Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 128]
| |
Hoofstuk VII
| |
[pagina 129]
| |
Malherbe op 23 Mei 1917 om saam met ander bekende oudstudente mee te werk aan 'n gedenkalbum en in 'n bydrae sy herinneringe op skrif te stel. In sy ongedateerde antwoord waardeer Langenhoven dié uitnodiging, ‘maar regtigwaar’, so skryf hy, ‘ik kan mij nie die geringste insidentjie herinner wat dit die moeite wêrd sou wees om als studente-geskiedenis of als illustrasie van studente-lewe te boek te stel nie’. Al wat hy oorgehou het, so voeg hy by, is algemene indrukke wat nie van dié van ander studente sou verskil nie. Volgens die skamele gegewens in U dienswillige dienaar en enkele verspreide stukke elders was Langenhoven in 1893 vir Engels, Nederlands, Latyn, Grieks, Logika en Sielkunde ingeskryf. Met die uitsondering van Grieks en Sielkunde, waarin hy géén eksamen afgelê het nie, was sy uitslag in die meeste van dié vakke ‘moderately good’. Tog kon hy in Nederlands 76,4% behaal, 'n punt wat egter aansienlik laer was as dié van sy skooljare. Hoe oninspirerend die onderrig moet gewees het, blyk uit die feit dat Langenhoven in nie een enkele geval die name van sy professore noem nie. Engels, Logika en Sielkunde is indertyd gedoseer deur Thomas Walker en John Murray; Grieks en Latyn deur A. Macdonald en John Murray; en Nederlands deur W.J. Viljoen. Viljoen sou later 'n belangrike rol in verband met die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling vir Suid-Afrika speel.Ga naar eind3 Waarskynlik was die literatuuronderrig in Engels en Hollands histories gerig, want in U dienswillige dienaar praat Langenhoven van al die ‘óú datums (en daardie) kinderagtige ou skrywers...(wat hom) tot die dood toe verveel’Ga naar eind4 het. Die Nederlandse kursus het, volgens die kalender van die University of the Cape of Good Hope, naas Vondel, Hooft en Huygens, op die agtiende- en vroeë negentiende-eeuse literatuur met stereotiepe skrywers soos Feith, Bilderdijk en Tollens gekonsentreer het, met enkele werke van De Génestet, Staring en Beets daarby. Dit is onwaarskynlik dat die Tagtigers reeds in die negentigerjare van die vorige eeu op Stellenbosch gedoseer is. Later sou Langenhoven wel met hulle werk kennis maak, maar afwysend daarop reageer en dit as ‘nuwe malkunsmodes’Ga naar eind5 tipeer. 'n Skrywer soos hy, wat daarop ingestel was om sy volk te leer lees en daarvoor gedeeltelik didakties ingestel moes wees, sou weinig aan Willem Kloos en sy tydgenote se tipe indiwidualisme gehad het. Die enigste Nederlandse skrywer wat Langenhoven in dié tyd beïndruk en vir wie hy later telkens herlees het, was Multatuli, veral omdat ‘sy treffende styl en noukeurig-netjiese | |
[pagina 130]
| |
uitdrukkingsvorm vir my 'n intellektuele genot verskaf’.Ga naar eind6 En na alle waarskynlikheid was 'n destydse moderne skrywer soos Multatuli in daardie dae met die professore se historiese ingesteldheid nie op die voorgeskrewe lys nie, 'n voordeel vir Langenhoven, wat hom juis verdiep het in onderwerpe wat nié aan hom opgedring is nie. Wat Engels betref, was die poësie van skrywers soos Dryden en Pope waarskynlik vir hom onuitstaanbaar. Hy het weinig van die klasse bygewoon, verder net ‘(r)ondgelê en novels gelees en my verveel’.Ga naar eind7 As 'n mens uit Langenhoven se vroeë ongepubliseerde Engelse prosa 'n afleiding kan maak, moet hierdie ‘novels’ werke van skrywers soos sir Walter Scott, Charles Dickens en ander ‘Victorians’ ingesluit het. Scott se Ivanhoe het Frylinck trouens reeds met hom op Ladismith behandel. Dat sy leeswerk darem nie net tot ‘novels’ beperk kon gewees het nie, word duidelik uit die groot verwysingsveld in sy latere geskrifte. Hy moet reeds in sy Stellenbosse jare, waar 'n akademiese biblioteek tot sy beskikking was, kennis gemaak het met 'n denker soos Darwin en met die werk van H.G. Wells, wat in sy opstelle en lesings neerslag vind. Die afwesigheid van enige eie dryfkrag en van stimulerende leermeesters soos hy op skool gehad het, was daarvoor verantwoordelik dat Langenhoven ná sy eerste jaar glad nie terug is Stellenbosch toe nie. Indertyd kon 'n student, as hy wou, net inskryf vir die eksamen wat deur die University of the Cape of Good Hope afgeneem is; bywoning van klasse was nie 'n noodsaak nie. In 1894 het Langenhoven dan ook die hele jaar lank op die plaas ‘rondgelê om dáár te leer of te maak nes iemand wat leer’.Ga naar eind8 Op dié wyse kon hy wel op 'n manier met Nederlands en Engels voortgaan, maar die vraestel in Grieks was vir hom 'n aanduiding dat hy dit sonder hulp nie sou baasraak nie. Daarom is hy in 1895 weer terug Stellenbosch toe, al het hy steeds verseg om die voorgeskrewe curricula te volg en hom by voorkeur op die aangename gedeeltes van sy vakke toegelê. Hy het byvoorbeeld dié dele van Logika en Sielkunde uitgesoek wat vir hom plesierig was en veral versot geraak op John Stuart Mill se beroemde ‘groot verhandeling’.Ga naar eind9 Of Langenhoven hiermee die tweedelige A system of logic (1843) of die Principles of political economy (1848) bedoel, blyk nie uit U dienswillige dienaar nie, maar dit is insiggewend dat dit juis John Stuart Mill was wat hom in hierdie tyd gefassineer het. Mill was die laaste groot sistematikus van die klassieke teorieë op ekonomiese terrein en 'n selferken- | |
[pagina 131]
| |
de agnostikus wat oortuig was dat die goddelike nie langs die weg van die wetenskap benader kon word nie. Om die probleem met Grieks, wat hy reeds op Riversdal as vak gehad het, te bowe te kom, het Langenhoven ook weer op 'n onortodokse manier te werk gegaan. Hy het vir hom 'n Griekse Nuwe Testament aangeskaf en begin lees, iets wat vir hom maklik was omdat hy die Hollandse Nuwe Testament feitlik woordeliks geken het. Daarna het hy Homeros met behulp van 'n ‘key’ en later daarsonder begin lees en op dieselfde wyse ook Xenophon en Plato gepak. Die gevolg hiervan was dat hy later deur die Griekse letterkunde meegevoer is en die onvoorbereide gedeeltes in die eksamen - die sogenaamde ‘unseen paper’ - met die grootste gemak kon beantwoord. Om hom met die voorbereiding te help, het hy voor die eksamen ‘'n nooientjie wat (hom) baie goedgesind was’,Ga naar eind10 gevra om die ooreenkomstige Engelse vertalings in haar tuin onder 'n vyeboom te lees terwyl hy die oorspronklike volg. Saans het hy dan die inleidings en annotasies bestudeer, met die gevolg dat hy in die eksamen niks te vrese gehad het nie. Op dié wyse kon hy wel deurkom, maar betreklik gou weer sy ‘solder (skoonmaak)...om plek (in te ruim) vir wat nuttiger was’.Ga naar eind11 Hoewel hy nie die naam van die ‘nooientjie’ noem nie, was die lesse onder die vyeboom vir hom in later jare sy enigste ‘soete herinnering’Ga naar eind12 aan die studie van Grieks, al het hy tog ook 'n waardering vir die letterkunde van dié taal ontwikkel. Tydens sy studietyd op Stellenbosch het Langenhoven in The Home in die Tertia-afdeling geloseer. Aan sport het hy nie deelgeneem nie, maar hy het hom op 'n dag laat oorhaal om by die kadetkorps aan te sluit. Van die militêre tug en dril was hy egter so gou moeg dat hy gaan vra het om na die orkes oorgeplaas te word. Enkele middae het hy in 'n buitekamertjie in Tertia op 'n ontsaglike groot ‘blaasding’ geoefen, maar die proteste van sy maats en bure was só heftig dat hy die instrument weer gaan teruggee het.Ga naar eind13 By die musiekprofessor, F.W. Jannasch, het hy darem ‘the course of instruction in the Tonic Sol Fah Singing’ in April 1895 voltooi. Alhoewel Langenhoven meen dat sy tyd op Stellenbosch vir sy latere roeping van haas geen betekenis was nie, het die studie van Logika en Sielkunde hom tog ‘'n mate van wetenskaplike onderleg verskaf wat (hy) anders heeltemal sou gemis het’.Ga naar eind14 Daarby was die kennismaking met Homeros vir hom 'n blywende besit, veel meer as die literatuur wat | |
[pagina 132]
| |
hy in die kursusse oor die Engelse en die Nederlandse letterkunde leer ken het.Ga naar eind15 | |
IILangenhoven het tydens sy studiejare op Stellenbosch, soos op Riversdal, 'n aktiewe aandeel gehad aan die debatsvereniging. Uit dié tydvak dateer dan ook die eerste tekste van hom wat bewaar gebly het: 'n prosastuk en 'n rympie. Dat hierdie rympie in Afrikaans was en nie Nederlands of Engels nie, is 'n aanduiding dat Langenhoven vir sy speelse uitinge in dié jare reeds sy eie en sy medestudente se spreektaal wou aanwend, al het hy in dié stadium nog geen gedagte gehad om dié taal vir ernstige werk te gebruik of tot 'n volwaardige skryftaal te verfyn nie. Volgens 'n skriftelike mededeling van J.H. Lange van Riversdal, wat die rympie op 14 Augustus 1958 aan Sarah Goldblatt geskenk het, is dit in 1891 deur Langenhoven gemaak en slaan dit op sy skoolvriend Willie Louw, wat so 'n bietjie gehakkel het. Die jaartal 1891 moet egter foutief wees, want in die derde strofe word verwys na ‘Mrs. Collins’ wat in die negentigerjare van die negentiende eeu 'n losieshuis op Stellenbosch gehad het. 'n Mens moet dus hieruit aflei dat die rympie op die vroegste in 1893 en nie later nie as die eerste helfte van 1895 geskryf is, die tyd toe Langenhoven as inwonende student op Stellenbosch was. Langenhoven en Willie Louw was toe albei kosgangers in The Home. Langenhoven het die rympie teen 'n akkerboom vasgespyker, iets wat byna tot sy skorsing uit The Home gelei het en wat 'n mens 'n aanduiding gee van hoe onnutsig hy destyds reeds kon wees. Die teks lui as volg: Ek ken 'n kleine mannetjie
Sij naam is Willie Louw.
Vlakaap is sij vannetjie
En Leentjie is sij vrouw.
Hij is 'n Grieks vertaler
Uit ‘Keys’ van ‘Kelley Rooi’.
Hy hakkel vir 'n daler
En doet dit ok net mooi.
| |
[pagina 133]
| |
Hij kots bij Mrs. Collins
'n Wavrag op die stoep
En met 'n vers van Tollens
Voeg hij daarbij 'n poep.Ga naar eind16
Uit die joernaal van die Unie-Debatsvereniging is dit duidelik dat Langenhoven meermale aan debatte deelgeneem het. As byna twintigjarige eerstejaarstudent lewer hy op 11 Maart 1893 'n rede oor die onderwerp ‘What shall be the future language of South Africa?’ Uit hierdie rede is in die verlede deur historici dikwels 'n spesifieke sin aangehaal om te illustreer hoe pro-Engels Langenhoven was en hoe min hy destyds van Afrikaans gedink het. ‘For intellectual training Africander Dutch offers no scope’, so lui die sin, ‘for it has no literature, and a very poor vocabulary.’ In U dienswillige dienaar verwys Langenhoven self na die rede as ‘my berugte destydse Stellenbosse anti-Nederlandse stuk in my studentedae’.Ga naar eind17 Hoe sensitief hy later oor dié stuk was, blyk uit sy enigsins wrokkige toestemming dat die stuk in 1926 in 'n gedenkboek van die Unie-Debatsvereniging opgeneem mag word.Ga naar eind18 Hy wou egter nie 'n uitnodiging aanvaar om 'n dinee ter ere van die publikasie op Stellenbosch by te woon en by dié geleentheid 'n toespraak te hou nie. Volgens hom sou die studente dan met dié publikasie ou koeie uit die sloot gaan haal en sy aansien as voorvegter vir Afrikaans benadeel het.Ga naar eind19 Toe 'n student Langenhoven op 19 Maart 1927 aan sy uitspraak van 1893 herinner, was sy antwoord dat hy skaam voel oor sy standpunt van destyds, maar dat ‘die skaamte...versag (word) deur 'n mate van hoogmoed. In daardie ou tyd was daar baie ander mense wat dinge gesê het, en hulle woorde is vergeet en myne is onthou. En van toe af tot nou het ek verder dinge gesê, en ander mense het ook aangehou om dinge te sê; en wat hulle gesê het sal vergeet word en myne sal onthou bly. Buitendien, my opvattings verander van tyd tot tyd; my gees bly gedurig besig om verder te ontwikkel. Daar is mense wie s'n stilstaan.’Ga naar eind20 Dat Langenhoven hom in 1893 teen Nederlands en ten gunste van Engels uitgespreek het, is ongetwyfeld waar, maar die geïsoleerde aanhaling van 'n enkele sinnetjie uit die rede gee 'n vertekende beeld van sy standpunt en laat nie reg geskied aan die betoog in sy geheel nie. Om te illustreer hoe Langenhoven tot dié uitspraak kom, is dit dus nodig om vollediger aan te haal uit hierdie rede, wat in sy logiese opbou 'n merkwaardige prestasie vir 'n eerstejaarstudent was. | |
[pagina 134]
| |
Langenhoven begin deur te sê dat die geboorte van die Taalbond 'r bewys is van die sterk vastrapplek (‘the firm footing’) wat Engels reeds in Suid-Afrika verkry het. Dat daar van die kant van die Engelse bevolkingsgroep geen teenbeweging gekom het nie, is 'n aanduiding van vertroue en superioriteit. Die hoofargument van die Taalbond, naamlik dat Hollands die taal van ons voorvaders was en dat ons dit om daardie rede weer moet aanvaar, is hulle slegste argument. As Nederlands sy posisie in gunstige omstandighede verloor het, is dit onwaarskynlik dat hy dit in ongunstige omstandighede sal herwin en behou. Selfs al het Hollands voortgegaan om die lewende taal van Afrikaners te bly, sou ons dit in belang van ons land moes verwerp en Engels moes aanvaar. Engels is 'n universele taal met 'n ryk literatuur, die kommersiële medium van die hele wêreld, en behoort aan ons as Britse onderdane, terwyl Nederlands skaars uitsluitend deur 'n enkele gesin gepraat word. Feitlik elke Hollander ken ten minste twee of drie tale en sommige selfs meer. ‘To a stranger’, sê Langenhoven, ‘English is more helpful in Holland than Dutch is in any country outside of Holland, excepting the few Dutch colonies and South Africa.’ Daarom sal dit 'n onreg teenoor ons land wees om 'n ‘worthless and insignificant language’ op ons af te forseer, veral aangesien die jonger generasie Engels meer waardeer as Nederlands. Die derde mededinger op taalvlak in die land is ‘Africander Dutch’, veral gepropageer deur sekere Paarliete ‘whose love for the language in which they have been brought up makes one entertain the suspicion that their feelings have been better attended to than their education’. Hy wys ook op die enigsins verdagte loopbaan van S.J. du Toit, die ‘ringleader’, wat die beroep van predikant vir dié van 'n goudspekulant verruil het, net om nou die rol van 'n profeet in verband met die toekoms van ‘Africander Dutch’ te speel. Die vraag of ‘Africander Dutch’ 'n onafhanklike taal of 'n dialek is, maak geen verskil wat die beantwoording van die vraag oor sy toekomstige status betref nie. ‘A good dialect’, so sê Langenhoven in die belangrikste deel van sy toespraak, ‘is better than a bad language; and the qualifications of Africander Dutch for the position of national language will depend, not upon its greater or lesser individuality, but upon its intrinsic qualities, and upon circumstances. Now, would these justify the adoption of Africander Dutch as a national language? For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has no | |
[pagina 135]
| |
literature, and a very poor vocabulary. For internal intercourse and as a trade-medium, English is superior to it; and for foreign trade, it stands nowhere.’ Dat ‘Africander Dutch’ 'n eenvoudiger grammatika het as Nederlands, bring mee dat dit nader aan Engels is. ‘It has dropped all unnecessary inflections’, sê Langenhoven, ‘and anyone who will take the trouble of carefully analysing the characteristics of the three languages, will observe the similarity in grammatical structure between English and Africander Dutch, and the dissimilarity of these two to Dutch.’ Daarom kan die gemiddelde persoon wat ‘Africander Dutch’ as moedertaal het, Engels makliker as Nederlands aanleer. Ten slotte sê Langenhoven dat die doel van sy rede slegs is om gedagtes oor sy onderwerp te stimuleer, nie om een van die drie groepe aan te val of te bevorder nie. Tog meen hy dat Engels as taal kragtig genoeg is om sy eie stryd te stry en sy eie oorwinning te behaal. As 'n mens hierdie vroeë uitsprake van Langenhoven oor die toekomstige taalsituasie bekyk, is dit opvallend dat hy reeds in dié stadium geen toekoms vir Nederlands in Suid-Afrika sien nie, ten spyte van die feit dat die meeste taalstryders van destyds met organisasies soos die Taalbond Nederlands wou bevorder. Alhoewel Afrikaans indertyd tot 'n klein Paarlse beweging beperk was en daar meer as een skaduwee oor dié mense se ‘education’ en die bokkespronge van S.J. du Toit as ‘ringleader’ geval het, gee Langenhoven tog voorkeur aan dié taal bo Nederlands. Die basis vir hierdie voorkeur lê in die grammatikale eenvoud, 'n argument wat reeds in die kiem die kern vir sy latere stryd in belang van Afrikaans bevat. In hierdie stadium was die literêre, leksikologiese en ekonomies-praktiese agterstand van Afrikaans egter vir Langenhoven nog te oorweldigend om enige lewensvatbaarheid vir dié jong taal te sien. In dié konteks moet sy dikwels gewraakte uitspraak oor Afrikaans dan ook bekyk word. Jare later sou Langenhoven in U dienswillige dienaar sê sy ‘dommigheid’ was indertyd dat hy vir Afrikaans as skryftaal van Suid-Afrika geen toekoms kon voorsien nie en dat hy in dié oortuiging die meerderheid aan sy kant gehad het. ‘'n Verder dommigheid’, so gaan hy egter voort, ‘wat ek nie met hulle gedeel het nie, was dat Nederlands die gebruikstaal van Hollandssprekende Suid-Afrika sou word. En daarom het daar vir my geen keuse oorgebly nie as Engels. En vandag nog, verklaar ek uitdruklik, as Afrikaans ongeskrewe en onerkend gebly | |
[pagina 136]
| |
het, soos daardie meerderes hom wou laat bly, sou ek Engels bo Nederlands kies om een taal vir alle doeleindes te kan hê. Dit was moontlik vir my om Engelssprekend te word; dit was onmoontlik om Nederlandssprekend te word.’Ga naar eind21 | |
IIIDat Langenhoven sy termyn as residerende student op Stellenbosch in 1894 onderbreek en 'n jaar lank op die plaas gaan ‘rondlê’ het om ‘te maak nes iemand wat leer’, dui op 'n betreklik ernstige mate van onstabiliteit, al sê hy dat hy op Stellenbosch, ten spyte van die verveling, ‘darem tog...nie kwaad gedoen’Ga naar eind22 het nie. 'n Duidelike missie in sy lewe het egter ontbreek. Hierdie faktore wat 'n definitiewe invloed op Langenhoven se gemoedstoestand en sy optrede in dié jare gehad het, was reeds tydens sy Riversdalse skooljare aanwesig, maar het in sy termyn as student vererger. In U dienswillige dienaar verswyg hy egter 'n belangrike saak wat vir dié fase in sy lewe medeverantwoordelik kon gewees het. Reeds as hoërskoolseun was Langenhoven lief vir meisies en het hy daarvan gehou om tydens vakansies in die wêreld van Ladismith en Prins Albert partytjies op die plase by te woon en tot hanekraai te dans. In die Kouveld naby die Klein-Swartberge het Helena Basson gewoon. Langenhoven het haar goed geken en dikwels tydens sy hoërskooljare daar gaan kuier. Dan is daar saam met ander jongmense gebaljaar, klavier gespeel en paradyslik gedraai en geswaai. Langenhoven was die siel van dié partytjies, baie energiek en onderhoudend en heeltemal anders as die enigsins teruggetrokke skoolseun van Ladismith en Riversdal. Alhoewel steeds klein van gestalte, was hy met sy snor, die magnolia in sy lapel en sy vele kwinkslae 'n romantiese figuur. Hy het al wat mooi meisie was, gesoen en in die donker beetgekry. Dat al die plesier ook met die gebruik van 'n bietjie soetwyn of selfs iets sterkers gepaard sou gaan, spreek eintlik vanself. 'n Aanduiding van hierdie leefwyse en Langenhoven se beheptheid met meisies kry 'n mens in 'n brief aan Helena Basson wat op 27 Augustus 1892 geskryf is, dus kort na die voltooiing van sy skoolloopbaan op Riversdal, en toe hy maar negentien jaar oud was. In dié brief sê Langenhoven dat hy tot sy spyt nie as strooijonker by haar troue kan optree | |
[pagina 137]
| |
nie, omdat hy onhandig voel oor dié sake en bang is dat hy ‘blunders’ sal begaan. Tog sal hy die huwelik en die geselligheid daarná graag wil bywoon. Hy gaan voort: ‘Everybody is going to be married now except myself. In our district it amounts to be a perfect fever - what with the din and hustle of such disinteresting proceedings as ouwersvra, konsentskrijf, gebojeaansit, trouwkleerenmaak etc. etc. etc. The country is simply raging mad. Within a radius of a thousand miles there is not a girl that is unengaged whom one might flirt with - unless one can satisfy yourself with a darkie, which I unfortunately cannot. I should marry too, just to keep pace with fashion, but unluckily my sweetheart is only sixteen and I am not much older. So we have to wait a little longer. More's the pity.’Ga naar eind23 Hierdie laaste mededeling is niks meer as 'n blote grap nie, want aan die einde van die brief sê Langenhoven skielik hy het pas gehoor sy ‘sweetheart is dead’! Tog kan 'n mens die afleiding maak dat hy, so kort na sy matriekeksamen en nog voordat hy met sy Stellenbosse studie begin, met 'n bietjie jaloesie kyk na almal rondom hom wat gaan trou. Dat hy in hierdie Victoriaanse era in 'n behoudende plattelandse gemeenskap hoegenaamd die moontlikheid van 'n ‘darkie’ noem met wie hy hom kan ‘satisfy’, is miskien 'n enigsins misplaaste grap wat tog die wenkbroue van die ondersoekende leser 'n bietjie laat lig. Of daar wel 'n sestienjarige ‘sweetheart’ in Augustus 1892 was, weet 'n mens nie. Die speelse lughartigheid van die brief laat 'n mens egter vermoed dat die jeugdige Kerneels in hierdie stadium nog nie ernstige voornemens kon gehad het nie. In elk geval het hy ten tyde van die skryf van sy brief nog nie Helena de Vries, die niggie van Helena Basson, geken nie. Helena de Vries is gebore op 9 Desember 1872 te Mirtehof (toe nog Myrtle Grove) op Prins Albert. Sy was dus byna agt maande ouer as Kerneels en in Augustus 1892 reeds amper twintig jaar oud. Sy was die enigste kind van Abraham Hermanus en Helena (Lena) de Vries,Ga naar eind24 die dogter van welgestelde mense. Sy het alles gekry wat haar hart begeer en was 'n fyn opgevoede mens. As jong dogter was sy lewenslustig, lief vir perdry en tennis, iemand wat goed kon klavier speel en ook die skilderkuns beoefen het. Na skool is sy in 1892 vir verdere opleiding na die destydse Bloemhof Seminary op Stellenbosch vir 'n afrondingskursus in sang, klavier, skilder en ‘fyn maniere’. Daarna het sy agtereenvolgens onderwys gegee op Gideonshoop in die distrik Klaarstroom aan die | |
[pagina 138]
| |
Groot Karoo-kant van Meiringspoort, Nieu-Bethesda en Waterval laasgenoemde 'n plaas in die Prins Albert-distrik. Helena de Vries was baie geheg aan haar niggie Helena Basson van Ladismith. Saam was die twee by geleentheid, waarskynlik reeds in 1892, maar in elk geval nie later as 1893 nie, een aand op Ladismith by 'n Jongeliede-debatsvereniging. Daar het Helena de Vries en Kerneel mekaar leer ken en onmiddellik op mekaar verlief geraak. Hoewel definitiewe gegewens ontbreek, dui alles daarop dat Helena net een jaar op Stellenbosch was. Dit is dus onwaarskynlik dat sy die ‘nooientjie’ was wat hom met sy voorbereiding vir die eksamen in Grieks gehelp het Moontlik het sy in 1893 reeds op Gideonshoop onderwys gegee. Dat Kerneels dus in 1894 nie terug is na Stellenbosch toe nie en verkies het om met selfstudie op Hoeko voort te gaan, dui daarop dat Helena de Vries vir hom die groot trekpleister was en dat hy naby haar wou wees. Hulle verhouding het in dié tyd dan ook verdiep. Dikwels het hy oor die Swartbergpas of deur die Seweweekspoort gery om by haar te wees en op dié wyse dié gedeelte van die Groot Karoo goed leer ken, iets wat later duidelik uit sy werk sou blyk. As hy in die titelverhaal van Die wandelende geraamte (1930) skryf oor oom Dirk en sy dogter Carolina by wie hy dikwels in die Kouveld gekuier het en dat die ‘ou kêrel...so byna-byna (sy) skoonvader’Ga naar eind25 was, het die karakters Helena de Vries en haar vader as vae modelle. In dieselfde verhaal beskryf Langenhoven ook die pad deur die Seweweekspoort en ‘die pad van Laingsburg vandaan, Buffelsrivier af, Rooinek oor, en dan ál onder die Swartberg langes. Daardie streek word genoem die Kouveld, en wetlikwaar hy het nie sonder verdienste aan sy naam gekom nie. Meer as eenmaal, te perd of te kar op weg na die nooi toe, het die wind my daar gesny dat my murg hardevet was in my bene en my gesig blou soos 'n kaaiman s'n.’Ga naar eind26 In ‘Die spook van Vergeleë’ in dieselfde bundel beskryf Langenhoven die wêreld van die Groot Karoo, meer spesifiek Klaarstroom en sy omgewing, waar Helena op die plaas Gideonshoop skoolgehou het: ‘Om van Oudtshoorn af op Prins Albert te kom, wat skuinsweg aan die noordekant van die Grootswartberge lê, en aan die voet daarvan, kan jy reguit met die gruwelike steil Swartbergpas oorgaan, of jy kan sonder om swaar te klim 'n paar uur se ompad neem, die skilderagtige Meiringspoort deur. Anderkant kom jy in die poort uit op Klaarstroom, en dan hou jy links ál onder die berg langes oor 'n reeks heerlik-fraaie boereplase wat aan die riviertjie lê wat | |
[pagina 139]
| |
nes die tande van 'n kam uit een vir een van die bergklowe kom. Een van daardie klowe kom by 'n noue gangetjie uit sodat 'n mens in die riviertjie moet opry tussen honderde voet hoë regop rotswande aan weerskante. Maar oor 'n myl of so gaan die poort skielik oop, en binne in die hart van die gebergtes kom jy op 'n diep, byna donker vallei uit waar die son maar 'n paar uur in die dag tot onder skyn. Maar daar lê 'n boereplasie - ruimte vir meer as een is daar nie, en vir een grote ook nie - met bome en wingerd en saailande en 'n wit boerewoning onder donker rietdak, nie groot nie.’Ga naar eind27 Die liefde tussen Helena en Kerneels het van hulle eerste ontmoeting begin. Tydens vakansies by haar het sy vir hom klavier gespeel en het hy die raampies vir haar skilderye gemaak. Een van dié skilderye is 'n voorstelling van 'n seetoneel teen sonsondergang met 'n rivier. Onderaan het Kerneels geskryf: ‘The shades of night are falling fast upon a summer sea.’ As sy in Desember 1893 verjaar, stuur hy vir haar 'n verjaardagkaartjie. In 'n flambojante jeugdige skrif staan die volgende woorde daarop:
Miss H. de Vries
In 1894 gee hy die boek Naomi, or The last days of Jerusalem deur J.B. Webb aan haar,Ga naar eind29 'n godsdienstige werk uit die eerste helfte van die negentiende eeu en 'n geskenk wat daarop dui dat Helena 'n diep gelowige mens was. Dikwels het hulle dan ook, met haar voor die klavier, Sionsliedere saam gesing. Op 17 Maart 1894 skryf Kerneels aan Helena.Ga naar eind30 Hy begin deur te sê dat hy haar brief op 14 Maart ontvang het, terwyl dit reeds op 5 Maart gepos is. Dit het Ladismith op die twaalfde bereik, maar op die plaas het hulle nie 'n gereelde posaflewering nie en is hulle afhanklik van geleenthede vir die ontvangs van hulle briewe. Uit hierdie mededeling lei 'n mens af dat Kerneels die datumstempels op die brief baie noukeurig bestudeer het, 'n hebbelikheid wat ook later van jare telkens in sy korrespondensie met ander mense sou opduik en dikwels tot 'n ongeduld met die korrespondent of die posdiens sou lei. Dit is dus 'n karaktertrek wat reeds van jongs af by hom aanwesig was. | |
[pagina 140]
| |
Die brief word gerig aan ‘dear Helena’, onderteken as ‘Petite’ (sy bynaam as kind) en is soos die verjaardagkaartjie in 'n pragtige hand skrif geskryf. Dat hulle in hierdie stadium nog nie verloof was nie en sy blykbaar in 'n vorige brief voorgestel het dat hulle die streng formaliteite van die Victoriaanse era maar oorboord kan gooi, blyk uit sy vreugde ‘that you are willing to put aside the conventionality and stiffness that we have hitherto observed, and which seemed to me sadly out of place for I feel as if we had been intimate friends for ages instead of mere acqaintances, although it is perhaps cheeky of me to say it.’ Hy gaan voort: ‘Helena’ seems to me so pretty a name that I feel tempted to insert it in every sentence of my letters. - I have been called Petite ever since my childhood. At that age I was so sweet and pretty a little girl that some pet-name was felt to be necessary to express the admiration that all felt towards me. As I was very tiny for my age the nick-name Petite suited excellently. However as I grew older my beauty and smallness and other admirable qualities gradually faded away and at last disappeared never to return again. So the pet-name was found to be more and more inappropriate, fell into disuse and is now a thing of the past. But I did not think it quite fair that I should call you by your pretty Christian name and you should have to call me by the frightful and unendurable Cornelius which it is my misfortune to possess. Therefore I ventured to suggest to you the better-sounding Petite which would otherwise have been altogether lost. I should not speak so much about myself of course, but as you will be pleased to remember, you yourself asked me to enlighten you on this important point; so the fault is not exactly mine. Na hierdie uitweiding oor hul onderskeie name skryf Kerneels oor die baie reën wat hulle gehad het en dat die druiwe vroegtydig gepars word om verrotting te voorkom. Blykbaar was Helena in hierdie stadium nog sonder werk, want hy vra haar of sy van onderwys sou hou. Hy is bly sy het nie die private onderwyspos by Hanover aanvaar nie, want vaagweg onthou hy dié plek tydens 'n treinreis as 'n stasie veel verder as Prins Albert - ‘and if you went God knows when you might come back again, and I long so much to see you once more one day’. Dat hy | |
[pagina 141]
| |
met so 'n verwydering vrees dat hy haar kan verloor, blyk uit sy verwysing na twee teenstrydige spreekwoorde wat desnieteenstaande albei waar kan wees: ‘Absence makes the heart grow fonder’ en ‘out of sight out of mind’. Uit die brief blyk dit verder dat Kerneels in hierdie tyd heelwat Engelse romans soos Vanity fair, The luck of Barry Lyndon en Esmond van Thackeray en The mill on the floss en Adam Bede van Eliot lees. ‘You can never fancy’, so gaan hy voort, ‘what an unsatisfactory place Ladismith is for getting anything. I have a few very sterling books in my mind that I should like to get for you, but at Ladismith you might as well look for the Czar of Russia as for anything to give to a lady.’ As hy sy eksamen aan die einde van Junie in die dorp moet gaan aflê, sal hy probeer om van dié boeke vir haar in die hande te kry. Helena het pas 'n aangenome broer bygekry om te help grootmaak, 'n gebeurtenis wat Kerneels enersyds jaloers laat voel en die hoop laat uitspreek dat dié nuweling nie haar hart in so 'n mate sal steel ‘that there shall be no little corner left in it for a kind thought of others!’ Aan die ander kant is hy bly dat sy nou 'n nuwe verantwoordelikheid in die opbou van 'n jongman het, want ‘his character will shape itself according to the example you set him and according to the way in which you shall lead him step by step to a high regard for honour and virtue and a contempt of meanness and baseness’. Hy wens dat hy die voorreg gehad het om haar op haar ritte te perd te vergesel. Hy hoop sy het 'n veilige dier - ‘one that does not, as the Frenchman says, “kick you with one end, bite you with the other, and pitch you off with the middle”’. Voorts rig Kerneels 'n tipe versoek wat kenmerkend was van die Victoriaanse era en die tydgees met sy ‘keepsakes’ mooi openbaar: ‘If it is not asking too much, would you mind putting a leaflet or floweret or little bud in your letters for me now and then just to show me that there is no ill feeling?’ Hy sal ook graag, so gaan hy voort, 'n haarlok van haar wil ontvang. Toe sy by hom gekuier het en blykbaar toe sy aan die slaap was, sê hy verder, ‘I took one myself, but I should like to have a given, not a taken one. You are not so superstitious still, Helena, are you? that you will again refuse on the ground that it will cut friendship. And if it does cut friendship, I do not see how that need be so great an evil, provided that something else better than friendship is substituted for it.’ | |
[pagina 142]
| |
Hierdie uitspraak lei hom dan uiteindelik tot iets wat hy wou uitstel om persoonlik aan haar mee te deel en nie geskik is om vir die eerste keer in 'n brief gesê te word nie. ‘But God knows’, so gaan hy voort, ‘when I shall have the opportunity of seeing you again one day, and then it might be too late for all I know. It is this: I love you. I felt it when I saw you for the first time but I was not sure of my own heart, therefore I did not speak of it. After you left, it gradually forced itself upon me with greater and greater certainty; when I wrote to you first asking for a correspondence, I still thought it might be nothing more than friendship that I was mistaking for love. And I have all along corresponded as a friend, and considered your replies as from a friend to a friend. This letter is not a friend's but a lover's. Tell me, my dear Helena, dearer to me than all the world besides, may I hope that I shall yet win your love in return? I have absolutely nothing to offer you worthy of yourself. My education and knowledge of the world are such as you might expect from my circumstances - the society I move in and the station to which I belong. An honest name and a true heart (although Heaven knows I am far worse than many another man) are all I have to lay at your feet. - Say Helena can you ever love me for myself alone?’ Hierdie brief - waaruit naas die merkwaardige beheer oor Engels van 'n jongman in 'n Afrikaanstalige gemeenskap ook iets blyk van Kerneels se logiese stelwyse en karaktertrekke, soos ongeduld, jaloesie en onsekerheid - is 'n tipiese produk van die Victoriaanse era met sy hoofse verering van die vrou en vurige romantiek wat deur 'n beskaafde afstandelikheid in toom gehou word. Kort na die skryf van hierdie brief op 17 Maart 1894 moet hulle verloof geraak het, want op 25 Julie 1894 skryf Kerneels op Ladismith vir Helena 'n gedig in 'n eksemplaar van die Sanky Hymns. In dié gedig spel die eerste letters die name Helena en Petite uit, wat daarop dui dat hulle mekaar intussen weer gesien en hulle verhouding verinnig het. Die tipe tegniek om name só in 'n gedig uit te spel, is kenmerkend van die akrostigon wat die Nederlandse Rederykers beoefen het, maar dit kom reeds voor in die Bybelse Psalm 119, die klassieke Griekse en Latynse poësie en by 'n negentiende-eeuse digter soos Edgar Allan Poe. Die naamdig van Kerneels - na die onnutsige rympie oor Willie Louw die vroegste gedig wat van hom bewaar gebly het - is die stroopste stroop van die romantiek van die Victoriaanse era en dit dra die titel ‘What is its name?’: | |
[pagina 143]
| |
H Hark how that heavenly melody rolls!
E Echoing deep in the depths of your souls,
L Lifting your lives above Life's narrow bounds,
E Endless in cadence, its glory resounds.
N Nestle your hearts in its tender embraces -
A Angels entreat you, oh! veil not your faces.
P Pure as the soft crystal breath of the morn,
E Eden's sweet music your lives shall adorn.
T Trust to its witcheries, bask in its glow,
I Into your hearts let its harmonies flow.
T Though it belongs to the Heavens above
E Earth knows its name - it is Love, tender Love.
| |
IVHelena en Kerneels moet mekaar tydens hulle verlowing dikwels in die tweede helfte van 1894 gesien het, want 'n mens kan verwag dat hy tog, ten spyte van die afstand, van tyd tot tyd te perd deur die Seweweekspoort na Prins Albert gery het om by haar uit te kom. Omdat sy studie op Hoeko nie na wense kon vorder nie, het hy besluit om in 1895 na Stellenbosch terug te keer en die B.A. daar te voltooi. Dat hy 'n onderwyspos na afloop van sy studie in gedagte gehad en dus in daardie stadium van die onmiddellike voortsetting van die LL.B. afgesien het, blyk uit die getuigskrif wat sy gewese Riversdalse skoolhoof Rosenow op 16 April 1895 vir hom skryf. Langenhoven voltooi die B.A.-eksamen in Junie 1895, maar in U dienswillige dienaar sê hy niks oor wat hy onmiddellik daarna gedoen het nie. Uit die ongepubliseerde fragment van sy vroeë outobiografieGa naar eind31 en verspreide gegewens elders blyk dit egter dat hy van 8 Julie 1895 tot Maart 1896 onderwyser was by 'n eenmanskool op Langlaagte. In die meeste bronne wat hierdie betreklik obskure feit vermeld, word sonder meer aangeneem dat dit die Langlaagte is wat vandag deel vorm van Johannesburg. Sommige bronne, insluitende Sarah Goldblatt, sê dat Langenhoven verbonde was aan 'n skool vir weeskinders, 'n verwarring met die Abraham Kriel-kinderhuis in Langlaagte, wat van 'n later datum dateer. In werklikheid was dit 'n skooltjie op die plaas Langlaagte in die distrik Heidelberg (Transvaal), 'n Hollandstalige skool wat in | |
[pagina 144]
| |
1889 geopen is en in Langenhoven se tyd in 'n sinkgebou gehuisves was. Die aantal skoliere in sy tyd was 63 en Langenhoven was vir alle leerlinge van die eerste graad enduit verantwoordelik. Tydens sy termyn as onderwyser moet hy van tyd tot tyd aan sy verloofde op Prins Albert geskryf het, maar dié briewe is nie bewaar nie. Dit is egter bekend dat hy in die skoolvakansie, waarskynlik die lang somerreses van Desember 1895 - Januarie 1896, by haar gaan kuier het. Waarom Langenhoven 'n onderwysbetrekking só ver van sy verloofde en sy geliefde Klein Karoo aanvaar het, is heeltemal onbekend. Naas die drang by baie mense van die Boland en omliggende streke om 'n keer die Onderveld goed te leer ken, kan so 'n besluit miskien saamhang met die onbestendigheid en wispelturigheid wat in hierdie jare ten spyte van die verlowing steeds 'n deel van Langenhoven se karakter was. In elk geval was die termyn op Langlaagte, soos 'n mens uit die fragment uit sy vroeë outobiografie kan aflei, 'n klaaglike mislukking. Langenhoven sê dat hy as ‘klasmeester’ die vermoë gehad het om 'n ding duidelik te maak, maar dat hy as hoof van 'n skool hopeloos was. In sy onmiddellike nabyheid was 'n mededingende Engelse skool, en almal, Afrikaners inbegrepe, wou hulle kinders daar laat Engels leer. Om sy Hollandstalige skool dus nie te laat leegloop nie, het hy meer tyd aan Engels bestee. As gevolg daarvan is hy deur die Departement van Onderwys vermaan dat hy 'n ‘wegbreker’ was en dat hy hom beter moes gedra. Aan die een kant, so skryf Langenhoven, het hy dus te make gehad met ‘'n saagmeule van 'n inspekteur’, aan die ander kant ‘die drukking van mens en komiesie’ in die teenoorgestelde rigting. Die Transvaalse Onderwysdepartement was destyds vol Hollanders wat Paul Kruger in gesagsposisies aangestel het en wat 'n stelsel op alle onderwysers wou afdwing. ‘Ek het maar altyd nooit, en vandag nog nie’, sê Langenhoven, ‘van gesag gehou nie en minste van uitlander gesag; en hier had jy nou 'n verwaande, siellose klomp avonturiers, kosmopolitane in hulle eie land en natuurlik sonder die minste liefde vir ons s'n, wat op die Afrikaner met minagting neergesien het en die betrekkings in die Transvaal vir hulle wou bestendig as 'n afsetgebied vir die oorskot van die skole in Holland. Om onder hulle heerskappy te buig was nou eenmaal onmoontlik en net so skielik as ek besluit het om daarheen te gaan het ek besluit om weer te trap.’ Waarskynlik is sy vertrek verhaas deurdat 'n klomp van sy leerlinge gedruip het. ‘O, sal | |
[pagina 145]
| |
ek Langenhoven se gesig ooit vergeet’, skryf mev. Freda Morgendaal, een van sy leerlinge, in 1948 in die skool se jaarblad, ‘die dag toe die uitslae verskyn het!’ Almal in haar groepie het gedruip. ‘Die teleurstelling!’ skryf sy verder. ‘En toe ons weer kyk, rol die trane oor sy wange. Hoe verslae was ons, en hoe bitter spyt dat ons hom teleurgestel het! Ons het met hom gaan mooi praat, en so innig om verskoning gaan vra dat ons hom in die steek gelaat het. En van daardie dag af sou ons enigiets vir hom doen. Hy het nie één woord van verwyt laat hoor nie, maar as hy vir ons gesê het: Spring in daardie gat en sny jou keel af, dink ek sou ons dit gedoen het, so sleg het ons gevoel en so skaam was ons dat ons gedruip het, nadat hy soveel aandag aan ons bestee het. Ek hoor nog hoe ou Koos Malan sê: “Ek voel sommer lus om myself dood te maak” - omdat hy sy geliefde onderwyser teleurgestel het.’ In Maart 1896 is Kerneels terug op Hoeko, van waar hy nog enkele kere sy verloofde op Klaarstroom gaan opsoek. By geleentheid het sy pleegmoeder aan Helena 'n koekbord met koningin Victoria se gesig daarop as geskenk gestuur, 'n bord wat later van jare altyd op haar ‘sideboard’ gestaan het. Teen hierdie tyd was daar egter, volgens Helena de Vries se aangetroude familie, iets in die onbestendige jongman wat Abraham de Vries laat besluit het dat sy dogter se verlowing tot 'n einde moet kom en dat hy vir haar in 'n huwelik met Langenhoven net ellende voorsien. Wat presies sy motivering hiervoor was, indien dit dan wel van sy kant gekom het, is nie heeltemal seker nie. Volgens mev. Anne Müller, skoondogter van Helena de Vries, het die aanstaande skoonvader niks gehou van die jongman se ‘liberalistiese of selfs ateïstiese idees’Ga naar eind32 nie. Jare later het Helena de Vries egter teenoor haar stiefdogter mev. J.H. Albertyn gesê dat die rede vir die verbreking van die verlowing haar vader se teenkanting teen Langenhoven se drankgebruik was.Ga naar eind33 Watter rede werklik die swaarste geweeg en of die oorsaak vir die verwydering hoegenaamd van Abraham de Vries of sy dogter se kant gekom het,Ga naar eind34 is moeilik om vandag met sekerheid te agterhaal. Langenhoven was wel betreklik kerkloos in hierdie tyd en ook later, maar hy het altyd 'n soort kinderlike geloof behou, ook in tye wanneer hy van die streng kerklike voorskrifte afgewyk het. Uitgesproke ateïsties was hy nooit, maar wel gekant teen die vormlike en dogmatiese uiting van die religieuse belewing. Dit is te betwyfel of die drankgebruik in hierdie stadium so 'n groot probleem was, al is dit nie onwaarskynlik dat Langenhoven hom | |
[pagina 146]
| |
soms op partytjies op plase te buite kon gegaan het nie. 'n Mens dink eerder dat Helena de Vries later stories in verband met sy drankgebruik verneem het. Hoe ook al, die verlowing is beëindig. Dat dit met groot droefheid aan albei kante gepaard gegaan het, is gewis en seker. Helena het oornag van 'n vrolike, opgewekte meisie verander in 'n nougesette mens wat die res van haar lewe fanatiek godsdienstig was, 'n persoon wat haar geluk probeer vind het in haar deelname aan die Kinderkrans, die ACVV, die Vrouesendingbond en die Sondagskool, waar sy vyftig jaar lank as onderwyseres werksaam was. Nooit het daar 'n vloekwoord uit haar mond gekom nie en aan sterk drank het sy haar mond nie gesit nie. By geleentheid moes sy vir 'n koekresep 'n bietjie brandewyn by die hotel op Prins Albert gaan koop. Sy het haar bestelling geplaas, in die sitkamer van die hotel gaan wag, die halfbotteltjie brandewyn netjies in bruin papier toegedraai, in haar handsak gesit en die hotel uitgestap. Die kar en perd waarmee sy vir die Sondagskool opgedaag het, is deur die kinders later spottend die Halleluja-karretjie genoem! Toe Helena de Vries al in die veertig was, het Gideon Müller, reeds twee maal wewenaar en iemand met ses kinders uit sy eerste twee huwelike, by haar begin kuier. Om tot 'n besluit te kom of sy met hom moes trou, het sy twee briewe geskryf: een waarin sy sy huweliksaansoek aanvaar en een waarin sy hom afsê. In daardie stadium was sy onderwyseres op die plaas Waterval in die distrik Prins Albert, en sy het een van die seuns gevra om, feitlik soos 'n lotsbeskikking, een van die briewe op haar tafel in die possak te sit. Eers toe Müller met 'n kar en perde by haar opdaag, het sy geweet dat die brief met die positiewe antwoord by hom aangekom het! Op 16 Junie 1913 is sy met Müller getroud en op twee en veertigjarige ouderdom het sy die lewe geskenk aan haar enigste seun, Gideon, gebore op 23 April 1915. Volgens die getuienis van haar stiefkinders was Helena 'n streng, fier, regop persoon. Die kinders moes ook altyd regop aan tafel sit, hulle moes netjies wees en hulle goed gedra. Blykbaar was sy 'n geslote mens wat nie liefde uitgestraal het nie en wat 'n slegte verhouding met haar stiefkinders gehad het. Volgens meer as een se getuienis het die samespraak ‘Die omslagtige tant Lenie’ in Ons weg deur die wêreld IGa naar eind35 op haar betrekking, want sy het 'n manier gehad om aan 'n storie baie draaie te gee sonder om by die punt te kom. Indien ‘Die omslagtige tant Lenie’ wél op Helena de Vries slaan, is | |
[pagina 147]
| |
dit naas enkele verhulde verwysings in Die wandelende geraamte een van die min plekke in Langenhoven se oeuvre waar sy ter sprake kom. Dit lyk amper asof Langenhoven na die verbreking van die verlowing Helena uit sy hele wese wou afsweer, want selfs sy getroue vriendin Sarah Goldblatt het eers in 1946 te hore gekom van hulle verlowing en dat daar so 'n mens in die ‘Chief’ se lewe was. Helena het haar verloofring aan Kerneels teruggestuur. Toe hy kort daarna getroud is, het Vroutjie die ring laat verander in 'n seëlring met 'n diamantjie daarin wat hy tot sy dood gedra het.Ga naar eind36 Slegs een keer het Helena hom weer in lewende lywe gesien toe sy en haar man op Oudtshoorn op besoek was en Kerneels in die Koffiehuis gesit het. By dié geleentheid het hulle egter nie met mekaar gepraat nie. Trouens, aan haar kinders het Helena nooit iets van Langenhoven vertel nie. Eers later van jare sou hulle hoor dat hy 'n belangrike rol in haar jeug gespeel het. Haar skoondogter onthou slegs een keer in 1942, nadat Helena se eggenoot reeds oorlede was, dat sy op aandrang iets van hulle verlowing vertel en oor die jong Kerneels gesels het. Die verbreekte verlowing tussen Helena de Vries en Kerneels Langenhoven is 'n hartseer storie wat plek-plek na 'n sprokie klink. Die enigste gebaar van Langenhoven teenoor sy eertydse verloofde in later jare was toe hy op haar troudag vir haar 'n eksemplaar van sy bekende verjaardagboekie met 'n inskripsie gestuur het. Voorin het hy geskryf: ‘'n Geskenk van die Skrijwer. Mevr. Gideon S. Müller (neé Mej. Helena de Vries) 16 Junie 1913. Mag Uw huwelik gesegend wees, mag al wat goed is - ook naar die onuitgesproke wens Uw deel wees.’ Interessant genoeg verskyn by 9 Desember, Helena se verjaardag, die volgende vermanende spreuk van Langenhoven se hand: ‘Dis waar wat die spreekwoord sê: “Trouw is nie pêrdekoop nie.” Dis meer nes pêrderuil; weerskante se foute word weggesteek.’ Op Langenhoven se versoek van 1894 dat sy vir hom 'n ‘leaflet, floweret or...bud’ in haar volgende brief moet insluit, het sy wel gereageer. Sy het twee roosknoppies gedroog, een vir hom gestuur en die ander een tot die dag van haar dood saam met 'n stukkie heide uit Hoeko in haar Holy Bible bewaar. Het Langenhoven ook die ‘lock of your hair’ gehou wat hy afgesny het toe Helena aan die slaap was? Onder die personalia in die Dokumentesentrum op Stellenbosch is daar 'n blonde haarlok, maar waarskynlik is dit eerder die lok van Langenhoven se eie moeder. In 1930 - as 'n mens van die skryfdatum in die inleiding, en nie die publikasie- | |
[pagina 148]
| |
datum 1932 nie, uitgaan - sê Langenhoven dat sy moeder vyf dae ná sy geboorte oorlede is. ‘Ek het geen portret of skets of handskrif van haar eie nie;’ skryf hy in U dienswillige dienaar, ‘maar tog darem, vandag nog, 'n lokkie goue hare wat Mammie afgeknip en vir my bewaar het.’Ga naar eind37 'n Mens is geneig om te dink dat Langenhoven na die terugontvangs van die verloofring en voor sy huwelik met Vroutjie, in ooreenstemming met die mores van die Victoriaanse era, die haarlok van Helena sou weggegooi of vernietig het en dat die lok op Stellenbosch wel dié van die moeder is, nie van Helena de Vries nie.Ga naar eind38 Helena was nie meer deel van sy lewe nie, al sê haar skoondogter Anne Müller dat sy oortuig daarvan is dat Langenhoven die groot liefde in haar skoonmoeder se lewe was en tot haar dood toe gebly het.Ga naar eind39 Helena de Vries het na haar man se dood op Prins Albert bly woon. Die laaste paar jaar van haar lewe was sy in bejaardesorg in Huis Lückhoff in Rosebank, Kaapstad. Daar is sy op 13 Februarie 1954 oorlede, meer as drie en 'n half jaar na Vroutjie en amper twee en twintig jaar na Kerneels Langenhoven.Ga naar eind40 |
|