Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 222]
| |
Hoofstuk XI
| |
[pagina 223]
| |
gewild te maak, onder meer deur die publikasie van die historiese roman Johannes van Wyk, wat vanaf Januarie 1904 as vervolgverhaal in De Goede Hoop en in 1906 in boekvorm verskyn. Op Hofmeyr se lesing antwoord G.S. Preller in 1905 in De Volkstem met 'n lang reeks artikels Laat 't ons toch ernst wezen!Ga naar eind3 Daarin sê hy dit ontbreek Afrikaners inderdaad aan erns in verband met Hollands, maar hy vra of die erns vir Afrikaans, wat as moedertaal diep wortel, gesond leef en daarom die beste kans op voortbestaan het, dan afwesig is. In 'n naskrif tot sy reeks artikels nooi Preller alle belangstellendes om 'n beweging vir die bevordering van Afrikaans te begin. Op sy inisiatief word op 13 Desember 1905 tydens 'n byeenkoms in Pretoria die Afrikaanse Taalgenootskap gestig met die doel om Afrikaners te oortuig van hulle taal, om Afrikaans in 'n suiwer vorm te ontwikkel en om 'n Afrikaanse nasionaliteitsgevoel aan te kweek. Byna 'n jaar later, op 3 November 1906, stig De Waal in Kaapstad met die samewerking van D.F. Malan, D.F. Malherbe, D.F. du Toit Malherbe en A.I. Perold die Afrikaanse Taalvereniging met wesentlik dieselfde doelstellinge. In Augustus 1908 lewer D.F. Malan op Stellenbosch die rede ‘Het is ons ernst’.Ga naar eind4 Die taal, sê hy, word gebore op die bodem van die volkshart en volksgeskiedenis en leef alleen in die volksmond. Daarom moet die vraag in Suid-Afrika nie wees watter taal die beste is nie, omdat die keuse van 'n taal in die eerste plek 'n volksaak is. Hy wys daarop dat Nederlands of Vereenvoudigde Nederlands nooit die volkstaal van Suid-Afrika sal kan word nie, omdat dit kunsmatigheid sal meebring. Afrikaans is die natuurlike medium, en dit moet ook as skryftaal aangewend word, anders sal dit die gebruik van Engels bevorder. En dit is nodig om dit nóú te doen, omdat die Afrikanervolk aan nasionale armoede ly. Die erkenning van Afrikaans sal hierdie probleme oplos en die totstandkoming van 'n volksliteratuur verhaas. Terwyl hierdie onderskeie bewegings in belang van Hollands en Afrikaans aan die gang was en mense hulle daadwerklik in die taalstryd gewerp het, was Langenhoven afsydig en was dit sy oortuiging dat Engels die toekomstige taal van Suid-Afrika sou word. Alhoewel De Waal in 1932 nie meer die presiese datum kon onthou nie, was dit waarskynlik in 1907 toe hy Langenhoven die eerste keer persoonlik ontmoet het. Hierdie kennismaking was in Bawden se hotel op Oudtshoorn. Langenhoven, so vertel De Waal in My herinnerings van ons taalstryd, het ‘my...aangepak...oor my malle ywer vir die armsalige | |
[pagina 224]
| |
Kaapse Hollands’.Ga naar eind5 Langenhoven se toon was, volgens 'n artikel van De Waal in Die Huisgenoot van 2 Desember 1932, ‘minagtend en beledigend’Ga naar eind6 en hy het snedig verwys na Afrikaans as ‘daardie armsalige voertuig wat ek op gelyke voet met die wêreldtaal Engels wou stel’.Ga naar eind7 Al het hy in hierdie stadium reeds sekere dinge in Afrikaans geskryf, wou hy niks te doen hê met die Afrikaanse Taalvereniging nie en het hy en De Waal op politieke gebied ook van mekaar verskil. Alhoewel De Waal hom tydens die ontmoeting met ‘onweerlegbare feite’Ga naar eind8 gekonfronteer het, kon hy Langenhoven nie oortuig nie. Tot enige mate van vriendskap kon hierdie eerste ontmoeting dus nie lei nie, al het De Waal onder die indruk gekom van die verbasend vinnige wyse waarop Langenhoven se brein werk, sy oorspronklike denkwyse, sy onbesproke woordrykheid en sy kernagtige uitdrukkingsvermoë.Ga naar eind9 Dat Langenhoven en De Waal in hierdie jare op sowel politieke as taalvlak van mekaar verskil het, word bevestig deur ander getuienis oor Langenhoven se gesindhede aan die begin van die twintigste eeu. Alhoewel hy in briewe nie so uitgesproke was as Vroutjie nie, blyk dit tog dat hy nie veel erg gehad het aan die saak van Transvaal en die Oranje-Vrystaat tydens die Anglo-Boereoorlog nie en dat hy in hierdie stadium 'n bewonderaar was van die Britse Ryk. Van die begin af was Langenhoven se afkeer op taalgebied gerig teen Nederlands, nie Afrikaans nie. 'n Mens wonder dus of De Waal se herinnering aan Langenhoven se uitsprake, selfs al meen hy dat hy hul eerste persoonlike kennismaking goed onthou,Ga naar eind10 heeltemal juis is, veral omdat sy herinneringe eers ongeveer dertig jaar na hul eerste ontmoeting opgeteken is. Was dit nie eerder 'n geval dat Langenhoven - soos in sy rede van 1893 - by gebrek aan 'n volwaardige woordeskat en aan 'n literatuur in Afrikaans geen lig vorentoe gesien het nie? In elk geval was daar in hierdie stadium van enige vorm van Afrikanernasionalisme by hom geen sprake nie, soos 'n mens ook kan aflei uit sy opdrag aan Vroutjie se Van Velden-kinders om aan die etenstafel Engels te praat sodat hulle 'n beter opvoeding kon kry. Tog was daar in hierdie jare reeds kiemselle in Langenhoven aanwesig wat later sou ontwikkel. 'n Belangrike saak wat hy in U dienswillige dienaar nie noem nie maar waarop Sarah Goldblatt by meer as een geleentheid in radiopraatjies en onderhoude die aandag gevestig het,Ga naar eind11 was Langenhoven se ervaring met krygsgevangenes, in die besonder Kaapse rebelle, tydens die Anglo-Boereoorlog. In een van die onder- | |
[pagina 225]
| |
houde wys Sarah Goldblatt daarop dat Langenhoven dikwels sake moes behartig van Kaapse rebelle wat hulle aan die kant van die twee republieke geskaar het en by skuldigbevinding die doodstraf opgelê kon word. Hierdie mense moes in 'n uitsluitlik Engelstalige hof verhoor word en hulle getuienis aflê met behulp van 'n tolk wat die oorspronklike Afrikaans dikwels erg verdraaid in Engels oorgedra het. In sy Reminiscences wys sir Henry Juta ook op die gruwel van hierdie toestand met treffende voorbeelde uit sy eie ervaring met die rondgaande hof. As voorbeeld haal hy Langenhoven se samespraak ‘Die tweetalige vonnis’ aan. Dat Sarah Goldblatt meer as een keer na hierdie onreg verwys, is 'n aanduiding dat Langenhoven dit by herhaling met haar bespreek het. Hy het sy lewe lank 'n sterk gevoel vir reg en geregtigheid gehad en was dus reeds vroeg bewus van die diepgaande onreg wat sy mense as gevolg van die taalsituasie moes ly. In hierdie stadium kon hy egter nog nie insien dat Afrikaans tot 'n volwaardige taal ontwikkel kon word nie. Hoe sterk Langenhoven se gevoelens oor hierdie aangeleentheid was, blyk uit 'n brief wat hy op 27 Augustus 1902 aan J.H. Schoeman, Oudtshoornse lid van die Wetgewende Vergadering, skryf en waarin hy inligting verskaf oor die verhore in die militêre howe. Die brief is 'n uiters belangrike dokument in verband met Langenhoven se sterk emosies oor dié hele toedrag van sake. Aan die begin van die brief sê hy dat hy ongeveer veertig mense voor militêre howe op verskillende plekke verdedig het en dat slegs een van hulle - 'n vrou - onskuldig bevind is. Indien hierdie sake voor 'n jurie sou gedien het, is hy oortuig dat daar nie meer as vyf veroordelings, indien so baie, sou gewees het nie. Die howe het van die veronderstelling uitgegaan dat alle Hollandssprekende mense leuenaars is. ‘The most elementary principles of the law of evidence’, sê hy, ‘were disregarded. Affidavits from persons not called as witnesses and whom the prisoners had never had any means of cross-examining were admitted as evidence. In one case a man was called to depose to what the enemy had told him about the prisoner, and this evidence was admitted. Objections to the admission of such evidence were taken no notice of....At one place the interpreter was not only incapable but a furious political partisan and press censor. As I knew Dutch better than he did, I wanted to correct him where he translated incorrectly. The President of the Court stopped and insult- | |
[pagina 226]
| |
ingly warned me against referring to inaccuracies in the translation again, as the interpreter was a sworn translator and what he said was final.’ As gevolg van hierdie metodes en gesindhede het Langenhoven hom aan die verrigtinge van die militêre howe onttrek. Dit is 'n besluit wat boekdele spreek vir sy sin vir regverdigheid, juis omdat hy in hierdie tyd min werk gehad het, in finansiële moeilikhede was en hofopdragte 'n inkomste vir hom kon beteken. Hy skryf aan Schoeman: ‘I am of the opinion that summary punishment without trial would have been far better than to have the mock trials that were held. Let injustice not be ashamed of itself. The moral effect of committing it under the pretence of legal procedure must have been to undermine the very foundations of justice, and to destroy confidence in the impartiality of civil tribunals also, and it will take a long time to remove the impression.’ In Langenhoven se brief aan Schoeman val die aksent op die juridiese wantoestand in die militêre howe, nie op die taal as medium nie. Tog kom die kwessie van 'n Hollandstalige beskuldigde en 'n swak tolk wel deeglik ter sprake as deel van die onregverdigheid, al het Langenhoven in hierdie stadium nog nie die stryd in belang van Afrikaans begin ten einde hierdie onregverdigheid uit die weg te ruim nie. Dit sou trouens 'n omvattender en intenser bewuswording van sy verdrukte volk kos om hom te laat insien dat taalregte 'n essensiële voorwaarde vir die volwaardige bestaan van sy mense in hierdie land is. | |
IIAs 'n mens die ontwikkeling van Langenhoven se denke oor Afrikaans wil nagaan, is dit nodig om daarop te wys dat hy reeds in sy Stellenbosse rede van 1893 as eerstejaarstudent 'n sekere gevoeligheid vir die taal geopenbaar het en toe reeds geen toekoms vir Nederlands in Suid-Afrika kon sien nie. Alhoewel hy neerhalend oor die ‘very poor vocabulary’ en die afwesigheid van literatuur in Afrikaans was, gee hy voorkeur aan dié taal bo Nederlands. Dit het 'n eenvoudiger grammatika as Nederlands en kom in dié opsig nader aan Engels, 'n standpunt wat Langenhoven ook in sy latere pleidooie in belang van Afrikaans sou herhaal. Daarby is die vraag of ‘Africander Dutch’ 'n onafhankli- | |
[pagina 227]
| |
ke taal of 'n dialek is, irrelevant vir sy toekomstige status in die land. 'n Goeie dialek, so sê hy reeds in 1893, is beter as 'n taal wat geen lewensvatbaarheid vir die betrokke omstandighede het nie. Weens die afwesigheid van die nodige woordeskat, literatuur en intellektuele krag by Afrikaans meen hy egter dat Engels die aangewese taal vir Suid-Afrika is, al is die doel van sy rede slegs om gedagtes oor die onderwerp te stimuleer, nie om 'n finale uitspraak te lewer nie. Tot ten minste 1907 was Langenhoven nie in die Afrikaanse taalstryd geïnteresseerd nie. Volgens J.H.H. de Waal het hy eers ná die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging tot Afrikaans bekeer geraak. In sy outobiografiese U dienswillige dienaar herhaal Langenhoven in hoofstuk 2 van die afdeling ‘My aandeel aan die taalstryd’ 'n uitspraak wat hy al eerder gemaak het, naamlik dat die afwesigheid van 'n ‘dryfveer’, 'n ‘godsdiensideaal’ en ‘vaderlandsliefde’Ga naar eind12 by hom tot 'n ‘vertraagde ontwaking’ gelei het, in so 'n mate dat die eerste agt en dertig jaar van sy lewe vir hom in 'n groot mate verspeel is. Toe die beweging aan die gang was om die Unie van Suid-Afrika tot stand te bring, het Langenhoven omstreeks 1908 'n landskongres in Johannesburg bygewoon en daar in Engels 'n toespraak gehou. Hierdie toespraak,Ga naar eind13 so sê Langenhoven, het aandag getrek, ‘komende van 'n onbekende niksbeduidende’.Ga naar eind14 Daarna het hy hom met die vraagstuk van unifikasie besig gehou en onder meer aan die taalvraagstuk aandag gegee. Hierdie belangstelling lei in Maart 1910 tot die publikasie van sy artikel ‘The problem of the dual language in South Africa’Ga naar eind15 in The State, 'n ‘tydelike tydskrif’, soos Langenhoven dit stel, ‘met fyngeslepe Engelse taktiek ontwerp en gedryf, om propaganda te maak vir die soort Unie wat na daardie kant se sin sou wees’.Ga naar eind16 In sy artikel wys Langenhoven daarop dat die staatkundige eenheid wat met unifikasie bereik sal word, in die toekoms tot 'n vereniging van die Engels- en die Hollandssprekende bevolkingsgroep kan lei of dat die twee rasseGa naar eind17 hulself sonder so 'n eenwording tog deur die ontwikkeling van 'n gemeenskaplike vaderlandsliefde maar met behoud van eie identiteit as een ras sal beskou. Die voorwaardes wat 'n ras van ontwrigting en samesmelting met ander rasse weerhou, is territoriaal, tradisioneel, religieus en linguisties van aard. Aan al hierdie voorwaardes voldoen Suid-Afrika, met uitsondering van die laaste. Die feit van die twee tale in die land is ‘the last definite dividing boundary that shall | |
[pagina 228]
| |
have to be swept away ... if the two races are ever to unite or even to cease to be racially antagonistic’.Ga naar eind18 So 'n ‘language cleavage’Ga naar eind19 wat met die rasseverdeling saamval, kan alleen ophou om 'n belemmering te wees ‘if one of the languages were to succumb, or if each race were largely or wholly to become bilingual by adopting the language of the other in addition to its own’.Ga naar eind20 Volgens Langenhoven beteken dit dat nie een van die twee tale met geweld onderdruk moet word nie, al kan so 'n onderdrukking - gedagtig aan wat met Frans in Suid-Afrika gebeur het - wel effektief wees. Aan die ander kant kan 'n taal nie kunsmatig aan die lewe gehou word nie. In Suid-Afrika is daar geen enkele vereniging om Engels te bevorder nie, terwyl daar aan die Hollandse kant organisasies soos die Taalbond en die Afrikaanse Taalvereniging is. Bekyk 'n mens hierdie organisasies noukeurig, vind 'n mens dat hulle nie dieselfde soort Hollands bevorder nie en dat hulle meer vyandig teenoor mekaar as teenoor Engels is. Hierdie twee tale is Hooghollands of Nederlands, die taal van Nederland, en Suid-Afrikaanse Hollands, die taal (soos Engels) van Suid-Afrika. Die vraag is nie of Suid-Afrikaanse Hollands 'n dialek van Nederlands is nie, maar of daar 'n verskil is wat 'n bespreking regverdig. Hierop antwoord Langenhoven: ‘there is a difference which is radical and profound, one without a thorough appreciation of which the language problem of South Africa can not be adequately ... approached’.Ga naar eind21 Hy wys op die talle gevalle waar Hooghollands van verskillende infleksies en geslagte gebruik maak. Hierdie ‘redundancy of inflexions and useless multiplication of trouble’Ga naar eind22 is kenmerkend van 'n taal soos Latyn met baie voor- en agtervoegsels, vokaalveranderings, reduplikasie e.d.m., terwyl Engels meer gebruik maak van voorsetsels, neweskikkings en 'n definitiewe volgorde. ‘English’, sê Langenhoven, ‘is easy because it has discarded so many, German and High Dutch are difficult because they have retained so many, of these useless and even harmful vestigial characters of the past.’Ga naar eind23 Suid-Afrikaanse Hollands, so gaan hy voort, het deur dieselfde proses as Engels - ‘the fortunate historical accident of intimate contact with peoples speaking other tongues’Ga naar eind24 - ook 'n eenvoudige taal geword. Ons het die oorbodige ‘de’, ‘den’ en ‘het’ weggegooi en deur ‘die’ - soos die Engelse ‘the’ - vervang, ons het een vorm van die byvoeglike naamwoord, ons geslagte val saam met seksverskille en ons werkwoordinfleksies is verder ontwikkel op die pad van vereenvoudiging as dié van Engels. | |
[pagina 229]
| |
Die verskil tussen Suid-Afrikaanse Hollands en Hooghollands vat Langenhoven vervolgens kernagtig saam: ‘In the result we have produced a language which the Taalbond regards as a degraded form of Dutch. It is as much that as English is a degraded form of Anglo-Saxon. It has lost none of the expressiveness of High Dutch, since it has retained the whole vocabulary. On the contrary it has developed a luxuriant wealth of additional phrases and idioms of local growth.’Ga naar eind25 En in wat daarop volg, kry 'n mens, in teenstelling tot die enigsins kliniese karakterisering van 1893, Langenhoven se eerste liefdesbelydenis vir Afrikaans: ‘It is the language of the farm and the home, breathing the spirit of the inexorable expanse of the sunbaked veld, charged with the memories of primitive appliances and crude selfhelp, of desert travels with yoked oxen straining towards gratefulGa naar eind26 mimosas, promising muddy pools; of implacable fierceness towards frequent foes and softest sympathy with thinly scattered brethren. It is the medium of social intercourse, the channel of expression for the deepest and tenderest feelings of the South African Dutch. It is interwoven with the fibre of their national character, the language they have learnt at their mother's knee, the language of the last farewells of their dying lips.’Ga naar eind27 Om te verwag dat hierdie mense weer die taal van Holland sal aanneem, is ‘idle foolishness’Ga naar eind28 - en dít is juis die taak wat verenigings soos die Taalbond hulle ten doel stel, selfs al wil hulle dié taal ‘vereenvoudig’. Die vereenvoudigde Nederlands dra nog verder by om die taalverwarring aan Hollandse kant te vergroot. Die doelstelling van organisasies soos die Afrikaanse Taalvereniging, so gaan Langenhoven voort, sal makliker bereik word indien die Taalbond nie as remmende faktor aanwesig is nie. Afgesien van die groot uitgawe daaraan verbonde, is die vertaling van wette en ander parlementêre dokumente in Hooghollands volgens hom in 'n groot mate futiel, omdat die ongeskoolde Hollandse Parlementslid daar weinig aan sou hê. In die staatsdiens en die howe is Hooghollands ook 'n kunsmatige medium, terwyl dit vir kinders op skool 'n vreemder medium is as Engels. Met Hooghollands sal ons ‘be acquiring, laboriously and inadequately, a foreign language whose literature we shall never read’.Ga naar eind29 Indien ons aan Suid-Afrikaanse Hollands voorkeur gee, sal ons 'n taal vir alle doeleindes, sowel openbaar as privaat, hê. ‘It may not have a literature yet’, sê Langenhoven, ‘but every language started without | |
[pagina 230]
| |
one, and it will be our very own - the growth of our own national genius, of which we have no reason to be ashamed. It will not waste much of our children's precious time, and our English friends will find it as easy to acquire as we found theirs.’Ga naar eind30 As Suid-Afrikaanse Hollands dan met verloop van tyd nie daarin slaag om 'n literatuur te ontwikkel nie, Suid-Afrikaanse skrywers Engels verkies en ons taal geleidelik verdwyn, sal dit, so sê Langenhoven ten slotte, nie met ‘heartbreaking suddenness’Ga naar eind31 geskied nie. ‘The Dutch speaking child will more and more become an English and Dutch speaking parent with English speaking children. There will be nothing to deplore in what will be an imperceptible natural development, and our future generations will not blame the ancestors who allowed the shackles of bilingualism gradually to rust away.’Ga naar eind32 | |
IIIHoewel ‘The problem of the dual language in South Africa’ meer as net vriendelik gesind teenoor Afrikaans was en in die eerste plek 'n ontleding van die onhoudbaarheid van Hooghollands vir Suid-Afrika gegee het, was die uiteindelike slotsom, omsigtig bewoord, dat Engels miskien tog die enigste toekomstige landstaal sou word en die beste oplossing om van die Babelse verwarring ontslae te raak. In U dienswillige dienaar sê Langenhoven egter dat die publikasie van die artikel ‘soos 'n bom ontplof het’.Ga naar eind33 Die Engelse ‘was in hulle knoppies’,Ga naar eind34 want Langenhoven het hulle ‘besware teen staatsgedwonge tweetaligheid...beter verdedig as wat hulle dit nog ooit self gedoen het’.Ga naar eind35 Die ‘staatsgedwonge tweetaligheid’ waarna Langenhoven verwys, is generaal J.B.M. Hertzog se Vrystaatse onderwyswet van 1908 wat bepaal het dat Hollands en Engels die uitsluitende en gelykwaardige mediums van onderwys sou wees.Ga naar eind36 Engelssprekende leerlinge sou hiervolgens ook sekere vakke deur medium Hollands ontvang, net soos Afrikaners weer vakke deur medium Engels. Dít het die meerderheid Engelssprekendes as onregverdige dwang beskou. Langenhoven het hierin met die Engelstaliges akkoord gegaan. Op 26 April 1910 lewer hy kommentaar op Hertzog se onderwyswet, 'n reaksie wat die Bloemfontein Post publiseer onder die opskrifte: ‘Revolt against Tyranny/ South Africa's sympathy/ Representative opinions/ | |
[pagina 231]
| |
The rights of minorities/ A Dutch Africander's protest.’ Langenhoven sê in sy kommentaar (wat telegrafies gelewer is): ‘As Dutch Africander and staunch adherent South African Party I feel bitterly ashamed of the policy of the leaders of my fellow Africanders in the Free State and deeply grieved that renewed racial rupture should commence in school, where it ought never to have entered, even if begun elsewhere. God help our country if this the way we enter our Union. But I cannot see what else minority could do. They have my sincerest sympathy.’ Het Zuid-Westen publiseer op 2 Mei 1910 'n vertaling van Langenhoven se boodskap en verdedig die Hertzogwet as die begin van gelyke beregtiging vir albei tale in die praktyk, 'n rigting wat die Kaapkolonie en Transvaal behoort na te volg. De Volkstem verdedig ook die Hertzogwet en kritiseer J.C. Smuts se Transvaalse onderwyswet, wat uitsluitlik Engels op skole en ander opvoedkundige inrigtings afdwing. Hy meen Hollandssprekendes sal opstaan en 'n einde maak aan ‘de beschamende verdrukking’ van hulle taal, ‘'t jammerlike taalschandaal, dat 't Britse regime in Zuidafrika 'n eeuw lang heeft ontsierd’. Op 2 Mei 1910 neem Het Zuid-Westen hierdie hoofartikel van De Volkstem oor. Wat blaaie soos De Volkstem en Het Zuid-Westen nie ingesien het nie, was dat Langenhoven se verset van die begin af teen ‘Hooghollands’ was, nie Afrikaans nie. Hy het betreklik vroeg reeds besef dat Hooghollands 'n onbruikbare en uitgediende medium vir Suid-Afrika is, 'n standpunt waarin die geskiedenis van die taalstryd hom binne enkele jare sou gelyk gee. Só sterk was sy gevoelens oor die saak dat hy in Junie 1910 op 'n politieke vergadering op Oudtshoorn aan die kandidaat, J.H. Schoeman, gevra het of hy ten gunste van die Hertzogwet is. Langenhoven het dit duidelik laat blyk dat hy daarteen gekant was. Uit 'n berig in Het Zuid-Westen van 27 Junie 1910 word die redes vir sy teenkanting gegee: ‘Wel wij almal willen Hollandsch en Engelsch. Hij staat voor de moedertaal. De taal van Hertzog is 'n vreemde taal ... Dit is 'n schreiend onrecht om de kinders op school te dwingen om hun tijd te verspillen om Hoog Hollandsch als voertaal te willen toepassen.’ Reeds eerder, op 18 April 1910, het Langenhoven in Het Zuid-Westen geskryf dat indien die plaaslike leiers van ‘de Zuid-Afrikaansche Partij’ nie 'n kandidaat kan kry wat bekwaam en gewillig is om die belange van ‘onze Afrikaansche nationaliteit, van onze Afrikaansche moedertaal en van onze Afrikaansche kinderen te beschermen, dan zal ik ernstig overwegen of ik niet gehoor zal geven aan het verzoek van | |
[pagina 232]
| |
diegenen die mij gevraagd hebben mij verkiesbaar te stellen voor het Unie Parlement’. Op dié wyse sal kiesers kan toon ‘of hun hart in Zuid Afrika is of in Holland, of zij hunne moedertaal vereeren of verachten, en of zij den rassenoorlog, die thans in de scholen van de Vrijstaat woedt, ook in onze [d.w.s. in die skole van Kaapland - JCK] willen invoeren tot vloek van onze kinderen’. Alhoewel Langenhoven in hierdie stadium nie tot lid van die Parlement verkies is nie, blyk uit die (waarskynlik speelse) aanbod van sy eie kandidatuur dat hy reeds aan 'n politieke loopbaan gedink het - miskien die eerste ontkieming van die saadjie wat deur Rosenow jare tevore by hom geplant is, toe dié oudskoolhoof sy tevredenheid met Langenhoven se toetrede tot die beroep van advokaat as eerste stap in die rigting van 'n politieke loopbaan uitgespreek het. Langenhoven se standpunt in 1910 ten opsigte van die taalsituasie in Suid-Afrika het vir hom velerlei reperkussies gehad. Terwyl die Engelstalige pers sy standpunt verwelkom het, is hy deur die Hollandse blaaie aangeval. Hy was dan sogenaamd ‘die Jingo-renegaat wat teen ons “moedertaal” te velde getrek het om die Engelse welbehaaglik te wees.’Ga naar eind37 Al het sommige koerante en briefskrywers skerp gereageer, was die aanvalle op Langenhoven minder dramaties as wat hy in U dienswillige dienaar beweer. In 'n hoofartikel van 24 Maart 1910 sê Ons Land dat hy teleurgesteld is oor die gees wat Langenhoven openbaar, maar dat hy tot besadigdheid wil maan as dit oor die taalkwessie gaan. In dieselfde uitgawe sê 'n briefskrywer onder die naam L.d.W. dat Langenhoven wel 'n ‘Hollander-naam’ het, maar ‘zijn pennevrucht is van de Hollandse Afrikaander doodvijandige geaardheid, als men nauweliks in enig Progressief nieuwsblad zal aantreffen’. Volgens L.d.W. wil Langenhoven hê dat ‘Hoog-Hollands’ met wortel en tak uitgeroei moet word, terwyl Afrikaans ‘nog een weinig genade (zal) ontvangen, voordat de “Dutchman” een “Imperialist” is’. Langenhoven reken met Hooghollands af op grond van die ‘verschrikkelikheden’ van die geslagte. Hy ‘wil de moeder dood hebben, want dan is het kindje - Afrikaans - ook gauw naar de maan’. Hierdie ‘geest van ontaarding’, so sluit die korrespondent sy brief, moet nie die aanduiding wees ‘van de weg waarop Oudtshoorn voortjaagt. Terwille van de reputatie van Oudtshoorn, ware het beter geweest, indien de schrijver niet zou hebben gezegd, waar hij in Zuid-Afrika woont.’ | |
[pagina 233]
| |
Hierdie brief gee 'n erg vertekende weergawe van Langenhoven se opvattinge, want oor Afrikaans was hy in sy artikel besonder positief. Daar is nie sprake daarvan dat hy dié taal ‘naar de maan’ wil laat gaan nie. Waarteen hy hom wél uitgespreek het, is die pogings om Nederlands vir Suid-Afrika te red en om taalgelykheid in die staatsdiens en howe af te dwing. Die taalstryders het Langenhoven egter sy tydsberekening vir dié uitsprake erg kwalik geneem, omdat dit op 'n tydstip gepubliseer is, soos J.C. Steyn opmerk, ‘toe die Afrikaners kwaai teenkanting ondervind het van Engelssprekendes oor die toepassing van die taalregte’.Ga naar eind38 In sy hoofartikel op 24 Maart 1910 sê Ons Land dat die Afrikaanse Taalvereniging en die Taalbond hartlik saamwerk. Langenhoven saai verdeeldheid in die ‘Hollandse taalkamp’ en bespoedig op dié wyse die dag ‘wanneer één taal, het Engels, zal zegevieren’. Dat Langenhoven twee tale op skool as die kiem van stryd en rassehaat beskou, is strydig met sy standpunt oor tweetaligheid in die praktyk: ‘hij (wil) gelijke rechten...op papier...hebben, maar niet in de praktijk, in de toepassing; vooral moet men niemand noodzaken twee talen te leren!’ De Volkstem gee in sy hoofartikel - oorgeneem in Het Zuid-Westen op 7 April 1910 - Langenhoven gelyk dat Afrikaners se beheer oor Nederlands sleg is, maar meen dat sy artikel by Engelstaliges die indruk wek dat daar nie 'n ander landstaal naas Engels bestaan nie. Die artikel gaan ook uit van die verkeerde veronderstelling dat die twee ‘rassen...zo gou mogelik gevormd moeten worden tot slechts een ras’. Op Oudtshoorn het The/De Oudtshoorn Courant op 14 Maart 1910 Langenhoven se artikel in The State 'n ‘remarkably thoughtful and logical presentment of a very difficult question’ genoem, terwyl Het Zuid-Westen L.d.W. se brief in Ons Land en dié koerant se hoofartikel op 31 Maart 1910 oorneem. Enkele dae later, op 4 April 1910, neem Het Zuid-Westen 'n brief van Langenhoven uit Ons Land oor waarin hy hom teen die hoofartikels verdedig - nie teen die briefskrywer nie, omdat Langenhoven nie tyd het om op ‘anonieme lasteraars’ te verkwis nie. Hy maak beswaar teen die eensydig uitgesoekte uitsprake wat uit verband geruk is. Vir Afrikanerkinders is Hooghollands nie die moedertaal nie en hy is ernstig oortuig dat voorstanders van dié taal die ‘ondergang van het Zuid-Afrikaansch in dit land’ sal bewerkstellig, ‘en daarmede den ondergang van alle Hollandsch’. In 'n brief van 18 April | |
[pagina 234]
| |
1910 aan Het Zuid-Westen haal Langenhoven die slot van sy stuk in The State aan en voeg dan by: ‘Dus, ik zeg uitdrukkelijk dat als wij 't Afrikaansch als tweede taal kiezen, in plaats van Nederlandsch, dan zal het volk tweetalig worden, en dan zal rassenhaat verdwijnen. Dan ga ik verder en ik zeg indien 't Afrikaansch bestemd is ten onder te gaan, dan zal het trapsgewijze gebeuren zonder hartverscheuring en zonder ongeluk. Met andere woorden, dit is het ergste dat naar mijn meening kan gebeuren; niet het beste dat kan gebeuren, en niet het onvermijdelijke, zelfs niet het waarschijnlijkste, maar toch niet het zeer ongelukkige.’ Wat Langenhoven se artikel oor ‘The problem of the dual language in South Africa’ en die uiteenlopende reaksies in die geskiedenis van die taalstryd so belangrik maak, is dat daarmee - en met sy sterk reaksie op die Vrystaatse onderwyswetgewing - die hele kwessie van die taalmedium in die politieke arena beland het, waar dit uiteindelik móés kom indien Afrikaans as taal staatkundige status wou verkry. Dat die reaksies op sy artikel en sy standpuntinname oor die Hertzogwet Langenhoven uit die ‘slaap soos van die dood...wakker geskok’Ga naar eind39 het, soos hy in U dienswillige dienaar beweer, is waarskynlik 'n oordrywing, want hy het reeds voor die tyd besef dat Afrikaans die enigste vorm van ‘Hollands’ was wat in Suid-Afrika kon voortleef. Die reaksie het hom eerder van 'n passiewe aanvaarding tot daadwerklike verset en strydvaardigheid geaktiveer. Daarby het sy skynbare steun aan die voorstanders van Engels, soos J.C. Steyn opmerk, ‘die onvermydelike keuse tussen Afrikaans en Nederlands verhaas ... - tot voordeel van Afrikaans’.Ga naar eind40 Steyn wys verder aan die hand van Charles Ferguson daarop dat in 'n stryd tussen twee taalvariëteite, soos dié tussen Nederlands en Afrikaans aan die begin van die eeu in Suid-Afrika, die sogenaamde ‘lae’ variëteit gewoonlik die oorwinning behaal.Ga naar eind41 Behalwe as spesiale faktore die ‘hoë’ variëteit begunstig, ‘kwyn dit weg en word dit 'n “learned or liturgical language studied only by scholars or specialists and not used actively in the community”’.Ga naar eind42 Jare later, wanneer hy in U dienswillige dienaar op hierdie fase van sy taalstryd terugkyk, herbevestig Langenhoven dat dit van die begin af vir hom 'n stryd tussen Nederlands en Afrikaans was. ‘Van die begin af dat ek my aandag aan die saak gegee het,’ so skryf hy, ‘het ek met volkome helderheid ingesien dat die stryd in die eerste plaas nie teen Engels was nie maar teen die onbruikbare, onleerbare, in Suid-Afrika morsdooie Hooghollands wat juis in die Engelse voordeel was omdat | |
[pagina 235]
| |
hy met sy plaaslik lompe magteloosheid self nie teen Engels kon stry nie en net in die pad gestaan het van die regte aanval wat sou slaag. En daarvandaan, as 'n onverbiddelike logiese noodsaaklikheid,...was 'n groot deel van my stryd vir Afrikaans nie soseer 'n stryd teen Engels nie as 'n stryd teen Nederlands.’Ga naar eind43 Almal was volgens hom ‘vasgegroei aan die handige verwarring van die dubbelsinnige “moedertaal”-voorwendsel’ en daar ‘was iemand nodig om die verwarring te ontwar’.Ga naar eind44 Langenhoven tree dus in 1910 aktief toe tot die taalstryd, maar 'n mens kan met sekerheid aanneem dat hy reeds voor die tyd oortuig was van Afrikaans as die enigste vorm van ‘Hollands’ wat in Suid-Afrika 'n kans op oorlewing gehad het. Dat die publikasie van J.H.H. de Waal se Johannes van Wyk hom van 'n verwoede teenstander van Afrikaans in 'n voorstander van die taal laat verander het, soos Eugène N. Marais by geleentheidGa naar eind45 gesê het, kan 'n mens sonder meer verwerp, al kon so 'n roman en die gretigheid waarmee dit indertyd gelees is, 'n invloed op Langenhoven gehad het. Dat hy so laat tot die stryd toetree, kan verskillende oorsake hê. In Oudtshoorn was hy geïsoleer en ver van sentra soos Pretoria en Kaapstad waar die Afrikaanse Taalgenootskap en die Afrikaanse Taalvereniging onderskeidelik werksaam was. Dat Langenhoven nooit 'n aktiewe lid van hierdie verenigings geword het nie, kan naas sy geografiese isolasie daaraan toegeskryf word dat hy nooit in sy lewe 'n kuddemens of iemand vir organisasies was nie. As indiwidualis het hy ontuis gevoel by massapogings en -proteste. Hy het verkies om manalleen sy eie pad te loop. Die aanval op hom ná die publikasie van sy artikel in The State en sy reaksie op die Hertzogwet was die impetus wat hy nodig gehad het. Van ‘daardie aanval af’, so skryf hy in U dienswillige dienaar, ‘dateer my besieling om vir Afrikaans te stry. Dit het die mokerhoue van my partygenote en kant-genote gekos om my warm te maak. En die geveg wat gevolg het, het self gesorg dat die warmte nooit weer afgekoel het nie. Had die Engelse minder gejuig en die Dietsers minder gevloek oor my stuk in “The State”, dan heel moontlik was Langenhoven vandag nog in die geregshof besig met ander mense se privaat rusies en in sy kantoor met die besteding van sy kunstelose skryftalent aan die opstel van Engelse en Hooghollandse testamente en kontrakte. En sy boeke sou nie daar gewees het vir die gebruik van die volk en tot gruwel van die kunsgesag nie.’Ga naar eind46 | |
[pagina 236]
| |
IVMet sy bekering tot Afrikaans en die definitiewe deurbraak omstreeks April of Mei 1910 het Langenhoven sy eintlike missie in die lewe gevind, naamlik om te veg vir die regte van Afrikaans en om literatuur te skep wat die aansien van die taal sou verhoog. Aanvanklik het hierdie nuwe ingesteldheid uiting gevind in bydraes tot Ons Land, maar veral tot De Volkstem en later ook Die Brandwag. Reeds in Mei 1910 gee Langenhoven by De Zuid-Westelijke Drukpers en Uitgevers Maatschappij 'n klein boekie van agt en twintig bladsye uit, 'n betoog wat, so kort na ‘The problem of the dual language in South Africa’, as sy vroeë definitiewe manifes in verband met taalsake beskou kan word. Dit dra die titel Padlangers en zonder doekies: 'n Afrikaansche boodschap van 'n Afrikaander aan Afrikaanders. Die kort verhandeling is die eerste voorbeeld van Langenhoven se betogende prosa in Afrikaans. Vir kenners van sy latere werk illustreer dit treffend hoe hy in die bestek van iets meer as twee dekades daarin geslaag het om sy eie rudimentêre skryftaal tot 'n fyn instrument te slyp. Later neem Sarah Goldblatt dit in deel XVI van die Versamelde werke op. Langenhoven rig sy boodskap tot sy ‘Mede Afrikaander’. Dit gee hom die geleentheid om in die wordende skryftaal 'n vertroulike verhouding met sy leser op te bou en feitlik met hom te praat, iets wat hy nog verder versterk deur in die loop van sy betoog telkens illustrasies uit die agrariese ervaringsveld van sy deursneeleser te gebruik. Met hierdie afwisseling van betoog en beeld sluit Langenhoven aan by die prosastyl van Coornhert en Vondel, maar waarskynlik het hy dié tegniek eerder by die eksponente van die klassieke retorika, onder andere Cicero en Quintilianus, oorgeneem, al is daar van regstreekse navolging geen sprake nie. Padlangers en zonder doekies begin met 'n paar algemene waarhede. Ons roeping, sê Langenhoven, is om die beste en hoogste vir ons land te doen, om die erfenis van ons voorouers ongedeerd te hou en om dié erfenis te beskou as ons eie wat ons aan ons nageslag kan oorhandig. Wanneer hy na 'n historiese uitweiding uiteindelik by die taalkwessie uitkom, sê hy dat ons tans in Suid-Afrika met drie mediums te make het. Nederlands is vandag vir die Afrikaner vreemd en teoreties, 'n taal wat deur enkele predikante en professore geskryf word, maar wat die meeste mense nie in hulle daaglikse lewe gebruik nie. Om aan Neder- | |
[pagina 237]
| |
lands vas te kleef, is tot ons nadeel, want dit ontmoedig Engelstaliges om 'n taal aan te leer wat nie die spreek- en behoorlike skryftaal is nie. ‘Ons moet nie’, sê Langenhoven, ‘vir hulle 'n paaiboelie van 'n ingewikkelde en moeilike Hoog Hollandsch voorhou wat ons zelf nie kan leer en wat ons zelf nie kan gebruik nie. Zeg vir hulle: “Kijk daar het julle nou 'n simpele taal, Afrikaansch. Dit is ons taal en die wil ons graag hê moet julle leer.” Dan het hulle geen reg om bezware in te breng nie.’Ga naar eind47 In teenstelling tot Nederlands is Engels 'n taal wat oor die hele wêreld gepraat word en wat in vergelyking met Frans of Duits maklik is om aan te leer. Engels kan alleen veld wen as ons tussen Nederlands en Afrikaans aarsel en met ons ‘Middel Eeuwsche rondom talies’Ga naar eind48 besig is. Dit bring hom dan by Afrikaans, wat 'n verbastering van Nederlands is, net soos Nederlands op sy beurt 'n verbasterde Duits is. Die Hollanders dink egter nie daaraan om hulle taal te laat vaar nie. ‘Ons het ons volstruise zoo uitgebaster’, skryf Langenhoven met sy kenmerkende afwisseling van beeld en betoog, ‘dat hulle veere vér beter is as toe hulle nog wilde vools was. Ons het ons perde zoo uitgebaster dat ons nou reisies perde het wat hardloop zoo's geen wilde perd ooit gehardloop het nie. Zal ons nou die uitgezochte, uitgeteelde goed weer opgee vir die oues? Nou net zoo het ons voorouers Hoog Hollandsch gevat en omdat hij na hulle zin nie goed genoeg was nie het hulle hom verbaster en verbeter. Van 'n vreselike moeilike taal het hulle 'n maklike taal gemaak - die één taal in die wereld wat makliker is as Engelsch. Om diezelfde rede - deur diezelfde verbastering - is Hoog Hollandsch ligter as Duitsch en Engelsch ligter as Angel-Saksies, en Fransch ligter as Latynsch. Die woorde van die Hoog Hollandsch het ons voorouers behou, want die woorde is goed, en daarbij het hulle nog 'n hoop Afrikaansche woorde bijgezet, maar die bog verbuigings het hulle opzij gegooi. Hulle het die koorn gehou en die kaf weg gegooi; die mos gehou en die doppe weg gegooi.’Ga naar eind49 Die eintlike rede vir ons voorkeur vir Afrikaans, so gaan Langenhoven voort, lê egter in ons liefde vir die taal. Die gevaar is dat Nederlands Afrikaans kan laat ondergaan en ons na Engels sal dwing. Die Engelstaliges sal nie 'n taal leer wat niemand praat nie, terwyl ons almal Engels sal leer. Daarby sal ons ons eie kinders van álle Hollands - dit wil sê Nederlands én Afrikaans - afskrik deur hulle met dwang 'n vreemde taal te laat leer waarvoor hulle geen liefde het nie. Solank ons | |
[pagina 238]
| |
Nederlands in stand hou, sal die gebrekkige Hooghollands wat daar nou geskryf word, die skryftaal bly. En solank hy die skryftaal bly, kan Afrikaans dit nie word nie. Daarom vra Langenhoven dat Hooghollands op hoër skool as 'n vreemde taal soos Frans en Duits onderrig moet word. Die argument dat kinders Nederlands moet leer, berus op die verkeerde veronderstelling dat Nederlands hulle moedertaal is. In die lig hiervan stel Langenhoven voor dat Engels op skool behou word as enigste medium totdat Afrikaanse skoolboeke beskikbaar is. Hy stel verder voor dat hierdie handleidings onmiddellik opgestel word, sodat Afrikaans en Engels as medium of voertaal op dieselfde voet verkeer. Verder pleit hy daarvoor dat sommige vakke op skool deur medium Afrikaans en sommige deur medium Engels onderrig word, sodat die kinders binne een of twee geslagte volkome tweetalig kan wees. Dit is wel vreemd dat Langenhoven so gou die beginsels van die Hertzogwet - al is dit dan Afrikaans in plaas van Nederlands - begin ondersteun, want die praktyk het gou bewys dat dié wet nie 'n bevredigende oplossing vir die twee tale in die land kon bring nie. Dit is ook vreemd dat hy in hierdie pleidooi vra dat Engels as uitsluitlike medium gebruik word totdat Afrikaanse handleidings geskryf is. 'n Mens sou verwag dat deur die ooreenkoms in woordeskat tussen Nederlands en Afrikaans die Nederlandse taal vir die Afrikaanse kind minder vreemd sou wees, terwyl die gevaar van die uitsluitlike gebruik van Engels - al sou dit dan net 'n tyd lank duur - noodwendig daardie taal tot nadeel van Afrikaans moes bevorder. Belangwekkend - en 'n beslissende wending in die taalstryd - is egter die feit dat Langenhoven, anders as die ander taalstryders, sy stryd teen Nederlands rig, nie teen Engels nie. Sy strewe is trouens dat Afrikaners en Engelse goed moet saamwerk en dat daar ‘geen rassehaat of rassevoorkeur’Ga naar eind50 moet wees nie. Daarmee verskuif hy die uiteindelike doelwit van die taalstryd en neem hy 'n belangrike nuwe strategiese posisie in. Teenoor sy voetstootse verering van die Pax Britannica tydens die Anglo-Boereoorlog is sy persoonlike ingesteldheid ook nou radikaal gewysig. Soos die Afrikaners hulle ‘los gescheur’Ga naar eind51 het van hul Europese herkoms, wil hy hê dat ‘ons Engelsche vrinde’Ga naar eind52 van Engeland moet loskom en ‘dat ons van al die rooies moet Afrikaanders [my kursivering - JCK] maak’,Ga naar eind53 'n woord waarmee hy ongeveer ‘Suid-Afrikaners’ bedoel. Vóór Hertzog het Langenhoven dus al op taalvlak die beginsel van ‘Suid-Afrika eerste’ gepropageer. | |
[pagina 239]
| |
Padlangers en zonder doekies is Langenhoven se programmatiese inset tot sy stryd vir Afrikaans en die eerste resultaat van wat sy uiteindelike missie in die lewe sou wees. Dat sy standpunt so gou aanvaar is, hang saam met sy logiese vermoë, sy oorredingskrag, sy agrariese beeldspraak, sy tegniek om stelling en illustrasie af te wissel en sy gebruik van die spreukmatige en die beroep op 'n oerwaarheid. Met dit alles slaag Langenhoven daarin om 'n kragtige, meevoerende prosa te skryf. Van 1910 skryf Langenhoven op 'n gereelder grondslag in De Volkstem en ook vir Die Brandwag, wat in daardie jaar opgerig word. In De Volkstem verskyn onder meer ‘Wysheid uit die rooi kole’, ‘Twee oues van dae’, ‘Die kluisenaar van die Karroo’ en ‘Meester’, almal later opgeneem in Ons weg deur die wêreld, waarvan die eerste druk in 1914 verskyn het. In ‘Wysheid uit die rooi kole’ maak Langenhoven gebruik van die vertroulike omgang met die leser, die raamvertelling en die outobiografiese aanbod om 'n sekere outentisiteit aan die verhaal te gee, terwyl ‘Twee oues van dae’ met die gerigtheid op die ‘Neef’ die vertelling natuurlik maak, al is daar aan die slot 'n breuk in die perspektief deurdat 'n ander ek intree. Ook in ‘Die kluisenaar van die Karroo’ verkry Langenhoven 'n sekere intimiteit deur die volgehoue aanspreking, die geselstoon en allerlei pittige dinge en uitsprake, terwyl hy in ‘Meester’ regstreeks outobiografies oor sy skooljare by Bloemkolk skryf. Reeds in hierdie vroeë stukke was dit Langenhoven se duidelike doelstelling om met sy geskrifte sy volk aan die lees te kry. Daarvoor gebruik hy, feitlik as doelbewuste strategie, die agrariese wêreld van sy jeug en sy onmiddellike omgewing wat vir hom en sy potensiële lesers bekend was en wend hy die bekende tegnieke aan van die agtiende- en negentiende-eeuse prosa met sy aanspreek van die leser, die geselstoon en die geestige invalle. Maar nog voor die bewustelike kentering in sy taalopvattinge was Langenhoven reeds in Afrikaans aan die skryf. In 1909 verskyn Die water zaak en in 1912 'n verwerking daarvan as Die wêreld die draai. Dat Langenhoven van die oorspronklike konsep van hierdie toneelstuk gehou het en dit telkens wou uitbrei, blyk uit die herhaalde verwerkings - bykans die enigste voorbeeld in sy oeuvre waar hy 'n reeds gepubliseerde geskrif grondig met die oog op 'n nuwe uitgawe hersien het. In 1926 nog werk hy weer hieraan en verskyn dit as Die laaste van die takhare. Met die sonde-met-die-bure, die stryd tussen die tale en die verandering in die maatskaplike patroon werk die drama met motiewe | |
[pagina 240]
| |
wat later bekende konstantes in Langenhoven se werk sou wees. Blykbaar in 1911Ga naar eind54 word Die famielie zaak deur J. & H. Pocock, die uitgewers van die Oudtshoorn Courant, gepubliseer, 'n geestige klug verwant aan Die wêreld die draai. Die trouwbelofte verskyn in 1905 as vervolgstuk in Het Zuid-Westen en in 1910 in boekvorm. Toe Langenhoven sy daadwerklike stryd in belang van Afrikaans begin, is een van sy eerste take ná Padlangers en zonder doekies die publikasie van The royal road to Cape Dutch. In die enigsins kosmopolitiese Oudtshoorn van ná die eeuwisseling was daar baie Engelstaliges en Jode wat Afrikaans nie kon verstaan nie. Om dié mense in sy eie kenniskring én die Engelstalige bevolking van Suid-Afrika te help, stel hy hierdie handleidinkie in drie ‘stages’ op. Deel 1 is 'n ‘Grammar’, terwyl deel 2 bedoel is as ‘a reading primer being the farce Die Trouwbelofte with notes and exercises and vocabulary’. Albei hierdie dele - waarby dus ook die oordruk van Die trouwbelofte kom - verskyn in 1910 by J. & H. Pocock. Die derde deel, wat 'n ‘advanced reader’ sou wees, het nooit verskyn nie. Veel later, in 1926, sou Langenhoven met A first guide to Afrikaans hierdie soort werk voortsit. In Londen het sy latere vriend, prof. J.J. Smith, taalkundige van Stellenbosch, The royal road to Cape Dutch gebruik om sy Brits gebore vrou Afrikaans te leer. Die twee belangrikste vroeë publikasies van Langenhoven voordat die taalstryd verdere momentum verkry, verskyn kort hierna. In 1911 publiseer hy Eenvoudige stukkies en brokkies met 'n ‘Voorwoortjie’ deur oudpresident F.W. Reitz, 'n versameling stukke vir debatsverenigings en om die leeslus op te wek. Naas ‘Die tweetalige vonnis’ bevat Stukkies en brokkies bekende samesprake van Langenhoven soos ‘Die omslagtige tant Lenie’, ‘Die ingewikkelde boodskap’ en ‘Die kijs abaut die forro’, terwyl verse soos ‘Ag wat, dis maar 'n hond!’ en ‘Liefdesonsin’ en die skets ‘Skemermijmeringe’ ook opgeneem word - meestal werke wat reeds vroeër in koerante en tydskrifte gepubliseer is. In sy voorwoord vra Langenhoven waarom die Afrikaner so min lees. ‘Die oorsaak’, sê hy, ‘is ongetwijfeld dat sooveul van die leesstof v'r ons vreemd is. Al verstaan ons die taal - b.v. Nederlands of Engels - dan is die toestande en maniere, die lewenswijse en omgéving, die maatskappelijke en persoonlike trekke, wat daarin geskilder word v'r ons uitheems, onwesenlik, onwaar. Die standpunt pas nie v'r ons voete nie; die atmosfeer nie v'r onse longe nie.’ Met hierdie voorwoord dui Langenhoven duidelik aan wat hy met sy skryfwerk wil bereik en hoe hy te | |
[pagina 241]
| |
werk gaan: om die leeslus te wek deur 'n vertroude sfeer en wêreld aan sy potensiële lesers bekend te stel. Stukkies en brokkies is in 1914 gedeeltelik saam met nuwe werk herdruk in die eerste uitgawe van Ons weg deur die wêreld. In September 1912 publiseer Langenhoven in Oudtshoorn die Afrikaanse verjaardagboekie, wat in 1924 in grootliks gewysigde vorm opnuut as Ons geliefde verjaarsdagboekie uitgegee word. In 1922 sal Langenhoven die 366 spreuke in hierdie boekie met kritiese opmerkings aanvul en die aantal spreuke verder uitbrei vir opname in Ons weg deur die wêreld. Uit hierdie spreuke vir elke dag van die jaar blyk reeds Langenhoven se kenmerkende geestigheid, spitsvondigheid en woordspelings. Dié werk sluit aan by die Nederlandse tradisie van Cats tot Greshoff en die sestiende- en sewentiende-eeuse Franse moraliste. Dikwels neem die spreuke die vorm aan van 'n variasie of uitbreiding op 'n bestaande volksidioom. Met hierdie geskrifte in Afrikaans het Langenhoven - soos vroeër met sy samesprake, maar nou meer bewus - oor elke denkbare onderwerp begin skryf, sodat die Afrikaner lief kon word vir lees. Daarby wou hy sy mense leer dat Afrikaans nie 'n veragtelike gebrabbel en ongeskik vir fyner gedagtes was nie. Bowenal wou hy met sy betogende stukke én met sy skeppende werk die publiek tot die oortuiging bring dat Afrikaans, en nie Nederlands nie, hulle taal is. Daarom dat hy in 1911 in Ons Land kon vra: ‘Hoe lank sal ons hink op twee gedagtes? As Nederlands ons taal is, waarom praat ons hom nie? As Afrikaans ons taal is, waarom skryf ons hom nie?’ Alhoewel Langenhoven met publikasies soos Stukkies en brokkies en Afrikaanse verjaardagboekie goed op pad was om Afrikaans vir sy mense 'n leesbare en genietbare taal te maak, het hy 'n podium gesoek waarop hy op 'n meer gereelde grondslag kon verskyn om die taalstryd verder te voer en om sy skeppende werk te publiseer. Sy medewerking aan Ons Land en Die Brandwag het hom gou in struwelinge met die redaksies laat beland en met De Volkstem was hy na die aanvanklike medewerking in 1910 en 1911 nie heeltemal in sy skik nie. In April 1912 kry hy so 'n podium. Daarmee word 'n volgende en beslissende stadium in Langenhoven se loopbaan ingelei. |
|