Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 373]
| |
IV
| |
[pagina 375]
| |
Hoofstuk XIII
| |
[pagina 376]
| |
1959 gebruik, op nege en veertig net binne die voorgeskrewe leeftydslimiet. Daarom besluit Jan om - ná die publikasie van sy eerste drie Bolandias, waarmee hy 'n natuurlike ruspunt in sy skeppende vaart bereik het - nie verder te wag nie en dadelik vir 'n beurs aansoek te doen. In sy aansoek spreek hy die vermoede uit dat die VSA in baie opsigte, wat tegnologiese en rasseprobleme betref, met Suid-Afrika vergelyk kan word en dat 'n besoek 'n dieper insig en begrip vir die situasie in sy eie land se probleme kan bring. ‘I want above all’, voeg hy by, ‘to get the “feel” of the US. To see, travel through it, meet other people, and not only sit down to a thorough reading of modern American writers, but to meet some of them, of all races.’ In 'n getuigskrif ter ondersteuning van die aansoek sê Uys Krige dat hy die afgelope jare met bewondering die ontwikkeling van Rabie as skrywer en ‘person of note’ in ons samelewing gevolg het. Hy het daarom nie die geringste twyfel dat 'n Carnegie-beurs aan Rabie goed bestee sou wees nie: Not only would he be enriched by his experiences in the USA, his on the spot investigation and study of so many aspects of American life, literature and thought in which he has always been interested, but also, I feel, our literature and public life will in due course benefit from it. In 'n verdere getuigskrif ter ondersteuning van die aansoek sê die argitek Revel Fox Rabie ‘is a man of purpose and principle who is prepared to speak out under circumstances where it requires dedication and moral courage to do so’. Hy wys verder daarop dat Jan en Marjorie op 'n kenmerkende realistiese en direkte manier op die rassesituasie in die land gereageer het. Marjorie het saam met die bruin skilder Peter Clarke uitgestal en tydens die uitstalling skole saam met hom vir 'n vraag-en-antwoord-seminaar met die leerders besoek, terwyl Jan by herhaling in bruin skole praatjies oor die hedendaagse literatuur aangebied het. ‘I think’, voeg hy by, ‘that it would be fair to say that in the artistic-intellectual field in the Cape they have jointly done more to bridge gaps between races than anyone else.’ Op 10 Desember 1965 ontvang Jan berig dat 'n reisbeurs van $3 900 aan hom en Marjorie gesamentlik toegeken is, met die bedoeling om die Amerikaanse kultuur te bestudeer en om skrywers en skilders te ontmoet. Omdat Waar jý sterwe nog in 'n stadium van afhandeling was en omdat | |
[pagina 377]
| |
hulle die strawwe winters van Europa en die VSA wou ontduik, besluit hulle om eers met die begin van die Noordelike Halfrond se somer te vertrek. In die jare in Parys het hulle geleer hoe om goedkoop te reis. Tog het hulle by hul vertrek nie kon dink dat hulle byna drie en 'n half jaar oorsee sou bly nie. | |
IIMet 'n goedkoop vlug na Basel vertrek Jan en Jorie op Saterdag, 11 Junie 1966.Ga naar eind1 In 'n swoel tropiese nag, wat nog swarter oor die Kongorivier uitstrek, land hulle op Leopoldville (vandag Kinshasa). Die volgende dag sien hulle die Sahara onder hulle uitgestrek lê, met die Middellandse See en die sneeuwit Alpe 'n bietjie later. Basel vind hulle 'n netjiese stad, maar baie duur. Op Maandag, 13 Junie, vertrek hulle met die Lorelei Ekspres na Mainz en Eltville en besoek hulle in die Rheingau hulle goeie vriend, dr. Hans Ambrosi, en sy fabelagtige wynkelders. Per boot vaar hulle op die Ryn tot by Koblenz en reis van daar per trein na Keulen waar hulle die katedraal besigtig. Op Woensdag, 15 Junie, kom hulle aan in Amsterdam waar dit sulke lekker weer is dat Jan in kortbroek en sloffies rondloop. Hulle gaan tuis by Hans Engelman, een van die eksponente van die Cobragroep vir wie hulle in Parys leer ken het, en saam met die digter Gerrit Kouwenaar drink hulle jenewer en bier. Op die Keizersgracht besoek hulle die biblioteek van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging en sien hulle weer vir Braam de Vries, in daardie stadium in Nederland aan die studeer. Wat Jan veral interesseer, is die ‘happenings’ van die provo's by die standbeeld van 't Lieverdje op die Spui en die tydskrif Frisse Lucht wat hulle Vrydagaande op die Leidse Plein verkoop en waarin hulle te velde trek teen bevuiling van die lug, die VSA se teenwoordigheid in Viëtnam, die Bom en alle vorme van outoriteit. In hulle beleidstukke vra hulle dat die polisie met lekkers moet rondloop en die Pil gratis vir meisies bo veertien jaar moet uitdeel. In die Rijksmuseum is Jan opnuut meegevoer deur die werk van Rembrandt, Vermeer en Hals. Hulle sien ook weer die digter Simon Vinkenoog, nog 'n vriend uit hul Paryse dae. Hy rook marijuana en is 'n voorstander van 'n rewolusie wat die klein lewetjie van elke dag omvorm tot die volle lewe waarin die mens werklik mens is: kreatief, vol pret, vol vrolike, stralende, laggende en blye mense; kortom, 'n wêreld en maat- | |
[pagina 378]
| |
skappy met liefde. ‘Die nuwe oeroue naïewe Utopia’, teken Jan in sy dagboek aan. Op Donderdag, 23 Junie, vertrek Jan en Jorie na Antwerpen waar hulle op die Grote Markt Belgiese bier drink. Die volgende dag reis hulle na Parys waar hulle in Breyten en Yolande Breytenbach se dakhuis in 15 Rue Malebranche tuisgaan, oor die letterkunde gesels en Franse wyn drink. Hulle besoek ook hul ou adres 33 Rue de la Tombe Issoire in Montparnasse en sien ná jare ou vriende terug: die skilder George Pouget, dik en suksesvol, en die skrywer Rudy Kousbroek, skraal en sinies. In die strate van die Quartier Latin dwaal Jan ‘met my dooie vrag verlede’ rond, soos hy in sy dagboek aanteken. Sy oë is ‘sienloos’, en sonder gevoel, miskien 'n bietjie triestig, loop hy weer op sy ou paaie. Parys was sy leerskool, maar geen ‘warmte of dankbaarheid’Ga naar eind2 teenoor die stad wel by die herbesoek by hom op nie. Dit lê nou vir hom ver buite die realiteit waarmee hy daagliks in Suid-Afrika te doen het. Op 29 Junie sluit André Brink, so hoflik en aangenaam soos altyd, by hulle aan, en saam woon hulle 'n voorstelling van Eugene Ionesco se La soif et la faim in die Comédie-Française by. Ná die tyd gesels hulle met Ionesco. Maar Jan is nie juis beïndruk met die stuk nie. As die eerste twee bedrywe, sentimenteel en retories, in Afrikaans was, merk hy op, sou niemand iets daarvan gedink het nie. Alleen die derde bedryf se mise-en-scène vind hy indrukwekkend. Die Franse akteurs skree vir hom te veel. Saam met Breyten, Yolande en André eet hulle in die Polidor in die Rue Monsieur-le-Prince, een van die weinig oorgeblewe egte Franse restaurants soos Jan dit later sou beskryf.Ga naar eind3 Dit is die restaurant wat later in Breyten se bundel Lewendood sal figureer: in die Rue Monsieur-le-Prince
is die restaurant waar ons presies
om nege-uur en nie 'n dag later
sal ontmoet [...]
sal ons couscous mouton bestel vir twee -
ek kan die gekorrelde sneeugeel graan
en die bietjie botter al proe -?
en 'n bottel baie donker Sidi Brahim
met die smaak van die son en die see
van die Maghreb se wingerde?Ga naar eind4
| |
[pagina 379]
| |
Breyten is vir hom vol onuitgesproke heimwee na Suid-Afrika, met 'n verbintenis waarteen hy hom met 'n Boeddhistiese gelatenheid probeer verweer. Op Woensdag, 6 Julie, neem Brink en Breyten by St. Lazare afskeid van Jan en Jorie wat oor Dieppe na Newhaven vaar en van 6 tot 14 Julie by Jorie se advokatebroer Fleming en die verwagtende Valery in Londen tuisgaan. Jan ontdek nou opnuut die grys, enorme maar vir hom weinig indrukwekkende stad met sy stadiger tempo in vergelyking met Parys. Die taxi's lyk vir hom soos styf regop swart kiste, verwant aan die Engelse se ‘bowler hats’. Die oorwegende indruk is dié van 'n grys hemel en reën, met af en toe 'n bietjie son. Hulle besoek die National Gallery en die Natural History Museum met sy seediere en stap op Sondag, 10 Julie, in Hyde Park om na die seepkisredenaars te luister. Godsdiens en politiek is die hoofonderwerpe. Dit is veral swartes wat in die ope demokratiese forum die Britte as onverdraagsame Fasciste takel. ‘You say you saved me from cannibalism, but how many Germans did you kill?’ vra een van die sprekers. ‘As 'n mens in 'n park of weg van 'n hoofstraat is, dreun die stad soos 'n see’, teken Jan aan. ‘Elke paar minute huil staalvoëls oor die hemel. Maar die mense praat min. Die “tubes” is doodstil behalwe vir masjiengedreun. Londen is enorm, langsaam, self-verstik.’ Telkens hoor hy afkeurendkritiese geluide oor Suid-Afrika wat hom irriteer. In sy dagboek skryf hy: ‘Ek wil Europa ervaar, nie die Nasionaliste se rassisme verdedig nie. Maar as iemand die hele S.A. smalend afmaak, dan...’ Jan besoek die uitgewersfirma Collins wat 'n vertaling van Waar jý sterwe as A man apart sou publiseer en bring 'n fantastiese dag in die geselskap van Athol Fugard deur.Ga naar eind5 Op 14 Julie vertrek hy en Jorie na Edinburg, 'n grys, stugge stad met 'n statige waardigheid, klipgeboue en groen heuwelbergies wat dit mooi optower. Die stad is vol oumense en het weinig kafees. 'n Maand lank bly hulle by Jorie se moeder en word hulle bekoor deur die landelikheid en die groen heuwels van Skotland. Hulle koop 'n Morris nes hulle een in Kaapstad vir £156 en ry van 30 Julie tot 26 Augustus deur die lieflike Highlands van die noordweste. Vir die reis skaf Jan vir hom 'n paar loopskoene teen dertig sjielings en 'n anorak aan wat hy saam met sy slaapsak en tent vir die oornagtings inpak. Jan merk op dat die Skotse nasionalisme nog slegs in 'n hartstogtelike topografiese landskapsliefde 'n uiting vind en nie meer 'n politieke dimensie het nie. Aan sy vriend Kenny Parker, wat hom intussen in Brittanje gevestig het, skryf hy op 27 Julie dat die ganse Enge- | |
[pagina 380]
| |
land ‘hier bo in die koue klippe van Skotland besig [is] om hul stede te ontvlug’. Af en toe, gaan hy voort, ‘is hier darem son, en dan hoor jy die woord “nice” tot vervelens toe’. Kenny, ook nog nie gewoond aan die mis en reën en koue van Brittanje nie, skryf aan Jan 'n mens moet in hierdie land ‘brons ballas’ hê om te kan oorleef. Jan, guitig soos hy dikwels kon wees, reageer: ‘Ek dag jy het al die tyd gehad!’ Tydens Jan en Jorie se Skotse rondreis gee die Wêreldhof in Den Haag uitspraak teen Liberië en Ethiopië en ten gunste van Suid-Afrika in verband met die reg op sy mandaat oor Suidwes-Afrika. Die Skotse koerante is verstom en verontwaardig. Hulle skel op die Wêreldhof en redeneer dat die weg nou oop is vir direkte politieke optrede teen Suid-Afrika. Op 6 September, 'n paar dae voordat hulle na die VSA sou vertrek, kom die nuus dat dr. Verwoerd in die Kaapse Parlement vermoor is. | |
IIIOp Saterdag, 10 September, vertrek Jan en Jorie om halfdrie die middag van Prestwick op 'n BOAC-vlug na New York. Die vlug duur sewe uur, maar weens die tydsverskil moet hulle hul horlosies vyf uur terugstel, wat hulle dag soveel langer maak. Op die Kennedy-lughawe kyk die beampte wat die immigrasie hanteer, suspisieus na die bebaarde Jan se paspoort, veral as hy ‘skrywer’ as beroep aangedui vind. ‘Writer? I thought you were a mystic with that photo.’ Toe hy merk Jan is 'n amptelike gas van die Carnegie-Organisasie, word hy egter gerusgestel: ‘Gee, you must be some artist to be invited to our country. Welcome to the USA.’ In 'n geel taxi lê hulle die twintig myl na New York af.Ga naar eind6 Met sy rooi bakstene in die ouer geboue en die wolkekrabbers lyk die stad baie soos 'n groter Johannesburg. Hulle sien hoe die mense, dikwels met verloopte, lelike gesigte, in enige soort klere rondslenter. Veral die mans, merk hulle, word te gou vet. Binne 'n paar dae los hulle die duur hotel wat die Carnegie-mense vir hulle bespreek het en gaan hulle tuis in die veel goedkoper ou kunstenaarshotel, die Chelsea, naby Greenwich Village, waar 'n apartement met drie kamers, 'n stoof, 'n yskas, bad, toilet, vier stoele, twee leunstoele en 'n skryftafel hulle $65 per week kos. Dit is die tipe hotel, skryf Jan, waar jy vir jou kamer met 'n skildery of 'n manuskrip kan betaal en waar skrywers soos Dylan Thomas, Brendan Behan en Arthur Miller tuisgegaan het.Ga naar eind7 | |
[pagina 381]
| |
Van die begin af het New York Jan en Jorie gefassineer. Die kunsmuseums wek by hulle die indruk dat Amerika die helfte van Europa daarheen verplant het,Ga naar eind8 terwyl die stad só kosmopolities is dat hulle in die winkels meer Spaans, Italiaans en Jiddisj hoor as Engels. Die moderne Amerikaanse skilders, so is hulle indruk, bring sosiale satire en humor terug in hul kuns, maar saam daarmee verval die dissipline en vervloei die vorme. Die Amerikaners word vir hulle oordonder deur advertensies en die reglementering van 'n groot moderne vaartbelynde samelewing; nogtans slaag hulle daarin om vriendelike indiwidualiste te bly. Die mense, hoor hulle, bring hulle eie motors die stad in; ‘deep down [they] have a sneaking belief that an atomic bomb is going to fall on N.Y., but always on a farther away street, and that they'll then be able to get away in their car’. Só druk is die verkeer en die massa mense in die stad dat een van die koerante verkondig: ‘Happiness is a place to park your car.’ Die VSA, vind hulle, is behep met seks en die kuns vibreer tussen tegnologie en seks asof dít polariteite is. Oomblikke lank, in die gebare en grynslagte of die dronkes se gesigte, sidder 'n mens voor die afgrond van moontlike onderdrukte geweld in dié land se mense. Saam besoek Jan en Jorie die Carnegie-Organisasie, woon hulle lesings by en besigtig hulle die Museum of the American Indian wat Jan aan ons eie Koisan laat dink. Met die digter Barend Toerien, wat by die Verenigde Volke werk, ry hulle deur Manhattan, Harlem en die Duitse Yorkville en besoek hulle Jan se literêre agent, Cyrille Abels, wat in die Amerikaanse uitgawe van Waar jý sterwe belangstel. New York se reuk is vir hulle 'n soeterige mengsel van warm metaal, chemiese gifstowwe, dieseldampe, ontsmettingsmiddels, stof en vars, warm koffie. Hulle is bly om 'n paar dae saam met Barend op sy bewerplaas by Kerhonkson, negehonderd myl noord van New York, deur te bring. Hulle Kaapse vriende Sue en Basil Robinson, ook op besoek aan die VSA, loop saam met hulle deur die Village en saam besoek hulle museums en Fire Island. Op 25 September sien hulle Arthur Miller se A view from the bridge in die Sheridan Square Theatre, pragtig gespeel, en die volgende dag besoek hulle die VVO waar D.P. de Villiers, een van die advokate wat in Den Haag Suid-Afrika se saak verdedig het, voor 'n kwartvol saal oor Suidwes-Afrika praat. Twee besondere ondervindings vir Jan is 'n besoek aan Chinatown en die East Side se armoede, en 'n wandeling onderweg na die skrywer Norman Mailer oor die ontsaglike Brooklyn Bridge met 'n pragtige uitsig op die Manhattan- | |
[pagina 382]
| |
torings. ‘Hier voel 'n mens’, teken Jan in sy dagboek aan, ‘die VSA se industriële, jaende, strewende mag’. Ná 'n maand in New York begin Jan en Marjorie met hulle rondreis deur Kanada en die VSA met die fantastiese landswye Greyhound-busdiens wat met die slagspreuk ‘$90 for 90 days’ vir buitelanders soos hulle beskikbaar is.Ga naar eind9 Hulle besoek talle universiteite, soos Yale, Harvard, Columbia, Quebec, Northwestern en Chicago. Orals kom Jan in aanraking met dosente en by herhaling spreek hy die studente toe. Quebec, op sy hoë oewerrots, is 'n lieflike ou stad, vreeslik Frans en baie Katoliek, met elke tweede straat vernoem na die een of ander heilige. Montreal, die enigste tweetalige stad in Kanada, is 'n gaterige, onvoltooide Johannesburg waarin die mense woel, afbreek en weer opbou. Chicago is met sy hoë geboue, waarvan die eerste sestien verdiepings parkeergarages is, 'n groot, mooi stad, amper so indrukwekkend as New York. Op Sondag, 23 Oktober, lees hy die dikke Chicago Tribune van 266 bladsye. ‘A small town’, sê dié koerant, ‘is one where you can finish your Sunday paper at breakfast’. Saam besoek hulle kunsmuseums en die enorme Museum of Science, maar Jan is nie beïndruk met die werk van Jackson Pollock nie. Anders as New York word hulle getref deur die godsdienstige dimensie van Chicago. In die aand sit Jan by die venster van sy woonplek, vyftien verdiepings hoog, en kyk na die lieflike ligtorings van die stad, terwyl hy luister na die klokkespel met religieuse wysies wat oor die hele stad weergalm. Jan spreek die studente toe oor die rasseprobleme in Suider-Afrika. Later sê 'n student vir Jorie dis die beste lesing wat hy nog by Northwestern gehad het.Ga naar eind10 Hulle bly vier dae in Chicago, reis dan op Woensdag, 26 Oktober, suid oor plat vlaktes met vaalswart grond waar die myle mielies nie alles dek nie. Indianapolis met sy 550 000 inwoners lyk vir hom kleiner as Pretoria. Verder suid maak die beboste rante 'n mooier indruk. In Bloomington, Indiana, neem hulle deel aan die jaarlikse ‘African Studies Congress’ en praat Jan met Leonard M. Thompson en Ned Munger oor Suid-Afrika. Baie van die mense by die kongres verguis Afrikaners en hy voel treurig tussen soveel eksperte oor Afrika. Toe hy die volgende dag met 'n hoofpyn na die lokaal stap waar die kongres gehou word, val die onooglike dooie gordel motels, vulstasies en advertensies, myle uitgestrek aan alle kante van die stad, hom teen. Hy gesels ook met dr. Dan Kunene, nou van Los Angeles, wat vroeër aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was - 'n gawe, objektief kalm man. Só ontsteld is Jan oor die VSA se wolwe wat met kri- | |
[pagina 383]
| |
tiek op Suid-Afrika toesak dat hy ná 'n bier en sigaret ellendig siek word en begin opgooi. Die skokkende diskriminasie teen Afrikaans is vir hom ook sigbaar in die lang boekelyste wat geen enkele vertaalde Afrikaanse werk bevat nie, terwyl Engelse Suid-Afrikaanse boeke wel voorkom. Hoewel ontstellend, is die konferensie tog vir hom stimulerend en hy vind dat die swartes van Afrika teenoor die Suid-Afrikaners vriendelik optree. Vanaf Bloomington reis hulle per Greyhound weswaarts oor die groot plat vlaktes van die Middle-West in die rigting van Kalifornië. Hulle kruis die Mississippi, ry deur Denver en Salt Lake City, hoofstad van die Mormone met sy museum van die pionierslewe. Verder aan is die Rockies met hul groot, wye golwings toe in wolke en sneeu. Die landskap lyk vir hulle nes die Karoo, met plat en droë bossies. Jorie klets heeldag met bustannies oor hoe sleg die kunsmatige kos van die VSA is. Hulle verweer is dat die kinders juis dít wil hê: ‘This is not real food, this doesn't come out of a can!’ Donderdag, 3 November, is hulle in die Sierra Nevada: soos die Rockies grootse berge, maar tog met 'n sekere eentonigheid en met geen dramatiese hoogtes nie. Hulle bereik San Francisco, 'n mooi woelige stad op ‘baie heuwels met geelwit en rooi huise en dwelmslawe en een van die wêreld se beste boekwinkels, City Lights’.Ga naar eind11 Op Dinsdag, 8 November, besoek hulle die Berkeley-kampus van die University of California met sy 27 000 studente in Berkeley alleen en nege Nobelpryswenners, 'n mooi landelike kampus teen 'n berghang in 'n mengelmoes style. Dit laat hulle baie aan Stellenbosch dink. Vir hulle jaarlikse jool gebruik die studente 'n nagebootste Griekse teater soos dié by Epidaurus. Die kuns wat Jan sien, stel hom teleur. Vir hom, teken hy in sy dagboek aan, moet 'n kunstenaar sy werk lewe, nie net tegniese uitwerpsels lewer nie. Hy vra hom af hoeveel kunstenaars van die VSA kompensasie soek by Asië se Boeddha en Zen en of dit 'n ontvlugting van die masjienland is. Ná 'n besoek aan die Golden Gate Park vertrek hulle op 14 November na Monterey se baai en die kunstenaarstadjie Carmel. In die omgewing van Santa Barbara lyk die landskap na 'n kruis tussen die Klein Karoo en die Hoëveld, allermins Mediterreens. Op Donderdag, 17 November, land hulle aan in Los Angeles, vir Jan 'n ‘seekatstad’, oninteressant vanweë die baie snelweë. Hulle besoek die pragtige kitsch van Disneyland en Maryland en hy wonder of die Amerikaners met hulle aanbidding van die glansryke sintetika ooit van lewende dinge hou. Maandag, 21 November, lewer hy 'n lesing by prof. Langston van Engels se derdejaarsklas oor ‘Writing | |
[pagina 384]
| |
in South Africa’, maar hy voel 'n gebrek aan kontak en ware belangstelling. In 'n radiopraatjie praat hy oor ‘“Droogte” en die Afrikaanse taal’. Saterdag, 26 November, is hulle weer op pad dwarsoor die dorre kusberge en woestynvlaktes om die Coloradorivier na Phoenix Arizona te kruis. Die dorre bruin aarde laat Jan baie aan ons Karoo dink en hy sien 'n ooreenkoms tussen die vroeë pioniers van dié streek, met hulle rug gedraai op die oseaan waaroor hulle moes seil, wat die Woeste Weste moes in, en ons eie Voortrekkers en binnelandse pioniers wat oos- en noordwaarts moes trek. Hy dink ook aan die romantiek van die Middle West met hulle cowboys, simbool van hoe die Amerikaner 'n nuwe wese geword het. Op Sondag, 27 November, sien hulle die magtige skeur van die Grand Canyon. In sy dagboek vra Jan: ‘Wat is dit wat die Amerikaners laat verkunsmatig of tydelik nomadies wortelloos laat verbystroom? Kon hulle nooit regtig wortel skiet in die Nuwe Wêreld nie, hoewel hulle hard probeer het? Wat is hul verhouding tot hul geskiedenis werklik?’ Oor wye vlaktes met gras en met bloedrooi tafelberge teen die gesigseinder ry hulle na Albuquerque in New Mexico en sien hulle heelparty Indiane, lewensmismoedige dronklappe met geslote gesigte, soos sommige Kaapse bruin mense. Deur Texas, 'n ryk streek met baie beeste, gaan hulle, ná 'n besoek aan New Orleans, na Florida waar hulle by Cape Canaveral met sy enorme lanseertorings die ruimtesentrum besigtig - vir Jan met sy drie wetenskapfiksieverhale besonder boeiend. Naby Atlanta, Georgia, maak hulle kennis met die boekmense en akademici van die Deep South, voordat hulle noordwaarts reis en teen 22 Desember die bus na Washington neem, 'n on-Amerikaanse stad met soliede, Europees-klassieke geboue. In bittere koue doen hulle Kersinkopies, ry deur die stad en bekyk die Pentagon, Kennedy se graf, die Lincoln-Monument, die Capitol en die White House. Dwarsdeur die nag en volgende dag sneeu dit, dwarrel dit aaneen - 'n wit wattekombers oor huise, strate en motors. Jan en Jorie bly tuis soos gevangenes en lees. Saterdag, 24 Desember, is die stad verlam deur die sneeustorm en beleef hulle 'n egte ‘white Christmas’. Op Maandag, 26 Desember, besoek hulle die National Gallery of Art met sy lieflike Goyas en Rembrandts en die vroeë werke van Picasso, Modigliani en Frans Hals. In die Museum of Natural History is dit veral die Indiaanse vertoonsale wat hulle beïndruk. Op Maandag, 2 Januarie 1967, wag hulle een en 'n halfuur in die stampvol Greyhound-stasie vir die bus wat hulle vir die laaste drie weke van hulle Amerikaanse besoek na New York sal terugneem. Die reis duur | |
[pagina 385]
| |
vyf uur en by hul aankoms gaan hulle reguit na die Chelsea Hotel waar hulle teen dié tyd behoorlik tuis voel. In sy dagboek teken Jan, ná byna twee maande se reis dwarsdeur die land, sy indrukke van die Amerikaanse psige aan. Hy het waardering vir die mense se buitengewone mobiliteit en hulle ondogmatiese, simplistiese en wesentlik onmaterialistiese ingesteldheid. Deur opeenvolgende geslagte kon hulle 'n basiese naïwiteit behou, omdat hulle soos nomades altyd kon padgee na waar die lewe beter en makliker kon wees. Hulle land was altyd groot en ryk genoeg om hulle 'n optimisme en 'n egte demokratiese oopheid te laat behou. Hy vermoed hulle swaarkry lê nog voor, maar hy meen hulle is ten minste toegerus met 'n mobiele tradisie en pragmatiese optimisme om verandering die hoof te bied. In die verslag wat hy as voorwaarde vir die toekenning van die beurs na afloop van sy besoek aan die Carnegie-Organisasie moes lewer, sê Jan 'n teleurstelling vir hom was dat hy min skrywers van betekenis kon ontmoet. ‘Writers’, skryf hy, ‘are shy animals who rarely come out of their burrows when an inquisitive intruder is waiting outside’. Daarvoor het sy besoeke aan die gebou van die Verenigde Nasies, die talle films, toneelvoorstellings in teaters, die kontak met akademici en die lesings wat hy oor die Suid-Afrikaanse situasie moes lewer, ruimskoots vergoed. Onder die baie spesiale plekke wat hulle besoek het, noem hy in die besonder die Grand Canyon, die Kennedy-ruimtesentrum, Disneyland en Maryland. Hy het ook gesprekke gehad met uitgewers wat geïnteresseerd daarin is om vertalings van Afrikaanse werk te publiseer. Waarvan hulle albei gehou het, sê Jan in sy verslag, is die oop en demokratiese benadering van mense tot die maatskappy. Ten spyte van die rasseprobleme vind hulle die VSA die mees demokratiese en klaslose land waarvan hulle kennis dra. Dikwels het hulle uitdrukkings gehoor soos ‘The biggest in the world...The artichoke capital of the world...The longest water-snake in the world...’ ens. Dit het hulle laat grynslag, ‘but with the realization that this stems from the true bigness of the country, and that the new people from the cramping of old Europe had to express the limitless release their parents had felt’. Hulle het nie gevind die Europese beskuldiging van die VSA as materialisties is waar nie, ‘because the allpervading cultural stress is on a way of life, a striving and a becoming, which does not imply a static adherence to possessions’. Daarteenoor het die kunsmatige in die Amerikaanse leefwyse hulle teen- | |
[pagina 386]
| |
geval, ‘a turning-away from natural things even when industrial demands do not make them imperative’. Dikwels was die voedsel sonder smaak, gewone aarde en grond word dikwels ‘dirt’ genoem, terwyl die ‘complete victory of automobiles’ in ouer stede soos New York en die beklemtoning van tegnologiese konformiteit ontstellend is. Daarby was dit hulle ervaring dat in die kunste enigiets ‘nuut’ onkrities aanvaar word en dat die ‘hungry demand for anything different’ werklike talent in die teater en die literatuur onderdruk. Hy was teleurgesteld - en 'n mens bespeur weer die Jan Rabie wat dieselfde kritiek op sy tydgenote in Suid-Afrika het - om so min betrokke skrywers teë te kom wat werklik in die politiek en die maatskaplike probleme van hul land geïnteresseerd is en uit 'n verantwoordelikheidsgevoel bereid is om aan te val of te verdedig. ‘I found many American novelists, engrossed only in themselves. This may be honest and normal in a biological way, but it is certainly dishonest in an intellectual way.’ Ten spyte van die kritiek op bepaalde punte was die besoek aan die VSA vir hom 'n verrykende ervaring. Aan die einde van sy verslag sê Jan ‘that my experience of America has been much more than I had hoped for, much more complex and profound, much more of a lasting bond. From now on I share in much more of this planet.’ Tydens die laaste drie weke van hulle Amerikaanse verblyf sien Jan en Jorie baie films van Fellini, besoek hulle kunsmuseums en verlustig hulle hulle in die boekwinkels. Hulle geniet veral van die bonte stad wat New York is. Daagliks sien hulle enige soort gesig van enige soort ras in enige soort kleredrag, 'n fantastiese mengelmoes en smeltkroes van mense. Op 'n dag, voordat hulle die hyser in die Chelsea Hotel instap, sê Jorie: ‘Maar daardie Amerikaner lyk net soos Karel Appel’, die Cobra-skilder vir wie hulle in Parys leer ken het. Voordat hulle verder kon gaan, hoor hulle dieselfde man vir sy vriend sê: ‘Maar die man trekt heel veel op Jan Rabie.’Ga naar eind12 Dit is toe inderdaad Karel Appel en die skrywer Bert Schierbeek, ook 'n Nederlandse Vijftiger uit hul Paryse dae, ‘albei daar om geld uit die Amerikaners te kom maak’.Ga naar eind13 Saam met nog 'n paar van Appel en Schierbeek se landgenote beleef hulle 'n hele Hollandse jubilasie. Op Dinsdag, 10 Januarie, woon hulle die opening van Appel se woeste kleurportrette by, met Schierbeek, hope ander Hollanders en baie bekende Paryse gesigte daarby. Daarna gaan hulle saam met Barend Toerien na Peter Ritner, uitgewer | |
[pagina 387]
| |
van Macmillan en skrywer van 'n boek waarin hy ruimtevaart as die groot taak vir die mens en as die enigste werklik betekenisvolle gebeurtenis van die twintigste eeu sien. Sy vrou, Susan, gebore in Suid-Afrika, vind Jan 'n hoogs intelligente persoon. Sy is besig met 'n tesis oor die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika. Sy weet veel van die Broederbond en die stryd tussen die liberales en die ‘Fasciste’ in die Kerk. Haar bête noires is Koot Vorster en Adriaan Pont, maar sy het waardering vir predikante en teoloë soos Attie van Wyk, Beyers Naudé en P.A. Verhoef. Jan en Jorie besoek nog 'n paar museums en gaan dan op Saterdag, 14 Januarie, na Toerien se plaas by Kerhonkson aan die voet van die Catskill-berge. Orals is sneeu en denne en veryste mere. Ná die lugbesoedeling van New York geniet hulle van die vars lug, die wandeling in die sneeu en die ski en skaats. Jan merk hoe Barend, ondanks die weer, Kaapse waterblommetjies kweek en drie Suid-Afrikaanse skilpadjies in sy tuin aanhou. Wat hom veral interesseer, is die bewers en Kersboompies waarmee Barend boer. Maandag, 16 Januarie, is hulle terug in New York en sien hulle Peter Weiss se Marat/Sade in die Majestic Theatre. Vir Jan is dit nie so skokkend soos die berigte daaroor voorgehou het nie. Die stuk is vir hom geweldig interessant en lok rasionele vrae oor die hoekom en die wat van rewolusie, oor armoede en oor vandag se bewindhebbers uit. Die stuk word vir hom goed gespeel, maar tog ontbreek daar êrens 'n kohesie, 'n emosionele draad wat enduit meelewing van die hoorder verkry. En hy vra hom af: Is ons so gehard en blasé dat die stuk ons nie meer kan skok nie? Selfs kopulasie of Marat kaal op die verhoog is nie steurend nie. ‘Dit is my voorbarige opinie dat Amerikaanse toneel nie oorspronklik en goed is nie, te veel lawaai en gedoe en dis al.’ Jan het 'n hoë dunk van die fantastiese rykdom van die Amerikaanse museums en hul moderne galerye. Daarteenoor is baie van die kuns egter vir hom te veel siniese literêre kommentaar of nabootsing van die wetenskap en die kommersiële industrialisasie, met oorheersing van, soos hy dit stel, ‘die moffie-kliek wat nie waarlik skeppend is nie’. Te veel van die ‘moderne’ kuns, skryf hy in sy dagboek, is vol slim baksteentjies, maar hy vra: ‘Waar's die verdomde huis?’ Dinsdag, 17 Januarie, begin hulle boeke verpak en aanpos na Skotland. Nou ontdek hy dat die uitgewer Peter Ritner in 1960 'n nare, sleg ingeligte boek oor Suid-Afrika geskryf het, vol foute en Afrikanerhaat. Onder meer sê hy ‘all male Afrikaners should be castrated’, en Jan vra hom af watter onmenslike paranoia 'n man dryf om so hovaardig te wil moor en | |
[pagina 388]
| |
uitwis? In sy dagboek teken hy aan: ‘Hoe kan ek so 'n man weer ontmoet en nie wil oorlog nie - groot fris dik selftevrede vent wat hy is? Hoekom word hy as slim gereken? Oor Engelse Suid-Afrikaners sê hy niks. Die lae vark!’ Later in die week pak Jan en Jorie nog boeke en die temperatuur sak tot twintig grade benede vriespunt. Maandag, 23 Januarie, hulle laaste dag in die VSA, pak hulle finaal in en los hulle bagasie in die portaal van die hotel. Met die metro gaan hulle na South Ferry om nog foto's te neem en die Hollandse beginpunt van Manhattan weer te bekyk. Hulle loop deur Wallstraat en besoek die beroemde Effektebeurs, met wagte wat orals vanaf die balkon afkyk op die groot saal vol ovale banktafels waarom duisende mense swerm. Hulle eet in die Seafare Restaurant, maar die verwarmingstelsel in die gebou is as gevolg van die ysige koue buite só warm dat Jan sy kos nie kan inkry nie. Die kelner is bewus daarvan dat die restaurant te warm is, maar niemand dink daaraan om die termostaat te verstel nie. Sesuur die aand daag Barend Toerien met sy Volksie op en ry hulle 'n uur lank verby die stad se ligtorings in 'n tonnel-tou oor Long Island na die Kennedy-Lughawe. Daar is tyd genoeg om op die waarnemingsdak rond te loop en die gebouekompleks te bewonder, byvoorbeeld Pan-Am se ronde sambreel waaronder die lugreuse inskuiwe soos kalwers wat kom drink. Elke dertig sekondes dreun 'n vliegtuig regs van hulle omhoog. Hulle drink 'n duur drankie, groet en stap in die BOAC-vliegtuig vir die reis na Prestwick. Die vlug duur ses en 'n kwart uur, maar hulle haal vyf uur in teen die draaiing van die aarde. Hulle vertrek om halfnege die aand en land om kwart voor agt op die oggend van 24 Januarie. Voor die landing sien hulle 'n rooi strepie bo die wolkbanke voor hulle in die ooste, dan duik die vliegtuig omlaag deur die wolke in 'n blombleek dag, met rye rooi en bloupers liggies wat nader storm. Hulle voel 'n ligte stampie, hoor die hernieude dreuning van die motore en dan hou hulle stil. Jan en Jorie stap deur die doeane-hek Skotland se koel grysgroen wintermôre in. | |
IVNá vyf maande lank met 'n reisbeurs deur die VSA het Jan en Jorie genoeg gehad aan die blink, sintetiese kos van die Amerikaners en behoefte gevoel aan die oudste stukkie Europa wat hulle in Kreta, die wieg van die Westerse beskawing, wou vind. | |
[pagina 389]
| |
Maar vir eers kuier hulle van 24 Januarie 1967 tot 23 Februarie by Jorie se moeder en tant Mamie. Hulle besoek wel Glasgow, maar is meestal tuis vanweë die grys koue weer sonder sneeu. Jan vertaal Die groot anders-maak waarin die uitgewers in Amerika moontlik sal belangstel. Op 23 Februarie vertrek hulle na Londen waar Jan vir hulle twee treinkaartjies na Athene via Parys koop. Hy ontmoet uitgewers en uitgewekenes uit Suid-Afrika, maar droom slegs van die son en hoe hulle ná die koue van die afsydige Londen in Kreta sal kan ontspan. Hy is sat van nege maande oorsee, wat neerkom op winter en 'n optog deur stede, haastig en neerdrukkend. Op 6 Maart vertrek hulle na Parys waar Breyten eers die aand van 8 Maart aankom, bruingebrand maar verwilderd-bitter ná 'n skeepsreis langs die ooskus van Afrika en 'n ontmoeting met sy ouers in Swaziland, met net 'n toegelate besoek van agtien uur in Kaapstad. Yolande is stralend oor al die aandag en avontuur, maar Breyten se negentienjarige sussie Rachel, wat hulle na Europa vergesel, is nog skugter in die grote Parys. Jan lees Etienne Leroux se jongste roman, Die derde oog, maar hy vind dit sleg: 'n pretensieuse gespeel met ryk geleerdheid - snobisme sonder kant of wal. Verder van die werklikheid in Suid-Afrika, meen hy, kan 'n skrywer nie kom nie. Hy voel selfs fantasie moet darem 'n kern van ware realiteit as basis hê. Op die aand van 10 Maart 1967 vertrek Jan en Jorie met die trein uit Parys na München vir die eerste skof van hulle reis na Kreta. |
|