Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 390]
| |
Hoofstuk XIV
| |
[pagina 391]
| |
wat aan elke Westerse mens met 'n basiese opvoeding bekend is. Hulle woon in die Plaka, die markbuurt, ‘onloopbaar en romanties’, met 'n uitsig op die Pantheon op die heuwel van die Akropolis wat snags verlig is. Van 14 tot 27 Maart bly Jan en Jorie in Athene waar hulle die argeologiese museum besoek, rondom die Akropolis wandel en 'n uitstappie na die kalkwit berge van Delphi onderneem. Dadelik begin hulle met die aanleer van Grieks, al was die twee weke in Athene, soos Jan dit stel, net genoeg om hulle tonge te leer stotter. Teen dié tyd was hulle sat van stede. Hulle was reeds vier maande lank in Europa, hoofsaaklik in Parys, Londen en Edinburg, en vyf maande lank op 'n rondreis deur die stede van die VSA, en dit was hulle plan om nou op 'n klein dorpie in Kreta die oudste deel van die Westerse beskawing te ervaar. Jorie wou aan die skilder kom en Jan wou 'n boek skryf waarin hy dankie wou sê vir alles wat hulle van die beskawing van Kreta geërf het.Ga naar eind5 Om halfsewe die aand van 27 Maart, terwyl die maan op die glasstil water van die Middellandse See glim, vertrek hulle per boot na Heráklion in Kreta. Die volgende oggend vroeg sien hulle die berge van Kreta, met sneeu op die hoogste pieke. In Heráklion gaan hulle tuis in die Hotel Palládion. Die volgende vier dae stap hulle rond in die stadjie en besoek die graf van Heráklion se beroemdste seun, Níkos Kazantzákis, skrywer van O Christos xanastavronete (Christus word weer gekruisig) wat ook in Afrikaans vertaal is. Maar met sy lelike huise en skreeuende kleure was Heráklion as moderne handels- en toeristesentrum nie vir hulle 'n woonplek om te oorweeg nie. Hulle wou in 'n stiller dorp in die meer landelike Kreta gaan woon. Tien dae lank deurkruis hulle die kus- en bergdorpies op soek na 'n alleenstaande huis wat op die blou see afkyk en kom hulle onder die indruk van die Kretensers se gasvryheid, mense wat musiek maak in die kafees en vreemdelinge met drankies by hulle jolyt betrek. Uiteindelik kom hulle af op Eloúnda, 'n klein dorpie aan 'n baai wat deur 'n skiereiland afgesluit word sodat die kus 'n seemeer vorm. Teen 'n steilte naby die ingang van die dorp merk hulle twee huise waarvan een, met drie kamers, 'n agterstoep, 'n suurlemoenboom en 'n wingerdprieel, leeg staan. Hulle slaag daarin om dié huis van die Barboúni-familie gehuur te kry, mense met wie hulle weldra 'n hegte buurskap sou vorm en van wie hulle gedurig tydens hul verblyf geskenke soos koek en rosyne of borde warm kos sou ontvang. Op Donderdag, 13 April, trek hulle in. Enkele basiese meubelstukke huur hulle saam met die huis, maar in die eerste paar dae maak Jan uit 'n vrag planke rakke en alles wat hulle verder aan meubels nodig het. | |
[pagina 392]
| |
Van die begin af het Jan en Jorie besluit om in die vars lug van Eloúnda buite op die stoep van die huis te slaap en elke oggend in die rimpellose see te gaan swem. Net gou word hulle name deur die bure vergrieks: Marjorie word Margharíta, Jan word Jiánnis. Die eerste tien dae bly hulle pal tuis, hard aan die werk om die deure en luike blou te verf en die buitemure af te wit. Hulle moes ook leer hoe om daagliks water met 'n emmer te put, want lopende water in die huis was daar nie. Hul basiese kosse kon hulle in Eloúnda se kafeewinkeltjies koop en vis by die hawe, terwyl hulle vars brood daagliks van een van die bakkers en olyfolie en eiers van hul buurvrou, Angelikí, kon kry. Die slagter het meestal net op 'n spesifieke dag geslag en hulle moes leer om dan 'n magtige bord vleis soos die Kretensers weg te smul en die res van die week daarsonder klaar te kom. Vir meer esoteriese inkopies, soos blikkieskos of ingevoerde botter, moes hulle die oggendbus na Ajios Nikólaos neem waar hulle ook in die toeristeseisoen Duitse, Engelse en Franse koerante en tydskrifte kon kry. In die Griekse pers kon hulle verneem dat Adam Small se paspoort in Suid-Afrika sonder verskaffing van redes geweier is. In sy dagboek teken Jan aan: Suid-Afrika is 'n dom, seer, spraaklose klont in my derms! As deur ander Suid-Afrikaners gepraat word, as vreemdelinge oor S.A. wil weet, spog en verdedig ek. Ek kan my mense nie haat nie, net seer liefhê. Ek weet: as my mense nie self met caritas en rede, vreedsaam kan regmaak wat hulle nou verbrou nie (en alle verslae vertel van die afdraande pad na al meer onvrye, bevreesde totalisering) sal 'n ander volksgroep dit met geweld doen. Ek kan nie geweld gebruik nie, geweld sal my mense met geweld beantwoord. Ek kan net skryf, praat. Daarom magtelose gevoel dié wil om te bly hoop. Tussendeur leer hulle Grieks, waarvoor Jan 'n stapel skoolboeke koop, soos 'n kleuter begin te lees en op die geduldige bure uittoets. Jan sorg dat hy die Griekse grammatika gou onder die knie kry, want hy kon dit nie verdra om 'n Kretenser se verleë paniek te aanskou wanneer ‘jy jou mond oopmaak en stotterend tot agter jou kleintongetjie skaam kry nie’.Ga naar eind6 Dikwels moes hulle handgebare gebruik om hulle taal ‘murg’Ga naar eind7 te gee. Soms, wanneer hulle die tyd kon afknyp, stap hulle op die met klip geplaveide paadjies en muilpaaie rondom die dorp. Jan skryf: | |
[pagina 393]
| |
Klipmure en klippaaie van Kreta! Ek weet nie wat uit 'n vervloë gister so tot my uit hulle spreek nie, maar daardie eerste maande in Kreta het ek op klip verlief geraak. Dit was soos om 'n soliede waarheid wat jy in sagte stede vergeet het, weer te ontdek, die harde geraamte van die heelal se ontwil, maar ook die soliede bevestiging van die koppige mens se wil om chaos te orden. Met gedurige aandag van jou oë stap jy daarop, maar sonder die eentonige verveling van 'n teerpad, omdat die oppervlak gedurig wissel.Ga naar eind8 In hierdie klipperigheid, sê Jan, lê die verlede geslote, want ‘klip (onthou) die langste; in 'n land van sand en grond leef min geskiedenis’.Ga naar eind9 Kort ná hul aankoms maak Jan en Jorie kennis met Pappoús, die oupa van die Barboúni's, wat deur die flesse oúzo, raki en die southappies op die tafel na hulle stoep gelok is. Terug van die dorpkafees het hy telkens tokkelend met sy kierie ingekom, 'n wilde ‘en tog eerbiedwekkende figuur wat golwe bokkaas en wyn om hom geur’.Ga naar eind10 Hy het gelyk soos 'n Ou-Testamentiese profeet wat op sy oudag losbol uitgedraai het,Ga naar eind11 vol stories vir almal wat wou luister, hoewel sy familie die indruk gegee het dat hulle die stories reeds ken en 'n bietjie verveeld met hom was. Hy was een en tagtig jaar en erg doof, maar hy kon Jan en Jorie vergas op sy lang jare militêre diens in die Griekse leër en al sy wedervaringe met die Turke. Baie gou het Pappoús 'n huisvriend geword en daagliks gereeld vir sy wyntjie opgedaag, ‘altyd trots en onafhanklik en onvergelyklik onderhoudend’.Ga naar eind12 In die eerste dae van hul verblyf sou Jan en Jorie ook oor die versonke stad in die baai swem, met hul duikbrille skerwe van erdekruike uitduik, en te hore kom van 'n Franse skip wat in 1917 deur 'n Duitse duikboot daar getorpedeer is. Orals sou hulle ook nog tekens van die Tweede Wêreldoorlog bespeur. Op Saterdag, 21 April 1967, doen hulle in die naburige markdorp Neápolis inkopies toe hulle merk hoe die houding van die skare verander, hoe die mense in fluisterstemme of met afgewende gesigte begin praat en hoe die radio's net militêre marsmusiek uitsaai. Op die Engelse sender vanaf Ciprus hoor hulle oplaas daar was 'n staatsgreep in Athene, die premier is onder arres en militêres onder leiding van kolonel Papadópoulos is aan die hoof van 'n nuwe regering. ‘Vandag sterf die demokrasie in Griekeland’, sê 'n vrou agter die toonbank van 'n winkel en bars in trane uit.Ga naar eind13 Wet en orde, verneem hulle, sou streng gehandhaaf en 'n aandklokreël ingestel word. | |
[pagina 394]
| |
Aan die lewe van die mense in Eloúnda het die staatsgreep aanvanklik nie veel verander nie. Buitendien was dit byna Paasfees, die grootste kerkfees van Griekeland waarin Jan en Jorie, geroer deur die dorpenaars se toegewydheid, ook deel. En saam met die jongmense geniet hulle ná afloop van die diens die Griekse volksdanse en voel Jan asof die antieke Hellas skielik vir hom lewend geword het. | |
IIVroeg in Junie 1967 kry Jan en Jorie verblyfpermitte vir 'n verdere drie maande en besluit hulle op 'n rondvaart van drie weke tussen die Griekse eilande.Ga naar eind14 Op Dinsdag, 6 Junie, om vieruur in die oggend, vertrek hulle met die Elli en vaar hulle ooswaarts. Onmiddellik ná hulle vertrek dop hulle om om verder te slaap en ontwaak eers duskant Kássos, 'n barre stuk klip in die see, ‘steil en windbehuil’ soos Jan in sy dagboek aanteken. Bote van die kusdorp sukkel in die wind om die skip te haal, want van 'n hawe is daar geen sprake op dié eiland nie. Oor die radio verneem hulle in die loop van die dag dat oorlog tussen Israel en die Arabiere losgebars het. Die Grieke op die boot is betreklik neutraal en versigtig oor die Israeli's se angswekkende stryd om bestaan, maar toe die konflik teen die oormag Arabiese state ses dae later verby is, knik hulle die koppe goedkeurend en laat hoor: ‘Nê, hulle's ware palikári - vegters.’Ga naar eind15 Verby Pigádia en die mooier, groener, berghoë Kárpathos en Sariá vaar Jan en Jorie na Chálki, nog 'n nakende klip in die see, tot by Ródhos, ‘die welige tuin-eiland teenoor die Turkse kus’,Ga naar eind16 waar hulle teen nege-uur die aand aankom en waar hulle in die goedkoop mooi hotelletjie Attikí in die ou Turkse buurt langs die hoë mure van 'n Sint Jans-Orde-klooster oornag. Die volgende dag, terwyl hulle per bus die vyf en vyftig kilometer na die antieke Lindos ry, sien hulle orals in die ooste en noorde die blou Turkse kape oorkant 'n ongelooflike baftablou see. Die rit na Lindos met sy Griekse tempels en Frankiese mure op 'n vestingskaap gaan deur 'n ryk, beboste landskap, minder eksoties as wat hulle verwag het. Drie nagte vaar hulle na Kos met sy plat, oninteressante hawestad. Dit was die tuiste van die beroemde geneesheer Hippokrates en is daarom die pelgrimsoord vir geneeshere. Kálimnos is ook bar, maar die mooi blou, groen, oker en wit huise met geverfde plaveisel gee daaraan 'n sekere aan- | |
[pagina 395]
| |
treklikheid. Die jongmans is almal sponsduikers van wie jaarliks 'n stuk of duisend op die sponsbote na Noord-Afrika vaar om vir hul inkomste te gaan duik. Baie van hulle is kromgetrek as gevolg van die borrelsiekte in hulle bloed wat hul ledemate permanent verwring. Aanvanklik het Jan en Jorie 'n gesukkel met bote om van Kálimnos weg te kom, maar dan kry hulle 'n boot na Pátmos waar hulle in 'n stil, beskutte hawe teen middernag anker. Hulle bring 'n paar stil, lieflike dae op dié aangename eiland met sy vergesigte op die see deur. Hulle stap baie, onder meer bergop na Xóra, die blankwitte stad met sy enorme klooster waar die Heilige Johannes sy visioenêre Openbaring geskryf het. Van dié hoogte van Xóra is die sneeukrone van baie eilande tot op 'n afstand van sestig kilometer oor die blou see sigbaar. Aangesien daar 'n week lank geen bote sou wees nie, huur hulle een van die plaaslike booteienaars, Antonio, se skuitjie saam met twee Duitsers, wat hulle op 'n deinende see na Ikaría neem. Die nagvaart in die bootjie is heerlik en gelukkig word niemand siek nie, al bokspring Antonio se boggel-silhoeët agter by die stuur ook hoe. Jan sien fosfor weerskante van die boeg, met die maan en sterre bo hulle, en in sy dagboek bid hy kamma tot Poseidon en Apollo: tot Poseidon: ‘Laat my êrens aankom. Laat my aankom waar 'n pad behoort te wees’; tot Apollo: ‘Meer lig in my soektog, asseblief. Ek vra nie wat en wie ek is nie, slegs waar ek is, 'n stippel, sigbaar. (In tyd, in geskiedenis.)’ In hom, skryf Jan, was 'n vreemde, ligte gevoel: ‘so asof die bloedstollende voorspellings van Openbaring onbepaald deur blye nagte soos dié uitgestel word’.Ga naar eind17 Agios Kiriakos, die dorp op die eiland Ikaría waarin hulle die volgende dag rondstap, is soos alle Griekse dorpe vol gewerskaf en sementblokke naas vervalle geboue. Hulle slaap op die sementbalkon buite hulle kamer en ontwaak die volgende oggend van die flappende wasgoed. Op Saterdag, 17 Junie, vaar hulle na Míkonos, 'n mooi, duur vakansieplek propvol Griekse toeriste, maar die kelners is nie juis vriendelik nie. Wat hulle tref, is die mooi, smal, wit kronkelstegies en die hawefront waar die opskrifte ter wille van die talle toeriste in Engels is. Hulle sit in 'n kafee en merk die sterk Griekse bolywe, die kort bakbene, die fantastiese verskeidenheid tipes gesigte, die blou oë en die blonde hare, veral van die kinders. Die volgende dag vaar hulle na Délos, 'n haas waterlose eiland met baie watertenks waar die heerlikste water in die put naby Kleopatra se huis te vinde is. Hulle sien wel van die beroemde mosaïeke, maar die museum is ongelukkig gesluit. Op Maandag, 19 Junie, neem hulle die boot na Tinos | |
[pagina 396]
| |
met sy groot, lieflike kerk en saam met twee jong Duitse dokters besoek hulle Síros, 'n stad op twee spits pieke, ortodoks en Katoliek. Die middag vaar hulle na die lieflike Páros met sy lekker, soeterige rooiwyn en sy antieke pilare van marmer. Hulle stap terug in die helder son met die vae einders in die verte, want die Griekse lig, so het hulle reeds in Eloúnda agtergekom, is nooit so helder soos dié van Afrika nie. Dan besoek hulle Náksos met sy ou wit, stegie-stadjies, terwyl die Melteni, erger as die Kaapse suidoos, kwaai woed. Elfuur die nag vertrek hulle na Santoríni waar hulle sesuur in die môre aankom. Hulle merk dadelik die hoë kraterwand, die swart en rooibruin lawaklip met veral bolangs 'n kroon van sagte tufsteen, bleek gryswit met swart basalt daarin. Die eiland het goeie sponsige wingerdgrond wat meegee onder die voet as jy daarop trap. Op die kranswand is daar honderde verlate huise, uitgehol in turf, wat ná die aardbewing van 1956 ontruim is toe sewe en sestig mense gesterf het. Hulle bring 'n salige nag onder in die hawe deur. Die volgende dag besoek hulle Santoríni se ander kant waar opgrawings nuwe inhoud aan die legende van die versonke Atlantis gee. In die nag van 26 en 27 Junie kry Jan en Jorie 'n nagboot wat hulle terugneem na Eloúnda. Wanneer die rooi son in die ooste uit die silwer see opstaan, sien hulle die blou en bruin Kreta in die verte lê. | |
IIIBy hulle terugkeer word Jan en Jorie oorval deur die vriendelikheid van die Kretensers. Angelikí storm weg huis toe om terug te kom met 'n bord vol lou boerbone, peule met uie, meel en olyfolie. Met 'n snerpende stem gil sy straataf: ‘Maríííaa! Kyk, Margharíta en Jiánnis is terug!’Ga naar eind18 Van die ander lede van die Barboúni's merk op hoe hulle Grieks in die drie weke van hul vaart langs die eilande verbeter het en die bure is baie tevrede wanneer hulle hoor Kreta is onder al die eilande die beste, met Eloúnda as die mooiste dorp. Pappoús met sy verhale daag steeds gereeld op vir sy wyntjie, terwyl Jan en Jorie in die maande wat kom, al hoe meer fasette van die gewone leefwyse van die Kretensers leer ken, onder meer hoe hulle vark slag, olywe oes, watter sentrale plek die kerk by sosiale feestelikhede inneem en hoe die hele dorp meeleef wanneer iemand dood is en begrawe word. 'n Kretensiese danser by dié feeste vind Jan 'n kruising | |
[pagina 397]
| |
tussen 'n bergbok, 'n balletdanser en 'n soldaat. Wanneer hulle in die omgewing gaan wandel, merk hulle hoe die Griekse skape presies soos bokke is en jou orals soos honde volg. Wat hulle teenval op Kreta en hulle ook tydens hul besoeke aan Athene en die eilande getref het, is die onvoltooidheid van die bouwerke. In sy dagboek teken Jan aan: Griekeland is 'n ruïne wat groei. Ek praat nie van gister se ruïnes nie, van vandag s'n. Onvoltooide of verlate huise naas nuwes in aanbou in iedere dorp, half-afgewitte mure, sement en ysterstange bo op dak van bewoonde huis wat dalk eendag tweede verdieping sal opkry. Alles is onvoltooi in hierdie land, en vandag het meer lewende as gister se dooie ruïnes. Ongeduld van die moderne Griek: alle groentes, ook amandels, boerbone, appelkose word te groenjonk geëet, swak gehalte fabrieksprodukte; so baie nare plastiek, kortpad gesteek deur met skel kleure op te luister; smaak- en vormloos; dwarstrekkerig; erg parogiaal; gasvry; heerlik bedonderd. En hy wonder hoekom so baie Westerlinge, veral van die Angel-Saksiese sfeer, na Hellas kom om te ‘ontvlug’. Soos die winter om hulle toesak, skilder Jorie ywerig, terwyl Jan Eiland voor Afrika vir Britse en Amerikaanse uitgawes vertaal en begin broei oor 'n roman wat hy Klipwieg wil noem en waarin hy die Griekse wêreld met sy geskiedenis en mites wil laat figureer. Hy bevoel telkens die enorme notaboek waarin hy die teks gaan skryf, met sy vierhonderd bladsye iets soos 'n onbeskrewe Statebybel. Op 21 Oktober 1967 pos hy die manuskrip van sy derde vertaalde Bolandia na New York en Londen, maar ten spyte van die gunstige reaksie van sy agent, Hilary Rubinstein, sou dit, soos Die groot anders-maak, wat hy reeds in Skotland vertaal het, nooit gepubliseer word nie. Jannie Coetzee, hulle bourgeois boemelaarsvriend uit hul Paryse dae, daag in September by hulle op, terug ná 'n lang reis vanaf die Slawiese lande tot in Indië. Jannie kan son nie verdra nie, maar hy laat hom soos 'n rooi kreef deur die son verbrand, net om tuis te kom lê en kreun. Intussen raak dit herfs en sien 'n mens orals donkies belaai met vragte hout wat by die huise vir die vuurherde in die winter opgestapel word. Einde September kom Sue en Basil Robinson, hulle vriende uit Kaapstad wat ook by hulle in die VSA 'n draai kom maak het, aan en saam toer hulle 'n week lank oor die hele Oos-Kreta. Kort ná die Robin- | |
[pagina 398]
| |
sons het hulle Elsa Joubert en Klaas Steytler aan huis. En op 4 Desember is daar goeie nuus uit Kaapstad wat prominent in die Griekse pers verskyn: Chris Barnard en sy span het daarin geslaag om in die Groote Schuur Hospitaal die wêreld se eerste hartoorplanting te doen. | |
IVOmdat Jan en Jorie nou die geleentheid wou gebruik om twee maande lank Israel, Ciprus, Libanon en Turkye te besigtig, kry hulle 'n Amerikaanse familie met die van Smith om die huis vir hulle in dié tydperk oor te neem. Op 13 Desember 1967 vertrek hulle van Heráklion met die nagboot. Met hulle aankoms in Athene lyk die Grieke veel meer misnoegd en terneergedruk as dié in Kreta en moet hulle hoor dat die koning en sy gesin ná hul mislukte staatsgreep teen die kolonels in Macedonië die vorige dag na Italië gevlug het. Jan en Marjorie trek in die Suid-Afrikaanse digteres Adele White se huisraadlose huis in die Plaka in, en op 19 Desember vlieg hulle bo 'n Grieks-blou see, oordek met kolle wolk en bruinpers eilandjies met wit stippels dorpies onder, tot oor die vaal bruinblou lyn voor die Palestynse kus voordat hulle afduik vir die landing in Tel Aviv. Uit die lug merk hulle die roomvaal blokkies van die huise, die plantasies denne, bloekoms en lemoenbome, en die donkerbruin vars geploegde aarde met groen landjies waarvan elke duim bewerk is. Tel Aviv laat hulle met sy woonstelle en balkonne aan Seepunt en Hillbrow dink. Die mense en produkte maak 'n Westerse indruk, maar Jan teken tog in sy dagboek aan die Jode het hierheen teruggekeer om weer Asiate te word. Alles, vind hulle, is ontsettend duur. Hulle vind die ouer mense vriendelik en behulpsaam, terwyl die jonger mense, slenterend langs die strate of tierend op motorfietse, 'n roekelose indruk maak. Op Donderdag, 21 Desember, vertrek hulle na Jerusalem. Aanvanklik ry hulle oor plat bewerkte vlaktes, later klim hulle teen die steil heuwels van Juda uit, al op in die nou rivierpoort met sy kalkbanke tot op die kaal golwende hoogland waar Jerusalem geleë is. Onderweg sien hulle armoedige huise, 'n paar Arabiese dorpies en die erg verwaarloosde niemandsland voordat hulle die ommuurde stad bereik. Hulle hotel is net binne die Jaffa-poort. Hulle stap hul flou om die bekende toeristeplekke te sien: | |
[pagina 399]
| |
Christus se graf, die berg Sion met Yad Vashim, die museum en gedenktuin van Nazi-gruweldade (seep en lampskerms van mense gemaak, grafstene ens.), Dawid se graf en die Damaskus-poort. As gevolg van swaar reën word die Fransiskane se optog langs die Via Dolorosa met sy veertien stasies van die kruis afgestel. Soos nat katte swerf Jan en Jorie deur die Arabiese markstrate om olyfhoutkruise vir hul Kretensiese vriende te koop. Opvallend vir hulle is die naywer tussen Katolieke en Grieks-Ortodokse. 'n Handboek wat Jan aankoop, geskryf deur 'n Fransiskaan, vind aanhoudend rede om die Grieke se smaak uit te skel. Alles wat die Katolieke aangebring het, is egter oorversier en in sy dagboek vra Jan: ‘Waarom kon hulle nie die kaal klip so gelaat het nie, in plaas daarvan om dit te verskoon onder marmer, kersvet, goud en trosse lampe?’ Hulle drink Port Salasian, die Betlehemse soeterige kloosterwyn, en vervloek die ellendelinge wat die stad só in twee gesny het. Jan moet twee gidsboeke en twee kaarte aankoop, maar vind die korrelasie tussen die twee dele bly maar 'n lukrake gesukkel. Binne-in die ou stad is daar geen restaurante nie, net eetkraampies by die stadspoorte wat op die toeriste ingestel en daarom besonder duur is. In sy dagboek teken Jan aan: ‘Hoe naar die gestry tussen Christelike sektes teen mekaar oor die besit van heiligdomme of plekkies waar Christus net genies het.’ Op Saterdag, 23 Desember, besoek hulle die terrein van die ou tempel, met daarop die goue koepel van die Rotskoepelmoskee. Onder 'n hoë muur onder in Salomo se stalle lê lang rye Islamitiese grafte, met 'n Joodse begraafplaas oorkant Kedron. Hier en daar is ook Christengrafte tussen die kerke en die olywe. Van die namiddag tot ná middernag bring hulle deur met Morris en Miriam Herman, voorheen Suid-Afrikaners en tans albei geneeshere in Israel. Hulle ry orals rond en besigtig die mooi nuwe universiteit, die Kennedy-monument en die Knesset. Oukersdag is dit grys en bewolk, maar hulle stap na Betlehem en worstel met hul nuwe skoene deur die dik nat klei, te bang om uit die modderige voetpad te tree as gevolg van die landmyne wat die grensgebied nog vol lê. Voetseer vind hulle uit dat hulle vir die middernagdiens ander permitte moet hê. Daarom woon hulle die skaapwagterdiens by, vyf kilometer uit die stad tussen skape, Angelsaksers en swerms Afrikaners van Pretoria. Op die kaal bruin kliprante van Judea tussen die denne en olywe sing hulle Kersliedere en eet hulle ongesuurde broodjies terwyl die skemer daal. Hulle sing ook by die Lutherse | |
[pagina 400]
| |
Kerk en in die Kerk van Christus se wieg. Daar is 'n duisend polisiemanne vir die vyfduisend toeriste, die minste ooit wat sedert die onafhanklikheid van Israel vir die Kersfees opdaag. Op Kersdag besoek hulle die Olyfberg en die Tuin van Getsémane. Hulle soek kruisies en komboloi om vir hul Griekse vriende saam te neem. Elke kerkie spog met 'n stukkie nakende rots wat met Christus of Maria verband hou. In sy dagboek skryf Jan: ‘Hoe naar toegekoek met marmer, lampe, metaal, dekorasies, kersvet is al die skryne van die eenvoudige verlede. Jy sien 'n stukkie rots uitsteek tussen al die suikerkoekerasies.’ Op Tweede Kersdag swerf Jan en Jorie weer deur Betlehem en Jerusalem, met bedelkinders by die toeristiese plekke. Maar telkens word hulle teleurgestel deurdat alles wat in verband met Christus se geboorte staan, so verskriklik gekommersialiseer word. Hulle vind die Israeli's oororganiseer 'n hele sakebedryf tot die pelgrims se frustrasie en woede. In sy roman Klipwieg sal Jan later skryf: Swerms toeriste vertrap jou by elke plek, gidse en bedelaars en soewenier-smouse ontstig jou, en jy moet ten duurste toegangsgelde betaal. Nêrens kry jy 'n bietjie stilte en eensaamheid om jou gees te verryk en jou geloof te versterk nie. Pelgrimstogte het banale georganiseerde toerisme geword.Ga naar eind19 Op 27 Desember ry hulle per taxi oor die lip van Judea se hoogland ooswaarts deur die plat kalkbanke wat leweloos afstroom na die skeurvallei van die Jordaan. Maar dan kom hulle aan by die groen, weelderige oase van Jerigo met sy palms, lemoene en piesangs. Links sien hulle die rooi en oker spits van Tabor, die berg van die Versoeking, gekroon met 'n Griekse klooster. Daarna reis hulle suid deur die bar, kaal, lewelose landskap na die Dooie See waar hulle swem en in die lou sonskyn op die water dryf. Van die swem kry hulle 'n stink smaak op die tong en vurig brandende oë. In die volgende paar dae besoek hulle die museums, maar hulle let op dat die Israeli's min skilderkuns en eerder 'n voorliefde vir juwele en ornamente het. Die argeologiese museums is boeiender. Jerusalem, vind Jan, is 'n stad om na terug te keer, al is dit net weens die emosie in klip. ‘Soveel haat en liefde en agonie in hierdie mees omstrede plek op aarde’, skryf hy in sy dagboek. Op Nuwejaarsdag 1968 reis Jan en Jorie deur die woestyn na Arad. Die | |
[pagina 401]
| |
rit gaan oor die kaal hoogvlaktes, waar kamele en onterfde Bedoeïene nog uithou, af na die skeurdal van Sodom en op langs die Dooie See, 'n kaal soutvlakte met hier en daar soutbossies en sambreel-doringakasias, tot by Masada se jeugherberg waar hulle oornag. Die volgende dag stap hulle op na Masada se kruin, eenduisend vierhonderd voet bo die meer en self net honderd voet bo seespieël. Dit herinner aan die woestynberge, grinterig, roomvaal tot bruinrooi, wat hulle meer as 'n jaar tevore tussen Kalifornië en Arizona gesien het. Bo-op is die ou vesting van Herodes se vakansiestad, twee paleise met baddens en swempoele. Na agter kyk 'n mens uit oor die barre hoogland; na voor is daar 'n heerlike vergesig oor die Dooie See en Moab se blou bergmuur. Die Israeli's is trots op Masada, die een groot antieke Joodse monument in 'n land waarin Christelike en Islamitiese spore die geskiedenis van Sion vervuil het. Hulle slaap die nag in Berseba met sy Karoo-vaal bulte. Op 5 Januarie besoek hulle die digteres Olga Kirsch en haar man, dr. Gillis. 'n Paar dae later reis hulle na Haifa, 'n mooi stad met klipgeboue uit die Arabiese tydperk. Dan besoek hulle Tel Megiddo waar minstens vyfduisend jaar se geskiedenis in lae bo-op mekaar lê. Die oudste is die Proto-Kanaänitiese tempel van 2 800 v.C. Koning Salomo se strydwaens en stalle dateer uit 950 v.C. Daar is 'n diep tonnel af na die waterfontein buite die stadsmure, wat water in die hart van die kalksteen bewaar. Nasaret, waar Maria deur die engel in 'n grot besoek is, lê aan die oorkant. Dit val Jan op dat die hele Christendom, die hele Palestina, op primitiewe grot-aarde-heiligdomme gebou is. Elke kerk met iets uit die geskiedenis sit bo-op 'n gat in die kalkrante. Hulle sien die enorme nuwe Basiliek van die Aankondiging en kry 'n kamer in die hospitium van die Dames de Nazareth. Nasaret vind hulle baie soos Betlehem, net minder romanties en met meer sement en teer wat die Israeli's kwistig aangebring het. Tydens die rit na die Golanhoogtes in Sirië, nou beset deur Israel, sien hulle die wit piek van die berg Hermon tussen die misreën en die vaal woestynstof. Die dosyne uitgebrande vragmotors, loopgrawe, masjiengeweerposte en verwoeste beton herinner aan die oorlog wat pas verby is. Die pad kronkel steil af na die groen, riet omsoomde en snel stromende uitloop van die Jordaan na Tiberias. Hulle wag vergeefs vir mooi weer, maar bespreek tog in Haifa vir die boot wat op 16 Januarie na Famagusta in Ciprus vaar. | |
[pagina 402]
| |
In Ciprus, waar hulle ná die uitvoerige besoek aan Israel veel korter bly, vind hulle die mense besonder vriendelik, byna boers eenvoudig en rustig, welvarender as die Hellene. Maar saam met hul gulheid is daar ook iets gelate in die Cipriote, soos die kaal, bleek, moeë landskap wat te veel oorloë en bloedvergieting gesien het. Hulle het nie die Kretensers se wilde gees nie, maar, hoewel Grieks, ook nie die Griekse rusteloosheid nie. Die geboue in die stede sien daar beter uit en orals merk hulle die Britse invloed. Die skrywer Lawrence Durrell, verneem hulle, het lank hier gewoon. Hy was nie baie gewild nie en sy Grieks was nie baie goed nie. Hy het baie gedrink en honderde sigarette gerook en dikwels die mense bygedam, provokatief vir inligting gemelk en dan met veel fantasie en onnoukeurighede oor hulle geskryf. Jan en Jorie toer rond oor die eiland, 'n landskap bleker en kaler as dié van Kreta. Twee hoë wit rotse in die see dui die tradisionele geboorteplek van Aphrodite aan. Deur 'n grys wolklaag en reën vlieg hulle op 21 Januarie na Beiroet in Libanon, 'n land wat hulle florerend en fassinerend vind. Byblos, die stad waar die eerste alfabet van 1 300 v.C. gevind is, lê besonder mooi teen die blou meer van die Libanese berge voor 'n groen see. Op 26 Januarie vlieg hulle oor die sneeuwit Taurus-berge na Ankara, die hoofstad van Turkye. Terwyl Jan worstel met 'n geweldige verkoue wat hom koue koors laat kry, loop hulle deur die sneeu en 'n ysige steppewind. Die Turke wat hulle teenkom, verstaan niks anders as Turks nie en draai hulle rug op die besoeker wat in 'n vreemde taal brabbel. Hulle besoek die museum, maar dit is oor die algemeen rowersbuit van ander lande, sonder onderskeiding in kaste neergeplak - die agterlikste museum wat hulle tydens die reis besoek. Hulle kronkel deur markstraatjies waar Jorie snuisterye koop, loop oor glyerige keistene en vlug 'n rukkie na die speserymark wat lekker ruik. Hulle vind die mense Slawies swaar, onvriendelik, buffelagtig en baie burokraties, 'n bietjie deftig en veel minder lewendig as die Grieke. Eintlik, so vind hulle, was die Turke net goeie goud- en juweleopgaarders, maar dom wat werklike kunsskatte betref. Op 2 Februarie is hulle terug in Griekeland en ry hulle langs die massiwiteit van Olimpos en die steil kusberge tussen Thessalia en Attika. Nou begin Jorie ook sonder ophou te hoes en stap Jan alleen rond in die Plaka, met die Akropolis altyd êrens agter of voor 'n mens se skouers. Op 13 Februarie, die laaste dag van hul Atheense verblyf, klim hulle weer op na die Akropolis om afskeid te neem. Al is dit nou winter, is daar vir hulle | |
[pagina 403]
| |
iets in dié stad en die vergesigte wat rus bring en 'n soort volle stilte, ‘amper vraagloos en goed’. Dit is iets soos 'n tempel waarin 'n mens net kan sit, ‘gevul voor 'n groot aanwesigheid tot innerlike verryking’. Die lig en die verte wat die besoeker hiervandaan kan waarneem, is 'n geskenk van die gode. | |
VOp Woensdag, 14 Februarie, teen die aand se kant, kry Jan en Jorie die nagboot na Kreta waar hulle, ná hulle reis van vier en sestig dae, die volgende oggend aankom. In die weke wat volg, verdiep Jan hom in die geskiedenis van die Minoïese beskawing, 2 800 v.C. tot 1 100 v.C., waarvan opgrawings in 1899 naby Knossós begin is, en die Kretensiese Renaissance wat ná die val van Konstantinopel in 1453 met Griekse geleerdes en kunstenaars uit alle oorde vir 'n oplewing van die Bisantynse kuns gesorg het. Dit alles maak dié eiland fassinerend vir iemand soos Jan wat, soos hy dit self stel, ‘kom van 'n “nuwe” land waar die landskap arm is aan die stemme van bloed en ruïnes, waar die mens se bewussyn eers onlangs berg en fontein begin vermenslik het. Boesman en Hottentot, hulle wat voor ons was, het niks nagelaat as 'n klompie name en woorde en rotstekeninge nie; geen Herakles, geen Minotaurus, geen erfenis vir iemand anders as vir die wind wat alles verstrooi nie.’Ga naar eind20 Intussen begin werk Jan aan sy roman Klipwieg. Aanvanklik bly dit net by notas en is die vordering pynlik stadig. In sy dagboek skryf hy hy huiwer voor die begin en dit bly vir hom te veel 'n serebrale konsep wat hy nog nie voel nie. Hy moet eers sy private spoke 'n kans gee om nader te sluip en vanuit die duisternis te gryns; as hulle nie saamskryf nie, teken hy aan, is 'n boek niks nie. ‘En ek gee hulle baie vryheid: as ek die boek heeltemal vooruit beplan en beheer, sal ek nie kan skryf nie. Soos roofdiere moet hulle deur simbole en skielike splete kan spring om hul aandeel en asemhaling in die lig te eis.’ Hy het reeds name vir die karakters wat, meer as ooit tevore, op bepaalde persone gemodelleer gaan wees en hy gaan homself ook as karakter invoer. In dié tyd lees hy Gerald Durrell se My family and other animals, vol komiese ongelukke en misverstande tussen mense en diere. Hy is ontevrede met Naked lunch waarin William Burroughs gedurig net met sy eie mani- | |
[pagina 404]
| |
fes en derms besig is en alles deur 'n biologiese filter beloer. Ook van nuwe Afrikaanse publikasies neem hy kennis. Hennie Aucamp se Spitsuur bevat vir hom mooi sensitiewe sketse, veral waar hy sy jeug onthou, maar waar hy verhale probeer bou, vind Jan verdwaal hy in koorsmoerasse van die self en raak die fantasie kant nog wal. Die nuwe geslag prosaïste in Afrikaans is vir hom te sensitief oor die self, te bang om die wêreld in die oë te kyk of enigiets oor die Suid-Afrikaanse werklikheid te skryf; hulle vlug eerder weg in 'n soort lompe fantasie wat op selfmoordende eensaamheid neerkom. Dolf van Niekerk het die wêreld probeer aandurf en gefaal; André Brink probeer; Etienne Leroux het 'n eie fantasiewêreld gebou, maar dit raak nog nie die Suid-Afrikaanse werklikheid nie. Daar is natuurlik ook, teken hy aan, droëblomrangskiksters soos Alba Bouwer of Audrey Blignault, maar die manlike moed ontbreek om met ons wêreld te worstel soos hy is of moet wees. Jan lees ook Etienne Leroux se 18-44. Die ou gevatte ironie van Leroux is nog in dié boek, maar die nodige beweging en verhaal ontbreek vir Jan, en Leroux se ewige bespiegelende, verwarde, geleerde maar intense fantasie is vir hom dié keer te sentimenteel. Slegs die af en toe geslaagde stukke poësie en die seldsame ironie is mooi. Daar is vir hom in 18-44 geen bou (soos in Azazel), geen soeke (soos in Silbersteins) nie; meestal net sentimentele pretensie, omdat dit te werklikheidsontvlugtend is om ooit pote te kry. Dit was altyd vir hom Leroux se gevaar: ‘[H]oe kan jy 'n huis bou in die lug as jy nie volkome waansinnig is nie? Want Leroux glo nog altyd in die middestandse snobisme oor weelde en lewens-'vorm'; sy filosofie word verraai deur aandpakke, whisky-en-soda, en Paryse parfuum - alles oneerlikheid en sentimentaliteit.’ In sy dagboek slaak Jan die versugting: ‘As Etienne Leroux met sy sterk gawes net 'n keer 'n storie wil gaan skryf, die moed en die dissipline daarvan wil aanvaar. Nou is hy 'n sitkamer-vertolker, en geen skepper, of dalk net 'n moderne skrywer wat die verhaal histeries vermy.’ Dié negatiewe kommentaar op Leroux is 'n aanduiding van hoe ver Jan, ten spyte van hul sterk vriendskap, van hom as skrywer verwyderd is. Hierdie verskille was reeds duidelik merkbaar in die briewe wat hulle aan mekaar skryf kort ná Jan se terugkeer na Suid-Afrika, en met die jare sou dit sterker word. Dit was Jan se oortuiging dat Leroux wegskram van die brandende realiteit van Suid-Afrika en dat dit op 'n doelbewuste ontduiking van die taak van die skrywer neerkom. Waarskynlik het hy nie ingesien dat die betrokke skrywer die gevaar loop om | |
[pagina 405]
| |
in die aktualiteit vas te steek en dat sy werk as gevolg van die tydgebonde aard daarvan met die jare kon verouder nie. Stan Smith, wat saam met sy vrou en kinders in die twee maande van Jan en Jorie se reis die huis opgepas het, laat vir Jan 'n pak verslae van Radio Free Europe oor kommunistiese lande agter. Fassinerend vir Jan is die stryd van die skrywers in Tsjeggo-Slowakye teen die absolute mag van die regering. In die verslag van die jaarkongres van 1967 lees hy byvoorbeeld: ‘A writer, a poet is inherently related to the fate of his country, to its people. Otherwise he would cease to be himself. The object of his creative plans and visions is the future of his country. In his worry and his fears for its future lies the basis of his creative, i.e., critical approach to reality...’ Dit is 'n uitspraak, teken Jan in sy dagboek aan, wat veral waar is van homself - ‘ek kan nie in abstraksies ontvlug soos ander banggat Afrikaanse skrywers nie’. Terwyl hy aan sy roman werk en daagliks met die Kretensers se leefwyse en doen en late in aanraking kom, begin hy insien dat 'n mens jou liefde vir die eie bodem in 'n groentetuin kan laat vorm aanneem. Daarom begin hy met die aanlê van 'n eie tuin, iets wat hy weens ruimte- en grondgebrek nie in die jare in Parys of Kaapstad kon doen nie. In die ou kalkbanke rondom sy huis in Eloúnda maak Jan gate met 'n skroewedraaier en plant hy tamaties. Op 22 Julie 1968 skryf hy aan sy uitgewers, Koos Human en Leon Rousseau, dat hy reeds sestig tamatieplante, honderd brinjals, tagtig soetrissies en twee akkers wortels het. Intussen verneem hy van Erik Laubscher uit Kaapstad dat die mense wat tydelik in hulle plek op die tweede verdieping van Cheviot Place 6 woon, die huur opgesê het en dat die eienaar terselfdertyd die huis van die hand wil sit. Hy vra Jan of hulle die eiendom saam met hom en Claude wil koop. As Jan laat weet dat hy en Jorie nie hul weg oopsien om te koop nie, besluit Erik om dit dan maar met die finansiële bystand van sy vader alleen te doen. Aangesien hulle kinders nou tieners was en nie meer in een kamer kon woon nie, laat weet hy Jan dat hulle intussen sy en Jorie se besittings in Marjorie se ateljee sal stoor, maar dat hulle by hul terugkeer 'n ander woonplek sal moet vind.Ga naar eind21 In April 1968 ontvang Jan en Jorie 'n telegram van Jorie se broer Fleming uit Londen dat Jorie se tant Mamie sterwend is en haar moeder ernstig siek. Jorie vertrek inderhaas met 'n nagvlug na Londen, maar wanneer sy van die Atheense lughawe haar broer bel, verneem sy dat die tante reeds dood is. Jorie bly vier weke weg en gelukkig word haar moeder | |
[pagina 406]
| |
weer heeltemal gesond. In dié tyd word Pappoús Jan se daaglikse posbode. Hoewel 'n analfabeet, kon hy 'n Britse posseël op 'n koevert herken, die brief letterlik van die posbode berowe en dit op die daad na Jan toe bring. Dan gaan sit hy met 'n glas wyn en wag dat Jan moet lees, sodat hy kon vra: ‘En wat skryf sy?’ Hy vertrek nie voordat hy al die nuus gehoor het en aan die dorpsgenote kan gaan vertel nie. Op 22 Mei kom Jorie terug. Omdat hulle van plan was om einde 1969 terug te reis na Suid-Afrika, gaan Jorie vir Kersfees 1968 en Nuwejaar 1969 weer na Skotland om by haar moeder en familie te wees. Die eerste twee weke van April kuier haar broer Fleming en sy vrou, Valerie, saam met hulle twee en 'n half jaar oue Jennifer by hulle, met haar rossige hare, spierwit vel en appelrooi wangetjies die sensasie van Eloúnda.Ga naar eind22 Ook Sue en Basil Robinson maak weer 'n draai by hulle. | |
VIReeds in Maart 1968 was dit Karel Schoeman, in daardie tyd as bibliotekaris in Amsterdam werksaam, se plan om Jan en Jorie op Kreta te besoek. Karel het per brief in Suid-Afrika met Jan kennis gemaak deur 'n resensie wat hy oor Karel se roman By fakkellig geskryf het, die eerste resensie van 'n werk deur homself wat die indruk gegee het dat die skrywer die boek gelees en daaroor nagedink het. Karel het vir Jan 'n waarderende briefie daaroor geskryf en in sy jeugdige oormoed Dostojefski aangehaal wat êrens sê: ‘As 'n mens wil skryf, moet jy ly, ly, ly.’ Jan het uit Parys geantwoord dat wanneer 'n mens ouer word, sê jy nie meer sulke dinge nie; jy wéét dit eenvoudig. Ná hierdie eerste briefwisseling het Karel en Jan hul kontak volgehou.Ga naar eind23 In 'n brief wat Karel op 24 November 1967 aan Jan skryf, sê hy dat hy graag Kreta wil sien en húlle persoonlik wil ontmoet, veral omdat hy 'n roman wil skryf wat juis om verskeie redes op 'n eiland moet afspeel. Die enigste eiland, skryf hy in 'n verdere brief van 23 Januarie 1968, waarby hy in die voorsienbare toekoms sal kan uitkom, is Kreta. In dié brief maak hy ook melding daarvan dat hy op besoek was in Suid-Afrika en weer 'n slag in die Kaap gekom het, ‘daardie gesellige, gemoedelike ou wêreldjie waarin ek my altyd vreemd sal voel, maar wat tog baie mooi is’. In Kaapstad was hy tuis by W.E.G. Louw en het hy ook Johan van Rooyen, later | |
[pagina 407]
| |
redakteur van De Kat, ontmoet, iemand ‘met wie ek baie goed oor die weg gekom het en van wie ek veel gesien het’. In sy dagboek skryf Jan dat hy, tot sy klaarblyklike irritasie, op 22 Maart tevergeefs op Karel se aankoms wag. Eers op 28 Maart ontvang Jan 'n brief van Karel uit Nederland dat hy verhinder is om te kom. Op 18 Julie laat weet hy, weer uit Nederland, dat hy op die aand van Sondag, 4 Augustus, per trein in Athene aankom en die volgende aand met die boot na Kreta sal vertrek. Ná die ‘wasige sonnigheid met die pragtige drywende lig - én die plensende reënvlae tussenin’ - skryf hy, 'n uitweiding wat vir Jan week sou aandoen, verlang hy na die ‘sondeurdrenktheid’ van Kreta. Op 6 Augustus stap Jan na Ajios Nikólaos en wag, soos hy in sy dagboek aanteken, ‘drie en 'n half donderse ure’ vir Karel wat nie opdaag nie - nog een van die ‘slegte of dom of ongelukkige reisigers soos die meeste van die Afrikaanse literêre wêreld blykbaar is’. Windverwaaid en vies kom hy terug in Eloúnda, met 'n vermorste dag wat hy aan die finale afwerking van die Engelse weergawe van Klipwieg kon gewy het. In plaas van die skip van Piréus na Kreta te haal en dan in Herákleion die bus na Ajios Nikólaos te kry, so sou dit later blyk, beland Karel op 'n verkeerde skip na Chania aan die westelike punt van Kreta, van waar hy eers 'n dag later en ná 'n hele oggend in verskillende busse in Eloúnda aankom. Die eerste wat Jan en Jorie van Karel se aankoms verneem, is toe Pappoüs by hulle opdaag met die nuus dat daar 'n priester met 'n lang baard en hare onder in die dorp is. Hy praat nie Grieks nie, maar ken klaarblyklik vir Jan en Jorie. Kort daarna daag Karel, bebaard en in 'n mantel geklee, per taxi by hulle op.Ga naar eind24 Twee dae laat en in 'n vreemde gewaad is Karel nie juis vriendelik deur Jan ontvang nie, veral nie toe hy agterkom hoe selfingekeerd en dromerig sy besoeker is en hoe hy, miskien as 'n pose of in literêre navolging van Albert Camus, selfmoord oorweeg nie. Tydens Karel se tiendaagse besoek slaap Jan en Jorie by die see. Toe Jan op die derde oggend van die besoek by die huis opdaag, is Karel skoonveld. Jan vermoed onmiddellik selfmoord en spring op 'n bus om hom tot by Traxeili te gaan soek, net om Karel langs die pad te kry, rustig aan die loop. Tot Jan se wrewel weier Karel in die res van sy verblyf om met Jorie en selfs met Jan Afrikaans te praat. Die Afrikaans sou dan kwansuis sy Nederlands aantas. ‘Praat dan bastertaal, Kaaps, magtig’, snou Jan hom toe. Maar dit wil hom voorkom of Karel opsetlik sy lewe wil vergal en Jan se basiese optimisme, daadlus en soekende energie met 'n gebroei oor | |
[pagina 408]
| |
Ingrid se verdrinking in die see, wat later in die roman Die noorderlig sou figureer, wil beantwoord en die leegte en niks van alles beklemtoon. Karel, kom Jorie agter, is 'n binnenshuise mens wat nooit leer swem het nie. Sy neem hom af see toe en leer hom hoe om in die water op sy rug te lê. 'n Paar keer sluk Karel water, maar Jorie slaag daarin om hom 'n paar hale te laat swem.Ga naar eind25 Geleidelik kom Karel los van wat Jan in sy dagboek sy besoeker se ‘lang-wit-drel norsheid’ noem en laat hy hom 'n bietjie in die son verbrand, al merk hy Karel bly geskok oor sy rebelse andersheid en sy afkeer daarvan om oor die Afrikaanse literêre establishment te skinder. Wanneer Jan 'n keer met die waterdraery ‘Jesus Christus’ vloek, slaan Karel een van sy Katolieke kruise. Hoewel hulle op 'n vriendelike noot skei, was dit sowel vir Jan as Karel nie 'n suksesvolle persoonlike ontmoeting en besoek nie. Onderliggend aan Jan se bedenkinge en afkeer was daar die gevare wat hy in 'n skrywer soos Schoeman vir die Afrikaanse letterkunde gesien het. In sy dagboek teken hy aan: Karel Schoeman sê hy lees nie Afrikaans nie, nes Etienne Leroux. Ek is moeg vir Afrikaanse skrywers wat nie trots Afrikaans lees nie, net Engels (en dalk ook Duits of Frans) en alle nuwe blink Angelsaksiese modetjies navolg, epigone, en wat Suid-Afrika betref hul skoon mondjies toehou en verwen word deur die establishment (beloon vir hul korrekte lafhartigheid), maar op openlike gesonde rebelle (uit liefde vir Afrikaans) neerkyk as vreemd (omdat owerhede hulle as on-Afrikaans beskou), en hulle egte Afrikanerskap bewys deur - privaat - Afrikaans (d.w.s. hul eie verraad) te verag, en net oorsees-abstrak-epigonisties-navolgend stilisties te strewe. As daar ooit 'n geslag ontmande skrywers was, dan is dit die huidige geslag Afrikaanse wat mond hou oor alle menslike dinge wat saak maak, net blink oppervlakte modieus probeer futsel, sorg dat hulle in bot politici se goeie boeke bly en voorgeskryf word, soet janissaries (bloedhonde) wat hul eintlike broers verraai. Arme Afrikaanse letterkunde waar skuim vir murg deurgaan - en glad ‘gevrees’ word deur die domste, mees reaksionêre ‘kerk’-manne en ‘professore’ et al. Hoe komies is hulle ‘polemiek’ met die Leroux's, Brink's ens. as ‘volksbederwers’. Hulle weet tog dis veilige skapies, ongevaarlike bliksemafleiers [...] Ek is moeg vir Afrikaanse skrywers wat hul taal nie met trotse reg praat nie, ek is moeg vir Afrikaanse skrywers wat niks meer nastrewe as vreemdes na-aap nie. Ek is moeg vir Afrikaanse skrywers wat Afri- | |
[pagina 409]
| |
kaans nie reken nie, en dit (goed betaald deur ons owerhede) met weiering van verantwoordelike liefde verraai. Ek is moeg vir skrywers wat hul siek sieltjies hoër stel as hul (heilige) werk. Ek is moeg vir mak skoothondjies (wat net van agter byt) met eerste prys kaart om nek. Die boek waaraan Schoeman in hierdie tyd wou werk en waarvoor hy graag 'n besoek aan 'n eiland wou aflê, verskyn in 1971 onder die titel Op 'n eiland. Dit is die verhaal van die Suid-Afrikaanse skilder Johan wat saam met sy Nederlandse vrou Hilde en babaseuntjie Julien op 'n Griekse eiland woon en besoek ontvang van die in Suid-Afrika gebore maar tans in Amsterdam gevestigde verteller Ruud, en later ook van die skryfster Elsa wat in Parys 'n woonstel met Hilde gedeel het en nou deur Europa reis. Die afgeslotenheid van die eilandbestaan en die feit dat nie een van die besoekers Grieks só magtig is dat hulle gemaklik met die inwoners kan kommunikeer nie, reduseer die vier sentrale karakters tot enkelinge wat deur die stiltes en verlatenheid na mekaar probeer uitreik, al is hulle dan ook gedoem om vreemdes vir mekaar te bly en omslote in hul eensaamheid te wees. Die roman gee agtereenvolgens 'n beeld van die aankoms van die verteller, die groeiende vriendskap van Johan en Ruud, die besoek van Elsa en haar toegeneentheid teenoor Hilde, en die afloop waar Ruud en Elsa weer vertrek. As Ruud aankom, gewaar hy betreklik gou reeds sekere barste in die huwelik van sy gasheer en gasvrou, terwyl Johan se gevoelens vir Ruud, ná 'n aanvanklike periode van afsydigheid, geleidelik deur die gesprekke heen uitgroei tot momente van vlugtige liggaamlike kontak. Hoewel Karel in 'n brief van 9 Mei 1971 aan Jan en Jorie sê dat die eiland in die boek in wese Páros is wat hy ná sy verblyf by hulle op Kreta besoek het, is die huis wat hy beskryf, die huis waarin die Rabies gewoon het.Ga naar eind26 'n Mens sien dit byvoorbeeld in die beskrywing van die tuintjie waar Johan uit emmers water ‘soetrissies, tamaties en eiervrugte moes natgooi’.Ga naar eind27 Die ou man wat kom kuier en ‘wat op 'n kierie steun’,Ga naar eind28 herinner aan Pappoús, die kuiergas vir wie Jorie so pragtig geskilder het, afgedruk op die omslag van 'n Haan vir Eloúnda. Die Afrikaanse skryfster Elsa wat op besoek kom, het wel geen regstreekse verband met 'n besoek wat die Rabies tydens hul verblyf op Kreta ontvang nie, maar die beskrywing van haar as die skryfster van twee ‘goed geskrewe, intelligente romans vol godsdiens en simboliek’ herinner aan Berta Smit wat in hierdie | |
[pagina 410]
| |
jare opspraak wek met haar simboliese romans Die vrou en die bees en Een plus een.Ga naar eind29 Wat in Schoeman se roman bykom, is die groeiende geestelike en liggaamlike toegeneentheid tussen Johan en Ruud, vanaf 'n aanraking van skouer en armGa naar eind30 en 'n soenGa naar eind31 tot 'n omhelsing.Ga naar eind32 Op 'n eiland, sê Schoeman later in Die laaste Afrikaanse boek, is seker ‘die mees outobiografiese’ of ‘persoonlikste roman’ wat hy geskryf het, ‘dog buiten die basiese gegewe van die driehoek waarop dit gebaseer is, is daar desondanks niks in die roman wat regstreeks uit my lewe oorgeneem is nie’.Ga naar eind33 In die klein wêreld van die Afrikaanse literatuur is daar egter by die verskyning van die roman openlik in gesprekke gegis oor die moontlikheid van 'n vlugtige homoseksuele, of dan ten minste homoërotiese, toenadering tussen Jan en Karel. Hiervan was daar geen sprake nie. Dit is eerder 'n geval waar Schoeman sy kortstondige vriendskap met Johan van Rooyen as vertrekpunt gebruikGa naar eind34 en dit omvorm tot 'n besoek aan Griekeland, met die uitbuiting van die begrip ‘eiland’ wat die roman simbolies verdiep: Daar is eilande wat deur geen mens bereik is nie, wit strande wat deur geen voet betree is nie; daar is fonteine van helder water waarvan niemand ooit gedrink het nie. Daar is gebiede wat op geen kaart vasgelê is nie en kuste waaraan daar nooit 'n naam gegee is nie; geen oor hoor daar die geroep van die voëls of die slag van die branders nie, die afstande ongemeet en die diepte ongepeil - o ja, daar is eilande.Ga naar eind35 | |
VIIIn die dertig maande dat hulle daar kon woon, het Jan en Jorie opgegaan in die dorpslewe en die leefstyl van die Kretensers, maar gemerk hoe Eloúnda met die aanbou van 'n nuwe teerpad, die toename in motors en die villas wat ryk buitemense laat bou, al hoe meer 'n bestemming vir toeriste aan die word was. Hulle het oortuig geraak dat die paradyslike onskuld wat hulle kon ervaar, nie meer lank sou duur nie. Van ver kon hulle ook met die wêreldgebeure saamleef: die studente-onluste in Parys, De Gaulle se probleme, die moorde op Martin Luther King en Robert Kennedy, en die Russiese besetting van Praag. En einde 1968 was die maanvaarders terug op aarde. | |
[pagina 411]
| |
Intussen verskyn die Engelse vertaling van Waar jý sterwe en uit Suid-Afrika verneem Jan dit is gereeld boaan The Cape Argus se trefferlys. In Maart 1969 voltooi hy Klipwieg en in Junie, ná 'n laaste herlees en 'n paar verstellings, stuur hy die manuskrip na Human & Rousseau. Ten grondslag van die roman is 'n staptog van sewe mense onder aanvoering van die Suid-Afrikaner Ben, met duidelike trekke van Jan self, na die mitiese geboortegrot van Zeus as wieg van die Westerse beskawing, 'n opset wat dadelik aan Die wolkemaker van W.A. de Klerk herinner. 'n Mens merk iets van die mens Jan Rabie in die beskrywing van Ben ‘wat sy mensskuheid ontvlug met knappe bewegings van sy skraal, rustelose lyf terwyl hy drankies skink’Ga naar eind36 en in Ben se bekommernis oor die omgewing wat deur plastiek en afval vervuil word.Ga naar eind37 In die figuur van Daniël bespeur die ingeligte leser iets van Jannie Coetzee, terwyl Karen, 'n ‘klein, teer bondeltjie seergemaakte vrou’,Ga naar eind38 duidelike trekke van Ingrid Jonker toon: ‘Nee, net in my gedigte kan ek tuis voel...en 'n ruk lank die bitterheid en eensaamheid tot seepbelle, tot wiegies van teerheid omskep...’Ga naar eind39 Ten spyte van die plek-plek mooi tekeninge van die eiland Kreta val die aksent in so 'n mate op die stappers se persoonlike probleme dat die geheel in argumentasies en eindelose debatte en profesieë verval. Die wysgerige gesprekke lei verder daartoe dat die karakters staties bly of slegs 'n geringe mate van selfstandigheid bereik, terwyl reisverhaal en roman nie tot 'n bevredigende eenheid gevoer word nie. Ten grondslag hiervan is weer Jan se ou kwaal, naamlik dat hy te veel skoolmeester wil wees. Dit doen hy deur die toerleier Ben as vertolker en informant vir die ander karakters én die leser te laat optree. In sy bespreking van Klipwieg het André P. Brink hierdie basiese probleem baie netjies aangedui: Die verteller vertolk nie net nie, maar beweeg heeltemal tussen die romanwêreld en die leser in met sy historiese, geografiese, filosofiese en ander kommentaar. In plaas van die aandag in te dwing na die romanwêreld as fiksiegegewe, verskuif hy dit voortdurend na die ‘werklike’ Kreta soos dit buite die boek om geken kan word. Daardeur boet die romanwêreld sy outonomie in en word dit naderhand eintlik net ‘illustrasie’ by 'n diskoers.Ga naar eind40 Met die topswaar ideële inhoud wat die slot oorwoeker, het Jan die ryk moontlikhede wat hy met die staptog as vertrekpunt gehad het, nie romanmatig sinvol benut nie. Daarom kon hy ook nie sukses behaal met | |
[pagina 412]
| |
die Engelse weergawe wat hyself in 1969 vertaal en aan Britse en Amerikaanse uitgewers voorlê nie. Veel groter sukses sou Jan ná sy terugkeer na Suid-Afrika hê met 'n Haan vir Eloúnda, die pragtige verblyfboek - een van sy heel mooiste werke - waarin hy liefdevol en met deernis die mense, met hul leefwyse, gewoontes en godsdienstige rituele, waarvan hy dertig maande deel was, oproep. Die titel van dié boek is 'n toespeling op Sokrates se laaste woorde ná hy die gifbeker gedrink het: ‘Kriton, ons skuld 'n haan aan Asklepios.’ 'n Haan vir Eloúnda was vir Jan 'n dankie-sê-boek waarin hy iets ter ere van die Kretensiese dorpie skryf. En met sy vertaling van Ioannes Kondulakis se Patoegas, wat HAUM in 1974 sou publiseer, stel hy iets van die Griekse literatuur aan Afrikaanse lesers bekend. In September 1969 beleef Jan en Jorie die laaste goue dae van hul verblyf in Eloúnda. Op 1 Oktober kom hulle opvolgers by hul huis aan, skraal, die blonde lang hare verwaaid: die latere bekende Nederlandse skrywer Henk van Woerden saam met sy vrou, Linda, en die klein Nicole. Jan en Jorie begin inpak, onder meer twee kratte met skilderye wat Jorie gemaak het. Op 6 Oktober groet hulle die mense in die dorp. Op 11 Oktober laai hulle. Hulle daaglikse besoeker Pappoús kom neem afskeid. Jan moet, sê Pappoús, die aartsengel Michael vra om hulle almal nog twintig jaar te laat lewe sodat hulle weer by die Rabies se herbesoek aan Kreta kan ontmoet. Hy spreek die versugting uit om twintig jaar jonger te wees en die groot diere in hulle land te kom skiet. Dan kan hy 'n slagter word met al die vleis. ‘Sy bolip bewe toe Margharita hom soen, en dan, toe ons begin afstap na die bakkie om te ry, draai hy weg, sy oë nat, maar sy rug styf en onafhanklik soos dit 'n man van Kreta pas.’Ga naar eind41 Hul laaste Griekse dae bring Jan en Jorie deur in Athene en drie nagte op Skiathos waar hulle Japanse kos eet en veel wyn saam met George Enslin en sy vrou drink. Van Athene vlieg hulle op 23 Oktober 1969 terug na Suid-Afrika. Onmiddellik ná aankoms vertrek hulle na Naboomspruit om 'n paar dae by Jan se ouers op hul plasie te gaan kuier. Terug in Johannesburg besoek hulle Jan se broers Hans en Carel. Maar in hul eerste weke in Kaapstad, waar hulle weldra aankom, is hulle mismoedig, wortelloos en verlam deur die selftevrede welvaart. Suid-Afrika, teken Jan in sy dagboek aan, is vasgevang in 'n geld-walm, 'n weelderoes voor die uitgestelde konfrontasie. In die somermaande, so vind hy, lok Tafelberg die seevaarder met sy dramatiese leuen-belofte van 'n wit waterval wat ewig stort. Maar agter dit alles is 'n dorre en liefdelose binneland. |
|