Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 77]
| |
Deel I
| |
[pagina 79]
| |
Hoofstuk V
| |
[pagina 80]
| |
J.H. Langenhoven, dat die stamvader Pierre Guillaume was,Ga naar eind6 al kon hy van die Vlaamse Vereniging voor Familiekunde in Antwerpen geen feitelike gegewens ontvang nie, en dit is - in direkte teenspraak met die stellige aanduiding van Pierre Guillaume as stamvader - ‘dus nog onbekend van watter van die oorsese families ons afstam’.Ga naar eind7 J.H. Langenhoven het wel 'n fotostaat van 'n outentieke handtekening van ou Piet Fransman uit 1798 waar hy sy familienaam met twee o's spel, maar in die opgaafrolle van die Kaapse Argiefbewaarplek kom dit talle kere voor met 'n enkele o, soos ook op sy huweliksregistrasie in 1792. Daar bestaan nie 'n doodkennis van die stamvader nie, maar sy sterfdatum is wel bekendGa naar eind8 en J.H. Langenhoven aanvaar hom dan tog as die stamvader van die Langenhovens in Suid-Afrika. Hierdie afleiding moet 'n mens - met die voorbehoud dat dit tog nie absoluut bewysbaar is nie en 'n greintjie onsekerheid altyd sal bly bestaan - as korrek aanvaar, want navorsing wat Guillaume Brümmer, kleinseun van die skrywer, in Julie 1960 gedoen het, dui alles op Pierre Guillaume as die stamvader. Uit ander genealogiese bronne het Sarah Goldblatt gemerk dat Duinkerken as geboortestad van die stamvader vermeld word. Aangesien Brümmer in 1960 met sy doktorale studie in Amsterdam besig was, het Goldblatt hom versoek om tydens die universiteitsreses na Duinkerken te gaan en die voorgeslagte van die Langenhovens daar na te vors. Die resultaat van hierdie navorsing is vervat in aantekeninge wat Brümmer gemaak hetGa naar eind9 en in twee briewe aan Sarah Goldblatt wat by die dokumentasie op Stellenbosch bewaar wordGa naar eind10 - die belangrikste bronne vir die voorsate van die Langenhoven-familie voordat een van hulle na Suid-Afrika gekom het. Brümmer se navorsing het oor agt dae, met ongeveer agt uur se werk per dag, in Julie 1960 gestrek en is uitgevoer in die biblioteek van die Bureau Civil de Dunkerque, in die besonder deur die registers rakende geboortes, huwelike en sterftes na te slaan. Duinkerken lê nie, soos Sarah Goldblatt gemeen het, in België nie, maar in Frankryk, veertien kilometer van die Belgiese grens. Die stad word die eerste keer in die geskiedenis in die jaar 1067 as deel van die graafskap Vlaandere vermeld. Van ouds was dit 'n sentrum van kaapvaart en 'n ware seerowersnes. Telkens het dit staatkundig verwissel en heen en weer gekaats tussen Frankryk en ander lande. Saam met Vlaandere was dit aanvanklik deel van die Boergondiese Ryk; in 1540 was dit in Engelse besit; in 1558 was dit Frans; in 1559 Spaans en in 1662 weer Frans. Sedert 1662 is | |
[pagina 81]
| |
Nederlands volgens 'n dekreet van Lodewyk XIV as openbare taal verbied en Frans tot ampstatus verhef, al het Nederlands in die sewentiende en die agtiende eeu die enigste algemeen gebruikte taal gebly. Duinkerken lewer selfs 'n bydrae tot die literatuur deurdat die Rederykerskuns daar 'n late bloei belewe in die werk van Michiel de Swaen (1654-1707), wie se bekende ‘vastenavondspel’ De gecroonde leersse ook in Afrikaans opgevoer is in die (nie-gepubliseerde) vertaling van Eitemal. Nederlands was steeds in die onderwys en kerk tot aan die begin van die negentiende eeu in gebruik tot dit finaal verbied is. Vandag praat die vissers en die boere van die naby geleë Rozendaal egter nog steeds 'n Vlaamse dialek.Ga naar eind11 Tydens sy navorsing in Duinkerken kon Brümmer die stamvader se pa en dié se pa en ook ander Langenhovens uit dié tyd terugspoor tot ongeveer die einde van die sewentiende eeu. Sy navorsing was alleen toegespits op die Katolieke geboortes, want die gegewens van die Église Réformée, die Gereformeerde Kerk, het niks opgelewer nie. Vóór 1793 het die Rooms-Katolieke Kerk alle burgerlike registers gehou. Alleen | |
[pagina 82]
| |
mense wat in dié kerk gedoop is, se name is geregistreer; alle ander mense was amptelik nie-bestaande. Die vroegste Langenhoven op wie se naam Brümmer kon afkom, was Jean van Langenhoove,Ga naar eind12 met twee o's gespel. Alhoewel hy kon skryf en Brümmer sy handtekening (en dié van ander Langenhovens) op kalkeerpapier nagetrek het, is die inskrywing, soos die gebruik destyds was, gedoen deur die Franse priester, wat dikwels onseker was oor die Vlaamse spelling en baie keer name verfrans het, soos Jan na Jean, Pieter na Pierre en Guilhelmus of Wilhelmus na Guillaume. Die geboortedatum van Jean van Langenhoove is onbekend, maar hy is tussen Junie 1693 en Maart 1694 oorlede. Ongeveer Junie 1687 is hy getroud met Marie Dirickxsen, lid van 'n talryke familie in die destydse Duinkerken. Of dit 'n tweede huwelik was, blyk nie uit die registers nie, maar hy was die vader van ses kinders van wie net een 'n nageslag opgelewer het. Hierdie kind was Jean Langenhove (nou met net een o geskryf), gebore op 15 Januarie 1688 en getroud met Jeanne Ditters. Sy is in 1714 oorlede en daarna het hy in 1715 hertrou met Anne Suwers (of Suers). Uit sy eerste huwelik is twee kinders gebore. Die tweede kind is op 11 Augustus 1714 doodgebore en Jeanne Ditters het 'n dag later aan kraamkoors gesterf - die eerste keer dat so 'n gebeurtenis in die Langenhoven-familie opgeteken is: 'n voorafskaduwing van die vroeë geskiedenis van haar skrywer-nasaat. Uit Jean Langenhove se tweede huwelik is ook twee kinders gebore. Hulle moet eweneens vroeg gesterf het, want daar is geen dokumentêre besonderhede oor hulle nageslag of sterfdatums nie. Anders as sy vader was hierdie Jean ongeletterd en 'n groot deel van sy lewe 'n matroos. Of hy deel van die Duinkerkse seerowersnes uitgemaak het, is egter onbekend. Hy is in elk geval op hoë ouderdom op 20 Oktober 1760 in sy huis in die Rue Royale 37 oorlede, die woning wat blykbaar vóór en ná hom die tuiste van die Duinkerkse Langenhovens was.Ga naar eind13 Die oorlewende eerste kind uit Jean II se eerste huwelik was Guillaume Jean Langenhove, wat op 5 Desember 1712 gebore is, eers werksaam as garçon cordonnier (leerlingskoenmaker) en later as maître cordonnier (gekwalifiseerde skoenmaker). Hy het agtereenvolgens in die Écluse de Bergues en later die Rue de Sourbise in Duinkerken gewoon. Sy naam het hy geteken as Guilielmus Langhenoue en vir Brümmer het sy skrif 'n verstommende ooreenkoms getoon met dié van Engela, Langenhoven se enigste dogter en Brümmer se moeder. | |
[pagina 83]
| |
Oor sy eerste huwelik is niks bekend nie, maar hy het later hertrou met Catherine Jeanne CappoenGa naar eind14, wat op 24 September 1724 gebore is en eers op 22 November 1816, dus in die rype ouderdom van 92 jaar en twee maande, oorlede is. Sy was die dogter van die bierbrouer François Cappoen en Jeanne-Marie Burtels en het, waarskynlik na haar man en skoonvader se dood, in die Langenhoven-familiewoning in die Rue Royale gaan woon, waar sy ook gesterf het. Uit Guillaume Jean se tweede huwelik is sewe kinders gebore. Van hulle is drie definitief klein dood, terwyl twee se sterfdatums nie bekend is nie. Vermoedelik is hulle ook klein dood, want die betrokke register bevat geen inligting oor hulle nageslag nie. Oor die tweede kind uit die huwelik, Charles Joseph, is slegs bekend dat hy in 1761 gebore is en ná 1815 gesterf het. Die enigste oorlewende van wie ons verder iets weet, is Pierre Guillaume, gebore op 17 Oktober 1755.Ga naar eind15 Indien hy die stamvader was - en alle omstandigheidsgetuienis dui daarop -, was C.J. Langenhoven dus verkeerd as hy in U dienswillige dienaar sê dat die stamvader ‘vroeg in die tweede helfte van die agtiende eeu’ na Suid-Afrika gekom het. Dit was, volgens inligting wat C. Pama verstrek, in 1774 aan boord van die skip 't Huys Oem. Aanvanklik was hy as soldaat aan die Kaap werksaam.Ga naar eind16 Op 16 September 1792 - met ander woorde op sewe en dertigjarige ouderdom en nou volgens die huweliksinskrywing met Pieter Wilhelmus as voorname - trou hy hier met Johanna Catharina Lotz. Sy is op 14 Augustus 1772 in Kaapstad gedoop en op 8 Julie 1850 in die Caledonse distrik oorlede. Pierre Guillaume se sterfdatum is 10 Junie 1824. Met sy geboorte in Duinkerken om eenuur die oggend is hy dieselfde dag gedoop, 'n aanduiding dat hy swak moes gelyk het en gevrees is dat hy dit nie sou haal nie - 'n tweede opgetekende voorafskaduwing van die skrywer-nasaat se eie eerste weke op aarde. Opvallend van die vroeë Langenhovens in Duinkerken is dat die stamboom byna altyd op dogters of jonkdood-kinders uitloop. Opvallend is verder dat die name Guillaume, Pierre, Cornille en Cornelia vroeg in die familie voorkom, al het die skrywer se naam Cornelis 'n ander herkoms en kan dit nie na dié oorsprong teruggevoer word nie. Die ongeletterde matroos het trekke van 'n wilde loot in die stamboom, maar origens wil dit voorkom of die Duinkerkse Langenhovens goeie Vlaminge was. Die inwoners van die stad het in die sewentiende en die agtiende eeu 'n Wes-Nederfrankiese dialek gepraat, alhoewel dit ná die | |
[pagina 84]
| |
[pagina 85]
| |
dekreet van Lodewyk XIV in 1662 tot kombuistaal gereduseer is. Blykbaar was die skoenmaker Guillaume goed tweetalig en het hy 'n neiging gehad om met Franse vriende om te gaan en in die sosiaal hoër Franse geselskap van Duinkerken te probeer klim. Sy seun Pierre Guillaume, wat volgens alle aanduidings die Suid-Afrikaanse stamvader van die Langenhovens was, moes dus reeds 'n groot klap Frans weggehad het. Daarby wyk die Duinkerkse Vlaams met sy talle Franse leenwoorde, wat hy as kombuis-moedertaal gehad het, só sterk af van die ‘algemeen-beskaafde’ Vlaams en die Hollands van die Kaapse koloniste dat dit ruimskoots die oorgelewerde aanname verklaar dat ou Piet Fransman Hollands krom gepraat het, soos C.J. Langenhoven dan ook beweer.Ga naar eind17 Dat hy 'n volbloed-Fransman was, is in elk geval sterk te betwyfel. | |
IIOu Piet Fransman se ouers was albei boorlinge van Duinkerken en hy was die vierde kind van die gesin. Dat enige ander Duinkerkse Langenhoven die stamvader kon wees, lyk verder onwaarskynlik, aangesien daar in die registers van die Rooms-Katolieke Kerk, waarin sy naam opgeteken is, in die jare 1743-1785 geen ander Langenhoven-geboortes voorkom nie.Ga naar eind18 Oor hierdie oorgrootvader van hom sê C.J. Langenhoven in U dienswillige dienaar dat hy, na sy ontslag as soldaat, ‘opsigter (was) van die pad van die Kaap af tot waar nou Sir Lowry's Pass die berge oorgaan. En daar in die hoek van die berge, op die plek wat vandag, of vandag nog, bekend is as Rome, in Hottentots-Holland, bokant wat nou die dorp Somerset-Wes is, het hy sy woning aangelê. Volgens die gemelde familie-oorlewering het die regering (of die Compagnie) as erkenning van sy diens 'n stuk grond aan hom toegeken.’Ga naar eind19 Latere navorsing dui daarop dat die ‘familie-oorlewering’ ook in hierdie geval maar betreklik onbetroubaar was. Piet Fransman was nie opsigter van die Kaapse pad nie, maar inderdaad kloofmaker wat in die ‘Colonies huys’ gewoon en 'n aanmerklike aandeel aan die pad deur die kloof oor die berge na die latere Caledon gehad het. Hy was verantwoordelik vir die instandhouding van die pad en na sy dood het sy weduwee dié moeilike werk - waarskynlik met hulp - voortgesit, al | |
[pagina 86]
| |
moes sy haar toe in die eenvoudiger kloofmakershuisie vestig. Aan die einde van 1825 - dus ongeveer 'n jaar en 'n half na haar man se dood - het sy die kontrak hiervoor teen 1 380 riksdaalders per jaar ontvang. Op 'n keer is sy met 100 riksdaalders beboet omdat sy haar pligte nie na behore nagekom het nie. Onder die dokumente van die kerkraad is daar 'n briefie uit 1844 waarin sy geldelike steun in haar nood vra. Vanweë die ‘geringe inkomst van die Kerke Kas’ kon die kerk haar egter net 'n geskenk van £1 gee.Ga naar eind20 Volgens H.C. Hopkins, wat die geskiedenis van Die Ned. Geref. gemeente Somerset-Wes 1819-1969 beskryf het, is dit onwaarskynlik dat die plaas Rome, soos C.J. Langenhoven beweer, werklik aan die ou Duinkerkenaar behoort het. Rome was vroeër deel van die horingoue plaas Onverwacht van die Morkel-familie en een van hulle het Rome eers in 1828 - toe stamvader Langenhoven al 'n paar jaar dood was - vir een van sy seuns laat opmeet.Ga naar eind21 Tog moes Pierre Guillaume Langenhoven 'n tyd lank op die plaas Onverwacht, waarskynlik dié gedeelte wat later as Rome bekend was, gewoon het. Soos sy kinders na hom is hy in 1792 in die Protestantse Hollandse Kerk getroud en het hy dus waarskynlik in sy nuwe vaderland die geloof van die staatskerk aangeneem. Tog kan die moontlikheid nie uitgesluit word dat die plaasnaam Rome, soos ook sy bynaam Piet Fransman, 'n spottery van sy Kaapse Hollandse vriende met sy taalgebruik en afgeswore Rooms-Katolieke geloof was nie. 'n Naam soos Rome is in elk geval 'n sonderlinge eenling tussen plase soos Rondevlei, Morgenster, Onverwacht, De Bos en Vergelegen, laasgenoemde die historiese opstal van goewerneur W.A. van der Stel. Sarah Goldblatt het egter by geleentheid beweer die naam Rome is 'n vervorming van die woord ‘roem’, terwyl sommige kommentators die naam terugvoer na die sewe heuwels waarop die plaas aangelê is - al is dit vandag bitter moeilik om sewe heuwels raak te sien! In 1918 het die bekende sakeman C.R. Louw buitekant Somerset-Wes 'n plaas gekoop wat oorspronklik deel van Rome was en 'n paar jaar later 'n mooi nuwe huis daar laat bou. Dikwels het Langenhoven, soms vergesel van sy vrou en Sarah Goldblatt, tydens Parlementsittings 'n naweek lank daar gaan besoek aflê en die ruimte, die vars lug, die plaasatmosfeer en die geur van die dennebome geniet. Dit is dan ook hy wat die naam Dennegeur vir die plaas aan die Louws voorgestel het.Ga naar eind22 Ou Piet Fransman se verhouding met die Morkels van Onverwacht moet besonder hartlik gewees het, want van die stamvader se nege | |
[pagina 87]
| |
kinders - van wie vier jonk dood is en slegs twee groot nageslagte nagelaat het - heet die voorlaaste seun Philip Hendrik Morkel Langenhoven. Hy is, volgens J.H. Langenhoven se stamregister, gebore op 19 Januarie 1812 en op 19 Julie van dieselfde jaar gedoop op Swellendam, die derde-oudste Kaapse distrik, wat in daardie jare die hele Overberg tot by die huidige Mosselbaai ingesluit het. Van hierdie grootvader van die skrywer is daar min besonderhede bekend, behalwe dat hy - soos C.J. Langenhoven sê - ‘die vreemde ingereis (het) om vir hom 'n vrou aan te skaf’ en dat hy haar ‘in die distrik Mosselbaai, op die plaas Hamelkop’, gekry het.Ga naar eind23 Op 7 Julie 1833 is hy op George getroud met Margaretha Maria van Koppen,Ga naar eind24 enigste dogter van Philippus Johannes van Koppen en Elizabeth Maria Thuyn van Hartbeestkraal naby Mosselbaai. Sy is op 31 Januarie 1808Ga naar eind25 op haar ouers se plaas gebore en op 25 Mei 1877 op Hamelkop oorlede, meer as elf jaar voor haar man, wat op 12 Julie 1888 daar dood is. Oor sy oupagrootjie Van Koppen, 'n man wat groot grond - ook die plaas Hamelkop - besit het, vertel die skrywer die vermaaklike verhaal van hoe die dogter by geleentheid Kaap toe gestuur is om inkopies te doen en hoe sy op ‘een of ander manier...in een van die eerste winkels haar beurs met die hele tog en vrag se geld (verloor het)’.Ga naar eind26 Haar vader, wat rusteloos begin word het en angstig op haar terugkeer gewag het, se enigste kommentaar was glo dat sy ‘nooit weer van die geld (moet) praat of daaroor dink nie (-) Pappie is alte bly en dankbaar om sy kindjie veilig en gesond terug te ontvang’.Ga naar eind27 Langenhoven se lakonieke kommentaar hierop is: ‘Ek weet ek aard na daardie moederlike grootvader van my. Ek het ook 'n dogter wat een enigste kind is.’Ga naar eind28 Hierdie Van Koppen-grootmoeder se grootvader aan moederskant was Cornelis Jacobz Thuyn, 'n Nederlander uit Alkmaar. Só het dit dan gebeur dat Philip Hendrik Morkel Langenhoven en sy vrou Margaretha Maria van Koppen se vyfde kind na haar grootvader vernoem is. Met die onnoukeurigheid van dié dae, wat sowel amptelike inskrywings as familie-oorlewerings betref, is die naam van die seun, gebore op 26 Maart 1842, egter verkeerdelik ingeskryf as Cornelis Jacob Zetuin, 'n naam wat tot vandag toe nog in die Langenhoven-familie voorkom.Ga naar eind29 Die tweede van hulle nege kinders - van wie twee jonk oorlede is - was Pieter Guillaume, wat op 10 April 1836 op Hamelkop gebore is en dus ongeveer ses jaar ouer as sy broer Cornelis Jacob Zetuin was. Hierdie ouer broer heet na die stamvader Pierre Guillaume, maar in die | |
[pagina 88]
| |
doopregister (George, 24 Julie 1836) word sy name as Pieter Gulhelm aangegee. By sy tydgenote was hy bekend as Oupa-Piet en hy sou later 'n belangrike rol in die lewe van die skrywer speel. Cornelis Jacob Zetuin was die genetiese vader van die skrywer en het soos sy ouer broer en die ander Langenhoven-kinders grootgeword op Hamelkop, 'n pragtige plaas in die Grasveld tussen die see by Klein-Brak en die Outeniekwaberge. Oor die herkoms van die naam heers daar onsekerheid. Volgens sommige is dit 'n samestelling van ‘hamel’ en Van Koppen, maar as gevolg van die bergagtigheid in dié geweste word daar juis nie veel met hamels of skape geboer nie. 'n Aanneemliker teorie is dat die plaas sy naam gekry het van twee ronde koppies, Ronde Hamelkop en Plat Hamelkop, wat soos skoorsteentjies of 'n hamerkopvoël lyk, sodat die ‘hamel’-gedeelte 'n vervorming is van ‘hamer’. Om die plaas te bereik, ry 'n mens van Mosselbaai af tot by Klein-Brak en van daar vyftien kilometer in die rigting van die berge op 'n taamlik hobbelrige pad wat later met geweldige afdraandes afsak tot in die ‘gat’ naby 'n riviertjie. As die skrywer later jare in die titelverhaal van Die wandelende geraamte praat van 'n plaas in die Grasveld wat groot genoeg was vir een ‘maar glad te klein’ om onder ‘ons klomp seuns’ verdeel te word, het hy duidelik Hamelkop in gedagte.Ga naar eind30 In die skets oor ‘Die ou wa’ in die reeks ‘Afskeidstemme’ in die tweede deel van Ons weg deur die wêreld is die plaas in die Grasveld ook weer die geboorteplaas van Langenhoven se vader.Ga naar eind31 Saam met sy ses oorlewende seuns en twee dogters het Philip Hendrik Morkel Langenhoven 'n gemengde boerdery met ertjies, patats, mielies, aartappels en bone behartig, met 'n paar koeie en 'n klompie osse, muile en perde. Om verder inkomste te verkry, moes die kinders aalwyn tap en brandhout uit die klowe op hulle skouers aandra en is hout tussen Klein-Brak en Schoemansdrift met muilwaens aangery. In die nag twaalfuur moes hulle begin met die koeie sodat die melk soggens om halfvyf by Klein-Brak afgelewer kon word. Die Langenhovens van Hamelkop was almal hardwerkende mense met 'n goeie inbors, maar met die skuins koppe, die onegalige bodemgesteldheid en die klein stukkie verboubare grond was die moontlikhede beperk. Daarby het die Langenhovens van Hamelkop deur verdere huwelike en geboortes begin aangroei.Ga naar eind32 Vandaar dat die oudste seun, Pieter Guillaume, in die rigting van die Klein Karoo uitgewyk en hom in die Oudtshoornse distrik by 'n me- | |
[pagina 89]
| |
neer Eaton in die wamakersamp bekwaam het. Later het hy hom, aanvanklik as bywoner, op die plaas Hoeko naby Ladismith gaan vestig. Om nog meer geld te verdien, het hy met die ossewa transport gery Transvaal toe.Ga naar eind33 Op dié wyse kon hy grond teen baie lae pryse koop, die regte beleggings maak en was hy later van tyd 'n betreklik welgestelde man. Sy jonger broer, Cornelis Jacob Zetuin, het ook die uitsigloosheid van die Hamelkop-boerdery met die steeds toenemende getal nasate ingesien en hom aanvanklik op die plaas Kafferskraal, nog steeds in die Grasveld en ook in besit van sy grootvader Langenhoven, gevestig. Later was hy tog weer terug op Hamelkop, maar van tyd tot tyd het hy by sy broer op Hoeko gaan kuier en soms maande lank daar gebly om met die boerdery te help. Pieter Guillaume is intussen getroud met Margarita Susanna Petronella Blignaut, wat op 29 Oktober 1826 gebore is, 'n weduwee met twee kinders uit haar eerste huwelik met Cornelis Vrey. Tydens een van die besoeke het die jonger Langenhoven-broer sy skoonsuster se suster, Rachel Margaretha Susanna Blignaut, daar ontmoet en op haar verlief geraak. Sy is op 30 Mei 1848 gebore en was dus ongeveer twee en twintig jaar jonger as haar suster. Die twee Blignaut-susters was die dogters van Margaretha Susanna Petronella van Wyk en Andries (of Andreas) Petrus Blignaut,Ga naar eind34 maar in een of ander stadium het Pieter Guillaume Langenhoven en sy vrou - volgens 'n mededeling van die skrywer aan Vroutjie in 'n brief van 29 Mei 1902 - die jonger Blignaut-suster as hulle eie kind aangeneem. Rachel en Cornelis Jacob Zetuin Langenhoven is op 10 Junie 1867 op Ladismith getroud en is onmiddellik of kort ná die huwelik terug na Kafferskraal in die Grasveld, waar hulle oudste seun, Philip Hendrik Morkel, op 6 Maart 1868 gebore is. Kort ná hierdie geboorte, in Februarie 1869, het die eerste ramp hierdie Langenhoven-gesin oorval. Die dig begroeide heuwels en vlaktes, van Klein-Brak en George af tot by Humansdorp, het vlam gevat. In die bestek van 'n enkele dag is die hele woudgebied oor 'n afstand van 480 kilometer in 'n uitsonderlik droë jaar geheel en al vernietig - een van die grootste natuurrampe wat Suid-Afrika nog getref het. In later jare het sy vader aan Langenhoven 'n beskrywing van die brand gegee. ‘Daar was 'n gedreun soos van 'n geweldige storm’, so vertel die skrywer dit in U dienswillige dienaar, ‘en 'n gebreek en gekraak deur die digte houtbos van wilde diere en mak diere wat wanhopig vlug - | |
[pagina 90]
| |
om tog maar óm te kom. Geen perd kon die voortjagende vuur voorbly nie; waar hy oor 'n rant kom brand hy nie deeskant af tot in die kloof oorkant uit nie; vuurhope word met die orkaan van wind deur die lug geslinger om 'n nuwe vatplek te kry teen die volgende helling.’Ga naar eind35 Terwyl die jong vader op soek was na sy vrou, het sy met die baba die riviertjie ingevlug. Daar het hy haar gekry en daarvandaan is hulle te voet deur die verbrande wêreld tot by hulle ouers op Hamelkop, ‘met die suieling en die klere wat hulle aan hulle lyf had’.Ga naar eind36 Die afgebrande landerye en die klein veestapeltjie wat daarmee tot niet was, het die jong Langenhoven-gesin laat besluit om by hulle broer en suster op Hoeko 'n heenkome te vind. Daar het hulle aan die westekant van die Kobusrivier onder die bronsloot ingetrek op 'n stuk grond wat die ouer broer intussen bygekoop het,Ga naar eind37 terwyl Pieter Guillaume en sy vrou aan die ander kant gewoon het in een van die ou opstalle van die plaas, ‘'n groot drievlerk-huis met ontsaglike dik mure en klein vensterruitjies, onder 'n rietdak’.Ga naar eind38 In die huis van die jonger Langenhoven-egpaar was daar naas die oudste seun nog twee kinders: Andries Petrus Blignault (soos die van later gespel is), vernoem na sy oupa aan moederskant, wat op 30 Januarie 1870 op Hoeko gebore is, en Margaretha Susanna Petronella,Ga naar eind39 gebore 16 November 1871, wat klein dood is - volgens U dienswillige dienaar náGa naar eind40 maar volgens ander bronne vóór die geboorte van die skrywer.Ga naar eind41 Die ouer Langenhoven-egpaar het geen eie kinders gehad nie. Benewens die twee Vrey-kinders uit Margarita Susanna Petronella se eerste huwelik het hulle egter vier ander kinders aangeneem of grootgemaak. As 'n mens die stamboom van C.J. Langenhoven nagaan, is dit opvallend dat hy van vaderskant, afgesien van die Duitse Lotz-familie van die stamvader se vrou, veral van Nederlandse herkoms was, soos die agtername Ras, Van Koppen, Snyman, Thuyn en Nieuwenhuysen dan ook getuig. Hulle was almal gesinne wat hulle in die tweede helfte van die agtiende eeu aan die Kaap gevestig het. Van moederskant het hy naas Nederlandse en Duitse afstamming (Grové, Van Wyk en Van der Berg) ook Franse bloed bygekry. Jean Blignaut, vader van die skrywer se oupa, het in 1723, met ander woorde heelwat later as die Hugenote van 1688, as adelbors op die skip Huis ten Assenburgh in die Kaap aangekom. Later was hy die eienaar van die pragtige plaas Zion, en alles dui daarop dat hy ook sy ouers uit Europa laat kom het om by hom te kom woon. Ook 'n Gous-voorsaat van Langenhoven was van Franse af- | |
[pagina 91]
| |
koms. Wat daar aan egte Kaapse Hugenotebloed in die skrywer mag gevloei het, was egter waarskynlik afkomstig van sy oumagrootjie Maria Magdalena Marais, wat in 1778 met Jan Blignaut getroud is. Sy was die dogter van Pieter Marais en Aletta van Biljon. In watter mate Langenhoven iets van hierdie voorsate van hom geweet het, is onbekend, aangesien hy in sy geskrifte niks van die Marais's, die Van Wyks, die Gouse en die Van der Bergs vermeld nie. Sy oupa- en oumagrootjies is waarskynlik almal, te oordeel na hulle geboortedatums tussen 1755 en 1780, voor sy geboorte oorlede. Van sy grootouers aan moederskant sê hy in U dienswillige dienaar slegs dat hulle in 'n ‘opstal...in 'n waterval-bergkloof’Ga naar eind42 gewoon het. Hierdie grootouers, Andries (of Andreas) Petrus Blignaut en Margaretha Susanna Petronella van Wyk, is op 15 Januarie 1800 en 6 April 1806 gebore en het nog geleef toe Langenhoven in Augustus 1873 gebore is. Hulle het in die Swellendamse distrik gewoon, wat in daardie jare via Riversdal tot aan die Klein-Swartberge gestrek het. | |
IIIIn direkte teenspraak met die oorgrote meerderheid gepubliseerde biografiese sketse, ook die besonderhede wat hy self in U dienswillige dienaar verskaf, weet ons slegs met sekerheid dat die skrywer Langenhoven in Augustus 1873 gebore is. Alle ander gegewens is óf foutief óf, by gebrek aan die nodige dokumentasie, ten minste betwisbaar. In ouer oorsigte oor die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur is dit opvallend dat daar oor Langenhoven se lewensloop besonder min inligting verskaf word. In die eerste druk van Die prosa van die Twede Afrikaanse Beweging praat P.C. Schoonees byvoorbeeld net van die skrywer se funksie as politikus, joernalis, digter, prosaïs en toneelskrywer, sonder om die geboortejaar te vermeld.Ga naar eind43 Tot in die derde uitgawe van sy Taal en poësie van die Twede Afrikaanse Beweging laat E.C. Pienaar sy oorsig van die lewensloop van Langenhoven met die volgende woorde begin: ‘Ons besit geen outentieke gegewens aangaande Langenhoven se geboortejaar en jeug nie, omdat die skrywer tot dusver nog volstandig geweier het om persoonlike mededelinge betreffende sy eie lewensloop te doen.’Ga naar eind44 Eers in sy U dienswillige dienaar sê Langenhoven dat hy in ‘die nag tussen 12 en 13 Augustus 1873’ gebore is, ‘'n ou | |
[pagina 92]
| |
dingetjie wat so swak en tengerig was dat hy nooit kon lewe nie en tog geleef het’.Ga naar eind45 Langenhoven dui hier dus sy geboortedatum as die nag tussen 12 en 13 Augustus 1873 aan, maar dit was sy gewoonte om sy verjaardag altyd op 12 Augustus te vier. In die doopregister van die Ned. Geref. Kerk op LadysmithGa naar eind46 staan egter aangeteken dat hy op 28 September deur ds. D. van Velden gedoop en op 13 Augustus 1873 gebore is. Ook in 'n eksemplaar van sy bekende verjaardagboekie, wat deur hom as geskenk aan sy vriend Jacob Smit gegee is, het Langenhoven sy eie naam by die datum 13 Augustus ingeskryf. Dat hy sy verjaardag altyd op 12 Augustus gevier het, kan teruggevoer word na Langenhoven se befaamde bygelowigheid en vrese en die algemene opvatting oor dertien as ongelukkige getal, soos ook die testamentêre bepaling dat hy eers begrawe moes word drie dae nadat hy medies dood verklaar is. Daarby word sy tweede naam op die geboortesertifikaat met 'n c gespel, soos dié van sy vader na wie hy heet - dus, nie Jakob soos Sarah Goldblatt en hy dit selfGa naar eind47 gespel het en soos dit op sy grafsteen verskyn nie.Ga naar eind48 In U dienswillige dienaar sê Langenhoven dat hy na sy vader vernoem is, maar dat ‘die derde naam op een of ander manier’ by sy doop ‘agterweë gebly’Ga naar eind49 het. Op die doodkennis van sy moeder word Langenhoven se naam egter aangedui as Cornelis Jakob (nou met 'n k gespel) Zetuin. Uit hierdie klein Babelse verwarring moet 'n mens dan maar aan die gesaghebbendste dokumentasie voorrang verleen en tot die gevolgtrekking kom dat Cornelis Jacob Langenhoven op Woensdag, 13 Augustus 1873, gebore is. Dit was klaarblyklik die bedoeling dat sy derde naam Zetuin moes wees, maar op die doopsertifikaat - met sy oom Pieter Guillelmus (sic!) van (sic!) Langenhoven en sy vader Cornelis Jacob Zetuin (Langenhoven) as getuies - het dit verval. Die feit dat Langenhoven, soos hy dit self stel, ‘so swak en tengerig’ was dat hy eintlik nooit kon gelewe het nie, dui op uitsonderlike omstandighede tydens sy eerste lewensdae. By hierdie omstandighede staan Langenhoven stil in hoofstuk 3 van U dienswillige dienaar. Voor sy geboorte het sy ouers reeds drie kinders gehad, twee seuntjies en 'n dogtertjie. Die tweede seuntjie en die dogtertjie was by Langenhoven se geboorte onderskeidelik ongeveer twee en 'n driekwart en twee jaar oud, indien die dogtertjie dan nog geleef het. Die seuntjie het op 'n dag saam met 'n bruin maat gespeel, bokant die opstal teen die helling waar die strooihuise van die plaasarbeiders was. By die strooihuise was daar | |
[pagina 93]
| |
nog brandende kole van die oggend se vuur, maar die ma van die bruin kind was met huiswerk in die opstal besig en die pa het Langenhoven se vader met die ploeëry onder by die rivier gehelp. Toe die bruin arbeider 'n keer opkyk, merk hy sy huis is besig om af te brand.Ga naar eind50 Vader Langenhoven het na die brand se kant gehardloop, net om te sien hoe die strooihuis inmekaar stort en 'n paar vroue besig was om sy vrou te lawe. Self het hy die vuur ingestap om met gaar verbrande hande en arms die ‘onherkenbare lykie (van sy kind) onder die vuur’Ga naar eind51 uit te haal. Presies wanneer hierdie gebeurtenis plaasgevind het, is onseker, omdat die dood van die gestorwe seuntjie, Andries Petrus Blignault Langenhoven, gebore 30 Januarie 1870, nooit amptelik aangemeld is nie en 'n sterfkennis van hom dus nie bestaan nie.Ga naar eind52 Dit is trouens 'n bekende verskynsel in die negentiende-eeuse Suid-Afrika dat sterfgevalle onder jong kinders, veral waar dit, soos in hierdie geval, met verdere traumatiese gebeurtenisse en ontwrigtings gepaard gegaan het, nooit geregistreer is nie. Ook van Langenhoven se sustertjie, Margaretha Susanna Maria, gebore 16 November 1871, bestaan daar geen doodkennis nie. By gebrek aan meer spesifieke gegewens moet 'n mens dus aanvaar dat sy, soos Langenhoven in U dienswillige dienaar skryf, dood is ná die brandramp en voordat sy volwassenheid bereik het, al is dit eienaardig dat daar geen besonderhede oor haar lewensduur en die aard van haar dood bestaan nie. Die vader, so vertel Langenhoven verder oor die ramp soos dit later aan hom meegedeel is, was ‘rasend’ en die moeder het ‘van die een floute in die ander geval’.Ga naar eind53 Sy het te kenne gegee dat sy nie meer wil lewe nie en dat hulle haar ongebore kind aan haar suster moet gee om groot te maak.Ga naar eind54 Haar verdriet, so gaan Langenhoven voort, ‘het nie lank geduur nie. Onder die skok van die treurspel half-besweke, het sy die orige van haar lewe gegee om, voor die tyd, 'n ander lewe in die wêreld te bring, 'n ander kindjie om net te sien en vir laaste sien te groet....Vyf dae ná my geboorte is my moeder Rachel dood.’Ga naar eind55 Die doodkennis dra die datum 18 Augustus 1873. Sy is oorlede in die ouderdom van 25 jaar, 2 maande en 18 dae. Die vraag ontstaan egter waar Langenhoven gebore en waar sy moeder oorlede is - jare lank die tergendste misterie in verband met die eerste lewensdae van die skrywer. Alle publikasies waarin lewensbesonderhede ná die skrywer se dood verstrek word, sê dat hy op die | |
[pagina 94]
| |
plaas Hoeko in die distrik Ladismith gebore is. In die loop van jare het daar egter allerlei gerugte oor Langenhoven se geboorte in omloop gekom, in 'n streek waar krieseltjies feite gou tot 'n verhaal saampak en tot legendes verdig. So is daar beweer dat hy op Knysna, Mosselbaai of Riversdal gebore is, selfs dat hy 'n buite-egtelike kind van 'n Joodse vader is! J.H. Langenhoven beweer in sy geslagsregister dat Langenhoven se moeder op 18 Augustus 1873 op Mosselbaai oorlede is.Ga naar eind56 Indien die skrywer as 'n baie tenger kind, wie se lewe aan 'n draadjie gehang het, op 13 Augustus 1873 op Hoeko gebore is, lyk dit baie onwaarskynlik dat die moeder, self ernstig siek na 'n te vroeë geboorte en diep geskok na die branddood van haar tweede-oudste seun, só ver vervoer sou word om vyf dae later op of naby Mosselbaai te sterf. Die skrywer Abraham H. de Vries het egter jare later van 'n man met die bynaam Jan Donkie verneem dat Langenhoven se moeder op Novo naby die Garciapas begrawe lê,Ga naar eind57 'n kontrei plase ongeveer tien kilometer van die dorp Riversdal en sowat 80 kilometer van Ladismith. As 'n mens in ag neem dat alle paaie in die jaar 1873 ongeteer was en dat die vinnigste vervoermiddel vir 'n baie siek persoon destyds 'n perdekar was, verdiep die raaisel in verband met die plek van Langenhoven se geboorte en sy moeder se oorlyde verder. Gedeeltelik moet die ontstaan van hierdie misterie en die onsekerheid gesoek word in die trauma rondom Langenhoven se geboorte en dat mense jare na die gebeure by gebrek aan konkrete gegewens begin bylas en fantaseer het. Waarskynlik was baie mense bewus daarvan dat Langenhoven se genetiese vader later weer op die plaas Hamelkop gaan woon het en kon die verhaal in verband met 'n Mosselbaaise geboorte en sterfte op dié wyse in omloop gekom het. Andersyds lê die verwarring in die feit dat die distrikte in die negentiende eeu anders ingedeel was as tans. Die distrik Swellendam, byvoorbeeld, het tot 1849 die huidige Riversdal ingesluit en tot by die Klein-Swartberge gestrek, terwyl Ladismith eers in 1879 - meer as ses jaar na Langenhoven se geboorte - onafhanklik van Riversdal geproklameer is. Vandaar dat die plaas Hoeko waarop die twee Langenhoven-broers in 1873 geboer het, aanvanklik onder Swellendam en later Riversdal as 'n leningsplaas geval het. Dit is die eerste keer op 1 November 1838 in erfpag aan die Kok-familie toegeken, later (1860) gedeeltelik oorgedra aan Cornelis Vrey en nog later (1873), ook gedeeltelik, aan P. Oosthuizen. As daar dus sprake is dat Langenhoven in Riversdal gebore en sy moeder daar | |
[pagina 95]
| |
oorlede is, kan die verwarring teruggevoer word na die negentiendeeeuse distriksgrense en die wanopvattinge wat by mense sonder hierdie kennis by die raadpleging van dokumente kon posgevat het. Dat die fisiek en geestelik geknakte moeder onmiddellik na die geboorte van haar te vroeggebore en uiters tenger seuntjie geskei sou geword het, kan 'n mens sonder meer as heeltemal onwaarskynlik yerwerp. Dit is egter nie onmoontlik nie dat Rachel se suster en swaer, gesteun deur haar man, ná die brandramp op Hoeko uit die goedheid van hulle harte besluit het dat dit in die beste belang van die ylende moeder was om haar vir die res van haar swangerskap van die toneel van die ongeluk weg te neem, veral toe sy te kenne gegee het dat sy nie meer wil lewe nie. Die aangewese plek om die verwagtende moeder, toe pas in haar ses en twintigste jaar, heen te neem, was die plaas van haar ouers. Was dít wel die geval, dan is die vraag: waar het die ouers in Augustus 1873 gewoon? In U dienswillige dienaar sê Langenhoven dat sy grootouers aan moederskant se opstal ‘in 'n waterval-bergkloof’Ga naar eind58 geleë was. Hy sê nie hoe die plaas heet nie, maar die naam Waterval is die eerste wat 'n mens by so 'n omskrywing te binne skiet. As 'n mens nou Jan Donkie se mededeling aan Abraham H. de Vries onthou en in die Novo-omgewing naby Riversdal gaan rondsoek, kom jy af op die plase Waterval en Groot-Waterval. Nie een van dié twee plase lê egter in 'n ‘bergkloof’ nie en by die familiegrafte is daar geen spoor van Rachel Langenhoven nie. Gaan 'n mens egter die transportaktes van die negentiende eeu na, kom jy af op die plaas Elands Fontyn Nommer 64 wat in die jare 1838-1854 in besit was van A.P. Blignaut voordat dit aan die Berliner Mission Gesellschaft verkoop is om die sendingstasie Amalienstein te word. Op hierdie plaas, en in die rigting van die Klein-Swartberge, lê 'n gedeelte wat nooit apart opgemeet is nie maar by almal in dié omgewing as Waterval bekend was. Só is dit inderdaad ook op gebiedskaarte van dié geweste aangedui. Langenhoven sê dan ook in U dienswillige dienaar dat sy grootvader se plaas ‘in 'n watervalbergkloof (was) kort bokant waar later die Berlynse sendingstasie Amalienstein aangelê is’.Ga naar eind59 Hierdie plaas met sy waterval, kilometers ver sigbaar en groter as enige ander waterval in die nabygeleë Seweweekspoort, kan moeilik iets anders wees as die onderdeel van Elands Fontyn Nommer 64 wat die Blignauts besit het. Op die doodkennis van Rachel Margaretha Susanna Blignauld (nou met 'n tweede 1 | |
[pagina 96]
| |
[pagina 97]
| |
[pagina 98]
| |
en 'n d gespel) word dan ook vermeld dat sy gebore is ‘te Waterval, Distrikt Riversdale’. 'n Mens kan vermoed dat Blignaut en sy vrou na die verkoop van hulle plaas aan die Berliner Mission Gesellschaft woonreg op Waterval (wat nooit 'n aparte plaas was nie) vir hulself behou het. Vir bejaarde mense, soos hulle in 1873, was dit op ongeveer twintig kilometer afstand in die onmiddellike nabyheid van hulle kinders op Hoeko. Die doodkennis vermeld verder die name van die oorledene se ouers: Andrias Petrus Blignauld en Margaretha Susanna Petronella van Wyk. Die beroep van die oorledene word aangedui as ‘landbouwer’; dit was die gebruik in die Kaapkolonie van die negentiende eeu om die beroep van die eggenoot in te vul indien die gestorwene nie self 'n beroep beoefen het nie. Die doodkennis is onderteken op 25 Augustus 1873 op die plaas Weltevreede deur C.J. Langenhoven (eggenoot van Rachel), met J.J. Nel as getuie. Weltevreede, of Weltevreden soos dit vandag heet, is die buurplaas van Hoeko, en Nel was die eienaar en na alle waarskynlikheid vrederegter met die volmag om amptelike registrasies waar te neem. Terwyl dit nog deel van die Swellendamse distrik gevorm het, is Weltevreden in erfpag toegeken aan A.P. Blignaut en het dit in daardie stadium regstreeks aan Elands Fontyn gegrens. Die problematiese deel van die doodkennis, wat - waarskynlik deur Nel - op gewone papier en nie op die voorgeskrewe vorm uitgeskryf is nie, is die mededeling dat die gestorwene ‘overleeden (is) 18de Augustus 1873 ter zyner woning’. Aangesien die eggenoot se naam nêrens, behalwe dan in sy handtekening onderaan, vermeld word nie, wys ‘zyner’ binne hierdie konteks terug na Andrias Petrus Blignauld en ‘woning’ na Waterval, waar Rachel gebore is en waar die vader en moeder blykbaar steeds woonagtig was. Indien hierdie afleiding korrek is, moet 'n mens verder tot die gevolgtrekking kom dat die moontlike besluit van die ouer Langenhoven-egpaar en die eggenoot van Rachel om die siek, verwagtende en erg geskokte vrou na haar ouers se huis te vervoer, in 'n verdere ramp ontaard het. As gevolg van die skok en die rit op die perdekar oor 'n afstand van twintig kilometer is die bevalling geïnisieer, het die geboorte vroegtydig plaasgevind en is die moeder vyf dae later oorlede. Wat dus bedoel was as 'n daad in die beste belang van moeder en kind, het tot 'n verdere katastrofe gelei. Hierdie teorie - want veel meer as 'n teorie is dit nie - het slegs die | |
[pagina 99]
| |
wankelrige substansiële basis dat die frase ‘ter zyner woning’ binne die spesifieke konteks na die oorledene se vader terugverwys. Enigiemand wat al met ou dokumente uit vorige eeue te make gehad het, weet egter maar alte goed dat daar talle verskrywings en foute in voorkom en dat die registrasies dikwels onvolledig is. So 'n enkele frase kan dus nie as deurslaggewende bewysvoering geld nie. 'n Mens vermoed egter dat vrederegter Nel, hoe onsorgvuldig ook al, met die ‘zyner’ in ‘overleeden ter zyner woning’ die eggenoot van die oorledene bedoel. C.J.(Z.) Langenhoven het immers langs hom gestaan terwyl hy besig was om die doodkennis uit te skrywe. By Langenhoven self was daar, soos uit U dienswillige dienaar blyk, geen twyfel dat hy op Hoeko gebore is nie. As hy in hoofstuk 2 praat van die plaas waar hy ‘gebore is en groot geword het’,Ga naar eind60 bedoel hy Hoeko, terwyl hy in hoofstuk 3 verwys na een van die eerste stukke grond wat Pieter Guillaume Langenhoven bygekoop het as ‘die einste plek waar ek later gebore is’.Ga naar eind61 In sy outobiografie sê Langenhoven dat sy genetiese vader ‘aan die westekant van die rivier onder die bronsloot gewoon’ het, dié gedeelte van die plaas waar hy na die brand in die Outeniekwaberge opnuut begin boer het. Dit is in hierdie huis, so sê hy uitdruklik in hoofstuk 4, waar hy gebore is en van waar hy na die dood van sy broertjie en sy moeder na sy oom en tante se woning, ‘die ou opstal aan die oorkant van die rivier’,Ga naar eind62 geneem is om in hulle pleegsorg geplaas te word. In die huis aan die oostekant van die rivier het Langenhoven, volgens sy eie getuienis, ‘die eerste sewe agt jaar van (sy) lewe deurgebring’.Ga naar eind63 Dié deel van die plaas was, volgens die transportakte, sedert 16 Mei 1860 in besit van Cornelis Vrey, Margarita Susanna Petronella Blignaut se eerste man. Toe sy op 24 Desember 1860 weer getroud is, het sy en haar tweede man bly woon op die Vreygrond, terwyl Pieter Guillaume Langenhoven met die jare ander grond bygekoop het, onder meer dié deel aan die oorkant van die rivier wat deur sy jonger broer bewoon is. Intussen het hy egter ook deur sy huwelik die eienaar van die grond aan die oostekant van die rivier geword, want op 30 Junie 1883 kon hy 'n transport van dié deel van die plaas laat uitreik ten gunste van sy stiefskoonseun Willem Jacobus van der Merwe, wat getroud was met die Vrey-dogter uit sy vrou se eerste huwelik. Blykbaar het Pieter Guillaume en sy vrou in 1883 egter reeds oorgetrek gehad na die westekant van die rivier, want Langenhoven sê dat hy net ‘die eerste sewe agt jaar’Ga naar eind64 van sy lewe in die ou opstal | |
[pagina 100]
| |
deurgebring het en dat sy genetiese vader tot sy agtste jaar, dit wil sê tot 1881 toe, op Hoeko bly woon het voordat hy weer terug is na Hamelkop.Ga naar eind65 Die huis waar Langenhoven die eerste sewe of agt jaar van sy lewe gewoon het, bestaan vandag nie meer nie.Ga naar eind66 Indien hierdie inligting korrek is, beteken dit dus dat die geboortehuis oorspronklik die woning was waar Langenhoven se genetiese vader aan die westekant van die rivier gewoon en waar die pleegouers van sy agtste jaar af gaan woon het. Tog was daar al die jare steeds onsekerheid oor die geboortehuis, want die dokumentasie by die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede (RNG) oor dié huis as geboortehuis dateer uit die jare 1946 en 1947 en is besonder yl. In 'n brief van 9 Julie 1946 vra dr. A. Kieser Sarah Goldblatt om hom te help met die dokumentering van Langenhoven se geboorteplek. Op 10 Februarie 1947 rig hy 'n versoek tot die Historiese Monumentekommissie (voorganger van die RNG) om die ou opstal op Hoeko tot geboortehuis te verklaar, maar sy enigste bewysvoering is dat alle gepubliseerde bronne dié huis as sodanig aandui!Ga naar eind67 So 'n lukraak motivering is egter nog nie deurslaggewend genoeg om die opstal bo alle twyfel as geboortehuis te laat kwalifiseer nie. Waarskynlik was Sarah Goldblatt, wat te alle tye die belange van Langenhoven op die hart gedra het, bewus van stories soos dié van Jan Donkie en die onsekerheid wat as gevolg daarvan ontstaan het. So iets moes in regstreekse stryd met haar ingebore sin vir orde en fatsoen gewees het. Sy sou 'n onbetwisbare en ondubbelsinnige oplossing vir die hele aangeleentheid wou hê. As Langenhoven dan nie meer 'n bestaande geboortehuis gehad het nie, sou sy met haar kenmerkende drif en ywer vir hom een skep en sorg dat dit so verklaar word. Die aangewese huis was die bestaande opstal op Hoeko, en die nodige dokumentasie sou sy verkry van Vroutjie, wat as weduwee en oudste oorlewende van dié vroeë jare 'n onaantasbare posisie beklee het. Daarom dat sy juis in die tyd tussen Kieser se twee briewe in haar eie handskrif en voor 'n getuie 'n volledige verklaring oor die hele aangeleentheid van Vroutjie, in daardie stadium reeds vier en tagtig jaar oud, afgeneem het. Hierdie verklaring is opgestel en onderteken te Arbeidsgenot op 12 Januarie 1947, met ander woorde minder as 'n maand voor dr. Kieser se voorlegging in verband met die Hoeko-opstal aan die Historiese Monumentekommissie. In dié verklaring sê Vroutjie onder meer dat sy voor haar huwelik | |
[pagina 101]
| |
met Langenhoven op 11 Januarie 1882 met Anthonie Georg Eliab van Velden getroud was tot sy dood in Februarie 1893 en dat hulle op Ladismith woonagtig was. Haar eerste man, so gaan sy voort, ‘was baie intiem bevriend met Pieter Guillaume Langenhoven woonagtig op Hoeko’, soos ook haar skoonvader, ds. Van Velden, wat al dood was toe sy met sy seun getroud is. Pieter Guillaume en sy vrou was die pleegouers van haar tweede man. Na haar huwelik met Van Velden het sy dikwels by die Langenhovens op Hoeko gaan kuier, ‘lange jare voordat daar enige gedagte was’ dat sy met hul pleegseun sou trou. ‘Tydens my besoeke op Hoeko in Oom Pieter se huis’, so sê sy, ‘het hy en sy vrou ons dikwels vertel van die tragiese gebeurtenisse in verband met Cornelis Jakob ZetuinGa naar eind68 se geboorte. Ek weet waar sy ouers se huis gestaan het. Oom Pieter, en trouens ook ander mense op Hoeko, het my dikwels beduie waar die pondok gestaan het wat aan die brand geraak het - as gevolg waarvan 'n seuntjie van Cornelis se ouers verbrand is, en as gevolg waarvan Cornelis se ouers na Oom Pieter gekom het om hulp te soek omdat die moeder wat verwagtende was hulp nodig gehad het.... Oom Pieter en Tante Grietjie het my dikwels vertel hoedat Langenhoven toe in sy huis gebore is, en gewys in watter kamer.Ga naar eind69 Dit is dieselfde huis waar ek soos hiervoor beskryf is, gekuier het. Dit is dieselfde huis wat nou aangewys word as Langenhoven se geboortehuis.’ Dat Vroutjie nog in 1947 'n dokument van dié aard in die handskrif van Sarah Goldblatt onderteken het, kan net op een ding dui. Saartjie wou graag die onsekerheid in verband met Langenhoven se geboorteplek finaal beëindig deur 'n kanonieke weergawe as enigste en absoluut getroue verslag te bied. Dit was trouens 'n bekende en kenmerkende werkwyse van haar om uitsluiting en sanksionering deur middel van 'n verklaring te verkry indien daar enige sweem van twyfel oor 'n saak rakende Langenhoven bestaan het. Kieser se dokumentasie vir die Monumentekommissie was egter ontoereikend. Saartjie sou met 'n verklaring van Vroutjie 'n deurslaggewende bydrae kon lewer om die Hoeko-opstal tot geboortehuis te laat verklaar, nog 'n gedenkteken vir haar geliefde ‘Chief’ in die reeds indrukwekkende reeks en iets wat sy kon byvoeg by die uitvoering van haar taak as administratrise van sy nalatenskap. Vroutjie se verklaring is egter, soos dit deur Sarah Goldblatt afgeneem is, regstreeks teenstrydig met Langenhoven se eie inligting. In | |
[pagina 102]
| |
hoofstuk 4 van U dienswillige dienaar sê hy uitdruklik dat hy uit die huis van sy genetiese vader, ‘waar ek gebore is’ en waar hy weer van sy agtste jaar af gewoon het, geneem is na die huis van sy pleegouers, ‘die ou opstal aan die oorkant van die rivier’.Ga naar eind70 Hierdie inligting klop ook met die familie-oorlewering by die Van der Merwe-familie van Hoeko dat die klein babatjie na die dood van sy moeder deur die rivier na die huis van die pleegouers gedra is.Ga naar eind71 As Vroutjie dus sê dat Langenhoven se ouers uit nood na hulle broer en suster om hulp gekom het en die kind toe in hulle huis gebore is, beteken dit dat die geboorte in die ou opstal was, nie in die huis waarin hulle vanaf Langenhoven se agtste jaar gewoon het en wat tans as die geboortehuis aangedui word nie. 'n Mens moet hierdie dubbelsinnigheid egter bloot aan 'n slordige bewoording toeskryf. As Vroutjie sê dat Langenhoven in die huis van die pleegouers gebore is, beteken dit eenvoudig dat sy die huis bedoel wat later deur die pleegouers bewoon is, nie die huis waarin hulle ten tyde van die geboorte was nie. Die mededeling dat ‘Cornelis se ouers na Oom Pieter gekom het om hulp te soek’, beteken dan ook presies wat dit sê - nie dat hulle hul intrek in sy huis geneem en die geboorte daar plaasgevind het nie. Dit is jammer dat Sarah Goldblatt nie versigtiger met die afneem van die verklaring was nie, want die dokument is as gevolg daarvan nie 'n afdoende bewys vir die kwessie in verband met die geboortehuis nie. 'n Mens kan dus nie anders nie as om die enigsins vreemde dokument in so 'n laat stadium van Vroutjie se lewe en met Saartjie as inisieerder te beskou as 'n poging om dokumentasie uit 'n baie ou mens te pers waar daardie dokumentasie broodnodig vir 'n verdere mylpaal in die Langenhoven-verering was. Daar is egter geen rede waarom Langenhoven se eie weergawe dat hy op Hoeko in die destydse huis van sy genetiese vader - die latere huis van sy pleegouers - gebore is, nie as die finale antwoord aanvaar moet word nie. Die moontlikheid van Waterval as geboorteplaas berus slegs op die wankelrige basis van die onsorgvuldig opgestelde doodkennis en Jan Donkie se verhaal wat tipies van die Klein Karoo met sy talle legendes is. Daarby is dit 'n kenmerkende eienskap van die mense van die Klein Karoo dat hulle nie oor persoonlike leed bly praat en pieker nie. Die bodemgesteldheid met sy uiterstes in temperatuur, sy wisselvallige reënval en die algemene eise wat dié toestand vir lewens- | |
[pagina 103]
| |
behoud stel, het met die jare 'n tipe mens gekweek wat die swaarkry sinvol in sy lewe kon verwerk. Dat Langenhoven wel vroeg in sy lewe van sy moeder se dood kort na sy geboorte moes verneem het, kan 'n mens sonder twyfel aanvaar, aangesien sy genetiese vader nog 'n hele paar jaar op Hoeko bly woon het. Tog het sy vader, volgens getuienis in U dienswillige dienaar, hom ‘eenmaal’ wel iets van die traumatiese gebeurtenis vertel, maar ‘nie maklik van daardie dae gepraat nie’Ga naar eind72 - 'n aanduiding van hierdie geharde geslag mense se aard as dit by sake van intense leed kom. Dit was in stryd met die wesentlike ingetoënheid, woestynaard en geestelike weerbaarheid van hierdie mense van die Klein Karoo. Langenhoven self het naas die inligting in U dienswillige dienaar in sy skeppende werk slegs in 'n enkele verhaal 'n situasie opgebou wat heenwysings na sy eie geboorte bevat, en selfs dié geval is met allerlei ander besonderhede omgewe om die outobiografiese lading te versluier. Dit is ‘Die skaduwee van die skyndood’ in Aan stille waters I, waarin gepraat word van 'n seuntjie met die naam Gideon wie se moeder vyf dae na sy geboorte dood is, iets wat later, ‘toe hy dit as kind verneem het,...so 'n geweldige indruk op sy jeugdige verbeelding gemaak...(het) dat sy eienaardigheid daarvandaan gekom het’.Ga naar eind73 Naas hierdie verhaal het Langenhoven ook nog, maar dan slegs as 'n bystellende terloopsheid, iets van die omstandighede van sy geboorte in die lesing ‘Inkomste en uitgawe’ in Die opdraande pad vermeld: ‘Hierby het ek nog nie gereken wat dit my moeder gekos het om my in die wêreld te bring nie: in my geval terloops gesê, het dit haar dood gekos - op sigself 'n onbestaanbare prys vir die klas artikel wat julle nou hier voor julle sien.’Ga naar eind74 Hierdie twee geïsoleerde gevalle is egter die somtotaal waarin 'n dramatiese en bewoë deel van Langenhoven se lewe in 'n uitgebreide oeuvre neerslag vind. Die teorie oor die moontlike geboorte op Waterval berus dus slegs op 'n enkele frase in die doodkennis van Langenhoven se genetiese moeder en verder op blote bespiegeling. By meer as een geleentheid sê Langenhoven egter self in U dienswillige dienaar dat hy gebore is op Hoeko in die huis wat deur sy genetiese vader bewoon is. Daar bestaan geen dokumentasie hoegenaamd wat hierdie inligting weerspreek nie. 'n Mens kan dit dus as feitelik korrek aanvaar. | |
[pagina 104]
| |
IVNa die dood van Rachel is die klein en tenger Langenhoven na sy oom en tante se huis, die ou opstal op Hoeko, gebring, waar hulle hom as hulle eie kind aangeneem het. Hulle was vir die res van sy lewe sy ‘Pappie en Mammie’, terwyl hy na sy genetiese vader altyd as ‘Anderpa’ verwys het.Ga naar eind75 Alhoewel hulle goeie maters was en hulle ‘met 'n halwe woord aan mekaar verstaanbaar (kon) maak’,Ga naar eind76 het Langenhoven en Anderpa se paaie van betreklik vroeg af uitmekaar geloop en het hulle mekaar selde gesien. Tot Langenhoven se agtste jaar het Anderpa op Hoeko bly woon, maar in 1881 het hy as gevolg van 'n langdurige droogte in die Ladismithse distrik besluit om terug te trek Hamelkop toe, al was die basiese rede waarskynlik sy onafhanklikheid van gees wat hom verhinder het om as bywoner by sy broer te bly. Van tyd tot tyd het Langenhoven egter Anderpa daar besoek, in sy jonger dae saam met sy Pappie en later alleen. Skoolopleiding het Anderpa nie gehad nie, maar hy was vlug van verstand en kon ‘die essensiële grondslae (van)...een of ander vreemde vraagstuk’Ga naar eind77 onmiddellik raakvat ‘en tot hulle logiese konsekwensies uitredeneer’.Ga naar eind78 Naas hierdie intellektuele vermoë was hy ‘rein van handel en wandel’:Ga naar eind79 'n eerbare en opregte man wat waarheidsliefde hoog geag het. Om sy skerp verstand te illustreer, vertel Langenhoven in U dienswillige dienaar hoe hy op 'n keer onaangekondig by Anderpa se huis op Hamelkop aangekom het. Op die vraag ‘Wie is daar?’ sê Langenhoven: ‘Die verlore seun’, 'n antwoord wat onmiddellik die verdere vraag ontlok: ‘En wat het jy met die man se varke gemaak?’Ga naar eind80 Ook later, toe hy reeds senator was, het Langenhoven en sy vrou 'n keer op Hamelkop oornag, waarskynlik om van die hoogs bejaarde Anderpa, in daardie stadium reeds ylend, afskeid te neem. Om die plaas te bereik, is hulle per trein tot by Klein-Brak en vandaar het die losieshuiseienaar, mnr. Van Rensburg, hulle met sy Fordmotor tot op die hoogte gebring. Om by Anderpa se huis onder in die gat uit te kom, is hulle met een van sy halfbroers per perdekar verder. Anderpa se huis het heeltemal onder in die leegte op Hamelkop gelê. Hierdie huis is gebou deur pale in te plant, sparre weerskante met takke tussenin aan te bring en die geheel met klei te versterk en die gewels uit rou stene op te bou. Die huis is deur Anderpa in 1881 kort na sy terugkeer op Hamelkop opgerig en dit het, ten spyte van die nat weer | |
[pagina 105]
| |
in dié geweste en die skamel grondstowwe waaruit dit gebou is, honderd jaar bly staan totdat sy kleinseun, prof. H.P. Langenhoven, dit as gevolg van die bouvalligheid in 1981 laat afbreek het. Die pad daarheen is met pik en graaf uitgekap, terwyl die wildernis by die rivier ontbos moes word. Om die landerytjies wat aangelê is, nat te lei, moes Anderpa en sy seuns 'n sloot bo uit die rivier aanlê. Reeds op Ladismith is Anderpa weer getroud, hierdie keer met Cornelia Maria Joubert van Tradouw in die Swellendamse distrik. Sy is op 3 Mei 1911 in die ouderdom van vyf en sestig jaar oorlede en die egpaar het - naas Langenhoven se bloedbroer Philip, wat bly lewe het - tien kinders gehad van wie die oudste jonk oorlede is, almal dus halfbroers en -susters van die skrywer. Anderpa was blykbaar 'n streng patriarg, want sy kinders moes hul plek vol staan en sommer klein-klein begin werk. Van skoolgaan was daar as gevolg van die afgesonderdheid van die plaas nie sprake nie. Lees en skryf moet hulle maar sommer op 'n informele manier opgedoen het. Anderpa is op 31 Mei 1923 dood en op Hamelkop begrawe. Op sy eenvoudige grafsteen op die plaas staan naas sy naam en die datums van sy geboorte en oorlyde die volgende woorde: ‘Vader as jy maar weer/ jou oë kan open/ watter veranderinge/ sal jy nie sien maar/ jy is baie ver beter/ waar jy vandag rus/ in stilte.’ By sy dood het elk van die kinders, ook die skrywer, 'n gedeelte van die plaas en die bedrag van £63.12.8 geërf.Ga naar eind81 Tydens Langenhoven se eeufeesviering in 1973 het sy halfsuster Margrieta Maria Elizabeth Boshoff, toe reeds sewe en negentig jaar oud, nog steeds op Hamelkop gewoon. Sy is op 16 Junie 1977 oorlede. Ook Langenhoven se enigste oorlewende eie broer, Philip Hendrik Morkel, het op die plaas geboer. Sy eerste vrou was Anna Margaretha Beërtha Nordier, wat op 18 Maart 1877 in die distrik Calitzdorp gebore is. Op twintigjarige leeftyd, op 23 April 1897, is sy en haar eerstelingdogtertjie by die geboorte oorlede, die tweede keer dat 'n dergelike trauma iemand uit die gesin van Cornelis Jacob Zetuin Langenhoven tref. Op 26 Julie 1898 is Philip met die agtienjarige Susarah Elizabeth Hendrina Boshoff getroud en uit die huwelik is tien kinders gebore. Hy is op 28 Julie 1939 op die plaas oorlede, meer as sewe jaar na sy skrywerbroer. Die Langenhovens van Hamelkop was hardwerkende, eerlike mense met 'n realistiese inslag wat nie sommer dinge vir soetkoek sou opeet nie en om dié rede as hardkoppig bekend kon staan. ‘Jou naam gaan | |
[pagina 106]
| |
voor jou uit’ is een van die uitsprake wat die skrywer se halfbroer Pieter Guilhelmus, vader van prof. H.P. Langenhoven, dikwels gebruik het. Daarby was hulle mense met 'n goeie verstand en uitstekende begrip van sake. As gevolg van die beperkte en ongemaklike boerdery op 'n oorbevolkte plaas met baie skuinstes en klowe het die geld vir verdere ontwikkeling en studie egter ontbreek, al was hulle ten gunste van geleerdheid vir hulle kinders. Baie van die broers moes dus uitspring om elders 'n heenkome te vind. Die meeste van hulle het 'n slag met woorde gehad en was gebore storievertellers. So byvoorbeeld was Flippie, soos die skrywer se bloedbroer in die wandel bekend gestaan het, 'n man wat sy woord goed kon doen. Hy het die gewoonte gehad om, soos Langenhoven se pleegvader trouens ook, sekere stopwoorde te gebruik om 'n bietjie twyfel by 'n te eksakte uitspraak te laat insypel. 'n Uitspraak soos ‘Dit lyk half reg’ was byvoorbeeld 'n kenmerkende manier van praat by hom. Ten spyte van die traumatiese eerste dae en weke van die skrywer was daar dus 'n geluk by die ongeluk. Langenhoven se pleegvader was by sy geboorte reeds besig om 'n vermoënde man te word en die bodemgesteldheid van Hoeko het die moontlikheid vir verdere ontwikkeling gebied wat op Hamelkop nie moontlik was nie. Hoeko, geleë aan die voet van die Klein-Swartberge in 'n vrugbare bergvallei, was die mooiste plaas in die kontrei, met meestal standhoudende water uit die berg. Met die riviertjie naby die ou opstal en wilgerbome op die damwal het die plaasbewoners ná aan die natuur geleef, iets wat versterk is deur die omsetting van die volstruisboerdery - wat sy eerste insinking kort na Langenhoven se geboorte begin beleef het - na vrugtekwekery en 'n bietjie wynbou. Naas die smidswinkel waarin sy pleegvader waens gemaak het, was daar op die plaas ook 'n klein skooltjie vir die opleiding van die kinders uit die buurt. Met al hierdie voordele was Langenhoven by sy pleegouers op Hoeko dus veel beter daaraan toe as sy broer en halfbroers en -susters op Hamelkop. Op 'n vraag waarom hy nie so geleerd was as sy broer nie, het Flippie by geleentheid gesê: ‘Iemand het vir Kerneels met sy kop aan die krip vasgemaak en vir my net andersom!’Ga naar eind82 Daarby het Langenhoven van vroeg af in sy onmiddellike omgewing ervaar dat harde werk met ‘blymoedige vlyt’Ga naar eind83 gepaard kon gaan en in 'n lewe van ‘vergenoegdheid en kalmte en geluk’Ga naar eind84 gestalte kon vind, te midde van ‘'n samelewing van 'n klas mense, wat betref skoonheid en min- | |
[pagina 107]
| |
saamheid en deugsaamheid en eenvoudige opregtheid, wat deur geen ander volk of tyd ooit oortref is nie’.Ga naar eind85 Daarnaas het hulle, danksy kennis van die Hollandse Bybelvertaling, oor ‘'n kragtige, skilderagtige oorspronklikheid van uitdrukkingsvermoë’Ga naar eind86 in Afrikaans beskik wat vir hom die allerbeste leerskool was wat hy vir sy eie taal kon kry. Hierdie mense van die Klein Karoo het hom sy hele lewe lank bygebly en dié agtergrond het hy nooit verloën nie. Feitlik aan die einde van sy lewe kon hy steeds sê: ‘Ek is nog vandag een van daardie mense...En die spore daarvan loop diep deur al my werk.’Ga naar eind87 |
|