Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 239]
| |
III
| |
[pagina 241]
| |
Hoofstuk IX
| |
[pagina 242]
| |
world seems completely unreal from here on the boat. I cannot picture your face, nor Paris, nor Cape Town.’ Op Saterdag, 5 Februarie, doen hulle Walvisbaai met sy plat sandduine aan en is die klein skip die prooi van die berugte Kaapse storms. Op Woensdag, 7 Februarie, vaar Jan die Kaapse hawe in en sien hy weer die eerste keer Kaapstad met sy merkwaardige berg. Hy laat sy bagasie in die hawe en loop in verrukking deur die Kompanjiestuin, bly om terug te wees in sy eie land en in die stad waar hy hom vir die volgende elf jaar van sy lewe sal vestig. In 'n artikelGa naar eind2 wat Jan later oor Kaapstad sou skryf, sê hy: Ek verheug my altyd daaroor dat ons Hollandse stigters met 'n tuin begin het, 'n tuin vir groente en vrugte, maar ook vir skoonheid, o.m. 'n laning kastaiingbome 'n halfmyl lank, 'n tuin wat besoekers uit veel lande kom bewonder het. Eers in die tweede plek het ons voorouers 'n fort gebou om raapsugtige Europese mededingers af te skrik. Maar naas en bo die tuin en die ‘vyfpuntige klipster van die Kasteel’ was daar deur die eeue altyd ‘Tafelberg met sy wit waterval wolke wat eindeloos omlaag stort wanneer die Kaapse Dokter sy veegwerk doen’. Altyd was Tafelberg magtig bo die gedruis van die stad, ‘altyd sigbaar grootser as die mens en sy werke, 'n kliptafel waar slegs God mag aansit’. Jan, wat in die eerste plek teruggekom het Suid-Afrika toe omdat sy taal hom terugroep, vra hom af of ons Hollandse en Duitse voorouers uit hul plat geboortelande nie juis omrede hierdie berg so grondig moes verander dat selfs hulle taal die tongval van Afrikaans verkry het nie. En nie net die Hollanders en Duitsers het 'n aandeel aan hierdie nuwe taal gehad nie. Juis hier in Kaapstad, waarna dikwels as die moederstad verwys word, het 'n geboorte plaasgevind. Kaapstad verteenwoordig vir Jan ‘die onseker skemerte van...[ons] eie begin’. Want in hierdie moederstad het sy voorouers meer as drie eeue gelede voet aan wal gesit en ‘hier was die smeltkroes van rasse en tale wat ons van Europa afgespeen en ons 'n nuwe volk laat word het’. Dit is hierdie moederstad waarna Jan nou, ná bykans sewe jaar in Parys, terugkeer. | |
[pagina 243]
| |
IIMaar reeds die eerste dag tref die nare tekens van apartheid in Kaapstad Jan soos vuishoue op die oog. Ná sy wandeling deur die Kompanjiestuin met sy ‘Net vir blankes’-banke stap hy deur Distrik Ses en die Bo-Kaap en sien hy die ‘afgedwonge blanke meerderwaardigheid’Ga naar eind3 orals uitsteek. Wanneer hy en 'n vriend in Seepunt kom, gaan lê Jan salig op die naat van sy rug op een van die groen grasperke langs die see. Maar sy vriend keer hom verleë: ‘Nee, man, staan op.’ Op die vraag ‘Hoekom?’ kom die verergde antwoord: ‘Nee, kom, man, 'n witmens maak nie so nie ...’Ga naar eind4 Om hom ná so 'n ervaring te kalmeer, gaan soek hy troos in Rondebosch by die gasvrye Lydia Lindeque en Uys Krige met sy ‘reinigende woordfonteine’.Ga naar eind5 In die eerste dae ná sy aankoms is Jan baie bedrywig. Hy woon twee toesprake van Uys Krige by, praat oor die radio oor sy jare lange verblyf in Parys en staan onderhoude toe aan joernaliste van die drie Kaapstadse koerante: Die Burger, The Cape Times en The Cape Argus. Hy sien ook Leo en Wendy Theron vir wie hy tydens hulle besoek aan Parys leer ken het en ontmoet weer ná al die jare vir Marion Pollock, die meisie op wie hy tydens sy heenvaart smoorverlief geraak het en wat saam met hom in 1948 op sy eerste besoek aan België en Nederland was. Omdat Uys se ouers op 11 Februarie op hul jaarlikse lang vakansie na OnrusGa naar eind6 sou gaan, kry Jan die geleentheid om saam met Uys se broer, die skilder Francois, wat in daardie stadium van sy eerste vrou geskei was, die huis in die afwesigheid van Japie en Sannie Krige te deel. Die huis, met die mooi naam Naasteby, was geleë in Draperstraat, Claremont, met 'n pragtige uitsig op Duiwelspiek en met die middestad en die Valsbaaise strande maklik met die voorstedelike treinverbinding bereikbaar. In die tyd dat hulle saamwoon, maak François drie tekeninge van Jan: een waarop hy hard en arrogant lyk, een waarop hy daar moeg en passief uitsien en 'n derde waarop hy wakker en energiek vertoon. Intussen was vyf mense aan die soek na werk vir Jan. Aan Marjorie skryf hy dat hy teen £30 per maand kan gaan boer, tussen £50 en £70 per maand as kopieskrywer vir Shell kan werk, as bibliotekaris £26 per maand kan verdien of as vryskut 'n ongereelde inkomste kan kry. Eintlik, so gaan hy voort, wil hy die liefste ses maande lank met 'n rugsak deur die land | |
[pagina 244]
| |
loop ‘and regain Africa and write a lyrical book’. Vyf dae lank kuier hy by sy ouers, wat intussen op 'n plasie naby Worcester gaan woon het. Die goue kring, die drama waaraan Uys Krige einde 1953 en begin 1954 in Tossa in Spanje gewerk het, lees hy in manuskripvorm en hy help Uys om die veels te woordryke 240 bladsye na 180 bladsye te sny. Terug in Kaapstad ontmoet hy Flippie (M.P.O.) Burgers, direkteur van die SAUK in Kaapstad, vir wie hy vroeër reeds in Johannesburg leer ken het. Burgers was as literator bekend vir sy studie oor Die mens Langenhoven (1939) en was reeds jare lank aan die werk aan 'n studie oor Leipoldt, wat in 1960 as C.L. Leipoldt: 'n Studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling sou verskyn. Omdat Jan 'n hele aantal vreemde tale - Frans, Spaans, Italiaans en Duits - goed geken en oor 'n mooi, sonore stem beskik het, was Burgers van mening dat Jan 'n uitstekende aanstelling by die radio in Kaapstad sou wees. Hy bied Jan derhalwe 'n betrekking as omroeper teen 'n salaris van £65 per maand aan, op voorwaarde dat hy die stemtoets slaag. In 'n brief aan Marjorie sê Jan: ‘The work is the very opposite of my character - therefore I take it.’ Een troos vir hom is egter dat hy en Flippie Burgers polities eenders dink. ‘The director’, skryf hy aan Marjorie, ‘is a man who thinks like I do but doesn't dare say it.’ Hy is gewaarsku dat 'n mens aanvanklik ‘scared stiff’ is voor die mikrofoon wanneer die rooi knoppie aankom en dat 'n omroeper naas 'n goeie beheer oor die hele paneel knoppies voor hom ook aan die tydspresisie gewoond moet raak. Aan Marjorie laat weet hy verder dat hy, indien hy die stemtoets slaag, ter wille van die burgerlike Suid-Afrika naas 'n wekker, polshorlosie en tikmasjien nou vir hom 'n hele uitrusting sal moet aanskaf: 'n pak klere, twee hemde, onderklere, 'n broek en baadjie, 'n jas en 'n paar skoene. Op 14 Februarie lê Jan die stemtoets suksesvol af. Hy hoop, skryf hy aan Marjorie, dat hy teen September £300 gespaar sal hê sodat hy haar kan laat kom. Daarby wil hy ook nie vir altyd die werk behou nie, omdat hy sal verkies om voltyds te skryf en reeds oor 'n nuwe roman begin te broei. Van die begin af is dit dus duidelik dat Jan die pos as omroeper slegs as 'n tydelike uitkomste beskou en dat hy aan skryfwerk voorkeur gee. Daarom dat hy nog in 1955 reëlings tref om in Die Burger met 'n posseëlrubriek te begin en vir Die Jongspan, die weeklikse tydskrif vir die jeug, van tyd tot tyd artikels oor wetenskaplike aangeleenthede in 'n ligte trant te | |
[pagina 245]
| |
skryf. Dit is skryfwerk, deel hy Marjorie mee, waarop hulle nie hoef neer te kyk nie, aangesien die geld daaruit handig te pas sal kom wanneer hy weer as vryskut 'n bestaan moet maak. In die posseëlrubriek, wat hy onder die pseudoniem Jan Roets elf jaar lank sal volhou, gee hy van tyd tot tyd advies oor hoe om met 'n versameling te begin en skryf hy oor die letterwerk en tegniese afwerking van seëls, soms deur kritiek uit te spreek op die verbeeldingloosheid van Suid-Afrikaanse ontwerpe. Terwyl sy nog in Parys is, vra hy Marjorie dikwels om vir hom volledige stelle nuwe seëls, met en sonder stempels, vir sy rubriek aan te stuur. Vir Die Jongspan skryf hy oor 'n groot verskeidenheid onderwerpe: van stormweer in die buitenste ruim, landkaarte vir maanreisigers en die planete tot 'n hele reeks oor allerlei diere en die geheime van die seebodem - alles tesame 'n stuk of vyf en dertig artikels. Uit die bydraes tot albei hierdie rubrieke sien 'n mens Jan se wye belangstelling en sy behoefte om ander mense iets van sy kennis oor te dra. Hoewel hy by sy terugkeer uit Europa nie een oomblik daaraan gedink het om weer te gaan skoolhou nie, was hy in sy diepste wese 'n onderwyser wat sy mense deur sy skryfwerk op 'n verskeidenheid terreine wou opvoed. Maar vir eers was Jan nou 'n gesalarieerde personeellid van die SAUK waar hy op Maandag, 7 Maart 1955, begin. Onder die mense met wie hy saamwerk, is daar die briljante Ken Swart, broer van die skryfster Audrey Blignault, wat naas omroepwerk verantwoordelik was vir die jeugprogramme (‘Ons roep die jeug’) en as regisseur vir party opvoerings opgetree het. 'n Aangename gespreksgenoot, by wie Marjorie ná haar aankoms ook aanklank sou vind, is Morkel van Tonder wat naas omroeper baie onderhoude, onder meer met skrywers, gevoer het en wat later met sy verhale uit die Klein Karoo self tot die Afrikaanse letterkunde sou bydra. Suzanne van Wyk, weduwee van die belowende romanskrywer Willem van der Berg wat vroeg oorlede is, was regisseuse vir baie van die radioteaters wat op 'n Vrydagaand uitgesaai is en sou weldra ook die spelleiding van Jan se vervolgverhale behartig. Onder die ligter aanbiedinge was daar die Koffiehuiskonserte onder leiding van Pieter de Waal, met Pieter van der Byl (Piet Pompies) as een van sy gewilde grapmakers, terwyl Awie Labuschagne vir sportuitsendings verantwoordelik was. Audrey Blignault het ‘Vrouerubriek’ behartig en met haar boekbesprekings baie gedoen om die Afrikaanse letterkunde aan die publiek bekend te stel. Flippie Burgers, konserwatiewer as wat Jan se aanvanklike indruk was en baie punteneurig | |
[pagina 246]
| |
op klein triviale puntjies, het Sondagmiddae 'n mooi reeks programme met deskundige kommentaar oor ‘Die stem van die digter’ aangebied, dikwels deur digters soos D.J. Opperman, Uys Krige en Peter Blum self te laat voorlees. Burgers het 'n kompleks gehad oor sy kort gestalte. Om dit weg te steek en hom belangriker en imposanter te laat lyk, het hy sy studeertafel en stoel op 'n verhogie laat sit, sodat sy besoekers van onder af na hom moes opkyk. Die skrywer W.A. de Klerk het ná sy kortstondige termyn as omroeper-regisseur reeds met Jan se aankoms op sy plaas Saffier naby die Paarl geboer, maar het dikwels ingekom om praatjies te lewer. Marié Opperman, vrou van die digter, het op 'n deeltydse basis aan ‘Vrouerubriek’ meegewerk en baie van die programme vir die kleuters versorg. 'n Aangename, kleurryke mens wat van tyd tot tyd ook kom uitsaai het, was Suzanne Swart, later onder die naam Suzanne van Rensburg skryfster van vertellings uit die Sandveld, wat in Soet Anysberg (1976) en Breë weg, smalle weg (1978) gebundel is. Die stories oor haar was legio. Anders as baie van die mooi maar oppervlakkige sekretaresses en die lieftallige radiomeisies het sy haar nie juis veel aan haar uiterlike gesteur nie. Op 'n aand is sy - net in haar onderrok geklee en met 'n groot karba rooiwyn langs haar, waaruit sy telkens haar glasie vul - in haar piepklein woonstelletjie aan die tik toe daar aan die deur geklop word. ‘Kom maar in as jy 'n broek aanhet’, roep sy, terwyl sy voortgaan met tik. Toe sy opkyk, staan die korrekte en enigsins somber ds. Gustav Bam op huisbesoek langs haar. Ná 'n kort geselsie en 'n stukkie uit die Woord kniel hy vir die gebed. Suzanne kniel ook. Toe hulle in die klein ruimtetjie opstaan, raak hulle boude aan mekaar. Suzanne sê: ‘Dominee, dit is nou wat hulle noem: “When bum meets bum!”’Ga naar eind7 Uit briewe aan Marjorie uit hierdie tyd lei 'n mens af dat Jan hom met groot entoesiasme en energie aan die radio oorgee, maar dat die werk hom baie uitput en weinig vrye tyd laat, selfs te min tyd om rustig briewe aan Marjorie te skryf. ‘I won't be able to stick this work for long’, skryf hy by geleentheid aan haar, en 'n mens merk die spanning waaronder hy werk en die lang ure wat hy in die ateljee moet deurbring, ook in die gejaagdheid van sy briewe aan haar. As omroeper was dit Jan se taak om programme aan te kondig, die streeknuus te lees en van tyd tot tyd onderhoude te voer. Soms moes hy uitgaan in die Skiereiland en aangrensende dorpe en selfs 'n keer afdaal in Gamkaskloof om opnames oor nuusgebeure te maak. Wat hy die meeste | |
[pagina 247]
| |
geniet het, was om self hoorbeelde oor 'n verskeidenheid onderwerpe saam te stel, van 'n program oor die geboorte van die Afrikaanse taal tot 'n uitsending oor ortopediese hulp aan kreupeles. Soms gebruik hy van sy eie kortverhale vir uitsendings, soos ‘Die dag van die kasteroliebottel’ wat hy in Dakkamer en agterplaas opneem. 'n Enkele keer situeer hy 'n hoorspel teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog (Die venster) of teen 'n tipiese Kaapse milieu (Waai, Suidoos). Soms is sy bydraes uiters informatief, soos die hoorbeeld oor Olywe, vrug van die Bybel, wat van deeglike historiese navorsing getuig en 'n aanduiding gee van hoe vroeg Jan reeds in die olyf, wat hy self later sou kweek, geïnteresseerd was. Van tyd tot tyd lewer hy ook programme vir die kleinspan, soos Daar doer in Kammaland. Die buiteprogram ‘Soeklig’ bring hom in aanraking met baie uiteenlopende stories en persoonlikhede en hy kom gou agter die see is die interessantste ontdekkingsveld. Die see was vir hom die laaste terrein waar 'n mens nog 'n pionier kon wees. ‘Die ossewaens het lankal in Afrika omgedraai en ek had buitendien eerder 'n skip in my verlede as 'n ossewa’, sê Jan wanneer hy sy herinneringe uit dié dae opteken.Ga naar eind8 Met twee hoorspele lewer hy 'n besondere bydrae in 'n stadium toe dié genre nog betreklik nuut was in Afrikaans. Die satiriese Voetbal of fortuin is die verhaal van 'n Bolandse boer wat maar 'n sukkelende bestaan voer, maar skielik deur die bemaking van 'n eksentrieke aangetroude oom in die geleentheid gestel word om 'n omvangryke erfporsie te bekom. Die voorwaarde is egter dat hy sy geliefde rugby vaarwel moet toeroep, 'n sportsoort wat die oorlede oom met die grootste minagting bejeën het: ‘Voetbal? Dis 'n holte wat later in die kop kom sit!’ Die potsierlike tweespalt wat uit dié keuse ontstaan, vorm die hoofdis van die satire en Rabie se dialoog vloei gemaklik en soepel. Grootser van opset is Nuus van die land waarin hy die legende van die Vlieënde Hollander as stramien gebruik. Dit is die verhaal van die ongelukkige seekaptein Van der Decken wat, ten spyte van die smekinge van sy matrose om in die stormagtige see van die vaart rondom Kaap die Goeie Hoop af te sien, sweer dat selfs God hom nie daartoe sou bring nie. Wanneer God dan wel verskyn en Van der Decken 'n skoot afvuur, word hy verdoem om tot die einde van tyd te vaar en ongeluk te bring op almal wat hom gewaar. Rabie verafrikaans die legende deur dit, met drie bruin vissers as karakters aan wie Van der Decken en 'n ‘spookvrou’ verskyn, aan die Gansbaaise kus te laat afspeel en dit by die ewige motief van die ro- | |
[pagina 248]
| |
mantiese rusteloosheid te laat inskakel. Aan die begin van die hoorspel skets die Verteller die agtergrond: Aan die suidpunt van Afrika, êrens tussen die stormkape aan ons suiderkus, kleef die grootste van alle seelegendes, dié van die Vlieënde Hollander. Dit is 'n Europese erfenis, eintlik net so uitheems soos ons Kersfees se somersneeu, maar tog het die ‘spookskip’ nog 'n plekkie in die harte van vandag se vissers, almal wat die matelose see liefhet en vrees. En deur die jare het die Hollandse spookskip vir hulle verkaaps en van karakter verander. Indië hoef nie meer bereik te word nie, maar die mens se hart bly 'n rustelose en onvoltooide swerwer. Die vissers van vandag, so bied Rabie die legende aan, glo dat as 'n mens deur 'n tragiese noodlot gedryf word om op see te sterwe, hy saam met die spookskip se bemanning ewig moet swerwe en net soos hulle ewig na nuus van die land sal verlang. Wanneer die drietal bruin vissers te lank op die dreigende see talm en 'n bruisende golf oor hulle boot, die Pikkewyn, stort, beleef hulle 'n stilte en mis en gewaar hulle die gedoemde seilskip met ‘bloedrooi seile en pikgitswart maste’. Die ergste is vir hulle die ‘wyfiespook’ wat elkeen van die vissers se verlede helder en beskuldigend terugroep en vir hulle duidelik maak hoe nou verstrengel, hoewel onbewus daarvan, hulle geleef het.Ga naar eind9 Die legende van die Vlieënde Hollander het talle skrywers, van sir Walter Scott tot Henry Longfellow, geïnspireer, terwyl Wagner 'n opera daarop gebaseer het.Ga naar eind10 Rabie se Nuus van die land is nooit gepubliseer nie, maar dit is deur Tone Brulin in Nederlands vertaal en deur die Belgische Nationale Omroep (Gewestelijke Zender Antwerpen) uitgesaai. Só groot was die belangstelling dat die uitsending herhaal is en die stuk ook 'n Franse bewerking beleef. | |
IIIMet Japie en Sannie Krige se terugkeer ná hulle lang somervakansie op Onrus moes Jan vir hom ander blyplek in Kaapstad soek. Hy slaag daarin om 'n gemeubileerde woonstelletjie in 'n blok in Hofstraat 58 in die Tuine, naby die kruising met Kloofstraat, in die hande te | |
[pagina 249]
| |
kry waar hy aan die begin van Junie 1955 intrek. Aan Marjorie laat weet hy naas die slaapkamer met twee beddens beskik hy oor 'n groot kombuis en 'n badkamer en toilet wat hy met twee ander huurders moet deel. Die woonstel bevat verder, naas 'n stoel en twee klerekaste in die slaapkamer, 'n tafel met stoele in die kombuis, ook 'n ingeboude kas, terwyl breekware en linne verder voorsien word. Met gas, elektrisiteit, water en diens ingesluit betaal hy vir alles slegs £14 per maand. En die woonstel is pragtig geleë. Een minuut se stap verder is die berg waar hy tussen die silwerblaarbome kan gaan loop, met 'n uitsig oor die hele stad en Tafelbaai. Op Woensdag, 7 Junie, skryf hy aan Marjorie: ‘Fantastically lovely on walking home: the black mountain, the moon in the pale silver sky with all round below city lights like golden shingle gleaming.’ In Julie laat hy haar weet dat grys slierte reën oor die stad uitsak, dat hy heeldag in 'n jas moet rondbeweeg en dat dit snags vyf minute duur voordat die bed warm word. Maar hy hou van die Kaap met sy winterkoue wat telkens afgewissel word met die mooiste goue, sonnige dae. Met die Kloofstraatbus kon hy binne enkele minute in die middestad en sy werk uitkom. Toe die SAUK op 3 Augustus 1955 na 'n nuwe gebouekompleks langs die see trek, moes hy wel in die stad van bus verwissel om in die Seepuntse Hoofweg te kom en dan na Kusweg te stap. Steeds was die woonstel egter vir hom lekker om hom ná 'n dag se werk in terug te trek, al het hy besef dat, wanneer Marjorie kom, hulle 'n groter huis sal moet kry waarin sy ook haar ateljee kon inrig. Intussen het Jan daaraan begin dink om sy ‘prosas’ aan 'n uitgewer te oorhandig. Iemand aan wie hy nou baie sterk begin dink het, was die Nederlander A.A. Balkema. Balkema het in 1933 'n boekwinkel en uitgewery in die historiese Huis aan de Drie Grachten in Amsterdam geopen en vir sy klein ‘ondergrondse’ uitgawes tydens die besetting van Nederland ten nouste met die tipograaf en grafiese kunstenaar H.van Krimpen saamgewerk. In 1946 vestig hy 'n uitgewery in Kaapstad met die bedoeling om boeke van 'n hoë tipografiese gehalte in die Van Krimpen-styl te publiseer.Ga naar eind11 Reeds uit Parys het Jan Mens-alleen aan A.A. Balkema voorgelê, maar as gevolg van die omvang van die manuskrip en die finansiële posisie waarin hy as klein uitgewer verkeer, kon Balkema dit nie vir publikasie aanvaar nie. Daarby het hy beswaar gehad teen wat hy die stilistiese oordaad genoem het. Tog, so laat hy Jan weet, sal hy in die toekoms steeds in nuwe werk belangstel. | |
[pagina 250]
| |
Toe Jan kort ná sy aankoms A.A. Balkema se keurig versorgde uitgawes van I.D. du Plessis, Ina Rousseau en Ernst van Heerden se digbundels en veral Eitemal se Jaffie met sy linneband sien, het hy dadelik geweet: hier is sy uitgewer. Vir Jan was hierdie fraai boeke, soos hy dit by geleentheid sou stel, ‘'n voorbeeld vir die bestaande uitgewers in ons land wat maar jaar na jaar opgedons het met dieselfde onaantreklike boeke’.Ga naar eind12 Baie gou kon hy Guus Balkema ontmoet en het hulle 'n wedersydse waardering vir mekaar begin ontwikkel. Jan lê sy ‘prosas’ aan Guus voor en wys hom daarop dat hy in dié stukke na 'n helder en eenvoudige bondigheid gestreef het en dat die manuskrip in sy geheel maar ongeveer 'n derde van dié van Mens-alleen beslaan. ‘Ek het gou geleer’, skryf Jan, ‘agter sy skaam giggellaggie skuil 'n formidabele Friese koppigheid. Ek had 'n stuk of dertig kort prosas, maar hy het voet by stuk gehou, net die een-en-twintig wat hy goedgekeur het, moes uitgegee word. So het my boekie 21 ontstaan.’Ga naar eind13 Aan Marjorie laat weet Jan op 14 Mei dat sy boek uiteindelik finaal by Balkema gaan verskyn, maar Guus ‘calls it a risky imprudence on his part’ en is onseker hoe die mark op die publikasie gaan reageer. Vir George Minnaar van die Nasionale Boekhandel, wat vroeër nie in die publikasie geïnteresseerd was nie, het hy gesê ‘that they're fools and hypocrites who throw away their best talent’. Dikwels, terwyl die produksie van die boek aan die gang was, kom Jan by Balkema se winkel in Keeromstraat en gaan hulle na Guus se geliefkoosde opelugkafee in die Tuine om 'n koppie koffie te drink. Jan stel voor hulle moet Marjorie inspan om tekeninge by sommige van die ‘prosas’ te maak, soos François Krige dit vir Eitemal se Jaffie gedoen het. Balkema gaan aanvanklik akkoord met hierdie gedagte en in 'n brief van April vra Jan haar om tekeninge in swart en wit by sommige van die verhale te maak. Hy gee haar ook presiese instruksies oor die grootte. Wanneer hy begin Julie van die eerste tekeninge ontvang, skryf hy aan haar dat Balkema tevrede daarmee is en vir nog 'n paar vra om 'n beter keuse te maak. ‘I'm happy with some of them, like Bald Heads, Garish Mud, and the sad girl in Gondola Tune. I want a drawing on one of the colour problem stories ... And why not try a drawing on Promenade en chien or The new pyramids?’ Die vooruitsig in dié stadium is dat die boek in November 1955 sal verskyn. Hy verseker haar dat sy betaal sal word; hy sal François vra hoeveel Balkema hom vir die Jaffie-tekeninge betaal het. Hy het haar tekeninge aan 'n hele paar kennisse gewys. ‘They became eager to buy paintings of yours. And meet you’, voeg hy by. | |
[pagina 251]
| |
Voordat Marjorie later in die jaar by hom aansluit, voer Jan 'n betreklik eensame bestaan en is hy selfs iets van 'n kluisenaar. Sy eensaamheid, laat hy haar op 17 Julie weet, ‘is aggravated by the feeling that not only have I to conquer my country in myself, but I have to do it for you too, reconcile you to my country and my language when you at last appear’. Hy is nie skaam om teenoor haar te erken dat hy 'n geweldige behoefte het om by 'n vrou te slaap nie, ‘but I have not desired a single one yet’. Vir die feit dat hy, die ‘little Calvinist that I am’, nou seksloos moet lewe, blameer hy haar wat nog steeds met die afhandeling van haar werk vir uitstallings in Parys en Edinburg besig is en nog nie by hom aangesluit het nie. Met haar steeds in Parys, sê hy somber, ‘I realise I have no joy in my life, just work, and nobody to share or to drink a glass of wine with together. I'm just lonely, dulled with the loneliness that doesn't even find release in creative work.’ Soms, so laat hy Marjorie weet, het hy ‘grumbleevenings’ saam met Uys Krige. Iemand wat hy wel leer ken, is die latere argitek Siebert Wiid wat in 'n kamer in die ou historiese opstal Coetzenburg op Stellenbosch gebly het. Dikwels, as die tyd dit vir hom toelaat, is Jan vir naweke na Stellenbosch en leer ken hy mense soos Wilhelm Knobel en Marius Schoon, toe nog albei studente op Stellenbosch. In die aande gaan eet hulle in die Panorama en maak Jan 'n draai by sy ou blyplek Wilgenhof om treiterend ‘Bekfluitjie’ - die neerhalende bynaam van dié geëerde koshuis - uit 'n skuilte in Victoriastraat te skree en te kyk of hy hardhandige optrede van die inwoners kan uitlok.Ga naar eind14 Soms soek hy Peter Blum op wat op Stellenbosch aan die honneurs in Engels werk en besig is met die afronding van sy eerste digbundel wat later dié jaar onder die titel Steenbok tot poolsee sou verskyn. Hoewel hy ingenome is dat sy vriend nou in Afrikaans pleks van, soos vroeër, in Engels skryf en besig is om met sy ‘intellektuele gedigte’Ga naar eind15 'n wonderlike bydrae tot Afrikaans te lewer, was Jan nie onbewus daarvan dat Peter met mag en mening in die literêre wêreld wou inklim en met sy groot ambisie 'n ‘dringende behoefte aan triomftogte’Ga naar eind16 gehad het nie. Aan Marjorie laat hy weet Blum het vet geword en vooruitstrewend, sonder enige bekommernis oor brandende sosiale vraagstukke soos die kleurprobleem, iets wat in hierdie tyd nie deur Jan goed ontvang word nie. Self wil Jan die een of ander tyd op die kleurprobleem reageer en sy Paryse lesing oor die taak van die skrywer ten opsigte van die rassevraagstuk tot 'n manifes laat uitgroei, ‘and especially [about] the Cape Coloureds who are my brothers in all respects’. Maar | |
[pagina 252]
| |
eers, skryf hy aan Marjorie, ‘I must grow back into this new soil’. Baie van sy kollegas en vriende beveel by hom aan ‘to lie low’, in so 'n mate dat hy voel hy word in die konformerende radiokringe waarin hy beweeg, tot 'n ‘social smile’ gereduseer. Uit Jan se briewe aan Marjorie uit hierdie tyd word dit duidelik dat hy graag wil hê dat sy Afrikaans so gou moontlik ná haar aankoms in Suid-Afrika onder die knie moet kry. Soms is groot dele van sy briewe aan haar in Afrikaans of probeer hy met woordverklarings haar kennis van die taal uitbrei: Ek het meer as 'n uur vir François geposeer en hy het 3 tekeninge (drawings) gemaak ... Dis vreemd dat die drie so verskillend (different) is. Hy het my gevra om nie vir Uys daarvan te sê nie, want Uys smeek (begs) hom al lank om hom te teken. Ek was baie geduldig (patient), meer as wat jy uit my kan kry! Hy gaan 'n skildery van my maak. So, whê!! Hy berei voor (prepares) vir 'n uitstalling (exhibition) in Bloemfontein. Hoewel sy reeds in hierdie stadium deur haar Nederlandse vriende in Parys 'n elementêre Afrikaanse woordeskat gehad het en die taal in 'n mate kon volg, moes Marjorie soms haar vriend, die skilder Bram Bogaert, wat 'n ogie op haar gehad het, inroep om haar met die ontsyfering van die Afrikaanse gedeeltes te help.Ga naar eind17 Toe Jan dit agterkom, het die Afrikaans in sy briewe verminder. Van tyd tot tyd wend Marjorie 'n poging aan om self in erg foutiewe Afrikaans aan hom terug te skryf, iets wat die onderwyser in hom daartoe bring om haar ligtelik te korrigeer. So byvoorbeeld skryf hy op 29 April aan haar: Die klimop (Ivy) punkred and purple-brown is very lovely. I want to correct some of your Afrikaans: Here is what you wrote: ‘Ek wit nie if it is because it is now very late 'n ek baie fru het geopstaan.’ It should be: ‘Ek weet nie of dit is omdat dit nou baie laat is en ek baie vroeg opgestaan het nie.’ And again: ‘Môre op Kerrera di eland in die bey. Dit was baie warm 'n ons trek uit klein jaket in die son. Ons het vil “primroses” ge (picked) voor my tantes in E.’ Moet wees: ‘Van môre was ek op Kerrera, die eiland in die baai. Dit was baie warm en ons het ons? uitgetrek in die son. Ons het veel “primroses” gepluk vir my | |
[pagina 253]
| |
tantes in E.’ I appreciate it that you try to write Afrikaans to me, please don't blame me for trying to correct you. Remember only (for today) and is not 'n but en. 'n is a - a man, 'n man. But I and you - ek en jy. Wanneer Marjorie hom in 'n brief vra wat sy alles na Suid-Afrika moet saambring, is Jan baie beslis. ‘'n Mens moet nie die toekoms aan bande lê nie’, skryf hy op 8 Mei 1955 in Afrikaans aan haar. ‘Jy kom na S.A. asof jy vir altyd kom; dan sal ons vry wees om terug te gaan na Europa as ons lus voel of dit moet, en wanneer ons wil. Kom besluit eers in Suid-Afrika hoe lank jy wil bly.’ Dat daar oor die keuse tussen Suid-Afrika of Europa as toekomstige permanente woonplek vir hulle in hierdie tyd 'n mate van dispuut tussen Jan en Marjorie was, blyk duidelik uit meer as een brief wat hulle in die maande voor Marjorie se aankoms aan mekaar skryf. Marjorie was juis besig met 'n uitstalling van haar skilderye in Parys wat moontlik 'n soort afsluiting van die Europese fase in haar kunstenaarskap kon wees en sy was, heel begryplik, baie onseker oor watter moontlikhede Jan se vaderland vir haar as kunstenares ingehou het en of sy haar in Kaapstad, kultureel soveel armer as Parys, sou kon aanpas. Wanneer hy 'n mooi brief van haar oor dié hele saak ontvang, skryf hy in geen onduidelike terme op 21 Mei aan haar waar sy lojaliteit geleë is: Received your nice letter, but feel very sad. It's also your handwriting or rather the pale ink you write with on both sides (have you ever tried to read after you've written?) that makes me feel you fade away and I can't even hear what you say to me anymore; but mainly a realization that Paris is the important thing to you, and South Africa where my love and duty lies; that I resent your continual references about when we're back in Paris and your obvious and understandable lack of interest in South Africa, and therefore in me, that this is a bit of reciprocal, though only unconscious on your part. Hy wil nie op hierdie oomblik dink aan wat hulle in die toekoms gaan doen of waar hulle gaan woon nie. Hulle moet in die hede leef. In 'n baie belangrike passasie uit sy brief van 14 Mei aan Marjorie stel Jan sy standpunt duidelik en ondubbelsinnig: | |
[pagina 254]
| |
One must be entirely free in your present tense. And Paris is certainly unimportant to me as a writer with an emotional need centred round a language not spoken elsewhere. You're a painter, for you Paris is important. Nor were you born in South Africa, emotionally it means nothing to you. I thought of this, before last Christmas.Ga naar eind18 Suid-Afrika en alles wat hy deur sy taal wil bereik, is vir hom 'n uitdaging. Dit mag wees dat sy die lewe in Kaapstad weersinwekkend gaan vind, maar hy sal 'n lafaard wees indien hy in Parys moet lewe, terwyl sulke brandende probleme in sy eie land na oplossings en na sy bydrae roep. En hieroor kan hy nie 'n ander standpunt inneem nie. Hoe verbonde Jan aan sy taal is, blyk uit die antwoord wat hy gee op Marjorie se voorstel dat wanneer sy haar in Suid-Afrika vestig, sy Engels met hom sal praat en Afrikaans met hulle vriende. Hierop is sy reaksie ewe beslis. In 'n brief van 28 April skryf hy: No. First of all you are going to learn my language as well as I know yours. Once you know Afrikaans well I won't mind talking English with you, probably won't even notice language then. But we must share. And you'll only learn Afrikaans by speaking it to me. Don't you realise it's the thing I love best in South Africa? | |
IVOmdat Marjorie nog sake in verband met haar uitstallings in Parys en Edinburg moes afhandel en die skilderye wat nie verkoop is nie, vir verskeping na Kaapstad in kratte moes laat verpak, kon sy haar nie vóór haar eie verjaardag op 24 September by Jan aansluit nie. Teen dié tyd het Jan, wat telkens geld aan haar gestuur het, egter genoeg gespaar gehad | |
[pagina 255]
| |
om haar, soos sy dit later sou stel, ‘in te voer’.Ga naar eind19 Anders as Jan, wat van 'n skeepsreis gehou en per skip na Kaapstad gevaar het, vlieg sy na Suid-Afrika, betyds vir Jan se verjaardag op 14 November. Marjorie kom aan en vestig haar in Kaapstad met die aanvang van die somer, dié seisoen waarna sy met haar behoefte aan die son en die suide so vuriglik elke jaar tydens haar en Jan se Mediterreense reise uitgesien het. Nou begin Jan haar intelligensie en waarde eers werklik agterkom uit die wyse waarop sy haar binne 'n ommesientjie aanpas by 'n land wat vir haar in baie opsigte uiters vreemd moes gewees het, al het daar soms nogal geestige vergissings plaasgevind. Toe die radiomeisies haar verwelkom en aan haar 'n bos kraanvoëlblomme as geskenk oorhandig, het Marjorie gemeen dit is voëls en angstig gevra: ‘Do they bite?’Ga naar eind20 Op 'n keer tydens 'n besoek aan Napier, waar Jan 'n buite-opname moes gaan maak, het sy slaphakskeentjies as geblikte pere met vla aangesien en dit saam met koekstruif as poeding ingeskep. Toe sy verbaas gevra is of hulle dit dan in Skotland só eet, het sy manhaftig en koppig ‘Ja’ geantwoord. By geleentheid het sy gemeen die goudgeel skyf van 'n papaja is spanspek en die swart pitjies binne-in 'n soort kaviaar wat sy moes eet.Ga naar eind21 Geestige geselser by uitnemendheid en met 'n groot behoefte aan mense met wie sy kon verkeer, het Marjorie Afrikaans gou-gou met gemak aangeleer en haar eie soort Skotse Afrikaans begin praat wat uniek in die wêreld is en waarmee sy Jan en sy vriende beïndruk het. Telkens is hulle verras deur die groot woordeskat, dikwels ook gewestelike uitdrukkings en spesifiek Afrikaanse idiome, wat sy in 'n kort tydjie opgebou het. Met haar besondere vermenging van geestigheid en nugterheid kon sy gou aan gesprekke in Afrikaans deelneem en selfs, soos Jan dit stel, ‘Uys Krige so óórpraat dat hy stom daar bly sit, sy oë wasig’.Ga naar eind22 Binne drie maande kon sy reeds 'n onderhoud vir die radio in Afrikaans voer. Sy het selfs Afrikaanse woorde gemaak en 'n stofsuier 'n slukbesem genoem,Ga naar eind23 'n aanduiding van hoe woordgevoelig sy is en in watter mate sy 'n aanleg vir die aanleer van tale het. By die oormag van die gesproke bo die geskrewe woord het Jan teenoor Marjorie hopeloos die stryd verloor! Met die jare sou sy trouens die sosiale sy van die inherent skaam en skugter Jan behartig en was sy met haar vrolikheid en geesdrif hulle skakel met vriende en die buitewêreld. Toe haar kennis van Afrikaans voldoende was, kon sy haar ook volkome vereenselwig met Jan se hartstog en stryd vir Afrikaans en het sy konstant in Kaapstadse winkels Afrikaans gepraat. By ge- | |
[pagina 256]
| |
leentheid, toe die winkelassistente gemaak het asof sy nie Afrikaans verstaan nie, het Marjorie haar agtereenvolgens in Frans, Duits en Italiaans aangespreek om uiteindelik met Engels te eindig.Ga naar eind24 Sy had geen geduld met die insulêre geestesgesteldheid wat die mense op haar eiland van herkoms tot 'n selfingenome taalarmoede gelei het nie. Kort ná haar aankoms is Jan en Marjorie na Worcester sodat Jan haar aan sy ouers kon voorstel. Omdat haar Afrikaans toe nog te karig was, het Jan se moeder haar in Engels vertel van hoe swaar sy as kind tydens die Anglo-Boereoorlog gekry het en hoe sy in die veld voor die Engelse moes uitvlug. ‘And therefore’, het sy haar relaas afgesluit, ‘I'll never speak to you in English again’, iets waarby Jan se moeder haar gehou het en wat Marjorie aangevuur het om Afrikaans gou onder die knie te kry. Toe Marjorie haar vertel dat sy met haar en Jan se huwelik nie absolute gehoorsaamheid beloof het nie, was haar skoonmoeder, lewenslank 'n vasal en onderhorige van haar diktatoriale eggenoot, verbysterd en het sy haar man daarvan vertel. Vader Rabie, onthuts dat so iets hoegenaamd moontlik is, het sy seun die volgende oggend trompop gevra: ‘Jan, is jy en Marjorie werklik wettig getroud?’Ga naar eind25 Stugger en moeiliker in die omgang as sy innemende vrou, wou vader Rabie sy Skotse skoondogter beïndruk met sy prestasies as grootwildjagter. Hy het die familiealbum uitgehaal en foto's gewys van ongeskeerde mans wat met hul regtervoete op 'n gemsbok of koedoe se hart staan en glimlag. ‘Kyk, dit is my grootste koedoebul, met 'n kopskoot op vyfhonderd tree’, was sy kommentaar by een van die foto's. Met sy wysvinger op 'n ander foto het hy vertel van die renoster wat hom amper geskep het. Maar Marjorie was nie geïnteresseerd in die dooie diere nie. Sy wou net foto's van Jan as kind sien. ‘Is dit Jan toe hy was klein?’ het sy in haar Skotse Afrikaans gevra. Vader Rabie was nie af te kry van sy diere nie. ‘Ag, Jan of Louw of Hans’, en verder geblaai na twee gemsbokke wat hy in 1937 geskiet het. Toe kom hulle by 'n foto met die grootste en wreedste ‘wildsbok’ wat Marjorie nog gesien het, en dáár staan Jan se vader met sy hand om die nek van die groot dierasie. ‘Pappie, jy hom kiek voor jy hom skiet?’ vra sy, om 'n bietjie belangstelling te toon. ‘Onnosele vroumens,’ brom vader Rabie vies, ‘dis my kampioen-Afrikanerbul!’Ga naar eind26 Omdat die woonstel in Hofstraat veels te klein was vir twee mense en daar geen kamer as 'n ateljee vir Marjorie ingeruim kon word nie, het Jan reeds vóór haar aankoms begin rondkyk vir 'n ander woonplek. Erik | |
[pagina *25]
| |
48. Die troukoek word gesny. (Foto: Rudy Kousbroek)
49. Voor die restaurant Au Père Edouard, waar die onthaal gehou is. (Foto: Rudy Kousbroek)
| |
[pagina *26]
| |
50. Jan in gemoedelike luim voor die restaurant. (Foto: Rudy Kousbroek)
51. Terug by 35 Rue de la Tombe Issoire. (Foto: Rudy Kousbroek)
| |
[pagina *27]
| |
52. Jan vertrek op 12 Januarie 1955 met die SS Zuiderkruis uit die Amsterdamse hawe op die terugvaart na Suid-Afrika. Marjorie sou haar einde Oktober 1955 in Kaapstad by hom aansluit. Hier: afskeid van Parys én van Marjorie. (Foto: Liesl Rabie)
| |
[pagina *28]
| |
53. In Februarie 1955, kort ná sy terugkeer van Parys, maak François Krige drie tekeninge van Jan: een waarop hy hard en arrogant lyk, een waarop hy daar moeg en passief uitsien en 'n derde waarop hy wakker en energiek vertoon. (Foto: Suzanne Fox)
54. Jan as radio-omroeper by die SAUK (Foto: Jan Rabie)
| |
[pagina *29]
| |
56. Cheviot Place 6, Jan en Marjorie se woning in Groenpunt van einde 1955 tot 1966, soos dit vandag daar uitsien. (Foto: Wium van Zyl)
57. Jan en Marjorie in hulle woonkamer in Groenpunt. (Foto: Cape Times)
| |
[pagina *30]
| |
58. In Kaapstad het Jan weldra genoeg geld om 'n Morris-motor te koop, waarmee hy en Marjorie dikwels naweke langs die Weskus of op Waenhuiskrans en ander vakansieplekke kan gaan uitspan. (Foto: Liesl Rabie)
59. Dikwels gaan Jan en Marjorie na Tweede Strand, Clifton, waar Uys Krige en Jack Cope in die houthuisie Sea-Girt gevestig was. Hier is hulle saam met vriende op die strand. Van links na regs: Jan, Cees de Jong, Marjorie en Breyten Breytenbach, met Sue Robinson agter. (Foto: Marjorie Wallace)
| |
[pagina *31]
| |
60. Vanaf Een-en-twintig ontwerp Marjorie die stofomslae van die meeste van Jan se publikasies en soms sorg sy ook vir illustrasies binne-in. Dikwels is haar figure Jan en sy self, soos op die omslag van Dakkamer en agterplaas.
61. Die omslag van Ons, die afgod waarvoor Jan uitvoerige inligting in 'n brief aan haar verstrek.
| |
[pagina *32]
| |
62. Kort ná haar aankoms kan Marjorie van die Maleierseuntjies in die Bo-Kaap skilder. Verder was sy geboei deur die besondere tradisies en gewoontes onder Afrikaners, soos die preekuitsending waarna Jan se ouers oor 'n transistorradio luister. (Foto: Amanda Botha)
| |
[pagina *33]
| |
63. Met die jare word Cheviot Place 6 die middelpunt en kuierplek van 'n groot vriendekring skilders, skrywers, kunssoekers en ander rusteloses. Dit is trouens een van die weinige huise in die vyftiger- en sestigerjare waarin mense van verskillende huidskleure gesellig en vryelik met mekaar kan verkeer. Onder die besoekers wat daar kom, is die skilder Peter Clarke,
64. die skrywers Richard Rive en Elsa Joubert,
| |
[pagina *34]
| |
65. Kenny Parker, goeie vriend van Jan, omstreeks 1960 saam met Margo Holdt en Simone, dogtertjie van Ingrid Jonker. (Foto: NELM, Jack Cope)
66. Etienne Leroux, Ingrid Jonker en André P. Brink. (Foto's 63, 64 en 66: Marjorie Wallace)
| |
[pagina *35]
| |
67. Dikwels in die vyftiger- en sestigerjare stap Jan - alleen of vergesel van Siebert Wiid, Barend Toerien of Kenny Parker - langs die kus of gaan hy bergklim. (Foto: Marjorie Wallace)
68. In die Winterhoekberge, in die omgewing waar Barend Toerien se familie woon, neem Kenny Parker foto's van Jan waar hy ná die swem nakend, met die rug na die kamera, op een van die rotse staan en wat sy pragtig geboude liggaam duidelik vertoon. (Foto: Kenny Parker)
| |
[pagina *36]
| |
69. Die omslag van Die groot anders-maak, die tweede roman in die Bolandia-reeks en 'n onderskatte werk van Rabie.
| |
[pagina *37]
| |
70. Op 25 April 1963 oorhandig 'n groep skrywers 'n verklaring oor die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede aan senator Jan de Klerk, minister van binnelandse sake en onderwys. By die perskonferensie daarna verskyn van links na regs Jan Rabie, W.A. de Klerk, Uys Krige en Jack Cope. (Foto: Die goue seun)
71. Op 3 Julie 1965 verskyn 'n foto van Jan saam met 'n Maleier tydens 'n onthaal van die ambassadeur van die VSA in The Cape Argus. Die volgende middag word hy telefonies gedreig: ‘Jan Rabie, jy gaan sterf.’ (Foto: The Cape Argus)
| |
[pagina *38]
| |
72. Marjorie Wallace se portret van Ingrid Jonker. (Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum)
73. Die begrafnis van Ingrid Jonker op 22 Julie 1965. Onder andere op die foto: Abraham H. Jonker, gebukkend by die kis, ds. J.L. van Rooyen (met die jas in die middel), Jan en Jack Cope, wat deur Johann Cilliers (voor) en Erik Laubscher (agter) vasgehou word. (Foto: Cloete Breytenbach)
| |
[pagina *39]
| |
74. Ingrid se ‘skrywersbegrafnis’ op 25 Julie 1965: Uys Krige aan die woord, met Jan links voor. (Foto: Die goue seun)
75. Ingrid se liggaam in die dodehuis, met Jack Cope wat toekyk. (Foto: Cloete Breytenbach)
| |
[pagina *40]
| |
76. In 1966 vertrek Jan en Marjorie met 'n Carnegie-beurs op 'n studiereis deur die VSA. Tydens dié reis sluit Basil (tweede van links) en Sue Robinson (derde van links) by hulle aan. (Foto: Marjorie Wallace)
77. Jan en Marjorie in 1966 op die Rockerfellersentrum in New York. Die Chrysler-gebou is in die agtergrond. (Foto: Erik Laubscher)
| |
[pagina 257]
| |
Laubscher, die skilder met wie Jan in die strate van Parys rondgeslenter en baie wyn mee saamgedrink het, is in 1951 getroud met die Franse skilderes Claude Bouscharain en het 'n ou dubbelverdiepinghuis in Cheviot Place 6 in Groenpunt saam met Paul Coston en sy vrou gedeel. Juis in hierdie tyd het die Costons die huur van hulle gedeelte van die huis opgesê.Ga naar voetnoot27 Omdat hulle die huur van die hele huis nie kon bekostig nie, vra die Laubschers die Rabies om die gedeelte van die Costons oor te neem. Baie gou kon Marjorie in haar nuwe land begin skilder, al was die baie son aanvanklik vir haar vreemd en het sy moeite gehad om met haar kleure die werklikheid van Suid-Afrika weer te gee of by die mense aanklank te vind. Swart mense, sê sy in dié tyd in 'n koerantonderhoud, vind sy boeiend en aantreklik, maar omdat sy vreemd staan teenoor hul lewenswyse, tradisie en aard, kan sy hulle nie skilder nie. Haar eerste skildery in Suid-Afrika was van 'n kind met 'n vlieër, terwyl sy verder geboei is deur die ‘besondere tradisies en gewoontes’Ga naar voetnoot28 onder Afrikaners, soos die preekuitsending waarna Jan se ouers oor 'n transistorradio luister. Gou kon sy ook Maleierseuntjies in die Bo-Kaap teken en 'n deernis en empatie met hulle as kinders van 'n onderdrukte groep aanvoel.Ga naar voetnoot29 Op 1 Februarie 1956 word Marjorie se eerste uitstalling deur die digter Peter Blum by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in Burgstraat in Kaapstad geopen. Die meeste skilderye was werk wat sy reeds in Parys voltooi het en wat die vorige jaar in haar uitstallings in Parys en Edinburg te sien was, maar enkele stukke, soos die skildery van Jan se ouers by die transistor, was van haar eerste Suid-Afrikaanse werk en het groot aandag getrek. Haar skildery van Uys Krige, in 1953 in Parys voltooi, het aan 'n hoekpilaar gehang. ‘Ek het gestaan en kyk’, vertel Marjorie, ‘hoe mense met pligmatige kerkse galery-uitdrukkings die skuifelrondte doen, totdat hulle voor Uys verbykom. Dan het hul gesigte gestraal soos hulle vir Uys glimlag en vir die naaste persoon sê: “Dis mos Uys!”’Ga naar voetnoot30 In 'n resensie in The Cape Times waardeer dr. Matthys Bokhorst, later direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum, die perfect blending of the formal elements of the French school from Cézanne to Braque, and the tragic, human elements of the Expressionist school from the Hollander Van Gogh to the Spaniard Picasso [...] In everyone of her works - and she seems to be able to tackle almost any composition and any subject matter - I feel the pulse of life | |
[pagina 258]
| |
itself, throbbing sometimes, and sometimes ebbing away in contemplative meditation.Ga naar voetnoot31 Nog in dieselfde jaar volg uitstallings van haar werk in Johannesburg en Pretoria en weer is die reaksie buitengewoon gunstig. In 'n onderhoud verklaar Marjorie dat sy in haar nuwe land met sy ander lig en vorme maande lank moes wag voordat sy haar hand aan 'n kwas kon waag. Wat haar veral interesseer, is om die mens tot onderwerp te neem. Veral in die Afrikaner stel sy baie belang: ‘Hulle is anders as die Skotte, maar tog na genoeg, sodat ek nie vreemd teenoor hulle staan nie.’Ga naar voetnoot32 Binne die bestek van 'n jaar het Marjorie dus vir haar 'n eie plek as Suid-Afrikaanse kunstenares verower. As 'n besondere kompliment kies die Cape Times haar skildery Gracht in Amsterdam in wintertyd vir hulle Kerskaart.Ga naar voetnoot33 | |
VBalkema kon sy belofte om Een-en-twintig in November 1955 op die mark te hê, nie haal nie. Dit is eers in Februarie 1956 in die boekwinkels beskikbaar. Ter wille van kostebesparing en omdat Balkema die afsetmoontlikhede vir so 'n bundel ‘vreemde’ verhale vir die Afrikaanse mark nie kon peil nie, verskyn dit sonder die illustrasies wat Marjorie by die verhale gemaak het. Net haar tekening van die meisie in die verhaal ‘Gondeldeuntjie’ word op die omslag gebruik. Maar soos alle publikasies van dié professionele uitgewery word die dun boekie pragtig met 'n linneband en 'n geel stofomslag afgewerk. Op die flapteks speel Balkema in op die titel Een-en-twintig en word die boek aangekondig as die ‘mondigwording’ van 'n skrywer ‘wat oplaas sy medium bemeester het - en vir die Afrikaanse prosa wat hier in een verbasende sprong van die allermodernste stuwinge en temata in die huidige wêreld ryker geword het’. Dit is 'n boek, lui dit verder op die stofomslag, ‘wat party sal streel, party prikkel en ander ontstel - geskryf in 'n taal wat té bondig en hartstogtelik eerlik is om ooit 'n kompromis aan te gaan’. Groot waardering ontvang Rabie feitlik onmiddellik ná publikasie van die Engelse Suid-Afrikaanse skrywer Lionel Abrahams. In 'n brief van 24 Februarie 1956 waardeer Abrahams by Jan die allegories-fantastiese en die naturalistiese: ‘I imagine there are | |
[pagina 259]
| |
few writers who alternate so easily and with such equal seriousness between the two.’ Dit is 'n belangrike aspek van die Een-en-twintig-stukke waarop Abrahams hier wys. 'n Mens kon by voorbaat verwag dat die resensies oor 'n boek wat binne die kader van die Afrikaanse prosa nuut en vreemd aandoen, nie onverdeeld gunstig sou wees nie. Sommige resensente is dan ook louwarm in hulle reaksie en val versigtig terug op 'n verkenning van die tematiese terrein, met 'n aanduiding van die internasionale strominge waarby Rabie aansluit, sonder om 'n definitiewe oordeel uit te spreek. Teleurstellend, veral omdat hy in sy kronieke in Standpunte in die vyftiger- en vroeë sestigerjare die nuwe in die Afrikaanse literatuur meestal trefseker uitsonder en evalueer, is die bespreking wat Rob Antonissen aan Een-en-twintig wy. Sy resensie verval in 'n kensketsing waarin hy as ‘algemeenste karaktertrek’ van dié stukke ‘'n gebeure wat geheel en al aan die reële tyd onthef is’, aandui, ‘óf 'n stuk lewe sonder verlede en sonder toekoms, d.w.s. waarvan die verlede en die toekoms verswyg word om net die heerlikheid óf die ellende van 'n hede aan die leser se bewussyn op te dring’.Ga naar voetnoot34 Wat hy in die beste stukke wel waardeer, is ‘die buitengewoon ontwikkelde beeldvermoë, die kuns van ráák-sien wat raak en diep sién word, die uitreik van die beeld anderkant die waarneembare, die nugtere herwaardering van die gewone, die sfinksagtig-swyende simboliek van die bekend-gewaande, die gebruik van die “doodgewone sê” as stérk taal, taal in hoogspanning.’Ga naar voetnoot35 Soos 'n mens trouens van 'n skerp en intelligente kritikus soos Antonissen kan verwag, is sy bespreking met insig en kennis geskryf, maar 'n mens mis 'n definitiewe waardeoordeel. Tog sê hy dat, hoewel dit in 'n internasionale verband nie as ‘ultra-modern’ sou kan geld nie, Een-en-twintig in Afrikaans dit wel is. As aanloop tot die kroniek waarin sy bespreking van Een-en-twintig figureer en wat hy onder die titel ‘Debutante en roetiniers’ laat verskyn, maak Antonissen verder die boeiende opmerking - en hiermee het hy Rabie in gedagte - dat daar ‘ook met 'n tweede, 'n derde, 'n later, 'n laaste werk gedebuteer of opnuut gedebuteer [kan] word, hetsy 'n outeur pas in 'n nie-eerste werk sy heel eie geluid tref, hetsy hy in so 'n werk 'n (vir hom altans) geheel nuwe terrein betree of nuwe genre aanvoor’. Met 'n toespeling op Paul Rodenko se bekende bloemlesing sê hy dan dat Rabie ‘met hierdie produk van “'n nuwe griffel” op 'n “skoon lei”’ ná sy ‘taamlike reeksie boeke’ sedert 1943, ‘brawe romans veral’, nou ‘op mondigwording aanspraak [kan] maak’. | |
[pagina 260]
| |
In haar resensie in The Cape Times van 15 Augustus 1956 wys Nancy Baines op die ongewoonheid van hierdie ‘prosas’ wat vir haar nie soseer in die materiaal as in die skrywer se benadering en reaksies lê nie. ‘He is open-minded in a way that is all too uncommon in Afrikaans writing’, skryf sy; ‘he shows no trace of the parochial or circumscribed, and has few pre-determined attitudes.’ Sy sluit af met 'n aanduiding van die gees van die werk, maar sonder om dit as 'n definitiewe deurbraak aan te dui: ‘Mr Rabie combines an intelligent assessment of human relationships with considerable technical competence, and these qualities, with his freshness of outlook and many-sided sense of humour, make him a writer worth watching.’ In Die Huisgenoot van 20 Augustus 1956 waardeer Ina Rousseau die ‘kernagtigheid en afgerondheid’ van die stukke, ‘die sterk ritmiese gang van die sinne [en] die beelde’. Die skrywer onthul volgens haar sonder genade sommige dinge wat simptomaties is van die tyd: ‘[D]ie gevoelloosheid en onverskilligheid van die mens ten opsigte van die pyn en ontbering van andere, die gespletenheid van die moderne massamens, die ontaarding van die verhouding tussen die twee geslagte in die moderne lewe, die grenslose wreedheid waartoe die mens in staat is.’ Jannie Kruger lewer in Die Transvaler van 30 Augustus 1956 'n verrassend positiewe resensie as 'n mens dit sien teen die agtergrond van sy latere funksie in die sensuurbestel wat weldra op die Afrikaanse letterkunde sou toesak en deur Rabie en ander skrywers van sy geslag bestry sou word. Kruger sê Rabie is in hierdie ‘prosas’ meer digter as prosaïs, meer lirikus as epikus en dat die ‘spankrag van sy woord’ later seker aan ‘breër uitgewerkte en langer volgehoue beelding’ getoets sal word. ‘Maar’, gaan hy voort, ‘die eie aksent en die geluid van 'n meesterskap is so duidelik dat dit nooit misken kan word nie.’ Die negatiefste van die vroeë resensies oor Een-en-twintig kom van Kees Greshoff, seun van die Nederlandse digter Jan Greshoff en iemand wat as dosent in Frans aan die Universiteit van Kaapstad goed ingelig was oor die nuutste strominge in die Wes-Europese letterkunde. Sy belangrikste beswaar is dat Rabie wel in Afrikaans met iets nuuts kom, maar dat sy ‘sketse’ heelwat ander invloede toon. ‘Jan Rabie’, skryf hy, ‘is die Afrikaanse seun van Henri Michaux’, in so 'n mate dat hulle byna na ‘parodieë,... versiersels van Michaux [lyk], sonder iets van die inhoud of iets van die gespannenheid wat betekenis gee aan Michaux se poëtiese sketse’. Hy vind ook Rabie se simbole en allegorieë te opsetlik en nie genoegsaam | |
[pagina 261]
| |
uitgewerk nie. Tog meen hy Een-en-twintig is die produk van 'n skrywer met 'n ‘onteenseglike gawe’, al is hy, anders as wat Krige in sy inleiding sê en wat op die flapteks beweer word, ongemaklik in die vorm wat hy gekies het en al moet hy sy medium nog vind.Ga naar voetnoot36 Op hierdie resensie reageer Peter Blum.Ga naar voetnoot37 Blum sê Een-en-twintig het hom by verskyning reeds geboei met sy ‘oorspronklikheid en frisheid van taalgebruik’. Rabie het volgens hom daarin geslaag ‘om die menslike insig van die kortverhaal te versmee met die gedronge segging van die gedig’. Wat die invloed van Henri Michaux betref, sê hy dat hy in besit is van 'n keur uit Michaux se prosagedigte in die reeks Poètes d'Aujourd'hui en niks daarin vind waarop Rabie kon gesteun het nie. Hy sal graag wil weet watter stukke van Rabie deur watter van Michaux geïnspireer is. Hy sien wel in dat Rabie soos Michaux ‘'n wêreld van skrikwekkende willekeurigheid’ geskep het, maar voeg dan 'n belangrike insig by: ‘[E]k meen dat Rabie iets anders en iets meer gedoen het. Daar is in sy stukke - benewens die hegte struktuur van die skets of die kortverhaal - twee eienskappe wat by Michaux m.i. totaal ontbreek - humor en deernis.’ In sy reaksie op Blum se briefGa naar voetnoot38 moet Greshoff sy verskoning aanbied dat hy Een-en-twintig 'n debuut noem en daarmee sy onkunde oor Rabie se vyftal vroeëre werke in boekvorm verraai. Hy meen egter steeds dat Rabie nog nie sy medium gevind het nie en dat sy talent wesentlik dié van 'n romanskrywer is. Hy meen verder dat veral Rabie se eerste drie verhale sterk ooreenkoms vertoon met Michaux se ‘Plume voyage’, ‘Chez les hacs’, ‘Mon roi’ en ‘Un homme voyage’ - almal stukke wat voorkom in die bloemlesing wat deur Blum genoem is.Ga naar voetnoot39 Hoewel die meeste resensente nie onvriendelik of afwysend teenoor Een-en-twintig was nie en almal die een of ander kwaliteit in die ‘prosas’ aangewys het, kon nie een kritikus die werklike waarde in hierdie stadium vasstel en dit as 'n deurbraak en waterskeiding in die Afrikaanse prosa aantoon, soos dit destyds by die verskyning van die debuutbundels van W.E.G. Louw en N.P van Wyk Louw op die gebied van die Afrikaanse poësie gebeur het nie. Jong skrywers wat in daardie stadium nog studente was en onbekend op die gebied van die Afrikaanse literatuur, het egter feitlik onmiddellik die belangrikheid van Rabie se werk aangevoel. Hennie Aucamp, wat sy bloemlesing kortkortverhale Vuurslag in 1991 aan Rabie sou opdra ‘met waardering vir 21, 'n suurdeeg wat kragtig bly voortwerk binne die Afrikaanse letterkunde’, voel jare ná sy eerste kennismaking | |
[pagina 262]
| |
nog dieselfde oor ‘hierdie verbluffend energieke bundel’ en waardeer steeds hoe ‘suggestieryk kompaktheid ... en hoe effektief die metafoor in die prosa kan wees’.Ga naar voetnoot40 Abraham H. de Vries herinner hom met watter vreugde hy Een-en-twintig by die eerste publikasie in die Duitse boekwinkeltjie in Meulstraat op Stellenbosch gaan koop het,Ga naar voetnoot41 terwyl Johann Botha kon onthou hoe hy in sy tweede jaar op Stellenbosch 'n poker-sessie in die koshuis Eendrag tot stilstand geruk het deur stukkies uit Rabie se ‘prosas’ voor te lees.Ga naar voetnoot42 Die grootste hulde en sensitiefste registrasie van Rabie se wesentlike bydrae kom van André P. Brink. Reeds as jong student op Potchefstroom skryf hy in Tydskrif vir LetterkundeGa naar voetnoot43 'n lang waarderende beskouing oor Rabie se ‘prosas’ wat hy as iets unieks in ons letterkunde beskou en gaan hy in op die filosofiese agtergronde en die stylvorm waarby die stukke aansluit. Jare later skryf hy 'n blokboek oor Een-en-twintig,Ga naar voetnoot44 die insiggewendste studie wat aan Rabie se ‘prosas’ gewy word. Een-en-twintig is vir hom in dié studie 'n nuwe inset vir die Afrikaanse prosa en 'n onvoorwaardelike breuk met die dikwels gemoedelike en lokaalrealistiese verhaalkuns van vroeër. In teenstelling tot die werk van Baudelaire, Rimbaud en Michaux, by wie dit primêr om die stemming gaan en waarop Krige in sy inleiding wys, meen Brink dat die aksent by Rabie anders lê. Telkens is daar in Een-en-twintig vir hom sprake van ‘'n liries-dramaties gelade moment wat eksplosief onthul word en waarin die embrio van 'n verwikkelingsplan duidelik sigbaar is, net veel meer saamgedronge en geïntensiveer as in die “tradisionele” kortverhaal’. Die kern van dié stukke lê vir Brink in die wyse waarop ‘in 'n uiters kompakte saamdringing van epiese, liriese en dramatiese elemente, één sentrale eksistensiële moment uitkristalliseer tot 'n dinamiese beeld’.Ga naar voetnoot45 Twintig jaar ná die verskyning van Een-en-twintig vertel André Brink van sy eerste reaksie by die lees van hierdie merkwaardige boek. Hy was op Potchefstroom besig met die honneurs in Engels en met sy fiets op pad terug van 'n Shakespeare-seminaar na sy koshuiskamer toe sy vriend Naas Steenkamp hom voorkeer met 'n eksemplaar van 'n dun plat geel boekie onder die arm: ‘Jong, het jy dié al gelees? So nie, dan moet jy dadelik.’ André het dadelik omgedraai, winkel toe gery, sy eksemplaar van die dun, plat, geel boekie gaan koop, in sy kamer op sy bed gaan lê en lees en eers weer opgestaan toe hy dit voltooi het. Hy skryf: | |
[pagina 263]
| |
Want die ontdekking wat ek daardie dag belewe het, was in die Afrikaanse literatuur en vir 'n jong student soos ek heeltemal enig. Dit was soos 'n wêreld wat binne-in my gebore word ... Ek was altyd versot gewees op literatuur. Maar in Afrikaans het ek tot op daardie dag nog nooit iets gelees wat my met só 'n opwinding oor die nuwe vervul het nie.Ga naar voetnoot46 Wat hom veral getref het, is die ‘intuimeling in 'n heeltemal nuwe soort werklikheid’Ga naar voetnoot47 waarin hierdie ‘prosas’ hom laat beland het. Daardie eerste dag se ‘verrukking-van-ontdekking’, gaan hy voort, ‘dit kan mens nooit vergeet nie.’Ga naar voetnoot48 Vir baie van die jong kunstenaars wat toe al begin skryf het of nog later sou begin skryf, was dié dun, plat, geel boekie 'n eerste kennismaking met 'n wêreld van literatuur waarmee hulle weldra intiemer in aanraking sou kom en wat as 'n baken en rigsnoer vir baie se eie skeppende werk sou dien. | |
VIMet haar vestiging in Kaapstad kon Marjorie Jan nie in sy rol as omroeper verdra wanneer hy in die oggend in sy netjiese pakkie die huis in Cheviot Place verlaat om met sy werk in die SAUK-gebou in Kusweg te begin nie. Vir haar was dié man in 'n pak klere nie haar Jan nie. ‘Ek het 'n skrywer getrou, nie 'n omroeper nie’,Ga naar voetnoot49 was haar woorde aan hom. Sy het ook nie gehou van al die ‘pretty girls of the radio’ en die baie ‘dull, dumb men of the radio’Ga naar voetnoot50 met wie sy by sosiale geleenthede opgeskeep gesit het nie, al was 'n paar van hulle darem aanvaarbaar in haar vriendekring. Die meeste was egter vir haar verbeeldingloos, saai en leeg, met niks om te sê nie. Jan self, wat van die begin af nie veel erg aan so 'n vaste betrekking gehad het nie en eerder wou skryf as uitsaai, het nie veel aanmoediging nodig gehad nie. Teen die middel van 1956 was hy hopeloos oorwerk en het hy genoeg gehad. In 'n brief aan Stephen en Renée le Roux skryf hy dat met die radio se ‘gedurige stofstorm’ daagliks net ‘die beeld van jou bed’ waarop jy snags neerduik, nog duidelik uitstaan. Die radiowerk met die lang ure gee hom weinig tyd vir sy eie skryfwerk. Hy het derhalwe einde | |
[pagina 264]
| |
Augustus bedank, maar sal darem nog geld verdien uit die stukwerk wat hy vir die radio lewer. Daarby sal hy, naas die verwagte inkomste uit die boeke wat hy nou wil skryf, iets kry uit sy weeklikse posseëlrubriek in Die Burger en sy sporadiese artikels in verskillende koerante. Baie gou sou hy ook begin met resensies vir The Cape Times waarmee hy op 'n kundige wyse nuwe Afrikaanse publikasies aan Engelse lesers bekend stel, 'n taak wat hy oor etlike dekades sou volhou. Vir 'n tweetal jare sou Jan dus steeds op 'n vryskutbasis werk vir die SAUK doen. Sy mees ambisieuse werk wat uit sy verbintenis met die radio voortspruit en as vervolgverhale oor die lug groot sukses gehad het, is die drie ruimteverhale waarmee hy ná C.J. Langenhoven se Loeloeraai die eerste voorbeelde van wetenskapfiksie in Afrikaans lewer. Nog vóór die eeu van ruimtevaart ingelei is en hy in geselskap van Flippie Burgers in Oktober 1957 die eerste spoetnik tydens 'n besoek aan die Hexriviervallei kon aanskou, het Jan al 'n intense belangstelling in hierdie tipies twintigsteeeuse genre gehad. Hy het graag vir ontspanning die ruimtefiksie van skrywers soos Jules Verne en H.G. Wells gelees. Reeds in 1953 in Parys het hy, volgens 'n aantekening in sy Paryse dagboek, tot die besef gekom dat sy gemeenskap die hele wêreld is,Ga naar voetnoot51 'n eerste gewaarwording, soos Amanda Botha dit stel,Ga naar voetnoot52 van wat later as die ‘global village’ bekend sou staan en die aanloop tot die ‘planetêre bewussyn’ waarvan Jan in sy onderhoud met Elsa Joubert praat.Ga naar voetnoot53 In 'n artikel wat hy tydens sy werk aan dié verhale skryf, sê hy dat toekomsfiksie die eerste kunsvorm is wat probeer om globaal, ‘planeetwyd’ te bespiegel, om die vermetelheid te hê om baie dissiplines saam te vat.Ga naar voetnoot54 Op 'n vraag oor hoekom hy in die ruimteverhaal begin belangstel, antwoord hy dat die wetenskap ‘vandag die spannendste en wonderlikste verhale’ skryf en ‘die ernstigste uitdaging aan die mensdom’ stel.Ga naar voetnoot55 Die radiovervolgreekse waarop die drie wetenskapfiksie-boeke gebaseer is, word in elke episode deur 'n verteller ingelei wat die karakters aan die woord stel en met spesiale klankeffekte die suggestie van die buitenste ruimte wek. Aanvanklik het hulle nie raad geweet hoe om die kosmiese klanke weer te gee nie. Op 'n dag, toe Jan saam met die ingenieurs rondry om 'n program oor die wêreld van Ceres en die Koue Bokkeveld te maak, hoor hulle, terwyl hulle by 'n brug nakend aan die swem was, die mees onaardse geluide wat vir hulle klink soos dié wat 'n vlieënde piering behoort te maak. Die bloudrade van die brugrelings het as gevolg van die | |
[pagina 265]
| |
ongelyke spanning met die windvlae die vreemdste klanke begin te sing. Kaal soos hulle was, storm Jan en die klankingenieur Dave Sara na die SAUK-voertuig om die pragtigste kosmiese brugklanke op te vang, presies wat hulle vir die besondere effekte nodig gehad het.Ga naar voetnoot56 Omdat elke episode vyftien minute lank vir die uitsending ná die aandnuus moes duur, is die hoofstukke van die eerste twee van hierdie ruimteverhale ongeveer ewe lank en kon Rabie nie alle reste van die oorspronklike dramatiese vorm heeltemal wegwerk nie. Swart ster oor die Karoo, wat toevallig gepubliseer word in die jaar 1957 waarmee die ruimte-eeu met die lansering van die eerste satelliet 'n aanvang neem, handel oor die situasie wat ontstaan wanneer die aarde skielik ophou draai. Aanvanklik is die vermoede dat dit die gevolg is van die gelyktydige ontploffing van twee atoombomme, maar later word dit duidelik dat die stilstand deur die ingryping van buiteaardse wesens veroorsaak is. Dit is in werklikheid, soos J.C. Coetzee dit stel, ‘'n magnetiese arrestasie’ waarmee wesens van die swart ster Nos (die dooie ander son van ons sonnestelsel, anderkant Pluto) as ‘weldoeners’ ingryp ‘omdat die mensdom 'n groot gevaar vir homself en die kosmos (geword het)’.Ga naar voetnoot57 Die versteuring bring mee dat Suid-Afrika aan die donkerkant van die aarde in sneeu en ys gehul is, terwyl mense aan die sonkant in die ewige hitte verskroei. By die navorsingstasie Saakni in die Karoo probeer 'n aantal wetenskaplikes 'n oplossing vind vir die ontsettende koue wat alle lewe bedreig deur kunsmatige voedsel te kweek, terwyl die professor in sterrekunde saam met 'n paar ander wetenskaplikes en die bo-aardse wese dr. Stellaris op 'n ruimtereis die tyd in vertrek om die probleem op te los. Die uiteinde van die reis is dat die ruimtevaarders weer na die aarde terugkeer, nou met die kennis van hoe die mens homself kan red en met die vurige wil om die verskrikking van die atoombom uit te wis en die aarde tot sy oorspronklike skoonheid te herstel. Die boek het dus, volgens die flapteks, 'n duidelike boodskap: ‘omdat die mens by magte is om die aarde te verwoes, is sy toekoms in sy eie hande. Hoe hy hierdie mag gaan gebruik - of hy die aarde gaan verwoes of daarvan 'n beter plek gaan maak - hang net van homself af.’ Rabie wil mense waarsku en opvoed en sosiale kritiek lewer. Die mens moet besef hy is nie die middelpunt van die heelal nieGa naar voetnoot58 en dat 'n nuwe, beter mens gebore kan word, ‘'n mens met nederigheid en minder trots, met meer behulpsame liefde’.Ga naar voetnoot59 En hierdie nuwe, nederige mens moet self sy eie heil vind; die buite-aardse wesens kan dit nie vir hom doen nie. In hierdie opsig sluit | |
[pagina 266]
| |
Rabie aan by Jules Verne se Le tour du monde, H.G. Wells se The first men in the moon en C.J. Langenhoven se Loeloeraai. Die Venus-bewoner Loeloeraai sê in Langenhoven se roman dat hy sy kennis nie aan die aardbewoners kan meedeel nie; hulle moet hul eie ‘onderwysers’ wees. ‘Hoe pynlik en stadig - ja, hoe onnosel en stadig, die vordering ook was, julle moet op julleself staatmaak sonder buitemenslike of bowemenslike voorligting. Waarom? Omdat kennis, anders as deur julleself verkry, tot julle groter ellende sou gelei het.’Ga naar voetnoot60 Dit is presies ook die boodskap wat Rabie met sy roman wil oordra. In Die groen planeet (1961) - ‘'n toekomsverhaal oor die eerste kolonie op Mars’, soos dit in die subtitel genoem word - besluit die wêreldregering van Terra om 'n agttal ‘proefkonyne’ na Mars te stuur om, op watter wyse dan ook, te kyk of hulle op dié rooi planeet 'n bestaan kan maak en só die moontlike totale uitwissing van die mens in die toekoms te fnuik. Die verhaal self handel oor die worstelstryd van hierdie proefkonyne - van wie twee hulle nie by die nuwe omstandighede kon aanpas nie en beswyk. Die ander besluit om op Mars te bly, selfs nadat hulle in die geleentheid kom om terug te keer aarde toe. Ten spyte van die aanvallende kruipbosse en die boorslange wat na kos soek, aanvaar hulle die rooi planeet as hul nuwe tuiste. Die boodskap wat hierdie verhaal bring, is dat die mens hom by buitengewone omstandighede kan aanpas en kan oorleef. Die hemelblom, wat as vervolgverhaal in 1957 weekliks in langer episodes as die eerste twee ruimteverhale oor die radio uitgesaai is, maar eers so laat as 1971 in Die Huisgenoot en daarna in boekvorm verskyn, het as hoofgegewe die gevaar wat ontstaan as die mens met sy industriële ywer die aarde só vervuil dat dit vir die res van die kosmos 'n gevaar skep. Ruimtewesens tree in en laat 'n plant op die aarde wat angswekkend vinnig sal groei en vermeerder, die hele planeet weldra sal bedek en dan sal verskrompel om uiteindelik 'n skoon aarde maar sonder die mens agter te laat. 'n Aantal wetenskaplikes wat in 'n vlieënde piering ontvoer word, slaag uiteindelik om na die aarde terug te keer en 'n oplossing vir die noodtoestand te bring. Wat in al drie hierdie toekomsfantasieë opval, is dat Rabie sy lesers, soos vroeër sy luisteraars oor die radio, daarvan bewus wil maak dat, om in die latere woorde van Lina Spies te praat, ‘die broos seepbel wat ons bewoon’Ga naar voetnoot61 uiters breekbaar is en dat die mens sy drang tot vernietiging sal moet teenwerk as hy wil oorleef. Lank voordat daar 'n wyd verspreide | |
[pagina 267]
| |
poging was om milieuvervuiling uit te roei en georganiseerde optrede teen kernwapens gekom het, was Rabie dus die eerste groene by ons wat op dié gevare die aandag gevestig het. Afgesien van die feit dat Rabie met hierdie wetenskapfiksie 'n belangrike bydrae tot Afrikaans as radiomedium lewer, word hy ná Langenhoven die eerste beoefenaar van die ruimteverhaal. Soos Langenhoven wil Rabie met elk van dié romans naas verteller ook as didaktikus met 'n sterk morele inslag optree, 'n ingesteldheid wat hy ook op 'n ander wyse in werke van die laat vyftiger- en vroeë sestigerjare sal voortsit. In sy artikel oor ‘Toekomsfiksie en die letterkunde’ maak hy die interessante uitspraak dat hierdie soort ruimteverhale 'n moderne ekwivalent is vir die feeverhaalGa naar voetnoot62 wat ook dikwels 'n morele waarheid bevat. En dat hy talle luisteraars en lesers met dié verhale gewen het, bewys die herhaalde herdrukke en hoë verkoopsyfers. Die hemelblom word trouens een van die vier goeie verkopers van Rabie se boeke.Ga naar voetnoot63 Met hierdie drie ruimteverhale kom Rabie se werk as vryskut vir die radio tot 'n einde. Teen 1959 was hy as medewerker vir die SAUK polities nie meer aanvaarbaar nie. |
|