Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 280]
| |
Hoofstuk XIII
| |
[pagina 281]
| |
allerlei klankverskille tussen Nederlands en Afrikaans aan en illustreer hoe die Nederlandse skryftaal van die spreektaal afwyk. Dit alles doen Langenhoven omdat die noue verwantskap tussen Nederlands en Afrikaans vir ons 'n ‘strik’ is. ‘Hij verblind’, skryf hy, ‘sékere van ons voormanne, geestelike, verstandelike en burgerlike, en vooral die ouere ortodokse,Ga naar eind2 vir die lewende verskille wat daar bestaan. Hulle dwing om van die twee éen te maak in kerk en skool en pers en literatuur en staat, met die gevolg wat ons voór ons het - dat ons volk sonder leeslus is, dat ons boeke en nuwsblaaie kwijn, dat ons literatuur bijna nul is (van die Hoog-hollandse sij is hij in Suidafrika nul), dat ons roemrijke verlede geen sangers en digters en dramatiste en romanskrijwers aangespoor het om dit tot 'n sielsbesitting van die volk te maak nie.’ In 'n enigsins gewysigde vorm sou Langenhoven 'n jaar later hierdie laaste uitspraak in sy Akademierede ‘Afrikaans as voertaal’ herhaal, maar in sy stryd in belang van Afrikaans as skooltaal om taktiese redes tog afsien van sy standpunt dat Afrikaans 'n onafhanklike taal, los van Nederlands, is. Dit sou trouens nie die eerste of laaste keer in sy lewe wees dat Langenhoven taamlik radikaal van standpunt verander het nie, iets wat sowel met sy rapsodiese intellek en persoonlikheid as met sy vermoë tot aanpassing verband hou. Dwarsdeur sy lewe kon 'n mens Langenhoven 'n sekere wispelturigheid toereken, maar hom nooit van verstoktheid verwyt nie. Op hierdie artikel van Langenhoven reageer C.J. van Rijn in Die Brandwag van 15 Mei 1913. Van Rijn sê dat daar baie onjuisthede in verband met Nederlands in die stuk staan en dat die betoog kant nog wal raak, veral waar Langenhoven oor die Nederlandse uitspraak kommentaar lewer. Van Rijn sê verder dit is jammer dat Die Brandwag die stuk gepubliseer het. In sy reaksie in dieselfde nommer sê die redaksie dat opname van 'n artikel nie beteken dat daar geen onjuisthede in voorkom nie. ‘Ons gee sonder die minste aarseling toe’, skryf Die Brandwag, ‘dat die heer Langenhoven in sij stuk bewerings maak, wat onjuis is. Maar dan bevat sij stuk soveel interessants, vooral oor die verskil wat daar bestaat in die Nederlandse spreek- en skrijftaal, dat ons seker meen dat ons ons lesers met die opneming daarvan 'n diens bewijs het.’ Op Van Rijn se brief en die kommentaar van die redaksie verskyn 'n antwoord van Langenhoven in Die Brandwag van 1 Augustus 1913, 'n vroeë aanduiding van hoe sensitief hy was vir negatiewe kritiek en hoe | |
[pagina 282]
| |
fel hy kon reageer as sy uitsprake betwis is. Langenhoven skryf dat hy enkele jare tevore 'n woordewisseling met Van Rijn in 'n Kaapse dagblad gehad het waarin Van Rijn beweer het dat Langenhoven ‘tegen beter weten’ in 'n standpunt verdedig. Dit maak dit vir hom onmoontlik om met Van Rijn te polemiseer. ‘Hij moet dus’, skryf Langenhoven, ‘in die toekoms kontroversiële opponente soek wat m.n. genoeg self-respekt besit om antwoord te gee aan iemand wat hulle die growwe belediging aandoen om refleksies te gooi op hulle opregtheid en goeie trou.’ Meer spesifiek reageer hy egter op die voetnoot waarin Die Brandwag toegee dat van Langenhoven se uitsprake onjuis is. ‘Mag ik u versoek’, skryf hy, ‘om mij die grote diens te bewijs om dié onjuiste beweringe te noem, en duidelik te maak om welke rede u weet, of beskou, dat hulle onjuis is? Daardeur sal nie alleen die skrijwer, maar ook die lesers wat miskien nie beter weet als hij nie, uit 'n dwaling geholpe raak. Ik self sal dan dankbaar wees dat die verskijning van mij verkeerde opvattinge in uw blad die oorsaak was van mij teregwijsing. Wat lesers betref, daar is nie 'n ding wat mij so seer sou hinder als die gedagte dat ik in 'n publieke geskrijf, hoe sonder opset ook, die oorsaak was om andere op 'n dwaalweg te lei.’ In dieselfde uitgawe skryf T.H. le Roux op versoek van die redaksie van Die Brandwag 'n lang en goed beredeneerde stuk oor dieselfde onderwerp. Le Roux het dit veral oor klankverskille tussen Nederlands en Afrikaans wat Langenhoven verkeerd aandui en die oordrewe en eensydige aandag wat hy aan spellingverskille wy. Daar kan geen twyfel bestaan dat Le Roux se deeglike artikel 'n juister weergawe van die verskille tussen Nederlands en Afrikaans as dié van Langenhoven was nie. Tog moes Langenhoven hom wel aan dié reaksie geërger het. Wanneer hy in U dienswillige dienaar praat van iemand met 'n doktorsgraad wat hom ‘met tipiese Diets-akademiese dom-astrantheid’Ga naar eind3 in Die Brandwag kwaad gemaak het, kan daar weinig twyfel wees dat hy T.H. le Roux bedoel, selfs al het Le Roux sy artikel baie versigtig en hoflik bewoord. Vanaf September 1913 tot Mei 1914 publiseer Langenhoven in Die Brandwag nog 'n reeks artikels oor ‘Debats-vereniginge’ wat hy later in die eerste uitgawe van Ons weg deur die wêreld opneem, maar daarna verskyn daar slegs by hoë uitsondering artikels van hom in dié tydskrif. Dit is trouens moontlik dat hy die reeks oor debatsverenigings vóór die dispuut met Van Rijn gelewer het. Op T.H. le Roux se artikel reageer hy nie. | |
[pagina 283]
| |
Alhoewel organisasies soos die ATV en die ATG waardevolle werk in belang van Afrikaans gedoen het en Langenhoven self met sy pakkende styl in Het Zuid-Westen en elders 'n leserspubliek kon opbou, moes die deurbraak van die taal op 'n ander wyse as bloot deur middel van propaganda geskied. Afrikaans moes naamlik van sy de facto-status tot 'n de jure-status verhef word, en dit kon alleen plaasvind langs die politieke weg. Die meeste taalstryders, ook Preller en W.M.R. Malherbe, met wie Langenhoven reeds deur sy redakteurskap van Het Zuid-Westen per brief bevriend geraak het, was van mening dat die de jure-status eers êrens in die ‘dynsige toekoms’Ga naar eind4 bereik sou kon word. ‘Beide voorstanders en volgelinge in die Afrikaanse taalstryd’, so skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar, ‘was te verstandig om hulle saak deur onbesonne voortvarendheid te benadeel. Ons moes eers baie-baie verder vorder voor ons dit kon waag om aan ons verteenwoordigers in die wetgewing te sê: “Sit nou julle seël op ons werk.” Ja, ons moes nog eers lank aanhou om langsaam te haas voor ons selfs so vér was dat die vermufte ou teëhouers niks anders meer had nie as om ons tot voortsetting van die stadige vinnigheid te vermaan. En so sou ons, lente festinantes, vandag nog, in Tobie Muller se woorde, vinnig stilgestaan het as die saak in die hande van die versigtigheid gebly het.’Ga naar eind5 Dat Langenhoven hier die naam van Tobie Muller noem, is van die grootste belang. Muller, gebore in 1884 en op vroeë leeftyd in 1918 tydens die Groot Griep oorlede, was 'n skrander teologiese student wat 'n Rhodes-beurs van die hand gewys het omdat hy hom nie met die Britse imperialisme kon versoen nie. Tydens sy Stellenbosse studiejare was hy stigterslid en eerste voorsitter van die ATV. In 1913 behaal hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Utrecht. Na sy terugkeer uit Nederland is hy hulpprediker op Stellenbosch, maar hy bedank wanneer die kerkraad in 1914 verontwaardig reageer toe hy die eerste preek in Afrikaans op Stellenbosch lewer. Die vrede word egter herstel deurdat Muller toegelaat word om net by sekere geleenthede vir studente in Afrikaans te preek. Saam met J.J. Smith en Gordon Tomlinson rig hy in 1914 die maandblad Ons Moedertaal op, waaruit Die Huisgenoot sou ontwikkel. In Julie 1916 word die leerstoel in wysbegeerte op Stellenbosch vir hom aangebied, maar na 'n periode van aarseling neem hy 'n beroep as leraar na Philippolis aan, waar hy tot sy ontydige dood werksaam is.Ga naar eind6 Kort na sy terugkeer uit Nederland, op 24 Oktober 1913, lewer | |
[pagina 284]
| |
Tobie Muller voor die ATV op Stellenbosch 'n lesing wat ook deur dié organisasie as 'n pamflet gepubliseer word. Die titel daarvan is Die geloofsbelydenis van 'n Nasionalist. Dit word tereg deur Muller se biograwe, B.B. Keet en Gordon Tomlinson, bestempel as ‘die persoonlike belydenis van iemand wat sonder weerga in die geskiedenis van hierdie periode, 'n hartstogtelike liefde gehad het vir sy eie volk, land en taal, en wat bo alles as belyder, 'n gesonde insig gehad het in die geestes- en godsdienstige neiginge van sy volk’.Ga naar eind7 In sy rede sê Muller dat die Afrikanernasionalisme gebore is uit die verset teen die Britse oorheersing, in die besonder die Transvaalse Vryheidsoorlog (1881), die Jameson-inval (1895) en die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Ná die Anglo-Boereoorlog het die nasionale bewussyn van die Afrikaner positief begin word: 'n besef dat ons onsself én 'n selfbewuste nasie is. Hierdie nasionalisme is nie, volgens Muller, gegrond op 'n ‘rassehaat’ nie. ‘Die Hollands Afrikaanse nasie wil’, so stel hy dit, ‘syn eie individualiteit bewaar en aankweek, nie ten nadele nie, maar met behulp, en ten voordele van andere rasse.’ 'n Selfbewuste nasie moet 'n nasionale selfrespek hê, en dit ontwikkel hy deur sy eie taal. Die eerste stap tot die verkryging hiervan lê in die waardering en ontwikkeling van die eie taal, ‘die intiemste uiting van ons hele nasionale wese’.Ga naar eind8 Dit is onmoontlik om 'n nasionale selfrespek te hê as ons taal op skole en in offisiële betrekkings op die agtergrond geskuif word. Afrikaans moet dus op skool tot sy reg kom. As kinders in plaas van Nederlands of Engels met Afrikaans begin, ‘leer hul die taal, wat hulle hul lewe lank later aldag beoefen, en ook 'n taal, wat baing makliker vir hulle is om korrekt te skrywe, dan Engels of Nederlands. So sal hulle die neerdrukkende en vernederende verwyt kwyt raak in hul later lewe, dat hul die eenvoudigste brief nie sonder foute kan opstel nie; en sal hul teenoor uitlandse handelaars en meneertjies ook nie meer hulle hoofde hoef te laat hang nie, alsof hul met wie weet watter geleerdes te doen het. Die wins in nasionale selfrespek onder 'n groot deel van ons volk sal, by so 'n metode van onderwys, onskatbaar groot wees.’ Muller doen aan die hand dat die Afrikaanse kind tot by die tweede of derde standerd Afrikaans moet leer lees en skryf en daarna Nederlands leer lees. In die hoëre klasse kan hy dit ook begin skryf en moeiliker Nederlandse literêre werke of bloemlesings bestudeer. ‘Deur te begin met, wat die beste aan die kind bekend is - nl. Afrikaans - volg 'n mens net 'n algemeen aangenome opvoedkundige beginsel, en sal die kind later | |
[pagina 285]
| |
des te beter Nederlands leer en waardeer. Die gemiddelde Afrikaner moet, naar myn beskeie mening, Nederlands leer net met 'n tweeledige doel: (1) Om in nouer aanraking te kom met die kultuur en beskawing van Nederland, en (2) om syn Afrikaanse woordeskat te verryk. Ek kan aan geen beter manier dink nie om hierdie doel te bereik, dan deur die eenvoudigste metode toe te pas, wat ek hier voorstel.’Ga naar eind9 Dit is wel so beter, gaan Muller voort, om 'n Afrikaanse kind met Nederlands te laat begin as ‘om syn jong verstand te verbyster met Engels...Maar nog beter is dit om met Afrikaans te begin - die taal, waarin hy leef, en wat 'n spelling het, wat so eenvoudig is, dat die kind binne enkele maande 'n ouderwetse brief sal kan skrywe.... Die onpedagogiese metodes, wat teenwoordig onder ons heers, verkort die lewe van elke Afrikaner, deurdat hy nie op die regte manier syn opvoeding ontvang nie, en dus enige jare vermors. Daar word dikwels gekla oor die onoorspronklike, onselfstandige en onwetenskappelike sin van die Afrikaner student. Onse geesdodend eksamensisteem en die dooie eenvormigheid van ons opvoedingsstelsel, het natuurlik die voornaamste skuld hieraan; maar ek meen ook, dat by die Holl. Afrikaanse kind die kieme van wetenskappelike nuwsgierigheid en belangstelling gedeeltelik versmoor word deurdat hy nie met Afrikaans op skool begin nie.’Ga naar eind10 By die publikasie van hierdie belangwekkende rede in Oktober 1913 het Langenhoven onmiddellik daarvan kennis geneem. Dat daarin 'n gedagterigting aanwesig was wat ten nouste met sy eie ooreengekom het, moes vir hom 'n bron van groot vreugde gewees het. Tot in hierdie stadium het Langenhoven baie sterk gevoelens gehad oor die agterstand van Afrikaans, maar nog nie vir homself bewus rekenskap gegee van wat gedoen moes word nie. Muller se voorstel dat Afrikaans tot by die tweede of derde standerd ingevoer moes word en dat die beginsel van moedertaalonderwys dus in werking moes kom, was vir hom die impetus om langs die politieke weg die posisie van Afrikaans te bevorder. Al was hy in hierdie stadium lank reeds 'n hartstogtelike stryder vir Afrikaans,Ga naar eind11 kan 'n mens met sekerheid aanvaar dat Muller se uitsprake sy daadwerklike optrede vroeg in 1914 verhaas het. Wanneer hy later in Het Zuid-Westen verslag doen oor die deurbraak in die Provinsiale Raad, sê hy trouens dat Tomlinson 'n aantal eksemplare van Die geloofsbelydenis van 'n Nasionalist tot sy beskikking gestel het. Met behulp daarvan het hy die twyfelaars onder die Afrikanerkollegas in die raad tot sy standpunt oorgehaal. | |
[pagina 286]
| |
IIOm die Afrikanerkind op skool in sy moedertaal te laat onderrig, was dus die belangrikste enkele rede waarom Langenhoven tot die politiek wou toetree. Hy het ingesien dat die voorstel van Tobie Muller net in die praktyk gerealiseer sou kon word as dit langs staatkundige weë plaasvind. Die probleem was dat hy in diens was van Het Zuid-Westen en van die direksie 'n maandelikse salaris ontvang het. Hy kon dus nie op hoop van 'n suksesvolle afloop van 'n verkiesing sy werk bedank ten einde tyd beskikbaar te hê vir die ander taak nie.Ga naar eind12 Gelukkig was hy teen hierdie tyd goed bevriend met Atties Fourie, besturende direkteur van die koerant en die persoon wat by herhaling as kampvegter vir die onstuimige Langenhoven in die bres getree het. Van Atties Fourie, gebore in 1866 en oorlede tydens die Groot Griep van 1918, skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar dat hulle boesemvriende was. ‘Ons het mekaar verstaan’, sê hy in 'n huldeblyk wat in Die Brandwag van 10 Desember 1918 verskyn, ‘soos ik nooit sou gedenk het dat twee mansmense mekaar tot in hulle diepste siel kan verstaan nie.’Ga naar eind13 Langenhoven praat van Fourie se ‘persoonlike magnetisme’, sy slag om onmoontlike dinge te reël, sy ‘bedaarde sagtigheid’ maar daarnaas sy sterk wil om dinge deur te dryf.Ga naar eind14 Daarby was Fourie onkreukbaar eerlik. Hy het, so skryf Langenhoven, nooit sy ‘toevlug geneem tot knoeiery nie. Als jij Atties se respek wou hê was die eerste vereiste dat jij 'n man sonder bedrog moes wees. Vuil werk kon hij nooit verdra nie.’Ga naar eind15 Met die seker wete dat Atties Fourie hom sou steun, maar sonder sy vriend se medewete, skryf Langenhoven dan 'n brief wat hy op 19 Januarie 1914 in Het Zuid-Westen publiseer. ‘Dit is moeilik vir 'n man om 'n brief aan homself te rig’, so begin hy, ‘maar ik het nou 'n meedeling om te maak wat niks met mij betrekking als editeur van hierdie blad te doen het nie; en versoek om dit te plaas alsof dit van enige ander buite-staande korrespondent kom.’ Langenhoven sê dat daar, na die groot aandag wat die Botha-Hertzog-dispuut getrek het, min plaaslike belangstelling in die komende Provinsiale Raadsverkiesing is. Tog vereis sekere sake van openbare belang onmiddellike aandag, soos nuwe belastings, die opvoeding van ons kinders en die feit dat onderwysers met hoër salarisse na ander provinsies weggelok word. Die plaaslike lid, mnr. Josef Matare, het | |
[pagina 287]
| |
nog nie van hom laat hoor of hy weer verkiesbaar is nie. Buitendien is hy, volgens die brief, ‘geweeg en te lig bevonde, sodat ik beskouw dat ons ander vertegenwoordiging moet soek’. In sy brief aan Het Zuid-Westen sê Langenhoven niks verder hieroor nie, maar in U dienswillige dienaar verskaf hy 'n bietjie meer inligting. ‘Ons vorige verteenwoordiger’, skryf hy, ‘had by 'n belangrike verdeling, tussen die ou S.A.P. en die ou Unioniste, oor die eerste Taal-Ordonnansie (Nederlands en Engels op skool) nie sy man gestaan toe elke stem nodig was nie. (As ek reg onthou het hy tandpyn gekry en Oudtshoorn toe gekom om die tand te laat trek.)’Ga naar eind16 Tot dusver, so gaan Langenhoven voort, het hy nog nie van 'n waarskynlike kandidaat gehoor nie. Tog meen hy dat daar in die Oudtshoornse distrik wel geskikte mense is. Hy sou 'n hele aantal name kan noem, maar dit sal lyk na ‘flikflooi en vleierij met 'n oogmerk om self naar hulle ondersteuning te vrij. Want daar is 'n laaste naam wat in mij gedagte kom en dié is mij eie. Ik sal nie die ou eleksie-storie van weersinnige opoffering herhaal nie. Vir mij sou dit geen opoffering wees om aan die wetgéwing van mij land deel te neem nie maar 'n voorreg. En als dit 'n opoffering was dan sou ik dit van harte gun en nie daaroor kla nie, of anders dit glad nie maak nie. Ik sien daar geen roem in om die altaar van mij land te ontheilig met 'n ongegunde brandsiekbok nie. Ik gee vrijwillig, of ik gee in ruil, of ik gee glad nie.’Ga naar eind17 Hy sou verkies, sê Langenhoven, om iemand anders se kandidatuur te bevorder, want hy het geen tyd vir eersug nie en 'n ‘afskuw van voorgestoeltes’. Buitendien sou hy by 'n bestrede eleksie sleg deug as kandidaat. ‘Ik sal niemand om sij stem vra nie, en ook niemand huur of versoek of aanmoedig om vir mij stemme te werweGa naar eind18 nie. Ik sal ook geen onpopulaire opienie wegsteek omdat ik deur die verkondiging daarvan stemme sou verloor nie. Ik het min vriende en min invloed. In die nagenoeg twee jaar tijdsverloop wat ik die eer gehad het om die “Zuid-Westen” te redigeer was daar gelegenheid genoeg vir 'n man wat sij kaarte wou speel met sij oog op die resultaat meer als op sij gewete, om beide invloed en vriendskap en populariteit te win. Instede daarvan het ik geseg wat ik beskouw het wat reg was sonder om hierdie man se guns te soek, sonder om daardie man se onguns te vrees. Andere het die kans gehad, en die kans gebruik, om te swijg, en dit is hulle toegereken tot politieke geregtigheid. Ik het met mij insigte voor 'n dag gekom, reg of verkeerd, en mij woorde staan deur mij eie hand opgeteken, vóor | |
[pagina 288]
| |
mij en teen mij. En soos dit maar altijd gaan, die wat voor mij getuig sal vergeet wees terwijl die wat teen mij getuig onthou word.’Ga naar eind19 Daarom sou hy graag 'n ander kandidaat wou sien. Maar, so sluit Langenhoven af, ‘bij gebreke aan so een, sal ik dit mij plig beskouw, al krijg ik net eén stem - en dié sal nie mij eie wees nie, en ook nie deur mij bemiddeling gebédel wees nie - om self als kandidaat te staan. Ik vrees, wat die stuk of agt of tien mogelike kandidate betref wat daar onder ons te krij is, dat ons klompie plaselike voorman-Afrikaners jaloers is op mekaar en liewer 'n buiteling neem om die éen die ander nie die sogenaamde eer te gun nie. Maar dit word tijd dat daar aan dié bespottelike onderlinge afguns 'n end kom.’ Die wyse waarop Langenhoven hom as kandidaat vir die Provinsiale Raad verkiesbaar gestel het, was nie alleen hoogs ongewoon nie, maar tot vandag toe uniek in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika. Gewoonlik het 'n aantal mense propaganda gemaak vir 'n moontlike kandidaat en is hy uiteindelik op die nominasiedag voorgestel. Langenhoven het heeltemal van hierdie procédé afgewyk; hy was altyd, soos hy in U dienswillige dienaar sê, ‘te dom om my met bakdraaie en slenters op te hou’.Ga naar eind20 Daarby was hy heeltemal onervare in dié tipe werk. Hy was nooit lid van die afdelingsraad of stadsraad nie. By geleentheid, so voeg hy by in U dienswillige dienaar, is hy as diaken of ouderling benoem, maar sy voorsteller kon geen sekondant kry nie!Ga naar eind21 Tog was daar, soos Langenhoven dit self stel, bepaalde dinge in sy guns. Afgesien van 'n sekere onvergenoegdheid met die sittende lid, was almal moeg vir die outokratiese optrede van die administrateur, sir Frederic de Waal, en die wyse waarop die raadslede bang was om hom teen te gaan. Langenhoven se potensiële kiesers het geweet dat hy nie ook op hom sou laat trap nie. Daarby was hy reeds feitlik twee jaar as redakteur van Het Zuid-Westen bekend en het sy lesers geleer om deur sy ‘kranksinnigheid heen gesonde verstand en eenvoud van bedoeling te sien’.Ga naar eind22 Verder het hy net een openbare vergadering gehou waarop hy die planne van die administrateur krities bekyk het, terwyl Atties Fourie in die stilligheid vir sy kandidaat begin voorbrand maak het. Op 2 Maart 1914, nominasiedag, is Langenhoven deur Atties Fourie vir die Suid-Afrikaanse Party voorgestel as kandidaat vir die Provinsiale Raad vir die kiesafdeling Oudtshoorn. Aangesien daar geen verdere nominasies was nie, word Langenhoven deur die magistraat as onbestrede verkose lid verklaar. In sy toespraak by dié geleentheid, gepubli- | |
[pagina 289]
| |
seer in Het Zuid-Westen van 5 Maart 1914, sê Langenhoven dat hy nog nooit vir 'n kandidaat gestem het wat heeltemal na sy sin is nie. ‘En noudat die rol omgedraai is en ik verskijn self als kandidaat’, so gaan hy voort, ‘is ik oud genoeg om te weet dat ik-self nie in julle oog die “gewenste” man is nie: ik kan maar hoop om naastenbij die minst ongewenste te wees. Als 'n mens wil weet hoe goed jij is, moet jij doodgaan. Als jij wil weet hoe sleg jij is, moet jij jou verkiesbaar stel bij 'n eleksie. Die eersgenoemde ondervinding hoop ik zal ik nog 'n tijdjie naar wag. Die ander het ik nou ondergaan. Ik het nou sedert ik vorentoe gekom het als kandidaat van so baje foute gehoor - want die dinge wat agter 'n mens se rug geseg word, kom jij tog maar te hore - dat ik somtijds twijfelmoedig geword het waarvoor ik nog die aarde onnuttiglik beslaan. Maar dié soort kritiek en opposiesie en veroordeling is die beste ding wat daar kon wees.’ Verder spreek Langenhoven hom sterk uit teen die diktatuur van sir Frederic de Waal. Hy meen die probleem in die Provinsiale Raad is die gebrek aan opposisie. Wetsontwerpe is dikwels sonder bespreking aangeneem en toenemend het wetgewing geskied by wyse van regulasies wat deur klerke opgestel is. Daarby was daar in die raad 'n stelsel van gunste en gawes. Lede moes mooi werk met die administrateur, sodat hulle vir hulle eie kiesdistrikte geld uit die kas kon kry. Langenhoven vind so 'n situasie onaanvaarbaar en sê dat hy nie van plan is om soos 'n houtpop in die Provinsiale Raad te gaan sit en sy verantwoordelikheid teenoor sy kiesers op departementele klerke af te skuif nie. Aan die begin van April 1914 vertrek Langenhoven per trein na Kaapstad vir die eerste sitting van die pas verkose Provinsiale Raad, 'n reis waaroor hy op 14 Mei vermaaklik in Het Zuid-Westen verslag doen. Hy gaan in Kaapstad tuis in die Royal Hotel. Uit hierdie tydperk dateer sy eerste oorgelewerde briewe in Afrikaans aan Vroutjie. Die sitting, so skryf hy aan haar, sou ten minste vier weke duur, maar hy sal as gevolg van die hoë onkoste met die spoorlyn van die New Cape Central Railways (die NCCR), waarvoor hulle vry passe nie gegeld het nie, nie tussenin huis toe kan kom nie. Op 8 April laat hy Vroutjie weet dat hy al sy kollegas die oggend ontmoet het en dat die meeste maar ‘beroerd papbroekig’ lyk en nie ‘'n bliksem’ beteken nie. Tydens sy verblyf het hy saam met genl. Louis Botha en genl. Smuts ‘dinner geneem’, was hy 'n keer op Stellenbosch, en het hy 'n naweek gaan kuier vir Rosenow, wat sy skoolhoof op Riversdal was en sedert sy aftrede op Somer- | |
[pagina 290]
| |
set-Wes woonagtig was. Joe Foster, blykbaar die seun van sy gewese Oudtshoornse vennoot, wat intussen oorlede is, het hom opgesoek. In 'n ongedateerde brief sê Langenhoven Foster het voorgestel dat hulle saam in die praktyk moet gaan, 'n mededeling waaruit 'n mens kan aflei dat dit teen hierdie tyd reeds finansieel sleg daaraan toe was by Het Zuid-Westen en dat Langenhoven 'n terugkeer tot die regsberoep oorweeg het. ‘Als die “Zuid-Westen” op sij bene kan blij’, skryf hy, ‘het ik nie lus om mij werk daar op te gee teen enige voordeel ergens anders nie. So het ik aan Joe geseg. Maar dinge het baje agteruitgegaan en als die Z.W. miskien in duige raak wil ik nie van Oudtshoorn graag weggaan om 'n posiesie op 'n nieuwsblad ergens anders te aanvaar nie. Dan sou ik verplig wees om maar weer als prokureur op Oudtshoorn te praktiseer - hetsij op mij eie, hetsij bij iemand anders.’ Oor die spesifieke sake wat tydens die 1914-sitting van die Provinsiale Raad bespreek is, verstrek Langenhoven naas die taalstryd in U dienswillige dienaar en elders weinig inligting. Sy algemene indruk was egter dat die administrateur as ‘willekeurige diktator’Ga naar eind23 die raad so oorheers het dat die lede bevrees en op 'n afstand gebly het. ‘Hy bring 'n maatreël voor’, skryf Langenhoven; ‘in die loop van die passasie daarvan staan 'n arme lid op met vrese en bewing in 'n biddende houding, hande vrywend, tande klappend; hy wil tog darem een kleine ou beswaartjie aan SyEdele in genadige oorweging gee. Daarop vlieg Sy-Edele op en hy donder en bliksem op die vermetele teëstander dat hy vir die res van die sessie niks meer doen nie as om hoor hoor te sê wanneer die administrateur praat - en dit was nagenoeg onafgebroke.’Ga naar eind24 Waarskynlik is Langenhoven se voorstelling van sake in so 'n kensketsing enigsins oordrewe, maar dit dra die geestelike klimaat mooi oor waarin die Provinsiale Raad moes funksioneer. Wanneer hy jare later in een van sy allerlaaste bydraes op 11 April 1932 'n huldeblyk by die afsterwe van De Waal in Aan stille waters skryf, sê Langenhoven dat De Waal onskatbare dienste deur sy onvermoeide arbeid aan die provinsie gelewer het. As hy van die begin af in die Unie-kabinet opgeneem was, het die geskiedenis van Suid-Afrika onder die SAP-bewind waarskynlik anders verloop. Louis Botha was egter bewus van De Waal se sterk wil en het hom ‘met 'n titel en 'n administrateurskap opsy (gehou)’.Ga naar eind25 As gebore Nederlander was De Waal tydens die Eerste Wêreldoorlog sterk pro-Brits, ‘rooier lojaal as die venynigste Engelse | |
[pagina 291]
| |
en die nog venyniger Afrikaner-oorlopers’.Ga naar eind26 Toe Langenhoven as SAP-lid tot die raad toegetree het, was sy party en die Unioniste min of meer gelyk in getalle. De Waal het die kuns verstaan, so skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar, om hulle teen mekaar uit te speel en met hulle te maak wat hy wil. Hy was dus iemand met fyn politieke taktiek, al het Langenhoven hoë waardering vir sy werkkrag en eerlikheid.Ga naar eind27 Met die aanvang van die sitting sou die ordonnansie i.v.m. afdelingsrade onder bespreking kom en het Langenhoven in die SAP-koukus gewaarsku dat hulle die steun van hulle kiesers sou verloor as hulle die gevolglike las sou aanvaar. Tydens die sitting die volgende dag het die lede wat met sy standpunt saamgestem het, stom bly sit en was Langenhoven die enigste wat in sy nuwelingstoespraak die administrateur teengegaan het. Oor sy toespraak en De Waal se optrede sê Langenhoven net: ‘Maar ek kon net so hard skree soos sir Frederic en ek was nie daarheen gestuur om te gaan Ja Baas sê op alles nie.’Ga naar eind28 Ondanks sy besware teen De Waal se outokratiese optrede en sy jingo-simpatieë het Langenhoven dus wel waardering vir die administrateur gehad. Wat die stryd in belang van Afrikaans betref, sou die vroeë deurbraak van die taal in die onderwys nooit kon geskied sonder die hulp en steun van De Waal nie. Daaroor sê Langenhoven in U dienswillige dienaar: ‘Hy was in die posisie om Afrikaans dood te druk en hy het dit voortgehelp. Baie Afrikaners kon hulle vir die Hollander geskaam het.’Ga naar eind29 Hierby voeg Langenhoven in sy huldeblyk by: ‘Ek voel my gedronge om hier te betuig dat ek sonder die hartlike ondersteuning van De Waal seker omtrent niks vir Afrikaans sou kon uitgerig het nie. En dan was my jare van diens in die Provinsiale Raad sover as my lewensroeping betref, nutteloos gewees.’Ga naar eind30 | |
IIIOor die verloop van die stryd om die erkenning van Afrikaans skryf Langenhoven uitvoerig in hoofstuk V van die tweede deel van U dienswillige dienaar. Daarin haal hy aan uit 'n verslag wat hy vir De Volkstem geskryf en wat op 28 Mei 1914 in Het Zuid-Westen oorgedruk is. Aan die begin, sê Langenhoven, was die vooruitsigte om iets vir Afrikaans te bereik, nie te rooskleurig nie. Tog was daar enkele sake wat hom begunstig het. As lid van die Suid-Afrikaanse Party het hy sy | |
[pagina 292]
| |
kollegas se steun gehad, terwyl hy by die Unioniste nie bekend was as 'n ‘rasse-vuurvreter’Ga naar eind31 nie. In die taalstryd het hy hom teen Nederlands gerig, nie teen Engels nie. In die tweede plek was daar geen akademici wat met ‘spellinggeskille en Dietse idiome en malkunsstandaarde’Ga naar eind32 die saak van Afrikaans kon beduiwel nie. En in die derde plek het een of ander beskermengel Langenhoven daarvan weerhou om met sy ‘gebruiklike dolle voortvarendheid’Ga naar eind33 die saak te benadeel. Hy het nie vooraf na buite sy planne aangekondig of in die pers bekend gestel nie, sodat daar nie uit allerlei oorde 'n verset kon ontwikkel nie. ‘(My) niksbeduidendheid’, so skryf Langenhoven, ‘was my behoud. My sterk punt van onbeteuelde geweld sou my ondergang gewees het; in stilte en vertroue was my krag. Ek moet glo maar erken dat ek my hierdie een slag self langsaam gehaas het.’Ga naar eind34 Tog het Langenhoven met vrees en bewing van Oudtshoorn vertrek, omdat hy sy kollegas in sy nuwe werkkring van 'n vanselfsprekende waarheid moes oortuig wat tog in die tydsomstandighede 'n rewolusionêre stap sou wees. By sy aankoms in Kaapstad het hy hom dadelik in verbinding gestel met die voormanne van die Afrikaanse beweging. Wie hierdie manne was, sê Langenhoven nie, maar hulle reaksie was water op die vuur nadat hy hulle meegedeel het dat hy 'n maatreël aanvaar wil kry vir die erkenning van Afrikaans, in hoe 'n geringe mate dan ook, as aanvanklike medium van onderrig op die laer skool.Ga naar eind35 Die reaksie was dié van festina lente; ons moet wag, totdat Afrikaans verder in die pers en die literatuur gevorder het. Daarop was Langenhoven se reaksie: ‘Nou kijk, julle besadigde en verstandige virsigtigheid-aanraaiers; julle medewerkers wat die briek vasdraai teen die steil opdra'ende uit, staan julle nou eenkant opsij; en ik sal alleen te werk gaan. Ik sal nou voortvaar in mijn dolle rasernij sonder die onontbeerlike hulp van julle verstandige beraad; en ik sal die mosie voorstel al krij ik geen sekondant nie, al staan ik vir wat reg en waarheid is in die ganse Raadsaal stok alleen.’Ga naar eind36 Langenhoven het inderdaad voortgegaan. Saam met die lede van sy party het hy koffie gedrink, al die argumente ten gunste van Afrikaans genoem en, verbasend genoeg, weinig teenstand gekry. Waar daar wel besware was, het hy met behulp van Tobie Muller se rede Die geloofsbelydenis van 'n Nasionalist hulle oorgehaal. In werklikheid was daar weinig om te doen, want die verwagte teenstand, so sê Langenhoven, was maar ‘'n spookgogga van mijn eie skepping. Dit was bijna teleur- | |
[pagina 293]
| |
stellend om te vind dat daar so min roem uit die slag te hale was. 'n Stuk of wat van mijn kollega's was alreeds net so bekeerd en net so vurig vir die saak als ik.... Inplaas van vijande wat moes verslaan word met grote heldemoed - wat was daar? Almaal reeds gewonne of maklik te winne maters op die pad.’Ga naar eind37 Daarna het Langenhoven onderhoude gevoer met Thomas (later sir Thomas) Muir, superintendent-generaal van onderwys, en met die administrateur, sir Frederic de Waal. Wat laasgenoemde betref, sê Langenhoven, ‘is 't mij 'n voorreg om hier met innige dankbaarheid gewag te maak van die bereidwillige en hartelike ondersteuning wat ik van hom gekrij het bij die voorafgaande voorbereiding sowel als bij die bespreking in die raad self’.Ga naar eind38 Langenhoven het ook 'n onderhoud gehad met J.P.L. Volsteedt, die redakteur van Ons Land, ‘het blad welks houding tegenover het Afrikaans geen vijandige is’.Ga naar eind39 Oor dié onderhoud sê Langenhoven alleen dat hulle wedersyds met ‘min respekt vir mekaar se redelikheid en vatbaarheid vir oortuiging’Ga naar eind40 uitmekaar is. Vervolgens het Langenhoven die Engelssprekende lede op sy versoek in die koukus van die Unioniste-party ontmoet en sy standpunt in Engels aan hulle gestel. Hy het gesaghebbendes aangehaal om te wys dat Afrikaans geen dialek is nie en hulle sy ervaring meegedeel by die onderrig van hulle volksgenote, sowel in Nederlands as Afrikaans. ‘Ik het hulle daarop gewijs’, sê Langenhoven, ‘dat eentaligheid vir hulle doofstom maak in hulle beroep, in hulle persoonlike omgang, in hulle politieke bedrijwigheid, in hulle besigheids verhoudinge, teenoor die belangrikste helfte van die bevolking van Suid-Afrika; en hoe hulle dus die heel eerste moes wees om 'n poging te verwelkom waardeur die aanleer van die tweede landstaal vir hulle maklik gemaak kan word.... Hulle het vrage gedaan en besware geopper, en dié het ik so goed als ik kon beantwoord. Almaal van hulle was ongelukkig nie teenwoordig nie - en daaraan is te wijte die flauwe tegestand wat daar nog gekom 't bij die uiteindelike behandeling van die mosie. Maar eigelik was die saak gewonne vóordat hij vóor die Huis gekom het.’Ga naar eind41 Met die uiters gunstige vordering wat Langenhoven deur middel van gesprekke en uiteensettings kon maak, het hy dan sy mosie, gesekondeer deur raadslid Van Rooy, op Maandag, 23 April 1914, voor die Kaapse Provinsiale Raad voorgestel: ‘Dat deze Raad zijn goedkeuring hecht aan die toenemende handhaving door het Onderwijs Departe- | |
[pagina 294]
| |
ment van deze Provincie van het gezonde beginsel van onderwijs door medium van de moedertaal der leerlingen, zoals neergelegd in de Onderwijs Ordonnantie, en verder aanbeveelt dat dat beginsel verder uitgebreid worde door het gebruik van het Afrikaans-Hollands als medium op onze lagere scholen tot en met de Vierde Standaard waar het Hollands volgens wet de voertaal is: Mits dat geen leesboeken, in het Afrikaans geschreven, voorlopig worden toegelaten tenzij dezelve voorzien zijn van een getuigschrift van goedkeuring door een of meer personen van erkende bevoegdheid, daartoe benoemd door hetzij de Superintendent van Onderwijs, hetzij “de Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst”: en mits het gebruik van zodanige leesboeken niet toegelaten worde waar het betrokken schoolkomitee er bezwaar tegen heeft.’ Daar bestaan 'n algemene wanopvatting dat Langenhoven, min of meer soos genl. Hertzog in die Vrystaat vir Nederlands, verantwoordelik was vir die wet wat aan Afrikaans sy regmatige plek in die onderwys gegee het. Dit is egter nie die geval nie. Al wat hy gevra het, was om die gesonde beginsel van onderwys deur medium van die moedertaal van die leerlinge, soos vasgelê in die Onderwysordonnansie, verder in die praktyk deur te voer. Dit het dus nie 'n wetswysiging veronderstel nie. In die tweede plek vra hy die gebruik van Afrikaans as skriftelike medium tot en met die vierde standerd. Verder bevat sy voorstel om taktiese redes ook 'n bepaling oor skoolboeke. Die mosie was dus in werklikheid 'n ‘gedienstige afwatering’Ga naar eind42 om alle moontlike teenstand tegemoet te kom. Net die skoolboeke, so skryf Langenhoven, ‘was onderhewig aan goedkeuring van gesag en aan die voorwaarde dat die skoolkomitee kon beswaar maak; die onderwyser se metode of taalbevoegdheid was aan geen van beide onderhewig nie; ook nie sy diskresie om die aanbeveling van die mosie uit te voer nie. Ek glo dat daar nooit sulke boeke met die vereiste getuigskrif van goedkeuring verskyn het nie - die onderwysers het gesorg om sonder die verlof van die persone van erkende bevoegdheid klaar te kom. Ek sê nie ek keur so 'n wetteloosheid goed nie, maar dit val my swaar om dit te betreur.’Ga naar eind43 Voor die aanvang van die debat het Langenhoven van sy mense uitdruklik versoek om nie die mosie te bespreek nie, omdat die diskussies in allerlei sypaadjies kon beland wat tot misverstand kon lei. Een probleem was van regskundige aard, naamlik of Afrikaans inbegrepe is in die woord ‘Hollands’ in artikel 137 van die grondwet. Indien gesê | |
[pagina 295]
| |
sou word Afrikaans is 'n selfstandige taal, sou die toepassing van die mosie deur 'n wysiging in die grondwet voorafgegaan moes word. Om die probleem te omseil, het Langenhoven 'n standpunt ingeneem wat van sy vroeëre uitspraak oor die onafhanklikheid en selfstandigheid van Afrikaans afwyk maar wat in die besondere omstandighede pragmatiese politiek was. As artikel 137 Afrikaans uitsluit, so het hy betoog, is alle lede wat die Provinsiale Raad in Afrikaans toespreek, buite orde. Dan is dit die plig van die voorsitter om daardie lede stil te maak.Ga naar eind44 Met hierdie kragtige argument in Langenhoven se repliek het die beswaar tot 'n einde gekom en was die saak gewonne. Aan die begin van die debat op 23 April 1914 het Langenhoven na die indiening van sy mosie gesê hy kan 'n aantal name opnoem van bekwame Afrikaners wat leiding gegee het in hierdie beweging.Ga naar eind45 Hy het 'n voorstel aangehaal wat kort tevore op 'n vergadering van die Taalunie aangeneem is. Sy mosie is nie so vérreikend nie. Hy stel nie voor dat die een medium deur die ander vervang word nie. Hy wil bloot Afrikaans as medium gebruik hê tot en met standerd IV. Na die tyd kan Hooghollands dan gebruik word. Hy is egter van mening dat jong kinders deur medium van hul eie taal onderrig behoort te ontvang. Handleidings vir sulke doeleindes sal deur bevoegde persone goedgekeur moet word. Hulle is dit verskuldig aan die kinders om soveel voordeel as moontlik te trek uit die onderwys wat hulle gegee word. Die administrateur, sir Frederic de Waal, het daarop gesê hy het geen beswaar teen die mosie nie. Dit is volgens die bepalings van die wet heeltemal in orde. Die Hollandse spreektaal van Suid-Afrika is natuurlik Afrikaans. Of Afrikaans reeds as voertaal gebruik kan word, is 'n heel ander kwessie. In elk geval is dit die huistaal en is die ambisies van die volk daarmee verbonde. Hy wil die voorstel van harte steun. Daarop het verskillende lede spreekbeurte gehad. Mnr. G.F. Zondagh het die voorstel gesteun en gesê dat Hollands vir die Afrikaanse kind net so vreemd is as Engels. Mnr. W. Gasson het gesê dat die Afrikaanse taal die beste deur die Afrikaanse kinders verstaan word en dat hulle deur middel van dié taal die beste leer. Dieselfde beginsel word reeds in Wallis toegepas. Hy het 'n beroep op die Engelssprekende lede gedoen om die mosie te steun. Hy sou liewer die Afrikaanse as die Hooghollandse taal ingevoer sien, want sowel Afrikaans- as Engelssprekendes sou dit makliker vind om deur middel van eersgenoem- | |
[pagina 296]
| |
de in aanraking met die bevolking van Suid-Afrika te kom. Ook mnr. F. Ginsberg het sy steun beloof, maar wou weet wat onder Afrikaans verstaan word. As Afrikaans vir die Afrikaner dieselfde beteken as Platduits vir die Duitser, dan sou dit ongerade wees om Afrikaans vir die onderwys te gebruik. Daarop het die administrateur gesê Afrikaans kan nie met Platduits vergelyk word nie, aangesien Afrikaans die taal van die hele volk is. Op 'n verdere opmerking van mnr. Ginsberg gee hy die versekering dat hy met die superintendent van onderwys in verbinding was en dat geen nuwe beginsel in die spel gebring word nie. Ook mnr. P.B. Botha steun die voorstel. Hy vind dit noodsaaklik dat kinders deur middel van hul eie taal onderrig word. Majoor S. Cowper het niks teen die mosie nie, terwyl mnr. W.H. Piggot meen die mosie is onnodig indien die mense reeds die reg het om Afrikaans te gebruik. Mnr. H. Nourse steun die voorstel en sê dit is nodig om te besluit of Afrikaans of Hooghollands die taal van die land is. Indien die rasse - waarmee hy, soos gebruiklik in hierdie tyd, die Afrikaans- en Engelstaliges bedoel - in die land verenig moet word, gee hy aan Afrikaans die voorkeur. Afrikaanse kinders moet in hul eie taal onderrig word. Indien Engels- en Afrikaanssprekendes Hooghollands moet leer, sou 'n mens hulle iets leer wat vir hulle heel vreemd is en jy sou nie behulpsaam wees met die samesmelting van die twee rasse nie. Ook mnre. T.W. Goodwin, B. Niland en J. Wynne steun die voorstel met 'n paar opmerkings. Mnr. J.D. Cartwright het bedenkinge omdat Afrikaans nie vir wetenskaplike doeleindes gebruik kan word nie. Ook dr. D.B. Hewat steun met enkele opmerkinge die mosie. Tydens die bespreking in die Provinsiale Raad, so skryf Langenhoven in die oorspronklike verslag vir De Volkstem wat hy in U dienswillige dienaar oorneem, het een van die Engelstalige lede ‘die ou storie verkoop van gevaar om 'n lage “brabbeltaal” op die skole in te voer. Dit was die éen ding wat nodig was - als daar nog éen nodig was - om selfs die flauwe lede van mijn ou nasie geesdriftig aan mijn kant te skaar. “Is dan die huis van elke opgevoede Afrikaner ongekultureer,” had ik maar net nodig om te vraag, in mijn repliek, “omdat hij nie met sijn eggenoot en kroos Engels of Hooghollands gesels nie?” En dié éen vraag was genoeg! Hij moet altijd genoeg wees - vir 'n Afrikaner.’Ga naar eind46 Aan die einde van die debat is die mosie onbestrede aangeneem. Nog dieselfde laatmiddag kon Langenhoven aan Vroutjie en Sarah Goldblatt telegrafeer: ‘Provinsiale Raad het my mosie aangeneem wat Afri- | |
[pagina 297]
| |
kaans toelaat as permissiewe medium tot en met die vierde standaard.’ En 'n bietjie later dieselfde dag skryf hy aan Vroutjie: ‘Liefstetjie, Ik het jou netnou 'n telegram weggestuur dat mij mosie om Afrikaans als medium permissief toe te laat tot en met die vierde standaard, deurgegaan het. Ik voel so gelukkig dat ik kan huil, maar so kapot dat ik kan neerslaan. Ik het dag en nag gewerk met vriend en vijand. Hier het ik nie eens nodig gehad om te praat bijna nie - ik het die saak gewin gehad voordat ik agtermiddag hierin gekom het. Ik sal jou self seg hoedat ik te werk gegaan het - dit is te veel om te skrijf. En mij eie mense hier - die voorstanders van Afrikaans in die Kaap - het mij soos gewoonlik in die steek gelaat totdat ik vir hulle geseg het: Gaat nou julle naar die bliksem, ik is gewénd om alleen te staan. En ik het alleen gestaan en die ding deurgeveg.’ Met die aanname van die mosie was daar in die Kaapse dagbladpers geen buitengewone aandag aan die hele aangeleentheid nie. Die Cape Argus het wel met 'n gunstige hoofartikel gekom, maar die Cape Times en Ons Land het dit eenvoudig doodgeswyg. Van vriende en kennisse het Langenhoven darem wel heelwat private briewe en telegramme ontvang. In De Volkstem van 5 Mei 1914 wy Preller 'n hoofartikel aan die Kaapse besluit. ‘Met verrassende snelheid’, so skryf Preller, ‘het onse kollega van “Het Zuid-Westen” (Oudtshoorn), tans ook lid van die Kaapse Prov. Raad, in gemelde lichaam deurgevoer gekrij 'n besluit, om Afrikaans te erken als voertaal van die onderwijs op die lagere skool. Ons wens ons Volk geluk daarmee! Vir die eerste maal in die geskiedenis van Suidafrika sal die s.g. “Hollands-sprekende” Afrikaner nou die reg en voorreg gaan geniet van onderrig te mag worde door middel van sijn eige taal, terwijl hij al die honderde jare nog gekniehalter word met 'n voertaal wat nie sijn eie was nie.’ Hy is dankbaar vir die moed van sy Oudtshoornse kollega. ‘Sijn werk word 'n baken op die pad van ons Afrikaanse Taal.’ Oor die regskundige probleem, of Afrikaans inbegrepe is by Hollands in artikel 137 van die grondwet, het Langenhoven aan die einde van hoofstuk V van die tweede deel van U dienswillige dienaar nog 'n byvoeging. ‘As 'n saak van sentiment en nasionale hoogmoed sou dit my bitterlik bedroef om te moet erken dat die twee tale een taal is - dit was dan juis die groot bedrogsverwarring waardeur ons eie taal so lank van ons weggehou is. Maar deur bevoegde regsinterpretasie sou die saak moes beslis geword het sonder sentiment deur 'n gevoellose reg- | |
[pagina 298]
| |
bank. As die twee tale een is, dan kon ons maar sonder wetswysiging aangehou het om Afrikaans oral in te voer waar hy vandag in gebruik is ... Maar as daar 'n toetssaak voor die regbank gekom het, en die regbank het die teenoorgestelde interpretasie aan die woord “Dutch” gegee, dan was alle Afrikaanse wetgewing 'n nulliteit, want dan was dit ongehoorsaam aan die gebiedende bepaling van die Grondwet.... Maar gelukkig, die teëparty - die anti-Afrikaans-mense - kon dit nie bekostig om hierdie beswaar te opper nie: hulle was dan honderd jaar en langer besig gewees om die volk wys te maak dat die twee tale een is; dit was die enigste hoegenaamde voorwendsel van grond onder hulle voete. En hier kom ons, Afrikaans-voorstanders, nou saamstem met hulle om 'n teenoorgestelde oogmerk te bereik. Ek het nog nooit 'n koddiger ooreenkoms in 'n geskilpunt gesien nie.’Ga naar eind47 Die besluit van die Kaapse Provinsiale Raad op 23 April 1914 om Afrikaans as medium van onderrig tot en met standerd IV in te voer, was die eerste belangrike deurbraak vir die stryd om die erkenning van Afrikaans en die begin van die suksesvolle afhandeling van wat Langenhoven teen hierdie tyd as die missie van sy lewe beskou het. Ander taalstryders het eerder as Langenhoven pleidooie gelewer, skeppende werk van waarde voortgebring en daadwerklike pogings aangewend om Afrikaans te bevorder. Die eer kom Langenhoven egter toe dat hy die eerste was wat ingesien het dat die verwesenliking van die ideaal alleen langs 'n politieke weg kon geskied en dat dit juis op daardie oomblik - en nie later nie - uitgevoer moes word. Dat Tobie Muller in Die geloofsbelydenis van 'n Nasionalist in werklikheid vir hom die procédé uitgespel het wat die invoering van Afrikaans as onderwystaal betref, doen nie afbreuk aan wat Langenhoven, feitlik manalleen, reggekry het nie. | |
IVLangenhoven het Oudtshoorn ses jaar lank in die Provinsiale Raad verteenwoordig. Aanvanklik is hy onbestrede verkies as lid van die Suid-Afrikaanse Party. Wanneer Louis Botha en Smuts egter in 1915 Duits-Suidwes-Afrika binneval, het hy die moed van sy oortuiging om in die Provinsiale Raad ‘die vloer te kruis’ en aanvanklik as enigste Nasionalis die politieke rigting van genl. HertzogGa naar eind48 te steun. Op 30 Maart 1915 is hy die enigste lid wat teen 'n voorstel stem dat waarde- | |
[pagina 299]
| |
ring uitgespreek word vir Botha se besluit om Duitswes in te val. Wanneer daar teen onderwysers wat aan die Rebellie deelgeneem het, gediskrimineer word deur hulle name van die rol te skrap, stem Langenhoven op 9 April weer teen die beginsel. In 'n telegram van 10 April 1915 ondersteun sy kiesers uit De Rust hom: ‘Ons is saam met jou in die wildernis en keur jou handelswyse goed.’ S.P. le Roux, in hierdie jare 'n jong advokaat met boerderybelange in De Rust, wens hom in 'n brief van 4 April geluk met die stap. Baie gou word hulle politieke maats en hegte vriende. Later, wanneer Le Roux se seun Stephen - nog veel later bekend as die skrywer Etienne Leroux - gebore word, is Langenhoven sy peetvader. Alhoewel hy as briljante redenaar en gewilde spreker ook van vroeg af deur sy partyleiers in die politieke hoofstroom betrek word en as joernalis 'n belangrike bydrae tot die vestiging en uitbouing van die Nasionale Party lewer, is Langenhoven aanvanklik veral in die Provinsiale Raad as politikus aktief. In die Provinsiale Raad was hy by herhaling in skermutselinge betrokke met die diktatoriale en kortgebakerde administrateur, sir Frederic de Waal, alhoewel daar van vroeg af ook 'n wedersydse agting vir mekaar was. By geleentheid het Langenhoven sir Frederic op Engels gepak oor sy kortaf behandeling van Nasionale lede en het die administrateur op nog kwaaier wyse geantwoord.Ga naar eind49 By 'n ander geleentheid moes Langenhoven egter erg op sy neus kyk. Na aanleiding van die kwessie van moedertaalonderwys het hy 'n mosie van wantroue in De Waal ingestel. De Waal het sy optrede verdedig en toe begin aanhaal uit die petisie van die ‘Loyal Africanders’ aan koning Edward VII tydens die Anglo-Boereoorlog, 'n stuk waarvan Langenhoven die opsteller en medeondertekenaar was.Ga naar eind50 Langenhoven se uitlatings teen die Boererepublieke het vir hom groot verleentheid veroorsaak in sy rol as taalstryder. Hy was verplig om 'n verdaging en 'n gesprek met De Waal aan te vra en die moontlikheid te opper dat die mosie teruggetrek kan word. De Waal het ingestem, maar met 'n gebaar in die rigting van 'n groot stapel boeke voor hom, gesê dat hy nog baie stof tot sy beskikking het. Ná die verdaging is Langenhoven se mosie teruggetrek. Toe J. Steinmeyer, joernalis by De Burger, die administrateur vra wat die ander boeke beduie, het hy lekker gelag: ‘Dit was gewone boeke waarin niks in verband met die saak gestaan het nie. Ek het dit slegs daar laat bring om indruk te maak. En het dit nie goed gewerk nie?’Ga naar eind51 | |
[pagina 300]
| |
Maar oor die algemeen was die verhouding tussen Langenhoven en De Waal goed, ten spyte van die feit dat albei graag die laaste woord wou hê. Veral toe Langenhoven as enigste Nasionalis in Junie 1917 tot lid van die Uitvoerende Komitee verkies is, het hy De Waal beter leer ken en waardeer. By dié geleentheid het De Waal hom telegrafies met sy verkiesing gelukgewens. Langenhoven het teruggetelegrafeer: ‘Dank voor vriendelike gelukwensen van de apotheker aan de in zijn zalf gevallen vlieg.’ In 1917 wen hy sy eerste verkiesing in Oudtshoorn deur die SAP-kandidaat vir die Provinsiale Raad te verslaan. In 'n brief van 21 Mei 1917 in die Oudtshoorn Courant bedank hy sy kiesers en spreek hy hom uit oor die outokratiese gedrag van die administrateur en die manier om verteenwoordigers van verskillende politieke partye teen mekaar uit te speel in sake wat met die partypolitiek niks te make het nie. ‘Deur een seksie af te speel teen die ander,’ so skryf Langenhoven, ‘deur lobbie-werk en werwery, met behulp van éen van die welsprekendste tonge en een van die helderste breine in Suid-Afrika, het Seur Frederick de Waal in plaas van die dienaar van die Provinsie soos hy bedoel was om te wees, homself in grote mate tot baas daarvan gemaak. Autokraatskap is 'n gevaarlike en verraderlike plantjie en wanneer die omgewing daargestel is vir syn maklike ontwikkeling, sprei die wortels in so baje koerse en die masienerie van die Staat is so 'n enorm kragtige bemesting, dat die volk hulle vryhede éen vir éen sien afneem maar hulle word meer en meer magteloos en hulle moet maar bektrek en kreun en verdra. En so, met kuns en slag en takt, met goeie bedoelings en meer dikwels reg als verkeerd (wat hom te meer gevaarlik maak) het Seur Frederick voortgegaan om te sentraliseer en die inisiatief en belangstelling en ambiesie en trots van plaselike liggame te ondermyn totdat die provinsiale administrasie aan die gang is om 'n masien-gedrewe stelsel te word, met die dryf-handvatsels in die hande van klerke in die Kaapstad.’ Teen dié ontwikkeling, gaan Langenhoven voort, moet elke raadslid hom verset. Dit was die afgelope drie jaar sy lot, meer as dié van ander raadslede, ‘om onder die wanguns te verval van syn Edelagbares ongeduldige onverdraagsaamheid van kritiek. Gedurende die laaste sessie het die enigste tegestand wat die moeite wêrd is om van te praat, gekom van die kant van die kleine bende Nasionaliste in die Raad wat my die eer aangedoen het om my aan hulle hoof te plaas.’ Hy spreek hom uit teen partypolitiek in die Provinsiale Raad en die wyse waarop die administrateur omstrede sake soos die | |
[pagina 301]
| |
onderwystugordonnansie deur die raad gedwing het. En as sir Frederic op George 'n voordrag oor die wêreldgeskiedenis hou,Ga naar eind52 gee dit Langenhoven die geleentheid om 'n hekelende artikel te skryf. Blykbaar was dit 'n lang voordrag, want sir Frederic het omtrent al wat volk is se geskiedenis uitvoerig behandel: Duitsland, Oostenryk, Rusland, België, Frankryk, Engeland, Amerika, Japan, Brasilië en Argentinië. Toe hy egter by Suid-Afrika kom, was sy vermaning: ‘Let the dead past bury its dead.’ Dat ons van al die ander moet leer maar ons eie moet vergeet, is vir Langenhoven suiwer, onvervalste, imperiale, geskiedkundige bedrog. Vir De Waal het Langenhoven respek gehad, vir die eerste minister, Louis Botha, nie, al was hy aan die begin van sy termyn as lid van die Provinsiale Raad diplomaties genoeg om nie te velde te trek teen die leier van die party wat hy aanvanklik verteenwoordig het nie. Op 1 September 1915, nadat hy reeds tot die Nasionale Party toegetree het, skryf Langenhoven egter vir De Burger 'n verslag oor die voorgenome besoek van Botha aan Oudtshoorn. Al die voorbereidings vir dié besoek sal uit die belastingbetalers se sakke moet kom en die voorgenome verrigtinge is daarop bedag ‘om die Generaal met lauwerkranse en jubeltone op die plek te breng waar die politieke spiets afgesteek sal word, en na afloop hom weer verder te help naar die volgende senter toe’. Ná die besoek op 14 September 1915 skryf Langenhoven weer 'n artikel. Met Botha se vorige besoek aan Oudtshoorn is hy verwelkom as premier; dié keer is hy slegs ontvang deur die ‘jingo-seksie’ van die dorp. ‘Die held van Duits Suidwest’, so sê hy, ‘moet gevoel het watter gesigte hij mis wat die vorige maal rondom hom was.’ In sy toespraak het Botha onder meer die Nasionaliste beskuldig van wangedrag en dat hulle die sing van ‘God save the King’ versteur het. Volgens Langenhoven het Botha egter nagelaat om te vermeld dat die Unioniste by 'n ander geleentheid 'n vergadering van die Nasionale Party onderbreek het deur die Britse volkslied as ‘raaswapen’ te gebruik. Na aanleiding van 'n toespraak wat Botha op Morgenzon hou, bekyk Langenhoven Suid-Afrika se posisie tydens die Eerste Wêreldoorlog, 'n beredenering waaruit blyk in watter mate hy hom distansieer van die pro-Duitse gesindhede en met Suid-Afrika se posisie ten opsigte van Brittanje rekening hou. As ons neutraal wil bly in 'n oorlog waarin Engeland gewikkel is, sê hy, moet ons van die Britse vlag ont- | |
[pagina 302]
| |
slae raak. Ons staan egter onder geen konstitusionele verpligting om 'n ‘werkdadige aandeel’ aan die oorlog te neem nie. Alleen as die vyand ons aanval, kan ons verdedigend optree. Tog is daar 'n redelike verpligting om Engeland in die oorlog by te staan. Ons lidmaatskap van die Empaaier, so skryf hy, is op sigself só voordelig ‘dat ons, in ons blote eige belang, vir die instandhouding van die Empaaier die soort opofferinge behoor te maak wat elke staat gewilliglik doen vir die handhawing van sijn eige onafhankelikheid’. By geleentheid skryf Langenhoven 'n striemende satire op Botha waarin hy Saul, die eerste koning van Israel, se besoek aan die heks van Endor in 1 Samuel 28 as verwysingsraamwerk gebruik.Ga naar eind53 Met die Rebellie, arbeiderstakings, anti-Duitse oproere en moord en doodslag bring Botha se regering nie die verwagte vrede en sterkte nie. Sy konsiliasiebeleid het misluk, sy eie volk het hom verwerp. Toe hy 'n ‘spiritistmedium’ soek om te raadpleeg, word hy daaraan herinner dat hy Siener van Rensburg in die tronk gesit het en dat 'n profeet nou moeilik gevind kan word. Botha roep dan deur 'n Nasionalistiese vrouemedium vir Paul Kruger op en aan haar sê Botha dat hy ‘seer beangstigd is’, want by ‘die lewende is daar geen raad meer vir mij nie’. Kruger vra Botha of hy dan nie raad van Smuts kan kry nie. ‘Deur sijn raad’, antwoord Botha, ‘is ik waar ik vandag is.’Ga naar eind54 Wanneer die premier in Bloemfontein 'n toespraak hou, lewer Langenhoven kommentaar op Botha se taalgebruik. ‘Die generaal gebruik nie suiwer Afrikaans in sijn toesprake nie en ook nie 'n Hollands wat met die taal van 'n Hollander maklik kan verwar word nie, maar 'n soort Afrikaans met hollandse verbuiginge wat hij sonder 'n bepaalde plan holderste bolder inlas sodat daar nou en dan bij toeval éen op die regte plek kom.... Die Generaal gebruik nooit Engels in sijn toesprake nie; want die vereiste is nou éénmaal in Suid Afrika so dat jij Engels suiwer moet kan praat of anders moet jij hom laat blij, terwijl jij met die Hooghollandse grammatika kan mors soos jij wil. Stop maar hebben en heeft en de en het en was en waren in soos jij hulle die eerste in die hande krij. Al is hulle nie korrekt nie dan is hulle tog Hollands. En Afrikaans is nie vir die Generaal hoog genoeg nie. Of is hij nie vir Afrikaans hoog genoeg nie, of hoe?’Ga naar eind55 Telkens rig Langenhoven hom in sy politieke geskrifte - meestal verslae na aanleiding van toesprake of briewe aan koerante - teen die konsiliasiebeleid van Botha en Smuts en die jingoseksie van Oudts- | |
[pagina 303]
| |
hoorn. As die redakteur van die Cape Times wys op verteenwoordigers van verskillende volkere wat na die Verenigde State verhuis en 'n lojaliteit teenoor hulle nuwe vaderland ontwikkel het, terwyl alleen die Duitsers dáár getrou bly aan hulle agtergelate en dus ontrou is aan hulle aangenome vaderland, vra Langenhoven wat die Engelse in Suid-Afrika doen. As húlle, wat ná die pioniers gekom het, nou verwag dat hulle taal en kultuur voorrang bo dié van die Afrikaners moet kry, praat hulle nes die Duitsers van 'n kultuur waaronder die wêreld moet buig asof dit die enigste beskawing is. In 'n vroeë, geestige, satiriese stuk illustreer hy die verhouding tussen Engelse en Afrikaners met die Bybelse leeu en lam as raamwerk. Hy rig sy ‘oproep’Ga naar eind56 tot sy Engelse landgenote. ‘Vriende’, skryf hy, ‘laat ons vrede maak en vrede hou. Laat die leo en die lam saam wei; die lam op die gras en die leo op die lam. Julle kan die leo wees en ik sal die lam wees. Dan sal ik weldra ook deel van die leo uitmaak. Dit sal die lam tot eer strek en die leo tot genot. Hulle sal nie meer twee-stroom wees nie maar een-stroom. Konsiliasie sal oorbodig word. En dit sal julle baje moeite spaar, want die konsiliasie moes mos nog maar altijd van julle kant kom.’ Wanneer die Cape Times 'n hoofartikel oor die siel van Rusland skryf en 'n studie daarvan in Engeland en Suid-Afrika aanbeveel, gaan hy daarmee akkoord, mits die Engelse ‘die meer nodige leemtes in ... (hulle) opvoeding eers hier ... (aanvul)’. Want, so gaan hy voort, ‘voordat julle met die russiese leerplan 'n aanvang maak, denk ik sou dit raadsaam wees vir julle om 'n bietjie aandag te bestee aan onse taal en letterkunde’. En wanneer Louis Botha in Brittanje 'n eredoktoraat vir sy konsiliasiepolitiek ontvang, is sy gelukwensing striemend. Langenhoven vind dit ‘'n uitstekende vorm van verering. Want net soos 'n vijfpond noot meer vir 'n bedelaar beteken als vir 'n miljoenair so staat die waarde van 'n titel in omgekeerde eweredigheid tot die verdienste van sijn besitter.’ Louis Botha se konsiliasiebeleid is slegs 'n toenadering van een kant, 'n soort skikking wat van die Afrikaner eis dat hy ‘sij heiligste belange ter wille van vriendskap moes opoffer’. Langenhoven skryf: ‘Ik glo ook aan skikking en kompromie en versoening. Ik glo ook aan “give and take” - maar nie op die manier dat ik aanhou met “give” en mijn tegenpartij hou aan met “take” nie.’Ga naar eind57 Oor Duitsland se rol in die oorlog is Langenhoven by herhaling baie uitgesproke. ‘Ik hou nie van onverantwoordelike bestier en passe en militaire despotisme en allerhande ergerlike bemoeienis met mijn pri- | |
[pagina 304]
| |
vate sake en met mijn persoonlike vrijheid nie’, skryf hy aan De Burger.Ga naar eind58 Dié soort stelsel is vir hom ‘te duits en te smuts’. Daarteenoor hou hy baie van die Engelse nasie. ‘Na aftrek van die klas wat hierheen uitgekom het’, sê hy, ‘moet daar baje goeie oorgeblij het. Nie elke land het die voorreg om sijn bevolking so aanhoudend uit te sif en dié wat deurval te verwijer nie.’ Waarteen hy dit wel het, is die Engelse se taalimperialisme. Die Afrikaners besit baie van die ‘tugteloosheid’ van die Engelse. Soos hulle wil ons ons nie laat ‘rond-order’ nie. Ons het soos hulle 'n ‘dweepsugtige gehegtheid aan die ideaal van persoonlike vrijheid - 'n ingewortelde afkeer teen alle vorme van dwingelandij’. In Engeland dikteer die volk aan die regering, in Duitsland dikteer die regering altyd en die volk gehoorsaam. ‘Die Duitser’, so gaan Langenhoven in sy karakterisering voort, ‘is 'n skepsel van dissiplien sijn lewe lank. Daarom is hulle so geoefen en so ingespan. Op die boereplase waar die kos vir die legers moet vandaan kom, in die fabrieke waar hulle uitrusting en ammuniesie afgemaak word: dwarsdeur Duitsland is daar dieselfde perfekte organisasie, dieselfde haarfijn gestolde en glad ge-oliede masienloop als op die slagvelde. Daar word nie 'n aardappel in die grond gesteek nie of die sak waar hij vandaan kom en die man wat hom plant is ergens op 'n kaartjie geregistreer. En als daar navraag is kan jij die kaartjie in drie sekondes voor die dag breng.’ Teenoor so 'n instelling en geesteshouding staan Langenhoven skepties. Ten spyte van hierdie uitgesproke voorkeur vir die Engelse mentaliteit en ingesteldheid kon Langenhoven sterk hekelend en satiries teenoor hulle stelling inneem. By geleentheidGa naar eind59 wei hy uit oor Engelse woorde wat nie Afrikaanse ekwivalente het nie. As 'n korrespondent van die Cape Argus vra wat die Engelse woord ‘boycott’ in ‘the taal’ is, wys 'n skrywer van De Burger daarop dat daar geen woord bestaan nie omdat die handeling vir die Afrikaanse nasie onbekend is. Langenhoven gaan voort en wys daarop dat ook woorde soos ‘caucus’, ‘up-to-date’, ‘fashionable’, ‘Empire’, ‘Dominion’ en ‘smart’ nie in Afrikaans bestaan nie. Laasgenoemde sal ons vertaal met ‘skelmerij, bedrog, ver ...rij. Maar die engelse taal is ons weer ver voor in die behendigheid waarmee hij 'n mooi woord kan gebruik om 'n lelike daad te verbloem.’ Daar is volgens Langenhoven ‘nie 'n taal in die wereld waarmee jij so maklik kan bedrieg (as Engels) nie. Jij seg niks en dan denk 'n man jij het iets geseg. Jij seg iets en dan denk hij jij het iets | |
[pagina 305]
| |
anders geseg.’ Afrikaans, daarteenoor, is ongeskik as 'n ‘mislei-taal’ en vir Suid-Afrika is dit 'n beter taal as Engels. Dit hang saam met die lief en leed van ons voorouers, met ons velde en boerderye, ons diere en plae, ons sugte en trane, ‘ons manier van inwoning en verkeer en omgang met mekaar, onse eenvoudige vermake en onse skrale troos in die verre eensaamtes’. Dit gee uitdrukking aan ons gehegtheid aan die eie huis en haard, ons gasvryheid, ons liefde ‘vir ons grote land en ons kleine nasie’ - 'n taal, dus, wat die spore dra van ‘die sielsgeskiedenis van ons volk’. Met hierdie uitsprake sluit Langenhoven regstreeks aan by wat hy enkele jare tevore in ‘The problem of the dual language in South Africa’ gesê het en wat 'n mens as sy eerste liefdesbelydenis aan die Afrikaanse taal kan beskou. Langenhoven se geliefde politieke vyande was dus die Engelse en die Sappe, alhoewel hy hom uiters selde teen spesifieke persone rig. Dit is eerder 'n geestesgesteldheid waarteen hy hom verset. Maar ook op verraaiers in eie geledere kon hy skerp reageer. By geleentheid stel hy vir De Burger 'n ‘Politieke woordeboek’Ga naar eind60 op waarin hy bepaalde verskynsels hekelend definieer. Daarvolgens is 'n ‘hans-kakie’ 'n ‘jingo wat vlagge waai en vrot eiers gooi en “Krioel Britenja” skree en lojaler is als die Koning maar nie wil gaan veg nie’. Die Suid-Afrikaanse Party is ‘'n sak sout wat in die water gegooi is. Die sout is uitgesmelt en al wat oorblij is die sak met die letters SOUT daarop.’ Konsiliasie beteken ‘saamstemming; gekoopte vrindskap; vredesvoorwaardes deur die éen kant opgeleg’. Die eenstroombeleid verklaar hy as volg: ‘Mijne is mijne en joue is ook mijne.’ Langenhoven is by herhaling deur sy eie party ingespan om as spreker op te tree of vlugskrifte te skryf. In 1917 help hy dr. D.F. Malan by die belangrike tussenverkiesing in Victoria-Wes. Reeds eerder, wanneer dr. Malan Oudtshoorn in 1915 besoek, is hy beïndruk deur Malan se ‘kalme gematigdheid’ en bedaardheid en skryf hy in De Burger uitvoerig oor die optrede van die Kaaplandse leier. Tog het hy hom by meer as een geleentheid teen die partyleiding verset. Juis Malan se ‘kalme bedaardheid’ vuur hom later aan tot reaksie, want Langenhoven het verkies dat sake blitssnel moes verloop. Vir Hertzog het hy, na die aanvanklike teenstand in sy SAP-tyd, groot bewondering en waardering. Toe daar in 1918 'n konferensie van die hoofbestuur van die Nasionale Party belê word, stel Langenhoven egter in 'n brief van 30 Junie 1918 aan Hertzog 'n paar besware teen die republikeinse bewe- | |
[pagina 306]
| |
ging in die party op skrif. Hy is gekant teen die gebruik van wapens om 'n republiek te verkry. Solank hulle party nie die meerderheid besit nie, sal die republiek ‘'n vrome en onbereikbare ideaal blij’. Die enigste politieke wapens wat sal deug, is propaganda, maar hy kan aan niks dink wat van die Sappe republikeine sal maak nie. 'n Republikeinse beweging in die heersende situasie in die land sal die verdeeldheid vergroot. Al die griewe wat die Sappe teen die Botha-regering het, sal verval tot 'n ondergeskikte rang en die republikeinse strewe sal die groot twisappel wees. Langenhoven weet derhalwe nie van 'n taktiek wat beter bereken is om in die hande van hulle teenparty te speel nie. Dat sy standpunt wel indruk moet gemaak het, blyk uit die feit dat die republikeinse kwessie in hierdie jare in die program van die Nasionale Party heeltemal agterweë gelaat is. Op die NP-kongres op De Aar in Junie 1919 stel Langenhoven dan ook voor dat die Nasionaliste ‘alle republikeinse propaganda (afkeur) wat 'n beroep maak op geweld of andere als konstitusionele middele beoog’.Ga naar eind61 Op 20 Junie 1919 publiseer hy 'n ope brief in De Burger oor die aangeleentheid. Juis Langenhoven se optrede as politikus lei in die jare van deelname aan die Kaapse Provinsiale Raad tot sy eerste publikasies by die Nasionale Pers, die nuwe uitgewersfirma wat met die totstandkoming van De Burger opgerig word en waarmee Langenhoven in die jare van sy hoogste produktiwiteit 'n besonder hegte verhouding sal hê. In 1916 skryf hy 'n pamflet van 24 bladsye onder die skuilnaam Paddastoel, sy eerste publikasie in boekvorm by die Nasionale Pers. Dit heet 'n Vriendelike woord aan die Zappe en is bedoel as 'n pleitrede waarin hy die ondersteuners van Botha en Smuts tot ander insigte wil oorhaal, onder meer deur stil te staan by kwessies soos die Britse vlag, die Rebellie en die konsiliasiebeleid wat verdelende magte in die Afrikanergemeenskap is. Wanneer genl. Hertzog in 1919 'n pleidooi nodig het wat by die vredesonderhandelinge van Versailles en die oprigting van die Volkebond die posisie van klein nasies teenoor 'n verswelgende imperialisme moet stel, skryf Langenhoven ‘'n Paar algemene oorweginge omtrent geskiedenis-studie’, wat saam met 'n stuk van Preller as Twee geskiedkundige opstelle gepubliseer word. In dié opstel skets Langenhoven die ontwikkeling van die Afrikaner se nasionale volksbewussyn en die armblankeprobleem. Dit was die bedoeling om albei stukke ook in Engels te vertaal, maar daarvan het niks gekom nie. Waarskynlik was | |
[pagina 307]
| |
die aanpak in sowel Preller as Langenhoven se opstelle te spesifiek Suid-Afrikaans gerig om tot 'n internasionale publiek te spreek. Preller s'n bly vassteek in klein historiese details, Langenhoven s'n in agrariese beeldspraak wat te lank uitgerek word en nie juis tot 'n slotsom kom nie. Van groter omvang en belang is twee werke wat Langenhoven, ook met die oog op die vredesonderhandelinge, in Engels skryf. In 1919 publiseer hy Republicans and sinners onder die skuilnaam A Loyalist, 'n werk wat illustreer hoe vinnig hy 'n geskrif kon afhandel. Volgens 'n mededeling in U dienswillige dienaar het Langenhoven op 28 Januarie 1919 per telegram die opdrag vir die boek van dr. Malan ontvang. Op 10 Februarie 1919 verskyn die boek. Tussen daardie twee datums is die boek dus gekonsipieer, geskryf, gedruk en gebind!Ga naar eind62 Republicans and sinners word opgedra aan president Wilson van die VSA en sy ‘fellow-peacemakers at the Great Council of the Nations who would not wish to see done unto others what they would not wish to see done unto themselves’.Ga naar eind63 In die boek ontleed Langenhoven wat hy as die kenmerkende eienskappe en ideale van die twee blanke bevolkingsgroepe in Suid-Afrika beskou. Die Engelse het 'n tipiese ‘home’-mentaliteit en sien alle ander volkere as ‘foreigners’, haat die Suid-Afrikaanse ideaal van patriotisme en meen dat alle ‘vreemde’ elemente in hulle ras geabsorbeer moet word. Die ‘English assumption of superiority which beats the German “über alles” and “übermensch”,’Ga naar eind64 word in Suid-Afrika versterk deur die verering van die Britse koning en die Union Jack. Die afwesigheid van literêre kreatiwiteit onder Engelse in Suid-Afrika wyt hy aan die gebrek aan patriotiese idealisme, al bied die land deur sy grootse natuur en die tragiek van sy geskiedenis alle moontlikheid vir groot literatuur. Ten spyte hiervan het die Engelse kort ná hulle aankoms aan die Kaap Hollandse kinders na Engelse skole gestuur ‘to despise the ideals of their own race and the spirit of fidelity to their own land, to be taught the grossest distortion of their own glorious history that they might worship the English deliverer’.Ga naar eind65 Teen hierdie optrede en gesindheid is Langenhoven se hele boek gemik. Wanneer Langenhoven later in 1919 weer 'n boek in Engels oor die politieke situasie in Suid-Afrika skryf, dra hy dit honend op aan J.C. Smuts, skrywer van Een eeuw van onrecht. Die boek dra die titel The everlasting annexation en word aangebied as 'n droom, 'n toekomsfanta- | |
[pagina 308]
| |
sie waarin die wêreld, uitgesonderd Suid-Afrika en die res van Afrika, deur 'n nuwe ontploffende ster weggeskeur word. Omdat die Britse Ryk daarmee ook tot niet is, beteken dit die einde van die Britse oorheersing en kom die Nasionaliste aan die bewind in Suid-Afrika, onder meer met die herstel van die taalregte van die Afrikaners en met behoud van alle taalregte van die Engelse. ‘So, internationally’, sluit Langenhoven, ‘imperialism must go and nationalism take its place. And that is the great and shining splendour of the star of hope that we will see piercing the darkness of despondency into which the thinking man has been cast down by the spectacle of a world gone mad. Through all the chaos and confusion, steadily, irresistibly, we see the rise of nationalism. Men are beginning to find again their lost ideal; having found it, they will have found themselves. The individuality of the nation will restore the character of the nation; the character of the nation will restore the character of the individual. The national soul will save the soul of the man and woman and child. For citizenship is the highest of the virtues; the honour of the father and the mother is the honour of God.’Ga naar eind66 So belangrik het F.V. Engelenburg The everlasting annexation gevind dat hy op 19 Desember 1919 'n hoofartikel in De Volkstem daaraan wy. Terwyl polemieke oor openbare aangeleenthede dikwels met geringskatting van die opponent, skeldwoorde en insinuasies gepaard gaan, getuig die satire in dié boek, gerig tot Engelstalige medeburgers, vir Engelenburg van 'n fynheid en skerpte wat 'n mens nie dikwels aantref nie. ‘Als bijdrage tot onze verkiezingsbedrijvigheid’, skryf Engelenburg, ‘is “The everlasting annexation” 'n zonnestraal te midden van de atmosfeer van stof en modder en walmen, welke nu eenmaal onafscheidelik schijnt van elke politieke aktiviteit van de “homo sapiens”.’ As lid van die Provinsiale Raad en van die Uitvoerende Komitee was Langenhoven se politieke bedrywighede dus nie tot die Kaapprovinsie beperk nie, maar het hy van vroeg af ook 'n belangrike aandeel aan sake van landsbelang gehad. Deur sy optrede as voortreflike redenaar en deur sy helder betogende en skerp satiriese prosa het hy 'n beduidende aandeel gehad aan die vroeë en vinnige opgang wat die Nasionale Party in die jare 1915-1920 kon maak. Opvallend is dat Langenhoven hom met sy bydraes telkens gerig het teen persone en veral tendensies wat ander lojaliteite en simpatieë as Suid-Afrika het en wat nie in die belang van die vaderland optree nie. Dit was die basis vir sy kritiek op Botha, | |
[pagina 309]
| |
Smuts en die ‘jingo-seksie’ van die bevolking en sy waardering vir Hertzog en Malan. Onderliggend hieraan was altyd die belange van Afrikaans en die regmatige plek wat hy vir sy eie taal beding het, selfs in gevalle waar die taalstryd nie regstreeks ter sprake was nie. Taal en politiek was trouens by hom ten nouste verweef, want hy het juis tot die politiek toegetree om aan Afrikaans staatkundige status te gee. Alhoewel hy ook op ander terreine as LPR sy provinsie gedien het, was hierdie taak vir Langenhoven allesoorheersend. Die mosie van 1914 was die eerste mylpaal op die weg na die uiteindelike amptelike erkenning. Van die belangrikste werk wat Langenhoven ná 23 April 1914 in die Kaapse Provinsiale Raad en as politieke redenaar en joernalis gedoen het, was 'n verdere uitbouing van hierdie eerste stap. |
|