Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 108]
| |
Hoofstuk VI
| |
[pagina 109]
| |
was Margarita Langenhoven - tant Grieta, het die ander kinders haar genoem - reeds 'n vrou van sewe en veertig jaar. Langenhoven beskryf haar in U dienswillige dienaar as 'n mooi, tengerige vroutjie met fyn gelaatstrekke, dik swart hare en ‘'n paar donker liefde-stralende oë’.Ga naar eind7 Sy was 'n diep gelowige vrou en nooit, so gaan Langenhoven in U dienswillige dienaar voort, ‘het ek haar 'n vloekwoord of 'n vuil woord hoor sê nie’.Ga naar eind8 As hy in sy roman Mof en sy mense die pleegmoeder beskryf as ‘die tengerige ou moedertjie wat so saggies loop en so min praat en so soet kan glimlag’,Ga naar eind9 lees die ingeligte leser dit as 'n toespeling op Langenhoven se eie pleegmoeder. In een van sy mooiste essays in Aan stille waters I herken 'n mens in sy uitweiding oor die waak by 'n sterwende die naswewende beeld van die dood van sy pleegmoeder, wat op 24 Augustus 1912 in die ouderdom van 85 jaar en 10 maande oorlede is: ‘Elke trek van die beminde heengegane is helder voor my, ek sien die uiteindelike stuipbeweging van die uiterste van die stryd, en die stilte wat volg.’Ga naar eind10 As Sarah Goldblatt hom jare later oor die dood van een van hulle gesamentlike vriende se moeder inlig, herinner dit hom weer aan sy pleegmoeder se sterfbed. ‘Haar gesig’, skryf hy op 20 November 1927 aan Sarah, ‘was vergaan van ouderdom en van die laaste siekte, maar die dood het daar 'n skoonheid op gebring soos selfs my liefde dit nooit ook in haar jonger jare gesien het nie. Weer en weer het ek die laken waaronder sy bedek was gaan oplig, en toe hulle haar in die kis gesit het en besig was om toe te skroef, het ek die deksel weer laat oopmaak vir die laaste sien. Ek kan haar nou-nog daar sien lê, met daardie uitdrukking van saligheid. Wat het die sterwende oë gesien wat die lewende nie kan sien nie? Die Here openbaar altyd so byna-byna, en daar hou Hy op. Maar deeskant wat ons nognie ten volle moet weet nie, openbaar Hy genoeg om ons volle vertroue te gee.’ Voor haar huwelik met Piet Langenhoven was Grieta getroud met Cornelis Vrey, 'n wewenaar met nege kinders uit sy vorige huwelik. By hom het sy twee kinders gehad: Margarita, getroud met Willem van der Merwe, wat later die boerdery van sy stiefskoonvader op Hoeko oorgeneem het maar nog voor die dood van sy skoonmoeder oorlede is; en Andries, wat vroeg deur sy eie hand gesterf hetGa naar eind11 - die eerste van 'n reeks selfmoorde in Langenhoven se aangetroude familie. Op betreklik vroeë ouderdom, in 1858, sterf Vrey na 'n lang lyding aan kanker, en op 26 Desember 1860 tree Grieta in die huwelik met Piet Langenhoven, 'n egverbintenis wat meer as 51 jaar sou duur. Uit die huwelik is geen | |
[pagina 110]
| |
kinders gebore nie, maar hulle het saam, naas die elf Vrey-kinders, nog vier weeskinders aangeneem. Hulle het op Hoeko bly woon totdat hulle hulle in 1902 op Ladismith, in Koninginstraat naby die huidige ouetehuis en biblioteek, gaan vestig het. In 'n ‘In memoriam’Ga naar eind12 wat hy by haar dood geskryf het, vermeld Langenhoven weer haar ‘ligte bijna onhoorbare stappie’, haar lewe van diensvaardigheid en liefde en hoe hy by die sponde aanwesig was toe die doodsangs volgens die dokter daar moes wees. Vir haar, so skryf Langenhoven, ‘was daar (egter) geen strijd nie, maar vrede’; slegs die asem het swakker en swakker geword en uiteindelik met drie suggies uitgegaan.Ga naar eind13 Net soos sy pleegmoeder was ook sy pleegvader besonder geheg aan die klein Petiet. In U dienswillige dienaar skryf Langenhoven: ‘Hulle had my baie, baie lief, meer as honderdvoudig my uiterste verdienste; en geen erkentenis van my kan ooit in die vérste verte betuig wat ek aan hulle verskuldig is nie.’Ga naar eind14 Sy Stukkies en brokkies van 1911, in 1914 opgeneem in die eerste uitgawe van Ons weg deur die wêreld, dra hy aan hulle op. As dié boek in 1922 met die derde uitgawe in drie dele verskyn, verwys hy in die voorwoord by deel II met groot deernis na albei sy pleegouers wat intussen oorlede is: ‘En met die verloop van jare word my verlange meer en meer, en so word my gevoel van verpligting en erkentenis groter en swaarder vir die liefde wat hulle my gegee het - die liefde wat van hulle kant soveel te teerder was om rede die verdriet en kommer wat ek hulle veroorsaak het.Ga naar eind15 Ek kan nou maar hierdie werkie aan hulle nagedagtenis wy. Daar waar hulle is, wie weet, sal hulle verstaan en maar weer, soos deur hulle lewe lank op aarde, die tekortkominge van hulle onwaardige ou aangenome seuntjie vergewe.’Ga naar eind16 Op talle plekke elders in sy oeuvre kom die besondere band tussen pleegvader en seun tot uiting. As daar in die drama Vrouetrou gepraat word van 'n vader vir wie baie van sy pleegkinders as Oupa aanspreek, slaan dit op Piet Langenhoven. In dieselfde drama vereenselwig die skrywer as die ‘aalmoes-kind’ hom met sy Mieta-karakter se liefde vir haar aangenome vader en roep hy die wêreld van die plaas met sy perskeboord, lemoene en wingerd, die meule, die waenhuis, die kalwers en lammers en die ‘wilgers, eike, pypsteel (en) fluitjiesriet’ by die rivierbedding in die herinnering.Ga naar eind17 Regstreekse inligting oor sy pleegvader verskaf hy in hoofstuk 3 van die eerste gedeelte van U dienswillige dienaar. In die eerste jare van sy huwelik het Piet Langenhoven dit | |
[pagina 111]
| |
moeilik gehad en sy stiefkinders moes met die plaaswerk help. Hy was egter 'n hardwerkende boer wat ook met sy wamakery en transportryery Transvaal toe sy inkomste in so 'n mate aangevul het dat hy met verloop van jare oordeelkundig grond kon koop, verbeterings op die plaas kon aanbring en verstandige beleggings kon maak. ‘'n Afrikaner het staal genoeg’, was een van sy uitsprake; ‘hy moet net behoorlik geslyp word.’ Tydens die togte het sy vrou hom gehelp om die wa uit te span, want sy het 'n wonderlike beheer oor die osse gehad en die diere het 'n soort ontsag vir die tenger vroutjie gekoester. Later jare kon Langenhoven in Ons weg deur die wêreld II skryf oor gedroogde beskuit, rosyne, amandels, winddroë wors en koffie wat tydens die togte op die wa saamgeneem is en hoe hulle in die aande by 'n vuurtjie op opvoustoeltjies die ete kon geniet, met 'n plat vaatjie wat by die rivier vol water gemaak is.Ga naar eind18 By die huis was Grieta die ‘melkvrou’ wat sag met die koeie kon werk, terwyl haar man die kanne melk by die afhaalpunte moes besorg. Hulle was sterk godsdienstige mense en jare lank het Piet Langenhoven sy wyk as ouderling verteenwoordig en by geleentheid as lid van die Sinode die sittings in Kaapstad bygewoon. Later het hy ook diens gedoen as lid van die plaaslike afdelingsraad. Alhoewel hy weinig boekgeleerdheid gehad het en soos die meeste mense van sy leeftyd en agtergrond maar net sukkelend kon skryf, het dit by hom nie aan ingebore wysheid ontbreek nie. Baie mense in die omgewing het dan ook na hom opgesien en dikwels kon hy hulle, op sowel persoonlike as finansiële vlak, van advies bedien. Met sulke sorgsame pleegouers kon die jong Petiet dan ook in ideale omstandighede grootword, veral ook omdat die lewe op Hoeko in die Klein Karoo 'n vrugbare teelaarde vir die skeppende verbeelding was. Met die waterstrome uit die bergklowe, die bloekomboom met die baie vinke, die wilgers by die dam, die rietbos by die rivier, die bronsloot en die baie vrugtebome was Hoeko 'n ware ‘lushof’,Ga naar eind19 soos die skrywer dit later sou noem. Tydens sy kinderjare het die smidswinkel op die plaas, waarin sy vader se boesemvriend Ewert Kleynhans werksaam was, en die wamakerswinkel van sy vader 'n groot rol in sy lewe gespeel. In die smidswinkel het hy nie dikwels gekom nie, want op 'n keer het hy 'n vuurwarm stuk yster opgetel en moes sy hand 'n week lank in konfytlappe gehou word. Daar was ook die gevaar dat van die vonke in sy oë kon beland.Ga naar eind20 By die wamakerswinkel is hy egter dikwels toegelaat om tussen die saagsels en houtkrulle te speel en vir homself uit die | |
[pagina 112]
| |
afvalplankies 'n huisie te bou.Ga naar eind21 As sy pleegmoeder in die namiddag om vieruur koffie en brood vir sy Pappie gebring het, was daar altyd vir hom 'n koppie melk by.Ga naar eind22 Met die gemengde boerdery op Hoeko, wat gewissel het van groot- en kleinvee, vrugte, groente en wingerd tot saailande en volstruise, het Petiet in sy kinderjare 'n agrariese agtergrond leer ken wat 'n ryk bron vir sy latere skryfwerk sou wees, 'n soort wêreld wat aan 'n groot deel van sy potensiële leserspubliek bekend was. Op die plaas is die meeste benodigdhede vir eie gebruik self gemaak: velskoene, velbroeke en pantoffels van gelooide leer, osrieme, gedroogde rosyne en pruime, moskonfyt, biltong, wors en ander vleis wat self geslag en boerseep en kerse wat uit vet gemaak is. Op talle plekke in sy werk is die Karoo-wêreld van sy jeug en die plaas naby die berge die agtergrond vir 'n verhaal. ‘Is daar nog so 'n mooi toneel wáár ook op die wêreld as óns plaas hier?’ vra Poppie aan haar broer Frikkie in Mof en sy mense. ‘Kyk die donkergroen van die lande teen die vaal koppies en die stukkie blouberg daar ver, anderkant...En alles verheerlik deur die goue gloed van die Karoo-son uit die diepte van die blou van die hemel.’Ga naar eind23 In die vleiland op Hoeko was 'n populierbos met 'n dam. Daar het klein Petiet dikwels gesit - volgens sommige mense wat hom in dié tyd geken het die agtergrond vir sy latere Aan stille waters. Alhoewel hy as kind al die nodige liefde van sy pleegouers ontvang het, is hy baie streng grootgemaak. Een van die vroegste herinneringe van die jong Petiet was hoe hy as 'n seuntjie van skaars twee jaar na 'n verdiende pak slae by sy hondjie gaan sit en huil het.Ga naar eind24 Sy ouers moes egter gou agtergekom het hulle pleegkind is buitengewoon intelligent, want vroeg-vroeg het sy moeder hom die alfabet geleer deur in 'n koerant die a's met 'n speld vas te steek, daarna die b's, die c's ens. Op dié wyse kon Petiet, tot sy Pappie se trots, op die jeugdige ouderdom van agtien maande al die letters van die alfabet op 'n kaart uitwysGa naar eind25 en vroeg reeds lees. Dit het egter nie beteken dat hy nie soms ook erg ondeund kon wees nie. Miemie Joubert, dogter van Ewert Kleynhans, wat na haar ouers se dood ook by die Langenhovens gaan woon het, kon op hoë ouderdom nog onthou hoe Petiet allerlei lekkernye soos amandels, okkerneute, rosyntjies, heuning en biltong uit die bo-soldertjie gaan steel het terwyl sy ouers aan die slaap was. Veral as dit in die winter koud is en die ouers reeds in die bed, sê Petiet vir haar: ‘Miemie, ek het lus vir | |
[pagina 113]
| |
koffie en solderkos.’ Dan trek hy sy skoene uit, gaan op na die bêresolder en haal die eetgoed uit. ‘Hy het mos sulke klein handjies en voetjies gehad en het mos nooit eintlik 'n groot man soos ander mans geword nie; hy het mos almelee so verpot gebly.’Ga naar eind26 As hy dan afkom, gaan haal hy ook sommer die koffie en hou hulle 'n lekker nagfees. Die Bybel het hy van jongstyd af goed geken en tydens speeltye by die plaasskooltjie het hy vir die ander kinders kerk gehou, met 'n hele gemeente bestaande uit poppe van wilderissiebossies. Uit sy jeug kon Langenhoven later van jare die doodskiste op die waenhuissolder nog goed onthou. Dit het gereed gestaan vir sy ouers. Hy moes soms alleen en in die donker ‘lewende behoeftes’ daar gaan afhaal. Dan was hy senuweeagtig om so tussen die swart kiste te beweeg.Ga naar eind27 Meestal het die klein Petiet egter min met die ander kinders op die plaas gemeng en was hy nooit 'n regte maat vir hulle nie. Hy het grootliks in die weelde van die natuur opgegaan: die waterkloof, die groenskemer van die bos, die stromende riviertjie, die voëls en bome of 'n vuurtjie in die veld as hy saam met sy ouers deur die Huisrivierpas op weg was na Calitzdorp of as hy die groter wêreld van die Grasveld tot by die see saam met hulle leer ken het. Van vroeg af het hy deur sy vader se huisgodsdiens met die Bybel kennis gemaak en moes die pleegkinders ook versies voorlees. Dikwels het Petiet dan die ondeunde trek gehad om, as hy klaar was, die verkeerde versie vir een van die ander kinders aan te wys! Op dié manier het hy egter die Bybel goed leer ken, ook omdat hy van vroeg af die Bybelverhale aan sy Mammie se knie gehoor het.Ga naar eind28 Maar ook ander boeke het hy in sy vroeë jeug gelees. In Aan stille waters I vertel hy hoe hy in die middel van 'n bloedige somer as seuntjie 'n lewensbeskrywing van Maarten Luther in die hande gekry het. Die ‘volgende oggend ná brekfis’, so vertel hy, is hy na die populierbos en het hy die boek ‘van begin tot end-uit deurgelees...Toe ek by die huis terugkom was dit vieruur in die agtermiddag. Hulle het maar sonder my middag geëet en my nie gesoek ook nie.’Ga naar eind29 Dat hierdie optrede nie 'n uitsonderingsgeval was nie, lei 'n mens af uit die opmerking dat dié soort ‘onbestendig-(heid) en lief(de) vir dwaal’Ga naar eind30 'n gewoonte was, al het sy huismense geweet dat hy darem altyd, nes die kat, weer terugkom! Toe hy later van jare in De Burger onder die pseudoniem Sagmoedige Neelsie skryf en nog later die rubriek Aan stille waters behartig, kon Langenhoven steeds na sy jeug op Hoeko vir allerlei staaltjies en avon- | |
[pagina 114]
| |
ture teruggryp. Op Hoeko was dit in sy jeugjare, so skryf hy by geleentheid,Ga naar eind31 ‘nog die tijd van die kappies. Hulle was hoog in die mode - fashionable en up-to-date. Almaal het dit gedraag.... Ik onthou een van hulle nog goed: so 'n blauw duitse sis (of een van die voorgangers van duitse sis, want ik denk amper dit was voor die dage van Duitsland) met twee tamelik lang bande om om mijn keel te bind.... En daardie selfde blauwbont bande het ik gekauw en gesuig en weer gekauw en weer gesuig en hulle blij maar vogtig. Toen ik nou langsamerhand opskiet en van 'n meisie af begin 'n jongetjie te word, moes ik die kappie opsij sit - maar dit het swaar gegaan. Ik onthou dit was op 'n Sondag toen Mammie mij met 'n hoed ingebreek het. Ik onthou hom goed, so 'n vaal doptoppertjie met 'n blink lint. Ik was al te skaam - net so skaam als vir die eerste broek. Ik denk amper ik het slage gekrij voor ik die dingetjie vir mij laat opsit het.’ By 'n ander geleentheid, op 17 Maart 1923, skryf hy in sy Aan stille waters-rubriek oor sy ervaring met volstruise op die plaas toe hy al 'n bietjie meer opgeskote was. Dat Petiet van jongs af niks vir 'n volstruis oorgehad het nie, blyk uit sy verwysing na 'n uitspraak in die Ou Testament dat 'n volstruis van verstand ontbloot is.Ga naar eind32 ‘En’, so voeg hy by, ‘van daardie ou dae af het hy nog geen merkbare vordering gemaak om die gebrek aan te suiwer nie. Selfs nou, noudat ons hom mak gemaak het, het ons hom nog nie wys gemaak nie.’ Hy vertel dan hoe Pappie by geleentheid 'n klomp volstruise aangeskaf het en 'n buurman van hulle ook 'n klomp. Hy en 'n seun van die buurman, in sy weergawe Andries, moes dan saam die voëls oppas. In daardie dae het die boerderylande nog so te sê almal oopgelê, want daar was behalwe voëloortreding niks gewees om oor rusie te maak nie. ‘Nou ja, ons twee was maar met ons twee en die volstruise was met hulle twee dosyn. Ons kon nie die aangewyste weiveld rondom toe-staan nie; ons kon ook nie aanhou met al in die rondte omhardloop nie - dan raak die laaste ellendige voël ook aan die hardloop, elkeen 'n besonderse koers nes die strale van die son. Hulle kon nooit verstaan, die vervlakste goed, wat die plan eintlik met hulle was nie. En 'n mens sou sê hy was 'n eenvoudige plan: hier is die wei-plek - hulle moet maar net vreet. Maar vir hulle bevatting was selfs dit te diepsinnig. As ons weer sien, ek en Andries, kom van deuskant af 'n buurman met 'n paar uit sy wingerd uit, dan weer van daardie kant af 'n ander met 'n klompie uit sy bone uit; dan weer kort daarop 'n derde uit gindse rigting met 'n ander | |
[pagina 115]
| |
groepie - almal briesend. Party van hulle het gedreig om ons by ons paens aan te kla en ander weer het eie reg gebruik en self ons getugtig ...’ Net lesers ‘uit volstruislose dele van die land’, so sluit hy die relaas af, ‘sal miskien geneig wees om te vra waarom die bure dan aan ons kom slaan het in plaas van aan die volstruise.’ Die antwoord hierop is eenvoudig dat die volstruise op grond van die waarde van hul vere in daardie dae ‘meer onskendbaar-heilig as 'n blote mensekind’ was. Afgesien van moleste en irritasies soos dié met volstruise het die jong Petiet 'n gelukkige jeug op Hoeko gehad. Naas homself, so skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar, het sy pleegouers nog vier ander aangenome kinders gehad. Van hulle sê hy egter net dat hulle paaie ‘vroeg uitmekaar geloop’Ga naar eind33 het. Met die kinders van Ewert Kleynhans, die ystersmid op die plaas, het hy egter soos met broers en susters saam grootgeword.Ga naar eind34 Die ander valleibewoners, die bure, was aan almal bekend en met almal bevriend, ‘so goed as verwante van een groot familie’.Ga naar eind35 Onder dié mense noem Langenhoven in hoofstuk 5 van die eerste deel van U dienswillige dienaar ou Lowies Stomphand, ou Daantjie Ellis, ou Ackerman en ou Basson, almal eerlike mense, behalwe soms as dit by die gebruik van leiwater uit die bronsloot kom - Langenhoven se eerste ervaring met waterregte waarop die boere van sy kontrei so heilig was en waaroor hy later as regsgeleerde so 'n uitmuntende deskundige sou word. Op 'n dag het Petiet se Pappie ou Stomphand gevang dat hy ‘so 'n straaltjie’ water uitgekeer het en hom met 'n hofsaak gedreig. ‘Dit was’, so voeg Langenhoven by, ‘nie die gewone gebruik nie; as jy 'n man betrap dat hy jou water steel, slaan jy hom met die graaf oor die kop, en as hy katswink is, laaf jy hom daar in die sloot; en as hy nie gou bykom nie, laat jy na sy huis toe weet, en daarmee is die sakie uit die wêreld.’Ga naar eind36 Stomphand het by dié geleentheid wel met 'n belofte van ander water as dit sy beurt is, van die ding afgekom, al het dit weer tot 'n nuwe soort verneukspel gelei. Tog was daar nooit werklike vyandskap oor watersake nie. In die geval van Bart Saayman van Weltevreden het dit egter wel gedreig. Hy was 'n man wat ‘so lief (was) vir water dat hy sy hele plaas vol dammetjies gegrawe het sodat dit nes 'n heuningkoek gelyk het’.Ga naar eind37 Op 'n keer het ou Bart Saayman tydens 'n biduur só sterk gebid oor sy onchristelike bure wat nie 'n bietjie water vir hom gun nie dat Daantjie Ellis - 'n man met Ierse bloed en tempera- | |
[pagina 116]
| |
ment in sy are - begin saambid en ou Bart begin rondpluk het, 'n strydlustigheid waarby die bure moes ingryp. Oupa Gert van Zyl - later skoonvader van Anderpa, wat ná Petiet se moeder se dood met sy dogter getroud is - het ook in die Hoeko-vallei gewoon en was soos al die ander op sy watertjies gesteld. Toe hy op 'n dag merk dat iemand van sy water steel en die man nog boonop sê dit lyk na reën, was die gort gaar. ‘Ek het nie hier opgekom om die water uit die hemel te kom haal nie’, was sy woorde. ‘Ek wil my water in die sloot hê. Hoe kom daardie jong wingerd van jou so papnat - jou beurt is dan agt dae verby?’Ga naar eind38 Maar al hierdie verskilletjies was nietighede. Met twee voortreflike pleegouers, 'n hele gemeenskap van boeremense en 'n pragtige plaas in 'n vrugbare vallei het die jong Petiet gelukkige jeugjare beleef. Daardie wêreld met sy mense was, soos hy dit later sou stel, die agtergrond van sy hele geesteslewe.Ga naar eind39 | |
IIPetiet het sy eerste skoolopleiding van goewernantes op Hoeko ontvang in 'n plaasskooltjie wat die boere van die omgewing self opgerig en voor betaal het. Een van die boere, so vertel Langenhoven in U dienswillige dienaar, het bakstene gemaak, 'n ander het heiriet vir die dak gaan sny en nog een het balke en sparre vir die timmerasie aangery. Vir die dele wat gekoop moes word, het hulle gekollekteer of die geld deur middel van basaars ingesamel.Ga naar eind40 Die goewernantes op Hoeko was feitlik almal middelmatige onderwyseresse en die onderrig wat Petiet in die eerste vyf of ses jaar van sy skoolloopbaan ontvang het, was nie veel werd nie. Een van hulle, 'n mej. Sinclair,Ga naar eind41 het 'n liefde vir die jong Langenhoven gehad, maar haar opvolgers het, soos hy self vertel, ‘hulle neus opgetrek vir die boereomgewing wat goed genoeg was vir hulle gasie maar nie vir hulle smaak nie, en opgelei was hulle self nie’.Ga naar eind42 Hulle verhouding met Petiet was sleg en daarby was alle onderrig in Engels, ‘die hoë ideaal (en) die enigste weg tot die fatsoenlike saligheid’.Ga naar eind43 'n Mens kan dus aanvaar dat die toestand ongeveer dieselfde was as wat M.E.R. in haar skets ‘'n Plaasskool van vanslewe’ beskryf. Naas die konsentrasie op somme, godsdiens en Engelse grammatika is veral | |
[pagina 117]
| |
aandag gegee aan ‘English History’ deur die ‘Kings and Queens of England’, die ‘Countries and Capitals of Europe’ en die ‘Chief Towns of England’ uit die hoof uit op te sê.Ga naar eind44 Enige poging om die kinders te leer dink, het geheel en al ontbreek. Dat Petiet se Pappie en Mammie en nie een van die boere 'n woord Engels kon praat nie, moes waarskynlik tot heelwat begripsverwarring en amusante voorvalle gelei het.Ga naar eind45 Eers met die koms van Marthinus Paulus Bloemkolk - in die wandel bekend as Meester Bloemkolk - het Petiet 'n onderwyser van formaat gekry, iemand wat hom goed kon onderrig en met sy persoonlikheid, sy onbesproke karakter, sy pligsgevoel en sy beskaafdheid 'n blywende indruk op die jong gemoed kon maak. Bloemkolk is in Nederland uit gegoede stand gebore, maar deur 'n bank wat in duie gestort het,Ga naar eind46 is sy ouers in armoede gedompel en moes hulle seun uitwyk na Suid-Afrika, waar hy op 'n klein salaris en in 'n vergelykenderwys minder ontwikkelde omgewing moes bestaan. Hy was 'n skrander man wat vyf tale kon lees en ook musiekopleiding gehad het. Aangesien hy egter nie oor die nodige sertifikate beskik het nie, kon hy geen pos in 'n stad of 'n groot dorp kry nie en was hy op plaasskole aangewys. Bloemkolk het in 1880 in Suid-Afrika aangekom en aanvanklik op Anysberg in die distrik Montagu onderwys gegee. In 1883 is hy na Hoeko. Voor sy vertrek uit Nederland was hy reeds verloof aan Agatha Hendrika Negren. Omdat dit in daardie jare as onfatsoenlik beskou is vir 'n jong meisie om alleen 'n lang bootreis te onderneem, is die egband in Nederland met die ‘handskoen’ gelê en kon sy in 1886 as Bloemkolk se wettige vrou die reis onderneem! By haar aankoms is die huwelik kerklik bevestig op Ladismith, gevolg deur 'n onthaal op Hoeko. Petiet was toe ongeveer veertien jaar oud en tydens die huweliksgeselligheid moes hy op aandrang van sy pleegvader aan die besoekers illustreer dat hy 'n boek onderstebo kon lees!Ga naar eind47 Meester Bloemkolk was met sy fyn versorgde spitsbaardjie, netjies gekamde hare en vonkelende, sagte oë 'n aantreklike en vriendelike man. As onderwyser kon hy egter ook ferm optree en die kweperlat is nie gespaar nie. Sy onderrig vir die plaaskinders, wat in ferweelklere met velskoene - die seuns in broeke en die dogters in langerige rokke - voor hom gesit het, was deur medium Engels, al was sy aksent afgryslik om aan te hoor. Hy het gekonsentreer op Arithmetic, Geography, Cape and English History, English Grammar en Nederlandse Grammatika. | |
[pagina 118]
| |
[pagina 119]
| |
Na skool het hy die katkisante onderrig en sommige van die meisies musiek op 'n huisorreltjie leer speel. As hy in die oggend by die skool aankom, het hy altyd 'n swart hardebolkeiltjie opgehad, en 'n blikkie rosyntjies gedra waarvan hy by tye geëet het. Om winterstyd die wind uit die skoolgeboutjie te hou, het hy 'n velletjie by hom gehad wat as windwors voor die deur gegooi kon word. Saam met sy vrou het hy gelukkige jare in die Hoeko-vallei beleef en uit die huwelik is ses kinders gebore. Later het sy bors hom begin te pla en is hy aangeraai om liewer by die kus te gaan woon. In 1904 het hy hom dan op Groot-Brak gevestig, waar hy weer skoolgehou het. Die verandering het nie veel gehelp nie, want in 1905 is hy op die vroeë ouderdom van een en vyftig jaar daar oorlede.Ga naar eind48 Aanvanklik het die kinders van Hoeko probleme ondervind om Meester Bloemkolk se Nederlandse uitspraak te volg, maar hulle het gou daaraan gewoond geraak. In U dienswillige dienaar vertel Langenhoven hoe hulle elkeen op 'n Woensdagoggend 'n brief of 'n opstel moes saambring. Die Meester het dan een vir een s'n hardop voorgelees, onderwyl hy algaande korreksies aanbring. Sy kommentaar was kritiek van so 'n omvattende aard dat Langenhoven dit nie graag wou misloop nie. ‘As ek Woensdag siek was,’ so skryf hy, ‘het ek my gesond gehou soos ek my ander dae nou en dan siek gehou het toe ek gesond was.’Ga naar eind49 Daarnaas het Bloemkolk deur mondelinge en skriftelike vertalings daarin geslaag om aan sy skoliere 'n insig in die patroon van 'n taal, die waarde van woorde en die kuns van woordverbindings oor te dra.Ga naar eind50 Wat Langenhoven in die besonder gewaardeer het, was Bloemkolk se Bybelonderrig, wat vir hom op sy ‘ontvanklikste trap van ouderdom 'n letterkundige besitting gegee het’,Ga naar eind51 van meer waarde vir hom as dié van die klassieke in watter taal ook al. Afgesien van al die skoolwerk was daar vir die klein Petiet en sy skoolmaats ook nog tyd vir speletjies soos vérspring, hardloop, albasters en knoopspeel, laasgenoemde 'n speletjie waartydens afgesnyde knope in 'n gaatjie gegooi is. Wat in sy gelukkige jeug kortgekom het en wel 'n belangrike gebrek vir hom sou word, was 'n sterk nasionale bewussyn in sy onmiddellike omgewing. Hierin, sê Langenhoven, sonder enige verwyt, in U dienswillige dienaar, het hy nooit van sy ouers enige duidelike leiding ontvang nie, terwyl hy deur die deels Engelse en deels Nederlandse kultuur van sy opvoeding nog verder verwar is. ‘Dat ek byna veertig jaar oud geword het voor ek ooit...(my) roeping | |
[pagina 120]
| |
[pagina 121]
| |
besef het en ernstig aan die werk gegaan het om my bydraag van diens te gee aan die opbou van my verwaarloosde en versmaaide taal, was die regstreekse gevolg van daardie deels ontbrekende en deels verkeerde invloede op my kindergemoed. Wat daarmee vir my volk verlore gegaan het, weet ek nie; wat vir my eie lewensgeluk verlore gegaan het, weet ek tot my blywende leed.’Ga naar eind52 | |
IIIIn U dienswillige dienaar sê Langenhoven dat hy aan die begin van 1888,Ga naar eind53 dus in sy vyftiende jaar, begin skoolgaan het op Ladismith, ongeveer veertien kilometer van Hoeko af. Die dorp Ladismith en sy omgewing figureer by herhaling in Langenhoven se werk, sowel in die beskrywende as in die verhalende gedeeltes. Aan die begin van hoofstuk 2 van sy speurverhaal Donker spore (1926) beskryf hy dit as 'n ‘fraaie, skone, witte dorpie’,Ga naar eind54 omring deur koppe wat suidwaarts strek tot die Grootrivier en Touwsrivier en daarvan tot by die Langeberge, ‘wat hierdie half-Karoo van die Riversdalse Grasveld of kusstreek skei’.Ga naar eind55 Aan die noordekant loop die Klein-Swartberge met Towerkop en Seweweekspoortpiek as die hoogste punte en die Seweweekspoort wat jy kan deurry na die Koup, die Prins Albertse en Laingsburgse deel van die Groot Karoo. Die wêreld van Ladismith is 'n wêreld van aaklige gebeurtenisse, legendes en verdigsels, moorde en ‘'n ketting van treurspele’,Ga naar eind56 'n wêreld waaruit latere skrywers soos Morkel van Tonder en Abraham H. de Vries ook vir groot dele van hulle werk kon put. Toe Langenhoven nog 'n kind was, is hy op 'n keer saam met Pappie deur Prinsrivierspoort aan die bo-ent van die Touwsberg. Daar het hy twee penne teen die krans gesien waar 'n man met die naam van ou Prins in die vroeë tyd afgeval en verongeluk het, 'n gegewe waarop sy verhaal Donker spore gebaseer is.Ga naar eind57 Wanneer Langenhoven in hoofstuk 8 van U dienswillige dienaar oor Ladismith skryf, beklemtoon hy die gebroke veld tussen die dorp en Hoeko:Ga naar eind58 ‘'n digte groei van groot ghwarries, pruimbosse, spekboomplate, koeniebosse ..., noem-noem ..., plakkies, botterboom en vygies; en in die laagtes gannas, asbossies en dorings’.Ga naar eind59 Terwyl hy die twee en 'n half jaar op Ladismith op skool was, het hy iedere Vrydag vir die naweek huis toe gegaan, dikwels deur die hele ent te voet te loop. | |
[pagina 122]
| |
Op dié wyse kon hy die veld met elke bossie en klip deeglik leer ken en het hy genoeg tyd gehad om tydens ‘die gereelde ure van eensaamheid twee maal elke week in die buitelug en buiteveld’Ga naar eind60 te dink, al het dit aan die ander kant by hom ook tot 'n sekere ongeselligheid, ‘die egoïsme van oordrewe selfbewustheid en fyngevoeligheid’Ga naar eind61 aanleiding gegee. Met sy vertrek na Ladismith het die jong Petiet die plaasskool vir 'n dorpskool verruil. Waar hy in sy roman Die wagtende wêreld (1927) skryf oor twee vriende wat onderskeidelik uit die Klein Karoo en Prins Albert se kant van die Swartberge kom en saam skoolgaan, klink sy weergawe feitlik na sy eie lewensloop. Eers het die twee vriende op ‘die plaasskoolbanke saamgesit met ons ferweelbroekies en sishemde en velskoene, somtyds rousool, altyd sonder sokkies. Saam het ons namiddae en Saterdae die plaaswerkies gedoen wat Pappie beskou het, en terég, as 'n gesonde aanvulling by die boeke.’Ga naar eind62 Daarna is hulle saam na die dorpskool vir die ‘elementary’, waar hulle ‘die dorpse kinders se smaad verduur (het) oor ons bekveldse maniere’,Ga naar eind63 al het hulle ‘die dorpse meneertjies (oor hulle) inspanning en vernuf (getroef), die hele trop van hulle, met al hulle meerderhoogheid’.Ga naar eind64 Die feit dat hy naweke alleen lang ente deur die veld plaas toe moes loop, het van Petiet 'n ‘gewoontedinker’Ga naar eind65 gemaak, maar daardeur het hy ook 'n alleenloper geword sonder maats en op die dorp feitlik nie aan sport en speletjies meegedoen nie. In U dienswillige dienaar sê hy dat hy aanvanklik oor sy plaasklere en slegte Engelse uitspraak gespot is. Ná ses maande het Petiet hulle egter almal in die Elementary Examination uitgestof en al sy vakke in die eerste klas geslaag: English and Handwriting, Arithmetic, History - English and Colonial, en Geography - Physical and Descriptive. Twee jaar later was hy eerste op die lys vir Skool Hoër in die Kaapkolonie met Engels, Nederlands, Latyn, Rekeningkunde en Geometrie as vakke. Die onderwyser aan wie die jong Langenhoven die meeste gehad en van wie hy baie geleer het, was die skoolhoof, meneer J.R. Frylinck. Soos Bloemkolk het hy oor 'n minimum kwalifikasies beskik, maar hy was baie meer metodies as die Hollandse Meester. Sy skool het dan ook ‘soos 'n geoliede masjien geloop’.Ga naar eind66 Naas wiskunde en rekeningkunde, wat hy probleemstellend kon aanbied en nie bloot met behulp van meganiese oefeninge nie, het Frylinck by Langenhoven 'n liefde vir die ‘byna matematies-logiese taal’Ga naar eind67 Latyn gekweek, in so 'n mate dat hy vir sy eie plesier ekstra gelees het en later sonder 'n woordeboek kon | |
[pagina 123]
| |
klaarkom. Duitse lesse het hy privaat geneem by eerwaarde Carl Prozesky, wat hom daagliks onderrig het, al sou die taal vir hom nooit soveel aantrekkingskrag as Latyn hê nie. Tog het hy in die twintigerjare heelparty vertalings uit die agtiende- en negentiende-eeuse Duitse ‘sang-klassieke’ gemaak wat in Aan stille waters I opgeneem is. Dit was Frylinck wat hom na die vooroefeninge by Bloemkolk aan die hand van woord- en sinsontleding geleer het ‘dat dit nodig is om net so sekuur te wees met die samestelling van 'n sin as wat hy was met die metodiese handhawing van sy roosters aan die muur’.Ga naar eind68 Toe Frylinck in 1897 om 'n onderwysbetrekking in Victoria-Wes aansoek doen, was Langenhoven - in daardie stadium prokureursklerk op Ladismith - een van sy referente wat bereid was om 'n gloedvolle verslag oor sy gewese skoolhoof te skryf. ‘I can testify’, skryf Langenhoven, ‘that he is both efficient and energetic, a perfect disciplinarian and a man whose whole heart is always in his work. He not only has a sound knowledge of all the subjects of instruction, but also the natural ability to impart that knowledge effectively.’Ga naar eind69 | |
IVIn Julie 1890 word Petiet op die ouderdom van 16 jaar en 11 maande in die Riversdalse Public School for Boys toegelaat, waar hy in Junie 1892 sou matrikuleer. Saam met hom uit Ladismith se skool het oorgekom Willie Louw, wie se vader predikant was en wie se neef, A.L. Albertyn, ook op Riversdal skoolgegaan het. Hierdie verandering was nodig, omdat Ladismith se skool destyds nie die senior klasse ingesluit het nie. Daarby was die Riversdalse skool hoog aangeskrewe in die hele omgewing. Daar was, soos Albertyn later sou vertel,Ga naar eind70 op Riversdal nogal 'n beroering toe verneem is dat Langenhoven, wat in 1888 eerste in die ‘Elementary’ en in die pas afgelope eksamen eerste in Skool Hoër in die Kaapkolonie was, sy skoolopleiding by hulle sou kom voltooi. Albertyn vertel dat hy by hulle eerste ontmoeting hom aan Langenhoven voorgestel het en hom gelukgewens het met sy goeie prestasie. Langenhoven het nie geantwoord nie. ‘Dit moet darem wonderlik wees om eerste te kom’, het Albertyn weer probeer. Ook daarop het 'n totale swye gevolg. ‘So iets is heeltemal bo my vuurmaakplek’, het | |
[pagina 124]
| |
Albertyn voortgegaan. ‘Ek is maar so naelskraap deur die “Elementary”’. Ook daarop was daar geen antwoord nie. Albertyn se woorde het opgedroog en hy het beledig gevoel. Eers later, toe hulle beter bevriend was, het hy gemerk dit is 'n eienaardigheid van Langenhoven om nie te antwoord op iets wat jy sê nie. Eers as hy begin voel dis noodsaaklik om met 'n antwoord vorendag te kom, het hy begin praat. Langenhoven het privaat geloseer by mnr. Daniel du Plessis Bland en sy vrou, in 'n huis wat vandag nog op Riversdal te sien is. Mnr. Bland was jare lank stadsraadslid en burgemeester van Riversdal en in 1886 is hy verkies tot Parlementslid, wat hy gebly het tot sy dood in 1892. Langenhoven het daar 'n lang, gesellige kamer van nege voet by twintig voet gehad, met 'n bo- en onderdeur en met 'n mooi uitsig oor die vleiland na die heuwels en bergtoppe van die Langeberge. Dikwels het Albertyn en sy neef, Willie Louw, Langenhoven daar opgesoek, in sy kamer sit en gesels of lang ente in die veld gaan loop, soms op 'n Saterdag toebroodjies en 'n keteltjie vir koffie saamgeneem en die hele dag buite deurgebring. Dan het Kerneels, soos sy vriende hom nou begin noem het, vir hulle uit een of ander boek voorgelees. Aan die einde van die eerste kwartaal het Willie en Kerneels reeds baie huis toe verlang. Op 'n ossewa is die drie vriende saam met oom Stoffel Nel in die nag deur die Garciapas oor die Langeberge en het Kerneels vir hulle vertel dat hy eendag 'n skrywer wil word en reeds besig was met 'n verhaal oor 'n Voortrekkerfamilie wat van die hooftrek afgedwaal en groot probleme en ontberings deurgemaak het. Later van jare kon Albertyn onthou dat Langenhoven hulle attent gemaak het op die eggo wat terugkom na die geklap van die sweep, amper asof die kranse antwoord gee - beelde wat later in sy gedig ‘Die Stem van Suid-Afrika’ sou terugkeer. Die volgende middag was die ossewa nog ver van Ladismith. Die drie seuns het besluit om die meer as twintig myl te loop, en teen tienuur die aand het hulle doodmoeg by die pastorie op Ladismith aangekom. Van daar is hulle na Hoeko, waar hulle die hele vakansie berggeklim en in die bosklowe rondgedwaal het. Toe hulle moes terugkeer skool toe, is hulle op ds. Louw se perdekar na Riversdal.Ga naar eind71 Op skool het Langenhoven hom, soos op Ladismith, eenkant gehou en was hy nie juis baie gewild nie. Hy het nie aan speletjies deelgeneem nie, maar met 'n weeklikse tydskrif, The Pursuit of Knowledge, begin. Elke Maandag is die stukke aan mekaar geheg en teen die muur van die | |
[pagina 125]
| |
klaskamer opgehang. Alhoewel almal vrywillige bydraes vir die blad kon lewer, was Langenhoven die redakteur en vernaamste skrywer. Verder het hy 'n debatsvereniging gestig wat elke Vrydagmiddag na skool bymekaargekom het en waaraan hy, met die skoolhoof as voorsitter, ook 'n leidende aandeel gehad het. Die debatte het, kenmerkend van die tydgees, gehandel oor vraagstukke soos wat meer verwoestend is, vuur of water, of wat die voedsaamste is, brood of vleis. Op 'n keer was die onderwerp: Wat is die beste: 'n rietdakhuis of 'n sinkdakhuis? Langenhoven het 'n pleidooi ten gunste van 'n rietdakhuis gelewer, die soort huis waarin hy op Hoeko grootgeword het. Hy kon sy argumente só opbou dat sy teenstanders nie juis veel verweer gehad het nie. Sy kant het dan ook gewoonlik die debat gewen, want Langenhoven sou selfs 'n slegte saak met sterk argumente oortuigend kon voorstel! As hy eers iets in sy kop gekry het, was hy gewoonlik onstuitbaar. Soos met Bloemkolk op Hoeko en Frylinck op Ladismith het Langenhoven dit gelukkig getref deurdat die bekwame C.F.W. Rosenow hoof van die skool was. Daar het boonop 'n besondere band tussen hierdie onderwyser en leerling ontstaan. ‘Meneer Rosenow was lief vir my en ek vir hom’, skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar. Hy voeg by: ‘Ek sê nie te veel nie as ek sê dat hy met persoonlike belangstelling en simpatie so goed as 'n vader vir my was.’Ga naar eind72 Rosenow is in 1854 in Duitsland gebore en het as jong seun na Suid-Afrika gekom. Sy opleiding het hy ontvang aan die Zonnebloem-kollege en deur privaat studie. Hy was agtereenvolgens onderwyser in Kaapstad, die Paarl, Simonstad, Eersterivier en Somerset-Wes. Op Riversdal was hy hoof van 1885 tot 1901, toe hy om gesondheidsredes moes uittree, hoewel hy later van tyd tot tyd as onderwyser afgelos en ook as inspekteur van skole gedien het. Na sy uittrede het hy hom op Somerset-Wes gevestig, waar hy 'n tyd lank burgemeester was en waar Langenhoven hom tydens Parlementsittings in die twintigerjare dikwels opgesoek het. Na sy dood op 10 Oktober 1927 skryf Langenhoven in sy Aan stille waters-rubriek in Die Burger van 14 November 1927 'n huldeblyk onder die titel ‘'n Werksman na sy rus-toe’. Rosenow het, nes Bloemkolk en Frylinck, nie veel formele kwalifikasies gehad nie, maar sy grondige kennis van die klassieke tale, twee of drie moderne tale, wiskunde en verskeie natuurwetenskappe was duidelik uit sy onderrig. In U dienswillige dienaar sonder Langenhoven onder die veelvuldige dinge wat hy aan Rosenow verskuldig is, die deegli- | |
[pagina 126]
| |
ke voortsetting uit van die onderrig in Latynse prosa, wat die ‘vereistes van logiese sinsbou’Ga naar eind73 by hom tuisgebring het, en die studie van die voorgeskrewe Macaulay's Essay on Milton, waarin die redakteur in die inleiding ‘'n logiese ontleding van die styl gee, van sin tot sin en van paragraaf tot paragraaf’.Ga naar eind74 Wanneer hy in 1921 in Kaapstad en Stellenbosch 'n lesing oor ‘Letterkundige styl’ (opgeneem in Die opdraande pad, 1923) moet hou, vorm Macaulay se opvattinge deel van die teoretiese grondslag van sy uiteensetting. Soos op Ladismith was Langenhoven ook op Riversdal 'n puik leerling. Uit 'n skoolrapport van Maart/Junie 1891 blyk dit dat hy 95% vir Dutch Reading behaal het, 94% vir Dutch Grammar and Composition, 87% vir English and Colonial History, 85% vir English Grammar, 100% vir sowel English Composition as English Reading and Dictation, 97% vir Dynamics, 98% vir Geometry, 93% vir Latyn en 99% vir Bible Study.Ga naar eind75 Uit die skoolregister tydens Langenhoven se termyn op Riversdal is dit egter duidelik dat hy soms lang tye afwesig was, byvoorbeeld van 13 Augustus tot 26 September 1890 en weer van 4 April tot 23 Mei 1892. Wat die rede vir die eerste lang afwesigheid was, is onbekend. Kort voor die matriekeksamen in Junie 1892 het hy egter siek geword. Toe hy moes gaan skryf, was hy nog nie heeltemal gesond nie. Ten spyte hiervan was hy sestiende op die merietelys van die matrikulasie-eksamen. In U dienswillige dienaar sê Langenhoven dat hy in die tyd op Riversdal begin voorkeur gee het aan vakke waarvan hy hou, terwyl hy dié verwaarloos het wat vir hom minder boeiend is, 'n ‘tugtelose gewoonte’ wat sy ‘volharding en selfbeheersing’Ga naar eind76 ondermyn het en waarteen hy in later jare moes veg. ‘Daar kan nie 'n skadeliker ding vir 'n jongeling wees nie’, so skryf hy, ‘as so 'n gebrek aan beide dissipline en selfdissipline.’Ga naar eind77 Een van die redes wat hy vir hierdie toedrag van sake aanroer, is die afwesigheid van vaderlandsliefde en die besef van burgerplig. Die ander was dat hy in die jare op Riversdal in 'n geestesworsteling gewikkel was wat tot 'n twyfel aan die godsdienstige oortuigings van sy ouers en 'n emosionele ontwrigting gelei het, ten spyte van die feit dat sy ‘proposed occupation’ by sy aankoms op Riversdal deur Rosenow as ‘parson’ aangeteken is.Ga naar eind78 Om soos M.P.O. Burgers hierdie geestestryd en godsdienstwyfel toe te skryf aan die moontlikheid dat Langenhoven juis in hierdie tyd die eerste keer besonderhede oor sy moeder se dood en sy geboorte sou verneem het,Ga naar eind79 lyk so verge- | |
[pagina 127]
| |
sog dat 'n mens dit by afwesigheid van enige konkrete feite volledig buite rekening kan laat. Afgesien daarvan dat dié tipe twyfel juis 'n betreklik algemene verskynsel by mense van Langenhoven se aard en leeftyd was, kan 'n mens sê dat so 'n fase vir hom as denkende, lesende en by tye aweregse mens wel die een of ander tyd móés aanbreek. Dat die verset wat in die Riversdalse fase begin het, nie sterker en radikaler was nie, kan moontlik toegeskryf word aan Langenhoven se blywende agting vir die leefwyse van sy jeugomgewing, 'n leefwyse wat in sy agrariese eenvoud eg en suiwer was. Dit is bekend dat ook Rosenow in hierdie jare bekommerd was oor Langenhoven se geestesheil en die afnemende belangstelling in studiewerk,Ga naar eind80 al het hy steeds baie van sy puik leerling verwag en sy loopbaan ook later met belangstelling gevolg. Op 16 April 1895 skryf hy 'n getuigskrif vir Langenhoven waarin hy na hom verwys as ‘a young man endowed with splendid talents’, iemand met 'n uitstekende beheer oor sowel Nederlands as Engels en met 'n besondere kennis van Latyn. Wanneer hy in 1901 verneem dat Langenhoven as advokaat gaan praktiseer, is hy baie ingenome met dié besluit. Op 23 Augustus 1901 skryf hy aan Langenhoven: ‘I cannot withhold or resist expressing the pleasure I felt at seeing that you have at last entered upon the career I always sketched out for you. I have not the slightest doubt about your ultimate success as an advocate, although there may be some hardships at the beginning, but don't let that discourage you. Now only another step and all my hopes for your future will be realised - as soon as you see a chance enter parliament. It is in the political arena where you will achieve success and fame.’Ga naar eind81 Hoewel Rosenow nie korrek was met sy voorspelling dat Langenhoven 'n suksesvolle advokaat sou wees nie, het sy oudleerling tog op 'n ander terrein as regsgeleerde groot roem verwerf. Dat hy reeds 'n toekoms vir Langenhoven in ‘the political arena’ voorsien het, was egter 'n profetiese blik. Hy kon tóé nie voorsien dat die latere toetrede tot die politiek in werklikheid sou saamhang met die allesoorheersende drif en hartstog in Langenhoven se lewe nie, naamlik sy stryd vir die erkenning van Afrikaans en sy optrede as skrywer in daardie taal. |
|