Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 472]
| |
Hoofstuk XVIII
| |
[pagina 473]
| |
waar hy in die afdeling vir verswakte bejaardes geplaas is. Jorie het egter gereël dat iemand Jan elke middag gaan haal en weer wegneem, sodat hy 'n tyd lank by die huis kon deurbring. Sy het dikwels moeite gehad om telkens vir 'n motor en 'n bestuurder te sorg, maar haar absolute toewyding aan Jan het 'n ou vriendin soos Elsa Joubert en ander van hul vriende beïndruk. Hoewel 'n gesprek met Jan toenemend moeiliker geword het en hy nie eintlik meer kon praat nie, het sy oë verhelder as ou vriende soos Elsa op besoek kom en hulle weer die ou dae in die herinnering kon roep.Ga naar eind3 In die laaste stadium van sy siekte was hy in 'n rolstoel en was besoeke aan die huis ook nie meer moontlik nie. Op 'n dag toe Chris by hom kom, kon hy feitlik nie meer 'n woord uitkry nie. Skielik, ná 'n hele tyd se stilte, begin Jan te lag. ‘Wat is dit, Jan?’ vra Chris. Dan, terwyl hy steeds lag, sê Jan skielik: ‘My nooi is in 'n nartjie.’ Die laaste keer dat Katinka hom gesien het, kon sy haar nie van hom losskeur nie, want sy het vermoed dit is die laaste keer dat sy hom sou sien. Sy het by hom bly sit. Uiteindelik sê Jan: ‘Gaan nou, Ounooi!’ Katinka vertrek, loop die gang af, maar draai om, loop weer terug en loer om die hoek. Jan maak 'n gebaar en sê: ‘Carpe diem!’Ga naar eind4 Dit was inderdaad haar afskeid van Jan. | |
IIKerneels Breytenbach, wat by Koos Human as hoofbestuurder van Human & Rousseau oorgeneem het, was saam met sy kollegas bekommerd dat Jan en Jorie as gevolg van Jan se langdurige siekte finansieel in 'n benarde posisie was en wou graag 'n fonds vir hom in die lewe roep. Jorie kon Kerneels egter verseker dat hulle finansieel baie goed daaraan toe was en in staat is om die mediese versorging en die huishulp te bekostig. Sy het gevra dat 'n fonds nie gestig word nie, aangesien dit hulle belastingsituasie kon benadeel. In plaas daarvan het sy egter gevra dat hulle daaraan aandag skenk om Jan se kreatiewe kragte weer te benut. Hierop besluit Human & Rousseau dat André Brink na Jan se ongepubliseerde werk sal kyk. Dit lei tot die uitgawe van Paryse dagboek wat in 1998 met 'n knap inleiding van Brink verskyn, gevolg deur Een-en-twintig plus, 'n heruitgawe van die bundel Een-en-twintig, met byvoeging van die oorspronklike Engelse weergawes wat Brink en Jorie uit Jan se paperasse kon opdiep, en voorafgegaan deur Brink se ‘Oopmaakwoord’, een van die voortreflikste stukke wat ooit oor Jan se werk geskryf is. | |
[pagina 474]
| |
IIIOp Woensdag, 14 November 2001, het Jan, reeds baie swak en deurmekaar, een en tagtig geword. In hierdie benewelde toestand kon hy waarskynlik nie meer onthou hoe hy byna sestig jaar tevore by die aanvang van sy loopbaan in 'n gedig geskryf het: ‘O donker ongewenste tog / oor hierdie blinde en verdwaalde see’.Ga naar eind5 Nou was daar vir Jan, wat soveel in sy lewe gereis en die ou en nuwe wêrelde op sy planeet gesien het, 'n laaste reis op hande. At, Jan se broer, het Jorie kom oplaai. Toe hulle by Onrus Manor aankom, was sy ander broer Hans en Siebert Wiid ook daar. Twee weke tevore was Louw, sy geoloog-broer, by hom vir die afskeid. Siebert het van die laaste foto's van Jan geneem waar hy op sy maag op die bed gelê het. Jan kon nie meer praat nie, maar het tog ylend ‘Jorie kom, Jorie kom’ geroep. Die aand het dr. Tilla Müller Jorie gebel en gesê die einde is in sig, maar dat die doodstryd waarskynlik drie dae sal aanhou. Op Donderdag, 15 November, die dag ná sy verjaardag, het Jorie om twee-uur by Onrus Manor opgedaag en by hom gaan sit. Hy het swaar asem gehaal en kon nie sluk nie. Om kwart voor vyf het hy stil en maklik gesterf. Jorie het trane op haar wange gehad, maar sy was verlig. Sy kon die broers nie onmiddellik op die telefoon kry nie en Katinka het haar kom haal. Dr. Tilla Müller het gevra of sy nie 'n slaappil wou hê nie, maar dit was nie nodig nie.Ga naar eind6 By sy dood het talle van sy medeskrywers hulde gebring aan Jan Rabie. André Brink wys daarop dat Jan met sy Een-en-twintig so te sê eiehandig die koers van die Afrikaanse letterkunde verlê het, maar met sy latere werke en ten spyte van die blywende dank van mense wat skryf en die taal liefhet, het hy telkens teen onbegrip, moedswillige misverstand en verwerping gestuit. Brink sê: Tot en met die jaar 2001 het die Suid-Afrikaanse Akademie nog nie kans gesien om Jan Rabie se bepalende bydrae tot ons literatuur te erken nie. Dit is nie asof daar in die loop van vyf en veertig jaar nog geen geleentheid was om die skande reg te stel nie. ‘Behalwe as skrywer wat met Een-en-twintig en sy politieke romans aan die voorpunt was, was sy menslikheid waarskynlik die eienskap wat ons | |
[pagina 475]
| |
almal sal onthou en mis’,Ga naar eind7 het Abraham H. de Vries gesê. Chris Barnard wys in sy huldeblykGa naar eind8 daarop hoe Jan met sy Ons, die afgod in 1958 ‘'n oorblufte leespubliek uit hul steë geskok het’ en gaan voort: Daarna was hy 'n omstrede figuur, deur mede-Afrikaners uitgekryt as liberalis, kommunis, takhaar, volksvyand en allerlei ander destyds gewilde skelterme. Waarskynlik, sê Fanie Olivier, het geen ander Afrikaanse skrywer van die laaste vyftig jaar Afrikaans hartstogteliker liefgehad as Jan Rabie nie. ‘Ten opsigte van Afrikaans was hy kompromisloos: aards en eerlik Afrikaans, nooit lui of slaprug-Afrikaans nie. Ook ten opsigte hiervan het hy kiertsregop bly loop in ons taalwêreld.’ Onder die opskrif ‘Groot leegte’ wy Die Burger op Saterdag, 17 November, sy hoofartikel aan Jan Rabie. ‘Afrikaans het met sy oorlye een van haar mees geliefde Grotes verloor, die Afrikaanse prosa 'n onkreukbare, kwasterige vernuwer. En die hele Afrikaanse wêreld 'n gewete vir wie die mens, die eenvoudige, arme, weerlose mens van vlees en bloed, belangriker was as enige Groot Idee, as enige Politieke Stelsel waarin menslikheid so dikwels verlore gaan, waarin die indiwidu gemarginaliseer word en die gewin van “ons” kan ontaard in afgodery.’ Onder blyke van groot belangstelling is Jan Rabie op Maandag, 19 November 2001, om drie-uur die middag in die begraafplaas op Onrus ter ruste gelê, dieselfde begraafplaas waarin Uys Krige in 1987 begrawe is.Ga naar eind9 Terwyl die motreën van vroeër vir die duur van die verrigtinge weggetrek het, is die eenvoudige kis deur Erik Laubscher, Siebert Wiid en Jan se drie broers, At, Hans en Carel, na die geopende graf gedra. Kenny | |
[pagina 476]
| |
Parker, Jan se ou vriend wat spesiaal uit Brittanje vir die begrafnis op Onrus was, het herinneringe uit die jare in Cheviot Place opgediep en gesê Jan sou ‘woes’ wees as ons oor hom sou treur en hom nie onthou soos hy was nie.Ga naar eind10 André Brink het gesê 'n wesenskenmerk van Jan Rabie was sy verbintenis met die grond en dié band word met sy begrafnis finaal voltrek. Die plegtigheid het byna uitbundig geword toe André Brink en Chris Barnard staaltjies uit hul ervarings saam met Jan opgediep het wat 'n gelag by die aanwesiges ontlok het. Katinka Heyns het uit Jan se werk voorgelees, terwyl Breyten se susterskind, Anna-Karien Otto, gesing het. Naas blomme en grassade het van die mense ook stukke bamboes en seewier geplaas op die kis wat stadig laat sak is, terwyl Jorie se oë gefikseerd daarop gerus het. ‘Dit was 'n mooi begrafnis’, sê Jorie aan die ondernemer, terwyl hulle na die oop graf kyk. ‘Ja’, antwoord hy, terwyl sy oë op seewier rus, ‘dit is nou iets heeltemal anders.’Ga naar eind11 |
|