Oor die skrywer
John Christoffel Kannemeyer is op 31 Maart 1939 op Robertson in die Wes-Kaap gebore. Ná voltooiing van sy skoolloopbaan op sy tuisdorp studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1964 die graad D.Litt. onder promotorskap van prof. D.J. Opperman behaal met 'n studie oor Die stem in die literêre kunswerk (1965). In 1962 word hy aangestel as lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad, en daarna doseer hy agtereenvolgens aan die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Stellenbosch. In die periode 1982-1987 is hy hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Daarna is hy senior navorsingspesialis by die R.G.N. in Pretoria. Sedert September 1992 woon hy weer op Stellenbosch waar hy voltyds navorsing doen en as vryskut werk. By herhaling bring hy studiebesoeke aan die Universiteite van Nijmegen, Amsterdam en Leuven en doseer hy op uitnodiging oor die Afrikaanse letterkunde. In die jare 1976-1983 behartig hy die redaksie-sekretariaat van die letterkundige tydskrif Standpunte.
Naas sy doktorale proefskrif publiseer dr. Kannemeyer onder meer 'n inleiding tot die tegniek van die prosa (Prosakuns, 1968), 'n beskouing oor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (Op weg na Welgevonden, 1970), vier bundels kritiese opstelle (Opstelle oor die Afrikaanse drama, 1970, Konfrontasies, 1977, Getuigskrifte, 1989 en Die bevestigende vlam, 1990) en 'n studie van Die dokumente van Dertig (1990). In Figuur en fluit (1992) en Die gespitste binneblik (1995) ondersoek hy die kunsopvattinge van D.J. Opperman, Martinus Nijhoff en Elisabeth Eybers. Verder redigeer hy werke van Uys Krige, D.J. Opperman, Eybers, Leroux en Kees Konyn en stel hy die versamelde gedigte van C. Louis Leipoldt en Krige saam.
Kannemeyer is egter veral bekend as literatuurgeskiedskrywer en biograaf. As historikus publiseer hy 'n tweedelige Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1978 en 1983), Die Afrikaanse literatuur 1652-1987 (1988) en A history of Afrikaans literature (1993). Op die gebied van die biografie lewer hy D.J. Opperman (1986) en Wat het geword van Peter Blum? (1993). By eersgenoemde werk sluit ook aan Die bonkige Zoeloelander (1994), Opperman se lewe in beeld.
Vir Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I ontvang Kannemeyer in 1979 die Recht Malanprys, vir D.J. Opperman in 1987 die Ou Mutualprys vir Nie-Fiksie en vir sy werk as letterkundige in 1988 die Gustav Prellerprys vir Literêre Kritiek.