Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 310]
| |
Hoofstuk XIV
| |
[pagina 311]
| |
re beleidsrigtings van die Vrystaatse leier - in die besonder vir sy taalywer - gehad. Dat hy aanvanklik teen Hertzog gekant was, hang waarskynlik saam met sy langsamer evolusie as nasionalis en die waardering wat hy nog in dié stadium vir die Britse Ryk gehad het. 'n Mens moet ook Langenhoven se instelling as regsgeleerde nie uit die oog verloor nie. Hertzog, so kon Langenhoven miskien geredeneer het, het voor sy toespraak op De Wildt nagelaat om Botha in sy voorgenome optrede te ken en só 'n verleentheid vir die eerste minister geskep. Dit het ingedruis teen sy gevoel vir die ordelike afhandeling van sake en selfs aan ‘wetteloosheid’ gegrens. Daarby het Botha in 'n toespraak op 19 Augustus 1912 gesê dit is vals om te beweer dat die eenstroombeleid die bestaansreg van die Afrikanerdom betwis en die taalregte van die Hollandssprekendes daarmee in die gedrang kom,Ga naar eind1 al het hy nagelaat om aan te toon presies hoe Hollands naas Engels hom binne so 'n beleid sou kon handhaaf. Al het Langenhoven hom dus in hierdie stadium nog teen Hertzog verset, blyk dit reeds uit sy artikels in Het Zuid-Westen dat hy Hertzog se standpunt nie sonder meer afskryf nie. Die jaar 1914 was egter 'n jaar van kentering op verskillende vlakke. Op plaaslike terrein het die val van die volstruisvere op die Londense mark 'n algehele ekonomiese ineenstorting en talle bankrotskappe in die Oudtshoornse distrik tot gevolg. Dit lei begin 1915 ook tot die beëindiging van Het Zuid-Westen. Langenhoven het in dié stadium net 'n klein salaris as lid van die Provinsiale Raad ontvang, maar het verkies om met skryfwerk, joernalistieke bydraes en sporadiese behartiging van watersake en ander regsaangeleenthede sy inkomste aan te vul eerder as om weer sy praktyk as prokureur aktief te heropen. Wanneer hy in Junie 1917 tot lid van die Uitvoerende Komitee verkies word, is sy salaris nog groter. In 'n brief van 6 Julie 1917 vra Sarah Goldblatt hom of dit met die baie reise na Kaapstad wat nou voorlê, nie beter sal wees as hy 'n praktyk as advokaat dáár begin nie. Hy sou steeds as kundige op die gebied van die waterreg in die Klein Karoo kon optree én 'n plek by die balie verwerf. Oudtshoorn, so skryf sy, is so mooi as wat 'n mens nêrens elders kan kry nie, maar ‘dis hier onuithoudbaar stil en watter geestelike lewe is dit vir jou ... (en) jij is baje alleen.... Vir jou, vir jou kind, vir jou volk kan jij oneindig meer uitrig waar jij in verbinding met die wereld staan.’ Maar Langenhoven was te geheg aan die Klein Karoo om ooit weer permanent daaruit pad te gee. Sy verblyf in Transvaal as onder- | |
[pagina 312]
| |
wyser en die twee jaar as advokaat in Kaapstad was só rampspoedig dat hy 'n verandering nie ernstig oorweeg het nie. ‘Ik sal nooit hier aard nie’, skryf hy op 17 Julie 1917 vir Sarah Goldblatt uit Kaapstad. In Oudtshoorn, so het hy waarskynlik gemeen, was hy ten spyte van alles tog tuis en kon Vroutjie sy steeds sporadiese dranksessies in bedwang hou. Maar naas die ekonomiese ineenstorting van sy eie distrik sou ook ander gebeurtenisse snel op mekaar volg en Langenhoven se eie lewe ingrypend beïnvloed. In Augustus 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog tussen Brittanje en Duitsland uit. Botha besluit om Brittanje te ondersteun en tot die oorlog toe te tree. Vir baie Afrikaners was dit, pas twaalf jaar ná die Vrede van Vereeniging, onaanvaarbaar om aan die kant van Brittanje te veg teen 'n land wat in die verlede vriendelik teenoor hulle was en dat Suid-Afrika in 'n oorlog betrek word waarmee sy inwoners niks te make gehad het nie. Veral toe die regering besluit om op versoek van Brittanje Duits-Suidwes-Afrika binne te val, het die herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog met sy konsentrasiekampe herleef en is Botha en Smuts deur baie Afrikaners as verraaiers en handlangers van die Britse Ryk uitgekryt. Die verset onder heelwat republikeinsgesinde Afrikaners, veral in die Vrystaat en Transvaal, maar ook in die noordweste van Kaapland, lei in 1914 tot 'n openlike rebellie waaraan heelparty Boeregeneraals en -offisiere deelneem. Die Rebellie was egter swak bewapen en georganiseer en die verset was van korte duur. Verskeie rebelle - onder wie C.R. de Wet - is boetes of gevangenisstraf opgelê en Jopie Fourie is op 20 Desember 1914 gefusilleer. 'n Groep mense - onder andere D.F. Malan - het probeer om genl. Smuts, die minister van justisie, op Irene te oorreed om die vonnis uitgestel te kry, maar hy het die deputasie ontduik deur in die koppies op sy plaas te gaan rondloop. Wat Suid-Afrika se toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie betref, kon Langenhoven hom haas volkome met die standpunt van die Botha-Smuts-regering vereenselwig. Hoeseer daar ook al verskille in die verlede bestaan het, was dit volgens hom die plig van Suid-Afrika om aan die oorlog deel te hê. As ons in die oorlog neutraal wou wees, moes ons van die koning en die Britse vlag ontslae raak. Ons lidmaatskap van die Britse Ryk, het hy geargumenteer, was tot ekonomiese voordeel van Suid-Afrika, in so 'n mate dat meer as net 'n morele verpligting op ons gerus het om Brittanje by te staan. As daar dan | |
[pagina 313]
| |
landgenote was wat hierdie besluit wou kritiseer, moes hulle dit langs grondwetlike en parlementêre weë doen, nie deur self die wapen op te neem nie. Vir Langenhoven met sy sterk juridiese inslag was so iets weer 'n vorm van wetteloosheid. Maar die oorlog tussen Brittanje en Duitsland het hy basies beskou as 'n ‘Europese’ oorlog. Suid-Afrika was onder geen konstitusionele verpligting om hier te lande 'n daadwerklike aandeel aan die oorlog te hê nie. Daarom het hy die regering se inval in Duits-Suidwes-Afrika ten sterkste afgekeur en later smalend na Botha verwys as ‘die held van Duitswes’. En die fusillering van Jopie Fourie was vir hom 'n smadelike daad. Ondanks sy aanvanklike heftige kritiek op Hertzog kon die opmerksame lesers tog 'n ondertoon van simpatie in sy hoofartikels in Het Zuid-Westen bespeur, terwyl hy nie ongevoelig was vir die dryfvere agter die Rebellie nie. Só heftig het hy egter die krygsmaneuvers in Duitswes en die teregstelling van Jopie Fourie veroordeel dat hy met die Suid-Afrikaanse Party gebreek en aangesluit het by die Nasionale Party, wat in Julie 1914 begin funksioneer het. Hy kon hom trouens ten volle vereenselwig met die strewe van die Nasionale Party, naamlik om die nasionale oortuigings en aspirasies van alle Suid-Afrikaners te ontwikkel, om die belange van Suid-Afrika en sy bevolking te stel bo dié van enige ander volk of land en om die ruimte te bied waarin die twee blanke bevolkingsgroepe, elk met sy eie taal en kultuur, hulle eie identiteit volkome en vry kon uitleef.Ga naar eind2 In die gees was Langenhoven dus lank voor sy toetrede in 1915 reeds in die Hertzogkamp. Die inval in Duitswes en die fusillering van Jopie Fourie was die katalisators, maar in beginsel het hy die ideale van die Nasionale Party reeds in 1914 gesteun. Kort ná sy verkiesing tot die Kaapse Provinsiale Raad en sy suksesvolle deurloodsing van Afrikaans as medium van onderrig in die laer skool kon hy sy werk in belang van die Afrikaners se opvoedkundige agterstand en die verdere verwesenliking van Afrikaans as onderwystaal voortsit. In Julie 1914 sou die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst sy vyfde jaarvergadering in Bloemfontein hê. Langenhoven is juis in 1913, tydens die jaarvergadering in Pietermaritzburg, tot lid van die Akademie verkies saam met mense soos D.F. Malherbe, T.H. le Roux en J. Kamp. Hoewel Langenhoven nie juis aktief by die Afrikaanse Taalvereniging en die Afrikaanse Taalgenootskap betrokke was nie en wars was van verenigings as sodanig, het hy nou in die Bloemfonteinse jaarvergade- | |
[pagina 314]
| |
ring 'n geleentheid gesien om sy ideale verder te verwesenlik en die saak van Afrikaans te bevorder. Daarom was hy aanwesig toe die Akademie op 2-4 Julie 1914 in die Vrystaatse hoofstad byeenkom. Vir die jaarvergadering het Langenhoven 'n beskrywingspunt ingestuur, maar met die aanvaarding van sy mosie in die Kaapse Provinsiale Raad en die daaropvolgende ooreenstemmende besluite van die Vrystaat en Transvaal laat hy dit vervang deur 'n drieledige voorstel: ‘I. (Die Akademie) neemt met belangstelling kennis van die besluite wat daar gepasseer werd door die Provinsiale Rade van die Kaap, Vrijstaat en Transvaal met betrekking tot die aanwending van Afrikaans als voertaal bij die lagere onderwijs, en heg sijn goedkeuring aan die Redes wat die Provinsiale Rade gelei het tot gemelde besluite.... II. Die Akademie besluit om met die oog op die resolusies, insonderheid van die Kaapse en Transvaalse Provinsiale Rade, waarvoor sijn medewerking ingeroep word, uit sijn midde 'n kommissie te benoem om die departement van onderwijs behulpsaam te wees insake leermiddele in Afrikaans.... III. Die Akademie besluit als 'n voorlopige maatregel om eenvormigheid van spelling te verkrij, om die regels wat hier bijgaan en onderteken is deur dr. T.H. le Roux en andere, aan te beveel aan skrijwers van skoolboeke in Afrikaans; en benoem 'n Kommissie om die regels te redigeer en te formuleer, latende die inhoud en grondslag daarvan onveranderd.’ Langenhoven se drieledige voorstel is gesekondeer deur D.F. Malherbe. Tydens die bespreking het die tweede en die derde punt nie veel kommentaar uitgelok nie. Die beskrywingspunt in verband met die spelling lei uiteindelik tot die benoeming van 'n spellingkommissie waarvan Jan F.E. Celliers, Langenhoven, D.F. Malherbe, G.S. Preller, T.H. le Roux en J.D. du Toit (Totius) die eerste lede was. Met die beskrywingspunt oor die ‘leermiddele’ was die bedoeling dat die Akademie daadwerklik moes meehelp om skoolleesboeke en handleidings op te stel wat dan ter goedkeuring aan die benoemde kommissie voorgelê sou word. Oor die eerste beskrywingspunt het 'n lang bespreking gevolg.Ga naar eind3 Terwyl ds. H.D. van Broekhuizen gepleit het vir samewerking tussen die voorstanders van Hollands en Afrikaans, wou ds. H.F. Schoon - skrywer van Nederlandse gedigte in die trant van die huislike predikantepoësie van Beets, Ten Kate en De Genestet - niks weet van Afrikaans nie. ‘Het einde zou wezen’, het hy gesê, ‘dat het Engels de overhand | |
[pagina 315]
| |
zou krijgen.’ Prof. G.G. Cillié van Stellenbosch, aanvanklik 'n voorstander van Nederlands, het te kenne gegee dat hy vir Langenhoven se voorstel gaan stem, want ‘er was genoeg gebakleid’. Daar was vir hom egter nog nie genoeg goeie literatuur in Afrikaans nie. Om konsekwent te wees, moet Afrikaans ook in die middelbare en hoër onderwys ingevoer word, ‘en waar kreeg men de leermiddelen dan vandaan?’ Besonder hartroerend was die pleitrede van die Akademievoorsitter, prof. A. Moorrees, digter van die bundel Zevenjaartjes en een van die apologete van die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling. Hy het gevra hoe Afrikaans ooit kon hoop om die stryd teen die magtige Engelse taal en kultuur vol te hou en waarom mense nou die net so magtige Hollandse taal en letterkunde oorboord wil gooi. Aan die einde van sy rede het hy verwys na die liefde wat daar vir die ou Nederlandse Bybel bestaan, die Bybel ‘die de Voortrekkers door de woeste wildernis geleid had. Zij hadden de Psalmen en Gezangen, die door hun voorouders gezongen werden in tijden van moeilikheid en verdrukking. Zouden deze nu plaats moeten maken voor een vertaling in 't Afrikaans? Het zou tranen kosten, bitterder dan bloeddroppelen als dat gebeurde.’ Ten spyte van hierdie dringende beroep van prof. Moorrees het die meerderheid Akademielede egter gevoel dat die tyd nou meer as ryp genoeg is om vir Afrikaans 'n plek in die onderwysbestel in te ruim. Ten gunste van Langenhoven se voorstel het gepraat mense soos D.F. Malherbe, J.D. du Toit (Totius), T.H. le Roux, H.D. van Broekhuizen en W.E. Malherbe. Uiteindelik is die voorstel met 19 stemme teenoor 2 - dié van prof. Moorrees en ds. Schoon - aangeneem. Dit was trouens ook die laaste jaarvergadering waarop prof. Moorrees voorgesit het. By hierdie drieledige voorstel het Langenhoven se betrokkenheid by die Akademie nie gebly nie.Ga naar eind4 Op dieselfde jaarvergadering word besluit om die Akademie van regspersoonlikheid te voorsien en maatreëls te tref om die eiendom van die Akademie finansieel en juridies te beheer. Saam met dr. W.M.R. Malherbe en dr. F.V. Engelenburg dien Langenhoven in 'n kommissie van ondersoek wat verskeie veranderinge in die statute van die Akademie voorstel. Hulle beraadslaag ook met genl. Hertzog om die Hertzogprysfonds na die kuratore van die Akademie oor te dra. Langenhoven was ook gemoeid met die totstandkoming van die ‘leermiddele’ wat in die tweede deel van sy voorstel ter sprake gekom het. Nog voor die jaarvergadering dien hy saam met Tobie Muller in 'n | |
[pagina 316]
| |
kommissie om dié saak te bevorder. In 'n brief van 17 Junie 1914 sê Muller dat hulle die ATV-spelling behoort te volg en nie ‘onvolmaakte verlede tije’ in Afrikaans moet invoer nie. ‘Dit sou’, skryf Muller, ‘een van die noodlottigste dinge wees, wat sou kan gebeur, en sou onse beweging alle grond onder die voete wegneem als 'n liggaam, wat pleit vir Afrikaans als 'n selfstandige taal met eie selfstandige reëls en eie indiwiduele grammatiese vorme. So iets sou onse taal skend en dit werkelik verlaag tot 'n verminkte dialekt van Ndl. of 'n gebrekkige poging om Neerlands na te aap.’ Al sê Muller hy is seker dat Langenhoven dié dinge nog sterker voel as hyself, voel 'n mens dié woorde tog aan as 'n ligte teregwysing teenoor Langenhoven, wat in dié jare soms nog 'n Nederlandse neiging in sy Afrikaanse taalgebruik gehad het en tot ten minste 1919 nog nie van ‘ik’ wou afsien nie. Daar moet veral volgens Muller nie aan die Afrikaanse grammatika geknoei word nie. In 'n brief van 4 Julie 1914 meen Muller dat die spellingkwessie gou opgelos sal word en dat hulle intussen sal aandruk met die skoolboekies. Hy, Tomlinson en J.H.H. de Waal het reeds opdrag gegee aan die skrywers van die handleidings, maar hy hoop Langenhoven se boek sal eerste klaar wees. Mev. M.E. Rothmann se oorsig oor die geskiedenis is byna voltooi. Wat uiteindelik van dié boeke geword het en waaroor dié van Langenhoven sou handel, is onbekend. Die boeke het in elk geval nie verskyn nie. Volgens 'n brief van 21 Julie 1914 van Muller aan Langenhoven vrees die kommissie dat die Akademie kan weier om sy imprimatur op die werk te sit, veral omdat sommige lede van die Akademie meen dat daar in die Noorde mense gevind kan word wat beter op die hoogte is van die pedagogiese metodes en vereistes as die suidelike groep, van wie die meeste nie in die onderwyspraktyk gestaan het nie. Alhoewel Muller in dié brief nog steeds sê dat hulle moet voortgaan, moet die saak kort daarna tot 'n einde gekom het. Die opstel van skoolhandleidings is verder onderneem deur 'n groep meestal noordelike opvoedkundiges. Langenhoven is wel by die jaarvergadering van 1914 tot lid van die spellingkommissie verkies, maar 'n mens kon by voorbaat reeds verwag dat hy met sy renons in gereelde vergaderings en sy afkeer van spanwerk nie 'n gelukkige keuse vir so 'n taak sou wees nie. Daarby was hy geografies te ver verwyderd van die ander en het sy pligte as politikus hom verhinder om al die byeenkomste by te woon. Op die jaarvergadering van 1915 dien dr. T.H. le Roux 'n lywige verslag oor | |
[pagina 317]
| |
die spelling in, maar Langenhoven neem nie aan die bespreking deel nie en word ook nie benoem tot lid van die nuut verkose kommissie nie. Op politieke terrein sorg Langenhoven in hierdie jare wel deeglik dat die saak van Afrikaans bevorder word. In Augustus 1915 stel hy in die Kaapse Provinsiale Raad voor dat 'n benoemde kommissie verslag lewer oor die vraag in hoeverre die provinsiale administrasie en die departement van onderwys voldoen aan die bepalings van die Taalordonnansie van 1912, waarvolgens volkome gelykberegtiging van Hollands en Engels gewaarborg word. Die kommissie moet ook aanbevelings doen omtrent die noodsaaklikheid of wenslikheid van verdere maatreëls, indien nodig, om die ordonnansie tot uitvoer te bring. Die kommissie het bestaan uit proff. A. Moorrees (voorsitter) en G.G. Cillié en mnre. J.G. van der Horst, Geo S. Malan, P.J. du P. le Roux, Dan J. Ackermann en Langenhoven. In 'n brief van 25 Augustus 1915 aan die Oudtshoornse Nationale Komitee-vergadering sê Langenhoven dat sy standpunt in dié verband steeds was dat ons sonder groot verdere onkoste tweetalige onderwys deur middel van tweetalige onderwysers kan verskaf. ‘Die opdrag aan die Kommissie’, skryf Langenhoven, ‘is om te ondersoek wat die verdere salarisse sal bedraag om eentalig-hollandse en eentalig-engelse onderwijsers aan te stel genoegsaam om die Ordonnansie uit te voer. In verband met geldelike moeilikhede was mijn posisie, en is dit vandag nog, dat als daar nie genoeg geld is om vir albei tale voldoende voorsiening te maak nie, dan moet albei maar naar gelijke verhouding skade lij. Ik beskouw dat als 'n vader nie heeltemaal genoeg kos het vir al sijn kinders, hij dan nie die helfte van hulle sal vet voer en die ander helfte sal laat honger lij nie, maar almaal naar eweredigheid sal laat kortskiet. Maar weer is die opdrag aan die Kommissie gebaseerd op die beginsel dat Engels eers voldoende behandeling moet ontvang, en wat daar dan oor is moet die hollandse kant mee te vrede wees. Aan so 'n posiesie kan ons volk hom in der ewigheid nie onderwerp nie. Die hele plan van ondersoek is om te wijs dat dit te verskriklik duur sal uitkom om die Ordonnansie uit te voer in plaas van om te wijs hoe daar met die bestaande of redelik beskikbare hulpbronne die beste voorsorg gemaak kan word om aan die regmatige eis van die Afrikaner-bevolking tegemoet te kom.’ Blykbaar was daar in hierdie stadium reeds 'n sterk gevoel by die lede van die kommissie om ter wille van besuiniging voorrang aan Engels te gee. In die kommissie is uitsluitlik Afrikaners | |
[pagina 318]
| |
aangestel, blykbaar met die oogmerk, so stel Langenhoven dit, om te kan sê: ‘Julle eige nasie se vertegenwoordigers het nou duidelik laat blijk dat die Ordonnansie onuitvoerbaar is en herroep moet werd.’ Dan, so gaan hy voort, ‘kan ons maar hendsop, dan is al ons werk tot hiertoe in duige geslaan. En eerder als om dit te sien gebeur, sou ik liewers die gevaar loop dat van mijn afwesigheid gebruik gemaak word om stemme vir die tegepartij te werwe wat anders naar ons kant toe sou gekom het. Immers die gehalte van ons toekomstige opvoedings-stelsel is die fondament waarop die hele saak rus waarvoor ons politieke strijd vandag gevoer word. Sonder sorg vir ons opgroeiende geslag kon ons maar ons nasionalisme opsij gooi.’ As die kommissie dan in 1916 verslag doen, onderteken alle lede behalwe Langenhoven die ‘Report’. Langenhoven lewer 'n minderheidsverslag in, wat deur Sarah Goldblatt in deel XVI van die Versamelde werkeGa naar eind5 as ‘Memorandum: Annexure VII to report of the Commission on Ordinance No. 11 of 1912, known as “Language Ordinance”’ opgeneem word. Dit is vreemd dat Goldblatt die Engelse versie van die ‘Memorandum’ in die Versamelde werke afdruk, want alles dui daarop dat die Engels 'n vertaling uit Langenhoven se oorspronklike Nederlands is. Op die getikte manuskrip wat van die Nederlandse teks bewaar gebly het, is in handskrif bygevoeg: ‘The Dutch is the original. Mr. Langenhoven is not responsible for this translation.’Ga naar eind6 In 'n brief wat Langenhoven op 22 November 1916 tot prof. Moorrees rig, sê hy trouens dat hy nie met die gevoelens van die res van die kommissie akkoord gaan nie en dat hy daarom by sy brief 'n paar algemene suggesties insluit. Van hierdie ‘Enige suggesties’ of ‘Minderheidsrapport’ is vier weergawes - drie in holograaf en een getik - oorgelewer. Langenhoven versoek in sy brief aan Moorrees dat sy stuk onveranderd gelaat word. ‘Mijn Hollands’, so skryf hy, ‘sal wel krioel van stijl- en idiomatiese foute maar ik wil dit liewer onverbeterd hê dan dat dit nie meer mijne sou wees nie.’ In 'n memorandum by die getikte teks voeg Langenhoven daaraan toe: ‘Men gelieve dit a.u.b. onveranderd te plaatsen, en mij de proef te zenden van korrektie, alsmede de proef van de engelse vertaling. Of desvereist kan ik de vertaling zelf verschaffen.’ Die nota op die getikte Nederlandse teks laat 'n mens twyfel of Langenhoven die vertaling behartig het.Ga naar eind7 Dit is dus denkbaar dat die opname van die Engelse versie in die Versamelde werke 'n vergissing van Goldblatt was. Tog klink die Engelse vertaling in deel XVI van die | |
[pagina 319]
| |
Versamelde werke na Langenhoven se Engels. 'n Mens vermoed dus dat 'n ‘proef’ van 'n Engelse vertaling, soos hy versoek het, aan Langenhoven gestuur is en dat hy dit deur 'n eie vertaling vervang het. Aangesien die Nederlands beslis die oorspronklike is, word hier uit dié teks aangehaal. In sy ‘Enige suggesties’ wys Langenhoven daarop dat die toepassing van gelyke taalregte gestrem word deur die eentaligheid van Engelse skole, soos dit bedryf word deur onderwysers, skoolkomitees, beheerrade, inspekteurs, eksaminatore en allerlei amptenare. Die houding van dié mense is dat ‘hollands op zijn best een “necessary evil” en op zijn gemiddelde een “nuisance” is’. Dat Engels so oorheersend in die onderwys gebruik word, is te danke ‘aan het vermogen door de hollands-sprekende onderwijzers aan de dag gelegd om door een vreemde taal onderwijs te geven’. As ons land werklik tweetalig was, sou die eentalig Hollands-opgevoede burger op gelyke voet met sy Engelsopgevoede eweknie gestaan het. Maar dit is nie wat in die praktyk gebeur nie. ‘Eerstgenoemde’, so skryf Langenhoven, ‘kan nergens terecht, laastgenoemde overal: hij mag moeite veroorzaken maar ondervinden niet. En toch door de tweetaligheid der opgevoede hollandssprekende sektie wordt de betrekkelike eentaligheid der engels-sprekende sektie mogelik gemaakt.’ Die aandrang van so 'n groot seksie uit die Hollandstalige bevolking op Engelse opvoeding is wesentlik 'n aandrang op tweetaligheid, hoeseer die begeerte ook gepaard mag gaan met wanbegrip omtrent die pedagogiese beginsel dat moedertaalonderwys die beste vir 'n kind is. Die algemene konsensus onder dié mense is so ongeveer dat Hollands vir hulle kinders vanself kom en Engels nie. Daarby is die korrekte gebruik van Hollands nie onontbeerlik in die praktyk nie, terwyl dié van Engels 'n noodsaaklike voorvereiste vir hul toekomstige loopbane is. Langenhoven meen dat verpligte tweetaligheid vir onderwysers, soos deur die ordonnansie vereis, op 'n redelike grondslag moet berus. Die probleem is naamlik dat daar 'n breë kloof bestaan tussen die Hollandse spreek- en skryftaal soos dit hier te lande voorkom en dat tweetaligheid, soos die ordonnansie dit formuleer, ‘een onbereikbaar ideaal van perfektie’ is, niks meer nie as blote ‘tijdsverspilling en geestesverwarring’. Daarom is die erkenning van die Afrikaanse taal vir opvoedkundige doeleindes die sleutel tot die oplossing van die probleem. Vir die Engelstaliges sal Afrikaans makliker wees, omdat hulle dan 'n gesproke taalvorm in Suid-Afrika aanleer. | |
[pagina 320]
| |
Vir die gewone Afrikaanse kind is Nederlands ewe onverstaanbaar as Engels. ‘Gewoonlik’, skryf Langenhoven, ‘... hoort dat kind van kleins af hollands lezen, hollands bidden en hollands preken - zij het dan maar meestal op 'n manier. Maar zelfs dan associeert hij de vreemdheid daarvan met plechtige gelegenheden en solemniteiten - met de tijden wanneer hij als individu in een kollektieve bedrijvigheid wegsmelt; wanneer zijn geest niet positief werkzaam is maar negatief indrukken ontvangt. Dit is niet de atmosfeer waarin het de plicht der school is hem te plaatsen, waarin hij het vermogen moet ontwikkelen als zelfstandig denker op te treden. Daarbij nog zal de opvoedkundige niet alleen het verstandelik begrip van de leerling zoeken te bereiken. Hij weet hij moet mikken naar de ziel.’ Die bevoorregtes onder die Afrikaners het tweetaligheid - naamlik om Engels deeglik te praat en te skryf en Hollands gebrekkig te skryf - met tydverspilling behaal. Met Afrikaanse onderrig sal die leerling reeds vroeg Afrikaans korrek kan skryf. Dit het 'n groot waarde, want nie alleen die ‘stoffelike marktwaarde’ van die mens nie, maar ook sy geluk en sy invloed op die geluk van andere hang saam met sy opvoeding. Dit beteken trouens ook ‘de eerste stap tot de vorming van een heldere gedachte-gang’ en ‘de vorming van zijn karakter langs de weg van zijn zelfrespekt’. Langenhoven sluit sy betoog af met 'n uitspraak waaruit andermaal sy groot erns by die opvoeding van sy mense blyk: ‘Om nu van de kinderen van ons volk die wij niet kunnen toerusten voor de strijd des levens naar de mate van hun rechtmatige aanspraak, nog het weinige dat wij hun konden schenken ook te onthouden plaatst op ons een bitter ernstige verantwoordelikheid. De toekomst van slechts een enkel menseleven is geen kleinigheid.’ Wanneer die verslag van die kommissie tesame met Langenhoven se rapport aan die pers beskikbaar gestel word, skryf F.V. Engelenburg in De Volkstem van 2 April 1917 'n hoofartikel waarin hy daarop wys dat die betrokke taalordonnansie 'n dooie letter is sover dit die opvoeding van die Hollandstalige kinders in Kaapland betref. ‘De uitkomst van 't gehouden onderzoek ... is vernietigend voor 't kaaplandse Onderwijs-Departement, en bewijst hoe min 'n papieren wet vermag wanneer de administratie niet sympathiek is jegens de toepassing ervan.’ Die positiewe resultaat van die hele onderneming was dat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie op sy kongres van 1918 besluit ‘dat de tijd aangebroken is dat Afrikaans naast Nederlands als officiële taal van de | |
[pagina 321]
| |
ZAOU erken zal worden’. In dieselfde jaar besluit die Kaapse Provinsiale Raad om die aanbevole besluit oor moedertaalonderwys wat aan die Afrikaanse kind toegestaan is, by wyse van 'n ordonnansie te bevestig. Dit beteken in beginsel dat die meerderheidsverslag van die kommissie verwerp en dié van Langenhoven as toekomstige riglyne by die onderwys aanvaar is. Tegelykertyd word met die groter erkenning van die spreektaal die eerste universitêre leerstoele in Afrikaans op Stellenbosch en in Bloemfontein in die lewe geroep. By die taalfees wat op 9 en 10 Augustus 1918 op Riversdal gehou word, pleit Langenhoven vir 'n fonds wat aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit oorgedra kan word met die opdrag om die rente daarop aan te wend om die digter Jan Celliers in 'n betrekking te plaas waar hy sy talente ten volle kan gebruik.Ga naar eind8 Celliers is in hierdie jare vertaler by die departement van binnelandse sake in Pretoria en voel dat dié tipe werk sy skeppingsdrang wurg en sy hele wese as mens beknel. Reeds eerder, by geleentheid van die Geloftedagvierings op De Rust in 1916, sê Langenhoven in teenwoordigheid van Celliers, wat as gas by die verrigtinge teenwoordig was, dat die geskiedenis van die Afrikanervolk - waarmee hy die innerlike dryfvere, gevoelens en ideale bedoel - tot dusver nie te boek gestel is nie. Iemand wat so iets kan doen, is Jan Celliers, wat beter daartoe in staat is as enige van die politieke leiers waaroor die volk beskik. Politici vorm wel die uiterlike geskiedenis, maar die ‘inwendige geskiedenis’ word geskryf ‘deur die man wat gedagtes versprei en die siel van die volk vorm’. Jan Celliers, so gaan Langenhoven voort, ‘is die man om vir ons daardie geskiedenis te skrijf, maar sij tijd gaat om, sij lewe gaat virbij, één jaar na die ander en hij skrijf dit nie. Waarom nie? Omdat hij in plaas daarvan op 'n kantoor sit vir sy lewensonderhoud en tok-tok-tok met 'n type-writer van die môre tot die aand. So word sij siel vermoor.’ Na alle waarskynlikheid het Langenhoven nie van Celliers verwag om historiografiese arbeid soos dié van sy medestryder Gustav Preller te lewer nie, maar eerder om die ‘essensie’ van die volkswording in versvorm gestalte te laat aanneem. Alhoewel Celliers in hierdie rigting gewerk het met die ‘Oorlog’-siklus in Die vlakte en ander gedigte, is dit nogal ironies dat dit juis Langenhoven was wat met Die pad van Suid-Afrika 'n paar jaar later hierdie ideaal sou verwesenlik, terwyl Celliers se latere werk al hoe meer in die rigting van stemmingspoësie en bespiegelings ontwikkel het. | |
[pagina 322]
| |
Op Langenhoven se Geloftedagtoespraak en die Riversdalse taalfees het daar 'n verdere byeenkoms van belanghebbendes op Riversdal gevolg en is 'n formele versoek tot die Universiteit van Stellenbosch gerig om Celliers as buitengewone hoogleraar te benoem. Hierdie versoek is gunstig ontvang en aan die begin van 1920 het Celliers op Stellenbosch diens as buitengewone hoogleraar aanvaar.Ga naar eind9 Op aandrang van kerklike afgevaardigdes wat by die Sinode van die Ned. Geref. Kerk in Oktober-November 1919 ten gunste van Afrikaans was, skryf Langenhoven sy vlugskrif ‘De heilige ennen van Rehum en Simsai’, wat tydens die sitting in pamfletvorm beskikbaar gestel word en wat hy later in deel III van Ons weg deur die wêreld opneem.Ga naar eind10 Langenhoven begin sy betoog met die negatiewe argumentasie dat die opgevoede Engelsman en Duitser slegs hulle beskaafde tale in die kerk hoor, nie byvoorbeeld die dialekte daarvan nie. Die redenasie van baie teenstanders van Afrikaans is dan ook dat die kerk deur die invoering van die spreektaal ‘de bandeloze regeringsloosheid van een ontaarde en verbasterde spraakvorm door haar voorbeeld wettigen’.Ga naar eind11 Hierteenoor sê Langenhoven dat Christus in die taal van die volk - Aramees - en nie in die ‘hoë’ Hebreeus nie, gepreek het. Ook die evangelies is nie in die klassieke Grieks geskryf nie, maar in die omgangstaal, die ‘verbasterde’ Grieks van destyds, net soos die Vulgaat nie in suiwer klassieke Latyn vertaal is nie. As 'n mens hierdie historiese ekskursie op Suid-Afrika van toepassing maak, beteken dit dat Afrikaans, en nie Hooghollands nie, die taal is waarin die kerk tot sy lidmate behoort te spreek. Waar die godsdiens hom bo die volk verhef het, was daar telkens 'n agteruitgang in die geestelike lewe van die mense, terwyl dit sy krag en bloei altyd kon vind as die godsdiens uit die volkslewe geput het. ‘Door haar’, sê Langenhoven, ‘zijn de volkstalen verheven; en door die talen heeft zij het volkshart bereikt.’Ga naar eind12 En die feit is ‘dat het Afrikaans voor de Afrikaner een taal is en zijn taal en de enige taal van zijn hart en ziel.... Waar er een beroep moet worden gedaan, niet op het verstand maar wel op het gevoel, daar mist het bloot verstandelike woord zijn mikpunt ... Ik weet niet of de heren predikanten, die tegenstanders van het Afrikaans zijn, wanneer zij in de verachterde stropondok huisbezoek doen, Hooghollands spreken en daardoor menen licht te brengen tot degenen die in de duisternis zitten. Zo ja, dan zal het wel vruchteloos zijn ...’Ga naar eind13 Met hierdie vlugskrif sit Langenhoven die belangrike werk voort wat hy in 1914 vir die erken- | |
[pagina 323]
| |
ning van Afrikaans as kerktaal deur sy polemiek met prof. P.J.G. de Vos begin het. Reeds in 1916 het die Vrystaatse en die Transvaalse Sinode Afrikaans as kanseltaal goedgekeur, terwyl Natal en Kaapland in 1919 hulle voorbeeld volg. Wat die Kaaplandse besluit betref, het ‘De heilige ennen van Rehum en Simsai’ geen geringe aandeel gehad nie. Hoewel die presiese datum onbekend is, moet dit ongeveer in 1915 gewees het dat Langenhoven lid word van die Vrymesselaars, 'n geheime organisasie wat alle diskussies oor politieke en religieuse verskille by vergaderings verbied en hom in hoofsaak deur fondse uit toekennings beywer vir primêre en hoër opleiding, hulp aan bejaardes en siekes, voorsiening van beurse en die onderhoud van koshuise vir leerlinge en tehuise vir bejaardes. Die dokumentasie van Langenhoven se lidmaatskap in die Stellenbosse versameling is egter besonder yl en 'n mens vermoed dat hy waarskynlik geen ywerige lid van die organisasie was nie en in elk geval nie 'n besturende funksie gehad het nie, al was hy die doelstellinge en aktiwiteite basies goedgesind. Onder die dokumentasie is daar slegs uitnodigings van Mei en Junie 1915 om gewone vergaderings by te woon. Die enigste dokument wat van 'n aktiewer deelname getuig, is wanneer Langenhoven in 1917 namens die Vrymesselaars 'n versoek aan die Oudtshoornse lisensiehof rig om die ure van drankverkoop te verminder. Hy wil naamlik hê dat ‘alle kantiene 's Saterdags om 12, en al die hotel “bars” elke aand om 10 n.m. sal sluit’. Die rede hiervoor, so motiveer hy dit, is dat dronkenskap die afgelope jaar besonder groot was en dat die tye tydens die oorlog besonder swaar en die lewe duur is. ‘Daardeur’, skryf hy, ‘doen 'n man nie onreg aan sy familie net als hy die drank so misbruik, dat hy voor die hof gesleep word nie, maar elke ses pennies wat hy aan die drank bestee beteken een stukkie kos of klere minder vir sy vrou en kinders.’ Dit is veelseggend dat die enigste oorgelewerde dokumentasie wat op 'n sekere mate van aktiwiteit binne die Vrymesselaarsbeweging met sy hoë etiese en morele kode dui, juis in verband staan met Langenhoven se persoonlike ‘siekte-swak’, soos Sarah Goldblatt dit by geleentheid in 'n brief aan M.E.R. genoem het. Dit is, soos enkele van sy ‘prekies’ in die derde deel van Ons weg deur die wêreld en uitlatings elders in sy skeppende werk, 'n aanduiding van hoe hy voortdurend teen die euwel in sy persoonlike lewe gestry het en deur voorsorgmaatreëls wou keer dat ander hierdie euwel ten prooi val. | |
[pagina 324]
| |
Uit die dokumentasie op Stellenbosch en elders is daar niks verder bekend van Langenhoven se deelname aan die Vrymesselaars nie en 'n mens moet tot die gevolgtrekking kom dat hy geen groot rol binne die beweging gespeel het nie. Van die Afrikaner-Broederbond, wat in 1918 tot stand kom, was hy, anders as baie vooraanstaande politici van sy tyd, nie lid nie. Soos die Vrymesselaars het die Afrikaner-Broederbond 'n hoë etiese kode aan sy lede gestel. Dit mag miskien wees dat Langenhoven se sporadiese alkoholiese vergrype teen hierdie tyd reeds by ander Broederbonders bekend was en dat daar fluisteringe bestaan het oor 'n verhouding tussen hom en Sarah Goldblatt, faktore wat teen sy moontlike lidmaatskap kon getel het. In elk geval was Langenhoven sy lewe lank 'n alleenloper en sou hy binne die Afrikaner-Broederbond waarskynlik ook geen groot rol gespeel het nie, al sou hy hom in die aanvangsjare van dié organisasie se bestaan volkome met die beskerming van die regte van die Afrikaner en die Afrikaanse taal kon vereenselwig. | |
IILangenhoven woon op 2-4 Julie 1914 die jaarvergadering van die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in Bloemfontein by, nie slegs om sy voorstel te motiveer en by ander aktiwiteite in verband met die erkenning en verdere uitbouing van Afrikaans betrek te word nie. Op die namiddag van 4 Julie,Ga naar eind14 die laaste dag van die sitting, lewer hy in die Bloemfonteinse stadsaal sy rede ‘Afrikaans als voertaal’, met spellingverskille (byvoorbeeld ‘als’ tot ‘as’) ná die aanvanklike publikasie in die Akademiejaarboek opgeneem in die derde deel van Ons weg deur die wêreld.Ga naar eind15 Wat 'n mens in hierdie rede weer opval, is Langenhoven se afwisseling van stelling en illustrasie of betoog en beeld, alles gerugsteun deur kragtige logika wat die hele lang rede van 57 bladsye stewig bind. Langenhoven begin sy referaat met die verhaal van Euklides se omslagtige metode om sekere aksiomas in die meetkunde te bewys en die besware van 'n leerling dat al die bewysvoerings in die lig van die vanselfsprekendheid van die stellings in werklikheid oorbodig is. Wat hy dus in verband met die Afrikaanse taal wil sê, lê so voor die hand dat sy toehoorders aan die einde sal sê dat hy ‘kosbare tyd van 'n geleerde | |
[pagina 325]
| |
liggaam met iets anders in beslag kon geneem het as met die verkondiging van vanselfsprekende waarhede’.Ga naar eind16 In Suid-Afrika, so gaan hy voort, waar ons die reg en mag het om sake na goeddunke te reël, is dit 'n nadeel as kinders se ouers Afrikaners is en nie Engelse of Hollanders nie, omdat die Afrikaanse kind sy onderrig deur 'n vreemde medium moet ontvang wat 'n breuk tussen die huislike en skoolopvoeding bring. Hy verwys na sy eie opleiding toe hy deur twee vreemde mediums op skool ‘'n soort nagemaakte onnatuurlike tweede natuur’Ga naar eind17 moes ontwikkel wat met ‘vermorste tyd en inspanning’Ga naar eind18 moes gepaard gaan en wat hy eers jare later ‘deur lange en pynlike self-oefening’Ga naar eind19 kon omwerk tot eie ‘sielsbesitting’.Ga naar eind20 Aan hierdie toestand dink hy met bitterheid terug, want ‘dit het my jare gekos - onherroepelik verlore jare - om daartoe te kom om nie net te weet nie maar te voel, welke gebruik dit my plig is om van my voorregte van intellektuele kennis en ontwikkeling te maak as mens en as burger. Nóú nog op die oomblik, terwyl ek hier skryf, kom daar kort-kort 'n gedagte by my op waaraan my binneste siel sukkel om uitdrukking te gee met 'n beroep op my verstand vir die middele van openbaring. En die verstand staan gereed om die beroep te beantwoord met skoolgeleerde frase in 'n vreemde medium: die geleende intellektuele klippers van andere om voor my gehoor uit te gooi in plaas van die sielebrood wat my eie is om mee te deel.’Ga naar eind21 Langenhoven onderskei dan tussen die gebruik van taal as 'n ‘verstandsmedium’ en sy gebruik as 'n ‘gevoelsmedium’Ga naar eind22 en maak, met voorbeelde uit Engels, Nederlands en Duits, 'n verskil tussen die ‘logiese betekenis’ en die ‘psigologiese begrip’Ga naar eind23 van woorde. Die woorde ‘moeder’ en ‘mother’ beteken byvoorbeeld logies dieselfde, maar psigologies verskil hulle na gelang van verskille in die huistaal van die ervarende indiwidu. Die woord ‘mother’ het Langenhoven intellektueel leer ken, terwyl die ‘heilige herinneringsbeelde van...(sy) siel’Ga naar eind24 altyd die woord ‘moeder’ oproep. Hieruit kom hy dan tot 'n algemene stelling: ‘'n aangeleerde taal (is) 'n konvensionele kode van klanke waaraan die leerling, volgens voorskrif, bepaalde logiese betekenisse heg sodat 'n gegewe kombinasie van klanke 'n sekere verstandsbegrip verteenwoordig wat vir spreker en hoorder dieselfde import besit, sodat dit as 'n gemeenskaplike medium van intellektuele gedagtewisseling kan dien’.Ga naar eind25 Met 'n kunsmatige voertuig soos Esperanto kan 'n mens nog formeel kommunikeer of selfs 'n wetenskaplike | |
[pagina 326]
| |
verhandeling skryf, maar 'n mens kan nie verwag dat daar ooit literêre meesterstukke in sal ontstaan nie, tensy dit deur intieme gebruik tot 'n ‘sielsbesitting’ en ‘volkstaal’Ga naar eind26 sou uitgroei. Elke vreemde taal, sê Langenhoven, is ‘vir ons in die eerste plaas 'n kunsmatige kode van klank en klankmerke...Deur lang-herhaalde assosiasie word die vreemde woorde in ons gees meer en meer so vasgeheg aan die denkbeelde wat deur hulle gesimboliseer word dat minder en minder bewuste poging nodig is om die kloof oor te stap tussen die idee en die merkteken van die idee. Maar nooit, tensy ons ganse omgewing verander, word die verband so 'n intieme as in die geval van ons moedertaal nie.’Ga naar eind27 Juis om dié rede is daar geen noemenswaardige literatuur in Middeleeuse Latyn nie en het daar in Suid-Afrika geen vitale literatuur in Nederlands ontstaan nie. Dit is 'n eienaardige paradoks dat juis die mees nasionale kunstenaars die grootste kans staan op internasionale erkenning.Ga naar eind28 As 'n kunstenaar in 'n taal skryf wat nie sy eie is nie, word sy indiwidualiteit versmoor deur die konvensionele en kunsmatige,Ga naar eind29 'n uitspraak wat 'n mens laat dink aan die stroperigheid van Langenhoven se gedig vir Helena de Vries en aan sy vroeë Engelse minnebriewe - geskrifte waarmee hy aansluit by die literêre konvensies van die Victoriaanse era, sonder dat hy 'n eie indiwiduele stempel daarop kon afdruk. Vir elke volk, so gaan Langenhoven voort, is die moedertaal die omgangstaal vir ‘alledaagse doeleindes’. Die vraag ontstaan of hy ook die omgangsmiddel vir ‘kultuurdoeleindes’Ga naar eind30 behoort te wees. Die moedertaal is egter ook die gevoelsmedium van die indiwidu. En, so sê hy verder, ‘omdat dieselfde gevoelsmedium die kommunikasieband vorm tussen al die lede van die volk, daarom is die volkstaal die sement van nasionale gevoel’Ga naar eind31 'n Nasie is nie bloot 'n versameling van indiwidue nie, maar 'n organiese liggaam met ‘'n nasionale siel, en die nasionale spraak is die uitdrukking daarvan’.Ga naar eind32 In daardie nasionale taal lê vir die volk ‘al sy geheue van sy verlede, al sy bedrywigheid van sy hede, al sy hoop op sy toekoms’.Ga naar eind33 In Suid-Afrika is daar probeer om, met ‘die verenigde magte van kansel en lessenaar en kantoor, van kerk en skool en staat en pers, van godsdiens en gesag en onderrig, van boek en geskrif, van voorskrif en voorbeeld’,Ga naar eind34 geslagte na mekaar die volkstaal deur 'n verwante taal te vervang, 'n taal wat so na aan die volkstaal is dat ‘die volk gedurig kon wysgemaak word tot op die huidige dag dat dit maar een en dieselfde taal is’.Ga naar eind35 Maar selfs dié ‘kleine wysiging’Ga naar eind36 was onuitvoerbaar, want hierdie kunsmatige me- | |
[pagina 327]
| |
dium was ongeskik as kultuurtaal. Alleen deur middel van die volkstaal kan die nasie verhef word, want, so sê Langenhoven in navolging van Johannes Brill en Josias Hoffmann, die ‘taal is gans die volk’.Ga naar eind37 Al hierdie dinge wat hy sê, so betoog Langenhoven met 'n vervatting van die inset van sy rede, is so vanselfsprekend dat dit vir sy gehoor gemeenplasig moet wees. As dít wat hy gesê het, aksiomaties vanselfsprekend is, dan is dit onredelik om te beweer dat ‘die kultuur van ons volk langes die weg van ons volkstaal...(moet wag) totdat die volkstaal eers self gekultiveerd is’.Ga naar eind38 As dít ons instelling is, sal ons een generasie na die ander laat verbygaan sonder dat 'n skryftaal en kultuurtaal behoorlik uit die spreektaal ontwikkel. Omdat ons deur allerlei omstandighede tot dusver nagelaat het om die spreektaal só behoorlik te kultiveer, het die Engelse bevolkingsgroep in die land op die gebied van kultuur, beskawing en intellektuele ontwikkeling 'n geweldige voorsprong, soos 'n mens kan sien by die kerk, skool, biblioteek, kunsgalery, skouburg e.d.m. Die Engelstalige nuusblaaie in Suid-Afrika is groter en deegliker as die Hollandse, en in leeskamers en boekwinkels is die kontras nog veel groter. Afrikaners lees oor die algemeen geen boeke nie; dié van hulle wat wél lees, gee voorkeur aan Engels bo Hollands. Langenhoven self verklaar rondborstig dat hy Engelse werke met veel meer smaak en genot lees as 'n Hollandse drama of roman. In Afrikaans kan die totale omvang van die literatuur 'n leesgierige kwalik langer as drie maande aan die gang hou. ‘By gebreke aan ons eie literatuur’, sê Langenhoven, ‘is daar twee verhoudinge waarin die Afrikaner staan tot sy beskikbare leesstof. Waar hy tweetalig is, in die gebruiklike sin van die woord, lê sy keuse tussen Hooghollands lees of Engels lees. Waar hy eentalig is, lê sy keuse tussen Hooghollands lees of byna glad nie lees nie.’Ga naar eind39 Die meeste mense in Suid-Afrika wat wél lees, word egter aangetrek deur Engels. Die Engelse taal is ‘eenvoudig in sy grammatika, direk in sy sinswending, kort en kernagtig in sy uitdrukking’.Ga naar eind40 Die woordgeslagte in Nederlands is vir hom dikwels 'n ‘onmoontlike ongerymdheid’.Ga naar eind41 Daarby het die saambestaan van die twee bevolkingsgroepe in Suid-Afrika en ons politieke verbintenis en omgang met Engeland tot gevolg dat die ‘Engelse oogpunt en uitkyk op die lewe, Engelse sedes en gewoontes en opvattinge en vooroordele’Ga naar eind42 aan die Afrikaner meer bekend is as dié van Nederland. En - belangrikste van alles - die Engelse taal is in Suid-Afrika 'n ‘lewende spreektaal’, terwyl Hooghollands | |
[pagina 328]
| |
'n ‘dooie boektaal’Ga naar eind43 geword het. In die daaglikse stryd om te bestaan het Hooghollands geen funksie meer in hierdie land nie. Die eentalige Afrikaner wat Hooghollands moet lees of, behoudens die enkele dinge in Afrikaans, glad nie lees nie, lees Hooghollands alleen met inspanning. Nederlandse idiome soos ‘van stapel lopen’ en ‘in de bres springen’ is vir Afrikaners dooie metafore, terwyl ‘uit die staanspoor uit’, ‘kop-uit trek’, ‘oor die tou trap’ en ‘remskoenpolitiek’ vir ons leef. ‘Die beelde waarna verwys word’, skryf Langenhoven, ‘rys dadelik en sonder bewuste poging in ons gees op uit ons daelikse ervaring.’Ga naar eind44 Die ‘leeslusteloosheid en skryflusteloosheid’Ga naar eind45 wat onder Afrikaners heers, is nie toe te skryf aan 'n gebrek in die volksaard nie, maar aan die feit dat spreek- en skryftaal verskil. As iemand byvoorbeeld aan 'n dierbare wil skryf, meen hy dat daar van hom verwag word om 'n ‘verhewener’ spraakvorm op papier te plaas as wat in die gewone omgang uit sy mond kom. Wanneer politici praat, is hulle meestal skerpsinnig, woordryk en oorspronklik, maar as hulle 'n brief aan die koerant moet rig, is die produk, soos Langenhoven dit stel, dié van ‘'n intellektuele babetjie’. Hy verplaas hom ‘plotseling in 'n ander atmosfeer - 'n atmosfeer van gekunsteldheid, onwesenlikheid, verbeelde maar valse deftigheid.... Hy hou op om homself te wees. Alle spontane natuurlikheid verlaat hom.’Ga naar eind46 Familiebriewe, vriendskapsbriewe en professionele briewe tussen Afrikaners is meestal in Engels, omdat Afrikaans verstoot en verag word en Hooghollands ‘te styf-deftig...en te omslagtig vir besigheidsdoeleindes’Ga naar eind47 is. Dit bring Langenhoven dan by die laaste en hoogste sport van taalgebruik, naamlik die ‘letterkundige produktiwiteit’.Ga naar eind48 Die Nederlandse geskrifte wat in Suid-Afrika ontstaan het, meestal boekies van 'n godsdienstige aard, is taalkundig onbesproke, maar die ‘gedagtetrant van die Afrikaner’Ga naar eind49 ontbreek daarin. ‘Elke boekie’, sê hy, ‘is 'n stokstywe, meganiese aaneenskakeling van uitdrukkinge in 'n taal wat vir die skrywer dienstig was as 'n konvensionele kode, maar nie as 'n medium vir sy lewende siel nie.’Ga naar eind50 Daarteenoor is daar in die Afrikaanse voortbrengsels 'n indiwidualistiese, onkonvensionele manier van skryf: ‘die delikate trekkies van idioom en frase en woordkeus en sinswending waarvoor geen grammatikale of stylreëls kan geformuleer word nie’.Ga naar eind51 Die inspirasie ontbreek eenvoudig om in Nederlands te skryf ‘waar elke berg en elke vlakte skree om digters, waar elke tafereel uit ons roemryke geskiedenis skree om skrywers’.Ga naar eind52 Miskien met 'n | |
[pagina 329]
| |
bietjie oratoriese oordrywing voeg Langenhoven hieraan toe: ‘En generasie op generasie het ons Vondels en Goethes en Miltons daar verby gegaan, worstelende om verlos te word uit hulle barensnood, om die lewende siel vir hulle volk voort te bring volgens die ingewing en bevel van hulle God...Hulle werk is vir ewig vir ons verlore - vir ons Afrikaners wat dit die minste van alle volke kan mis.’Ga naar eind53 Intussen het die ‘wonderontwaking’Ga naar eind54 spontaan en tegelykertyd in alle oorde gekom. Vroeër was daar die beweging van S.J. du Toit wat uit ‘die alleensalige voortjie, deur die “Patriot” geploeg, oes begin te lewer het, totdat die politiek, soos sy ou gebruik in Suid-Afrika is, as 'n verskroeiende Samoem gekom het om die weke eerstelinggroenigheidjie te verdor’.Ga naar eind55 En tog het nie alles verlore gegaan nie. Hier en daar in koerante is wel Afrikaans gebruik, en waar daar graffies gemaak moes word, was Afrikaans die geskikte medium. ‘Ons trouste en deeglikste volksbode’, so sê Langenhoven, ‘is toe geduld geword omdat hy interessant was, en interessant beskou omdat hy die belangstelling kon wek van 'n komieke besopene of 'n koddige idioot. Maar sy aanspraak was te regverdig vir smaad; sy krag was te heilig vir spotterny.’Ga naar eind56 Maar nou het die nuwe beweging in belang van Afrikaans orals begin. ‘Nuwe boeke, prosa en poësie, verskyn één op die ander’, skryf Langenhoven, ‘en die meerderheid daarvan is nou Afrikaans: en hulle verkoop, hulle word gelees.... Reeds is daar Afrikaanse werk gelewer wat dit geen groter vakkundigheid kos as myne nie om met sekerheid te voorspel dat dit sal leef. Ons staan op die drumpel, menere, van die eerste gewigtige literatuurperiode in ons geskiedenis.’Ga naar eind57 En hy gaan voort met 'n uitspraak wat tans by die Paarlse Taalmonument - opgerig in 1975 - saam met woorde van N.P. van Wyk Louw op 'n rots uitgebeitel is: ‘As ons nou hier in die saal af 'n ry pale sou plant, tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel, en aan elke paal 'n merk sou maak op 'n hoogte van die vloer af ooreenkomende met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en 'n streep deur die merke trek, van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste, daar anderkant teen die solder, dan sou die streep 'n snelstygende boog beskryf - nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na 'n vinnig vermeerderende rede. Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng vir die tien komende jare van nou af. Sien u, menere, waar die punt sal wees, daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein, in die | |
[pagina 330]
| |
jaar 1924?’Ga naar eind58 Dan sal vir die kinders wat vandag op ons skoolbanke sit, ‘Afrikaans...die wapen wees as die de facto skryftaal van Suid-Afrika...Oor daardie tien jaar sal die meer geleerde Afrikaner hom moet skaam as hy dit nie kan skryf nie.’Ga naar eind59 Wat ons nou moet doen, so gaan Langenhoven voort, is om aan die kind op skool die taal te gun wat die naaste aan hom is. ‘Laat hom spel en weldra lees’, sê hy, ‘van die bok en die perd en die os en die bul in plaas van de geit en het paard en het rund en de stier (ek hoop ek het die geslagte hier reg).... En so met al die woorde van sy kinderskat. Hulle is vir hom sy ganse sielsbesitting.’Ga naar eind60 Teen die poging om Nederlands deur middel van 'n vereenvoudigde spelling te behou, spreek Langenhoven hom sterk uit. Dit is 'n ‘brabbeltaal’, want dit is ‘'n mengelmoes van Afrikaanse woorde’, verbind ‘met half-geassimileerde Hooghollandse buigingsuitgange’.Ga naar eind61 Hy wil ‘die beoefenaars van daardie bastergedrog van 'n taal met alle beskeidenheid...vra waarom hulle dan die aangeleerde Engels net so praat soos die Engelsman en die aangeleerde Hooghollands nie net so praat soos die Hollander nie’.Ga naar eind62 Selfs al sou Nederlands egter presies soos wat hy is, bewaar word, is dit 'n taal wat nie die standpunt en gevoel van die Afrikaner kan weergee nie. Die Afrikaanse skrywer, ‘bedrewe in sy eie taal as lewende medium van sy eie land, skryf die taal styf en onhandig wanneer hy Afrikaanse toestande, voorwerpe, omgewing, leefwyse, sedes en gebruike daarin uitdruk: want die sake het hulle eie medium wat saam met hulle gegroei het en díe is Afrikaans. Ook hier deug die ou leersak nie vir die vars wyn nie. Maar my punt is, ons het in die skool 'n minder vreemde maar onsuiwere bastertaal vir die oor van die kind, en 'n suiwer maar vreemde egte taal vir sy oog.’Ga naar eind63 Die egte taal van die hart is egter Afrikaans. Dit is vir Langenhoven vanselfsprekend ‘dat 'n kind wat besiel is met liefde vir sy onderwyser, vir sy studie-onderwerp en vir die metode waarop die onderwerp aan hom uitgelê word, oneindig sneller sal vorder en meer blywende indrukke sal oorhou dan wanneer hy daarteen met weersin vervul is’.Ga naar eind64 Die kind wat deur ons skole gaan, behoort besiel te word sodat daar naas opvoeding ook karaktervorming plaasvind. Daar moet met ander woorde nasionale trots, familieroem en eie waardigheid gekweek word. ‘Hoe nou’, vra Langenhoven, ‘kweek ons daardie gevoel by hom aan: die gevoel van respek vir sy volk en sy huis en homself. Ons laat hom sien dat die taal van sy nasie deur sy nasie self, | |
[pagina 331]
| |
deur die voormanne van sy nasie, nie goed genoeg beskou word vir offisiële skryftaal en kerktaal nie.’Ga naar eind65 In die skool ‘word die Afrikaanse kind deur les en boek, voorskrif en voorbeeld, ingeprent en wysgemaak dat die taal van sy huis nie 'n taal van kultuur en beskawing is nie. Daar is 'n hoër en edeler taal wat sy vader en moeder nie gebruik nie, waarmee hy op 'n afstand en onterdeë op die skool moet kennis maak, net om te weet dat daar so iets bo in die wolke bestaan maar 'n onbereikbare hoë ding vir hom wat hy tog nooit bedoel is om sy eie te maak nie opdat sy huis, weëns voorregte wat sy ouers gemis had, 'n beskaafder huis mag wees as hulle s'n. Hy word nie net ingeprent dat sy taal te laag is vir kultuurgebruik nie, maar dat hý te laag is om die hoër kultuurtaal aan te neem. Hy en sy nasie is nie net onbeskaaf nie, maar onbeskaafbaar. Die taal van ons Afrikaners is te sleg vir 'n kultuurtaal, en ons is te sleg, met geleerdheid en al, om die kultuurtaal van die vreemde aan te kweek. En die vreemde self, rondom ons? Die Engelsman en die Hollander is hoër beskaafd as ons. Hulle taal word hier, nie deur hulle alleen nie, maar deur ons, in skool en kerk en staat offisieel erken. Die skoolmakker van my kind daar: hy kom uit 'n beskaafder huis as myne, want sy huistaal word hier in die skool as 'n beskaafde taal onderwys. In daardie opsigte waardeur waardigheid getoets word - en dié immers is in die skoolopvoeding albeslissend - is die Afrikaner minderwaardig in sy eie land en die vreemdeling meerderwaardig. Dáár is die soort grondslag van eie selfkleinering. Ons kinders word nie opgevoed om op hulle bors te kan slaan en hulle hoof hoog te hou en 'n ander nasieman in die oë te kyk en te sê: “Ek is 'n Afrikaner en jou gelyke, en as dit op dade aankom, jou meerdere” nie - nee. “Ek is jou mindere omdat ek 'n Afrikaner is: nie omdat jy dit sê nie, maar deur my eie erkentenis.”’Ga naar eind66 Langenhoven sluit sy lang referaat af met dieselfde gedagte as waarmee hy begin het. Dit is jammer dat hy dié rede moes hou, omdat dit geheel en al onnodig was. ‘Dit was’, sê hy, ‘die allerlaaste pleidooi waarvoor ooit geleentheid of noodsaaklikheid moes bestaan het: die smeekstem van 'n Afrikaner met mede-Afrikaners om te erken wat syne en hulle s'n is, wat dit tog maar altyd sal bly, wat nie van die gehalte is om ons voor te skaam nie.’Ga naar eind67 En hierop laat hy volg: ‘Te skaam nie, menere! Skande op daardie skaamte! dis ons kostelikste roem, ons hoogste besitting: die één enigste witmanstaalGa naar eind68 wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die | |
[pagina 332]
| |
spore van die lief en leed dra van alles wat ons en ons vadere hier deurleef en deurworstel en deurtriomfeer het; die één band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk.’Ga naar eind69 ‘Afrikaans as voertaal’ is nie alleen die mees voortreflik opgeboude rede onder die veelvuldige toesprake en referate wat Langenhoven gelewer het nie, maar ook, in die woorde van P.J. Nienaber, ‘die mooiste en welsprekendste pleidooi wat ooit ten gunste van Afrikaans gehou is’.Ga naar eind70 Langenhoven se argumente in belang van Afrikaans en oor die reddelose onhoudbaarheid van Nederlands vir Suid-Afrika is nie weerlegbaar nie. Die rede het dan ook 'n geweldige impak gehad. Nie alleen het lede van die Akademie wat aanvanklik nog getwyfel het, hulle nou heeltemal ten gunste van Afrikaans uitgespreek nie. Ook lede wat met hulle aankoms in Bloemfontein nog baie sterk ten gunste van Nederlands as landstaal was, is deur dié rede oorgehaal om ten gunste van Afrikaans te stem. Dit was byvoorbeeld die geval met prof. G.G. Cillié, wat tot kort tevore nog sterk ten gunste van Nederlands was en niks van Afrikaans wou hoor nie. 'n Interessante geval was die drie en veertigjarige W.E. Malherbe, sedert 1906 hoogleraar in fisika aan die Victoria-kollege op Stellenbosch. Hy het in Edinburgh gestudeer en sy vak in Engels gedoseer. Op die jaarvergadering het hy egter ten gunste van Afrikaans gestem, omdat hy vir Nederlands geen toekoms in Suid-Afrika gesien het nie. Alleen prof. Moorrees en ds. Schoon was teen Langenhoven se mosie gekant. Hulle standpunt is in die tydsomstandighede wel verstaanbaar, veral ook omdat hulle skeppende werk in Nederlands gelewer het en die erkenning van Afrikaans hulle dus 'n belangrike basis van hul eie wese sou ontneem. Maar vir almal wat binne die realiteit van die taalsituasie in Suid-Afrika gestaan het, was dit duidelik dat die rol van Nederlands in hierdie land uitgespeel was. Reeds in 1893 in sy Stellenbosse toespraak oor die toekomstige landstaal van Suid-Afrika het Langenhoven dit betoog en in sy artikel in The State van 1910 herhaal. Ook in talle stukke in Het Zuid-Westen het hy konsekwent hierdie standpunt ingeneem en dit weer tydens die voorbereidings vir sy 1914-mosie in die Kaapse Provinsiale Raad duidelik aan lede van sy eie party en die opposisie gestel. Maar die helderste en uitvoerigste formulering van Langenhoven se standpunt waarom Afrikaans, en nie Nederlands nie, in skole ingevoer moes word en groter aansien as landstaal moes geniet, is te vinde in ‘Afrikaans as | |
[pagina 333]
| |
voertaal’. Meer as enige ander taalstryder het hy hierin die essensie van alle argumente ten gunste van Afrikaans duidelik en verstaanbaar geformuleer. | |
IIIDit moet kort vóór die besoek aan Bloemfontein en die voordrag van ‘Afrikaans as voertaal’ gewees het dat Langenhoven ook 'n ‘Memorie aan die Afrikaanse Taalgenootskap’ opgestel het. Die stuk bestaan uit ses en twintig geskrewe bladsye, toon raakpunte met ‘Afrikaans as voertaal’, en die oorspronklike is blykbaar ondertekenGa naar eind71 deur 'n aantal joernaliste wat op die grond dat Afrikaans die medium is wat hulle vir hulle beriggewing gebruik, 'n versoek tot die ATG rig. As persmanne, so begin die betoog, wil hierdie joernaliste nie net aantekening hou van die daaglikse nuus en die bespreking van die ‘kortstondige en voorbijgaande’ nie. Hulle voel hulself geroepe ‘om te help bijdraag tot die verstandelike, die geestelike, die nasionale opbouw en opvoeding en kultuurvorming van ons volk’. Die probleem is egter die min geleenthede wat hulle daarvoor kry. Die Engelstalige landgenote is minder talryk, maar het veel omvangryker dagblaaie en tydskrifte met 'n groot sirkulasie en daaglikse nuusdekking. Aan ons kant is die opbrengs weens die onbeduidende mark swak, met die gevolg dat Afrikaanse joernaliste ander vergoeding moet soek om in hul lewensonderhoud te voorsien. So gaan hul talent verlore en die volk lees nie wat hulle skryf nie. Die Afrikaners se gebrek aan leeslus, so betoog Langenhoven verder, lê nie in 'n gebrek aan idealisme of intellek nie. 'n Volk lees vir sy plesier of hy lees glad nie. Daarom moet hy leesstof in sy eie taal kry, nie in 'n verwante taal nie. Die taal hiervoor is ‘die taal van sy dagelikse omgang, van sij handel en wandel, van sij buitenste openbaring en van sij binneste gedagtegang. Ook uit 'n vals-gesonge lied kan 'n mens die melodie uitmaak: maar dis nie wat jou hart sal laat tril nie. Daar is 'n psigologiese krag en waarde ook in die logies-onessensiële eigenskappe van 'n woord: in 'n betekenislose uitgang, in die skaduw van 'n toonverandering in die uitspraak van 'n vokaal, en daarsonder leef hij nie. Want ook 'n woord is 'n lewende ding of hij is 'n dooi ding. En die dooi woorde word nie gelees nie.’ | |
[pagina 334]
| |
En wat vir die leser geld, is ook vir die skrywer waar. Die skrywer sal sy styl rig op die gehoor na wie hy mik: ‘hij sal die kleine dingetjies in ag neem, die klein wendinge van idioom en uitdrukking, waarvoor geen grammatikale regels kan geformuleer word nie.’ In Suid-Afrika, sê Langenhoven, het ons 'n afgod gemaak van ‘'n verlore grammatika’, van ‘siellose geslagsregels en verbuigingsuitgange’. Hy verwys na die Middeleeue, wat geen Latynse of Griekse letterkunde van belang voortgebring het nie. Net so is daar in Suid-Afrika geen noemenswaardige Nederlandse literatuur geproduseer nie. In die Middeleeue is die volkstale verag soos Afrikaans in Suid-Afrika altyd op die agtergrond gehou is. Die gebruik van Nederlands as skryftaal werk by ons ‘versmorend en verstikkend’, want hy ‘beroof die skrijwer van sij talent, en hij beroof die leser van sij belangstelling’. Vandaar dat daar geen leeslus by ons bestaan nie. In die verlede is Afrikaans slegs gebruik vir die ‘swakste en lafste stukke’. As minderwaardige taalvorm is Afrikaans nie geskik geag vir belangrike werk nie, maar alleen vir ‘ijdele geklap en sotte grappies’. Daarom het die ondergetekendes met 'n ernstige besef van hierdie stand van sake hulle daarop toegelê om hulle van die volkstaal vir hulle joernalistieke werk te bedien. Baie van hulle se geleentheid hiertoe is egter ‘treurig klein’, want hulle moet teen die teenstand van land- en taalgenote stry en die blaaie in hul gemeenskaplike moedertaal is steeds nie opgerig nie. Die eienaars van bestaande blaaie moet rekening hou met lesers wat ‘nie weet wat smakelik en lekker lees is nie omdat hulle nie opgevoed is om te verstaan wat literatuur beteken nie. Die mode van die harde pluishoed en die knellende korsét word nie opsij geset omdat hulle onredelike en hinderlike vorme van kleredrag is nie.’ Tradisioneel is die Afrikaners ‘'n gesag-onderdanige volk’. Daarom is die formele dokument, die landswet, die staatskoerant, die skoolboek, die preek en die kerkblad in 'n verhewe taal geskryf. 'n Poging om van dié taal afstand te doen, mag vir baie mense na anargie en rebellie lyk. ‘Ons moet’, skryf Langenhoven, ‘gedurig die smaad hoor dat ons ons volk wil verlaag, dewijl ons weet...dat juis onse weg die enigste weg is om ons volk te verhef.’ Om ons werk as joernaliste te doen, ‘die werk wat skree om gedaan te word terwijl ons volk agteruitgaat en sij mededingers vorder’, moet daar volgens Langenhoven 'n sekere mate van offisiële erkenning kom. Een gevolg van hierdie gebrek aan erkenning tans is die ondermyning | |
[pagina 335]
| |
van ons nasionale waardigheid, veral omdat ons saam woon met 'n volk wat 'n beskaafde taal besit en dit ook as spreektaal gebruik. Ons eie tweetaligheid kom verder daarop neer dat ons taal nie beskaafd genoeg is om te skryf nie, terwyl ons nie beskaafd genoeg is om hom te laat staan en ons skryftaal te praat nie. Dié situasie sal op die duur daartoe lei dat die ander taal dié van ons ‘sal uitklop met wapens waarvan die krag sal vloei uit nasionale karakter gegrond op nasionale trots’. Dit is vir die Afrikaner 'n bitter pil dat die uitlander - die Engelsman en die Hollander - hier kan kom en húlle taal gevierd en geëerd vind, ‘terwijl ons eie wat met ons geskiedenis saamgegroei het, wat die produkt en die besitting van ons vadere was, ja wat nog na hulle dood hulle lewende siel asem: terwijl dié verguis word’. Vir die Afrikaner wat sy taal liefhet, is dit 'n bitter pil, terwyl dit vir die Afrikaner wat dié skat nie leer waardeer het nie, ‘'n stilswijgende gevoel van vernedering en self-kleinering’ meebring. By die volk moet ook 'n mate van produktiwiteit wees. Dit beteken nie dat hulle praters, koerantskreeuers en agitators moet word nie, maar dat hulle tog in hul eie belang in eie kring moet kan optree. Wat is egter nou die geval? Afrikaners wat briewe skryf, doen dit in 'n stereotiepe taal as hulle oor geboortes, huwelike en sterfgevalle moet berig, want daar bestaan 'n ‘selfbedriegende opvatting’ dat ons ter wille van beleefdheid 'n ‘verhewener’ spraakvorm as dié van ons mond en hart op papier moet plaas. Waar die uiting van ons binneste siel juis verwag word, kom daar dus 'n gevoellose verstandelike voortbrengsel - en dan nog dikwels die voortbrengsel van 'n ongeoefende en oningeligte verstand. ‘Daar is’, so gaan die ‘Memorie’ voort, ‘van ons ondergetekendes wat nie aan ons eie ouers in ons en hulle eie taal durf skrijf nie, uit vrees vir aanstoot-gee!’ Dieselfde onnatuurlikheid blyk uit die ingestuurde stukke na die koerant. Mense wat in die daaglikse omgang boeiend, skerpsinnig en woordryk kan wees en 'n vermoë het om nuwe uitdrukkingskombinasies te skep, skryf geforseerd. Alle spontane natuurlikheid verdwyn. In die pers kan ons wel van Afrikaans gebruik maak, omdat ons nie ‘aan 'n Staats-geliksensieerde taalvorm...gebonde is soos die onderwyser, die regeringsamptenaar of (onder 'n ander vorm van gesag) die leraar op die kansel nie’. Afrikaans dring dieper in die pers in, maar is op skool en kantoor nog 'n vreemdeling in sy eie land. Daar is deesdae weinig Hollandse blaaie wat soos vroeër Afrikaanse stukke met 'n | |
[pagina 336]
| |
‘neerbuigende verskoning plaas: onder 'n beledigende noot soos “onveranderd op versoek” en dergelijke’. Die gebrek aan offisiële erkenning staan egter nog altyd in die pad om aan ons moedertaal ‘die prestige en fatsoenlikheid te gee wat hom vrije toegang sou verskaf’. Watter vorm, so vra Langenhoven, moet daar nou kom? Die ou beswaar dat Afrikaans geen grammatika besit nie, berus op filologiese onkunde. Dat Afrikaans 'n armoedige tongval is, ongeskik vir die hoogste doeleindes van beskaafde en gekultiveerde uitdrukking, word weerlê deur die letterkundige en wetenskaplike bedrywigheid en prestasies in dié taal. As dit andersom was, sou dit jammer wees vir die verstandelike toekoms van ons volk, aangesien ons nooit weer Nederlandssprekend sal word nie. As hy weens verwaarlosing van Afrikaans nie Engelssprekend word nie, sal hy Afrikaanssprekend bly. Mense wat beswaar maak teen die gebrek aan eenvormigheid, stel hulle op die standpunt ‘dat dit wenselik sou wees vir ons om te swem, maar intussen moet ons uit die water uit blij tot tijd en wijl dat ons op die droge grond leer swem het. Hulle vergeet dat dit 'n beswaar is wat als hij finaal was die hele griekse literatuur onmogelik sou gemaak het. En hulle versuim om op te merk welke vooruitgang Afrikaans - in weerwil van hulle bekommernis - in eén korte tien jaar tijd gemaak het op die weg van eenvormigheid wat die tans-geletterde tale van Europa lange generasies geneem het om te behaal.’ Die verskille in Afrikaans is volgens Langenhoven hoofsaaklik beperk tot spelling. Die weinige verskille wat daar bestaan, is 'n ‘filologiese wonder’ in die lig van ons dun bevolking, ontsaglike grondgebied en invloed van ander tale, sonder dat daar disintegrasie gekom of dialekte ontwikkel het. Slegs die skriftelike voorstelling van die taal op papier moet dus aan ‘uniforme regels’ onderwerp word. Daarom vra die ondertekenaars die Afrikaanse Taalgenootskap om 'n klein kommissie daarvoor aan te stel. As dít gedoen word, kan daar om staatserkenning gevra word. Want die kind moet, op grond van die gesonde pedagogiese beginsel van moedertaalonderwys, sy eie taal kan skryf, in plaas daarvan om sy tyd te verkwis op 'n vreemde taal wat hy ook nie leer gebruik het nie. As dit eers sover is, sal die beswaar teen die afwesigheid van handleidings ook verval. Want, sê Langenhoven, ‘niemand kan boeke skrijf en dit publiseer als daar geen mogelikheid vir 'n mark daarvoor bestaat nie. Als die toegang maar eers verleend is, sal die boeke voor gesorg word.’ Die bedoeling is nie, so voeg hy by, om | |
[pagina 337]
| |
Nederlands uit die skole te verban nie, want ons ‘het ál die voorregte van die studie van 'n bron-taal en 'n vreemde taal, sonder die gewone moeilikhede daarvan’. Naas die versoek om 'n spelling kommissie sluit die ‘Memorie’ aan die ATG af met die verdere versoek dat ‘u in medewerking met verwante genootskappe 'n beweging op touw set om in die nodige kringe pressie uit te oefen om ons Moedertaal van Staatswege erkend te krij als die medium van onderwijs in die lagere standaarde van onse skole’. Uit hierdie laaste versoek blyk duidelik dat die ‘Memorie’ opgestel is kort vóórdat Langenhoven sy mosie in April 1914 deur die Kaapse Provinsiale Raad gevoer en ‘Afrikaans as voertaal’ in Julie voor die Bloemfonteinse jaarvergadering van die Akademie voorgedra het, 'n aanduiding met watter haas hy in dié tyd die een aksie op die ander laat volg het. Soos sy reeks artikels in Januarie en Februarie 1914 in Het Zuid-WestenGa naar eind72 is die ‘Memorie’ met sy talle ooreenkomste in betoog en stelwyse 'n groeiloot vir ‘Afrikaans as voertaal’, maar tog met belangrike verskille. Die ‘Memorie’ is in die eerste plek die eerste pleidooi, deur watter taalstryder van die Tweede Beweging ook al, wat regstreeks vra om die offisiële erkenning van Afrikaans. Al is hierdie versoek nog in hoofsaak tot die invoer van Afrikaans as medium in die laere standerds van die skole beperk, is die versweë veronderstelling tog dat die taal uiteindelik amptelike status as landstaal saam met Engels moet geniet en Nederlands in dié posisie moet vervang. Dit is 'n kardinale aspek van Langenhoven se strewe wat dus reeds in 1914 as die uiteindelike resultaat van sy missie vir hom glashelder voor die gees was, maar wat hy in hierdie stadium om strategiese redes nie in sy Kaapse mosie en die Akademierede genoem het nie, al kon sy visioen oor die ry pale in sy Bloemfonteinse referaat op niks anders dui as die finale staatserkenning van Afrikaans nie. Maar in die tweede plek beklemtoon Langenhoven in die ‘Memorie’ die finansiële probleme waarmee joernaliste as gevolg van die substatus van Afrikaans te kampe het. Omdat Afrikaans nie as onderwystaal erken word nie en ook geen ander amptelike funksie in die staatkundige bestel van die land het nie, kan geen uitsluitlik Afrikaanse dagblad 'n bestaan maak nie. Omdat Nederlands, ten spyte van die waarborge in die grondwet, in die praktyk 'n minderwaardige posisie inneem, het ook die meeste Hollandse koerante 'n sukkelbestaan ge- | |
[pagina 338]
| |
voer en moes die meeste van hulle na 'n paar jaar sluit. In Oudtshoorn was Langenhoven by die opstel van die ‘Memorie’ reeds byna twee jaar lank redakteur van Het Zuid-Westen, maar uit 'n brief aan Preller in hierdie tyd het dit reeds geblyk dat sy koerant finansiële moeilikhede ondervind. Onderliggend aan sy pleidooi speel dus ook sy eie nood as redakteur mee, al beperk Langenhoven hom in die ‘Memorie’ tot die prinsipiële kwessies in verband met die hele aangeleentheid. Dat die probleme wat hy aan die orde stel, nie onrealisties was nie, blyk uit die snel op mekaar volgende gebeure in 1914. Die daling in die volstruisveremark, vererger deur die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die krygswet wat in Suid-Afrika op die Rebellie sou volg, het die Oudtshoornse distrik ekonomies besonder nadelig getref, in so 'n mate dat Langenhoven aan die begin van 1915 sy koerant moes staak. Wat egter vir hom aan die begin van 1915 na 'n persoonlike ramp gelyk het, was in werklikheid - as 'n mens dit teen die agtergrond van latere gebeure bekyk - vir Langenhoven 'n bedekte seën. Ten spyte van die breë dekking van Suid-Afrikaanse gebeure, die internasionale nuus en die verspreiding in die meeste distrikte rondom Oudtshoorn, het Het Zuid-Westen tog in sy wese 'n plaaslike koerant gebly wat deur die geografiese afgesonderdheid beperk was. Deur Langenhoven se groot aandeel aan die taalstryd, sy toenemende belangrikheid as skeppende kunstenaar en die rol wat hy reeds in dié jare - méér as enige ander provinsiale raadslid in die land - in die uniale politiek begin speel het, was die tyd vir hom meer as ryp genoeg om 'n groter podium tot sy beskikking te hê. In Kaapstad was egter alleen Ons Land en in Pretoria alleen De Volkstem koerante tot wie hy hom kon wend. Pretoria as sentrum was vir Langenhoven - veral in 'n tyd waarin die hedendaagse geriewe vir die media nie bestaan het nie - te ver, terwyl hy van vroeg af haaks was met Ons Land se afwysende houding teenoor Afrikaans en die mense dáár as 'n spul lamsakke beskou het. Daarby was albei blaaie organe van die Suid-Afrikaanse Party, iets wat hy weldra as 'n verdere en onoorkomelike belemmering sou gesien het. Aan die begin van 1915 was Langenhoven dus sonder 'n spreekbuis en het hy net enkele joernalistieke bydraes tot ander blaaie gelewer. Juis in hierdie tyd was daar egter 'n aantal vooraanstaande Afrikaners besig om, ten spyte van die moeilike ekonomiese klimaat en die gespanne verhoudinge in die land, aan die stigting van 'n nuwe pers en koerant te werk wat nie net tot een sentrum beperk sou word nie maar 'n groot en | |
[pagina 339]
| |
wye geografiese dekking sou hê. Naas die nuwe Renaissance van die Afrikaanse letterkunde wat in werke van Celliers, Totius, Leipoldt, De Waal, Preller en Langenhoven neerslag gevind het, was dit die oortuiging van hierdie mense dat die nasionale strewe van die Afrikaner beter verteenwoordig word deur die ideale van J.B.M. Hertzog met sy oproep van ‘Suid-Afrika eerste’. Daar was 'n algemene wantroue in Louis Botha en J.C. Smuts se gedagtes van konsiliasie en die ‘eenstroombeleid’, wat op die gewisse ondergang van die Hollands-Afrikaanse kultuur in die land sou afstuur. Daarby was daar sterk kritiek op Ons Land, wat die gedagtes van die twee leiersfigure slaafs en onkrities geëggo het. Ten spyte van die uiters ongunstige omstandighede vir die oprigting van 'n nuwe dagblad was daar 'n groepie kernfigure onder die Afrikaners van die Boland wat in die laaste maande van 1914 gevoel het dat die Afrikaner kultureel 'n groot agterstand het en dat Hertzog in sy opposisie teen die Botha-regering gesteun moes word. Met die komende verkiesing van 1915 het hierdie groepie egter gevoel dat daar ernstige verdeeldheid onder die Afrikaners was en dat hulle nie deur 'n duidelike keuse tussen Nederlands en Afrikaans verdere verdeeldheid wou saai nie. Dié kwessie is dus vir eers in hulle beraadslagings agterweë gehou. Onder die groepie geleerdes en vooraanstaande Afrikaners was daar onder andere W.A. Hofmeyr, Kaapstadse prokureur, die sakeman Brückner de Villiers, die akademici Tobie Muller, J.J. Smith, W.A. Joubert en W.E. Malherbe en die joernalis-skrywer J.H.H. de Waal. Op 18 Desember 1914 het 'n sestiental van hulle op Stellenbosch oorgegaan tot die oprigting van die Nasionale Pers met die gedagte om nuwe boeke te publiseer, maar in die eerste plek om 'n nuwe koerant te stig wat deur die hele land versprei sou word en nie net tot 'n bepaalde streek beperk sou wees nie. 'n ‘Eksploitasie’-fonds is in die lewe geroep en Jannie Marais, lid van die Volksraad vir Stellenbosch maar in daardie stadium reeds in swak gesondheid, het £5 000 se aandele gekoop. Betreklik gou is die regsgeleerde H.A. Fagan by die beplanning betrek en het W.A. Hofmeyr, na deeglike samesprekinge, die pos van redakteur aan dr. D.F. Malan, predikant op Graaff-Reinet, aangebied. Hy het dit na 'n betreklik lang bedenktyd aanvaar, terwyl Fagan (assistentredakteur), J. Steinmeyer en E.B. Grosskopf in die eerste redaksie gedien het. Op 26 Julie 1915 verskyn dan die eerste uitgawe van De | |
[pagina 340]
| |
Burger, soos die koerant genoem is. ‘'De Burger'’, so skryf dr. Malan in sy eerste hoofartikel teen die bewoë agtergrond van die heersende spanninge en verdeeldheid onder Afrikaners, ‘is een kind van de smart en van de hoop. Hij is geboren uit de weën van ons volk. Indien sware rampen niet ons volksbestaan hadden getroffen, hij zou er zeker niet geweest zijn...In de ontwaking van ons nationaal eenheidsgevoel ligt onze redding. Dit gevoel wil “De Burger” sterken en leiden.’Ga naar eind73 Van die begin af het Langenhoven aan De Burger meegewerk, al was die samewerking nie altyd harmonies of vredeliewend nie. Reeds in die allereerste uitgawe van die koerant maak hy onder sy later so bekende pseudoniem, Sagmoedige Neelsie, sy debuut met 'n stuk wat hy ‘Seur Muir en na hom’ noem. Die vorige jaar, toe sy mosie deur die Kaapse Provinsiale Raad eenparig aangeneem is, was Langenhoven in verbinding met Thomas Muir in sy hoedanigheid as superintendent-generaal van onderwys in Kaapland. Muir het die besluit nie teengestaan nie, maar bedroef min gedoen om dit in die praktyk toegepas te kry. By sy uittrede het Muir 'n sirskap vir sy dienste ontvang. ‘Dr. Muir’, so skryf Langenhoven, ‘het sijn werk in Suid-Afrika sien bekroon met 'n ridderskap. Waarom die “seur” nou hoger gereken word als die vorige dokter begrijp ik nie. Elke dokter kan mos sonder verdere betekenis 'n seur word: kijk vir seur Jameson en seur Smartt. Maar elke seur kan nie sonder verdere betekenis 'n dokter word nie: kijk vir seur Botha (watter een jij wil dié van Bloemfontein of dié van Duits-Suidwes).’Ga naar eind74 Hy gaan voort deur te sê dat hy van die man geen kwaad wil praat nie. ‘Hij is 'n ou man’, skryf Langenhoven, ‘en hij gaat weg of hij is weg. En noudat hij met sijn terugkeer naar sijn vaderland sijn uiterste en belangrijke en welgevallige diens aan Suid-Afrika se ou bevolking bewijs, pas dankbaarheid ons beter als verwijt. Nee, in tegendeel, instede van die ou man uit te skel wil ik hom prijs. Hij was 'n getrouwe dienaar: getrou aan die opdrag van sijn aanstelling. En volgens daardie maatstaf moet elke ambtenaar se verdienstelikheid gemeet word. Jij blameer nie die kroonvervolger dat die beskuldigde nie vrijgespreek is nie. Dr. Muir is hier ingevoer om die Afrikaanse jeugd te denasionaliseer, en sover als dit in sijn vermoge was het hij dit bewerk. Daarvoor het hij sijn welverdiende ridders-orde gekrij. Welverdiend was dit - ten opsigte van diegene wat hom daarmee vereer het. Oorseese waardering is die natuurlike loon vir die diens van oorseese belange. En hier is die punt waaroor ik mij moeg maak: nie oor dokter Muir nie, nie oor hierdie ambtenaar | |
[pagina 341]
| |
of daardie ambtenaar nie, maar oor die stelsel waaronder 'n ambtenaar van Suidafrika verplig is om aan die diens van Suidafrika ontrouw te wees naar mate hij getrouw wil blij aan die voorwaardes van sijn aanstelling. Nie aan die hand wat hom voed nie - immers ons betaal die salaris - maar aan die orders wat van elders kom. Die stelsel kom daarop neer dat die diens anti-nasionaal moet wees: dit is die voorwaarde van die beroep - soos dokter Muir sou seg, the very terms and conditions of the engagement. Jij benoem nie 'n roomse priester om protestantse beginsels te bevorder nie. En 'n oorweging van hierdie punt word nou belangrijk omdat met die ontslag van seur Muir aan 'n opvolger moet gedenk word. Sal die opvolger ook so aangestel word dat hij ontrouw moet wees om getrouw te wees? Hoe sal hij benoem word? Deur wie? Uit welke klas of ras? En met welke opdrag?’Ga naar eind75 Na 'n speelse uitweiding oor administrateur Frederic de Waal, sy bestendige vyand-vriend tydens sy jare in die Provinsiale Raad, sluit Langenhoven af met 'n laaste raps in die rigting van Muir. Elke ‘geleerde Afrikaner is tweetalig’, skryf hy. ‘Elke geleerde Brit is eentalig, of hij moet ergens 'n krakie hê wat hom onbevoeg maak vir 'n verantwoordelike posisie. So 'n krakie had seur Muir stellig nie. Ik wonder hoeveel hollandse woorde hij terugneem Skotland toe met die ander kurios en kudos en memos van sijn langdurige bestier van die opvoeding van 'n hollandssprekende nasie?’Ga naar eind76 Met hierdie stuk onder die pseudoniem Sagmoedige Neelsie begin Langenhoven se lang verbintenis met De Burger. Dit is terselfdertyd 'n goeie voorbeeld van hoe hy met sy hekelende spot toeslaan, 'n soort satire wat hy van nou af nog fyner as vroeër in Het Zuid-Westen sou beoefen en waarmee hy sowel op die gebied van die politiek as op die kleiner, vertrouder domein van die daaglikse lewe op die dorp 'n besondere bydrae in die afsienbare toekoms sou lewer. Langenhoven gebruik die satire hier soos 'n vlymskerp rapier wat hy rats kan rondswaai en waarmee hy gevoelige steke kan toedien, al is sy geding in die eerste plek met 'n stelsel of 'n toestand en nie met 'n persoon nie. Opvallend is ook dat hy telkens van die enkele geval tot 'n veralgemeende stelling oorgaan, 'n ander vorm wat die wisselwerking van beeld en betoog by hom aanneem en waarmee 'n mens weer 'n uitstekende voorbeeld van Langenhoven se didaktiek sonder opsigtelike lering kry. In die tweede uitgawe van De Burger, op 27 Julie 1915, verskyn Langenhoven se welkomsgroete saam met dié van baie ander. ‘Laat | |
[pagina 342]
| |
mij toe’, skryf hy, ‘om ook mijn ou stemmetjie te voeg bij die baje wat met heilwense en welkomsgroete om die wiegie van die nieuw-gebore apostel sal dring. Die boodskap wat hij te verkondig het (als ik uit die aard van sijn ouerskap die gehalte van sijn toekomstige gedrag mag voorspelle) sal wees om als burger sijn medeburgers te wijs op hulle burger-waarde en burger-betekenis dat hulle 'n skakel vorm van 'n ketting wat deur eeuwe lang gesmee is en deur eeuwe heen verder sal loop - sterk of bros hiervandaan vorentoe naardat die smeewerk van vandag sijn verlede deeglikheid behou of bebrouw.’Ga naar eind77 Op 17 Augustus verskyn 'n verslag van die toespraak wat Langenhoven op 28 Julie op Oudtshoorn gelewer het as kandidaat van die Nasionale Party in die verkiesing vir die Volksraad, gerapporteer deur Sarah Goldblatt. Op 18 Augustus verskyn 'n brief van hom oor sir Frederic de Waal se beslissing dat die 1914-besluit vir eers nie in die praktyk toegepas sal word nie. Daarop volg allerlei artikels en gedigte, onder meer 'n periodieke rubriek waarin Langenhoven telkens van die pseudoniem Sagmoedige Neelsie gebruik maak en waarin hy veral na aanleiding van sake van die dag, veral op politieke terrein, skryf. Die meeste van dié stukke is nooit in enige van sy bundels of in die Versamelde werke opgeneem nie. Maar die verhouding met De Burger was nie altyd sonder rimpelinge nie. Met sy onstuimige vaart en die wyse waarop hy gou die josie in kon raak, het botsings nie uitgebly nie. Wanneer hy dr. Malan in 1917 in die belangrike tussenverkiesingstryd in Victoria-Wes help, kla hy toe sy woorde in verslae nie reg weergegee word nie. Op 30 Julie 1917 skryf hy aan Sarah Goldblatt: ‘Die Burger noodsaak korreksies omdat die bloody fool rapporteur mij nonsens in die mond leg en ik krij geen tijd om te korrigeer nie.’ Dit sou die eerste van baie klagtes wees, want Langenhoven was vir die hele duur van sy politieke loopbaan feitlik altyd ontevrede met die verslae oor sy toesprake, in so 'n mate dat daar later op sy versoek geen berigte verskyn het oor vergaderings waarby hy opgetree het nie. Van die begin af was hy ook bitter ontevrede as een of ander redaksielid van De Burger aan sy spelling en interpunksie getorring het of as die taal sonder sy toestemming verander is. Vir hom was so 'n optrede ondraaglik, want in die klein dingetjies - so was sy oortuiging - word die kunswerk onderskei van die gewone, korrekte werk. In 'n brief van 15 September 1916 aan dr. Malan kla hy oor al die veranderinge in sy | |
[pagina 343]
| |
werk. ‘Als hulle nie mijn punktuasie verbeter nie dan verbeter hulle mijn spelling of anders mijn grammatika en mijn woordekeus’, skryf hy. Soms word sy betekenis volledig gewysig as sy titel verval. ‘Ik set’, skryfhy, ‘bo-aan 'n artikel die opskrif: “Gott Strafe Engeland!” en ik sluit weer met daardie fraas. Dit is die sleutel tot die gees van die hele stuk. Die leser skrik bij die sien daarvan als hij die blad oopmaak. Dit maak 'n indruk op hom wat hom vergesel dwars deur die lees tot op die end. En dit was juis die indruk, die gemoedstemming, wat ik opsettelik naar gesoek het, in die lig waarvan en onder die kleur waarvan die leser die verdere indrukke moes ontvang wat ik deur die skrijwe op hom wou uitoefen. Nou met éen klap word daardie fijne kunstrekke verniel: en die produkt verskijn nog als mijne. So iets is nie reg nie.’ As Malan sy werk nie goed genoeg ag vir opname nie, het hy glad nie beswaar nie. As dit egter gewysig word, gaan hy ophou om vir die koerant te skryf. Hy betreur dit, want hy wil sy nasie aanhelp deur Afrikaans te gebruik. So negatief voel Langenhoven in dié tyd dat hy 'n ruk tevore aan Sarah Goldblatt skryf: ‘mijn eige mense help mij nie, waardeer mij nie, steun mij nie’. Juis sy passie vir Afrikaans bring hom reeds vroeg in botsing met De Burger omdat die koerant ten koste van Afrikaans aan Hollands vasklou. Op 2 September 1916 kla hy omdat Malan se Afrikaanse toespraak op Willowmore in De Burger in Hollands gerapporteer word. Waarom, vra hy, gebeur dit? Malan wil tog ‘die hart van sijn volk bereik deur die spraak van sijn volk. Hij reken immers nie dat die Afrikaner-nasie moet uitblink onder die volke van die wêreld, dat hulle altijd te hoog moet blij om hulle spreektaal te skrijf en dus te laag om hul skrijftaal te spreek nie.’ In sy antwoord waardeer Malan die entoesiasme van Langenhoven, maar wys hy op die gevaar van 'n entoesiasme om in die toekoms te lewe, nie in die hede nie. ‘Hij loop daarom’, skryf Malan, ‘altijd gevaar om te struikel o'er of sijn kop te stamp te'en die feite en toestande om hom heen. Vir 'n koerant wat op die grote volkskwessies die hart van ons volk wil bereik, is soiets noodlottig. Ons kijk na die toekoms en daarom krij Afrikaans in ons blad 'n ruime plaas. Ons hou ook rekening met die te'enwoordige tijd, met die feit dat Afrikaans nog maar een klein literatuur het en nog nie op skool geleer word en deur baing Afrikaners nog maar swak gelees word.’ Vir 'n intellek soos dié van Langenhoven sou hierdie ‘verduideliking’ maar bra flou gewees het. 'n Mens kon dus ook verwag dat die behoudende standpunt nie in Langenhoven se kraal sou pas nie en dat | |
[pagina 344]
| |
hy Malan te stadig vir sy ratse denke en sy progressiewe taalbeleid sou vind. Telkens is dit dan ook duidelik dat Langenhoven groter waardering vir Hertzog as kampvegter vir Afrikaans gehad het en dat baie van Malan se opvattinge te dogmaties-konserwatief en verstok vir hom was. Hy hou wel aan om vir De Burger te skryf, maar met 'n herhaalde gemor en verwyte. Die pers, so kla hy op 21 Januarie 1918 by Sarah Goldblatt, ‘stuur mij sirkulasies van 'n plan vir Afrikaanse boeke en vraag mij medewerking. Ik sal nou aanbevelinge doen vir Ruysch van Dugteren om als appel-hof oor te beslis. Pfui. Ik had lus om vir Dormehl te antwoord dat hulle bij Die Burger moet begin en Hollands en Hollanders daaruit voeter; ander Afrikaanse leesstof sal vir homself sorg. Maar die spul is geen brief wêrd nie.’ Dr. Malan vind hy ‘te hopeloos pro-Hollander’ en die uitgewers vind hy almal verskriklike mense. Op 3 Julie 1918 skryf hy: ‘Ik is mij verwonder dat ik ooit nog skrijf na al die sonde dat ik altijd met hulle het.’ Dat die gevoel naas dié teen die drukkers by Langenhoven veral teen Malan aan die oplaai was, blyk uit 'n toespraak wat hy op 22 Februarie 1918 op Oudtshoorn hou waarin hy hom sterk uitspreek teen wat hy beskou as De Burger se pro-Hollandse gesindheid. Hoe sterk die gevoel werklik was, sien 'n mens verder uit 'n brief wat Sarah Goldblatt op 9 September 1917 aan Langenhoven skryf. Vir 'n nuwe uitgawe van sy Verjaardagboekie beveel sy speels die volgende spreuk aan: ‘Van al die bedonderde dinge in die wereld is 'n bedonderde predikant nogal die bedonderdste’, 'n toespeling op Malan, wat meer as twee jaar tevore die kansel vir die redakteurstoel verruil het. Wanneer Malan hom weer ten gunste van Hollands uitspreek en selfs twyfel of Afrikaans dit op skool moet vervang, vra Goldblatt: ‘Chief, wat makeer tog die man? Sien jij nou nie wie die oorsaak van die Hoog H. in “de Burger” is nie? Dis hij persoonlik. Verbeel jou, hij twijfel oor die moedertaal medium.’ 'n Mens kan geredelik aanneem dat Langenhoven dieselfde mening toegedaan was en dat daar meer as net 'n ligte wrewel teen Malan by Langenhoven en Sarah Goldblatt aan die opbou was. 'n Ander aspek van De Burger se bedrywighede waarteen Langenhoven hom in hierdie jare uitspreek en waarin hy tot die einde van sy lewe 'n renons sou hê, is die periodieke resensies en kritiese opstelle, veral as dit sy eie werk geraak het. Langenhoven was ongelooflik sensitief en kon by herhaling met groot venyn op kritiese uitsprake reageer. Onderliggend aan sy heftigheid was egter die oortuiging dat ons in Afri- | |
[pagina 345]
| |
kaans nog besig was om die eerste sooie om te spit en dat daar min genoeg mense was wat aan hierdie soort saaiery of aanplanting 'n daadwerklike aandeel kon hê. Daar is, so skryf hy aan De Burger, ‘vir ons nasie 'n bijna absoluut onbewerkte veld wat om arbeiders skree; vir die weinige wat vorentoe kom om tog iets te doen is daar geen loon nie; en die klaar- en eeuwe-lang ontwikkelde kultuur van ons mededingers dreig ons eersteling-plantjies met verstikking. Van daardie oogpunt beskouwd, hoe min die skrijwer van hierdie of daardie toneelspel ook mag beteken - die feit dat daar weer 'n toneelspel geskape is beteken baie.’ Nou kom die kritici wat self nie 'n hand uitsteek om die ‘onbearbeide akker te help opbouw nie’ en vernietig die werk wat ander doen. ‘Als hij sijn akademiese skoolmeesterij sou blij bepaal bij die klas werk wat hij in sijn kollege-kursus jare geneem het om te leer - om erkende klassieke meesterstukke aan flenters te skeur met foutvinderij, dan sou hij miskien vir die rest van die tijd sijn stuurmanskap van die wal af opsij set en lus krij om sijn toga uit te trek om te help werk. Ons laat baje Afrikaners hoog leer om niks te doen nie als om hulle minder bevoorregte Afrikaners in die wiele te rij.’ Tog is die volk se smaak nie heeltemal ‘beskoolmeesterd’ nie, want hulle geniet wel die ‘weinige en geringe’ wat daar gelewer word. Alhoewel daar in hierdie en dergelike reaksies van Langenhoven weinig substansie en logika was, kan 'n mens simpatie hê met die wesentlik onderliggende standpunt dat dit vir skrywers in 'n nuwe taal 'n ontsettend moeilike taak is om geleidelik 'n nuwe tradisie tot stand te bring. So 'n onderneming moet noodwendig met eksperimente in verskillende rigtings, sowel wat die taalvorm as struktuur en eksterne patrone betref, gepaard gaan. 'n Mens kan dus geredelik verwag dat baie van hierdie eksperimente misgewasse sou oplewer. Om so 'n eerste bloei dan, soos inderdaad gebeur het, eensydig met klassieke norme uit 'n gevestigde Westerse literêre tradisie te beoordeel, was sowel kortsigtig as stompsinnig. 'n Mens kan Langenhoven verwyt dat daar in sy reaksies op resensente en kritici dikwels 'n logiese betoog en koherente waardesisteem as alternatief ontbreek het, maar meestal moet 'n mens hom tog, agterna gesien, gelyk gee in sy afwysing van die literêre oordeel en insig van sy tyd. Die Afrikaanse kritici van Langenhoven se tyd was meestal ingestel op 'n hoë, ‘vername’ soort literatuur wat met 'n stilistiese vertoon sekere effekte wou bereik, nie die tipe skoon prosa wat Langenhoven met sy gemoedelike verhale en huislike milieus wou lewer nie. | |
[pagina 346]
| |
Langenhoven het dus verskille en frustrasies beleef in sy medewerking met De Burger en daar was altyd in mindere of meerdere mate 'n liefde-haat-verhouding tussen hom en die Nasionale Pers. Tog het die Pers van vroeg af besef dat hulle in Langenhoven 'n waardevolle en feitlik onmisbare medewerker het, die mees gelese outeur van sy tyd en iemand wat meer as wie ook al tot die gewone volk kon spreek. Hulle wou dus nie sy medewerking aan die koerant ontbeer nie. Aan die ander kant het Langenhoven besef dat De Burger vir hom die belangrikste podium is wat hy in die land kon kry en dat hy deur sy medewerking aan die koerant 'n groter leserspubliek as elders sou hê. Die Nasionale Pers was buitendien die uitgewery wat sy boeke beter as enige ander firma in Suid-Afrika kon versorg, al was hulle hantering van manuskripte en die afwerking van 'n boek in dié stadium nog ver van volmaak. Daarby het Langenhoven deur sy kontak met joernaliste en die uitgewerspersoneel nuwe mense tydens sy periodieke besoeke aan Kaapstad ontmoet wat sy klein vriendekring uitgebrei het. Mense soos H.A. Fagan, D.P. du Toit en E.B. Grosskopf was lede van die redaksie, terwyl Izak van Tonder en Frederik Rompel later bygekom het. Met die veel jonger Van Tonder - wat op grond van sy geboortedorp altyd deur Langenhoven die ‘Ladismitter’ genoem is - het hy 'n goeie, gemoedelike verhouding gehad. Fagan was 'n hegte vriend wie se vrou hy ook gou leer ken het en met wie se kinders hy dikwels in hulle huis, Waveren, gespeel het. Ook by Rompel het hy dikwels aan huis gekom. In Rompel het hy volkome vertroue gehad: die één man in die redaksie wat selfs aan sy taal kon verander sonder dat hy aanstoot sou neem. Met die oprigting van De Burger en die Nasionale Pers het daar dus 'n koerant en uitgewersmaatskappy tot stand gekom waaraan Langenhoven, ten spyte van rimpelinge, tot sy dood toe sou saamwerk. Die verhouding wat só geskep is, was die begin van 'n nuwe fase in sy literêre en joernalistieke bedrywigheid. | |
IVMet die oprigting van De Burger en die Nasionale Pers het ook Sarah Goldblatt in Langenhoven se lewe en sy werk as skrywer 'n nuwe funksie begin kry. In die jare 1912-1914 was Sarah sy redaksionele | |
[pagina 347]
| |
assistent by Het Zuid-Westen, iemand wat alle opdragte stiptelik kon uitvoer en op wie hy ten volle kon vertrou. In 1917, wanneer sy na Kaapstad vertrek om in diens van De Burger en later Sanlam te tree en daarna verskillende onderwysbetrekkinge beklee, is Sarah Goldblatt sy onmisbare skakelpersoon met De Burger en die Pers. Hiervan getuig die omvangryke korrespondensie tussen die twee. Die eerste briewe word - behoudens 'n enkele brief uit 1913 - in 1915 geskryf wanneer Langenhoven vir die sitting van die Provinsiale Raad in Kaapstad en Sarah Goldblatt as onderwyseres in die omgewing van Oudtshoorn werksaam is. Wanneer Sarah later in Kaapstad woon en Langenhoven net periodiek vir die Provinsiale Raad - en later vir die sittings van die Parlement - in Kaapstad is, word die briewe talryker. Die briewe van Langenhoven aan Sarah is sorgvuldig deur haar bewaar en is na haar dood aan die Kaapse Argief geskenk. In die Langenhoven-versameling op Stellenbosch is verder heelwat briewe van Sarah aan Langenhoven. Die briewe van Langenhoven beslaan gesamentlik ongeveer 2 880 en dié van Sarah 633 bladsye. As neerslag van 'n literêr-kulturele vriendskap tussen twee figure is dit in die Afrikaanse letterkunde tot omstreeks 1930 uniek, vergelykbaar met die latere korrespondensie van die Dertigers, D.J. Opperman en sommige Sestigers. Vir 'n beeld van Langenhoven se veelvuldige aktiwiteite en sy persoonlikheid van 1917 tot sy dood toe bevat die briefwisseling 'n rykdom inligting wat dit moontlik maak om sy lewe in besonderhede, met die nodige daterings, te beskrywe. Terwyl Langenhoven in April 1915 saam met Vroutjie vir die sitting van die Provinsiale Raad in Kaapstad is, laat weet hy Sarah dat sy vrou snags nie slaap nie as gevolg van bekommernisse omdat die koerante hom en hy die ‘jingos’ so aanval. Hy wonder of daar nie op Oudtshoorn 'n protesvergadering gaan kom om hulle verteenwoordiger te repudieer nie, iets wat hy sal verwelkom en wat tot sy voordeel sal wees, veral aangesien die Argus met al die aanvalle al vir hom ‘'n hele klomp toekomstige stemme’ gewerf het. Teenoor die opwinding van dié mededeling spreek die tweede brief wat bewaar gebly het, van 'n sekere ontgogeling en moegheid, 'n verskynsel wat 'n mens dikwels by Langenhoven aantref en wat 'n aanduiding is van hoe sy gemoedstoestand kon verander. Op 9 Junie 1916 skryf hy dat hy al te oud is om nog dieselfde vurige entoesiasme as in sy jong dae te voel. Met verwysing na sy stryd in belang van Afrikaans sê | |
[pagina 348]
| |
hy: ‘Noudat die saak gewonne is - jare voordat ik dit ooit verwag het - lijk die vrugte van die werk alsof dit as is. Ik sal seker geen boek meer skrijf ook nie.... (My mense) het 'n hele wêreld vol onbeduidende afgodjies; elkeen adverteer homself; en elkeen word geskat naar die waarde wat hij op homself plaas. Ik is vies, vies tot die dood toe. Met die beste wil in die wereld is mijn hele lewe, sovér als ik mijn volk wou help, 'n mislukking.’ Uit hierdie depressiewe staat - iets wat soms onrusbarende afmetings aangeneem het - kon Langenhoven hom egter by herhaling losskeur en weer in een van sy maniese werkfases inbeweeg. Meestal was dit sterk kreatiewe periodes wat hy so beleef het, al kon hy hom ook van tyd tot tyd volledig oorgee aan sy politieke aktiwiteite. Op 6 Julie 1917 laat hy Sarah byvoorbeeld weet dat hy tydens die sitting van die Provinsiale Raad nooit 'n oomblik het wat hy sy eie kan noem nie. ‘Die hele voormiddag, dag vir dag, het ons uitv. komitee vergaderinge, ontvangste van deputasies ens.; namiddags sit die Raad, en in die aand sit ons laat in die nag met Koukusvergaderinge. En dan is daar nog altijd honderd duisend dinge om tussen in te doen - goed om op te soek, lede om te raadpleeg of raad te gee en dit hou so aan.’ En hy voeg by dat sy toesprake weer ‘krimineel sleg’ gerapporteer word. In haar reaksie op hierdie briewe skryf Sarah oor alles wat in Oudtshoorn gebeur: die politiek van die dag en die steun wat die Nasionale Party kry, 'n politieke aanval op Langenhoven in die Oudtshoorn Courant, gelukwense met sy verkiesing tot lid van die Uitvoerende Komitee, die toenemende steun wat Afrikaans nou selfs by eertydse teenstanders geniet e.d.m. Haar briewe is in hierdie stadium nog in Engels of in albei tale, maar gaandeweg maak sy meer gebruik van Afrikaans, al is dit dan nog met heelparty foute. Opvallend is die feit dat sy steeds van Margarita in plaas van Engela praat, 'n aanduiding dat die noemnaam van die Langenhovens se dogter eers in 'n later stadium verander het. In hierdie tyd verwys sy na Vroutjie as mev. Langenhoven of Mumsey, terwyl sy Langenhoven konsekwent as ‘My dear Chief’ en hy haar as ‘My dear Sub’ aanspreek. Naas instruksies aan Sarah oor sy publikasies en onderhandelinge wat sy namens hom met die uitgewers of koerant moet voer, verstrek Langenhoven in sy briewe heelwat inligting oor die skeppende werk waarmee hy besig is.Ga naar eind78 Daarnaas handel die briewe dikwels oor klein aspekte van hul lewe of hulle persoonlike verhouding tot mekaar en | |
[pagina 349]
| |
veral oor Langenhoven se gesondheidstoestand, iets waarop hy telkens terugkom en wat soos 'n draad deur die hele korrespondensie loop. In Julie 1917 het Sarah 'n klein Ierse terriër present gekry, terwyl Langenhoven - wat sy hele lewe lank 'n groot diereliefhebber was - sy ‘peperhond’ in Junie 1918 aan die dood moes afstaan. Gelukkig kon hy en Vroutjie 'n maand later 'n nuwe peperhondjie ‘vir 'n pond’ kry, 'n ‘mikstuur van 'n boeldoks en 'n airdale en 'n beefstert en 'n...kollie en twee steekbaarde en ik weet nie wat meer nie met 'n ewigdurende frons en 'n boeldog uitdrukking en 'n sagte sije vel en baje verkluimerig en kwaaddoenerig’. Omdat die hond, wat die naam Kwagga het, so stout is, wou hy hom weggee, maar hy kon dit nie oor sy hart kry nie. Telkens laat weet hy Sarah dat die ‘nooi’, soos hy Vroutjie teenoor haar noem, ‘fris’ is en ‘groetnis’ stuur. As daar 'n plan is dat Sarah op Oudtshoorn kom kuier, moet sy ‘natuurlik’ by hulle kom loseer. ‘Wat dan anders?’ vra hy. ‘Ik mis jou van die oggend tot die aand elke uur van die dag. Jij moet mij partij dage hier sien spartel - te vrot om die kleinste dingetjie self reg te krij - jij het mij so bederwe.’ As gevolg van sy harde en ongereelde arbeid het Langenhoven reeds in hierdie tyd ernstige gesondheidsprobleme. In Oktober 1918 is die toestand só sleg dat Vroutjie aan Sarah telegrafeer: ‘If possible come stay month necessary nurse Chief bad headache today.’ Dat dit geen gewone hoofpyn kon gewees het nie, lei 'n mens af uit die dringendheid van die telegrafiese versoek. Oor dié insinking is niks meer bekend nie, maar 'n mens kan aanneem dat dit nie tot een episode beperk was nie en dat Langenhoven se leefwyse en gesondheid Vroutjie by tye radeloos moet gehad het. Of die toestand altyd die gevolg van oormatige drankgebruik was, is onmoontlik om met sekerheid vas te stel, al kan 'n mens vermoed dat die labiele senuweetoestand en die simptome van hoofpyn, uitputting en depressie tog daarmee verband hou. Op 26 Februarie 1919 laat Langenhoven Sarah weet dat hy ‘niks wêrd’ voel nie en glad ‘poot-uit’ is, nie in staat om die potlood vas te hou nie. Op 1 Julie 1919 vertel hy haar weer hoe siek hy is. Hy het in die dorp flou geword en die dokter kon hom byna nie by die huis kry nie. Die diagnose was ‘hart-verswakking’ deur te veel ‘brein-inspanning’. Op 14 Julie skryf hy dat hy nou ‘weer op 'n manier in staat (is) om jou 'n paar regeltjies te skrijf. Maar ik moet mij inhou; ik is nog baje saf; elke inspanningkie is te veel; en die aanmaning wat ik gekrij het was te ernstig om te verontagsaam.’ Juis in hierdie tyd, op 2 Julie 1919, is sy | |
[pagina 350]
| |
pleegvader in die ouderdom van drie en tagtig jaar oorlede. ‘My ou vader’, skryf Langenhoven, ‘is nou daarheen en ik sou hom, hoewel treurende oor die ewige verlies van 'n lewensvriend, sij rus gegun het maar wat so bitter swaar is, is dat hij geroep het naar mij, deur sij siekte en tot op die uiteinde, en ik kon nie daar wees om hom te groet nie.’ Sy eie siekte, so gaan hy voort, ‘was 'n blote senuwverswakking wat so erg was dat mij hart so te sê gaan staan het. Dr. Jacobsohn sê hij het gedog sij gehoorpijp was uit order - hij kon eers die derde dag mij hart hoegenaamd hoor klop. Nou moet ik absoluut rus - maar hoe rus ik?’ Dat die siekte van Februarie 1919 'n ernstige insinking moet gewees het, lei 'n mens af uit die feit dat Sarah dit ook aan Preller - wat in hierdie tyd saam met Langenhoven besig was aan Twee geskiedkundige opstelle - laat weet het. Uit Preller se reaksie is dit duidelik dat Langenhoven se oorwerkery nie 'n nuwe verskynsel was nie en 'n patroon begin word het. ‘So 'n manier van doen’, skryf Preller op 26 Februarie 1919 aan Sarah, ‘kan nie langer vol gehou word nie, selfs nie met die sterkste gesondheid, en ik wil hoop dat hom in vervolg dergelike oorhaasting bespaar sal worde.’ Op 2 Maart waarsku hy Langenhoven in 'n brief teen die gevaar van oorwerkery. ‘Jij moet daarom oppas vir daardie ding, Nelie’, skryf hy. ‘Ons is nie meer heelmaal jong nie, en dit gaat nie aan om die kersie aan albei kante op te steek. So 'n oorwerkerij neem maande en miskien jare af. Toen ons twintig jaar jonger was, kon ons van die aand tot die rooidag deur dans, en dan nog heeldag op kantoor sit, of van die aand tot die ander dag deur werk ook, als 't daarop aankom. Maar nou gaat 't nie meer aan nie.... Laat ons verstandiger worde, want jou kragte veral het ons nog baje nodig.’ Dat hierdie fases van oorspanning wat op harde werk gevolg het, ook by Langenhoven soms tot 'n hervatting van sy ontstellende drinkpatroon kon lei, vermoed 'n mens in meer as een geval. Op 29 Maart 1919 laat weet hy Preller dat hy ‘oorwerk’ en daarna ‘tijdelik ontoerekenbaar’ was, 'n formulering wat daarop dui dat hy weer 'n periode van dipsomanie beleef het. Dat die siekte van Februarie nie vir hom genoeg waarskuwing was nie, sien 'n mens in die nog veel erger toestand wat hy Julie 1919 beleef. Maar ook dié siekte het, volgens 'n brief van 17 September aan Sarah, ‘geen stuk uitwerking gehad in die rigting van versigtigheid en matigheid nie’, al het hy darem nog nie weer flou geword nie. Die woord ‘matigheid’ kan hier bloot 'n rustiger werkpatroon beteken, maar dit kan ook op 'n matigheid in die gebruik | |
[pagina 351]
| |
van alkohol slaan. In elk geval voel Langenhoven in hierdie stadium nog steeds nie sterk nie. Hy lê ‘maar hier bij die huis rond en word van die more tot die aand geworrie deur mense wat elkeen net 'n klein dingetjie het wat oorwegend belangrijk is’. Ook Vroutjie se senuwees is sleg en sy slaap nie een nag goed nie. Hy kan nog steeds nie skryf nie, want hy bevind homself in ‘'n hopeloos magtelose toestand’. Tog, so skryf hy, ‘is daar honderd groot dinge wat ik wil onderneem. Waarom had ik tog mij tijd vermors toen ik dit beskikbaar had en die krag daarvoor?’ Slaan hierdie retoriese vraag op die jare dat hy sy tyd, volgens homself, verspeel het met aktiwiteite wat niks met sy eintlike lewensmissie te make gehad het nie of op 'n onlangser periode van tydverspilling deur oormatigheid en eksesse? In dié brief kla hy steeds van hoofpyn en 'n gebrek aan krag, waarskynlik onttrekkingsimptome na 'n dipsomaniese fase. Vir die eerste keer vermeld hy nou ook dat hy sonbaaie as kuur neem - iets wat Langenhoven van nou af gereeld sal doen, veral as hy as gevolg van die aanhoudende skryf geweldige pyne in die rug begin ontwikkel. Die jaar 1919 moet vir Langenhoven werklik 'n jaar van siekte en ellende gewees het. Toe hy in September 1919 met The everlasting annexation begin, laat weet hy Sarah dat hy dié keer stadig in die voormiddae skryf, in die namiddae slaap, daarna weer skryf en saans dorp toe loop ‘om nie kapot te word nie’. Op dié manier, wat vir Langenhoven dan werklik 'n stadige manier van doen was, het dit hom 'n week en twee dae gekos om ‘die dingetjie’ te voltooi ‘en nog drie dage om dit oor te gaan’, al weer 'n verbysterende snelheid as 'n mens dit met die produksietyd van die meeste ander skrywers vergelyk. Na die voltooiing, so skryf hy aan Sarah, voel hy nog ‘perdfris’, al vermoed hy dat die ‘reaksie’ wel sal kom. Inderdaad kom daar 'n terugslag, want vyf dae later, op 10 November 1919, skryf hy dat hy weer baie sleg voel. Op 17 Desember laat weet hy Sarah dat hy ‘Dingaansdag’ op De Rust gevier het, maar dat sy gesondheid veel te wense oorlaat. Hy ‘het te veel gedoen op de Rust...Moes heel dag in die kooi lê, kapot en pootuit’. Hoe kon dit ook anders as hy in so 'n toestand nie minder as drie toesprake moes hou nie? Maar steeds het hy 'n blykbaar maniese drang om te skryf. ‘Ik voel naar werk’, sê hy op 19 Desember, ‘mij kop is helder, ik sou kans sien om dadelik met 'n ander boek...aan te gaan. Maar liggaamlik moet ik virsigtig wees - ik kan nie die aanmanings veronagsaam wanneer hulle akuut aankom nie. Anders sal ik netnou | |
[pagina 352]
| |
poot-uit lê - miskien buitendien maar dan is dit tot daarnatoe (Waarnatoe?)’ Waarnatoe presies, sou net die tyd Langenhoven leer. As 'n mens die chronologiese lys werke bekyk wat in sy Versamelde werke opgeneem is, val dit op dat Langenhoven se eerste Afrikaanse publikasies van belang uit die jare 1911-1914 dateer: Stukkies en brokkies, Afrikaanse verjaardagboekie, Die Hoop van Suid-Afrika en die eerste uitgawe van Ons weg deur die wêreld. Daarna volg drie jaar waarin hy druk met die taalstryd en politieke sake besig is voordat hy weer - politieke pamflette uitgesonder - iets in boekvorm publiseer: Die Vrou van Suid-Afrika in 1918. En van dié datum af kom daar jaarliks 'n stroom publikasies, meestal twee maar soms drie en soms vier boeke per jaar. As hy dus reeds in 1919 só oor sy gesondheid kla, kan 'n mens maar net aanneem dat Langenhoven oor 'n ongelooflike konstitusie moet beskik het om die groot hoeveelheid werk van die laaste twaalf jaar van sy lewe te verrig, veral as 'n mens sy rapsodiese werkpatroon, ooreising en eksesse in ag neem. En daarby moet hy 'n driftige demoon besit het wat hom tot al hierdie werk kon dryf, 'n demoon wat hom sover kon kry om haas al sy krag te bestee aan die missie vir die Afrikaanse taal en letterkunde wat sedert 1910 sy energie getap het. Waartoe hierdie demoon hom verder in die eerste fase ná sy kentering kon dryf, is die onderwerp van die volgende hoofstuk. |
|