Langenhoven. 'n Lewe
(1996)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1]
| |
Pro-epiloog | |
[pagina 3]
| |
Hoofstuk I
| |
[pagina 4]
| |
Die tussenverkiesing het op 6 Julie plaasgevind en die NP-kandidaat, ds. C.W.M. du Toit, het die setel naelskraap met 201 stemme gewen. Kort na die verkiesing, waarskynlik op Donderdag, 7 JulieGa naar eind6, is Langenhoven in uiters koue weer per trein terug na Kaapstad. In die verkiesingsnag het dit gesneeu op plekke soos Noupoort en Colesberg; die koppies rondom Colesberg was toe van die kapok en 'n snerpende wind het gewaai. In dié koue moes Langenhoven lank op De Aar se stasie wag vir 'n aansluiting na Kaapstad. Tydens die wagtyd het hy 'n geoloog, W.P. de Kock, raak geloop wat reeds aan hom bekend was uit 'n ontmoeting 'n paar jaar tevore. In die loop van hulle gesprek het Langenhoven gepraat oor ‘die groot baklei-vergadering op Noupoort’, en hy was trots daarop dat sy party ‘die slagveld behou het’ - 'n verwysing na die gunstige afloop vir die Nasionale Party van die bakleiery, want die uitslag van die verkiesing was in daardie stadium nog nie bekend nie. Vir De Kock as geoloog was Langenhoven se kennis van die geologie merkwaardig, soos hy kon aflei uit sy gespreksgenoot se gedetailleerde mededelings oor die plooiing van die Swartberge in Meiringspoort, die vorming van kalksteen in die Kango-grotte by Oudtshoorn en die Karoo-fossiele. In die bitter koue, vererger deur die geniepsige suidewind, het Langenhoven verskeie male na die hotel skuins oorkant die stasie gestap vir ‘verversings’ om die koue te verdryf. Die middag het hulle saam daar gaan eet, maar dit het De Kock opgeval dat Langenhoven net gedrink en feitlik nie aan sy kos geraak het nie. Hy het 'n slegte hoes gehad wat in die loop van die dag aanmerklik vererger het. Toe De Kock sy vriend die middag met die bagasie in die koepee inhelp, was dit vir hom duidelik dat Langenhoven 'n siek man was met 'n baie hoë koors. Vir hom het dit geklink na dubbele longontsteking, maar van 'n dokter wou Langenhoven nie hoor nie. In Kaapstad het Langenhoven weer by Sarah Goldblatt tuisgegaan. Vir Die Burger van Saterdag, 9 Julie, het hy die Vrydagmiddag in die subredakteur se kantoor 'n geestige versie oor ‘Die SAP - die party van die toekoms’ onder sy bekende skuilnaam Sagmoedige Neelsie gereed gehad. Op Maandag, 11 Julie, verskyn sy gereëlde Aan stille waters, 'n bydrae wat hy van 24 April 1922 iedere Maandag - met slegs enkele uitsonderings - soos klokslag vir Die Burger gelewer en wat van hom die gewildste en bekendste rubriekskrywer in Afrikaans gemaak | |
[pagina 5]
| |
het. Hierdie keer het dit begin met ‘'n Werkreseppie’ in sy geliefde limeriekvorm: Dis die smorende vuur wat swaarkry
En tog nie die kos kan gaarkry -
Die vrolike vlam wat klap en kraak
Is hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.Ga naar eind7
In die verdere verloop van die bydrae maak hy melding van die verkiesingstryd en skryf hy geestig oor die ‘Sonde met die vrede’. Hy is na Colesberg, so sê hy, met die verwagting om in die woede van die stryd ernstige beserings op te doen, maar op die hoofdorp was daar nie eens 'n kruisvraag nie en op Hanover was die Sappe so gelate dat hulle nog voor die einde van sy toespraak vertrek het. Vir dieselfde aflewering skryf hy ook die vermaaklike ‘Sonde met die tande’, 'n geestige neweproduk van die ‘sonde’-motief wat reeds vroeg in Langenhoven se werk voorkom.Ga naar eind8 Met die motortjie wat sy kort tevore aangekoop en waaraan sy, gedagtig aan haar ‘Chief’ se beroemde fiktiewe olifant, die naam Herrie gegee het, besorg Sarah Langenhoven op die Kaapse stasie vir die terugreis na Oudtshoorn. Onderweg na Oudtshoorn het hy só siek geword dat hy op die trein reeds begin uitkyk het na 'n dokter.Ga naar eind9 Om vieruur op Maandagmiddag, 11 Julie, het mev. Langenhoven hom op die Oudtshoornse stasie ontmoet. Sy eerste woorde aan haar was: ‘Vroutjie, ek voel nie vandag lekker nie. Ek dink hulle het my verkeerde kos op die trein gegee.’ Hy het sy toestand toegeskryf aan kos wat in visolie gebak is, iets wat nooit met sy maag geakkordeer het nie. By Arbeidsgenot aangekom, het hy eers 'n rukkie op die stoep gesit. Daarna, soos sy gewoonte al die jare was, het hy oor die hangbrug dorp toe gestap om sy pos te gaan haal. Hy het steeds sleg gevoel, maar ten spyte daarvan die Maandagaand aan sy bydrae vir die volgende week se Aan stille waters gewerk. Aan Sarah Goldblatt skryf hy op Donderdagoggend, 14 Julie, 'n brief waarby hy die bydrae insluit en ook iets oor sy ongesteldheid meedeel. ‘My dear Sub’, skryf hy, ‘Hierby die SW's - jou drie reseppies met 'n paar lesse wat daaruit te haal is.Ga naar eind10 Jou briefie met dank gister ontvang en skuldig gevoel dat jy aan jóú kant ledig by die pos moes omdraai. Ek sou Dingsdag-oggend 'n groetnissie en 'n | |
[pagina 6]
| |
dankie gepos het, maar ek had die Sondag-nag op die trein al 'n nare aanval gehad en die nag by die huis twee sodat ek die Dingsdag in die kooi gebly het en dit was nie die moeite wêrd om 'n spesiale boodskapper te soek om postoe te stuur nie. - Van gister af weer beter, touch wood.’ Ten spyte van die optimistiese toon van die laaste sin en van die feit dat hy die Donderdagoggend self die brief aan Sarah Goldblatt gaan pos het, was daar geen werklike verbetering nie. Tog het hy die Dinsdag begin werk aan 'n nuwe roman, al het hy die hele dag sleg gevoel en aan sy vrou gesê: ‘Vroutjie, ek kan mos nog nie weggaan nie, my werk is nog nie klaar nie.’ Woensdag het hy aangegaan met sy roman en die aand, volgens gewoonte, die voltooide gedeelte aan Vroutjie voorgelees. In dieselfde brief aan Sarah Goldblatt skryf hy: ‘Ek sukkel om aan die werk te kom met 'n stukkie van 'n halwe gedagte. En dis so koud dat die hand waar ek die pen mee vashou eintlik seer is, my vingers stokstyf - maar ek beweeg hulle mos van nooit af nie, ek skryf met die arm. Ou PolkatjieGa naar eind11 is togte lief; kom oggend vir oggend by my in die kooi lê.’ In die eetkamer - sy gebruiklike skryfplek - het hy ook van Donderdagoggend tot ongeveer halfelf die aand voortgewerk aan die roman wat hy Die mantel van Elia wou noem. Hy het weer 'n stuk aan haar voorgelees en ongeveer kwart voor elf gesê: ‘Vroutjie, nou sal ek my ou stukkietjie eet.’ Vroeër die aand wou hy niks eet nie, want hy wou eers 'n gedeelte klaarkry. Hy het toe lekker geëet aan kwepers wat Vroutjie self ingemaak het en daarna gaan slaap. Op die groot tafel in die eetkamer het die briefblok bly lê waarin hy met die manuskrip besig was. Naas sy asbak - vol met stompies Flag-sigarette, want Langenhoven was 'n strawwe roker - was daar die woordeboek van Elffers en Viljoen, 'n Hollandse Bybel, die Bijbelsch handboek en concordantie en 'n deel van Blackie's modern encyclopaedia, oopgeslaan by die bladsye oor Fenisië. Die manuskrip op die oopgeslane briefblok en die naslaanwerke daar rondom laat 'n mens onwillekeurig dink aan een van die spreuke wat Langenhoven jare tevore in Ons weg deur die wêreld II opgeneem het: ‘As ek die begeerte mag waag, sou ek dit graag so wil hê dat die engel wat my kom haal huis toe, my daar bring met die verslag: “Ek het hom by sy werk gekry”.’Ga naar eind12 Onder meer moes hy dié aand, as 'n mens die posisie nagaan waarin dit in Die mantel van Elia op p. 345 van deel XIV van die Versamelde werke verskyn, die volgende woorde geskryf het: ‘Wie weet welke verder openbaring wag nog op die belofte: In jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word? Ons sien ons liggame sterwe | |
[pagina 7]
| |
soos die liggame van die diere; maar ons weet dat ons 'n siel het wat nie van die liggaam is nie, en nie die liggaam nie maar die onsienlike siel is geskape na die geestelike gelykenis van God. Ons sien dat ons liggame sterf; wat van die siel word, weet ons nie. Wie weet dien ons in die groot verborge plan vir die wat ná ons sal kom om die seën deelagtig te word van 'n hoër openbaring.’ Die handskrif van die manuskrip was, soos gewoonlik, netjies, ‘sterk en helder; dit verraai nie die minste teken van 'n dreigende gevaar nie.’Ga naar eind13 Ongeveer om halfdrie die oggend word Vroutjie en die huishulp, Sarie Karolus, wat in die kombuis geslaap het, gewek deur 'n gekerm. Langenhoven het gekla van pyne oor die borsstreek. Sarie en haar broer Henk is dadelik deur dorp toe om die Langenhovens se huisarts, dr. N. Cloete, te gaan roep. Voor sy koms het Langenhoven, ten spyte van die ontsettende pyn, in die eetkamer gaan sit. Die geneesheer het hom 'n inspuiting gegee en die pyn het bedaar. Langenhoven het gesê hy voel beter en 'n sigaret opgesteek. Die geneesheer het nog medisyne verskaf en Langenhoven is weer bed toe. Op Vrydagoggend, 15 Julie, het Vroutjie self vir hom 'n koppie koffie kamer toe gedra - iets uitsonderliks, aangesien Langenhoven gewoonlik vroeg op was om self die koffie te maak. Hy het met sy hande op sy bors gedruk en gesê dit voel nes of daar iets is wat wil opkom. Hy het lomerig geraak en gevra hulle moet Polka uit die kamer neem; die hondjie hinder hom. Blykbaar het hy toe ingesluimer. Die huis is stil gehou om hom nie te steur nie. Om ongeveer tienuur het dr. Cloete weer kom kyk hoe dit met die pasiënt gaan. Vroutjie het hom by die voordeur ontmoet en gesê dit lyk of Langenhoven slaap. Buite op die voorstoep het sy deur die luike van die slaapkamer geloer en gesien dat haar man sy asem hard intrek en dat dit lyk asof hy hik. Vroutjie en die geneesheer het na die siekekamer gestorm, maar Langenhoven se asem was reeds uit. Dit was Vrydagmôre, 15 Julie 1932, tien minute oor tien. | |
IIEen van die eerste dinge wat Vroutjie na die dood van haar man gedoen het, was om 'n telegram aan Sarah Goldblatt uit te skryf en Henk poskantoor toe te stuur. Die telegram is geadresseer aan haar per adres | |
[pagina 8]
| |
Sentrale Skool, Roelandstraat, Kaapstad, waar sy toe onderwyseres was. Dit het gelui: ‘Dringend. Chief tienuur skielik gestorwe angina pectoris. Begrafnis môre 4:30. Vertel vriende. - Ounooi.’ Blykbaar moes Vroutjie ook ander mense laat weet het, want kort na die sterfte was daar 'n bord by die plaaslike kantore van die Oudtshoorn Courant met die woorde ‘Langenhoven oorlede’ in kryt daarop geskryf. In Die Burger-gebou in Kaapstad het Vrydag, 15 Julie 1932, rustig begin. Net na elfuur die oggend tref die nuus die redaksie ‘soos 'n weerligstraal’Ga naar eind14: Langenhoven is dood in sy huis op Oudtshoorn, aan sy hart. Daar was niks verder bekend nie. Joernaliste, so skryf W.F.J. Steenkamp baie jare later, word gou geharde mense, omdat hulle so baie met die liederlike kant van die sosiale en politieke lewe te doen kry. ‘Maar die dag toe die berig van Langenhoven se sterwe die redaksiekantoor van Die Burger bereik’, so gaan hy voort, ‘toe was dit of alles skielik stil gaan staan het, só 'n slag was dit vir ons. In die gange en in die kamers het groepies koerantskrywers vergader en in gedempte toon gepraat en dan sommer met geboë hoof stil bymekaar gestaan.’Ga naar eind15 Frederik Rompel - nuusredakteur, senior personeellid van Die Burger en vertroueling van Langenhoven - het almal na die werklikheid teruggepluk en gesê: ‘By 'n koerant is dit altyd “Business as usual”, en daar is nou baie werk.’ Almal het gesoek na Sarah Goldblatt, maar toe verskyn sy self in die gange van Die Burger-gebou. Haar ‘verwoestende smart’Ga naar eind16 was ontstellend om te aanskou. Sy het die telegram met die tyding in haar klaskamer by die skool ontvang en is dadelik huis toe. Vandaar het sy Queenie Fagan - vrou van H.A. Fagan, parlementariër, skrywer en goeie vriend van Langenhoven sedert hy redaksielid van Die Burger was - gebel om £5 vir 'n treinkaartjie na Oudtshoorn te leen. Phil Weber, ook in die redaksie van Die Burger, se eerste woorde was dat sy moet saamry met Recht Malan, wat die Nasionale Pers by die begrafnis sou verteenwoordig. Sy het dankbaar die aanbod aanvaar en is huis toe om haar klere te pak. Van die verdriet het Sarah onderweg na Oudtshoorn siek geword en begin opgooi, in so 'n mate dat hulle nie kans gesien het vir die verdere reis nie. By Caledon het Recht Malan haar suster Becky gebel en gevra wat hulle vir Sarah moet doen. Becky het gesê hulle moet tot op Swellendam ry en Sarah laat afklim by mev. Rothmann, die skryfster | |
[pagina 9]
| |
M.E.R., voor haar aftrede vroueredaktrise by Die Burger en 'n goeie vriendin van sowel Langenhoven as Sarah. M.E.R. het toe reeds die nuus verneem van die Swellendamse telefoniste, wat die tyding êrens vandaan gekry en haar gebel het. Recht Malan het Sarah by M.E.R. besorg, waar Sarah Siebert - sekretaresse by die kantoor van die Kaapse Nasionale Party, saam in die motor - ook oornag het terwyl Malan self na die hotel is. ‘Sara(h) was kapot en in die trane’, so vertel M.E.R. in haar outobiografiese My beskeie deel. ‘Ek het haar op die solder in die suidkamertjie in die bed gesit met 'n warmsak by haar voete. Toe het ek lank by haar gaan sit, en sy het haar leed uitgestort. By haar had sy die laaste “Stille Waters”, wat sy die dag net voor hulle vertrek ontvang het en maar saamgebring het. Sy het dit uitgehaal, en ons het dit hier en daar gelees.’Ga naar eind17 Die volgende oggend het Recht Malan, Sarah en Sarah Siebert Oudtshoorn toe vertrek.Ga naar eind18 M.E.R. het 'n protea saamgestuur om op die graf te lê. Vroutjie se aanvanklike telegrafiese mededeling dat die begrafnis op Saterdag, 16 Julie, sou plaasvind, was kennelik foutief. Daar was te veel reëlings om te tref en baie hoogwaardigheidsbekleërs sou van ver kom om die begrafnis by te woon. Daarby het Langenhoven in sy testament 'n duidelike bepaling in verband met sy begrafnis gehad, 'n besonderheid wat Vroutjie waarskynlik in die verwarring van die skielike sterfte totaal ontgaan het. ‘Ek begeer’, so lui punt V van Langenhoven se laaste wil en testament,Ga naar eind19 ‘dat ek in 'n oumode se swart kis sonder weeldeversiersels begrawe sal word en nie eerder nie as die derde dag nadat ek medies dood verklaar is.’ Só sterk het Langenhoven oor 'n te vroeë begrafnis gevoel dat hy volgens familie-oorlewering Vroutjie laat belowe het om drie dokters in te roep om die dood te sertifiseer en dat een van sy polse oopgesny moes word ten einde seker te maak dat daar nie bloedvloei plaasvind nie. Dit is dan ook gedoen, maar sonder enige gevolg, want Langenhoven was beslis reeds dood.Ga naar eind20 Hierdie vrees vir 'n skyndood en die afgryslikheid om onder die grond in 'n kis wakker te word, is 'n motief wat meermale in Langenhoven se werk voorkom en by mense van sy geslag dikwels aanwesig was - waarskynlik terug te voer na die Groot Griep van 1918, toe pasiënte soms as gevolg van die baie sterftes en chaotiese toestand oorhaastig ter aarde bestel is, in so 'n mate dat opgrawings later op 'n ondergrondse worsteling of 'n verlegging van die lyf gedui het. In ‘Die skaduwee van die skyndood’Ga naar eind21 is dié motief deel van die boustof | |
[pagina 10]
| |
van die verhaal. In 'n geestige passasie in Doppers en Filistyne (1921) praat die skrander Neels sy oom Stoffel Gieljam heeltemal bang oor die aangeleentheid. ‘Oom Stoffel,’ sê hy, ‘dis nie 'n aangename onderwerp om oor te gesels nie, maar terwyl jy nou so siek is - van elke tien mense wat daar op Oudtshoorn of hier op jou dorp begrawe word, reken ek is daar, volgens 'n suinige beraming, omtrent sewe wat behoorlik dood is en drie wat in die kis onder die kluite weer wakker word.... Kyk, Oom ... (D)aar is geen dokter in die wêreld wat met sekerheid kan vasstel of 'n liggaam wat heel is in al sy lewensorgane, dood is of skyndood nie - as alleen wanneer daar ontbinding ingetree het. Op die vasteland van Europa waar hulle volgens wet die lyke eers vir enige dae in doodhuise sit, kom daar herhaaldelik gevalle van herlewing voor. En oral in die wêreld waar óú kerkhowe opgegrawe word, kom jy op geraamtes uit waarvan die houding wys dat die liggame in die kis omgedraai het of geworstel het. En dit op plekke waar daar nog redelike uitstel is met die ter aarde bestelling. Maar hoe maak hulle op Oudtshoorn? En hoe maak hulle hier? Hulle het geen geduld met dooi mense nie. As jy die oggend sterf, of maak nes één wat sterf, het hulle jou om elfuur dieselfde voormiddag in 'n stewige kis, van dik dele gemaak, met lood uitgevoer en sorgvuldig toegesoldeer; en die namiddag voor vyfuur is jy onder die aarde.... Ek het Vroutjie besweer en laat sweer sy laat my nie in 'n kis toemaak of uit die huis uit dra voor die derde dag nie.’Ga naar eind22 Die gewysigde reëlings was dan dat die begrafnis op Sondag, 17 Julie, om drie-uur die middag uit die Ned. Geref. Kerk op Oudtshoorn sou plaasvind. Sedert Vrydag het die oorledene tuis in staatsie gelê. 'n Groot aantal mense het Arbeidsgenot besoek om die familie te groet en meegevoel uit te spreek. Op Oudtshoorn was daar Vroutjie se dogters uit haar eerste huwelik, Bessie en Antoinette, wat saam met hul mans, die prokureur Allan Pocock en die tandarts Wilhelm Leuner, hul moeder bygestaan het. Van Beaufort-Wes het Langenhoven se enigste dogter, Engela, en sy skoonseun, Niko Brümmer, gekom. Toe die berig van Langenhoven se dood hulle bereik, was Engela siek, maar sy wou onverwyld na Oudtshoorn gaan. In die stormnag het die motor se ligte gefaal en Niko moes in die donker oor verspoelde grondpaadjies aanry. Engela het die gevoel van haar vader se teenwoordigheid gehad toe die ligte onverklaarbaar 'n oomblik lank aangaan, net betyds om hulle van 'n gapende afgrond en 'n bruisende stroom te red.Ga naar eind23 By haar aankoms op Saterdag, 16 Julie, het ook Sarah Goldblatt die | |
[pagina 11]
| |
lyk kon aanskou. Toe het die werklikheid van die dood en die persoonlike verlies tot haar begin deurdring. Hoe ná sy en haar ‘Chief’ werklik aan mekaar was, kan 'n mens aflei uit die versameling briewe van Langenhoven wat Sarah al die jare sorgvuldig in 'n hoë hoededoos bewaar het en wat chronologies van die eerste brief van 1913 tot die laaste van 14 Julie 1932 gerangskik is. Daarop volg die telegram waarin die Ounooi - soos Sarah Vroutjie genoem het - die ‘Sub’ van die ‘Chief’ se dood in kennis stel. Op hierdie telegram volg die ruwe holograaf van 'n gedig wat Langenhoven aanvanklik ‘Die kuns is lewe en liefde’ wou noem. Hierdie titel is deurgehaal en ‘Kuns en liefde’ bo-oor geskryf. Die gedig verskyn egter reeds op 19 Februarie 1923 in Die Burger,Ga naar eind24 meer as nege jaar voor Langenhoven se dood. Dit is die enigste plek in die versameling briewe waar Sarah Goldblatt van die chronologiese rangskikking van die dokumente afwyk. Die posisie wat dit in die versameling inneem, is saam met die ‘boodskap’ van die gedig 'n onomstootlike aanduiding van die hegte vriendskap wat daar tussen die twee mense bestaan het. Dit is feitlik asof die sprekende ek Sarah Goldblatt self is wat vergeefs na haar vriend roep, net om sy geskrewe werk as enigste en blywende besit ten antwoord te kry. As dit nie in Langenhoven se handskrif was nie, sou 'n mens byna kon dink dat Sarah dit self geskryf het: Die laaste maal, en vir die laaste maal,
Het ek hom op sy naam geroep - my naam
Vir hom, die naam van net ons twee alleen.Ga naar eind25
Hy sou geantwoord het, al was dit ook
Maar met 'n snik om my vaarwel te sê.
Maar hy was weg, was sonder afskeid weg,
Gevoelloos, koud, die stilte ingegaan -
Nooit meer, nooit meer 'n stem van hom vir my.
Maar dis tog syne, hierdie dooie boek!
'n Dooie boek? Sy stem swyg ewig stil,
Maar in sy werke leef sy woorde voort,
Leef sy gevoel, gedagtes, hart en siel:
Ja, daarin leef sy liefde nog vir my.
| |
[pagina 12]
| |
II
Die laaste maal, en vir die laaste maal,
Het ek my soen gedruk op sy gelaat -
Op syne, myne: ons twee s'n alleen.
Hy sou geglimlag het, al was dit ook
Maar deur 'n traan, om my vaarwel te sê.
Maar hy was weg, was sonder afskeid weg,
Gevoelloos, koud, die donker ingegaan -
Sy eie beeld was nie meer syne nie.
'n Dooie marmerbeeld, yskoud en bleek!
So bleek was sy gelaat en koud, ja bleek
En koud soos hierdie blok van marmerklip.
Maar dit was tog sy eie vlees en bloed,
Al was dit dood. En hierdie is ook dood -
'n Blote blok van dooie marmerklip.
En tog...sy eie beeld was syne nie,
En hierdie wat nooit hy was nie is hy:
Die vlees en bloed was dood, die marmer leef.
Die lewende is dood, die dooie leef -
Die dooie boek, die dooie marmerklip.
Waar daar geen siel is, is geen lewe nie;
Waar daar 'n siel is, is geen dooie nie.
Seg ek hy leef daar in die dooie boek,
Hy leef daar in die dooie marmerklip?
Ja, daar gewis, daar leef hy altyd nog -
Maar net omdat hy in my hart nog leef.
Daar is geen lewe waar geen siel is nie.
Daar is geen siel waarvan geen ander weet,
Daar is geen ander waar geen liefde is.
| |
[pagina 13]
| |
IIIReeds Vrydagmiddag, die dag van Langenhoven se dood, bereik die eerste telegramme van medelye Vroutjie en haar gesin. Die boodskappe het gekom van ministers, administrateurs, senatore, Volksraadslede, Provinsiale Raadslede, hoofbesture en takke van die Nasionale Party, die Helpmekaar, die SAOU, die ACVV, universiteite, skole, kerkrade, stadsrade, kultuur- en debatsverenigings, familiebetrekkinge en bewonderaars. Onder die talle telegramme was daar een van premier en mevrou Hertzog: ‘Die verlies aan die Afrikanervolk is onherstelbaar. Ek sal steeds aan hom dink in innige liefde en vriendskap.’ Dr. D.F. Malan, Kaaplandse leier van die Nasionale Party en vroeër redakteur van Die Burger, laat weet: ‘Die opbouende werk, die inspirasie en die liefde van een van sy getrouste en begaafdste seuns sal die Afrikanervolk nooit vergeet nie.’ Uit die Vrystaat telegrafeer mev. president Steyn: ‘Gelukkig hy wat, wanneer hy sterf, onsterflike vreugde verwerf.’ Generaal en mev. Smuts se boodskap lui: ‘Diepste deelneming in u verlies, waarin ons saam met alle Afrikaners deel’, terwyl die Studenteraad van die Universiteit van Stellenbosch Langenhoven huldig as ‘Een van Suid-Afrika se grootste seuns - die inspirasie van ons jeug.’ Om die volle impak van Langenhoven se skielike afsterwe en die openbare reaksie daarop te peil, is dit nodig om die koerantverslae oor sy dood na te gaan. By die kantoor van Die Burger was daar die Vrydagmiddag van Langenhoven se heengaan baie te doen. Frederik Rompel het in sy rubriek ‘Van alle kante’ oor Langenhoven geskryf, 'n lewensbeskrywing is opgestel, prof. E.C. Pienaar van Stellenbosch - van wie enkele maande tevore die boek Hoe om te skrywe in samewerking met Langenhoven gepubliseer is - het 'n artikel oor Langenhoven gelewer en daar was 'n reeks huldebetuigings van vooraanstaande persone. Phil Weber moes 'n banier oor agt kolomme vir die eerste bladsy bedink waarin die betekenis van Langenhoven kernagtig saamgevat kon word. ‘Diep ingedagte’, so het Weber later geskryf, ‘het ek laat middag by my lessenaar gesit en nie bemerk Frans Steenkamp staan voor my nie. Hy was die latere professor in Pretoria en voorsitter van die Loonraad. “Wat is dit?” vra hy. “Ek soek 'n banier vir bladsy een”, sê ek, “en ek sukkel.” “Waarom dan nie “Suid-Afrika Verloor Langenhoven” nie?” vra hy. En so was dit. In letters verpot klein vergeleke met die | |
[pagina 14]
| |
groot swartes wat vandag vir alles en nog wat gebruik word, het dié banier die volgende dag verskyn: “Suid-Afrika Verloor Langenhoven”. En dit het alles gesê.’Ga naar eind26 In die hoofartikel noem Die Burger die veelsydigheid van Langenhoven en die wyse waarop hy sy skitterende talente ‘belangeloos gestel (het) in die offervaardige diens van die volk wat hy hartstogtelik lief gehad het’. Die opskrif van Die Burger op Dinsdag, 19 Julie, twee dae ná sy begrafnis, was: ‘Langenhoven het volk leer lees’. Die grootste deel van dié koerant is gewy aan Langenhoven en twee spierwit kolomme waar Aan stille waters gewoonlik gepubliseer is, was die ‘koerant se wyse om sy vlag halfstok te laat hang’.Ga naar eind27 Hierdie eerbetoon is 'n aanduiding van die besondere plek wat Langenhoven in die harte van sy mense ingeneem het. As politikus was hy wel lid van die hoofbestuur van die Kaapse Nasionale Party en vroeër in die Kaaplandse Provinsiale Raad ook lid van die Uitvoerende Komitee. Hy was egter - waarskynlik as gevolg van sy onwrikbare eerlikheid wat soms op onverwagte oomblikke 'n uitlaatklep kon vind - nie die soort persoon wat 'n premier graag in 'n prominente posisie sou wou plaas nie. By geleentheid het Langenhoven self geskryf dat ‘'n suiwer opregte man beswaarlik 'n suksesvolle politikus’Ga naar eind28 kon wees, 'n uitspraak wat in die oortreffende trap op homself van toepassing gemaak kon word. Hy was 'n goeie skrywer en joernalis, maar die wispelturigheid en onvoorspelbaarheid van die skeppende genie het soms by hom aanleiding gegee tot konflikte met die statuur en status wat 'n partypolitikus noodgedwonge moes handhaaf. As skrywer was hy, in die woorde van lord J.H. de Villiers oor John X. Merriman, ‘the sort of man who would sell the kingdom for a phrase’.Ga naar eind29 Daarom was hy polities wesentlik die ‘backroom boy’ vir die Gryse Eminensie HertzogGa naar eind30: die persoon wat met sy skryftalent op versoek blitsvinnig politieke werke soos Republicans and sinners en The everlasting annexation (albei 1919) kon lewer en vir partybelange 'n kortbegrip kon opstel oor Goud of papier? of Die witman se pand (albei 1929) - onderskeidelik oor die vraag of Suid-Afrika van die goudstandaard moet afstap en ‘die naturelle-vraagstuk en die kieser se verantwoordelikheid’. Verantwoordeliker posisies in die politiek het hy egter nooit beklee nie. By geleentheid, toe hy senator was, het Langenhoven in die koukuskamer van die Parlement voorgestel dat 'n minister in die Senaat moet sit, sowel ter wille van die aansien van die Senaat as om meer werk te kry. Toe Langenhoven opkyk en sien dat premier Hertzog se oë op hom | |
[pagina 15]
| |
gerig is, merk hy droogweg op: ‘En ek sien net presies wat daar in die eerste minister se gedagtes loop. Ek kan hom verseker dat ek net so min in die kabinet wil wees as wat hy my daar wil sien.’Ga naar eind31 En tog het Die Burger nooit, ook nie by die dood van belangriker literêre figure soos N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman, soveel ruimte aan die dood van 'n Afrikaanse skrywer afgestaan as by die heengaan van Langenhoven nie. Dit is 'n aanduiding van die plek wat hy as beminde en veel gelese outeur met sy geskrifte verower het. Waarskynlik was dr. D.F. Malan se huldeblyk in Die Burger by die geleentheid van Langenhoven se dood die beste formulering oor hierdie besondere plek. ‘Langenhoven’, so lui dr. Malan se verklaring, ‘was sonder teenspraak een van Suid-Afrika se oorspronklikste en rykbegaafdste seuns. Hy was 'n gebore genie op elke gebied waarop hy hom begeef het - as denker, as redenaar, as politikus en as skrywer het hy uitgeblink. Maar Langenhoven sal leef omdat daar by hom nog iets baie groters, nog iets oneindig diepers was as die vermoë om te skitter. Hy het 'n lewensdoel gehad om na te streef. Hy het 'n taak gehad om te vervul; hy het 'n volk gehad om lief te hê en te dien. Langenhoven het daarvoor geleef om die Afrikanervolk van sy minderwaardigheidsgevoel te verlos. Hy het hom selfrespek ingeboesem en geïnspireer. Hy het hom geleer om nie skaam te wees vir sy eie land en om nie kruiperig te wees vir iedereen nie. Hy kon lei en besiel, omdat hy in die volkshart die beste en die diepste ontdek en vertolk het. Langenhoven het geveg, maar bowenal gebou.’ Ook ander koerante het lang artikels aan sy dood gewy. Openbare figure soos prof. R.W. Wilcocks, Stellenbosse rektor, prof. D.B. Bosman van die Universiteit van Kaapstad, prof. J.J. Smith van Stellenbosch, politieke leiers soos min. C.W. Malan en adv. C.R. Swart, die Bybelvertaler dr. J.D. Kestell en skrywers en letterkundiges soos G.S. Preller, M.S.B. Kritzinger en Eugène N. Marais het hulde gebring. Die Vaderland wys daarop dat Langenhoven meer as enige ander persoon gedoen het ‘om ons publiek hul eie taal te leer lees en waardeer’.Ga naar eind32 In 'n hoofartikel skryf Die Volksblad dat daar ‘in ons leeftyd nog nooit so 'n spontane opwelling van volksgevoel oor die dood van 'n skrywer plaasgevind (het) as by die volksliefling Langenhoven nie’. Die rede hiervoor was, volgens die koerant, ‘dat deur al Langenhoven se werke sy hoofdoel straal om die volk tot selfontdekking te bring’.Ga naar eind33 Op sy tuisdorp het die Oudtshoorn Courant in sowel Afrikaans as Engels uit- | |
[pagina 16]
| |
voerig hulde betuig. ‘The sad news of his sudden and unexpected demise on Friday morning last’, sê die koerant in sy uitgawe van 19 Julie 1932, ‘had such a stunning effect that the reality of the tremendous loss cannot yet be fully realised. The shock of his death has reverberated throughout the length and breadth of the country and has caused a gap which will not be filled for generations. South Africa, and especially Afrikaans-speaking South Africa, deeply mourn the loss they have sustained. As a writer in the Afrikaans language, his loss is irreparable.’ | |
IVOp Sondag, 17 Julie 1932, om kwart voor drie die middag, het die lykswa, gevolg deur 'n lang stoet motors, die sterfhuis verlaat. Onder die speel van die dodemars is die kis van Birmaanse hout, die vorige dag gemaak,Ga naar eind34 die kerkgebou binnegedra, gevolg deur die naasbestaandes. Elke sitplek was beset. In die gange was daar geen staanplek oop nie; buite op die kerkterrein het nog meer as 1 500 mense gestaan. Onmiddellik agter die ouderlingsbanke het lede en oudlede van die Senaat, Volksraad, Provinsiale Raad, verteenwoordigers van private of publieke liggame en hoofde van die siviele diens gesit. Ds. J.G. Lochner van Oudtshoorn het in gebed voorgegaan en toe Gesang 67:1 en 2 in die oorledene se eie vertaling laat sing. Daarna het hy 'n gedeelte uit Prediker 9:11 en Filippense 22 gelees, hom in die besonder bepaal by die woorde ‘Houdt dezulken in waarde’ en gepraat oor die oorledene, met wie se dood Suid-Afrika 'n leidsman verloor. Langenhoven het sy eie vorm van godsdiens gehad, maar sy godsvrug was eg. Aan sy volk het hy sy beste gegee. Hy het verwys na die skrywer se onvoltooide Bybelverhaal en Die mantel van Elia, waarmee hy nog die aand voor sy dood besig was. Die laaste woorde wat hy opgeteken het, was Elia se woorde aan die weduwee van Sarfat (I Konings 17:14) oor die meel in die kruik wat nie sal opraak en die olie wat nie minder sal word voordat die Here reën op die land laat uitsak nie. Hy het dit in verband gebring met Langenhoven se werke, wat in die toekoms steeds 'n bestendige aanwesigheid sal bly. Ds. C.V. Nel van Robertson, 'n vriend van Langenhoven sedert hulle jeugjare, het sy teks gekies uit Sefanja 3:13 en 16, veral die woorde: | |
[pagina 17]
| |
‘Hij zal zwijgen in Liefde.’ Hy het Langenhoven geloof as iemand wat nooit sy eie belang nagestrewe het nie, maar al sy kragte vir sy volk opgeoffer het. Daar het verwoede en ruwe storme teen die oorledene in sy lewe geslaan, maar hy het almal die hoof gebied. Die geheim van sy krag was dat hy sy volk liefgehad en met eerbied voor God gebuig en geswyg het, al was hy iemand met 'n kritiese brein. Ds. Nel het die weduwee en ander bloedverwante die vertroosting van God toegebid en hulle bedank vir wat hulle vir die oorledene in sy leeftyd gewees het. Daarna is Gesang 22 gesing, eerw. prop. Le Roux het met gebed gesluit en die slotsang was Gesang 160:2. Van die kerk het die draers - verteenwoordigers van die Senaat, die Kerkraad, die Stadsraad, die Kamer van Koophandel, die Wetsgenootskap, die SAOU, en die Oudtshoornse tak van die Nasionale Party - met die kis na die graf gegaan. Die stoet was buitengewoon lank en langs die kante het talle mense in digte rye gestaan. In die omgewing van die begraafplaas het intussen 'n hele paar honderd motors opgedaag en meer as drieduisend mense het die teraardebestelling bygewoon. Van die plaas Hamelkop by Klein-Brakrivier, waar Langenhoven se enigste oorlewende broer en sy halfbroers en -susters woonagtig was, het die familie op 'n muilwa opgedaag. Hulle het deur die nag van Klein-Brak tot in Oudtshoorn gery om die begrafnis by te woon. Na die plegtigheid het Vroutjie van haar oorlede man se klere aan hulle gegee. By die graf het teologiese kandidaat Louis Nel, die oudste seun van ds. en mev. C.V. Nel, namens die studente van die Universiteit van Stellenbosch gepraat en daarop gewys hoe 'n gewilde spreker Langenhoven vir die jeug was. Namens die Senaat van die Universiteit van Stellenbosch het prof. F.E.J. Malherbe gepraat, volgens baie mense se getuienis die indrukwekkendste rede van die dag. Sonder inleidende woorde het hy gesê: ‘Suid-Afrika beween sy liefste seun, die skitterendste ster aan die hemeltrans van die Dietse letterkunde.’ Hy het afgesluit: ‘Op die pad van Suid-Afrika sien ek weer 'n kruis verrys...Maar Langenhoven leef. En lewe Langenhoven.’Ga naar eind35 Namens die Senaat het senator O.A. Oosthuizen Langenhoven as volksman geprys, iemand wat besiel was met 'n gees om lewe in die volk te skep. Namens die publiek van Oudtshoorn het mnr. J.J.S. Naudé sy dank uitgespreek teenoor mev. Langenhoven vir die ‘heldinnewerk’ wat sy al die jare naas haar man verrig het. Aan die einde van die verrigtinge het 'n bruin | |
[pagina 18]
| |
koor ‘Blijf Gij met mij’ en die skare ‘Die Stem van Suid-Afrika’ gesing. Namens die familie het Allan Pocock, Langenhoven se stiefskoonseun, die sprekers en die aanwesiges bedank. Tien dae na Langenhoven se dood, op 25 Julie 1932, is sy testament by wyse van 'n berig in Die Burger bekend gemaak. Die testament is op 20 Januarie 1931 op Oudtshoorn onderteken, met 'n kodisil gedateer 15 Julie 1931. Behalwe die bepaling dat hy in 'n ‘oumode se swart kis’ begrawe wil word en eers op die derde dag nadat hy medies dood verklaar is, het hy sy ‘hoofskedel’ bemaak aan die Universiteit van Stellenbosch ‘om dertig jaar na my dood opgegrawe te word’ - 'n bemaking wat veral in die eeufeesjaar 1973 vir heelwat vermaak in die pers gesorg het, aangesien dit tóé reeds tien jaar ná die gestipuleerde datum was en Stellenbosch geen aanstaltes hoegenaamd gemaak het om die kopbeen op te grawe nie!Ga naar eind36 Oor die nagelate geskrifte het die testament bepaal dat geen risiko geneem moet word in verband met die koste van druk en publikasie van Langenhoven se werke nie en dat alleen dié waarvoor daar uitgewers gevind word, van tyd tot tyd vir herdruk in aanmerking moet kom. Geskrifte wat meer as 'n jaar voor sy dood geskryf en nie gedruk is nie en werke waarvan die eerste druk in ses jaar nie uitverkoop word nie, sal nie gedruk of herdruk word nie. Verlof om private briewe van Langenhoven of uittreksels daaruit te publiseer, sal alleen onder buitengewone omstandighede verleen word, en geen hulp of inligting hoegenaamd aan biograwe verskaf word nie. Verder mag geen werke van hom in bloemlesings, behalwe vir skoolgebruik, opgeneem word nie en geen verlof vir opvoerings van sy dramatiese werke mag aan beroepsgeselskappe toegestaan word nie. Daar mag ook nie aan sy werk getorring word deur byvoegings of verkortings nie, behalwe ‘dat daar diskresie sal wees in gevalle van algemeen aangenome spellingsveranderings’. Die opbrengs van sy boek Die Krismiskinders en van Brolloks en Bittergal bemaak hy vir die duur van hul lewens onderskeidelik aan sy dogter Engela en aan Sarah Eva Goldblatt. Wat laasgenoemde betref, betuig hy sy ‘erkentenis vir haar onskatbare diens en toewyding deur baie jare’. Die opbrengs van die res van sy letterkundige produkte bemaak hy aan Vroutjie solank as sy leef. Verder bepaal Langenhoven in die testament dat Sarah Goldblatt benoem word tot ‘administratrise’ van sy boeke en geskrifte en dat dit aan ‘haar goedgesinde diskresie’ oorgelaat is om in oorleg met Vrou- | |
[pagina 19]
| |
tjie en Engela in dié verband op te tree. Een derde van alle inkomste sal na haar as ‘administratrise’ gaan. Hy benoem Vroutjie ‘tot my enigste en uniwersele erfgenaam en tot eksekutrise van my boedel’. Van sy manuskripte sal - behoudens een elk wat Vroutjie en Engela kon uitsoek en twee of drie wat reeds aan Sarah Goldblatt afgestaan is - vyf jaar na sy dood aan universiteite of biblioteke in Suid-Afrika uitgedeel word, terwyl die res - die helfte of meer - aan die Universiteit van Stellenbosch bemaak word. Wat 'n mens van die testament in sy geheel opval, is dat dit 'n sorgvuldig beplande dokument is, al was daar ook - soos die bepaling in verband met die skedel - 'n element van die geestige en die bisarre daarin wat iets verraai van die onnutsige en seunsagtige wat enduit by Langenhoven aanwesig was. Alhoewel die testament bepaal het dat Sarah Goldblatt haar opdrag as letterkundige ‘administratrise’ met diskresie en in oorleg met Vroutjie en Engela moes uitvoer, het dit in werklikheid diktatoriale magte aan haar toegeken. Sy kon nie op enige bloedband of egverbintenis met Langenhoven aanspraak maak nie, maar het in hierdie bepaling die groot vertroue gesien wat Langenhoven in haar gehad het. Vóór die tyd was sy net die ‘Sub’, die skakelpersoon wat kommentaar op manuskripte moes lewer, behulpsaam moes wees by korreksies van proewe en - waar hy dit nie self kon doen nie - namens Langenhoven onderhandelinge met die uitgewers, Die Burger en Die Huisgenoot moes voer. Nóú was sy in volle beheer, want sy het gou na Langenhoven se dood agtergekom dat sy van Engela weinig te vrese het in wat sy as die uitvoering van haar opdrag sou beskou, al moes sy uiteraard aanvanklik Vroutjie se wil en wense in ag neem. Sy kon haar egter beroep op die feit dat Langenhoven klaarblyklik reeds lank voor sy dood hierdie aangeleentheid met haar bespreek het en dat sy die vanselfsprekende persoon vir dié werk en posisie sou wees. In 'n brief van 21 Desember 1920 wens Langenhoven haar geluk met haar komende verjaardag wat op Kersdag val - ‘my Krismis’, soos Langenhoven dit teenoor haar as Jodin noem. ‘Ek hoop’, skryf hy toe reeds, ‘dat jij baje, baje verjaarsdage nog sal sien - en die wens is nie te minder innig nie omdat hij grotendeels selfsugtig is: dat jij lank mag lewe om, nadat ek weldra mij uitdraaiplekkie gevind het, mij werk, so onklaar en gebrekkig als dit is, te versorg. Aan hande wat trouer sal wees aan 'n heengegane wil sal ek die opdrag nie kan laat nie.’ | |
[pagina 20]
| |
Voor Langenhoven se dood was Sarah Goldblatt bekend in die kringe waarin hy beweeg het, maar dan as iemand wat as 'n ‘sekretaresse’ enigsins op die agtergrond was. Alhoewel sy self 'n bietjie skryfwerk gedoen en selfs drie digbundeltjies - meestal kinderverse - gepubliseer het, is dit nie hoog aangeslaan nie. As onderwyseres by 'n Engelstalige skool en as Jodin met 'n duidelik Duitse aksent wanneer sy Afrikaans gepraat het, was sy nie 'n organiese deel van die Afrikanergemeenskap van Kaapstad of Oudtshoorn nie. Met haar benoeming tot ‘administratrise’ van Langenhoven se letterkundige nalatenskap het sy egter haar missie in die wêreld gevind. Vir die oorblywende deel van haar lewe sou sy hierdie missie, soos sy dit geïnterpreteer het, tot volle uitvoering bring en die regte wat testamentêr aan haar gegee is, jaloers bewaak. |
|