Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 153]
| |
Hoofstuk VI
| |
[pagina 154]
| |
munisme in 1950 aangeneem, wat die propagering van kommunistiese leerstellings tot 'n misdaad verklaar en die Kommunistiese Party verbied. Die mees omstrede wetgewing van die regering in die vyftigerjare is die wetsontwerp van 1951 waardeur ‘Kleurlinge’ die gekwalifiseerde stemreg ontneem word in Kaapland en Natal wat met Uniewording in 1910 verskans is. Die opponerende Verenigde Party betwis die beoogde wetgewing en in 1952 verklaar die Appèlhof die wet ongeldig. Dit verhinder die regering nie om enkele jare later deur 'n vergroting van die Senaat die grondwet só te wysig dat bruin mense op 'n aparte kieserslys geplaas word nie. Met sy hantering van die hele aangeleentheid ontstaan daar egter bedenkinge oor die eerbaarheid van die regering ten opsigte van die demokratiese stelsel, selfs die beperkte demokratiese regte van destyds. Jan Rabie het hierdie ontwikkelinge in Suid-Afrika met ontsteltenis gevolg. Op 25 Mei 1949 skryf hy in sy dagboek dat hy Suid-Afrika moes verlaat ‘om vir die eerste maal, en met skaamte, 'n burger van [sy] land te word’.Ga naar eind2 Twee boeke wat in hierdie tyd verskyn en wat hom, soos hy in sy dagboek aanteken, ‘fisies ontstel’,Ga naar eind3 is Arthur Keppel-Jones se visie in When Smuts goes van 'n Suid-Afrika wat êrens in die toekoms onder 'n swart regering in barbarisme verval en Alan Paton se Cry, the beloved country, dié roman by uitstek wat apartheid as 'n onmenslike stelsel en as die verwringing van alle menslike verhoudinge in die maatskappy aan die internasionale leserspubliek ontbloot.Ga naar eind4 'n Bietjie meer as twee jaar ná sy aankoms in Parys, in Julie 1950, verwys Jan in sy dagboek na Suid-Afrika as my arme land. Hoeveel keer as jou naam hier in Europa genoem word, moet ek my nie bitter skaam nie. Honderde Suid-Afrikaners hier in die vreemde wil nie teruggaan nie; praat met haat van jou. Maar ek moet terug, een keer ten minste en al smyt jy my dan ook uit met jou dorre en barse moeder-liefde.Ga naar eind5 'n Jaar later sal hy in sy dagboek praat van die ‘sotheid en immoraliteit van ons kleurbeleid’.Ga naar eind6 In 'n brief van 6 Junie 1951 deel hy, waarskynlik 'n bietjie ingehoue om nie te veel aanstoot te gee nie, sy ouers mee dat hy nie so ingenome is met alles wat die Suid-Afrikaanse regering doen nie: Ons Hollandse voorvadere het dit reggekry om dyke teen die see te bou, maar op die lange duur is dit onmoontlik om dyke teen mense - | |
[pagina 155]
| |
sy hulle swart of wit of geel - te bou. Rassehaat moet uitgeroei word as die lewe van Christus nie verniet gelewe wil wees nie. Profeties gaan hy voort: Ek is bevrees dat my toekomstige skrywery, my boeke, nie in die smaak van ons regering gaan val nie. Hier in die Paryse ambassade het ek met etlike hooggeplaaste Unie-amptenare op besoek gepraat. Onder andere met Min. Ben Schoeman en 'n Kaapse professor. Hulle is ongemaklik voor dié probleem as jy met hulle praat en soms erken hulle dat die nuwe wette net bedoel is om die wit man se vel te red, en dat ons nie anders kan nie. En soos die Bybel sê: ‘Hy wat homself wil red, sal homself verloor.’Ga naar eind7 Om posgeld te bespaar, het Jan in hierdie tyd sy briewe per seepos en dikwels met lang tussenposes ná ontvangs van veral familiebriewe na Suid-Afrika versend. Dit is dus nie onwaarskynlik nie dat die brief van sy vader, waarna hy op 8 April 1953 in sy dagboek verwys en wat nie bewaar gebly het nie, 'n reaksie is op dié kritiek wat Jan op die regering uitspreek. In dié brief laat Jan se vader hom in onverdraagsame terme uit oor ‘walglikhede soos vrydenkers en kommuniste’ en gebruik hy naakte rassistiese terme. Dit vervul Jan met afkeer, in so 'n mate dat hy van ‘die ystervark-vader’Ga naar eind8 praat. ‘Hoe kan daar’, skryf hy, soveel lelikheid in die wêreld bestaan, sulke dodelike oneerlikheid so na aan jou, in jou eie land, in jou eie familie-bloed! ... Om te dink dat so 'n man tot sy dood met blindheid en selfgeregtigde haat en onverdraagsaamheid geslaan sal bly, geen woord, geen argument, selfs geen Bybelteks sal hom ooit losruk nie.Ga naar eind9 Teen die agtergrond van die Europese kultuur wat hy intensief leer ken en wat hom as mens verruim, sien hy nou van buite die krake in die Suid-Afrikaanse samelewing en apartheid as naakte rassisme. Dit is vir hom verskriklik dat die Ned. Geref. Kerk nie wal gooi teen hierdie rassisme nie. Die Kerk, sê hy in 'n dagboekinskrywing, beroep hom op die mens se laagste instinkte, die bloed, die ras en die bestendiging van voorregte vir sekeres ten koste van ander. Hieruit groei sy verantwoordelikheidsbesef. Op 8 April 1953 teken hy in sy dagboek aan: | |
[pagina 156]
| |
Dit word tyd om iets te doen. Sal onreg alleen stem kan hê? As Malan weer inkom, sal ek dalk iets waag, begin skrywe, polemies selfs, dié dinge sê wat moet gesê word om nie die naam Afrikaans as 'n skandnaam in die geskiedenis te laat word nie.Ga naar eind10 Opvallend is dat Jan reeds in dié stadium die verknooptheid van taal en politieke beleid raaksien en die gevaar besef wat dit vir die toekoms van Afrikaans inhou. In dieselfde woonstelgebou in 26 Rue Servandoni in die Quartier Latin, waarin hy in die eerste jaar en 'n half van sy Paryse verblyf woon, maak Jan nou kennis met Peter Abrahams, die Engelstalige swart romanskrywer uit Suid-Afrika - sy eerste ontmoeting met 'n ontwikkelde landgenoot wat in huidskleur van hom verskil. Abrahams, 'n jaar ouer as Jan, het hom in 1939, ná 'n reeks vernederende rassistiese ervarings, waaroor hy later in sy outobiografiese Tell freedom (1954) verslag doen, in Brittanje gevestig waar hy met 'n Engelse meisie in die huwelik tree. Deur sy vriendskap met mense soos H.G. Wells en Bertrand Russell verhef Abrahams sy gees ‘in die helder onpartydige lug van humanisme’,Ga naar eind11 soos Jan dit in sy dagboek stel. In Brittanje verwerf Abrahams groot aansien en bekendheid as skrywer met die sterk kortverhaalbundel Dark Testament (1942) en romans soos Mine boy (1946) oor 'n ‘Jim comes to Joburg’-situasie en The path of thunder (1948), 'n verhaal oor die liefde van 'n bruin man vir 'n wit meisie, totdat sy romans deur die sterker werk van Alan Paton, Cry, the beloved country (1948) en Too late the phalarope (1953), oorstem is. Abrahams vestig hom in Junie 1948 kortstondig in Parys, maar Jan ontmoet hom eers in Februarie 1949. Met Abrahams het Jan prikkelende, ‘ietwat skermutselende debatte’Ga naar eind12 oor die wyse waarop Abrahams sy land en sy Sotho- en Afrikaanse herkoms vir die ‘beskawing’ van Europa verloën in 'n poging om volledig klas- en kleurloos te lewe.Ga naar eind13 Op 11 Maart 1949 skryf Jan hoe hulle die aand ‘skirmish’: Ek voel hoe bitter hy moet veg om by sy idees te kom: as skrywer is hy sosiaal gerig, maar as persoon wil hy ‘kleurloos’ wees. Wil mense sien en nie Sjinese of Eskimo's nie. [...] Hy wen homself op, skreeu byna, is dan skielik weer glimlaggend - maar hy is 'n verraaier, hy het wit geword, en vergoed dit met humanitêre beginsels en slagspreuke van die laat-Victoriaanse Engelse literatore (Russell, Forster, ens.) wat | |
[pagina 157]
| |
lank naleef in Engeland. Daarom ook is die Engelse modeliteratuur vir hom die grootste, en haat hy oralteenwoordige Europese ‘wan-hoop’.Ga naar eind14 Die enigsins negatiewe beeld wat Jan hier van Abrahams se ‘verraad’ gee, moet 'n mens sien teen die agtergrond van sy eie sterk verbintenis met sy land en sy taal Afrikaans, wat, hoewel nog nie so duidelik genuanseer soos etlike jare later nie, reeds duidelik in die kiem by hom aanwesig was. 'n Mens kan geredelik aanvaar dat Abrahams se siening en standpunte groot indruk op Jan gemaak het en dat hul herhaaldelike lang gesprekke vir hom uiters prikkelend was. In die besonder het Abrahams se siening dat die slegte dinge wat die blanke aan die swarte doen, hy ook aan homself doen,Ga naar eind15 en dat die Afrikaner deur sy hele optrede sonder simpatie in die wêreld staan en sy eie ‘konsentrasiekamp’Ga naar eind16 is, sterk tot hom gespreek. ‘Hy sê 'n waar ding’,Ga naar eind17 is sy kommentaar by dié soort uitspraak van Abrahams. Veral 'n artikel wat Rabie in die jare 1949-1950, kort ná sy ontmoeting met Abrahams, skryf, toon die neerslag van hulle gesprekke. Onder Rabie se nalatenskap is daar geen aanduiding dat dié artikel gepubliseer is nie,Ga naar eind18 maar in vergelyking met die dikwels verwarde inskrywings in sy dagboek uit hierdie jareGa naar eind19 is dit 'n uiters helder en oorwoë artikel, geskryf in 'n goeie betogende Engels. Aan die begin van dié artikel identifiseer Rabie homself - met 'n term wat hy dikwels en uitdagend tydens sy jare in Parys sou gebruik - as 'n Boer ‘who is unavoidably and utterly attached to the soil of his birth and who wants to be proud of his country’. Toe hy in Suid-Afrika was, het hy vir die Nasionale Party gestem, omdat dié party sy sentimente as Afrikaner die duidelikste verteenwoordig. Nou, ná feitlik 'n jaar in die buiteland, voel hy egter die dualisme tussen politieke sentiment en politieke beginsels sterk aan. Van alle Suid-Afrikaners wat hy in Parys teëgekom het, sê hy verder, was sy gesprekke met Peter Abrahams die vrugbaarste en interessantste, waarskynlik - en dit stel hy nie eksplisiet nie - omdat sy kennismaking met Abrahams hom sterker bewus gemaak het van hierdie dualisme. Daarby het sy ontmoeting met Abrahams hom die geleentheid gebied om te wete te kom wat 'n bruin man en 'n wit man van gelyke opleiding en gekultiveerdheid oor die kleurprobleem in Suid-Afrika te sê het. Abrahams se beswaar was dat Suid-Afrikaners, anders as mense uit ander lande, hom altyd in die eerste plek as 'n swart man en eers daarna as 'n | |
[pagina 158]
| |
mens sien. Toe Jan Abrahams se The path of thunder gelees het, is hy getref deur die sonderlinge waarheid van die volgende woorde: You must first be a native or a halfcaste or a Jew or an Arab, that is the tragedy. You cannot be a human being first. That is the crime of our time, my friend. In 'n heftige debat tussen hulle op 'n spesifieke aand noem Abrahams die feit dat sy boeke in 'n Suid-Afrikaanse biblioteek gevind kan word, maar dat hy self nie in die gebou toegelaat word nie. Indien hy sulke toegang geweier word, sal hy in die toekoms daarvoor moet veg en saam met ander soos hy die spiespunt van die rebellie moet vorm. Vir Jan is die probleem wat die wit man, wat die probleem veroorsaak het, te doen staan. ‘My head tells me’, is sy betoog, ‘that the colour bar's unchanging rigidity is becoming daily more unjust, but my heart tells me that it is but a weapon expressing a simple law of nature, that of survival...’ Abrahams stem hiermee saam: Agreed, perfectly agreed. [...] If you give the vote to all coloured men, you will simply be signing your own death warrant. I can understand the white man's position, and even sympathise with it. It is tragic [... But if] the white man bases his colour bar on fear - as he does, and not for reasons of culture -, fear will poison his ordinary life and bind his spirit as that of the black man is bound. Hiermee kon Jan akkoord gaan, maar hy wys Abrahams daarop dat die probleem vir die wit man oneindig groter is as dit waarmee die swart man te kampe het. Met dieselfde beeld wat hy in 1951 in sy brief aan sy ouers sal gebruik, sê hy: His choice is drastic and rather fearful. Either to continue building dikes against the rising floods - with disastrous results to his character and moral condition -, or to accept submersion. | |
[pagina 159]
| |
So 'n bou van dyke, besef Jan, lei tot stilstand en dood, terwyl verandering juis die essensie van groei en lewe is. As 'n jongmens voel hy dat hy slegs lewe om homself te kan ontwikkel en om ander te help om dieselfde te doen. Maar hy word bewus van iets tragies as hy oor sy eie mense dink: Always the Afrikaners have wanted to be sufficient unto themselves, and alone. They hated change. They were in love with isolation, which would preserve them as a separate group. They fled from the Dutch officials and the British, and today they talk of segregation as the final remedy. They think they can escape responsibility and change by avoiding it, by isolating themselves again. It is when this dream of isolation or preservation is achieved at the expense of others, that it has to be questioned. Especially when, at the same time, they want to assume an aristocratic guardianship for Southern Africa on a basis of continued white superiority, which is but another word for nonresponsibility. Die Afrikaner, sê Abrahams, ‘is so alone and thrives on aloneness so much that he is his own concentration camp’, 'n uitspraak wat Jan reeds op 22 Mei 1949 in sy dagboek aangeteken hetGa naar eind20 en wat dit moontlik maak om die gesprek waarop die artikel gebaseer is, te dateer. In hulle debat kom hulle vervolgens by die moontlikheid van 'n gekwalifiseerde stemreg op grond van opleiding en beskawing. Rabie meen dat gelyke stemreg gegee moet word aan almal, ongeag ras of kleur, wat 'n konstruktiewe aandeel in die gemeenskaplike beskawing van die land het. Dit sal selfs meebring dat sekere blankes wat ongeletterd of onbevoeg is vir die aanvaarding van verantwoordelikheid, hul stemreg ontneem kan word. Die probleem is egter waar om die streep te trek. Aan die einde van hul gesprek lyk dit of hulle tot geen oplossing gekom het nie. ‘No South African knows a solution’, sê Abrahams. Hy voeg by: ‘Perhaps this conversation has helped us to arrive at a solution after all. A solution which counts for us two.’ Dit is eers 'n paar dae ná afloop van hul gesprek, skryf Rabie, dat hy kon verstaan wat Abrahams met hierdie uitspraak bedoel het: The immediate imperative is living each day, a man facing other people, doing and thinking things. A man with spirit lives according to | |
[pagina 160]
| |
himself, not as a puppet of social conventions and inherited prejudices. He lives as a man, by himself. He meets other men with an eye to them as men, to their intrinsic worth, be they black or white or yellow. His law is that of culture and value and not that of colour. And in my meeting with Peter Abrahams I solved one problem as a man solves other daily problems, I showed that the colour problem can be entirely non-existent as far as two persons are concerned. In that moment my road had suddenly become simple, too. Rabie besef aan die slot van sy artikel dat hy nooit 'n fanatieke filantroop of 'n kommunis kan wees wat sy lewe in die naam van ander mense voer nie. Sy plek is saam met die mense van sy bloed: sy liefde vir wat goed is en sy woede vir wat sleg is in hulle. Wanneer hy teruggaan na Suid-Afrika, dit weet hy nou, kan hy dit doen met 'n rein gewete en die oortuiging dat 'n gekleurde man vir wie hy as sy gelyke aanvaar, ook sosiaal in sy huis en straat sy gelyke sal wees. Wanneer so 'n persoon op grond van sy velkleur beledig word, sal ook hy die belediging voel. Die insig en oortuiging waartoe Rabie dus aan die einde van sy gesprek met Abrahams kom, is die seker wete van hoe hy in die toekoms ná sy terugkeer in die veelrassige samelewing van Suid-Afrika as indiwidu sal moet leef. 'n Oplossing vir Suid-Afrika bereik hy en Abrahams nie, maar hul gesprekke is die regstreekse aanleiding tot een van Rabie se vroegste en belangrikste stukke kort prosa oor die Suid-Afrikaanse kleurprobleem. Op 16 Desember 1951 skryf hy in sy dagboek oor ‘die blindheid in die blakende son’Ga naar eind21 en hoe Suid-Afrika ‘moreel en histories histeries’Ga naar eind22 krampagtig aan sy verlede vasklou. Dit lei op 1 Januarie 1952 tot die kriptiese inskrywing: ‘Droogte: Oplaas, ongevraagd, kom 'n vorm en vra vir my land se grootste probleem. 900 woorde ... en kuns-vormgegewe.’Ga naar eind23 In 'n radio-onderhoud baie jare later sou Jan vertel hoe hy een oggend in Desember 1951 wakker geword het met 'n storie wat vir hom 'n kreet oor apartheid was: die verhaal ‘Droogte’, oor 'n wit man wat hom in sy huis toebou en sy swart handlanger buite in die brandende son laat agterbly.Ga naar eind24 Hierdie verhaal voltooi hy op Nuwejaarsdag 1952. Dat daar 'n regstreekse skakel is tussen ‘Droogte’ en die artikel oor sy gesprek met Abrahams (en ook met die brief wat hy in 1951 aan sy ouers skryf), sien 'n mens naas die gebruik van die dialoogvorm in die verwysing na die wit man se Nederlandse voorouers en die dyke wat hulle gebou het om die see uit te | |
[pagina 161]
| |
hou, hoewel die dyke self nie by die naam genoem word nie en die dreigende, maar in dié waterlose land fiktiewe, see buitendien gou tot metafoor van 'n swart bedreiging verdiep: ‘Baas,’ vra die swart man oplaas, ‘waarom het jou huis dan geen deure en vensters nie?’ ‘Droogte’, een van die kompakte ‘prosas’ wat vyf jaar later deel van Een-en-twintig sal vorm, handel op die stramien van 'n bekende swapeverhaalGa naar eind26 oor 'n wit man en 'n swart man wat in 'n barre landskap êrens in Afrika besig is om 'n huis te bou. Albei karakters in hierdie klein maar nietemin ontstellend gelade drama bly naamloos; slegs deur hulle velkleur, en later ook deur hul uiteenlopende en botsende kultuuragtergronde, word hulle van mekaar onderskei en geëtiketteer. In die uitgestrekte dorre vlakte, ‘dorstig vir [die] groen liefde’ van die reën, is hierdie twee mense nietig ‘soos twee korrels sand’, 'n nietigheid wat versterk word deur die stof wat om hulle ‘oor die bruin vloer van die aarde [loop]’. Dat hulle in hierdie onvriendelike omgewing dus behoefte aan mekaar sal hê, spreek vanself. Die dialoog wat tussen hulle ontwikkel, lig egter eerder hul verskille uit en ignoreer haas volkome die menslikheid waaraan hulle albei deelagtig is. Die wit man beklemtoon byvoorbeeld die swart man se kleur en skryf dit toe aan 'n vervloeking van sy God, terwyl hy later met skynbare trots praat oor sy voorgeslagte wat uit 'n waterryke land in wit skepe vertrek het om 'n nuwe land te bereik waar hulle die seile oor hul waens gespan het om ‘hul kampvuur-asse wyd oor [die] groot en barbaarse land [te] versprei’. Daarteenoor roep die swart man die eweneens heroïese verlede van sy voorouers in sy gedagtes op wat ‘donker oeste met hul assegaaie gemaai’ en die Ngoma-dans, die oorlogsdans, driftig ná oorwinnings uitgevoer het. Uit hul konfrontasie met die wittes sien sy mense dat albei nasies se bloed eenders rooi is. Die wit man veins dat hy graag in vrede met die swart man | |
[pagina 162]
| |
wil lewe en dat hulle moet saamwerk om die huis te bou, maar dit is 'n vrede en samewerking wat op sý terme moet geskied, want die swart man moet die bloedige verlede vergeet en 'n wit God aanvaar. As hy dit bevraagteken, word hy summier neerhalend as ‘Kaffer’ aangespreek en gereduseer tot handlanger wat al die swaar blokke steen vir die wit man met sy minder uitputtende werk moet aandra om in die muur ingemessel te word. Alleen in die versengende hitte van die woestynlandskap werk die twee mans voort: Hulle praat nie met mekaar nie. Hulle bou die vier mure en dan die dak. Die swart man werk buite in die son en die wit man binne in die skadu. Nou kan die swart man slegs die wit man se kop en skouers sien... Die ‘groen liefde’ waarna die dorstige land aan die begin uitreik, bly dus weg. In die woestyn bou die wit man die huis waarin hy besig is om hom toe te messel en neem sy liefdeloosheid toe, ten spyte van die swart man se besorgdheid oor wat die wit man besig is om aan hulle albei te doen. Terwyl die warrelwinde aan die slot in ‘die rooi-warm stof die vreeslike Ngoma van die droogte dans’, roep die swart man ‘verlate en beangs’ na die wit man: ‘Kom uit, Baas ... Kom uit na my...’ Dit is nie 'n angs wat uit hulpeloosheid voortspruit nie, maar 'n eksistensiële angs oor die verlatenheid wat hy sonder die wit man nou tegemoetgaan. Die wit man kon vir hom in hierdie ontsaglik verlate woestynland 'n medemenslikheid gebied het, vir hom 'n broer wees met wie hy saam van die huis 'n gelukkige tuiste vir hulle albei kon maak. Maar hierdie moontlikheid word vernietig deur die wit man se drang tot isolasie, om apart en afgesonderd te bestaan - 'n bestaan wat egter in die toegemesselde huis sonder enige uitgang weldra tot sy eie dood sal lei. ‘Droogte’ gee 'n onthutsende kyk op wat met die mens én 'n maatskappy kan gebeur as hy homself só isoleer en alle kontak met sy mede- | |
[pagina 163]
| |
mens wil vermy. In die Afrikaanse literatuur is dit een van die vroeë felle aanklagte teen apartheid, maar 'n aanklag wat volledig metafoor en beeld geword het. En hierdie belangrike ‘prosa’ van Rabie kom sinryk voort uit sy kennismaking met Peter Abrahams in Parys en skakel regstreeks met ‘South Africa, my problem’, die artikel waarin hy verslag doen van hulle skermutselings en gesprekke. | |
IIIn vergelyking met die dieper insig in die problematiek van sy eie land, wat hy betreklik gou ná sy aankoms in Parys ontwikkel, is Jan Rabie se groei tot volwassenheid op die gebied van die amoreuse veel langsamer. In die eerste maande van sy verblyf geniet hy dit om in die heerlike nou kronkelende straatjies van die Quartier Latin rond te stap en te merk hoe sjarmant, welgekleed en geparfumeerd die vroue, selfs die armstes, daar uitsien.Ga naar eind27 Die Folies Bergère vind hy besonder kunstig en berekend om met vroulike sjarme en met 'n spel van lig en kleur te verras, maar uiteindelik is die voorstellings vir hom ‘eerder 'n laakbare sentimentaliteit... as 'n gesonde sensualisme’.Ga naar eind28 Hy is bly om einde Mei 'n brief te ontvang van Marion Pollock, die meisie op wie hy tydens die skeepsreis na Europa verlief geraak en wat saam met hom deur Londen gestap het. Daarin stel sy 'n besoek aan Frankryk in die vooruitsig. Intussen kom die pianiste Betsie van Rooyen, sy vriendin uit Johannesburg, ook aan, maar Jan weet by voorbaat dat hy hierdie en ander besoekers net as beleefde gids deur Parys verby ‘morsdooie Venus de Milo's en Montmartreaanse hemelvervoerende tewe’Ga naar eind29 sal lei, nie as sensuele deelnemer wat hulle koms ook vir hom bied nie. Steeds draai hy sonder begeerte weg van vroue en weier hy, selfs hier in Parys waar alle moontlikhede tot blote genot vir hom bestaan, om net met sy liggaam kontak te maak of hom tot 'n ‘nagklub- of hoer-jagter’Ga naar eind30 te verlaag. Sy afsydigheid en onttrekking en die feit dat sy, volgens hom, ‘Parys nie kan beetkry nie’,Ga naar eind31 lei tot 'n breuk met Betsie.Ga naar eind32 Wanneer Marion op Sondag, 6 Junie 1948, in Parys aankom, neem hy haar deur die stad, woon hulle die oggendmis in die Notre Dame by en besoek hulle Versailles. Omdat Sheila Cussons, wat saam met hom in Stiebeuel gedebuteer en vir wie hy tydens sy Natalse reis in Pietermaritzburg ontmoet het, vir studie in Amsterdam is, besluit Jan om, vergesel van | |
[pagina 164]
| |
Marion, op 'n kort besoek na België en Nederland te gaan en ook van sy ander vriende daar te gaan groet - sy eerste reis buite Frankryk op die Europese vasteland.Ga naar eind33 Jan en Marion vertrek op 14 Junie om halfdrie die middag van die Gare du Nord en slaap dieselfde aand in Brussel, in vergelyking met Parys 'n kleurryker maar duurderige ‘stad van weelde en volop ongerantsoeneerde kos’. Ná 'n besoek aan Antwerpen reis hulle oor die grens na Nederland wat hom as plat en groen, ongelooflik netjies en ‘pophuisagtig’ tref: Huise met wye groot vensters, kleurige blindings en rooi dakke en loer-gaatjies weerskante v.d. vensters. Windmeule en fee-boomlyne op horison, gragte en fietse met hul eie rypaadjies. Die gebombardeerde Rotterdam is 'n ‘aaklige leegte’ waar die middestad moes gewees het. In Amsterdam wandel hy en Marion oor die konsentriese gragtegordel na Hennie Truter, sy Stellenbosse vriend en mededigter van Stiebeuel, wat in Achtergracht 3 naby die Amstel woon. Die pragtig uitgewerkte beplanning van die stad, die hoë spitse van die gewels en die rooi teëldakke beïndruk hom. In die Rijksmuseum word hy getref deur die ‘magiese koel helderheid’ van die Vermeers, die ‘geweldige brok lewe’ wat die Nachtwacht aanbied en Rembrandt se voorstelling van sy seun: die skrynende Titus-hoof, die ‘monnik-dromer in bruin’. Maar ten spyte hiervan is Amsterdam vir hom burgerlik. Hy mis die boulevards van Parys en hou uiteindelik net die gragte en die herinnering aan die skilderye oor. Saam besoek hulle die kaasmark op Alkmaar en stap van daar die vyf en twintig kilometer na Hoorn, maar die verhouding met Marion ontaard in ‘katterigheid’. ‘Terwyl maan aanwas in aandlug bo skewe gewels’, teken Jan aan in sy dagboek, ‘kom diep bang stilte tussen ons; 'n verwydering soos 'n sterwe.’ Op die dyk stap hulle die volgende dag suidwaarts en reis per bus na Oosthuizen en Edam. Volendam vind hy te toeristies en in Marken stap die egpare saans, met die vroue ingehaak by die mans, soos meganiese poppe, iets wat Jan laat wonder of hulle wandelinge deur die regering gesubsidieer word. Die Hollanders is oningelig oor Suid-Afrika. Een van die Volendammers beskou die land ‘as 'n jungle vol olifante en leeus en negers, herken Sarie Marais en Hawaïese kitaarklanke | |
[pagina 165]
| |
as Suid-Afrikaanse musiek’. Die meer opgevoede Nederlanders is oortuig dat alle Afrikaners Nazi's is en dat poste van £ 100 per maand wag vir elkeen wat sy skeepskaartjie na Kaapstad kan betaal. In Amsterdam bring Jan 'n besoek aan Sheila Cussons en haar man, Stoffel Nienaber, terwyl Elisabeth Eybers - saam met haar man, Albert Wessels, op besoek aan Nederland - die hele aand ‘die mooiste verhaaltjies oor haar kinders vertel’. Ook Merwe Scholtz en sy vrou, pas terug van 'n toer deur België, ontmoet hy daar. Op Dinsdag, 22 Junie, bekyk Jan en Marion op die terugreis die ruïnes in Rotterdam. Tussen die duine en dyke in Zeeland sien hy verroeste doringdraad en Duitse helms, terwyl gebombardeerde vragbote soos groteske Spaanse galjoene oopgebars langs die kus lê. Oor die grens is hy verruk met die ‘ongelooflike’ Brugge, 'n stuk ongeskonde Middeleeue: ‘Lindebome geur oor gragte, rooi en grys pandakke en ou, ou gewels.’ Dit, skryf hy in sy dagboek, is die enigste wat hy van België en Nederland sal onthou en waarheen hy eendag weer sal wil terugkeer. In hierdie stad van torings bokant donker gragte bly hulle twee dae, voordat hulle op 28 Junie in die reën na Parys terugkeer. Dieselfde aand vertrek Marion na Londen. In sy dagboek teken hy aan: Ons het ons rusie vergeet en met afskeidswoorde goedgepraat. Ons is miskien albei ewe bly om weer alleen te wees, want dit is al toestand wat ons sonder irritasie verstaan. Dit reën dae, dae, triestig, en ek het berou en koop Memlinc vir haar en skrywe briewe.Ga naar eind34 Steeds is Jan dus gelukkiger op sy eie, al het hy ook honger na ander mense en word hy gemartel deur sy behoefte aan seks.Ga naar eind35 Tog voel hy in hierdie stadium dat hy eerder indrukke van ervarings en kennisse wil versamel wat hy eendag in sy skeppende werk wil bestendig. So 'n leefwyse, om te ervaar maar terselfdertyd onbetrokke en afsydig te bly, vind hy op sy eie manier ook bevredigend. Dit bring vir die skeppende mens die nodige geluk waarsonder hy nie kan leef nie.Ga naar eind36 Heeltemal afsydig kan Jan egter nie bly nie. Hy was trouens 'n man van byna agt en twintig jaar met 'n pragtig geboude lenige liggaam, met 'n oop en in daardie stadium nog baardlose gesig en bruin oë wat, ver uit mekaar, vlammend van polsende lewe kon blink - 'n man op wie meisies alleen al deur sy fisieke skoonheid dol kon raak. Nou ontmoet Jan die eerste keer 'n | |
[pagina 166]
| |
Franse meisie wat net as Ginette in sy dagboek bekend staan en wat hom, tóé nog maagdelik,Ga naar eind37 in die vleeslike liefde inlei. Tog is hy gou moeg vir die burgerlike bestaanGa naar eind38 wat sy en haar kliek voer en voel hy dat hy hom moet vry hou van hulle ‘lou leegheid’.Ga naar eind39 Steeds, besef hy, is hy ‘spontaan [en] voortvarend’ by vroue wat nie vir hom ‘fisiek’ gevaarlik is nie en hy vra homself af of sy behoefte om alleen te wees, nie voortkom uit die invloed van sy vader wat hom seksueel onderdruk en 'n vrees vir impotensie wat hy nou as 'n fisieke gebrek begin vermoed.Ga naar eind40 Gou het hy genoeg aan Ginette se ‘warm katjie-mond’Ga naar eind41 en 'n bietjie later vind hy dit onbegryplik dat sy nie kan verstaan dat hy haar nie meer nodig het nie en dat hy van haar ‘oop bed’Ga naar eind42 wegdraai. Hy verkies om alleen langs die Seine te loop, al is die verleidings en verlokkings - selfs van homoseksuele aard - orals en altyd aanwesig. In 'n brief van 31 Januarie 1949 aan sy vriend Hugo Marais skryf hy oor sy armoedige bestaan en bieg hy oor die kortstondige seksuele avontuur wat hy beleef het: Die Seine is groen soos die oë van onbetroubare vroue, maar ook so mooi. Hier is veel meer ellende as by ons, maar ook veel meer sjarme en individualiteit. En soveel begeerlike dinge, vroue o.a., dat dit 'n ironie is om op 2/6 per dag te moet lewe. Myself van homoseksuele wolwe gered deur 'n tyd 'n arm maitressie te hê, maar gevind dat 'n man se vrede lê in 'n stil kamer tussen boeke. Al is daar talle plekke en geleenthede om met mense kennis te maak, gee Jan dus voorkeur daaraan om stil met sy boeke deur te bring of alleen deur Parys te swerwe.Ga naar eind43 Die gevolg hiervan is dat hy weinig vriende onder die Franse maak. Met van sy landgenote wat Parys besoek en vir korter of langer periodes in die stad vertoef, raak hy wel bevriend. Saam met die skilder Erik Laubscher, wat later met die Franse kunstenares Claude Bouscharain in die huwelik sou tree en 'n tyd lank in Parys werk en uitstal, stap hy saam in die strate van die Quartier Latin op soek na tabak en goedkoop wyn. Jare later kon Laubscher hom met heimwee die ‘lekker ou dae van swaarkry’Ga naar eind44 herinner; ook die baie katers en sooibrand deur te veel van 'n goeie ding. Op deurreis na 'n NUSAS-werkkamp in Switserland doen Barend J. Toerien, ook een van die Stiebeuel-digters, in 1949 Parys aan en soek hy Jan op. Saam gaan hulle na 'n straatwinkel waar Jan met groot gebare in | |
[pagina 167]
| |
'n bedrewe Frans groente koop.Ga naar eind45 Ander kunstenaars wat Jan tydens hul besoek aan Parys raakloop, is Paul du Toit, Bettie Cilliers-Barnard en Maud Sumner wat lank in Parys sal bly woon. Vir Anna Neethling-Pohl, wat met 'n hele teatergroep opdaag, tree Jan as tolk en gids op en vertaal hy haastig Marcel Aymé se komedie Lucienne et le boucher. Van al die besoekers in die eerste twee jaar van Jan se Paryse verblyf vind hy Elsa Joubert, vir wie hy in 1946 in Kaapstad leer ken het toe sy aan die redaksie van Die Huisgenoot verbonde was, die aangenaamste, 'n ‘uitstekende kameraad’.Ga naar eind46 Reeds op 1 Julie 1948 ontvang hy 'n brief van Elsa wat 'n paar dae voor hom uit die Kaapstadse hawe met 'n boot langs die ooskus van Afrika vertrek het. Sy was van plan om oor land deur Oosen Noord-Afrika en al langs die Nyl tot in Kaïro te reis en dan van daar die Middellandse See oor te steek om uiteindelik in Wes-Europa uit te kom, 'n reis waaroor sy later in Water en woestyn (1956) verslag doen. ‘Sy is gek oor Afrika en die trope’, gee Jan sy indrukke van Elsa se brief weer, ‘waar manlike hittes, dors, vlieë en sandstorms haar geskik gemaak het vir die vroulike heling van wierook en Nylbote.’Ga naar eind47 Vanaf Alexandrië is Elsa na Genua en Rome en van daar kuier-kuier op tot in Genève. In Genève los Jan, wat in daardie stadium op reis deur Switserland was, vir haar 'n briefie om hom op te soek wanneer hy terug is.Ga naar eind48 Met haar aankoms in Parys het sy aanvanklik 'n kamer aan die regteroewer. In Die verste reis (1959), die vervolg op Water en woestyn, vertel Elsa hoe 'n ou vriend, vir wie sy in die boek Dolf noem maar wat in werklikheid Jan Rabie is,Ga naar eind49 saam met haar gaan om vir haar 'n kamer aan die Quartier Latin-kant van die Seine te soek: Hy het 'n mooi manier gehad van praat met die concierges van die klein hotelletjies in die omgewing van die Luxembourg-tuin waar ons toe begin rondverneem het. Hy sou met sy lang, maer liggaam gebukkend by die glasdeur van die concierge se kamertjie ingaan en, met sy vingertoppe gedruk op die tafelblad, in 'n sagte Frans vir haar vra of sy 'n kamer beskikbaar het - as ons haar nie te veel pla nie; as die tyd nie nou ongeleë is nie.Ga naar eind50 Lank soek hulle tevergeefs, want dit was al diep in die semester in en die studente van die Sorbonne het die meeste van die kamers al geneem. Uiteindelik kry hulle toe wel vir haar 'n kamer in die Hotel Londres in die Rue Bonaparte, skuins oorkant die École des Beaux Arts. | |
[pagina 168]
| |
In die drie maande dat sy met haar eerste besoek in Parys bly, ontwikkel daar 'n hegte platoniese vriendskap tussen Elsa en Jan. Jan was, so kon sy later getuig,Ga naar eind51 soos 'n ouer boetie vir haar, sorgsaam en hulpvaardig. Dikwels besoek hulle die teater en saam verken hulle Parys. Op Sondag, 28 November 1948, stap hulle ná die oggendmis in die Notre Dame oor die eilande, dwaal by die Hôtel de Ville in en besoek die St. Gervais-kerk en die Musée Carnavalet ‘waar al die bric-en-brac [lees: “bric-a-brac” - JCK] van 'n Franse beskawing beland het’.Ga naar eind52 Hulle stap verby die Place des Vosges en gaan daarna af na die Place de la Bastille, terwyl hulle in die namiddag die Louvre besoek en Jan 'n paar van sy ‘skilderyvriende’Ga naar eind53 aan haar uitwys. Elsa was, skryf Jan later in sy artikel oor ‘Parys se Sestigers’,Ga naar eind54 ‘[s]tralend van geesdrif, en strydlustig oor enige onderwerp. Mens en Droom en Skrywe, oor alles het ons groot jongmensuitsprake gehad. Ons het strate en kaaie en aanlokkende boulevards goed leer ken. Om êrens by 'n laat oop bistro lafenis te soek. En die môrester te sien verbleek, voor jy oplaas onder jou dakpanne aan die slaap raak. Hoe helder en arrogant kan jongmense nie wees nie!’ Tydens haar besoek aan Parys maak Elsa en Jan kennis met baie van die ambassade-personeel. Saam woon hulle partytjies van die diplomate by en leer sy by een van dié geleenthede by die Palais de Chaillot een van die Indiese vroue-afgevaardigdes by die VVO ken met wie sy 'n onderhoud moes voer, 'n ontmoeting wat sy in die verhaal ‘'Beyondness' in parke’Ga naar eind55 in die bundel Melk (1980) verwerk. Terwyl hulle ná die onderhoud in die pragtige tuine rondom die paleis rondstap, vra die diplomaat aan Elsa, na aanleiding van 'n opmerking oor Suid-Afrika, wat die jong Indiërs van die land se mening daaroor is. Elsa was verplig om te erken dat sy nie weet nie, aangesien sy in haar land geen geleentheid het om jong skoolgaande Indiërs of studente te ontmoet nie. Selfs in parke, was Elsa verder verplig om haar mee te deel, is sulke ontmoetings nie moontlik nie, aangesien haar ouers nie daarvan sou hou dat sy met 'n Indiërseun op dieselfde bank sou sit en gesels nie.Ga naar eind56 ‘Rassevooroordeel’, was die Indiese diplomaat se gevolgtrekking, min wetende wat Elsa verswyg: dat bordjies ‘Net vir blankes’ die saamsit van verskillende rasse op banke in parke verbied. 'n Mens kan aanvaar dat Elsa hierdie voorval met Jan sou bespreek en dat dit sy groeiende teenkanting teen die euwel van segregasie sou versterk het. Elsa en Jan se kennismaking met die Suid-Afrikaanse ambassade-per- | |
[pagina 169]
| |
soneel lei ook tot 'n insident wat Elsa later in die verhaal ‘Palais Chaillot 1950’ in die bundel Dansmaat (1993) sou verwerk,Ga naar eind57 'n verhaal wat 'n baie goeie beeld van hulle lewe destyds in Parys gee. In ‘Palais Chaillot 1950’ toon die karakter Freij raakpunte met Jan Rabie, terwyl die donkerkopmeisie Jacqueline met Jan se Franse nooi, Ginette, ooreenkom. Hulle almal was sonder geld en sonder kos. Jacqueline het met allerlei gunsies daarin geslaag om van 'n ouer man in dieselfde gebou, wie se vrou weg was, genoeg oorskietkos te kry wat onder hulle verdeel kon word. 'n Nuwe aankomeling by die ambassade het hulle dikwels saans kom opsoek om 'n bietjie ná die stroefheid by die werk te ontspan. Elsa skryf: Ná 'n paar aande het hy agtergekom as hy wil kuier, moet hy sy bydrae bring. En toe 't ons weer kondensmelk en koffie en KWV en biltong en beskuit en wat nog nie in ons kamers gehad. Maar toe het hy ook slim geraak, of miskien was dit die lyflikheid wat in die klein, halfdonker, swak verhitte, oorbewoonde dakkamers so duidelik geheers het, wat hy nie kon weerstaan nie. Of miskien net Parys. Want hy het onbeskaamd gesê hy wil 'n meisie hê om by te slaap. En óns moet dit vir hom reël. Nie sommer 'n straatmeisie nie, 'n rêrige mei-sie.Ga naar eind58 In ruil vir dié guns, het hy beloof, sal hy hulle - in 'n tyd toe rantsoenering met bonne sommige dinge baie skaars gemaak het - van sulke luukshede soos sjokolade, Suid-Afrikaanse wyne en vrugte voorsien. Dit was voorrade wat hulle, alle morele besware teen die ruil ten spyt, nie ligtelik kon versmaai nie. Jan, wat teen dié tyd taamlik uitgekuier was by sy meisie, stel voor dat hulle haar - die Jacqueline van die verhaal - en die ‘skapie’ van die ambassade saamnooi om by die Palais Chaillot te gaan stap en daarna te gaan eet. Op 'n gegewe moment sou Jan en Elsa dan wegglip. ‘Ons vier sit om 'n ronde tafeltjie’, gaan die verhaal voort en Freij praat amper net met my, sodat ons skapie met Jacqueline moet praat. Ek praat altyd lekker met Freij, maar vanaand het ek nie veel te sê nie. | |
[pagina 170]
| |
gin draai. Dit gee 'n romantiese, byna spookagtige effek, en soos die ligte draai, word ons gesigte die een na die ander rooi en groen en geel en so 'n siekblou. Ek vind dit goor, maar Jacqueline is in die wolke. Die musiek bars los. Voordat Jacqueline sy arm kan beetkry, het Freij my aan die hand en neem my dansvloer toe. Ons dans, ons dans aanmekaar. Ons skapie en Jacqueline dans saam. 'n Paar keer op die dansvloer kyk sy Freij in die verbygaan half treurig aan, maar dan sluit sy maar haar oë en dans met haar kop teen ons skapie se bors. Hy het van sy skaamheid vergeet en trap manhaftig voort; ook nie meer langarm soos aanvanklik nie, maar met albei arms om haar; haar lyf styf teen syne gedruk. So in die verbygaan ruik hy vir my na boeresweet. Op dié wyse het die ‘skapie’ 'n meisie gevind en is Jan en Elsa van luukse voorrade voorsien, al was voedsel steeds 'n probleem vir hulle. Toe Jan by geleentheid Elsa een aand in die hande van drie Turke moes laat en haar nie tot by haar kamer kon vergesel nie, daag hy die volgende oggend met 'n vredesoffer by haar op, 'n klein geskenkie in 'n papiertjie toegewikkel. Dit was 'n klein stukkie botter - Jan, wat as tydelike inwoner van Parys daarop geregtig was, se rantsoen vir die week. Vir Elsa, wat as toeris geen aanspraak op 'n rantsoen gehad het nie, was dit die eerste botter wat sy in Parys geproe het. Maar Elsa het nie lank in Parys gebly nie. Van die koue en die mis in Desember het haar bors begin toetrek en het sy by die ambassadeur navraag gedoen of daar nie 'n vakature by een van die ander gesantskappe in 'n warmer klimaat is nie. Die volgende dag laat die ambassadeur haar weet dat Lissabon 'n vakature vir 'n tikster het; indien sy dit wil aanvaar, moet sy op 2 Januarie 1949 begin. Dit was vir Elsa 'n uitkoms. Op Donderdag, 29 Desember, neem Jan op 'n heerlike fris dag afskeid van Elsa by die Austerlitz-stasie. Haar helse swaar leerkoffer gee sy aan Jan wat dit vir £ 1 verkoop - 'n maand se voorraad aartappels en uie. Tydens die drie maande in Parys het Elsa onder die indruk gekom van hoe | |
[pagina 171]
| |
Jan met selfdissipline en toewyding hom aan sy skryfwerk wy en selfs na afloop van 'n partytjie by die ambassade huis toe gaan om nog sy paar honderd woorde, sy kwota vir die dag, te gaan skryf.Ga naar eind60 Van dié verpligting sou geen sosiale funksie of plesierige uitspattigheid hom afkry nie. Daarby het hy, ten spyte van sy basiese teruggetrokkenheid, oorgeloop van menseliefde, iets wat Elsa in oortreffende mate in die drie maande van haar verblyf ervaar het. By die afskeid gee Jan haar 'n klein Franse woordeboekie wat sy steeds in die toekoms sou gebruik. Op die stasie wil Elsa 'n kruier nader roep. In Die verste reis skryf sy: ‘Los maar die kruier uit,’ sê Dolf op die stasie. ‘Ek dra jou goed en dan neem jy die fooi om vir ons elkeen 'n wyntjie te koop.’ Die wyn het ons warm en jolig gemaak. Die trein het gefluit en dik wolke rook oor die perron geblaas. Die mense, in dik winterjasse met die krae opgeslaan, het saamgedrom, bagasie deur die vensters aangegee, vriende gegroet.Ga naar eind61 Op die stasie koop Jan 'n Spaanse grammatika op 'n ‘halte van my lewe: die seer heimwee vir alle mooi aardse dinge, vir alles wat ek ontbeer, vir alles wat ek self doodmaak om 'n streng vorm van kunsmatige skepping te vind’.Ga naar eind62 Ná haar termyn in Lissabon kom Elsa op 20 April 1949 weer uitbundig terug in Parys op pad na Genève. Kort daarna sou ook haar aanstaande man, Klaas Steytler, uit Kanada opdaag. | |
IIINog voor Elsa se eerste aankoms in Parys onderneem Jan, van middel Augustus tot eind September 1948, sy eerste reis na die Mediterreense suide, iets wat hy haas elke jaar van sy Paryse verblyf sou doen. In die eerste hiervan gaan sy roete deur Switserland, Italië en Suid-Frankryk, 'n reis wat neerslag vind in 'n aantal artikels wat hy in Die Brandwag publiseer en wat vir hom 'n broodnodige inkomstetjie in die sak bring.Ga naar eind63 Met die nagtrein vertrek hy uit Parys en in die oggend sien hy Genève en die ongelooflike helderblou water van Lac Léman en die wit spitse van die Switserse Alpe. In Genève, die stad van Calvyn, kon hy in 'n kafee die | |
[pagina 172]
| |
eerste keer ná die maande van ontbering in Parys weer witbrood, botter en melk geniet. Jan was egter begerig om Mont Blanc by Martigny, bokant die Chamonixvallei, met 15 771 voet bo seespieël die hoogste piek van Europa, te klim. Daarom bestel hy 'n gids, François. In die aand dwaal hy saam met toeriste en vakansiegangers in Chamonix rond. Die volgende oggend daag François vroeg op, vasbeslote dat hulle dadelik moet begin. Met die trem reis hulle tot by Les Houches, 3300 voet bo seespieël, en van daar met die sweefspoor tot by 6000 voet waar die eerste sneeu lê. Mont Blanc, op Franse grondgebied maar aangrensend aan Switserland en Italië, is alleen van Julie tot September bestygbaar, aangesien dit vir die res van die jaar bykans altyd deur winde en sneeustorms geteister word. Op Jan se angstige vraag of hy meen dat die son en mooi weer sal duur, was die gids se antwoord: ‘O ja, ek dink so, maar mens weet nooit nie.’Ga naar eind64 Ná 'n verdere styging met die tandratspoor is die uitsig op die Chamonixvallei pragtig en begin hulle klim tot die somerskaatsstasie by 8500 voet. Daar hoor hulle 'n donderende geluid wat die gids as 'n sneeuval in die nabyheid verklaar. Hulle klim verder en begin die yspikke gebruik, terwyl albei se asems minder raak en die koue aan die voete met elke tree toeneem. Vir Jan begin dit voel of hy op swaar stukke ys loop. Uiteindelik bereik hulle die berghut by Tête Rousse op 10500 voet waar hulle die aand oornag. Die hutwagter en sy vrou neem hulle na 'n groot kamer met houtbanke en 'n stoof in die middel. Nog 'n paar ander klimmers sou daar oornag; een van hulle was reeds op een van die dubbeldekkerbeddens op die onderste verdieping aan die slaap. ‘Eerste van alles’, skryf Jan, het ek my voete warm gevrywe, warm sokkies aangetrek en na buite gehardloop om die nag vanuit die valleidieptes te sien kom. Onder in die afgronde het klein los wolkies geswewe en die valleie van die ver laagland was vol perskleurige mis. Die illusie dat ek staan op 'n rots voor 'n opkomende see was moeilik om te ontkom; by my was die sneeu so wit en die stilte en die koue so allesoorweldigend dat 'n normale begrip van dinge moeilik was. | |
[pagina 173]
| |
Halftwee die oggend skud een van die klimmers Jan wakker met die woorde ‘Ons moet vort’. Iemand druk hom 'n sak vol warm suikerwater en 'n yspik in die hand, terwyl François die deur oophou sodat die klimmers kan verbykom. Die koue was só pynlik dat Jan se vaak oombliklik weg was. Hulle begin om in die half verborge kruin van 'n kransrif te klim, terwyl die maanlig kwyn en later net die lig van die sneeu en die sterre sigbaar is. Op 12800 voet bereik hulle 'n verdere hut waar nog klimmers vir die laaste skof na Mont Blanc op hulle wag. Eers om sesuur gaan hulle verder, maar dan, wanneer die dag breek, begin die wind te waai en die sneeu met 'n geweld te val. In die hut speel hulle met dobbelsteentjies en drink hulle tee, terwyl die storm buite voortwoed. Teen drie-uur oorreed Jan die gids om tot by die volgende hut net onder Mont Blanc se piek te gaan. Die lug was weer 'n tyd lank skoon, maar die sneeu was nou hard soos gekorste yster, met bo-op net 'n dun lagie vars droë sneeu. Vyf tot tien minute lank kon hulle die pad sien, maar toe was alles weer grys. Jan skryf: Toe François my aankyk, het ek haastig gesê: ‘Ons gaan aan, jy ken mos die pad, nie waar nie?’ | |
[pagina 174]
| |
Mismoedig begin hulle die terugtog om die hut teen halfvyf te bereik. Deur die nag het hulle saam met die ander twee klimmers gewag, maar sonder hoop dat die weer sou verbeter. Vroeg die volgende oggend begin hulle na onder klim en vroeg die middag was hulle terug in Chamonix om die klein treintjie na die grens met Switserland te neem van waar Jan sy reis kon voortsit. Vanaf Chamonix reis hy na Chillon om die beroemde kasteel aan die Lac Léman te sien waar Richard die Leeuhart tydens die kruistogte gevange gehou is, maar wat veral sy beroemdheid verwerf het deur lord Byron se gedig oor 'n ander gevangene: Francois Bonivard, simbool van die ‘Eternal Spirit of the chainless Mind’.Ga naar eind67 In die nabygeleë stadjie Clarens besoek hy die sterfhuis van Paul Kruger. Die uitsig oor die meer, wat die ou president ook daagliks moes gesien het, so skryf Jan in een van sy reisartikels, ‘is byna ondraaglik mooi, en bring herinneringe en vergelykinge met 'n ver vaderland’.Ga naar eind68 Die wingerdjies bo Vevey is regop en steil. Per trein reis hy deur 'n lieflike heuwelland na Lausanne en Bern waar hy twee uur lank vertoef om die beroemde berekuil te sien en wortels na die bere te gooi. By Interlaken is die Jungfrau toe in mis, maar die volgende dag bedaar die reën wanneer hy langs die Brienersee die ‘miniatuur-volmaaktheid’Ga naar eind69 van Switserland bewonder. Hy skryf: Sulke mere, sulke vergesigte van wit berge, dennehange, hooilandjies hoog onder die kranse ... waar vind 'n mens dit anders as in Switserland, maar waar anders ook so 'n wrewelige gevoel dat hier alles te beskaafd, te vermenslik is. Miskien is dit die gedagte van 'n ‘barbaarse’ Afrika-bewoner, maar ek kan nie help om te dink dat 'n mens nie die reg het om die natuur so te beskaaf, so te vernietig nie, veral nie as hy ponde en ponde spandeer om dit te kom sien nie. Dan kon hy maar net so goed in sy stad gebly het.Ga naar eind70 Luzern in die grys namiddaglig is vir hom 'n stad sonder son. In Zürich bly hy vier dae, vir hom 'n groot, ryk stad, ‘groot genoeg om 'n mens in te verloor en ure in rond te kan swerf’.Ga naar eind71 Deur die St. Gotthard-tonnel verlaat hy Switserland. In vergelyking met Switserland is Italië vir Jan veel slordiger, al is die Po-vallei wonderbaarlik mooi bewerk. Die katedraal van Milaan is aak- | |
[pagina 175]
| |
lig en die operagebou La Scala vieslik, hoewel goed van binne ingerig. Dit val hom op hoe swak die toestand van die treine in Italië is en hoe min motors op die paaie beweeg. Met al sy kunsskatte is Florence vir hom egter 'n geweldige stad. Die kerkies open om sesuur in die oggend vir die mis, ‘en dan stroom vroeë krom ou vroutjies in swart soos aasvoëls na 'n maal’. Hy word geïrriteer deur die klein triestige groepies toeriste wat moet luister na 'n vet Italianer wat net lief is vir die klank van sy eie stem en die onbeleefde en droë dinge wat hy oor 'n meesterwerk kan opdis. Daar is geen tyd om stil te staan voor iets wat werklik mooi is nie, 'n mens moet byhou by die gids wat jou in een môre nog na drie ander galerye wil neem. En jy word self bewus van die belaglikheid daarvan, vies en moeg, en dit ontneem jou alle begeerte om nader kennismaking met die meesterwerke te probeer. Dan sê jy in die verbygaan soos een swetende Amerikaanse dame eenmaal in die verbygaan gesê het voor 'n Botticelli wat wêreldbekend is: ‘Daardie een lyk bekend. Dit is natuurlik 'n meesterwerk.’ Voor 'n skildery soos voor 'n boek wat jy net met jou eie oë kan lees, moet jy alleen wees.Ga naar eind72 Die landskap rondom Florence met sy wingerde, sipresse en dennebome, merk hy op, is oorheersend groen, terwyl die stad self byna boomloos is, ‘'n steenblom geskape deur mensehande’. Onderweg met sy rugsak na Siëna word hy meegevoer deur die feitlik kunsmatige skoonheid van die Toskaanse landskap met sy blou lug en koninklike heuwels, wat hom aan 'n skildery laat dink. ‘Vir ons in S.A.’, skryf hy, skyn Europese landskapskilderye so maklik artifisieel - maar hier is alles waarlik beskaafd, besit [die landskap] die formele afronding en die ryk verskeidenheid van die patrone wat kuns nodig het, hier styg die ronde krone van denne teen die heuwels op asof reeds gerangskik soos engele op 'n muurskildery, het die donker lyne van die sipresse bo terrasse en die olyfboorde en boomwingerde die karakter van argitektuur en skyn 'n klooster of 'n kerktoring teen die hemel enkel 'n voltooiing v.d. toneel te wees. 'n Mens kan die Toskaanse landskap noem: 'n fantastiese eenvoud in 'n veelvoud, die essensiële en ware kuns. | |
[pagina 176]
| |
Toskane is een van die mooiste stukkies aarde wat hy nog gesien het: Ek het van die teerpad in klein gruispaadjies afgedwaal. Twee wit osse met ystermandjies voor hulle bekke het 'n ploegie getrek tussen rye wingerdstokke met pers trosse, hoog soos 'n man, gestut op stokke. Anderkant die land onder fyn silwerige populiere het vroue klere gewas by 'n steendrif. 'n Ou man met 'n sekel in sy lyfband het tydsaam in die pad afgestap gekom; gevolg deur 'n kar met groot wynkanne in gevlegte rietmandjies. Nou en dan het groot busse op die naburige grootpad suidwaarts na Rome verbygejaag. Orals was die loom, ryk stilte van die aarde. Uit 'n rokige laagte het die ryp soet stem van 'n vrou na haar kind geroep. Fietsende seuns met helder geel truie het verbygesnel... Vir Jan was dit of hy terug was in die ‘legende-wêreld’Ga naar eind74 van die Riethuiskraal van sy kinderjare: ‘In die kloof waar ek gaan slaap het, het 'n stroom en fluitjiesriete my aan die slaap gefluister.’Ga naar eind75 Omdat die trein na Venesië stampvol is, ry Jan in 'n beestrok staande met oop deure weerskante en ruwe banke in die middel. Die hele nag kon hy na die donker vlaktes tuur en, terwyl hy na die Groot Beer en ander noordelike sterrebeelde kyk, wonder waar die suidelike Orion hom op daardie oomblik bevind. In Venesië besoek hy die piazza San Marco en van die bekende toeristiese attraksies van dié betowerende stad. Hy het ook die voorreg om die fees van die ‘gondolini’ te sien, 'n kompetisie in spoed en behendigheid tussen nege ligte gondels, wat elke jaar in September op 'n onberispelike someraand plaasvind. Die skare was mal langs die oewers van die Groot Kanaal wat soos 'n slang deur die middel van die stad kronkel, en ek het self Italiaans geskreeu asof ek 'n ou inwoner is. Ligte, rumoer, sang, fees...Ga naar eind76 | |
[pagina 177]
| |
Van Jan se indrukke van Venesië keer terug in ‘Gondel-deuntjie’ wat hy later in Een-en-twintig sal opneem: In brons piazza San Marco glimlag 'n vrou teen die duiwe wat afsneeu uit die katedraal se somer-koepels. Haar plomp arms strooi saad en krummels, en roer die aardbolle wat haar grootse liggaam bedek met die see en land van Afrika, Asië en die ander vastelande gedruk op kaliko van die nuutste mode, bewyse van Demeter se ver en hooghartige reise. 'n Gehurkte fotograaf herhaal met hande en snorre die toerisgefladder van duiwevlerke afgevlei van hul hemel van rococo goud. Die warm son giet sy olie-geel glas oor die vet, swetende vrou, oor stad en lagune.Ga naar eind77 En: By die kaai wag 'n gondel met slanke skoen-kurwes wat uitnooi tot magiese loop op water. Die gondelier se leeragtige gesig word gedurig verteer deur gape onderwyl hy sy passasiers in hul karmosyn kussings inhelp. Bo sy swart broek en wit bloese is alleen sy strooihoed vrolik met linte, sprekend van die gebruiklike aanmoediging verleen aan die rite sonder keuse.Ga naar eind78 In die kunsgalery vind Jan in die glorie van lig en kleur van die Venesiese skilderskool die essensie van die stad terug: Die glinsterende en veranderende weerkaatsings van sy water en kanale, veel lig, veel son, die trots en weelde van paleise, optogte, groot seeslagte van die verlede. Miskien het 'n mens die reg om te sê dat Venesiese skilders soos Veronese, Giorgione, Tintoretto en Titiano hulle stad liewer gehad het as die skilders van enige ander stad in die wêreld.Ga naar eind79 Per trein verlaat Jan Venesië en reis suidwaarts verby verlate kaal geel heuwels en valleie lusern wat hom aan Oudtshoorn laat dink. Rome is vir hom 'n groot en oorweldigende stad, maar hy toon geen emosie by die Colosseum en die Palatynse ruïnes nie en is eers meegevoer as hy die St. Pietersplein sien. Orals is hulle besig om aan die nuwe metro te bou. Van | |
[pagina 178]
| |
Rome reis hy na Napels waar hy om vyfuur in die oggend aankom, betyds om teen sesuur 'n goue dag oor Vesuvius te sien breek. By die hawe sien hy hoe arm en vuil almal is en word hy, ten spyte van die ongelooflike komposisie en kleure, bewus van die stank. Hy neem 'n foto van kaalgat knapies met 'n draaiorrel en bemerk later dat sy pen gesteel is. In Pompeii sien hy die ou steenstrate en huise van steen en plat rooi bakstene waar klein bruin en groen klipsalmanders woon. Van Castellamare stap hy die negentien kilometer na Sorrento langs steil seekranse, 'n blou see en olyfberge, met huise geel en rooi teen terrasse. Sorrento lê hoog bo die see, met armsalige baaiplekkies aan die voet van hoë kranse. Hy slaap in 'n steil olyfterras en pluk 'n paar verlate vytjies vir sy aandete. Die volgende dag besoek hy die Grotta Azzurra, voordat hy terugreis na Sorrento. In sy dagboek gee hy sy indrukke telegramsgewys weer: [Die blou grot is soos] staar in 'n geheimenis wat nie geweet mag word nie. Klein vissies drywe diep skaduwees. Skielik bang en klou aan ketting op rots. Stap langs kransrand. Skurwe steenwêreld v. klipmure en turksvye en na 'n myl 'n wit huis langs olyfboordjie. Nou en dan vreemde groot grys klipruïnes asof hier voorheen 'n ras v. prinse gewoon het. Baie Italiaanse stede gebombardeer. Klere is swak kwaliteit maar smaakvol. Net die mans se pajama-hemde en dasse en sokkies met parallel pou-strepe skreeu bietjie... Van Sorrento neem Jan deur vrugbare hange die bus tot Positano waar hy agter die klein kerkie slaap. Die volgende dag ontmoet hy in Amalfi 'n Italiaanse meisie met die naam Maria wat graag met 'n Amerikaner wil trou. Sy kla hulle regering is dom en dat daar nie plek of werk vir mense is nie, behalwe in toeristehotelle. Die regering is egter bereid om 'n meisie te betaal as sy baie babas het en sy ondervra Jan as moontlike kandidaat om dié babas vir haar te besorg. Met die mees ongelooflike kleure op die see reis hy na Salerno waar hy die ou Griekse sentrum besigtig en weer bewus word van die ontsettende armoede daaragter, in so 'n mate dat hy skaam word en sy oudste en vuilste klere aantrek. Die kerke is ruim, maar soms oorvloedig verguld met klein madonnas en blomme wat ook by die skryne op die hoeke van kruispaaie voorkom. Hy vaar oor na Sisilië en besoek Messina en Catania waar die vlieë, klewerige hitte en stank 'n nog armoediger indruk ten spyte van die Sisiliaanse vriendelikheid laat. Hy | |
[pagina 179]
| |
merk op dat die Sisiliane se gelaatskleur donkerder as dié van die vastelandse Italianers is, waarskynlik as gevolg van die Moorse bloed. Verby met turksvy bedekte berge en langs soutindustrieë en bar bruin koringvlaktes reis hy na Sirakuse waar die kinders ringe deur die ore dra en die Italianers soos ‘lawastrome’ op hom afkom. Wat hom tref, is die werklik mooi Italiaanse oë, die ‘swetende vriendelikheid’ en die hartverskeurende sang. In Sirakuse laat 'n vrou haar baba voor 'n klomp mans aan haar bors drink, en hy vra homself af hoekom selfs die beskaafdste mans in Italië so baie spoeg. Met sy groot lemoenboorde, graanlande, rissies en sonneblomme is die Sisiliaanse landskap tog vir hom indrukwekkend en Taormina is 'n steil, mooi stad. In die maanskyn slaap hy buite by die magtige ruïnes, die see ver onder met ‘kralestringe ligte’. Hy ontwaak eers as 'n meisie paddastoele ná die reën kom soek. Hy was hom by die Piazza-fontein en koop 'n warm, vars witbrood. Hy reis verder na Messina met sy skurwe bergies, waar die Italianers op die moderne stasie in hul trots vergeet het om 'n aankondigingsbord aan te bring, sodat geen mens, selfs beamptes, weet wanneer die treine vertrek nie, en elke trein die reg het om drie, vier uur te wag of laat te wees. Terug op die vasteland moet hy stry om sy plek op die trein te behou, want 'n hele familie wil die kompartement inneem. Die hele trein, die hele lewe in Italië, so wil dit vir hom voorkom, bestaan vir die gerief van vroue met hul babas. Deur die aanwesigheid van die babas beleef hy 'n slapelose nag. Om homself wakker te hou, sing hy al die Afrikaanse liedjies wat hy kan onthou, of eet hy brood en kaas en spoel dit af met water. Van Salerno reis hy na Napels en op Donderdag, 23 September 1948, kom hy aan in Genua. Van daar reis hy na die Franse Riviera vir vlugtige besoeke aan Nice, Antibes en Marseille met sy kaal, wit kalkgrond. Per trein oor die Rhône-delta en deur Lyon keer hy terug na Parys. | |
IVOp 2 November 1948 maak Jan die eerste keer kripties in sy Paryse dagboek melding van ‘'n Skotse skilderessie’ wat hy dié dag ontmoet het by vriende - waarskynlik die Skotse skilder Bill Henry en sy Hongaarse vriendin, Magda, wat hy telkens in sy Paryse dagboek vermeld.Ga naar eind80 Dat hierdie ‘skilderessie’ Jan dadelik met haar intellektuele ratsheid beïndruk het, | |
[pagina 180]
| |
lei 'n mens af uit die inskrywing dat sy ‘in 'n koelbloedige debat met ['n] cinematograaf’Ga naar eind81 betrokke was. Hierdie ‘Skotse skilderessie’ was Marjorie Braidwood Wallace, op 24 September 1925 in Edinburg, die hoofstad van Skotland, gebore. Sy was 'n regstreekse afstammeling van die sestiende-eeuse Skotse kerkhervormer John Knox (tussen 1513 en 1516-1572) wat bekend was vir sy vurige strydvaardigheid, onbuigsaamheid en onverskrokkenheid - eienskappe wat saam met sy verstandelike begaafdheid later in sy nasaat terug te vind is.Ga naar eind82 Marjorie word groot in 'n familie wat, behalwe vir haar vader, deur die volledige afwesigheid van mans feitlik 'n matriargie gevorm het.Ga naar eind83 Haar moeder was die dogter van 'n weduwee wie se man ses maande ná die geboorte van sy derde dogter oorlede is. Om aan die lewe te bly en haar kinders goed te versorg, het die weduwee, bekend vir haar sorgsaamheid en amper-heiligheid, 'n losieshuis gekoop en loseerders, meestal Duitse vissers, ingeneem. Met die geld uit die losieshuis kon sy daarin slaag om haar drie dogters 'n goeie opleiding te gee. Twee het onderwyseresse geword, terwyl Marjorie se moeder vir verdere studie universiteit toe is. Anders was dit gesteld met die ander ouma wat van vroeg af as 'n ware karakter bekend was. Marjorie se vader was vier jaar oud toe sy vader sterf. Terug van die begrafnis het die weduwee die arme seuntjie op die Bybel laat sweer dat hy, aangesien hy nou die enigste man in haar lewe is, haar nooit sal verlaat nie. Op die dag van Marjorie se ouers se troue staan Granny - soos sy deur haar kleinkinders genoem is - in die kerk op toe die predikant vra of daar enige besware teen die huwelik is. ‘Yes’, sê sy, ‘he swore never to leave me.’ Terwyl die predikant dié belaglike beswaar ignoreer en voortgaan met die voltrekking van die huwelik, hef sy haar hande teatraal op en vervloek die bruidspaar tot in die derde geslag. By Marjorie se geboorte het Granny, altyd in swart geklee, aanvanklik geen belangstelling getoon nie. Sy was egter op haar perdjie toe haar skoonseun haar bel met die mededeling: ‘O, the baby is borrn, but it is only a girrl.’ Granny was smoorkwaad: ‘You say to me, the mother of three daughters: 'Only a girrl!' 'Only a girrl!' And you came and beg me for one of them!’ Op 'n dag, toe Marjorie al byna 'n jaar oud was, het Granny laat weet dat sy die volgende dag op besoek sou kom. ‘I'll come and inspect your child’, was haar woorde. Haar moeder, so kon Marjorie jare later | |
[pagina 181]
| |
onthou, het altyd diarree gehad as Granny kom kuier. Haar vader, wat as 'n suksesvolle prokureur in Edinburg gepraktiseer het, kon darem uiteindelik sy seun kry. Toe Marjorie se broer vyf jaar ná haar geboorte opdaag, was haar vader soos 'n hond met twee sterte. Hierdie broer het later, soos sy vader, in die regsberoep gestaan, eers as advokaat by die balie in Londen en later as regter. Hy het ook 'n prominente rol in die Skotse politiek gespeel. Toe Marjorie twee jaar oud was, het die familie begin agterkom sy val altyd as sy probeer loop. Dit is gediagnoseer as 'n dubbele diskusontwrigting en sy is twee jaar lank in gips geplaas. In 'n latere stadium het die ortopedis ontdek sy het geen potjies nie en is sy, ná 'n reeks operasies om 'n soort ‘rak’ vir haar heupe te bou, telkens weer in gips geplaas. Om haar in die bed besig te hou, het haar twee onderwystantes haar reeds op die ouderdom van twee en 'n half jaar leer lees. Op ouderdom drie kon dié slim kind reeds vlot en sonder die hulp van die tantes lees. Omring deur grootmense as geselskap het sy gou tot 'n vroegwyse kind met 'n wye algemene kennis ontwikkel - mondig en grys vir haar jare. Met die gips af kon sy begin skoolgaan, maar telkens is haar skoolloopbaan onderbreek deur verdere operasies. Toe die chirurg haar op negejarige ouderdom weer wou opereer, maar onseker was of die prosedure sou slaag, was sy kontant genoeg om te sê dat sy nou besig is om wiskunde, Frans en Latyn onder die knie te kry, vakke wat sy nie sonder hulp sal kan baasraak nie. Indien sy uit die skool sou wegbly, sou sy baie mis. Ten spyte van die chirurg se waarskuwing dat sy later in haar lewe - soos inderdaad die geval was - probleme sou ondervind, het sy bly skoolgaan en is die verdere operasies nooit gedoen nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog en die Duitse bombardemente is kinders in Brittanje om veiligheidsoorwegings uit die stede na die platteland gestuur. Marjorie het tydens die oorlog drie jaar lank in Grantown ten noorde van Edinburg in die Skotse Hooglande skoolgegaan. Haar gebrek het haar nie verhinder om in die winter haas elke dag op die sneeu te skaats nie. Ná die voltooiing van haar skoolloopbaan wou haar vader graag hê sy moet in die regte studeer en later by hom in die prokureurspraktyk kom werk. Aangesien sy egter Latyn nie op die hoër graad - 'n vereiste vir die regskursus - gehad het nie, is sy aanbeveel om 'n spesiale spoedkursus te volg en die eksamen drie maande later te skryf. Omdat haar hart nie in die vak of in die vooruitsig van 'n loopbaan in die regte was nie, kom sy | |
[pagina 182]
| |
egter nie deur nie. Toe hulle laat ondersoek instel wat dan in die eksamen fout gegaan het, blyk dit dat daar 'n berekeningsfout was en dat sy wel op die nippertjie deur was, maar dat die regsfakulteit net 'n sekere getal studente per jaar toelaat. ‘All you do’, was die advies aan haar, ‘is to reset Latin again.’ Daarvoor was Marjorie nie te vinde nie. ‘No’, was haar besliste antwoord aan haar vader. Op skool was haar groot belangstelling in skilder en skryf, en die aanvanklike uitslag van die Latyn-eksamen was vir haar 'n teken dat sy haar eie kop moet volg en kuns moet gaan studeer. Dat sy by dié keuse - in 'n stadium voordat daar sprake was van kursusse in ‘creative writing’ - voorkeur gegee het aan die skilderkuns bo die skryfkuns, was in ooreenstemming met haar standpunt in dié jare dat jy êrens moet heengaan om te leer skilder, nie om te skryf nie. Vir skryf kan jy op jou eie baie lees en jou kennis van die literatuur verruim, maar vir al die vaardighede wat vir skilder vereis word, het jy opleiding nodig. Op 'n oggend merk haar vader op, steeds onder die indruk dat sy Latyn gaan oorskryf en 'n kursus in die regte gaan volg: ‘But you are early these days.’ ‘Yes’, was Marjorie se antwoord, ‘I have to be at the Arts School by nine o'clock.’ ‘The Arts School?’, was sy verbaasde vraag. ‘Who is paying for it?’ ‘The first day when they came around to collect our fees, I didn't have any money’, was haar reaksie. ‘So one of the others paid the £ 16 for me.’ ‘A stranger paid for you?’ was haar vader, 'n konserwatiewe, aristokratiese Skot, se verdere verbaasde vraag. Hy het dadelik 'n tjek vir die £ 16 uitgeskryf en Marjorie het voortgegaan met haar kunsstudie. Elke oggend op pad na die kunsskool moes sy verby 'n standbeeld van 'n pragtige jongman loop. Só mooi was dié man vir haar dat sy later skoon op die beeld verlief was. In September 1945, tóé in haar finale jaar, het die hoof van die afdeling al sy studente 'n maand lank na Parys geneem om die kunsmuseums te besoek. Aan die einde van haar studie verwerf sy 'n reisbeurs van £ 250 wat haar in staat gestel het om die hele duur van die akademiese jaar 1946-1947 deur Italië en Spanje te reis saam met 'n goeie vriend wat, tot haar ouers se ontsteltenis, getroud was. Sy het besluit om die geld so ver as moontlik te rek. Ná 'n besoek aan Rome, Florence en Venesië saam met die vriend is sy na Madrid waar sy 'n huis met ses kunstenaars gedeel het, almal net so platsak soos sy. Saam met hulle in die huis was 'n sewende, 'n swaksinnige, wat elke dag uitgegaan het om kunshare te verkoop en in die aande, terwyl die ander met sy verdienste inkopies vir die aandete | |
[pagina 183]
| |
doen, jazzplate gespeel het op 'n grammofoon wat so stukkend was dat hy die plate met sy vinger moes draai.Ga naar eind84 Elke dag kon sy darem die Prado besoek, na die meesterwerke van El Greco en ander kunstenaars kyk en tuis self skilder. Omdat sy net £ 100 vir die reis gebruik het en daar nog £ 150 van die beursgeld oor was, besluit Marjorie om nie terug te gaan Skotland toe nie, maar in Parys te gaan woon en werk. Onderweg na Parys verloor sy in Avignon haar beursie met al haar geld en reistjeks. Toevallig het 'n begrafnisondernemer dit opgetel en aan die Britse konsulaat in Parys gepos. Drie jaar later, op besoek aan die konsulaat, het een van die beamptes byna op sy rug geval. Hulle het haar dood gewaan en hy moes haar beursie gaan soek in 'n laai met die etiket ‘Eiendom van Afgestorwenes’!Ga naar eind85 In Parys kon Marjorie voortgaan met skilder, allerlei los werkies vir 'n inkomste verrig en dikwels by vriende in die Quartier Latin gaan rondkuier. Op Dinsdag, 2 November 1948, moes sy in 'n Franse radioprogram 'n praatjie oor Skotse skilders in Parys lewer. Ná afloop van die opname vra Bill Henry, die Skotse skilder uit Glasgow wat ook in die program opgetree het, haar om 'n koppie koffie in sy woonstel in die Rue Monsieur-le-Prince te kom drink, nie ver van die Rue Servandoni naby die Luxembourgtuin waar Jan Rabie toe 'n kamer gehad het nie. In die klein woonstelletjie was daar naas Bill se Hongaarse meisie, Magda, ook mense van ander nasionaliteite - Pole, Russe, Italianers en Jode - saamgedrom. Met haar aankoms merk Marjorie onder die gaste 'n vreeslike mooi bruingebrande man met 'n breë gesig en baie donker oë in 'n kortbroek op. Hy lyk op 'n haar na die standbeeld in Edinburg waarop sy tydens haar studiejare verlief was. Die man het voor haar op die grond kom sit. ‘My name is Jan Rabie. I am a South African’, sê hy aan haar. Dit het vir haar nie veel beteken nie, want die Hongare en Russe en Pole in haar vriendekring was veel meer eksoties. Toe voeg hy egter by: ‘But I'm not an ordinary South African. I'm an Afrikaner.’ Dit het haar beïndruk, want in daardie stadium het sy van die bestaan van 'n Afrikaner en van Afrikaans as taal niks geweet nie. Toe sy baie jare laterGa naar eind86 aan hierdie ontmoeting terugdink, het dié eerste woorde vir haar terselfdertyd die essensie van Jan beliggaam: sy Afrikanerskap en sy verbondenheid aan sy taal. Toe Marjorie van Bill-hulle se woonstel vertrek om onderweg na haar kamer nog by Griekse vriende van haar aan te gaan, loop Jan saam, maar dan sien sy hom eers weer drie en 'n half maande later. Liefde met die | |
[pagina 184]
| |
eerste oogopslag was sy ontmoeting met haar dus beslis nie, want daar was steeds baie barste in Jan se wil. Hy moes eers sy afkeer van vroue, sy seksuele puerilisme en by tye ook sy impotensie oorkom, voordat hy tot 'n werklik diepgaande verhouding met 'n vrou kon groei. Wanneer hy haar op 21 Februarie 1949 weer in haar ateljee opsoek, is dit met die baie besoekers 'n gelag sonder eindeGa naar eind87 en 'n vrolikheid wat selfs op die teruggetrokke indiwidualistiese Jan aansteeklik inwerk - 'n aanduiding dat Marjorie met haar lewensblyheid en ekstroverte persoonlikheid weldra as 'n sosiale anker in sy lewe sou dien. Om vyfuur gaan stap hulle uitgelate rond by Les Halles en val Marjorie op die terugtog op Bill Henry se bed aan die slaap. Dieselfde middag is Jan weer by Marjorie en gaan sy saam met hom vir ete na sy kamer. Hulle gaan terug na haar ateljee. ‘Sy eis’, teken Jan in sy dagboek aan, dat ek my nakend en bruin promeneer en vuur stook deur maer te lyk. Om by effens mank vrou te slaap is sensueelwekkend. Tog is ons nie bekommerd daaroor nie. Slaap onskuldig saam (haar liggaam is mooi) en sy vertel my ek is oud en jonk. Te moeg vir liefde, gesels ure by lig en ontwaak eers toe albei se horlosies staan en ons kwaad is oor 'n mens dae laas gewerk het. Ete tussen kwaste en skilderye. Sy kwaad oor ek nie blou oë het nie.Ga naar eind88 In die dae daarop sien hulle veel van mekaar en teken Jan selfs in sy dagboek aan dat hy ‘'n bietjie’Ga naar eind89 van haar hou. Soms gaan hulle op 'n dooltog deur Parys, gaan sit in die kafees van Montparnasse en stap dan na die Flore en ander kafees by St. Germain des Prés waar hulle ‘swerms bekendes, kunstenaars, perverte, loafers [en] toeriste’ ontmoet.Ga naar eind90 En by geleentheid kan hy in sy dagboek skryf: ‘Haar ooghare teer en skemerig soos waterval-varings’,Ga naar eind91 'n vergelyking wat hom reeds in sy kinderjare opgeval het as die waterval op Riethuiskraal soos ‘nat vrouehaar’ na benede hang of as die digte varings wat langsaan groei, hom aan ‘groen meisiehare mos’ laat dink - beelde wat in sy werk voorkom.Ga naar eind92 Voordat Jan in haar lewe verskyn het, was Marjorie tydens haar omswerwinge in Spanje en Italië in en uit verhoudings. In Parys het sy saamgewoon met George Maranz, 'n Russiese skilder uit Kiëf, veel ouer as sy, aan wie sy nie-amptelik verloof was. Maar Jan, met sy pragtige liggaamsbou en sy donker geheimsinnigheid, het haar voete onder haar uitgeslaan. Dik- | |
[pagina 185]
| |
wels het hy net 'n paar minute lank by haar kom gesels en dan met die woorde ‘I'm going now’ weer vertrek. Wanneer sy nie tuis was nie, het hy soms 'n stukkie toiletpapier onder die deur deurgestoot as teken dat hy daar was. Vir haar was daar iets van 'n wilde dier in Jan wat fassinerend op haar ingewerk het, iets van Rainer Maria Rilke se ‘Der Panther’: Der weiche Gang geschmeidig starker Schritte,
der sich im allerkleinste Kreise dreht,
ist wie ein Tanz von Kraft um eine Mitte,
in der betäubt ein großer Wille steht.Ga naar eind93
'n Groot deurbraak vir haar was toe sy Jan op 'n koue dag met 'n koppie kakao kon mak maak en teen haar kon laat aanvly. By geleentheid sê sy vir hom dat vroue oor hom voel soos teenoor 'n eekhoring waarna hulle broodkrummels uithou in die hoop dat hulle hom sal tem.Ga naar eind94 Tog was hy gesteld daarop om sy indiwidualiteit te handhaaf en nie deur haar ‘besit’Ga naar eind95 te word nie. Soms kon hy sy weersin in haar nie wegsteek nie. In sy dagboek teken hy aan dat sy vormloos en chaoties leef, ydel en met lui gewoontes; sy hou ‘van mans soos warm honde teen haar, as dom moedersoekende kalwers’ en besit ‘geen seks-begeerte’Ga naar eind96 nie. Moet 'n mens uit so 'n inskrywing aflei dat daar by Jan en Marjorie van 'n konvensionele seksuele verhouding geen sprake was nie? Was die hele verhouding iets van 'n fantastiese pantomime? Uit ander inskrywings en uit briewe merk 'n mens egter tog weer duidelik die toegeneentheid van Jan tot haar. Wanneer sy vir Kersfees by haar mense in Skotland is, laat hy haar weet hoe hy haar mis. ‘I think of you at odd moments’, skryf hy, ‘with pleasure (not at your absence). And of course wishing to be much nicer to you next time.’ En wanneer hy haar later in hulle verhouding liefdeloos wegstuur na 'n ander man en sy in die metro van hom af wegstap, is hy feitlik dadelik spyt en loop hy soos 'n siek hond rond dat hy so 'n ‘skat’ soos sy kon ‘versmyt’.Ga naar eind97 Betreklik gou ná hul ontmoeting het Marjorie egter geweet dat sy, ten spyte van Jan se huiwering en wisseling en hul by tye stormagtige verhouding, hom tog wil hê. Vir George, saam met wie sy steeds gewoon en wat altyd van mans as ‘puppies’ gepraat het, sê Marjorie op 'n dag sy dink ‘the South African puppy is interesting me’. Dit sal nie reg wees as hulle langer saamwoon nie; sy wil liefs 'n eie plek huur. Sy kry toe 'n ateljee en | |
[pagina 186]
| |
apartement in die Rue de la Tombe Issoire, vlakby die St. Jacques-metrohalte en 'n klipgooi van die Boulevard Montparnasse met die standbeeld van Balzac op die hoek. Montparnasse was aan die begin van die twintigste eeu by uitstek dié buurt van Parys waar skilders, skrywers en politieke vlugtelinge hulle gevestig het. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was dit een van die skuilplekke van die Russiese politieke aktivis Nikolaj Lenin. Dikwels het Lenin - 'n aangename mens maar 'n bietjie ernstig, soos een van die kruideniers van die buurt hom onthou - in 'n kafee op Montparnasse gesit en witwyn drink. Dan het hy opgestap na 'n minuskule pleintjie 'n klipgooi van die Rue de la Tombe Issoire en gebruik gemaak van 'n openbare urinaal wat later as la pissotière de Lénine bekend sou staan.Ga naar eind98 Ná die Eerste Wêreldoorlog het kunstenaars uit alle uithoeke van die wêreld na Montparnasse gestroom. Skrywers het daar byeengekom om Parys se belangrikste literêre sport te beoefen: om die wêreld van 'n tafelblad in 'n kafee oor 'n koppie koffie of 'n glasie wyn te betrag en oor die probleme van die mensdom te besin. Die eksponente van die Amerikaanse ‘Lost Generation’ - uitgewekenes soos Ernest Hemingway, Gertrude Stein, F. Scott Fitzgerald, John Dos Passos en Theodore Dreiser - het die vrysinnige atmosfeer geniet. Daagliks het die Amerikaanse ‘bannelinge’ saam met Franse vriende die kafees en boulevards van Montparnasse bevolkGa naar eind99 en dikwels het Hemingway ontbyt gaan eet in die Dôme - die kafee op die Boulevard Montparnasse wat hy sy tweede tuiste gemaak het.Ga naar eind100 Die Sélect vlakby, die eerste Paryse kafee wat heelnag oop was, het sy deure in 1925 geopen en was gou die uithangplek van Henry Miller. Die Rotonde was die bymekaarkomplek vir Picasso, André Derain, Maurice Vlaminck, Modigliani en Max Jacob. By dié kafees het Marjorie en Jan ook dikwels gaan sit en baie interessante mense daar ontmoet. Aanvanklik het Jan sy kamer in die Rue Servandoni en later in die Avenue Parmentier behou om alleen te skryf, maar geleidelik het hulle begin saamwoon, al was die verhouding steeds stormagtig en het hy telkens geveg teen die verbintenis met Marjorie en soms weke lank van haar weggebly. Soms is sy in trane as sy vermoed dat hy nie meer van haar hou nie;Ga naar eind101 op 'n keer is hy so wreed om haar dit regstreeks toe te snou. Maar haar vroulikheid, intelligensie, wye vriendekring en geselligheid het hom telkens laat terugkeer. Hy ontwikkel tot 'n kranige skrynwerker as hy Marjorie se ateljee inrig, 'n muurkassie inbou en rame vir haar skilderye maak - alles aktiwiteite wat in die skets ‘Bou’ in Dakkamer en agterplaas figureer.Ga naar eind102 | |
[pagina 187]
| |
Om aan die lewe te bly, moes Marjorie soos Jan allerlei los werkies doen - afwisselend tikwerk, koerante verkoop, boeke illustreer en Engels vir Franssprekendes doseer - al kry sy ook die geleentheid om heelwat te skilder en van tyd tot tyd saam met ander kunstenaars uit te stal. Reeds in Parys begin sy om in haar skilderye iets van haar en Jan se lewe saam vas te vang. Jan se dakkamer op die sewende verdieping in die Avenue Parmentier, haar ateljee in die Rue de la Tombe Issoire en hulle vriende vind neerslag in haar werk. Maar hulle moes eet en drink. Om verder te oorleef, gaan poseer sy en Jan dikwels vir die fotograaf Silvio Rey,Ga naar eind103 wat 'n nudistetydskriffie bedryf het. Marjorie moes rooi lipstiffie aan haar tepels smeer, met die skaamhare net skrams sigbaar. Dikwels moes sy en Jan saam met die span fotograwe met die metro uitry om aksiefoto's in die oop veld te laat neem. By geleentheid moes sy met 'n kruisboog na die naakte Jan, met net 'n pluiskeil op, se penis mik. Omdat Jan as gevolg van die herhaalde verstellings en die rondskuiwende kameras nie 'n ereksie kon presteer nie, is sy penis met onsigbare drade aan die pluiskeil vasgemaak. ‘Dit het Jan vreeslik gehinder’, het Marjorie jare later aan die skrywer M.C. Botha gesê, ‘dat ek daar staan met my rooi tette, maar die foto was 'n groot sukses. I looked slightly like an Indian, I don't know why.’Ga naar eind104 Dit was in 'n tyd dat Jan bitter min geld gehad het en 'n maand lank amper net moes leef van koolblare en ander groentes wat hy by Les Halles gaan optel het en waar hy sop van kon kook. Toe hy ná 'n maand se koolblare weer by Silvio Rey en sy span kom, sê hulle Jan is nou te maer; hulle kan hom nie meer gebruik nie!Ga naar eind105 | |
VTen spyte van die min geld besluit Jan en Marjorie om in die somer van 1949 na die suide van Europa te reis. Vir die noordelike volkere van Europa, so het hy gou ná sy aankoms in Parys agtergekom, is die suide met sy sonskyn iets van 'n utopiese droom waarvan hulle van tyd tot tyd deel wou word. Waarskynlik het die feit dat Jan ook van 'n soort suide met son kom, Marjorie in hom laat belangstel. Jan verkoop sy tikmasjien vir 21 000 frank en op Dinsdag, 12 Julie 1949, verlaat hulle Parys met swaar gepakte rugsakke.Ga naar eind106 Die reis gaan via Avignon, St. Paul de Vence en Nice na Venesië, Torcello, Ravenna, San Marino en die Abruzzi-vallei waar hulle Vin- | |
[pagina 188]
| |
cenzo Petrella ontmoet, die Italiaanse kleinboer wat Uys Krige ná sy ontsnapping uit 'n krygsgevangekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog onderdak gebied en gehelp het om oor die berge by die Geallieerde magte in die suide uit te kom - 'n ervaring waaroor Krige in The way out (later in Afrikaans as Môrester oor die Abruzzi) skryf. By Vincenzo oornag hulle en vind die arm Italiaanse boere die gasvryste en hulpvaardigste mense wat hulle al ooit teëgekom het, met 'n onuitputlikheid in hulle gees, ‘iets so natuurlik soos die wrang-soet wyn wat hulle steenlandjies al eeue lank oplewer’.Ga naar eind107 Vincenzo wys hulle die wynvat waar Uys en sy twee maters 'n ruk lank weggesteek was. ‘Il Capitano was tog te lief vir tee’, sê Vincenzo se vrou, ‘ek moes baie tee maak.’ Die Petrellas vertel hulle met aangedane onthouglimlaggies dat van al die krygsgevangenes wat deur die mense in die Sulmona-vallei met lewensgevaar versteek en vol terugkombeloftes daar weg is, net Uys regtig in 'n groot swart motor vol presente, kos en klere weer sy verskyning gemaak het. Hy het hulle albei, wat nog nooit ver van hul dorpie af was nie, na die groot stad Rome geneem om hulle al die wondere te wys en hulle te laat sien ‘waar die Pous woon’. Die enigste versiering op die wit mure van Vincenzo se kombuis is 'n kruis en 'n groot foto van Il Capitano met 'n borselsnor en, plat op die rak tussenin, die eksemplaar van The way out, wat Uys aan Vincenzo opgedra het maar wat hy, aangesien hy geen Engels ken nie, nie kan lees nie. Ná die aandete met lekker wyn en spaghetti word die boek plegtig op die tafel langs die lamp geplaas en luister almal, plegtig soos 'n familie by huisgodsiens, terwyl Jan in sy sukkel-Italiaaans vertaal.Ga naar eind108 Jan skryf: Die boek lê voor ons op die tafel. Ek blaai dit oop, stadig en onseker. In hierdie boek staan dinge geskrywe oor die man wat oorkant my sit en my aanstaar met sy oë wat stil en byna nederig lyk. Hy self kan die boek nie lees nie. Ek voel soos 'n hoëpriester wat die mag besit om intieme waarhede oor Vincenzo te openbaar. Maar met eerbied. Sy oë is stil en vraend. Die lamplig val op die oop boek in my hande, op Vincenzo se stewige arbeidershoof, op die vrou en die fluisterende kinders agter by die stoof waar 'n tros rooi uie van die dak af hang. | |
[pagina 189]
| |
sy gretig luisterende houding. Dan hou ek op met 'n verskonende laggie. ‘Dis moeilik om dit uit die vuis uit te doen...’Ga naar eind109 Op 28 Augustus kom hulle in Spoleto aan. Jan sou later graag sê dat sy verhouding met Marjorie, wat erg wankelrig begin het, uiteindelik deur 'n katastrofe verseël is. Al hulle besittings en geld word in Spoleto gesteel en noodgedwonge moes hulle nou by mekaar bly en mekaar help. Hoewel hulle later nog steeds rammelinge in hulle verhouding sou ervaar, was hierdie katastrofe die basis waarop hulle kon voortgaan. In 'n radiopraatjie wat hy op 7 Maart 1990 hou, vertel hy van hierdie nagmerrie-ondervinding. Hy skryf: Mensdom, wat 'n hou op die maag was dit nie toe ons donkeraand terugkom by ons kampplekkie net buite die dorp, en sien dat alles weg is. Die dief het net 'n blikbord en 'n halfbotteltjie asyn vir ons gelaat. Drie dae lank het ons die plaaslike polisie lastig geval en dieselfde vorms oor en oor ingevul, omdat die kommandant gesê het: Vreemdelinge armer, Italianers ryker, va bene. Êrens op 'n markplein het ek 'n ou goiingsak gebedel om ons orige goedjies in te dra. Met Marjorie se bietjie geld in haar handsak het ons 'n kombers, twee plastiekbekers en 'n tandeborsel gekoop, en toe noordwaarts terug begin loop. Dit het ons 'n maand gevat om terug in Parys te kan kom, oor een van die ysige bergpasse van die Alpe. Snags het ons in hooimiedens geslaap, en hier en daar het Italiaanse boere hulle oor ons ontferm en ons melk en brood gegee. Gratis. | |
[pagina 190]
| |
te probeer word. Met elke minuut het die nag kouer geword. Vyf minute, tien minute lank het ek bly lê en dan opgespring en die naaste boom tot bo geklim net om warmer te probeer kry. Die nag was ontsettend lank. Voordag sit ek toe af stasie toe om haar daar te gaan soek. Sy het ook 'n bank gekry, omring deur bergies wat haar beskerm het en gewaarsku het dat die polisie na vieruur kom opruim. Ek had die goiingsak met 'n kastrol, twee blikborde, twee plastiekbekers en 'n bottel olyfolie daarin, en sy die kombers. Tot oormaat van ramp raak Jan kort ná sy terugkeer uit Italië op 'n aand teen middernag met die Franse polisie deurmekaar. Hy het net moegmoeg geloop en droom oor 'n lekker bed toe die vangwa langs hom stilhou. Die polisie vra sy naam en waar hy bly. Toe Jan, só kort na sy terugkeer, stamel dat hy eers oor 'n dag of twee weer 'n wettige adres sou hê, grynslag hulle net en laat hom inklim. In die vangwa was reeds 'n hele | |
[pagina 191]
| |
paar dames van die nag, wat ook nie bevredigende antwoorde oor hulle verblyf of bedryf kon verskaf nie, almal besig om hul onskuld te verklaar. Terwyl hulle ry, probeer Jan die klappende deur van die vangwa toetrek, maar die polisieman agter by hulle spring op sy rug en roep triomfantelik uit: ‘Jy wil ontsnap, nè!’ In die aanklagkantoor probeer Jan sy onskuld tevergeefs aan 'n hoë offisier agter die toonbank verduidelik deur te sê dat hy net probeer het om die deur toe te maak, maar die feit dat hy sonder 'n adres in Parys is, stel hom in 'n slegte lig. Op 'n vraag of hy darem sy identiteitsdokumente by hom het, oorhandig hy sy paspoort, saam met 'n lugposbrief uit Suid-Afrika en 'n noot van 5 000 frank wat binne-in die paspoort gevou is. ‘A’, sê die offisier, ‘hy het geld, hy is doodreg. Laat hom loop.’ Maar toe kry die offisier die brief beet en kyk hy na die trossie posseëls op die koevert. ‘Suid-Afrika’, sê hy, en sy stem word vriendeliker, ‘ek kry dit nie aldag nie.’ Vanuit 'n laai haal hy 'n groot skêr en begin die seëls uitknip, terwyl hy vriendelik glimlag: ‘Jy gee mos nie om nie?’ ‘Nee’, was Jan se antwoord, ‘vat gerus die seëls.’ Van dié dag af, so kon Jan later vertel,Ga naar eind111 het hy met gans ander oë na posseëls begin kyk. Die posseël-gogga het hom behoorlik gebyt, hy het self begin seëls uitknip, 'n mooi versameling opgebou en by sy terugkeer in Suid-Afrika jare lank in Die Burger 'n rubriek oor seëls behartig. Op 20 September 1949 is hulle terug in Parys, Jan nou met 'n baard wat hy vir die res van sy lewe sou behou.Ga naar eind112 Ten spyte van hul teenspoed tydens die toer deur Italië is Jan en Marjorie die volgende jaar se somer weer op reis, hierdie keer na die Côte d'Azur en na Korsika waar hulle 'n maand lank vertoef. Daar skryf Jan 'n langerige verhaal in drie dele oor die geluk van mense wat hulself verdedig teen 'n erfenis van noodlot en haat wat die dooies soms op die lewendes afdwing. Dit verskyn onder die titel ‘Liefde in Korsika’ in Die Brandwag van 16-30 Maart 1951. In Augustus 1951 reis hulle deur Switserland, Oostenryk en Duitsland,Ga naar eind113 terwyl hulle in 1954 Spanje besoek en 'n maand lank in Nerja naby Malaga woon. Maar, anders as Uys Krige wat van Spanje sy Europese hartland gemaak het, vind Jan die armoede en regmatige bedelaars in dié land terneerdrukkend. Die Inkwisisie is vir hom nog op die mense se gesigte te lees en niemand waag dit om politiek te praat nie. ‘Hier is die woestyn nooit ver nie’, teken hy aan in sy dagboek. Die mense is goed, ‘maar hulpeloos gedwarsbeen tussen die vagevuur en Franco-berusting’. Veral die | |
[pagina 192]
| |
Spaanse seuntjies wat elke week as lede van die Falangistiese jeug moet marsjeer, wek Jan se deernis. Hulle gesiggies is hol van die honger, maar hulle glimlag altyd. Hy koop vir hulle 'n pakkie aartappelskyfies by 'n straatkraampie, maar hulle bly botstil, ernstig en aandagtig soos statige godsdienstige oumensies staan. Die pakkie is byna te magtig vir hulle honger, maar met byna smekende koppies vra hulle Jan om die skyfies self te verdeel. Tydens sy besoek aan Spanje skryf Jan in September 1954 twee stukke, ‘Bats on Balcon Europa’ en ‘The masters of the feast’, wat nooit gepubliseer word nie. Maar dat Spanje nie heeltemal met Jan akkordeer nie, blyk uit die brief wat hy op 5 September 1954 aan Uys Krige skryf: Natuurlik verlief op die vreemde van Spanje, maar ek dink my afkeer is groter as my liefde. Hier is 'n te openlike onreg, 'n te doelbewusgekweekte onkunde, 'n te grote gaping tussen ryk en arm. As ek 'n Guardia Civil sien, kry ek gruis op my tande. Net die kinders, die seuntjies onder 12, is heerlik. Ek speel saam met hulle en bou sandhuise. Vanmôre het ons op die strand gelê met 'n dosyn nakende knapies geheel en al in sand geklee...Spanje is 'n land vol ou swart vroutjies met stenige berustende gesigte. Geen enkele man. Dis verskriklik, die alomteenwoordige berusting, dié donker siel wat hulle met soveel stryd en lyding verkry het, en wat hulle nou trots probeer bewaar, juis omdat dit hulle soveel gekos het. Die religie van hulle siele is slegs verdedigend, en daarom so eensaam trots en so hopeloos treurig. Orals sien ek die onkunde en armoede wat van bo af afgedwing word - in stasies waar geen tydroosters pryk nie en die 3de klassers 'n uur voor die tyd geduldig moet toustaan terwyl die rykeres tydsaam en op hul gemak plekke...kan bespreek - in paaie wat om die dorpies en ver van die lewe van die mense verbygaan - in die doelbewuste plaaslike patriotisme - dat niemand ooit politiek durf praat nie - in die vet statige priesters netso hooghartig soos die rykes van Madrid - in die staar van die mense as jy verbykom, terughoudend en tog heimlik - in die arme diensplig soldate wat een peseta per dag kry en self hul eie haarsny, wasgoed, sigarette en treingeld moet betaal.Ga naar eind114 Terug in Frankryk wag daar nog 'n avontuur op Jan. As die Franse, ná Hillary en Tensing se verowering van Mount Everest, ook 'n aanslag op | |
[pagina 193]
| |
dié bergspits wil maak, maar wil bewys dat dit sonder die gebruik van ekstra suurstof gedoen kan word, besluit hulle om in April 1954 'n groep proefkonyne in die Alpe in soortgelyke toestande as dié in die Himalaja te laat klim. Jan slaag die voorafgaande toetse met vlieënde vaandels en op 13 April vertrek hy saam met die ander klimmers na Chamonix waar hy vir 'n tweede keer in sy lewe 'n poging sal aanwend om Mont Blanc uit te klim. As gevolg van 'n orkaan wat twee dae lank woed en die bestyging onmoontlik maak, is die ekspedisie egter 'n mislukking en verongeluk hulle amper, maar gelukkig kon 'n reddingsgeselskap hulle bereik. Jan se foto kom in die koerant met die woorde: ‘Le Boer a le mieux résisté!’ (Die Boer het dit die beste weerstaan). Hy is nou goedgekeur om saam met die Franse span aan die Everest-ekspedisie deel te neem, maar hy besluit dat dit vir hom begin tyd word om na Suid-Afrika terug te keer. Oor sy ervaring tydens dié ekspedisie skryf Jan in ‘Proefkonyn op Mont Blanc’.Ga naar eind115 Wanneer hy tydens die klimtog op die vallei met die sneeu afkyk, roep dit vir hom 'n andersoortige vallei op: dié van Stellenbosch in 1940 en die studente se aanval op die bruin mense. Hoog in die Alpe kry hy dan die titel vir die stuk wat hy as ‘Stellenbosch, my vallei’ in Een-en-twintig sal opneem. Met al die swaarkry tydens die reise en die geldlose fases wat hulle telkens in Parys beleef, leer Marjorie met haar lighartigheid vir Jan om sy ‘swaarvoetige Boere-erfenis’Ga naar eind116 om te skep in 'n meer positiewe, optimistiese benadering van die lewe. Hy het die lewe saam met haar begin geniet. | |
VIMarjorie se ateljee in die Rue de la Tombe Issoire word gou 'n gesellige bymekaarkomplek van skrywers en skilders. Sy en Jan het min Franse en weinig Engelse of Duitsers geken, maar heelparty vriende van Russiese, Hongaarse, Joodse, Griekse en Amerikaanse herkoms gehad. Van hul beste vriende is die Nederlandse en Vlaamse skilders wat tot die Cobra-groep behoort en die skrywers wat later as die Vijftigers bekend sou staan en wat hulle van 1948 af vir korter of langer periodes in Parys vestig. Cobra was die akroniem vir 'n groep skilders uit Kopenhagen (Copenhagen), Brussel en Amsterdam wat gereageer het op die surrealiste deur 'n soeke na 'n | |
[pagina 194]
| |
spontane, eksperimentele manier van skilder, 'n bewuste regressie na die prelogiese stadium in die rigting van 'n beleefde animisme, waarmee hulle iets van die kind, die primitief en die geestesieke in hul kuns wou oordra. Die twee lede van Cobra wat Jan en Marjorie goed leer ken, is die Nederlanders Karel Appel en Corneille, terwyl hulle ook besonder bevriend raak met die Vlaming Bram Bogaert wat nie lid van Cobra was nie. Tiperend vir die werkwyse van die Cobra-skilders is die uitspraak wat Appel in 1955 daaroor maak: Ik schilder, ik rotzooi maar een beetje aan. Ik leg het er tegenwoordig flink dik op, ik smijt de verf er met kwasten en plamuurmessen en blote handen tegenaan, ik gooi d'r soms hele potten tegelijk op.Ga naar eind117 Tydens die kort periode van sy bestaan, van 1948 tot 1950, vorm Cobra vir die deelnemende skilders die knooppunt van ontmoetings, heftige meningsverskille en onderlinge beïnvloeding. Die resultaat is 'n min of meer tipies ‘Cobra’ herkenbare uitingswyse en 'n beeldende ‘Cobrataal’. Wat 'n mens dikwels aantref, is die samewerking van digter en skilder, die kombineer en deureenweef van skrif en beeld,Ga naar eind118 soos duidelik te sien was in die groot uitstalling wat van 3 Mei tot 2 Junie 1949 en weer in die lente van 1950 by die Colette Allendy in Parys van Appel en Corneille se werk gehou is. Hoewel Marjorie deeglik kennis neem van Cobra en elemente daarvan in haar vroeë werk aanwesig is, volg sy betreklik gou haar eie pad en kan sy nie as een van die eksponente van Cobra beskou word nie. Vir Jan was die kennismaking met die Vijftigers besonder aangenaam, want hy kon in Afrikaans met hulle kommunikeer. In die literêre kafees ontmoet hulle Simon Vinkenoog, Rudy Kousbroek, Lucebert, Bert Schierbeek, Gerrit Kouwenaar, Hugo Claus en Hans Andreus, al was Andreus altyd 'n bietjie eenkant en nie deel van die groep nie.Ga naar eind119 Soms woon hulle van die veelvuldige feeste en gesellighede van Simon Vinkenoog en sy vriende by. Rudy Kousbroek word in 1953 die buurman van Marjorie in die Rue de la Tombe Issoire waar hy sy bundel van 1953, Begrafenis van een keerkring, sal voltooi. Vinkenoog laat weet Hans Andreus op 27 Julie 1953 dat Lucebert op dié dag in Parys aankom en by Kousbroek sal inwoon. Hans de Vaal, skrywer van enkele verhale en joernalistieke werk uit dié tyd, tik ter wille van die geld wat hy só inkry, die manuskrip van Vin- | |
[pagina 195]
| |
kenoog se roman Zolang te water oor. Albei, so skryf Vinkenoog aan Andreus, gebruik die Sélect as stamkroeg en albei hou van Jan.Ga naar eind120 Op sy beurt vind Jan dat al dié skrywers gefassineer is deur Afrikaans.Ga naar eind121 Soos Jan, ten spyte van sy eie stereotiepe romans, in opstand was teen die middelmatigheid van die Afrikaanse prosa en met sy eie werk 'n vernuwing wou bring, was die Nederlanders en Vlaminge in onvrede met die tradisionele en geykte van hulle eie letterkunde en wou hulle, in die woorde van Lucebert, 'n aanval loods op die ‘hipokrisie’ van die ‘letterdames’ en die ‘letterheren’ wat ook ná die oorlog verder voortgeskryf het asof ‘holland een rose perziktuin’ is. In plaas daarvan was dit hulle strewe om in naam van die ervaring van die volledige lewe ‘de blote kont der kunst te kussen onder uw sonnetten en balladen’.Ga naar eind122 Vinkenoog, hulle aanvanklike woordvoerder, sien Amsterdam as 'n stad met ‘achthonderdduizend publieke zondaren’ en ‘doordeweekse derdeklasgezichten’ en wil van daar ontsnap na Parys waar ‘mijn dromen in de bomen hangen /...om aan het gare du nord te kunnen / opnieuw beginnen’.Ga naar eind123 Hy stel in 1951 die bloemlesing Atonaal saam, die bundel by uitstek wat die nuwe digters aanvanklik sou saambind en aan hulle 'n groepsnaam sou besorg. In sy inleiding tot dié bloemlesing wys Vinkenoog daarop dat die atonale poësie met die afwesigheid van tradisionele vorme soos die sonnet, die weglaat van formele strukture en ordeningsmiddele soos die jambiese reël en die brutale, dikwels komplekse beeldspraak 'n radikale breuk inhou met wat tot in daardie stadium in die Nederlandse taalgebied as poësie beskou is. In sy stellinginname bespeur 'n mens iets van Sartre se eksistensialisme: ‘wij leven in het niets, wij weten niets en teren op een culturele erfenis die reeds lang óp en verdeeld is. Een veel misbruikt woord kan niet uitblijven: wij leven in de chaos, als men wil: de zinloosheid.’Ga naar eind124 Dit is ondenkbaar dat Jan, wat so goed met Vinkenoog en die ander Nederlanders en Vlaminge bevriend was, nie kennis sou geneem het van die publikasie van Atonaal nie, maar in sy Paryse dagboek is daar geen inskrywing oor wat sy reaksie daarop was nie. Hy was reeds in dié stadium driftig met sy eie ‘prosas’ besig. Miskien het hy, wat sy eie digterskap nou definitief versaak het, nie meer belangstelling in die poësie gehad nie of dalk het die werk van sy vriende nie werklik tot hom gespreek nie. Hoe ook al, nêrens laat hy hom uit oor die poësie van die atonale digters nie. Tog was hy goed bevriend met sy Nederlandse en Vlaamse kennisse. Jan het geen geheim van sy identiteit as Afrikaner gemaak nie. Jare later | |
[pagina 196]
| |
kon Hugo Claus nog onthou hoe Jan, ‘een felle jonge met een zwarte baard en bliksemende ogen’,Ga naar eind125 hardop roep: ‘Ek is 'n Boer!’, 'n uitspraak wat Rudy Kousbroek in 'n onderhoud kon beaam.Ga naar eind126 Kousbroek en Vinkenoog kon albei jare later getuig van Jan se belesenheid, strydlustigheid en sy Boheemse, nonkonformistiese en kosmopolitiese ingesteldheid.Ga naar eind127 Kousbroek, wat gehelp het dat Jan se werk aan Nederlandse tydskrifte voorgelê word, herinner hom dat Jan sy verhaal ‘Droogte’ vir hulle voorgelees het en vol planne was om Suid-Afrika by sy terugkeer te hervorm. Daarvoor het hy 'n hele aksieplan vir gelyke regte vir blank en swart opgestel. Kousbroek, wat as jongman saam met sy familie vóór die Indonesiese onafhanklikheid uit Soematra moes padgee, was skepties oor dié planne. Vir hom was Jan 'n idealis wat in die goedheid van mense geglo het, terwyl hyself meer oortuig was van die wesentlike boosheid van die mens. Op sy vraag wat sal gebeur indien die swartes dié aksieplan nie wil aanvaar nie en eerder sal wil hê dat die wittes uit Afrika verdwyn, het Jan volgens hom geen antwoord gehad nie. Of Jan werklik so naïef was om te meen dat 'n oplossing sonder inspraak van die swartes vir Suid-Afrika denkbaar was, weet 'n mens uit gebrek aan verdere getuienis oor die aksieplan natuurlik nie, maar dit is wel hoogs onwaarskynlik. In Desember 1954 of in Januarie 1955, kort nadat J.G. Strijdom in opvolging van D.F. Malan as premier van Suid-Afrika aangewys is en Jan met 'n enkele inskrywing in sy dagboek (‘Die dom stryer is in die kryt.’)Ga naar eind128 negatief daarop reageer, lewer hy 'n lesing oor die Afrikaanse skrywer en die kleurprobleem waaruit dit blyk dat hy wel deeglik oor die probleme van Suid-Afrika nagedink het. Op die oorgelewerde teks van dié lesing is daar geen aanduiding waar dit gelewer is nie. Dit is moontlik dat hy dit, vooraf gereël deur sy Nederlandse vriende in Parys, vir 'n vereniging of groep aangebied het in Amsterdam van waar hy op 12 Januarie 1955 per boort na Suid-Afrika sou terugvaar. Dit is egter ook moontlik dat hy die lesing voor 'n groep Nederlanders en Vlaminge in Parys - amper as 'n soort afskeid - gelewer het. Voordat hy met sy lesing - in Afrikaans - begin, wei hy uit oor die verskille tussen Afrikaans en Nederlands, klaarblyklik sodat sy gehoor, onbekend met Afrikaans, hom makliker kan volg. Aan die begin van dié lesing wys hy daarop dat die skrywer in Suid-Afrika as gevolg van die brandende politieke probleme 'n groter taak en verantwoordelikheid het as skrywers in 'n land soos Nederland met 'n | |
[pagina 197]
| |
veel kleiner sosiale problematiek. Hy het dit teen die soort skrywer ‘wat na 'n estetiese ster sit en kyk terwyl sy huis afbrand’. Suid-Afrikaanse skrywers wat vandag die politieke vraagstukke ignoreer, is oneerlik, ‘soos volstruise wat hul koppe wegsteek as die gevaar kom’. Dan gaan hy voort met 'n demografiese analise van Suid-Afrika, die verdeling van die verskillende rasse en hoe apartheid in die praktyk toegepas word. Hierdie droom van apartheid, wat die blankes ‘met 'n byna mistieke vuur begeer, en byna nooit met koue logika durf benader nie’, sê hy, in 'n passasie wat Kousbroek se inligting oor Jan se politieke ‘naïwiteit’ weerspreek, is so 'n sterk droom dat die blanke nie eens bewus is van sy blinde selfsugtigheid nie, nie eens kan vermoed dat 'n oplossing wat sonder herkenning van die nie-blankes se begeerte, deur bv. 'n referendum, deur die blankes nagestreef word, slegs 'n oplossing vir die blankes self sal wees nie. Met ál die stofstorms van hul dialektiek bewys sy leiers net een sentrale feit: dat solank hulle as blankes en nie as mense praat nie, hulle onmoontlik eerlik kan wees. Die Afrikaanse skrywer het die probleem dat sy pers grotendeels onder politieke beheer staan en sal huiwer om iets te publiseer wat as ‘onaanneemlik’ of ‘gevaarlik’ bestempel kan word. In 'n samelewing waar Afrikaner-wees steeds as sinoniem met 'n blinde navolging van die apartheidspolitiek beskou word, loop hy die gevaar om deur sy eie mense verstoot te word, sê Rabie profeties oor die tipe situasie waarin hy hom kort ná sy terugkeer self sal bevind. Die eerlike en intelligente skrywer moet dus op twee terreine stry: teen die ras-oneerlikheid in homself en sy samelewing, en om nie brutaal uit sy samelewing vervreem te word nie. Literêre tydskrifte soos Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde is lugtig om stukke te publiseer wat politieke aanstoot aan die regering kan gee en verkies om alles vanuit 'n veilige estetiese afstand te beskou - 'n standpunt wat hy reeds aan die lyf begin ervaar en wat sy publikasiemoontlikhede verskraal het.Ga naar eind129 ‘Swye’, sê Rabie, is [egter] altyd medeplig, en letterkunde is geen veilige berggrot nie, maar 'n skip wat deur storms kan vaar...Ek vra dus ook vir die waaksaamheid van die skrywer in die skrywerswêreld. Die heldere stel van al die gegewens van 'n probleem, met eerstens die moed, en | |
[pagina 198]
| |
tweedens die vryheid daartoe, is wat dringend nou deur Afrikaanse skrywers gehandhaaf moet word. Dan kom hy by 'n saak waaroor hy tydens die jare in Parys al hoe meer duidelikheid begin kry het en wat ná sy terugkeer sentraal in sy denke sal begin staan: Ek weet van een waarde wat Suid-Afrika opgelewer het, en daaraan bly ek jaloers getrou: my taalgemeenskap. My Afrikaans wat slegs in Suid-Afrika bestaan. Maar hierdie taalgemeenskap huldig geen vooroordeel van kleur nie, en behels ook die een en 'n kwart miljoen kleurlinge wat Afrikaans praat soos ek. ‘Die skrywer’, sê hy ten slotte, se bewustheid is dat alles wat geweet en nie gesê word nie, 'n misdaad is; sy wil is om helder en objektief te vertel wat hý nie verswyg nie. Hy sal sy werktuig, sy taal, suiwer en kalm hanteer om sy gees suiwer en kalm te kan hou. Hy sal nie moed verloor, of bevrees wees, of hom tot swye laat dwing nie. Hy sal sy integriteit as denker en as kunstenaar selfs in toestande waar sy eie vlees teen hom werk en hy nie weet hóé nie, nóg bly beskerm. Op die vooraand van sy terugkeer is dit moedige woorde waarin Jan Rabie die taak van die skrywer in 'n situasie soos dié in Suid-Afrika, en meer spesifiek vir homself, duidelik uitspel. Teenoor iemand soos D.J. Opperman wat daarvan uitgaan dat die kunstenaar die aktualiteit moet oorskry, nie in tydgenootlike sake moet bly vassteek nie en eerder soos Keats se verkleurmannetjie wesenloos na gelang van elke situasie moet wissel,Ga naar eind130 is dit Rabie se opvatting dat die skrywer in 'n situasie soos dié in Suid-Afrika juis die taak het om deur sy kuns 'n verandering te help bewerkstellig. Om daarvan weg te skram en in 'n veilige estetiese hawe weg te skuil, sal vir Rabie 'n ontduiking van die skrywer se verantwoordelikheid wees. In hierdie opsig sal hy by sy terugkeer na Suid-Afrika dieselfde standpunt inneem as Uys Krige wat in die vyftigerjare telkens in geskrifte en optredes sy afkeer van die apartheidswetgewing laat blyk het. Die standpunt waartoe Rabie kom, is 'n langsame ontwikkeling waar- | |
[pagina 199]
| |
toe hy in sy Paryse jare groei. ‘Ek weet nou’, skryf hy op 20 Mei 1953 in sy dagboek, dat Europa my geleer het, dat ek dwarsdeur my roman, dwarsdeur 'n aanvanklike estetisme getas het na waarvoor ek eintlik bestem is: l'engagement [betrokkenheid]. In geen party of groep, maar teen l'injustice et le malheur [onreg en teëspoed].Ga naar eind131 Dit is die helder insig waartoe Rabie kom: die formulering van 'n taak wat hy as skrywer by sy terugkeer op homself sal neem en waartoe hy hom met 'n vurigheid en absolute oortuiging sal verbind. |
|