Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 243]
| |
Deel III
| |
[pagina 245]
| |
Hoofstuk XII
| |
[pagina 246]
| |
begin veld wen dat moedertaalonderrig nie slegs 'n opvoedkundige noodsaaklikheid was nie, maar ook 'n nasionale prioriteit.Ga naar eind5 Toe Langenhoven teen die einde van die eerste dekade ná die eeuwisseling op die taaltoneel verskyn, was daar aan die kant van die Hollandstalige gemeenskap geen eenstemmigheid oor watter rigting die stryd vir die behoud en uitbouing van die landstaal moes inslaan nie. Die voorstanders van die Vereenvoudigde Nederlands het gemeen dat dié vorm nie alleen nader aan die spreektaal sou kom nie, maar dat dit uiteindelik ook die aanvaarde taal van die Hollandssprekendes sou word. Afrikaans, so het hulle beweer, is nie die taal van fatsoenlike mense nie, maar van die kombuis en kinders. Die vraag is trouens gestel of dit werklik patrioties is om dié onbeholpe taal teenoor die wêreldreus Engels te probeer bevorder.Ga naar eind6 Een van die argumente teen Afrikaans was dat dit geen verhewe gedagtes kon akkommodeer nie en hoogstens grappige geskrifte soos dié van Melt Brink kon voortbring. Daarby is die stryd vir Afrikaans gesien as 'n herlewing van die Patriotbeweging en geassosieer met S.J. du Toit. Du Toit was in hierdie stadium in totale diskrediet as gevolg van sy politieke ommeswaai ten gunste van Cecil John Rhodes, terwyl sy ultrafonetiese spelwyse te ver van Nederlands afgewyk en te vreemd op die oog geval het. Die Patriotbeweging, so stel Langenhoven dit in U dienswillige dienaar, het sy aanvanklike sukses geput uit die politieke ontwaking in die Kaapkolonie, maar deur die ‘bolmakiesie van die leier van die beweging het die ineenstorting van sy politieke invloed die taalbeweging saam onder een puin begrawe’.Ga naar eind7 J.H.H. de Waal skryf dat Du Toit wel 'n eerlike man was, maar baie eersugtig. Toe hy nie suksesvol was in sy pogings om 'n setel in die Parlement te bekom nie en mense hulle toenemend van hom gedistansieer het, was hy teen die einde van sy lewe totaal verbitterd. Hy is deur baie van sy eertydse aanhangers as 'n gevaarlike man beskou. Soos 'n boer dit by geleentheid gestel het, so skryf De Waal: ‘Du Toit is soos 'n bok: alles waaraan hy kou, vrek.’Ga naar eind8 En Langenhoven voeg hierby dat die Patriotbeweging idealisties nie ‘hoog-besield’ was nie: ‘Die werk wat daar gedoen is, tref ons vandag soos die werk van kinders, gebrekkig aan skoonheid, aan kennis, en aan vernuf. Met so 'n gehalte van propaganda vuur jy geen volk tot onstuimige geesdrif aan nie.’Ga naar eind9 Dit spreek dus vanself dat daar in Afrikanergeledere nie op die werk van die Eerste Afrikaanse Beweging voortgebou kon word nie, maar | |
[pagina 247]
| |
dat daar 'n nuwe inset in die stryd moes kom. Mense wat hulle wél met die belange van Nederlands of Afrikaans bemoei het, was hoofsaaklik as joernaliste aktief werksaam, soos J.H.H. de Waal by De Goede Hoop in Kaapstad en Gustav S. Preller by De Volkstem in Pretoria. In Oudtshoorn was Het Zuid-Westen een van die plaaslike koerante. Dit is in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog opgerig. Dit het twee maal per week, op Maandae en Donderdae, verskyn en is gestig as mondstuk vir die boerebevolking, al het dit artikels in sowel Hollands as Engels opgeneem. Die kantoor van die blad was in Hoogstraat op 'n deel van die perseel wat vandag deur Ackerman beset word. As koerant was dit 'n taamlike allegaartjie met plaaslike nuus, en baie mense het dit bloot gekoop ter wille van die advertensies en berigte oor vendusies. Dit was gerig op al die suidwestelike distrikte en is versprei in Oudtshoorn, Calitzdorp, George, Uniondale, Mosselbaai, Knysna, Prins Albert, Ladismith en Riversdal. Die eerste redakteur van Het Zuid-Westen was Nico Hofmeyr, neef van J.H.H. de Waal en skrywer van Kijkjes in de geschiedenis (1893). Hy kon in sy posisie iets vir Afrikaans gedoen het, maar in sy termyn as redakteur was daar geen berigte oor dié taal nie. ‘(My) brawe ou neef’, so skryf De Waal, ‘was meer van 'n wysgeer en 'n sanger as 'n stryder. Hy het met die laaste mens wil maats bly. Gedurende die amper drie en 'n half jaar dat hy aan Het Zuid-Westen verbind was, het hierdie blad Afrikaans heeltemal negeer!’Ga naar eind10 Hofmeyr kon, volgens De Waal, nie insien dat ons nie 'n letterkunde kon kry solank die volkstaal geminag word nie. In 'n artikel uit 1902 wys Hofmeyr daarop dat ons in Suid-Afrika nog geen nasionale letterkunde het nie, ten spyte van al die boustowwe tot ons beskikking. Die enigste uitsondering was Olive Schreiner, wie se Story of an African farm in 1883 verskyn het, maar van wie reeds jare lank niks meer gepubliseer is nie. ‘De taalkwestie en het rassegevoel’, waarmee Hofmeyr die dispuut tussen Afrikaners en Engelse bedoel, ‘hebben de productie van een nationale letterkunde voor Zuid Afrika bijzonder in den weg gestaan.’Ga naar eind11 Na Hofmeyr se uittrede in Januarie 1904 was onder andere P.W. de Villiers 'n tyd lank redakteur van Het Zuid-Westen. Hy was ook ultraversigtig wat sy houding teenoor Afrikaans betref, maar het tog heelparty gediggies en prosastukkies uit ander blaaie oorgeneem.Ga naar eind12 Na 'n reeks verwisselings het J.H. Malan, later bekend vir Boer en barbaar, Die koms van 'n republiek en ander werke, redakteur geword. ‘Hy was’, so | |
[pagina 248]
| |
skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar, ‘'n oortuigde en hartelike Afrikaans-voorstander maar 'n seer verstandige en voorbeeldige langsaam haastende. Ook hy het op die ou sukkelpad aangehou. Gedurende sy tyd het daar af en toe stukkies van my in die “Het Zuid-Westen” verskyn, meeste by eleksietye, en almal òf in Engels òf in Hooghollands. Later - dit was ná die ontwaking - het ek “letterkundige” stukkies in Afrikaans bygedra - enkele daarvan is in my “Stukkies en Brokkies” herdruk, 'n stuk of wat het oorgeloop tot vandag toe in “Ons Weg deur die Wêreld”.’Ga naar eind13 Langenhoven se voorstelling van Malan se beleid en werksaamhede as redakteur is op bepaalde plekke gedeeltelik onjuis en onbillik, soos L.W.B. Binge en later ook J.C. Steyn aantoon.Ga naar eind14 In die tydvak 1908-1911 het die blad in die rubriek ‘Ligstraaltjies’ verskeie toneelstukke in Afrikaans gepubliseer, nog voor Langenhoven se bydraes wat in 1911 in Stukkies en brokkies opgeneem is. In die laaste paar maande van 1911 was daar ook verskeie hoofartikels en berigte in Afrikaans. Op 26 Februarie 1912 skryf Malan oor die taalsituasie in Suid-Afrika en noem hy die geval van Malta, waar Italiaans, ten spyte van pogings deur die Britte, steeds die amptelike taal is. Op 28 Maart 1912, in die laaste nommer van Het Zuid-Westen wat hy redigeer, vra Malan waarom Harm Oost se nuwe blad De Week nie sommer uit die staanspoor in Afrikaans verskyn nie.Ga naar eind15 En ter ondersteuning van Langenhoven se pleidooi in Ons Land en die verwyt van ‘hink op twee gedagtes’ sê Malan in die uitgawe van 11 Augustus 1911: ‘Het langer hinken op twee gedachten, is een onrecht aan de opkomst van Afrikaanse letteren, kunst en wetenschap, is en blijft een krenking van de natuurlijke taalrechten van het kind op school zoowel als van den ouder, ja, is een onweerzeglijke aanmoediging van een voor de moedertaal, gevaarlijke geneigdheid die vereenvoudigers beweren te bevechten met hand en tand.’Ga naar eind16 In U dienswillige dienaar sê Langenhoven dat hy tydens 'n maand lange verlof van Malan gevra is om die hoofartikels waar te neem. Langenhoven het dié artikels, onder meer 'n reeks waarin hy tydens die Hervormingsfees 'n aanval op die Rooms-Katolieke Kerk doen, in Afrikaans geskryf, iets wat vir die lesers 'n ‘openbaring’ en vir die direkteure 'n ‘ontnugtering’Ga naar eind17 was. Toe Malan vroeg in 1912 as redakteur bedank, het die direkteure Langenhoven se aansoek aanvaar. ‘As ons ons koerant gelees wil hê’, so gee Langenhoven hulle argumentasie weer, ‘moet ons daardie man kry om hom te redigeer.’Ga naar eind18 | |
[pagina 249]
| |
In sy reeds aangehaalde artikel oor die taalstryd rondom Langenhoven en Malan en Het Zuid-Westen in die jare 1910 en 1911 wys J.C. Steyn daarop dat Langenhoven nalaat om te vermeld dat Malan in werklikheid gedwing is om as redakteur te bedank. Malan was simpatiek teenoor genl. J.B.M. Hertzog toe hy betrokke geraak het in 'n hofsaak teen W. Fraser, 'n inspekteur van onderwys wat weens dwarsboming van die Vrystaatse onderwyswetgewing deur hom afgedank is. Op Oudtshoorn was Malan een van die twee lede van 'n komitee wat geld vir Hertzog ingesamel het om sy hofonkoste te dra. In 'n hoofartikel in Het Zuid-Westen van 11 Desember 1911 skryf Malan dat hy altyd 'n getroue ondersteuner van die Merriman- en later Botha-regering was, maar dat hy van tyd tot tyd op foute wou wys. Atties Fourie, later 'n baie goeie vriend van Langenhoven, belê 'n direksievergadering en sê dat hy die houding van Het Zuid-Westen teenoor die regering vyandig vind, al kon hy volgens Malan nie 'n enkele artikel toon ‘waar ons nie naar sijn sin handelde’.Ga naar eind19 Die artikels waarteen Fourie dit wel kon gehad het, is die stukke waarin Hertzog feitlik aangemoedig word om met die regering te breek en oor die taalregte wat Afrikaners moet handhaaf. In Het Zuid-Westen van 15 Januarie 1912 verskyn 'n advertensie ‘voor de positie van Redakteur van “Het Zuid-Westen”’ teen 'n salaris van £30 per maand en met die stipulasie dat pligte op 1 April 1912 aanvaar moet word. Op 28 Maart 1912 gee Malan in die laaste uitgawe onder sy redaksie 'n uiteensetting van sy beleid. Hy het gepleit vir gelyke regte vir albei ‘rasse’ op skool, in publieke kantore en op die spoorweë. Verder, so voeg hy by, het hy geveg vir ‘nasionale belange’ en ‘dat die meer aanspraak het dan partij belange’. Sy opvolger, so kondig hy aan, is C.J. Langenhoven. ‘Die heer Langenhoven’, skryf hy, ‘voer 'n geslepe pen bestier deur 'n gesonde verstand en die lesers mag oértuig wees van altoos gesonde, oorspronkelike gedagtes van hem te lees.’ Langenhoven sal volgens hom ‘tot die self-praat joernaliste behoor’, nie net 'n ‘weerklank’ wees van ander stemme nie.Ga naar eind20 | |
IIDie eerste uitgawe van Het Zuid-Westen waarvan Langenhoven redakteur was, het op 1 April 1912 verskyn. In sy eerste hoofartikel sê hy dat hy altyd namens homself sal praat, nie namens 'n anonieme ‘ons’ nie. | |
[pagina 250]
| |
‘Die nieuwe redaksie-besem’, so skryf hy, ‘sal seker probeer om skoon te veeg. Al te skoon hoop ik nie, want 'n man kan liggies die vloerblad beskadig - en die is meer wêrd als die besem. Daarom neem ik hierdie gelegenheid waar om met alle beleefdheid die hulp van mij lesers in te roep. Dit is hulle blad meer als mijne: die editeur is maar die toebereider van die spijs wat sij lesers moet eet. Hij moet gee wat hulle smaak bevredig - nie altijd nie, want nou en dan is daar medisijne nodig, en sij smaak behoort altijd 'n weinigie hoger en fijner te wees als die van die mindere onder sij gaste sodat dit nie vir die meerdere te laag is nie en sodat die andere langsamerhand kan gewend word aan fijner ete. Tog, die smaak moet nie vreemd en uitheems wees nie. Dan eet hulle glad nie en die kos word vermors. Daarom sal die wenke van mij lesers mij welkom wees als hulle vind dat ik in hierdie skottel te veel sout gegooi het of dat daardie ander te laf is.’ Reeds uit hierdie inleidende woorde blyk twee aspekte wat kenmerkend van Langenhoven se artikels en sy redigering van Het Zuid-Westen sou word: die wyse waarop hy sy lesers by sy skryfwerk betrek en die beeldspraak wat uit die ervaringswêreld van sy meestal agrariese lesers voortkom. Daarom dat hy vra om 'n groter leserspubliek sodat die koerant uitgebrei en korrespondente op die omringende dorpe aangestel kan word. Verder vra hy vrywillige bydraes van sy lesers, onder meer oor wat daar op die boereplase gebeur. ‘Mij eenvoudige lesers’, skryf hy, ‘moet tog nie bang wees om 'n nieuwsbriefie te stuur net omdat hulle eenvoudig is nie. Als hulle nog eenvoudiger is als ik, sal ik dankbaar wees om van hulle te leer; want eenvoudigheid is mij hoogste ideaal.’ Hy wil graag rapport ontvang oor die aktiwiteite van debatsverenigings, ‘C.J. en Strewers takke’, politieke vergaderings e.d.m. En hy wil hê sy lesers moet die koerant lees, nie net na die advertensies kyk nie. ‘Ons Afrikaners’, sê hy, ‘lees te min. Ons praat van opvoeding: maar wat help skoolopvoeding sonder 'n latere lewens-opvoeding? En waarvandaan kom die kosbare huis-opvoeding vir jou kinders als jij nie dageliks jou eige verstand oefen en brei nie?’ Ten slotte sê hy dat hy sy plig sal doen, ‘sonder vrees of guns of vooroordeel, buiten alleen die vrees van te verval in onwaarheid; die guns wat passelik is bij die partijdigheid deur elkeen verskuldigd aan sij vaderland; en die vooroordeel wat van sodanige partijdigheid onafskeidelik is; dat ik eerlik genoeg sal wees om mij persoonlike eigensinnigheid ondergeskik te hou aan die belange van mij direkteure, maar mannelik genoeg | |
[pagina 251]
| |
om hulle belange nie te verhef bowe die welvaart van mij volk nie; dat ik mij vijande nie sal veroordeel waar hulle gelijk het nie, en mij vriende nie sal gelijk gee waar hulle verkeerd is nie.’ In 'n aparte stuk bedank Langenhoven sy voorganger, veral vir wat hy gedoen het as ‘kampvegter vir die gebruik van ons moedertaal als skrijftaal’ en vir sy voorliefde vir ons vaderlandse geskiedenis. Die gerigtheid op die leserspubliek word naas die vertroude verwysingsveld ook versterk deur die regstreekse praatstyl wat Langenhoven beoefen en die didaktiese ingesteldheid wat 'n konstante kenmerk van sy latere skryfwerk sou bly. In 'n brief wat hy in Mei 1914 aan D.F. Malherbe skryf, sê hy dat hy met sy skryfwerk sy volk aan die lees en aan die dink wil kry. Daarom beoefen hy 'n soort middeweg tussen die populêre roman ‘en die onpopulaire droog-filosofiese verhandeling’ en aarsel hy nie om ‘die “objectionable” didaktiese vorm’ te beoefen nie, met ‘die eenheid-missende verbrokkeling in onsamehangende opstelletjies’ as resultaat. Hierdie karakterisering is in 'n groot mate waar van die hoofartikels wat Langenhoven in sy termyn as redakteur van Het Zuid-Westen sou skryf, 'n tipe joernalistiek wat met sy gerigtheid op die leserspubliek, die verwysings na 'n vertroude wêreld, die didaktiese ingesteldheid en die beoefening van 'n wellewenskuns ook die basis van sy latere Aan stille waters sou wees. Langenhoven wou sy mense opvoed en aan die lees kry in hul eie taal. Daarvoor moes hy die taal self op 'n wyse hanteer wat vir hulle aantreklik sou wees en aansluit by 'n wêreld en waardesisteem wat vir hulle bekend en aanvaarbaar was. Al hierdie faktore was deurslaggewend vir die vroeë en onmiddellike sukses van Langenhoven as joernalis. In U dienswillige dienaar sê hy dat Het Zuid-Westen spoedig ná sy toetrede ‘wyd en syd bekend (was) as 'n blad met 'n lewende persoonlike siel daarin’ en dat die land ‘gedreun’ het ‘van Afrikaans-propagandakrete soos nooit tevore gehoor was nie’.Ga naar eind21 Net een maal, sê hy, ‘was daar 'n geskil tussen my en 'n direkteur, en die afloop van die saak was dat nie ek nie maar hy bedank het’.Ga naar eind22 Sy direkteure het nooit vir hom probeer dikteer nie, selfs nie as hy in debat was met predikante, professore of politieke leiers nie. ‘Met “Het Zuid-Westen”’, skryf hy, ‘had ek my wapen in die hande gekry, en my hart en siel was in die stryd. Nooit tevore en nooit daarná het ek op die lang aanhou so hard gewerk dag en nag aanmekaar nie.’Ga naar eind23 Aanvanklik, so skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar, was hy alleen by Het Zuid-Westen, maar met die uitbreiding van die blad moes | |
[pagina 252]
| |
hy hulp kry. Sy eerste assistent het met 'n ‘kragtige aanbeveling’Ga naar eind24 van elders gekom. ‘Daar het niks groots aan hom makeer’, voeg Langenhoven met 'n kenmerkende ironiese ondertoon by, behalwe dat hy as ‘vars-ingevoerde Hollander...van ons land se omstandighede en behoeftes niks af wis nie en geen Afrikaans geken het nie.’Ga naar eind25 Daarby wou hy sy eie werksure kies. ‘Nadat hy’, gaan Langenhoven voort, ‘'n paar maal om halftwaalf op kantoor gekom het om te sê hy gaan net gou eers brekfis, het ons hom, weer met 'n kragtige aanbeveling, elders heen oor die weg gehelp.’Ga naar eind26 Uit dokumente in die Stellenbosse Langenhoven-versameling blyk dit dat hierdie ‘vars-ingevoerde Hollander’ O. Felix Prins was. In Mei 1912 was hy verbonde aan De Volkstem, wat in daardie stadium geredigeer is deur dr. F.V. Engelenburg, die persoon wat Prins saam met Gustav Preller so ‘kragtig’ by Langenhoven aanbeveel het. ‘Myn journalistieke ervaring’, skryf Prins, ‘strekt zich uit over grote europese dagbladen, zowel hollandse als engelse. Ik ben volkomen op de hoogte van journalistieke werk, in al zyn biezonderheden.’ Blykbaar was Prins hoogstens twee maande by Het Zuid-Westen, want in Augustus 1912 word die betrekking van 'n joernalis geadverteer. Hierdie keer is die vakature gevul met die aanstelling van 'n Joodse dame, Sarah Goldblatt. Alhoewel ook sy Afrikaans nie geken het nie, kon sy dit gou leer en het sy baie gou Langenhoven se hartstog vir Afrikaans haar eie gemaak. Sy het in September 1912 by Het Zuid-Westen begin en 'n week na haar aankoms kon Langenhoven haar een van die eerste eksemplare van sy Verjaardagboekie gee, die eerste present wat sy van die Chief - soos sy hom al gou genoem het - sou ontvang. Voorin het hy geskryf: ‘Jij het al die raad nie nodig nie; maar die spreuke kan jou leer spel.’ By sy handtekening verskyn die datum September 1912. Baie gou was Sarah Goldblatt naas Langenhoven se ‘Sub’ by die kantoor ook sy persoonlike assistent en sy ‘intieme huisvriendin’.Ga naar eind27 Saam met die setters moes hulle al die werk doen: proewe lees, advertensies, telegramme en kabelgramme vertaal, self feitlik die koerant vol skryf of deur vertaling uit ander bronne aanvul. ‘Maar ons twee, ek en die sub,’ skryf Langenhoven, ‘het die ding deurgesien en twee maal in die week met 'n groot koerant uitgekom. En nooit gekla nie want die werk was ons lus, ons hele hart was daaraan gewy. Want ek het van haar net so 'n Afrikaner gemaak as wat ek self is. En die politiek was bysaak; | |
[pagina 253]
| |
nuusberigte, rampe en geboortes en sterfgevalle, huwelike en egskeidings, was maar aanvulling; die hele “Zuid-Westen” was nommer vir nommer een aanhoudende dawerende geskal van Afrikaans-propaganda, met teorie en praktyk, met voorskrif en voorbeeld.’Ga naar eind28 Dit beteken nie dat die koerant uitsluitlik oor die Afrikaanse taal gehandel het nie. Van tyd tot tyd het Langenhoven hom duidelik uitgespreek oor aktuele aangeleenthede. Op 4 April 1912 skryf hy ten gunste van immigrasie uit Engeland, Holland en Duitsland, aangesien Suid-Afrika die kennis en kundigheid van dié lande nodig het. Die immigrante moet egter ons knegte wees, nie ons base nie. Op 8 April is hy gekant teen vrouestemreg, wat toe in die Volksraad ter sprake kom - 'n standpunt wat hy tot in die twintigerjare sal handhaaf. Op 22 April kan hy berig oor die Titanic-ramp, terwyl hy in nuusbrokkies oor die politiek van die dag, hofsake, sport, boerdery en gebeure in die suidwestelike distrikte skryf. As hoofregter lord J.H. de Villiers, die regter vir wie hy in die Radziwill-saak in Kaapstad gehoor het, te sterwe kom, skryf Langenhoven op 3 September 1914 'n hoofartikel waarin hy sy waardering en bewondering betuig, ten spyte van die feit dat die ontslapene nooit ten gunste van Afrikaans was nie. Wat hy wel waardeer, is die ‘adel van hart en hoof en handel’ en die afkeer van alle omkopery, knoeiery en korrupsie. Sonder mense soos De Villiers sou ons, so sê Langenhoven met 'n heenwysing na sy eie ervaring as advokaat, ‘geen begrip gehad het van die mogelikheid van 'n ander soort regsisteem nie - waar jij in die tronk kon gehou word sonder verhoor, waar jij jou regverdige saak verloor omdat jou tegepartij rijk genoeg is om die regbank om te koop - had ons nie die ondervinding van 'n wettelose tijd onder ons toen die Krijgshof hier 'n spotternij was van alle regbedéling. Diegene van ons wat met daardie militaire Hof te doen had,... het daardeur geleer om te waardeer wat ons burgerlike reg-stelsel vir ons beteken.’ Wat hy naas De Villiers se bekwaamheid en kennis in die besonder by hom waardeer, is sy eenvoud, 'n eienskap wat Langenhoven altyd vooropgestel het en wat ook sy strewe in sy logiese betoë was. Hoe ingewikkeld 'n saak ook was, skryf hy, ‘hoe diep hy ook deur twee-duisend jaar oue latijnse boeke moes snuffel; om 'n beginsel op te spoor: sijn uiteensetting was altijd so kristal helder als die regenwater uit die hemel. En dit is eén van die hoogste kenmerke van 'n diepe verstand: helderheid van uitdrukking.’ By twee geleenthede doen Langenhoven ook verslag oor gebeurte- | |
[pagina 254]
| |
nisse in sy eie familiekring. Op Saterdag, 11 Mei 1912, word die huwelik bevestig van John Schiller Allison en Anna Elizabeth Christina van Velden, Vroutjie se oudste dogter uit haar eerste huwelik. Allison, magistraat in Pretoria, is in Edinburgh, Skotland, gebore. Die moeder van die bruid is ingebring deur haar seun Hugo van Velden, die bruid deur haar stiefvader. Die bruid se halfsussie, Margarita Langenhoven, was 'n ‘soort van informele bloeme-meisie’ - haar ‘ou hartjie halfgebroke...over die weggaan van haar beminde suster’. Na die troue is die jong egpaar na die Wildernis. Van daar sou hulle na Kaapstad gaan en daarna op 20 Mei na Europa, waar hulle tot Oktober sou bly. Hulle was, volgens die berig, sewe jaar verloof en het mekaar die laaste vyf jaar nooit een keer gesien nie, al was daar darem elke dag 'n brief oor en weer! En in Junie 1912 kan Langenhoven berig dat sy stiefseun Hugo van Velden sy finale wetseksamen in Kaapstad geslaag en hom dus as prokureur bekwaam het. Opvallend, gedagtig aan Langenhoven se persoonlike probleme in dié verband, is dat daar in September en Oktober 1914 lang artikels oor die drankhandel verskyn waarin die redakteur vir strenger beheer pleit. In Desember 1913 moet Sarah Goldblatt berig dat die redakteur met verlof is en ‘wegens ongesteldheid’ waarskynlik 'n geruime tyd afwesig sal wees. Drie dae later, op 18 Desember 1913, skryf sy dat hy nog afwesig is, maar ‘dat dit nou baje beter gaat met sij gesondheid. Hij gaat vooruit.’ Alhoewel daar geen sekerheid oor bestaan nie, vermoed 'n mens dat Langenhoven in hierdie tyd ineengestort het, waarskynlik as gevolg van drukke werksaamhede en die daarmee gepaardgaande spanning wat hy met oormatige gebruik van Limosin-brandewyn wou verlig. Naas sy druk program by die koerant skryf hy juis in hierdie tyd binne enkele dae sy toneelstuk Die Hoop van Suid-Afrika en vertolk hy die rol van Piet Retief in die Oudtshoornse opvoering daarvan, 'n bykomende verpligting wat vir die reeds oorlaaide gestel te veel was. Maar naas persoonlike en plaaslike berigte kon Langenhoven in Het Zuid-Westen ook aandag gee aan die groot gebeure van sy tyd. Die termyn van Langenhoven se redakteurskap was trouens 'n bewoë fase in die geskiedenis, sowel internasionaal as in dié van Suid-Afrika en van die dorp Oudtshoorn. As genl. Louis Botha, die premier, Oudtshoorn besoek, skryf Langenhoven 'n ‘ope adres’ wat hy op 1 Julie 1912 aan die ‘Seer Hoog-Geagte Generaal’ in Het Zuid-Westen as hoofartikel afdruk. Botha se toespraak op Oudtshoorn verskyn volledig in die | |
[pagina 255]
| |
uitgawe van 4 Julie. In hierdie stadium is Langenhoven nog duidelik pro-Botha, soos ook in Desember 1912 as hy genl. J.B.M. Hertzog se De Wildt-toespraak rapporteer en daarna oor die skeuring in die kabinet en die weglating van Hertzog uit die nuwe ministerie skryf. Ook in De Volkstem van 24 Januarie 1913 verdedig Langenhoven Botha teen die beskuldiging dat die premier verraad gepleeg het deur die uniform van 'n generaal in die Britse leër aan te trek. In Februarie 1913 skryf hy lang stukke oor Hertzog en Botha en betreur hy die skeuring tussen die twee. In Maart 1914 berig hy oor die val van die volstruisvere in Brittanje, iets wat aan die einde van daardie jaar tot die ekonomiese ineenstorting van die Oudtshoornse distrik en tot baie bankrotskappe sou lei. In Julie en Augustus 1914 skryf Langenhoven oor die dreigende wêreldoorlog en op 6 Augustus berig hy oor die uitbreek van die vyandelikhede tussen Engeland en Duitsland. Van nou af oorheers die oorlog alle beriggewing, onder meer met 'n bespreking van die posisie van die Unie van Suid-Afrika in 'n hoofartikel op 10 Augustus en 'n rubriek wat gereeld onder die opskrif ‘Oorlog nieuws’ verskyn. Alhoewel Langenhoven in hierdie stadium nie sterk standpunt inneem nie, is dit tog uit sy hoofartikels van September duidelik dat hy nie baie ingenome is met Suid-Afrika se besluit om Duitswes-Afrika in te val nie. Hy was egter sterk gekant teen die Rebellie, wat hy as 'n wettelose en sinledige opstand beskou het, al het die dood van genl. Koos de la Rey en die teregstelling van Jopie Fourie hom diep aangegryp. Op 2 November skryf hy oor die Rebellie: ‘Ons moet groter wees als om ons deur wie ook, deur jingoes of deur ons eie ontrouwe leiers, als ons hulle so beskouw, tot wetbreuk en troubreuk te laat vertoorn.’ Wanneer hy op 23 November weer oor die Rebellie skryf, sê hy dat die regering alles moontlik gedoen het om nie die wapen op te neem nie. Van die Vrystaatse voormanne - en hier het hy duidelik Hertzog in gedagte - het egter nie genoeg gedoen om die Rebellie te keer nie. Op 3 Desember skryf hy oor die persoonlike en staatkundige gevolge van die Rebellie. Alhoewel Langenhoven se simpatie in hierdie moeilike tyd in die Afrikaner se geskiedenis by sy eie mense was en hy reeds met 'n kritiese oog na Botha en Smuts se flirtasie met Brittanje gekyk het, was hy as regsgeleerde afkerig van wettelose optrede en het hy Duitsland as die ontwrigtende mag in Wes-Europa beskou. Anders as by baie ander prominente Afrikaners uit dié tyd was daar by hom geen Duitse simpatieë aanwesig nie. Nêrens blyk dit duideliker as uit die ‘Ope brief aan | |
[pagina 256]
| |
Keiser Wilhelm van Duitsland’ op 7 September 1914 in Het Zuid-Westen nie. Die wyse waarop Langenhoven die Europese krisis en die bedenklike etiek in die optrede van Duitsland met die krisis in Transvaal minder as twintig jaar tevore verbind, moes sterk tot sy meestal eenvoudige lesers gespreek het. Dit is 'n skitterende voorbeeld van die soort joernalistiek wat Langenhoven in sy tyd by Het Zuid-Westen beoefen het. Die volledige teks van die ‘Ope brief’ lui as volg: Toen dr. Jameson sijn onnosele roofinval gemaak het in die Transvaal in en toe die boere hom sommer daar vasgedruk het, onthou jij nog - het jij dadelik als 'n ridderlike beskermheer opgetree van onregverdig bedreigde staatjies en Oom Paul Kruger 'n telegram van gelukwensing gestuur omdat hij met sukses die onafhanklikheid van sijn land gehandhaaf het. Niemand had jou om die telegram gevraag nie. Jij kon dit vir jou gehou het maar dit was mooi van jou. Dit het die Transvalers laat voel dat die grote mogenheid waarvoor hulle bevreesd was, hulle nie sou kon aanval en verniel nie. Daar was 'n ander mogenheid wat aan hulle kant sou staan, maar enige jare later toen dit nie meer Jameson en Rhodes was wat die Transvaal wou annekseer nie maar die gevreesde Engeland self, het jij toen bij die belofte van jou vorige handelswijse geblij? Het jij toen aan Engeland geseg: Wag 'n bietjie. Als julle teen die Transvaal oorlog maak dan maak julle teen mij oorlog. Ik is sijn kampvegter. Dit had 'n mens die reg om van jou te verwag. Jij had immers uit jou pad gegaan om vir jou in daardie posisie te plaas - maar nee, toen roep jij jou generale staf bijmekaar en jij trek 'n plan van operasies op nie vir die Transvaal om hom te verdedig nie! Nee vir die sterke Engeland om die handjievol Boere soveel makliker te oorweldig. Seg nou vir mij: Jij roem altijd daarop dat die Here aan jou kant is. Was hy aan jou kant albei kere toen jij die telegram aan Kruger gestuur het en toen jij die krijgsplanne aan Engeland gestuur het? Als 'n private man in die dagelikse omgang so sou handel sou ons hom almal verafsku als 'n valsaard en 'n leugenaar en 'n bedrieger. Van jou, die opperheerser van 'n magtige en beskaafde volk, moes 'n mens nog meer verwag als van jou partikuliere buurman. | |
[pagina 257]
| |
banneling en vlugteling uit sijn vaderland bij jou wou kom aanklop om hulp, die dag toen hij nie gelukwense nodig had nie, op sijn voorspoed nie maar bijstand in sijn ellende, het jij hom toen ontvang en jou spijt te kenne gegee dat jij hom in 'n onbedagsame oomblik mislei had met 'n belofte wat jij nie nou in die vermoge was om uit te voer nie. | |
[pagina 258]
| |
verklaring te vinde is vir wat anders onverklaarbaar was. Hoe het dit gekom dat dieselfde Duitsland wat vir Leuven afgebrand het en bomme uit lugskepe afstort op vrouwens en kinders, en neutrale skepe verongeluk met ronddrijwende mijne op die see, hoe is dit te verstaan dat dieselfde Duitsland onse skip, die ‘Galician’, in haar mag had en kon verniel, maar ongehinderd laat gaan het met geen ander beskadiging nie als om die draadloostoestel te vernietig en een of twee militêre offisiere krijgsgevangenes te neem? | |
[pagina 259]
| |
grond was op die fondament van ‘Blut und Eisen’ (bloed en yster), op geweld waar die tegenparty swak is en op bedrog waar hij sterk is. Daardie groot staatsman Bismarck is nog vandag 'n gevierde afgod onder jou volk omdat hij hulle sover gebring het om te kan sing ‘Deutschland über Alles’. Maar jy het hom nie uit die diens van sijn vaderland uitgeskop omdat hij gewetenloos was nie. Jou dade wijs dat jij net so gewetenloos is als hij. Dis juis die soort dienaars wat jij nodig het. Maar omdat hij wou baas wees, daar was plek aan die hoof van jou regering vir meer als twee skelms maar nie vir twee base nie. Toen die Engelse gesant 'n maand gelede van jou Minister geëis het om die neutraliteit van België nie te skend nie, was jou Duitse dienaar verwonder dat Engeland oor 'n blote stukkie papier wou oorlog maak. Ja 'n blote stukkie papier was dit, maar daar was 'n Duitse belofte op daardie blote ou stukkie papier. Dit was 'n plegtige traktaat. Is dit die ‘Alte Deutsche Treue’ en is dit volgens die bevel van die Alte Gott van Duitsland wiens naam jij dag vir dag belaster deur hom in te roep als jou medeheerser en vennoot in jou onheilige dade om 'n belofte te maak en hom uit te skrijf en te onderteken en dan te repudieer met veragting omdat hij op 'n blote papier staat. | |
[pagina 260]
| |
land op die aarde is daar jaar in en jaar uit deur al die dage van jou regering mense gewees wat nakend was en klere kon gehad het, wat honger was en kos kon gehad het, wat nes heidens opgegroei het en opvoeding kon gehad het, wat dood is van verwaarlosing en die lewe kon behoue gewees het, en jij met jou bewapening van leger en vloot, met jou onversadigde eersug en met jou aandeel in die Kruppfabriek, jij Willem was die oorsaak daarvan, al daardie smart en lijding en ongeluk is op jou rekening. | |
[pagina 261]
| |
geslinger word om voor 'n ander soort majesteit als die van jou te verskijn. Op daardie plek tel jou titels nie, net maar jou dade tel daar soos die van jou slagoffers en jij is 'n bejaarde man. Jij sal self nie die aardse keiserskroon te lank meer behou nie. Jou idee is om aan die nageslag bekend te wees als Willem die Grote. Dit kan wees of dit kan anders wees. Dit sal afhang van die sukses of van die mislukking van jou wêreld moordplan maar in die werkelike waarheid waaraan jij vreemd is, is jou naam Willem die Verwoester, Willem die Roekelose, Willem die Trouwelose. Als 'n blote grootskaal moordenaar, als 'n menshatende geweldenaar kon 'n man jou maar nog respekteer maar met jou vrome gehuigel kan 'n mens jou alleen verag en verafskuw. Langenhoven se sukses met die redigering van Het Zuid-Westen kan in 'n groot mate daaraan toegeskryf word dat hy sy persoonlike stempel daarop afgedruk het. In U dienswillige dienaar wys hy daarop dat hy altyd in die ek- in plaas van die ons-vorm geskryf het, nie in 'n tipe styl ‘“to express the views of the “Zuid-Westen”’Ga naar eind29 nie. Die voordeel hiervan was dat hy sy eie standpunt ‘met volle persoonlike verantwoordelikheid’ kon stel. Hy het ‘niemand uit 'n hinderlaag aangeval of agter 'n heining vandaan uit die donker met klippe en modder gegooi sodat hy nie kon teruggooi nie’.Ga naar eind30 Daarby het hy nie in mense se private sake gaan rondsnuffel nie en was Het Zuid-Westen geen ‘yellow journal’Ga naar eind31 om met sensasienuus beter te verkoop nie. Dit alles het daartoe gelei dat Het Zuid-Westen gelees is, ook deur lesers ver buite die suidwestelike distrikte van Kaapland. | |
IIIMaar naas hierdie vertroulike omgang met die leser is Langenhoven se sukses veral toe te skryf aan die feit dat hy, ondanks aanvanklike teenstand, Afrikaans in sy koerant geskryf het. As hy in April 1912 redakteur van Het Zuid-Westen word, is hy reeds oortuig daarvan dat Afrikaans, die taal wat deur alle Afrikaners gepraat word, die erkende taal van die Afrikaner op alle gebiede moet word, gelykwaardig aan Engels. Naas die propaganda wat hy met Het Zuid-Westen as podium vir hierdie standpunt kon maak, het hy in dié blad sy eie vermoë as skrywer | |
[pagina 262]
| |
verder begin ontwikkel. En die propaganda was nie tot die taal beperk nie, want Langenhoven moes help om nasietrots, waardigheid en respek vir die eie by Afrikaners aan te kweek. In hoe 'n mate hy teenstand teen sy gebruik van Afrikaans ondervind het, blyk uit 'n brief wat Langenhoven op 22 Mei 1913 aan Gustav Preller by De Volkstem skryf, 'n baie belangrike dokument waardeur ons 'n kykie kry in alles wat agter die skerms gebeur het. Aan die begin van die brief sê Langenhoven dat hy kan insien waarom die mense by De Volkstem nie oorhaastig en volledig van medium kan verander en Hollands heeltemal kan uitwerp nie. Baie van die lesers is gewoond aan Nederlands, waarmee hulle tere assosiasies het en wat oor 'n hele lewe strek. Aan die ander kant is daar die gevaar dat 'n mens oordrewe versigtig kan wees en die ‘gewig van tegestand’ kan oorskat. 'n Hervorming het in elk geval nooit anders tot stand gekom as teen die wil en dank van diegene vir wie se saligheid hy bedoel is nie. Sy ondervinding op Oudtshoorn, so gaan hy voort, kan van waarde wees in dié verband. ‘Soos jij weet’, skryf hy, ‘is die ou Kolonie baje meer anti-Afrikaans als die Transvaal. Die rede daarvoor is ook nie vér te soek nie. Ons opvoedings-stelsel tot hiertoe was baje meer berekend om ons jeugd Engels-gesind te maak als om hulle met geesdrif te besiel vir die kant waaraan hulle hoort; en op dié manier het juis ons jongere geslag, bij wie die enigste hoop is om die harnas van dom-astrande ortodoksie van ons ouer mense deur te breek, geen ander gevoel vir Hollands ontwikkel nie dan dat hij geriefelik is in die politiek en 'n ergernis in jou korrespondensie. Solank als 'n man net so maklik en net so doeltreffend Engels kan gebruik wanneer jij oor “besigheid” skryf of aan jou vrouw of vriend of famielie, waarom sal jij klaag dat Hooghollands te stijf is? Jij het immers 'n ander en makliker en gladder skrijftaal wat ook jou dagelikse spreektaal en denktaal en leestaal en omgangstaal is: en die is nie Afrikaans nie. En so is dit dan dat hier onder ons, als ik die middeljarige sogenaamd geleerde Afrikaners onder ons neem: predikante, onderwijsers, dokters, prokureurs en dergelijke, dan is hulle met seldsame uitsonderinge anti-Afrikaans. Hulle versterk die ongeleerde buiteman - wat nie kan oordeel tussen geleerd en geleerd nie - meer en meer in sij tegesin om iets anders op skrif te sien dan die taalvorm wat hij in sij Bijbel lees en in sij Kerk hoor. So was dit dan toen ik met die “Zuid-Westen” begin het. Lesers het gedreig om te bedank, die meerderheid van aandeelhouers was ontevrede, en van alle | |
[pagina 263]
| |
kante moes ik hoor van hotnos-taal en vernedering en agteruit-brengerij van die volk; en altijd van die kant van skoolmeestertjies en agentjies wat self nie 'n bladsij Hooghollands kan skrijf wat 'n derde standaard toets sou deurstaan nie. Die ouere mense het hulle kop geskud oor die nieuwe ketterij; van alle kante was daar niks als ontmoediging, opposiesie en belediging. Maar in 'n korte jaar is die tegestand deels tot bedaring gekom, anderdeels oorgegaan in vurige en hartelike ondersteuning; en als ik in éen woord die resultaat van mij ondervinding moet opsom, dan is dit vireers dat dosijne op dosijne buitemense nou die blad deurlees wat anders net naar die vendusie-advertensies gekijk het. Stukke wat verskijn word bespreek en gekritiseer; korrespondente skrijf hulle eenvoudige insigte in hulle eie taal waarvoor hulle nou die vrijmoedigheid het; daar is lewe en leeslus gekom in plaas van doodse belangeloosheid. En daarbij ken ik mijself geen meriete toe nie.’ Tog moet 'n mens by die deurlees van die jaargange van Het Zuid-Westen waarby Langenhoven betrokke was, juis die eer aan hom laat toekom, want inderdaad het die blad tydens sy redakteurskap ‘gedreun’ van die propaganda vir Afrikaans. Reeds op 1 April 1912, die eerste uitgawe waarvan hy redakteur is, skryf hy in Engels oor tweetaligheid en die regte van die Hollandstalige bevolking. Hy wys daarop dat die deursnee-Engelsman nie 'n linguis is nie en 'n insulêre instelling het, iets wat in die Suid-Afrikaanse situasie versterk word deur die huiwering en onsekerheid aan die Hollandstalige kant om te kies tussen Nederlands, ‘Vereenvoudiging’ en Afrikaans. Hierdie artikel word voortgesit op 4 April, 'n uitgawe waarin Langenhoven ook verslag doen oor die Vlaamse taalstryd, wat sekere raakpunte met dié van Afrikaans het. Op 20 Mei het hy dit oor Hollands in die regspleging, 'n terrein waarop Langenhoven as advokaat reeds onaangename ondervinding gehad het en wat, waarskynlik onbewus, die eerste impetus in die rigting van die stryd om Afrikaans by hom gewek het. Hy noem die geval van 'n persoon in die Vrystaat wat sy getuienis in die hof in Engels moes lewer en sê dat 'n getuie nie só gedwing kan word nie. Prokureurs, so gaan hy voort, skryf gewoonlik in Engels aan mekaar, en dít sal die posisie wees solank Nederlands die ander amptelike taal is. Die vraag kom ook by hom op in watter taal 'n getuie se verklaring gerapporteer word. As hy 'n Afrikaner is ‘en hij vertel sij storie in Afrikaans, moet die polies-man dit dan in Nederlands over-vertaal?’ Uit die briewekolomme in hierdie tyd is daar baie briewe ten gunste | |
[pagina 264]
| |
van Afrikaans, al is daar ook sommige lesers wat nie tevrede is met die taal nie. In 'n redaksionele kommentaar sê Langenhoven dat Het Zuid-Westen al hoe meer veld wen, omdat die Afrikaanse vorm vir lesers meer aanloklik is. ‘'n Simpele duintjie wat suiwer gesing word’, voeg hy by met sy nou reeds bekende tegniek om betoog en beeld af te wissel, ‘is immers oneindig mooier als 'n hoge musiekstuk wat vals klink.... Die beste bewijs wat ons kan lewer dat Afrikaans 'n taal is, is om hom te skrijf. Als die twak sleg rook, sal die advertensie op die pakkie jou nie overtuig dat hij goed is nie; en als hij goed rook het jij die aanbeveling nie nodig nie.’ Ook op 13 Junie skryf hy oor Afrikaans wat ons tot 'n fyn werktuig moet slyp en haal hy Stellenbosse geleerdes aan wat hulle ten gunste van Afrikaans uitspreek. Wanneer die goewerneur-generaal, lord Gladstone, in Oos-Londen sê dat Engels in Suid-Afrika is om te bly en dat hy 'n geloof het in die taal, reageer Langenhoven in Het Zuid-Westen van 25 Julie 1912. ‘Ik kan verstaan’, skryf Langenhoven, ‘dat lord Gladstone aan sij eie taal die voorkeur gee en ik respekteer hom daarvoor. So verwag ik ook dat hij mij moet respekteer omdat ik mijne verkies. Als hij dit wil doen sal ons twee goed oor die weg kom. Maar daar sal nog eén andersheid bly tussen ons: dat ik kan sê wat ik wil en hij nie; tot tijd en wijl dat ons ons posiesies verruil. Wanneer ik dan Gouverneur-Generaal is, en die salaris en die eer van die hoge betrekking geniet, sal ik in die oog hou dat ik ook die laste van die ambt moet draag: dat ik mij uit die politiek moet uithou. En hij kan dan, als journalist, tegen die minder aansien en die geringer inkomste, die kompensasie als tege-wig neem dat hij die gevoelens waarmee hij besield is in politieke aangelegenhede nie alleen als sij eie besitting hoef te reken nie, maar dit versprei tot gids van sij dwalende medeburgers.’ Hierdie uitgesprokenheid teenoor mense in hoë posisies was kenmerkend van Langenhoven se optrede as joernalis en sy geestigheid in dié verband sou baie bydra tot die gewildheid van sy joernalistieke stukke. Reeds in hierdie tyd het mense met afwagting na die verskyning van die koerant uitgesien om te lees wat ‘ou Langenhoven vandag weer alles kwytraak’. Het Zuid-Westen bestee egter veral aandag aan die posisie van Hollands en Afrikaans in skole en kerke en oor wat die staat se standpunt ten opsigte van die twee taalvorme is. In Julie 1912 verskyn daar byvoorbeeld baie briewe in die koerant oor Engels as kerktaal, sowel deur voor- as teenstanders. Die gedagte word uitgespreek dat Engelse dien- | |
[pagina 265]
| |
ste in die Hollandse kerke 'n ou instelling is en dat daar 'n behoefte daaraan is, veral onder kinders wat hulle skoolopleiding in Engels gehad het en die Hollands nie so goed kon volg nie. En op 24 Oktober 1912 het Langenhoven dit in 'n lang artikel oor die ‘Taal Ordonnansie’. In dié ordonnansie word daar van die Engelse en die Hollandse taal gepraat. Met ‘Hollandse’ word duidelik die taal van Nederland bedoel, al blyk dit dat daar later ook van die ‘gesproke taal’ sprake is. Langenhoven se argument is dat 'n Engelse kind op skool die taal wat tuis gepraat word, leer en daarin onderrig ontvang, terwyl dit nie met die Afrikaanse kind die geval is nie. Die onderwystaal is vir die een kind sy huistaal in naam, terwyl dit vir die ander kind sy huistaal in werklikheid is. In antwoord op 'n navraag oor wat sy beleid in verband met die tale in Suid-Afrika is, stuur genl. Hertzog op 1 November 1912 vir Langenhoven 'n afskrif van sy brief van 28 September aan mnr. P.L. Breytenbach van die Oudtshoornse distrik. Daarin sê Hertzog dat ons in Suid-Afrika twee vorme van die Nederlandse taal het, maar dat nie een van die twee eintlik Nederlands is nie. Albei is deurdronge van ons Afrikaanse eienaardighede van volkskarakter en landelike omstandighede. Hertzog voel oortuig daarvan dat Afrikaans nader aansluit by die Afrikaanse volkskarakter, ‘omdat zij ontsprongen is op zuiver Afrikaanse bodem als de echte uiting van Afrikaanse behoeften en gemoedstoestanden’. Dié taal het dan ook 'n groter reg van bestaan as die offisiële Hollands, en geen Afrikaner hoef hom vir Afrikaans te skaam nie. Ongelukkig, so gaan hy voort, bestaan daar nog geen ‘eenparigheid van mening omtrent haar vorm en die vastheid die een essentiële vereiste is voor een taal om als de landstaal te kunnen gelden’. Daarom moet die Hollandse taalvorm nog voorkeur geniet. ‘Eerst dan’, skryf Hertzog, ‘wanneer het Afrikaans die vastheid heeft bereikt die vandaag in bezit is van de Hollandse taalvorm zal het recht hebben om de plaats in te nemen van haar zuster vorm in de Unie.’ Tog twyfel hy geen oomblik daaraan dat ‘het Afrikaans het van de Hollandse taalvorm zal winnen, doch dat zal geschieden langs een natuurlike, vreedzame weg, louter door de grotere mate van inherente kracht en frisheid door haar bezeten in vergelijking met haar ietwat oudere en meer konventionele zuster, welke zich terzelfdertijd op natuurlike en vreedzame wijze zal weten te schikken naar de vereisten en drang van het Afrikaans naarmate deze taalvorm zich meer en meer onder vaste regel stelt en de waardering van ons volk afperst.’ | |
[pagina 266]
| |
Hierdie brief van Hertzog is 'n hoogs belangrike dokument, omdat daarin die eerste keer 'n standpunt ten gunste van Afrikaans as toekomstige landstaal deur 'n lid van die regering uitgespreek word, al vermoed 'n mens dat van sy kollegas in die kabinet in dié stadium nie so 'n standpunt sou onderskryf het nie. Langenhoven reageer op 4 November 1912 met 'n brief wat hy tot die private sekretaris van genl. Hertzog rig. Hy vind die brief van Hertzog só belangrik dat hy toestemming vra om dit te publiseer. Hy beskou publikasie daarvan as noodsaaklik vir ons hele taalstrewe, omdat die indruk bestaan dat daar 'n onversoenlike stryd is tussen die ‘stijwe konserwatisme van die ouere ortodokse leiers wat van Afrikaans nie wil hoor nie’ en ‘die al te vurig-entoesiastiese chauvinisme van die jongste geslag van Afrikaansskrijwers’. Die indruk van 'n ‘worstelstrijd’ doen ons saak oneindig skade. Om dit te verwyder, weet hy van geen ander invloed wat soveel goed sou doen as die publikasie van genl. Hertzog se brief nie. Hy noem verder dat hy sy bes doen om met sy ‘geringe vermoge’ en ‘tegen opofferinge, wat ik nie bij name noem nie’, binne sy bereikbare omgewing sy volk tot leeslus op te wek en by te dra tot vorming en ontwikkeling van ons moedertaal. In plaas daarvan dat hy hierin ongehinderd gelaat word, ‘moet ik mij tijd en aandag vermors om opposiesie te keer wat van mij eige kant kom; moet ik mij invloed verijdeld sien deur verdagmakerij dat ik tegen die politiek van voormanne soals Generaal Hertzog werk; moet ik mij werk in disrepuut gebreng sien deur beskuldiginge dat mij strekking is om ons volk te verlaag.’ 'n Duidelike uitspraak van genl. Hertzog sal dié teenstand dus stilmaak, sodat Langenhoven se joernalistieke werk volgens sy meriete kan staan of val. Of die dag van Afrikaans so spoedig sal kom as wat hy begeer of eers in die tyd wat genl. Hertzog in die vooruitsig stel, in albei gevalle is daar werk om te doen wat ondersteuning in plaas van belemmering nodig het. Baie Afrikaners, soos mnr. Breytenbach aan wie genl. Hertzog geskryf het, sien uit na dié soort toeligting om hulle uit hulle onsekerheid en twyfel te help. Langenhoven se brief gee ons nie alleen weer 'n duidelike voorbeeld van hoe sterk hy 'n betoog kon opbou nie, maar ook 'n aanduiding van die soort probleme wat hy nog steeds in die eerste jaar van sy redakteurskap ondervind het. Daarby kry 'n mens uit Langenhoven se skakeling met 'n lid van die kabinet die indruk dat hy, onbewus miskien, in hierdie stadium reeds gevoel het dat, soos hy in U dienswillige dienaar sê, | |
[pagina 267]
| |
blote propaganda deur verenigings en die vroeë werk van Celliers in een rigting en van De Waal in 'n ander rigting, hoe belangrik dan ook, nie genoeg was om die saak van Afrikaans te wen nie.Ga naar eind32 Daar moes op staatkundige gebied toegetree word as ons wou hê die taalstryd moet slaag, want die mense in gesagsposisies en ander medestryders het die wetlike erkenning gesien ‘as 'n droom-vooruitsig om verwesenlik te word in die dynsige toekoms deur wie weet hoeveelste nageslag van ons agterkleinkinders’.Ga naar eind33 'n Politieke beweging in belang van Afrikaans het glad nie bestaan nie. As eerste stap in dié rigting publiseer Langenhoven dan op 18 November 1912 Hertzog se brief in Het Zuid-Westen. In 'n hoofartikel van 21 November kom hy hierop terug. As genl. Hertzog sê dat Afrikaans nog nie die landstaal kan word nie omdat daar nog geen eenvormigheid is nie, sê Langenhoven dit is slegs 'n kwessie van vorm en spelling wat in veertien dae deur 'n kommissie gefinaliseer kan word. As Hertzog verder sê Afrikaans is onbevoeg as onderwystaal, behalwe as onderwysers 'n ontwikkelde taalgevoel het, vra Langenhoven: ‘Maar maak dit hulle onderwijs dan beter in die vreemde taal waarvoor hulle soveel minder gevoel moet hê omdat hulle soveel minder bekend is daarmee? Hoeveel per sent onderwijsers in Suid Afrika ken Hooghollands soals hulle bijvoorbeeld Engels ken - en hoe kan jij hulle dit kwalik neem als die een 'n lewende spraak is en die ander 'n dooie boektaal soals Latijn?’ Met hulle gebroude Nederlands sal sulke onderwysers nooit 'n taalgevoel by die kinders aankweek nie. As hulle dan uit die skool kom, sal die kinders vanselfsprekend Engels beter kan skryf, en dít terwyl Afrikaans hulle moedertaal is - die uitgedrukte siel van die Afrikaanse volk, soos Hertzog dit stel. In watter mate Langenhoven hierdie laaste uitspraak van Hertzog as juis beskou, blyk uit 'n brief aan De Volkstem wat hy op 15 Mei 1913 ook in Het Zuid-Westen opneem. Daarin sê hy: ‘als dit seker is dat Hollands bestemd is om te leef als taal in Suidafrika, dan sal hij leef als en nie anders nie dan Afrikaans. Dit is 'n sine qua non: want g'n literatuur, geen kultuur, geen intellektuele lewe kan ontstaan en bloei onder 'n volk, wanneer die medium daarvan afgeskei is van dié waardeur die volks-siel sig uit in die lewende volks-spraak.’ Eienaardig is die feit dat Langenhoven in 'n reeks artikels in Januarie 1914 in Het Zuid-Westen die moontlike vertaling van die Bybel in Afrikaans bestry. Die Bybel, die Psalm- en Gesangboek en die Formuliere is | |
[pagina 268]
| |
volgens hom aan ons in Hollands bekend, ‘in die vorm waarin die ouderdom van eeuwe hulle geheilig het’. Daarom sal die Bybel vir hom ‘minder statig, minder waardig en deftig, ja minder heilig klink in Afrikaans’. Daarby was die Hollandse Bybel met sy sinswendinge, idiome en eenvoud van gedagtegang die ‘grote instandhouer...van die Afrikaanse taal’. Daarteenoor is hy wel ten gunste van preke in Afrikaans, omdat die preek duidelik moet maak wat in die Bybel staan. Die priesters was trouens deur alle eeue die ‘terughouers’ gewees. Ten spyte van hierdie standpunt vertaal Langenhoven in hierdie tyd tog liedere soos ‘Abide with me’ en enkele Gesange in Afrikaans! Juis Langenhoven se pleidooie in belang van Afrikaans as kerk- en skooltaal laat hom in dié jare in groot polemieke beland. Op 19 Januarie 1914 rig hy hom in 'n hoofartikel tot die predikante van die Hollandse kerke. Dit word gevolg deur 'n hele reeks artikels wat tot 5 Februarie voortduur. Sy hoofstandpunt is dat die Afrikaner skade gely het deur die negering van Afrikaans in kerk en skool. Baie Afrikaanse kerkgangers verstaan nie meer die gepredikte woord nie en op baie maak dit geen indruk nie, terwyl die gebruik van Engels as leermiddel vir die Afrikaanssprekende skoolkind tot nadeel van sy lewensvoorbereiding is en hy onder die indruk gebring word dat sy Engelse skoolmakkers fatsoenliker ouers as hy het. ‘Ons Afrikaners’, skryf hy, ‘is die enigste beskaafde nasie in die wereld wat onsself wijsmaak dat ons 'n skrijftaal moet aanhou wat ons te laag is om te spreek, of 'n spreektaal gebruik wat te laag is om te skrijf.’Ga naar eind34 Die Afrikaner is gevolglik die nasie in die wêreld wat die minste lees en die minste uit sy skoolopleiding haal, met die gevolg dat 'n stuwende intellektuele lewe nie bestaan nie en vaderlandsliefde nie deur 'n skeppende literatuur aangevuur word nie. Ons word wysgemaak dat Afrikaans te laag en te plat is vir 'n skryftaal, terwyl die eintlike waarheid is dat dit as gevolg van defleksie en die afwerp van oorbodige verbuigings 'n vooruitgang op ‘Hooghollands’ beteken. ‘Afrikaans is ons eige,’ skryf Langenhoven, ‘hij is in Suid-Afrika gemaak om te pas bij ons Afrikaanse toestande en lewenswijs; hij het saamgegroei met ons volkskarakter; hij is die enigste band wat vir ons als 'n aparte nasie aanmekaar bind; ons enigste volkskenmerk.’Ga naar eind35 Hierop laat Langenhoven 'n uitspraak volg wat in die heersende debat oor Afrikaans en die diskussies oor die taal dikwels aangehaal is om te illustreer hoe die blanke Afrikaner Afrikaans as sy eksklusiewe | |
[pagina 269]
| |
besit opgeëis het, met uitsluiting van mense van 'n ander huidskleur wat ook die taal gepraat en 'n daadwerklike aandeel aan sy ontstaan gehad het. Afrikaans, so skryf Langenhoven, ‘plaas ons hoger als die Engelsman op nasionaal gebied en patrioties gebied; ja hoger als enige ander blanke inwoner van ons land; want hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie. Maar die eén besitting wat vir ons hoger plaas, word deur ons vertrap als 'n vlek en 'n klad waarvoor ons ons moet skaam teenoor die landgenote van ons wiens trouw en ideale oorkant die see is.’Ga naar eind36 Alhoewel die aanklag van die eksklusiewe opeising van Afrikaans in so 'n uitspraak ongetwyfeld waar is, kan 'n mens tog ter verdediging van Langenhoven sê dat in 1914 - die jaar waarin hierdie uitspraak gemaak is - die geskiedenis en herkoms van Afrikaans nog nie deur taalhistorici beskryf is nie. Die aandeel van mense met 'n ander huidskleur is eers betreklik onlangs deur navorsing uitgewys en die beskrywing daarvan is nog in 'n vroeë stadium. 'n Belangriker argument is egter dat Langenhoven se aandag in hierdie tyd in so 'n groot mate opgeëis is deur die oorlewingstryd waarin sy taal en mense gewikkel was dat dit om begryplike redes nie by hom opgekom het om ook na die belange van ander bevolkingsgroepe om te sien nie. In sy stryd in belang van die taal moes hy noodwendig die stigma ‘Hotnotstaal’ van Afrikaans afgewerk kry, 'n stigma waaraan sy indertydse Engelstalige medeburgers met hulle vooroordele geen geringe aandeel gehad het nie. Binne die tydsomstandighede is so 'n formulering dus begryplik en sou dit verkeerd wees om op grond van dié enkele uitspraak 'n etiket van rassisme om Langenhoven se nek te hang. Op Langenhoven se reeks artikels het ds. P.G.J. Meiring in sy gereelde rubriek ‘Hiervan en daarvan’ in De Kerkbode gereageer,Ga naar eind37 'n reaksie wat Langenhoven egter in 'n groot mate gelyk gee. Volgens ds. Meiring sê Langenhoven dat die Kerk deur die eeue konserwatief was: die priester het altyd die profeet vervolg, omdat die profeet altyd die ongebaande weë gesoek het. Die Hollandse predikante het volgens hom twee geslagte tevore die geleentheid ongebruik laat verbygaan om van ons volk 'n lesende volk te maak, omdat hulle aan Hollands vasgeklou het, 'n taal waarin geen noemenswaardige geskrifte hier te lande gelewer is nie. Toe Afrikaans tot volkstaal verhef moes word, het hulle die voorstanders daarvan gehinder en gedwarsboom. Meiring gaan akkoord met Langenhoven en sê dat daar geen enkele verantwoordeli- | |
[pagina 270]
| |
ke persoon gevind sal kan word wat die standpunt sou wil of kan verdedig dat die Hollands van die kansel en van die gewone nuusblad nog ons volkstaal sal word nie. Selfs Changuion en Mansvelt, wat vir Nederlands gestry het, moes uiteindelik tot die besef kom dat Nederlands geen lewensvatbaarheid in Suid-Afrika meer het nie. Afrikaans is ons taal en sal dit bly, en daarom sal dit ook uiteindelik die kansel- en skooltaal word. ‘Maar dáar’, so gaan Meiring voort, ‘gaan onze wegen uit elkaar: hij oordeelt dat wat eens zal zijn, nu moet zijn, en wij meenen, dat daardoor onze ontwikkeling zal worden gestremd. Die vijg moet van zelf rijp worden, en niet rijp gedrukt. Zooals zaken vandaag zijn, kan het Afrikaansch nog den steun van het Hollandsch niet missen.’Ga naar eind38 Op hierdie antwoord het Langenhoven nie gereageer nie, omdat Meiring in 'n hoë mate sy standpunt weergegee en daarmee akkoord gegaan het. Waar daar verskille was, het Langenhoven reeds elders, onder meer in antwoord op Hertzog, sy standpunt gestel, naamlik dat enige uitstel om aan Afrikaans sy regmatige plek te gee, die ontwikkeling van die taal alleen kon vertraag. Telkens, so skryf Langenhoven in sy reeds vermelde brief van 22 Mei 1913 aan Gustav Preller, moes hy met sy stryd vir Afrikaans op allerlei terreine op die standpunt stuit dat die tyd nog nie ryp is nie. Afrikaans, so sê hy, ‘is al vir die laaste honderd jaar aan 't rijp word. In al die tijd, wat het al die geleerde Afrikaners, met vernuf en gelegenheid en loisir [vrye tyd - JCK], vir ons literatuur gedaan? Wat het hulle gedaan om ons volk aan 't lees te krij? Watter hoog-hollandse geskrif van hulle is daar wat in die huise en harte van die volk ingedring het en die polste van die volk laat klop het vir ons glorie-rijke verlede en die ideale van ons toekoms? Op die end van die tijd staat ons waar ons in die begin daarvan gestaan het: met 'n volk sonder literatuur, sonder leeslus, sonder middele van geestes-ontwikkeling. Ons moet begin om 'n begin te maak - begin om skrijwers te produseer wat nie kan skrijf nie omdat daar geen mark is nie - begin om 'n mark te maak vir leesstof wanneer daar geen lesers is nie omdat daar geen leeslus is nie. So moet ons probeer om te begin, en maar weer aflaat - want die tijd is nog nie rijp nie. En die onrijpe tijd gaat virbij: vir jou en vir mij - die is minder: maar hij gaat virbij vir ons volk; en éen geslag op die ander word gebore en groei groot sonder dat in hulle jeug die fondament geleg word van 'n gebouw wat dan tog vir die voordeel van die opvolgende jeug kan verrijs. Die onrijpe tijd van ons | |
[pagina 271]
| |
is die rijpe tijd, die welaangename tijd, van ons landgenote wat nie ons volksgenote maar ons konkurrente is. Vir hulle is daar 'n klaargemaakte literatuur, 'n skreeuwende mark, en 'n hongerige en dorstige leeslus want hulle het in overvloed stof in die taal wat hulle met genot kan lees omdat (dit) die taal is wat dageliks op hulle lippe is.’ Wat in ons pad staan, sê Langenhoven in 'n stelling wat aan sy antwoord op Hertzog herinner, is die ‘gebrek aan eenvormigheid in ons taalgebruik’. En hierdie gebrek spruit voort uit ons vrugtelose gewag op ‘die tijd om rijp te word!’ 'n Belangriker pleidooi in belang van Afrikaans as sy reeks in Januarie en Februarie 1914 is Langenhoven se polemiek met prof. P.J.G. de Vos van die Stellenbosse Kweekskool, 'n polemiek wat hy volledig in U dienswillige dienaarGa naar eind39 opneem. Hoewel Langenhoven waardering het vir wat ‘predikante van die oú skool’ soos prof. De Vos vir die feitlik ‘ongeletterde bevolking’ gedoen het, was dit vir baie van hulle haas onmoontlik om van die ‘versteende gebruike en oortuigings van 'n lang lewenstyd’ ontslae te raak. In 'n brief van 21 Julie 1914 in Ons Land - wat Langenhoven in Het Zuid-Westen oordruk - sê prof. De Vos dat wat tans nodig is om tot die regte taalvorm te kom, is dat Nederlands vir 'n onbepaalde tyd as skooltaal moet bly voortbestaan, dat Afrikaans deur die invloed van Nederlands gesuiwer en verryk moet word en dat mense wat hulle daartoe geroepe voel, moet voortgaan om as skrywers in Afrikaans op te tree. Op dié wyse sal die twee strome wat tans naas mekaar loop, steeds nader aan mekaar kom, ‘totdat wij zodoende gekomen zullen zijn waar wij wezen moeten’. 'n Taal, so gaan hy voort, is iets wat 'n natuurlike groei moet hê en laat homself nie forseer nie. Daarom wil hy, waarskynlik tot groot wrewel van Langenhoven, wat dit juis teen dié hele geestesgesteldheid gehad het, in alle erns sê: ‘Haast u toch langzaam!’ Dit geld nie alleen vir Afrikaans as skooltaal nie, maar veral ook vir Afrikaans as kerktaal. As daar in hierdie sake op 'n onbesonne wyse te werk gegaan word, kan dit tot groot ontstigting en verwarring lei en die goeie saak benadeel. ‘Men kan’, skryf hy, ‘toch ook in de prediking evenals op de school, waar men met kinderen of zeer eenvoudigen te doen heeft, zijn taal inrichten naar hun behoeften; en eenvoudig goed Hollands wordt door hen spoedig veel beter verstaan dan velen denken.’ In sy reaksie haal Langenhoven die merkwaardige uitspraak van De Vos aan ‘dat het tans een hopeloze taak is de jeugd van ons volk er toe | |
[pagina 272]
| |
te brengen het Nederlands als haar moedertaal te beminnen en aan te leren en vooral te spreken’. Dit beteken dus dat De Vos ronduit erken dat Nederlands nie ons moedertaal is nie. As hy hom daarna beywer om Nederlands as skooltaal te behou, het hy terselfdertyd ook alle aanspraak op die wenslikheid van moedertaalonderwys prysgegee. Wat De Vos dus eintlik wil sê, is ‘dat onze eigen taal te niets-beduidend is voor schrijf-doeleinden, en dat wij te onnozel zijn om de andere taal die men ons wil leren, te beminnen of aan te leren of te leren spreken’. Sonder logiese gevolgtrekkings meen De Vos dan dat as Nederlands nie ons taal kan wees nie, Afrikaans, soos hy nou bestaan, ook nie daarvoor in aanmerking kom nie. Daar moet dan 'n derde taal in die lewe geroep word wat nie Nederlands en ook nie Afrikaans sal wees nie, ‘maar vermoedelik de kenmerken in zich zal verenigen welke de bestaande twee niet bezitten, van tegelijk moedertaal te zijn en toch degelik genoeg voor schrijf- en onderwijs-doeleinden’. Tog spreek De Vos homself teen as hy kort daarna sê dat 'n taal vanself moet groei. Waar hy beweer dat die vorm van die Afrikaanse skryftaal onduidelik is, wys Langenhoven daarop dat daar, ongeag afwykings in die spelvorm, maar één Afrikaans is. Indien Afrikaans geslagte gelede op skool onderwys en deur staat, kerk en pers erken is, sou ons ons nie nou met elementêre reëls hoef te belas nie. Waar De Vos vervolgens vra hoe die Afrikaanse kind sonder die studie van Nederlands sy Bybel of 'n Hollandse preek sal volg, stel Langenhoven die teenvraag of die kerk al die jare Hollandse preke aan 'n volk gegee het waarvan die oorgrote meerderheid geen vierde en selfs geen tweede onderwysstanderd geniet het nie. ‘Mij dunkt’, skryf Langenhoven, ‘het geen gering zelfverwijt voor een Kerk om bij monde van haar hoogleraar te belijden dat haar arbeid heeft bestaan in het verkondigen van onbegrepen lessen.’ Aan die einde van sy betoog staan Langenhoven stil by die verwarring wat daar tans tussen Nederlands en Afrikaans bestaan. Dié verwarring, sê hy, sal bly bestaan solank die volk gedwing word om één spreektaal en 'n ander skryftaal te hê. Volgens De Vos se erkenning sal Nederlands nooit ons volkstaal word nie, maar tog wil hy hê dat die verskil tussen spreek- en skryftaal, 'n verskil wat geen ander beskaafde nasie met ons deel nie, moet bly voortduur. Daarby raai hy ons ernstig aan om ons langsaam te haas. Dié raad is egter reeds proefondervindelik getoets. ‘Voor twee honderd jaren’, skryf Langenhoven, ‘hebben | |
[pagina 273]
| |
wij ons langzaam gehaast, met het resultaat dat wij onder beschaafde naties schitteren door de onderscheiding dat wij geen eigen literatuur hebben, dat wij als volk van leeslust beroofd zijn, dat wij naar de Kerk gaan om de preken niet te verstaan (zoals de professor zelf getuigt) tenzij wij voor de hemelse weg voorbereid zijn door een voorafgaande Hooghollandse schoolweg; en dat wij ons noch met de tong noch met de pen als kultuurmensen kunnen uitdrukken omdat wij onze eigen taal niet mogen leren en de vreemde die aan ons in de plaats daarvan onderwezen wordt, niet kunnen leren.’ In sy belangrikste pleidooie het Langenhoven hom veral gerig teen dié mense wat Nederlands vir Suid-Afrika, op watter wyse ook al, probeer behou het en nie kon insien dat Afrikaans ons eintlike taal is nie. As regsgeleerde het hy duidelik besef dat die verdeeldheid in die Afrikanergeledere die saak en aansien van sy eie mense verswak en dat hierdie tweespalt uitgewerp sal moet word indien die Hollandse taalvorm 'n voortbestaan in dié land wou hê. Teen Engels as sodanig het hy, anders as die ander taalstryders, hom nooit verset nie, maar wél teen die dikwels hooghartige en meerderwaardige houding wat die Engelstaliges in Suid-Afrika teenoor hulle Afrikaanstalige medeburgers aangeneem het. 'n Mens sien dit reeds in sy reaksie op lord Gladstone. In 'n hoofartikel in Het Zuid-Westen van 19 Oktober 1914 wei hy uit oor hierdie ingesteldheid van die Engelse. ‘Daar is nie onder enige nasie 'n edeler klas mens nie als 'n egte opgevoede Engelse gentleman. Daarom is dit so diep te betreur dat genoemde klas so betreklik skaars is onder die vertegenwoordigers van die Engelse nasie in Suid Afrika. Kijk nou hoe lijk hulle vir die oorgrote meerderheid hier in Oudtshoorn. Onnosel, ongeleerd, onkundig, onverstandig, onbeskof, onbeskaafd. Uit daardie hoedanigheid, of gebrek aan hoedanigheid, vloei hulle gedrag teenoor die Afrikaanssprekende seksie. Hulle behandel ons met verwaande en dom-astrante minagting. Hulle probeer nie om ons gevoelens te verstaan nie, ons standpunt is vir hulle duister. En daarom veroordeel hulle vóór die voet elke opienie en elke gedragslijn wat nie presies ooreenstem met die bekrompe opvatting van sake waartoe hulle eie armoedige gees in staat is. Ons moet net so denk oor politieke vraagstukke als hulle, dan word ons naam in hulle koerante uitgebasuin als daardie rare voortreffelikheid: a loyal Dutchman. Vir die doeleinde van dagelikse verkeer met hulle en om ons eie huis-altaar moet ons ons eie taal weggooi als te laag om in | |
[pagina 274]
| |
aanmerking te kom en hulle taal gebruik waarin die meeste van hulle self nie 'n brief kan opstel sonder foute nie, dan is ons weer daardie voorname kreatuur: a Dutchman of broad and English Ideas. Ons moet hulle veragting insluk en buig onder die vernedering wat hulle op ons wil plaas, dan is ons met 'n prijsenswaardige gees van konsiliasie en rasse-toenadering besield. Hulle wil almaal toenadering hê tussen die twee rasse, maar die toenadering moet net van óns kant kom. Hulle gee nie 'n duim nie, ons moet die hele pad gee, anders is ons rassehaters en backvelders en onrus-stokers.’ Dit is opvallend dat Langenhoven, wat in dié tyd polities 'n ondersteuner van Louis Botha was, hier smalend van die ‘prijsenswaardige gees van konsiliasie’ praat. Die woord ‘konsiliasie’ is voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog, soos ook die woorde ‘vergewe en vergeet’, by herhaling deur Botha en Smuts gebruik om hulle standpunt van vergewensgesindheid teenoor Brittanje en hulle samewerking in die militêre stryd te predik en te verantwoord. Alhoewel Langenhoven in die bewoë tyd van verdeeldheid in Afrikanergeledere hom teen die Rebellie uitgespreek het en aanvanklik gekant was teen Hertzog se optrede en die skeuring wat daardeur in die kabinet gekom het, was hy tog nie doof vir die gevoelens van die minderheid nie en hewig ontsteld oor die bewoë gebeurtenisse soos die dood van genl. De la Rey en die fusillering van Jopie Fourie. Dat hy die woord ‘konsiliasie’ hier pejoratief gebruik, dui daarop dat hy dit in dié stadium reeds nie meer honderd persent eens was met Botha en Smuts nie. In die volgende jaar sou hy hom van die Suid-Afrikaanse Party losmaak en by die Nasionale Party aansluit. Maar in Langenhoven se pleidooie uit die jare by Het Zuid-Westen is die politieke verskille met sy mede-Afrikaners en sy reaksie op sy Engelstalige medeburgers op die agtergrond. Hoofsaak in dié tyd was sy stryd in belang van Afrikaans en die besliste keuse wat hy maak tussen die twee taalvorme van die Hollandssprekende bevolkingsgroep. In 'n lang artikel oor ‘Ons moedertaal’ wat in Ons Land verskyn, sê hy: ‘Ons kan nie langer hink op twee gedagtes nie. Als Nederlands ons taal is dan moet ons hom praat, en als Afrikaans ons taal is dan moet ons hom skrijf.’ Hierop volg 'n reeks stellinge oor taal as sodanig en Afrikaans in die besonder. Onder meer sê hy dat Afrikaans nie 'n dialek is nie, aangesien dit orals in Suid-Afrika op eenvormige wyse gepraat word. Afrikaans en Nederlands, so sê hy in hierdie stadium uitdruklik | |
[pagina 275]
| |
('n uitspraak wat hy later by implikasie sal terugtrek, omdat dit vir die verdere erkenning van Afrikaans grondwetlike implikasies gehad het), is nie één taal nie, maar twee. Afrikaans is reeds gebruik vir filosofiese, wetenskaplike, teologiese en regskundige doeleindes en daarmee het hy bewys dat hy geensins onbevoeg is om as offisiële skryftaal te dien nie. Dié mense wat meen dat Afrikaans nog te armoedig of te onbeskaaf is om skryftaal te wees en intussen maar aan homself oorgelaat moet word, laat hom dink aan die man wat nie in die water wou ingaan voordat hy kon swem nie. Langenhoven was nie eens 'n volle drie jaar redakteur van Het Zuid-Westen nie. Op 12 Oktober 1914, nadat die volstruisveremark in Londen reeds tot 'n val gekom het en die Oudtshoornse distrik ekonomies begin ineenstort, doen Langenhoven 'n ernstige beroep om finansiële steun vir sy koerant. Winkeliers op Oudtshoorn het ophou adverteer omdat hulle klandisie so verminder het, die koerante het salarisse besnoei en Langenhoven self het begin voel dat die blad liewers gestaak moes word. Daarom kondig hy op 19 Oktober aan dat hy as redakteur bedank. Die direksie het dit egter oorweeg en besluit om die bedanking nie te aanvaar nie, maar om met Het Zuid-Westen as 'n weekblad voort te gaan. Tog kon die blad in hierdie moeilike ekonomiese omstandighede die stryd nie volhou nie. Op 9 Januarie 1915, toe die blad reeds ingekrimp het tot een uitgawe per week, is Het Zuid-Westen gestaak. ‘Bij mijn vaarwel aan mijn lesers wens ik hulle alle heil en voorspoed’, skryf Langenhoven. ‘Van mijn kant is dit 'n gedwonge afskeid wat mijn hart baie seer laat. In die tijd wat ik hier was, het ik vriendskap verwerf wat ik hoog waardeer. Ik het vijandskap verwerf wat ik betreur maar sonder self-verwijt. Naar die beste van mijn geringe bekwaamheid het ik geseg wat ik beskouw het wat reg was sonder om naar die guns van hierdie man te vrij en sonder om die onguns van daardie man te vrees. Naar mijn eie sin het ik mijn werk op seer verre na nie reggekrij nie, maar met alle foute en gebreke wens ik nie vandag dat ik in eén belangrijke opsig 'n ander koers ingeslaan had als wat ik gedaan het nie.’ Die koers wat Langenhoven ingeslaan het, was beslissend vir homself én Afrikaans. In die tyd van sy redakteurskap het Het Zuid-Westen 'n groot invloed landswyd gehad en bekend geraak ver buite die grense van Oudtshoorn. Van 'n tipiese plaaslike blaadjie met kontreinuus het dit ontwikkel tot 'n persoonlike mondstuk, tot die pleitbesorger by | |
[pagina 276]
| |
uitnemendheid van Afrikaans as skryftaal in plaas van Nederlands. Waar hy polemies en skerp op sy teenstander gereageer het, was sy pleitredes altyd bo die persoonlike vlak verhef. Maar die sleutel tot sy sukses, so stel Schalk Pienaar dit in 'n praatjie tydens Langenhoven se eeufeesjaar, ‘was nie in laaste instansie die dodelike dialektiek ten gunste van Afrikaans teen die voorstanders van Hooghollands nie. Dit was die taal waarin hy sy argumente gevoer het, die onweerlegbare bewys dat Afrikaans inderdaad is wat hy beweer: die enigste moontlike taal vir die Afrikaner.’Ga naar eind40 | |
IVIn die feitlik drie jaar dat Langenhoven die redakteurskap van Het Zuid-Westen behartig het, was daar telkens groot waardering vir sy werk. Op 8 November 1912 skryf A.F. Auret van Hankey byvoorbeeld in 'n nog sukkelende Afrikaans hoe baie hy die koerant geniet. ‘Dit is waarlik 'n plezier’, sê hy, ‘om die Zuid Westen te krij, en ik wens jou harte geluk omdat jij die papier zoo gou tot zoo 'n hoëe punt gekrij het.... Ik weet nie waarom dit zoo is nie’, gaan hy feitlik profeties voort, ‘maar ik is tog te begerig om jou in Parlement te zien. Schrijf mij dan wat jou plan is en hoe ik moet te werke gaan. Misscien is ik beetje te haastig want in die dinge moet 'n mens baing verdra en gedult hê.’ Langenhoven tree in hierdie jare met baie van die ander taalstryders in verbinding om gedagtes met hulle te wissel. Een van sy belangrikste korrespondente in dié tyd is Gustav Preller van De Volkstem, iemand aan wie hy - soos blyk in sy reeds aangehaalde brief van 22 Mei 1913 - dikwels openhartig skryf en van die moeilike stryd in Oudtshoorn en die vooroordeel teen Afrikaans vertel. Wanneer hy met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog vermoed dat sy vriend pro-Duits is, gee Preller hom in 'n brief van 20 September 1914 die versekering dat dit nie die geval is nie. Hy glo dat dit ‘'n eindelose ramp’ sal wees as ‘ons sou probeer om ons te ontdoen van die staatkundige bande wat ons aan die Britse Ryk vasmaak’, hoewel hy sy vryheid gewaarborg wil hê. ‘Ons wil Afrikaners wees’, skryf hy, ‘wat nie aan die leiband loop van die Engelse nie, netsomin als aan die van die Duitsers...En ik denk dat ons daarvan in die laaste tijd 'n beetje onnodig tekoop loop met ons | |
[pagina 277]
| |
lojaliteit, en die regvaardigheid van die oorlog in Europa, wat ons vandaag net so min kan beoordeel als die man in die maan.’ Ook dr. W.M.R. Malherbe van Die Brandwag verseker Langenhoven dat hy teen enige rebellie teen die regering is en dat hy so iets as 'n sot optrede beskou. Op 14 November 1913 laat Malherbe aan Langenhoven weet van 'n boer uit die Vrystaat wat in sy kantoor kom kla het oor die taal in Die Brandwag, maar tog ingeteken het. ‘Dis al 'n ou man’, skryf Malherbe, ‘en 'n mens moet hom maar nie te hard vat nie, oor sy voorliefde vir Hollands en sy onbekendheid met sy eie liefde vir Afrikaans. Die laatste spreek daarom nog so sterk, dat hy tog 'n pond per jaar oor het vir ons tydskrif, om dit self te lees.’ Toe D.F. Malherbe se digbundel Klokgrassies verskyn, is Langenhoven - bo en buite alle verhouding met die intrinsieke gehalte van die bundel - baie ingenome daarmee, in so 'n mate dat hy van toe af Malherbe altyd op die bynaam Klokgrassies aangespreek het. In 'n brief van Mei 1914 skryf Langenhoven met waardering oor die bundel. ‘Ik besit geen aanleg vir resensie..., vooral literaire resensie (nie)’, sê hy. ‘Deur herhaalde ontmoeting ken ik wél die afgeslete terme wat in die techniek daarvan gangbaar is - “lieries”, “ge-inspireerd”, “hartstogtelik”, “musiekaal” en 'n menigte van andere - maar ik krij nooit twee resensente wat, onafhankelik, op dieselfde taksasie van dieselfde behandelde werk uitkom nie: en die hele stelsel van beoordeling lijk vir mijn, aan subtiliteit-kortkomende, eenvoudige verstand altijd naar 'n konsuisspeuletjie. Juis die éen onderskeiding wat van éen onbesproke werk literatuur maak waar 'n ander onbesproke werk deeskant die paal omdraai - juis daardie element beskouw ik, in mij eenvouds-dweperij en sug naar wat tasbaar reg of onreg is - als onbeskrijfelik; en daarom waag ik mij nooit aan die ortodokse superieure, neerbuigende, excathedra vorm van resensie nie.’ Om dié rede ‘resenseer’ hy dan ook nie Malherbe se Klokgrassies nie, maar skryf hy in Het Zuid-Westen van 18 Mei 1914 'n bekendstellingsartikel met baie aanhalings, een van die min kere dat Langenhoven hom tog in die openbaar oor die werk van 'n tydgenoot uitspreek. Langenhoven se mededelings in hierdie brief aan D.F. Malherbe is om meer as een rede van belang. Dat hy literêre kritiek tot 'n ‘konsuisspeuletjie’ of 'n kamma-wetenskap reduseer en van ‘ex-cathedra’-uitsprake gru, impliseer dat hy in werklikheid meen dat daar nooit met enige sekerheid iets oor die gehalte van 'n woordkunswerk gesê kan | |
[pagina 278]
| |
word nie, 'n uitspraak waarmee hy alle gesprekke oor die literatuur tot niksseggendhede reduseer. Daarmee laat hy hom vir die eerste keer skepties uit oor die kritiese bedryf en oor mense wat hulle daarmee besig hou, 'n ingesteldheid wat hy vir die res van sy lewe sou behou en wat dikwels tydens sy loopbaan as skrywer tot uitbarstings en polemieke sou lei. Maar naas die pleidooie in belang van Afrikaans en die kontak wat hy deur die koerant met sy strydgenote elders kon opbou, gee Het Zuid-Westen in hierdie jare vir Langenhoven meer geleentheid as vroeër om sy eie skeppende werk te publiseer. Soms verskyn dié stukke onder sy eie naam, soms onder skuilname soos Credo Experto. In 1912 bied hy Ons weg deur die wêreld as 'n feuilleton aan, terwyl van die verhale wat hy later in dié bundel opneem, reeds in 1913 begin verskyn. Uit dié tyd dateer ook 'n reeks wat hy ‘Ons plekkie in die heelal’ noem, die verre voorloper van die latere Van die aarde na die sterre en die vroegste aanduiding van Langenhoven se groot belangstelling in die sterrekunde en sy kennis van dié onderwerp. In Julie 1913 publiseer hy gedigte in Het Zuid-Westen, terwyl hy in dieselfde maand die eerste hoofstuk lewer van ‘Die verlore soon’, 'n vervolgverhaal wat hy voltooi maar nooit later in boekvorm laat verskyn nie. Later sou hy dit omwerk in 'n ‘treurspel’, maar ook nie publiseer nie. In Julie 1913 verskyn van sy eerste spookstories wat hy later in verwerkte vorm in Geeste op aarde sal opneem. In Januarie en Februarie 1914 skryf hy 'n reeks oor 'n besoek aan Ladismith, vermaaklike reisartikels met baie staaltjies waaruit 'n mens kan aflei in watter mate Langenhoven in dié jare reeds met Afrikaans kon speel. Op 1 Junie publiseer hy een van sy eerste stukkies vir kinders waarin hy op hulle vlak en feitlik op die wyse van 'n gelykenis 'n boodskap oor Uniedag aan hulle oordra, 'n soort allegorie met Broederliefde en Tweedrag as die wit en swart engele onderskeidelik. En wanneer die einde van die jaar 1914 aanbreek, neem hy 'n artikel onder die titel ‘Tik tik tik tik’ op waarin hy mymer oor die tyd wat verbygaan, maar dan met heenwysing na die teregstelling van Jopie Fourie op 20 Desember 1914 en die nagwaak voordat die vonnis voltrek word. Op 14 Maart 1914 verskyn die eerste uitgawe in een band van Ons weg deur die wêreld, Langenhoven se belangrikste publikasie in boekvorm uit die vroeë jare van sy skrywerskap. Die vorige jaar, op 8 November 1913, voltooi hy sy toneelstuk Die Hoop van Suid-Afrika, wat nog dieselfde jaar die eerste keer opgevoer word. As 'n mens bedink dat Lan- | |
[pagina 279]
| |
genhoven in hierdie jare die redigering van Het Zuid-Westen met slegs die hulp van Sarah Goldblatt moes behartig en baie ander sake hom ook besig gehou het, is sy produksie baie indrukwekkend, al verdwerg dit naas sy talle publikasies van die twintigerjare. | |
VHoewel Langenhoven met sy redigering van Het Zuid-Westen en sy talle artikels in dié koerant en elders baie gedoen het om die aanvanklike teenstand teen Afrikaans te laat afneem en die mense te laat besef dat Afrikaans, en nie Hollands nie, hulle taal is, was daar nog te veel persone in gesagsposisies wat die status quo gehandhaaf wou hê en eers êrens in die verre toekoms vir Afrikaans 'n toekoms gesien het. Met sy artikels het Langenhoven, soos ook sy medestryders, hierdie mense teengegaan en hulle standpunt met sterk logiese argumente omvergegooi. Anders as sy medestryders het hy egter besef dat die stryd vir Afrikaans net op een manier gewen sou kon word, naamlik - soos hy dit in U dienswillige dienaar stel - as ‘die nodige gesagserkenning en gesagsgebod deur die wetgewing’Ga naar eind41 verskaf word. Afrikaans moes met ander woorde langs politieke weë en deur wetgewing amptelike status verkry. Die vraag was dan wie die eerste stap in dié rigting sou doen. Dit moes 'n man wees, so sê Langenhoven enigsins lakoniek in U dienswillige dienaar, ‘sonder politieke wysheid of bedaardheid van beleid..., the fool rushing in where angels feared to tread’.Ga naar eind42 Onder die taalstryders was daar net één man met so 'n geestesamestelling, naamlik Langenhoven. En aan die begin van 1914 het die geleentheid gekom om Afrikaans op dié wyse te bevorder en die proses aan die gang te sit ‘om daarvandaan verder met sy eie onkeerbare krag voort te donder oor alle hinderpale heen’.Ga naar eind43 |
|