Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 268]
| |
Hoofstuk X
| |
[pagina 269]
| |
sou beland indien hy 'n Westerse beskawing in die land sou wou handhaaf met maatreëls en middele wat wesensvreemd en strydig met die hoogste beginsels van daardie beskawing is nie. Die meerderheid blanke Afrikaners, wie se voorsate self die slagoffers was van 'n gewetenlose imperialisme en 'n oorlog wat met groot verlies van lewens gepaardgegaan het, was kennelik nie by magte om te besef dat húlle nou die nuwe imperialiste was wat met vrees, geweld, dwangmaatreëls en onderdrukking besig was om te doen waarteen hulle voorouers hulle minder as vyftig jaar tevore verset het nie.Ga naar voetnoot2 Die voor die hand liggende les uit die geskiedenis het by hulle verbygegaan. Die jaar 1956, die jaar waarin die bruin mense hulle stemreg op die gemeenskaplike kieserslys op 'n onkonstitusionele wyse en deur 'n politieke gepeuter verloor het, sou Jan later as 'n keerpunt in die politieke geskiedenis van die land en as 'n waterskeiding tussen die Afrikaanse skrywers aan die een kant en die Nasionale politici aan die ander kant beskou.Ga naar voetnoot3 Soos vroeër in Parys, maar nou met veel groter ontsteltenis en verontwaardiging, het hy die diskriminerende wetgewing en die summiere wegneem van demokratiese regte as 'n groot onreg teenoor die bruin mense gesien. Indien die ideologiese leiers nie op hulle pad van selfvernietiging gestuit word nie, so was sy oortuiging, sou die Afrikanervolk, en saam daarmee sy taal en literatuur, vernietig word.Ga naar voetnoot4 Soos vroeër in Parys het hy voorspel dat Afrikaans uiteindelik die prys van sy gebruikers sou moes betaal. Reeds kort ná sy terugkeer begin Jan los aantekeninge in sy dagboek maak waaruit 'n mens kan aflei hoe hy reageer op verskillende aspekte van die gesegregeerde samelewing waarvan hy nou deel vorm. Wat hom in hierdie tyd baie seermaak, is hoe Afrikaanssprekende bruin mense in Kaapstad hulle wit mede-Afrikaners in Engels antwoord as hulle aangespreek word. Hy voel triestig wanneer hy op die Kaapse Vlakte die dapper, troostelose verlatenheid van die plakkerskampe met hulle skril, vrolike lappe kleur op die roestige sinkplate sien. Hy vind dat die wit mense steeds, soos hul voorouers, 'n laer teen die vermeende vyande buite trek, maar nou nie meer in die naam van God nie. Sy vriend uit sy studentedae op Stellenbosch, F.A. Venter, se Swart pelgrim (1952) oor die lotgevalle van 'n swart man wat na die stad toe kom, vind hy een van die werklik betekenisvolle Afrikaanse romans wat hy nou by sy terugkeer leer ken. Hy vra hom egter af watter soort breinspoeling Arthur Fula in Jôhannie giet die beeld (1954), die eerste roman in Afrikaans deur 'n swart man, daartoe gelei het om die volgende verbasend inskiklike en versigtige woorde te skryf: | |
[pagina 270]
| |
Nee, die Engelse blaaie meen dat ons net Engels kan lees, en daarom skakel hulle die meeste van die nuus uit wat hulle reken nie vir ons geskik is nie. Die Afrikaanse koerante, daarenteen, gee die nuus net soos hulle dit uit betroubare bronne verneem - die nuus dwarsoor die hele wêreld. Ons kry dan 'n mooi beeld van wat oral aangaan.Ga naar voetnoot5 In P.J. Meyer, grootbaas van die SAUK, se Nog nie die einde nie (1954) erger Jan hom aan uitsprake soos die volgende: ‘Die Afrikaner dra in sy huidige lewens- en wêreldbeskouing 'n boodskap wat vir die Wes-Europeër van meer waarde is as die Amerikaanse rykdom en militêre mag.’Ga naar voetnoot6 Hy verafsku Meyer se uitsprake oor die (blanke) Afrikaners se ‘Godgestelde roeping’ teenoor ‘die toenemende Anti-Christelike imperialisering van die wêreld’Ga naar voetnoot7 en ‘sy eerbied vir die Godgegewe natuurlike onderskeid tussen die blanke en die swarte ras’.Ga naar voetnoot8 As 'n mens merk dat Jan formulerings soos ‘natuurlike onderskeid’ tussen ‘rasse’ in sy dagboek uit Meyer se boek aanteken, begin jy wonder hoe lank hy met sy vurige temperament en groeiende ongeduld nog met sy radiowerk in diens van so 'n grootbaas sal aanhou. Oor 'n oomblik waarin hy binne die mure van die SAUK-gebou vasgekeer voel, skryf hy in sy dagboek: Ek voel triestig en leeg en nutteloos in my werk waar ek redelik betaal word om die standpunt van die tevredenes en die besittendes te stel - die gladde optimisme en kultuur-georganiseerdery wat die siel koud laat - en vervreem. Ek moet vry wees om te kan protesteer - my bloed, my hartstog, my intellek, my behoefte lê by die niebesittendes, dié wat my nodig het. Gisteraand sê welmenende vriende: ‘Ons hoop as jy weer vir ons kom kuier, dat jy in jou eie motor kan kom, en nie weer so vroeg die trein moet [haal nie].’ Instinktief voel hy die opstand, die ‘Nee’ in homself opwel as hy sulke woorde hoor en die benepe woorde van Meyer lees. Voordat hy later sy kritiek op Meyer publiseer, bedank hy uit sy betrekking by die radio, omdat hy gevoel het dit is die eerbare weg om te volg. 'n Werknemer, was sy oortuiging, kan nie sy werkgewer heftig kritiseer en dan verwag om in sy pos aan te bly nie, 'n standpunt wat 'n mens 'n aanduiding van die formaat en integriteit van Jan Rabie gee. Van sy kant het Meyer ná Jan se bedanking en die publikasie van die kritiek (in Evolusie van nasionalisme) opdrag gegee dat Jan nie meer vir stukwerk gebruik mag word nie.Ga naar voetnoot9 | |
[pagina 271]
| |
Teenoor Meyer se boek vind Jan G.D. Scholtz se Het die Afrikaanse volk 'n toekoms? (1954) 'n veel minder pretensieuse en redeliker boek, al reik dit nog steeds uit na die begeerde mite wat buite die werklikheid val. En as hy 'n roerende praatjie van P.J. Schoeman met ‘sy treurige veldstem’ oor die Boesmans bywoon en van hulle pragtige Etosja-legende oor die wit moedervrou hoor, gaan hy akkoord met Schoeman dat daar eintlik 'n monument opgerig behoort te word ter ere van dié mense, ‘hulle wat voor ons was’. Reeds op 30 Oktober 1948, ses maande ná sy aankoms in Frankryk, teken Jan in sy Paryse dagboek aan: ‘Wanneer ek terugkeer in Suid-Afrika, sal ek ons enigste probleem, ons enigste toekoms, in die oë moet kyk. Ek sal moet stelling inneem oor [ons] kleurkwessie.’Ga naar voetnoot10 In ooreenstemming met hierdie voorneme beveg Jan nou, aanvanklik feitlik manalleen, as skrywer die euwel van apartheid in gesprekke en deur voordragte, maar veral by wyse van briewe aan verskillende koerante. Telkens beklemtoon hy dat die bruin mens - hy praat feitlik deurgaans van ‘Kleurling’, die gangbare benoeming in dié tyd - die blanke Afrikaner se naaste is deurdat hulle 'n gesamentlike agtergrond, geskiedenis en kultuur deel. Hoe nóú blank en bruin by mekaar ingeskakel is, blyk vir hom uit die gemeenskaplike Afrikaanse taal waarin naas die primêre Nederlands ook heelparty woorde uit die taal van die Koi en die Maleis van die slawe geassimileer is.Ga naar voetnoot11 In 'n tyd toe daar nog van so 'n gedagte gegru is, moet albei, blank en bruin, vir Jan as Afrikaners gereken word: Menings hieroor kan sterk verskil. Maar die geskiedenis leer ons dat 'n volk bestaan uit mense wat saamwoon in een gebied waar hulle een geskiedenis het, liefs een godsdiens, en veral een taal. Hiervolgens is elke Afrikaanssprekende Kleurling ook 'n Afrikaner.Ga naar voetnoot12 Die primêre skakel wat hulle verbind, is hul gemeenskaplike taal. As hy as Afrikaner moet bepaal wat 'n mede-Afrikaner is, kom hy net by ‘een eenvoudige waarheid uit: almal wat saam Afrikaans geskep het en saam Afrikaans praat’.Ga naar voetnoot13 Jare later kon Hans Beukes, 'n Rehoboth-student aan die Universiteit van Kaapstad, nog onthou watter indruk die standpunt van Rabie tydens 'n etensuurlesing op hom gemaak het. ‘Rabie’, skryf Beukes, ‘presented an analysis of the language situation in the country to demonstrate that the tongue most widely spoken, as their first language | |
[pagina 272]
| |
by both blacks and whites, was in fact Afrikaans. Arguing that a shared language was an essential aspect of society, he thought the wide usage that Afrikaans enjoyed as means of communication of the South African communality made that much more nonsense of the policy of apartheid. As Afrikaans was my own mother tongue it was a point of view that appealed to me.’Ga naar voetnoot14 Waarteen Jan dit dan ook verder het, is die aantasting van die Afrikaanse taal deur 'n ‘volstruisery met woorde’ wanneer ‘apartheid’ deur die politici skielik tot die ‘mooier-klinkende’ en aanneemliker ‘parallelle ontwikkeling’ herdoop word.Ga naar voetnoot15 Sulke eufemismes is vir hom stukkies boerebedrog waarmee ook die taal Afrikaans deel van die besmetting word. Jan aarsel verder nie om te wys op allerlei gevalle van ‘klein’ apartheid, soos wanneer 'n paspoort van 'n arm bruin jongman wat met 'n beurs verder oorsee wil gaan studeer, op grond van sy velkleur hom ontneem word.Ga naar voetnoot16 Hy is ook die eerste wat reageer as die bruin Eoan-operagroep in die beoogde ‘lelieblanke’ nuwe teater van Kaapstad - die Nico Malan, later herdoop tot die Kunstekaap - slegs voor wit gehore sal mag optree. Ná vertoë teen die uitsluiting van bruin mense verklaar P.W. Botha, minister van ‘Kleurlingsake’, dat enkelrassigheid in die kunswêreld regeringsbeleid is ‘en dat dit net so min [sal] baat om daarteen te protesteer as om teen die oostewind te skreeu’.Ga naar voetnoot17 In 'n brief aan Die Burger skryf Jan: [D]ie kunswêreld waar menslike verhoudinge so essensieel ter sprake is, is nie roerende materiële bates soos aparte busse nie. Die kuns kan nie beplan of gedwing word nie; tesame met die godsdiens is dit die mens se diepste, mins amptelik-beheerbare getuienis oor die mens en menseliefde en die menslike soektog deur die lewe. Hy sluit af deur te sê indien min. Botha regeringsbeleid bo alles wil stel, ‘sal hy vind dat skeppers en draers van die kuns die meer duursame wette van die kuns en van geestelike waardes téénoor en hoër as regeringsbeleid sal stel’.Ga naar voetnoot19 | |
[pagina 273]
| |
Intussen vind Jan dit, ten spyte van die groot onregte wat daagliks gepleeg word en die enorme probleme wat uit 'n walglike politieke beleid voortkom, 'n opwindende voorreg om in Suid-Afrika te woon: Op ons bodem word die grootste sosiaal-godsdienstige probleem van alle tye, van mens teenoor medemens, op sy dringendste en eerlikste gestel. Volke raak selftevrede en aan die slaap en eintlik sonder diepe oortuiging van eie waardes, maar aan óns word nou die uitdaging van herwaardering gestel. Is dit nie 'n groot avontuur om die groot waardes weer eens te moet opsoek en waaragtig te beleef en uit te leef nie? Veel volke het al om hul bestaan gestry, maar min het dié stryd so duidelik aan morele wette, aan die reg van die andere, aan die ‘diepe waters’ van geloof, gekoppel gesien.Ga naar voetnoot20 In die onmiddellike jare ná Jan se terugkeer na Suid-Afrika sou die implementering van apartheid en die isolasionistiese denke onder die blanke Afrikaners egter toeneem. In die era van H.F. Verwoerd se premierskap (1958-1966) leef blanke Afrikaners in 'n soort euforie as gevolg van die magsposisie waarin hulle as regerende groep verkeer, die ekonomiese welvaart wat die land ervaar en die waan dat alle politieke probleme deur 'n waterdigte stelsel onderskep kon word. Tydens die Statebondskonferensie van 1961 in Londen kom daar sterk teenkanting teen die Regering se rassebeleid. Verwoerd trek Suid-Afrika se aansoek terug om voortgesette lidmaatskap van die Statebond wanneer die land 'n republiek word, en op 31 Mei 1961 kom die Republiek van Suid-Afrika buite die Statebond tot stand. In 1961 kondig Verwoerd ook in die Volksraad aan dat die Regering in beginsel tot 'n herverdeling van Suid-Afrika besluit het en dat dit sy bedoeling is om die verskillende swart tuislande tot groter selfbestuur en uiteindelik volkome onafhanklikheid te lei. Die Transkei en ander gebiede wat hiermee selfstandigheid verkry, word egter nie internasionaal erken nie. Vir die bruin mense en Indiërs - groepe sonder geografies afbakenbare tuislande - en vir die groot getal stedelike swart werkers wat vir alle praktiese doeleindes nie verwyderbaar is nie en in baie gevalle nooit in een van die tuislande gewoon het nie, is hierdie lyn egter nie deurgetrek nie. Vir volwaardige burgerskap binne 'n gesamentlike staatstruktuur met die blankes - die logiese oplossing - het die argitektuur van apartheid geen voorsiening gemaak nie. | |
[pagina 274]
| |
IIWanneer Jan Rabie vroeg in 1955 na Suid-Afrika terugkeer, tref hy 'n Afrikaanse literatuur aan wat nog hoofsaaklik deur die poësie oorheers word en waarin die prosa en drama ongunstig naas die werk van digters soos N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Uys Krige en Elisabeth Eybers afsteek. Omstreeks die middel van die vyftigerjare kom daar egter 'n aantal jonger skrywers aan die woord wat later as die Sestigers bekend sal staan en wat met nuwe werk hierdie disparate groei ophef, in so 'n mate dat al drie die genres gelyktydig en gelykwaardig ontwikkel. Op die gebied van die poësie word die vernuwing in 1955 ingelei deur Peter Blum, 'n figuur wat buite die ‘beweging’ van Sestig staan, maar wat deur die spreekritme, verrassende beeldspraak en gebruik van neologismes sinryk op die Opperman-impuls voortbou. Naas Adam Small se protespoësie in die trant van die ‘Negro spirituals’ is dit Ingrid Jonker wat met Rook en oker (1963) en veral Breyten Breytenbach met sy verbluffende woord- en beeldbeheer in bundel na bundel 'n nuwe inset in die digkuns bring. Ook die vernuwing in die Afrikaanse drama kan teruggevoer word na die jaar 1955 met die verskyning van Bartho Smit se Moeder Hanna in Standpunte, al word dit eers in 1959 in boekvorm gepubliseer. Veel meer as vroeër toon die drama in dié tydvak die bevrugtende invloed van die kontemporêre literatuur van ander lande. Maar Sestig was in die eerste plek 'n generasie van prosateurs. Met uitsondering van Chris Barnard maak hierdie skrywers almal omstreeks die middel van die vyftigerjare met publikasies in boekvorm hulle verskyning, al debuteer Rabie reeds in die veertigerjare. Daarby sluit 'n hele paar van hulle (naas Rabie ook André P. Brink, Abraham H. de Vries, Dolf van Niekerk en Hennie Aucamp) in hulle jeugwerk regstreeks aan by ouer tradisies. Heeltemal so jonk was 'n hele paar van die Sestigers dus teen 1955 al nie meer nie. Bartho Smit was reeds 31, Etienne Leroux 33 en Jan Rabie - die oudste belowende jongeling wat daar nog op aarde was, soos Peter Blum hom by geleentheid guitig noemGa naar voetnoot21 - reeds 36 met die verskyning van Een-en-twintig. Tog is dit so dat hulle almal in die vyftigerjare 'n ‘klimaatverandering’Ga naar voetnoot22 ondergaan en 'n nuwe kyk op die werklikheid openbaar. Hierdie verandering word, naas Rabie se Een-en-twintig (1956), in die prosa ingelei deur Etienne Leroux met Die eerste lewe van | |
[pagina 275]
| |
Colet (1955), terwyl die jaar 1962 die definitiewe deurbraak bring met die verskyning van Brink se Lobola vir die lewe en Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, voorafgegaan deur Hilaria (1957), Die mugu (albei deur Leroux) en Die son struikel (1960) deur Van Niekerk. Terwyl die ouer Afrikaanse prosa hoofsaaklik op die klein Afrikaanse wêreld van dorp en plaas konsentreer en uiters selde die motiewe van droogte of oorlog tot 'n universele problematiek laat uitgroei, wil die Sestigers juis die verwikkeldheid van menswees as sodanig in hulle romans en verhale laat gestalte aanneem. In plaas van groots opgesette karakters in 'n driedimensionele wêreld val die aksent op 'n voortdurend veranderende realiteit. Die dilemma van die wesentlike onkenbaarheid van die mens lei by Leroux, Van Niekerk, Barnard en De Vries tot die aanwending van die simboliese, pre-rasionele persoonlikheid, met 'n voorliefde vir die buitestander en die argetipe wat 'n sterk allegoriese en mitologiese lading dra. In sy belangwekkende lang opstel oor ‘Die krisis van ons werklikheidsbeeld in drama en epiek’ sal Bartho Smit juis in hierdie tyd skryf dat die mens in die moderne Europese letterkunde geen beeld meer het nie. Hy ‘is geen lewende realiteit nie, maar 'n versameling van houdings en maskers’;Ga naar voetnoot23 die skrywer en kunstenaar van ons tyd word met ‘die nie-gesig van mens en wêreld, die totale abstraksie’Ga naar voetnoot24 gekonfronteer. In sy gereelde besprekings van Afrikaanse boeke in The Cape Times sal Rabie hierdie vernuwing toejuig. Oor Leroux se Sewe dae by die Silbersteins skryf hy byvoorbeeld: This new novel by the author of Hilaria and Die mugu is the strangest, most unusual book yet to appear in South Africa. I know of no other book with its intellectual brilliance, its dexterous juggling with symbolisms and its ruthless economy of words in focusing on characters, as if they were tiny wriggling insects under a microscope. Etienne Leroux has obviously read Jung, the modern experimentalists and the Medieval scholastics to create his potent draught. Rabie noem dit 'n ‘disquieting book’. Leroux se visioen raak, naas homself, ook ‘the fin-de-siècle age of today, slipping ever faster into a funnel of change’. Hoewel Rabie dié vernuwing by sy medeskrywers dus verwelkom en trouens met Een-en-twintig en sy steeds ongepubliseerde Mens-alleen die pionier en padwyser van dié rigting in die Afrikaanse letterkunde was, sien | |
[pagina 276]
| |
hy dit as sy primêre taak - en trouens dié van die Afrikaanse skrywer as sodanig - om teen die onregverdige politieke bestel in sy land stelling in te neem. Reeds in sy Paryse lesing oor die Afrikaanse skrywer en die kleurprobleem het hy hom uitgespreek teen die soort skrywer ‘wat na 'n estetiese ster sit en kyk terwyl sy huis afbrand’ of sy kop soos 'n volstruis wegsteek as die gevaar kom. By herhaling is daar in sy Paryse dagboek inskrywings oor hoe hy sy taak as skrywer in die toekoms sien. Telkens sal Jan in hierdie jare hom uitlaat oor die Afrikaanse skrywer se traagheid om oor die brandende aktuele sake in sy eie land te berig. Bitter min van die vernuwers se werk toon vir hom ‘'n enigsins volledige benadering van die Suid-Afrikaanse mens en situasie ... Meer as enigiets anders is Afrikaanse skrywers se onvermoë om objektief en brandend-eerlik oor hul mense se groot probleme te skryf, 'n bewys van die Afrikaners se intellektuele onvolwassenheid as gemeenskap.’Ga naar voetnoot25 Hoe sterk Rabie oor sy taak as betrokke skrywer voel, blyk uit die briewe wat hy in 1956 en 1957 wissel met Etienne Leroux wat 'n ander opvatting oor die skrywerskap huldig. In 'n brief van 28 September 1956 spreek hy sy waardering uit vir Leroux se debuutroman Die eerste lewe van Colet. Die roman gee vir hom blyke van fyn waarneming en goeie, intelligente prosa. In die toekoms sal Leroux egter moet leer om van homself weg te skryf en nie sy waarneming aan homself te koppel nie. Leroux sal, so meen hy, ‘gedwing word om sosiale maatskaplike feite net so helder in die oë te sien as sielkundige feite’. Waarop Rabie hier dus sinspeel, is dat hy van Leroux verwag om bo die stof van 'n persoonlike ontwikkelingsroman uit te styg tot 'n werk waarin hy die groot vraagstukke van Suid-Afrika aanspreek. In Leroux se antwoord op hierdie brief wys hy Rabie op drie buitelandse tydskrifte met artikels waarin daar oorsigte oor die kontemporêre literatuur in Suid-Afrika verskyn. Afrikaans word net in 'n paragraaf vermeld, maar dan word die aandag verskuif na Ezekiel Mphahlele en gesê: ‘As the tide is set at present, it is towards Africans ... that one should look for the strong and significant literature of the future.’ Dit is veral teen die kleinerende toon oor Afrikaans in die artikels waarteen Leroux beswaar maak. Dit is die eerste keer dat hy dit in buitelandse literêre tydskrifte teenkom dat teen 'n groep skrywers gediskrimineer word omdat hulle in 'n taal skryf wat nie baie mense praat nie, dat aan hulle 'n bekrompenheid toegedig word wat nie bestaan nie, en dat hulle misken word omdat hulle as 'n bevolkingsgroep nie van belang is nie. In die artikels word Paton, | |
[pagina 277]
| |
Harry Bloom, Abrahams, Jacobson, Stuart Cloete, Gordimer en Mphahlele as die kern van die Suid-Afrikaanse letterkunde genoem en alle Afrikaanse skrywers verswyg. Die fout, skryf Leroux aan Rabie, ‘lê ... by julle donders wat voorstaan dat die skrywer gewikkeld moet wees in die politieke toneel, of in die opsigtelike probleem wat op die lippe van almal is. Dit is die Frankenstein-monster wat ons almal nog gaan vernietig.’ In sy antwoord van 19 September 1957 sê Rabie aangesien Afrikaans 'n klein taaltjie is, 'n teenstander van die taalimperialisme van Engels en daarby die taal van apartheid wat tereg maar ook gerieflik deur die Europese gewete verdoem word, is dit haas onvermydelik dat Afrikaans deur die Engelse pers beledig sal word. Hy meen egter dat Leroux te veel aandag bestee aan Engelse tydskrifte wat ‘jy gesteriliseerd oor die pos in jou oase in die woestyn ontvang’. Hy self is wel deur sy afkoms deel van Europa, maar 'n vegter op die voorpos en ‘só sterk Afrikaans dat ek nie hulle goedkeuring nodig het nie’. Sy plig is teenoor die Afrikaanse letterkunde: Laat hulle ons negeer en verkleineer, 'n mens kan verstaan waarom [...A]l waar voor ons moet spook is om onsself suiwer te hou, nie uit skrik wat hulle sê nie, maar uit regverdige selfbeskouing. Ons gewete. En dan moet die Afrikaanse letterkunde homself beskuldig - hy skiet wel tekort. Met 'n formulering wat herinner aan die brief van 3 Januarie 1948 wat hy kort voor sy vertrek na Parys aan dr. Fransie Malherbe skryf en waarin hy sê dat hy niks dink ‘van ons land se prosa nie’, gaan Rabie voort: As termometer van wat vandag in Suid-Afrika aangaan, is Afrikaans hopeloos vals en onvoldoende, en veral gefossileerd, 19e-eeus. Waarom? Verkeerde fokus, 'n so sterke groepsgehoorsaamheid dat die individu 'n gevangene is wat nooit aan sy eie lens durf stel nie. Dus skryf ons oor Jaffies en Grieke en blommerangskikking,Ga naar voetnoot26 of vlug weg in 'n verstellery van mikroskope, meesal op die mikrowêreld van die self. Dit is ook goed, maar nie goed genoeg vir 'n volk wat 'n maatskappy en maatskaplike verhoudings en persone tussen mekaar veronderstel nie. 'n Volk is eers 'n volk wanneer hy oor alles kan skrywe, wanneer hy nie sekere dinge oorlaat aan sy politici of sy kerkmanne nie, wanneer hy nie meer bang is vir sekere dinge in die wêreld nie. | |
[pagina 278]
| |
Wanneer Leroux praat van ‘die opsigtelike probleem wat op die lippe van almal is’, erken hy vir Rabie dat hy nie daarvan hou nie en daarvoor bang is. Dan het Engeland en Europa gelyk as hulle ons jongste letterkunde negeer en die verlamming raaksien. Rabie gaan voort: En waarom is ons verlam? Waarom skryf ons Afrikaners nie magtige Verwoerdiaanse dramas nie? Is dit nie omdat ons weet ons kan nie, geen skrywer kan nie as hy homself nie wil verag nie? Is 'n verlamming onder ons skrywers nie 'n erkenning dat ons verkeerd is nie, [...] dat ons sekere dinge in ons skrywersimperium oorlaat aan onbevoegdes, die politici? Slegs onder die Afrikaners word die politici geëer, as onaantasbaar beskou wat ons heil en ons verdoemenis in hulle hande dra. En as ons probleem maar politiek was: so iets soos nasionalisasie van die myne, of linkse of regse beleide; maar nee, ons muurkas-lyk wat ons aan die politici oorlaat, is geensins politiek nie, maar die probleem van persoonlike verhoudinge, die groot menslike probleem wat orals behalwe hier die domein van die skrywer en die denker is, of die humanis [...V]anaf die laaste oorlog lewer ons werk wat onvolledig is (want bang), wat nie ster en blom en swart ellende en wit hoogmoed of wat ook, wat nie alles bevat nie. As Europa dus 'n slegte gewete oor ons het, dan is dit omdat hulle dit van ons gekry het. Hy self, gaan Rabie voort, skryf nie oor politiek nie, maar oor sy naaste, sy bruin broer in hierdie land. Hoe sterk Rabie hieroor voel, blyk uit die heftigheid van sy woorde teenoor Leroux: [M]oenie weer sê ek wil politiek skryf nie, verre sy dit van my, Stephen, asseblief, man, as jy dit politiek noem, dan is dit 'n siek alibi, 'n poging om die verantwoordelikheid op ander se skouers te gooi, nie self te doen nie, nie self te delf in hierdie wonderlike aarde van menslike verhoudings wat tog 'n skrywer se enigste kos is nie. As jy sê politiek bedoel jy slegs: Moenie daaraan vat nie, Verwoerd sal kwaad wees, die Afrikaners d.w.s. ons oupas sou nie daaraan gevat het nie. Volstruisery. Ons woon in een van die geweldigste menslike kookpotte van alle tye, en ons skryf nie daaroor nie, ons, die Afrikaners. Vind jy dit nie snaaks nie? Vra jy jouself af hoekom? Al skryf jy 'n liefdesroman of oor iets gans anders, kan jy jou 'n situasie indink waar daar darem nie | |
[pagina 279]
| |
ten minste 'n swart man in 'n straat verbystap of die tuin skoonmaak of êrens ook as lewende materiaal aanwesig is nie? Ek vra nie dat ons Harry Bloom se skreeue moet naboots nie (dis onwaar), of D.F. Malherbe se dienskneg-gefluister moet herhaal nie (dis onwaar), ek vra dat ons eerlik en elkeen volgens sy eie insig dit moet noem, en nie bewus uitsluit nie. Ek sê dat [as] ons dit bewus uitsluit [...] uit die totaalbeeld van die prentjie, dat ons dan onwaar word. Ons moenie slinger tussen skreeu en fluister nie, ons moet praat. Dit is ons plig teenoor ons volk. ‘Omdat ons te bang is om dit te doen,’ sê Rabie in 'n gedeelte van dié brief wat 'n eggo is van sy Paryse dagboek-inskrywing en die lesing wat hy in Frankryk opstel, ‘is ons die oneerlikste, skuldigste en laakbaarste lede van ons volk. Denkers dink vir 'n volk, nie sy politici nie. Ek sê dus net: die kleurprobleem is nie politiek nie. Veral as ons weet dat ons hele toekomstige bestaan daarmee gemoeid is.’ Wat Rabie dus gee, is die kunsopvatting in die kleine van die geëngageerde skrywer. Op hierdie brief stel Leroux in sy antwoord 'n standpunt wat illustreer in watter mate die Sestigers in hulle benadering en opvatting van die literatuur onderling van mekaar kon verskil. Hoewel hy met Rabie akkoord gaan dat die Afrikaner afgryslike foute begaan het en sy morele lafhartigheid onder die skyn van nasionalisme probeer wegsteek, verskil hy oor wat presies die rol van die skrywer is. Sy hoofstelling is dat die skrywer geen rol het nie: Hy is 'n vakman met 'n talent. Hy kan oor enigiets onder die son skryf. Daar rus op hom geen verpligtinge nie. Omdat die skrywer uiteraard oor mense skrywe, kan hy alleen skryf in 'n toestand van absolute vryheid, d.w.s. vryheid wat betref gewone konvensies, vryheid wat betref taakoplegging, vryheid wat betref modes. Engeland en Europa verwag dat Suid-Afrikaanse skrywers oor die kleurkwessie moet skryf. Dit bring mee dat skrywers soos Paton en Gordimer volgens 'n resep begin skryf, en hierdie gebrek aan 'n resep word Afrikaanse skrywers nou verwyt. Leroux weier om ‘traktate’ vir enige groep te skryf: ‘Hierdie sogenaamde “social significance” is uit die bose: dis 'n produk van die sosialisme.’ Hy gaan voort: | |
[pagina 280]
| |
[E]lke skrywer is geregtig op sy obsessie. Myne gaan oor die posisie van die enkeling in hierdie wêreld. Ek is net so 'n humanis as jy en Uys, maar ek beskou die reg van die enkeling op sy andersheid, sy ‘non-conformism’, as die belangrikste beginsel in die hele wêreld. Ons leef en sterf nie kollektief nie; ons leef en sterf as enkelinge. Ek kan slegs met deernis kyk na die verdruktes en die ongelukkiges as 'n groep; hulle opheffing laat ek in die hande van die sosioloë en die politici. Ek stel belang in die enkele geval, nie in die sosiale verskynsel nie. Die kleurling en die Bantoe as 'n groep gaan my as skrywer nie aan nie - ek dra ook te min kennis van hulle. 'n Interessante kleurling en 'n interessante Bantoe sal my aandag trek, maar nie vanweë sy kleur nie. Die kleur sal wel interessant wees omdat dit skynbaar 'n belangrike rol speel en omdat dit hom sal vertroebel as 'n wese met 'n grief. Hierdie besondere grief sal my heel moontlik verveel sodra daardie grief veralgemeen word. Solank dit 'n persoonlike grief bly, is ek geïnteresseerd. Teenoor Rabie wat met oortuiging die standpunt inneem dat die besondere probleme van die Suid-Afrikaanse situasie 'n stellinginname van die skrywer vereis en hom die taak en verantwoordelikheid oplê om van die onregte en onregverdigheid in die maatskappy verslag te doen, sê Leroux dat hy vry wil wees om te skryf oor dít waarby hy hom obsessioneel betrokke voel. Jare later, wanneer hy in 1973 by die simposium oor die Sestigers tydens die Universiteit van Kaapstad se somerskool verslag doen oor ‘tegnieke, temas en toekomsplanne’, sê hy: Al wat ek vra, is om in terme van tema met rus gelaat te word. Ek weet dit klink blatant en uitdagend, maar ek as skrywer is nie geïnteresseerd in die wel en wee van die ... besondere groep nie. Daar is in my 'n kollektiewe vrees vir menswees met die gevolg dat al die karakters in my boeke tweedimensioneel geword het. Tematies gesproke is ek dus beperk tot my besondere visie. Ek kan dit nie bekostig om anders te skryf nie. Meeste romanskrywers het net één boek en één tema.Ga naar voetnoot27 ‘My tema’, sluit hy af, ‘is vrees, en die beswering van vrees, en vrees in sy abstrakte gedaante is die grootste vrees wat daar is.’Ga naar voetnoot28 Uit Rabie se antwoord van 14 Oktober 1957 op hierdie brief is dit dui- | |
[pagina 281]
| |
delik dat hy nie af te kry was van sy eie ‘magnificent obsession’ oor sy taak en roeping om die onreg en euwels binne sy maatskappy te karteer nie. Juis in hierdie tyd was hy reeds aan die gang met 'n roman waarin die skending van die mens se menswaardigheid as gevolg van apartheid sentraal sou staan. Nog voordat hierdie roman gepubliseer sou word, vind daar 'n ernstige botsing plaas tussen Rabie en verskeie belangrike literêre persoonlikhede van Kaapstad. In Desember 1957 was N.P. van Wyk Louw vir die eerste keer ná sy aanvaarding van die leerstoel aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam in 1950 op 'n kort besoek aan Suid-Afrika om te verskyn voor 'n aanstellingskomitee van die Universiteit van die Witwatersrand, wat moes beslis oor wie die nuwe hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan dié universiteit sou wees in die plek van C.M. van den Heever wat vroeër die jaar oorlede is. Nog vóór sy terugkeer na Nederland is bekend gemaak dat Van Wyk Louw benoem is. Tydens sy verblyf in Kaapstad gaan hy tuis by sy broer W.E.G. Louw wat toe pas as kunsredakteur by Die Burger aangestel is. Op 'n aand nooi W.E.G. Louw en sy vrou, Rosa, verskeie belangrike persone in die literêre wêreld uit vir 'n ete: mense soos D.J. Opperman, J. du P. Scholtz, Izak van der Merwe (Boerneef), Fred le Roux en J.J. Human. Terwyl die aanwesiges vóór die ete gesellig oor 'n drankie saam aan die gesels was, klop Jan Rabie aan om sy weeklikse bydrae tot sy posseëlrubriek in Die Burger vir W.E.G. Louw te bring. Louw, goeie gasheer wat hy was, nooi Jan in om sy broer te ontmoet, met die gaste te gesels en saam te eet. Reeds vóór die ete het Jan begin om baie dinge in die Afrikaanse geesteslewe te kritiseer en nie gehuiwer om sy bedenkinge uit te spreek oor die politieke rigting wat Die Burger inslaan en oor Standpunte wat akademies versand en nie die werk van jong skrywers, insluitende sy eie, wil plaas nie. Van Wyk Louw verdedig die feit dat Standpunte van Jan se ‘prosas’ afgekeur het en sê dat hulle waarskynlik vandag dieselfde sou gedoen het, 'n verstommende uitspraak as 'n mens onthou dat Van Wyk Louw 'n paar jaar later in die ‘Nákaart’ in Vernuwing in die prosa (1961) betreklik gunstig oor Een-en-twintig skryf en 'n stuk soos ‘Stellenbosch, my vallei’, wat Opperman vir Standpunte weier, as ‘baie goed’Ga naar voetnoot29 bestempel. Toe hulle vir die ete aansit, word kaviaar as voorgereg op die tafel geplaas. ‘Kom hierdie kaviaar uit Rusland?’ vra Jan, met 'n kwalik bedekte tikkie verontwaardiging oor hoe dit moontlik is dat Nasionaliste iets uit so 'n land kan eet, terwyl hulle party 'n wet teen die | |
[pagina 282]
| |
onderdrukking van kommunisme uitgevaardig het en kort tevore die diplomatieke verteenwoordigers van die Sowjetunie teruggestuur het huis toe. Uit die aristokratiese hoogtes van Dertig en met meer as 'n sweem van minagting oor wat hy as 'n onnosele vraag beskou, antwoord Fred le Roux: ‘Nee, mnr. Rabie, hierdie steurvisse swem rond in Tafelbaai.’Ga naar voetnoot30 In 'n brief aan Peter Blum skryf Jan dat hy tussen die ‘groot koppe’Ga naar voetnoot31 gevoel het dat hy ‘voortaan 'n muskiet sonder kulturele eer’ in die Afrikaanse letterkunde sal wees. Na afloop van die ete en 'n uur se gemoedelike geklets begin Jan ‘behoorlik uitpak’. Hy gaan voort met sy kritiek op Die Burger en Standpunte, die politiek en die gevaar van 'n streng sensuurbedeling wat ná bekendmaking van die Cronjé-verslag op die letterkunde wag. Aan Marjorie, in daardie tyd op besoek in Skotland, skryf Jan vroeg in Januarie 1958 oor sy aand saam met ‘Cape Town's cream’: ‘I laid my soul on the table, and asked: And you? It was an electric evening with me the sad, restless mosquito. But now I'm in the clear with the Afrikaans intelligentsia, lonelier perhaps, but I feel right. Some were cautious, or violent, at least I forced them to face the issue via me. The urgency of honesty. The protesting ones called me an idealist! Then they must be stone blind romantics.’ ‘Ure aaneen’, skryf Jan in wat Blum sy ‘berugte poëtiese styl’ noem, ‘het ek soos 'n nare blink metaalinsek geflits net bo die dom speelse skemer van hul selftevredenheid. Ek weet nie wat hulle nou van my dink nie, maar toe kon hulle my nie weg-ironiseer nie, het by tye selfs heftig geword. Ek dink ek was die mins heftige ... Slegs Van Wyk Louw het af en toe saamgestem met my, broer W.E.G. het in swye verval, en Bees [Opperbees, die bynaam wat Blum in hierdie jare aan Opperman gee - JCK] het nors en ruminerend gebly.’Ga naar voetnoot32 Waarop Jan veral in sy aanval gehamer het, is dat Van Wyk Louw en Opperman in hulle versdramas van die probleme van Suid-Afrika wegskram en oor die Rome en Korinthe van vóór Christus skryf. ‘Hier sit julle nou met julle Germanicusse en Periandrosse, en wat staan daarin oor Suid-Afrika te lese?’Ga naar voetnoot33 was sy verwyt. Opperman, wat die hele aand omtrent niks gesê het nie, se antwoord was: ‘Maar dit is daarin.’ Waarop Jan se antwoord was: ‘Maar, Dirk, dan is dit nie genoeg daarin nie.’Ga naar voetnoot34 Veral Scholtz, wat juis in hierdie tyd saam met Opperman bedenkinge gehad het oor Blum se Enklaves van die lig en die manuskrip nie, soos dit voorgelê is, vir publikasie wou aanbeveel nie, was volgens Blum ‘die groot invlieër’Ga naar voetnoot35 en het telkens heftig op Jan se uitlatings gereageer. Oor Enklaves van die lig het Scholtz gesê: ‘Blum het nie in die rigting ont- | |
[pagina 283]
| |
wikkel wat ons van hom verwag het nie.’ Hierby merk Blum op: ‘sowaar: hy het seker 'n natkalf-rigting [Nasionaal-Calvinistiese - JCK] verwag. Hoe ydel en verwaand!’Ga naar voetnoot36 In 'n brief van 23 Januarie 1958 aan Ernst Lindenberg kom Blum op die hele aangeleentheid terug: Rabie het met sy gatvolheid vir die bulle nie ongelyk nie: hulle probeer beide ‘verhewe bo dit alles’ en tog stoer-nat te wees. Wat beteken dat hulle kultuurwaentjie in alle driwwe benat en bevuil word waar die volksjuggernaut deurjaag. Dit is daardie kultuurmanne wat 'n essensieel antikulturele beweging veel van sy selfvertroue gegee het.Ga naar voetnoot37 Veral hier die laaste sin van Blum is 'n aanduiding in hoe 'n mate die nuwe geslag skrywers hulle van die politici sal distansieer. Wanneer Liberale nasionalisme, die bundel opstelle waarin Van Wyk Louw die eerste keer van ‘voortbestaan-in-geregtigheid’ in plaas van 'n blote voortbestaan vir die Afrikanervolk praat, in 1958 verskyn, resenseer Jan dit in Weekblad van 16 Januarie 1959. Hy verwyt Van Wyk Louw dat hy nie die ‘afgod’ van nasionalisme afkeur nie en baie kritiek op die Afrikaner en sy rassebeleid verswyg. ‘Ons het die reg om moed en eerlikheid van ons grootstes te verwag’, skryf Jan. ‘Ons is 'n jong volkie wat nog skaars geleef het, en dit is 'n bitter, byna bomenslike ding om te erken dat ons wil om te bestaan iets boos kan wees. Maar as selfs 'n N.P. van Wyk Louw nie geloof dwarsdeur dié “grootste toets” kan behou nie, dan het ons miskien klaar geen waarde en reg tot bestaan nie.’Ga naar voetnoot38 In sommige ‘hoëre’ literêre kringe van Kaapstad het Jan nou begin bekend staan as 'n keffertjie en kapokhaantjie, 'n lastige vlieg op die neus. En in die komende jare sou die kritiek op Jan verskerp. | |
IIINá die verskyning van Een-en-twintig en voordat Jan in alle erns aan sy nuwe roman begin skryf, maak hy sy orige, meer realistiese verhale en sketse gereed vir publikasie. Die meeste van dié verhale dateer uit die Paryse jare, maar 'n drietal (‘Doodgeld’, ‘Die bed’ en ‘Die dag van die kasteroliebottel’) is reeds vóór sy vertrek na Frankryk geskryf, terwyl die | |
[pagina 284]
| |
laaste verhaal (‘Jaffie leer’) ná sy terugkeer in Suid-Afrika ontstaan het. Jan is die eerste Afrikaanse prosaskrywer wat sy verhale telkens presies dateer en met datums onderaan elke verhaal in 'n chronologiese volgorde in sy bundels plaas - 'n werkwyse wat aan die eerste digbundels van W.E.G. Louw en Van Wyk Louw laat dink, hoewel hulle die verse achronologies, van die mees resente tot die oudste, in Die ryke dwaas en Alleenspraak rangskik. Marjorie maak 'n mooi tekening vir die stofomslag: Jan sittende by sy skryftafel in sy Paryse dakkamer, met haarself by die wasgoed en met 'n stadstoneel op die agtergrond - alles mooi in geel en swart afgewerk. Jan noem die bundel Dakkamer en agterplaas. Soos Een-en-twintig verskyn dit weer in 'n mooi netjies afgewerkte uitgawe by Balkema. Hoewel die verhale en sketse in Dakkamer en agterplaas die verrassende nuutheid van Een-en-twintig mis, bevat dit van Jan se beste kort stukke, soos ‘Doodgeld’ met sy makabere slot, die gespanne beskrywing van 'n bergtog in die sneeu (‘Op die berg’), twee mense se hulpeloosheid ná 'n motorongeluk met die afwagtende aasvoëls in die nabyheid (‘Onder die hemel’) en ‘Jaffie leer’ waarin hy die rassetema - maar dan op 'n realistiese vlak en anders as in ‘Droogte’ - aanboor. Die gunstigste bespreking van Dakkamer en agterplaas is dié van Jannie Kruger in Die Transvaler van 4 September 1957. Kruger meen dat Rabie hier ‘verdiep tot 'n deurdringende waarnemer van die mense en die lewe’. ‘Op die berg’ is vir hom 'n ‘meesterstuk’: ‘Vorm en inhoud is volstrekte eenheid en ewewig, iets vlekloos eerliks. Die prosa straal soos die skerp wit lig van die sneeupiek, dit stik van angs soos die man in die benoude silindertjie van die omringende storm, dit byt soos die koue, dit verwarm (in kleure ook) soos die rooi skrefie vuurskynsel by die deurkosyn van die berghut se kombuis.’ David Marais waardeer in sy bespreking van 2 Oktober 1957 in The Cape Times veral die rivierverhale en Rabie se ‘accomplishment that he can wrap together lyrical language and a belly-laugh so well in the same parcel’. Daarteenoor vind hy die Paryse sketse ‘insubstantial’ en ‘Op die berg’ wolkerig en te vol simboliek, al bevat dit ‘a fine vein of poetic imagery’. Elizabeth Tredoux, pseudoniem van Rykie van Reenen, sê in Sarie Marais van 28 Mei 1958 dat die humor in die rivierverhale ‘van die breedste’ is: ‘Die skrywer is in dié stukke 'n man wat sy mense van buite waarneem en hulle met 'n spotprent-raakheid beskryf.’ Die gevaar is dat Rabie so 'n ‘valk-oog’ vir situasie het dat hy hom soms in die versoeking laat lei om 'n situasie as sodanig uit te beeld. | |
[pagina 285]
| |
‘Op die berg’ is vir haar egter een van die mooiste stukke in die boek. In Tydskrif vir Letterkunde, jaargang VIII, nommer 1 van Maart 1958 vind André P. Brink ‘Op die berg’ ook goed, 'n besonder helder ‘vergestalting van menslike eensaamheid en enkelheid’, terwyl van die ‘boereverhale en boertige verhale’ as kortverhale die suiwerste indruk maak, soos die skrynende ‘Doodgeld’. ‘Dit skyn’, skryf hy, of Rabie fyner kuns lewer wanneer hy dit uit die lewe doen, en nie uit die filosofie nie; wanneer hy werk met mense, minder met vooropstellings, simbole, gedagtes. Waar hy laasgenoemde, soos in Een-en-twintig, in die poème-en-prose gebruik, is dit treffend; in 'n kortverhaal is dit nie oral gerade nie; waar simboliese en werklike verenig word, soos in ‘Op die berg’, ontstaan 'n sintese wat aangrypend kan wees. Brink meen dat as die verhale in Dakkamer en agterplaas ‘minder ontstellend nuut is as in die eerste bundel’, daar juis in ‘die groter besadigdheid die moontlikheid vir groter en verdere ontwikkeling’ aanwesig is. Terwyl Brink ‘Jaffie leer’ teleurstellend vind, is dit vir J.M. de Vries in Zuid-Afrika van Mei 1958 die hoogtepunt van die bundel, ‘het geeft op zeer gevoelige wijze stemming en beelden weer en vormt daardoor een climax’. In teenstelling hiermee vind W.E.G. Louw in Die Burger van 1 Augustus 1958 die rivierverhale ‘alte swaar’, ‘Dakkamer’ swak as prosaskets en ‘Wit op swart’ 'n stukkie mislukte satire. ‘Op die berg’ bied egter ‘skielike en onverwagte uitsigte, asof die fantasie skielik inkerf, insny in die werklikheid’. Hy meen ook daar is in die bundel orals groeipunte aanwesig in die temas, die stelwyse en die verkryging van atmosfeer. Die suinigste lof, indien enige, kry Rabie van A.P. Grové in sy resensie in Die Huisgenoot van 28 Oktober 1957.Ga naar eind39 Hy vind die styl ‘pretensieus’ en ‘geforseerd, so onbeholpe en verwronge dat 'n mens eerder van stylloosheid wil praat’. Hy vervolg: ‘'n Skrywer kan natuurlik werk soos hy wil - beeldend of direk, oordadig of suinig, plat of verhewe, mits die skrif maar funksioneel is, mits die beelde verhelderend werk en nie vertroebelend nie. En dit is by Rabie juis dikwels nie die geval nie. In sy strewe na effek word middel meermale tot doel verhef, met die noodwendige gevolg: woordrykheid.’ Met heelwat voorbehoude het Grové wel waardering vir ‘Op die berg’. In ‘Jaffie leer’ word daar egter 'n kant van die kleurpro- | |
[pagina 286]
| |
bleem met ‘growwe middele en effens sentimenteel’ behandel. Van die rivierverhale staan vir hom die hoogste, al kwalifiseer hy dié uitspraak deur te sê dat hulle baie aan De Maupassant verskuldig is. Hoewel die verhale in Dakkamer en agterplaas vir Rob Antonissen meer realisties as dié in Een-en-twintig is, sal die aandagtige leser die verwantskap tussen die twee bundels volgens hom dadelik raaksien, veral ‘in die feit dat ook hier menige verloop onopgelos, menige situasie onopgehelder, vir goed onbeëindig bly, dat ook hierdie realiteit kort-kort op- en afskiet na 'n hoogte of diepte wat net fantasties kan heet, dat die louter tipiese, humoristiese, satiriese én psigologiese daarmee telkens, al was dit maar vir 'n vlugtige oomblik maar meestal met blywende gevolg, verbygestreef word’.Ga naar eind40 Hoewel ongelyk, meen Antonissen dat die bundel iets verfrissends bevat wat groot verwagtings wek, veral ook deur die ‘openlike ignoreer van of inbeuk teen allerlei “heilige huisies”’.Ga naar eind41 Naas ‘Jaffie leer’, wat hy ná sy terugkeer na Suid-Afrika voltooi, begin Jan reeds in die vyftigerjare ook met ander verhale en teen 1966 het hy genoeg vir 'n nuwe bundel. In Die roos aan die pels, soos hy die bundel noem, oorheers die rassevraagstuk, al is daar ook stukke wat buite dié tema om beweeg. Later sou hy sê dat die ‘geswolle proloog-prosagedig’Ga naar eind42 aan die begin nooit in die bundel moes gewees het nie. In ‘Daar's water’, wat hy op 'n motorreis van Ingrid Jonker en haar man, Pieter Venter, baseer, skakel die voorspel (die huweliksonmin) nie bevredigend met die hoofpersoon se hallusinasies en latere ontmoeting met 'n bruin vrou nie, terwyl die hiperbewuste aksentuering van kleurverhoudinge in ‘Die klipblom’ hinder. Oortuigender is die geestige, meevoerende verhaal van 'n alkoholis se ‘sielestryd’ (‘God se bobbejaan’) en die satire op 'n departementele sekretaris se obsessie om sy hande te was en sodoende sy onskuld aan allerlei beleidsake telkens vir homself te herbevestig (‘'n Koekie seep’). ‘Khoib en die see’ is die aangrypende verhaal van 'n Hottentot se verhouding met 'n wit vrou in die tyd voor Van Riebeeck. Die hoogtepunt van die bundel is die aangrypende allegorie ‘Die groot vrot’, wat oor die wegsink van 'n hele dorp, meer spesifiek toegespits op een huisgesin, in die weggevrotte aarde handel. Met die noodlottige ingryping in die natuurlike orde van dinge en die geleidelike afsny van alle kommunikasie bied die verhaal 'n onthutsende variasie op Van Wyk Louw se beeld van 'n koue, geestelike hel en 'n uitdyende heelal in ‘Inferno’ in sy bundel Nuwe verse. Die roos aan die pels word uitgegee deur John Malherbe, 'n nuwe Kaap- | |
[pagina 287]
| |
stadse uitgewer wat ook werke van Uys Krige en André P. Brink se Orgie in die sestigerjare sal publiseer. By dieselfde uitgewer werk Jan met drie bydraes mee aan die bundel Rooi wat in 1965 verskyn en wat ook stukke van Hennie Aucamp, Brink, Freda Linde en Krige bevat. In hierdie tyd begin Jan met sy vertalings uit Frans en in enkele gevalle ook uit Engels. Bekende werke wat hy vertaal, is Georges Simenon se 'n Huis met groen luike (1960), Paul Vercors se Die stilte van die see (1960), Albert Camus se Die klip wat groei (1961), Alphonse Daudet se Briewe uit my meul (1964) en Albert Camus se Die buitestaander (1966). Hy vertaal verder baie kinderboeke, onder andere van Paul Jacques Bonzan, Paul Berna, Henri Bosco, W.E. Swinton, L.N. Lavolle en Etienne Cattin. Vir toneelvoorstellings vertaal hy Moordenaar sonder loon deur Eugène Ionesco en (uit Nederlands) Hugo Claus se 'n Bruid in die môre. Met die verskyning van Dakkamer en agterplaas was Jan reeds druk aan die gang met 'n roman wat hy uiteindelik Ons, die afgod sou noem. Op 27 Desember 1957 skryf hy aan Marjorie, wat aan die begin van daardie maand na Skotland moes vertrek waar haar vader sterwend aan kanker was, dat die roman ‘is going along quietly, efficiently and sadly - now definitely in the hands of the characters. I can only think up logical circumstances for them.’ Vroeg in Januarie 1958 kan hy haar laat weet: I think I see more of the road to the final logical end. It is not for me to decide. It's like a mathematical process - or a chemical one - ten données each with certain specific qualities influencing and pushing each other step by step in an inevitable direction. I'm learning compassion for the characters now - it might be a form of self-pity. In verdere briewe, waarin hy Marjorie nou as Joorsie en soms - met 'n toespeling op Wallace - as Joorsie Walvis aanspreek, skryf hy oor sy vordering met die roman en vra hy haar om saam met hom vir die einde, ‘that final transcending binding of all the strands’, te bid. Tussenin lees hy Tolstoi se essays oor Christendom en nasionalisme wat sy broer At by hom aanbeveel het. Sy roman, sê hy in 'n brief van 24 Februarie aan Marjorie, ‘has been a marvellous journey for me’. Hy en Balkema beplan om die roman vir die Kersmark gereed te hê en hy hoop dat hy die visie en helderheid en goeie gesondheid sal hê en miskien ook die moed om dit betyds klaar te maak. Hy vra haar om hom telepaties te help, want | |
[pagina 288]
| |
die voltooiing vereis nog ‘terribly hard thinking’. Omdat hy 'n behoefte het om weer volkome deel van sy land te word en nog 'n keer helder oor sy roman te dink, beplan Jan 'n staptoer langs die Weskus. Reeds tydens sy jare by die radio het dit hom gehinder as hy in Afrikaanse boeke nie seeterme kon kry nie, en geleidelik het hy begin om sulke woorde op skrif te stel. Vir sy buiteprogram ‘Soeklig’ het die radiowerk hom dikwels na visfeeste, hawemure en vissermanne geneem waar hy van dié woorde kon hoor. Tydens die staptoer kom hy op nog terme af. Maar gou is hy weer terug by die roman en op Vrydag, 2 Mei, drie-uur die middag, kan hy Joorsie Walvis laat weet dat hy pas die laaste sin van sy roman geskryf het. Die einde is vir hom goed, beter as wat hy ooit kon hoop of droom. En op 11 Julie skryf hy dat die hersiening voltooi is en dat die finale manuskrip van sy roman 177 getikte bladsye beslaan. Intussen het hy haar reeds gevra vir 'n ontwerp vir die stofomslag, want ná die groot sukses met haar ontwerp vir Dakkamer en agterplaas wou hy ook haar werk op die omslag van Ons, die afgod hê. Hy vra haar om aan die een kant van die ontwerp 'n wit plaas te teken, met 'n half-dreigende vuur aan die ander kant - alles met die kleure wit, rooi, swart en skaduwees van grysswart en grysrooi. Hy stel die volgende illustrasie voor (kyk in die foto-afdeling wat Marjorie hiervan gemaak het): One of the chapters is called ‘Wit muur’, the white wall completely surrounding the farm in the Boland. It symbolizes the huddling together defensively in a kind of laager. The accent falls on wall and white. I tried a hurried sketch myself, but it is much too big for the front cover space, which'll be about the same size as this sheet of paper. The farmyard is completely enclosed by the white wall, there are many oak trees, farm buildings and sheds, and the house, which has a gable or two, but on the front side is disfigured by a Victorian mess, of iron-trellises, you know the kind of thing in your painting of old folk in Clyde Street. Do it less a bird's eye view than my attempt, flatter, a huddle of green trees with houses and gable peering out, surrounded by a very prominent white wall. The wall must be thick and is slightly rounded on top. Don't forget the typical ornamental gate posts [...] In the background blue mountains. Remember Weltevreden lies in a wide valley [...] The farm is a laager, the white wall is something like a wall of white-tented waggons. | |
[pagina 289]
| |
Verder herinner hy haar dat sy naam J.S. Rabie met die titel Ons, die afgod aan die bokant van die illustrasie moet verskyn. Die woord ‘roman’, sê hy verder, ‘is necessary to sell the very abstract title’. Ons, die afgod is die verhaal van 'n bruin man, Jan Herold, wat ná jare as seevaarder na die kontrei van sy jeug terugkeer met die groot verlange én die finansiële vermoë om 'n stukkie grond te koop waarop hy kan woon en as kleinboer 'n bestaan kan maak. Hy vind egter alleen teenstand en vyandigheid oor sy verregaande ‘vermetelheid’ om grond in 'n oorwegend blanke omgewing te koop, behalwe by Frans le Roux, die hoofpersoon, wat hom ten doel stel om die onreg in die maatskappy as gevolg van die apartheidstelsel uit te wis. Die magte van buite is egter te oorweldigend en in 'n vlaag van verstandsverbystering vermoor Jan Herold die wit vriend van sy kinderjare, Willem Marais, aanstaande swaer van Frans le Roux. Tussen hierdie gebeure deur ontwikkel die romanse van Frans met Hermien Marais, suster van Willem. Die wêreld van die roman wissel van Kaapstad wat duidelik herkenbaar is, na die fiktiewe dorpie Greydal met Weltevreden, die plaas van die Marais-familie, en die kusdorpie Skuitpad. Hoewel fiktief, vermoed 'n mens dat hierdie plekke êrens in die Overberg is. Wanneer Frans, wat die familienaam Le Roux van Jan Rabie se moeder het, saam met Willem op die plaas rondstap, volg hy die beweging van Hermien wat in die paadjie in die rigting van die rivier afdaal, 'n milieu wat in die hele beskrywing groot ooreenkomste met die Rabie-seuns se jeugwêreld langs die Kafferkuilsrivier toon: Agter vleitoue en fluitjiesriet en papkuil murmel die bleek gesig van die water. In die maanlig sien Frans die lang soepel slierte van 'n treurwilger druip; met verbeelding sien hy hoe sy as blonde kind daaraan gehang en afgegly het.Ga naar eind43 Ook op enkele ander plekke in die roman bespeur die ingeligte leser outobiografiese trekke. Wanneer Hermien aan Frans sê: ‘Jy is so vreemd, jy kan nooit heeltemal aan 'n vrou behoort nie, jy gee jou gedurig aan ander dinge’,Ga naar eind44 is dit ook 'n kensketsing van Jan Rabie self wat aanvanklik moeite het in sy verhouding tot vroue, voortdurend oor die wese van die Afrikaner besin en apartheid verafsku. Selfs 'n klein besonderheid, soos die manier waarop Frans ‘met 'n skraal, skuwe gebaar wat die eensame in- | |
[pagina 290]
| |
gekeerdheid van sy gesig soos 'n familietrek bevestig’,Ga naar eind45 deur sy hare stryk, herinner die leser dadelik aan wat Jan in sy Paryse dagboek skryf: ‘Ek het 'n gewoonte om in teenwoordigheid van ander mense my hand langsaam oor my hare te stryk, bewus dat my hande slank en mooi is en geskik vir vertoning. Ook is dit 'n erkenning van my inherente futiele vroulikheid.’Ga naar eind46 Wanneer Willem vra of Frans dan skaam is om 'n Afrikaner te wees, klink die antwoord feitlik woordeliks na een van Jan se baie briewe in Die Burger: ‘Nee. Ek het my land en my mense lief, [...] ek wil trots voel om Afrikaner te wees, trots, en daarom kan ek nie help om skaam te voel vir wat verkeerd in ons is nie.’ In 'n brief aan Dagbreek sal Jan in 1965 skryf: Of ek ook skaam is om Afrikaner te wees? Nee. Skaam om wit man te wees, want hierdie dinge word darem nog nie in die naam van die Afrikaner gepleeg nie, maar wel in die naam van die wit man.Ga naar eind48 Ook die vrees én hoop wat Frans teen die einde vir sy volk het, kom baie ooreen met dié van Jan self: Wie het gesê die gode slaan dié wat hulle wil vernietig met blindheid? dink hy in beklemmende angs. Want hoe sal dit alles eendag eindig? Ons Afrikaners wat godslasterlik neerkniel voor ons uitsluitlike verlede, sal nie eens die troos van tragedie gegun word nie. Ons sal net nog 'n platgetrapte molshopie onder die onpersoonlike hemel wees, nog 'n mislukking. As ons dit maar net betyds kan insien, probeer hy dink, ons het tog al meer onderlinge buurskap en verdraagsaamheid geleer as wat ons opswepende volksleiers wil erken. Nee, dink hy driftig, nie volksleiers nie, professionele politieke uitbuiters, want wie vandag volk sê om homself deur syne te verheerlik, sondig teen die Algehele wat onverbiddelik deur die eeue van geskiedenis mik na die samevloeiing van elke enkelde strewe. Liefde, die weerlig vreedsaam in 'n blom. Ja, liefde, en ek is een met my mense, Afrikaners, onaf- | |
[pagina 291]
| |
skeidelik deel in hul vooruitgang na liefde en geloof. En in hul vrees? Nee, nee, storm dit deur hom, ek wanhoop nie, ek glo, ek hoop angstig met geloof dat my landsgenote sal sien dat die godheid in elke lewende wese woon, dat niemand niemand se meerdere of baas durf wees nie daar die liefde aan almal behoort.Ga naar eind49 En hy sluit af: ‘Wees ons genadig, Here, dink hy wat as seun laas gebid het, gee ons die krag om Suid-Afrikaners te word, en U voorbeeld te stel aan die res van die wêreld wat dit so nodig het.’ As 'n mens sien met watter toewyding Jan aan Ons, die afgod gewerk het en met hoeveel aandag hy aan Marjorie instruksies gee oor hoe die tekening op die omslag daar moet uitsien, kom die vraag by jou op waarom dit dan nie 'n beter roman geword het nie. Die toenadering tussen die hooffiguur, Frans le Roux, en Hermien Marais, wat die hoofhandeling begelei, bly vir die hele duur van die roman onoortuigend, omdat die basis vir hulle geneentheid tot mekaar volkome in die duister gehul is. Frans word voorgestel as 'n karakter wat nie alleen sterk oor rasseverhoudinge en die regverdige behandeling van alle mense - ongeag velkleur - voel nie, maar wat in so 'n mate deur hierdie dinge geobsedeer word dat dit sy waarnemings en gedagtes voortdurend kleur, terwyl Hermien hierdie opvattinge nie deel nie en plek-plek erg rassistiese trekke in haar samestelling openbaar. Die belangrikste beswaar is egter dat die verteller telkens op tonele fokus wat die kleurvooroordeel by herhaling illustreer. Met sy partydige en eklektiese waarneming of moralisering wil hy die leser kondisioneer of tot 'n bepaalde soort reaksie dwing en staan hy steurend en tendensieus tussen die leser en die romanwêreld. So byvoorbeeld stap Frans le Roux aan die begin van die roman ‘selfbewus blank’ verby 'n ou bruin man met wie hy 'n praatjie wil aanknoop, iets waarvan hy afsien as hy merk ‘dat die ou miskien té wingerd-ver heen is vir 'n erkentlike antwoord’.Ga naar eind50 By die Adderleystraat-ingang van die Tuine merk Frans 'n paar ‘stoere mans wat Afrikaans-sprekend uit die Parlementsgronde opdaag’ en ‘bevreemd’ kyk na hom ‘wat nie die masker van selftevredenheid dra nie’.Ga naar eind51 Hierdie ingesteldheid en tipe waarneming - en voorbeelde daarvan is dwarsdeur die roman te vinde - skaad ook in so 'n mate die karakterisering dat daar in die hele roman net een figuur (Willem Marais) is wat deur sy twyfel en genuanseerde optrede in verband met rasseverhoudinge 'n sekere driedimensionaliteit openbaar, terwyl die roman deur die talle | |
[pagina 292]
| |
oorbodige tonele struktureel 'n weekheid vertoon. Deur die hele werk is 'n mens trouens bewus van 'n barokke oordaad beelding wat ekspressionisties en plek-plek surrealisties wil wees, maar in sy weelde die hele gang van die verhaal vertroebel. Met die hoofkarakter se reis deur Suid-Afrika en die liefde vir die land (hoofstuk 4, ‘Die lied en die land’, bl. 68) bring Rabie die prosa-ekwivalent vir Jorik se verkennende tog in ‘Kamera’ en die liriese besinging van Suid-Afrika in ‘O wye en droewe land’ in Die dieper reg, maar dit is 'n intermezzo wat weinig verband met die ontwikkeling in die roman toon. Dat Ons, die afgod, ondanks enkele goeie tonele, as roman misluk, was ook die indruk van Jan se vriende en simpatisante, al het hulle sy bereidwilligheid waardeer om die rasseprobleem fel in 'n literêre werk te belig. In Weekblad van 12 Desember 1958 sê Uys Krige: Vir my is Jan Rabie in Ons, die afgod meer digter as romanskrywer. Plek-plek raak hy te fel, te betrokke, te verwikkel met die groot rassevraagstuk van ons land; spook daardie probleem so by hom dat hy sy karakters nie in hul volle menslikheid kan raaksien en hulle dus nie vir ons volkome oortuigend is nie; spreek die probleem nie uit die karakters nie, maar die karakters uit die probleem. [...] Frans, die hooffiguur of protagonis van hierdie roman moes 'n antagonis of teenstander van groter formaat gehad het as sy ou universiteitsmaat Willem. [...] Dan sou die onvermydelike botsing [...] meer diepte en betekenis [...,] minder patos gehad het en meer werklike tragiek. Tog is hy beïndruk met die skrywer se ‘merkwaardige morele moed’. In haar resensie in The Cape Times van 10 Desember 1958 skryf Nancy Baines: For myself, I respect and welcome Mr Rabie's criticism of apartheid, but find his book interesting as a social document rather than a novel. In Ons, die afgod we witness a difficult birth - a young Afrikaner painfully and tortuously rejects the narrow confines of the group for the wider communion of the brotherhood of man. [...] My chief criticism of the book is that instead of showing us this suffering and anguish, Mr Rabie has told us of them. Though the literary form he has chosen demands detachment, it is impossible for him to be de- | |
[pagina 293]
| |
tached. His novel loses accordingly. The three main characters representing three groups, are all slanted to comply with the author's concept of their group. They tend to become static characters, instead of the living, growing people the plot demands, and it is difficult for the reader really to feel for and with them. Emotional involvement is responsible for another weakness - the confused and often irresponsible use of metaphor. ‘When the writing is clean and clear,’ sluit sy af, ‘it is excellent - sensitive, poetic in the best sense, and compelling.’ In English Studies in Africa van Maart 1959 sê die skrywer Alan Paton vir wie Jan intussen deur Uys Krige leer ken het: In evaluating his novel, one is torn between the desire to see the Afrikaans novel liberated from the shackles of conformity and admiration for the courage of those who attempt it, and on the other hand one's obedience to the demands of the craft. Ons, die afgod suffers, I believe, from the paying of insufficient attention to those demands; yet the critic cannot confine himself to these considerations. In 'n belangrike uitspraak sê Paton dat Rabie se roman bo en behalwe dié oorwegings literêr van belang is ‘in that it is implicitly calling for a reintegration of the Afrikaans novel and the reality in which it is placed’. In 'n brief van 15 April 1959 aan Ernst Lindenberg sê Peter Blum dat hy die roman met ‘inspanning’ gelees het en in sy geheel as 'n mislukking beskou, al was die laaste tagtig bladsye vir hom vlotter en het dit hom geboei. ‘Die slot’, skryf hy, ‘is natuurlik melodramaties-sentimenteel; twee baie goeie episodes verdien egter om in aanmerking geneem te word: die huisgodsdiens waar Oom Petrus voorlees “Daar is niks nuuts onder die son nie” en Spoetnik oorkom; en die toneel op die berg waar Hermien haar aan die huiwerige Frans gee. Laasgenoemde is omtrent die fynste stukkie psigologie en menslikheid in 'n letterkunde wat hom veral toelê op growwe moralisme en wensdenkery.’Ga naar eind52 Jack Cope, die Engelse Suid-Afrikaanse skrywer wat teen die einde van die vyftigerjare saam met Uys Krige 'n huis op Tweede Strand, Clifton begin deel en vir wie Jan weldra goed sal leer ken, skryf veel later in The adversary within dat Jan 'n boek wou skryf wat sy boodskap duidelik moes oordra: | |
[pagina 294]
| |
He took little heed of warnings, particularly by contemporary French writers, that commitment should be integrated functionally in the work and never allowed to dominate its literary and formal aspects. Characters in Ons, die afgod became vehicles to carry the massive criticism levelled against racist attitudes; the voice of Frans becomes interchangeable with that of the writer himself. At one point in the narrative Rabie returns to his youthful bent for poetry and like a Hebrew prophet breaks into a sustained song of nearly two pages. Read by itself it is an impressive poem, a kind of threnody for the land and its history yet ending, in spite of the present dangers, on a note of hope. How it fits in the framework of a novel is another question.Ga naar eind53 Ten spyte daarvan dat Jan feitlik al die reëls van die ambag verbreek, meen Cope tog dat Ons, die afgod 'n merkwaardige boek is, veral omdat hy die land se sensitiefste en moeilikste probleem sentraal stel en omdat niemand, die foute ten spyt, die skrywer se integriteit kon bevraagteken nie. By publikasie veroorsaak Ons, die afgod in die pers 'n polemiek soos nog nooit tevore oor 'n Afrikaanse roman nie, 'n polemiek wat eers met die Hertzogprysstorm rondom Sewe dae by die Silbersteins in 1964 oortref is. Talle skrywers, resensente en joernaliste in sowel Afrikaans as Engels het landswyd aan die meningswisseling deelgeneem in stukke wat by tye vurig kon word. Die oplaag van 3 000 was binne die bestek van drie maande uitverkoop, maar Balkema het gevoel dat die mark daarmee 'n versadigingspunt bereik het en wou nie 'n herdruk onderneem nie.Ga naar eind54 Die eerste resensie oor Ons, die afgod verskyn in Die Burger van 21 November 1958 en is geskryf deur H.J. Grosskopf, joernalis en later koerantredakteur en professor in joernalistiek. Grosskopf meen dat uit die sentrale tema van rassewrywing in Rabie se werk uitstekende romans gebore kan word wat 'n mens tot vurige denke kan prikkel. Dit is Rabie se verdienste dat hy so 'n aktuele vraagstuk die middelpunt van sy verhaal gemaak het. Die hoofbeswaar teen die roman is dat Rabie die (blanke) Afrikaner tot 'n eng wese reduseer, 'n skynheilige wat die idee van 'n Herrenvolk huldig en 'n verstarde godsdiens aanhang waarmee hy sy onchristelike dade wil regverdig. Vir Rabie is daar geen skakering tussen swart en wit nie: ‘Sy blankes is streng verdeel: een Christen, wat die ware Christelikheid probeer uitleef, 'n klomp afgodedienaars en een futiele man wat in albei kampe probeer staan en uiteindelik vermoor word.’ Grosskopf meen ons het sterk | |
[pagina 295]
| |
romans oor aktuele sake nodig. ‘Dit is jammer’, sê hy ten slotte, ‘dat Rabie ons nie so 'n boek gegee het eerder as sy kragte te gebruik vir 'n stryd teen afgode wat wesenlik nie meer bestaan nie.’ Oor die algemeen is Grosskopf se bespreking, hoewel uiteindelik negatief, gebalanseerd en is dit duidelik dat dit by hom geensins om die tema gaan nie - trouens, hy verwelkom romans oor dié gevoelige kwessie - maar oor wat Rabie daarmee uitgerig het. Tog is dit jammer dat hy praat van ‘'n stryd teen afgode wat wesenlik nie meer bestaan nie’. Dit ontlok van Uys Krige in The Cape Argus van 4 Desember 1958 die reaksie: ‘This statement [...], accustomed we South Africans might have become to pronouncements or opinions of a similar nature, should make the angels weep.’ Afgesien van hierdie ongelukkige formulering van Grosskopf is sy oordeel veel meer genuanseerd as dié van die joernalis en uitgewer Aat Kaptein in Die Byvoegsel tot Die Burger van 22 November 1958. Voordat hy by Rabie se roman stilstaan, verwys Kaptein na ‘die krampagtige poging van “jongeres”’ op die gebied van die Afrikaanse prosa wat met ‘iets nuuts’ wil kom, maar selde ‘iets goeds’ lewer. Dit is onduidelik watter skrywer of skrywers hy hier bedoel, behalwe as hy verwys na Etienne Leroux se Die eerste lewe van Colet en Hilaria, wat albei by Kaptein se eie klein uitgewery, Culemborg, verskyn het. Kaptein sê die boek bevat feitlik alle elemente waaruit 'n skrywer van formaat 'n groot roman kan opbou. Die grondtema sien hy as die konflik tussen persoonlike verantwoordelikheid en maatskaplike vooroordeel, soos Rabie dit sien opduik op die vlak van die rasseprobleem. Dit bring veel misverstand en 'n klomp huigelary mee, terwyl humanisme en verstarde Christendom met mekaar bots en hoogmoed en haat teen liefde en goedheid veg. Verder is daar die motief van die ontluikende liefde en ten slotte is daar twee moorde en 'n huwelik wat ondanks swaar beproewinge tot stand kom. Die boek is vir Kaptein besonder lesenswaardig en sal waarskynlik naas waardering ook verset uitlok by Afrikaners wat nie daarvan hou ‘dat hul tradisionele leefwyse as 'n afgod aangedui word nie’. Rabie se roman is egter alreeds om die literêre kwaliteite verhewe bo die gemiddelde Afrikaanse roman en daarom werd om noukeurig bespreek te word. Die skrywer bederf dit ongelukkig alles deur ‘'n krampagtig volgehoue armsalige poging tot duistere mooiskrywery’. Derhalwe sien hy nie meer die verskil tussen sin en onsin nie en vergeet hy die grens tussen taal en wartaal. Hy noem enkele voorbeelde: | |
[pagina 296]
| |
In statistiese onsekerheid oor die oppervlak van die straat skommel die bus af na die middestad se beton-aspirasies. Hierby teken Kaptein aan: ‘Wat is dit? Dit is onsin.’ 'n Volgende voorbeeld: Sy gedagtes verdrink in die lafenis van spiere wat sweet in die son ... Sy oë is 'n elektriese storm waarin haar beeld telkens skroeiend opduik uit 'n maling skimme ... Die wêreld is 'n slinger wat swaai... Vir 'n oomblik ruk die slinger driftig skeef, vóór dit weer terugsak tot die skuwe glimlag van Hermien se gesig. Hierop reageer hy: ‘Wat is dit? Dit is ook onsin.’ En hy vra wat is die volgende: Waar ek sien waar ek onthou gister en vandag sing my senumonde my land. By dié en ander voorbeelde teken Kaptein weer aan: ‘Wat is dit alles? Dit is alles blote onsin.’ Ná nog 'n hele aantal voorbeelde skryf Kaptein: Hoekom - so vra 'n mens met verbystering - hoekom het Jan Rabie dit nodig gedink om 'n origens besonder mooi boek op te vul met sulke stom-onnoselike brokstukke pure twak? Hy meen die hoop dat Rabie nou eindelik 'n goeie Afrikaanse roman sou lewer, is ‘deur 'n afgryslike woordgimnastiek en 'n valse skittering van sleg-gespeelde vernuftigheid vernietig’. Op Kaptein se bespreking reageer Uys Krige in sy resensie in The Cape Argus van 4 Desember 1958. ‘Most of the passages he cites as examples of the “nonsense” of Rabie's style’, skryf hy, ‘bang back upon Kaptein's head like so many boomerangs. There are pages of sheer poetry in Ons, die afgod - and a poetry that is not gratuitous, but flows directly from the character.’ Verdere reaksies kom van twee digters wat juis in hierdie tyd met hulle debuutbundels op die literêre toneel hul verskyning maak: Ingrid Jonker met Ontvlugting (1956) en Adam Small met Verse van die liefde (1957). In Die Byvoegsel tot Die Burger van 20 November 1958 skryf Ingrid | |
[pagina 297]
| |
Jonker in reaksie op Kaptein se uitspraak dat daar Afrikaners sal wees wat nie daarvan sal hou ‘dat hul tradisionele leefwyse as 'n afgod aangedui word nie’: Moet 'n skrywer nou om dié rede sy deurleefde oortuiginge verraai, en ja-amen sê op dinge wat hy nie kan aanvaar nie? Moet hy sy liefde vir sy volk verraai? Is dit dan nie deel van die skrywer se roeping om die gewete van sy mense te wees nie? In reaksie op Kaptein se beswaar teen Rabie se ‘armsalige poging tot duistere mooiskrywery’ meen Jonker dat die meeste voorbeelde wat aangehaal word, juis ‘getuig van 'n sensitiwiteit en seggenskrag soos min Afrikaanse skrywers besit’. 'n Mens moet 'n ‘gevoelige gees’ hê om dit te verstaan. As voorbeeld neem sy die volgende sin wat Kaptein duister noem: Waar ek sien waar ek onthou gister en vandag sing my senumonde my land. Volgens Jonker behoort Kaptein te weet dat sommige groot Franse digters die komma laat vaar het reeds in die jare voor die Eerste Wêreldoorlog. En sy vra of hy nog nooit gehoor het van die prosa van Joyce en Hemingway nie. ‘As Aat Kaptein’, sê sy ten slotte, ‘hom wil verlustig in dié soort oppervlakkige weghardloop-woorde, dan moet hy hom liewer bepaal by die koddige joernalistiek wat hy wél kan skryf, en nie nou vir ons met soveel misbaar en luidrugtigheid as Heer Kritikus kom optree nie.’ In sy kommentaar op Kaptein meen Adam Small in Die Burger van 6 Desember 1958 Rabie laai sy taal ‘só heerlik-subtiel-betekenisvol’ met simbole dat, ‘as die leser en kritikus nie die hartklop van die simbole “vat” nie, 'n groot stuk van die boek vir hom verlore is’. Die vraag is egter hoe die boek, wat so regstreeks met die kleurkwessie te make het, hom as bruin man getref het. Die essensie van die boek lê vir hom in die woorde van Jan Herold: ‘Ek haat niemand nie!’ en ‘Maar ek wil niemand haat nie!’ Dít, sê Small, ‘is die kreet, die enigste kreet, wat ek, geen dooie boekbruin man nie, maar 'n lewende bruin man in ons Suid-Afrika, altyd op my lippe voel: “Ek haat niemand nie!”’ Intussen het talle koerante die reaksies van ander skrywers en letter- | |
[pagina 298]
| |
kundiges in berigte begin aanhaal. The Cape Argus van 4 Desember 1958 sê dat Rabie hom midde-in 'n ‘furious controversy’ bevind oor 'n boek wat 'n ‘anguished cry against the selfidolatry of sectionalism’ is. Die klassikus T.J. Haarhoff sê Ons, die afgod verteenwoordig ‘the awakening conscience of the Afrikaner’ oor die rassevraagstuk. Hymne Weiss is baie versigtig in haar uitsprake. Sy sê die roman gee nie 'n spieëlbeeld van die realiteit nie, maar ‘a moving recreation of a reality through which the writer tries to reach the problem’. Audrey Blignault vind die boek ‘exceptionally stimulating’, maar die skrywer is eensydig in sy benadering van die probleem, ‘so that he has not been able to do justice to its tragic content’. Waar die roman skeef loop, sê Abraham H. de Vries, is wanneer Rabie dit tot die hier en nou beperk in plaas daarvan om dit op 'n hoër plan tot 'n konflik tussen die Christelike etos en 'n menslike afgod op te voer. ‘I would prefer’, sê hy, ‘to call it a great novel that failed because it does not become a symbol for all time.’ Ook talle ander, veral Engelse, koerante publiseer artikels oor die ontvangs van Ons, die afgod en die gesprekke rondom die roman, maar Die Transvaler, die konserwatiewe noordelike Nasionale koerant, rep nie 'n enkele woord oor die publikasie nie. In 'n oorsigtelike artikel in Fighting Talk van Maart 1959 skryf Brian Bunting: ‘it is clearly the intention of the hard core of Nationalist intellectuals to pretend that no such book as Ons, die afgod has ever been written, or if it has, that it is not worth reading’. Sy indruk van die boek, skryf Bunting verder, ‘is that it is of uneven quality, containing elements of crudeness and improbability in the very sphere where the author hoped to shed most light - on the relations between European and Coloured. However one must salute Jan Rabie for his courage in making the attempt at all. His determination to seek, and speak, the truth will ensure a more rounded presentation of the subject in any future work, and it can be said he has nothing to fear by comparison with such English South African writers as Paton and Bloom.’ Intussen verskyn A.P. Grové se uitvoerige resensie in Die Huisgenoot van 26 Desember 1958. Tussen die reëls deur kon 'n mens duidelik bespeur dat allerlei lewensbeskoulike kwessies en politieke vooroordele in Grové se benadering en oordeel meespreek. Hy begin met die geldige vraag of ons hier te make het met 'n verhaal wat ons deur sy situasietekening en karakters tot 'n bepaalde slotsom voer en of dit 'n geval is van 'n ‘skrywer wat by monde van sy figure vir ons preek’. Die vraag is dus of Ons, die | |
[pagina 299]
| |
afgod 'n roman geword het of bloot 'n politieke dokument is. In haar reaksie sê F.A.M. Mulock-Houwer in Sestiger, jaargang I, nommer 2, Februarie 1964Ga naar eind55 dat hierdie vraag prinsipieel juis is, maar in die dramatiese stelwyse is die ‘kieme van eensydigheid’ reeds aanwesig. 'n Mens sien dit volgens Mulock-Houwer die duidelikste in Grové se analise van die liefdesverhouding tussen Frans en Hermien. Die meisie se familie, en sy self ook in sekere mate, sit vasgevang in 'n rassevooroordeel, sodat Frans, soos Grové dit stel, ‘genoeg geleentheid kry om hom as “regskape” eenling in woord en daad te laat geld.’ Dit gee hom dan geleentheid vir sy stryd teen die ‘herrenvolkisme’, met die gevolg dat daar van 'n werklike groei in die verhouding geen sprake is nie. Die ‘vrygewige’ Hermien is buitendien maar alte bereid om in 'n reeks ‘oorgawes’ die inisiatief te neem. Die liefdesverhaal word derhalwe misbruik om die leser ‘polities’ te ‘bearbei’, terwyl Rabie ‘die moeilikste terrein van die rassevraagstuk’, waarmee Grové 'n verhouding tussen blank en bruin of swart bedoel, nie ontgin nie. Dit alles is aanduidend van die beperkte siening van die boek. Frans openbaar 'n ‘fanatieke beheptheid met kleur’, sien alles as 't ware deur 'n ‘kleurbril’ en het ‘die woorde van die ewige lewe’ in pag, terwyl sy teenstanders almal benepe, oningelig, eng en skynheilig is - amper soos J.H.H. de Waal se helde en skurke. Grové meen Rabie gee slegs ‘maklike veralgemening’ en hy vra: ‘Hoe hoop Rabie om 'n nasionale sonde (soos hy dit sien) bloot te lê deur vir ons 'n paar karikature te toon? Hy val strooipoppe aan wat hy self gemaak het.’ Uiteindelik meen Grové dat Frans as hoofaanklaer iemand sonder integriteit is. In haar reaksie wil Mulock-Houwer nie die voor die hand liggende swakhede van Ons, die afgod goedpraat nie, maar sy haal Adam Small in sy reaksieGa naar eind56 op Grové se resensie goedkeurend aan dat dit nog geen rede is waarom Rabie soos 'n ‘letterkundige skurk’ behandel moet word nie. Sy skryf: Die uitbeelding van Frans is nie 'n poging om hom as ‘“regskape” eenling’ te teken nie, maar om hom as 'n onsekere jong man te sien wat sekere morele prinsipes, soos die essensiële menslikheid van almal, wát hulle kleur of ras ook al mag wees, aanvaar en wat hierdie prinsipes probeer handhaaf in 'n beskawing wat hulle verloën. En nie alleen dit nie. Frans is juis ook 'n Afrikaner met 'n waaragtige liefde vir sy land, sy taal en sy volk. In dié figuur wou Rabie hoofsaak- | |
[pagina 300]
| |
lik die worsteling uitbeeld om sowel prinsipes as Afrikanerskap te handhaaf. Hy teken Frans juis nié as iemand wat ‘nie twyfel aan sy insig nie’, wat dink dat hy ‘die woord van die ewige lewe’ in hom dra nie. Die totaalindruk wat 'n mens van Frans kry, is ook nie dat hy stry teen 'n ‘herrenvolkisme’ wat hy gedurig op sy weg vind nie. As mens is hy nie sterk genoeg om die tweespalt in sy gemoedstoestand op te los nie, want die keuse wat sy gewete van hom eis, bring mee dat hy sy Afrikanerskap moet verloën. Ten slotte is Mulock-Houwer se beswaar teen Grové se resensie nie die letterkundige probleme wat hy in Ons, die afgod aantoon nie - daarmee kan sy trouens meestal akkoord gaan - maar ‘die à-literêre bybedoelings wat hy van literatuurkundige argumente maak, en dus dieGa naar eind57 in literêre opsig pséudo-kwaliteit van sy kritiek’. Dat Ons, die afgod as roman misluk, het selfs nie Jan se beste vriende probeer ontken nie, maar niemand, behalwe dan miskien Grové, het sy integriteit bevraagteken nie. Jare later sou Abraham de Vries sê die boek het soos 'n klip in die water of 'n vuurhoutjie in petrol getref. In dié dae van apartheid en die Verwoerdiaanse heilstaat waarin absoluut geglo is, was dit die algemene opvatting dat as jy iets teen apartheid sê, is jy nie 'n Afrikaner of 'n gelowige nie. En nou kom hierdie vreemde man, met sy deurmekaar bos hare en sy bakkebaard en sy kompromielose baklei teen apartheid maar vír Afrikaans, met so 'n geëngageerde roman wat almal aan die praat het. Jan, sê De Vries, was die eerste man wat, reeds in sy Paryse dagboek, aangeteken het dat Afrikaans oplaas die rekening gaan kry vir die wandade van apartheid. Met Ons, die afgod het hy 'n hele jonger slag polities bewus gemaak.Ga naar eind58 Jan self kon dikwels, kort ná die verskyning van een van sy boeke, ontwapenend eerlik, objektief en onbetrokke oor sy werk praat. Hy het probeer om sy talent aan te wend om iets te sê oor menseverhoudinge in hierdie land, maar baie gou besef dit is oneindig moeiliker as om 'n helder, eenvoudige gedig te skryf of as die tipe ‘prosas’ wat hy in Een-en-twintig gebundel het. Hy het ingesien dat daar in Ons, die afgod 'n skellerige heftigheid is wat afbreuk doen aan dít wat hy wou bereik, dat sy Frans-karakter alles te veel deur 'n politieke filter waarneem en dat sy eie stem ‘te luid en skril’Ga naar eind59 deurkom. In 1991 sê hy in 'n referaat voor die Instituut vir Historiese Navorsing ‘liberale verontwaardiging lewer nie maklik goeie prosa op nie’. | |
[pagina 301]
| |
Maar by die verskyning daarvan in 1958 het die boek 'n groot opskudding veroorsaak. Jan is in die Engelse pers geloof as 'n ‘detribalised Afrikaner’Ga naar eind60 en hy is genooi vir toesprake en verklarings in die pers. Juis in hierdie tyd stel hy sy gedagtes oor nasionalisme en die idee van 'n wêreldstaat op skrif in Die evolusie van nasionalisme, die naaste aan 'n pamflet wat hy skryf. Daarin sê hy 'n nasionalistiese strewe na blanke baasskap in Suid-Afrika moet gesien word as 'n onbegryplike dwaasheid wat tot selfmoord kan lei. Geen uitgewer wou egter daaraan byt nie en Jan besluit om dit in 1960 self te publiseer. Gedagtig aan die Groenpuntse vuurtoring nie ver van sy huis in Cheviot Place nie, noem hy sy uitgewerytjie, wat slegs dié enkele boek gepubliseer het, die Mishoring-Pers. Hy laat 1 000 eksemplare druk en kry darem met 'n groot gesukkel 550 verkoop. Honderde moes egter met die heen-en-weer-stuurdery oor die pos afgeskryf word. Hy ly wel nie 'n geldelike verlies nie, maar die hele bemarking was gans te veel werk.Ga naar eind61 In dié boek kritiseer Jan dr. P.J. Meyer wat in Trek verder die standpunt huldig dat God die verskillende nasionaliteite geskep en aan die Afrikaners 'n bepaalde missie wat betref die swart volkere in Suid-Afrika toevertrou het. Om 'n bietjie van die politiek los te kom en die storm oor sy roman te verwerk, gaan swem Jan gereeld, en verdiep hy hom weer in sy versameling visterme. In skofte stap hy kuslangs van Port Elizabeth tot by Lambertsbaai en teken hy die plaaslike mense se woordeskat op. Hy verneem na iedere moontlike skulpie of wier en hy raadpleeg baie boeke oor die seelewe. 'n Werk waarop hy besonder trots voel, is die 2 200 kaartjies met seeterme wat hy by die buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op Stellenbosch inlewer. Met 'n gelukskoot kry hy die geleentheid om met 'n nuwe vistreiler 'n week of wat na Walvisbaai te gaan en ook te help visvang. Die bemanning noem hom ‘baardmannetjie’.Ga naar eind62 Uit die ervaring wat hy só opdoen, ontstaan die jeugboek Twee strandlopers wat in 1960 met mooi tekeninge deur Marjorie gepubliseer word, met 'n lys seeterme deur Jan agterin. Dit is die verhaal van twee seuns, Boet en sy Transvaalse nefie Marius, se tog te voet langs die see vanaf Waenhuiskrans tot Gansbaai, daarna per boot tot by Velddrif. Talle wetenswaardighede in verband met die see en sy geheime, die wrakke langs dié gevaarlike seeroete en die verskillende soorte vis word ingewerk, sonder dat die leser dit as inligting en daarom 'n ballas beskou. Jan slaag daarin om telkens die spanning op te bou, soos met die verdagte bewegings in die verligte grot naby Hanson se huis. | |
[pagina 302]
| |
Die verskyning van Ons, die afgod, gevolg deur Die evolusie van nasionalisme, sou egter nog 'n lang nawerking hê en van Jan 'n omstrede figuur in sommige literêre kringe in die land maak, al het sy vriende sy besliste standpuntinname toegejuig. Klaarblyklik het niemand in die akademiese wêreld geweet hoeveel arbeid en tyd Jan bestee het aan die versameling seeterme en watter waardevolle werk hy daarmee vir Afrikaans gedoen het nie. Hulle het ook nie besef 'n boek soos Twee strandlopers getuig van 'n deeglike kennis van die see nie. Ook vir politici wat stadigaan begin kennis neem het van die standpunte wat hy verkondig, het hy 'n verdagte figuur geword. Hy was iemand wat kans gesien het om sonder huiwering sy sê te sê en nie bang was vir die gevolge van sy kritiek nie, al was dit dan soms ook vir sy vriende 'n bietjie onoordeelkundig en studentikoos. Dit het hom egter ongewild gemaak en in sekere kringe het hy bekend begin staan as die eendstert van die Afrikaanse letterkunde!Ga naar eind63 In hierdie jare het selfs Peter Blum Jan begin vermy, Peter wat toe nog gemeen het dat hy, ná die aanvanklike aanvalle op hom, deur die literêre ‘establishment’ aanvaar sou word en dat hy selfs die Hertzogprys sou ontvang. ‘Ek onthou’, skryf Jan: een dag by die bopunt van Adderleystraat naby Die Burger in Keeromstraat. Terwyl ek daar loop, sien ek hoe Peter op dieselfde sypaadjie as ek skielik swenk en op die oorkantse sypaadjie afpyl, net om weg te kom van my. Ek het begryp die goedkoop boepens-handsak in sy hand is die rede, en ek het toe stadiger geloop. Die tas bevat natuurlik artikel(s) van Blum wat na Bladsy Twee [die kunsbladsy van Die Burger - JCK] op pad was.Ga naar eind64 Vir sy ideale was Jan 'n gevaar, 'n soort kommunis wat Blum se agting in konserwatiewe Burger-kringe kon verminder. Die algemene opvatting onder konserwatiewes en buitestanders was dat Jan en sy vriende teen die einde van die vyftigerjare en in die sestigerjare in Groenpunt 'n lewe gelei het wat nie gestrook het met dié van die behoudende wit Afrikaners nie en wat van linkse politieke oortuigings tot seksuele losbandigheid gewissel het. Dit was die ervaring van Ernst Lindenberg en John Kannemeyer toe hulle in Desember 1962 met 'n koffer vol resensie-eksemplare per motor uit Kaapstad vertrek het om medewerkers vir hulle nuutgestigte boekeblad Kriterium in Bloemfontein, | |
[pagina 303]
| |
Johannesburg en Pretoria te gaan werf. Tydens die besoek aan Pretoria het hulle aangeklop by Elize Botha wat in daardie stadium saam met haar man, Johan, in 'n huurhuis in Villieria gewoon het. Sy was dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika en 'n knap jong letterkundige wat onder die naam Elize Lindes in 1956 met die studie Veelheid en binding onder Van Wyk Louw in Amsterdam gepromoveer het. Tydens die gesprek het Jan Rabie ter sprake gekom en Elize het verwys na 'n uitspraak wat Chris Barnard kort tevore gemaak het, naamlik dat Jan net twee hartstogte het, naamlik sy volk en sy taal. ‘Asof Jan Rabie net twee hartstogte sou hê’, het sy smalend bygevoeg. Toe hulle wegry, merk Lindenberg teenoor Kannemeyer op: ‘Maar dit is tog waar wat Chris sê. Jan hét net twee hartstogte.’ In Oktober 1964 is Jan Rabie deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns tot fakulteitslid verkies uit erkenning vir sy skeppende bydrae tot die Afrikaanse geestesbesit. Juis in dié tyd was die uitgewer J.J. Human op besoek by sy skoonvader, Van Wyk Louw, in Johannesburg en hy kon die eindelose telefoongesprekke onthou wat oor die aangeleentheid gevoer is. Elize Botha en veral haar man, Johan, en A.P. Grové was siedend oor die benoeming. Hulle het getier oor die dwase besluit en selfs gedreig om uit die Akademie te bedank.Ga naar eind65 'n Ongeïdentifiseerde woordvoerder van die ontevredenes het aan die pers gesê Rabie het hom op verskillende wyses en by verskillende geleenthede ‘gedisassosieer ... met Afrikaner-ideale en die besondere strewe van die Afrikaanse kultuur. Daarom vind ons dit vreemd dat hy in 'n liggaam soos die Akademie opgeneem kon word.’Ga naar eind66 Van Wyk Louw het taamlik rustig gereageer en met groot geduld probeer verduidelik dat die Akademie nie beperk is tot Broederbonders of Nasionaliste nie, dat beroemde Sappe, soos byvoorbeeld generaal Smuts en H.A. Fagan en andere, lede van die Akademie was en dat Jan nie net 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het nie, maar ook honderde seeterme vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal versamel het. Die hele gebeurtenis rondom die verkiesing van Jan tot die Akademie het Van Wyk Louw egter omgekrap en dit was vir Human duidelik dat hy 'n renons begin ontwikkel het in die Pretoriase atmosfeer.Ga naar eind67 Jan self het ná die verskyning van die resensie oor Ons, die afgod geen illusies gehad oor Grové as kritikus en die wyse waarop hy bereid was om politieke en lewensbeskoulike sake onder 'n wetenskaplike dekmantel te | |
[pagina 304]
| |
vermeng nie. 'n Paar jaar later sou Grové in 'n Standpunte-artikelGa naar eind68 sê dat die ‘nie-Afrikaner’ sedert 1940 ook stem in ons poësie gekry het, soos die ‘Kleurlinge’ Petersen, Philander en Small en ‘vreemdelinge’ soos Olga Kirsch en Peter Blum, terwyl daar ‘meer as een stuk literatuur verskyn wat teenoor die Afrikaner en sy bestaanstryd koud en afwysend staan, indien nie vyandig nie’. Op watter stukke literatuur Grové hier sinspeel, sê hy nie, maar uit die konteks kan 'n mens aflei dat Ons, die afgod een daarvan kan wees. So 'n manier van dink oor skrywers en oor die literatuur was wesensvreemd aan Jan Rabie. | |
IVAan die begin van Desember 1957, iets minder as 'n jaar vóór die verskyning van Ons, die afgod, moes Marjorie inderhaas na Skotland vlieg waar haar vader terminaal siek was aan kanker en waar hy nog voor die einde van die jaar oorlede is. Sy het met Jan afgespreek dat sy 'n tyd lank haar moeder sou bystaan en dan na Parys sou gaan waar sy nog steeds haar ateljee in die Rue de la Tombe Issoire gehuur het. Heimlik het sy gehoop dat Jan ná voltooiing van sy roman by haar sou aansluit en dat hulle hulle weer in Parys, die ideale stad vir haar as kunstenares, sou vestig. Sy het selfs haar moeder bearbei om hieroor aan Jan te skryf. Maar Jan was hiervoor nie te vinde nie. Hoewel hy dit in die vooruitsig gestel het dat hulle weer in die toekoms na Europa sou gaan, wou hy geen tydsbeperking daarop plaas nie. Enige poging van haar of haar moeder, skryf hy op 12 Januarie 1958 aan haar, om hom na Europa te lok, is futiel: My only loving duty is to my work which concerns South Africa, here, and which is not completed yet by far. Poor South Africa is my loyalty, not Europe. And to complete a difficult novel like this I dare not set time limits, or allow anyone, even you, to hurry me in the process. You know the price of liberty, to my book, to us. Wanneer hy op 23 Januarie 'n brief van haar ontvang, skryf hy dat hy baie hartseer voel ‘about this symbolic marriage of ours’ en hy vra haar of hulle toneel speel: | |
[pagina 305]
| |
You know I'll despise myself if I run off to Europe for my own pleasure, here I have an urgent responsibility. I give you all freedom, so if you find yourself unable to share my responsibility, please make up your mind about your responsibility. If it means a divorce, let me know, for then it won't do to waste each other's life from a great and cold distance. In the mean time please don't try and force me to come touristing to Europe before I'm ready and free for that. [...] [M]y responsibility is here, utterly; if I neglect this I can find only a vacuum in Paris. Once a man has seen his destiny (or is it duty?) his soul dies if he doesn't obey. Wanneer Marjorie - verskeur tussen haar liefde vir Jan en vir Parys, die stad wat sy in daardie stadium as die ideale woonplek vir die uitbouing van haar kunstenaarskap gesien het - hom laat weet: ‘I'll come back to you, not South Africa. Or do you demand that I love your country?’, antwoord hy: No, I don't demand that, but something similar. That you sympathize with my work about and my relation to South Africa, that you do not dislike it so strongly so as to hinder me in my work and my sad worry about my country. And my love. Europa, sê hy in 'n later brief aan haar, was net sy leermeester, sy moeder wat hy moes verlaat. Dit spreek eintlik vanself dat Marjorie, soos vroeër met haar moeder, die hele kwessie van Jan se verknogtheid aan Suid-Afrika en wat hy as sy missie as skrywer beskou, in gesprekke met hulle gesamentlike vriende in Parys sou laat opduik het. Dit is nie onwaarskynlik nie dat die brief wat Rudy Kousbroek in hierdie tyd aan Jan rig, op haar instigasie geskryf is. As iemand wat ná onafhanklikheid uit Indonesië moes padgee, het Kousbroek nie veel vertroue gehad in die goeie bedoelings van mense nie en het sy sinisme dikwels in die ironiese styl van sy geskrifte neerslag gevind. In antwoord op 'n brief van Jan, waarin hy sê dat hy hopelik oor twee jaar weer oorsee kom, antwoord Kousbroek dat hy van Marjorie verneem het dit sal oor enkele maande wees. Hoe moet hy dit uitlê? Uit die gees waarin Jan vir hom oor die kleurvraagstuk skryf, kry Kousbroek die gevoel dat Jan daar ‘te dicht bovenop zit’ as wat hy daar te ver van af staan. Hy gaan voort: | |
[pagina 306]
| |
Je geeft de indruk dat je werkelijk denkt dat er iets aan te doen is, al is het maar een beetje - mijn overtuiging is, dat er geen ander excuus voor daadwerkelijk partijkiezen is, dat men het niet laten kan, dat men ziek wordt van ellende om in zulke omstandigheden niet het een of ander te gaan doen. Maar te denken, of zelfs maar te hopen dat je de vloedgolf tegen kunt houden is mijns inziens ijdel, zelfs al zou je in staat zijn de zaken flink aan te pakken, en daarmee bedoel ik bijvoorbeeld iets als: twee dagen vóór een belangrijke publieke verschijning van de minister van naturellenzaken, dring je met een paar potige vrienden zijn huis binnen, en verf je hem van teen tot kuif zwart met walnootsap (je weet dat je dat in geen veertien dagen af kunt wassen). Bovendien, als daar nog tijd voor is, zijn kinderen; maar niet zijn vrouw, die laat je wit. Of je pleegt een inbraak in een sperma-bank voor kunstmatige bevruchting (Nederlands voor artifical insemination) en verwisselt de gehele voorraad met neger-sperma. Kousbroek meen dat Suid-Afrika Jan nie werklik nodig het nie. Daarby is daar vir hom belangriker ontwikkelinge gaande wat die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk in die niet sal laat verdwyn. Met Jan se ‘mystieke bodemverbondenheid’ het hy in elk geval nie veel geduld nie. 'n Mens kon by voorbaat verwag dat Jan die brief van Kousbroek as 'n stukkie goedige skerts sou gelees het en dat dit hom hoegenaamd nie van plan sou laat verander het nie. Daarvoor was hy te oortuig wat sy missie as skrywer betref. Intussen het Marjorie begin voel dat haar liefde vir Jan en haar bewondering vir sy stryd teen die onreg in sy land sterker is as haar liefde vir Parys. Suid-Afrika, so was haar gevoel, spreek as land en as landskap nie tot haar nie en die rigiede rassebeleid van die regering het sy verafsku. Daarteenoor het sy reeds in die kort tydjie wat sy saam met Jan in Kaapstad gewoon het, goeie vriende gemaak en het sy mense begin ken met wie sy goed oor die weg kon kom en met wie sy op 'n intellektuele vlak kon verkeer wat nie agterstaan by dié van haar vriendekring in Parys nie. Natuurlik was daar nie iets soos die Louvre in Kaapstad nie, maar met sy baie kunswinkels, ateljees en interessante kafees was daar nêrens elders in die wêreld 'n plek wat met Parys kon vergelyk nie. Kaapstad het egter vir haar nie agtergestaan by Edinburg nie. Die man van haar liefde was in Kaapstad en haar hart het uitgegaan na hom in sy alleenstryd vir 'n | |
[pagina 307]
| |
regverdiger Suid-Afrika. En daarby het hulle, soos sy veel later sou sê, 'n ‘argument’ in Parys begin wat nog nie voltooi was nie.Ga naar eind69 Ook vir haar eie lewe was dit nodig om daardie ‘argument’, wat 'n hele lewe sou duur, tot voltooiing te bring. Aan die begin van November 1958 was Marjorie terug in Kaapstad, betyds vir Jan se verjaardag op die veertiende en vir die bekendstelling van Ons, die afgod. | |
VCheviot Place 6, die huis in Groenpunt wat Jan en Marjorie in die jare 1955-1966 met Erik Laubscher en Claude Bouscharain gedeel het, was waarskynlik die naaste wat Suid-Afrika aan 'n tipiese Paryse kunstenaarsapartement sou kom en waar die inwoners op 'n eg Boheemse wyse sou leef. Jan en Marjorie het die boonste gedeelte van die huis betrek en beskik oor twee slaapkamers, 'n werkplek vir elkeen van hulle en 'n badkamer met 'n toilet. Om dit verder vir hulle gerieflik te maak, het hulle bo 'n tweede kombuis ingerig, die trap toegekamp met 'n hek sodat kinders nie kon afval nie. Om koste te bespaar, het hulle egter die telefoon met die Laubschers gedeel. Geld vir meubels was daar nie eintlik nie en Jan het, soos vroeër in Parys, die noodsaaklikste self uit hout gemaak. Marjorie het eenvoudige helderkleurige verf gebruik en die mure in verskillende kleure geverf om hulle gebrek aan meubels te verbloem en 'n atmosfeer van vrolikheid te midde van die armoede te skep.Ga naar eind70 In sy verhaal ‘'n Man van ons straat’ in Die roos aan die pels beskryf Jan die woonplek as 'n ou witgeskilderde huis met sy stoep oorskadu deur 'n magtige vyeboom waarin spreeus en seuntjies in die somer verjaar. ‘Ons, dit wil sê die twee families “kunstenaars” wat in ons dubbelverdiepinggebou woon, hou ons taamlik eenkant, en ken mense wat verder weg woon maar swak.’Ga naar eind71 Oor hulle onmiddellike omgewing skryf hy: Eers moet ek vertel van ons buurt en van die mense in ons straat. Dit is 'n tipiese blanke groepsgebiedebuurt in 'n ouer deel van Kaapstad, met ou huise saamgedruk teen die steil seehang van Vlaeberg wat veral 'n middestand sonder veel pretensie, afgetrede seemanne, armer lede van die intelligentsia en immigrante uit Suid-Europa lok. | |
[pagina 308]
| |
Dat ons nie juis tot die hoër stand behoort nie, word bewys deur 'n verengelste Afrikaner wat net bokant, om die hoek van ons straat woon, en sy kinders verbied om in ons straat te kom omdat bruin kinders daar dan saam met wit kinders mag speel.Ga naar eind72 Met die Laubschers het Jan en Marjorie goed saamgeleef en in al die jare was daar nooit eintlik rusie om van te praat nie. Jan kon soms humeurig en baie onstuimig raak en soms het dit vir die Laubschers gelyk of daar spanning tussen hom en Marjorie was. By tye, veral in die eerste jare, het dit vir hulle voorgekom of hy op 'n onredelike wyse haar haar heup-gebrek kwalik neem, al het hulle met die jare geleer om daarmee saam te leef en het Marjorie self nooit daaroor gekla nie.Ga naar eind73 Jan kon vreeslike dinge oor Marjorie sê en haar toesnou, maar dit was meestal 'n spel, amper asof hy half skaam was om sy toegeneentheid te wys.Ga naar eind74 In 'n huishouding waar kunstenaars saamwoon, moet 'n mens egter van tyd tot tyd 'n sekere mate van wrywing verwag. Jan en Marjorie was teenoorgesteldes, Jan georganiseerd en Marjorie meer chaoties, maar hulle het mekaar mooi aangevul. In vergelyking met Jan, wat die lewe meer analities benader het, was Marjorie iemand wat nie juis filosofies ingestel was of diep in dinge wou delf nie.Ga naar eind75 In teenstelling tot hom wat soms oor dinge kon pieker, was sy veel meer gemaklik en sorgeloos. Sy het 'n groot toegeneentheid vir mense gehad en het makliker as Jan deur haar vrolike geaardheid met hulle wye vriendekring geskakel, maar sy kon haar by tye kras uitspreek oor iemand in wie sy 'n renons gehad het. Albei was egter harde werkers. Marjorie het daarvan gehou om in die oggende te verf, terwyl Jan dan gewoonlik sy skryfwerk van die vorige dag aan die hersien en oortik was. Hy het hom aan vaste werksure gehou en verkies om in die aande en nagte, as dit stil is, te skryf, terwyl Marjorie dan graag saam met die Laubschers 'n glasie wyn gedrink het. In die somer het hulle dikwels see toe gegaan, by voorkeur na Clifton waar hulle dan ná die besoek aan die strand vir 'n drankie kon aanklop by Uys Krige en Jack Cope se houthuisie Sea-Girt op Tweede Strand. Toe Jan 'n tweedehandse oop Morris-motor kon bekostig, het hulle dikwels vir korter of langer periodes in die Skiereiland rondgery of vir uitstappies in die Sederberge en elders gegaan. Plekke wat hulle in hierdie jare graag besoek het, is Waenhuiskrans, Die Dam en Puntjie langs die Suidkus en Churchhaven langs die Weskus. Orals skilder Marjorie mooi seetonele. | |
[pagina 309]
| |
Met die jare sou Cheviot Place 6, soos vroeër hulle woning in 33 Rue de la Tombe Issoire in Parys, die middelpunt en kuierplek word van 'n groot vriendekring skilders, skrywers, kunssoekers, politieke dissidente en ander rustelosesGa naar eind76 wat in die stad gewoon of rondgeswerf het. Onder die middeljariges of Jan se tydgenote was daar mense soos Uys Krige, Jack Cope, W.A. de Klerk en Peter Blum, terwyl Barend J. Toerien tydens sy besoeke uit die VSA gereeld opgedaag het. Onder die jonger mense was daar Jobst Grapow, Breyten Breytenbach, Marius Schoon, Adam Small, Peter Clarke, Kenny Parker, Richard Rive, Ingrid Jonker, Herman van Nazareth en Nico Verboom. Veral in die somermaande het van die Sestigers uit die binneland gereeld Kaap toe gekom. Uit Johannesburg was dit Bartho Smit en Chris Barnard, uit Pretoria en later Natal Braam de Vries, uit Koffiefontein in die Vrystaat Etienne Leroux en uit Potchefstroom, later uit Grahamstad, André P. Brink. Brink maak kennis met die Rabies terwyl hy nog student op Potchefstroom was en voordat hy vir verdere studie in 1959 na Parys vertrek. Party van die jonger skrywers, vertel Brink,Ga naar eind77 het van tyd tot tyd by ouer skrywers soos W.A. de Klerk aangedoen wat hulle geïnspireer, geleer lees of help dink het. Dit was egter anders by die Rabies. Cheviot Place 6 was 'n ‘toeloopplek’ en ware ‘pelgrimsoord’, want Jan en Marjorie het hulle iets geleer van wat dit beteken om te lewe en mens te wees: Jy't by daardie ou rammelkashuis met sy houttrap en gekleurde ruite aangekom, dadelik oorweldig deur 'n intensiteit en 'n warboel van lewe: die skilderspaar Erik Laubscher en Claude Bouscharain, ou vriende van die Rabies uit die Paryse tyd nog. | |
[pagina 310]
| |
Dan sou die gaste dikwels vóór en weer ná die ete op die balkon gaan staan en met 'n glasie wyn in die hand op die see en Robbeneiland afkyk. Omdat Jan en Marjorie arm was, het hulle niks beter in voorraad gehad as die goedkoop wyne van dié tyd in groot verpakkings nie: Lieberstein, Drostein en later Tassenberg. In sy Sewe dae by die Silbersteins dryf Etienne Leroux so 'n bietjie die spot met dié partytjies: ‘Almal het hulle eie wyn saamgebring, 'n claret-tipe wat spotgoedkoop per gelling verkoop word in groot glashouers - die handelsmerk van hulle partytjies.’Ga naar eind78 Toe Kenny Parker die Rabies in 1959 die eerste keer ontmoet, is hy begroet met 'n glasie Tassenberg en het Jan 'n lofrede oor die kwaliteit daarvan aangehef. ‘Given my distaste of cheap wine as well as of the “tot system”,’ skryf Kenny Parker,Ga naar eind79 I was appalled. For me Tassenberg was the standard dop of ‘Coloured’ drunks who got the poor-white acquaintances to buy extra bottles (at a price) when they had reached their quota of two per day. Whether Jan had Tassenberg simply because it was what was affordable, or to test reactions by visitors, is not clear. Whether or not visitors kept silence as sign of complicity or as way of avoiding argument cannot be ascertained. [Y]ou had a sense that many of his [...] actions were set up in order to test your reactions; to ascertain to how far you could be pushed. Not in any vindictive way. I know of no instance, never ever heard anyone (even within the ranks of those who disapproved of his politics) in which his actions were even categorised as either nasty or vindictive. Almal, sonder aansien des persoons, is dus van die goedkoop wyn aangebied. Hulle moes daarvan drink of hulle eie wyn saambring. Van Jan en Marjorie se vriende was die aristokratiese Peter Blum ver- | |
[pagina 311]
| |
veeld op die byeenkomste in Cheviot Place, veral omdat, soos hy dit self stel, sy ‘aansluitpogings by die Boheemse bende van Groenpunt’Ga naar eind80 nie suksesvol was nie. Waarskynlik was die nukkerige Blum so 'n bietjie jaloers op Jan en Marjorie wat sosiaal in hoër aansien was as hy wat nie groot aanklank by mense gevind het nie. Van dié tyd begin sy kritiek op Jan se werk in briewe aan ander kennisse feller word, terwyl hy dit nog kort tevore sterk verdedig het. Aan Ernst Lindenberg skryf hy dat Jan sy eie talent ‘opgeneuk het met jare se knolwerk: radioserials e.d.m.’ en dat hy met sy ‘kuif-en-baard-publisiteit’ blykbaar tevrede is met die status van ‘figuur’ in plaas van ‘skrywer’.Ga naar eind81 In briewe aan Jan trek hy te velde teen die ‘windgatte’ en ‘kuiergatte’ wat in Cheviot Place rondlê. Dan, skryf hy by geleentheid, kom broer Louw met sy ‘pet’ kwagga of Pa Rabie met sy kerkraad en leeuvelle ook nog af en toe 'n draai gooi! Hy vervolg: Konsidereer vir Marjorie en sit jou saai en lastige familie op hulle plek. Hulle is ook so ongevoelig om te dink hulle is altyd en orals welkom. [...] Louw het seker op die vloer kampeer, katte in die buurt geskiet en hulle op 'n improviseerde vuurtjie gebraai en geëet. Pa het vermoedelik huisgodsdiens gehou en ook andersins gepontifikeer. Ek gaan hom nog in een van my romans sit.Ga naar eind82 Hy beveel vir Jan aan om alle los werkies te laat vaar, soos ‘daardie futiele stokperdjie van seëls versamel - waardig net van 'n moroon soos Koning Jors No 6’. ‘Forsooth! Nee, jy moet verdomp skryf, muishond!’Ga naar eind83 Wanneer Blum in 1960 na Brittanje verhuis, verbreek hy haas alle kontak met Jan en later sou hy uit Londen al die publikasies wat hy van Jan ontvang het, terugstuur. Maar vir die meeste ander gereelde besoekers was Cheviot Place 'n gewilde bymekaarkomplek en een van die weinige plekke in Kaapstad waar mense van verskillende velkleur openlik en sonder enige voorbehoude met mekaar kon gesels. Dit was egter 'n tyd van streng wetgewing, en apartheid is deur die polisie stip gehandhaaf. Terwyl Jan en Marjorie in die laat vyftigerjare in Cheviot Place woon, vind die verset teen die rigiede toepassing van die apartheidsbeleid op allerlei vlakke van die lewe in Suid-Afrika sy neerslag. Van buite en binne kom daar kritiek op die regering se beleid, iets wat saamval met die wêreldwye veroordeling van die oorheersing van een volk deur 'n ander en die verwerping van imperialisme en | |
[pagina 312]
| |
kolonialisme. In Februarie 1960 spreek Harold Macmillan, Britse premier, in sy ‘Winds of change’-toespraak in die Parlementsgebou in Kaapstad sy twyfel uit oor die rigting waarin die beleid van afsonderlike ontwikkeling Suid-Afrika laat beweeg en kondig hy aan dat Brittanje die nasionale bewegings en die onafhanklikheidstrewe van die Afrika-lande as 'n realiteit aanvaar, die politieke ontvoogding van die Britse kolonies sal bevorder en hom aan die vasteland sal onttrek. In die raadsale van die Verenigde Volke-Organisasie word daar by herhaling heftige kritiek teen Suid-Afrika en sy rassebeleid uitgespreek, terwyl die Organisasie vir Afrika-eenheid in die sestigerjare die ‘kapitulasie’ van die blanke minderheidsregerings van Suider-Afrika eis. Naas die teenstand van die amptelike opposisie in die Parlement kom die kritiek uit Suid-Afrika self aanvanklik veral van Engelstalige geestelikes, soos Trevor Huddleston, wat in Naught for your comfort (1956) die beleid ten opsigte van die swart mense in die stede verwerp; later ook toenemend van Afrikaanse geestelikes en regsgeleerdes, soos B.B. Keet (Suid-Afrika - waarheen?, 1956), D.P. Botha (Die opkoms van ons derde stand, 1960) en H.A. Fagan (Ons verantwoordelikheid, 1960, en Co-existence in South Africa, 1963), wat bedenkinge het oor die godsdienstig-morele basis van die apartheidsbeleid en die uitvoerbaarheid daarvan in die praktyk. Denkers soos N.P. van Wyk Louw (Liberale nasionalisme, 1958) en J.J. Degenaar (Op weg na 'n nuwe politieke lewenshouding, 1963) vra vir 'n mensliker benadering van die probleem en pleit vir 'n ‘voortbestaan-in-geregtigheid’. In Desember 1960 besluit die Afrikaans- en Engelstalige afgevaardigdes by 'n kerkeberaad in Cottesloe by Johannesburg dat daar geen Skriftuurlike grond vir 'n verbod op gemengde huwelike is nie, terwyl gesamentlike aanbidding, direkte verteenwoordiging van die bruin mense in die Parlement en die gedomisilieerde swart mense se reg tot grondbesit en deelname aan die besluite van die land erken of as ideaal gestel word. Met die uitsondering van Die Burger onder redaksie van P.J. Cillié is die reaksie van die Afrikaanstalige koerante op hierdie besluite veroordelend, terwyl die Engelstalige pers gunstig reageer. In Desember 1960 wys Beyers Naudé, assessor van die Ned. Geref. Sinode van Suid-Transvaal, daarop dat erkende kerklike leiers wie se goeie trou teenoor en liefde vir hulle land en volk bo alle verdenking staan, aan die samesprekings by Cottesloe deelgeneem het, maar dat hulle ‘die gesag van die Woord van God’ hoër stel as dié van ‘volk en owerheid’. | |
[pagina 313]
| |
Gelyktydig met hierdie kritiek uit intellektuele en kerklike kringe reageer sommige swart mense en bruines op die apartheidswette met eise om groter politieke regte, protesoptogte, oproer, dade van sabotasie (o.m. die afbranding van skole en kerke) en ander ondergrondse bedrywighede. In 1956 volg 'n groot aantal arrestasies ná dade van verset en opstoking en staan die beskuldigdes - onder wie Albert Luthuli, president van die African National Congress (ANC) - tereg op 'n klag van hoogverraad, maar die meeste van hulle word weens onvoldoende getuienis ontslaan en die res in Maart 1961 deur die regters onskuldig bevind. In 1959 word die Pan African Congress (PAC) onder die leiding van Robert Sobukwe gestig om effektiewer teenstand teen die regeringsbeleid te bied, terwyl die onluste by Sharpeville in 1960 landswyd versprei en tot maatskaplike ontwrigting lei. Die regering beantwoord hierdie onluste met polisie-optrede, die uitroep van noodtoestande, mobilisering van burgermageenhede, verlenging van militêre diensplig en uitbreiding van die polisie se magte (ondervraging en aanhouding sonder aanklag, eensame opsluiting, inperking en huisarres), terwyl liggame soos die ANC en PAC deur die Wet op Onwettige Organisasies verbied en sabotasie- en ander ondermynende aktiwiteite deur die Wet op Terrorisme effektiewer bekamp word. Met die Rivonia-verhoor word 'n aantal swart mense, onder wie Nelson Mandela, tot lewenslange tronkstraf veroordeel. Dít was dus die politieke klimaat waarin Jan en Marjorie voortgegaan het om steeds van hulle kunstenaarsvriende, wit, bruin of swart, in hulle huis in Cheviot Place te ontvang. Toe die Rehoboth-student Hans Beukes, ná sy bywoning van die lesing aan die Universiteit van Kaapstad en die bespreking wat daarop gevolg het, homself aan Jan gaan voorstel en hom meedeel dat hy met 'n beurs vir verdere studie onderweg na Noorweë is, nooi Jan hom uit om die volgende middag na Cheviot Place oor te kom. Vir Beukes was dit, met Marjorie en 'n vriend van Jan by, 'n buitengewone ervaring. Hy skryf:Ga naar eind84 Over a bottle of vintage wine he'd opened - to celebrate the scholarship I'd won, he said - the three of them set out to make me feel welcome. Jan spoke about a younger brother of his, his family's ‘black sheep’, he called him, who had made his home in the mountain vastnesses of Damaraland in Northwest Namibia. Unable to get along with either his family or life in the Cape the brother would never stay for | |
[pagina 314]
| |
more than a fortnight on his very occasional visits home. It was an account that I found singularly appealing, as I was sure any other Southwester would, who had descended from a people who had originated in the Cape but had had to seek freedom from its colonialist prejudices in the vast open spaces of the territory beyond Namaqualand. Weens sy vertrek na Noorweë het Hans Beukes Cheviot Place slegs 'n enkele keer besoek. Die kunstenaar Peter Clarke was egter 'n gereelde besoeker. Clarke was geïnteresseerd in die versameling kunswerke en wou graag met Marjorie kennis maak. Toe hy in 1958 bel, kry hy Jan aan die telefoon wat aan hom sê Marjorie is op besoek in Skotland, maar dat hy welkom is om oor te kom. Die skrywer Richard Rive neem Peter op sy | |
[pagina 315]
| |
bromponie na Jan waar hulle pap, boerewors en Tassenberg te ete en te drinke kry en lekker gesels. Met verdere besoeke leer Peter mense soos Marius Schoon, Ingrid Jonker, Adam Small, Athol Fugard, François en Uys Krige en die Vlaamse regisseur Tone Brulin daar ken. Vir Clarke was dit sosiaal belangrik om in 'n tyd dat die politieke druk as gevolg van apartheid steeds aan die toeneem was, op 'n normale manier vriende te hê wat sy belangstellings deel en nie in sy velkleur vaskyk nie. Dit was, naas die geestige gesprekke waarvan hy deel kon wees, vir sy hele opvoeding goed om van dinge kennis te neem waarmee hy vroeër nie op die hoogte was nie en om te hoor hoe die name van Franse skrywers wat hy in vertaling lees, uitgespreek word. Wat hy van Jan waardeer het, was sy menslikheid, sy intense belangstelling in ander mense en in die wêreld waarin hy is, sy lus vir die lewe, sy breë kennis en sy oorgawe om nog meer dinge te ontdek. Vir Peter, wat in daardie tyd 'n baie negatiewe beeld van blanke Afrikaners gehad het en hulle almal oor een kam as rassiste geskeer het, was Jan die groot uitsondering, die mens by uitstek wat aan hom 'n ander beeld van die Afrikaner gegee het.Ga naar eind86 Die byeenkomste in Cheviot Place was plesierig, maar Peter was bewus daarvan dat die huis dopgehou word. Tydens een van die Oujaarspartytjies was daar byvoorbeeld klagte van die bure en moes die byeenkoms ná die besoek van die polisie beëindig word. Enkele ander kere het die polisie kom kyk wie almal aanwesig is, maar hulle was bedagsaam genoeg om nie mense te verwyder wie se velkleur 'n bietjie donkerder vertoon het nie. Soms was die polisie só aangenaam verras deur die gemoedelike verkeer en joligheid dat sommige van hulle ná middernag, ná die beëindiging van hulle skofte, weer aangesluit het om in die pret te deel. Soos in die geval van Peter Clarke was dit ook Richard Rive wat Kenny Parker aan Jan en Marjorie bekend gestel het. Albei het teen dié tyd reeds met Jack Cope kennis gemaak, albei het 'n onderwysdiploma by die Hewat Kollege regoor die gevangenis in Roelandstraat voltooi en albei was deeltydse studente aan die Universiteit van Kaapstad. Wat hulle volgens Kenny in Jan en Marjorie aangetrek het, was die warmte van hulle vriendskap. Kenny skryf:Ga naar eind87 While, with nearly all other white South Africans I had met, there was a sense that equality of relationships nevertheless still had a residue of difference, in this case there was none. It was not simply that while | |
[pagina 316]
| |
Marjorie had servant(s) - clearly needed in her case - she did a lot of the work herself that white South African women I knew simply would not do. And then there was the furniture. Hardly anything shop-bought. Nearly everything hand-made by Jan. And since I was beginning to make my own for my first attempt at living alone, and because I too had no money, that shared interest in furniture-making (in his case, to making stretcher-frames for Marjorie's paintings) became a further shared interest. Then there was the shared birth-place, George: even though, to others, he would assert that he was a Bolander - though he never specified precisely where. To what extent it was a tease, to what extent it was ironic, I was never certain. When he handed over my copy of Polemika - an inspired choice for registration of that joky seriousness that marked our relations - he grinned when I read the inscription: ‘Vir Kennie. / Groete uit die Boland / van Jan Rabie’. Dit het Kenny verder opgeval dat sowel Marjorie as Jan die voorbereiding van kos sou behartig. By hulle het hy sy eerste bekendstelling aan die Franse cuisine en aan spesifiek Skotse geregte gehad, so anders as die klassieke boerekos waarmee hy by sy ouma in George kennis gemaak het en die ‘Engelse’ kos van sy ma in Rondebosch. Kenny skryf: But in that respect I was not alone. The introduction to cuisine and culture applied equally to others who were breaking away from received traditions: Breyten and Marius as much as Richard. The experience of Cheviot Place and the inhabitants was therefore as wide-ranging as the foods and wines that participants brought with them when they came to meals. Vir Kenny was Cheviot Place 6 'n toevlugsoord waarin hy normaal met mense van alle velkleur kon verkeer. Dáár kon hy mense ontmoet wie se menings hy kon respekteer en op wie hy kon vertrou en steun. Hulle kon gesels oor Suid-Afrika, sowel wat sy verlede as sy hede betref, hulle kon menings wissel oor 'n groot verskeidenheid onderwerpe en hulle kon daar van boeke kennis neem wat hulle standpunte kon verryk en uitbou. Van die mense wat Kenny daar ontmoet het, was Ingrid Jonker, Athol Fugard, Guus Balkema, Gregoire Boonzaier en die Laubschers. Toe Kenny | |
[pagina 317]
| |
Cheviot Place 6 begin besoek het, was Breyten Breytenbach en Marius Schoon ook gereelde gaste, ongeveer sy ouderdom, terwyl hy André Brink en Abraham de Vries daar die eerste keer leer ken het. Van hierdie mense het grappenderwys van hulself begin praat as die ‘Sestigers’, om hulle te onderskei van voorafgaande geslagte oorwegend noordelike skrywers van romans wat, in 'n mooi frase van Jan, tematies beperk was tot ‘'n hartbeeshuisie, hondsdolheid en 'n sielestryd’. Die atmosfeer tydens die byeenkomste was ontspanne. Nie een van die gereelde besoekers het meer as 'n bloot verbygaande belangstelling in plaaslike politieke aangeleenthede getoon nie. Wanneer Jan in 1964 vir die Sunday Times 'n artikel oor die Sestigers skryf, val die aksent op die skeppende werk van hierdie groep skrywers, nie op die politiek nie.Ga naar eind88 Die algemene konsensus was wel dat apartheid 'n euwel was, maar as skrywers en kunstenaars wou hulle slegs deur hulle skeppende werk protesteer. Polities het hulle geen tuiste gehad nie. Sommige lede van 'n enigsins ouer geslag, in die besonder Uys Krige, kon wel met ‘Sailor’ Malan se Fakkelkommando saamwerk, maar dit het die jongeres nie aangetrek nie. Dissidente Afrikaners het in hierdie tyd 'n keuse gehad tussen die oorwegend Engelstalige Liberale Party en die ideologies minder aanneemlike Kommunistiese Party. Jan het nie by een van dié partye tuisgevoel nie, maar tog op sý manier tot die stryd toegetree. Kenny skryf: Jan was one of the few who entered that arena directly. His column in Die Burger, as well as his letters to a variety of newspapers, makes that clear. And it was that constant intervention on his part, in which he confronted not only the idiocies of his white-skinned Afrikaans-speaking countrymen but also their English counterparts who were often ignorant of the nature as well as the shape of the history is the element that I found most appealing: discussion not only around my beginnings delving into philosophical discourses (one with a devout Afrikaner Catholic, Martin Versfeld, who taught Ethics; against him, a prominent Apartheid theorist, Andrew Murray, who taught me - and disagreed with my - politics). My arguing with Jan on these matters, among others, led to the following inscription, in Die evolusie van nasionalisme: ‘Vir Kennie wat soveel hiermee gehelp baklei het. Dankie. Jan Rabie. Jan '60. Kaapstad’, while his interest in what might have happened in unwritten what-might-have-been pasts that culmi- | |
[pagina 318]
| |
nated in the Bolandia series, the firstGa naar eind89 of which Die groot anders-maak is inscribed as follows: ‘Vir Kenny / vir wie ek altyd as / een van die beste Afrikaners / sal beskou. / Van / Jan Rabie.’ Vir jonger mense soos Kenny en die jeugdige Sestigers was Jan se alleenstryd 'n besieling. Hulle het hom in baie opsigte as 'n pionier beskou, iemand wat gehelp het om die pad vir hulle skoon te maak en aan te wys. Teenoor apartheidteoretici soos Verwoerd en Diederichs, wat hulle beginsels fanaties sou verdedig, was daar by Jan, het Kenny opgemerk, in die plek daarvan 'n sterk gevoel vir reg en verkeerd, sowel op die groter nasionale as die meer onmiddellike persoonlike vlak. Dit het beteken dat indiwidue verdedig moes word teen onregverdige optredes deur die staat of deur ander mense. Die onderwerpe wat hy aanspreek - sensuur, die misbruik van taal, die interafhanklikheid van die Afrikaanse gemeenskap met ander groepe in die land e.d.m. - vind neerslag in die baie briewe wat hy in die sestigerjare aan Die Burger skryf. In 'n brief aan dié koerant kla hy oor die baie honderde professionele bruin mense wat 'n normale, menslike lewe wil lei, maar uit wanhoop oor die situasie waarin hulle verkeer, die land verlaat: Daar is bv. reeds hele kolonies onderwysers, skilders en toneelspelers in Londen en Kanada. Ek noem ook 'n briljante student wat kernfisikus in die V.S.A. moet gaan word omdat hier vir hom geen werk sal wees nie. Ek dink ook aan 'n begaafde man soos Kenny Parker, wat geen paspoort kon kry om verder aan 'n Amerikaanse universiteit te gaan studeer nie. Toe hy besluit om dan maar lektor aan 'n universiteit nader aan sy vaderland te gaan word, was hy gedwonge om 'n visum aan te vra om die land permanent te verlaat. Op die tippie het die swart owerheid van sy nuwe ‘vaderland’ egter vooroordeel teen bruin mense getoon deur hom verlede week by die grens voor te keer. Nou sit Kenny sonder land, sonder vrou, sonder werk.Ga naar eind90 Die oplossing vir die situasie is volgens Jan, ‘die volkome integrasie van ons bruiner broers wat saam met ons en ons taal in Afrika gebore is, as ideaal wat binne twee geslagte verwesenlik kan word’.Ga naar eind91 Volgens J.C. Steyn was dr. Verwoerd baie ongelukkig oor dié brief en haal hy dit op 'n konferensie van Nasionale redakteurs aan. In 'n brief van 2 Februarie 1965 | |
[pagina 319]
| |
skryf P.J. Cillié, redakteur van Die Burger, aan Verwoerd dat dit sy koerant se beleid is om meningswisseling toe te laat en ‘oop gesprekke’ nie alte veel aan bande wil lê nie. Cillié stuur ook 'n kopie van die brief aan P.W. Botha, minister van gemeenskapsbou, openbare werke en ‘Kleurlingsake’. Botha se antwoord was dat mense soos W.A. de Klerk (wat ook in dié tyd baie briewe aan Die Burger stuur) en Jan Rabie ‘slegs verwarring saai en vanuit hul leuningstoele sekere onsinnighede kwyt raak, terwyl my Departement en ek harde werk verrig en veel vordering maak’.Ga naar eind92 Toe Distrik Ses op 11 Februarie 1966 tot wit gebied verklaar is, het Die Burger betoog dat agiteerders teen die proklamasie dié berugte woonbuurt omtower tot een van die aantreklikhede van die Skiereiland, terwyl dit in werklikheid 'n oorbevolkte nes met geen moontlikhede tot uitbreiding is nie. Die Burger het die uitwerking van die regeringsbesluit egter onderskat. Mense soos Jan Rabie, W.A. de Klerk, Leon Rousseau en R.U. Kenney het hul teenstand in Die Burger uitgespreek. J.C. Steyn, wat in sy biografie Penvegter: Piet Cillié van Die Burger dié saak ter sprake bring,Ga naar eind93 sê Rabie het baie kritici se siening vertolk in 'n brief van 4 Maart 1966 dat niemand oor die heropbou van armlike agterbuurte kla nie. ‘Maar die kern van die saak is gans anders: herbou is goed, maar afvat is lelik. Distrik Ses gaan herbou word, maar nie ten bate van sy arm inwoners wat myle weg in die sandparadys van die Kaapse Vlakte uitgedruk word nie, nee, ten bate van die ryk wit groep wat dié mooi sentrale buurt self moet besit.’ In antwoord hierop verklaar die minister van gemeenskapsbou dat ‘geen histeriese geskreeu en oppervlakkige politiekery van die Engelse pers of linksgesinde politici’ die regering daarvan sal weerhou om bruin mense uit Distrik Ses te verskuif sodat wit mense dit kan kry nie. In antwoord hierop gee Rabie hom die versekering dat dit gewone landsburgers en Christene is wat ontsteld voel oor soveel amptelike wettiging van blanke selfsug. Selfs mense wat vroeër ondersteuners was van die Nasionale Party, deins by die gedurige vernedering van ‘ons bruiner landsburgers’ weg en word uit skaamte partyloos. Uit protes neem Jan in hierdie tyd deel aan 'n idealistiese ‘sit-in’ in 'n Distrik Ses-bioskoop, loop hy saam met aartsbiskop Joost de Blank in 'n optog deur die Kaapstadse strate en staan hy met 'n plakkaat voor die Alhambra met die woorde: ‘Die musikus het alle note lief. / Die skilder het alle kleure lief. / Alle mense kan skep en liefhê.’ Jan wou juis op dié strydplekke 'n Afrikaanse stem laat hoor, maar hy het hom by tye vasgeloop in onverdraagsame eentalige liberaliste wat nie sy taal daar wou hê nie.Ga naar eind94 | |
[pagina 320]
| |
Met sy talle briewe aan die koerante het Jan dus 'n belangrike rol gespeel om die onregverdigheid van die politieke bestel aan die man te bring. 'n Besondere diens wat Jan aan Kenny persoonlik bewys het, was om hom aan Guus Balkema voor te stel en aan te beveel dat hy as plaasvervanger in die firma werk terwyl Balkema op 'n lang vakansie na Nederland vertrek. Balkema het dit 'n goeie gedagte gevind en Parker is aangestel. Baie gou het Kenny by 'n tafel regoor een van die Balkema-seuns gesit wat besig was met 'n M.A. in Duits oor Hermann Broch, terwyl hy self sy voorgraadse werk voortgesit het. Vóór sy vertrek het Balkema aan Kenny 'n hele legger oorhandig met die versoek om dit, wanneer hy tyd het, deur te kyk. Toe Kenny 'n paar weke later die legger oopmaak, sien hy dit is alles rekeninge van boekwinkels wat dit nog nie betaal het nie. Kenny het aanmanings begin uitstuur en stadig maar seker het die betalings begin inkom. Hoewel Balkema vanuit Nederland beïndruk was met sy nuwe verkoopsman, het hy Kenny dringend versoek om nie sterk druk op groot firmas soos die Central News Agency te plaas nie. Alle rekeninge is uiteindelik vereffen en by sy terugkeer het Balkema nie alleen Kenny se salaris verhoog nie, maar ook 'n kontant bonus aan hom uitbetaal. ‘Given his reputation as tight-fisted,’ skryf Kenny, ‘that event became cause for stories within the ranks of those who knew him and liked him a great deal.’Ga naar eind95 Jan wou altyd sy liggaam in 'n goeie toestand hou en het dikwels lang ente langs die strand of op die platteland gaan loop. Dit het nie net te doen gehad met sy verbeeldingryke verbintenis met die Strandlopers nie, maar ook met sy gereelde gebruik om te vas. Met sy groot kennis van die veld het hy plante teruggebring huis toe, veral boegoe waarvan hy dan sy eie boegoebrandewyn gemaak het. Anders as Kenny, 'n ervare rotsklimmer wat baie keer gehelp het om mense in nood van Tafelberg af te dra, het Jan geen trek in moeilike rotsformasies gehad nie. ‘Dis vir bobbejane’, het hy gesê. Dikwels het Kenny en Jan, soms vergesel van Siebert Wiid of Barend Toerien, egter gaan stap in die Klein-Drakensteinberge, die Sederberge of in die Winterhoek naby Barend se familie. Dáár het Kenny op 'n keer goeie foto's van Jan geneem waar hy ná die swem nakend, met die rug na die kamera, op een van die rotse staan en wat sy pragtig geboude liggaam duidelik vertoon. 'n Gedig wat Barend aan Jan en Kenny opdra en wat hy ‘Grot naby Winterhoek’ noem, het ná die staptog ontstaan: | |
[pagina 321]
| |
'n Olifant oorheers die toneel;
bokke vlug in allerhande houdinge;
maar hul hoekige bokspringe
is weg van die mense, witgeel.
Want jagters staan klaar met hul boë,
hul kokers tot oorlopens vol;
albei kante gereed vir hul rol
en passe in pastorale oorloë.
Die mans staan selfs wipperig driebeen,
die vroutjies se tuitborste dreig,
al gryns agter hul 'n groot krygs-
man vanuit 'n bobbejaankopbeen.
Geskiedenis staan hier te lees,
deur 'n klein geel hand neergeskryf:
Ons diere en ons is verdryf,
maar só was dit eens gewees.Ga naar eind96
Jan was in hierdie tyd besig met sy eerste Bolandia-romans en waarskynlik het hy tydens die stap die een en ander daaroor aan Kenny en Barend vertel, want die vervloë wêreld van die Koi en die San vind neerslag in dié gedig. Tydens hulle jare in Groenpunt kon Jan en Marjorie 'n betreklik normale lewe lei en vriende van alle velkleur na hulle huis in Cheviot Place 6 nooi, maar tydens partytjies het hulle soms besoek ontvang van die veiligheidspolisie wat die name van hul gaste opgeskryf het. Hulle kon ook agterkom dat hulle telefoon soms snaaks klink en dat die polisie hulle huis dophou en die bure oor Jan se doen en late uitvra.Ga naar eind97 'n Hele paar keer is daar klippe deur die vensters gegooi. Toe Marjorie wou leer motor bestuur, het Kenny Parker en Guus Balkema vir haar les gegee en op proefritte saam met haar gegaan. Op 'n dag, toe sy saam met Kenny op De Waalpad was, het sy skielik agtergekom die motor het geen remme meer nie en was sy verplig om, op die instruksies en met die hulp van Kenny, die motor teen die kant van die pad te laat bots. Toe die motor tot stilstand kom, kruip Kenny onder die motor in en ontdek hy dat daar sonder enige | |
[pagina 322]
| |
twyfel met die remme gepeuter is. Só oorspanne was sy die dag toe sy as bestuurder moes uitpasseer, dat sy deur 'n rooi verkeerslig ry en allerlei ander gruwelike foute begaan.Ga naar eind98 Juis in dié tyd waarsku 'n hoë minister W.A. (Bill) de Klerk, soos Jan dit in sy outobiografiese Perskor-boek stel, dat sy motor voor 'n ‘verdagte huis in Groenpunt’Ga naar eind99 opgemerk is. Bill was erg ontsteld hieroor en het dié minister, wat saam met hom tydens hul studiejare in Dagbreek loseer het, ‘'n brander van 'n brief geskryf’Ga naar eind100 waarin hy Jan ‘as meer Afrikaans as wie ook al verklaar het’.Ga naar eind101 Hoewel Jan die naam van die minister nie noem nie, kon Siebert WiidGa naar eind102 later onthou dat dit B.J. Vorster was. Vorster was saam met De Klerk in Dagbreek en hy was in dié tyd, voordat hy in 1966 as premier aangewys is, minister van justisie wat regstreeks met die veiligheidspolisie geskakel het. Dit was trouens ook die styl van Vorster om so iets aan 'n (eertydse) vriend te sê. In 1965 was Jan 'n gas tydens 'n onthaal van die ambassadeur van die VSA en verskyn 'n foto in The Cape Argus van hom waar hy in geselskap van 'n Maleier is. Die volgende dag, Sondag, 4 Julie, so vertel Jan, lui sy telefoon. Jan tel op en sê: ‘44-9379. Jan Rabie wat praat.’ ‘Jan Rabie, jy gaan sterf,’ sê die stem aan die ander kant. Jan meen eers dit is 'n grap en sê toe: ‘Dit klink nie baie oortuigend nie.’ ‘O, nè?’ antwoord die anonieme stem. ‘Vat net 'n kans en kyk wat gebeur.’ En die telefoon word neergesit. Ál wat Jan agterna gaan doen het, was om in 'n woordeboek na te slaan wat die Anglisisme ‘vat 'n kans’ presies beteken.Ga naar eind103 'n Vermaaklike gebeurtenis vind plaas as Jan vroeg in Maart 1965 op 'n tweedaagse staptog van Kaap Infanta na Waenhuiskrans langs die kus onderweg is. Vroeg die oggend van die tweede dag moes hy as gevolg van 'n klomp hoë kranse langs die see 'n entjie oor private grond stap. Blykbaar het die eienaar Jan - kaalvoet met twee kieries, 'n yslike rugsak op sy skouers, 'n pap hoedjie op sy kop en 'n soort bril op sy neus om die reën weg te keer - vir 'n rondloper aangesien, sodat die man se hond Jan stormgeloop en lelik in die been gebyt het. Die middag kom Jan, steeds bebloed as gevolg van die yslike wond, op Skipskop aan en gesels hy met drie mans wat staan en hengel en hom baie suspisieus aankyk. Twee uur later is hy by Ryspunt waar twee mans op die sand sit. Toe Jan nader staan, merk hy dit is twee polisiemanne. Op sy vraag wat hulle in die reën daar soek, sê hulle dat hulle telefonies gewaarsku is om op die uitkyk te wees vir 'n man wat vermoedelik ‘Hermanus se seksmaniak’ kan wees | |
[pagina 323]
| |
en wat van Skipskop se kant af aangestap kom. Toe Jan verduidelik wie hy is en hulle merk dat hy, ten spyte van sy uiterlike, darem nie sertifiseerbaar is nie, bied hulle aan, omdat hulle tog op pad is Bredasdorp toe, om hom in die vangwa saam te neem en op Waenhuiskrans af te laai. Vir die mense van Skipskop het Jan in sy mondering só snaaks gelyk dat hulle dit maar wys geag het om die polisie in kennis te stel.Ga naar eind104 | |
VIIn 1962 was die jong skrywer Chris Barnard, wat die vorige jaar met twee novelles onder die titel Bekende onrus die eerste CNA-prys verower het, in Kaapstad met vakansie. Hy was joernalis in die noorde en goed bevriend met Bartho Smit wat toe pas aangestel is as uitgewer by die Afrikaanse Pers-Boekhandel waar van Jan se eerste romans en sy reisjoernaal Groen reise verskyn het. Bartho het groot planne gehad om van die werk van die Sestigers te publiseer en veral die Afrikaanse prosa uit sy borsrok te skud. Hy vra Chris om tydens sy besoek aan Kaapstad met Jan kennis te maak en sommer uit te vis of hy nie iets het wat êrens rondlê en gepubliseer kan word nie.Ga naar eind105 Chris bel toe vir Jan en hulle spreek af om mekaar by die Koffiehuis in die wandelgang van die Groote Kerk-gebou te ontmoet. Met sy astrante baardjie en wakker donker oë kon Chris hom onmiddellik van foto's herken. Omdat Chris tóé reeds die gedagte gehad het om 'n langdurige draai in Parys te gaan gooi, vra hy Jan uit oor allerlei besonderhede in verband met die stad en watter praktiese wenke hy aan die hand kan doen. Jan sê in Parys woon daar 'n baie goeie vriend van hom met die naam Breyten Breytenbach vir wie hy seker moet opsoek as hy daar kom. Jan gee hom Breyten se adres. Chris sê: ‘Ek ken daai naam’, want hy het tydens sy jare by die Universiteit van Pretoria altyd die studenteblaaie gelees en van Breyten se bydraes in Groote Schuur, die blad van die Universiteit van Kaapstad, teëgekom. Jan nooi hom uit om saam 'n naweek in die Sederberge te gaan kamp, sodat Chris dié deel van die Wes-Kaap ook kon leer ken. Toe hulle klaar koffie gedrink het, haal Chris geld uit sy sak om af te reken, maar Jan wil nie hê iemand anders moet vir hom betaal nie. ‘Hou jou fôkken geld,’ sê hy op 'n gemaak ruwe toon. ‘Ek kan vir myself betaal. Ons het mekaar 'n uur gelede ontmoet en ek laat nie toe dat ander | |
[pagina 324]
| |
mense vir my koffie koop nie. Ek het my eie geld.’ Dit was vir Chris 'n eerste illustrasie van hoe hy Jan tot die einde toe sou ken: daardie trotse ou wat nie aalmoese van ander sal aanvaar nie.Ga naar eind106 Tydens die uitstappie na die Sederberge volg Chris die versoek van Bartho op en vra hy Jan of hy nie dalk 'n ongepubliseerde manuskrip het nie. ‘Ja’, antwoord Jan nonchalant, ‘daar is 'n ding wat êrens rondlê, maar niemand wil dit hê nie, dis seker maar...’ Hy voltooi nie die sin nie. Toe hulle terugkom in Kaapstad, is Chris op 'n dag by 'n impromptu visbraai in die agterplaas van Cheviot Place 6. Hulle hout raak op en Chris help Jan 'n paar lekker stompies uitgrawe wat hy in die slaapkamer onder sy bed bêre - ekstra spesiale brandhout uit die Sederberge. Daar kom, benewens die hout en 'n skaretjie onpaar skoene, nog iets onder die bed uit: 'n swart kartonlegger vol papiere. ‘En dít?’ vra Chris. ‘Die storie wat ek destyds in Parys geskryf het,’ sê Jan.Ga naar eind107 ‘Dis afgekeur deur Nasionale Boekhandel en Balkema.’ Ná baie mooipraat kry Chris toestemming om die manuskrip te lees. Hy was gefassineer deur die vreemde wêreld wat hy nou so aan die begin van Sestig, met Leroux se Sewe dae by die Silbersteins en Brink se Lobola vir die lewe pas gepubliseer, in die manuskrip leer ken. By sy terugkeer gee hy dit vir Bartho wat dit dieselfde nag nog deurlees. Die volgende oggend sê hy vir Chris hy het Jan gebel en hy wil dit graag uitgee. Jan het gevra of dit nie net is omdat hy en Bartho vriende is nie, maar Bartho se antwoord was: ‘Dis definitief een van jou beste werke, veel beter as Ons, die afgod.’ Bartho publiseer die roman binne enkele maande en byna tien jaar nadat dit geskryf is. So verskyn Mens-alleen dan uiteindelik. Hoewel A.P. Grové in sy bespreking in Die Vaderland van 9 Desember 1963 meen die boek is nie ryk aan afwisseling nie en dat dit te veel op een vlak beweeg, vind hy dit tog 'n boeiende verhaal. Naas pragtige sienings en beeldvondste is daar vir hom tientalle voorbeelde van gesogthede. Sy belangrikste beswaar is dat die boek meer wil wees as die uitbeelding van die eenling se soeke na geluk en begrip: Die roman wil ook 'n aanklag wees, 'n aanklag teen alle magte wat die mens reglementeer en sy individualiteit skend. | |
[pagina 325]
| |
sydig, te simplisties te sien. Die gevolg is dat die wêreld waarin Lukas beweeg, ten spyte van skerp gesiene momente, op die duur karikatuuragtig word. [...] Die skrywer neem te veel stelling in, kyk nie genoeg oop oog na alle kante toe nie met die gevolg dat sy perspektief verlore gaan... Ook Rob Antonissen het in sy besprekingGa naar eind108 ernstige besware teen taalen stylslordighede, al vind hy baie passasies waardevol, teer en sensitief. Hy maak die belangrike opmerking dat indien hierdie roman, ‘soveel groter as Ons, die afgod’, met sy voltooiing gepubliseer was, kon dit ‘die deurbraak na die nuwe roman in Afrikaans wellig al heelwat vroeër ingelui het’. Hy karakteriseer die roman as volg: Jan Rabie se Mens-alleen is deurdrenk met aktualiteit, die hele ruimte opgebou uit gegewens wat duidelik as behorende tot ons eie kwarteeu se wêreldgebeure herken sal word. Tog is dié gegewens tydruimtelik nie lokaliseerbaar nie.Ga naar eind109 Eienaardig doen bv. die gebruik van nie-Latynse persoonsname in 'n Latyns-benoemde omgewing aan. Behalwe die ‘rooi’ arbeidersverset word die twee vegtende hoofpartye ideologies ook nie geïdentifiseer nie, al laat die situasie enigsins dink aan die verhoudings in die Spaanse Burgeroorlog; en behalwe deur enkele indirekte verwysings bly die ‘regeringstroepe’ selfs heeltemal buite die sigbare handeling. So kry die gebeure, en die ‘mens-alleen’-tema wat daarbinne afgeteken staan, tegelyk iets algemener-geldigs en iets heel reëels. 'n ‘Realiteit’ wat egter nadere kwalifikasie behoef ... [Rabie se]...personasies leef en handel veel meer vanuit hul onbewustheid, as gejaagdes deur suprarasionele (d.w.s. inwendig-redelose sowel as sosiaal- en politiek-onpersoonlike) magte, in 'n nagmerrie, in 'n hallusionêre verskrikkingswêreld. Sy realiteit voer weliswaar 'n hele paar maatskaplike-werklikheidsbeelde mee wat laat terugdink aan die instelling van die populistiese en proletariese roman, maar is nietemin as geheel genome 'n hallusionêre en fantastiese werklikheid. Hy sluit sy beskouing as volg af: Ek het swaar gelees aan die eerste, sê maar, sestig à sewentig bladsye van hierdie roman, ongetwyfeld veral omdat in dié deel die styl meer | |
[pagina 326]
| |
as later hindernisse opwerp en geen volgehoue verhaaldinamiek daaroor help heenlees nie. Daarna het die gebeure my al hoe meer in sy greep gekry en, ondanks ergernis van tyd tot tyd, ook meegevoer tot by sy inderdaad bittere einde. 'n Einde so bitter én so sag: voltrekking van die eensaamheid én aanvaarding van die taak om 'n kind deur die strate van die menigte te lei. Amper die hele derde deel, waar die episodering verdwyn, is trouens opperbes: soos dit begin met 'n eindelike égte liefdesvervulling van twee mense in nood, oploop na die afskuwelike vernietiging daarvan, die mens ten prooi laat aan sy helse en heilige haat, hom slaan met 'n verwildering wat met vlae weer skrikwekkend van heldersiendheid is, hom dwarsdeur 'n orgie van geweld (in die uitstekende simultaneïteitspatroon van hoofstuk 53) tot die uiterste vertwyfeling dryf en ten slotte, onverhoeds, nugter byna en dáárom so pakkend, tot verbete lewensbevestiging. Ek wonder ook of daar in die Afrikaanse verhalende prosa iéts is wat Mens-alleen se fyngevoeligheid vir die lydende mens, en vernaamlik die buitengewone suiwerheid waarmee die verhouding tussen Lukas en Hanna van aanvang tot einde geteken word, benader. En hiervan is ek ten ene male seker: in geen enkele Afrikaanse roman leef die wêreld-as-verskrikking en die mens-in-angs só sterk nie. Dit was hoë lof van die skerpsinnigste praktiserende Afrikaanse kritikus van sy tyd, 'n man wat deur sy ruim en omvattende kennis van die literatuur in verskillende tale beter as wie ook in staat was om die nuwe ontwikkelende literatuur van Sestig te verstaan en te takseer. Daarby was Antonissen se indringende beskouing 'n daad van eenvoudige regvaardigheid teenoor 'n skrywer wie se roman al tien jaar tevore gepubliseer moes gewees het.Ga naar eind110 | |
VIIEen van die gereelde gaste wat feitlik daagliks oor die drumpel van Cheviot Place 6 gekom het, was die jong digteres Ingrid Jonker. Sy was die dogter van die politikus en eertydse skrywer Abraham H. Jonker wat in die dertiger- en veertigerjare redakteur was van Die Suiderstem, die koerant waaraan Uys Krige 'n tyd lank as kunsredakteur verbonde was, maar wat gaan- | |
[pagina 327]
| |
deweg die literatuur vir die politiek verloën het. Ingrid het grootgeword met 'n geweldige behoefte aan 'n vader, aangesien Abraham Jonker sy eerste vrou, terwyl sy met Ingrid swanger was, die huis uitgejaag het. In haar nood moes die verwagtende vrou haar toevlug tot die ouers van die latere skrywer W.A. de Klerk neem. Ná sy egskeiding wou Jonker niks met die twee dogters uit sy eerste huwelik te doen hê nie en ná die dood van hul moeder is hulle in die sorg van hul bejaarde ouma op Gordonsbaai gelaat. Hulle het eers weer by hom kom woon ná die dood van die ouma, maar in sy huis is hulle bars en onvriendelik deur hul vader en sy derde vrou behandel. Ten spyte van die gestremde verhouding met haar vader was Ingrid 'n kind wat liefde gesoek het en graag met haar skeppende werk erkenning in sy oë wou kry. Dikwels het sy haar gedigte na haar vader by sy huis in St. James geneem, maar telkens terneergedruk en bedroë daarvandaan teruggekom.Ga naar eind111 D.J. Opperman het 'n manuskrip van haar verse gelees en met haar bespreek. In daardie vroeë stadium was daar nog nie sprake van publikasie nie, maar sy is gerusgestel, soos sy later sou sê, deur ‘die briljante oë wat nie vir my uitgelag het nie’.Ga naar eind112 Haar eintlike mentor was egter Uys Krige aan wie sy die meeste van haar verse ná die verskyning van haar debuutbundel voorgelê het. Hy het haar talent onmiddellik raakgesien, maar haar dikwels aangeraai ‘om te wag, te waak, en al wakende aan daardie gedig te werk’.Ga naar eind113 Só 'n streng meester was Uys met sy kil, kritiese oog dat sy dikwels in gesprekke met ander na hom as ‘the Iceman’ verwys het, naas 'n toespeling op die voornaam Uys ook 'n verwysing na Eugène O'Neill se beroemde drama The Iceman cometh waarin die dood as ‘the Iceman’ voorgestel word. Jan ontmoet die jong Ingrid teen die einde van 1956, 'n stralende, lieflike meisie met 'n baba en 'n bundel op pad. Sy was toe pas getroud met die heelwat ouer Pieter Venter en haar debuutbundel Ontvlugting is gepubliseer deur Culemborg. Dit het Jan opgeval dat die liefdesverse in Ontvlugting by tye soos besweringsformules klink waarmee sy die ongeluk en die verdriet van haar wil wegtoor: Waar slaap my liefde, my liefde vannag
sterre wat wieg in die denne en winde
sterre wat wieg en sterre wat wag
waar slaap my liefde, my liefde vannag?Ga naar eind114
| |
[pagina 328]
| |
Dit is 'n motief wat in haar tweede bundel, Rook en oker van 1963, sterker sou word. Dikwels is haar gedigte in dié bundel wiegeliedjies waarmee sy die wêreld wou besweer en haarself aan die slaap wou sing: gistraand in jou arms
by die perdeskoen maan
pluk ons 'n klawer
met vier blare aan[.]Ga naar eind115
En dit het hom nie ontgaan nie dat daar reeds in die eerste gedig van haar eerste bundel sprake is van 'n waterdood: My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.Ga naar eind116 [,]
'n motief wat ook in haar tweede bundel voorkom: Ek lê onder die kors van die nag singend,
opgekrul in die riool, singend,
en my nageslag lê in die water.Ga naar eind117
Dit het die skryfster Freda Linde, wat in diens was van HAUM waar Ingrid ook van tyd tot tyd gewerk het, opgeval dat Ingrid geobsedeer was deur die gedig ‘Voor het verdronken meisje’ van J.B. Charles.Ga naar eind118 Dikwels het sy in die boekwinkel deur Paul Rodenko se bloemlesing Met twee maten geblaai en dele van dié gedig aan Freda voorgelees: Verdrinken dat is water ademhalen,
verdrinken dat is met het hele lichaam drinken,
met tong en longen. Voorhoofd, lymfkanalen,
de open ogen, alles drinkt zich eindlijk zat.
...
Verdrinken is een aangenaam ontbinden;
dag lief dood meisje, glimlach maar gerust.Ga naar eind119
Steeds het Ingrid toenadering by haar vader gesoek, maar naas die verwydering wat op die egskeiding met haar oorlede moeder gevolg het, was | |
[pagina 329]
| |
daar nou ook politieke verskille. Abraham Jonker het gevoel sy is deur haar vriendskap met mense soos die ‘liberale’ Uys Krige en Jan Rabie op 'n verkeerde pad. Met die komende sensuurwetgewing, waaraan Jonker as Volksraadslid 'n groot aandeel sou hê, het die verskille tussen hom en sy dogter groter en haas onoorbrugbaar geword. Deur dit alles het Ingrid tog haar mooi persoonlikheid behou, al was sy met haar wispelturigheid nie 'n maklike mens vir haar vriende nie. Steeds het sy haar naïwiteit en verwondering vir die lewe uitgestraal en kind gebly, ook toe sy in 1957 geboorte geskenk het aan Simone, die dogtertjie vir wie sy van haar mooiste verse en wiegeliedjies sou skryf. Regstreekse invloed van Jan se werk het daar nie op Ingrid uitgegaan nie, maar sy, soos trouens ook Breyten en ander jonger skrywers, het hom bewonder as mens en vir die standpunt wat hy, ten koste van baie dinge, as hul segsman bereid was om in te neem teen die rassisme van die regering. In April 1959 verhuis Ingrid met haar man, Pieter Venter, en Simone na Johannesburg. Die Kaapstadse vriende het hulle harte vasgehou oor dié verhuising en die huwelik, want Ingrid en Pieter het kennelik nie bymekaar gepas nie. Die breekspul kom minder as drie maande later, terwyl die toneelspeler Pietro Nolte by die Venters in Johannesburg op besoek is. In 'n brief van 29 Julie 1959 skryf Jack Cope aan Uys, wat in daardie stadium met 'n Carnegie-beurs in die VSA is, dat hulle sy wysheid hier mis, ‘as events are assailing us from all sides and the fun is getting a bit too fast at times’. Die groot probleem wat hulle het, is Ingrid. Sy het Pieter verlaat en selfs nie eens haar klere ingepak nie. Die gebeure het iets van 'n tragikomedie, maar die hoofspelers is te betrokke om enigiets anders as 'n diepe tragedie raak te sien. Op 'n geestige wyse skets Jack die omstandighede wat tot Ingrid se vertrek gelei het: Pietro [Nolte] was staying with Piet and Ingrid and as you know Ingrid is greatly drawn to Pietro, in spite of his being a moffie. Well, Piet thinks he gets proofs of Ingrid's betrayal and there ensues a series of hysterical scenes in which sundry props such as a carving knife appear. There is a lot of wild weeping and goings on and Pietro puts through frantic calls to his mother in Cape Town to come and save him from murder and worse. Ingrid walks out with Simone and goes to a hotel. Fortunately at this stage enters wisdom in the shape of Breyten Breytenbach, aged 19, who is about the sanest young man one can | |
[pagina 330]
| |
imagine. He is on a hitch-hike round the Union on the princely sum of £4 and has landed in Jhb. Breyten holds the peace and collects some money for Ingrid. Meanwhile Piet is so frantic and almost demented that Ingrid agrees to leave Simone with him. She gets on the train to the Cape and pitches up at Jan and Marjorie's. Breyten is nannie, trooster to Piet, housekeeper and the lot. Ingrid arrives here full of gin, remorse and doubt.Ga naar eind120 Uit Johannesburg laat weet Breyten aan Jan oor die ‘aardbewings en rotsstortings’ wat die voorafgaande week in die Venter-huishouding plaasgevind het. In die stadium dat hy skryf, weet hy nog nie waar in die Kaap Ingrid haar bevind nie. Hy hoop sy bly by haar pa, ‘want as sy by julle is, is ongelukkig nie net jy nie, maar later ook Marjorie daarby betrokke’. Die rede hiervoor blyk weldra uit Breyten se brief: Ingrid Jonker is verlief op jou, Jan. Jy weet dit natuurlik. Ek het nie geweet dis so erg nie. Daarom - vir Marjorie se ontwil - hoop ek dat sy nie by julle inwoon nie. Die hele gedoente was 'n kinderagtige spektakel. Pietro, ‘dronk tot in sy kleinste sel’, het ‘seker die grootste rol van sy lewe gespeel’, met Ingrid moedswillig en soms byna histeries en met Pieter ‘so koud en senutergend bot’ dat 'n mens daarvan kon stik. Die hele gedoente was iets soos 'n film in ‘'n derderangse kafeebioskoop’. Ingrid wil vry wees, skuil agter haar kunstenaarskap en wil nie die verantwoordelikhede van 'n huwelik aanvaar nie, terwyl Pieter die enigste man in haar lewe wil wees. Met Ingrid weg skryf Pieter gedigte en neem hy saans slaappille, terwyl Pietro soos 'n vis drink en Simone vir Pieter ‘mammie’ noem. Intussen skryf ook Marjorie op 12 Julie 1959 aan ‘Dear distant Uys’ in Amerika om hom in te lig oor die probleme waarmee hulle met die koms van Ingrid te make het. Ingrid het Jan getelegrafeer om haar £30 na Johannesburg te stuur vir 'n treinkaartjie ‘and then arrived in an awful state’. Ná 'n paar dae by hulle tuis het Marjorie en Jan Ingrid oorreed om na haar vader te gaan, aangesien sy Simone agtergelaat het en dit met die oog op 'n egskeiding 'n beter indruk sou maak. 'n Week later daag Pieter Venter met Simone op ‘and wept and carried on and ended up by having a fit at a party while she was dancing with Jack so they had to get a doctor for him | |
[pagina 331]
| |
and he kept that up till she said she'd go back to Johannesburg with him’. Die dokter se bevinding was dat Pieter se aanval 'n nabootsing was. Marjorie voel baie jammer vir Ingrid, aangesien sy nie kan sien hoe Ingrid ooit met so 'n man saam gelukkig kan wees nie. Jan was ook keelvol vir hom en het alle respek vir hom verloor met die toneelspelery tydens die aanval. ‘I don't even believe he really loves Ingrid’, skryf Marjorie. ‘Its only his pride that is hurt by the thought of her going away from him.’ Breyten was verniet bekommerd oor Jan se welsyn en dat hy moontlik vir Ingrid sou val. Jan het deeglik geweet Ingrid is gek na hom, maar daar was van sy kant nie die geringste mate van 'n erotiese belangstelling in haar nie. Indien so iets ooit by hom sou opgekom het, kon hy by voorbaat geweet het dat hy met Ingrid die totale chaos saam die huis innooi. Jan het haar Ingrid Muisvoet begin noem op grond van die sagte treetjies waarmee sy loop, net om alles agter haar in volkome chaos te laat. Ordelikheid was nie een van Ingrid se deugde nie. Ingrid is saam met Pieter Venter terug Johannesburg toe, maar, soos almal voorspel het, kon die huwelik nie hou nie. In 1961 is hulle finaal vervreem en in Januarie 1962 geskei. Met Simone in haar sorg keer Ingrid terug na Kaapstad. As gevolg van die gestremde verhouding met Abraham Jonker was sy op soek na 'n vaderfiguur en na minnaars ouer as sy self. Jack Cope word vir Ingrid iets van die vader na wie se liefde sy so vurig verlang en daar ontstaan 'n verhouding tussen hulle. Intussen verskyn haar Rook en oker in 1963, waarvoor sy met die APB-prys bekroon word, al sê Rob Antonissen, een van die beoordelaars, by die aand van die funksie hy wil dit op skrif konstateer dat dit vir hom so 50½ Ingrid en 49½ Jan vir Mens-alleen is. Met die geld wat sy só ontvang, vertrek Ingrid per skip na Europa waar sy een van haar ander minnaars, André P. Brink, ontmoet. Hulle gesamentlike reis word egter 'n nagmerrie en in Parys moes sy psigiatriese behandeling ontvang voordat sy na Suid-Afrika kon terugkeer. Ná haar terugkeer het Ingrid se losbandige sekslewe met allerlei mans, vererger deur haar drank- en by tye ook dwelmgebruik, sy tol begin eis. Telkens het sy aan Marjorie gevra: ‘Is ek nog mooi? Het ek al rimpels?’ Sy het begin wanhoop aan haarself en selfs getwyfel of sy nog iets van waarde sou kan skryf. Waarskynlik was sy in daardie stadium voorlopig as digter uitgeskryf, en Marjorie het haar aangemoedig om oor te skakel na prosa. Indien sy oor haar probleme kon kom, so het Marjorie gemeen, sou Ingrid goeie prosa kon skryf, want haar kortverhaal ‘Die bok’ was 'n | |
[pagina 332]
| |
voorbeeld van wat sy kon doen. Sy was egter geobsedeer deur die idee van selfmoord. ‘Dink jy ek sal selfmoord pleeg?’ het sy vir Marjorie gevra. ‘Nee, waarom?’ was Marjorie se antwoord. ‘Want my ma het selfmoord gepleeg.’ Eers later het Marjorie gehoor daar was niks van waar nie; die moeder is aan natuurlike oorsake dood. Voor haar dood het Ingrid seker ses maal probeer selfmoord pleeg. Jack, 'n huishulp, 'n polisieman en verbygangers het haar agtereenvolgens van die see af teruggebring. Ook Jan en Marjorie moes haar 'n keer oorreed om dit nie te doen nie en het haar vir die nag by hulle laat slaap. Deur 'n snaakse soort skugterheid het die Kaapstadse vriende nie die voorvalle wat hulle ervaar of waarvan hulle geweet het, met mekaar bespreek nie. ‘We never compared notes’, het Marjorie by geleentheid gesê. Waarskynlik het hulle gemeen indien hulle nie daarvan 'n ophef maak nie, sal die obsessie by Ingrid weggaan. Indien hulle dit egter wel onderling sou bepraat het, sou hulle besef het 'n krisis is op hande en dat hulle haar in 'n inrigting moet kry. Die aand van 18 Julie 1965 was Jan, Marjorie, Uys en Jack almal by 'n onthaal van die Amerikaanse konsulaat. Toe hulle terugkom in Groenpunt, stel een van hulle voor hulle moet langs die see ry. By Drieankerbaai hou hulle stil, met die see absoluut doodstil. Hulle hoor hoe die mishoring in die nag bulk en hoe die lig van die vuurtoring oor die see sprei. In die motor sê hulle vir mekaar hoe mooi dit alles is. Die volgende oggend taamlik vroeg bel Uys en sê: ‘Marjorie, it happened. They are just bringing Ingrid out of the sea at Three-Anchor Bay. Will you come down? We have to go to the mortuary in Maitland to identify the body. We need your car. Jack is in a terrible state. He can't drive.’ Marjorie gaan in en sê aan die slapende Jan: ‘Ingrid is dood. Sy het in die see geloop.’ ‘O’, sê Jan, en hy draai om en slaap verder, sonder om werklik te registreer wat gebeur het. Marjorie is per motor na Clifton om Uys en Jack te gaan haal. In Groenpunt was Jan teen dié tyd darem al wakker en is hulle almal saam na Maitland. In die lykshuis het dit hulle opgeval watter rus daar op Ingrid se gesig gekom het. Dit was asof sy nou die sereniteit gevind het wat sy so lank moes ontbeer.Ga naar eind121 Op Donderdag, 22 Julie 1965, is Ingrid begrawe terwyl 'n grys motreën wil-wil uitsak. Rondom die vars graf, so beskryf Jan hierdie begrafnis,Ga naar eind122 staan twee klompies mense: aan die een kant die vader en familie naas manne van die veiligheidspolisie, wat moes keer dat van haar gedigte by die graf gelees word en die verrigtinge op dié wyse in 'n ‘politieke verga- | |
[pagina 333]
| |
dering’ ontaard, en met 'n predikant wat nie eens weet hy begrawe 'n digteres nie; en aan die ander kant 'n stuk of honderd van haar beste vriende, wit en bruin, ‘omtrent die hele jong intelligentsia van Kaapstad’.Ga naar eind123 Terwyl Uys en Johann Cilliers Jack moet terughou wat met alle geweld na die graf toe beur, só geweldig dat Uys hartkloppings begin kry en Erik Laubscher by hom moet oorneem, gaan die begrafnis, sonder kontak tussen die twee groepe, voort. Uys gaan sit op 'n graf om asem te skep, want, soos hy dit later sou stel, ‘daar kan enige oomblik weer 'n beroep gedoen word op my kragte’.Ga naar eind124 ‘Mog dit reën,’ prewel hy, ‘reën asseblief!’Ga naar eind125 En terwyl dit regtig harder reën, vertrek die familie en die veiligheidspolisie oplaas. Met hulle weg sê Jan aan die vriende: ‘Dit was geen regte begrafnis vir Ingrid nie. Nou is dit Donderdag. Laat ons Sondag weer almal hier bymekaarkom en gedigte vir Ingrid lees soos sy dit wou gehad het. Dan sal dit 'n ware begrafnis wees vir 'n beminde digteres soos sy.’Ga naar eind126 Op Sondag, 25 Julie, was die meeste vriende weer bymekaar by die graf om te luister na 'n waardering van haar werk deur Uys en 'n voordrag van enkele van haar verse deur Jan. By hierdie tweede begrafnis sê Jan: Ons almal staan hier as Ingrid se vriende. Sy was nie 'n maklike mens nie, tog het ons haar liefgehad. Ons het iets in haar herken wat deur die lewe verraai en in blink skynheiligheid se leuens vermoor word. Iets van 'n vreeslose liefde en lojaliteit. Iets van suiwerheid en eerlikheid. 'n Integriteit wat ons nie kan vergeet nie. Jan stel voor dat hulle 'n Ingrid Jonker-prys vir beginnende digters instel, en reeds by die graf is die eerste bydraes daarvoor ingesamel. Dít, sê Jan in 1988, is steeds ‘die enigste waarlik onafhanklike literêre prys in ons land: tweetalig, nie-rassig, sonder enige buitehulp of borge, deur skrywers self beheer en finansier en vir jong digters bedoel. Van skrywers deur skrywers vir skrywers.’Ga naar eind127 In 1966 publiseer Human & Rousseau die postume huldigingsbundel In memoriam Ingrid Jonker met bydraes deur 'n verskeidenheid skrywers. Marjorie maak 'n skildery van haar en skryf: | |
[pagina 334]
| |
One couldn't be indifferent to Ingrid. She had a way of thirling people to her as we Scots say. And she had the most remarkable integrity and something of the disconcerting directness of a child.Ga naar eind128 In sy bydrae wys Jan daarop hoe baie digterstalente Afrikaans om 'n verskeidenheid redes in die bestek van 'n paar jaar verloor het: Barnard Gilliland en Ingrid Jonker ‘verstoot uit die lewe uit’, en Breyten Breytenbach ‘verstoot uit sy land uit as balling net omdat hy getrou aan sy eggenote wil bly’. Hierdie drie, sê Jan, ‘was ons bestes, vurigstes, jong gode van die woord wat skep en nie kruip-sê nie’. En hy vra wie bly oor en hoe sal hulle vaar ‘in 'n gemeenskap wat die makkes tot skoothondjies verwen, en die wildes tot die dood of ballingskap toe vervreem’.Ga naar eind129 Onder die dokumente van Ingrid het Jack Cope die gedig ‘Dauwkorrels vingen mijn handen’ gevind, met die naam van Simon Vinkenoog en die datum 29 Mei 1964 onderaan, 'n datum toe Ingrid op besoek was in Nederland. Cope het geen moeite gedoen om dit te verifieer of om Vinkenoog se toestemming te verkry nie. In 'n artikel wat op 2 Februarie 1967 in Die Burger verskyn, toon Ivan Genbrugge aan dat die gedig, behalwe vir die byvoeging van die naam Ingrid in strofe 4, woordeliks ooreenstem met 'n gedig wat die Vlaamse digter Paul van Ostaijen reeds in 1918 geskryf het. Human & Rousseau was verplig om die huldigingsbundel van die mark te onttrek tot tyd en wyl helderheid oor die saak verkry kon word. Koos Human skryf aan Vinkenoog om die saak op te klaar. Op 1 Februarie 1967 skryf Vinkenoog dat hy reeds van Jan Rabie, in daardie stadium op besoek aan Skotland, 'n brief ontvang het ‘waaruit ik begrijp, dat men met u en met mij een vervelende practical joke heeft uitgehaald’. Totdat die ‘dader van deze misselijke streek’ geïdentifiseer word, wil hy egter 'n paar dinge noem. Hy het die digteres Ingrid Jonker nie geken het nie, die naam sê hom niks en hy was nie bewus van 'n in memoriam wat aan haar gewy sou word nie. Hy het die uitgawe nie gesien nie en daar kan dus geen bydrae van hom in staan nie. Hy ken ook nie die gedig van Van Ostaijen nie. ‘Ik denk niet’, gaan hy voort, ‘dat de uitgever van Paul van Ostaijen u enig kwaad kan doen; een klein corrigendum: het gedicht zus en zo is van die en die; de een of andere booswicht heeft ons dit gedicht toegespeeld, als afkomstig van Simon Vinkenoog zal voldoen.’ Ten slotte sê hy: ‘Dit soort grappen ligt mij niet, ik heb er evenmin ooit deel aan, en ik vind stof en materiaal genoeg rondom mij aanwezig, om mijn eigen werk te doen, zonder dat ik plagiërend een ander nodig heb.’ | |
[pagina 335]
| |
In 'n brief van 2 Februarie aan Jan sê Koos Human dat dit duidelik is uit 'n vergelyking van die handtekening onderaan die gedig wat Cope onder Ingrid se dokumente gekry het en dié op Vinkenoog se brief dat Vinkenoog nooit die gedig onderteken het nie. ‘Wat my betref’, skryf hy, ‘dui alles daarop dat Ingrid self die gedig oorgeskryf en onderteken het. Nie alleen laat die handskrif my so dink nie, maar ook ander inligting wat ek ontvang het.’Ga naar eind130 Baie gou ná haar dood sou Ingrid 'n kultusfiguur en ikoon word vir jonger skrywers. Talle jonger digters sou verse aan haar wy en in romans, van Brink se Orgie tot Die noorderlig van Karel Schoeman, sou sy as figuur verskyn. In 'n stuk wat hy in 1976 skryf, sê Jan: Tydens haar kort lewe het sy so 'n indruk van intense, byna kinderlike egtheid op mense gemaak, dat herinnerings aan Ingrid nog altyd naspook by haar vriende. Herinnerings aan haar sku-warme vriendskap met mense van enige taal of kleur. Of dalk net herinnering aan daardie onvergeetlike twee begrafnisse wat onder die Kaapse motreën in Woltemade aan haar gewy is [...] Met haar dood het Ingrid 'n tragiese legende geword; in ons land, arm aan geestesverrykende legendes, 'n digterslegende... |
|