voel het, veral in die tyd dat ek op die perseel in die ‘stalletjie’ kon bly. Uiteraard was my grootste bron van inligting die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek, waar ek op die welwillende bystand van mevv. J.F. Botha, Joan Walters, M. van der Merwe en M.M. van der Riet kon steun, waarskynlik in 'n groter mate as waarop 'n navorser normaalweg geregtig is. Ook aan hulle my besondere dank.
In die skenkingsakte van die voorstadia en manuskrip van Mof en sy mense aan die Universiteit van Stellenbosch - 'n skenking wat uit 1926 dateer - sê C.J. Langenhoven dat van die eerste klad alleen vir die gebruik deur ‘universitêre professore en studente...vir studie-doeleindes afskrifte en afdrukke gemaak (mag) word’. Die eerste klad mag ook nie gepubliseer word nie; ‘en aanhalings en uittreksels daaruit sal alleen op verlof van die Uniwersiteit van Stellenbosch, op wie se billike oordeel die skrywer vertrou, en dan alleen in letterkundige vakwerke soos teksboeke en proefskrifte, gepubliseer word’. My hartlike dank aan die Universiteit van Stellenbosch, wat my verlof toegestaan het om in hoofstuk XIX uit die eerste klad van Mof en sy mense aan te haal.
Verder wil ek my dank betuig teenoor die volgende persone met wie ek almal onderhoude kon voer of wat inligting aan my verstrek het: dr. C.F. Albertyn, mevv. Audrey Blignault (de Villiers) en I.E. Boshoff, regter A.P. Burger, mev. Isobel Chilton, mnr. Colas Coetzee, dr. Abraham H. de Vries, mnr. en mev. Gawie Fagan, regter Hannes Fagan, mev. Olga Hann, ds. en mev. H.C. Hopkins, mev. Elsa Joubert (Steytler), mnr. C.J.Z. Langenhoven, mev. Lenie le Grange, mnr. Anthony Lilienfeld, mevv. Anna M. Louw (Bassel), Anna Maree, prof. Anna Neethling-Pohl, mnr. W.G. Odendaal, mnre. Anthony en Geoff Pocock, mev. Joyce Pocock, dr. M. du T. Potgieter, mej. Anna Rothmann, mnr. W.F. Saayman, dr. C.P. van der Merwe, mev. Esther van Rensburg, regter Helm van Zijl en mnr. M.H. von Holdt. Enkele van hierdie persone - en ook mnr. Dirk Lilienfeld vir wie ek vroeër genoem het - is sedert my onderhoude oorlede.
In die meeste gevalle word in die loop van die teks of by die verwysings die datum van 'n bepaalde brief of publikasie vermeld. Waar die vindplaas nie genoem word nie, is dit aanwesig in die Stellenbosse Dokumentesentrum, met uitsondering van Langenhoven se briewe aan Sarah Goldblatt, wat ten tyde van die voltooiing van die manuskrip in die Kaapstadse Argief bewaar word. In enkele gevalle word slegs die katalogusnommer in die Stellenbosse Dokumentesentrum vermeld.