Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 353]
| |
Hoofstuk XV
| |
[pagina 354]
| |
vertroulike omgang met die lesers in die tradisie van die agtiende- en negentiende-eeuse Engelse prosa; en die gebruik van boustof uit die bekende wêreld van die Klein Karoo en sy ondervinding as prokureur. 'n Mens kan sê dat hy met sy ‘Clifton Brown’-verhale in 'n sekere sin by Arthur Conan Doyle en met ‘Thoughts on the New Year’ by die digterlike konvensies van die negentiende-eeuse Engelse poësie met sy gehoorsaamheid aan 'n spesifieke metriese en strofiese skema aansluit, terwyl sy betogende prosa Macaulay se Essay on Milton en die klassieke retorika as modelle het. In 'n groot mate was Langenhoven se werk egter vry van enige regstreekse invloede, iets wat sy oeuvre ook in latere jare sou kenmerk. Van groter belang as die eerste geskrifte in Engels en Nederlands is die feit dat Langenhoven reeds in hierdie vroeë jare Afrikaans as medium gebruik, al het hy nog hoegenaamd nie tot die insig gekom dat dié taal die natuurlike medium van sy eie mense en vir sy eie skeppende werk is nie. Dit is byvoorbeeld bekend dat hy sy bekende wiegeliedjie ‘Lamtietie, damtietie’ by sy dogter Engela se geboorte in 1901 geskryf het. Baie van die samesprake wat hy later in Ons weg deur die wêreld sou opneem, is reeds voor 1910 geskryf, waarskynlik vir opvoering by debatsverenigings. Aan so iets het destyds groot behoefte bestaan. Die meeste van hulle word gekenmerk deur die geestige inslag, die spitsvondigheid en die tipiese boustof en karakters uit die Klein Karoo. Die toneelstuk Die trouwbelofte dateer al van 1905, en in 1909 publiseer hy Die water zaak, wat hy in 1912 omwerk tot Die wêreld die draai. In 1911 verskyn Die famielie zaak. Langenhoven skryf ook in hierdie tyd baie van die gedigte wat later in Ons weg deur die wêreld verskyn, maar dit is tog opvallend dat sy eerste twee Afrikaanse publikasies in boekvorm juis toneelstukke is. Van vroeg af het hy 'n empatie met sy eie mense gehad en wou hy stukke skryf wat vir hulle 'n aand se vermaak kon besorg. Sy regskundige en ander betogende prosa was nie 'n soort geleerddoenery nie, maar eerder pogings om vir sy lesers verwikkelde begrippe in helder, verstaanbare taal tuis te bring. Die sewentiendeeeuse ideaal van Horatius se dulcis et utilis het by hom dus veral gelei tot lering en vermaak. Wanneer Langenhoven in 1910 'n definitiewe keuse ten gunste van Afrikaans maak, is sy eerste geskrif Padlangers en zonder doekies, die programmatiese inset tot sy stryd in belang van Afrikaans en die eerste beredenering - so kort na ‘The problem of the dual language in South | |
[pagina 355]
| |
Africa’ - van sy nuwe insigte in die taalsituasie en die taak wat daar op die voorstanders van Afrikaans wag. Wat sy eie uitvoering van hierdie taak betref, rig hy hom allereers op die behoefte van sy Engelstalige landgenote wat nog met Afrikaans gesukkel het. Hy stel The royal road to Cape Dutch vir hulle op, waarvan twee ‘stages’ - met opname van Die trouwbelofte in die tweede ‘stage’ - in 1910 verskyn. Maar toenemend is hy nou ook op die gebied van die bellettrie aktief. Hy skryf verhaaltjies en karaktersketse, allerlei versies en ‘fantasieë’, nog samesprake en - in navolging van Multatuli, die enigste Nederlandse outeur wie se werk hy steeds met plesier lees en met wie hy 'n geestesverwantskap toon - 'n reeks spreuke waarin hy eenvoudige lewenswaarhede verkondig. Die meeste van hierdie stukke versamel hy in 1911 in Eenvoudige stukkies en brokkies, wat by die Zuid-Westelijke Drukpers verskyn. In 1912 publiseer hy sy Afrikaanse verjaardagboekie, waarin hy sy spreuke opneem, die enigste boek van Langenhoven wat deur die Oudtshoornse uitgewer Bowles gedruk word. In hierdie stadium is Langenhoven egter reeds redakteur van Het Zuid-Westen en het hy 'n groter publikasiegeleentheid vir sy eie geskrifte. Met die werk - in die besonder die spreuke, essays en verhaaltjies - wat hy dan skryf, kry ons sy eerste letterkundige deurbraak, wat 'n nuwe tydvak in sy skeppende werk inlei. | |
IIVir al sy vroeë uitgawes by die Oudtshoornse firmas het Langenhoven self die koste gedra. Alhoewel die oplae binne 'n kort tydjie uitverkoop was, kan 'n mens geredelik aanvaar dat die landwye verspreiding van hierdie klein firmas nog veel te wense oorgelaat het. Dit sou dus in Langenhoven se belang as skrywer én die groeiende klein Afrikaanse letterkunde wees om by 'n groter uitgewer te kom. Vroeg in 1913 kry Langenhoven die plan om 'n versameling van sy stukke wat in Het Zuid-Westen en elders verskyn het, in boekvorm te publiseer, en om daarin ook die grootste gedeelte van Stukkies en brokkies in te sluit. Terwyl hy op besoek in Transvaal was, noem hy dit teenoor Hendrik de Graaf, oprigter en eienaar van die Potchefstroomse koerant Het Westen, wat in 1917 in Het (later Die) Volksblad in Bloemfontein sou oorgaan. Dit was sy plan om die boek Distels en lelies te | |
[pagina 356]
| |
noem, maar hy het ook die titels Sonskyn en skaduwee, Vrugte en blare en Aartjies en blaartjies oorweeg.Ga naar eind1 Om die kritici - van wie hy reeds in dié tyd al oorgenoeg las gehad het - te fnuik, het hy dit oorweeg om die boek anoniem te publiseer. Vir 'n anonieme publikasie het De Graaf egter nie kans gesien nie en hy was ook nie danig in sy skik met Langenhoven se titels nie. Hy het Ons weg deur die wêreld voorgestel, 'n titel wat Langenhoven self reeds in 1912 in Het Zuid-Westen vir 'n feuilleton gebruik het.Ga naar eind2 Daarmee het Langenhoven akkoord gegaan. Terug op Oudtshoorn het Langenhoven met die hulp van Sarah Goldblatt begin om die boek uit knipsels en getikte weergawes van sekere bydraes saam te stel. In 'n artikel in Die Huisgenoot vertel Goldblatt hoe die knipsels en plakgoed oor die eetkamer rondgelê het terwyl sy en die ‘Chief’ besig was. As die ete opgeskep is, moes hulle alles weer versigtig op mekaar pak om later weer oor die vloer en tafel uit te sprei. Ook Jakhals, die hond, moes padgee van sy lêplek op die rusbank onder die venster. Op 29 Julie 1913 pos Langenhoven die manuskrip aan De Graaf. Met sy kenmerkende eerlikheid het hy die uitgewers daarop gewys dat die uitgawe vir hulle 'n risiko is. Hy het 'n tjek van £ 50 ingesluit en van alle tantièmes afstand gedoen. Met die bydrae uit sy eie sak wou hy buitendien die voorgestelde prys van 3/- per eksemplaar tot 2/- verminder, sodat dit goedkoper op die mark kon wees en dus 'n groter afset kon geniet. Uiteindelik was die produksiekoste tog hoër as wat verwag is en het die boek vir 3/6 verkoop. Langenhoven het nog £ 100 bygedra om die prys so laag as moontlik te laat bly, maar die kopiereg op die manuskrip behou. Die eerste eksemplaar het op 12 Maart 1914 van die pers gekom en die boek het 352 bladsye beslaan, 'n besonder keurige en netjies versorgde uitgawe vir dié tyd. Dit was grotendeels 'n produk van C. Snoek, wat in dié jare produksiebestuurder by Het Westen was, 'n ‘ywerige, ondernemende man’Ga naar eind3 wat later na die Nasionale Pers in Kaapstad oorskakel en daar baie van Langenhoven se uitgawes behartig. Op 16 Maart 1914 gee Langenhoven 'n eksemplaar van Ons weg deur die wêreld aan Goldblatt met die volgende inskripsie: ‘Met erkentenis en hoogagting aan sij Sub-editries, Mej. S. Goldblatt.’ Binne 'n jaar was die hele eerste oplaag van duisend eksemplare uitverkoop.Ga naar eind4 Vroeg in 1918 nader J.H. de Bussy/HAUM se bestuurder Langenhoven om te hoor of hy nie 'n manuskrip vir uitgawe beskikbaar het nie. Ons weg deur die wêreld was toe al 'n hele paar jaar uit druk en | |
[pagina 357]
| |
Langenhoven het gemeen dat hy darem graag 'n honorarium op die boek sou wou ontvang. Daarom stem hy in tot 'n herdruk. Die produksie van die boek het egter tot heelwat onaangenaamheid gelei, want die uitgewer het hom nie altyd aan die tydskedule gehou nie en die proewe was vol foute - albei faktore wat die ongeduldige Langenhoven se gramskap gewek het. Die uitgawe is in Nederland behartig, maar weens die skaarste aan papier tydens die Eerste Wêreldoorlog het die drukkers van 'n baie slegte gehalte papier gebruik gemaak. Langenhoven en Goldblatt wou ‘flou val’Ga naar eind5 toe hulle die boek sien en was baie ontevrede met die eindproduk. By J.H. de Bussy/HAUM het nog twee werke van Langenhoven verskyn, maar hy was steeds ontevrede met die gehalte van hulle drukwerk. Intussen het die Nasionale Pers reeds tot stand gekom. Alhoewel dit daar ook nie altyd net 'n geval van vreugde en vrede was nie, het Langenhoven veel meer vertroue gehad in dié uitgewery se behartiging van sy manuskripte. Toe daar in 1922 weer 'n herdruk van Ons weg deur die wêreld moes kom, het Langenhoven dan ook besluit om die geheel uit te brei tot 'n reeks van drie boeke en die nuwe uitgawe by die Nasionale Pers te laat verskyn. Twee van die samesprake en alleensprake (‘'n Weergalmpie van Babel’ en ‘Ou Dolf oor karakter’) en die spesiale stukke vir debatsverenigings is weggelaat, terwyl hy twee van die ‘fantasieë’ (‘Ons almaal se erfenis’ en ‘Die grijsaards jeugd’) en die opstelle laat verval het. Die afdeling ‘Versies’ is uitgedun, maar sewe nuwes is bygevoeg. Deel I van die nuwe (en definitiewe) uitgawe van Ons weg deur die wêreld bestaan uit ‘Verhaaltjies en karaktersketse’, ‘Ligte leekprekies’ en ‘Samesprake en 'n alleenspraak’. In die verhale gebruik Langenhoven by herhaling die raamvertelling, die regstreekse gerigtheid op die leser, die outobiografiese aanbod en 'n aangename geselstoon - almal tegnieke wat, saam met die situering van die gebeure in die bekende agrariese wêreld van die Klein Karoo, daarop gemik is om sy mense aan die lees te kry. Die didaktiese inslag van die ‘Ligte leekprekies’ moet ook besonder byval gevind het by die lesers van Langenhoven se tyd, want preekbundels was naas die Bybel die gewildste boeke onder die ou boeremense. As 'n mens die struktuur van Langenhoven se prekies bekyk, word dit duidelik waarom hy by die publiek so 'n gewilde skrywer was. Hy is by uitstek dié skrywer van sy geslag wat die GRA se stelreël, ‘Ons skryf soos ons praat’, die verste deurgevoer het | |
[pagina 358]
| |
met 'n spontane, spreektaalmatige Afrikaans. Daarby kon hy selfs afdwalings en uitweidings in die struktuur van sy stukke inbou en só 'n natuurlike vorm vir die preek vind. Verder spreek hy telkens sy gehoor aan met verwysings na hulle omstandighede en verwysingsraamwerk. Met 'n behendige afwisseling van beeld en betoog kan hy dan subtiel 'n stukkie lering verskaf en ongemerk sekere oerwaarhede vir die leek inwerk. Ook die samesprake handel oor sake wat vir die Afrikaner van Langenhoven se tyd bekend was, al slaag hy reeds in ‘Die ingewikkelde boodskap’ daarin om met die wartaal iets van die absurdisme te wek, 'n effek wat Langenhoven meermale met die bisarre situasies in sy verhale sou bereik. Van die beste samesprake het te make met die hof en die werk van die prokureur, bekende terrein in Langenhoven se daaglikse beroepslewe. In ‘Die tweetalige vonnis’ ‘vertaal’ die aangeklamde tolk die eentalige regter se uitspraak op so 'n wyse dat die beskuldigde allerlei beledigings toegesnou word, terwyl ‘Die kys abaut die forro’ die treurige maar ook lagwekkende gevolge skets as 'n man sy eie taal verag en in die raarste moontlike Engels begin praat. Ook ‘Teorie en praktyk’, oor 'n kandidaat wat sy oggend- en aandpraatjies nie met mekaar laat klop nie, hou 'n taalles in en is 'n skitterende voorbeeld van Langenhoven se redenaarsvermoë. Deel II van Ons weg deur die wêreld bevat spreuke, ‘fantasieë’ en ‘versies’. Soos die stukke in die eerste bundel steun die spreuke op die bekende wêreld van die Afrikaner en Langenhoven se regservaring, maar dan verbind met algemene riglyne vir die lewenswandel of die Christelike wêreldbeeld. Soms is die spreuke uitbreidings op bestaande idiome, ander kere 'n afwisseling van beeld en betoog, en soms voorbeelde van Langenhoven se ratse woordvernuf. Die meeste van die spreuke is nou, in teenstelling tot hulle eerste publikasie in die Afrikaanse verjaardagboekie, voorsien van kommentaar deur Stoffel Gieljam, Langenhoven se ‘denkbeeldige, wêreldkundige’Ga naar eind6 alter ego wat toenemend in sy romans en korter stukke in die twintigerjare as karakter sou optree. Daarmee word die moontlikheid geskep om telkens op die relatiwiteit en dubbelkantigheid van 'n stuk ‘waarheid’ te wys, om 'n saak van meer as een kant te belig en om homself in die hekeling te betrek. Van Langenhoven se bekendste spreuke is hier opgeneem. ‘Dit beteken nie altyd veel’, so skryf hy, ‘om 'n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op 'n begrafnis is die dooi man.’ ‘Skeur jou los van jou nasie af’, skryf hy op 'n ander plek, ‘en verwonder jou dat | |
[pagina 359]
| |
die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie.’ Baie van die spreuke steun op die belewing van die agrariese wêreld van sy jeug: ‘Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit 'n goeie wamaker was.’ Uit die daaglikse lewe van die getroude man en die wêreld van sy prokureursberoep kon hy put: ‘Waardeer jou vrou soos die appel van jou oog. Dis nie 'n geringe saak dat daar iemand is wat onderneem het om haar hele lewe met jou te verslyt nie’; ‘Probeer om die skelm aan 't raas te kry,/ Dan praat hy straks sy bek verby’; ‘Berou is 'n ewigdurende rente op 'n skuld waarvan die kapitaal nooit vereffen kan word nie.’ Die ‘fantasieë’ werk, meer as die verhale en karaktersketse van die eerste bundel, met herinneringe uit Langenhoven se jeug en die wêreld van Hoeko - telkens verbind met mymeringe oor die skepping of die Skepper, en nie sonder 'n sentimentele inslag nie. Die versies toon in sekere gevalle 'n te sterk gebondenheid aan 'n eksterne metriese en rymskema, andersyds is hulle weer te vry, sonder die nodige stutte of bindmiddele. Soms verdring die abstraksies die beelding of word dit 'n soort betoog-in-versvorm. Die gedigte handel oor die daaglikse doen en late van die mens, 'n enkele keer (‘Credo in Deum Patrem’) oor die worsteling van die indiwidu oor die basiese vrae in verband met die mens se bestaan, en oor vaderlandse motiewe (die Groot Trek en die Rebellie). Soms voel Langenhoven hom aangetrokke tot 'n soort anekdotiese vers wat met 'n morele les onderskraag word. Van sy bekendste gedigte is hier opgeneem, soos ‘Ag wat, dis maar 'n hond!’, ‘Die mot en die kers’, ‘Die wêreld die draai’ en ‘Liefdesonsin’, verse wat gekenmerk word deur die neiging tot die sentimentele of moraliserende. In ‘Liefdesonsin’ voel 'n mens buitendien dat hy met die volgehoue verkleinwoorde die Afrikaanse taaleie aantas. Deel III van Ons weg deur die wêreld bevat Langenhoven se referaat ‘Afrikaans as voertaal’, sy vlugskrif ‘De heilige ennen van Rehum en Simsai’ en 'n afdeling ‘Honderd prekies’. Telkens gaan die prekies uit van een van die spreuke wat Langenhoven in deel II opgeneem het. Soos die vroeëre ‘ligte leekprekies’ werk Langenhoven ook hier met die bekende wêreld van die Afrikaner as boustof en wissel hy telkens betoog en beeld met mekaar af. Van die stukke kan 'n outobiografiese duiding hê, soos ‘Die onredelikheid van ons onmatigheid’,Ga naar eind7 waar drankgebruik ter sprake kom, en ‘Die waarde van ons reputasie’,Ga naar eind8 waar 'n getroude man se aandag aan 'n ander vrou as voorbeeld ge- | |
[pagina 360]
| |
noem word. En 'n mens kan die vraag stel of Langenhoven werklik suksesvol as politikus kon wees, want in ‘Die invloed van ons takt’Ga naar eind9 skryf hy: ‘Maar takt, op sy allerbeste, is op die grenslyn tussen eerlikheid en oneerlikheid. Daarom maak 'n suiwer opregte man beswaarlik 'n suksesvolle politikus.’ Langenhoven formuleer sy houding ten opsigte van die godsdiens in ‘Die weg van ons saligheid’,Ga naar eind10 waarin hy die godheid sien as die ‘Redelikheid’ en die ‘Almagtige Regeerder’ en sê dat ons almal na die één Vader ‘soek en sug en smeek’, selfs as ons hom met verskillende name noem. En die aangrypende slotstuk van die bundel, ‘Die einde van ons weg’Ga naar eind11, handel - met die herhaalde ‘Kom’-opdrag wat soos 'n doemrefrein sirkuleer - oor die dood. ‘Sal jy dan hier deur die digte skare dring, o Dood?’ vra die stem van 'n wenende volk aan die einde van hierdie stuk. ‘Vat een van ons - vat tienduisend van ons - maak jou eie keus. Maar laat hóm bly. Hy is die vader van sy land. Hy is ons beminde staatsman wat ons volk uit die modder gehelp het. Hy is ons hervormer en redder. Ons het niemand om in sy plaas te stel nie.’ Maar, soos so baie keer tevore, slaan die dood nie ag op die pleitrede nie. ‘Hy redeneer nie, hy antwoord nie. “Kom,” sê hy. Die skurk is vir hom nie te sleg nie, die heilige is vir hom nie te goed nie. Die wysgeer is vir hom nie te slim nie en die idioot nie te dom nie. Of jy klaar is, is jou saak; nie syne nie. Sy wetboek is daar en dis nie vir hom om ná te gaan of die Wetgewer ander bepalinge kon gemaak het nie. “Kom,” sê hy; en hulle gaan. Hulle, en jy en ek.’ | |
IIIBaie van die stukke van Langenhoven wat in die jare 1912-1914 in Het Zuid-Westen verskyn, is in die Ons weg deur die wêreld-uitgawes van 1914 en 1919 en in die finale driedelige uitgawe opgeneem, saam met stukke wat hy later in Die Burger gepubliseer het. Daarnaas het Langenhoven ook heelwat artikels vir Het Zuid-Westen geskryf wat hy nooit in boekvorm uitgegee het nie, terwyl ander stukke - soos sy reeks oor die sterrekunde en enkele spookstories - later in verwerkte vorm deur hom gebruik is. In 1913 publiseer hy die onvoltooide vervolgverhaal ‘Die verlore soon’, wat hy later vir die toneel omwerk. Dit handel oor 'n seun wat sy moeder verloor, na Johannesburg vertrek en daar onder slegte invloede aan die drink gaan en sy geld verloor. Langenhoven se | |
[pagina 361]
| |
gedagtes was blykbaar in 'n stadium heeltemal in beslag geneem deur hierdie stuk, want hy het by herhaling daarna teruggekeer. Het dit vir hom 'n outobiografiese lading gehad en is dit gedeeltelik gebaseer op ervarings tydens sy verblyf in Transvaal? Dit is een van die weinige geskrifte van Langenhoven wat nie die wêreld van die Klein Karoo as agtergrond het nie, maar waarvan die grootste deel in die agterbuurte van Johannesburg afspeel. Blykbaar was daar by hom en by Sarah Goldblatt 'n sekere sensitiwiteit oor die stuk, want jare na Langenhoven se dood het Goldblatt aan Vroutjie gesê dat sy die manuskrip sal moet vernietig as sy haar hand daarop kan lê. Tog het Goldblatt dit nie gedoen nie. Was dit uit piëteit vir alles wat Langenhoven geskryf het of was daar 'n dieperliggende motief? Het hy die stuk uiteindelik versaak omdat die motief en boustof 'n te groot ooreenkoms vertoon met Totius se Trekkerswee? In elk geval is dit een van die swakste werke van Langenhoven. In die dramatiese verwerking maak hy afwisselend van vers en prosa gebruik, maar in die versgedeeltes is die rym en metrum só kunsmatig en die taal só vernederlands dat 'n mens beswaarlik die spontane Langenhoven daarin kan herken. Die prosagedeeltes is wel beter, maar die karakterisering bly vlak en daar kom haas geen verwikkeling in die verdere verloop van die gebeure nie. ‘Die verlore soon’ is een van die mislukkings in Langenhoven se omvangryke oeuvre, 'n werk wat hy genadiglik nooit, behalwe dan in onvoltooide vorm in Het Zuid-Westen, gepubliseer het nie. Toe hy 'n paar maande later in 1913 van die Oudtshoornse vieringskomitee die opdrag ontvang om 'n toneelstuk te skryf wat geskik sou wees om op Dingaansdag opgevoer te word, voltooi hy Die Hoop van Suid-Afrika binne twee middae en twee aande. Binne drie weke na die aanvang van sy werk daaraan, op 8 November, word dit gepubliseer as 'n spesiale bylae tot Het Zuid-Westen. Die eerste produksie was onder Langenhoven se spelleiding in die Oudtshoornse Teatersaal. Self het hy die rol van Retief vertolk, terwyl sy stiefdogter Antoinette Lilienfeld die rol van Hoop en sy stiefskoonseun Allan Pocock die rol van goewerneur Stockenström gespeel het. In 'n artikel op 10 November 1913 in Het Zuid-Westen, gepubliseer nog voor die opvoering, vra Langenhoven om verskoning vir die gebrekkige aard van die toneelstuk. Vir die groot drama en die voorstelling van die roemryke gebeurtenisse in ons vaderlandse geskiedenis, so gaan hy voort, sal ons moet wag tot die tyd dat 'n skrywer kom wat dit | |
[pagina 362]
| |
kan beskryf. Intussen moet die nederige kunstenaar wel 'n bydrae probeer lewer. ‘Ik denk’, so skryf hy, ‘aan die vele onder ons volk wat nie die gelegenheid gehad het van onderwijs om op die hoogte te kom met ons vaderlandse geskiedenis nie. En ik denk, met nog meer droefheid, aan diegene onder ons volk wat wel die voorreg gehad het van dure en lange-jarige skool-opvoeding, maar daaruit, onder die gehalte van ons onderwijs-stelsel, geen ander inspirasie gehaal het nie dan eerbied en bewondering vir die helde-dade van vreemde volke met op sij beste 'n stilswijgende veragting vir hulle eie geskiedenis. En al die tijd is ons geskiedenis roemrijk, heerlik - sodat ons ons hoof met trots omhoog sou hou en roem op ons afrikanerskap, als ons maar 'n besef had waar ons vandaan kom.’ ‘Die skrijwer hiervan’, so gaan Langenhoven voort in 'n uitspraak wat hy in gewysigde vorm veel later in U dienswillige dienaar sou herhaal, ‘vraag verlof om uit bittere ondervinding te spreek. Vir hom ook het sij vader skoolgeld betaal, en bij hom ook is die denkbeeld aangekweek deur alles wat hij in die skool gehoor en gelees en geleer het dat daar helde was onder die Grieke en Romeine, dat daar helde was bij die slag van Waterloo - maar dat daar in die geskiedenis van sij eie volk so min was om eens te melde dat daar bitter min moet wees om op te roem.’ In die verlede, so gaan Langenhoven voort, is die Suid-Afrikaanse geskiedenis aangebied as 'n lys goewerneursname - soos die Britse koningsname - met gebeurtenisse as handvatsels om datums aan op te hang. Maar die geskiedenis van 'n volk is meer as net 'n reeks los taferele. As ons die geskiedenis deur 'n dramatiese opvoering wil voorstel en ons neem net lewende karakters wat hom help vorm het, moet ons een van twee koerse inslaan: óf konsentreer op 'n kort tydvak, óf 'n reeks taferele uit verskillende tydperke as aparte episodes. Om 'n samehangende voorstelling van 1652 tot 1838 te gee, was dit nodig om 'n paar onsterflike persone op die toneel te bring ‘wat als belangstellende toeskouwers’ in die afwisselende lotgevalle van die nuwe nasie die nodige verband tussen die taferele kon bring. Langenhoven gebruik dan Vader Tyd, ‘'n onverskillige oubaas wat nie veel waarde heg aan tegespoed of droefheid of vreugde of geluk nie omdat hij so baje ondervinding het dat dit tog maar alles voorbijgaan, maar daarom die regmaker is van alles wat verkeerd is en die openbaarder van alles wat duister is.’ Saam met hom, ‘om hom nie so eensaam te laat sonder 'n maat uit sij onsterfelike wereld nie’, is Hoop: wisselend tussen sonskyn en ska- | |
[pagina 363]
| |
du, storm en voorspoed, maar tog die hoop wat ook onsterflik is. En op dieselfde beginsel, so sluit Langenhoven sy kommentaar af, is ook die ‘generale persone’ - Boer, Vrou, Barbaar en Kinders - gebou. Hulle stel 'n tipe voor, 'n ‘klas of seksie’. Reeds uit Langenhoven se uitweiding oor die aard en struktuur van sy drama kan 'n mens aflei dat hy baie presies geweet het wat hy met die stuk wou bereik. Daarom het hy weinig geduld gehad met kommentators wat van hom 'n sekere gehoorsaamheid aan ‘skoolse regels’ verwag het. Hy wou nie 'n drama van ‘persoonlike hartstogte en lotgevalle’ in die tradisie van die negentiende eeu skryf nie, maar, soos hy dit in die voorwoord tot 'n latere uitgawe sou formuleer, ‘die geboorte van 'n nasie’ toneelmatig met behulp van historiese karakters, ‘exempels’ en allegoriese figure voorstel. Vandaar dan ook dat die tonele in die tradisie van die epiese teater op mekaar volg, voorafgegaan deur Hoop en Vader Tyd wat soos 'n Middeleeuse expositor ludi die gehoor aanspreek en hulle op dié wyse deelgenote van die handeling maak. Met die spronge in die tyd tussen die verskillende taferele sluit Langenhoven hier aan by die konvensie van die Middeleeuse toneel, al is dit te betwyfel of hy met hierdie tradisie vertroud was en vermoed 'n mens eerder 'n onbewustelike voortsetting. In die eerste bedryf (wat in werklikheid uit chronologies opeenvolgende episodes bestaan) word die historiese verhaal en die allegorie mooi met mekaar afgewissel. Die tweede bedryf konsentreer in so 'n mate op die gebeure rondom Retief dat die allegoriese deur die epiese verdring word en daar 'n gevolglike diskrepansie tussen die twee bedrywe ontstaan. Die optrede van Vader Tyd en Hoop as besinnende figure is dus in die eerste bedryf meer geslaag, al voel 'n mens dat Hoop te dikwels, in stryd met haar allegoriese aard, te wanhopig klink! Besonder geslaag is egter die inset met die relativering van die menslike lewe teen die kosmiese gang van lewe en dood. Maar selfs met sulke kritiek sou die ongeduldige en ongedurige Langenhoven waarskynlik nie genoeë geneem het nie. Hy het nog minder geduld gehad met mense wat sy drama om ideologiese redes probeer diskrediteer het. Toe die redakteur van The Cape by 'n tweede uitgawe in die kritiek op die Britte ‘rassehaat en sediesie’ sien, antwoord Langenhoven in De Burger van 4 Desember 1917 met 'n lang en rumoerige betoog oor al die onreg wat reeds deur die Britte in hierdie land gepleeg is. Hy sê dat Die Hoop van Suid-Afrika oorspronklik deur 'n Sap ge- | |
[pagina 364]
| |
skryf is. ‘Hij eindig’, so skryf Langenhoven, ‘bij Bloedrivier. Daarvandaan hiernatoe is nog 'n hele stukkie geskiedenis met sluiptogte en konsentrasie-kampe en meer sulke materiaal wat netjies kan dien vir dramatiese doeleindes. 'n Verder deel van die toneelstuk kan die volgende maal strakkies deur 'n Nasionalist geskrijf word tot op 'n meer moderne datum.’ Dit is ook inderdaad wat Langenhoven doen. Aangemoedig deur die herdruk wat in 1917 van Die Hoop van Suid-Afrika nodig geword het en deur verdere opvoerings, begin Langenhoven in Junie 1918 met 'n nuwe drama wat as 'n vervolg op die vroeëre stuk bedoel is. Op 3 Julie 1918 kan hy Sarah Goldblatt laat weet dat hy Die Vrouw (in latere uitgawes Vrou) van Suid-Afrika klaar het. Hy het dit op die terugreis uit Kaapstad op die trein begin en by Arbeidsgenot kom klaarmaak, ‘weer in omtrent drie dage’. Nou het hy dit aan Bowles gegee om dit namens Dusseau te druk, maar hulle sloer daarmee, nieteenstaande beloftes en 'n vasgelegde datum. ‘Die drukkers en uitgewers’, so skryf hy ergerlik aan Goldblatt, ‘is almaal 'n hopelose noodlot.’ Hy het 'n mooi idee gehad vir illustrasies deur Reenen J. van Reenen, maar ook so iets is ‘hopeloos’ en sou die publikasie te lank vertraag. Tog kan hy op 8 Julie, met ander woorde vyf dae later, 'n eksemplaar van die nuwe stuk aan Goldblatt stuur! Die drama word enigsins negatief deur 'n anonieme resensent in De Burger bespreek. ‘Is dit nie om van horries te kry nie?’ vra Langenhoven op 15 Augustus 1918 aan Goldblatt. ‘Ik kan aan die stijl sien dat dit nie Fagan se werk is nie.’ Hy het intussen goed bevriend geraak met prof. J.J. Smith, Stellenbosse taalkundige en eerste redakteur van Die Huisgenoot, 'n man wat in Engeland gestudeer en sy Brits gebore vrou met behulp van The royal road to Cape Dutch Afrikaans geleer het. Smith het hom gevra waarom hy geen resensie-eksemplaar van Die Vrou ontvang het nie. ‘Ik seg hom omdat ik bang is want ik kom nie bij sij hoogte - ik het nie mij Afrikaans in Londen gaan leer nie. Baje gawe, goed geaarde kerel - hij moet net 'n bietjie verleer en afleer.’ Die Vrou van Suid-Afrika is die eerste nuwe werk van Langenhoven wat in boekvorm verskyn na die publikasie van Ons weg deur die wêreld in 1914. In die tydperk tussenin was hy wel aanhoudend besig met bydraes vir Het Zuid-Westen, De Burger en Die Huisgenoot, maar baie van sy tyd is in beslag geneem deur sy politieke aktiwiteite en sy stryd in belang van Afrikaans. Die jaar 1918 is egter die jaar waarin Langenhoven, | |
[pagina *1]
| |
1 Pieter Guillaume Langenhoven en Margarita Susanna Petronella Blignaut, pleegouers van die skrywer.
2 Hoeko, die plaas ongeveer veertien kilometer van Ladismith waar Langenhoven grootgeword het.
| |
[pagina *2]
| |
3 Meester Bloemkolk en sy gesin. Hy was die Hollandse skoolmeester wat by Langenhoven 'n gevoeligheid vir die korrekte woord gekweek het. In Ons weg deur die wêreld skryf Langenhoven in die skets ‘Meester’ oor hom.
4 Die smidswinkeltjie op Hoeko wat ook die eerste skooltjie van Meester Bloemkolk was.
5 Die leerlinge van die skool op Ladismith, saam met mnr. J.R. Frylinck, die skoolhoof. Langenhoven staan agter, sesde van links.
| |
[pagina *3]
| |
6 Helena de Vries, Langenhoven se eerste verloofde. Hier verskyn sy saam met 'n vriend (links) en Langenhoven.
7 Op 25 Julie 1894 skryf Langenhoven vir Helena 'n gedig waarin hy haar naam en sy kindernoemnaam Petite uitspel.
| |
[pagina *4]
| |
8 Magdalena Maria Hugo, Vroutjie, met wie Langenhoven op 23 Februarie 1897 in die huwelik tree.
9 Langenhoven as advokaat in Kaapstad.
| |
[pagina *5]
| |
10 Engela as jong dogtertjie. Sy is op 22 Desember 1901 gebore.
11 Arbeidsgenot, die woning wat Vroutjie in 1903 op Oudtshoorn aankoop, soos geteken deur Langenhoven.
| |
[pagina *6]
| |
12 Teen die rand van die plakpapier in die eetkamer van Arbeidsgenot het Langenhoven 'n uitbeelding van spelende kinders geplak. Dit was die inspirasie vir Die Krismiskinders.
13 In die jare 1912-1914 is Langenhoven redakteur van die Oudtshoornse koerant Het Zuid-Westen. Hier is hy in 1913 in die redakteurstoel gefotografeer.
14 Sarah Goldblatt, Langenhoven se ‘Sub’ en ‘intieme huisvriendin’, die persoon wat in later jare sy manuskripte by die Nasionale Pers behartig het en as administratrise van sy letterkundige nalatenskap verantwoordelik was vir die uitgawe van die Versamelde werke en die inrigting van Arbeidsgenot as museum.
| |
[pagina *7]
| |
15 Langenhoven as senator.
16 In 1925 met Herrie-Mof, die inspirasie vir sy roman Mof en sy mense.
17 Saam met Engela.
| |
[pagina *8]
| |
18 In 1931 ontvang Langenhoven die graad D.Litt. honoris causa van die Universiteit van Stellenbosch. Hier verskyn hy saam met die ander ere-graduandi: dr. D.F. Malan, genl. J.C. Smuts, dr. P.J. du Toit, dr. H.J. van der Bijl en sen. F.S. Malan.
19 Langenhoven se graf op Oudtshoorn.
| |
[pagina 365]
| |
ten volle bewus van sy roeping as skrywer, begin om hom feitlik voltyds aan die uitlewing van sy talent te wy. In die volgende veertien jaar sou hy trouens naas kinderboekies ses en veertig nuwe werke lewer, boeke wat in hul duisendtalle gelees is deur 'n merendeels plattelandse bevolking, mense by wie lees nie 'n daaglikse aktiwiteit was nie. Die Vrou van Suid-Afrika word aangedui as 'n vervolg op Die Hoop van Suid-Afrika en as 'n ‘dramatiese fantasie’ en met ‘treurende liefde opgedra aan die nagedagtenis van my ontslape pleegmoeder, Margarita Susanna Petronella Langenhoven, geb. Blignault, 'n vrou van Suid-Afrika’. Terwyl Die Hoop die geskiedenis van Suid-Afrika van 1650 tot 1838 met die Slag van Bloedrivier vertel, dek Die Vrou die periode van 1842 tot 1902, laasgenoemde die einde van die tweede Anglo-Boereoorlog. Soos in die eerste stuk werk Langenhoven hier weer met allegoriese, tipiese en historiese karakters, onder andere met Britannia, wat die ‘siel’ van die Engelse volk verteenwoordig, 'n toekomsblik aan die slot gee en 'n ander standpunt huldig as die imperiale strewe van Rhodes en Jameson. In 'n resensie in Die Huisgenoot van November 1918 het Langenhoven se vriend H.A. Fagan ernstige kritiek op die stuk. Hy meen dat die politieke karakters en twisgesprekke die poëtiese kwaliteit van die stuk skaad en dat Britannia 'n dubbelsinnige figuur is. ‘Allegoriese en werklike persone -’, so skryf Fagan, ‘die sterflike en die onsterflike - word in die stuk so deurmekaar gemeng, dat dit soms moeilik is om te weet of 'n mens 'n persoon of 'n tiepe voor jou het.’ Die drama gee volgens hom blyke van oorhaastige werk, ook wat die taalgebruik betref, al meen hy dat dit by 'n opvoering indruk sal maak. Elkeen wat Langenhoven geken het, kon teen dié tyd geredelik verwag dat hy oor sulke kritiek ontsteld sou wees. Hy het eenvoudig nie van negatiewe kommentaar gehou nie, selfs nie as dit, soos in dié geval, behoorlik gestaaf is en kom van 'n vriend wie se goeie trou hy nie kon betwyfel nie. Ten spyte daarvan is hy in sy reaksie onredelik heftig. ‘Vireers’, so skryf hy, ‘wil ik uw lesers graag te wete gee dat ik...(die stuk) nie aan u gestuur het of u om 'n resensie versoek het nie. Ik wis immers vooraf watter soort behandeling daar vir enige werk van mij bij Die Huisgenoot te wagte was. Nou dit is wel waar dat elkeen, hoe onoordeelkundig hij ook mag wees, die reg het om te oordeel wat op die publieke mark aangebooie word.... Ik wil nie op die meriete ingaan nie. Wat Meneer Fagan se opienie oor mij werk is, is miskien nie van groter waarde als mij opienie oor sijne nie - en dié het ik nog nie | |
[pagina 366]
| |
wereldkundig gemaak nie.’ Hy gaan dan voort deur op 'n enkele geval te wys waar Fagan verkeerd uit sy stuk aanhaal, sonder om die wesentlike van die besware te beantwoord. Hy sluit af met die versoek aan die redaksie van Die Huisgenoot om voortaan alle vermelding van sy werk agterweë te hou. ‘Dit sal u wel nie swaar val (nie)’, so skryf hy. ‘Die Huisgenoot kan seker ten minste so goed sonder mij klaarkom als ik sonder hom.’ Genadiglik het Langenhoven hierdie negatiewe reaksie nooit vir publikasie ingestuur nie, waarskynlik gekeer deur Vroutjie of Saartjie, wat dit seker te ekstreem sou gevind het, veral in die lig van die goeie verhouding met 'n gewaardeerde vriend en die feit dat Fagan sy besware nugter en sonder heftigheid geformuleer het. Opvallend is egter die feit dat Langenhoven hier die redaksie van Die Huisgenoot versoek om geen aandag aan sy werk te gee nie. In die twintigerjare sou sy gevoel teen die kritiek só oplaai dat hy die woorde ‘Geen resensie word gevra nie’ voorin al sy publikasies sou laat plaas. Die reaksie op Fagan verskyn dus nie, maar op 1 Augustus 1918 reageer hy wel op De Burger se resensent. En as J.F.W. Grosskopf in Die Volksblad van 30 Augustus 1918Ga naar eind12 ook negatief op Langenhoven se stuk reageer, lei dit tot heftige kommentaar. Grosskopf het beswaar teen die vermenging van die sinnebeeldige en volkome realistiese, byvoorbeeld as Hoop teen die einde tot 'n kampsuster vermenslik word. Verder sê hy dat die voorstelling van Britannia as die edelste karakter in die stuk vir hom en ander in die noordelike provinsies, ‘wat van Britannia ook ander streke gesien het’, besonder pynlik was. In 'n brief van 17 September 1918 aan Die Volksblad sê Langenhoven dat hy nie op die ‘tegniese kritiek’ wil antwoord nie. Die volk vir wie hy skryf, het die stuk aanvaar, en hy erken geen hoër gesag nie. Waarop hy wel wil reageer, is die uitspraak dat Britannia die ‘edelste karakter’ in die stuk is. ‘Op haar aanmatiging van onselfsugtige en mensliewende bedoelings word sij herhaaldelik deur Vader Tijd en deur Paul Kruger getroef. Het uw resensent hierdie passate oor die hoof gekijk of verswijg hij hulle opsettelijk?...Dat Britannia van haar kant hoog voorgestel word had tog 'n dubbele dramatiese noodsaaklikheid wat vanselfsprekend behoort te wees.’ Dit sou verkeerd wees om die ‘betere siel’ van Engeland gelyk te stel aan die ‘roofsugtige Empaaier’ wat in Suid-Afrika soveel leed veroorsaak het. Die stuk wys duidelik, in die woorde van die Vrou, daarop dat die ‘vrugte van Imperialisme’ altyd | |
[pagina 367]
| |
wrang en bitter is en tot ‘ramp en ellende’ lei. Dat hierdie ‘boodskap’ nie deur Grosskopf raakgesien word nie, lei tot 'n wanvoorstelling van die hele stuk. ‘Ik het al rede genoeg’, sê Langenhoven bitter, ‘om te weet dat dit gewoonlik 'n misdaad is om te probeer om iets te doen hetsij vir die letterkunde of die kultuur of die geskiedkundige kennis van ons arme onbevoorregte volk. Jou loon is verguising, en dit van die kant van die hoogst-bevoorregte wat juis met daardie werk moes help maar nou self nie werk nie en wat andere doen afbreek. Ons letterkunde is maar in sij allereerste begin; ons taal is nog skaars tot volle erkentenis gekom. Daar is 'n geesdrif en 'n vuur wat uit alle oorde van ons land opvlam om die uitdrukking te soek wat honderd jaar lank belet was. En 'n klompie akademiese fariseërs...is daarop uit om die nieuwe poginge een vir een dood te smoor. Verwag hulle dadelik 'n rijp-volmaakte litteratuur, in plaas van 'n organiese ontwikkeling van lager tot hoger soos dit met al die letterkundes van die wêreld gegaan het? Verwag hulle ooit vrugte als hulle al die blare van die jonge boompie afstroop so vinnig als dit bot? Hoeveel skrijwers is nie al van alle werk afgeskrik nie? En ons volk sug in hulle bittere behoefte.’ En Langenhoven sluit af deur te sê as die voorstelling van Britannia dan só verkeerd verstaan word, hy verplig is om sy drama van die mark te onttrek. Dié soort heftige reaksie sou by herhaling in die komende jare 'n algemene patroon by Langenhoven word, al het hy dikwels nie al sy dreigemente en voornemens uitgevoer nie en soms ook 'n protes - waarskynlik op aandrang van Vroutjie of Saartjie - nie laat publiseer nie. Hoewel die reaksie teen Grosskopf buitensporig was, kan 'n mens simpatie hê met die basiese gedagte dat skrywers in 'n jong letterkunde en 'n wordende taal op verskillende vlakke moet eksperimenteer en dat daar dus nie geredelik van hulle verwag kan word om altyd met finaal afgewerkte produkte te kom nie. In 'n persoonlike brief aan Langenhoven sê Grosskopf dat daar nie sprake van 'n poging tot agterdog was nie. ‘Al wat ek wou uitbring’, skryf hy, ‘was my persoonlike mening...dat dit vir ons jong toneelkuns gevaarlik is om in die rigting van Uw laaste werke te gaan. Ek mag mij vergis; U kan mij opvatting verwaand of verspot vind - maar ek hoop dat U so regverdig sal wees om te glo, dat dit mij oortuiging is.’ Daarby het hy nie as ‘geveinsde skrifgeleerde’ probeer skryf nie, maar as iemand wat in Europa baie in die drama belang gestel het en wat hoop ‘dat die toneel sij behoorlike, belangrijke rol in ons volkslewe en -ontwikkeling sal speel’. | |
[pagina 368]
| |
Ten spyte van sporadies negatiewe resensies kon Langenhoven nie juis kla dat daar nie waardering vir sy werk was nie, al is dit tog so - veral as 'n mens dit vanuit 'n latere perspektief bekyk - dat sy werk dikwels om verkeerde redes gewaardeer is en sy werklike bydrae, ten minste tydens sy lewe, selde na waarde geskat is. In De Burger van 11 Januarie 1919 verskyn daar byvoorbeeld 'n besonder gunstige beskouing oor Die Hoop en Die Vrou van Suid-Afrika. ‘Aan die heer Langenhoven’, so skryf De Burger, ‘kom in heel besondere mate die eer toe, dat hij vir ons toneelkuns 'n rigting gevind het, wat die stempel van 'n geniale oorspronkelikheid dra, en wat berekend is om met wonderlike effek die innerlike betekenis van die groot gebeurtenisse uit die geskiedenis van die Afrikanervolk aan ons voor te stel en daaruit die diepste lesse en die hoogste inspirering vir die toekoms te put.’ Die Hoop het volgens De Burger reeds vir die volk 'n besondere opvoedingswerk verrig, terwyl Die Vrou, in dieselfde styl geskryf, tog genoeg van die eerste stuk verskil om treffende bewys te lewer ‘van die steeds oorspronkelike skeppingskrag wat die heer Langenhoven besit en van die veelsijdigheid van sij skrijwerstalent.... Dit is 'n aanskouwelike les in die konstitusionele geskiedenis van Suid-Afrika, voorgedra op 'n wijse wat 'n veel sterker indruk moet maak dan tien wetenskappelike verhandelinge.’ Tog sou Langenhoven in die komende jare en ook later nie die rigting van die politieke allegorie voortsit nie. In enkele dae handel hy op versoek die werk aan Republicans and sinners af en op 13 Maart 1919 kla hy teenoor Sarah Goldblatt omdat die boek nie op Oudtshoorn te koop is nie. ‘Ik verstaan’, so skryf hy, ‘die “Burger” se uitgewersdepartement net so min als die redaksie-dept. Of liewer daar is niks om te verstaan nie. Bowles het hulle meer als 14 dage gelede getelegrafeer vir 1 dos. eks. van R's & S's en hij het vandag nog nie eén nie. Intussen gaat die aanvraag virbij. Môre oormôre is daar 'n vars sensasie. Als hulle met hom so maak sal hulle wel met andere bestellers dieselfde doen.’ En teen die einde van die jaar gee hy haar instruksies oor haar aandeel aan The everlasting annexation, die ‘sequel van R's & S's’. In 'n brief van 5 November 1919 vra hy haar om die aanhalings na te gaan en reg te maak, om die manuskrip dan by Servaas de Wet by die uitgewersafdeling van die Pers te gaan wys en reëlings vir die druk te tref. Die boek moet in dieselfde lettertipe as Republicans and sinners maar met 'n klein bietjie dikker lood tussen die reëls geset word, 'n opdrag waaruit dit | |
[pagina 369]
| |
blyk dat Langenhoven reeds goed op die hoogte was van die moontlikhede wat die setmasjiene van dié tyd aan hom gebied het. En dat hy 'n moeilike man was om voor te werk, blyk uit die opdrag aan Goldblatt om die manuskrip oor die naweek klaar te maak en dan Maandag vir set in te lewer. ‘Die titel’, so skryf hy, ‘is die laaste waar ik op gekom het - altemit kom daar nog 'n ander - maar hij is nie sleg nie. Ander wat ik had was: The Foreign Adventure, The Heavenly Stunt (onmoontlik, lasterlik), South African Left, The Sphere of Influence ('n baje goeie), The Last of the Aliens (ook 'n goeie), Imperial Aggression (goed maar vreemd) en nog ander.’ En as die boek verskyn, kla hy teenoor Goldblatt dat die prys te hoog is en dat daar 'n gruwelike setfout in die advertensie in De Burger verskyn. ‘Langenhoven se werk is nie vir die proeflesers van de B. die moeite wêrd om sorgvuldig mee te wees nie’, skryf hy in 'n brief van 19 Desember 1919. En al voel hy in hierdie tyd radeloos en siek, kan hy sy vriendin nog aanspoor om ‘hulle daar by die SAOU’ te gaan opdons as sy die jaarkongres bywoon. Ook met hierdie mense leef Langenhoven in onvrede, want net soos die setters en die uitgewersredaksie by die Pers is hulle besig om Afrikaans en sy letterkunde te knou. ‘Laat hulle’, so vra hy, ‘tog iemand nomineer vir die Boeke-kommissie wat nie akademies-bedonderd is soos die gewone slim eksperte wat ik soveel sonde mee het nie.’ Langenhoven sit in sy verdere werk in hierdie tyd nie die politieke vlugskrifte of die rigting van sy allegories-historiese spele voort nie. In sy drama Die onmoontlike tweeling, wat in 1920 verskyn, sluit hy met die omgekrapte, kwasterige vaderfiguur en met die kwinkslae in die dialoog eerder aan by die vroeëre Die wêreld die draai, al is daarin ook iets van sy sonde-met-die-bure-motief aanwesig. Basies werk die stuk met 'n reeks verwarrings en word dit 'n soort ‘comedy of errors’ in die kleine. Die parallelismes in die verwarrings, soms met woordelikse ooreenkomste, sorg vir 'n bevredigende bou, al is die ouderwetse tersydes en die onnatuurlike monoloog, waar oom Gawerjal met homself praat, 'n bietjie hinderlik. Met 'n verdere drama uit hierdie tyd, Vrouetrou, sluit Langenhoven ook by 'n vroeëre werk aan, naamlik by die versvorm wat hy in die mislukte ‘Die verlore soon’ aangewend het. Hy dra dié drama op aan Vroutjie met ‘al sy liefde en sy trou’. Soos in ‘Die verlore soon’ is die versvorm baie los, met sporadiese ryme, en kry 'n mens die indruk dat dit eintlik prosa is wat in versreëls verdeel word. Langenhoven is hier | |
[pagina 370]
| |
op sy sentimenteelste en stroperigste, veral in die lang monoloë, al loop die gebeure mooi op tot 'n klimaks. Dit is egter psigologies erg onwaarskynlik dat die vader, oom Hendrik, sy geliefde dogter Mieta met 'n troubelofte aan 'n man met 'n slegte karakter sal bind, terwyl die ommekeer in Jan ongemotiveerd bly. In die weeskind, die ‘aalmoeskind’, kon Langenhoven hier iets van sy eie verlede verbeeld het en kan Mieta se uitgesproke liefde vir haar pleegvaderGa naar eind13 op homself betrekking hê, veral as 'n mens in gedagte hou dat sy eie pleegvader kort tevore oorlede is. En wanneer Mieta afskeid neem van die plaas, is dit duidelik dat die landskap vir Langenhoven die swewende beeld van Hoeko as agtergrond het. Dit is alleen jammer dat dit alles met soveel stroperigheid gepaard gaan, want in sy prosa was Langenhoven se woordgebruik oor die algemeen suiwer en fris. In sy bespreking van die drama in Die Brandwag van 25 Oktober 1921Ga naar eind14 het Eugène N. Marais ook beswaar teen die ‘onberijmde versmaat’ as ‘voertuig’ van die ‘eenvoudige huislike toneelstukkie’. 'n Mens is verstom wanneer jy in 'n brief van 28 Augustus 1921 aan Goldblatt lees dat Langenhoven self meen ‘dis van die beste werk wat...(hy) ooit gedoen het’. Hy voeg darem by: ‘maar ek begint hierdie soort eie oordeel al te wantrou - want dis altyd by my die jongste en die nuutste wat vars uit my siel uit kom waaroor ek begaan is. By die aanvang daarvan was my idee dat dit op 'n wanhopige tragedie sou uitloop... Maar in die tweede bedryf het die karakters hand-uit geruk en hulle eie koers ingevlie en my saamgesleep.’ Die afgelope week, so skryf hy verder oor die staat van depressie wat hy beleef, ‘was ek so wanhopig en treurig as ek nog nooit in my lewe was nie’. Hy kla onder meer oor slapeloosheid en dat sy gesondheid agteruitgaan. ‘En in twee-drie van daardie donker dae het ek die eerste ruwe opstel van die stukkie gemaak en daarna twee nagte agtermekaar van die aand tot die oggend, met geen minuut van 'n dagslapie tussenin nie, het ek hom geskryf. En as dit nie daárvoor was nie; as ek nie daardie afleiding had nie, was ek kranksinnig geword. Maar daardie geestespanning tot die alleruiterste, met 'n liggaam reeds krank tot inmekaar sak toe, het sy prys gekos.’ In dié toestand, so gaan hy voort, was hy seker vir Vroutjie 'n treurige las. Daarteenoor was sy vir hom tot hulp - ‘ja en seker tot redding met haar liefde en troos en aanmoediging, en altyd geduldig onder die beproewing wat ek haar moet aangedoen het deur my duiwelsbesetenheid’. | |
[pagina 371]
| |
Hierdie ‘duiwelsbesetenheid’ slaan op Langenhoven se drankmisbruik, want in dié tyd begin hy na alkohol en sy eksesse as die ‘blou duiwels’ verwys. Trouens, in Augustus 1921 moes hy 'n verskriklike krisis beleef het wat sy gesondheid en sy emosionele toestand betref. Op 6 Augustus skryf hy aan Goldblatt dat hy dorp toe was en daar ‘dronk’ geword het - ‘duiselig, jy verstaan - sodat ek met 'n keb moes trug gery word’. Nou voel hy wel weer 'n bietjie beter, maar hy voel tog sy gesondheid gaan steeds agteruit. So labiel is hy egter dat hy heeltemal van koers af raak omdat hy nie die verwagte gelukwensing met sy verjaardag op 12 Augustus van Saartjie ontvang nie. In 'n brief van 19 Augustus skryf hy: ‘Ek merk òf 'n onwilligheid òf anders 'n inbeslagneming van tyd waarvan jy my niks sê nie. En daaroor het ek geen klagte nie; jy is immers jou eie baas. Maar ek wil nie aan jou korrespondensie en moeilikheid met my werk opdwing teen jou sin nie, net omdat jy nie graag vir my wil sê dis onwelkom nie. Ek kan glad nie verstaan waarvandaan die skielike onverskilligheid en koelheid kom sedert ons vertrek uit die Kaap nie. Daar is iets en jy sê my dit nie. Maar moenie hierop antwoord of hierheen verwys nie. Ek lees nie hierdie brief aan die Nooi voor nie omdat ek haar nie wil worry nie.’ Uit so 'n brief bespeur 'n mens 'n sekere opgejaagdheid wat nie meer normaal genoem kan word nie, want die vertraagde brief van Saartjie kon een van baie doodgewone verklarings gehad het. Daarby is daar 'n besitlikheid en jaloesie in verband met Saartjie wat laat vermoed dat hulle verhouding meer was as dié van ‘chief’ en ‘sub’ of skrywer en sekretaresse, al ontbreek definitiewe gegewens in hierdie stadium om enige gevolgtrekkings te maak. Langenhoven klink egter soos 'n radelose teleurgestelde vryersklong wat vermoed dat Saartjie 'n minnaar op die lyf geloop het. As hy egter die volgende dag 'n brief van haar ontvang wat van die teendeel getuig en waaruit blyk dat sy steeds met toewyding sy werk by die Pers behartig, is hy innig spyt oor sy vorige brief. Op 21 Augustus vra hy haar om verskoning vir die ‘onverdiende verwyte’ en sê hy dat daar 'n ‘duisend blou duiwels’ in hom ingevaar het. ‘Vergeef my tog Sub’, skryf hy; ‘ek dink met liefde en groot selfverwyt aan wat jy vir my gedaan het en gewees het al die jare; en nou dat die wêreld vir my donker word omdat dit lyk of my sonnetjie hom neig tot sy ondergang, voel ek sonder rede bitter teen al die mense en 'n bose gees besit my om my te laat dink die Sub het ook onverskillig | |
[pagina 372]
| |
geword.’ In 'n naskrif voeg hy by: ‘Na al die jare van troue en onskatbare diens wat ek van jou gehad het - pure liefde-diens waarvoor ek jou nooit 'n stuiwer vergoeding gegee het nie - had ek geen reg om sommer te veronderstel dat jy ook nou onverskillig geword het nie. Maar jy sal self erken, Sub, daar moet iets gewees het wat vir my onverklaarbaar moes lyk.... Selfs die Nooi, uit haar eie uit, het al herhaaldelik gesê: “daar moet iets verkeerd wees, waarom is die Sub so skielik glad anders vir ons as wat sy altyd was; (en met 'n laggie) die Sub moet aan 't vry wees”.’ Vyf dae later, wanneer hy nog steeds onseker voel oor Saartjie se toewyding en gesindheid en hom kwel oor 'n moontlike ander persoon in haar lewe, kla Langenhoven weer dat hy siek voel. Op 26 Augustus skryf hy: ‘As jy, soos ek begint te dink, liefde gekry het vir iemand wat jou kan gelukkig maak, dan my liewe Sub, dan gun ek jou dit van ganser harte. Dit sal baie swaar wees vir my, want ons omgang en vriendskap sal nie kan bly wat dit was nie - hoewel ek hoop dat ek nie my vriendin van agt jaar lank, en my regterhand by my werk, heeltemal sal verloor nie. Maar jy het die reg en aanspraak op huiselike geluk wat elke mens in die wêreld het, en dit sou onmenslik selfsugtig van my wees om jou dit te misgun.’ Maar daar was geen minnaar in Saartjie se lewe nie; net 'n swaar griepaanval wat haar tydelik verhinder het om by die Pers en die pos uit te kom! Die onsekerheid oor wat met haar aan die gang is, was egter eens te veel vir Langenhoven se reeds labiele gemoedstoestand en sy wankelrige gesondheid. Van nature was sy gevoel, soos hy dit by geleentheid in 'n brief gestel het, ‘tiendubbel dié van die gemiddelde mens’. So erg was sy toestand egter nou dat dit selfs Engela na die pen laat gryp. Op 30 Augustus vra sy in 'n brief dat Saartjie haar vader na 'n spesialis moet vergesel as hy binnekort in Kaapstad is - ‘en sorg dan dat hy weet dat Pappie verskriklik baje rook en koffie drink. Snags kan hy nie slaap nie, en dan rook hy tot drie pakkies cigarettes in één nag op.... Pas tog goed vir Pappie op, Saartjie - sy gesondheid is in 'n vreeslike toestand en sy senuwees is absoluut klaar.’ Maar aan Langenhoven was daar geen keer nie. Op 14 September laat hy Saartjie weet dat hy sy drama ‘Pure vrouwmense’, waarmee hy reeds in Mei 1919 besig was, nou klaar het, maar dat die ACVV, vir wie dit geskryf is, die stuk nie wil hê nie - 'n verstaanbare reaksie, omdat die eenbedryf nie werklik uit die verf kom nie. Hy vra haar dan om die manuskrip van die Nasionale Pers terug te kry. Intussen het hy begin | |
[pagina 373]
| |
met 'n outobiografie, want hy voel perdfris na die behandeling wat hy - klaarblyklik tydens 'n besoek aan Kaapstad - ontvang het. Drie dae later laat weet hy dat hy hard werk aan die outobiografie en die ‘files’ van Het Zuid-Westen met die oog daarop nagaan. Nog vier dae later skryf hy dat vyf hoofstukke reeds klaar is en dat hy weer Kaap toe sal moet kom om die leggers van De Burger en die Provinsiale Raad deur te werk. ‘En ek moet dit doen’, skryf hy, ‘terwyl die koors so hoog is - ek kan doodgaan en nie net dit nie maar as ek nou eenmaal die ding opsy sit dan verloor ek belang daarin en dan kry ek nooit weer die vuur opgeblaas om te vervat nie.’ Dat die skielike drif met die outobiografie inderdaad te make gehad het met 'n vrees vir 'n vroeë dood en 'n soort ‘testamentêre’ afsluiting wou wees, blyk uit meer as een uitspraak in sy briewe aan Saartjie. ‘Ek kan nie afford’, so skryf hy op 22 September, ‘om dood te gaan en my lewe en denke en kwade van ander mense te laat misrepresenteer nie.’ Blykbaar het hy, volgens 'n mededeling in dieselfde brief, twee jaar tevore ook met so 'n outobiografiese geskrif begin en dit weer laat staan. Nou wil hy dit tog deurdruk. Op 24 September laat hy weet die hoofstukke wat hy in Oudtshoorn kan skryf, is voltooi. As dit heeltemal klaar is, wil hy dit Sonde met myself noem. Die boek, so voeg hy by, is nie ‘ligsinnig’ of ‘droog’ nie; hy ‘beef van humor en patos en menselikheid’. En 'n dag later laat weet hy haar dat hy hom byna ‘doodgewerk’ het aan die outobiografie. Hy skryf ‘aanmekaar’, sy senuwees is oorspan en dit het ‘byna my siel onderste bo gedraai’. Hierdie keer is dit nie die gevolg van alkoholiese eksesse nie, want Langenhoven beleef nou 'n fase van onthouding. Wat sy oorspanne senuwees betref, skryf hy: ‘Daar is niks anders by, hierdie slag nie, en daar sal nooit weer wees ook nie.’ Die outobiografie bestaan in hierdie stadium uit 'n inleiding en hoofstukke oor sy herkoms en geboorte, sy kinderjare, sy jongelingsjare, sy letterkundige werk, sy godsdienstige ontwikkeling, sy werk in belang van Afrikaans en die ‘tussenjare’. Hy het begin met 'n skets van sy politieke loopbaan, maar vir die voltooiing daarvan sal hy moet wag tot 'n besoek aan Kaapstad. Dan bly daar nog 'n hoofstuk oor oor sy werk as joernalis en nog een of twee korter stukke wat hy ook nie op Oudtshoorn kan voltooi nie. En wanneer hy 'n dag of wat later weer oor sy werk aan die outobiografie skryf, sê hy dat hy sy senuwees totaal ooreis het en dat hy baie ‘kapot en ontsteld en ontroerd’ voel en geen beheer oor sy gevoelens het nie. Tog word die outobiografie, soos Langenhoven dit in hierdie sta- | |
[pagina 374]
| |
dium geskryf het, nooit gepubliseer nie en is daar, afgesien van 'n enkele fragment in verband met sy lewe as onderwyser in Transvaal, geen spoor van die manuskrip onder sy dokumente op Stellenbosch nie. Na alle waarskynlikheid het hy self, of Sarah Goldblatt later in opdrag van hom, die hele manuskrip vernietig. Waarom presies, is moeilik om te sê. Miskien was Langenhoven later, in 'n meer ontspanne en beheerste fase, tog nie tevrede met die eindproduk nie. Miskien het sy teenstand teen 'n outobiografie en die openbaarmaking van gegewens oor sy eie lewe hom laat besluit om - voorlopig altans - af te sien van so 'n soort boek. In die korrespondensie met Goldblatt word niks oor die saak gerep nie en 'n mens moet aanvaar dat hulle in persoonlike gesprekke moes gesels het oor Langenhoven se besluit om van voltooiing en publikasie af te sien. Terwyl die ‘blou duiwels’ hom weer in November 1921 begin beetpak, maak hy 'n omslag vir die heruitgawe van Die Vrou van Suid-Afrika en voltooi hy Die eensame Hoop, waarmee hy al eerder begin het. ‘Die Ounooi hou nie van die naam nie en die kindjie ook nie’, skryf hy aan Saartjie. ‘Maar vir my persoonlik het hy 'n betekenis en 'n beroep; ek dink aan Hoop wagtende, wagtende, vir die onbekende en vreemde om te kom om hare te word en sy hulle s'n, en hulle kom maar om maar weer heen te gaan. Na elke ontmoeting is haar eensaamheid maar swaarder as van te vore. En die storie loop ook maar nie tot by die uiteindelike bestendige verwesenliking nie.’ Hy gee haar instruksies oor die grootte van die letter, die spelling en die illustrasies, en versoek haar om met die oog op byvoegings en verdere illustrasies die manuskrip saam te bring wanneer sy vir die Kersvakansie na Oudtshoorn kom. En hy voeg by dat hy dadelik met nuwe werk wil begin, sodat die ‘blou duiwels’ nie weer van hom besit neem nie. Maar blykbaar was hierdie voorsorgmaatreëls tevergeefs. In 'n nota wat hy om middernag by sy brief van 20 November 1921 voeg, skryf hy in 'n onvaste hand: ‘Slaap gerus. Ek sal nie slaap nie. Wees dankbaar, my dear Sub, dat jy nie...nou ja hier is niks kwaads om in te vul nie. Maar wees dankbaar dat daar nie so 'n vuur is om jou te verteer nie.’ Uit Langenhoven se aktiwiteite van hierdie jare en die matelose ywer waarmee hy die een projek na die ander aangepak het, kry 'n mens 'n aanduiding in watter mate sy skeppende drif en dít wat hy as sy missie in die lewe beskou het, hom aangespoor het om dinge te onderneem teen 'n tempo wat haas bo die moontlikhede van die menslike liggaam | |
[pagina 375]
| |
en gees is. Om so knaend en aanhoudend te werk en jouself te verniel, is nie meer normaal nie. Vandaar dan ook dat hy in sy briewe aan Saartjie voortdurend kla dat hy sleg voel en aan slapeloosheid en ‘eetloosheid’ ly. Die maniese werkfases kon by hom, meestal na voltooiing van 'n stuk werk, met 'n handomkeer tot die verskriklikste depressies lei. In 'n brief van 26 November slaak hy byna wanhopig die versugting: ‘As hierdie blou nukke maar wou wegbly.’ En hy voeg by: ‘Maar miskien - ja waarskynlik - is hulle die prys wat ek moet betaal vir wat ek aan my nasie laat. En waaragtig, hoe min dit ook beteken - enige so 'n nalatenskap is die offer wêrd.’ Die eensame Hoop, wat vroeg in 1922 verskyn, is 'n soort ‘neweproduk’ van Die Hoop en Die Vrou van Suid-Afrika, met dieselfde allegoriese karakters. Dit is gerig op kinders en vertel die geskiedenis van die vroeë vaarders om die Kaap tot met die koms van Van Riebeeck. Die boek wil aan die hand van 'n eenvoudige vertelling vir kinders leer van die dryfkrag en hoop wat naas die tydsverloop nodig is om 'n volk tot volwaardigheid te laat groei. En die storie loop nooit tot 'n einde nie, omdat die skrywer en die lesers hom met hulle lewens help maak. Dit is 'n eenvoudige vertelling, geskryf in 'n tyd toe klein geskiedenisse van dié aard nog nie in Afrikaans beskikbaar was nie. So 'n boek illustreer weer Langenhoven se meelewing met sy eie mense. Deur hulle nood kom hy daartoe om so 'n boekie te skryf. In laaste instansie was Langenhoven 'n opvoeder en didaktikus. Die ideaal van die kuns om die kuns was baie ver van wat hy met sy skeppende werk wou bereik. Die drif wat soos 'n verterende vuur in hom aanwesig was, het hom aangespoor om sy kunstenaarskap volkome in diens te stel van sy mense vir wie hy deur middel van hulle eie taal 'n beter bedeling in die land wou verkry. | |
IIIWanneer Langenhoven hom, na die koerslose jare in sy lewe, uiteindelik in 1910 aan die saak van Afrikaans begin te wy en later tot die joernalistiek en die politiek toetree om sy ideale te verwesenlik, sien hy in dat die stryd in belang van die Afrikaner se taal nie los van die ontwikkeling van sy historiese bewussyn en sy politieke emansipasie gevoer kan word nie. Met pleidooie soos ‘Afrikaans as voertaal’ ont- | |
[pagina 376]
| |
leed hy die taalsituasie en die posisie wat Afrikaans behoort te beklee, terwyl hy die Afrikaner se kennis van sy eie geskiedenis en sy taak in die lig hiervan met werke soos Die Hoop en Die Vrou van Suid-Afrika bevorder. Maar die Afrikaner se nasionale bewussyn sou eers ten volle verwesenlik kon word deur simbole wat daaraan inhoud kon gee. In die verlede was daar byvoorbeeld pogings om 'n volkslied ingang te laat vind, maar daar was geen enkele gedig wat Afrikaners landswyd so kon aangryp soos die Transvaalse en Vrystaatse volksliedere in die twee noordelike provinsies nie. In 1918, die jaar waarin hy begin om hom feitlik voltyds aan die uitlewing van sy skeppende talent te wy en wat die inset is tot die fenomenale literêre produksie van sy laaste vyftien jaar, skryf Langenhoven 'n gedig wat uiteindelik die verbeelding van sy mense sou aangryp en later, aanvanklik saam met ‘God save the King’, tot volkslied verhef sou word.Ga naar eind15 Toe hy aan die einde van Mei 1918 op Oudtshoorn aankom ná die sitting van die Kaaplandse Provinsiale Raad, is hy ontsteld oor die wyse waarop die amptenary van die provinsie die besluit in verband met moedertaalonderwys van 1914 in die praktyk verongeluk het. Op Maandagaand, 30 Mei 1918, het hy, soos sy gewoonte dié vroeë winter was, by die tafel in die eetkamer gaan sit om te werk. Dié aand ontstaan dan die eerste drie strofes van ‘Die Stem van Suid-Afrika’, wat hy die volgende aand, by die klavier in die sitkamer, toonset. Die vroegste weergawe van die gedig, sover dit vandag vasgestel kan word,Ga naar eind16 lui as volg: Deur die blouw van onse hemel, in die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,
Deur ons vér verlate vlaktes met die kreun van ossewa -
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Koor
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe ons sal sterwe - ons vir jou Suid-Afrika.
In die merg van ons gebeente, in ons bloed en in ons vlees,
In die diepte van ons siel en in die hoogte van ons gees,
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf -
Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trouw ons af.
| |
[pagina 377]
| |
Koor
Vaderland! ons sal onthou met eer en trouw ons naam te dra:
Ons s'n joue - Afrikaners, kinders van Suid-Afrika.
In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rouw,
Bij die klink van huwliksklokkies,
bij die kluitklap op die kis -
Streel jou stem ons nooit virniet nie,
weet jij waar jou kinders is.
Koor
Op jou roep seg ons nooit nee nie, seg ons altijd altijd ja -
Om te lewe om te sterwe - ja, ons kom Suid-Afrika!
Op 2 Junie 1918 ontvang Sarah Goldblatt 'n brief van Langenhoven. ‘Hierbij’, skryf hy, ‘stuur ik jou 'n gesangetjie wat ik geskrijf het met musiek wat ik daarbij self “gekomponeer” het - harmonie en al. Jij sal seker denk dit beteken maar bliksems min - maar ons moet maar sukkel tot ons eendag 'n volkslied het. Ondertussen kom ons nie aan die gang nie want die digters en musiekante het 'n swijgkomplot opgemaak. Laat hom maar so verskijn dan kan iemand daar beter musiek bijset, en als hij dié het dan weer iemand anders dáar beter woorde bijset.’ Hy gee haar opdrag om 'n ooreenkoms met die oog op uitgawe met De Burger of HAUM aan te gaan en verdere reëlings te tref, sonder om die kopiereg af te staan. Hy sou self bereid wees om £25 in te betaal sodat die verkoopsprys klein kan bly. Daarby moet sy naam nie by die uitgawe vermeld word nie. Uit Somerset-Oos, waarheen hy vir politieke sake moes gaan, laat weet Langenhoven haar om intussen die gedig te wys aan Fagan, in daardie stadium assistentredakteur van De Burger. Fagan het dadelik van die gedig gehou, maar hy was glad nie ingenome met die musiek nie. Toe Langenhoven 'n paar dae later in Kaapstad aankom, ontmoet hy Fagan saam met Goldblatt in die Koffiehuis, teen dié tyd reeds sy geliefde bymekaarkomplek tydens die sittings van die Provinsiale Raad. Met toestemming van Langenhoven druk Fagan die teks van die gedig met die outeursnaam KRN (vir KeRNeels) in De Burger af. Drie weke later verskyn die teks en musiek by HAUM. In 'n | |
[pagina 378]
| |
hoofartikel wat Fagan aan die gedig wy, sê hy dat dit bestem is om as volkslied aanvaar te word. Die lesers van De Burger was nie geesdriftig oor die musiek nie,Ga naar eind17 maar die teks het dadelik inslag gevind. Een briefskrywer het egter daarop gewys dat die Afrikaners 'n godsdienstige volk is en by KRN gepleit om nog 'n strofe by te skryf waarin daardie godsdienssin tot uiting kom. Dieselfde aand het Langenhoven by Saartjie aan huis die vierde vers geskryf, wat in die finale teks as volg daar uitsien: Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou -
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.
Omdat die musiek onaanneemlik was, het Langenhoven self komponiste genooi om toonsettings te skryf. So byvoorbeeld het die Vlaming E.L. Hullebroeck 'n melodie geskryf, terwyl Victor Potgieter s'n 'n tyd lank in die Vrystaat gesing is. In 1926 het Gideon Fagan en in 1928 Stephen Eyssen toonsettings gelewer. Fagan s'n is deur Betsy de la Porte op 'n plaat gesing. Dit is algemeen beskou as musikaal die beste komposisie, maar wesentlik 'n kunslied wat nie vir samesang gedeug het nie. Op Stellenbosch het die studente lank die woorde op die wysie van 'n Rynse lied gesing waarvan die rym en ritme presies met dié van ‘Die Stem’ ooreenkom, maar, hoewel sterk musikaal, het dit tog nie die drakrag van 'n volkslied gehad nie. Reeds in Mei 1919 het ds. M.L. de Villiers 'n toonsetting op die vleuelklavier in die Koffiehuis vir Langenhoven gespeel, maar dit was aanvanklik nie suksesvol nie. Hy het egter aanhou verbeter en sy pogings aan deskundiges soos Charles Weich, musiekkritikus van De Burger, voorgelê. Uiteindelik was ook Langenhoven tevrede en het hy aan De Villiers verlof verleen om sy melodie te laat druk. Met die eerste amptelike vlaghysing op 31 Mei 1928 het ds. De Villiers die lied gedirigeer, uitgevoer deur 'n koor van 500 kinders uit Kaapstadse skole en 'n blaasorkes op die oop terrein voor die Senaat in Kaapstad. ‘Die Stem van Suid-Afrika’ bestaan uit vier kwatryne wat telkens | |
[pagina 379]
| |
deur 'n koeplet gevolg word. Deur middel van sterk teenstellings, parallelismes, herhalings en 'n vaste maatslag sonder verskuiwende ruspunte gee dit 'n beeld van die Afrikaanse landskap en by herhaling 'n belydenis van getrouheid aan die ‘geliefde’. Toe D.J. Opperman in 1973 vir Matieland 'n spesiale huldigingsartikel oor Langenhoven by geleentheid van die eeufees moet skryf, kies hy dié gedig as onderwerp. Na 'n fyn analise waarin hy die middele ontleed waarmee Langenhoven werk, noem hy dit 'n ‘statige eedaflegging en gebed van die Afrikaanse volk’.Ga naar eind18 As enkele gedig is dit Langenhoven se mees geslaagde werk. En al het dit met die jare en die politieke ontwikkelinge vir sommige groeperinge uitsluitlik simbool van Afrikanermag en daarom as volkslied minder aanvaarbaar geword, bly dit literêr steeds aanneemliker as die volksliedere van die meeste ander lande waarmee dit vergelyk kan word. Met die werke wat hy van 1918 af lewer, kry Langenhoven die geleentheid om sy skeppende talent meer en bevredigender as vroeër tot uiting te laat kom en terselfdertyd sy eie mense van diens te wees. En hierdie diens was onder meer om die Afrikaners van hulle gevoel van minderwaardigheid te genees. Daartoe lewer ‘Die Stem van Suid-Afrika’ geen geringe bydrae nie. In die jare wat kom, sou Langenhoven verder werk aan die uitvoering van sy groot missie: om Afrikaans as amptelike taal saam met Engels in Suid-Afrika erken te kry, om te help bou aan 'n literatuur wat die taal tot fyn instrument sou verfyn en om van sy mense 'n lesende volk te maak. |
|