Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 48]
| |
Hoofstuk III
| |
[pagina 49]
| |
Alhoewel haar briewe aan Vroutjie en Engela van 'n toegeneentheid en liefde getuig wat sekerlik nie geveins kon gewees het nie, was daar tog al die jare by haar 'n geweldige jaloesie, omdat hulle die amptelike status van vrou en dogter kon geniet en sy, ten spyte van die testamentêre aanwysing van haar as vertroueling en administratrise, nog steeds in laaste instansie 'n buitestander was. By geleentheid het sy dan ook in later jare aan Guillaume Brümmer gesê: ‘Jy en jou kinders het die Langenhoven-bloed, ek nie!’ Heimlik het sy haarself waarskynlik vroeg in haar lewe reeds as Langenhoven se enigste werklike geliefde beskou, al is dit vandag onmoontlik om te agterhaal in watter mate sy dié gedagte vir haarself verwoord het. In die finale waansin van haar laaste jaar het hierdie passie egter wel deeglik na die oppervlak gekom. Om Langenhoven se werk voortdurend onder die aandag te bring en te hou, was egter die groot hartstog in haar lewe, 'n passie wat met die jare al hoe groter en soms groteske afmetings aangeneem het. Soos Langenhoven sy eintlike missie in die lewe met die ontdekking van die waarde van Afrikaans en die noodsaaklikheid van die uitbouing en verfyning daarvan vir sy eie mense gekry het, so het Saartjie haar missie ontvang toe die ‘Chief’ haar as die administratrise van sy letterkundige nalatenskap aangewys het. Om hierdie werk pligsgetrou uit te voer, het sy aan haar testamentêre regte vasgeklou, by gepaste en ongepaste geleenthede daarna verwys en selfs daarin geslaag om mense in die hoogste gestoeltes op sleeptou te neem. Daar is trouens weinig voorbeelde in die openbare geskiedenis van Suid-Afrika waar iemand met so weinig werklike mag, en in laaste instansie 'n vreemdeling binne die groep waarin sy werksaam was, soveel kon uitrig en ander mense in haar geesdrif só saam met haar kon sleur.Ga naar eind1 Om dít te bereik, was Saartjie enersyds dominerend en usurperend, maar andersyds ook 'n simpatieke en deernisvolle mens wat andere van advies kon bedien en van wie 'n sekere empatie uitgegaan het. In latere jare kon Guillaume Brümmer byvoorbeeld onthou hoe hy tydens sy skooljare op Beaufort-Wes na haar besoeke uitgesien het. Sy was vir hom soos 'n vars bries uit die buitewêreld, sy peettante wat hom met boeke en plate aan 'n groot en nog onbekende wêreld kon bekendstel en wat hom met haar logiese denkwyse en kennis wou ontwikkel. Sy het dit haar ten doel gestel om by te dra tot Guillaume se opvoeding, want sy was daarvan oortuig dat wat hy op Beaufort-Wes kry, nie stimulerend genoeg was nie. By tye was hy egter wel teleurgestel in die | |
[pagina 50]
| |
star manier waarop sy 'n gesprek gevoer het en die onvermoë om enige standpunt behalwe haar eie te akkommodeer. Toe hy later op Stellenbosch student was, het Saartjie stelselmatig probeer om hom aan haar groot vriendekring in Kaapstad bekend te stel. Sy het hom rondgeneem na skemerpartytjies en die indruk gewek dat sy die spil was waarom die hele artistiek-kulturele lewe van Kaapstad draai. Soms het Saartjie se aanslag 'n wrang gevoel by Guillaume gelaat, want sy kon soms 'n hele string prekies gee as hy volgens haar nie korrek in 'n geselskap optree nie. Iets wat sy by herhaling by hom beklemtoon het, was dat hy 'n geestige aanslag in sy omgang met mense moes ontwikkel. Om op sosiale gebied te skitter, het sy by gesellige geleenthede lekker en gevat verkeer. Sy het veral daarop gelet om wakker en intelligent te gesels, maar om wip-wip van onderwerp tot onderwerp te beweeg en te waak teen 'n te diep indringing in 'n spesifieke aangeleentheid. So 'n tipe intellektuele verkeer, het sy by geleentheid gesê, het die Afrikaner van die Engelse oorgeneem.Ga naar eind2 Jy verveel net mense as jy te lank oor een ding praat; dit is beskaafd en sosiaal meer aanvaarbaar om jou beweeglikheid te toon deur voortdurend van onderwerp te verwissel. Ook later, toe Guillaume begin uitgaan het met die Stellenbosse predikantsdogter Laetitia Conradie, het Saartjie dit as haar plig beskou om haar peetkind se toekomstige vrou ‘op te voed’ en haar, feitlik as 'n soort ‘finishing school’, tydens gesellige partytjies aan die ‘hoë’ kulturele lewe van die Kaap voor te stel en in te lyf by 'n wêreld wat sy nie in die pastorie sou leer ken het nie. Dat daar iets geforseerds in so 'n ‘grootmaakproses’ was, het Saartjie blykbaar nie besef nie. Daarteenoor het sy die Brümmers later daadwerklik met die versorging van hulle kinders bygestaan. Uit haar eie het sy op bejaarde ouderdom hulle kinders kom oppas toe hulle derde seun gebore is. By herhaling het sy gereël dat die kinders vir mediese probleme deur vooraanstaande artse ondersoek word. Deur haar wye kennis en oplettendheid het sy byvoorbeeld daarop gestaan dat die derde seun, Kerneels, deur 'n baie kundige ortopedis ondersoek moes word, 'n optrede wat deur die tydige tussenkoms sowel noodsaaklik as effektief was. Die Brümmerseuntjies het dan ook die warme belangstelling van Saartjie opgetoë beantwoord. Saartjie se optrede teenoor die Brümmers het dus voortgespruit uit haar opregte belangstelling in ander mense, maar dit was terselfdertyd | |
[pagina 51]
| |
'n illustrasie van die wyse waarop sy haar wil wou deurvoer. Sy wou graag haar vermeende mag en invloed laat geld en sy was trots op haar invloed en die draadjies wat sy kon trek. Sy was nie geïnteresseerd in mense wat net ryk of vernaam is nie, maar kulturele en intellektuele prestasies en mense in politieke sleutelposisies het haar getrek en gefassineer. In haar pogings om dinge reg te kry, het sy altyd regstreeks na die baas gegaan en die klase volkome geïgnoreer. Sy het 'n fyn manier ontwikkel om tot die maghebbers tot op die hoogste vlak deur te dring en haar posisie en invloed ingespan om allerlei oogmerke te bereik. Dinge moes dan ook vir haar blitsig gebeur en sy het weinig geduld gehad met stadige mense. Geduld het sy alleen, soos in haar strategiese uitstel van die volksliedkwessie, beoefen as dit takties nodig was. Dit spreek vanself dat iemand met so 'n dinamiek, deursettingsvermoë, saaklikheid en allesoorheersende ywer feitlik die hele land tydens Langenhoven se eeufeesjaar sou kon mobiliseer. Reeds lank voor 1973 was sy druk aan die gang met briewe en telefoonoproepe aan alle denkbare mense en instansies wat moontlik tot die Langenhoven-verering kon bydra. Vroeg in Januarie 1973 het sy Engela en Guillaume Brümmer gebel met die opdrag dat hulle nie enige onderhoud aan die pers mag toestaan nie, aangesien sy die enigste gesaghebbende is wat bevoeg is om oor Langenhoven te praat.Ga naar eind3 Hiervoor het sy haar uitdruklik op haar benoeming as ‘administratrise’ beroep, 'n klousule in die testament waaruit sy afgelei het dat sy, en sy alleen, sal sê wat nodig is. As hulle iets sê, het sy bygevoeg, sou dit tweedehands en verdraaid wees. In 'n stadium het sy op 'n navraag van Rykie van Reenen van Rapport waarom Engela so uit die dinge gehou word, in woede haar hande in die lug geskud en uitgeroep: ‘Dit is my fees, nie Engela s'n nie!’ Toe daar wel by geleentheid 'n volbladfoto in Sarie verskyn van Engela waar sy op die stoep sit van haar woning op Toorvoet, Elandsvlei, net buite Ladismith, was Saartjie briesend. Sy wou self die hele tyd in die kollig wees as die enigste gesag, en die Brümmers het die aandag verdeel en haar in haar ywer gedwarsboom. Sy was die enigste apostel wat die ware leer verkondig en presies weet wat die ‘Chief’ sou wou gehad het. Langenhoven was háár terrein, en niemand moes waag om op dié gebied te oortree nie. Met so 'n drif en oortuiging kon Saartjie dan ook ontsettend baie dinge in die eeufeesjaar uitgerig kry. Toe die jaar 1973 'n aanvang neem, was die derde uitgawe van Langenhoven se Versamelde werke | |
[pagina 52]
| |
reeds aan die verskyn en Saartjie se bloemlesings uit sy werke, ...die erwe van ons vaad're (1971) en Al skrywend (1972), by verskeie onderwysdepartemente vir eksamendoeleindes voorgeskryf. Die eerste oplaag van 8000 stelle van die Versamelde werke was in Oktober 1973 reeds uitverkoop en 'n tweede oplaag van 4000 moes inderhaas van die drukker bestel word. Ook mooi geïllustreerde uitgawes van Langenhoven se kinderboeke is opnuut uitgegee. Saartjie het verder Sanlam oorreed om 'n herdruk van U dienswillige dienaar te borg wat by elke skool in die land as prys vir die matriekleerling met die beste opstel oor Langenhoven uitgeloof sou word - 'n besondere uitgawe in 'n kenmerkende omslag, met 'n inskripsie en met die handtekeninge van Saartjie, die besturende direkteur van Sanlam en die skoolhoof. Die verskillende rade vir die uitvoerende kunste was besig met repetisies van Langenhoven-werke vir sowel volwasse as skoolgehore; die SAUK het voorlesings uit Langenhoven se werke, vasvrawedstryde, 'n hoorbeeld oor sy wêreld, 'n program oor Arbeidsgenot, radioteater-aanbiedings, 'n reeks praatjies vir die vroeë oggend en 'n Langenhoven-spreuk saans net voor sewe-uur voorberei; die Nasionale Filmraad was besig met 'n opvoedkundige rolprent oor die lewe van Langenhoven; en 'n reeks 4c-, 5c- en 15c-Langenhoven-seëls was in voorbereiding. Die FAK het medaljes in goud, silwer en brons beskikbaar gestel as aandenkings van die eeufeesjaar en die firma McCallum & Stevens het spesiale mansjetknope en lapelspelde met Langenhoven se kop op gemunt. Die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens het 'n portefeulje van groot afbeeldings vir uitstallings opgestel, en 'n kleibeeld van die Herrie-olifant is by skole versprei. Daarnaas het Saartjie gesorg dat verskillende landswye organisasies hulle jaarvergaderings of kongresse vir 1973 op Oudtshoorn hou. So het daar reeds in Februarie twee jeugleierskursusse plaasgevind en het die Suid-Afrikaanse Handelsinstituut op 13-14 Maart op Oudtshoorn vergader, die Museumvereniging van Suider-Afrika op 19-23 Maart, die SAOU op 2-5 Mei, die Rotariërs op 3-6 Junie, die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) op 12-21 Junie, die FAK op 4-6 Julie, die Sirkelvereniging van die Vroue-Sendingbond op 6 Augustus, die Sirkelkonferensie van die ACVV (Afrikaanse Christelike Vrouevereniging) op 10 Augustus, die Nasionale Party se jeugkongres op 1-3 September, die senior Nasionaliste op 4-6 September en die Rapportryers op 27-29 September. | |
[pagina 53]
| |
Afgesien van die Versamelde werke was 'n groot aantal van Langenhoven se gewildste boeke - Donker spore, Mof en sy mense, Herrie op die óú tremspóór, Loeloeraai en Die laaste van die takhare - opnuut in fraai nuwe uitgawes beskikbaar en op skole voorgeskryf, terwyl geleentheidsfeeste en -toesprake oor die hele land gehou is, ook in die mees afgeleë dorpe en uithoeke. Selfs met die jaarlikse begroting in die Volksraad het die minister van finansies, dr. Nic Diederichs, sy toespraak telkens met Langenhoven-aanhalings ingeklee! Maar daarnaas het Saartjie ook regstreeks deel gehad aan groot sentrale feesgeleenthede. Op 10 Mei het die Nasionale Vroueklub van die Parlement in medewerking met Saartjie 'n program oor ‘Langenhoven in die politiek’ met voordragte uit sy werke en met F.E.J. Malherbe van Stellenbosch as geleentheidspreker aangebied. Op 17 Mei is die manuskrip van ‘Die Stem van Suid-Afrika’ in 'n vertoonkas in die Galerysaal van die Parlement deur die eerste minister, mnr. B.J. Vorster, in ontvangs geneem na die onthulling deur Johan Nikolaas Langenhoven Brümmer, agtjarige agterkleinseun van die skrywer en die seun van Guillaume, wat weer eens, soos in die verlede, geweier het om op te tree. By dié geleentheid het Anna Neethling-Pohl ‘Die Stem’ in Afrikaans en Dewar McCormack die eerste en laaste vers in Engels voorgedra, terwyl die Stellenbosse Universiteitskoor onder leiding van Philip McLachlan dit op die wysie van M.L. de Villiers gesing het. Op 29 Mei is 'n herdenkingsprogram om tienuur die oggend gehou in die Nico Malanteater, met die Kaaplandse administrateur, mnr. A.H. Vosloo, as geleentheidspreker en met die optrede van skoolkore en die dramatisering van uittreksels uit Langenhoven se werke deur KRUIK. Saartjie moes die vorige aand nog 'n feesgeleentheid ter huldiging van Langenhoven op De Aar bywoon. Om elfuur dié aand het sy haar agterin 'n motor uitgestrek wat spesiaal deur die administrateur beskikbaar gestel is, en ten spyte van die nagtelike rit en haar leeftyd van vier en tagtig jaar was sy die volgende oggend om tienuur op en wakker op haar plek in die Nico Malanteater. Maar ook dag- en weekblaaie is by die feestelikhede ingespan. Reeds in April het Rapport 'n spesiale fotobylaag oor ‘C.J. Langenhoven - die weg deur sy wêreld’ gehad, 'n gedenkuitgawe wat in Augustus en September opgevolg is deur Die Huisgenoot, Die Taalgenoot, Tydskrif vir Letterkunde, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Die Unie en Die Matie. Feitlik elke koerant in die land het spesiale artikels dwarsdeur die jaar aan | |
[pagina 54]
| |
Langenhoven gewy en in Augustus het Die Burger 'n byvoegsel oor die volkskrywer met talle nuwe artikels en die herdruk van oues gepubliseer. Saartjie het dus daarin geslaag om die hele land met haar Langenhoven-industrie mee te voer. Tog was haar ywer nie sonder 'n mate van teenstand nie. Op Ladismith, die dorp waar Langenhoven skoolgegaan het en wat ongeveer veertien kilometer geleë was van Hoeko, die plaas waar hy grootgeword het, was daar 'n poging om die naam van die dorp van Ladismith na Langenhoven verander te kry, 'n poging waaraan Saartjie, soos uit die relevante dokumente blyk, meer as net 'n aandeel gehad het. Die hele aangeleentheid het tot 'n heftige briefwisseling in Die Burger en tot groot onenigheid op die dorp gelei. Saartjie self het briewe aan mnr. F.D. Conradie, lid van die Uitvoerende Komitee van die Kaaplandse Provinsiale Raad, gerig waaruit indirek blyk dat sy ten gunste van die naamsverandering is. In 'n brief van 7 Junie 1973 sê mev. S.C. Garisch van Ladismith dat die inwoners ‘op die vooraand van 'n bloedbad’ oor die aangeleentheid staan en dat sy 'n beroep op Saartjie wil doen om Langenhoven se naam nie as ‘nuttige speelbal’ te laat betrek nie. Op dié brief het Saartjie slegs 'n formele bot erkenning van ontvangs sonder die gebruiklike aanhef in briefvorm gestuur. In elk geval sou enige pleidooi ten gunste van die naamsverandering geen hond haaraf gemaak het nie, want op 28 Augustus het die inwoners met 'n oorweldigende meerderheid - 262 kiesers teenoor 18 - besluit dat die dorp se naam Ladismith moet bly. Volgens 'n berig in Rapport van 26 Augustus het Engela in haar wysheid gesê dat Langenhoven so 'n ‘gepeuter’ met Ladismith se naam nooit sou goedgekeur het nie en beskeie bygevoeg dat haar vader so 'n tipe verering ook nie nodig het nie. Wat Saartjie se reaksie op Engela se verklaring was, is nie bekend nie, maar 'n mens kan geredelik aanvaar dat sy briesend daaroor was. In elk geval het sy teen dié tyd Engela geringskattend as 'n seniele, kindse vrou bejeën, iemand wat deur die blote feit van haar aanwesigheid op aarde vir haar net 'n steen des aanstoots was. Maar ook uit die geledere van die skrywers en letterkundiges was daar reaksie op die onbeskryflike magdom huldigingsredes, die loftuitings en die vertekende beeld van Langenhoven, alles gelewer in die afgryslike retoriek van die politici met weinig kennis van die literatuur as sodanig en die werklike formaat van Langenhoven in die besonder. In September 1973 bring die Kaaplandse leier van die Nasionale Party | |
[pagina 55]
| |
en minister van verdediging, mnr. P.W. Botha, byvoorbeeld hulde aan Langenhoven en sê hy dat die Afrikaanse skrywer met Shakespeare, Victor Hugo en Leonardo da Vinci vergelyk kan word. ‘Much as I love and revere Langenhoven’, skryf die joernalis Madeleine van Biljon in The Star van 11 Augustus 1973, ‘I was beginning to think that we're getting more than an allowable mileage out of the boy. Mr. Botha confirmed my suspicions. In a flight of poetic licence possibly only equalled by one of his Mirages, he likened Langenhoven to Shakespeare, Victor Hugo and Leonardo da Vinci. Shakespeare is rather farfetched but what the hell, allowable. Victor Hugo is a curious comparison. But Leonardo da Vinci has this reader of Sagmoedige Neelsie completely stumped. I tried from various angles to justify the comparison. Had Mr. Botha perhaps seen Langenhoven as a word painter of inscrutable Afrikaners wearing a Mona Lisa smile? Maybe Loeloeraai, his science fiction tale, brought Da Vinci to mind. Hot on the scent I came to a conclusion which satisfies me, even if it doesn't win universal approval. Mr. Botha used Leonardo because he designed submarines long before anyone else thought about them. Any man who can call a submarine the Johanna van der Merwe has a soft spot for those wolves of the sea, and because Langenhoven saw Afrikaans as a viable language long before anyone else, he becomes a Leonardo da Vinci. Well, it seemed feasible while I thought about it ... (When writing about P.W. Botha one becomes defensive automatically.)’ In enkele gevalle was die skrywers se aanvalle egter nie net op die retoriek van die volksleiers gerig nie, maar op Saartjie se eindelose gekarring en op Langenhoven self. Van tyd tot tyd het Saartjie anonieme briewe ontvang waarin sy versoek is dat daar in die eeufeesjaar ‘'n bietjie meer van Langenhoven en minder van Goldblatt’ gehoor moet word.Ga naar eind4 In Rapport van 14 Oktober sê Fanie Olivier dat Langenhoven 'n ‘oorskatte figuur’ is, dat sy werk aan 'n sekere ‘woordversiering’, 'n opvallende liefde vir kontraswerking en 'n oordaad van gemoedelike verkleinwoordjies ly en dat daar 'n groot stuk sentimentaliteit, didaktiek en moralisering aanwesig is ‘wat so dikwels die vonkel in 'n stuk werk verbleek’. Daarby vind hy dat die selfspot dikwels uitloop in ‘bedekte selfverheerliking’. In 'n verklaring in The Argus sê André P. Brink op 4 Augustus Langenhoven is ‘a disturbing example of what can happen to a writer if he has to write in order to serve a group. Langenhoven had an enormous talent that could never find complete | |
[pagina 56]
| |
fulfillment because of the stage of development in which Afrikaans literature was then.’ En op die vooraand van die Oudtshoornse eeufeesvierings sê Adam Small dat Langenhoven 'n ‘enigsins oppervlakkige skrywer’ en 'n ‘rassis’ was. Vir dié beskuldiging verwys hy na ‘Die Stem van Suid-Afrika’, meer spesifiek die woorde Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Volgens Small kan jy vry wees met of in die hele wêreld, nie teen nie - iets wat vir hom op ‘die onversetlike houding van Afrikaner-nasionalisme’ dui. In 'n hoofartikel van 13 Augustus haal Hoofstad Small se uitspraak aan en wys die koerant daarop dat ‘teen’ in hierdie konteks ‘ten opsigte van, ten aansien van, jeens en teenoor’ beteken, nie die Engelse ‘against’ waaraan Small dink nie. Dat dit dus ‘'n bose en skokkende reël in 'n volkslied’ is, berus vir Hoofstad op 'n foutiewe interpretasie aan die kant van Small. Van sulke kritiek sou Saartjie seker wel kennis geneem het, maar in die groot stroom huldigings van die deurlugtige hoofspelers in die politieke arena was dit waarskynlik slegs enkele irriterende rimpelinge op 'n andersins spieëlgladde wateroppervlak. Buitendien was die feesvieringe op Oudtshoorn, die hoogtepunt van die jaar, reeds in volle swang en het dié verrigtinge al haar aandag in beslag geneem. | |
IIDie verrigtinge tydens die Langenhovenjaar sou op Vrydag en Saterdag, 10 en 11 Augustus 1973, 'n klimaks bereik met die eerste minister en mev. B.J. Vorster se besoek aan Oudtshoorn. Hierdie besoek en die plegtighede wat daaraan gekoppel sou wees, sou egter voorafgegaan word deur talle ander vierings en gevolg word deur kerkdienste op 12 Augustus en 'n plegtigheid op Hoeko, die plaas waar Langenhoven grootgeword het. Gelyktydig daarmee was daar huldigings dwarsdeur die land: in Bloemfontein waar prof. Gerhard J. Beukes gepraat het, in Pretoria waar oudpresident C.R. Swart aan die woord was, in Port Elizabeth waar prof. Humphrey du Randt oor ‘Die Stem van Suid-Afrika’ gepraat het, op Riversdal waar daar feesvieringe by die Hoër- | |
[pagina 57]
| |
skool C.J. Langenhoven was, in Randburg waar prof. Wimpie de Klerk die feesrede gevoer het en op Kemptonpark waar 'n verskeidenheidskonsert op Langenhoven-werke gebaseer is. In die feesjaar besluit die Parlement buitendien om 'n spesiale pensioen aan Sarah Goldblatt toe te ken vir die waardevolle dienste wat sy oor 'n lang tydperk as administratrise van die Langenhoven-nalatenskap gelewer het. Een van die plegtighede wat die Oudtshoornse fees sou voorafgaan, was die opening op 3 Augustus van die teerpad deur Meiringspoort naby De Rust en die proklamering tot nasionale gedenkwaardigheid van die Herrie-klip in die poort, waarop Langenhoven eiehandig die naam van sy fiktiewe olifant uitgekap het. Vir dié geleentheid het Saartjie dr. M. du T. Potgieter, rektor van die Oudtshoornse Onderwyserskollege en voorsitter van die Oudtshoornse reëlingskomitee van die C.J. Langenhoven-eeufees, aangesê om te sorg vir 'n trem en 'n olifant wat Langenhoven se reis deur Oudtshoorn se strate, deur Stolsvlakte, Hazenjachtrivier en De Rust tot by Meiringspoort kon volg - die presiese roete soos Langenhoven dit in Sonde met die bure uitbeeld. Vir hierdie tog het die Onderwyserskollege die verantwoordelikheid aanvaar, want gelukkig het hulle reeds oor 'n lewensgroot olifant beskik wat by 'n vroeëre feesviering van die munisipaliteit gebruik is. Die olifant is opnuut deur die kunsstudente van die kollege opgebou en onderhandelinge is met City Tramways van Port Elizabeth gevoer om 'n bus vir die feesgeleentheid beskikbaar te stel. Ongeveer twee weke voor die viering het City Tramways egter laat weet dat hulle nie 'n bus vir so 'n lang periode aan diens kon onttrek nie. Dr. Potgieter, sy kollegas en sy studente moes dus self hul eie trem op 'n vragmotor bou. Om die olifant voor die trem ‘in te span’, moes hulle hom op balke vassweis. Die kunsdosent is betrek om tekeninge van 'n outydse trem te maak, die houtwerkdosent om saam met sy studente die trem te vervaardig, die dosente in Afrikaans vir die praatwerk met aanhalings uit Langenhoven se werke en die naaldwerkdosent vir die gordyntjies - alles so na as moontlik aan Langenhoven se eie beskrywings in Sonde met die bure, kompleet met makoue in hokke onder die trem vasgemaak. Vooraan die trem is die naam ‘Meiringspoort’ as die bestemming aangebring, met aan die agterkant 'n verhogie waarop Saartjie in die rol van Vroutjie en dr. en mev. Potgieter in die rol van Langenhoven en Engela sou sit. Vir die rit is Langenhovenliedjies soos ‘Herrie moenie slinger nie’, ‘Pollie ons gaan Pêrel toe’ | |
[pagina 58]
| |
en die getrompetter van 'n olifant opgeneem, met drie studente wat die klankapparaat sou hanteer. Omdat die olifant met die disselboom in die drif oor die Grobbelaarsrivier sou vassteek, kon St. Johnstraat - die roete volgens Sonde met die bure - nie gevolg word nie. Daarom het die stoet deur Van der Rietstraat onder begeleiding van die verkeerspolisie beweeg, met 'n student wat as polisieman met 'n ou Tommie-pet op soos in die roman Langenhoven voorkeer totdat die burgemeester en die raadslede die gesin die reg tot deurgang verleen. Die skole en winkels was vir die geleentheid gesluit. Orals langs die strate was daar 'n samedromming van mense. Saartjie, wat daardie oggend die eerste keer die trem gesien en telkens ‘Wunderbar’ uitgeroep het, was baie opgewonde. Sy het agterop die verhogie gesit en wieg en gesê: ‘Om te dink dis die eerste keer dat die trem werklik loop!’ Agter die trem was 'n stuk of 150 motors wat ook die tog meegemaak het. By Naas Meyer op Hazenjacht het hulle tee gedrink. Daar het Saartjie bewoë geraak, sodat hulle 'n bietjie langer moes vertoef as wat beplan was. Op De Rust het 'n perdekommando hulle ingewag. Van daar is hulle Meiringspoort binne, met die volume van die klankapparaat vol oopgedraai om die liedjies en die getrompetter van die olifant in die klowe te laat weerklink. In Meiringspoort is die nuwe verbeterde pad deur mnr. F.A. Loots, LUK, geopen, terwyl prof. Frans Smuts namens die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede die Herrie-klip tot monument verklaar het. In die tyd vóór die koms van die eerste minister op Vrydag, 10 Augustus, was Oudtshoorn 'n miernes van bedrywighede. Die Onderwyserskollege het agtien opvoerings van die poppespel Brolloks en Bittergal, feitlik elke dag met vol sale, aangebied, die rolprent Langenhoven en sy wêreld is vertoon, 'n ballet met die titel Herrie-hulle is uitgevoer en KRUIK het 'n Langenhoven-program 'n Ruiker vir Neelsie onder leiding van Robert Mohr versorg. Op 10 Augustus het mnr. J.W. Rall, die adjunkminister van vervoer, 'n nuwe aanloopbaan op die Oudtshoornse lughawe geopen en in sy rede na futuristiese voorwerpe en Loeloeraai verwys. Op die sportterrein was daar 6000 skoliere uit die Suid-Kaap wat deur mnr. Fanie Theron, die direkteur van onderwys, toegespreek is. Dit alles was egter net 'n voorspel tot die hoogtepunt van die naweek. Om tienuur op Vrydag, 10 Augustus, het mnr. en mev. Vorster voor die Queen's Hotel aangekom en het mnr. Vorster 'n erewag van | |
[pagina 59]
| |
die 1 SA Infanteriebataljon geïnspekteer. Terwyl die eerste minister en sy geselskap by die Kangogrotte op besoek was, het mev. Vorster die ACVV in die banketsaal van die burgersentrum toegespreek. Vroegaand het die burgemeester van Oudtshoorn 'n informele aandete aangebied, en later die aand het die premierspaar 'n uitvoering van die Brolloks en Bittergal-poppespel en die rolprentvertoning oor Langenhoven in die burgerlike teater bygewoon. Die Saterdagoggend het 'n vlaghysing en kranslegging by Arbeidsgenot plaasgevind en sierwaens met Langenhoven-temas het deur die strate beweeg. By die sportterrein was daar opnuut 'n vlaghysing, die speel van ‘Die Stem’, 'n verbyvlug van ses Impalas van die Suid-Afrikaanse Lugmag, gesamentlike sang van ‘Die Vlaglied’ en die feesrede deur die eerste minister, wat deur ongeveer 15000 mense bygewoon is. By dié geleentheid het mnr. Vorster gesê dat ons Langenhoven nie vereer ter wille van die persoon nie, ‘maar ter wille van die saak waarvoor hy gestaan het, waarvoor hy hom beywer het en waarvoor hy geveg het met al die krag wat hy tot sy beskikking gehad het’. Hy het verwys na Langenhoven se bydrae op die gebied van die letterkunde en die politiek en die wyse waarop hy Afrikaans sy regmatige plek in die onderwys en staat laat toekom het. Daar was wel baie medestryders, maar net Langenhoven het na vore gekom om die amptelike erkenning vir Afrikaans te verkry. Daarby was hy ook vaderlander by uitnemendheid. Na die feesrede is die C.J. Langenhoven-gedenkbiblioteek deur die eerste minister geopen, voorafgegaan deur 'n onthulling van June te Water se beeld van Vader Tyd deur mnr. A.H. Vosloo, die administrateur van Kaapland. Daarna kon gekeurde gaste die biblioteek besigtig. Na 'n ligte middagete was daar 'n sportfees. Die eerste minister het self aan 'n gholfwedstryd deelgeneem, terwyl die Griekwas teen die Suidwestelike Distrikte op die rugbyveld gespeel het. Die aand is Herriehulle weer deur die KRUIK-balletgeselskap uitgevoer, terwyl 'n konsert in die Van Zyl-saal van die Kangogrotte deur die Suid-Afrikaanse Leërorkes met koorsang van die Laerskool Parow-Wes aangebied is. Op Sondag, 12 Augustus, is spesiale kerkdienste gehou, met drr. J.S. Gericke en Koot Vorster as predikers in die Ned. Geref. Kerk op Oudtshoorn, terwyl die Kaaplandse administrateur weer as spreker opgetree het by 'n kort plegtigheid op Hoeko in die distrik Ladismith. Met al die doenighede van die jaar en die hoogtepunt wat met die | |
[pagina 60]
| |
Oudtshoornse fees bereik is, het Saartjie gesorg dat die aandag op haar gevestig bly. Sy het dan ook groot lof vir haar ywer ontvang. ‘Oral waar dit om Langenhoven gaan’, so skryf Die Oosterlig op 14 Augustus 1973 in 'n hoofartikel, ‘is Sarah Goldblatt as onafskeidbare skaduwee aanwesig. Met haar nougesette byna jaloerse bemoeienis met alles in verband met die skrywer se werk, het sy oor die jare ongekwalifiseerde bewondering van almal afgedwing. En steeds is sy onvermoeid besig om wag te staan oor die herinneringe van 'n onvergeetlike man. Soos hy die Afrikaner na aan die hart lê, is dit ook met haar die geval. Langenhoven-jaar is 'n gulde geleentheid om met liefde en deernis ook aan hierdie heel besondere “dienswillige dienaar” te dink.’ Soos met die kritiek van sommige skrywers was die kommentaar op die hooffees en die eindelose stroom huldigings egter nie altyd onverdeeld gunstig nie. In 'n belangrike hoofartikel op Saterdag, 11 Augustus, sê Die Burger dat die plesier ons ontsê is om Langenhoven self oor sy huldigingsfees aan te hoor en kom die koerant na aan 'n besonder juiste karakterisering van wat Langenhoven se werklike waarde was en wat sy reaksie op al die gedoentes sou gewees het. ‘Dit is net nie te glo’, so skryf Die Burger, ‘dat hierdie stroom-op ketter met 'n genadige oog sou gekyk het na die liefdevolle plasing van homself in die galery van heiliges nie. Teen soveel ernstige lof en vrome bewieroking sou hy nie anders kon as stroom-op ketters te reageer nie; nie woedend nie - dit was nie sy aard en sy genie nie - maar in reinigende spot.’ Die koerant gaan voort: ‘In die mate waarin Langenhoven 'n skynende lig van die Afrikaner-establishment gemaak word, word die man ontmens en sy deug versuiker. In sy wese was hy baanbreker, en baanbrekers is beeldebestormers, in lewe minder gelief as in hul dood. In sy aard was hy eenling, in volslae verset teen mode-denke.’ Om nou te beweer dat hy volkskrywer was, beklemtoon alleen maar, volgens die koerant, ‘dat hulle wat namens “die volk” gepraat het, in belangrike opsigte buite voeling met die volk was, en dat Langenhoven teen daardie opset 'n rebellie gelei het wat hom naderhand eers volksheld gemaak het’. Hierdie uitspraak dring nie alleen feilloos deur tot die werklike kern van Langenhoven se wese en bydrae nie, maar is onregstreeks ook 'n verdoemende veroordeling van Saartjie se hele industrie en ‘show business’. Deurdat Langenhoven teen die gevestigde orde en die ‘tradisioneel...deftige heer’ met ‘vroom gebaar’ gekant was, het hy 'n alleenloper gebly en die skynwêreld aangetas of blootgelê. Die prys wat | |
[pagina 61]
| |
hy daarvoor betaal het, so sê Die Burger, het hy, ironies genoeg, in een van sy swakste verse en een van sy swakste essays, dié oor die harlekyn, verwoord. Hierdie aspek van Langenhoven, sy hekelende kritiek op die ‘hoë here’ en die afwysing van hulle skynwaardes, is volgens die koerant ‘onderbeklemtoon in die lange feestelikhede’. Die uitgerekte fees het gevolglik 'n ‘wanbalans’ van ‘waardes’ gelaat. Hierdie hoofartikel, veral op die vooraand van Langenhoven se verjaarsdagviering, was 'n belangrike bydrae tot 'n te lank uitgerekte fees waarin die aksent op die holle gebaar, die retoriek en die uiterlike vertoon geval het, met ignorering van die intrinsieke en blywende waarde wat Langenhoven en sy werk wél verteenwoordig het. | |
IIIDat Saartjie in 'n hoë mate die primêre aanstigter van al die doenighede was, blyk duidelik uit die duisende briewe en die eindelose reeks telefoonoproepe - van John Vorster af ondertoe - wat sy tydens die eeufeesjaar geskryf en gemaak het. Die wyse waarop sy dit met haar kenmerkende drif wou deurvoer, blyk verder uit die lae profiel wat sy aan Engela, Guillaume en Laetitia Brümmer tydens die feestelikheid toegesê het. Vir die vierings op Oudtshoorn wou Saartjie egter wel hê dat Guillaume en Laetitia vir die hele week moes oorkom en hulle kinders moes saambring. Guillaume het egter voet by stuk gehou. Hy en Laetitia sou net die naweek se verrigtinge bywoon en hulle wou nie die kinders aan al die publisiteit blootstel nie. Die kinders sou dus tuisbly en onderweg Oudtshoorn toe sou hulle Engela op Ladismith oplaai. Saartjie was woedend oor die besluit, maar uit die aard van die saak magteloos teen so 'n beslistheid. Teen hierdie tyd het al die dinge van die jaar Guillaume reeds behoorlik teen die bors gestuit. Die hele 1973 deur was iets verskrikliks om te belewe, want Saartjie wou die hele fees - insluitende die Brümmers - ten volle dirigeer. Sy het dit gereël dat die Brümmers tuisgaan in die Holiday Inn op Oudtshoorn, nie in die Queen's Hotel saam met hoogwaardigheidsbekleërs soos Phil Weber, H.B. Thom, Jan Scannell, die Vorsters en Saartjie self nie. Uit wraak vir hulle afgeskeepte bywoning van die verrigtinge moes die Brümmers vind dat daar geen kaartjies vir die volgende aand se Herrie-ballet | |
[pagina 62]
| |
vir hulle beskikbaar was nie en dat Saartjie, behalwe 'n ete waar die Vorsters ook teenwoordig sou wees, hulle by feitlik alles weggelaat of in 'n hoekie geakkommodeer het. Vir Guillaume Brümmer het Saartjie se moedswillige ‘nalatigheid’ uitstekend gepas. In plaas van die Herrie-ballet het hy en Laetitia die aand lekker in die strate rondgedwaal en interessante gesprekke gevoer met van die bruin mense wat heeltemal van die feesvierings uitgesluit was. Dit was egter wel 'n bietjie embarrasserend toe hulle later navrae oor die vorige aand se ballet en die gehalte daarvan moes beantwoord, en dit geblyk het hulle was glad nie daar nie. Alhoewel Saartjie die Brümmers dus sover moontlik verontagsaam het, was sy tog daarop gesteld dat Engela korrek aantrek vir die geleenthede wat sy moes bywoon. Sy het by herhaling na die Holiday Inn gebel en Laetitia op haar gebruiklike outoritêre wyse feitlik instruksies gegee. ‘Vat daai lipstiffie uit Engela se hande’, het sy gesê, ‘sorg dat haar lippe behoorlik rooi is en sê vir haar sy moet nie so 'n begrafnisgesig opsit nie.’ Tydens Vorster se hoofrede het hulle in die bakkende son gesit, terwyl Saartjie op die verhoog langs mev. Vorster in die skaduwee haar plek ingeneem het. Wanneer iemand haar gevra het waar Engela dan is, het Saartjie geantwoord dat Engela nie van publisiteit hou nie en nie in die voorste gestoeltes wil wees nie. Tydens die ete na afloop van Vorster se rede was Engela en die Brümmers ook by, maar eenkant in 'n verskuilde hoekie. Dit is natuurlik alles presies só deur Saartjie georkestreer, want dit was in haar aard om alles te reël soos sy dit verkies het. By die ete het een van die sprekers by die hooftafel tydens sy toesprakie van sy teks afgewyk en 'n paar woorde van hulde tot Engela gerig. Toe die mense agterkom dat Engela werklik aanwesig was, het hulle spontaan opgestaan en haar toegejuig - die enigste erkenning wat sy tydens die fees ontvang het. Engela het skamerig haar kop geknik en die applous erken. Tydens die onthaal vir die hoogwaardigheidsbekleërs na die oopstelling van die C.J. Langenhoven-gedenkbiblioteek het van die ongenooide gaste ook probeer om in die gebou in te stroom. Saartjie het soos 'n wag buite gestaan, haar arms geskud, geskreeu en gesê: ‘Hierdie is nie vir die algemene publiek nie!’ - 'n aanduiding van hoe ver die waansin by haar reeds gevorder was. Ook die verrigtinge van Sondag, 12 Augustus, is vir die Brümmers gekenmerk deur Saartjie se dominerende en outoritêre ingesteldheid. Ná die kerkdiens, waartydens Koot Vorster - broer van die eerste | |
[pagina 63]
| |
minister en moderator van die Kaaplandse Ned. Geref. Sinode - na die Sestigers as 'n klomp ‘vuilspuite’ verwys het, was daar 'n kranslegging by Langenhoven se graf. Agter die stoet lang swart motors van die belangrike hoogwaardigheidsbekleërs het Engela, Guillaume en Laetitia in 'n verbleikte, ligblou, ingeduikte Volksie gevolg, ál voertuig wat Guillaume in dié vroeë stadium van sy lewe kon bekostig - vir hom 'n geestige metafoor vir die aweregse Langenhoven se eie ‘bywoning’ van die fees! Terwyl Saartjie en Engela langs mekaar stap in die begraafplaas, het Saartjie gevit: ‘Engela, lyk beter’, 'n opmerking wat Laetitia verplig het om te sê: ‘Tant Saartjie, bly stil.’ Miskien het Saartjie in daardie oomblik besef dat sy darem nou die perke oorskry, want sy het inderdaad stilgebly. Tydens die plegtigheid op Hoeko dieselfde middag was die hoë mense soos die administrateur, die burgemeester en raadslede van Ladismith en Saartjie self weer onder 'n tentdak om skaduwee in die bloedige son te gee. Die Brümmers moes in die son sonder enige beskutting sit, weer 'n illustrasie van hoe Saartjie hulle sistematies eenkant gehou het. Die regstreekse aanleiding tot hierdie stelselmatige negering was Guillaume se weiering om die hele fees mee te maak. 'n Ander rede was waarskynlik die gulle ontvangs wat Engela aan die begin van die eeufeesjaar in Bellville geniet het, met 'n groep reisende Potchefstroomse studente soos bye om haar. Dit was waarskynlik vir Saartjie 'n aanduiding dat sy uit die sentrum van die fees gestoot kon word. Sy moes dus tot elke prys sorg dat die aandag nie te veel op Engela toegespits word nie. In elk geval was die feesjaar in sy geheel Saartjie se ‘supersirkus’ en die botviering van alles wat in die ‘Sub’ se brein met die aankomende waansin kon ontstaan. Vir die Brümmers was dit 'n pynlike jaar en by tye 'n groot verleentheid. | |
IVNá die fees op Oudtshoorn was daar nog natrillings op ander plekke. Op 13 Augustus is Langenhoven se sonnewyser, volgens sy eie voorskrifte ontwerp, op Stellenbosch onthul naby die beeld van die weldoener Jan Marais en by die ingang van wat die volgende jaar as die Langenhoven-gedenksentrum ingewy sou word. Dieselfde aand was daar 'n aanbieding van die Stellenbosse Departement van Drama en 'n | |
[pagina 64]
| |
gedenklesing deur prof. W.J. du P. Erlank, afgetrede hoogleraar in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. By dié geleentheid het Erlank gewys op die twee pole in Langenhoven se samestelling: aan die een kant die rebelsheid wat hom altyd aan jou speurtog laat ontglip, aan die ander kant sy liefde vir die eenvoud van die Afrikaanse mens wat van hom 'n prinsipieel gerigte konformis gemaak het en die stabiliserende faktor in sy wese was. In September 1973 bring ook die Raad van die Universiteit van Kaapstad hulde aan Langenhoven as skrywer, openbare figuur en die deurslaggewende rol wat hy gespeel het om vir die Afrikaanse taal finaal erkenning te verwerf. In die Jagger-biblioteek van dié universiteit was daar 'n uitstalling van Langenhoven se werke. In Bainsvlei by Bloemfontein is 'n woonbuurt opsy gesit wat later tot Langenhovenpark met die name van Afrikaanse skrywers van alle geslagte as straatname ontwikkel sou word, 'n komiese nadraai van Saartjie se onsuksesvolle poging om Ladismith herdoop te kry. Op Ladismith is die nuwe biblioteek darem na Langenhoven vernoem. En by die Universiteit van Pretoria en die Vrystaatse Universiteit is die dramadepartemente ingespan om uittreksels uit Langenhoven se werke by wyse van dramatiserings en deur spreekkore aan te bied. Steeds het die stroom besoekers op Oudtshoorn by Arbeidsgenot aangekom en het 'n rekordgetal van bykans 20 000 mense die huis in die loop van 1973 besigtig. Op Uitenhage is 'n plein na Langenhoven vernoem en op Welkom is 'n gedenkprogram in die skouburg aangebied. Daarmee was die feesjaar egter vir alle praktiese doeleindes verby. Vir baie mense was Saartjie se orkestrasie van die geheel, haar stelselmatige beplanning oor jare heen, haar ywer en die drif waarmee sy dit alles op vier en tagtigjarige leeftyd deurgevoer het, sowel iets verbysterends as iets onbegrypliks. Met die gedenkseëls, die mansjetknope, die heruitgawe van die Versamelde werke, die voorgeskrewe boeke en die talle dawerende loftuitinge het 'n mens egter die gevoel gehad dat Saartjie nou bereik het wat sy graag wou. By haar huis, Loeloeraai, was al die knipsels wat sy kon deurblaai, die beeld van Langenhoven, altyd met blomme daarby, en die meer as duisend olifantbeeldjies waarna sy steeds kon kyk - die boustof vir 'n boeiende ‘Gothic tale’ as daar ooit een was! Met Langenhoven as haar metafoor het sy iets bereik wat in Suid-Afrika of elders nie sy gelyke gehad het nie. So 'n toewyding en hartstog was | |
[pagina 65]
| |
eenvoudig eenmalig, onvergelykbaar met enigiets elders in die literêre wêreld. Maar die oordrewe feestelikheid het tog 'n wrang smaak in baie mense se monde gelaat en hulle was moeg van die dreunende ge-Langenhoven wat hulle die hele jaar moes aanhoor. Baie mense het die skuld op Saartjie gepak en gesê dat sy Langenhoven in die proses versmoor het. ‘She was too anxious to preserve him’, soos regter Helm van Zijl dit by geleentheid gestel het.Ga naar eind5 Van hierdie kritiek het Saartjie haar min aangetrek, al het sy tog die gevoel begin kry dat dit in en om haar begin leeg word. Daar was egter nog baie bedankingsbriewe en ander korrespondensie wat sy moes afhandel en sy moes aandag gee aan die tweede oplaag van die eeufeesuitgawe van die Versamelde werke wat aan die verskyn was. Terwyl sy hiermee besig was, het haar oë egter begin ingee. Haar hele wêreld het om haar heen begin ineenstort. Sy kon Langenhoven se boeke nie meer sien nie. Sy was per slot van rekening 'n baie ou en afgetakelde vrou, byna vyf en tagtig jaar oud. |