Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 355]
| |
Hoofstuk XII
| |
[pagina 356]
| |
met geen linkse politieke alliansies nie, se paspoort gegryp net voor hy in Port Elizabeth op 'n skip moet opstap om vir studie oorsee te vertrek. In Die Burger van 1 Julie 1959 skryf Jan besadig oor die voorval,Ga naar eind4 maar uit sy dagboek blyk sy ware woede as hy hom oor die ‘varkigheid’ van dit alles uitspreek en aanteken: ‘Hierdie regering is 'n laster voor God!’ Wanneer Suid-Afrika op 31 Mei 1961 'n republiek word en die een stuk bombasme na die ander oor die radio dreun, skryf hy in sy dagboek: ‘Fantastiese stortvloede retorika en groot woorde onnadenkend uitgebasuin verdrink my simpatie met talle mede-Afrikaners se droom van 'n republiek [...] Hoe lank sal ek nog so 'n selfhipnotisering deur middel van grandiose niksseggende woorde, so 'n woord- en geesvermoording in my taal deur leiers van my volk moet verduur. Jy voel hartseer of lus om te kots.’ In sy onderbewuste was daar by die aanhoor van hierdie geluide ook die herinnering aan sy eie vader wat, al was dit dan op kleiner skaal en in 'n beperkter kring, in 1938 dieselfde soort retoriek op Riethuiskraal by 'n klipstapel ter ere van die Voortrekkers gepleeg het. Om aan hierdie opswepende woordgeweld te ontsnap, was daar van tyd tot tyd vir Jan die moontlikheid van ontvlugting in die natuur. Soos vroeër langs die kus, alleen of saam met sy broer Louw, gaan stap hy dikwels. By geleentheid gaan laai Marjorie, vir wie hy nou Jorie begin te noem, hom met hulle Morris af op die Franschhoekpas en stap hy van daar oor die berge na die Gantouwspas en teen Verkykerskop na Groenland en Moordenaarskop. 'n Paar dae later, wanneer dit na die reën begin opklaar, bereik hy Du Toitskloof se teerpad van waar hy 'n stuk ryloop. Die nag slaap hy bo-op die waterskeiding agter die Wemmershoekpiek op 'n salige slangbosbed, langs 'n murmelstroompie, terwyl die mis en wolke oor hom trek en 'n fyn stuifreën uitsak. Die volgende dag loop hy tot by die ingang van Jonkershoek. Wanneer hy afstap in die rigting van Stellenbosch, ruis die Eersterivier ‘soos vroue wat lag en neurie’. Hy verlang na Jorie, maar geniet van die eensaamheid. ‘Mens voel’, skryf hy, ‘nou weet jy hoe om ander mense te waardeer. Alleen wees is goed.’ En vir die skrywer is daar altyd die één troos: ‘sy eensame eerlikheid’ wat hy in die natuur vir homself opnuut kan terugvind. Maar in die eerste plek wou Jan die verontwaardiging oor wat van sy land geword het, uit homself uitskryf. Baie gou ná die publikasie van Ons, die afgod begin hy egter insien, soos hy dit self veel later in 'n bydrae tot Ras en literatuur en op 18 Oktober 1991 in 'n lesing by die Universiteit van | |
[pagina 357]
| |
Wes-KaaplandGa naar eind5 sou noem, dat 'n groot deel van dié roman ontstaan het uit 'n byna onsamehangende ontsteltenis oor die situasie in Suid-Afrika. Waarskynlik is hierdie insig pynliker by hom tuisgebring met die mislukking van Die agitator, 'n manuskrip wat hy in 1962 aan Human & Rousseau voorlê. Die politieke standpunte wat in die boek ingeneem word, so was die menings van albei die uitgewersvennote ná die lees van die roman, speel geen rol in hul besluit en oordeel nie; dit is die tegnieke wat nie slaag nie. Jan het by dié oordeel berus en begin besef dat skellerige heftigheid en verontwaardiging geen waarborg vir goeie prosa is nie. Die vraag vir hom was egter hoe die skrywer dan te werk moet gaan. Die Afrikaanse prosa van skrywers uit die vyftiger- en vroeë sestigerjare wat buite die vernuwing van Sestig staan en waarvan hy nou kennis neem, skram vir hom te veel weg van die hede en val terug op 'n gister wat onherroeplik verby is. Hulle ‘verlang’, teken hy in sy dagboek aan, ‘terug na 'n geïdealiseerde beeld van Voortrekkerhelde, Godsmanne, koeksisters en 'n salige, volle jeug’. Dit alles is vir hom ‘'n halwe onware gister - 'n soete wegvlug - [en 'n] keersy van vandag’. As voorbeeld noem hy W.E.G. Louw se ‘goedkeur’ van Alba Bouwer, Audrey Blignault, M.E.R. en Con de Villiers se soort ‘liefderike onthouboekies’. En hy meen daar is tussen liberale verontwaardiging aan die een kant en die soetsappige opdis van die verlede aan die ander kant net een pad wat die eerlike skrywer kan loop: ‘Ons moet die Afrikaner 'n ander gister gee: 'n vollediger, betekenisvolle gister wat terugwys na vandag.’ In sy onderhoud met Elsa Joubert sê hy: ‘Ek wil Suid-Afrika op skrif stel. Ek het net een droom en dit is as Afrikaner wil ek iets oor die Afrikaner sê, in hierdie tyd, in hierdie geskiedenis, sodat hy nie uitsterf eendag nie. As ons politici almal lankal oorlede is, mag daar nog 'n boekie kom wat nog staan. [...] Hy is 'n unieke ding, die Afrikaner; hy moet 'n gestalte kry. [...]’Ga naar eind6 Die jare in Parys, voeg hy by, het hom geleer hoe meer tale jy ken en hoe meer jy 'n wêreldburger word, hoe meer kom ook die besef van jou wortels, van jou ware Afrikanerskap.Ga naar eind7 Om hierdie ‘gister’ vir die Afrikaner te karteer, moes Jan verby die ‘manewales en onverdraagsame uiterstes’ van sy polities reaksionêre vriende kyk na die gesamentlike verlede van wit en bruin en vasstel hoe die geboorte regtig was. Die werklike geskiedenis van die Afrikaner, so was sy oortuiging, begin nie vir hom met die Voortrekkers in die dertigerjare van die negentiende eeu nie, maar in die hart van die Boland waar die Afrikaners, wit en bruin, 'n eeu en 'n half voor die Groot Trek gebore en | |
[pagina 358]
| |
gevorm is. Soos in Henry Miller se The cosmological eye, 'n boek wat hy juis in hierdie tyd lees, was hy aan die soek na 'n ‘destruksie om aan te land by wortels, die ware mens, die vlees’ van die Afrikaner. En soos G.W.F. Hegel het hy geweet dat elke reis na 'n oorsprong terselfdertyd op die een of ander wyse 'n tuiskoms is.Ga naar eind8 Uit die gevoel dat die geskiedenis van bruiner Afrikaners dringend herskryf en hulle aandeel uitgewys moet word, besef Jan dan dat hy die ‘korrektiewe dissipline’Ga naar eind9 van die geskiedenis en die argief nodig het. In die Kaapse argief doen hy navorsing en bestudeer hy historiese bronne oor die ou Kaap. ‘In die argief’, skryf hy, ‘sou ek kon leer om nie my wil op my storie af te druk nie, maar om so ver moontlik die verlede self te laat praat.’Ga naar eind10 Deur die geskiedenis op die voetspoor te volg, het hy gemeen, kon hy die didaktikus in hom onderdruk en die vermaninge en lering van die preekstoel - sy ou kwaal - vermy. Voordat hy tot 'n werk van groter omvang oorgaan, wend Jan die historiese boustof wat hy opdiep, in twee korter stukke aan. ‘Khoib en die see’, wat hy in Die roos aan die pels opneem, is die ontroerende, tragiesromantiese verhaal van 'n Hollandse vrou wat in die dae voor die koms van Van Riebeeck 'n skipbreuk aan die Kaap oorleef en 'n verhouding met 'n Strandloper aanknoop in die hoop dat hy 'n boot sal bou waarop hulle na haar vaderland kan reis. Die verhaal, een van Jan se sterkste korter ‘prosas’, word fyn opgebou tot aan die slot, waar Khoib en die ‘seevrou’, vir wie hy Tarakhois noem, met 'n klein skuit en ontoereikende proviand die oop see invaar, 'n reis wat net een afloop kan hê: Khoib beur aan die karringstokke. Benoud wonder hy of hulle genoeg kos en water het. Hoe wyd is die see? Hoeveel dagreise ver tot anderkant? En hoe vreemd anders sal dit daar nie wees nie? Met elke oorhaal raak sy knieë aan Tarakhois se knieë. Sy sit stil in haar ou blou lyfvel wat nog net in toiings om haar hang. Haar hande hang slap oor haar bollende maag. Sy glimlag vir hom, rustig en vol vertroue in hom wat Khoib is, Khoib wat so sterk met elke sening in sy liggaam beur. Vir die eerste keer glimlag sy vir hom, reken sy hom. Haar oë sê hy is 'n man, haar man. Dit is goed.Ga naar eind11 ‘Nooiensrit na Rondebosch’, wat F.V. Lategan in Dekade (1965) opneem, handel oor vyf Nederlandse vrouens se eerste rit na die ‘ronde bos’ by | |
[pagina 359]
| |
die ‘nuwe lande’ en hul eerste kennismaking met die Koikoin wat protesteer teen die feit dat hulle grond afgevat word. Klaarblyklik begryp die vroue en die soldate nie die erns van die vraag en die kultuurbotsing onderliggend daaraan nie. Hulle gaan voort met hul plesierige uitstappie en sing die ‘Wilhelmus’, onbewus daarvan dat hulle hul nou op 'n ander vasteland met 'n eie problematiek en volkereverhouding gevestig het. | |
IIMaar Rabie was veral geïnteresseerd om die argivale materiaal wat hy opdiep, in werke van groter omvang aan te wend. Uit die historiese bronne wat hy verken, ontstaan die Bolandia-reeks wat aanvanklik as 'n trilogie gekonsipieer is en waarvan die eerste drie romans in die sestigerjare gepubliseer word: Eiland voor Afrika (1964), Die groot anders-maak (1964) en Waar jý sterwe (1966). Hoewel daar skakels met die eerste drie gelê word, staan die twee latere dele van die reeks, Ark (1977) en En oseaan (1985), tog in 'n sekere sin apart van die res.Ga naar eind12 Al drie eerste romans handel, soos die inligtingstuk daarby lui: oor ons vroeë geskiedenis in die Boland, dié wiegland waar Hollanders en ander Europeërs, inheemse Hottentotte, en ingevoerde swart slawe en Oosterlinge mekaar ontmoet het en tot twee nuwe volksgroepe in Suid-Afrika omgeskep is: witter en bruiner Afrikaners - al het die woord Afrikaner meer as 'n eeu lank slegs basterkinders met een Hottentot-ouer aangedui. Uit hierdie ontmoeting, het Rabie gemeen, sou hy die oorsprong van die onreg teenoor volkere in Suid-Afrika kon ontdek en beter kon verstaan hoe die ontsettende klowe tussen mense in ons land begin het.Ga naar eind13 Met die eerste drie Bolandia-romans wou hy die identiteit en herkoms van die Afrikaner nagaan en daarop wys dat, indien die groei nie kunsmatig en deur wetgewing gestrem word nie, daar aan die suidpunt van Afrika 'n nuwe volk uit 'n verskeidenheid kan ontwikkel. Eiland voor Afrika, die eerste van dié reeks romans wat Rabie reeds in 1959 voltooi, is gebaseer op 'n klein verhaal wat Jan van Riebeeck broksgewyse in sy Daghregister notuleer. Die driedelige Daghregister, wat in | |
[pagina 360]
| |
die jare 1952-1957 deur D.B. Bosman en H.B. Thom geredigeer en in 'n praguitgawe deur Balkema gepubliseer is, was vir Rabie die natuurlike beginpunt vir die geskiedenis van die vroeë aanraking tussen die verskillende volkere aan die Kaap. Die verhaal speel af in 1658 op Robbeneiland wat Van Riebeeck as 'n skaapkraal buite die bereik van die Koikoin, as vuurseinende waarskuwingspos vir die seevaart en as strafkolonie vir oortreders op die vasteland ingerig het. Robbeneiland, sê die verteller in hoofstuk 2, is die ‘woonplek van seediere en seevoëls, en duisende slange’, maar ‘vir skepe vanaf verre lande wat goeie hoop om die stormkaap wil hê, ook 'n wagpos, 'n kraaines voor Afrika’.Ga naar eind14 Op dié eiland word vyf vreemdelinge van verskillende velkleur, kulture en maatskaplike status uit ver uithoeke van die aarde saamgegooi: Eva van Madagaskar, Catarina van Indië en drie mans, 'n Maleier en twee Hollanders. Saam vorm hulle 'n klein mikrokosmos van die vroeë nedersetting aan die Kaap en hulle gedwonge saambestaan op die eiland is 'n voorspel tot die latere rassesituasie op die vasteland. In 'n somber toekomsvisie sien die Javaan wat uiteindelik gaan gebeur: ‘En môre, oormôre maak julle die Hottentotte mak en kry slawe om die werk vir julle te doen, en dan sit julle heeldag op die stoep en koffie drink en rook. En oor vyftig, honderd jaar wanneer daar nie meer genoeg grond en slawe vir julle kinders onder die Tafelberg is nie, dan trek hulle al verder in Afrika in. Maar oor nog honderd, tweehonderd jaar, wanneer hierdie eiland en al jul tronke vol is met mense wat nie langer Ja-Baas wil sê nie, dan ...’Ga naar eind15 En aan die slot sien Thomas Muller, die enigste onder die vyftal wat uiteindelik toegelaat sal word om vir goed na die vasteland te vertrek, dat hulle in die tyd van hul saamleef vreemdelinge gebly het, byna soos ‘eilande vir mekaar’,Ga naar eind16 'n wending waardeur hy die simboliese waarde van die woord uitbuit. Met Eiland voor Afrika wou Rabie deur die kompakte verhaal en afgestemdheid op die lotgevalle van vyf mense illustreer waaruit apartheid ontwikkel het, maar juis in dié doelstelling slaag die roman nie. In sy lesing by die Universitteit van Wes-Kaapland sê Rabie hy het probeer om dramatiese sin uit die vyf se saambestaan te haal, amper asof die vreemdelinge vanaf 1652 met hul vestiging aan die Kaap met hulle koms ook | |
[pagina 361]
| |
'n soort lotsbeslissing saamgebring het. ‘Maar ek vrees’, gaan hy voort, ‘ek het my teorie aan die karakters probeer opdring; ek kon nie amptelike of tersluikse rassisme aandui nie, slegs die armsalighede van die mens.’ Daarby was die omvang van die roman te min vir indringende ontwikkeling. Die gebreke wat Rabie hier aandui, was ook die reaksie van die meeste van die kommentators op Eiland voor Afrika. Rob Antonissen meen die verhaal van die roman bly te ‘klein en sketsmatig’ om Thomas Muller se droom van 'n homogene Hollands-Afrikaanse gemeenskap te dra en ‘kry geen kans om 'n diep beleefde nood te word nie’.Ga naar eind17 W.E.G. Louw meen die romanstof is onvoldoende georganiseer, die gang is onduidelik en die styl slap en verward,Ga naar eind18 al voel 'n mens dat hy nie genoeg erkenning gee aan die wyse waarop Rabie by tye met die taal speel nie (soos ‘Wat staan julle so mosselbek toe?’Ga naar eind19 en die gebruik van die woord ‘praai’ - ‘hulle [...] [het] boodskappe gepraai: eers met seine, en toe oor en weer geroep deur offisiere met ysterkele’).Ga naar eind20 P.G. du Plessis is positiewer en vind veral Eva in haar dier-word en liefde die geslaagdste karakter,Ga naar eind21 terwyl Anita de Kock (Lindenberg) voel dat die moontlikhede van die verhaal nie ontwikkel word nie.Ga naar eind22 J.C. Coetzee dink dat daar te weinig ontwikkeling en werklike drama in die verhaal is en dat Jasper Duif, die blas politieke gevangene, alte duidelik met ons hede as terugblik profeteer.Ga naar eind23 Die gunstigste oordeel oor Eiland voor Afrika kom van Audrey Blignault: Wat 'n mens veral in hierdie novelle tref, is die atmosfeer van verlatenheid op die barre eiland, die verskriklike eentonigheid van die lewe en die oplaaiende spanning tussen die mense wat wrokkig en opstandig in 'n gedwonge samesyn verkeer. Deur 'n sekere onmiskenbare simboliek verkry die historiese gebeurtenisse 'n allegoriese betekenis wat op 'n ooreenkomstige situasie in die wêreld van vandag dui, waar mense vreemdelinge bly vir mekaar, elkeen met sy eie wrok en sy onvermoë om daaruit te kom. Die interessante in hierdie novelle is nie soseer die historiese gebeurtenisse wat verbeeld word nie, maar die herskepping van 'n geestesklimaat. As 'n brok historiese psigologie het die novelle na my mening 'n heel besondere waarde. Ek weet nie van nog 'n boek in Afrikaans wat 'n mens so duidelik laat voel hoe dit was om in 1658 ‘politieke’ banneling, 'n vereensaamde slavin of 'n gedwarsboomde Kompanjie-amptenaar te wees nie.Ga naar eind24 | |
[pagina 362]
| |
IIIAs Eiland voor Afrika 'n aarselende inset tot Bolandia was, vat Rabie behoorlik koers met Die groot anders-maak. Die verhaal speel af in die jare rondom 1730 tydens die ontmoeting van Hollander en Koikoin wat albei verander in Kaapse burger of kolonis en vryswarte onderskeidelik. Thomas Muller, nasaat van sy naamgenoot wat twee tot drie geslagte vroeër banneling op Robbeneiland was, trek met 'n stuk of dertig man, mense van verskillende velkleur en uit baie nasies, die binneland in op soek na beter weivelde vir hul vee. Muller moes sy erfdeel Mooiplaas aan sy jonger broer afstaan nadat 'n kind uit sy gemeenskap met die Koi-meisie Lea gebore is en hy deur sy ouers gedwing is om met 'n wit vrou te trou. Die reste van die Koi-stam wat hulle teëkom, is uitgedun deur die koors en die pokke en, ten spyte van kaptein Oasib se behoudende maatreëls, is hul tradisionele leefwyse deur die blanke kultuur aangevreet, veral deur die negatiewe uitwerking van tabak en brandewyn op hulle. Die titel van die roman, sê Rabie self, slaan op die Koikoin se maandans om hulself te suiwer en ‘anders te maak’, maar dui ook op 'n nog groter anders-maak: die verbrokkeling van die Koikoin wat baie gou hul eie stamstelsel en hul eie taal verloor en 'n nuwe taal, Kaaps-Hollands of Afrikaans, begin praat en help skep. Met hierdie roman het Rabie stof begin ontgin wat veel groter moontlikhede as dié van Eiland voor Afrika inhou en wat, óók deur die groter omvang van die verhaal, tot 'n intense dramatiese botsing lei. Uit die navorsing oor 'n stuk geskiedenis wat nog nie vroeër in dieselfde mate neerslag in die Afrikaanse literatuur gevind het nie, skep hy 'n boeiende verhaal met lewende karakters teen die agtergrond van die fisieke en morele verval van 'n eens groot en trotse volk en van 'n geslag blanke pioniers by wie, soos openbaar in die optrede van enkele gevoelloses onder hulle, 'n veragting vir die ‘Hotnot-gespuis’ ontstaan. Hiermee kry 'n mens die sade van die latere apartheid. Een van die kwaliteite van Die groot anders-maak is Rabie se effektiewe gebruik van die animistiese taal en beeldspraak om die denkpatrone van die Koikoin weer te gee. Gaandeweg, soos die roman vorder, word 'n heel besondere blik op die wêreld deur 'n aangepaste idioom en die funksionele gebruik van Koi-woorde aan die leser oorgedra. 'n Mens sien dit byvoorbeeld in die gebruik van woorde soos ‘wielhuise’ vir waens en | |
[pagina 363]
| |
‘waterhuise’ vir skepe en kaptein Oasib, die man wat nog die ou lewe van die stam ken en sy folklore en verhale bewaar, se perspektief op die koms van die Duusmanne, 'n prosa-ekwivalent van S.J. du Toit se ‘Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het’: ‘My tata vóór my het my vertel hoe hulle met hulle waterhuise gekom het en 'n kliphuis onder die plat wolkberg gebou het. Eers het hulle net gekom om beeste en skape te ruil. Toe het hulle kom jag. Altyd verder het hulle gekom. Altyd meer. Onse jagters het hulle baie dinge geleer, waar die water is, hoe om spoor te sny en te bekruip, hoe om keisies te grawe en die wild aan te jaag dat hulle daarin kan val, hoe om biltong te maak as die vleis te veel is, hoe om met osse te werk, hoe om lig te loop vir Sonkwa se kind. Ons het hulle gehelp, so is dit. Nou bring hulle hul wielhuise en vrouens en kinders saam, en hulle gaan nie weer terug nie. Hulle groot veetroppe weie waar onse vee eers geloop het, en as ons wegtrek agter die groeityd se groenigheid aan, dan kom bou hulle kliphuise waar 'n Khoi-werf eers gestaan het. So is dit. En ek weet, en ons almal weet ons is te swak om hulle te keer. Die groot eina is op ons. Tsoekoab het sy gesig weggedraai van sy mense. Toe kom sny die pokkies onse haksenings nog verder af. Húlle is die sterkste. Onse mense weet, ons mense loop weg na die Gladdehaar-vleispotte toe. Onse manne wil oorlamse word, onse vrouens wil Afrikanertjies abba. Hei-ja, so is dit.’Ga naar eind25 Oasib, wat die herinnering het aan die tyd toe sy mense 'n trotse nasie was, besef die gevaar van die Duusmanne wat kwansuis in vrede kom, maar met hul ‘druifmelk’ sy mense vergiftig. In sy wanhoop sien hy hoe die Koikoin in sy leeftyd verbrokkel het tot armsalige oorblyfsels sonder eenheid en stamverband, diewe en dienaars sonder trots en eer. Profeties voorspel hy hoe hulle almal nog slawe van die Duusmanne sal word. Hulle naam sal van die aarde verdwyn en niemand sal uit die karige oorblyfsels 'n eertydse trotse nasie herken nie. Wanneer die trekkerboer Thomas Muller hom kom besoek, kry ons die basiese botsing in die roman. Muller sê: ‘Ek beskou kaptein Oasib as my vriend, [...] Maar ons ondervinding met die oorgrote meerderheid Hottentotte is dat hulle nie ons gelyke | |
[pagina 364]
| |
in Christelike deug en regskapenheid is nie, maar onkundige kinders van die natuur. Eers wanneer hulle in ons diens en onder ons tug staan, kan ons probeer om hulle te beskaaf en te kersten. Kaptein Oasib is 'n wyse man wat sukkel met sy eie mense. Hy verstaan wat ek sê.’Ga naar eind26 Hierop antwoord die kaptein: ‘En my ondervinding is dat onse mense so by julle Duusmanne versleg dat hulle dronklappe en deugniete word. Onderdanig verruil hulle hul eer en respek vir bietjies boesbas en druifmelk en Duusmanlappe! Sê my, Mynheer Muller, wat help hemp en broek en doopseremonies as julle hul manlike selfrespek in ruil daarvoor wegneem? Want by julle Christene leer hulle om die paaie van onse voorvadere en daarom hulself te minag. Om soos julle selfsugtig net aan hulself te dink. Om tot hulle se vrouens te vat en te los soos hulle wil!’Ga naar eind27 Maar as hy na sy mense kyk wat die klere van die Duusman dra en sy wapens begeer, weet die kaptein dat die Koikoin gesterf het. Wat sal die toekoms inhou? ‘Die tyd is soos 'n skilpad, maar of ons eendag 'n nuwe nasie gaan word, dit weet ek nie. Of ons eendag kan herleef soos onse groot voorvader, Heitsi Eibib, gesterf en herleef het, dit weet ek nie. Ek weet net dit is die grootste anders-maak in onse nasie se geskiedenis ...’Ga naar eind28 En onheilspellend voeg hy by: ‘Dalk ontmoet julle Duusmanne ook eendag 'n nasie wat sterker as julle is. Dalk ...’Ga naar eind29 Naas hierdie boeiende kultuurkonflik munt Die groot anders-maak uit deur die fyn karakterbeelding. W.E.G. LouwGa naar eind30 wys op Oasib wat die ou lewe en sy tradisies ken maar weet dit is klaar met sy mense; ‘sy kleinseun, Damoeb, uitgelate in sy jong krag, so vinnig en rats geestelik as wat hy kan draf of met die kierie slaan’; die jongmeisie Lea (of Keas) wat by die Duusmanne grootgeword en hulle gewoontes en godsdiens oorgeneem het en daarom nooit weer by haar eie mense kan inpas nie; die sluwe geweldenaar Hakwa wat met 'n stel drosters en Boesmans heul en die plan het om ver weg te trek. Ook die wit mense is skerp geteken: die verstandige en | |
[pagina 365]
| |
saggeaarde Thomas Muller wat vóór sy troue 'n kind by Lea verwek het; PietVorster, hard, onverbiddelik en met 'n minagting vir die Koi. Dié figure, sê Louw verder, is nie ‘bewysstukke’ in 'n saak nie, maar werklike mense, soos blyk uit die ‘driehoek’ Lea - Damoeb - Thomas Muller en die teenstelling Oasib - Hakwa. Daarby waardeer hy Rabie se vermoë ‘om eenvoudig, suiwer en funksioneel te skryf’. In sy beskouing oor die roman sê Rob Antonissen dat die trekprofiel slegs op die agtergrond en die periferie van die gebeure sigbaar is: In die kern staan die verbrokkelende klein Hottentot-gemeenskap onder die vreedsame ou kaptein Oasib, onmagtig om die ontbinding te keer, en die persone wat eksponente is van die verbrokkelingsproses: Hakwa, oorlams, wat die Hottentotsiel klaar afgesterf het en reken om eendag met verenigde nie-blanke geweld die gehate blanke heerskappy te breek; Lea, Christen, wat die blanke boer liefhet, verstoot word, maar in die stam geen heraanpassing kan vind nie; Damoeb, die nog ongerep-rasegte Hottentotseun, al Oasib se hoop, maar wat die meisie tot vrou neem en mét haar die blanke trek sal volg, diensbaar.Ga naar eind31 Daarom is die titel Die groot anders-maak vir Antonissen ironies: ‘[Ó]ór die regenerasie-ritueel van die stam, wat in die wederopneming van die meisie Lea moet kulmineer, gaan die loop van die geskiedenis heers, die groot gedaanteverandering van Suid-Afrika.’Ga naar eind32 Wat Antonissen verder waardeer, is die gevoelige en teer tekening van Lea in haar vroulikheid en haar simbool-wees, die geleidelike ontwikkeling van die Damoeb-figuur; en die wyse waarop die verhaal homself, met subtiel geskakeerde afwisseling van stemminge en handeling, sonder dwang voltrek. Wat hom hinder, is ‘die hoë graad van helderheid wat onontwikkelde mense oor hul historiese “plek” het, 'n helderheid van besef en dink en formuleer wat nie in hul menslikheid ingebed is nie’.Ga naar eind33 En daarby voel hy dat die veelvuldige gebruik van ‘Hottenotidiomasie’ om die sfeer van die gemeenskap te suggereer, aan die geheel ‘die onwesenlike voorkoms van die pittoreske gee’.Ga naar eind34 Ook enkele ander kommentators het hulle gunstig uitgespreek oor Die groot anders-maak. Anna van ZylGa naar eind35 is beïndruk deur die roerend-patetiese wyse waarop Oasib sy waardigheid as mens en kaptein probeer handhaaf voor die onbeskofte, meerderwaardigheidshouding van die wit trekboere, terwyl Keas vir haar 'n vrou van smarte word: iemand wat die wit mense | |
[pagina 366]
| |
se lewenswyse leer ken en aanvaar maar by haar terugkeer na die stam vind dat sy nêrens meer tuishoort nie. In 'n radiopraatjie sê Audrey Blignault dat Rabie daarin slaag om die sedelike en fisieke verval van 'n eens trotse ras en 'n eiesoortige lewensvorm as gevolg van die verskriklike suigingskrag van 'n nuwe en andersoortige leefwyse oortuigend te teken. Die geskiedkundige stof word vir haar tot 'n boeiende, vinnig bewegende verhaal met 'n oplaaiende dramatiese gang verwerk. Dit is die eerste keer dat 'n Afrikaanse skrywer die kulturele konflik tussen die Hottentot en die blanke trekker eerder as die uiterlike stryd tussen hulle as boustof vir 'n roman kies. Daarby is dit ook die eerste keer dat die gebeure vanuit die binnekring van die Koikoin eerder as uit dié van die trekkergemeenskap beleef word. Anders as Antonissen vind sy die woorde uit die Koi-taal en die beeldspraak en idioom uit dié mense se lewensfeer besonder mooi: wielhuise, sy jong oë wat ou aasvoël speel, sonkant toe of aandkant toe, haitsa, wat skelm julle so, klein-voordag ry hulle weer. ‘Ek weet van geen ander Afrikaanse roman wat die leefwyse, die sedes en gewoontes, die hele geestesgesteldheid van die Hottentotte so raak en volledig bied soos dié boek nie’, sluit sy haar beskouing af. Een van die belangrikste studies oor Die groot anders-maak - en oor 'n werk van Rabie as sodanig - is dié van die Amerikaanse student Noel Stahle wat in 1996-1997 tien maande lank aan die Universiteit van Pretoria navorsing oor die Afrikaanse letterkunde gedoen het, met onder meer as resultaat die artikel ‘Die Afrikaanse letterkunde as Afrikaliteratuur: 'n Amerikaner se perspektief’.Ga naar eind36 Stahle wys daarop dat Die groot anders-maak, soos die Nigeriese skrywer Chinua Achebe se Things fall apart, oor die disintegrasie van 'n Afrikagemeenskap handel as regstreekse gevolg van 'n ‘volgehoue en gewelddadige wisselwerking met Westerse setlaars’. Net soos Achebe skryf Rabie fiksie in plaas van 'n verhandeling met die doel om 'n korrektief te bring op die verdraaiings in die geskiedenis. In die geval van Die groot anders-maak skryf Rabie 'n alternatiewe Afrikaanse weergawe van die Koi-Hollandse verhoudings. Wat hy dus doen, is - soos Jack Cope, na wie Stahle verwys, dit stel - ‘to trace in fictional terms the origins of the Afrikaner people “white” and “brown”, their language and conditioning and to foreshadow the apparently intractable problems of a later time’.Ga naar eind37 Stahle haal verder Aparna Dharwadker aan wat hierdie procédé na aanleiding van Girish Karnad se Tughlag verduidelik: ‘[H]istorical fictions can work precisely to neutralize or repudiate the figurations of | |
[pagina 367]
| |
institutional history and can serve as alternative sources of historical knowledge for audiences ideologically resistant to the dominant narratives.’Ga naar eind38 Soos Achebe se Things fall apart daag Die groot anders-maak die afbrekende verdraaiings in 'n dominante historiografie uit. Jan van Riebeeck het die Koikoin voorgestel as dom, lui en onwelriekend, diefagtig en nie te vertrou nie. Rabie gaan hierdie stereotipering teen en beeld byvoorbeeld Oasib uit as die draer van 'n intellektuele dimensie van die Koikoin-kultuur. Wanneer Antonissen dus beswaar maak teen ‘die hoë graad van helderheid wat onontwikkelde mense oor hul historiese “plek”’ openbaar, kan 'n mens vra of dié beswaar nie gedeeltelik berus op sy Westerse vooroordeel van wat ontwikkeld en onontwikkeld is nie, terwyl dit in die literatuur 'n algemeen aanvaarde procédé en tegniek is om naas die historiese ingebedheid van situasies en karakters ook aan 'n roman 'n sekere onhistoriese dimensie te gee wat dit bo die onmiddellikheid van feit en figuur laat uitstyg. Met die volgehoue animistiese beeldspraak en woordgebruik, die boeiende konflik tussen twee kulture en die mooi ontwikkeling van karakters wat nêrens in stereotipes verval nie, het Rabie met Die groot anders-maak een van sy allerbeste werke gelewer. In 1957 het die letterkundige kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die toekenning van die Hertzogprys vir Prosa nuwe werk van Alba Bouwer, Boerneef, Eitemal, Mikro en Elise Muller vir bekroning oorweeg, maar Eenen-twintig glad nie in hul verslag vermeld nie. Elise Muller ontvang die Hertzogprys op grond van haar bundel Die vrou op die skuit, 'n bundel wat N.P. van Wyk Louw in sy Vernuwing in die prosa 'n ‘(m)ooi nuwe werkie van die ou soort’Ga naar eind39 noem. In 1967 - in 'n stadium dat die Afrikaanse prosa 'n besondere bloeitydperk beleef en Rabie op grond van sy eerste drie Bolandias, waaronder Die groot anders-maak, 'n sterk aanspraakmaker was - besluit die Akademie om geen toekenning vir die Hertzogprys vir Prosa te maak nie. Hierdie besluit, saam met die feit dat Rabie ook later nooit vir sy belangrikste skeppende werk met die Hertzogprys bekroon is nie, is 'n ernstige versuim en 'n groot klad op die naam van die Akademie. | |
IVWaar jý sterwe, die derde roman in die Bolandia-reeks, is byna vier keer langer as Eiland voor Afrika en iets meer as twee maal langer as Die groot | |
[pagina 368]
| |
anders-maak. Met dié groter omvang kon Rabie hier dus 'n roman met uitgebreider verhaallyne lewer, verwikkelder as sy twee voorgangers. Waar jý sterwe dagteken uit die begin van die negentiende eeu wanneer die ondergang van die Koikoin hom reeds voltrek het en die ooswaarts trekkende boere, saam met die Koikoin en basters in hulle diens, deur die suidwaartse beweging van die swart stamme bedreig word. Rabie wys daarop dat, terwyl 'n mens in die tweede helfte van die sewentiende eeu met immigrante uit Europa, Indië, Madagaskar en Angola saam met die inheemse Koikoin 'n smeltkroes van rasse aan die Kaap kry, daag daar met die binnelandse trek van die koloniste teen 1770-1800 nuwe spelers op: die swart nasies op die Oosgrens. ‘Nêrens elders op aarde’, skryf die Sweedse naturalis Bengt Lindstrom, 'n karakter wat Rabie via sy dagboek in die roman aan die woord stel, ‘het ek so 'n verskeidenheid, so 'n kookpot van verskillende rasse en tale en soveel sosiale verdelings en kruisverbasterings bymekaar gesien nie.’Ga naar eind40 In verslae van veldkornette, briewe, dekrete en ander regerings- of kerklike dokumente kon Rabie inligting kry oor dié kookpot wat die Oosgrens in dié jare was. Omtrent al die gebeurtenisse in dié roman, sê hy, is so getrou as moontlik op die werklike geskiedenis gebaseer, en die toets vir hom was om dit tot 'n verhaal met egte karakters te omskep.Ga naar eind41 Tussen Waar jý sterwe en sy voorganger is daar allerlei skakels. Die dogtertjie van Lea (Keas) en Thomas Muller van Die groot anders-maak is nou die gryse Ouma Katryn, 'n besonder simpatieke karakter in die hele Rabieoeuvre. Ouma Katryn het twee kinders gehad: die ligte Thomas en die donker Lea. Deur sy huwelik met 'n ligte bastermeisie kon Thomas en sy gesin in die grenswêreld van die Oos-Kaap as wit mense leef, terwyl sy seun, ook Thomas, met 'n blonde wit meisie in die huwelik kon tree. Hierdie jonger Thomas, deur sy blas gelaat onveilig en onseker binne die blanke groep, was ‘skriller en venyniger’Ga naar eind42 in sy haat vir bruin en swart. Die donker Lea is getroud met 'n Koi-man en die moeder van vyf donker kinders, onder wie Douw Prins. Die hoofaksent in Waar jý sterwe val dan op hierdie Douw Prins wat in sy stryd teen oorheersing en verslawing sy eie onafhanklikheid en vryheid verkry, maar daardeur nêrens in sy gemeenskap inpas nie. Wesentlik is Douw Prins in sy afsydigheid dieselfde figuur as Jan Herold in Ons, die afgod en Damoeb in Die groot anders-maak. Die titel van die roman, sê Rabie, dui op die keuse waarvoor die hooffiguur, soos die Bybelse Rut, | |
[pagina 369]
| |
te staan kom. In die roman slaan dit allereers op Rut Arendse en haar aangenome moeder, Ouma Katryn, met wie se kleinseun, Douw Prins, sy in die huwelik tree. Die liefde van Rut en die geleidelike toenadering van Douw, ná sy vroeëre afkeer en afwysing, is besonder mooi geteken. In Douw se aarseling en onhandigheid in sy toenadering tot Rut bespeur die leser wat op die hoogte is met Rabie se pre-Paryse romans en sy talle tydskrifverhale in die veertigerjare iets van 'n selfportret. Altyd, dink Rut, wanneer sy Douw sien aankom, wil sy haar arms om hom sit en hom toevou met die warme sagtheid wat boordevol uit haar wel. Maar altyd keer sy haar met die tere wete hoe onhandig hy nog steeds voor haar oorgawe is, hoe skugter afsydig hy nog moet bly voordat hy skielik en taamlik ru na haar toe kan kom. Sy weet ook dit is omdat daar 'n hoekie eensaamheid in hom is waar hy niemand sal toelaat nie, al het hy al geleer om met haar oor ander dinge as net die werk te praat. Maar sy neem dit trots aan, want só moet haar man wees, só kan sy elke aand wanneer hy nie te moeg vir liefde is nie, voel dat sy sy kind van vooraf oor ontvang.Ga naar eind43 Maar die titel slaan ook op Douw self. Terwyl Rut in die Bybel ná die dood van haar man aan haar skoonmoeder sê jou volk is my volk, jou God is my God, waar jý sterwe, sal ek sterwe, moet Douw Prins ook kies of hy in die swart stamme van die Oosgrens opgeneem wil wil word of deel van die wit mense wil wees. Die tragedie wat nou plaasvind, is dat die wit neef sy bruin neef heeltemal verstoot, want Douw word deur sy neef, die Thomas Muller van hierdie roman, gedood. Tot in daardie stadium het die voorttrekkende koloniste die Koi-mense sonder vrees in hul vaarwater saamgesleep, al was hulle dan as bruin mense meestal onderhorige diensknegte. Maar die vloedgolwe swart nasies op die Oosgrens het die vrees van verswelging meegebring en oorlog na oorlog laat ontstaan. Voortdurend moes die grensboere hulself verdedig teen die swart stamme of vergeldingsaanvalle loods. ‘Ek verstout my om te sê’, skryf Rabie in sy Wes-Kaapse lesing oor die Bolandia-reeks, ‘apartheid het sy beslag gekry in die niemandsland om die Visrivier en die Keirivier, gebore in vrees oor die magtige vyande wat oor die Kei en die Vis gekom en die eertydse Koi-wêreld begin oorneem het’. Vir die roman is die Sweedse naturalis Bengt Lindstrom, soos J.C. Coet- | |
[pagina 370]
| |
zee dit stel, 'n vernuftige konsep van Rabie om die waarneming van landsprobleme met die objektiwiteit van 'n welwillende buitestander te orden.Ga naar eind44 Na alle waarskynlikheid het André P. Brink hier die gedagte gekry om in die gegewe vir 'n Oomblik in die wind (1975) op 'n fiktiewe ou reisbeskrywing te steun en só aan sy roman die aanskyn van pseudo-‘faction’ te gee, net soos die karakter Douw Prins, wat nêrens in sy gemeenskap inpas nie, raakpunte met Brink se Adam Mentoor het. Rabie se Lindstrom praat egter met so 'n helder profetiese voorwete en insig dat hy 'n blote spreekbuis van die skrywer word. Enkele van die resensies oor Waar jý sterwe was nie besonder gunstig nie. Elsa Joubert meen dit is die beste van die eerste drie Bolandias, maar sy voel die verhaal ontwikkel te stadig en die karakters bly te staties.Ga naar eind45 Vir Anita de Kock (Lindenberg) is die karakters in Waar jý sterwe te stokkerig, omdat hulle 'n standpunt verteenwoordig en swaar dra aan die ‘boodskap’.Ga naar eind46 Daarteenoor vind P.D. van der Walt dit een van die beduidendste historiese romans in Afrikaans. Van die gunstigste reaksies op die roman kom van Jack Cope wat dit 'n hoogtepunt vind. ‘The book stands well on its own as a fine novel of action infused with the writer's close attachment to country and people. The faults are there - most noticeably the schematic structure which leads to a melodramatic conclusion. But the unfolding of a turbulent episode in history, the headlong rush of events acted out by living characters is a high achievement. Rabie's view that the “white” and “brown” people evolving on the soil of Africa are actually the same nation (volk) is strongly underlined. Since they share the same language, history, land and culture, apartheid is a distortion of reality, an ideological lie.’Ga naar eind47 Waar jý sterwe word deur Collins in Brittanje en deur Macmillan in Amerika onder die titel A man apart gepubliseer en later ook in Russies vertaal - die enigste werk van Rabie waarmee hy 'n internasionale deurbraak kon maak. In sy bespreking van die vertaling wys Roy Pheiffer in Die Burger van 23 Junie 1969 op die titel A man apart wat 'n taamlik akkurate beskrywing is van die hoofkarakter om wie se stryd en vertwyfeling dit hier gaan. Uiteindelik vind die hooffiguur dat haat ook 'n tiran is en bitterheid 'n dwingelandy waarvan slegs die liefde hom kan verlos, deur hom die selfrespek van 'n algehele innerlike vryheid te gee. Pheiffer het 'n beswaar teen die byna té heldere karakterbeelding wat die gegewe aan kompleksiteit laat inboet, terwyl die leser vir hom nêrens die opwindende moontlikhede van onverwagte dieptes of vergesigte ervaar nie. Die grootste be- | |
[pagina 371]
| |
swaar is miskien teen Lindstrom, die Sweedse botanis en onpartydige toeskouer, wie se te onsubtiele filosoferinge dikwels vir die skrywer as spreekbuis dien. D.O. Chambers waardeer in Books Abroad van Lente 1971 die kort beskrywende passasies van die unieke Suid-Afrikaanse natuur: die eensame bergvalleie, die barre en droë binneland, die hoë berge wat op woude en die see afkyk. Frans Esterhuyse waardeer in The Cape Argus van 9 April 1969 die dramatiese verhaal. Nie een van Rabie se eerste drie Bolandias is op blanke skole bestudeer nie, maar twaalf jaar ná die eerste publikasie is Waar jý sterwe vir die skole onder die kontrole van die departement van ‘Kleurlingsake’ voorgeskryf. Skielik, halfpad deur die jaar, is die boek egter van die voorskryflys onttrek en teen hoë koste met 'n ander boek vervang. Geen rede is verstrek nie, maar skynbaar het die departement besware van onderwysers en leerders ontvang wat geprotesteer het teen die gebruik van woorde soos ‘baas’, ‘Kaffer’ en ‘Hottentot’. ‘The author’, skryf Jack Cope, was writing of a period nearly two centuries ago when the terms were in ordinary usage. But the objectors rejected this historical perspective. Basically, the incident was an anti-apartheid demonstration, in effect spurning Rabie's hand of friendship. Pupils at other schools counter-protested against the withdrawal of the book, which they found real and thrilling, featuring as it does a hero with whom they could identify.Ga naar eind48 | |
VUit die aanraking van verskillende volkere aan die Kaap, so wil Rabie vir ons met sy Bolandia-reeks sê, kom die ware geskiedenis van die hedendaagse Suid-Afrika voort. Maar hy het ook 'n groot droom vir sy taal en volk gehad. In die smeltkroes van rasse, wat kort ná die Hollanders se vestiging aan die Kaap 'n nuwe taal begin praat het, het hy die moontlikheid gesien van 'n nuwe volk, 'n sintese, soos hy dit stel, ‘van stoere Geus en Hugenoot, van die rappe kwiksilwer, nog amper bok-wilde veldkinders, Koisan, Maleis-Oosters gekruie, en met donker skeute uit Moeder Afrika gebind’, 'n ‘smeltkroes van bloed en hergeboorte tot 'n nuwe begin, 'n nuwe poging soos in ons buurkontinent Suid-Amerika’.Ga naar eind49 | |
[pagina 372]
| |
Dit is 'n droom waarin die eens uitgeskelde kombuistaal Afrikaans, en nie die velkleur van mense nie, die naelstring en samesnoering van 'n groot Afrikaanse land sou wees. Afrikaans, wat voortkom uit die aanraking van die verskillende volkere aan die Kaap, is vir Jan Rabie dan die grootste nie-rassige prestasie van die suiderland, saam geskep deur mense van drie vastelande: Afrika, Asië en Europa. In die eerste vyftig tot sewentig jaar van die VOC se bewind aan die Kaap het slawe en die Koikoin 'n groot aandeel aan die ontwikkeling in die rigting van defleksie wat Afrikaans in vergelyking met Nederlands werklik is. Hoewel die herstrukturering van die taal ook die sintaksis in 'n mate aantas, beteken dit nie dat Afrikaans 'n mengtaal tussen Nederlands, Koi-taal en Maleise dialekte is nie, want die oornames uit Afrika- en Oosterse tale bly grotendeels beperk tot die woordeskat. In sy betoë oor die wording van Afrikaans formuleer Rabie aanvanklik onsorgvuldig, iets wat taalhistorici met nogal giftige venyn op hom laat toesak en wat hom dwing om later te verklaar dat hy dit in die eerste plek oor die sprekers se bydrae het, nie oor die taal self nie.Ga naar eind50 Wat Rabie dus met Afrikaans as nie-rassige prestasie wil sê, is dat alle sprekers van Afrikaans, wit, bruin en swart, tot die ontwikkeling van die taal bygedra het. Daarom is Afrikaans nie die besit van 'n enkele politieke party nie, maar behoort dit aan almal wat dit praat en skryf en liefhet. En daarom is dit ook die Afrikaner, wit, bruin of swart, se beste wapen teen rassisme. |
|