Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 194]
| |
Hoofstuk X
| |
[pagina 195]
| |
Met die ekonomiese voorspoed wat Oudtshoorn ná die eeuwisseling as gevolg van die hoë prys van die volstruisvere op die Londense mark beleef het, was ook die prokureurs besiger as in normaler omstandighede. In 'n vermaaklike artikel wat hy op 7 Mei 1923 in sy Aan stille waters-rubriek in Die Burger publiseer maar wat nooit in boekvorm verskyn nie, skryf Langenhoven oor die dae toe Oudtshoorn se mense nog ‘in die vermoë was om vir die aardigheid te prosedeer’. Dit was 'n soort ‘vermaaklike dobbelspel’ en selfs onbetrokkenes het by wyse van weddenskappe op die uitslag deelgeneem. Van die ‘knapste - en duurste - advokate is spesiaal uit die Kaap laat kom, want elk van die partye was in staat om te betaal om die ander nie sy sin te gee nie’. Dikwels was die sake blote boeregeskille oor plaaslike aangeleenthede wat alleen deur iemand met plaaslike kennis begryp kon word. As die duur advokate dan met groot woorde 'n getuie voor die regter van die rondgaande hof in 'n bepaalde rigting wou lei en benewel, het dit soms gebeur dat die getuie halsstarrig in sy eenvoud voet by stuk gehou het. Langenhoven vertel in sy artikel van so 'n getuie wat hom nie van koers af laat bring het nie, met die gevolg dat die hof met die verdaging nog geen vordering kon toon nie. Toe die hof uitkom, kry Langenhoven die getuie op die stoep. ‘Neelsie’, sê hy, ‘'n juds is 'n vreeslike slim ding, maar hy is vir my so sonder verstand.’ 'n Mens kan geredelik aanneem dat Langenhoven met sy rapsodiese geaardheid en kunstenaarstemperament sake voor die rondgaande hof interessanter as die daaglikse sleurwerk van 'n prokureur sou gevind het. Trouens, volgens 'n mededeling van Vroutjie in 'n ongepubliseerde biografiese skets, was hy nooit, behalwe dan vir groter sake, werklik gelukkig as prokureur nie. Tog duik baie en veelsydige aspekte van die regsberoep telkens later in sy letterkundige werk op, 'n aanduiding dat hy ook in plaaslike gebeurtenisse soms die koddige en bisarre kon raaksien en dit as boustof vir sy verhale kon benut. Later kon 'n prokureurskollega soos I. Ballot onthou dat Langenhoven in sy kantoor baie presies en netjies was en sake ordelik afgehandel het. In die hof kon hy sonder aansien des persoons genadeloos met sy teenparty afreken. Sy genialiteit is verskerp deur sy aangebore sin vir regverdigheid, sy logiese betoog en sy redenaarsvernuf, en sy uitstekende geheue het hom in staat gestel om fyn besonderhede van vroeëre sake in sy argument te betrek. Baie gou na sy tweede toetrede tot die prokureursamp het hy ook ver buite die grense van Oudtshoorn bekend gestaan as 'n voor- | |
[pagina 196]
| |
treflike regsgeleerde, iemand wat in die hof fyn besonderhede kon gee van sake wat lank tevore in Natal afgehandel is. Sonder 'n enkele nota voor hom kon hy die regters, die advokate en rye syfers noem, in so 'n mate dat die hof soms eers moes verdaag sodat die magistraat of voorsitter die gegewens kon nagaan. Dit is veral as kenner van probleme met watersake, wat voor die spesiale waterhof gedien en waarvoor die Klein Karoo 'n vrugbare teelaarde was, dat Langenhoven sy naam as regsgeleerde finaal gevestig en groot roem verwerf het. Met die soort werk wat hy moes doen, het hy trouens 'n belangrike bydrae gelewer om die waterwetgewing in Suid-Afrika te nuanseer en uit te brei. In later jare kon die joernalis Izak van Tonder onthou hoe hy as skoolkind op Oudsthoorn dikwels na skool saam met sy maats in die hof gaan sit het om na Langenhoven se genadelose kruisverhore en kragtige pleidooie te luister. Ten spyte van sy verbluffende redenaarsvermoë was Langenhoven soms baie senuweeagtig en het hy sy potlood gestaan en kou. As hy dan moes aantekeninge maak, was daar later soms nie meer 'n potlood oor nie! Dan gee hy een van die kinders 'n pennie en sê: ‘Seun, gaan koop gou vir my 'n potlood daar by die winkel.’Ga naar eind4 As die uitgerekte gedinge oor waterregte weke lank voortduur en die getuies dae lank ondervra word, het die kinders op Ladismith, soos mev. Lenie le Grange op hoë ouderdom nog kon onthou, 'n liedjie gesing: Die watersaak is aan die gang,
O doeda-doeda-dei,
Dit duur vir my tog al te lang,
O doeda-doeda-dei.Ga naar eind5
Langenhoven was tydens sy jare as prokureur betrokke by 'n hele aantal groot watersake, soos die Grobbelaarsriviersaak wat in 1905 begin maar tot 1917 met tussenposes voortgeduur het, die Elandsvleisaak van 1907-1908, die Kandelaarsriviersaak van 1915 en die Brakslootsaak van 1916. Die Grobbelaarsriviersaak het byvoorbeeld gedraai rondom sekere erwe op Oudtshoorn wat waterregte uit die rivier en sy sytakke gehad het. Die probleem het ontstaan omdat van die boonste oewereienaars vir hulself 'n onredelike hoeveelheid water toegeëien het, tot nadeel van die erfeienaars en ook eienaars van oewerplase laer af langs die rivier en die sytakke. In dié geval het Langenhoven met sukses die | |
[pagina 197]
| |
saak van die erfeienaars langs die Grobbelaarsrivier en die onderste besitters langs die Hartbeesrivier verdedig. Die twee regsgedinge wat Langenhoven se naam as uitmuntende kenner van die waterwetgewing finaal gevestig het, is die saak van Nel en andere teen Kleynhans en andere en dié van Saayman en andere teen Van der Merwe en andere wat in 1903-1904 begin en tot 1906 voortgesit is. Dit was twee prosesse waarby Langenhoven persoonlike belang gehad het, omdat die vernaamste verweerder en eienaar van Hoeko, Willem Jacobus van der Merwe, verlangs familie van hom was. Van der Merwe was getroud met Margarita Vrey, dogter van sy pleegmoeder uit haar eerste huwelik en dus 'n stiefniggie of halfsuster van Langenhoven. ‘In albei sake wat aangebring was deur laer oewereienaars, van die aangrensende plaas Weltevreden’, so sê Langenhoven in U dienswillige dienaar, ‘was dit die skrywer se voorreg om die regte van sy ou plaas te verdedig.’Ga naar eind6 In die saak van 1903-1904 vra die gebroeders Nel en andere, eienaars van die plaas Weltevreden, die buurplaas Hoeko vir 'n billike verdeling van die water uit die Hoekorivier,Ga naar eind7 wat oor die plaas vloei, veral omdat hulle koopkontrakte geen stipulasies met betrekking tot die stroom water bevat nie. Volgens die hofstukke is die Hoekorivier 'n sytak van die Huisrivier, wat in die berge bokant Hoeko ontspring en deur die oewerplase Hoeko, Annex Hoeko en die boonste deel van Weltevreden (in besit van G.B. Saayman) vloei. Die eienaars van Hoeko en Annex Hoeko staan die aansoek van die Weltevreden-eienaars teen. As regsverteenwoordigers tree op T.C.W. Johnson van die Ladismithse firma waar Langenhoven vroeër werksaam was en Langenhoven se Oudtshoornse vennoot J.A. Foster. Alhoewel Langenhoven dus volgens die hofstukke nie regstreeks met die saak te make gehad het nie, kan 'n mens aanvaar dat hy betrokke was by die opstel van die pleitstukke en sy vennoot met die interpretasie van die wetgewing gehelp het. Met die tweede proses, ‘De zaak over het klein slootje van Hoeko’, was Langenhoven egter die agerende prokureur vir W.J. van der Merwe en andere voor die waterhof van die Ladismithse distrik teen G.B. Saayman en andere. Die ingebonde verslag van sy pleitrede en ander hofstukke het Langenhoven na afloop van die saak aan Van der Merwe geskenk. In 1972 is dit deur Sarah Goldblatt teen die bedrag van R 1 000 van W.J. van der Merwe, kleinseun van die toenmalige eienaar van die plaas, gekoop. Tans word hierdie dokument in Arbeidsgenot bewaar. | |
[pagina 198]
| |
Dat die saak groot belangstelling op Ladismith gewek het, lei 'n mens af uit die mededeling van Izak van Tonder dat selfs die skoolkinders soggens met speeltyd hof toe is om na die saak te gaan luister. In sy skitterende pleitrede op 26 April 1906 gee Langenhoven 'n kernagtige samevatting van die hoofpunte van albei partye se standpunte. Die saak van die klaers was dat die Hoekorivier 'n ewigdurendeGa naar eind8 stroom water is en dat die verweerders geen reg het om al die water uit te keer omdat hulle die eienaars van Hoeko is nie. Die verweerders se pleit was dat daar dertig jaar lank reeds 'n servituut bestaan, naamlik dat hulle die hele stroom, behalwe in geval van oorstromings, gebruik en dat hulle deur sodanige uitkeer in 'n sloot en gebruik van die water die reg verwerf het om met die gebruik voort te gaan. Die klaers het egter aangedring op hulle reg, omdat die rivier volgens hulle ewiglopend is. Die hof moes dus beslis of daar water was om te verdeel. Langenhoven sê in sy pleidooi die verweerders erken dat die rivier wel ewiglopend was, maar dat dit deur wegkering ‘sedert onheuglyke tyden’ opgehou het om ewigdurend te wees en dat daar dus geen sprake kan wees van oewerregte soos die klaers beweer nie. Op grond van hierdie pleidooi en Langenhoven se interpretasie is die saak van die klaers dan ook van die hand gewys. Ou inwoners is geroep wat verklaar het dat hulle nooit daarvan wis dat die water deur iemand anders as die verweerders gebruik is nie. Ná die uitspraak in die waterhof het die klaers geappelleer, maar op 12 Julie 1906 handhaaf die Appèlhof die uitspraak van die waterhof en word die klaers se eis met koste van die hand gewys. Volgens die hofstukke beaam die Appèlhof die standpunt dat die Hoekorivier nie ewiglopend is nie. Die stroom water is só wisselvallig dat daar nie voldoende vir die gemeenskaplike gebruik onder verskillende eienaars is nie. Die saak is dus beslis op grond van die beginsel van 'n servituut deur verjaring, want die ‘onheuglyke tyden’ was langer as die dertig jaar wat die wet voorskryf. Daar was gevolglik nie sprake van water wat die waterhof kon verdeel nie. Langenhoven se hele pleitstuk in hierdie saak getuig van 'n beredeneerdheid en 'n welsprekendheid wat in enige hof indrukwekkend sou wees. Dit bevestig die indruk van baie van sy tydgenote, naamlik dat hy sy betoog ongelooflik briljant, met 'n presisie in die woordkeuse en met ingeboude gevathede as ruspunte, kon opbou, dikwels deur sy illustrasiemateriaal uit die bekende boerewêreld van die Klein Karoo te haal. As redenaar, so kon C.G.S. de. Villiers nog jare later onthou, het Lan- | |
[pagina 199]
| |
genhoven oor 'n volmaakte segging beskik, met 'n mimiek wat lewendig en net mooi reg was. Alhoewel hy logies kon betoog en sy gehoor kon meevoer, was hy ook, volgens De Villiers, 'n ‘meester-improviseerder’Ga naar eind9 wat dikwels 'n sypad ingeslaan het. Dat Langenhoven self van sy redenaarskuns bewus was en ook teoreties daaroor nagedink het, blyk uit baie van sy bydraes aan koerante. In 'n stukkie in De Goede Hoop van Mei 1914 skryf hy byvoorbeeld: ‘En eindelik, viral, als jy die begaafdheid het dat jy 'n vloeiende, maklike spreker is, is daar een arglistige gevaar wat jou altyd dreig waar jy geneigd is om in te val, sonder dat jy daarvan bewus is. Die gevaar is, dat jy in plaas van 'n spreker 'n babbelaar word. Hakkel liewer, steek liewers vas, maar om vredesnaam moenie babbel nie.’ Hoewel Langenhoven dus groot sukses met die ‘zaak over het klein slootje van Hoeko’ en ander prosesse in die waterhof behaal het, was hy nie gelukkig in sy vennootskap met J.A. Foster nie. Tydens die Hoeko-saak en sy langdurige verblyf daarvoor op Ladismith het hy opnuut kontak met sy ou prokureursfirma gehad. Uit 'n brief van 27 Januarie 1907 blyk dit dat hy weer lank op die dorp vertoef, dit ernstig oorweeg om by die firma van Johnson aan te sluit en Vroutjie pols of sy bereid sou wees om na Ladismtih te verhuis. Die onsekerheid oor wat hy moet doen en sy bekommernis daaroor is besig om hom waansinnig te maak. ‘I assure you’, skryf hy, ‘that in the last few weeks my hair has been coming out in handfuls; another month would make me bald.’ Tog wil hy eerder hê dat Vroutjie vir hom moet besluit, selfs al het hy haar vroeër probeer forseer om na Ladismith te kom. Hy praat van ‘the racking mental torture to which I am now subjected’ en die verskillende opsies wat vir hom oop is: ‘the ultimate result will be the adoption of neither of the two courses but of a third one leading to the lunatic asylum’. Die situasie waarin Langenhoven hom bevind, is veroorsaak deur sy vennoot. ‘My partner’, gaan hy voort, ‘is hopelessly incompetent, foolish and devoid of fair dealing.’ Terwyl hy nog op Oudtshoorn was, het Foster hom met beuselagtighede lastig geval en op Ladismith het hy die firma deur sy onnoselheid groot finansiële skade met 'n kuratorskap laat ly. Soms het hy nie behoorlik aandag aan sy kliënte se belange gegee nie. Later het hy dan 'n lang korrespondensie aan die gang gesit om sake reg te stel en sy kliënt vir sy eie stompsinnigheid laat betaal. ‘He writes’, so skryf Langenhoven, ‘ten letters where one | |
[pagina 200]
| |
would be sufficient, yet leaves half his correspondence unanswered and unattended to. He keeps about six sets of books and it takes three weeks and the whole office staff (under favourable circumstances) when a man asks for his account to render it to him, and then it does not agree with any of the books. I do not think he would deliberately cheat anyone but he seems too stupid to discriminate between what is fair charge for fair work, and what is a charge for unnecessary work done merely for the purpose of making the charge.’ Dit is dus klein maar irriterende aspekte van Foster se hantering van sake wat vir die skerp en ordelike Langenhoven teen die bors gestuit het. Uit Langenhoven se brief blyk dit verder dat hy met Vroutjie se toestemming op Ladismith was, al moes hy haar, so kan 'n mens tussen die reëls aflei, belowe dat so 'n besoek nie weer op 'n drinksessie sou uitloop nie. Aan hierdie belofte het hy, so skryf hy, getrou gebly. Selfs al sou hy in die toekoms, ‘by fits and starts’, sy belofte vergeet, sou hy nooit vergeet sy eerste plig lê teenoor haar nie - ‘I am not one of those husbands to whom it is immaterial whether they get smiles or sulks at home.’ Die aangebode vennootskap by Johnson op Ladismith sal meebring, so skryf Langenhoven verder, dat hy drie jaar lank slegs 'n derde van die inkomste uit die firma sal trek. Dit kan nie minder as £ 700 per jaar wees nie. Vir hom is dit genoeg, maar 'n mens dink natuurlik aan siekte en ouderdom. As hy nie vroegtydig sterf nie, behoort hy ‘in the ordinary course of things’ binne enkele jare eienaar van die hele firma te wees. Hy is 'n lening van £ 1 000 deur 'n kliënt op Ladismith aangebied om Johnson uit te koop, en hy wil nou graag van Vroutjie weet wat hom te doen staan. Haar geluk is vir hom hoofsaak, want hy kan nie gelukkig wees as sy dit nie ook is nie. Hy sal haar nie later verwyt indien sake anders verloop en so 'n verskuiwing nie 'n verandering ten goede was nie. Hy vra haar egter ‘that you must not make a choice which you will regret yourself ... (and) that you must hold me strictly to my promise which I gave you at the very outset’, laasgenoemde weer 'n duidelike toespeling op sy drankgebruik van die verlede. Hy vra dat sy onmiddellik na Ladismtih moet kom indien sy daartoe besluit: ‘Our lives are too short to live apart like this.’ Hy vra haar ten slotte om haar besluit by ontvangs van sy brief telegrafies aan hom mee te deel. Op Langenhoven se brief het geen telegrafiese of ander antwoord bewaar gebly nie. Langenhoven het egter nie na Ladismith verhuis nie | |
[pagina 201]
| |
en die vennootskap op Oudtshoorn voortgesit, ten spyte van die feit dat hy geïrriteerd was met die wyse waarop Foster sake afgehandel het. 'n Mens kan geredelik aanneem dat Vroutjie dit in die beste belang van almal geag het om op Oudtshoorn te bly. In 1907 was Oudtshoorn midde-in die groot ekonomiese bloei wat die steeds stygende pryse van die volstruisvere meegebring het en was die vooruitsig vir 'n prokureur dáár dus veel beter as op Ladismith. Daarby was Oudtshoorn as onderwyssentrum vir twee skoolgaande kinders en die groter wordende Engela 'n veel beter plek as die kleiner Ladismith. Die twee belangrikste oorwegings, so kan 'n mens vandag met betreklike sekerheid rekonstrueer, was dat Langenhoven nog by tye groot probleme met sy drankmisbruik geskep het en dat die gesin intussen in 'n eie huis gevestig was, 'n huis wat in 1903 deur Vroutjie aangekoop is. Hierdie huis sou vir die res van sy lewe Langenhoven se permanente woning bly. Hy sou hier trouens nie alleen sy belangrikste skeppende werk lewer nie, maar ook na sy vermoeiende politieke reise en die Kaapse Parlementsittings rus kon vind. Die huis sou later ook 'n belangrike rol in Sarah Goldblatt se Langenhoven-industrie speel. | |
IIReeds in 'n brief van 4 Augustus 1902 het Vroutjie aan haar man in Kaapstad geskryf dat sy bankrekening byna uitgeput is. Sy sal so spaarsaam moontlik leef, aangesien hulle ernstig aan hul eie huis sal moet dink. Met hulle aankoms op Oudtshoorn in Oktober 1899 het die gesin hulle in 'n huurhuis in Hoopstraat gevestig, die woning waarin Langenhoven en Vroutjie se dogter Engela op 22 Desember 1901 gebore is. As Langenhoven in November 1902 opnuut as prokureur op Oudtshoorn begin praktiseer, woon die gesin nog steeds in Hoopstraat. Kort daarna moet Vroutjie egter begin uitkyk het na 'n huis wat groot genoeg vir die hele gesin sou wees. Sowat sewe maande na Langenhoven se terugkeer, op 13 Junie 1903, word 'n akte van transport ten gunste van Magdalena Maria Langenhoven gemaak vir 'n woning met die naam Woodbine, geleë in Western- of Westelike Weg, 'n straat wat in 1952 met die Drie-Eeue-Fees tot Jan van Riebeeckweg herdoop is. In 'n later stadium, toe hy aktief met die stryd vir Afrikaans besig was, het | |
[pagina 202]
| |
Langenhoven die huis herdoop tot Arbeidsgenot en self twee hekke gemaak, met die woorddele ‘Arbeids-’ en ‘genot’ aan die straat se kant daarop uitgebeitel.Ga naar eind10 Mev. Langenhoven het veral die blomme en bome in die tuin behartig, terwyl Langenhoven lief was daarvoor om water te lei. ‘Vroutjie doen die arbeid en ek het die genot’, het hy by geleentheid gesê. Die vraag is waar Vroutjie die geld vandaan gekry het om in 1903 hierdie huis aan te koop. Toe haar eerste man in 1893 oorlede is, moes haar huishulp, Sarie Karolus, veldplante tot 'n bredie verwerk om die karige vleis vir die kinders aan te vul, 'n aanduiding dat haar ouers nie in staat was om finansiële bystand te bied nie. Langenhoven se twee jaar in Kaapstad as advokaat het in 1902 op 'n ramp afgestuur en alles dui daarop dat hy so ná aan bankrot was as wat 'n mens kan kom. Met die moeilike oorlogsjare kon Vroutjie dus, ten spyte van haar spaarsaamheid, in dié omstandighede kwalik genoeg weggesit het om sewe maande na haar man se terugkeer 'n eie huis te koop. Alhoewel regstreekse dokumentasie hier ontbreek, wys alles daarop dat Piet Langenhoven bereid was om sy pleegseun van ondergang te red en finansieel by te staan. In briewe uit Kaapstad aan Vroutjie het Langenhoven reeds die moontlikheid genoem om sy pleegouers oor sy drankprobleem en sy benarde finansiële toestand in te lig. 'n Mens kan met redelike sekerheid aanvaar dat dit wel gebeur het, maar dat Piet Langenhoven in sy wysheid twee voorwaardes sou stel: sy pleegseun moet terugkeer na Oudtshoorn en sy vrou, waar daar beter ‘toesig’ oor sy probleem kon wees; en hy sou help met die aankoop van 'n eie woning, mits so 'n huis op Vroutjie se naam geregistreer sou word en die moontlikheid dus uitgeskakel word dat Langenhoven tydens 'n moontlike toekomstige verwydering van sy vrou die huis sou verkoop en die opbrengs daarvan sou uitdrink. Indien hierdie konstruksie van die omstandighede korrek is, onderstreep dit nog eens die ernstige graad van alkoholisme waaraan Langenhoven reeds in dié tyd gely het. Piet Langenhoven was blykbaar bereid om sy pleegseun te help, maar alleen as die huis op Vroutjie se naam geplaas en die voortbestaan van die huwelik op dié wyse verseker kon word. Dat Woodbine - die latere Arbeidsgenot - baie gou vir Vroutjie 'n vaste anker geword het, blyk uit die feit dat sy in 1907 namens haar man besluit het om in almal se belang op Oudtshoorn te bly en nie na Ladismith te verhuis nie. | |
[pagina 203]
| |
As die Langenhovens die latere Arbeidsgenot in 1903 betrek, is die huis nog betreklik nuut. Die grond waarop Arbeidsgenot staan, was oorspronklik deel van erf 1, wat in 1875 verkoop is aan George Mason Edmeads. In 1886 speel Edmeads bankrot en neem die Standard Bank die eiendom oor. In 1895 word die grond die besit van Benjamin Wiggett en nog in dieselfde jaar van Hans Andrias Bernhardt en August Hoesch.Ga naar eind11 Omstreeks 1898 het hierdie eienaars die huis laat bou en in 1903 aan Vroutjie verkoop. Met die jare het Langenhoven en veral Vroutjie dit tot 'n tuiste en gesellige huis vir die gesin ontwikkel. In haar testament van 12 Julie 1944 bemaak Vroutjie die huis aan ‘die Afrikaner Volk van die Unie van Suid-Afrika’. Na haar dood op 23 Mei 1950 is die bemaking op die voorwaardes van die testament deur 'n raad van trustees aanvaar en op 21 April 1955 is dit amptelik vir openbare besoek oopgestel deur die goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen. Sarah Goldblatt het gesorg dat die huis met sy meubels onveranderd gelaat word, soos die Langenhovens dit tydens hul lewens bewoon het. As 'n mens die erf van die straat se kant af inkom, is daar voor die huis nog die oorspronklike tuin soos dit met bakstene deur Vroutjie uitgelê is. Links van die voordeur is 'n katjiepieringboom. Wanneer Langenhoven in die oggende dorp toe is, het hy altyd een van die blomme in sy lapel gedra; wanneer hy terugkom, was die katjiepiering weg - ‘aan Gesie’, sy fiktiewe geliefde, ‘gegee’, soos hy altyd vir Vroutjie sou sê. Regs in die tuin staan die bamboesbos waaronder Langenhoven in later jare dikwels sou skryf en wat aangeplant is om 'n sens te sny vir die karakter van Vader Tyd as verdere opvoerings sou plaasvind van Die Hoop van Suid-Afrika, sy drama van 1913 waarin hy self die rol van Vader Tyd gespeel het. Langenhoven se geliefde buiteskryfplek was onder die sipresboom, 'n Karoosipres ‘met wyd-spreidende takke (,nie) een van die vaal stywe kersregoppes...wat by kerkhowe groei nie’Ga naar eind12 - soos Langenhoven die boom later sou beskrywe. In 1927 was Vroutjie verplig om die sipres na nog 'n langdurige droogte te laat afkap en is 'n paal ingeplant waaraan die nuut aangenome landsvlag die jaar daarna die eerste keer en telkens later by spesiale geleenthede gehys is. In die stuk ‘In memoriam’ wat hy op 11 Julie 1927 in Aan stille waters in Die Burger publiseer, sê Langenhoven dat sy ‘eintlike ambagswinkel’ buite onder die sipresboom was. ‘Hoeveel van die stukkies wat hier Maandag vir | |
[pagina 204]
| |
Maandag tot vervelens toe verskyn, vir een leser om van te hou en tien om nie van te hou nie, is nie onder die boom geskryf nie, in die heerlike koelte daar wanneer die gruwelike Oudtshoornse somerson in die rondte bak. En hoeveel van my boekies is nie daar geskryf nie, of hoofstukke en stukke hoofstukke daarvan - en ek kan vir jou vandag een vir een merk en sê dis die sipresboom se stuk daardie. Die skaduwee van die boom lê op elke gedrukte bladsy, stippels, stippels, soos op die grond. Maar dis stippels lig, nie stippels skaduwee nie, want dis 'n lowerdigte soort boom.’Ga naar eind13 Die sipres, so gaan Langenhoven voort in 'n gedeelte wat aan sy eie jeugjare by sy pleegouers herinner, ‘is 'n aangenome kind. Toe ons hier kom woon het, vyf-en-twintig jaar gelede, was hy 'n opgeskote seun, en daarvandaan het Vroutjie hom verpleeg en grootgemaak en opgepas soos die appel van haar oog. Hy moet 'n drie voet in die jaar gegroei het want hy was op die ou end 'n taggentig voet hoog. Tot van oorkant uit die dorp uit was hy 'n baken - as ek iemand moes beduie om my pondokkie te kry, had ek maar net nodig om te sê: “Loop by die stukkende hek in tussen die drie klippilare by die groot sipresboom.”’Ga naar eind14 Toe die ‘oneindige droogte’ kom en hulle ‘erfie vaal was soos 'n stoppelland’, het Vroutjie die ‘laaste watertjies’ alles na die sipresboom laat gaan. Nadat die slootbeurte en die pypwater afgesny is, het Vroutjie met die skottelgoedwater en waswater die boom aan die lewe bly hou, maar dit was nie genoeg nie. Later kon 'n mens 'n vuurhoutjie insteek om die boom te laat ontvlam, maar die vaal, fyn blare het bly sit. Onder ‘die laaste skaduwee van my dooi ou vriend het ek’, so skryf Langenhoven, ‘voor my vertrek Kaap toe,Ga naar eind15 'n helfte of wat van my jongste boekie “Die Wagtende Wêreld” geskryf. In die toekoms hoe lank ek ook die lewe mag hou, sal ek nie daardie boekie kan lees sonder om oor my hoof die vaal te sien waar daar altyd groen was nie. Nou sit ek op dieselfde óú plekkie en skryf, maar dis nie dieselfde nie en dit sal nooit weer dieselfde wees nie, want ek sit onder die blote hemel. Kort voor my terugkoms huis toe het Vroutjie ons dooi boom laat afkap om liewer alleen die verdriet van sy uiteindelike vernietiging te sien en te voel as dat ek dit ook moes sien en voel.’Ga naar eind16 As 'n mens van die tuin af opstap na die huis, vind jy links en regs banke op die stoep, met 'n wippelstoel in die hoek met 'n tafeltjie waarby Langenhoven ook soms geskryf het. Op die verlenging van die stoep langs die huis se regterkant staan potplante wat Vroutjie versorg | |
[pagina 205]
| |
het. Die stoep loop uit op 'n deur wat die ingang bied tot 'n pakkamer, vroeër gebruik as ‘conservatory’ (soos dit deur die Van Velden-kinders genoem is) waar Vroutjie aan privaat leerlinge musiek gegee het. Met die voordeur in kom jy in die gang, waar aan die linkerkant in Langenhoven se leeftyd reeds die horings gehang het van bokke wat sy pleegvader geskiet het. In die gang is ook 'n kapstok en later is daar foto's gehang van Engela se huwelik en van momente uit Langenhoven se politieke loopbaan. In die sitkamer regs is daar olifantjies op die kaggelrak, geskenke wat Langenhoven na die verskyning van Sonde met die bure en Herrie op die óú tremspóór van bewonderaars ontvang het. Verder is daar 'n opgestopte likkewaan, die inspirasie vir die Bertiekarakter in sy kinderverhaal Brolloks en Bittergal. Bo die kaggelrak hang 'n pragtige foto van Engela as elfjarige meisie, terwyl op die klavier - waarop hy later sy eie toonsetting van ‘Die Stem van Suid-Afrika’ gekomponeer het - nog 'n foto van Engela en twee foto's van Vroutjie te sien is. Een hiervan het 'n Engelse inskripsie en is onderteken as Vonkies, wat daarop dui dat dit uit die laat negentiende eeu of vroeë twintigste eeu dateer. Spesiaal in kalfsleer ingebind, en in 'n houtkissie wat hy self gemaak het, lê Langenhoven se vertaling van Omar Khayyám, oorgeskryf in 'n praguitgawe van die Engelse weergawe as 'n geskenk vir Vroutjie. Die sitkamer was, volgens Langenhoven se eie uitspraak, die mins gebruikte vertrek in die huis. ‘In die sitkamer ontvang ek my vyande, in die eetkamer my vriende’, het hy by geleentheid gesê. In Langenhoven se slaapkamer, regoor die sitkamer aan die linkerkant van die huis, staan die bed waarop hy gesterf het, met 'n jakkalsvelkaros wat Vroutjie met 'n verjaardag vir hom present gegee het. Dikwels, soos uit sy briewe en geskrifte blyk, het hy hier ook in die ‘kooi’ gesit en skryf. In die kamer is daar verder 'n swart metaalkierie wat altyd in later jare aan Langenhoven se arm was as hy gaan stap het, terwyl die boekrakkie teen die muur sy eie houtwerk is. Die gewere het aan sy pleegvader behoort, want Langenhoven self het nooit gejag nie. Die was- en spieëltafel het Langenhoven self nog gebruik, terwyl die naambordjie ‘C.J. Langenhoven Prokureur’ die eerste Afrikaanse naambordjie van 'n prokureur op Oudtshoorn was. Teen die muur hang Kipling se ‘If’ en Langenhoven se ‘Met die waters wat verby is/Sal jou meule nooit weer maal’, sy vertaling van ‘The mill will never grind again/With the water that is passed’. | |
[pagina 206]
| |
Terwyl die Van Velden-kinders in die huis was, is Langenhoven se slaapkamer na alle waarskynlikheid nog deur twee van die meisies gebruik en het Engela die hoofslaapkamer met hom en Vroutjie gedeel. Aangrensend aan Langenhoven se latere slaapkamer is die vertrek wat later Engela se slaapkamer sou word. Naas die bed en die hangkas met spieël is daar 'n laaikassie en kleiner kassie, terwyl teen die muur die gerestoureerde landsvlag hang wat Langenhoven in 1928, soos al die ander Parlementslede saam met hom, present gekry het en wat by geleenthede voor die huis aan die vlagpaal gehang het. Die tweede deur regs lei na Vroutjie se kamer, waar sy in 1950 oorlede is. Die hemelbed met die kroon bo was bedoel vir 'n Indiese prinses, maar dit is per ongeluk op Mosselbaai in plaas van Bombaai afgelaai. Langenhoven het dit op 'n veiling in Mosselbaai gekoop, maar Vroutjie was verontwaardig daaroor en het gekla dat sy nie die matras omgedraai kan kry nie. Die gevolg was dat Langenhoven die matras vir haar in drie dele laat maak het. Verder is daar in die kamer 'n spieëltafel, 'n spieëlkas met laaie, 'n jonkmanskas met spieël en teen die muur 'n medisynekassie wat Langenhoven self gemaak het. Aan die regterkant van die bed hang die enigste gesinsfoto met die vier Van Velden-kinders en Engela, waarskynlik in 1912 afgeneem. Langenhoven sit met een van sy Flag-sigarette tussen die vingers. Die eetkamer, wat 'n mens met die derde deur na regs bereik, is die vertrek waar Langenhoven hoofsaaklik geskryf, waar hy op die sofa na etes gerus en waar sy hond Jakhals ook sy lêplekkie op 'n kussing gehad het. Langs die ruim eettafel staan 'n stoel met 'n ronde rugleuning waarop Langenhoven gesit het toe die eerste drie strofes van ‘Die Stem van Suid-Afrika’ in Mei 1918 geskryf is.Ga naar eind17 In die eetkamer is daar verder 'n spieëltafel, 'n stel silwermessegoed, 'n foto van Langenhoven wat 11 Augustus 1931 - die jaar voor sy dood - gedateer is, 'n ouderwetse draadloos, 'n ou soort platespeler en 'n stel van die Encyclopaedia Britannica (negende uitgawe, 1880). Op die glaskas met breekware staan 'n groot Herriebeeld wat Langenhoven self in Kaapstad gekoop het en besonder swaar is. Vroutjie was weer verontwaardig oor die ding wat Langenhoven 'n hele ent deur Adderleystraat tot by sy tuisplek moes dra. ‘Jy kan nie die olifant saamneem Oudtshoorn toe nie’, was haar eerste reaksie. ‘Nou maar goed, Vroutjie, dan los ons hom hier’, was sy antwoord. ‘Nee’, het sy gesê, ‘jy het die olifant gekoop, hy moet nou saam huis toe.’ Langenhoven se gelate kommentaar was: | |
[pagina 207]
| |
‘Sien, gee 'n vrou haar sin, dan kry jy jou eie sin.’ Teen die rand van die plakpapier het Langenhoven 'n uitbeelding van spelende kinders geplak, sy inspirasie vir Die Krismiskinders, wat in 1927 gepubliseer is. Bo die Herriebeeld hang 'n skildery van Meiringspoort wat Thinus de Jongh aan hom geskenk het. Die rakke onder die horlosie en bo die kaggel is deur Langenhoven self gemaak, die beste voorbeelde in die huis van sy houtwerkvermoë. Die foto van die Voortrekkervrou van Suid-Afrika is tydens die vierings van 1938 na Langenhoven se dood deur Vroutjie opgehang, soos ook Pierneef se voorstelling van Aan stille waters wat op 2 Desember 1932 op die omslag van Die Huisgenoot verskyn het. Die derde deur links uit die gang lei na die spens, waar ingemaakte vrugte in outydse ‘Ball’-flesse staan, deur Vroutjie self ingelê. Onder die flesse is koerantpapier, gepunt en in patroontjies gesny soos Vroutjie dit al die jare gedoen het. Verder is daar die koffiemeul waar Langenhoven self elke oggend om vyfuur genoeg vir die dag se gebruik gemaal en die koffie vir hom en Vroutjie gemaak het. In die kombuis langsaan die spens staan 'n porseleinstel vir tee, koffie, suiker e.d.m. waarop die bewoording - volgens Langenhoven se eie voorskrifte - in Afrikaans verskyn. Dit is deur hom by Fletcher & Cartwright in Kaapstad bestel en saam met vyf ander stelle uit Tsjeggo-Slowakye in gevoer. Op 'n rak teen die muur naaste aan die badkamer, wat aan die ent van die gang is, staan 'n aantal Nectarblikke met die inhoud in Langenhoven se handskrif in Engels opgeskryf, 'n aanduiding dat dit aan die einde van die negentiende eeu of vroeg in die twintigste eeu gemaak is toe Langenhoven nog voorkeur aan Engels gegee het. Die Bolinder is 'n houtstoof waarop hy in die oggend koffie gemaak het. Die mure van die kombuis is van rooi klei, iets wat destyds algemene gebruik was. Buite die kombuis is daar vandag 'n kantoortjie, wat later aangebou is, vir die kuratrise van Arbeidsgenot. Op die erf is vrugtebome en die waenhuis waar Langenhoven houtwerk gedoen en boeke gebind het. In die vyftigerjare is op die rand van die erf 'n huis vir die kuratrise gebou. Voor die huis aan die regterkant is die ‘afdraandes’, soos die Langenhovens dit genoem het, 'n steil helling wat Sarah Goldblatt tot 'n amfiteater wou omskep; maar die plan is nooit deurgevoer nie. Links van die woning by die ingang aan die straat se kant was daar in Langenhoven se tyd 'n wingerd. Vandag is daar 'n voorbeeld van sy sonnewy- | |
[pagina 208]
| |
ser wat in 1952 opgerig is. Aan die voet van 'n borsbeeld van Langenhoven deur Mitford-Barberton rus die as van Sarah Goldblatt, die ‘sub’ van C.J. Langenhoven, wat haar drie en veertig jaar lank, van 1932 tot 1975, met groot oorgawe aan die werk van haar ‘chief’ gewy het.Ga naar eind18 | |
IIIAs 'n mens Langenhoven se betreklik karige versameling boeke in Arbeidsgenot deurkyk, moet jy tot die gevolgtrekking kom dat hy - soos uit sy latere korrespondensie met Sarah Goldblatt blyk - veelvuldig gebruik gemaak het van die Oudtshoornse Openbare Biblioteek en vanaf 1914 ook van die Kaapstadse biblioteke, in die besonder die Suid-Afrikaanse Biblioteek en die Parlementsbiblioteek. Sy belesenheid het veel verder gestrek as wat die paar boeke in sy persoonlike besit reflekteer. Tog gee die klein versameling 'n aanduiding van sy veelsydige belangstelling. Naas talle Bybels - waarvan baie later in Sarah Goldblatt se besit gekom het - is daar werke oor die agnostisisme van Herbert Spencer, die martelaarskap van Farrar, Mair se Christian evidences, The religion van Lodge, Haeckel se Evolution, Barrett se On the threshold of the unseen en Smuts se Holism. Wat veral opval, is die boeke oor wiskunde, natuurwetenskap en sterrekunde: Whitehead se Mathematics, Berry se The atmosphere, Proctor se Other worlds than ours, 'n aantal werke van Verne, Wells en Huxley, Thomson se Introduction to science en Greene se Astronomy. 'n Werk soos Barrett se On the threshold of the unseen is 'n belangrike sleutel vir die soort spookverhaal wat Langenhoven later sou beoefen. Uit die Nederlandse letterkunde is daar slegs Hildebrand se Camera obscura en 'n vyfdelige uitgawe van Multatuli se Verzameld werk, terwyl die Encyclopaedia Britannica blykbaar vir Langenhoven voldoende was as hy iets vinnig wou naslaan. Vir sy taak as joernalis het The newspaper van Dibblee genoeg agtergrond verskaf. In aansluiting by sy geskrifte voor sy vertrek as advokaat na Kaapstad het Langenhoven ook sedert sy terugkeer na Oudtshoorn in November 1902 sowel op die gebied van die skeppende werk as op dié van regskundige studies beweeg, al is dit by gebrek aan die nodige inligting nie altyd moontlik om al die stukke definitief te dateer nie. 'n Vroeë | |
[pagina 209]
| |
stuk wat nooit gepubliseer is nie en wat op sy ervarings in 'n prokureurskantoor gebaseer is, is ‘The digest: A hitherto unpublished page from the history of a well-known firm of solicitors’. Op Kersdag 1906 skryf hy in 'n vloeiende maar enigsins hoogdrawende Engels ‘Thoughts on the New Year’, waarin sy versvorm vaster is as in ander oorgelewerde verse uit hierdie tydperk. Opvallend is reeds die betogend-didaktiese inslag van Langenhoven se gedig, iets wat ook sy latere poësie sou kenmerk en sou skaad: Each cradle is a grave, 'tis true,
But yet, with each succeeding death,
There wakes afresh a first-drawn breath:
Each grave contains a cradle new.
As we ephemeral mortals grow,
So with our growth grows our decay -
We linger briefly by the way,
Then off with other dust we blow.
On drooping wreaths a mourner's tear -
An epitaph on crumbling stone -
May bide a while when we are gone:
But those who tend them bide not here.
Die ‘gedagte’ in hierdie gedig sal later ook neerslag vind in ‘Ou jaars graf en nieuw jaars wieg’ wat Langenhoven in Stukkies en brokkies (1911) en die eerste druk van Ons weg deur die wêreld (1913) opneem. Alhoewel Langenhoven in hierdie stadium nog geen toekoms vir Afrikaans kon sien nie, het hy op Oudtshoorn aktief aan debatsaande deelgeneem. In 'n dagboek wat sy gehou het terwyl sy op Oudtshoorn woonagtig was, teken die Engelstalige Suid-Afrikaanse skryfster Pauline Smith op 2 Mei 1906 aan dat sy dié aand 'n byeenkoms van die Literary and Debating Society bygewoon het. F. Muller Rex het oor die Suid-Afrikaanse literatuur gepraat en onder meer oor Olive Schreiner se Story of an African farm uitgewei. ‘Mr. Langenhoven’, skryf sy, ‘spoke too, & grinned & chuckled hugely ... He ... “had lived on a farm” & found life quite different from what it is depicted in the Story of a S.A. Farm & thought if Mr. Rex found it true to life it must be | |
[pagina 210]
| |
from life in another country not this.’Ga naar eind19 In 'n verslag in die Oudtshoorn Courant van 3 Mei 1906 oor dieselfde byeenkoms rapporteer die verslaggewer as volg oor Langenhoven se deelname aan die bespreking: ‘Mr. Langenhoven said that he had come there expecting to be bored, as the subject did not appear to him capable of much interesting treatment, he had been agreeably surprised, and he proposed a hearty vote of thanks to Mr. Rex for the evening's instructive and entertaining paper.’Ga naar eind20 Maar blykbaar het Langenhoven hom ook organisatories met debatsverenigings bemoei en reeds in hierdie tyd bydraes in Afrikaans gelewer. In Stukkies en brokkies en die eerste uitgawe van Ons weg deur die wêreld sou hy samesprake opneem wat later verval het, soos die dialoog tussen 'n boer, Engelsman en Duitser wat hy onder die titel ‘'n Weergalmpie van Babel’ publiseer. In dié twee boeke neem hy ook 'n ‘Modelletjie vir 'n debat’, voorbeelde van toesprake, debatsonderwerpe en 'n eenvoudige model van reëls vir 'n debatsvereniging op. Hierdie stukke het egter vir Langenhoven 'n ‘nuts’-funksie ten opsigte van die gemeenskap gehad en was nog geen daadwerklike poging om Afrikaans genuanseerd te gebruik nie, al het die een nie die ander uitgesluit nie en is van die kenmerkendste eienskappe van die latere Langenhoven - die aansluiting by die spreektaal en die vertroudheid met die wêreld waaroor hy skryf - hier reeds ten volle aanwesig. Later sou hy die debats- en jongeliedeverenigings in sy stryd vir Afrikaans inspan en nog meer eenvoudige stukke vir opvoering by die byeenkomste van hierdie verenigings skryf.Ga naar eind21 'n Werk van iets groter omvang vir die toneel lewer hy met Die trouwbelofte, wat van 16 Januarie 1905 as vervolgstuk in Het Zuid-Westen en in 1910 in boekvorm verskyn. Voor 1910 skryf hy ook ‘Ons almaal se erfenis’, wat in die manuskrip die titel ‘Rein geluk’ dra, en ‘Die grijsaards jeugd’. Een van Langenhoven se vroegste geskrifte in Afrikaans is ‘Die tweetalige vonnis’, wat sir Henry Juta - politikus, skrywer en later regter-president en appèlregter - in sy Reminiscences (1912) opneem. Hierdie samespraak - wat in verwerkte vorm in Ons weg deur die wêreld verskyn - dateer uit 1906 en lewer op 'n geestige wyse kommentaar op die geregtelike dwaling as 'n beskuldigde hom nie in die taal kan verdedig wat hy verstaan en praat nie. Sir Henry Juta maak sy lesers op hierdie anomalie in die regstelsel van die Kaapkolonie attent en wys daarop dat die grootste deel van sowel die blanke as die | |
[pagina 211]
| |
bruin bevolking van die land nie amptelik gebruik kon maak van die taal wat hulle praat nie. Die ironie was dat blanke Afrikaanssprekendes in hierdie stadium self nie die taal wou gebruik nie en - as dit dan nie Engels was nie - voorkeur gegee het aan 'n verdraaide soort kosterhollands vir hulle gebede en redevoeringe. In 'n groot mate moes hierdie vroeë geskrifte in Afrikaans vir Langenhoven nog verstrooiingsarbeid en stukkies geestige afleiding gewees het, want die taal self was vir hom steeds uitsigloos. Daarom dat sy regskundige studies uit dié tyd in Nederlands of Engels geskryf is. In 1906 publiseer hy by die Zuid-Westelijke Drukpers en Uitgevers op Oudtshoorn Iets over arbiters en arbitraties, 'n kort pamflet wat hy op versoek saamstel. Daarin gaan hy die tipe geskille na wat 'n arbiter kan besleg, wie as arbiters aangestel kan word, wie hulle kan aanstel, watter mag hulle het en hoe 'n arbiter sy plig moet doen. Reeds die stelwyse en pittige segswyse is al Langenhoven-taal by uitstek. In 1958 neem Sarah Goldblatt dié stuk in deel XVI van die Versamelde werke op. Waarskynlik voordat hy sy werk oor arbiters aangepak het, het Langenhoven 'n ander regsboek voltooi. Op 28 Augustus 1905 skryf hy 'n brief aan J. & H. Pocock oor die publikasie van ‘my Book on the Cape Roman Dutch Law of Real Rights’. 'n Gedeelte van die manuskrip hiervan onder die titel Elements of the theory of Real Rights word tans bewaar in die C.P. Nel-museum in Oudtshoorn. Langenhoven het hierdie manuskrip voorgelê aan W.P. Schreiner, broer van die skryfster Olive Schreiner, voormalige premier van die Kaapkolonie en in daardie stadium advokaat in Kaapstad. In 'n brief van 29 Januarie 1906Ga naar eind22 lewer Schreiner kommentaar op Langenhoven se geskrif. Dié brief is 'n uiters belangrike dokument, want Schreiner spreek sterk kritiek uit op Langenhoven se werkswyse en die hele manier waarop hy sy onderwerp aanpak. Langenhoven het in hierdie jare gespeel met die gedagte om met die LL.D. voort te gaan en 'n mens kan die vraag stel of dié vroeë negatiewe uitspraak, veral in die lig van sy sensitiwiteit en sy latere reaksie op resensies, hom nie finaal van verdere studie en selfs die moontlikheid van 'n akademiese loopbaan laat afsien het nie. Weens drukke werksaamheid, so begin Schreiner, kon hy slegs kursories na die manuskrip kyk. Hy waardeer Langenhoven se strewe na presisie en akkuraatheid, ‘but I should not be doing what I can after even the imperfect study I have been able to give to your very earnest work to tell you my thoughts if I did not very candidly advise you to | |
[pagina 212]
| |
take much time to consider before you publish the work as it is’. Juis die wetenskaplike presisie en akkuraatheid, so sal Langenhoven toegee, ontbreek in 'n hele aantal passasies wat Schreiner noukeurig bekyk het. Die hele gebied wat Langenhoven ondersoek, moet nie vanuit die standpunt van regte bekyk word nie, maar van pligte wat nie altyd korrelerende regte het nie. Schreiner skryf: ‘Starting with “rights” - “private law” - “things” - “persons” - as you do I am bound to admit that the result of your preliminary parts do not impress me with accuracy. You find no room (in the general analysis) for my right to walk on the beach, or pitch my tent there: - it is not a right of ownership, - but it is decidedly a right against the whole world, dependent on possession: you do not place copyright &c anywhere in the system, - because you limit “things” to what may (apparently) be touched or handled. To my mind the attempt to limit the term in that way will be bound to breed great confusion: the fact being that one should, scientifically, avoid treating as fundamentally different a man's right to his good name, his right to his own body, or his right to his horse. These all are rights against the world - & so is copyright or the like. Any new classification claiming scientific precision must not have exceptions, or leave the field not fully divided. In what corner of your field do you place my duty not to commit suicide: my duty not to drink to excess; or the like, - indeed where do you place my duty not to cruelly maltreat my horse or dog?’ Schreiner sluit sy brief af deur te sê dat baie van Langenhoven se uitsprake lang mondelinge diskussies tot gevolg kan hê en dat baie detailkommentaar op stellinge is wat ‘too sweeping or unlimited’ voorkom. In baie opsigte is Langenhoven se werk helder en oorspronklik; omdat dit egter ongelyk is, sal die publikasie daarvan in sy huidige staat 'n teleurstelling wees. Daarom beveel hy aan dat Langenhoven dit beter afwerk, groot dele herskryf en die basis en indeling daarvan heroorweeg. Dit is onbekend wat Langenhoven se reaksie op Schreiner se kommentaar was. Die boek het egter nie by J. & H. Pocock verskyn nie en 'n mens neem aan dat Langenhoven dit vir publikasie onttrek het. Dit sou trouens 'n kenmerk van hom as skrywer wees dat hy nooit met 'n werk wou sukkel nie. Uiters selde in sy loopbaan het hy 'n afgehandelde of verwerpte manuskrip weer opgeneem. Met sy blitsvinnige werkmetode moet 'n mens ook verwag dat daar in Langenhoven se betogende geskrifte dele mag wees waarvan hy, soos Schreiner in dié verband | |
[pagina 213]
| |
opmerk, die konsekwensies nie logies deurdink het nie. Veral as die besware die hele grondslag van die werk aangetas het, was sy reaksie om dit opsy te skuif en met ander werk voort te gaan. Daarom dat Iets over arbiters en arbitraties, wat hy kort daarna aangepak het, nog in 1906 verskyn. Miskien het Schreiner se negatiewe reaksie by Langenhoven aanleiding gegee tot die besluit om definitief nie met doktorale studie in die regte voort te gaan nie en as skrywer eerder op skeppende werk te konsentreer, al sou sy taak as joernalis en politikus later telkens meebring dat hy betogende prosa beoefen. Die probleem was dat hy in hierdie jare nog steeds geen moontlikheid vir Afrikaans kon sien nie en reeds in 1893 Nederlands as toekomstige taal vir Suid-Afrika afgeskryf het. Sy beheer oor Engels was uitstekend, maar hy het 'n konvensionele styl en idioom beoefen wat dodelik vir die ontwikkeling van 'n skeppende genie was. Daarom dat sy geskrifte in hierdie stadium nog van 'n duidelike koersloosheid getuig. | |
IVAlhoewel Langenhoven se sporadiese drinksessies die goeie verhouding tussen hom en Vroutjie van tyd tot tyd kon versteur, het die beminlike aspekte van sy karakter ruimskoots daarvoor vergoed. Langenhoven kon uiters teer en met begrip teenoor Vroutjie optree; met sy tenger gestalte, beskaafde spraak en sagte aanslag kon hy telkens haar hart opnuut verower. Met sy ongelooflike verstand, sy groot eerbied vir die waarheid, sy menslikheid en sy veelsydigheid was hy haar liefling, haar ‘boytie’, soos sy hom in briewe uit hierdie jare noem. Daar was altyd iets kinderliks en seunsagtigs in Langenhoven aanwesig en sy humorsin en gevatheid het Vroutjie geprikkel. Op 'n keer het hulle deur die Seweweekspoort gery en op 'n trop bobbejane afgekom. ‘Kyk, Kerneels, jou familie’, het sy opgemerk. ‘Ja, Vroutjie, aangetroude familie’, was sy ratse antwoord. By geleentheid, toe hulle op pad was dorp toe, is hulle deur 'n groep honde bestorm. Toe Vroutjie hulle met 'n klip wou verwilder, tref die klip 'n ruit in plaas van 'n hond. Langenhoven moes vir die ruit betaal en sy droë kommentaar was: ‘Vroutjie, hoekom het jy nie na die ruit gegooi nie? Dan het jy sekerlik die hond geraak.’ | |
[pagina 214]
| |
Hoewel hy in hierdie stadium nog nie as 'n skrywer bekend kon staan nie, het hy reeds die temperament van een gehad. As hy jare later oor ‘Die vrou van die kunstenaar’ in Aan stille waters I uitwei, is die beskrywing van die ‘ou groot klein babetjie’ wat die man vir hierdie vrou is, in 'n groot mate met homself as model geteken en gee die essay 'n beeld van hulle verhouding. ‘Laat hom maar sonderling wees, snaaks, kranksinnig, hulpeloos, befoeterd’, lê Langenhoven woorde in die mond van die vrou. ‘Ek weet waar sy hart en sy gevoel is: soveel dieper as ander mense s'n as wat die see dieper is as die plas.’ En die essay gaan voort: ‘Van buite mag hy ontmoediging kry; ander mense mag hulle skouers vir hom optrek; by my sal hy altyd sy troos en sterkte vind. My lewe is syne; my offer kos my baie duur; maar ek weet op watter altaar ek dit lê. Vrou van 'n kunstenaar, het ek gesê. Ek is nie sy vrou nie; ek is sy moeder. Hy sê ek is sy engel.’Ga naar eind23 Maar naas sy liefdevolheid en beminlikheid kon Langenhoven ook 'n vurige en opvlieënde man met 'n skilderagtige temperament wees, veral as sake vir hom nie reg verloop het nie. Soms kon hy dan sy taal besprinkel met sterk woorde soos bloody, dammit, bliksem, donner, wat de joos en selfs waar de moerskont - uitdrukkings wat hy dikwels gebruik het. Hy was darem versigtig met die gebruik van die Naam van die Opperwese. Oor die algemeen was hy 'n plesierige persoon om mee saam te leef, al het hy buie van depressies gehad en al was sy drankgebruik soms iets ontstellends om te aanskou. Van die begin af was daar 'n gevoel van animositeit van die Van Velden-kinders se kant jeens Langenhoven. Hulle het hom beskou as 'n indringer wat die hart van hulle moeder verower en hulle lewe met sy drinkery vergal het. Die dogters het in die huis gebly tot hulle getroud is. Met Anna, die oudste, wat later getroud is met John Allison, regsman in Pretoria, het Langenhoven die beste verhouding gehad. Hy het haar nog op Ladismith met haar skoolwerk gehelp, en op Oudtshoorn was sy sy assistent in die prokureurskantoor. Met Bessie, wat getroud is met die Oudtshoornse prokureur Allan Pocock en in die huis Klapperbos langsaan Arbeidsgenot gewoon het, was daar altyd 'n baie gestremde verhouding. Met verloop van jare het hierdie verhouding nog verder versleg toe Langenhoven as taalstryder in belang van Afrikaans opgetree en 'n ondersteuner van Hertzog en Malan geword het, terwyl die Pococks - soos trouens ook die ander Van Velden-kinders - se huistaal Engels was en hulle politieke simpatie by Smuts gelê het. In | |
[pagina 215]
| |
later jare is die nyd jeens Langenhoven veral verwoord deur Bessie se dogter Marjorie, wat in 1988 hoogs bejaard en ongetroud op Oudtshoorn gesterf het. Na haar begrafnis is daar by 'n soort familiebyeenkoms op haar uitdruklike wens 'n bandopname afgespeel wat onder meer bestaan het uit vertellings oor Langenhoven en die verbandhoudende Arbeidsgenot-Klapperbos-sages - louter gif, kwaadwilligheid en onsmaaklikheid volgens mense wat dit moes aanhoor.Ga naar eind24 Onder meer het Marjorie Pocock gesê dat Langenhoven by tye, veral in die vroeë jare, onder die invloed van drank soms die dogters in die huis agterna gesit en hulle probeer omhels het, in so 'n mate dat hulle die deure van hul kamers moes toesluit. Alhoewel Marjorie waarskynlik vanuit Klapperbos - ‘die mense anderkant die heining’, soos Sarah Goldblatt smalend na hulle verwys het - 'n vertekende beeld van die situasie en van Langenhoven se intensies kon gegee het, is dit moeilik om te aanvaar dat mense uit die Victoriaanse era oor sulke aangeleenthede blatant sou lieg. By die geniale persoon is 'n sekere mate van afwykende gedrag trouens nie ongewoon nie. Dit kan dus wees dat Langenhoven onder die invloed van drank soms amoreuse flikkers vir die Van Velden-dogters gegooi het, al was daar van enigiets verder geen getuienis nie. Alles het saamgehang met sy oormatige gebruik van alkohol, wat sy etiese kodes verbreek en 'n broser maar ook boser mens te voorskyn laat tree het. In later jare praat 'n goeie vriendin soos M.E.R. byvoorbeeld van Langenhoven se geweldige vererende liefde vir Vroutjie,Ga naar eind25 iets wat bevestig word deur sy briewe. 'n Mens kan dus aanvaar dat sy liefde na haar uitgegaan het, al was dit weens die leeftydsverskil 'n besonderse soort huwelik met 'n sterk moeder-seun-verhouding daarby. Die ander dinge was glipsies wat deur die drank veroorsaak is. 'n Mens moet ook onthou dat hy in sy vryersdae aanvanklik by Anna - die oudste Van Veldendogter - gaan kuier het voordat hy deur Vroutjie ‘weggerokkel’ is. Daar kon dus meer as 'n vriendelike toegeneentheid jeens Anna bly bestaan het, al beskik ons oor geen dokumentasie vir enige verdere afleidings nie. Dat Langenhoven terdeë bewus was van sy drankprobleem en sleg daaroor gevoel het, blyk naas sy briewe aan Vroutjie ook uit sy latere gepubliseerde werk. In ‘Die onredelikheid van ons onmatigheid’ in Ons weg deur die wêreld skryf hy oor die man wie se wellus sy afgod is, in so 'n mate dat hy sy siel opoffer om sy liggaam te bevredig en albei onder sy voete vertrap. Hy verbeur ‘sy wêreldsgoed, sy huislike geluk, | |
[pagina 216]
| |
sy vriendskap, sy stand in die maatskappy, sy reputasie, sy eer en karakter, sy sede en godsdiens, sy geluk, sy verstand en siel en liggaam.’Ga naar eind26 Daarteenoor blyk uit Langenhoven se werk telkens sy hoë verering van die vrou, onder meer in stukke soos ‘Die betoning van ons eerbied’ en ‘Die waardering van ons eggenote’ in die tweede deel van Ons weg deur die wêreld. In laasgenoemde essay praat Langenhoven oor die vrou se opoffering en die feit dat sy met ‘ál die foutjies en houdinkies’ van haar man opgeskeep sit, maar hulle tog lief het ‘as onafskeibare trekke wat help om die beminde geheel te vorm’.Ga naar eind27 En, so sluit hy af, ‘om díe liefde, wat jou nie net kan verdra nie (al is daar soveel rede vir die teenoorgestelde) maar jou op haar hart dra, en in haar hart, en in die binneste van haar siel; om díe liefde, o man, wat jou uiterste verdienste oneindig oortref: om díe liefde, waardeer jou vrou!’Ga naar eind28 'n Mens kan geredelik aanneem dat hierdie woorde van waardering in sy persoonlike lewe op Vroutjie van toepassing was. Naas Vroutjie het Langenhoven se liefde uitgegaan na Engela, hul enigste kind en die appel van sy oog. Sy het grootgeword in 'n huishouding met groot dogters by wie sy nie altyd gelukkig was nie, al was daar 'n hegte band tussen haar en die veel ouer Anna. In die rusies wat daar dikwels was, het haar vader altyd haar kant gekies. Sy was baie geheg aan hom, het haar aan hom geknoop en het 'n verering vir hom gehad wat aan die byna-tragiese gegrens het. Die Van Velden-kinders was van mening dat Engela - vir wie hulle altyd Marguerite genoem het - tot in die afgrond toe bederf word en, waarskynlik tereg, dat Langenhoven haar voortrek. Dikwels het Langenhoven met haar oorgery na Ladismith om by haar grootouers oor te bly - besoeke wat sy baie geniet het, omdat haar oupa en ouma liewe mense was en 'n groot ophef van haar gemaak het. Dan het Langenhoven met die perdekar gery, op die Huisrivierpas stilgehou en vir hulle koffie gemaak. Tydens een van die besoeke het Engela 'n blindedermaanval gekry en ontsettende pyn verduur. In aller haas is hulle per perdekar terug Oudtshoorn toe om Engela in die hospitaal te sit, maar die blindederm het gebars. Sy het buikvliesontsteking en toe harsingvliesontsteking ontwikkel en daar is vir haar lewe gevrees. Langenhoven was radeloos. Wanneer hy in 1914 in sy beroemde rede ‘Afrikaans as voertaal’ die verskil tussen die Engelse ‘child’, Latynse ‘liber’ en Afrikaanse ‘kind’ uiteensit, steun sy formulering op sy eie ervaring: ‘Maar eers in my latere lewe, toe ek my eie kind op my skouer gedra en in my arms op | |
[pagina 217]
| |
en neer gedans het - ja, en toe ek voor die sponde gestaan het en die dokter sy hoof moes skud en vir my fluister: “Ek vrees daar is geen hoop nie” - toe eers het ek werklik in my binneste siel gevoel wat ek tevore in my hoof reeds wis: die eintlike betekenis, dieper as die logiese definisie, van die woord kind.’Ga naar eind29 En wanneer hy in Herrie op die óú tremspóór van 'n kind se doodstryd praat, kan dit die siekte van Engela as naswewende beeld hê: ‘Daar was 'n tyd, vér agteruit, in die jare wat nou verlore is, toe 'n agtjarige dogtertjie met die dood geworstel het. Saam het hulle toe in die gebed geworstel dat die Here hulle enigste kleinood tog moes ontsien.’Ga naar eind30 Engela het herstel, maar sy was in 'n verswakte toestand. Na so 'n ernstige siekte is die pasiënt nie toegelaat om hard te werk nie en Engela het dan ook, ten spyte van haar intelligensie, op skool nie goed gepresteer nie. Later is sy na Bloemhof op Stellenbosch, waar van die onderwyseresse werklik 'n terreur gevoer het, in so 'n mate dat daar later onmin tussen hulle en Langenhoven was. As gevolg hiervan het sy nooit die matriekeksamen afgelê nie. Op alle maniere is sy gespaar en as enigste kind geweldig verwen, sodat die Van Veldens smalend na haar as ‘delicate’, ‘spoiled’ en ‘childish in her attitude’ verwys het. Na skool het Langenhoven daarin geslaag om haar by die Universiteit van Kaapstad te laat klasloop. Toe die professor in Nederlands maande lank sy eerstejaarstudente met Vondel verveel het, was ook dít verby. Onder haar vader se invloed was Engela nooit juis lief vir Nederlands nie en die maande se ge-Vondel was die laaste nekslag. Tog het sy, sonder om goed ingelig te wees, 'n wonderlik fyn aanvoeling vir die literatuur gehad en kon sy baie goed oordeel. Sy het 'n lewendige belangstelling in die drama gehad en Langenhoven het haar betrek by sy opvoerings en by die voordrag van gedigte. Toe sy jonk was, wou sy bitter graag toneelspeelster word, maar Langenhoven het opgesien teen die rondtrekkery, onbestendigheid en twyfelagtige moraliteit wat daar met so 'n loopbaan op sy dogter sou wag en wou dit nie toelaat nie. Van haar briewe getuig van 'n besonder fyn taalaanleg en is soms klein juweeltjies. Later van jare het sy 'n boek vol geskriffies gehad: klein storietjies, gediggies en die aanloop tot 'n drama.Ga naar eind31 Sommige van dié dinge het 'n besondere bekoring.Ga naar eind32 Engela kon op die gebied van die voordrag en veral die kindervers wel iets gelewer het, maar die geestelike energie en deurdrywing daarvoor het ontbreek. In teenstelling tot haar vader se latere gedrewenheid was sy 'n vrou sonder | |
[pagina 218]
| |
'n missie in die wêreld. Waarskynlik is sy vroeg in haar lewe ernstig geknak deur die siekte wat sy gehad het. Sonder daardie teenslag sou sy waarskynlik 'n heeltemal ander tipe mens gewees het. Die gevolg van Engela se siekte was dat Langenhoven nog meer beskermend as vroeër teenoor haar opgetree het, tot ergernis van die Van Velden-kinders. Daarby was die latere verloop van die twee jongste Van Velden-kinders se lewens vir Vroutjie 'n groot bron van kommer en verdriet. Antoinette, Vroutjie se derde dogter, was besonder dramaties aangelê en 'n skilderagtige persoonlikheid. Sy was getroud met Moritz Lilienfeld, 'n prokureur op Oudtshoorn, maar in 'n stadium het sy as assistente gaan werk by Wilhelm Leuner, 'n tandarts op die dorp. Leuner en sy hulpdame moes heelwat vir werk in die distrik rondgaan en 'n verhouding het tussen hulle ontwikkel. Leuner se vrou het kanker gehad en na 'n borsoperasie was sy 'n invalide en heeltemal inmekaar getrek. Sy het weggekwyn en ná haar dood is die storie versprei dat Leuner haar in die laaste weke van haar siekte opsetlik verwaarloos het om haar dood te verhaas. Op 'n dag het hy gaan perdry; toe hy terugkom, was sy reeds oorlede. Die verhouding tussen hom en Antoinette het voortgegaan. Na 'n dramatiese konfrontasie is die Lilienfelds geskei en het sy met Leuner getrou. Die hele geskiedenis en die geskinder wat daarmee gepaard gegaan het, was vir Vroutjie 'n traumatiese belewenis. 'n Nog groter slag vir haar was die dood van haar seun Cornelis Johannes Hugo van Velden, wat in 1892 gebore is. Na sy skoolopleiding was Hugo prokureursklerk op Clanwilliam en het hy hom as prokureur gekwalifiseer. Op 28 Augustus 1918 is hy op 'n skip saam met ‘Expeditionary Forces’ van Nieu-Seeland oorsee om as soldaat in die Eerste Wêreldoorlog te dien. In 'n brief aan sy suster Anna wat hy op 6 September 1918 op die skip skryf, sê hy: ‘I am the only Dutchman on board although a couple of the other South Africans can speak the Taal.’ Volgens wat Engela later vertel het, was hy ongeneë om aan te sluit, maar hy is daartoe verplig deur sy Engelsgesinde familie en druk uit die sosiale kringe waarin hy beweeg het.Ga naar eind33 Dit is onseker of hy lid van die Nieu-Seelandse mag, die Britse leër of die Suid-Afrikaanse leër was, maar hy het aan gevegte in Frankryk deelgeneem. Ná die oorlog, wat in elk geval teen die tyd van sy vertrek byna verby was, het hy in Brittanje gebly, waar hy op 5 Februarie 1919 met Delia Rosamond Ford in die huwelik bevestig is. Vyf en veertig dae later, op 22 Maart 1919,Ga naar eind34 | |
[pagina 219]
| |
sterf Hugo van Velden op die ouderdom van sewe en twintig jaar. Op die ‘entry of death’ word aangedui dat hy dood is as gevolg van 'n ‘gunshot’ in die Regent Palace Hotel, ‘self-inflicted, suicide, unsound mind’, laasgenoemde die gewone bevinding na 'n selfmoord, wat destyds iets ergers as moord was. Met die ontvangs van die nuus van Allan Pocock wou Langenhoven, in daardie stadium saam met Vroutjie in Kaapstad vir die sitting van die Provinsiale Raad, die mededeling van die selfmoord nie aanvaar nie. Hy het daarop aangedring dat hulle die slotsom van die lykskouer moet betwis. ‘The more I think about the cable you communicated to me’, skryf hy op 12 April 1919 aan Pocock in 'n brief wat met sy veelwoordigheid 'n sekere opgejaagdheid openbaar, ‘the more utterly convinced I am that the verdict of the coroner is wrong beyond all shadow of possibility. I might as well never believe in anybody's honesty or cleanness in all my life again as to believe Hugo capable of such an act....Nobody need even have known Hugo from his childhood, as I knew him, to be certain beyond all shadow of doubt that he was constitutionally and temperamentally as incapable of suicide as he was mentally too sane and sound to become deranged unless he was dragged into insanity which may or may not be equally unlikely. His whole character is a protest against the foul slur that has been cast upon him; and if now that his lips are sealed in death and he cannot speak for himself I were, on whatever circumstantial appearances or testimony of strangers, to think him guilty of such a thing I should be doing as much violence to my own self-respect as wrong to his memory. I leave out of reckoning even the absence of what could have been an adequate motive to another of less stable character. I know nothing about the true facts of course, but that is no reason for accepting the one explanation which I know to be untrue. Even if, as the years pass, the mystery is never cleared up to others - to me there will never be a mystery beyond this that I do not know whether foul play or accident was the cause of his death. A perusal of the inquest records may help me to decide between these two last alternatives. I am at any rate certain as I am of my own existence, that the first must be eliminated. It is simply grotesque.’Ga naar eind35 Hy versoek Pocock ten slotte om 'n Oudtshoornse prokureur opdrag te gee om die saak verder te ondersoek ten einde vas te stel of Hugo se dood 'n ongeluk of 'n misdaad was. Daar was egter geen twyfel dat die Britse lykskouer se bevinding | |
[pagina 220]
| |
korrek was nie. Verdere navraag het trouens die onaangename agtergrond vir die selfmoord aan die lig gebring. Volgens sy weduwee, Delia Rosamond Ford, se inligting aan die familie het die nadoodse ondersoek aangetoon dat Hugo aan 'n geslagsiekte, vermoedelik sifilis, gely het. Klaarblyklik het hy hierdie siekte, waarskynlik in 'n onbesonne oomblik van uitgelatenheid, aan die oorlogsfront opgedoen en het die verskyning van die eerste eksterne simptome met sy huwelik saamgeval. Dit het tot impotensie gelei en die seksdaad onmoontlik gemaak. Vir iemand soos Hugo, volgens alle getuienis 'n ernstige jongman met 'n sterk godsdienssin, was so 'n toestand ondraaglik. Dit het hom tot raserny gedryf en was die regstreekse oorsaak van sy selfmoord. Vir sy familie was dit 'n ontsettende slag. Dit het diep ingegryp in Vroutjie se lewe en Langenhoven heeltemal oorstuur, soos 'n mens kan aflei uit sy brief aan Pocock waarin hy, byna wanhopig, die logika van die regsgeleerde aanwend in 'n poging om nie die verskriklike waarheid te aanvaar nie. Volgens oorlewering van die Van Veldens het Hugo se vrou na sy dood Suid-Afrika toe gekom, sy boedel opgeëis en onmiddellik weer na Brittanje teruggekeer. Vir hulle was Delia 'n uiters wêreldse vrou wat met haar swaar grimering en lang sigaret in 'n koker die familie nie beïndruk het nie. Hulle het, sonder enige gronde hoegenaamd, vermoed dat Hugo die geslagsiekte by haar opgedoen het. Om tot die ekstreme simptome te ontwikkel wat Hugo gehad het, vereis egter 'n langer inkubasieperiode as wat hulle mekaar kon geken het. Daarby was sy met 'n prokureur as vader uit 'n goeie familie en beslis nie 'n goedkoop vrou nie. Buitendien getuig 'n brief van 4 Junie 1919, waarvan die egtheid nie betwyfel kan word nie, van 'n vrou wat haar man intens liefgehad het en wat absoluut gebroke was na sy skokkende dood. ‘If only my darling could have realised’, skryf sy aan Anna van Velden, in daardie stadium in Skotland op besoek, ‘that together with the help of our love, we could have faced the consequences of his weakness and no one but ourselves have even known the truth, tho' God knows, it would have been a ghastly ordeal for us both, to be husband and wife yet as friends only for 3 long years,Ga naar eind36 but that would have been as nothing compared to the present horror. Wasn't he able to realise that if he had infected me with this most awful thing, (The doctors are practically satisfied that I have escaped) that I needed his tenderness and protection more than ever to help me through.’ | |
[pagina 221]
| |
Op die steen wat Delia in die Kendall Green Cemetery op Hugo se graf laat oprig het, staan die volgende woorde: ‘In tender memory of my darling husband flight cadet Hugo van Velden who died March 22nd 1919 aged 27 years. R.I.P.’ Dit word gevolg deur 'n kwatryn uit FitzGerald se vertaling van die Rubáiyát van Omar Khayyám - skrynend-ironies, omdat Hugo se stiefvader dit enkele jare later in Afrikaans sou vertaal: There was a door to which I found no key
There was a veil past which I could not see
Some little talk awhile of me and thee
There seem'd - and then no more of thee and me.Ga naar eind37
|
|