Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 457]
| |
Hoofstuk XVII
| |
[pagina 458]
| |
tiese elemente in Van Wyk Louw se werk, in die besonder die waansin van die spreker in ‘Die swart luiperd’, tot hom gespreek: ‘en eensaam kon ek luister hoe / dun slakke oor my vel beweeg’Ga naar eind1. Die vreemde wending wat die lewensloop van sy vriend Breyten Breytenbach in hierdie jare neem, is dikwels in Jan se gedagtes en telkens skryf hy iets oor Breyten in sy dagboek. Saam met die meeste Suid-Afrikaanse skrywers is Jan ontsteld wanneer Breyten in 1975 die land met 'n vervalste paspoort binnekom en gearresteer word, al meen Jan dit is net sy eie skuld. ‘Nou éérs word hy romantiese simbool’, skryf hy in sy dagboek. Breyten word tot nege jaar gevangenisstraf vir vermeende terroristiese bedrywighede gevonnis en by herhaling sal Jan vertoë deur die Afrikaanse Skrywersgilde inisieer dat Breyten in die gevangenis met sy skeppende werk kan voortgaan of dat hy in belang van die Afrikaanse literatuur vrygelaat word. Jan woon Breyten se tweede verhoor in Junie 1977 in Pretoria by. Wanneer Oubaas en Ounooi Breytenbach kort daarna by die minister van polisie, Jimmy Kruger, gaan navraag doen oor wat met hul seun in die gevangenis aangaan, loof Kruger hul ander seun, Jan, wat as kolonel in diens van die weermag werksaam is. Sy naam, sê Kruger, sal onthou word bo sy broer s'n. Hy raas met hulle oor Breyten: ‘Hy't 'n Kommie wurm in sy kop wat ons nie daar kan uitkry nie, hy's 'n gevaar, hy steek ander mense aan, ons weet nie wat om met hom uit te rig nie, maar ons sal... en ons sal die skrywers ook regsien. Hulle dink mos hy's 'n god, maar ons sal hulle almal regsien, ons hét hulle al, nou gaan ons hulle wys en hulle stilmaak. En wat Breyten betref, ek sal sorg dat hy nooit weer sy giftige goed publiseer nie.’ Die enigste kommentaar van Oubaas teenoor Jan ná sy terugkeer op Onrus, was: ‘'n Hoop mis, dis wat daai man is.’ Terwyl Breyten op 29 Oktober 1980 nog in die gevangenis is en die ouerwordende Jan se foto in 'n koerant sien, skryf hy die roerende ‘'n Gāthā vir J.R.’: sien toe vandag jou tronie gebeeldbalk in die koerant;
die droom agter die oogholtes lyk nog braaf gesond,
die sprekende Janniebaardjie spits (of spiets?) kontant, maar ai
hoessit dan ook al spierwit taai en kóúd om die mond?Ga naar eind2
Ook nader tuis aan hom sal Jan, soos in die geval van Van Wyk Louw se dood en die wedervaringe van Breyten Breytenbach, telkens deur die lot- | |
[pagina 459]
| |
gevalle of die dood van vriende en familielede aan die eindigheid van alles herinner word, al oorheers die vitaliteit en vreugde vir eers sy lewe. In April 1977 sterf sy vader in sy negentigste jaar en dring hy en sy vier broers daarop aan om self die grawe op te neem en hom te begrawe. Op 20 Augustus 1986 sterf sy moeder op Riversdal, drie en negentig jaar oud. Op 17 Desember van dieselfde jaar moet hy sy geliefde hond, Arieb, begrawe wat aan beenkanker dood is. Op 10 Augustus 1987 sterf sy vriend en geesgenoot Uys Krige 'n hanetreetjie van hom op Onrus en praat Jan op 13 Augustus by die graf. En in Februarie 1989 is sy vriend Jannie Coetzee oorlede. Coetzee skenk al sy besittings - duisende boeke, meubels en om en by R80 000 aan kontant - aan die Afrikaanse Skrywersgilde met die versoek om 'n studiebeurs toe te ken aan bruin en swart Suid-Afrikaners wat in Afrikaans skryf of die Afrikaanse letterkunde bestudeer. Jan reël dat die jaarlikse beurs deur die Afrikaanse Skrywersgilde geadministreer word. Steeds gaan Jan van tyd tot tyd in die berge klim of onderneem hy staptogte langs die kus. Soos vroeër skryf hy oor die gebrek aan bewaring van die natuur en is hy bekommerd oor wat uiteindelik met ons planeet gaan gebeur. Gereeld woon hy en Jorie die jaarvergaderings van die Afrikaanse Skrywersgilde by wat hulle in ander dele van die land bring, al is hy tevrede en tuis in Onrus - met die Boland, die bakermat van sy taal, net 'n uur per motor ver. By een van die byeenkomste van die Gilde bestaan Jan se toespraak net uit twee sinne: ‘My naam is Jan Rabie. Sonder Afrikaans is ek niks.’ In Julie en Augustus 1971 toer hy en Jorie deur Suidwes-Afrika en besoek hulle die warmwaterbron Ai-Ais tussen die berge, 'n stukkie barre Boland en 'n oase te midde van die vaal dorheid. Die Dodekus noord van Swakopmund, skryf hy in sy dagboek, is ‘so plat en leeg en rotsloos soos 'n eindelose tennisbaan, 'n wêreld versmoor deur seemis, sand en sout’. In 1986 sal hulle Suidwes weer besoek wanneer die jaarvergadering van die Gilde daar plaasvind en in 1989 bied hulle by die Universiteit van Namibië lesings en werkswinkels oor die literatuur en die kuns aan. Jan hou vyflesings: ‘Lekkerlees’: humoristiese grepe uit sy prosa; ‘Kortkuns, met verwysing na Een-en-twintig’; ‘Die begin en einde van 'n jeugverhaal’; ‘Interessante mededelings oor skrywers, in die besonder oor Uys Krige, Ingrid Jonker en M.I. Murray se Witwater se mense’; en ‘Skrywe rondom die jeugboek’. In die werkswinkel oor die kortkuns wys hy die studente en voornemende skrywers aan die hand van sy ‘Die dag van die | |
[pagina 460]
| |
roos’ daarop hoe die eerste sin van 'n verhaal dikwels die einde voorspel of inhou. Terwyl die roman die wêreld vol dwaal en afdwaal, konsentreer die kortkuns op een faktor. Hy raai die studente aan om so eenvoudig as moontlik te skryf, om selfstandige naamwoorde en veral byvoeglike naamwoorde te sny en te waak teen die gebruik van groot woorde. Goeie prosa, sê hy, is soos asemhaling. Om goed te kan skrywe, hang af van hoe goed jy in ander mense se vel kan inkruip, en nie in jou eie ego nie. Op 14 November 1980 is Jan sestig jaar oud en gee Human & Rousseau sy Versamelverhale - 'n bundeling van Een-en-twintig, Dakkamer en agterplaas en Die roos aan die pels in een band - in 'n praguitgawe uit. Die uitgewers reël 'n onthaal by die Hotel President in Seepunt waartydens die boek bekend gestel word. 'n Boek vir Onrus verskyn in 1982 en is, ook wat die verkope betref, meer populêr as enige ander boek van hom. Die dertig tekeninge deur Jorie gee hom die geleentheid vir die volmaakte reaksie vir die soveelste Engelssprekende wat aan hom sê: ‘I'm so sorry I can't read Afrikaans. Why don't you translate your book?’ Nou kan hy antwoord: ‘Toe maar, you can read the pictures.’ 'n Besondere eerbewys wat Jan op 15 Maart 1985 van die Franse ambassadeur vir sy vertalings van Franse boeke in Afrikaans ontvang, is die titel Ridder van die Franse Légion d'Honneur. In 'n brief van 11 Maart 1985 wens André Brink, wat vroeër ook dié toekenning ontvang het, Jan geluk. ‘Dat dit verdiend is, spreek vanself’, skryf hy, ‘en dit doen mens se hart goed om te sien dat die land wat vanslewe vir jou 'n dakkamer en 'n agterplasie gegun het, jou nou ook, soos dit hoort, met swier by die voordeur verwelkom.’ By die plegtigheid op 15 Maart 1985 in die Franse ambassade sê Jan (in die Afrikaanse weergawe van sy rede) onder meer die volgende: Mnr. die Ambassadeur van Frankryk, ek voel vanaand soos Aspoestertjie verbaas en bly. Want u bewys my 'n prinslike eer. 'n Eer komende van 'n land waar die letterkunde 'n landswye stem het, waar skrywers openbare figure is, dikwels meer as die politici. In my land word skrywers veel minder as die makers van wette gehoor. Daarom is dit des te meer 'n eer dat die president van Frankryk 'n skrywer wil vereer wat onbekend in u land is. | |
[pagina 461]
| |
woon het, van 1948 tot 1955. En soos u van my treurige aksent kan hoor, het my Frans nie sedertdien verbeter nie. Boonop, in my huis is my vrou so lief vir praat dat mý tong bietjie verroes geraak het. En hy sluit af: ‘Mnr. die Ambassadeur, ek bedank u vir die aanmoediging wat u vanaand aldus vir ons bied. Ek bedank u ook van harte dat die eerbare titel, Ridder van die Erelegioen, so wonderbaarlik op my skouers kom rus het.’ | |
IIOp Donderdag, 11 April 1985, vertrek Jan en Jorie per vliegtuig uit Kaapstad op wat hulle laaste gesamentlike reis oorsee sou wees. Die volgende dag land hulle op Heathrow en bly tot 21 April in Edinburg by Jorie se familie. Edinburg vind Jan dié keer 'n vriendelike stad, met vriendelike mense en 'n gevoel van vryheid. Teen die aand van 23 April kom hulle aan in Parys waar hulle saam met Breyten en Yolande eet. Breyten is baie vriendelik, maar ook hoflik afsydig, miskien die erfenis van sewe en 'n half jaar in die tronk. Breyten, vind Jan, is uiters pessimisties oor die blankes in Suid-Afrika en het geen begrip vir die baie sosiale veranderinge wat | |
[pagina 462]
| |
vinnig in die land plaasvind nie, maar hulle weerspreek hom nie. Jan kry die indruk Breyten is eensamer as wat hy wil erken, terwyl Yolande, mooier as ooit, as sy bedagsame sekretaresse optree. Maandag, 29 April, vertrek Jan en Jorie met die nagtrein na Brindisi en van daar per veerboot via Corfu en Patras na Athene. Moeg ná drie dae se reis het Jan verkoue en is hy flou gedra aan hul vier tasse. Hulle gaan in 'n hotelletjie in die Plaka-buurt tuis. In die stil bog van die baai tussen beroemde name soos Athene, Eleusis en Salamis lê dosyne, seker 'n honderd afgedankte olietenkers ná die oliekrisis in rye op die stil water en roes - soos groot olifante wat hier kom sterwe het. Jan en Jorie se sukkel-Grieks kom weer stadig reg en Jan wonder hoe magteloos 'n vreemdeling in 'n stad is waar niemand hom verstaan nie. Hy en Jorie beklim die Akropolis saam met baie ander vakansiegangers en Jan besoek die beroemde argeologiese museum waar hy langdurig die gesigte bekyk van die Grieke wat so ryk is aan die verlede. In sy dagboek teken hy aan: ‘Ons Afrikaners het nog niks van gister nie, ons het nog nie gesigte opgelewer nie.’ Op 8 Mei vertrek Jan en Jorie per boot na Lesbos, die eiland waar hulle etlike maande sal bly. Soos met hul vorige besoek aan die Griekse eilande merk hy hoe die see skoner word en 'n diep kobaltblou kleur kry - glad soos sy, amper asof 'n mens dit kan streel. Met rugsakke en slaapsakke stap hulle deur verskillende dorpies en slaap hulle op die strand. Lesbos is die eiland van rose, olyfbome, wilde denne en bergeike. Weens sy verbintenis met Sappho het die eiland die reputasie van lesbiese vryheid. Hulle vind telkens pare dames wat saamreis. Op Molybos se strand staan twee Hollandse vroue met ontblote borste halflyf in die water mekaar en streel. Terwyl Jorie in die hawe teken, lees Jan Grieks om later vertaalwerk te doen. Hulle vind die eiland mooi, maar die ongeskondenheid van die stralende wit huisies gaan verlore deur die baie toeriste en die motors. Twee dae lank stap hulle kuslangs en vyf dae vaar hulle met 'n seilboot reg rondom die eiland. Die Grieke, so teken Jan aan, is net gelukkig in chaos. Hulle winkels is deurmekaar, hulle bou hul huise stukstuk en alles onvoltooid, geweldig sorgeloos, vooruit beplanloos - om dan in 'n see van chaos aan enkele vaste dogmas vas te hou. Hellas is 'n ruïne wat groei, 'n indruk wat hy ook by sy vorige besoek gekry het en nou bevestig word. As die onderste gedeelte van 'n huis byvoorbeeld instort, bly die Grieke eenvoudig in die boonste deel. Ná 'n besoek aan Turkye en die eiland Rhodos vaar Jan en Jorie op 19 | |
[pagina 463]
| |
November terug na Athene van waar hulle boeke per seepos en Jorie se sketse per lugpos na Suid-Afrika stuur. In sy dagboek skryf Jan: ‘Nog 'n rede waarom mens Hellas liefhet, is omdat jy ook 'n soort deernis voel vir die uitmergelende, bloedgedrenkte, snuifgetrapte aarde - dieselfde gevoel wat mens kry vir die bleek aarde rondom Jerusalem. [...] Altyd êrens lui klokkies van skape en bokke - soos druppels water wat musiek maak.’ Dan bring hulle vyf dae lank in Kreta 'n herbesoek aan Eloúnda waar hulle met ope arms deur die bekendes van agtien jaar tevore ontvang word, al het die dorp deur die toerisme geweldig uitgebrei. Aan Koos Human skryf Jan op 1 November 1985: ‘Jorie skilder hoewel sy haar droomeiland wit eiland in 'n blou see sonder toeriste nie kon kry nie.’ Hy self verlang terug na sy hond en sy tuin. ‘Jorie het 'n spul Turkse borde, glase en kookpotte gekoop, en ons is tonne oorgewig. En ek, donkie, moet dit deur stasies en lughawens sleep. Ek het reeds leer balk soos 'n donkie.’ Op Maandag, 2 Desember, kom Jan en Jorie weer aan in Parys waar hulle tuisgaan in Elsa Joubert se dogter en skoonseun se salige vinkneswoonstelletjie - 'n herinnering aan Jan se vroeëre dakkamer - in 14 Rue de l'Ancienne Comédie, reg in die Buci-mark oorkant die begin van Rue Monsieur le Prince. Breyten en Yolande is weer besonder gasvry en Jan voel Breyten se vreemde hoflikheid is 'n soort wanhoop. In 'n klein teatertjie woon hulle 'n verrassende aand van poësie-voorlesings van Breyten en Leopold Senghor van Senegal se verse by. Naas vertalings van sy verse lees Breyten ook twee gedigte in Afrikaans, in 'n warmer, inniger stem. 'n Hele paar Suid-Afrikaners daag op, onder andere Dan Roodt en sy vrou, Karin Konsentrasiekamp (Bredenkamp). Terwyl Jorie in haar geliefde Parys met verkoue die bed moet hou, onthaal Yolande en Breyten vir Jan in hul pragtige ruim herboude woonstel voor 'n kaggelvuur met wyne en Oosterse geregte. Jan verbaas hom oor hul warme geneentheid teenoor Jorie en hom. Hy loop elke dag van vyf tot twaalf kilometer, kyk en herontdek alles, soek boeke, swerf, geniet die strate en brûe. Op hul laaste dag in Parys is albei weer by Breyten en Yolande. Breyten speel 'n kasset van Chris Blignault-liedjies, soos ‘Die apie se bruilof’ en ‘Ou tante Koba’, en hulle lag hulle salig daaroor. ‘Nostalgie, jou naam is Breyten’, teken Jan aan. Van Woensdag, 24 Desember tot Vrydag, 10 Januarie 1986, is Jan en Jorie terug in Edinburg by Jorie se broer en sy gesin, Fleming en Valerie | |
[pagina 464]
| |
Wallace en hul dogter Jennifer. Saterdag en Sondag 4 en 5 Januarie maak die vallende sneeu dik waterstrome en sien Jan hoe swart die bome in hul duisternis teen die grys lyf van die hemel afgeteken staan. Op 10 Januarie vertrek Jan en Jorie na Londen vir die terugvlug na Kaapstad dieselfde aand. Dit was 'n aangename nege maande in Europa, maar by tye verlang Jan erg huis toe. Tydens die verblyf op Lesbos voltooi hy sy roman En oseaan en op 20 Julie 1985 begin hy skryf aan Kinders van die reënboog wat hy in sy dagboek 'n ‘potpourri van 'n boek’ noem, 'n jeugboek met 'n stuk politiek en 'n stuk wetenskapfiksie oor 'n kernoorlog in 'n abstrakte land. Terug op Onrus stap Jan deur die slagveld van vernietigde Kaapse kreupelbos wat vroeër so lieflik al langs die see gegroei het. Miskien, dink hy, sal die mens eers tot rus kom wanneer hy sy planeet verwoes en dan homself ook uitgeroei het. In die meer as twee maande ná sy terugkeer moet hy werk om byna 'n jaar se verwildering, omgevalle bome en 'n stukkende dak reg te maak. Hy maak nuwe aanplantings, lê olywe in, kyk na Halley se komeet en stel 'n lys op van die taalverdeling van die bevolking in elke stad en dorp van die hele Suid-Afrika. Jorie begin aan die hand van haar sketse te skilder, veral die stugge Karpathos-tonele wat sy vrolik en kleurig regsien. Intussen het Human & Rousseau reeds En oseaan, wat Jan die vorige jaar voltooi het, gepubliseer. | |
IIINá sy terugkeer uit Europa hou Jan steeds referate en toesprake en tree hy ook by skole op, soos by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad waar hy op 13 Augustus 1986 oor ‘Afrikaans en die Afrikaner vandag’ praat. Hy werk verder aan sy nuwe roman Kinders van die reënboog wat hy nou Luk geluk wil noem, die verhaal - dui hy dit nou aan - van 'n verhouding tussen 'n wit seun en sy bruin meisie en al die ellendes wat hulle vir hul liefde moet deurmaak. 'n Groot verering vir Jan, wat lewenslank so min erkenning vir sy werk ontvang het, is die eredoktoraat wat hy op 15 September 1990 van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ontvang. By 'n geselligheid wat die Universiteit vir hom die aand vantevore aanbied, sê Jan onder meer: | |
[pagina 465]
| |
Ek het myself altyd as 'n buiteperd beskou, maar dalk word ek nou agteros wat ook in die kraal kom. [...] Aan die slot van sy dankwoord sê Jan hy is bly die hulde kom van 'n universiteit wat Afrikaans en ‘so oop soos [die] Vrystaatse vlaktes’ is. ‘Want ek is trots op my beskeie bydrae tot ons grootste nie-rassige prestasie in Suider-Afrika tot dusver, saam geskep deur bruin, swart en blank uit Asië, Afrika en Europa, ons Afrikaanse taal.’ Wanneer Jan op 14 November 1990 sewentig jaar oud word, reël Human & Rousseau vir hom 'n geselligheid by sy huis op Onrus waartydens 'n besondere liber amicorum, met spesiaal geskrewe bydraes deur skrywers uit sy groot vriendekring en besonder mooi in roesrooi leer en met gemarmeerde papier afgewerk en deur die uitgewers ingebind, aan hom oorhandig word. Jan was besonder bly oor dié verering en baie dankbaar, veral teenoor dié vriende wat van ver gekom het. In sy dankwoord sê hy: En dan, julle het nie net vir my sewentig jaar gekom nie. Maar vir 'n vriendekring van intelligente en skeppende mense wat al goed veertig jaar bestaan. Ons is vanaand bewus van ons vriendekring van veertig jaar wat, sê maar, finaal gevorm is die dag toe honderd van ons in opstand by Ingrid Jonker se graf gestaan het, en daarna soos 'n tweetalige nie-rassige suurdeeg in die hart van Kaapstad bestaan het. Daar word nou veel gepraat van 'n Nuwe Suid-Afrika, en ons is dalk ook bewus van 'n soort einde. Nuwe vriendekringe kan ontstaan. Mense word ouer, sterf af... | |
[pagina 466]
| |
baas en verleë oor julle geneentheid teenoor my, en ek wil 'n groot dankie vir almal sê. En in besonder vir my uitgewer wat die las van vanaand op sy ferme skouers dra. Asook vir Marjorie wat vir die eerste keer in haar lewe 'n koek probeer bak het... En hy sluit af met die woorde: ‘Ek lief julle.’ Nog 'n besondere eerbewys wat in hierdie jare na sy kant kom, is wanneer die Afrikaanse Skrywersgilde op 23 April 1993 sy erelidmaatskap aan Jan toeken. By dié geleentheid voer Abraham H. de Vries die woord met 'n rede wat Jan se groot bydrae voortreflik saamvat.Ga naar eind3 Hy noem die bundel Een-en-twintig en die later gepubliseerde Mens-alleen die ‘eerste radikale vernuwing’ waarmee Jan die Afrikaanse prosa ‘wakker geskud het met die almag van die droom en die droom se surreële eenheid van vernietiging én teerheid, gruwel én liefde, verskrikking én mistiek’. Hy gaan voort: Selfs toe hy nog in Parys gewoon het, was Jan se Onrus digby Hemel en Aarde. Dis ook hy wat op 20 Mei 1953 in sy dagboek aanteken: ‘Ek weet nou wat Europa my geleer het, dat ek deur 'n aanvanklike estetisisme getas het na dit waarvoor ek eintlik bestem is: l'engagement’...en wat daarna die Afrikaanse prosa onherroeplik betrokke gemaak het in die stryd téén die Afgod van apartheid. As taalpatriot was Jan Rabie een van die eerste skrywers wat gewaarsku het dat Afrikaans eendag die prys sal moet betaal vir Apartheid [...] Hy het aangedring op die regte van bruin Afrikaners toe 'n politikus nog kans gesien het om hom daaroor die Leviete voor te lees. Jan is die enigste van wie ek weet wat al iemand uitgeskel het vir 'n witmens. (Toe iemand sy hond op Onrus by die karavaanpark met 'n klip gegooi het, was sy moedelose skelwoorde: ‘Wat maak jy nou, jou, jou...witmens!’) Betrokkenheid, engagement, maar ook 'n soektog na wortels in Bolandia, Klipwieg, Eloúnda. Die onderwyser [...] uit 'n onderwysgesin het in wese onderwyser gebly. Hy bring bymekaar die opwindendste wat Europa kon bied en dit wat Suid-Afrika die nodigste gehad het. Jan Rabie is aanwesig in die werke van 'n hele generasie skrywers vir wie hy stimulus, leermeester en voorbeeld is. | |
[pagina 467]
| |
Jan, sê De Vries voorts, is een van die min skrywers ‘van wie 'n mens met stelligheid kan beweer dat hy nie net 'n barometer is van sy tyd nie, maar iemand wat kreatief die geestesklimaat van sy tyd help vorm’. Maar naas die literêre verdienste was Jan met sy boeke, saam met Jorie en Onrus, ‘vir ons [van die Skrywersgilde] waterput, koelteboom, inspirasietuin. Daarom wil ons ook sê: ons het 'n heilige respek vir die manier waarop jy getrou bly aan wat Camus genoem het “hierdie onvervangbare aarde”.’ Hy word deur die Afrikaanse Skrywersgilde met die erelidmaatskap vereer ‘vir sy onbetwisbare statuur as skrywer en vir sy intense menslikheid’. Van die laaste stukke wat Jan skryf, is bydraes by geleentheid van die eerste demokratiese verkiesing van Suid-Afrika op 27 April 1994. Enkele dae voor dié verkiesing, vertel hy, word sy identiteitsboekie, saam met sy tjekboek, rybewys, perlemoenlisensie en ander items, uit sy studeerkamer gesteel. By die landdroskantoor moet hy hoor 'n paspoort tel nie vir stem nie. Hy moet gevolglik ure lank toustaan ‘in die kloue van die burokrasie’ om met vorms en stempels en drie foto's en vyftien vingerafdrukke en inkbaddens en bestraling 'n nuwe identiteitsboekie te kry. Op die dag van die verkiesing soek hy, terwyl hy op Sandbaai, die naaste stemlokaal aan Onrus, in die ry staan om te gaan stem, na sy pen wat hy skielik nie meer kan kry nie, tot iemand met sy elmboog hom wreed versoek om stil te staan en stigtelik te wees, want die hele gedoe gaan tog om ons toekoms. Jan sluit af: Is enige verandering in die mens se bestaan dan nie heilig nie? (Of ek-onheilig.) Daar is dit weer: veertig miljoen mense, van dief tot eensame, ek moet respek betoon. En as ek my geliefde Afrikaans om my hoor, hoe kan ek dan nie vrolik wees nie? Rondom, op ons dag in April 1994, is daar min tranedallers en is daar 'n skarevol aansteeklike vreugdes juigende versoening. In Sandbaai. Rondom 'n soliede stembussie wat wieg, saamwieg toi...toi...Sakkie...Sakkie...sak... En wanneer André Brink die indrukke van 'n aantal mense oor die eerste jaar van demokratiese saambestaan vir die uitgewery Queillerie bundel, lewer ook Jan 'n kort bydrae waarin die somberheid oor 'n nuwe onreg oorheers: Die olywe hang hul bome weer vol swart bessies soos 'n jaar gelede, en nog altyd moor en steel die mensdom. | |
[pagina 468]
| |
Uit hierdie letterlik laaste geskrif van Jan bemerk 'n mens 'n sterk element van bedruktheid. Was dit 'n gevoel van wanhoop omdat sy groot droom van 'n nuwe nasie wat aan die suidpunt van Afrika uit die smeltkroes van rasse, met Afrikaans as taal, tot stand sou kom, in die Nuwe Suid-Afrika nie bereikbaar gelyk het nie? Toe Johan Degenaar en Hermann Giliomee Jan tydens 'n besoek aan Onrus vra hoe hy oor die verkiesingsuitslag van 1994 voel, het hy net een woord gesê: ‘Allesverloren.’Ga naar eind5 Uit die swye van die eens spraaksame Jan was dit vir almal wat hom ken, duidelik dat hy erg depressief was. Jan se broer At, intussen op Hermanus gevestig, het gemerk Jan loop snaaks en stokkerig wanneer hulle van die see af terugkom en dat hy dikwels tydens gesprekke vaak raak en aan die slaap val.Ga naar eind6 Daar was duidelik iets verkeerd met hom. | |
IVDwarsdeur sy lewe tot op hoë ouderdom was Jan die gesondste mens denkbaar - veerkragtig, sonder 'n ons vet aan hom, iemand met enorme energie. Hy het wel matig gerook en elke dag wyn gedrink, maar hom uiters selde aan eksesse skuldig gemaak. Omdat hy 'n bietjie las van sy keel gehad het, laat hy hom op 3 Junie 1973 deur dr. P.E.S. Loubser vir sy algemene gesondheid ondersoek. | |
[pagina 469]
| |
Dr. Loubser stel vas Jan se hart is normaal, maar dat hy las het van 'n brongiale long, 'n ietwat lae persentasie hemoglobien in die bloed en 'n nerveuse gespannenheid wat op die maag werk. Einde Julie 1976 word 'n gewas van Jan se wang in die kliniek afgesny, met dr. Fana Malherbe - seun van prof. Fransie Malherbe onder wie hy indertyd op Stellenbosch gestudeer het - aanwesig. Dit is 'n klein ingreep waarvan hy gou herstel. Maar die jare het vinniger begin aanstap. Kort duskant sy sewentigste verjaardag het Jan borsprobleme begin kry en hees begin praat. Dr. Jan van Heerden, sy huisdokter, ontdek 'n groeisel en Jan moes onverwags, sonder dat hy tot in daardie stadium veel oor ouderdom en siekte gebroei het, 'n skildklieroperasie ondergaan. Dit was 'n seldsame groeisel, maar gelukkig nie kwaadaardig nie. Omdat dit egter 'n ongewone operasie sou wees, kom 'n hele paar dokters dit bywoon. Ná 'n paar dae in die Tygerberg Hospitaal gaan Koos en Trewhella Human hom haal. Toe die Humans by die hospitaal opdaag, was daar streng bewaking, aangesien Nelson Mandela ook vir ondersoeke daar was. Koos moes dus ver parkeer en as gevolg van 'n knieprobleem wat sy loop bemoeilik het, is Trewhella uit om Jan te gaan haal wat effens verwese in 'n kombuisie met sy skamel koffertjie sit en wag het. Hulle moes 'n lang pad verby die talle polisiemanne na die motor loop.Ga naar eind7 Van die operasie het Jan gou heeltemal herstel, maar hy het 'n knou gekry. Aan The Cape Times, waarvoor hy meer as dertig jaar lank Afrikaanse publikasies geresenseer het, laat weet hy hulle moet nie meer boeke vir hom stuur nie; sy oë is gedaan. Skielik het hy ook begin vergeetagtig raak. Hy stap kombuis toe, maar wanneer hy daar aankom, wis hy nie meer wat hy wou doen nie. Hy loop badkamer toe om sy swembroek aan te trek, maar vind uit hy begin, in die middel van die dag, om sy tande te borsel. In die kas het sy baadjie vir hom weggekruip, verdwaal tussen die hemde. Alledaagse dinge het begin om hom skelm in die steek te laat. Van 'n vriend hoor hy die lekker sin: As 'n ou man vol skete op 'n dag sonder enige pyne wakker word, moet hy weet hy is dood. En met die ouer word het hy vir homself skrikwekkende vrae begin stel. Het die heelal uit niks ontstaan? Hoe kan sterre en sterrestelsels êrens net ophou? Sal ek met my klein lyfie 'n kosmiese stoffie in die uitspansel word? Wat is die lewe anders as 'n idioot se lag? skryf hy in sy aantekeningboek in 'n sin wat iets van Shakespeare se ‘a tale told by an idiot’ uit Macbeth eggo. En sy groot bekommernis: Wat is die toekoms van Afri- | |
[pagina 470]
| |
kaans? Gaan Afrikaans tot niet? Dan troos hy hom met die gedagte: Iemand wat trots is op sy taal, hou nie vooraf lykskouings nie.Ga naar eind8 Maar hy was wel bewus van die eindigheid van alles en van homself. Aan Jorie het hy gesê geen predikant mag op sy begrafnis praat nie. 'n Oomblik later het hy hom bedink en bygevoeg: Beyers Naudé, die man wat jare tevore saam met hom in Wilgenhof was, mag kom, mits hy nie die naam van God noem nie.Ga naar eind9 Wat hom nog kon troos, was die klein dinge waarmee hy nou reeds vyf en twintig jaar geleef het. ‘As 'n mens se ore en oë tam van vandag se geharwar is,’ lui een van die laaste inskrywings in sy dagboek, ‘dan verlang jy na iets wat bestendiger soos berg of see is, of so eenvoudig troos soos daardie dinge waarop ons beskawing aanvanklik gebou is: wyn, olyf, brood.’ Maar dan het die depressiwiteit en stilte weer oor hom toegesak. Een belangrike rede vir Jan se bedruktheid was dat die manuskrip van Luk geluk twee maal deur die uitgewers afgekeur is. Toevallig was Chris Barnard en Katinka Heyns op Onrus toe Jan die eerste keer die koevert met die afgekeurde manuskrip van Human & Rousseau ontvang. Chris en Jan sit op die stoep, Jan lees die brief wat die pakkie vergesel en sê: ‘Koos wil die ding nie hê nie. Hulle wil hê ek moet 'n jeugverhaal daarvan maak, maar dit is nie 'n jeugverhaal nie.’ Die volgende dag kyk Katinka deur die venster en sien Jan, nog in sy nagklere, is verwoed besig om takke te saag. Sy vra Chris sy wonder wat met Jan aangaan, want dit is vreemd dat hy dié tyd van die oggend nog sy nagklere aanhet en hout saag. 'n Rukkie later kom Jorie oor na Katinka en vra dat Chris asseblief met Jan moet kom praat. Sy meen daar is iets fout, want hy is verskriklik beduiweld. Chris gaan oor en Jan, wat eerder sou doodgaan as om by 'n mens 'n guns af te bedel, vra of hy nie asseblief die manuskrip sal lees en vir hom sal sê wat hy daarvan dink nie. Chris lees dit en moes met die oordeel van die uitgewers saamstem, want dit was definitief niks anders as 'n jeugverhaal nie. Wat Chris en Katinka egter verstom het, was dat die manuskrip Jan, teen dié tyd 'n jare lange getroue medewerker van Human & Rousseau, oor die pos bereik het, sonder dat daar 'n gesprek met hom gevoer is. Ook Jorie kon nie begryp dat die manuskrip sommer so in 'n koevert terugkom nie. Die feit van die saak was egter dat Koos Human in daardie stadium oorsee was en dat Ampie van Straten, wat die hele dilemma in sy afwesigheid moes hanteer, gewoon te skroomvallig was om Jan in die oë te kyk. Chris en Katinka het dit egter saam met Jorie as onge- | |
[pagina 471]
| |
voelig aan die kant van Ampie van Straten beskou om die afgekeurde manuskrip net deur die pos terug te stuur. Vir Katinka was die terugsending van die manuskrip iets soos 'n waterskeiding, want daarna was Jan nie weer dieselfde nie. Hy het hom begin terugtrek. Een aand, toe Jan al baie siek was, loop M.C. Botha saam met Jan na sy studeerkamer. Jan gee hom 'n aantal ongebruikte notaboeke. ‘Jy kan nog dik boeke hierin skryf,’ sê M.C. aan Jan. ‘Waarom hou jy nie net een stapel nie?’ vra M.C. ‘Ek sal dit nooit waag om weer te skryf nie,’ antwoord Jan. ‘Twee mense het my laaste boek afgekeur.’Ga naar eind10 Op 13 Maart 1995 is Jan, op aanbeveling van dr. Jan van Heerden, na dr. Graham Ellis, 'n internis van Somerset-Wes, as gevolg van algemene klagtes en sy moeilike, stadige bewegings. Die skildklier was in orde, maar in hierdie stadium het Ellis bevind die snaakse bewegings is nie tipies van parkinsonisme nie. Daar was egter tekens van 'n algemene afname van intellektuele vermoë en voorstadia van demensie, hoewel Jan dit eintlik net voor vreemdelinge gewys het. Op 8 April 1997 is hy vir 'n verdere ondersoek na dr. Simon Kesler, 'n neuroloog van Kaapstad. Dr. Kesler diagnoseer hom as 'n jeugdige ses en sewentig, maar nou, uit die handskrif, die bewerigheid, die swak loop met kort treetjies, die tipiese tremor en die moeite om uit die stoel op te staan, as 'n definitiewe lyer aan parkinsonisme. Jan het besonder swak gevaar in die toetse. Hy kon nie foto's van bekende mense onthou of uitken nie, hy was vergeetagtig en het sag en mompelend gepraat. Op grond hiervan diagnoseer dr. Kesler 'n kombinasie van parkinsonisme en demensie, iets wat kort tevore as Levy-Liggaam-demensieGa naar eind11 geklassifiseer is. Jan was dus nou 'n baie siek man met 'n kombinasie van twee ernstige ongeneeslike siektes. |
|