Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 21]
| |
Hoofstuk II
| |
[pagina 22]
| |
in verband met moedertaalonderwys ten uitvoer - 'n besluit wat deur Langenhoven as lid van dié raad geïnisieer is. In 'n brief van 27 Mei 1973 aan Elsa Joubert sê Sarah dat hierdie eksperiment 'n volslae sukses was. In die jare 1917-1918 is sy redaksielid van De Burger in Kaapstad, en veral uit dié tyd dateer die begin van haar werk in verband met die versorging van Langenhoven se manuskripte en die onderhandelings wat sy namens hom met die Nasionale Pers moes voer. Sy was die eerste vrou wat 'n redaksielid van De Burger was. Onder meer het sy verslag gelewer oor 'n hofsaak teen iemand wat generaal J.B.M. Hertzog op die treetjies van die Parlementsgebou te lyf gegaan het, en oor die instelling van die Universiteit van Stellenbosch uit die ou Victoria College. Na haar termyn by De Burger was sy behulpsaam met die oprigting van Sanlam en in 1919 word sy onderwyseres aan die Tokai Public School, waar sy Afrikaans as vak invoer. Daarvandaan is sy agtereenvolgens, weer vir die onderrig van Afrikaans, na Retreat, die Cape Town Training College en die Sentrale Skool in Kaapstad. In dié tyd verwerf sy die Hoër Primêre Onderwysdiploma en slaag sy in die hoogste Taalbondeksamen. Terselfdertyd voltooi sy ook kursusse in sielkunde, biologie en soölogie naas verdere studie in Duits en Nederlands. Vanaf 1940 tot met haar aftrede in 1944 was sy verbonde aan die Laerskool Brooklyn in Kaapstad. Daarna het sy nog onderwys gegee by die Herschel Meisieskool, die Christian Brothers in Seepunt en die Opleidingskollege vir Kleuteronderwysers in Claremont. Naas haar werk aan Langenhoven het sy al hierdie jare ook privaat klasse vir studente, hoërskoolleerlinge, immigrante, diplomate en Parlementslede by haar aan huis gegee om hulle met hulle studie van Afrikaans te help en vir eksamens voor te berei. Dit het meegebring dat sy nie alleen 'n studie van die probleme van vreemdelinge met die aanleer van Afrikaans moes maak nie, maar ook dat sy voortdurend op die hoogte moes bly van nuwe ontwikkelinge op die gebied van die Afrikaanse letterkunde. Van alle belangrike nuwe publikasies het sy ten minste een en soms twee eksemplare - die tweede vir uitleendoeleindes - aangeskaf. Hoeveel van dié werke sy werklik intensief gelees en verteer het, is moeilik om vas te stel, want Sarah was soos haar ‘Chief’ wars van literêre kritiek en het nooit oor spesifieke tekste van byvoorbeeld N.P. van Wyk Louw of D.J. Opperman gepraat nie. Waar sy haar | |
[pagina 23]
| |
by geleentheid in sporadiese publikasies - soos in die programnotas van KRUIK (Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste) se opvoering van Opperman se Voëlvry - oor die literatuur uitgelaat het, was haar uitsprake meestal onbeholpe of apodikties, sonder die nodige bewysvoering. Onderliggend hieraan is miskien die feit dat Sarah - of Saartjie, soos die meeste vriendinne haar genoem het - wel 'n medemenslike belangstelling gehad het, maar krities nie sterk toegerus was nie. Dit blyk byvoorbeeld uit die kommentaar wat sy voorin haar eksemplare van Afrikaanse literêre werke uit die sestigerjare skryf en wat tans in die C.J. Langenhoven-gedenkbiblioteek op Oudtshoorn bewaar word. Voorin haar eksemplaar van André P. Brink se Lobola vir die lewe beskryf sy die roman as die ‘soveelste nuwe boek wat uiting gee - onder die voorwendsel van iets nuuts - aan liederlikheid in die skrywer se eie samestelling, in sy eie ongedissiplineerde persoon. Ek dink hy doen dit nie net om te skok nie, maar om daarmee eie verlustiging te kry uit laagheid soos 'n sekere soort sielkundig ontwrigte in drek vroetel.’ Oor Breyten Breytenbach se Kouevuur is sy, indien moontlik, nog skerper. Die bundel is vir haar ‘'n openbaring van 'n hulpelose mens sonder voldoende beheer vir gedissiplineerde denke - die enkele geslaagde beeld binne die raamwerk van drek dui op 'n sielkundige disintegrasie tot die stadium waar vroetel met drek die begeerde voldoening verskaf - Valkenburg het baie van dié gevalle’. Oor Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux - seun van Langenhoven se ou vriend en politieke makker S.P. le Roux en peetkind van die ‘Chief’ - is sy gunstiger, al verstaan sy blykens haar kommentaar nie veel van die roman nie en het sy dit veral teen wat sy verkeerdelik as 'n sekere anti-Joodsheid interpreteer. Die verskrikkinge van die ‘Walpurgisnacht’-hoofstuk lees sy as ‘die bekende beskuldiging teen die Jode in die middeleeue’, naamlik gemeenskap ‘met die Duiwel self, met die Antichris’, iets wat nêrens in die roman só gestel word soos Saartjie dit hier interpreteer nie. Sy vind die ‘besonderhede’ in hierdie hoofstuk ‘ongelooflik vuil’ en aan die einde van haar kommentaar skryf sy: ‘Ek verstaan nie wat Le Roux soek nie.’ I.D. du Plessis se Ballade van broer Blindeman, wat in 1973 verskyn, verwerp sy op grond van die vermeende politieke oortuigings wat uit die bundel spreek, iets wat in haar gemoed teen die agtergrond van die Jode se stryd in Israel geïnterpreteer word. Na aanleiding van Du Plessis se ‘pleidooi’ vir die opheffing van die bruin | |
[pagina 24]
| |
mense sê sy dat die Jode in hul eie land die oplossing lankal gekry het, naamlik dat hulle uit ‘sterkte’ gelykheid aan almal gee. In Israel, sê sy, is die Arabiere in die minderheid. Die Jode behou hulle identiteit en meng nie sosiaal met ander groepe nie. ‘Ek’, so skryf sy in 'n oomblik van selfinsig en selfopenbaring, ‘is ('n) uitsondering en julle het tog julle bedenkings sosiaal.’ Die hele veroordeling van Du Plessis se bundel berus dus op 'n vermeende politieke basis, terwyl die slotopmerking - so ná aan die einde van haar lewe - iets verraai van die ontsettende eensaamheid wat Sarah Goldblatt tog as Jodin en buitestander ten opsigte van die Afrikanergemeenskap ervaar het. In elk geval gee die oordele oor die vier boeke, soos ook sekere opmerkings wat sy van tyd tot tyd in haar briewe aan Langenhoven oor sy manuskripte maak,Ga naar eind5 'n aanduiding van hoe ontoereikend haar literêre oordeel was, al is dit onbillik om haar onvermoë in dié verband op grond van haar siening van werke uit die destyds resente Afrikaanse literatuur te illustreer. Ook skeppend was Saartjie nie sterk toegerus nie. In Afrikaans was haar styl altyd 'n bietjie horterig en haar woordkeuse dikwels skeef of foutief. 'n Mens kry die gevoel dat sy nooit ten volle in Afrikaans tuis was nie, ten spyte van die feit dat sy deur haar vriendskap met Langenhoven ook heelwat ‘lokale’ woorde en idiome uit die agrariese verlede van die Afrikaner leer ken het wat meestal by die immigrant verbygaan. En tog wou sy graag ook skeppend optree. In 1920 publiseer sy byvoorbeeld 'n bundel gedigte met die titel Liefdes-kransie wat sy ‘Met alle nederigheid aan Mumsey en my Chief van die Sub’ opdra. Die boekie bevat heelparty vertalings en is bedoel ‘vir gebruik op skole’. Dit begin by eenvoudige stukkies vir skoliere op die laer skool, maar ook heelparty ‘gevorderde’ verse vir ouer leerlinge is opgeneem. Onder die meer ‘gevorderde’ gedigte is daar 'n vertaling van ‘The cloud’ deur Shelley, 'n vers wat toe al, wat sy strofebou, rym en metrum betref, sowel deur Jan F.E. Celliers in ‘Die vlakte’ as deur Totius in ‘Die besembos’ nagevolg is, waarskynlik in 'n poging om aan Afrikaans, ná die negentiende-eeuse rympies en lawwighede, 'n sekere literêre ‘waardigheid’ te gee, en om te illustreer dat die eens versmade kombuistaal hom net so goed as Engels tot 'n verwikkelde vers en fyn beelding kan leen. Die eerste strofe van ‘The cloud’ lui as volg: | |
[pagina 25]
| |
I bring fresh showers for the thirsting flowers,
From the seas and the streams;
I bear light shade for the leaves when laid
In their noonday dreams.
From my wings are shaken the dews that waken
The sweet buds every one,
When rocked to rest on their mother's breast,
As she dances about the sun.
I wield the flail of the lashing hail,
And whiten the green plains under,
And then again I dissolve it in rain,
And laugh as I pass in thunder.Ga naar eind6
Sarah Goldblatt vertaal dié strofe as volg: Ek breng die buie vir dorstende kruie
van diep uit die seeë en strome,
Ek breng vir die blaar 'n koel luggie, daar
waar sij maters en hij lê in drome.
Van mij vlerk drup die douw, om die voëltjies gouw
één vir één uit die slaap te wek
waar die moeder haar kroos aan haar bors moes troos,
teen die strale haar kinders bedek.Ga naar eind7
Oor die algemeen was die kritiek, ook die resensie van De Burger, nie baie gunstig nie, iets wat in 'n brief van 24 Augustus 1920 aan Sarah verontwaardiging van Langenhoven ontlok. ‘Van al die onregverdige en opsettelik kwaadwillige beoordelings waar ek nog ál die jare om gekla het is hierdie die gemeenste en verfoeilikste’, 'n uitspraak waaruit Langenhoven se hipersensitiwiteit oor negatiewe kommentaar af te lei is, óók waar dit werk van een van sy enkele goeie en getroue vriende raak. In die besonder vind Langenhoven dit ‘verfoeilik’ dat daar nie een enkele woord van waardering vir die vertaling van ‘The cloud’ is nie, ‘'n vertaling wat 'n klassiek sal wees in ons letterkunde’. Hy voel ‘bitter jammer’ vir sy vriendin en die ‘liederlik-onbillike manier’ waarop De Burger op haar afklim, veral ná die wyse waarop hulle haar by die koerant en by Sanlam behandel het - 'n opmerking waaruit 'n mens kan aflei dat Saartjie se termyn by dié twee | |
[pagina 26]
| |
instansies, gedagtig aan haar strydlustigheid, nie sonder rimpelinge was nie.Ga naar eind8 Alhoewel die ‘Chief’ dus gunstig te spreke was oor sy vriendin se Shelley-vertaling en anders oor die bundel in sy geheel geoordeel het as die resensent van De Burger, het Sarah nooit weer gedigte gepubliseer nie. Getroue skrywersvriende soos Elsa Joubert, Audrey Blignault en Anna M. Louw het sy egter in hulle skeppende werk ondersteun. Aan sommige, meestal mindere, skrywers wat met bydraes tot weekblaaie besig was, het sy hulp verskaf. Vir Elsa Joubert het sy by meer as een geleentheid die beroemde uitspraak van A.T. Quiller-Couch aangehaal: ‘Whenever you feel an impulse to perpetrate a piece of exceptionally fine writing, obey it - whole-heartedly - and delete it before sending your manuscript to press. Murder your darlings.’Ga naar eind9 Ten spyte van hierdie ondersteuning was Sarah egter ongeduldig met sukkelende mense en veral afkerig van belydenisse. ‘Niemand is geïnteresseerd in jou emosionele ontboeseminge nie’, het sy by geleentheid aan Elsa Joubert gesê. Dikwels kon sy ook ontsettend kwaad word en giftig reageer. Toe Elsa Joubert op 'n keer by haar om advies in verband met redaksionele werk aanklop, was haar antwoord bot en beslis: ‘I am not running the Huisgenoot from Rhodes Avenue’, laasgenoemde die straat in Mowbray waar haar huis, Loeloeraai, geleë was. Elsa moes haar eie beslissings neem en sy wou nie daarmee opgesaal wees nie. Maar net so dikwels kon sy 'n sterk medemenslikheid openbaar en intens geïnteresseerd raak in mense en hulle werk. Oor Elsa se roman Ons wag op die kaptein was sy byvoorbeeld baie opgewonde en sy het 'n poging aangewend om dit in Engels te vertaal. Vir Elsa was die vertaling egter nie oortuigend nie en sy kon, na middae se harde werk saam met Saartjie aan die vertaling, insien wat haar vader by geleentheid bedoel het met die uitspraak dat Saartjie baie intelligent was maar nie 'n kreatiewe gees nie. Onmiddellik ná Langenhoven se afsterwe het Saartjie in elk geval nie tyd vir haar eie skeppende werk gehad nie. Met sy dood het sy haar groot lewenstaak as geskenk van hom ontvang, 'n geskenk wat sy die res van haar lewe getrou sou koester. Haar taak as administratrise van die letterkundige nalatenskap sou vir eers haas al haar tyd in beslag neem. Reeds in Augustus 1932 het die Nasionale Pers, Vroutjie en Sarah Goldblatt self briewe begin ontvang ‘met die dringende versoek om | |
[pagina 27]
| |
die werke van die liewe heengegane beskikbaar te stel in 'n eenvormige band en formaat’.Ga naar eind10 Op die eerste uitgawe van twaalf boekdele het 3000 mense ingeteken en die uitgewers was verplig om die lys te sluit. Omdat die testament bepaal dat slegs 2000 eksemplare per oplaag van Langenhoven se boeke gedruk mag word, is twee oplae - een van 2000, en een van 1000 eksemplare - gedruk. Sarah het gesorg dat die ‘Chief se spellings, interpunksie ensovoorts ...behou (word) presies soos hy dit self geskryf het in die manuskrip of anders self verander het in die proef toe die boeke by sy lewe uitgekom het’.Ga naar eind11 Die eerste twee drukke is in die jare 1933-1935 gepubliseer, en in 1936 en 1937 het nog twee verdere dele verskyn wat onderskeidelik Langenhoven se drie Engelse boeke en sy nagelate werke bevat, 'n publikasie wat al klaar die rigiede voorskrif van die testament verbreek het en 'n aanduiding daarvan was dat Saartjie se Langenhoven-industrie reeds aan die gang was. Die publikasie van die Versamelde werke van Langenhoven is die grootste enkele produk waartoe Sarah se toewyding as administratrise van die letterkundige nalatenskap gelei het. In die laat veertiger- en vyftigerjare en weer in die eeufeesjaar 1973 is dit herdruk en betreklik gou volledig uitverkoop. In 1955 is berig dat 8000 stelle reeds van die eerste 14 dele verkoop en nog 2000 stelle van die drukkery bestel is.Ga naar eind12 In 1955 is Aan stille waters II (wat Saartjie - weer in stryd met die streng letter van die testament - oorspronklik in 1941 in die Nasionale Pers se Kwarteeu-serie laat verskyn het) as deel XV herdruk en in 1958 is 'n sestiende deel bygevoeg, bestaande uit dokumentasie in verband met ‘Die Stem van Suid-Afrika’, ‘Ons eie vlaglied’, Langenhoven se ontwerp vir 'n sonnewyser, vroeë stukke in Nederlands, Engels en Afrikaans, die reeks Ou-liedjies en verspreide gedigte wat nie reeds eerder in een van sy bundels opgeneem is nie. Terwyl die eerste twee drukke in 'n mooi bruin kunsleerband met gouddruk op die rug verskyn het, is dit in die laat veertiger- en vyftigerjare in 'n rooi band gepubliseer en tydens die eeufeesjaar in oranje-bruin met 'n vaalgrys stofomslag. In die werke van Langenhoven, so sê Die Huisgenoot in 'n hoofartikel van 31 Maart 1933 by die verskyning van die eerste druk, ‘sien ons die snelle opbloei van die kultuurlewe van die Afrikanervolk weerspieël, 'n opbloei wat seker sonder weerga is’. As 'n leergebonde stel van die laaste uitgawe van die Versamelde werke in 1974 aan Saartjie oorhandig word, sê sy dat daar tot op daardie datum altesame 2100000 boeke van | |
[pagina 28]
| |
Langenhoven gedruk, uitgegee en verkoop is, met ander woorde 'n gemiddelde van 35000 boeke per jaar sedert 1914.Ga naar eind13 Dit is een van die grootste suksesstories van die uitgewersbedryf in Suid-Afrika en 'n aanduiding van Langenhoven se gewildheid by die lesende publiek, al was die voorskryfmark vir skoolgebruik ook 'n belangrike faktor wat die groot oplae bepaal het. As 'n mens Sarah Goldblatt se versorging van die Versamelde werke noukeurig bekyk, kom jy af op die enigsins idiosinkratiese werkwyse wat van vroeg af kenmerkend van die behartiging van haar taak as letterkundige administratrise was en ook op die onnoukeurighede waarmee die tekste, ten spyte van haar groot toewyding, versorg is. Nie alle wysigings wat die ‘Chief’ uitdruklik voorgeskryf het, is uitgevoer nie, terwyl sommige van sy beloftes tydens sy lewe heeltemal verontagsaam is. In deel XV van die Versamelde werke word byvoorbeeld in Aan stille waters II die tweeluik ‘Die twee kerke van Tulbagh’ opgeneem wat oorspronklik in Die Burger op 2 Februarie en 8 Februarie 1932 verskyn het, artikels wat tot groot onmin in die Tulbaghse gemeenskap gelei en Langenhoven genoop het om per brief die versekering te gee dat die twee stukke nooit in een van sy boeke opgeneem sou word nie - 'n versekering wat Saartjie by die samestelling van die bundel geïgnoreer het. Die verskyningsdatums wat sy aan die einde van elke deel van die werke volgens hulle eerste verskyning gee, is ook dikwels foutief. Die eienaardigste van die wyse waarop Saartjie die uitgawe in die uiteindelike sestien dele saamgestel het, is die volkome verontagsaming van die chronologiese volgorde van die publikasies - die algemene gebruik by die uitgawe van 'n skrywer se versamelde werke. Wat Saartjie gedoen het, is om die chronologie geheel en al te verbreek en voorkeur te gee aan 'n indeling wat hoogstens op 'n tematiese of genreverwantskap berus. So byvoorbeeld word die ‘huislike’ romans met Vroutjie en Engela as karakters in deel II saamgebundel, al sluit Doppers en Filistyne nie meer organies aan by Sonde met die bure en Herrie op die óú tremspóór nie. Deel V bevat Langenhoven se kinderverhale, deel VII sy gedigte en deel VIII sy toneelstukke, terwyl in deel III sy spookverhale opgeneem word. As hierdie dele nog enigsins 'n samehang toon, is dit nie meer in dieselfde mate die geval met deel I waarin Skaduwees van Nasaret, Loeloeraai en Die wagtende wêreld opgeneem word nie, terwyl deel IV Mof en sy mense, Donker spore en Die lig van verre dae bevat, werke wat in 'n baie losse verband tot mekaar staan. Die twee | |
[pagina 29]
| |
versamelings van Aan stille waters word deur drie dele tussenin van mekaar geskei; by latere uitgawes is hierdie anomalie nie reggestel nie. Waarop dit alles neerkom, is dat Sarah Goldblatt op haar gebruiklike indiwidualistiese en eiesinnige wyse 'n uitgawe van Langenhoven se werke versorg het, met ignorering van alle chronologie en 'n wetenskaplike basis wat by so 'n onderneming tuishoort. Waarskynlik sou sy kon teenwerp dat sy leestekste vir die ‘volk’ wou saamstel, juis nie 'n wetenskaplike uitgawe wat as voer vir die versmade kritici kon dien nie. In die vroeë jare van die Langenhoven-industrie het Sarah Goldblatt ook 'n ander belangrike onderneming aangepak, naamlik 'n uitgawe van die holograaf van Langenhoven se onvoltooide Die mantel van Elia, die laaste werk, waarmee hy tot die aand voor sy dood besig was. Die uitgawe verskyn in November 1933 as 'n faksimilee en word voorafgegaan deur 'n aantekening van Sarah waarin sy uit die ‘Chief’ se laaste brief aan haar aanhaal en die ‘halwe gedagte’ van daardie laaste paar dae van sy lewe in die nodige raamwerk plaas. Dit is die eerste keer dat 'n bibliofiele uitgawe op die gebied van die Afrikaanse letterkunde gepubliseer is, en vir dié tyd was dit 'n mooi boek van vyftig bladsye in sagteband, met die letters van die titel in Langenhoven se handskrif in goud op die omslag. Maar naas die uitgawes van die Versamelde werke en Die mantel van Elia het Sarah Goldblatt ook - soms regstreeks, soms agter die skerms - pogings aangewend om die Langenhoven-verering te bevorder en aan die legende volle momentum te gee. Haar werk as letterkundige administratrise het sy in 'n onderhoud met Danie van Eeden van die SAUK (Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie) op 13 Januarie 1970 geformuleer as 'n voortsetting van die werk wat Langenhoven tydens sy lewe gedoen het. Om dit te verwesenlik, was haar taak drieërlei: om sy nalatenskap as ‘kleinood’ van die Afrikaner en Suid-Afrika in die geheel te bewaar deur sy tekste - behoudens sekere spellingveranderinge - uit te gee presies soos dit was; om deur antwoorde op versoeke as inligtingsbron oor Langenhoven te dien; en om sorg te dra dat sy werk gelees word en sy naam lewend bly. Wat die eerste en gedeeltelik die derde van hierdie take betref, was Sarah se eerste opdrag aan haarself met die verskyning van die Versamelde werke afgehandel, al het sy gesorg dat Langenhoven se meer populêre boeke deur die jare ook apart beskikbaar was en dat van sy | |
[pagina 30]
| |
werke gereeld op skool voorgeskryf word. Daarvoor het sy reeds kort na sy dood met die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie geskakel, sodat hulle jaarlikse kongres van 1933 op 13 Desember op Oudtshoorn kon plaasvind. By dié geleentheid is 'n krans by die graf van Langenhoven gelê en 'n spesiale huldigingswoord van die unie op die graf aangebring. Verder het sy gereelde Langenhoven-aande met voordragte uit sy werk en opvoerings van sy samesprake of gedeeltes uit sy toneelstukke landswyd aangemoedig, dikwels met politici, administrateurs of hoogwaardigheidsbekleërs om 'n geleentheidsrede te lewer. Daarnaas het sy self van tyd tot tyd artikels in Die Huisgenoot of Die Burger oor Langenhoven geskryf en enkele vriende, joernaliste, politici en akademici aangemoedig om stukke oor hom te skryf. Dit was vir haar 'n vreugde toe die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) in die dertigerjare ná 'n prysvraag aankondig dat die keuse op ‘Die Stem van Suid-Afrika’ as volkslied vir die land geval het, en sy was verheug toe premier Hertzog ‘Die Stem’ in Januarie 1938 die eerste keer saam met ‘God save the King’ by die opening van die Parlement en daarna by alle amptelike staatsgeleenthede laat speel het, al was dit nog nie formeel tot volkslied verklaar nie. Op versoek van Hertzog het Sarah begin reëlings tref vir 'n Engelse vertaling, maar dit is gestaak toe daar in die Volksraad 'n hewige dispuut ontstaan het oor die volksliedkwessie en die moontlike afskaffing van ‘God save the King’. Sy wou nie ‘Die Stem’ se kanse om tot volkslied verklaar te word, verydel deur dit tot 'n politieke speelbal te reduseer nie. Die taak om as inligtingsbron oor Langenhoven op te tree en om te sorg dat sy naam lewend bly, het Sarah op 'n heel indiwiduele manier onderneem en op 'n wyse wat later kenmerkend van haar optrede sou word. Dit is opvallend dat haar lewenslange obsessie met Langenhoven veral in seremonies met voordragte en toesprake deur hoogwaardigheidsbekleërs tot uiting gekom het. Vir haar was Langenhoven die Afrikaanse volkskrywer by uitnemendheid en haar bedoeling met haar missie was dat hy deur die volk gelees moes word. Om dít te bereik, was studies deur letterkundiges heeltemal irrelevant en oorbodig en sou dit eerder as 'n leesversperring in plaas van aanmoediging dien. Soos Langenhoven tydens sy lewe het sy letterkundiges beskou as volkome steriele mense wat niks bydra tot die volk se letterkunde nie. In 'n bydrae in Die Burger van 15 Augustus 1933 sê sy, in 'n merkwaardige vermenging van beskeidenheid en bravade: ‘ek is self in verskeie op- | |
[pagina 31]
| |
sigte 'n amateur - in die letterkunde, by voorbeeld, maar ek klop al die vakmanne hopeloos uit’. Om Langenhoven te bevorder, so was haar oortuiging, kon sy niks beters doen as om die verkose verteenwoordigers van die volk - Volksraadslede, senatore, ministers - te laat optree en toesprake oor haar ‘Chief’ te laat hou nie. Reeds in 1935 lewer Saartjie 'n reeks ‘Uitsaailesse’ vir die SAUK waarin sy oor Langenhoven praat. Deur die jare sou sy trouens by herhaling in geleentheidspraatjies en artikels vir dag- en weekblaaie oor hom praat en skryf - dikwels met herhalings van dieselfde feite, alhoewel sy die kuns verstaan het om hulle telkens anders op te dis. In 1943 is sy in 'n adviserende hoedanigheid behulpsaam by die verfilming van Langenhoven se speurverhaal Donker spore deur die vervaardigers Utolo en Vorbi, met Pierre de Wet as regisseur en met mense soos Jan Schutte, Esther Mentz, Gideon Roos en Douglas Fuchs as spelers. Die vertonings het in Oktober 1944 begin, maar volgens alle getuienisGa naar eind14 was die film, sowel wat beeld as klank betref, 'n klaaglike mislukking, met die spel amateuragtig en die draaiboek onfilmies. So 'n mislukking het Saartjie egter geensins in haar missie gestuit nie. In die veertigerjare het sy steeds voortgegaan met die reëlings vir Langenhoven-aande en ander geleenthede, al was haar aktiwiteite in dié jare nog in 'n mate ingetoë en het dit nie tot die eksesse gelei wat die laaste jare van haar behartiging van Langenhoven se nalatenskap gekenmerk het nie. Vroutjie was trouens nog in die lewe en as 'n stil aanwesigheid op die agtergrond met wie sy moes rekening hou en wie se wense sy moes eerbiedig. Eers ná Vroutjie se dood sou Saartjie haar werk aan Langenhoven tot 'n volledige industrie met baie fasette ontwikkel. | |
IINa Langenhoven se dood het Vroutjie, tien jaar ouer as hy, in hul woning, Arbeidsgenot, haar lewe voortgesit en van tyd tot tyd opgetree by sommige huldigingsaande ter ere van haar oorlede eggenoot. Oor die algemeen het sy egter 'n rustige oudag geniet. Sy het aanvanklik voortgegaan met die versorging van haar tuin - een van die groot vreugdes van haar lewe -, met haar hekel- en naaldwerk en met die lees en herlees van boeke, hoofsaaklik dié van Langenhoven self en | |
[pagina 32]
| |
van die klassieke Engelse letterkunde. Sy het 'n merkwaardige geheue besit en baie van Langenhoven se gedigte van buite geken. Sy kon ook byvoorbeeld Thomas Gray se ‘Elegy written in a country churchyard’ en Oliver Goldsmith se ‘The deserted village’ foutloos opsê, terwyl sy Die Rubáiyát van Omar Khayyám goed geken het, sowel in die Engelse bewerking van Edward FitzGerald as in Langenhoven se Afrikaanse oorsetting. Langenhoven het die vertaling van Die Rubáiyát in 1923 voltooi. In 'n luukse uitgawe van dié werk, wat in 1922 deur die Curwen Press, Plaistow, Londen, met pragtige illustrasies gepubliseer is, het hy op elke bladsy in sierskrif - iets wat hy voortreflik kon beoefen - sy eie vertaling ingeskryf. Hy gee hierdie boek, opnuut deur hom in kalfsleer ingebind en geplaas in 'n houtkissie met die naam van Omar Khayyám buite op in goue letters, aan Vroutjie met die volgende inskripsie:
Magdalena Maria Langenhoven Vroutjie!
Hier het ek my vertalinkie van jou geliefde Omar Khayyám vir jou ingeskryf met my eie hand en met my liefde.
Oudtshoorn, 23 April 1924. Jou ou man, C.J. Langenhoven.
Dié eksemplaar word in die sitkamer van Arbeidsgenot bewaar - een van die kosbaarste Langenhoveniana waaroor dié museum beskik. So 'n besondere geskenk en inskripsie getuig reeds van die hegte verhouding wat daar tussen Langenhoven en sy eggenote bestaan het. Uit die briewe van Vroutjie ná die dood van haar man aan Sarah Goldblatt blyk dan ook die waardering en liefde wat sy vir hom gehad het en die basies goeie verhouding wat daar tussen hulle was. Telkens praat sy oor haar eie eensaamheid en die gemis. Op 28 Maart 1933 skryf sy byvoorbeeld aan Sarah: ‘Ek soek(?)Ga naar eind15 sulke trooswoordjies want, o, die ledige plek word nog altyd lediger.’ Op 4 September 1933 kla sy oor die vreeslike gevoel van verlatenheid en die verpletterende gedagte dat sy nooit weer sy vriendelike ‘Nag Vroutjie’ sal hoor nie. Die briewe aan Sarah is in Afrikaans geskryf, maar telkens met ‘My dear Sub’ as aanhef en ‘van die Ounooi, M.M. Langenhoven’ as afsluiting. | |
[pagina 33]
| |
Die eensaamheid waaroor Vroutjie telkens uitwei, is nog verder vererger deur die feit dat daar geen hartlike verhouding tussen haar en haar dogters en skoonseuns uit haar eerste huwelik was nie. In Klapperbos, die huis reg langsaan Arbeidsgenot, het haar tweede oudste dogter, Elizabeth Overgaauw (Bessie) van Velden, gewoon, wat getroud was met Allan Alfred Baxter Pocock, 'n prokureur op die dorp. Alhoewel Allan Pocock na sy skoonmoeder se belange omgesien het, was die verhouding nooit werklik sonder spanninge nie, iets wat teruggevoer kan word na die animositeit van die Van Velden-kinders teenoor hulle stiefvader, Langenhoven. Terwyl Langenhoven besig was om 'n stryd in belang van Afrikaans te voer, het die Pococks en die ander familie aan die Van Velden-kant sy hele bedrywigheid met argwaan bejeën en hulle met hul oorwegend Engelse ingesteldheid en lojaliteite binne sy politieke opposisie tuis gevoel. Toe dr. D.F. Malan as leier van die latere ‘Gesuiwerde Nasionaliste’ Oudtshoorn in 1933 besoek, kla Vroutjie in 'n brief van 28 Augustus oor haar eensaamheid en die gesindheid van haar kinders. ‘Was ek tog maar tussen my eie mense’, skryf sy aan Sarah, ‘maar hier sit ek alleen met kinders wel naby maar tog nie besiel met my idiale nie. Geen een van hulle was op die vergadering...nie. Het nooit ooit 'n woord oor dr. M. gesê nie. 'We simply ignore him.' So sou ek dink is hulle gevoelens.’ Vroutjie was in hierdie stadium 'n sterk ondersteuner van Malan en het J.B.M. Hertzog na die koalisie en later samesmelting met J.C. Smuts en sy Suid-Afrikaanse Party as 'n verraaier beskou. In een van haar briewe uit die dertigerjare aan Saartjie verwys sy na 'n besoek van haar en Langenhoven aan Groote Schuur, waartydens Hertzog met waardering oor Rhodes gepraat het, 'n opmerking wat Vroutjie slegs met misnoeë kon bejeën. Teen dié agtergrond is dit te begrype dat daar met die Pococks en ander Van Velden-familie geen hartlike verhouding kon wees nie, want hulle was Sappe, selfs jingo's! Ook tussen die Pococks en Engela, Vroutjie en haar tweede man se enigste kind, het daar 'n wanverhouding bestaan, want Langenhoven het Engela onbeskaamd voorgetrek en selfs tot in die afgrond toe bederf. In al die jare na haar vader se dood dat Engela en haar gesin by haar moeder op Oudtshoorn kom kuier het, is daar beleefdheidsbesoeke by Klapperbos afgelê, maar daar was altyd 'n ondertoon van nyd. Daarby moes Vroutjie ook groot sorge oor haar dogter, Engela, gehad het. Engela was saam met haar man, Niko Brümmer, en hul | |
[pagina 34]
| |
seuntjie, Guillaume, op Beaufort-Wes woonagtig. In 1941 reeds was Engela maer en swak, en het sy volgens 'n brief van Vroutjie aan Saartjie in niks belang gestel nie. Onderliggend aan dit alles was 'n ernstige drankprobleem, iets wat in 1942 tot haar opname in 'n verpleeginrigting in Kaapstad-Tuine en intensiewe behandeling gelei het. Na die bykans drie maande in Kaapstad was sy merkbaar beter en het sy geleidelik herstel, al was die probleem nie heeltemal onder beheer nie. Op 14 Desember 1942 skryf Niko Brümmer aan Saartjie dat alles ‘by die huis’ weer goed gaan, ‘of so goed as wat...verwag (kan) word’. Die ‘ou swakheid’, so gaan hy voort, ‘het nou vir omtrent ses maande nie weer voorgekom nie. Maar ondernemensgees is daar hoegenaamd niks nie, nie 'n greintjie nie. Doen net wat ek sê behoort gedoen te word en niks meer nie.’ Dat Vroutjie haar die toestand van haar en Langenhoven se enigste kind baie aangetrek het, blyk uit die feit dat sy in hierdie jare soms lang tye by die Brümmers gaan bly het om Engela te ondersteun en in haar swak toestand by te staan. Ten spyte van haar erflike belading kon Engela egter haar seun mooi grootmaak en hom 'n gelukkige jeug op Beaufort-Wes bied. Sy was 'n uiters sensitiewe en intelligente mens en het 'n fyn geestelike bewustheid van Langenhoven se werk gehad. Self het sy ook aanleg vir skryf getoon en van haar ongepubliseerde verse en briewe is werklik fraai. Die dryfveer om dit verder te voer, het egter heeltemal ontbreek en sy het aan 'n geestelike inersie gely, iets wat vererger is deur die drankprobleem. 'n Tyd lank het sy op Beaufort-Wes nog toneel afgerig en haar eie gediggies voorgedra. Later het sy egter daarmee opgehou, want sy wou nie met haar vader vergelyk word nie. Selfs die aanmoediging van haar man in haar toneelbelangstelling en skryfwerk het nie gehelp om haar verder te laat ontluik nie. Waarskynlik deurslaggewend vir haar gebrek aan belangstelling om haar skryfaanleg te verfyn, was Saartjie se afwysende houding. Vir Saartjie was Langenhoven die groot en begenadigde kunstenaar, terwyl sy self testamentêr as die kultushouer en kroonbewaker aangewys is. Engela moes liewers van dié gebied wegbly, want sy sou nooit Langenhoven se peil kon bereik nie. Sy moes dus sy nagedagenis waardig wees, sonder om ook maar enigsins iets te doen wat sy beeld kon skaad. Hierdie houding van Saartjie het Engela nog verder in haar dop laat kruip. Vroutjie was dus baie bekommerd oor Engela en sy het probeer om haar sover moontlik tot hulp te wees. Juis in dié moeilike jare, in 1941, | |
[pagina 35]
| |
is haar getroue huishulp, Sarie Karolus, wat op vyftienjarige ouderdom by haar op Ladismith begin werk het terwyl sy nog met Van Velden getroud was, skielik oorlede. In haar briewe aan Saartjie skryf Vroutjie by herhaling oor al die sorge. Tog vind sy troos in ‘ons liefling’ se werk, veral in die woorde uit ‘Die wêreld die draai’ in Ons weg deur die wêreld II wat sy meer as een keer in haar briewe aanhaal: Onse Vader daarbo het Sy Hand aan die rad,
En Sy Oog op die uiterste draai van die pad.Ga naar eind16
In die laaste jaar van haar lewe was Vroutjie dikwels siek, al kon sy nog in haar rolstoel rondgestoot word. In 'n brief van 28 Julie 1949 kort na 'n besoek aan Arbeidsgenot skryf Engela aan Saartjie oor Vroutjie se swak gesondheid en die feit dat sy finansieel nie ‘blink sit’ nie. Sy het die indruk gekry dat die Pococks en die ander stieffamilie die toestand van haar moeder vir eie finansiële gewin uitbuit, op haar ‘aas’ en nie aarsel om onnodige rusies te veroorsaak nie, al het Allan Pocock tog haar sake behartig en ‘mooi’ met haar gewerk. Die verpleegsuster wat die ‘Ounooi’ moes versorg, so skryf Engela, het haar ‘vertel hoe daar gedurig goed weggedra word - kastig om vir Moeder omgesit te word in min of meer eetbare kossies, maar wat sy my verseker het meer was as wat die Ounooi ooit kan gebruik. Drank van allerlei aard word aangekoop sommer op groot skaal om hulle mee te verfris as hulle daar kom, en, soos ek verstaan het van beide Moeder en Beckett [die verpleegster - JCK], het hulle altyd sommer baie verfris daar weggegaan.’ Terwyl Engela by Vroutjie op besoek was, is daar 'n beroep op haar gedoen om nie terug te gaan Beaufort-Wes toe nie, maar om te help met die versorging van haar moeder - al haar stiefsusters moet hulle dan kwansuis ‘morsdood’ werk met ‘al die opofferings wat hulle vir die Ounooi maak’. Engela het hierdie versoek sonder opgawe van rede botweg geweier, selfs nadat een van haar swaers die versoek aan haar man herhaal het. Na die afskeid van haar moeder, so skryf sy verder in 'n passasie waaruit haar besondere maar dormante skryfaanleg duidelik blyk, ‘moes ek die res van die spul groet’. Hulle het haar egter ‘aanskou en behandel soos 'n hond wat te lank laaste 'n bad gehad het en bowendien met 'n muishond kennis gemaak het’. Haar moeder, sê sy verder, ‘is baie, baie swakkerig en verstandelik gladnie meer wat sy was nie. Die kompleks oor geldtekort was maar altyd by haar, en is | |
[pagina 36]
| |
maar net vererger deur haar hoë leeftyd en haar uiters swakke liggaamlike toestand.’ Ondanks die aftakeling en die gespanne verhouding met Langenhoven se stiefkinders het Vroutjie tot feitlik aan die einde haar humorsin behou en kon sy grappe intens geniet. Selfs op hoë ouderdom het sy met 'n sagte, vriendelike stem gepraat. In haar glansende geelgoue hare kon die gryses nooit werklik die oorhand kry nie. Geleidelik het die liggaamlike en geestelike aftakeling egter ingetree. In Mei 1950 het die Pococks die Brümmers laat weet dat Vroutjie op haar uiterste lê en het hulle van Beaufort-Wes af oorgery na Oudtshoorn. Al die liggaamsfunksies was aan die ingee en die niere het opgehou werk. Toe die Brümmers aankom, was Vroutjie reeds aan die weggaan en kon sy hulle nie eintlik meer herken nie. Die hele tyd het sy ylend geroep: ‘Help my, God; Here, help my tog.’ Twee maande tevore het sy in haar laaste brief aan Engela laat weet dat dit vir haar elke keer swaarder val om te skryf. Sy voeg by: ‘My kind die donker wolke pak al digter om my hoofd en glo my my pad is met dorings gesprei vanweë diensbodes ...’ Vroutjie is in haar sewe en tagtigste jaar oorlede, op 23 Mei 1950, en is langs Langenhoven op Oudtshoorn begrawe. Die diens is gelei deur ds. (later dr.) A.P. Treurnicht, wat toe predikant op Oudtshoorn was en in die tagtigerjare bekendheid verwerf het as regse politikus en leier van die Konserwatiewe Party. By die graf het die Langenhovens se ou vriend mnr. S.P. le Roux, minister van landbou, gesê dat die skrywer nooit die diens aan Suid-Afrika sonder sy vrou se invloed sou kon gelewer het nie. Alhoewel sy nooit op die publieke toneel verskyn het nie, sal sy altyd vir latere geslagte as ‘die grootste volksmoeder van ons tyd’Ga naar eind17 bekend staan. Op 30 Mei 1950 bring Sarah Goldblatt oor die radio hulde aan haar en die bydrae wat sy tot haar man se werk gelewer het. By haar, so het Saartjie gesê, kon Langenhoven altyd ‘sy troos en sterkte vind’. Van sy noodsaaklike besoeke elders kon hy altyd ‘na hierdie vrede’ terugkeer en nêrens ‘anders op aarde was hy so gelukkig as daar by haar nie. En dit was Vroutjie wat daardie rus gegee het.’ | |
IIIMet Vroutjie se dood in 1950 het Sarah Goldblatt volle beheer oor Langenhoven se letterkundige nalatenskap verkry. Die testament het | |
[pagina 37]
| |
bepaal dat sy haar taak in oorleg met Vroutjie en Engela moes uitvoer, maar reeds tydens Vroutjie se weduweeskap het sy in 'n hoë mate haar eie gang gegaan, Engela feitlik volkome geïgnoreer en Vroutjie net geken wanneer dit haar gepas het. By tye kon sy werklik moeilik wees, selfs teenoor Vroutjie. Nog op 6 Julie 1948 skryf sy byvoorbeeld 'n taamlik kwasterige brief waarin sy Vroutjie ernstig berispe oor 'n ongepubliseerde manuskrip met die titel Die verlore soon wat 'n student by Arbeidsgenot weggedra het.Ga naar eind18 Volgens Langenhoven se testament, iets waarop sy haar male sonder tal beroep het, ‘mag geen manuskrip’ van die ‘Chief’ deur enigiemand ‘vervreemd’ word nie, dit wil sê - voeg sy met nadruk by - ‘nie verkoop’ of ‘weggegee’ word nie. Buitendien, so gaan Saartjie voort, ‘soek ek nog na daardie eerste manuskrip van sy biografie wat hy later verwerk het in U Dienswillige Dienaar. Ek hoop hy het dit verbrand. Indien nie, moet ek dit doen as ek dit in die hande kry.’Ga naar eind19 Sy sê verder - op 'n taamlik aanstootlike wyse, as 'n mens Vroutjie se hoë ouderdom in ag neem - dat die ‘Chief alles in verband met sy letterkundige werk aan my toevertrou (het). Hy wou seker wees dat sy wil uitgevoer sou word en hy het geweet hoe saghartig die Ounooi kon wees, en met die toenemende jare kon word.’ Daarby het Saartjie ernstige beswaar teen biografiese besonderhede wat Vroutjie verstrek, iets wat ‘Chief’ juis uitdruklik verbied het. Sy neem ook aanstoot aan Vroutjie se briewe oor ‘Die Stem’ aan die dirigent van die Kaapstadse Stadsorkes, aangesien die testament juis vir Sarah aangewys het om dié dinge te behartig. Die Ounooi, so gaan sy voort, ‘behoort nie sulke dinge te doen nie. Jy moet die mense sê jy is oud en die sake kan jy nie behartig nie. Regtig Ounooi, so het die Chief dit bedoel, en so het hy dit gesê.... En asseblief tog, liewe Ounooi, skuil maar agter jou jare en verwys die mense almal na my.’ Alhoewel die brief oorwegend van 'n sekere eerbied getuig, bespeur 'n mens daarin ook iets meer as net 'n toevallige ongeduld aan die kant van Saartjie. Sy wou die hef volledig in die hand hê en die ‘Ounooi’ se ‘onbesonne’ optrede was steurend vir die volle uitvoering van haar pligte soos sy hulle geïnterpreteer het. In elk geval lei 'n mens uit die brief reeds af hoe Saartjie die testamentêre opdrag vertolk het en watter hartstogte daar by die uitvoering van die pligte vir haar in die spel was. Met die dood van Vroutjie kon Saartjie se Langenhoven-industrie egter in volle rat kom. Een van die eerste dinge waaraan sy aandag | |
[pagina 38]
| |
gegee het, was om Arbeidsgenot vir die nageslag te bewaar en as museum in te rig. Reeds op 12 Julie 1944 het Vroutjie in haar testament Arbeidsgenot met alle meubels daarin deur die aanwysing van 'n raad van trustees vir die bedrag van £ 1500 vir die woning en £ 300 vir die los goedere ‘ten behoewe van die Afrikaner volk van die Unie van Suid Afrika te koop aangebied’, met die bedoeling om die woning vir besoekers toeganklik te stel en te behou soos dit tydens Langenhoven se lewe daar uitgesien het. Die raad van trustees wat daartoe benoem is, het bestaan uit mense met wie Langenhoven bevriend was en wat sy vertroue geniet het: dr. E.G. Jansen (sedert 1948 minister van naturellesake in die Malan-kabinet en in 1951 tot goewerneur-generaal benoem), adv. S.P. le Roux (sedert 1948 as minister van landbou in die kabinet), mnre. J.J.S. Naudé en Jacob J. Smit, Engela Brümmer en Sarah Goldblatt. Uit die hele manier waarop die testament opgestel is, vermoed 'n mens dat Saartjie 'n belangrike aandeel daaraan gehad het en waarskynlik die dryfkrag agter Vroutjie se besluit was. Opvallend is verder die feit dat haas alle ander bemakings ten gunste van Engela en haar seun, Guillaume, was, met volkome uitsluiting van die Van Velden-kinders uit Vroutjie se eerste huwelik. Na haar dood was daar groot ongelukkigheid aan die Van Velden-kant oor dié uitsluiting, want 'n hele paar kosbare meubelstukke in Arbeidsgenot was in Vroutjie se besit toe sy as weduwee met Langenhoven getroud is en was dus afkomstig van haar eerste man, hulle eie oorlede vader. Dat dit nou aan die ‘volk van Suid-Afrika’ feitlik as geskenk aangebied is, het die misnoeë tot woede laat ontwikkel, want hulle het nie Langenhoven se politieke oortuigings gedeel nie en afsydig of selfs vyandig gestaan teenoor sy hartstogtelike stryd om Afrikaans tot landstaal te verhef. Buitendien was daar nou met die Nasionale Party se oorwinning in 1948 'n regering in Suid-Afrika aan die bewind van wie hulle polities radikaal verskil het. Hierdie rimpelinge het Saartjie egter geensins gestuit nie. Orals het sy praatjies gelewer om fondse in te samel vir die restourasie van Arbeidsgenot en die inrigting van die huis as museum. Lank voor haar dood het Vroutjie baie mense by Arbeidsgenot ontvang en self as gids opgetree om hulle in die huis rond te wys. Toe sy dit tydens haar laaste siekte nie meer self kon behartig nie, het sy gesorg dat daar altyd iemand was om gaste rond te neem. Dat die huis vir 'n geringe bedrag aan die ‘volk’ verkoop en nie geskenk is nie, het voortgespruit uit die | |
[pagina 39]
| |
oortuiging van mense van haar geslag ‘dat daar geen waardering is vir dinge wat 'n mens verniet kry nie’.Ga naar eind20 Na Vroutjie se dood het Saartjie en die ander kuratore geld nodig gehad, want daar is bereken dat die restourasie en uitbreidings £ 20000 sou kos. Arbeidsgenot, so was Saartjie se aanvanklike planne, moes nie net 'n besienswaardigheid wees nie. Aan die linkerkant van die huis het sy 'n natuurtuin met Oudtshoornse plante beoog, terwyl sy van plan was om op die ‘afdraande’ aan die regterkant 'n amfiteater of 'n gebou vir volwasseonderwys op te rig, 'n kunssentrum vir toneel en tuisnywerheid, soos leer- en houtwerk, wat die ‘Chief’ al die jare self beoefen het. Op dié wyse, so het sy gemeen, kon Langenhoven se nagedagtenis steeds lewend gehou word. In later jare is die tuin wel aangelê, maar dan op 'n meer beskeie skaal as wat Saartjie beoog het, maar van die kunssentrum of amfiteater het nooit iets tereggekom nie. Die fondse vir so 'n groot onderneming kon sy nooit bewillig kry nie. Om geld in te samel, het Saartjie 'n rolprent laat maak oor die plek waar Langenhoven geleef en gewerk het. In die week van sy verjaardag in Augustus 1951 is dit in die vier provinsiale hoofstede en op Oudtshoorn vertoon, en daarna is dit dwarsdeur Suid-Afrika hoofsaaklik by skole versprei. Om die komende oopstelling van Arbeidsgenot te propageer, het Morkel van Tonder op inisiatief van Saartjie op 16 Augustus 1954 'n hoorbeeld oor die woning uitgesaai, hoofsaaklik deur die aksent te laat val op die geskiedenis van die huis, die inrigting en veral die werke van Langenhoven wat daar geskryf is, met toespitsing op ‘Die Stem van Suid-Afrika’. Intussen het bydraes van oraloor ingestroom, 'n liggaam met regspersoonlikheid is in die lewe geroep en 'n maatskappy sonder winsbejag is gestig om Arbeidsgenot te restoureer, uitbreidings aan te bring en tot 'n ‘volksmuseum’ om te skep - alles kenmerkend van Saartjie se werkwyse en die toenemende ywer waarmee sy die Langenhoven-belange tot 'n volle industrie sou uitbou. As gevolg van sy amp as goewerneur-generaal kon dr. E.G. Jansen nie aanbly as voorsitter van die trustees nie. Hy is opgevolg deur H.A. Fagan tot sy dood in 1966 en daarna agtereenvolgens deur adv. S.P. le Roux tot 1971, dr. A.J. van der Merwe (moderator van die Kaapse Ned. Geref. Sinode) tot 1975, prof. H.B. Thom tot 1983 en prof. M.J. de Vries sedert 1983 (laasgenoemde twee albei rektore van die Universiteit van Stellenbosch). In 1955 is die restourasie en inrigting van Arbeidsgenot voltooi en op 21 April 1955 is die museum amptelik deur | |
[pagina 40]
| |
dr. Jansen in teenwoordigheid van Saartjie en Engela oopgestel. Dr. M. Grundlingh was die eerste kurator wat besoekers by Arbeidsgenot moes ontvang en die rondleiding moes behartig. Met die werk om Arbeidsgenot te bewaar en as museum in te rig, het Saartjie, ná haar versorging van die Versamelde werke, 'n tweede enorme bydrae tot die Langenhoven-verering gelewer. Met haar vooruitsiendheid kon sy Vroutjie betyds sover kry om die huis tot die beskikking van die Afrikanervolk te stel. Sonder haar deurdrywing in verband met die befondsing ná die dood van Vroutjie sou daar waarskynlik niks van die hele onderneming tereggekom het nie. Hoewel al haar ideale nie verwesenlik kon word nie, is Arbeidsgenot tot vandag toe steeds een van die weinige huise van 'n Afrikaanse letterkundige figuur wat pragtig bewaar gebly het, vergelykbaar met dié van Wordsworth en Dickens in Engeland en dié van Multatuli in Nederland. Met die opening van Arbeidsgenot het Saartjie se bedrywighede na die dood van Vroutjie egter maar net begin. In die vyftigerjare sorg sy vir die heruitgawe van die Versamelde werke. In die jare wat sou volg, sou haar bedrywigheid tot 'n enorme omvang uitgroei. Elke moontlike geleentheid - of dit nou werklik gepas was of nie - sou Saartjie aangryp om Langenhoven vir die ‘volk’ lewend te hou. So byvoorbeeld het sy gesorg dat die Germiston- en Bloemfontein-poskoetse tydens die Van Riebeeckfees in 1952 by Arbeidsgenot aandoen en dat Langenhoven se sonnewyser volgens sy eie ontwerp met behulp van G.O. Neser van die Paarlse Hoër Jongenskool deur die stadsraad van Oudtshoorn in die gedenktuin opgerig word. By geleentheid van Langenhoven se een en tagtigste verjaardag in 1954 het Ken Swart 'n program uitgesaai waarin Langenhoven, sy wêreld en sy mense met gedeeltes uit sy werk opgeroep word, een van talle dergelike uitsendings wat Saartjie op die een of ander wyse geïnisieer het. Sy het die kuns goed verstaan om ander mense na haar pype te laat dans en presies te laat doen wat sy wou hê! Huldigingsprogramme en feesgeleenthede was egter nie genoeg nie. Een van Saartjie se groot ideale was dat ‘Die Stem van Suid-Afrika’, die gedig wat Langenhoven op 30 en 31 Mei 1918 in Arbeidsgenot geskryf en waarby hy later in Kaapstad 'n vierde strofe toegevoeg het, tot enigste amptelike volkslied van Suid-Afrika verklaar moes word. Reeds in die dertigerjare het die FAK na 'n prysvraag beslis dat ‘Die Stem’ die grootste steun onder die blanke bevolking geniet, en in 1938 het Hertzog dit die eerste keer by die opening van die Parlement laat | |
[pagina 41]
| |
speel. As fyn strateeg het Saartjie egter die hele aangeleentheid laat links lê toe daar na 'n voorstel van dr. D.F. Malan besware van die regerende Verenigde Party gekom het. Om ‘God save the King’ in dié stadium, veral met 'n dreigende wêreldoorlog, af te skaf, sou die gemoedere onder die Engelstalige bevolking onnodig laat oplaai, 'n gevoel van animositeit teen ‘Die Stem’ laat ontstaan en haar uiteindelike oogmerk skade berokken. Één keer in haar lewe het Saartjie die insig gehad om geduld aan die dag te lê en op 'n geskikter geleentheid te wag. Met die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning in 1948 en die stuwende gevoel vir die vaderland en die heroïese verlede wat met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en die Van Riebeeckfees in 1952 aan die orde van die dag was, het sy begin besef dat die tyd nou meer as ryp genoeg is om haar groot ideaal in vervulling te laat gaan. In hierdie stadium het ‘Die Stem’, met die musiek van M.L. de Villiers daarby, reeds algemene inslag gevind. Die eerste stap was om 'n Engelse vertaling van ‘Die Stem’ te laat maak wat amptelike goedkeuring kon wegdra. Alhoewel Saartjie deur die jare heen talle vertalings ontvang het, was nie een van hulle in alle opsigte vir haar bevredigend nie. Tydens die Van Riebeeckfees in 1952 kondig die eerste minister, dr. D.F. Malan, dan ook aan dat hy die tyd ryp ag om 'n komitee te laat aanstel om 'n vertaling van ‘Die Stem’ te verkry. Die aangeleentheid sou deur dr. T.E. Dönges in sy hoedanigheid as minister van binnelandse sake gehanteer word. Die lede van die komitee was appèlregter H.A. Fagan as voorsitter met prof. Guy Butler van Grahamstad, prof. David Hopwood van Bloemfontein, regter C. Newton Thompson en Sarah Goldblatt as lede. Uit ongeveer 500 vertalings wat deur die jare aan Saartjie voorgelê is, het die komitee sy eie saamgestel. Op 5 April 1952 het dr. Malan hierdie vertaling tot die amptelike Engelse weergawe van ‘Die Stem’ verklaar. Die laaste twee reëls van die slotstrofe is deur Guy Butler geskryf: As our fathers trusted humbly, teach us, Lord, to trust Thee still:
Guard our land and guide our people in Thy way to do Thy will.Ga naar eind21
Met die afhandeling van die Engelse vertaling was die verdere verloop net die logiese eindresultaat van die hele proses. Vyf jaar na die aankondiging van dr. Malan, op Vrydag, 2 Mei 1957, verklaar premier J.G. | |
[pagina 42]
| |
Strijdom in die Volksraad dat die regering meen die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika amptelik een volkslied moet hê, en dat daardie volkslied, ‘sover dit die Staat betref, in die toekoms sal wees 'Die Stem van Suid-Afrika'’.Ga naar eind22 Op 11 en weer op 27 Junie 1957 dra Engela, haar seun, Guillaume, Saartjie en prof. H.B. Thom, laasgenoemde namens die Universiteit van Stellenbosch as uiteindelike erfgename, alle regte op ‘Die Stem’ aan die regering oor - alles weer gepaard met 'n hele seremonie en fotonemery waarvoor Saartjie teen hierdie tyd reeds baie lief was. Met die erkenning van ‘Die Stem’ as enigste volkslied het Saartjie een van haar grootste ideale bereik. Dit was egter nog nie naastenby die einde van haar hartstogtelike Langenhoven-industrie nie, want in die oorblywende jare vyftig en dwarsdeur die sestiger- en vroeë sewentigerjare sou sy voortdurend vir allerlei huldigingsgeleenthede sorg, dikwels deur hoogwaardigheidsbekleërs by die verrigtinge in te span en die een of ander vorm van feestelikheid daaraan te knoop. In 1957 verwerk sy Die pad van Suid-Afrika vir die toneel en, saam met musiek wat Gideon Fagan spesiaal vir dié geleentheid geskryf het, word dit op 13 en 16 Desember deur die Nasionale Toneelorganisasie onder regie van Anna Neethling-Pohl by die Voortrekkermonument in Pretoria opgevoer. Hoewel Anna Neethling-Pohl Saartjie se warm menslikheid, opregte eerlikheid en geesdrif kon waardeer, het sy, wat self ook maar by tye erg moeilik kon wees, nie toegelaat dat Saartjie in die produksie inmeng nie, selfs al het die ‘Sub’ alle repetisies bygewoon en gereed gestaan om advies te gee en die teks met Anna te bespreek. Ook met die amptelike oorhandiging van ‘Die Vlaglied’ aan die regering in 1959 het Saartjie vir 'n seremonie gesorg, maar toenemend het die Langenhoven-verering 'n ander vorm begin aanneem. Reeds in 1933, kort na Langenhoven se dood, het die Russies gebore beeldhouer Herbert Vladimir Meyerowitz vir Saartjie 'n beeld van die ‘Chief’ gemaak, maar Meyerowitz is reeds in 1945 oorlede. Vir verdere beelde het Saartjie die medewerking van I. Mitford-Barberton verkry. Die eerste van hierdie beelde is in 1959 by die hoofkwartier van die Kaapse Provinsiale Raad ter ere van Langenhoven se rol in verband met Afrikaans as onderwystaal onthul. Die geleentheid was die jaar waarin die Wonder van Afrikaans herdenk is. Vanselfsprekend vir Saartjie moes Langenhoven by dié feestelikhede betrek word. Daarna is kopieë van die beelde by skole en ander inrigtings geplaas wat na Langenhoven | |
[pagina 43]
| |
vernoem is of waarmee hy 'n verbintenis gehad het. In 1968 het sy selfs 'n geleentheid geskep om een van die beelde by die Universiteit van Kaapstad te laat onthul, waarskynlik omdat Guillaume Brümmer intussen as lektor in wiskunde by dié inrigting aangestel is. Van kleins af is die jong Brümmer deur Saartjie by die Langenhoven-huldigings betrek, veral as dit met 'n seremonie gepaard kon gaan. In die benoeming van Brümmer tot die doserende personeel van die Universiteit van Kaapstad het sy so 'n geleentheid gesien en gereël dat Mitford-Barberton 'n verdere kopie van sy Langenhoven-beeld maak. Teen hierdie tyd het al Saartjie se doenighede Brümmer by die keel uitgehang, terwyl ook Engela maar deur die jare al hoe skugterder was oor die hele Langenhoven-industrie. Vir die klein plegtigheid in die Universiteit se Jagger-biblioteek het Saartjie Engela eenvoudig aangesê om te praat en selfs haar toesprakie vir haar uitgeskryf. Engela was baie senuweeagtig oor die gedoente, en saam met Guillaume en sy vrou onderweg na die Universiteit het sy haar onbehae gelug oor die plegtigheid en Saartjie se woorde wat sy moes aflees. Brümmer het gemerk dat sy moeder baie ongemaklik voel, in die ry rustig die papiertjie met Saartjie se woorde by haar geneem en - téén sy vaste gewoonte in - die ruit oopgedraai en die toesprakie by die venster uitgegooi. ‘Nou ontspan Mamma maar, wees jouself, sê net jou eie woordjies wat uit jou hart kom, en vergeet heeltemal van tant Saartjie se toesprakie.’ Veral na dié gebeurtenis het Brümmer toenemend gevoel hy wou nie meer by die seremonies betrek word en by al die ‘goeters’ optree nie. Hy het te veel onder die skaduwee van die Langenhoven-verbintenis geloop, en dit was hoog tyd dat hy van dié dinge wegkom en sy eie lewe lei. Saartjie was egter nie te keer nie, veral nadat sy in 1964 'n toekenning van die Kaapse Drie-Eeue-Stigting ontvang het uit erkentlikheid vir haar ‘onvermoeide ywer’ sedert die dood van Langenhoven. Die geld hiervoor het sy gebruik om nog dieselfde jaar - vyftig jaar sedert die erkenning van Afrikaans as skooltaal - 'n borsbeeld van Langenhoven te laat maak en by die Parlement te laat onthul. In 1968 het sy daarin geslaag om nog 'n beeld van Langenhoven deur Mitford-Barberton by Arbeidsgenot te laat oprig, een van die strate in Oudtshoorn tot Langenhovenweg te laat herdoop en 'n beeld van die fiktiewe olifant Herrie uit Sonde met die bure aan die dorpsentrum se kant van die straat te onthul. Dit is 'n replika van 'n beeld wat Langenhoven self by geleentheid gekoop het en wat in Arbeidsgenot bewaar word, maar petieterig | |
[pagina 44]
| |
klein as 'n mens die lengte van die straat in ag neem. In 1968 het sy selfs in 'n bydrae tot Die Burger se ‘Van alle kante’-rubriek ná Armstrong se maanlanding Langenhoven se Loeloeraai betrek: ‘Soos gewoonlik was Langenhoven hulle vóór!’ Geen enkele geleentheid het Saartjie ontsien om Langenhoven by een of ander huldiging te betrek nie. Wanneer daar op 26 Mei 1971 in die Gedenktuin by Mutualpark in Pinelands 'n boomplantingseremonie plaasvind, is Saartjie ook by om 'n sipresboom ter ere van Langenhoven te plant, dieselfde soort boom wat voor Arbeidsgenot gestaan en waaronder hy dikwels geskryf het voordat dit voor een van Oudtshoorn se langdurige droogtes moes swig. Saartjie wou graag hê dat Guillaume Brümmer by dié geleentheid moes optree, maar hy het botweg geweier - iets wat Saartjie hom baie kwalik geneem het. In sy plek het mev. Tini Vorster, eggenote van die eerste minister, en die weduwees van drie vroeëre premiers van Suid-Afrika opgetree. Saartjie was self vir die inspan van die vier tannies verantwoordelik en het die aantal ná Guillaume se weiering vermeerder! Tydens die byeenkoms in Pinelands is daar, met die oog op die Republiekfees, 'n verbyvlug van drie straaljagters van die Lugmag. 'n Ontsettende ramp volg egter as hulle teen Duiwelspiek bots. Die slag kon duidelik tydens die verrigtinge gehoor word. Vir Brümmer, wat in stilte tuis met sy werk voortgegaan het, was dit amper asof dit Saartjie se breingolwe in haar verskriklike woede oor ‘Chief’ se ontaarde en onwaardige nasate was wat daardie vliegtuie se elektroniese toerusting versteur en hulle teen die berg laat bots het! Haar woede kon by tye iets kolossaals wees. Hierdie woede het veral tot uiting gekom as iemand anders, onafhanklik van haar, iets oor Langenhoven wou publiseer. Sy het haarself as dié outoriteit oor Langenhoven beskou, dit soms selfs in soveel woorde gesê en vir dié aanspraak haar op die testament beroep. Op 'n ongepubliseerde stuk wat D.J. Jonker Pretorius in 1953 aan Die Huisgenoot vir publikasie voorlê, reageer sy byvoorbeeld besonder negatief. Pretorius maak hom in dié stuk wel skuldig aan enkele feitelike onjuisthede, maar nie een van hierdie dinge is só verskriklik erg nie en kon met geringe moeite reggestel word. In 'n nota aan die redakteur van Die Huisgenoot sê Saartjie die skrywer is ‘oningelig en onbevoeg om die waarheid en waarde te toets in wat hy wil sien’ en dat die ‘Ounooi’ se eie woorde foutief aangehaal word. In haar venyn begaan sy self 'n fout as sy beweer dat Langenhoven van 1911 tot 1914 redakteur van Het | |
[pagina 45]
| |
Zuid-Westen was. Haar slotsom is dat die stuk ‘totaal onbetroubaar (is) - selfs onnosel’. Hierdie onnodige heftigheid kan teruggevoer word tot Saartjie se inpalming van Langenhoven. Niemand, so het sy werklik geglo, het die reg om oor Langenhoven te skryf, behalwe dan die enkele begenadigdes in haar eie vriendekring of publikasies wat sy self sanksioneer nie. Met dieselfde soort venyn het sy gereageer op die monografie C.J. Langenhoven, die volkskunstenaar en die blokboek oor Sonde met die bure en Herrie op die óú tremspóór wat J.A. Verhage in 1969 en 1970 onderskeidelik gepubliseer het. Toe Verhage haar 'n eksemplaar gee van sy monografie, 'n boek wat met sy drie en sewentig bladsye veel omvangryker was as alle ander uitgawes in dié reeks van die uitgewery Nasou, was haar enigste kommentaar: ‘Dis maar dunnetjies, nè!’ Bloot die feit dat Verhage as Nederlander dit gewaag het om oor die ‘Chief’ te skryf en haar ‘heiligdom’ te skend, was genoeg om heftige reaksie van Saartjie te ontlok. As sy dan ook in 1973 deur Elize Botha, redaktrise van die Tydskrif vir Letterkunde, gevra word om 'n bydrae vir 'n spesiale Langenhoven-nommer, weier sy bloot op grond van die feit dat Verhage ook uitgenooi is om 'n artikel te lewer. ‘Ek voel geen begeerte om uit te lê’, skryf sy aan Elize Botha op 22 Julie 1973, ‘waarom ek nie saam met hom in een boek oor Langenhoven wil verskyn nie.... (E)k weier om die man status te verleen oor die onderwerp Langenhoven.’ Die opeising van Langenhoven, die alleenreg om uitsprake oor hom te maak en uit die pers te weer wat sy nie gerade ag nie of om iets as ‘onnosel’ af te maak, was simptomaties van Saartjie se optrede as letterkundige administratrise van Langenhoven se nalatenskap. In die meer as veertig jaar dat sy hierdie funksie na sy dood vervul het, was daar 'n eindelose reeks praatjies, huldigings, kransleggings, onthullings van standbeelde, vlaghysings en allerlei seremonies. Diepgaande studies deur literatore het haar egter nie aangestaan nie en het selfs negatiewe reaksie van haar ontlok, veral as sy nie oor sulke publikasies geraadpleeg is nie. Sy was ook taamlik kwasterig om bloemlesingregte af te staan en het selfs by geleentheid Elize Botha verbied om voorbeelde van Langenhoven se werk in Afrikaanse essayiste op te neem. Die mag wat die testament aan haar verleen het, is deur haar só geïnterpreteer dat sy feitlik soos 'n diktator oor die Langenhoven-goedere beslissings kon neem. Op dié wyse het sy wel almal bewus gemaak en gehou van die ‘Chief’ se werk, maar ook 'n gemor en negatiewe reaksies | |
[pagina 46]
| |
ontlok, veral van mense in die literêre wêreld en die uitgewersbedryf wat met haar grille en nukke moes saamleef. Daarby kon sy, sonder dat sy ooit enige noemenswaardige openbare posisie beklee het, mense ‘bewerk’ om haar wil en wense te eerbiedig en almal - van die eerste minister verder af ondertoe - inspan om saam met haar aan die Langenhoven-industrie mee te doen. In dié proses het haar eensydige voorstelling van Langenhoven as die groot vaderlander, die feitlik heroïese figuur en kunstenaar wat aan die ‘volk’ al sy kragte gewy het, 'n groot en beslissende rol gespeel. In dié opsig was Saartjie 'n unikum, want in die Wes-Europese letterkunde was daar geen voorbeeld van 'n ‘weduwee’ wat só jaloers oor die belange van 'n heengegane skrywer gewaak het as wat die geval met haar was nie. | |
IVEn nog was dit nie die einde nie. Die jaar 1973, Langenhoven se eeufeesjaar, was om die draai. Saartjie het groot planne vir dié feestelikheid beoog. Dit moes 'n fees word wat die kroon sou span op al haar bedrywighede as letterkundige administratrise. Dit moes verder nie net beperk word tot 'n enkele week rondom Langenhoven se verjaarsdag nie, maar oor die hele jaar strek. Alle instansies - die regering, provinsiale rade, uitgewers, SAUK, rolprentwese, skole, universiteite, kerke, liggame soos die FAK en ander kultuurverenigings - moes ingespan word om deel te hê aan al die verrigtinge. Reeds lank voor die tyd het Saartjie 'n magdom briewe aan alle moontlike nasionale en plaaslike instansies en persone geskryf om die organisasie aan die gang te kry en ordelik te laat verloop. Allerlei liggame, soos die Handelsinstituut, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, die munisipaliteite e.d.m. is gevra om hulle jaarlikse kongresse in 1973 op Oudtshoorn te hou en by die Langenhoven-huldiging in te skakel, terwyl instansies soos die Akademie en die Skrywerskring betrek is met die oog op spesiale toespitsing op Langenhoven tydens hulle byeenkomste en in hulle uitgawes. 'n C.J. Langenhoven-gedenkbiblioteek met allerlei beelde sou op Oudtshoorn geopen word en 'n hele vol program sou die week lange feestelikheid op die skrywer se tuisdorp vul met opvoerings uit sy werk, vertonings deur die lugmag en die leër, vlotte wat karakters en situasies uit sy werke voorstel en - naas optre- | |
[pagina 47]
| |
des deur ander hoogwaardigheidsbekleërs - 'n feesrede deur die eerste minister, mnr. John Vorster. Les bes sou sy sorg dat elke skool ten minste een boek van Langenhoven en 'n olifantbeeldjie ontvang, dat die Versamelde werke herdruk en 'n paar bloemlesings saamgestel word, en dat Langenhoven se gesig op posseëls pryk. Met die komende eeufeesjaar was daar dus aan Saartjie geen keer nie. Terwyl sy telkens in die verlede 'n aanleiding vir een of ander seremonie gevind en al die doenighede doelmatig en sistematies versprei het, was 1973 'n jaar waarin sy aan haar verering volle teuels kon gee, sonder om 'n geleentheid daarvoor te soek. Alhoewel sy - in aangepaste woorde uit Langenhoven self - tydens 'n SAUK-onderhoud op 13 Januarie 1970 gesê het dat sy nie oor haarself wil praat nie en dat die brief die belangrikste is, nie die posbode wat dit aflewer nie, was daar tog in al die drukke aktiwiteite vir die eeufeesjaar iets van 'n weerkaatsende glorie wat sy haar aangematig en toegeëien het. Sy het Langenhoven as metafoor gebruik om die aandag op haar te vestig, en sy het daarvan gehou om met mense in hoë posisies te verkeer. In die jaar 1973 sou sy dus die missie wat haar ‘Chief’ testamentêr aan haar toegewys het, tot volle uitvoer bring sodat die Langenhoven-industrie 'n hoogtepunt kon bereik. |
|