Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 440]
| |
Hoofstuk XVI
| |
[pagina 441]
| |
het volgens hom nog nie 'n volk geword nie, maar ‘die Afrikaners is fantastiese pioniers, baster-goed toegerus vir verandering en groei. [...] Ons almal se samelewing is nog onvoltooi; Suid-Afrikaners is ons nog nie. Maar wat reeds dringend waar vir ons is, is dat 'n taal- of kultuur-gemeenskap groter is as dié van velkleur of ras. [...] As skrywer en mens getuig ek hiervan: Afrikaner is vir my veel meer as wit man.’ By die Sestigerkongres kry Breyten Breytenbach die geleentheid vir sy eerste openbare optrede tydens sy en sy vrou, Yolande, se besoek aan Suid-Afrika aan die begin van 1973. Oor die sewehonderd mense het elke beskikbare plek in die lesinglokaal by die Universiteit van Kaapstad vir sy lesing ingeneem en selfs op die treetjies in die paadjies gesit. In sy rede, wat hy 'n ‘lykrede’ noem en waarin 'n mens groeilote uit vroeëre uitsprake van Jan herken en ook iets van Jan se ‘Droogte’ uit sy bundel Een-en-twintig resoneer, sê Breyten onder meer: Ons is 'n bastervolk met 'n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig. En om dit te kon doen, moes ons ons gewaande stamidentiteit stol. Ons moes áfkamp, bekamp, verkramp. Ons moes ons andersheid verskans en terselfdertyd behóú wat ons verower het [...] Ons het mure gebou [...] En soos alle basters - onseker oor hul identiteit - het ons die begrip suiwerheid begin aanhang. Dit is apartheid.Ga naar eind5 Breyten is ná sy rede lank en met groot entoesiasme deur die groot aantal aanwesiges toegejuig. In sy dagboek teken Jan aan: Honderde aanbiddende meisies pak saal vol toe Breyten se mooi lieflik sniksangende stem einde en verdoemenis oor almal uitspreek, maak nie saak nie, hulle swymel aanbiddend. Jan meen die ‘sentimentele adorasie van die jeug’ is gebore uit 'n skuldige wit gewete en beskou klaarblyklik nie dié veroordeling in 'n ernstige lig nie. ‘Laat hom maar doemspreek,’ skryf hy verder, ‘hy bly 'n benydenswaardige hartlief.’ | |
[pagina 442]
| |
Afgesien van die geleentheid wat die Sestigerweek vir die Sestigers bied om bymekaar te kom en deur middel van gesprekke mekaar te stimuleer, versterk dit die solidariteit onder hulle deur die unanieme afkeer van die beheer oor publikasies en sommige aspekte van die apartheidsbeleid. Daarby kry hulle die geleentheid om bestek op te maak oor wat hulle in die dekade van Sestig verrig het en om hul toekomsplanne duidelik te formuleer. | |
IITydens die termyn van Jannie Kruger, wat in opvolging van Gerrit Dekker voorsitter van die publikasieraad word en as letterkundige nie die aansien van sy voorganger geniet nie, is die raad by herhaling betrokke by regsgedinge waarin 'n verbod deur die hooggeregshof ter syde gestel word. Daarmee ontstaan bedenkinge oor die funksionaliteit van die hele publikasiebeheer en word die stelsel en die lede van die beheerliggaam die skyf vir felle kritiek en skerp satiriese reaksies. Die skrif was dus aan die muur vir 'n wetswysiging en 'n meer rigiede sensuur. Reeds tydens die Kaapstadse Sestigerkongres neem Jan Rabie die inisiatief om 'n petisie op te stel waarin verklaar word ‘dat beheer oor publikasies in ons land reeds te swaar op die literêre kunste weeg en hoegenaamd nie verder uitgebrei moet word nie’. Dit word deur die sprekers en driehonderd ander kongresgangers onderteken.Ga naar eind6 Kort voor die wetswysiging deurgevoer is, word André P. Brink se Kennis van die aand deur die publikasieraad verbied. Jan Rabie woon die hooggeregshofsaak wat daarop volg, saam met Brink en sy uitgewer, Daantjie Saayman, in Kaapstad by, met regterpresident Theo van Wyk en regters Marius Diemont en Jan Steyn op die regbank. Tydens een van die pouses sê E.M. Grosskopf, die advokaat vir die verdediging, aan Jan hy het waarskynlik die verkeerde regters vir die saak ‘getrek’. Uitspraak word gegee ten gunste van die publikasieraad, al laat Steyn blyk dat hy dié besluit ‘vanweë die behoefte aan 'n viriele letterkunde in die Afrikaanse taal’ teensinnig neem. Jan vind Steyn 'n goeie, beskaafde man en Diemont 'n ‘letter-van-die-wet-Calvinis’ wat nie veel vrae stel nie, terwyl die onhoflike en aanvallende Van Wyk voortdurend in die debat ingryp asof hy die aanklaer is. In sy dagboek teken Jan aan Van Wyk is ‘'n bevooroordeelde | |
[pagina 443]
| |
kultuurniet wat homself as regter en wit man verdedig in plaas daarvan om die boek te beoordeel’. Die Wet op Publikasies van 1974, wat die 1963-wetgewing vervang, bring 'n radikale vernuwing van die beheerstelsel mee. Die appèl na die howe word volgens die nuwe wet afgeskaf en 'n appèlraad in die lewe geroep wat uit minstens drie lede bestaan van wie die voorsitter 'n persoon moet wees wat tien jaar ondervinding het as regter, advokaat, prokureur of dosent in die regsgeleerdheid. Wat die omskrywing in verband met ongewenstheid betref, kom die nuwe wet woordeliks met dié van 1963 ooreen, behalwe dat die waarskynlike leser van 'n geskrif nie meer in aanmerking geneem word nie. Besware teen die wetgewing uit 'n juridiese oogpunt was dat 'n komitee nou ook die blote besit van 'n publikasie kan verbied, die minister enigiemand die magtiging kan gee om persele te betree en op boeke beslag te lê, die reg van appèl na die howe afgeskaf word en die minister te veel arbitrêre magte verkry. Regter J.H. (Lammie) Snyman word as voorsitter van die appèlraad aangestel, iemand wat van die begin af deur sy onkunde op die gebied van die literatuur en sy hele optrede die prooi van aanvalle deur André Brink en ander skrywers is. Telkens skryf Jan Rabie en van die ander Sestigers pleidooie om teen die sensuurbedeling te waarsku. In 'n brief van 19 Mei 1973 aan Die Burger vra Jan die minister, C.P. Mulder, om tog versigtig te wees met die wetswysiging, omdat Afrikaans in gedurige mededinging met Engels 'n uiters delikate posisie in die land beklee, ook omdat 'n politieke ideologie die bruiner Afrikaanssprekendes van hul witter broers wegstoot. ‘Deur boelie van bo’, sê hy, ‘kwyn 'n taal. Deur hande-lek sterf 'n taal.’ Maar: ‘Deur sy prestasies oorleef 'n taal. Deur sy boeke.’ Afrikaans, sê hy, is aards met diep wortels in hierdie aarde gebore. 'n Halfeeu gelede nog was dit die droom van die volk om sy taal en so homself te verwesenlik. Groeiend, strewend, stralend uitwaarts op die toekoms gerig. Vandag? Vandag hoor ons nie veel van Afrikaans nie, wel van Afrikaners, waarmee wit mense bedoel word. Om al die negatiewe dinge waarmee Afrikaans tans verbind word, vra hy die minister om Afrikaans genadig te wees: | |
[pagina 444]
| |
Laat Afrikaans toe om nie bang te wees vir die moeilike en gevaarlike wêreld waarin ons leef nie. Laat Afrikaans toe om nuwe Voortrekkers en nuwe vriende en nuwe Karoowortels te skep. Gee Afrikaans asseblief 'n kans, die laaste kans wat ons taal in hierdie eeu en in hierdie land gaan hê. Wanneer die nuwe wet op 1 April 1974 in werking tree, skryf Jan in 'n brief aan Die Burger dat, hoe vernaam en geleerd en vol goeie bedoelinge die mense wat in die komitees gaan dien, ook al mag wees, is die almag nou in die hande van die minister. ‘Stil soos 'n nag’, skryf Jan, ‘kom 1 April op ons af [...] Daar sal later gesê word dit was veral 'n Afrikaanse nag omdat die Afrikaners so kleinmoedig oor die toekoms was dat hulle tot hul geestesgoedere in hul politieke leiers se hande gelaat het.’ In 'n lesing wat hy jare later, in 1988, voor die Kaapse Persklub hou, wys Jan op die uitspraak van minister Mulder wat gesê het dat hy die wet sal wysig en wysig tot hy volle beheer het.Ga naar eind7 In 1977 word Etienne Leroux se roman Magersfontein, o Magersfontein! verbied. As die uitgewers van die boek, Human & Rousseau, vertoë tot die appèlraad rig, word die verbod op die boek gehandhaaf. Uit Lammie Snyman se beslissing blyk 'n verbeeldinglose en rigiede toepassing van die wet. Die algemene mening van die letterkundiges, sê Snyman, is ‘dat die doel van die boek is om die dwaasheid, die grootdoenerigheid, die vertoonsug en morele verval van ons eie tyd teen die agtergrond van 'n heroïese verlede te satiriseer’,Ga naar eind8 maar hy vra of die gemeenskap ‘bereid is om die wyse waarop hierdie doel bereik word te verdra’.Ga naar eind9 Daar word dikwels gebruik gemaak van vieslike taal en die ydellike gebruik van die naam van die Opperwese. Taal word volgens hom ‘as onguur beskou indien dit nie in die gemengde geselskap van opgevoede mans en vrouens gebruik word nie’.Ga naar eind10 In die lig van hierdie toets, skryf hy, is woorde soos ‘gat, kak, pis, naai, drol, chickenshit, fok, fuck en moer’Ga naar eind11 dan almal onguur. Human & Rousseau verloor dus die aanvanklike saak met koste van ongeveer R20 000. Op 11 Junie 1978 teken Jan in sy kenmerkende beeldende styl in sy dagboek aan: ‘Sensuurpeste begrawe Magersfontein in hul preuts gebiegte politieke brullebakgraf.’ Op Etienne Leroux se verjaardag twee dae later stuur Jorie 'n kaartjie oor die ‘begrafnis’ van die boek, terwyl Jan byvoeg: ‘As die staat aanhou om ons skrywers as terroriste te beskou, sal al meer van ons verplig wees om ons as “vryheids- | |
[pagina 445]
| |
vegters” te verklaar.’ Na aanleiding van die verbod stel Jan sy verontwaardiging in 'n persverklaring op skrif: ‘Ons Afrikaanse owerheid is besig om Afrikaans bespotlik te maak, en om oorlog op intellek en kuns in Afrikaans te verklaar. Ons is verplig om, soos hierdie dodelike klug van amptelike sensuur [voortduur], ons werk te doen. Ons werk is nie om futloos te kruip en ons taal en letterkunde graf toe te help versmoor nie, maar om Afrikaans so seggingsryk soos die sterkste ander tale op aarde te help maak, ongeag die bang lamsakke in ons midde. Anders sterf Afrikaans en dus ook die Afrikaners.’ Wanneer Lammie Snyman op 27 Julie 1978 op uitnodiging van die studenteraad die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing aan die Universiteit van Stellenbosch hou, woon Jan dit by. Op die gruwelike foute en die lawwe toesprakie van Lammie stel Jan vier hoflike vrae, maar daarna tydens die onthaal in die Langenhoven-sentrum dam hy hom by. In sy dagboek skryf Jan: ‘Daar staan hy, klein leë selfversekerde buksbierblikkie naas die groot slap grafsteengelaat van Koot Vorster - sy enigste ondersteuning dié aand - alleen, sonder 'n kring om hom.’ Eenkant staan Stellenbosch se twee professore in die letterkunde, D.J. Opperman en W.E.G. Louw, wat hom duidelik verpes maar, tot Jan se wrewel, verkies om te swyg en hom te vermy. Toe Koot Vorster loop, stap Jan oor na Lammie. Aangesien Lammie in sy lesing van dialoog gepraat het, begin Jan op 'n vriendelike toon en sê die skrywers besef die regering se moeilike posisie in Afrika met die gevaar van oorlog, boikotte en terroriste en dat hulle die gesag moet bly handhaaf. Sy vraag is egter waarom die regering sy mag so dwaas op boeke en intelligentsia afdwing om daar ook sy gesag te behou. ‘Watse gesag?’ vra Lammie hierop kil. Hierop styg 'n woede in Jan op om skoon te maak wat hy voor hom het. ‘Ek kan vinniger, skerper en luider praat as hy,’ skryf Jan in sy dagboek, ‘en toe vermorsel ek hom voor die studenteraad en 'n paar angstige dames. Doodsbleek het hy net daar gestaan en bewe totdat die voorsitter van die studenteraad hom kom weglei. Hoe durf so 'n leë poep soveel mag besit!!’ By herhaling sal Jan ook later in die jare tagtig hom oor sensuur uitspreek. In 'n lesing wat hy op 25 April 1984 op Stellenbosch hou, formuleer hy byvoorbeeld aan die slot andermaal sy siening van die letterkunde: | |
[pagina 446]
| |
Die BOEK is die draer van alles wat die mense al bereik het, sy dit godsdiens, poësie of argitektuur of die reëls van tennis. Daarom moet 'n skrywer altyd in staat kan wees om sy beste te lewer. Dit wat ons kuns noem. Die kuns is nie 'n soete na die mond pratery nie, dit mik nie na selfsug of haat nie, dit mik na die bevryding van humor en begrip en deernis. Die kuns wil mense bevry deur hulle te laat lag of te laat huil. Maar nooit deur hulle van die waarheid te vervreem nie, nooit deur hulle van die werklikhede van die lewe te laat vlug nie. En daarvoor het die kunstenaar die hoogste verantwoordelikheid nodig wat daar is, naamlik vryheid. In twee lesings by die Universiteit van Wes-Kaapland, in 1980 en 1984, laat Jan hom ook uit oor wat hy neosensuur noem.Ga naar eind12 Ná die amptelike sensuur van die owerheid het 'n nuwe vorm van sensuur uit die gemeenskap self ontstaan. Athol Fugard se Boesman and Lena moes as voorgeskrewe boek op skool sneuwel, omdat mense met ‘heilige boikothandjies’ woorde soos ‘Boesman’ en ‘outa’ rassisties vind en kla oor wat hulle vuil taal noem. Jan se eie Waar jý sterwe, 'n historiese roman uit die jaar 1800, was onaanvaarbaar, omdat dit woorde soos ‘Kaffer’ en ‘Hottentot’ bevat. In Abraham H. de Vries se Die groot Afrikaanse kortverhaalboek is Jan se ‘Droogte’ opgeneem, maar die hele bloemlesing is uit die skole teruggetrek omdat die woorde waarmee die verhaal eindig, ‘Kom uit, Baas ... Kom uit na my ...’, naas die woord ‘Baas’ wat dan aanstoot sou gee, suggereer dat die swart man nie alleen kan staan nie maar die hulp van die wit man nodig het, ten spyte van die feit dat die verhaal in sy geheel juis 'n aanklag teen blanke apartheid is. Ook die gebruik van die naam ‘Kafferkuilsrivier’ in sy skets ‘Rivier van my jeug’ is onaanvaarbaar, terwyl Breyten Breytenbach se twee roerende verse vir sy moeder en vader, ‘wat die hart van vol is loop die mond van oor’ en ‘'n brief van hulle vakansie’, albei uit Die ysterkoei moet sweet, nie op skool gebruik mag word nie, omdat hulle aan ‘ounooi’ en ‘oubaas’ - soos hy altyd sy ouers noem - opgedra is. ‘Hierdie vervolging van boeke, hierdie herskryf van boeke,’ sê Jan, ‘laat dink aan die Russiese staatsensiklopedie wat elke paar jaar hersien moet word volgens die jongste heersers. [...] Die resultaat van dié soort benepe verligte sensuur is (i) dat ons letterkunde ontman word, en (ii) dat ons ons eie geskiedenis verdraai, en (iii) dat ons die skrywer se strewe na waarheid vervals. [...]’ En hierdie neosensuur is ewe verkramp en wegwerplik as die amptelike sensuur van owerheidsweë. | |
[pagina 447]
| |
IIIReeds vroeg in die sestigerjare noem Bartho Smit teenoor Etienne Leroux die moontlike stigting van 'n vakbond wat die belange van skrywers kan behartig, en teen die einde van die dekade het dié moontlikheid weer 'n paar keer op redaksievergaderings van die tydskrif Kol opgeduik.Ga naar eind13 In 'n brief van 20 Februarie 1971 spreek André Brink teenoor Jan Rabie ook die gedagte uit van 'n byeenkoms van skrywers. Die gedagte, sê hy, is allermins 'n formele kongres, maar om 'n klompie, om praktiese redes nie meer as veertig nie, skrywers saam te kry, wit, bruin en swart, om 'n slag informeel maar ernstig te praat oor ons gesamentlike situasie; om miskien met die hulp van Athol Fugard ook die toneel te betrek; en om oor die land se kunsmatige grense heen iets kreatiefs te doen. Brink se plan was om, anders as 'n paar noordelike vriende, nie net Afrikaanse skrywers nie, maar skrywers van alle tale te betrek en ook iemand soos Günther Grass en ander uit Europa te nooi. Die probleem, sê hy, is waar dit moet plaasvind, want die owerhede sal maklik kan ingryp as dit 'n veelrassige ding op 'n openbare plek is. In 1973, dieselfde jaar as die Kaapstadse Sestigerkongres, kry John Miles, Chris Barnard, Ampie Coetzee en Bartho Smit beheer oor die bestuur van die Johannesburgse tak van die Afrikaanse Skrywerskring. As Brink se Kennis van die aand vroeg in 1974 verbied word, reageer hulle deur 'n fonds vir die verdediging van die boek te stig en sterk bewoorde verklarings oor die aangeleentheid uit te reik. Hulle versoek ook dié letterkundiges (A.P. Grové, T.T. Cloete en Merwe Scholtz), wat in die publikasieraad dien en terselfdertyd met die Suid-Afrikaanse Akademie se letterkundige bekronings te make het, om uit die publikasieraad te bedank, aangesien 'n verbod soos dié op Kennis van die aand nie te rym is met die bevordering van die Afrikaanse letterkunde, waartoe die Akademie verbind is nie. As die Johannesburgse bestuur oor hulle houding en uitsprake oor sensuur tot verantwoording geroep word, bedank Miles en die skrywers uit die Skrywerskring. Toe Bartho Smit die dag voor 'n vergadering waarop skrywers teen die verbod op Kennis van die aand sou protesteer, die besturende direkteur van Perskor, Marius Jooste, nader om 'n maatskappy-bydrae tot die fonds vir die moontlike appèl teen die verbod, was sy antwoord: ‘Stig vir julle 'n behoorlik geregistreerde liggaam wat die fonds kan administreer, dan | |
[pagina 448]
| |
kan ons weer gesels.’Ga naar eind14 Dit was die direkte aanleiding tot die eerste Broederstroom-beraad van 9 tot 11 Julie 1975. Daarop word die Afrikaanse Skrywersgilde gestig met die doel om, feitlik as 'n soort vakbond, die belange van die skeppende kunstenaars, ongeag ras of kleur, te beskerm. Die vergadering het besluit dat skrywers wat ook met publikasiebeheer gemoeid is, alleen lid van die gilde kon word as hulle hul taak as sensors opsê. Daar was feitlik 'n elektriese spanning tydens die byeenkoms toe Anna M. Louw, wat op een van die sensuurkomitees gedien het, se aansoek as lid onder bespreking was, maar geen toegewing is gemaak nie. Tydens die beraad ontvang die skrywers twee keer besoek van die veiligheidspolisie en vermoed Jan dat daar meegeluister word. Hy maak op die daad die woord ‘hoorluis’ vir ‘bugging’-mikrofone agter panele of portrette. In sy referaat by dié geleentheid lewer Jan Rabie 'n sterk pleidooi dat Afrikaans 'n volwaardige taal van Afrika moet word. Ouer Afrikaanse skrywers soos Totius en Langenhoven het gevoel hulle is een met hul geboorteland en hul volk. ‘Maar sedert ons mense aan bewind gekom het’, gaan hy voort, ‘is ons nie meer strewende dromers nie, maar self die hond wat in die voerkrip lê en knor.’ Die owerhede het 'n wêreldrekord opgestel wat betref beledigende wette ter beveiliging van die blanke. Waarom, vra hy, dan die klap in die gesig van ons taal- en bloedbroer, die bruiner Afrikaner? ‘Is dit ter wille van 'n pienkwit sproetvlekkerige huidskleur wat so goddeloos onvanpas in ons son lyk? Ons sal nog vir dié kranksinnigheid betaal.’ Afrikaanse skrywers se verhouding teenoor owerheid en werk en gewete het sedert die jare van die taalstryders verander: ‘Rederykers vir die owerhede is lief om “Die beiteltjie” aan te haal, sonder dat hulle die afgryslike klowing, die aanklag van apartheid, daarin kan raaksien.’ Van vooraf sal die wit Afrikaner moet leer deel in hierdie land, ook wat sy taal betref. Kyk 'n mens na Kaapse of Tsotsi-Afrikaans, lyk dit of Afrikaans nog drastiese veranderinge sal ondergaan.Ga naar eind15 ‘Afrikaans was nog altyd te veel van 'n wit manstaal’, verduidelik Jan tydens die bespreking. ‘Ons het dit nog nooit gesien as 'n taal van Afrika nie. Dit is verkeerd.’Ga naar eind16 Sedert sy stigting tot laat in die tagtigerjare het die Afrikaanse Skrywersgilde jaarlikse byeenkomste gehou waarop die lede gedagtes kon wissel en sake van gemeenskaplike belang kon bespreek. In die besonder het die Gilde hom met die jare uitgespreek teen enige vorm van sensuur en by herhaling die basiese voorwaardes neergelê wat kan geld as die minimum- | |
[pagina 449]
| |
waarborge waarsonder 'n ernstige en verantwoordelike literatuur nie kan voortbestaan nie. Dit sluit in dat die literêre werk as 'n geheel beoordeel moet word, estetiese waarde deurslaggewend moet wees, die uitwerking op die waarskynlike leser in aanmerking geneem moet word en appèl na die hooggeregshof moontlik moet wees. Hoewel die Gilde die aanvanklike inisiatief van Bartho Smit was en André Brink ook 'n groot bydrae gelewer het, was Jan Rabie met sy vurige en rewolusionêre inslag feitlik van die begin af die belangrikste kernfiguur.Ga naar eind17 In die jare 1983-1984 was hy voorsitter van die Gilde, maar reeds vóór dié tyd en ook daarna het hy 'n geweldige administratiewe aandeel aan die werksaamhede van die vereniging gehad. Hy het, veral sedert die Sowetoonluste van 1976, 'n aanmerklike aandeel daarin gehad om Afrikaanse boeke in swart skole te bevorder, om taalwerkswinkels in Langa op te rig, en om saam met biblioteekverenigings vir behoorlik geklassifiseerde biblioteke in swart skole te probeer sorg.Ga naar eind18 By die berade het hy altyd regop op sy stoel gesit, dikwels met sy oë toe terwyl hy aforismes aan die uitdink was. Met sy reaksies op sensuur en sy sterk oortuigings was hy by uitstek die sosiale gewete van die gilde.Ga naar eind19 Soms het hy uitgehang as die nar en snaakse en selfs verspotte dinge gesê, maar onderliggend aan dit alles was sy erns in verband met Afrikaans en die Afrikaner. Die jaarlikse byeenkomste van die Gilde het hy geniet, want dit was, naas die referate en debatte en voorlesings, verlengings van die gesellige partytjies van Cheviot Place 6 en later sy en Jorie se huis op Onrus. Die driedaagse saambly in die hotel, die gespook op die grasperke, die laatnagbyeenkomste in die kamers, die koukus in die gange - dit alles het vir 'n vrugbare kruisbestuiwing gesorg en die sukses van die berade bepaal, so anders as die stokkerige vergaderings van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. As sosiale en literêre gewete het Jan dikwels in sy talle referate voor die Gilde en elders die weg aangedui in watter rigting die taak van die skrywer lê en 'n analise gemaak van die wesentlike kern van die Afrikaner. ‘'n Skrywer se land en volk’, sê hy in 'n brief van 18 Mei 1975 aan Rapport, is alles wat sy taal behels en almal wat dit praat - en laat ons nooit vergeet nie, solank die mens van woorde leef, is hy die suurdeeg van die gemeenskap; sy woorde, dié van Langenhoven of Van Wyk Louw, en nie dié van tydelike leiers en wetgewers wat hulle 'n dekade of wat later weer moet ontken of onder ander name moet verdoesel, soos apartheid nou ook al sy mantel moet draai nie. | |
[pagina 450]
| |
In 'n lesing by die Universiteit van Kaapstad se somerskool in 1976 noem Jan apartheid ‘the dulling gangrene of silence’ en sê hy dat Afrikaans slegs kan oorleef indien dit deel van Afrika word. ‘Afrikaners are no longer Europeans, yet they still try to cling to being whites. Our rulers, the whole older generation, are still scared of the enigmatic dynamo of Africa, scared of completely becoming Afrikaners.’Ga naar eind20 In 'n lesing by die Opleidingskollege Hewat vra hy dat die ‘doodshand van sensuur’ van die hart van Afrikaans weggeneem word en sê hy die Nasionale Party het 'n vyand van Afrikaans geword. Hy gaan voort: Ná 1914 het skrywers soos C.J. Langenhoven en Jan Celliers met woord en boek gehelp om die volk bewus te maak en tot die eerste oorwinning in 1924 by die stembus te begeester. [...] Ná 1948 se oorwinning van die N.P. het hy die dwase stryd aangepak om die land se grondwet te verander sodat die bruiner Afrikaners hul stemreg ontneem kon word. [...] Mettertyd het blank-wees vir die N.P. belangriker as Afrikaans-wees geword. Tans val die klem op blanke eenheid - ten koste van verbitterde bruiner Afrikaners wat nou hul kinders internasionaal Engels of met Afro-maanhare laat grootword. Tydens die Gilde-beraad van 1986 praat Jan oor ‘Skrywers in die maalstroom’. ‘Dit is dringend noodsaaklik’, sê hy, dat ons ons verlede in Afrika herskryf. Ons voorouers het selfsugtig eensydig gelieg. Ja, ons moet meer Afrikaans word, meer getrou aan moeder Afrika. Minder Europa, meer Afrika. Dink bv. net aan die valse beeld van Slagtersnek. Of die lelieblanke geboorte van die sogenaamde wit manstaal, Afrikaans. Of dink aan die anderkleuriges binne Bloedrivier se laer wat verswyg is. [...] | |
[pagina 451]
| |
lieg nie. Ons sal moet leer om gesamentlike waarhede hoflik en wetenskaplik te benader, sonder om waarde en waarheid te verminder. Of al die taalgroepe in ons land tot een eendragtige Suid-Afrikaanse nasie gaan saamsmelt, staan nog te besien. Intussen, laat ons ten volle Afrikaans wees. Ons is reeds meer gedrenk in Afrika as wat ons weet, en dinge wat tipies Afrikaans is, is vir ons waardevol, van Baardskeerdersbos tot Zoekmekaar. | |
IVHoewel daar in 1964 'n groot gemor was toe Jan tot fakulteitslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies is, aanvaar hy die lidmaatskap en woon hy van tyd tot tyd sittings van die Akademie op Stellenbosch en in Kaapstad by. Die lede, so teken hy in Julie 1970 in sy dagboek aan, lyk bly om hom ook by die jaarvergadering op Stellenbosch te sien, al lyk hy nie soos 'n konvensionele Akademielid nie. Hy erger hom egter aan die ‘koele waardigheid’ wat bolangs van die akademiese ‘establisment’ sigbaar is, terwyl ‘'n troebeler bry’ onder kook. In Februarie 1972 is hy weer by 'n streeksvergadering van die Akademie op Stellenbosch, maar hy vind die ete in die Drosdy Herberg swak en die ‘swaarkaakgesigte’ van die lede ontstig hom - almal ewe oud, eners, beheers en dood. In Junie 1975 beleef hy ná die jaarvergadering 'n dronk nag saam met Piet Cillié, A.P. Grové en Merwe Scholtz in 'n kamer in die Lanzerac Hotel, iets wat hom die volgende dag met 'n aaklige hoofpyn laat wakker word. | |
[pagina 452]
| |
1975 was 'n vol jaar vir Jan, want dit was die jaar waarin die Afrikaanse Skrywersgilde tot stand gekom en hy knaend in die see geduik het om seeplante en skulpdiere met die oog op Die seeboek van die Sonderkossers te bestudeer. Dit is ook die Taalfeesjaar wat met die inwyding van die Paarlse Taalmonument sy hoogtepunt bereik waartydens talle regerings- en kultuurmense aanwesig is, maar geen skrywers of bruin mense nie. Daarom reël Tafelberg-Uitgewers op 14 Augustus 1975 in die Hotel Heerengracht in Kaapstad 'n groot onthaal waarheen alle Wes-Kaapse skrywers, ongeag velkleur, uitgenooi word. Al die aanwesiges ontvang 'n eksemplaar van Alba Bouwer se Afrikaans 100, 'n fotoboek wat die geskiedenis van die twee taalbewegings en die Genootskappers uitbeeld. By dié feestelikheid is ook Jan aanwesig. ‘Ek is 'n Afrikaanse patriot van my kroontjie tot my toontjie’, sê hy guitig aan die uitgewer Helgaard Raubenheimer.Ga naar eind22 Nog vóór die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde in Julie 1975 en Tafelberg se Heerengracht-onthaal op 14 Augustus van dieselfde jaar begin Jan met 'n aksie om die Akademie te oortuig ‘dat dit lewensbelangrik vir ons taal is dat ook bruin skrywers en akademici lid van die Akademie kan word’.Ga naar eind23 Hy wil graag drie lede, S.V. Petersen, Richard van der Ross en Adam Small, voorstel. Op 'n bestuursvergadering van die Kaapse werksgemeenskap deel Merwe Scholtz, die voorsitter, die lede mee dat niks in die grondwet lidmaatskap van bruin mense verhoed nie, maar dat hy graag sal wil sien dat die Akademieraad eers versoek word om die beginsel te aanvaar voordat hulle name voorlê. Indien die name sonder meer ingestuur word, kan dit gebeur dat die Akademieraad hulle sonder opgaaf van redes weier. Jakkals Veiligbly is die naam wat Jan aan Merwe na dié maneuver in sy dagboek gee. Ná 'n lang gesloer laat die sekretaris van die Akademie Scholtz in November 1976 weet dat die Akademieraad die beginsel van ‘Kleurlinglidmaatskap’ verwerp. Op die bestuursvergadering van die Kaapse werksgemeenskap wat daarna volg, word besluit om 'n brief aan die Akademie te stuur waarin die bestuur hom distansieer van die besluit en om 'n aksiekomitee saam te stel waarin Jan ook dien. Jan sê dat sy kollegas in die Skrywersgilde van die saak weet en sterk daaroor voel. Hy sou graag voor 28 April 1977, wanneer die Gilde sy jaarvergadering hou, 'n antwoord wou hê. Intussen is Merwe Scholtz na Pretoria om die saak persoonlik met die voorsitter van die Akademie, dr. C. van der Merwe Brink, te bespreek. | |
[pagina 453]
| |
Brink was tegemoetkomend, maar sou die gedagte van bruin lede eers op die Junie-vergadering van die Akademieraad op Potchefstroom kon stel. Op 'n vergadering van die aksiekomitee op 18 April 1977 vra Jan, gesteun deur Elsa Joubert met 'n skrifelike versoek wat deur haar en Etienne Leroux onderteken is, dat nie net Petersen as lid voorgestel word nie, maar ook Van der Ross en Small. Indien dit nie moontlik is nie, sal hulle akkoord gaan indien net Petersen as ‘proefkonyn’ se naam voorgelê word. Scholtz en Piet Cillié voel op die vergadering sterk dat dit onraadsaam is om druk uit te oefen, aangesien alles daardeur verongeluk mag word. Daarom word net Petersen voorgestel, al was dit teen Jan se wense. Op die vergadering van die Afrikaanse Skrywersgilde in April 1977 op Gordonsbaai bespreek die skrywers wat ook lede van die Akademie is, die hele aangeleentheid. Met gemoedere wat hoog loop, word die voorstel gemaak dat al die betrokke skrywers summier uit die Akademie bedank, ook omdat dit intussen bekend was dat twee lede van die Gilde pryse van die Akademie verower het: Wilma Stockenström die Hertzogprys vir Poësie vir haar bundel Van vergetelheid en van glans en Jan Rabie die Scheepersprys vir Jeuglektuur vir Die seeboek van die Sonderkossers. Ná lang diskussie en rype beraad besluit hulle om die saak nog 'n kans te gee. Aan die pers reik hulle die volgende verklaring uit: Gildelede wat ook lede van die Akademie is, het die versekering gekry dat lede van die Akademie op meriete gekies word, soos die grondwet bepaal. Maar dit bly vir ons, skrywerslede van die Akademie, onbegryplik dat skrywers van die formaat van byvoorbeeld Adam Small nie lid is nie. Ons het reeds op die voorstel van 'n aantal nuwe lede aangedring, en ons stel dit as ons vaste en dringende voorneme om nie te rus voordat die Akademie waarlik oopgestel is vir alle persone wat 'n beduidende bydrae lewer tot die Afrikaanse taal, letterkunde en kultuur nie. Derhalwe vra die betrokke lede van die Gilde dat Small, Van der Ross en Petersen voor of tydens die Potchefstroomse jaarvergadering in Junie 1977 vir oorweging deur die Akademieraad voorgelê word. Die versoek word onderteken deur F.A. Venter, Etienne Leroux, Jan Senekal, Leon Rousseau, Elsa Joubert, Abraham H. de Vries en Jan Rabie. | |
[pagina 454]
| |
Op die jaarvergadering van die Akademie in Potchefstroom word geen beslissing geneem nie, ook nie op die fakulteitsraadvergadering in September waarna die saak verwys word nie. Merwe Scholtz was verplig om hierdie stand van sake telefonies aan Jan oor te dra en te sê dat die lidmaatskap van Petersen in April 1978 opnuut onder die aandag sal kom. Dit was egter te veel vir die ses betrokke skrywers van die Gilde. Al ses skrywers wat in April geteken het, en saam met hulle ook Chris Barnard wat nie op Gordonsbaai teenwoordig kon wees nie, bedank nou weens die Akademie se ‘onvermoë om tot 'n besluit te kom oor die lidmaatskap van S.V. Petersen’. In 'n verklaring sê Abraham de Vries die saak het eenvoudig te lank gesloer. ‘Ons bedankings was vir elkeen 'n persoonlike beslissing, maar ek dink ons is dit eens dat daar in die omstandighede vir ons geen nut meer in die Akademie is nie. As Small, Van der Ross en Petersen vir 'n kulturele liggaam nie aanvaarbaar is nie, dan hoort ek ook nie daar nie.’ Etienne Leroux sê: ‘Ek sien nie kans om tot 'n Akademie te behoort wat soos harmansdrup sukkel om in te dring tot die praktiese konsekwensies van sy eie grondwet nie. Hierdie vertragingstaktiek, vir watter rede ook al, maak my skaam om my mede-skrywer in Afrikaans in sy bruin oë te kyk. 'n Mens aanvaar dat 'n Akademie langsaam te werk gaan, maar as 'n Akademie te langsaam is, toon dit tekens van ouderdom. Die volk is besig om die Akademie in te haal. Die Akademie behoort op die voorpunt te staan. My middeljarigheid laat my nie toe om geestelik te berus nie.’ En Jan Rabie sê: ‘Ons het die saak met die grootste omsigtigheid benader omdat ons ons kanse nie wou verongeluk nie. Daar was die beginsel van 'n anderskleurige as lid wat ons in ag moes neem. Daarom het ons die Akademie versigtig begin pols en op die verstandigste en mees konsiliatoriese wyse te werk gegaan.’Ga naar eind24 In 'n hoofartikel op 13 November 1977 oor die hele aangeleentheid sê Rapport: Wat ontstellend is, is dat ons vandag nog 'n debat moet voer oor die vraag of nie-blankes tot so 'n hoë akademiese liggaam toegelaat moet word. | |
[pagina 455]
| |
demie te weier, sal mos puur en simpel diskriminasie op grond van kleur wees. Die hele petalje het nog twee vermaaklike nadraaie gehad. Jan Senekal, professor in Bloemfontein, wat al wat kongres in Suid-Afrika was met 'n bandopnemer bygewoon het en só ook by die Gilde kon aanland, het die oorspronklike verklaring in April onderteken en saam met die vyftal aanwesige skrywers op 'n foto in verskillende koerante verskyn. Toe paaltjie uiteindelik by puntjie kom, kon hy sy weg nie oopsien om die Akademie te verlaat en sy medelede in die Afrikaner-Broederbond in die gesig vat nie. Hy het lid gebly. Jan Rabie het lank geaarsel of hy die Scheepersprys vir Jeuglektuur sou aanvaar en intussen gelukwense van die Akademie self en sy uitgewers ontvang, ook van dr. Anton Rupert toe hy lank uitstel om dit aan te neem. Op 'n partytjie op Onrus kom Eugenie Hauptfleisch, weduwee van Flippie Burgers onder wie Jan by die radio in Kaapstad gewerk het, by Jorie flikflooi. Sy was ook op Onrus gevestig, intussen reeds twee keer weer getroud en het, tot Jan se misnoeë, in een van die sensuurkomitees gedien. In sy dagboek teken Jan aan dat Eugenie by Jorie aangedring het dat Jan die prys moet aanvaar: Jy moet jou sjarmante invloed gebruik om hom Ja te laat sê, en toe gedreig: As hy weier sal ons hom trap, ons sal sy boeke afveeg van die mark, ons sal... ons sal hom vernietig. Jan se kommentaar hierop is: Arme fanatiese kleinlike grootgewaande muis wat vasklou aan die man en nou ook in die sensuurraad aangestel geraak het (deur wie?) om daar met haar potsierlike vaatjielyfie 'n man (haar derde: ‘ek sien al my mans in hul graf in’) tot nog 'n huwelik te wriemel-lek. Die konsensus van die ses Gildelede om voorlopig met hul bedanking uit die Akademie te wag, laat Jan vry om die Scheepersprys vir Die seeboek van die Sonderkossers aan te neem. Op 22 en 23 Junie 1977 is hy by die jaarvergadering van die Akademie op Potchefstroom om sy prys te gaan haal. | |
[pagina 456]
| |
Maar, tipies Jan, kom daar in sy dankwoord op 23 Junie 'n onverwagte kinkel: Tot nou toe was ek omtrent die enigste skrywer sonder 'n prys. Nou het ek ook een. Vir iemand wat sy lewe lank 'n volwasse boodskap probeer oordra het, ironies genoeg, 'n jeugprys. |
|