; en oor 'n uur of so het die spreker gaan sit of gaan koffie drink, en 'n ander lid het weer aan die praat geraak vir sy eie vermaak. Teen hierdie tyd het meneer Blignault sélf al moeg geword en geloop. Had hy 'n weinigie versuim sou hy die klokkie hoor lui het vir 'n kworum. | |
[pagina 395]
| |
Maar julle voorsitter had dit ongelukkig getref met die tyd van sy besoek, en ek vrees sy rapport aan die Filosofiese Vereniging sal eensydig wees. Had hy nou daar te lande gekom wanneer daar 'n rusie aan die gang was, of 'n dramatiese aankondiging deur een of ander partyleier, of daar was 'n lid aan die praat wat die kuns verstaan om interessant te wees deur uitskelvaardigheid, of humor, of originaliteit, of dramatiese instink, of treffende welsprekendheid, dan sou hy belangstelling waargeneem het: in een geval die luidrugtige belangstelling van 'n sirkus; in die ander, meer seldsame, die sugtende stilte wat van diepe roering getuig.’Ga naar eind24 Langenhoven was net 'n jaar lank lid van die Volksraad, maar reeds uit hierdie tyd dateer die talle staaltjies wat daar oor hom in omloop was, baie tot die latere ergernis van Saartjie Goldblatt, wat nie wou aanvaar dat iemand inligting oor haar ‘Chief’ het wat sy nie kon kontroleer of verifieer nie. As ‘uitsluitlike inligtingsbron’ en ‘outoriteit’ oor Langenhoven was sy gesteur oor die mondelinge tradisie wat só ontstaan het. Sy het die oorvertel van staaltjies probeer ontmoedig en in tydskrifartikels die waarheid van baie van dié vertellings in twyfel getrek. As mense oor Langenhoven wou praat, so was haar argument, moes hulle uit sy werk aanhaal, nie steun op die geheue, wat dikwels maar onbetroubaar was nie. Met 'n gewilde figuur soos Langenhoven is dit seker ongetwyfeld die geval dat baie van die oorlewerings legendariese afmetings aangeneem het of selfs heeltemal fiktief was, al kon die geheues van Langenhoven se breë kenniskring darem nie volledig onbetroubaar gewees het nie. Jacob Smit, Langenhoven se Oudtshoornse vriend, het baie van die pittige uitsprake, gesegdes en staaltjies opgeteken in twee oefeningboeke wat vandag by die Langenhovendokumente op Stellenbosch bewaar word. 'n Mens is geneig om hierdie optekeninge as betroubaar te aanvaar, omdat dit in oorleg met Vroutjie gedoen is, al sou ook dié sanksionering nie vir Saartjie voldoende gewees het nie! So het Langenhoven by geleentheid in die Volksraad gesê dat die helfte van hierdie huis donkies is. Toe die Speaker hom versoek om die uitspraak terug te trek, was sy antwoord: ‘Meneer die Speaker, ek trek terug. Die helfte van hierdie huis is nie donkies nie.’ Saartjie was verontwaardig oor hierdie staaltjie en het die getrouheid daarvan verwerp op grond van die feit dat Langenhoven volgens haar nooit kleinlik-kwetsend in sy optrede was nie. Tog kan 'n mens, gedagtig aan Langenhoven se kombinasie van geestigheid en moedswil, sê dat so 'n uitspraak ten minste in die gees | |
[pagina 396]
| |
van ander dinge in die Versamelde werke is en beslis kon plaasgevind het. Ook van die ander staaltjies getuig van die kenmerkende Langenhoven-humor en -ratsheid. Volgens C.R. Swart het oom Frans Pretorius, Volksraadslid vir Fordsburg, op 'n dag brom-brom uit die Raadsaal geloop. Toe iemand vra wat dan makeer, sê hy: ‘Ek wens dat parlementslede net wil praat oor dinge waarvan hulle iets weet.’ Langenhoven het onmiddellik geantwoord: ‘Ag nee, oom Frans, jy wil tog nie van die Parlement 'n doofstom-inrigting maak nie!’Ga naar eind25 By 'n ander geleentheid was Langenhoven in die Volksraad aan die woord en het hy iets te skerp geformuleer. Een van die agbare lede het gevra hy moet dit terugtrek. Langenhoven het geweier. ‘Jy het al tevore dinge gesê wat jy moes terugtrek’, antwoord die lid. ‘En jy het nog nooit iets gesê wat die moeite werd was om terug te trek nie.’Ga naar eind26 So iets mag wel ‘kwetsend’ teenoor die betrokke lid gewees het, maar dit is versag deur die ratsheid en onmiddellikheid van die antwoord. Maar Langenhoven kon bitsig wees as hy die dag regtig wou en as daar genoeg aanleiding voor was. Op 'n keer was hy, toe S.P. le Roux kandidaat vir die Volksraad was, saam met hom betrokke by 'n vergadering op Oudtshoorn. Le Roux, later 'n bekwame politikus en nog later 'n knap minister van landbou, was nie juis 'n goeie spreker nie en het altyd gesorg dat hy 'n meer ervare politikus aan sy sy het as hy 'n vergadering moes toespreek. Op die betrokke aand vra een van sy politieke teenstanders, 'n man wat daarvoor bekend was dat hy nie gereeld bad nie, 'n vraag: ‘Mnr. Le Roux, ek wil graag vir jou 'n vraag stel, maar ek rig nie my vraag tot die advokaatjie daar langsaan jou nie. Waarom bring jy altyd brakhondjies met jou saam as jy 'n vergadering kom hou?’ Langenhoven se antwoord was weer blitsvinnig: ‘Ja, ek is 'n brakhondjie, en daarom kon ek jou al ruik voordat ek jou vanaand gesien het!’Ga naar eind27 By 'n ander geleentheid op Oudtshoorn was drie gesette Sapboere aan die gesels toe Langenhoven verbykom. ‘Kerneels’, sê die een, ‘kyk ons Sappe is altyd mooi dik en vet en julle ou spul Nasionaliste is almal maer en tengerige mensies soos jy.’ ‘Ja’, was Langenhoven se antwoord, ‘'n pennie is altyd groter as 'n pond.’ Maar hy kon ook mooi voortborduur op mededelings van ander. In die laaste bydrae wat hy vir sy Aan stille waters-rubriek lewer,Ga naar eind28 maak hy gebruik van 'n verhaal wat deur M.E.R. aan hom vertel is. Om 'n kraaiende hoenderhaan stil te maak, het sy die advies gekry om hom in 'n klein hokkie te sit. As die haan dan opstaan om te kraai, stamp hy sy | |
[pagina 397]
| |
kop en kraai hy nie.Ga naar eind29 Hierdie verhaal maak Langenhoven dan van toepassing op die Parlement. Hy beveel aan dat sprekers in die Volksraad tot veertig minute beperk moet word en dat hulle al sittende moet praat sodat die flambojante gebare van die jong manne minder opsigtelik kan wees. In die Senaat, daarenteen, waar die ou manne nie meer soveel spraakwater het nie en waar hulle nie so lank op die been kan bly nie, moet hulle juis hulle toesprake staande lewer. In albei huise sal daar dan veel minder onsin verkoop word!Ga naar eind30 Alhoewel Langenhoven nie so dikwels in die Volksraad aan die woord was nie, het hy meer as genoeg gedoen om sy party tot diens te wees. Op 'n vergadering wat generaal Smuts op 9 Februarie 1920 op Oudtshoorn hou, stel Langenhoven 'n aantal lastige vrae, onder meer oor die soewereiniteit van Suid-Afrika, die betrekkinge met Groot-Brittanje en die vraag of die land in 'n toekomstige oorlog neutraal sal kan bly. Smuts aanvaar Langenhoven se aanbod om in De Burger op die vrae te antwoord wat skriftelik aan hom voorgelê word, maar kom dié onderneming nie na nie. Dit gee die koerant die geleentheid om striemende prominensie aan Smuts se verbreking van die onderneming te verleen en in 'n reeks hoofartikels uitvoerig op Langenhoven se vrae in te gaan. En in November 1920 lê Langenhoven 'n memorandum voor aan die Werkloosheidskommissie, wat op Oudtshoorn gesit het, en doen hy aanbevelings oor hoe die situasie verbeter kan word. Werkloosheid onder blankes is vir hom deel van die groter vraagstuk van die armblanke: agteruitgang as gevolg van grondverlies, gebrek aan onderwys, knellende droogtes en ander natuurlike oorsake. Hy beveel aan dat die oprigting van fabrieke en nywerhede aangemoedig, opleidingsgeleenthede vir ambagte en volwasse-onderwys uitgebrei en arbeiderskolonies gestig moet word.Ga naar eind31 Die werkloosheid waaroor Langenhoven in sy memorandum verslag gedoen het, was maar een van die probleme waarmee die regerende Suid-Afrikaanse Party in die periode 1919-1924 te make gehad het. Generaal J.C. Smuts het generaal Louis Botha by sy afsterwe in 1919 as premier opgevolg, maar sy probleme was menigvuldig en sy regering een van die ongewildste in die geskiedenis van Suid-Afrika. As gevolg van die depressie onmiddellik ná die Eerste Wêreldoorlog was die ekonomiese situasie uiters ongunstig en was die regering nie in staat om die armblankeprobleem die hoof te bied nie. Die Randse Staking van 1922 het Smuts met militêre ingryping beantwoord, iets wat sy gewildheid | |
[pagina 398]
| |
by die arbeiders nog verder laat afneem het. Reeds die verkiesingsuitslag van 1920 was vir hom 'n aanduiding dat sy party vinnig besig was om veld te verloor en dat hy iets drasties sou moes doen om die verlore steun te herwin. Ná die verkiesing rig hy dan ook uitnodigings tot die opposisiepartye om in die lig van die swak ekonomie die regering te steun en met die Suid-Afrikaanse Party 'n koalisie te vorm. Generaal Hertzog van die Nasionale Party en kolonel F.H.P. Creswell van die Arbeiders wys die uitnodiging van die hand, maar na onderhandelings was sir Thomas Smartt van die Unioniste bereid om met die Suid-Afrikaanse Party te verenig, veral aangesien dié twee partye sedert die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog baie nou saamgewerk het. Om sy posisie te konsolideer en onmiddellik munt uit die versterking van sy party te slaan, het Smuts 'n verkiesing uitgeskryf wat op 8 Februarie 1921 gehou sou word. Langenhoven moes dus binne 'n jaar, en nou in veel ongunstiger omstandighede, weer 'n verkiesing op Oudtshoorn voer. Reeds in September 1920 moes hy vir die kongres van die Nasionale Party na Bloemfontein vertrek en van daar na Victoria-Wes vir vergaderings. Dit is alles vir hom, soos hy op 19 September 1920 aan Sarah Goldblatt laat weet, ‘'n ijdele besigheid’, want hy weet vooraf dat hy net ‘sonde en ergernis van slim mense (sal hê) en niks sal uitvoer nie’ - 'n aanduiding dat hy die politieke gedoentes nie altyd aangenaam gevind het nie. Hy skryf hy ‘voel moedeloos en vies vir die hele wêreld’. In November laat hy haar weet van al die vergaderings wat hy hou en wat maar skraal bygewoon word. Hy is buitendien kwaad dat generaal Hertzog in Bloemfontein met die besoekende Prins van Wallis gaan rondry het, want nou sal hy ‘geen Sap meer kan spot oor snobbery nie!’ In die nuwe jaar begin hy hom, weer met die hulp van S.P. le Roux, vir die komende verkiesing regmaak, al doen hy dit dié keer langsaam en al weet hy dat daar nie veel kans is dat hy die setel kan behou nie. In 'n brief aan Sarah skryf hy in dié tyd: ‘Dis pure gewoel en getwis hier oor die eleksie. Ek sit maar doodstil. Ek laat my nie haastig maak voor dit tyd is om te begin nie. Wanneer ek begin sal ek my uiterste doen. Maar daar is glad geen kans nie.’ Op 26 Januarie 1921 skryf hy: ‘Dit gaat van nominasie-dag af net dag en nag sonder rus. Want als 'n mens nou daarom in 'n geveg is moet jy ook maar spook. Ek is al morsdood kapot soos jij aan die handskrif kan sien. Hoop maar net nie ek sal beswijk voor die eleksie-dag nie.’ | |
[pagina 399]
| |
Met die verkiesing op 8 Februarie 1921 kry dr. J. Raubenheimer van die Suid-Afrikaanse Party 1 668 stemme en Langenhoven 1 553, sodat die Suid-Afrikaanse Party die setel met 'n meerderheid van 115 stemme wen. Alhoewel Langenhoven vooraf blyke gegee het dat hy nie juis 'n kans het nie en dat hy in elk geval nie besonder tuis en gelukkig in die Volksraad gevoel het nie, was die uitslag tog vir hom 'n ontsettend pynlike ervaring. Dit blyk uit 'n brief wat hy op 12 Februarie 1921 aan Sarah Goldblatt skryf. ‘Ek is al effentjies tot verhaal gekom maar nie heeltemaal nie. Ek het mij bijna morsdood gewerk met die eleksie en die reaksie het natuurlik agterna gekom. Verder is ek fris. Ons kon nooit die eleksie hier win nie. Met die registrasielys dood teen ons; met die klompe treine-vol wat hulle hier gebring het; en met onbeskaamde korrupsie wat opelik en op grote skaal gepleeg is was die saak van die begin af hopeloos en ek wis dit. Maar mij deel het ek gedaan en meer als wat enige ander...kon gedaan het. Wat mij die seerste laat voel is dat onreg en bedrog moes bo drijf.’ Die uitslag was vir Langenhoven meer as net die verlies van 'n setel, want sedert sy toetrede tot die politiek in 1914 en die beëindiging van Het Zuid-Westen aan die begin van 1915 was sy salaris as politikus die enigste vaste inkomste wat hy per maand gehad het. As prokureur het hy slegs nog by hoë uitsondering by watersake en as adviseur opgetree. Sy enigste ander inkomste was honoraria vir joernalistieke bydraes en tantièmes op sy publikasies, wat in hierdie stadium nog nie veel ingebring het nie. ‘Oor my toekomstige beweginge en planne het ek nog nie besluit nie’, skryf hy verder in dieselfde brief aan Goldblatt. Hy wil wag tot hy eers weer ‘normaal’ is. ‘Dit lijk nie waarskijnlik’, gaan hy voort, ‘dat mij eie kant vir mij 'n diensplekkie sal hê nie - al wat oorblij sal dan maar wees om mij praktijk te hervat. Ek sou graag skrijwe - maar hoe leef jij daaruit? Intussen loop mij sandjies uit en wat sou kon gedaan gewees het - hoe nederig ook maar hoeveel beter is daar? - is vir my arme ou volkie verlore. Is dit nie gruwelik nie?’ Daar is wel van sy ondersteuners wat besig is om hulle invloed te gebruik ten einde iets vir hom te beding, maar hy is bang dat mense kan dink dat dit indirek van hom af kom. Oor die politieke situasie wil hy nie teenoor Goldblatt uitwei nie, behalwe om te sê dat van sy ‘mense in die distrik...verpletter (is) van teleurstelling. Ek het nog nooit oor 'n sterfgeval soveel groot mense gesien huil nie.’ Maar ook vriende van elders was ontsteld oor die verlies van Lan- | |
[pagina 400]
| |
genhoven. Onder die baie briewe van meegevoel wat hy ontvang het, is daar een van sy medetaalstryder Gustav Preller, iemand wat as redakteur verbonde was aan die Sap-gesinde Volkstem. Preller skryf op 23 Februarie 1921 hoe jammer hy is dat Langenhoven uitgeval het. ‘Ik had jou besonder graag in hierdie Parlement gesien, en ik weet dat baie Sapmanne dieselfde voel. Ons het jou gematigdheid gewaardeer, en jou takt en kunstenaars-aanleg - waaraan in die Praathuis origens so weinig te bespeur is - bewonder. Mens prijs 'n man eers as hijself dit nie meer kan hoor nie, maar jou aanwesigheid in die Volksraad is vir mij persoonlik altoos 'n troos gewees, en 'n gerusstelling tegelijk, wat aanbetref die toon van 'n debat.’ Preller sluit af: ‘Daar is Sappe uitgeval... waaroor ik seker g'n traan sal stort nie, maar daar is baie ander ingekom wat ik graag vir jou sou wil verruil.’ Só sterk het Langenhoven deur sy verkiesingsnederlaag bewus geword van die onbestendigheid en die wisselvalligheid van 'n politieke loopbaan dat hy in hierdie jare klaarblyklik ook ander, bestendiger beroepsmoontlikhede verken het. Onder die studente op Stellenbosch was hy 'n gewilde spreker en sy besoeke aan Stellenbosch het hy altyd terdeë geniet. Waarskynlik was Stellenbosch die één plek wat Langenhoven as woonplek bo Oudtshoorn sou verkies het. Juis in hierdie tyd het daar 'n vakature op Stellenbosch opgeduik wat Langenhoven as moontlikheid vir homself gesien het. In 1920 was H.A. Fagan, met wie Langenhoven reeds sedert sy verbintenis met De Burger goed bevriend geraak het, professor in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch. Aan die einde van dieselfde jaar het Fagan bedank ten gunste van die advokatuur in Kaapstad. Of Fagan aan Langenhoven die moontlikheid van die professoraat genoem het, blyk nêrens uit die relevante dokumente nie. Fagan was egter 'n integere mens en dit is baie onwaarskynlik dat hy valse verwagtinge by Langenhoven sou geskep het, wat slegs as advokaat gekwalifiseer was en geen noemenswaardige navorsing op die gebied van die regte kon toon nie. Uit 'n brief van 26 November 1921 aan Sarah Goldblatt kan 'n mens egter aflei dat Langenhoven tog heimlik gehoop het Stellenbosch sou hom die leerstoel aanbied. Maar die Universiteit het anders besluit. H.D.J. Bodenstein is aangestel - iemand wat in Leiden in die regte gepromoveer het, 'n tyd lank professor in Romeins-Hollandse Reg in Amsterdam was en later as sekretaris van buitelandse sake 'n belangrike rol gespeel het om die Statuut van Westminster in die Unie van Suid-Afrika van toepassing te | |
[pagina 401]
| |
maak. Bodenstein word dan ook beskou as een van die grondleggers van die Stellenbosse regsfakulteit. Dat Langenhoven om die een of ander rede nie van Bodenstein - wat ook in die redaksie van De Burger was - gehou het nie, is duidelik wanneer hy, met 'n mengsel van venyn en kleinlikheid, aan Sarah Goldblatt in sy brief van 26 November 1921 oor die benoeming skryf: ‘Ek sien van 'n Stb. korresp. dat hulle Bodenstein as prof. in die regte aangestel het. Net soos ek verwag het. Móét mos Elia woestyntoe stuur en die Baälpriester aanhou. Oor die gemiste geleentheid is ek hartseer. Die keuse is waarskynlik vir my 'n eer.’Ga naar eind32 Enkele maande voor die Stellenbosse beslissing het S.P. le Roux, gesiene jong Nasionalis van die. Oudtshoornse kiesafdeling, met ander jong Nasionaliste soos Paul Sauer en Tom Naudé in verbinding getree om te kyk of daar nie vir Langenhoven plek in die Senaat gemaak kon word nie. Aanvanklik het hulle onderhandelinge met Hertzog en Malan nie so goed verloop nie.Ga naar eind33 Langenhoven was bekend as 'n indiwidualis en hy sou moeilik in 'n verantwoordelike posisie binne die party gepas het. Daarby kan 'n mens aanneem dat sy sporadiese drinksessies en die probleme wat daarmee gepaard gegaan het, teen hierdie tyd onder parlementariërs bekend moet gewees het. Uiteindelik het Hertzog tog gehoor gegee en is Langenhoven in 1921 tot senator verkies, 'n posisie wat hy - met herverkiesing in 1929 - tot sy dood beklee het. Dit was 'n belangrike keerpunt in sy lewe, want as senator het hy minder te make gehad met die partypolitieke rompslomp en kon hy hom rustig en onvermoeid aan sy letterkundige werk wy. Gelukkig kon hy darem ook betreklik gou die vreugde hê om sy vriend S.P. le Roux as lid vir Oudtshoorn in die Volksraad te hê. Met 'n tussenverkiesing in 1923 het Le Roux die setel met 'n meerderheid van 427 vir die Nasionale Party herower, 'n meerderheid wat hy in 1924 tot 673 opgestoot het. Op Oudtshoorn het Langenhoven met sy kwinkslae en gevathede die ‘held’ geword van sowel Afrikaans- as Engelssprekendes. Elke oggend en dikwels ook in middae het hy, vergesel van sy hond Jakhals - later Kwagga en nog later Polka - die pos gaan haal en dan by die Koffiehuis in Hoogstraat met sy plaaslike vriende gaan gesels, dikwels ook stil en afgetrokke alleen gaan sit en skryf. Wanneer Etienne Leroux - seun van S.P. en peetseun van Langenhoven - by geleentheid oor die charisma van Oudtshoorn skryf, gee hy 'n voortreflike beeld van Langenhoven in die Victoriaanse wêreld van destyds, | |
[pagina 402]
| |
een van die treffendste huldes en raakste karakteriserings van die skrywer: ‘Loop maar deur Hoogstraat, kyk regs op in die besigste gedeelte, gebruik jou verbeelding en jy sal die Koffiehuis sien waar Langenhoven ('n skrywer en ook 'n legende - as persoon en as skrywer) elke môre met 'n swierige kierie en 'n magnolia vasgesteek aan sy lapel sy intrede maak, omring deur bewonderaars wat wag vir die kwinkslae en aforismes gerig teen sy geliefde vyande: die Engelse, die Engelse Afrikaners, die Sappe, die Filistyne. 'n Man met die voorkoms van 'n romantiese poëet, met die eensaamheid van iemand wat sy jare vooruit is...Altyd omring deur bewonderaars wat dikwels nie die nuanses van sy verset begryp het nie.’Ga naar eind34 Die ‘verhoogde’ status om van die laerhuis na die hoërhuis oor te skakel, was vir Langenhoven by meer as een geleentheid 'n bron van vermaak. In sy ‘Parlementaire bydraag’ vir die Nuwejaarsnommer van Die Burger in 1922 skryf hy die volgende limeriek: Die bontspan het kwaai Langenhowe
Van sy vorige bakleiplek berowe;
Toe word hy senater,
En kwater en kwater
Oor sy val van benede na bowe.Ga naar eind35
| |
IIIWanneer Langenhoven tot die Senaat toetree, is die verkiesing van 8 Februarie 1921 verby. Daarin het die Suid-Afrikaanse Party sy posisie na die koalisie met die Unioniste verstewig en met 79 setels uit die stryd getree, terwyl die Nasionale Party 45 en die Arbeiders nege setels verower het. Veral die samesmelting van die Sappe en die Unioniste, voorheen opponente, is vir Langenhoven in hierdie jare 'n bron van besondere vermaak. In sy Sagmoedige Neelsie-artikels kom hy telkens daarop terug. By geleentheid wei hy breedvoerig uit oor wat 'n ‘hans-ding’Ga naar eind36 presies is. Dit is ‘'n makgemaakte half-wilde ding. Sijn ouers moenie heeltemaal wild wees soos 'n tier of 'n haas nie, maar mak-wild soos 'n skaap of 'n volstruis, 'n bees of 'n vark. Sulke diere is nie so wild dat hulle mens-skuw is nie. Hulle hardloop nie glad uit jou takke uit weg | |
[pagina 403]
| |
nie. Jij kan hulle te voet oppas en rondjaag en op 'n distansie regeer. Maar aan die ander kant kan jij nie met hulle speul soos met 'n hond en 'n kat nie. Hulle laat hulle nie streel en liefkoos nie. Daar is nie so 'n ding als eenstroom of konsiliasie bij hulle nie. Wanneer jij hulle wil onder hande hê om te slag of te pluk moet jij hulle inhardloop en vaskeer en als jij hulle het moet jij geweld gebruik of anders gebruik hulle die geweld en maak jou seer.’ Dit alles gebruik Sagmoedige Neelsie as metafoor vir die glibberige eenheid van die nuwe Suid-Afrikaanse Party wat nou sulke ‘hans-goed’ in hom opgeneem het, ook ‘hans-kakies...(wat) hulle vlagge waai en “krioel Britenja” sing en vrot eiers gooi en meer lojaal is als sijn majesteit die koning’. Sulke mense binne 'n party is skynbaar ‘mak’, maar die eensgesindheid is maar betreklik broos en die ‘wilde’ natuur kan te eniger tyd weer oorneem. In Doppers en Filistyne, een van die romans wat Langenhoven in hierdie jare skryf, voer hy sy spot met hierdie nuwe eensgesindheid tot 'n hoogtepunt. Die skrywer en sprekende verteller van hierdie roman is ou Stoffel Gieljam, 'n takhaarboer en Bloedsap wat op die dorp kom woon en daar al die sonde van die wêreld met sy Skotse buurman ou Makpaatrie, 'n Unionis, belewe. Ná die koalisie is die onaangenaamhede van die verlede egter verby. ‘Ek en ou Makpaatrie, en Soetlief en sy vrou, is vandag die nouste boesemvriende. Waar ons nog met mekaar verskil is by die weeklikse beurtdae omdat hy my te veel water wil gee en ek te min wil vat. Ons varke vroetel mekaar se ertappels om; ons hoenders vreet mekaar se slaai-akkertjies kaal of lê in mekaar se neste. As Steekbaard nie by my huis genoeg gekry het na sy sin nie, stap hy om na die ander nooi se kombuis en as die bene daar te kaal is, braai hulle vir hom tjops. En dan word die draadhok vir hom oopgemaak om 'n paar rooi-oogrotte dood te byt. Waar ons bymekaar kom wedywer ons teen mekaar, ek met my stukkende Engels, hy met sy krom Afrikaans.’Ga naar eind37 En aan die einde van die roman skeer ou Stoffel Gieljam nie meer kaal ‘soos in die laaste tyd nie’ en dra hy ‘ook geen volle baard soos in die ou dae nie’. Nee, ‘Soetlief knip elke oggend my bokbaardjie vir my met die skêr, reg volgens die nuutste S.A.P.-mode’.Ga naar eind38 Hy sien daar dus uit soos sy leier, generaal Smuts! Maar tussen al die spot en satire deur kon Langenhoven ook ernstig wees. Die verdeeldheid onder Afrikaners het hom soms moedeloos gemaak en by geleentheid het hy ons geskiedenis beskryf as ‘één lange aanhoudende bloedspoor, één lange ry graftes, graftes, graftes - van | |
[pagina 404]
| |
jonge mense, middeljarige mense, ou mense; seuns, broers, vaders, broodwenners..’Ga naar eind39 In die striemende brief van Maart 1922 aan ‘Geagte Baas Hoggenheimer’ waaruit hierdie aanhaling kom, reageer Langenhoven op die Randse mynstaking en die wyse waarop dit deur Smuts onderdruk is. Wanneer Langenhoven in 1921 tot die Senaat toetree, is die Nasionale Party nog in die opposisie. Die toenemende onrus onder die Johannesburgse mynwerkers, die krisis in die steenkoolmyne, die daling van die goudprys en die algemene verswakking van die ekonomie lei egter tot 'n magsverskuiwing in die politiek. As gevolg van al hierdie probleme sluit Hertzog 'n pakt met kolonel F.H.P. Creswell van die Arbeiders dat die twee partye in die vervroegde verkiesing van 1924 sal saamwerk. Op die Kaapse kongres van die Nasionale Party in 1923 is Langenhoven die enigste afgevaardigde wat teen die ooreenkoms tussen die twee partye stem. Met die verkiesing van 17 Junie 1924 wen die Nasionale Party 63 en die Arbeiders 18 setels, terwyl kandidate van die Suid-Afrikaanse Party net in 53 kiesafdelings verkies word. Op 19 Junie 1924 skryf Sarah Goldblatt met geesdrif aan Langenhoven oor die uitslag: ‘Is dit nie 'n heerlike oorwinning nie? Al vier renegaatministers op hulle kop gekry? Op die oomblik wat ek hierdie brief skryf is daar nog ses setels uitstaande. Daarvan is vier seker vir ons. Dit bring ons op 62 Arbeiders 18. Altemit nog 'n 63ste Nasionalis. En die Kaap is ons s'n. Daar was nog nooit so 'n vreugde onder verdruktes nie. Die gesigte straal. En die Sappe? Michau het in die Koffiehuis kom eet. “Bekaf!” sê hy. Ek sê: “Wie?” Hy sê: “Ek”. Ek sê: “Ek is bly!” Hy sê: “Ek weet dit!”’ Uit Windhoek, waar hy advokaat is, telegrafeer Sarah Goldblatt se broer sy gelukwense met die uitslag aan Langenhoven. Daarop ontvang hy 'n telegrafiese antwoord: ‘Senator moriturus maritaturo jurisconsulto salutem. Maculis deletis Hebraeus Latinum, Christianus Israel, ambro Africani Africam primum diligunt.’ Selfs met behulp van woordeboeke kon Goldblatt en sy regsvriend Toon van den Heever nie die Latynse absolute ablatief ‘Maculis deletis’ ontsyfer nie. Die naaste wat hulle aan 'n verklaring kon kom, was ‘The spots having been erased’ of ‘The stains having been removed’. Uiteindelik was hulle verplig om aan Langenhoven te telegrafeer en te vra wat die Latyn beteken. ‘Maculis deletis - Smuts having been wiped out’ was die lakonieke antwoord. Die telegram in sy geheel beteken dus: Die senator wat op sterwe lê aan die wetsgeleerde wat op trou staan, groete. | |
[pagina 405]
| |
Noudat die vlekke uitgevee is (Smuts being wiped out), is die Hebreër lief vir Latyn, die Christen vir Israel, albei as Afrikaners vir Afrika in die eerste plek. Deur die verkiesingsoorwinning word Hertzog dus in staat gestel om saam met die Arbeiders 'n regering te vorm. Sake waaraan hy in die eerste jare van sy premierskap aandag gee, is die ‘armblanke’-probleem, die ‘naturelle’-vraagstuk, die strewe na groter ekonomiese selfstandigheid, die gelykberegtiging van die twee blanke taalgroepe en Suid-Afrika se groter staatkundige onafhanklikheid van Brittanje. Met sy beleid van ‘Suid-Afrika eerste’ kon Hertzog die nasionale selfstandigheid van die Unie demonstreer. Dit blyk in ekonomiese opsig uit die slaan van eie munte in 1925 en die stigting van 'n eie yster- en staalnywerheidskorporasie in 1926. In die staatsdiens sorg hy vir die handhawing van tweetaligheid. Afrikaans word in 1925 tot ampstaal naas Engels verhef en in 1928 word 'n eie vlag naas die Union Jack gehys, 'n geleentheid waarvoor Langenhoven reeds in 1927 die woorde en F.J. Joubert die musiek skryf.Ga naar eind40 Op staatkundige gebied sorg hy in 1926 met die Balfour-verklaring dat Suid-Afrika en die ander dominiums outonome status binne die Britse Ryk verkry, wat in 1931 deur die Britse parlement met die Statuut van Westminster in wetgewing vasgelê word. Die gevolg van hierdie beleid is dat Hertzog die verkiesing van 1929 met 'n groter meerderheid wen. Reeds in Oktober 1928 word Langenhoven vir die verkiesing ingespan: hy tree saam met Hertzog op Winburg op, hou politieke vergaderings in Bloemfontein en Zastron en woon die kongres van die Nasionale Party by. In April 1929 gaan hy na Transvaal en Namakwaland om vergaderings toe te spreek en in Junie is hy druk besig met veldtogte in die Suid-Kaap. Dat Langenhoven in sy noppies was met die gunstige uitslae, blyk uit 'n brief wat hy op 14 Junie 1929 aan Sarah Goldblatt skryf: ‘Hemel, maar dis 'n omkeer na die eerste resultate. Woensdagnag tot 1 uur het ons ingeluister by Dr. Dumont se draadloos, en dis een teleurstelling op die ander, pure sappe, sappe, sappe.... En die volgende oggend, gister, Donderdagoggend, het dit maar netso aangehou - en deur een of ander verwarring kondig hulle nog Malmesbury, die Pêrel en Potchefstroom ook as Sapmeerderhede aan. Ek dog ons is inmekaar gestort. Dit was maar onmoontlik en onmoontlik, maar daar staan die uitslae op die bord. En die sappe juig en skree in die straat...(Maar) van die middag af begint | |
[pagina 406]
| |
ons resultate te kom. Ons eie het my morsdood dronk geslaan. Ek het geweet, op die ou end, ons sou darem deurkom - maar twee honderd sou my verbaas het, en dis 655! Daarvandaan het dit maar een koers aangehou.... Ek vergeet om te sê, ná die gejuig van die sappe die eerste nag, het hulle gistraand die bordjie by die O/n Courant om 10 uur donker gemaak, maar ons had ons eie - ek had gereël vir die tel.-kantoor om oop te bly tot middernag, en vanoggend kon ek anders wakker word as gister-oggend.’ Na die verkiesing vra kiesers van Kuruman Langenhoven om daar kandidaat te wees wanneer hulle lid bedank, maar hy laat hulle weet dat hy ‘oud’ word en dat daar vir sy soort ‘diensie’ te min arbeiders is. Voor die Paktverkiesing van 1924 was daar by baie Nasionaliste, ook by Langenhoven, twyfel of die samewerking tussen die Nasionale Party en die Arbeiders sou slaag. In stukke uit hierdie tyd neem Langenhoven egter 'n versoenende houding aan, al word dié toon dan dikwels satiries gelaai. ‘As 'n mens dit nie kan bekostig om 'n kamer vir jou alleen te huur nie,’ skryf Sagmoedige Neelsie op 1 Julie 1924,Ga naar eind41 ‘moet jy verlief neem dat jy 'n kamermaat kry wat snork. Jy neem verlief, want jy kan nie anders nie; maar jy is maar nie geesdriftig oor jou losies nie.’ Nasionaliste, so sê hy, is ontevrede omdat die Arbeiders deel gaan hê aan die regering, en die Arbeiders is ontevrede omdat hulle as die mindere deel daarin is. ‘Maar’, gaan hy voort, ‘die Sappe is die meeste ontevrede van almal want hulle slaap buite in die koue.’ Tog kom Sagmoedige Neelsie tot die gevolgtrekking dat die Arbeidersparty deur sy optrede bewys het dat hy die belange van die land baie hoër as dié van 'n party of groep gestel het. Hy haal dus sy hoed af vir die Arbeiders. In die twintigerjare is veral Smuts dikwels die prooi van Langenhoven se aanvalle en satires, al is daar tog 'n onderliggende bewondering vir Smuts as hoogstaande intellek en gedugte opponent. In 'n vermaaklike ope brief skets hy sy posisie as senator teenoor sy ‘vriend Jannie’.Ga naar eind42 Omdat hulle albei ‘te slim’ is, het hulle albei hulle ‘tot die onsekerste wisselvalligheid van posiesie uitoorlê. Ek is in die senaat waar ek enige dag kan uitgeskop word as ek nie aanhou met sapperig ja-sê op elke maatreël waarmee die Pak daar kom nie; jy, 'n demd Dutchman, aan die hoof van die Unioniste met 'n steeds krimpende aanhangetjie van ou-Sappe waarvan die sterfte-syfer nie deur 'n ooreenkomstige geboorte-syfer vergoed word nie, en wat die enigste rede is waardeur jou onnatuurlike leierskap kan geregvêrdig word.’ | |
[pagina 407]
| |
Maar eintlik is sy aksie teen Smuts die ontrou teenoor Suid-Afrika wat die eertydse Boeregeneraal na sy mening tydens sy premierskap aan die dag gelê het. By geleentheid stel hy 'n vermaaklike laaste testament van Smuts op.Ga naar eind43 Daarin bemaak Smuts alle myne en delfstowwe, sowel dié wat ontdek is as dié wat later ontdek mag word ‘en wat bestemd was vir die kinders en kindskinders van die voormelde regmatige maar deur my onteiende eienare,...onbeswaard en sonder voorwaarde of voorbehoud aan die firma van Hoggenheimer, Beperk’. Die ou boerewonings en hoewes bemaak hy aan die setlaars en immigrante uit Engeland ‘wat sedert die tyd van my nuwe politiek hier ingevoer is om in die toekoms in te palm’. Aan die ander immigrante bemaak hy die werkkringe en verdienstes in die myne en in die staatsdiens. En tot sy ‘enige en universele erfgename’ benoem hy diegene wat hy in Een eeuw van onrecht beskryf het as die ‘vyande en vervolgers van die volk van Suid-Afrika’. En toe Smuts ná die bewindsaanvaarding van die Paktregering toenadering om hereniging by Hertzog soek en dit blyk dat hy as voorwaarde vir die ooreenkoms wil hê dat Hertzog die Arbeiders uit die kabinet moet skop sodat die Sappe en ou Unioniste daarin kan sitting hê, gee dit Langenhoven weer die geleentheid vir 'n striemende aanval.Ga naar eind44 ‘Gen. Smuts’, so skryf hy, ‘is natuurlik slim genoeg om self in te sien dat so 'n voorstel nie 'n besigheids-voorstel is nie. Met die beste wil in die wêreld is hy nie in die posiesie om 'n besigheids-voorstel te maak nie - sy bate kom kort. Nou plaas hy die beweegrede op die hoër grond van die heil van die geliefde volk en vaderland. Deur ons rassestryd van die verlede [waarmee die stryd tussen Boer en Brit bedoel word - JCK] het ons ons nou tot hierdie toestand verfoeter dat die sosialistiese element die land regeer deur hulle oorhand oor die Regering. Die stêrt swaai die hond. En die bestendige elemente...staan teenoor hierdie verwoestende ramp magteloos omdat hulle mekaar nog altyd wedersyds keel-af gesny het in plaas van saam te span teen die gemeenskaplike vyand.’ Hierdie plan van Smuts, so gaan Langenhoven voort, ‘skitter deur sy eenvoud van uitvoerbaarheid. Had hy die ander weg voorgestel - namelik dat die óú Sappe van die óú Unioniste sal ontslae raak, in plaas dat ons van die Arbeiders ontslae raak - dan was die ding onmoontlik om mee te begint. Want die Arbeiders vorm nog 'n vaste georganiseerde party - as jy hulle verstoot weet jy presies, van A tot Z, wie jy het om te verstoot. Maar die Unioniste is geen besonderse party meer nie. Dis nie 'n trop skape en bokke wat jy uitmekaar kan jaag nie; | |
[pagina 408]
| |
dis 'n trop pure skape, of liewer pure bokke, met nie 'n kleur of 'n haar of 'n merk verskil tussen die een en die ander nie. Immers ons hoor heeldag van Gen. Smuts - en ons hoef dit nie te hoor ook nie, ons sien dit self - dat daar òf geen enkele besonderse ou-Sap-beginsel meer oorbly nie, òf anders geen enkele ou-Unionistiese beginsel nie. Dus spreek dit vanself dat, al was Gen. Smuts netso dislojaal aan sy nuwe maters as wat hy verwag dat Gen. Hertzog aan syne moet wees, dan kon hy tog nie 'n voorstel gemaak het op die grondslag van óns kant se troueloosheid nie. Daar was maar die een weg vir hom oop - dié wat hy aangewys het.’ Vir die dilemma waarin hy hom tans bevind, moet Smuts alleen homself blameer. Toe daar in 1920 sprake van hereniging met die Nasionale Party was en Hertzog bereid was om baie tegemoetkomend te wees, het Smuts die aanbod geweier. Wat het die vereniging van die Sappe en Unioniste meegebring? 'n Mens kan, so gaan Langenhoven met sy bekende metode van illustratiewe betoog voort, nog dink aan die moontlikheid dat die Ned. Geref. Kerk en die Gereformeerde Kerk mag saamsmelt en dat hulle oombliklik tot die ‘nuwe’ geloof bekeer mag raak, maar dit is nie denkbaar ‘dat ons almal, die laaste een, met oombliklike oortuigings-verandering’, na die Roomse Kerk sal oorgaan nie. ‘Een vir een mag gaan, by tussenpose,’ skryf hy, ‘maar nie 'n klomp gelyk nie. En daarom kon die Sappe nie met ons herenig nie - die afstand was te groot. Met die Unioniste kon hulle saamgaan, die afstand was, reeds destyds, nul. Al hereniging tussen óú Sap en Nasionalis wat toe moontlik was en vandag nog moontlik is, is dat diegene van hulle wat altyd ons gevoelens gedeel het en nie die Unionistiese gevoelens, hulle hoogmoed of hulle vrees vir verdenking van verraad, by ons een vir een moet kom aansluit - soos hulle dag vir dag dan ook doen. Ons arms is oop.’ By twee geleenthede het Langenhoven sterk gereageer op Smuts se planne om Suid-Afrika se grondgebied uit te brei. In Augustus 1922 kom die Unieregering met die voorstel om Rhodesië as 'n vyfde provinsie by Suid-Afrika in te lyf, 'n voorstel wat nog dieselfde jaar deur die Rhodesiërs in 'n volkstemming verwerp word. In 'n lang maar enigsins retoriese en amorfe gedig wat op 15 September 1922 in Die Burger verskyn, spot Sagmoedige Neelsie met Smuts se imperiale planne. En op 17 Januarie 1929 hou Smuts op Ermelo 'n toespraak waarin hy 'n federasie met die Britse state noord van die Limpopo as 'n toekomsdroom sien en waarin hy verklaar dat die Suid-Afrikaanse Party | |
[pagina 409]
| |
hierdie droom sal verwesenlik as hy weer aan die bewind kom. Hertzog sien hierin die skrikbeeld van 'n swart dominium waarin die regte van die blankes verswelg sal word en hy dra die taak aan Langenhoven op om daarop te antwoord. Die resultaat van hierdie opdrag is 'n dokument wat in die politieke geskiedenis as die ‘Swart manifes’ bekend staan en wat Hertzog help om die verkiesing van 1929 met 'n aansienlik versterkte meerderheid te wen. Daarin sê Langenhoven dat die saak wat ter sprake kom, groter is as enige partybelange. Dit het te make met ‘die voortbestaan of die ondergang van die witman en sy beskawing in Suid-Afrika. Die saak is groter as hierdie of daardie verbygaande of selfs aanhoudend voortgaande ekonomiese vraagstuk wat nie anders as langs politieke weg aangepak kan word nie. En die saak is groter as die geskille tussen die een blanke ras en die ander, wat van tyd tot tyd ons politieke lewe, en gelukkig ál minder en minder ons maatskaplike lewe, verstoor. Daarom het ons die reg om met al die erns waartoe ons instaat is 'n beroep te doen op elke burger, Hollandssprekend of Engelsssprekend, en wát ook sy politieke neigings of vaste oortuigings mag wees, om met al die erns waartoe hy instaat is, sy gewig en sy invloed met ons s'n te verenig en saam met ons te protesteer teen die nuwe beleid wat nou, namens die Suid-Afrikaanse Party en by monde van sy leier, aangekondig word.’ Hertzog, Malan en Tielman Roos se name verskyn onderaan die dokument, maar dit was die uitsluitlike werk van Langenhoven.Ga naar eind45 Die ‘Swart manifes’ word in Die Burger en verskeie ander koerante afgedruk.Ga naar eind46 In 'n stuk met die titel ‘Ikabod’ wat hy onder die naam Sagmoedige Neelsie in Die Burger skryf, kom Langenhoven op dié saak terug.Ga naar eind47 Wat hy veral teen Smuts se plan het, is die wanverhouding tussen blankes en swartes wat daar met so 'n staat tot stand sal kom, en die grootse imperiale ideaal ten grondslag daarvan. ‘Cecil Rhodes’, sê hy smalend, ‘as Empire-bouer en Unionis-leier was jy 'n ABC-babetjie tot jou dood toe. Jy moes later gebore gewees het sodat jy by 'n Hollandse Afrikaner kan kom skoolgaan het. Jy was nie eens slim genoeg om Sappe te vang en aan te hou nie, laat staan Dutch Afrikanerdom uitroei.’ Indien Smuts se droom verwesenlik word, beteken dit vir Langenhoven die einde van die blanke Afrikaner: ‘die ontworteling van ons een en enkele stam wat uit die bodem van Suid-Afrika groei en nergens elders nie’. Dit beteken dan ‘dat ons in ons vroeë jeug van frisse nasieskap van die aardse toneel moet verdwyn asof ons nooit gewees was nie’. | |
[pagina 410]
| |
Maar ten spyte van die politieke verskille het Langenhoven 'n groot eerbied vir die intellek en veelsydigheid van Smuts gehad. 'n Mens kry trouens die indruk dat hy Smuts bo Malan verkies het, want nêrens in sy geskrifte openbaar hy enige besondere toegeneentheid vir die Kaaplandse leier van die Nasionale Party met wie hy in dié hoedanigheid en as bestuurslid van die Kaaplandse tak tog ten nouste moes saamgewerk het nie. Miskien was Malan vir die vinnige en rapsodiese Langenhoven veels te stadig. Reeds in die vroeë jare van De Burger kom hy in botsing met Malan as die koerant vir hom glad te traag is om van Hollands ontslae te raak en daar Nederlandse verslae verskyn van politieke toesprake wat in Afrikaans gelewer word. Waarskynlik was hy wrokkig oor Malan se konserwatiewe beleid en die feit dat De Burger eers in 1922 finaal Hollands afwerp en van naam verander. In elk geval het hy by herhaling lof vir Smuts se prestasies. Wanneer hy sy waardering vir Smuts se Holism in 'n resensie in Die Burger uitspreek, ontvang hy 'n brief wat Smuts op 21 Oktober 1926 skryf en waarin hy Langenhoven bedank. Die lof is vir Smuts besonder welkom, omdat hy daarvan bewus is dat sy boek hom ‘al spoedig die aantyging van kettery op die hals sal haal’. En Langenhoven, so gaan hy voort, het ‘ten minste... duidelik gesien dat daar een geheel ander gees in myn werk deurstraal’. Ook by 'n ander geleentheid, toe Smuts deur die uittredende president van die Britse Assosiasie beskryf word as juris, staatsman en wetenskaplike, sluit Langenhoven hom by dié huldiging aan. Daar is ‘meer as een persoonlikheid...wat onder die een naam van Jan Smuts deurgaan’.Ga naar eind48 As Langenhoven aan die hand van Eddington en Jeans teen die meganistiese materialisme van die negentiende-eeuse wetenskap wil skryf, merk hy dat Smuts hom in sy presidentsrede voor die Britse Assosiasie oor dieselfde saak uitgespreek het. ‘Wat ek wou gesê het’, skryf Langenhoven op 5 Oktober 1931 in Aan stille waters, ‘het hy beter gesê, en daarby het hy meer gesê, wat dit nie binne my vermoë was om te sê nie.... Dat Smuts uitgesoek was as hoof en voorman van so 'n verhewe liggaam van wêreldberoemde geleerdes in 'n vak wat nie sy beroepsvak is nie, was al 'n groot ding. Dat hy aan so 'n posisie reg sou laat geskied was baie om van hom te verwag. Maar hy het meer gedoen as om die skynbaar onmoontlike verwagting te verwesenlik; hy het dit oortref. Sy rede staan as een van die uitsonderlike klassieke grotes, soos díe van 'n Tyndall meer as 'n halwe eeu gelede, en díe van 'n Schaefer net voor die groot oorlog - ja meer, daardie albei, en ander | |
[pagina 411]
| |
daarby, is nie net opgevolg nie maar vervang deur syne. As vooraanstaande in die vooraanstaande kringe van die intellektuele wêreld het Smuts die luister van die Afrikaner-naam nog glansryker gemaak.’Ga naar eind49 Op hierdie artikel reageer Smuts in 'n brief van 8 Desember 1931 waarin hy sy waardering vir die vriendelike kommentaar teenoor Langenhoven uitspreek. ‘Wanneer ons Afrikaners op daardie voet mekaar behandel’, skryf hy, ‘is ons ook op die weg na een hoër status op verstandelik gebied. En ek verheug my dat jy, na wie ons almal opsien as ons Afrikaans letterkundige by uitnemendheid, so een uitstekend voorbeeld gee aan alle jonge digtersGa naar eind50 op daardie gebied. Macte virtute!’Ga naar eind51 Die waardering vir Smuts is 'n sprekende illustrasie dat Langenhoven verby die partypolitiek kon kyk, al was die leier van die opposisie dan dikwels die prooi van sy hekeling en al het hy graag die Sappe tot sy geliefde vyande verhef, dié groep met wie hy die graagste gespot het. Maar met sy toetrede tot die Senaat was Langenhoven gesetel in die rustige sfeer van die hoërhuis, waar hy nie meer so fel in die brandende partypolitiek gestaan het nie, al het hy hierdie rustigheid dikwels en gretig vir 'n groter rumoerigheid verruil wanneer hy beleidsake op politieke verhoë moes verdedig of op versoek van Hertzog ingewikkelde beleidsrigtings van die regering in vlugskrifte moes verdedig. Die posisie in die Senaat het Langenhoven genoeg tyd gegee om aan sy skeppende werk af te staan, maar meer as een maal het hy met ‘die stilte en kalme waardigheid’ van die hoërhuis gespot. Dit is 'n plek, so het hy by geleentheid geskryf, waar die oues aan weerskante van die president een maal in die drie jaar of so ‘onstuimig teen mekaar’ word, sodat ‘die smorende kole’ weer 'n bietjie begin gloei en 'n ‘vlammetjie’ in die ‘sombere skemer’ ontvlam.Ga naar eind52 Maar alhoewel Langenhoven nie 'n spraaksame lid van die hoërhuis was nie, lewer hy in die byna elf jaar van sy dienstermyn as senator 'n waardevolle bydrae met enkele seminale toesprake. Kort nadat hy tot die Senaat verkies is, neem hy op Donderdag, 7 Julie 1921, deel aan die debat oor die rapport van die komitee wat verslag moes doen oor die interne reëlings in verband met Hansardverslae wanneer die Senaat in sitting is.Ga naar eind53 Die aanbeveling van die komitee impliseer vir Langenhoven dat wanneer 'n lid die Senaat in Engels aanspreek, hy verbatim in die taal van sy keuse weergegee word, behalwe waar hy grammatikale foute begaan. Daarteenoor word 'n lid in Hooghollands gerapporteer as hy Afrikaans praat, terwyl dit vir hierdie | |
[pagina 412]
| |
land 'n antikwariese taalvorm is, soortgelyk aan Latyn. Die lewende taal van die land is Afrikaans, en Langenhoven protesteer teen die belediging van die gevoel van die lede van die Senaat ‘when it is suggested that their speeches cannot be reproduced verbatim but have to be translated into some other form of Dutch before publication in the reports’. Met sy deelname aan hierdie bespreking lewer Langenhoven nie alleen 'n bydrae tot die ordelike afhandeling van die verrigtinge in die Senaat nie, maar probeer hy ook die posisie van Afrikaans in die Parlement bevorder. Ingevolge die reglement van orde was dit nie moontlik om sy amendement ten gunste van Afrikaans te aanvaar nie, maar in 1923 is die saak op aanbeveling van die sessiekomitee vir huishoudelike reëling deurgevoer.Ga naar eind54 Die taalkwessie was nie naastenby die enigste saak waaroor Langenhoven hom as lid van die Senaat uitgelaat het nie, want sy bruikbaarheid as parlementariër blyk juis uit die groot verskeidenheid onderwerpe waaroor hy kundig was en waarvoor hy deur sy party as spreker ingespan kon word. Sake waaroor hy kon praat, was onder meer landboukundige en ekonomiese aangeleenthede, wetgewing betreffende besproeiing en waterregte, industrieë en die vryemarkstelsel, opvoeding en onderwys, die onafhanklikheid van die regbank, die internasionale politiek en die kwessie van Suid-Afrika se soewereiniteit en sy posisie as dominium binne die Britse Ryk. Wanneer die vraagstuk van vrouestemreg ter sprake kom, is Langenhoven aanvanklik daarteen gekant, ‘nie omdat ek beskou het dat die vrou nie goed genoeg is vir die politiek nie, maar omdat ek beskou het dat die politiek nie goed genoeg is vir haar nie’.Ga naar eind55 Toe die saak voor die Senaat kom, word dit dan ook aanvanklik afgekeur. Hertzog stel egter 'n wysiging van die wetsontwerp voor, sodat die Senaat weer oor die saak kon besin. Tom Naudé, in daardie stadium 'n jong lid van die Volksraad en baie jare later minister en president van die Senaat, vra by geleentheid aan Langenhoven of die Senaat die wetsontwerp nou weer gaan afkeur. ‘Wel, ladies' man, wat dink jy sal nou gedoen word? Dink jy die ou vrouens in die Senaat sal nou aan die ander vrouens die stemreg weier?’Ga naar eind56 Dié keer het die Senaat die wetsontwerp goedgekeur! Maar Langenhoven was as redenaar op sy beste wanneer hy gepraat het oor die Afrikaanse taal en geskiedenis en oor die vertrapping van die regte van die Afrikaner, sowel deur die Engelse en Sappe as deur mense wat hulself Afrikaners noem. In 'n toespraak by geleentheid van die | |
[pagina 413]
| |
Krugereeufees wei hy uit oor Paul Kruger se kompromisloosheid maar ook oor sy wysheid en sy ‘instinkmatige raaksien van die regte pad’.Ga naar eind57 By 'n heldedagviering in die Kaapstadse Koffiehuis op 7 Oktober 1927 besin hy lank voor N.P. van Wyk Louw oor die essensie van heldedom. Oorlogshelde, so sê hy, het ons genoeg, maar daar is groter helde as dié van die slagveld. ‘Om in 'n oomblik van geesdrif en opwinding so 'n daad te verrig is groot, maar dis groter om te volhard in die eentonige pligte van 'n lewensroeping teen aanhoudende mislukking en ontmoediging. Sulke helde staan hoër as die oomblikshelde; die helde van die lewe is groter as die helde van die dood.’Ga naar eind58 En hy gaan voort deur te sê dat die werklike held nie net die vyand moet oorwin nie. Die ‘swaarste proef van die held is nog verder as dit - dat hy oorwinnaar moet wees in die stryd teen homself.... (W)at ek hier bedoel is die stryd waarin hy moet worstel teen die ingewings van sy eie siel. En’, sê Langenhoven met 'n formulering lank voor die optrede van die ‘Fourth tempter’ in T.S. Eliot se Murder in the cathedral, ‘daardie stryd is nie die swaarste wanneer die ingewings kwaad is nie maar wanneer hulle goed is, wanneer al die beste wat in hom is, saamspan om hom af te trek van die regte weg.’Ga naar eind59 En in 'n toespraak wat hy in 1927 in die Paarl hou, wys hy daarop hoe die Voortrekkers hulle nasionaliteit behou het, ten spyte van pogings om hulle aan Engelse oorheersing te onderwerp.Ga naar eind60 Terwyl Langenhoven naas sy waardering ook heelwat kritiek op Smuts gehad het, was sy waardering vir Hertzog besonder groot. Ten grondslag hiervan lê die feit dat Hertzog die belange van Suid-Afrika altyd onvoorwaardelik bo dié van ander lande, in die besonder Brittanje, gestel het en omdat hy reeds as lid van die Bothakabinet gunstig te spreke was oor die toekoms van Afrikaans - die eerste politieke figuur wat dit in die openbaar gedoen het. Terwyl Botha en Smuts by die Vrede van Versailles geen steen aangeroer het om iets in verband met ons onderhorigheid aan Brittanje verander te kry nie, het Hertzog ná sy bewindsaanvaarding daadwerklike stappe gedoen om Suid-Afrika tot groter selfstandigheid te lei. ‘Sonder stryd of twis’, skryf Langenhoven in 1931, ‘met taktvolle minsaamheid, met 'n staatsregtelike bekwaamheid wat uitgeblink het onder die uitgesoekte staatsregskundiges van die wêreld, het hy in 1926 verkry wat ons en ons ouers in honderd jaar van worsteling in die raadsale en op die slagvelde nie kon behaal nie - die erkenning, deur ons voormalige oorheersers, van ons soewereine onafhanklikheid.’Ga naar eind61 | |
[pagina 414]
| |
Uit erkentlikheid vir die premier se groot staatsmanskap stel Langenhoven by Hertzog se nege en vyftigste verjaardag op 3 April 1925 namens die Nasionale Party 'n gelukwensing op en skryf hy 'n geleentheidsgedig. ‘Deur dae van stryd en nederlaag, van teleurstelling en moedeloosheid’, so lui die gelukwensing, ‘was jy ons besieling omdat jy ons harte verower het met jou hoë karakter, met jou voorbeeld van trou en opoffering wat nooit na eie gemak of baat of roem gestreef het nie.’Ga naar eind62 En by Hertzog en sy vrou se silwerbruilof op 9 Oktober 1929 stel Langenhoven die adres op wat die Nasionale Party vir sy leier aanbied en stel hy die heildronk op die premierspaar in. ‘Die volk van die Unie van Suid-Afrika, dié wat vandag hier is en die duisende wat nie hier is nie, het die eer en die voorreg om u met innige hartelikheid geluk te wens op u silwer-bruilof. In die verhewe betrekking wat u nou verskeie jare onder ons beklee en versier, het u dit bestendig reggekry om met die besef van die waardigheid en verantwoordelikheid van u veel-eisende diens te verenig 'n vriendelike minsaamheid van persoonlike omgang. En meer as dit, u het dit reggekry om met daad en woord te bewys dat dit moontlik is vir elk van die twee groot dele van ons samelewing om sy eie trots en roem te handhaaf en aan homself getrou te bly, sonder om die ander seer te maak. Al die tyd en by elke geleentheid het u die skaal tussen die een en die ander suiwer gehou en die gevoelens van weerskante gelykelik en onpartydiglik eerbiedig. Nie as vreemdelinge het u onder ons verkeer nie; u het u eie gemaak met ons en u met al ons strewe en belang vereenselwig. En daarmee het u ons harte gesteel.... Mag die liewe Here u nog baie jare spaar en baie rykelik seën.’Ga naar eind63 Ook by ander geleenthede was Langenhoven as gewilde redenaar bereid om vir sy party op te tree. Wanneer hy in 1929 in die plek van dr. Malan die sluitingsrede by 'n vergadering van die Nasionale Party moet hou,Ga naar eind64 verwys hy na die jare van stryd toe Hertzog met ‘Suid-Afrika eerste’ as slagspreuk geveg het en toe kiesers met die beeld van ‘Bloed en Trane’ afgeskrik en van die party as 'n rewolusionêre party gepraat is. Bloed is ‘nie gestort nie, hoewel dit onder die ander bewind herhaaldelik gestort was. Die trane is gestort - deur die teëparty. Maar die res van die waarskuwing, vrees ek, moet ons, om eerlik te wees, erken. Die Nasionale Party was en is vandag nog, sekerlik, in een sin rewolusionêr. Wat die teëparty bang was dat hy sou doen, en wat hyself aangekondig het dat dit sy plan was om te doen, het hy teweeggebring. Hy | |
[pagina 415]
| |
het dit teweeggebring in weinige jare waar ons hele vorige geskiedenis, met geweld en verset teen geweld, in tye van vrede en tye van oorlog, dit nie reggekry het nie. Sonder bloed en trane, buiten die trane van skaam-kwaad en dronk-verdriet, het die Nasionale Party die geskiedenis van Suid-Afrika omgewentel, nie hier en daar in 'n kleine besonderheid nie, maar omgewentel in sy diepste grondslae, sodat die teëparty die reg het om te sê hulle waarskuwing was nie ydel nie. Die Nasionale Party het 'n ou Suid-Afrika gekry en daaruit 'n nuwe Suid-Afrika geskep.’ In dié verband wys Langenhoven op die taal en die vlag en die feit dat Suid-Afrika sedert die bewindsaanvaarding van Hertzog groter soewereiniteit geniet. ‘En dit alles is 'n rewolusie; ons moet skuldig pleit op die klagte dat ons party rewolusionêr is. En dit alles het ons reggekry deur die besieling van daardie eenvoudige beginsel deur Hertzog afgekondig, die beginsel wat in elke land van die wêreld tel en by ons voor die bewind van die Nasionale Party nog nooit getel het nie - My eie vaderland eerste.’ In die verkiesingsjaar 1929, toe die kwessie aktueel is of Suid-Afrika op die goudstandaard moet bly of nie, is Hertzog 'n voorstander daarvan dat die status quo gehandhaaf moet word, al het hy kort na Langenhoven se dood tog van standpunt verander. Op versoek van Hertzog skryf Langenhoven dan die vlugskrif Goud of papier?, waarin hy in leketaal vir die gewone burger die verskil tussen die goud- en papierwaarde van geld uiteensit. Wat 'n mens hier weer, soos in sy talryke soortgelyke geskrifte, opval, is die vermoë om verwikkelde ekonomiese aangeleenthede in eenvoudige taal te stel. Langenhoven se argumente ten gunste van die behoud van die goudstandaard het 'n nasionale basis. Aan die einde van sy betoog sê hy: ‘Honderd jaar en langer het ons teen oorstelpende oormagte geworstel, nie om van wie ook te neem wat syne is nie maar om te verdedig en te hou en te handhaaf wat ons s'n is - niks meer nie as die reg van elke ander volk op aarde, om homself volgens sy eie wil te regeer, om sy eie taal vir al sy doeleindes van omgang te gebruik, om sy nasietrots aan homself en aan die wêreld te openbaar met sy eie vlag, om die diens van sy land aan sy seuns te gee en sy eie hulpbronne vir sy eie welvaart te benuttig.’Ga naar eind65 Daarom sien Langenhoven die handhawing van die goudstandaard as 'n ‘onafhanklikheidsoorlog’Ga naar eind66 wat op 'n ander gebied as die slagveld voortwoed. In dieselfde jaar skryf hy ook, hierdie keer met samewerking van J.H. Conradie, die vlugskrif Die witman se pand, waarin Hertzog se | |
[pagina 416]
| |
standpunt oor die ‘naturelle-vraagstuk en die kieser se verantwoordelikheid’ uiteengesit word. In die deel wat hy geskryf het, neem Langenhoven standpunt in teen 'n aantal Sappe wat hulle in 'n manifes teen Hertzog se wetsontwerp in verband met die ‘naturellevraagstuk’ uitspreek. Volgens die manifes sal die afskaffing van die Kaapse stelsel van ‘naturelleverteenwoordiging’ tot gevolg hê dat geen swartman ooit dieselfde politieke status as 'n blanke sal kan besit nie en dat dit alle swartmense in een laer sal jaag en aan hulle 'n gemeenskaplike grief sal gee. Dit is dus volgens die manifes ‘'n agteruit stap...op grond van kleur of ras alleen’Ga naar eind67 en dit maak van hulle vreemdelinge in hul eie land. Die kwalifikasies vir stemreg moet eerder verhoog word, sodat niemand ‘anders dan werklik beskaafde persone op die kieserslys kan kom nie’.Ga naar eind68 In reaksie hierop wys Langenhoven daarop dat swartes in Kaapland wel op die gemeenskaplike kieserslys was, maar nie in die ander provinsies nie. Hy noem syfers waaruit dit blyk dat blankes teenoor swartes in 'n verhouding van 1 teenoor 3 ten opsigte van die totale bevolking staan. Omdat die swart kiesers in die verlede vereenselwig is met een van die twee politieke partye, beteken dit dat in al hoe meer Kaaplandse kiesafdelings die ‘swart’ stem beslissend kan wees. In twaalf kiesafdelings sou die uitslag sonder daardie stem anders uitgeval het.Ga naar eind69 Daarom is dit Hertzog se plan om swartes en ‘Kleurlinge’ deur blankes in die Parlement te laat verteenwoordig. Aangesien dit egter 'n wysiging in die grondwet sou meebring, was 'n tweederdemeerderheid nodig, wat in 1927 nie verkry kon word nie.Ga naar eind70 Langenhoven neem nie 'n duidelike standpunt in verband met die saak in nie, maar spreek die gedagte uit dat die blanke kieser die mag het ‘om te sorg om sy mag vir die toekoms te behou’.Ga naar eind71 Uit so 'n uitspraak is sy gesindheid en standpunt dan tog duidelik, 'n standpunt wat reeds by die aanvang van sy betoog onomwonde was waar hy sê: ‘Ter wille van die naturel-self, sowel as ter wille van die blanke, moet daar na 'n oplossing gesoek word waardeur die oorheersing van die witman verseker word vir die toekoms.’Ga naar eind72 Aan die einde van hierdie hoofstuk sal ons op Langenhoven se uitsprake oor die ‘naturelle-vraagstuk’ terugkom, maar intussen kan 'n mens sê dat sy optrede as vlugskrifskrywer in ‘diens’ van Hertzog soms veel te wense oorgelaat het en dat hy dikwels vir so 'n belangrike taak 'n gebrek aan visie openbaar. Reeds met Goud of papier? moes hy 'n saak verdedig wat kort daarna geblyk het nie ekonomies haalbaar te wees nie. | |
[pagina 417]
| |
Omdat sy politieke vriende geweet het hoe 'n gewilde spreker hy is en hoe gevat en geestig hy by 'n feestelike geleentheid kon optree, is Langenhoven ook dikwels gevra om op kort kennisgewing 'n toespraak te lewer. Wanneer daar op Malmesbury na afloop van 'n kongres van die Nasionale Party 'n tuinresepsie gehou word, lewer Langenhoven die geleentheidstoespraak.Ga naar eind73 Om te illustreer hoe Langenhoven dié tipe toespraak opbou en met watter middele hy sy geestige effekte bereik, word dit hier in sy geheel weergegee. Die toespraak is, soos talle ander, uit die vuis gehou en eers later neergeskryf. Meneer Voorsitter, dames en here - Ek is gevra om ook hier 'n paar woorde te sê en ek het daar niks op teë nie: ek is nes 'n vrou, ek hou van praat. Maar my gehoor is nou al na al die toesprake nes die man - hulle is moeg van luister. Dus sal ek baie kort wees en nie 'n toespraak hou nie en ook nie politiek gesels nie. Ek wil maar net met 'n paar korte woordjies melding maak van drie verrassings wat ons afgevaardigdes hier ontmoet het, en dan op die ent 'n formele afkondiging maak. | |
[pagina 418]
| |
Louw, oor die bad en hy noem dit Bethesda. Ek dog toe sommer ek was gelukkiger as die arme lamme man wat so lank gewag het. Ek het hier genoeg engele aangetref. Geeneen van hulle het my egter in die bad kom uithelp nie. Maar daar is baie geneeswerk vir hulle om te doen. Ek verstaan daar is nog twee of drie Sappe hier om in die bad te sit. As die water kragtig genoeg is om die Karroaanpaksel af te was sal hy sterk genoeg wees om die Sappe te genees. En hulle moet genees word; ons het hulle hulp nodig; dis vir ons onbestaanbaar dat hulle nog teen ons is - nee, nie teen ons nie, teen hulself en teen hulle volk en hulle nageslag. En dáar is die werk van die dames - ek is seker daar is geen een Sap onder hulle nie. Op die Kongres het daar vanmore sekere lede teen die vrouestemreg gepraat. (Ek wil nie op die saak ingaan nie: ek praat nie nou politiek nie.) Maar geen een het teen die vroue-invloed gepraat nie. Ons beroep ons op julle om daardie invloed te laat gelde. | |
[pagina 419]
| |
de aanbod te doen. (Opskudding.) Luister tog, vriende - ek is nog nie klaar met my afkondiging nie. Ek het verder opdrag van al die ander lede van die Kongres om namens elkeen van hulle ook dieselfde aanbod te doen. Dus kan julle nou hier op 'n baie eenvoudige manier julle Helpmekaar-fondse met 'n sewentig pond vermeerder. Na dit hoef ek niks verder te sê nie. 'n Toespraak soos dié is 'n voorbeeld van met watter gemak Langenhoven 'n geleentheidsrede kon lewer en watter geestige effekte hy as redenaar in belang van sy party kon bereik. Maar sy beste stukke skryf hy wanneer hy hom satiries of hekelend rig teen die Sappe, die Unioniste, die Engelse en dié eienaardighede by ander volke, veral die Britte, wat die prooi van sy ironie en spot word. Kort nadat hy in 1921 tot senator verkies is, skryf hy onder die pseudoniem Sagmoedige Neelsie 'n striemende stuk na aanleiding van 'n omsendbrief wat hy van die destydse Prins van Wallis ontvang het. Dit is een van die briljantste stukke politieke hekeling wat van hom bewaar gebly het, maar, sover vasgestel kon word, is dit nooit gepubliseer nie. Waarskynlik het die redaksie van De Burger, só kort na Langenhoven se verkiesing tot senator en met die Nasionale Party nog in die opposisie, gevoel dat dit verstandig sou wees om dié artikel, geskryf deur 'n lid van die eerbiedwaardige hoërhuis, maar agterweë te laat. Dit kon vertolk word as 'n aanval op die Britse koningshuis, wat dit inderdaad gedeeltelik was! Hoe dan ook, dit bly 'n voortreflike stuk en word hier as voorbeeld van dié soort geskrifte van Langenhoven weer in sy geheel afgedruk. Dit is oorgelewer onder die titel ‘Uitbuiterij van snobberij’:Ga naar eind75 Ek het lank geswijg in die kolomme van De Burger maar noudat die stene begin te spreek voel ek mij gedronge om saam te praat. Buitendien is dit hier 'n saak van gebiedende plig. 'n Mens kan nie 'n kroonprins se brief onbeantwoord laat nie. Vanmore, namelik, toen ek mij pos oopmaak, was daar tussen die rekenings en aanskrijwings 'n brief gedateer van ‘St. James's Palace, S.W.’, 10 Maart, 1921, en eigenhandig onderteken ‘Edward P., Chief Scout for Wales’. Om te verhoede dat ek in mij onkunde die brief aan 'n minder verhewe bron sou toeskrijf, is 'n geadresseerde koevert ingesluit vir mij antwoord aan ‘H.R.H. The Prince of Wales, K.G.’ met sij adres ‘St. James's Palace’. Nou ek is maar 'n per- | |
[pagina 420]
| |
soonlike persoon; aan mij skrijf 'n mens gevoegelik privaat deur die pos. Maar die prins, afgesien nog van sij hoedanigheid als 'n Chief Scout is omtrent so publiek als wat jij ooit kan wees sonder om koning te wees. Wat sy toekomstige onderdane aan hom te sê het oor publieke aangelegenhede behoort dus nie onder die gebreke van die geheime diplomasie te lij nie. Dus, ten spijte van die terug-geadresseerde koevert antwoord ek, als 'n lojale toekomstige onderdaan, opelik, om aan almaal te laat sien dat ek nie misbruik wil maak van hierdie gelegenheid om persoonlike doeleindes te bevorder nie. Ek hoop u sal mij, deur middel van u kolomme, daartoe in staat stel. Nou ja, so goed als ek dan in mij eenvoud magtig is: | |
[pagina 421]
| |
Verder merk ek, tot mij grootste genoege, dat u bij die drie vere nog die Duitse leus: Ich dien, behou het. Dit is 'n grootmoedige voorbeeld van vergewe en vergeet, van Let bygones be bygones, wat ek van hierdie gelegenheid gebruik wil maak om ernstig onder die aandag te bring van sekere seksies van u toekomstige onderdane, in die Kaap en Port Elizabeth bij voorbeeld. | |
[pagina 422]
| |
aansien, dan sou ek nog nie 'n enkele blik-trippens van die nuutste munterij vir die gevraagde doel bijdraag nie al had u vader mij ook daaroor geskrijf. Ek beskou dat militarisme 'n verderflike ding is vir enige staat en nog te meer verderfelik vir 'n Empaaier omdat hij soveel meer gelegenheid en aanleiding het om kwaad te doen. U staatsliede het mij te verstaan gegee dat ons oorlog gemaak het terwille van vrede. Nou kom u mij te verstaan gee dat ons vrede gemaak het terwille van oorlog. Nee, Hoogheid, mij nederige beskouing is dat ons ons jeug moet opvoed in die beginsels van vreedsaamheid en mensliewendheid; om hulle plig als burgers te verstaan en te leer om met harde werk hulle eie geluk en die geluk van hulle maatskappij te bevorder; en ek beskou dat dit verkeerd is om hulle op 'n gevoelige en vatbare leeftijd met ambiesie vir avonture en skilderagtige romantisisme en bloeddorstigheid onder valse vrome name aan te steek. Die bioskoop is al erg genoeg. | |
[pagina 423]
| |
IVAs politikus was Langenhoven iemand wat dikwels agter die skerms in gesprekke veel gedoen het, sonder om sy bydrae aan die groot klok te hang. As redenaar het hy waardevolle dienste vir sy party verrig, want hy was iemand wat sy gehoor enduit kon boei en sy saak logies en met die nodige afwisseling kon uiteensit. Behalwe as bestuurslid van die Kaaplandse Nasionale Party het hy nooit 'n noemenswaardige posisie as politikus beklee nie, hoewel hy met sy kundigheid op die gebied van die onderwys en opvoeding waarskynlik 'n belangrike bydrae sou kon gelewer het indien dié portefeulje in die kabinet aan hom toegewys is. Maar Hertzog het nooit 'n kabinetspos vir Langenhoven oorweeg nie. Daarvoor was Langenhoven te indiwidualisties en wispelturig. Hy sou waarskynlik niks daarvan gedink het om in 'n kritieke stadium sy teenkanting teen 'n bepaalde beleidsrigting sterk uit te spreek en hom onwrikbaar daarteen te verset nie, want Langenhoven se eerlikheid was vir hom belangriker as enige politieke diplomasie of plooibaarheid. Ten spyte van hierdie karaktertrek, wat hom in 'n sekere sin juis ongeskik gemaak het vir die realiteite van die politieke lewe, is Langenhoven tog by herhaling deur Hertzog ingespan om bepaalde beleidspunte van die Nasionale Party in helder en eenvoudige taal vir die kieser uiteen te sit. Sy skryftalent is dus deur sy party gebruik om ingewikkelde sake bevatlik te maak, want daar was niemand in die land wat so duidelik kon skryf as Langenhoven en so 'n aanklank by die publiek gehad het nie. In 'n sekere sin was hy dus die skriba van die Nasionale Party, die persoon wat sy kuns in diens van die politiek moes stel. Anders as by iemand soos D.J. Opperman, by wie dit by tye tot 'n ondraaglike spanning en 'n sekere dualiteit gelei het, was so 'n funksie vir Langenhoven geen probleem nie. As didaktikus wou hy veral juis volksopvoeder by uitnemendheid wees vir sy mense, wat baie dinge in hul lewens moes ontbeer. Om ingewikkelde sake bevatlik aan hulle oor te dra, was ten volle deel van die taak wat hy aan homself opgelê het. Van die geleentheidstukke wat Langenhoven as essays geskryf of as toesprake gelewer het, getuig soms van insig in en visie op die onderwerp, soos sy besinning oor heldedom en die bydrae oor Paul Kruger in Aan stille waters I. Maar dikwels soek 'n mens in sy bydraes op dié gebied tevergeefs na 'n ruim blik op 'n bepaalde vraagstuk en meermale bly 'n toespraak of geleentheidstuk vassteek in die partypolitiek of 'n | |
[pagina 424]
| |
kleinlike geploeter, alleen gered deur Langenhoven se ratse woordgebruik of geestige stelwyse. In 'n stuk soos Goud of papier? berus die hele betoog byvoorbeeld op die nasionale waardigheid van die Suid-Afrikaner en ignoreer hy die ekonomiese realiteite. 'n Mens het die gevoel dat hy hom in so 'n geval tot 'n blote skriba reduseer, 'n soort klerk wat in diens van Hertzog skryf en na die pype van die Gryse Eminensie moet dans! In dié verband is dit dan insiggewend om Etienne Leroux se karakterisering van Langenhoven vollediger aan te haal, selfs al sal 'n mens enkele woorde anders kies of uitsprake nog verder wil nuanseer. Langenhoven was, volgens Leroux, 'n man ‘met die voorkoms van 'n romantiese poëet, met die eensaamheid van iemand wat sy tyd jare vooruit is - iemand wat eintlik sy talent verspil het om sy eie mense te leer lees omdat hy deernis vir sy eie in sy hart gehad het en in die proses iets opgeoffer het waarvan niemand geweet het nie. 'n Pionier wat 'n slagoffer geword het van sy lotsbestemming om pionier te moet wees.’Ga naar eind76 Leroux maak hierdie uitspraak in die eerste plek na aanleiding van Langenhoven se skeppende werk, maar dit is ook en veral van toepassing op die veelvuldige toesprake en ander politieke geskrifte. Uit meelewing met sy mense het Langenhoven tot die politiek toegetree, omdat hy die wetgewende pad as die enigste weg gesien het waarlangs Afrikaans as taal tot sy reg sou kom. As volksopvoeder, 'n taak wat die tydsomstandighede op hom gelê het, moes hy dus noodwendig sy toegewings aan die publiek maak en sy betoë so bevatlik as moontlik skryf. En as partypolitikus was hy gebonde aan sy besondere politieke groepering se kyk op sake, selfs al het hy dan dikwels 'n eie indiwidualistiese Langenhoviaanse stempel daarop afgedruk. As partypolitikus moes hy noodwendig sy visie beperk en met oogklappe na dinge kyk. Veral teleurstellend, as 'n mens dit teen die agtergrond van die huidige tydsgewrig bekyk, is die feit dat Langenhoven klaarblyklik weinig begrip vir die nood van die swart bevolking van Suid-Afrika openbaar en geen visie toon op die langtermyn-rampspoed wat op 'n beleid van diskriminasie sou volg nie, al sou dit aan die ander kant absoluut verkeerd wees om hom as 'n rassis te bestempel. Uit getuienis van baie mense blyk onteenseglik dat Langenhoven se verhouding met die bruin mense van sy onmiddellike omgewing baie goed was en dat hy hulle op 'n menswaardige wyse behandel het, al was hulle vir hom van die arbeidersklas en derhalwe nie volledig deel van sy vriendekring nie. 'n Mens moet ook, wat hierdie saak betref, toegewings maak vir die | |
[pagina 425]
| |
eise en gedragspatrone van die maatskappy waarbinne hy geleef het. Waar daar raspejoratiewe in sy werk voorkom, is dit eweneens ingegee deur die tydsomstandighede en die kodes van sy maatskappy. Die bewering sou egter gemaak kan word dat van Langenhoven se tydgenote wél 'n begrip vir die swart massa gehad het en in hulle werk blyke daarvan gee dat hulle die nood van dié mense begryp en hulle daarvoor beywer het om dit te verlig. So 'n figuur is byvoorbeeld Agnes Hoernlé, wat baie nou by gemeenskapdiens betrokke was en haar daarvoor beywer het om die las van die minder bevoorregte lae van die bevolking te verlig. 'n Mens kan egter sê dat dié vergelyking nie heeltemal opgaan nie. Hoernlé was as Engelssprekende lid van 'n deel van die bevolking wat nie in 'n taal- en kultuurstryd vir haar eie mense betrokke was nie en kon haar kragte derhalwe in 'n baie groot mate aan maatskaplike diens wy. Langenhoven se maatskaplike diens was gerig op sy eie mense, vir wie hy 'n menswaardigheid naas die Engelstalige bevolkingsdeel moes beding en vir wie hy met die oog daarop van hulle eie taal bewus moes maak. En om aan hierdie stryd geloofwaardigheid te verleen, moes hy daardie taal ontwikkel tot 'n fyn instrument wat geskik is vir literêre doeleindes. Dít kon hy alleen doen deur daardie taal te skryf en tot die literatuur daarvan by te dra. Dit sou dus 'n regverdiger vergelyking wees om hom met iemand soos Smuts te vergelyk, 'n politikus wat in dieselfde tyd as hy werksaam was en soos hy tot die Afrikanervolk behoort het, al het hulle polities van mekaar verskil. En dan is die vergelyking vir Langenhoven geensins ongunstig nie, want Smuts self het niks of weinig gedoen om die swart bevolking se nood op te hef of om in die jare van sy premierskap 'n duidelike beleid te formuleer waarvolgens hulle maatskaplike agterstand uitgewis kon word. Hy het selfs by meer as een geleentheid nie geaarsel om militêr teen hulle in te gryp as dit volgens sy oortuiging nodig was nie.Ga naar eind77 Maar dit sou in elk geval verkeerd wees om Langenhoven as politikus met mense soos Smuts of Hertzog te vergelyk of om sy soort volksopvoeding teenoor dié van Hoernlé te stel. Langenhoven en Hoernlé het op twee verskillende terreine beweeg en as politikus was Langenhoven nooit 'n prominente figuur soos Smuts en Hertzog nie. Politieke ambisie as sodanig het hy nooit gehad nie. Hy het alleen tot die Provinsiale Raad en die Parlement toegetree om die saak van Afrikaans te bevorder. | |
[pagina 426]
| |
Sy eintlike bydrae as politikus lê dus op hierdie klein maar vir hom uiters belangrike gebied, dié gebied waarop hy sy missie in die lewe gevind het. In die Kaaplandse Provinsiale Raad het hy daarin geslaag om binne enkele weke na die aanvang van sy dienstermyn Afrikaans tot onderwystaal te verhef. As lid van die Volksraad en veral van die Senaat was sy belangrikste bydrae die verkryging van groter staatkundige regte vir Afrikaans, 'n proses wat uiteindelik tot die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal naas Engels sou lei. Hoe Langenhoven te werk gegaan het om dít te bereik, is die onderwerp van die volgende hoofstuk. |
|