Rekenskap
My oupa, C.J. Langenhoven, het in sy testament bepaal:
Verlof om privaat briewe van my of uittreksels daaruit te publiseer sal alleen onder buitegewone omstandighede verleen word, en geen hulp of inligting hoegenaamd sal aan biograwe verskaf word nie.
Het ek dié bepaling oortree? Indien wel, hoe, en waarom?
Wat betref publikasie van briewe en ander dokumentêre materiaal in hierdie boek, is daar geen oortreding nie, want die ‘buitegewone omstandighede’ lê voor die hand in die huidige situasie van Afrikaans. Publikasie van die materiaal is ook nie onnodig - soos my oupa sou gesê het, omsons - nie, want 'n ontsaglike hoeveelheid ongepubliseerde geskrifte het lê en wag om ontsluit te word vir geskiedskrywing en dies meer. Mejuffrou Sarah Goldblatt, wat my oupa se wense goed genoeg geken het, kon ewe goed die briewe en ander dokumente vernietig het as dit dan nooit meer gelees moes word nie. Na haar dood het ek my kom kry met die verantwoordelikheid, en die mag, om toegang tot die stof te verleen of te weerhou.
Naas die dokumentêre stof leef daar die oorleweringe en die herinneringe. Moes daar gewag word tot alles vergete is? Of behoort dit aan Langenhoven se uiteindelike erfgename, alle lesers en sprekers van Afrikaans? Watter herinneringe moet weens hul privaatheid finaal vergaan? Wat hoort tot 'n integere korpus van materiaal wat aan die geskiedskrywing toekom?
Hoe sterk ook al my oupa se passie en argumente vir privaatheid was, sterker is tans die aanspraak van die geskiedenis. Derhalwe het ek besluit om toegang tot en publikasie van die stof onder my beheer te magtig vir die doel van hierdie boek, op 'n klein deel na wat ek weerhou het omdat dit myns insiens nie die integriteit van die korpus sou benadeel nie. Wat dan wel ingesluit word, na my weglatings, laat ek oor aan die keuse van my vriend dr. Kannemeyer en sy uitgewer.
Maar die tweede deel van die testamentêre bepaling is 'n onvoorwaardelike verbod op hulp of inligting aan biograwe. Geld dit vir alle tye? Hoe kan 'n mate van beheer oor die bronne uitgeoefen word son-