Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 129]
| |
II
| |
[pagina 131]
| |
Hoofstuk V
| |
[pagina 132]
| |
met die intieme en enigsins onaangename rolbeweging van die skip, só meegevoer deur die reis dat hy sy bewussyn van tyd kwytraak en 'n gevoel van verlorenheid begin kry, iets wat almal op 'n skip, die diep see in, die een of ander tyd ervaar. Op Saterdag, 17 April, kom hulle teen die aand se kant aan in Las Palmas, die hoofstad van Gran Canaria. Saam met die ander passasiers besoek Jan die katedraal, doen hy inkopies en woon hy 'n kabaret met senoritas by. Die mooiste van die danseresse bedel sy barbaarse oorringe af.Ga naar eind3 Vrydag, 23 April, vaar die skip by Southampton in. Ná die doeane-klaring en die afskeid van Marion reis hy met die boottrein deur die teer, parkagtige Engelse landskap van groen gras en slanke bome na Londen waar hy om drie-uur die middag op die Waterloostasie uitstap.Ga naar eind4 In die sewe dae dat hy in die Britse hoofstad bly, sien Jan die bekende toeriste-attraksies soos Westminster-abdy, Trafalgarplein, Covent Garden en die verskillende brûe oor die Teems. Saam met Marion, wat weer by hom aansluit, besoek hy die Sadler's Wells Ballet vir 'n uitvoering van Michel Fokine se Les Sylphides wat hy tegnies uitstekend met skitterende spanwerk vind. In die National Art Gallery is El Greco, Renoir, Vermeer, Rubens en Botticelli vir hom oorweldigend, 'n ‘[d]ronk roes van kleure en lyne’,Ga naar eind5 terwyl hy die Rembrandts telkens as ‘donker gekonsentreerde hartstog op een gloeiende punt’Ga naar eind6 beleef. Ook die Tate Gallery is vir hom indrukwekkend. Terwyl hy in die stad is, word die koninklike egpaar se silwerbruilof gevier, maar Jan steur hom nie veel aan hierdie feestelikhede wat hy aan versierings langs die strate bemerk nie. Van die Waterloobrug bo die Victoria Embankment kan hy by sommige geboue die skade sien wat die Duitse bombardemente tydens die oorlog aangerig het. Saam met Marion loop hy deur die stad, maar hy vind Londen somber-grys, solied, aristokraties en oud. Die Engelse is vir hom te geslote, altyd bewus van die grens van intimiteit wat nie oorgesteek mag word nie; die vreemdeling weet nooit by die Engelsman waar vriendelikheid net uit beskaafde maniere voortkom nie. Op Donderdag, 29 April, het hy genoeg van Londen. Van die Victoriastasie vertrek hy na Newhaven vir die drie en 'n halfuur lange vaart na Dieppe aan die Normandiese kus.Ga naar eind7 Die Franse landskap, wat hy vroeër op gekleurde reisfilms of poskaartjies kon waarneem, het nou vir hom ‘ongelooflik waar’Ga naar eind8 geword. Teen sewe-uur die aand kom hy aan op die Saint Lazare-stasie in Parys. Binne 'n ommesientjie slaag hy daarin om | |
[pagina 133]
| |
vir hom vir die nag 'n dakkamer naby die stasie te kry. Dan loop hy na die sentrum van die stad: oor die Seine na die Place de la Concorde en die Champs Elysées. Omdat hy hom nog nie behoorlik in Frans kan uitdruk nie, bring die kelner by die restaurant waarby hy gaan eet, 'n hele fles in plaas van net 'n enkele glas wyn. Noodgedwonge drink hy die hele fles leeg. Met die terugstap na sy dakkamertjie raak hy, terwyl hy by 'n kaai na die Seine se kant toe leun, met die woorde ‘Jy's ook maar net 'n ou riviertjie’Ga naar eind9 ontslae van sy oortollige vog. Daarna word hy aangespreek deur twee prostitute - sy eerste ervaring van die Paryse naglewe. In sy dakkamer slaap hy uitstekend nadat hy onderweg nog 'n glas witwyn en 'n heerlike Chartreuse-likeur gedrink het, uitspattighede waarvoor hy weldra geen geld meer sou hê nie. | |
IIMet Jan Rabie se aankoms was Parys reeds langer as 'n honderd jaar, méér as ander groot stede soos Londen, Berlyn of Wenen, die kultuurstad by uitstek van Wes-Europa. Daarby was dit saam met Rome die enigste groot stad wat nie tydens die Tweede Wêreldoorlog gebombardeer is nie, al beleef Frankryk, nadat generaal Charles de Gaulle hom uit die voorlopige na-oorlogse regering terugtrek, 'n lang periode van politieke onstabiliteit met tallose stakings en wisselende kabinette. Telkens in sy dagboek sal Jan na die onverkrygbaarheid van lewensmiddele, die onrustige politieke situasie en die ontevredenheid onder die arbeiders verwys, terwyl met die Koue Oorlog tussen die VSA en Rusland 'n nuwe moontlikheid van geweld in Europa aan die dreig was. 'n Dag ná sy aankoms, op Vrydag, 30 April 1948, skryf hy in sy dagboek: ‘Geen melk, botter en min suiker en lekkers. Veral melkgeregte. Brood gerantsoeneer...Tee sleg en duur.’Ga naar eind10 Op Donderdag, 21 Oktober 1948, teken hy aan: ‘Stakings orals in Frankryk, pryse styg, die toon van Amerikaanse koerante word snydender.’Ga naar eind11 En op Maandag, 1 November 1948, verwys hy na die afkondiging van krygswet in Griekeland, die troepe wat die Franse stakers tot oorgawe dwing en Israel wat die hele gebied van Galilea van die Palestyne verower.Ga naar eind12 Die gevolg van sy lang tradisie as kultuurstad en die feit dat dit sonder groot skade uit die oorlog gekom het, was dat Parys, nog meer as tevore, | |
[pagina 134]
| |
die intellektuele Mekka was waarheen intelligentsia en kunstenaars ná die oorlog opgeruk het om van nuwe filosofiese strominge kennis te neem en die mees uiteenlopende kunsvorme te beoefen. Die brandpunt van die intellektuele en literêre lewe was die Quartier Latin aan die linkeroewer van die Seine, terwyl Montparnasse verder suid, soos vroeër, steeds baie van die skilders en beeldhouers gehuisves het. Die Quartier Latin was, anders as die regteroewer met sy fatsoenlike haut-bourgeois areas, onvoorwaardelik klasloos en het in die jare ná die oorlog 'n magnetiese aantrekkingskrag vir al wat leef en beef gehad. Studente, wanordelik en hartstogtelik, was uitbundig en verlief in die kafees naby die universiteit aan die gesels. Jong slimkoppe het gesit en filosofeer oor 'n koppie koffie of 'n glasie wyn, en van die kaaie langs die Seine het die vreemdste vaarte begin, sonder dat die reisigers 'n voet van hulle stoele en tafeltjies langs die Boulevard Saint Michel versit het. Met studente uit alle moontlike wêrelddele was die sfeer in Parys en in die Cité Universitaire gelaai en kosmopolities. Aan die Sorbonne is die werk van Karl Marx, Søren Kierkegaard en Martin Heidegger bestudeer, terwyl die fenomenologie van Edmund Husserl groot ingang gevind het. Die absurde teater van Beckett en Ionesco is naas die toneelstukke van Federico García Lorca opgevoer, terwyl films na scenario's van Jacques Prévert, soos Les enfants du paradis, vertoon is.Ga naar eind13 Onder die buitelanders wat na Parys gestroom het, was 'n ‘Lost generation’ Amerikaanse skrywers, bestaande uit Elliott Stein, James Baldwin, Carson McCullers en Alfred Chester.Ga naar eind14 Skrywers wat hulle in hierdie jare ook in Parys vestig en vir korter of langer periodes daar woon, was Simon Vinkenoog, Remco Campert, Rudy Kousbroek, Hans Andreus, Lucebert, Hugo Claus, Gerrit Kouwenaar en die kunstenaars Karel Appel en Corneille - almal digters wat later as die Nederlandse Vijftigers en skilders wat as lede van die Cobra-groep bekend sou staan. Simon Vinkenoog vestig hom in Maart 1950 in die stad en met sy ongeremde geesdrif is hy die bindende krag in hierdie heterogene groep. Dit was die tyd waarin die Nederlandse poësie en kuns hulle wou ontworstel aan die provinsialisme en op 'n euforiese manier wou aansluiting soek by die internasionale avant-garde. Weldra sou Jan Rabie die meeste van hierdie skrywers en kunstenaars leer ken. Die kafees van Montparnasse was veral die vergaderplekke van skilders, terwyl baie van die nuwe skrywers, dikwels sonder 'n frank op hulle naam | |
[pagina 135]
| |
maar met grootse idees, nou in die kafees van Saint Germain des Prés begin byeenkom het. Veral die nuwe boeke en idees van Jean-Paul Sartre, Albert Camus, Maurice Merleau-Ponty en Simone de Beauvoir is druk gelees en bespreek. Sartre het hom tuisgemaak in die Café Flore, gebukkend oor 'n boek en sy café-crème en croissants, sonder om op te kyk of iemand te groet. In die nabygeleë Brasserie Lipp het die filosofiese kliek dikwels oor 'n middagete ontmoet. De Beauvoir en Sartre se akoliete was geklee in swart polonek-truie met swart grimering om die oë en het uitgerekte diskussies oor die betekenis - of die totale betekenisloosheid - van die lewe gehou, voordat hulle na die jongste Godard-film of nouvelle vague gaan kyk het. Die ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog en die Duitse besetting vind dikwels, al is dit dan meestal onopsigtelik en verhul, neerslag in die werk van Sartre, Camus en De Beauvoir en was die onmiddellike aanleiding tot die hoogbloei van wat weldra as die eksistensialisme bekend begin staan het: 'n soort skryf wat oor die essensiële aard van die menslike kondisie gebroei het. Die eksistensialisme is op die kaaie van die Seine druk bespreek deur langhaar pseudo-filosowe en filistyne, maar oor die begrip self was daar heelwat onduidelikheid. Dit is onmoontlik, skryf André Billy, om in die stad te gaan eet, sonder dat 'n aantreklike jong vrou jou eenkant toe neem en op verleë, vertroulike toon die onvermydelike vraag stel: ‘Verduidelik vir my wat is eksistensialisme.’ ‘Ek is geen eksistensialis nie’, verklaar Albert Camus. ‘Camus is geen eksistensialis nie’, bevestig Sartre. ‘Eksistensialisme laat hom nie verklaar nie; jy moet dit belewe’, sê Christine Cronan in haar klein kategismus vir die leek, 'n soort stoomkursus eksistensialisme, met oppervlakkige samevattings en verklarings van sleutelbegrippe. Die boekie is gretig soos warm broodjies deur studente oor die toonbank gekoop, sodat almal oor eksistensialisme kon saampraat. Vraag: Wat is eksistensialisme? Antwoord: Die eksistensialisme is die geloof dat die mens homself vorm deur sy handelinge. Vraag: Wie het die eksistensialisme laat herlewe en tot 'n mode gemaak? Antwoord: Jean-Paul Sartre. Vraag: Wat beweer die huidige eksistensialisme? Antwoord: Dat die bestaan aan die wese voorafgaan. Die woord ‘eksistensialisme’ het weldra alles deurmekaar begin aandui: 'n filosofiese stroming, 'n lewenstyl, 'n ‘godsdiens’, in 'n ruim opvatting wat oopstaan vir alles wat in die Franse samelewing vir afwykend, marginaal, provokerend en anargisties kan deurgaan - 'n soort smeltkroes, 'n volslae absurde brousel.Ga naar eind15 | |
[pagina 136]
| |
Hoewel hy deeglik kennis neem van die eksistensialisme en daar later in die werk wat hy in Parys skryf, duidelike neerslag van die denke van Sartre en Camus te bespeur is, gaan Jan nie volledig in die eksistensialisme op nie. Uit die inskrywings wat hy in die eerste twee jaar in sy Paryse dagboek maak, is dit duidelik dat hy in hierdie jare nog 'n groot stuk verwarring in hom saamdra. Sy dagboek is 'n smeulpot waaruit eers later helder dinge sou kristalliseer. Hy besin wel oor die verhouding van mens tot mens, die moralisme, die wet en die vraag oor hoe die mens voor God moet lewe, maar by tye staan hy sterk krities teenoor die eksistensialiste. André Maurois vind hy ‘'n parasitiese nul’,Ga naar eind16 François Mauriac ‘sink in die gomwebbe van katolisisme’Ga naar eind17 en André Gide is ‘klaar aristokraties...dood’,Ga naar eind18 terwyl Sartre ‘die verantwoordelikheid van sy verantwoordelikheidsteorie so swaar [vind] dat hy liewers romans skrywe om sy beursie selfstandig te maak’.Ga naar eind19 'n Bietjie later, op 20 Januarie 1949, vind hy Sartre se joernalistiek walglik en sy wêreld beperk tot die kafees van die Paryse linkeroewer. ‘Sartre het nog nie een karakter geskep wat iets anders as Sartre se hoof of lende is nie’,Ga naar eind20 skryf hy. Maar daarteenoor is Jan opgetoë en verruk oor Parys. Hoewel die land nog swaar gedra het aan die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog en kos per koepons met baie streng rantsoenerings gekoop moes word, kon hy van die begin af die stad in al sy luime en verskeidenheid fasette deeglik leer ken. Sewe dae ná sy aankoms, op Saterdag, 8 Mei 1948, skryf hy reeds in sy dagboek: ‘Dit is moontlik om Parys meer lief te hê as 'n vrou.’Ga naar eind21 In die hoogsomer van Julie teken hy aan: Parys sal vir my onsterflik bly, al is dit net om 9:15 saans, op die eilandpunt voor die sirkels van Pont Neuf as die dag bruin en die ligte (groen, geel, rooi) van die nag die toneel oorneem. Of dieselfde plek waar die fee-skuitjies slaap, as die dag breek oor die Louvre en Notre Dame, en die ryp uitgeswelde vrug van Les Halles reeds verlep in die systraatjies.Ga naar eind22 Wanneer die seisoen begin verander en dit herfs word, teken hy aan: Hoe mooi is die aarde, en hoe min weet ons dit! Sal ek ooit weer 'n goue herfs soos hierdie in Parys langs die Seine ondergaan, ooit weer so eensaam gebrand tot skoonheid, so vervul van kleure van geluk kan wees?Ga naar eind23 | |
[pagina 137]
| |
Op Maandag, 25 Oktober, skryf hy: Die mooiste seisoen van die jaar vir die mooiste stad van die wêreld. Goud, bruin, rooi en oranje in die kastanjes en platane van die Luxembourg-Park, en langs die Seine. Hoe baie bome is daar nie in Parys. Nog nooit gras so groen, hoewel reeds bedek met skilfers van [die] dood.Ga naar eind24 En in die lente van 1949 kan hy vir sy Stellenbosse vriend Jack Steyn, intussen werksaam by die Nasionale Pers in Kaapstad, laat weet dat daar in Parys altyd meer moontlikhede is as in enige ander plek in die wêreld: Dis 'n kruispad en suiggat van idees en mense waar so hard en so interessant en van soveel kante geskreeu word dat ek by al my gretige inname hard moet spook om nie so oop soos 'n sif te word nie. Die kleinste straatwandeling is 'n les in alkohol, ensiklopedia en askese. Altyd senuweeagtige, oewerbrekende lente. Dat hy sy hand op die pols van die jongste ontwikkelinge op die gebied van die kuns en die literatuur hou, sien 'n mens as hy aan Steyn skryf dat hy by 'n uitstalling van Picasso was en Gide ontmoet het, maar dat albei nou ‘uit die mode’ is, ‘[s]elfs J.P. Sartre’: Na Albert Camus het gekom Jean Genet (Parys se nuwe Rimbaud: pederas, dief, digter), Georges Bataille, Pichette ens. Die nuwe jong skilders is swak...Parys word normaal en die frank styg...Die kastanjebome begin bloei en soms skyn die son. Ensovoorts. Maar dat Jan hom tog nie in 'n romantiese waas aan die afwisseling van sneeu en son en onbekommerd aan die skoonheid van Parys oorgee nie, blyk uit sy omineuse waarneming van die internasionale politiek en die Koue Oorlog in 'n stadium toe die Amerikaners daagliks met die Berlynse lugbrug voorrade vir die ‘besette’ stad moes invlieg: Oor Europa hang die muskietswerm van USA vs USSR en snags skakel filmdoeke oor van surrealistiese Cocteau-dekors na miljoene marsjerende stewels. Oor hierdie spinnerakke sypel die dou van ou opiumhongers: kos, 'n vrou en vermaak. | |
[pagina 138]
| |
IIIReeds op sy eerste dag in Parys al het Jan 'n koerant gekoop, op 'n kaai gaan sit en met sy klein sakwoordeboekie Frans begin lees. Só gou was sy vordering met die taal dat hy binne 'n week die kraampies langs die Seine gaan fynkam en vir so min as vyf, tien of twintig sent tweedehandse boeke begin aanskaf het. Klaar gelees, het hy hulle dikwels weer vir ander gaan omruil. Op dié wyse het hy in die jare in Parys haas die hele Franse letterkunde sistematies van hoek tot kant deurgewerk en soos 'n spons in hom opgesuig: eers die klassieke skrywers soos Voltaire, Victor Hugo, Emile Zola, Honoré de Balzac, Guy de Maupassant, Charles Baudelaire en Arthur Rimbaud, en daarna die denkers en skrywers wat met sy aankoms die toon aangegee het: Sartre, Camus, Gide, Proust, Bernanos, Michaux, Éluard en Robbe-Grillet. Ook skrywers soos Daudet en Vercors, van wie hy later werke sou vertaal, maak 'n besondere indruk op hom. Skaars 'n week ná sy aankoms, op Saterdag, 8 Mei 1948, teken hy in sy dagboek aan: ‘Die heerlikheid van boeke koop in voorskemer langs die Seine, en dan op ou steen-trappies bokant die bedelaars en skilders, en die groen water in die skaduwee van Notre Dame te sit en die blaaie van Rimbaud of Zola oop te sny.’Ga naar eind25 Die Franse skrywers wat hy só leer ken, help hom om van die beperkte plaasromantiek en lokale realisme, wat met sy vertrek uit Suid-Afrika nog steeds die Afrikaanse prosa oorheers het, weg te kom. Weldra sou hierdie Franse skrywers hom leer hoe om meer kompak en meer ekonomies met die woord om te gaan en later sou hy van hulle werk in Afrikaans vertaal. Soms kom hy ook op seldsame versamelstukke af, soos 'n boekie wat uit 1901 dateer en wat met talle foto's 'n beeld van Paul Kruger se tiendaagse reis deur Frankryk gee. Een van die hoofstukke handel oor die voorspellings van die waarsegster Julia oor die kanse van 'n oorwinning vir Kruger se magte tydens die Anglo-Boereoorlog en die moontlike ingryping van Rusland.Ga naar eind26 Met die stamelende Frans waarmee hy in die eerste paar weke homself moes behelp, gaan soek Jan na 'n meer bekostigbare kamer as die een naby die Saint Lazare-stasie waar hy die eerste paar dae oornag. Sy aanvanklike adres is 26 Rue Servandoni in die Quartier Latin, vlakby die Luxembourg-tuin. Hoewel 'n kamer in dié skilderagtige buurt, waar dit gewemel | |
[pagina 139]
| |
het van jongmense en studente van die Sorbonne, vir hom aantreklik was en gerieflik naby die Boulevard Raspail waar hy 'n tyd lank elke dag klasse in Frans bywoon, kon hy dit op die lange duur nie bekostig nie en moes hy uitkyk na een van die goedkoper kamers net onder die dakpanne van die hoë geboue. Vroeër, toe geld in Frankryk volop was, het inwonende bediendes in so 'n dakkamer, die chambre de bonne, gewoon, maar met die styging van die lewenskoste en die gevolglike verdwyning van bediendes is dit deur die eienaars uitverhuur aan studente en jongmense wat bereid was om die sewe of agt verdiepings elke dag na so 'n arendsnes boontoe te klim. In die Quartier Latin en ook elders in sentrale Parys was sulke kamers egter haas onbekombaar, tensy die verleë voornemende huurder regstreeks kontak gehad het met iemand wat op die punt gestaan het om sy kamer te verlaat en bereid was om aan die nuweling voorkeur bo andere te gee, indien hy, volgens 'n korrupte Franse gewoonte, 'n stewige sommetjie ‘sleutelgeld’ of ‘oorneemgeld’ wou betaal. Gelukkig vir Jan kon hy ná 'n lang soektog só 'n kamer in die hande kry en op 3 November 1949 daar intrek.Ga naar eind27 Vooraf moes hy 15 000 frank (destyds sowat R300) betaal aan die vorige huurder, 'n Hongaarse kolonel en vryheidsvegter, Michel Naghy, wat tydens die oorlog bomme daar gemaak en in dié proses die vloerteëls lelik gevlek het. Om só 'n kamer te bekom, was 'n gelukskoot, want die huur was maar 750 frank (sowat R15) per maand.Ga naar eind28 Dit was geleë op die sewende verdieping van 17 Avenue Parmentier, vlakby die Boulevard Voltaire, naby die metro-stop St. Ambroise aan die regteroewer van die Seine. Om bo te kom, skryf Jan in sy skets ‘Dakkamer’ in sy bundel Dakkamer en agterplaas, was 'n hele onderneming: Om jonk te wees, veronderstel blykbaar om op vlerke van armoede vervoer te word na 'n hoë goedkoop kamer, gemeubileer met 'n arendsblik op die straat. Asof jongmense behoefte het om vertikaal gesteriliseer te word en soos biltonge aan die dakbalke moet hang om hul reuk so hoog en so ver as moontlik van ouer mense se neuse te verloor.... Soms wyl ek die sewe verdiepings na my kamer bestyg, kan ek nie los kom van die indruk dat die trap ook booswillig bewus van die gemeenskap se bedoelinge is nie. Dit kurktrekker jou boontoe so onhebbelik soos 'n saamgeperste veer wat jou maan toe gaan skiet as jy net jou hand op die relings rus om huiwerend terug te kyk.Ga naar eind29 | |
[pagina 140]
| |
Die kamer was maar drie meter by drie meter, met 'n venstertjie wat in die skuins dak kon oopskarnier. In 'n brief wat hy op 19 November 1949 aan sy ouers skryf, wei Jan uit oor hoe die kamer, sy klein aardse paradysie, daar uitsien: Dit is op die 7de vloer, onder die dak van 'n gebou in die buurt van die Bastille - 'n arbeidersbuurt.... Dit het 'n skoorsteen in die hoek. Van die venster ingebou in die skuins dak kan ek myle oor Parys uitsien. Orals teen die mure het ek rakke aangebring om my boeke te huisves en skilderye van my vriende opgehang. Ook het ek gordyne en 'n klerekas in die skuins hoeke ingebou. Voor die skoorsteen staan 'n regop yster-stofie in die vorm van 'n ronde posbus omtrent 2 voet hoog. Dit het twee kookplekke bo-op, en het my net 10/- tweedehands by 'n vriend gekos. Daarin maak ek vuur met steenkool (ai tog, die rook!) om my kos te kook en die kamer te verwarm - want dis winter en bitter koud net onder die dak. Steenkool kos duur en ek sit meesal in die bed en skrywe. Ek het my eie elektrisiteitsmeter en vrees die tweemaandelikse betalingsdag. Hier is ek geheel afgesonderd van die wêreld, 'n bietjie eensaam, maar terdeë arbeidsaam. Een van die mure was bedek met 'n groot kaart van Parys wat soos ‘'n sisteem kanale op Mars’Ga naar eind30 daar uitgesien het, maar wat vir Jan met sy geografiese agtergrond die ‘argeologiese versekering’Ga naar eind31 van sy woonplek was: ‘Ek staan daarvoor en ek sien myself in dáárdie straat loop en op dáárdie plein miskien glimlag vir die ou bedelaar wat in sy slaap van die bank gegly het om so naby as 'n man maar kan aan Moeder Aarde te wees.’Ga naar eind32 Wanneer hy in die Avenue Parmentier, net tien tree van sy deur, die Café au Canon des Boërs (die Kafee met die Boerekanon) ontdek, is hy intens bly en trots daaroor om iets van sy land in dié groot en vreemde stad terug te vind. As hy 'n glasie wyn daar gaan drink, verneem hy dat die intussen oorlede oprigter van die kafee tydens die Anglo-Boereoorlog saam met die Boere in die veld was.Ga naar eind33 En Jan het daarvan gehou om in die stad rond te loop. Daagliks kon hy deur die Quartier Latin se baie kronkelende straatjies rondslenter of met die Boulevard Saint Michel afstap om in die Luxembourg-tuin op 'n bank te gaan sit. Soms het hy verder gestap tot by die Dôme of die SélectGa naar eind34 op die Boulevard Montparnasse waar Ernest Hemingway in die twintiger- | |
[pagina 141]
| |
jare sy kortverhale gesit en voorlees het aan enigiemand wat wou luister.Ga naar eind35 Tog het hy nooit die geld gehad om uitspattig uit te eet nie en meestal het hy met net een koffietjie 'n hele aand lank in die Dôme gaan sit om met vriende te gesels. Soos Sartre drink hy koffie in die Café de FloreGa naar eind36 en soms sien hy Sartre sit, maar die enigste van dié filosowe en skrywers wat hy 'n bietjie leer ken en mee gesels, is die katolieke denker Gabriel Marcel en André Gide. Dikwels gaan snuffel hy rond in die nat, swart strate van Montmartre by die koerantkioske of in die papierwinkels en besigtig die uitsig oor die stad vanaf die Sacré Coeur, net om snags by die nagklubs in Place Pigalle of die luide kafees in Boulevard Clichy ‘ooggetuie [te] wees van die skouspel van [vleeslike] vreugde’.Ga naar eind37 Dan sou hy afdaal na Les Halles naby die Seine, wat met sy aankoms nog die oorspronklike mark van Parys gehuisves het, lank voordat dit in die moderne kompleks winkels van vandag omskep is. Snags het die dames van die nag in die omgewing van Les Halles - destyds bekend as die Maag van Parys - ook handel gedryf in die laer dele van die liggaamGa naar eind38 en Jan kon tussen die groentes, blomme en kaas ook die walms van koopbare liefde ruik.Ga naar eind39 Die verlate kaaie van die Seine in die nag en die troostelose strate van Les Halles met sy verskoppelinge en prostitute het hom vreemd bekoor: ‘Rye nagvrouens in systraatjies, donkerende getuies daarvan dat die slegste in die mens die sterkste is; en bowe-al van die vrou se besef van haar mag oor die man, op dié punt!’Ga naar eind40 Tog val ‘die bourgeois maag-en-piel bestaan’Ga naar eind41 van sommige van sy vriende hom teë. Ook in hierdie ‘hoofstad van vreugde en liggaam’Ga naar eind42 sou hy, soos vroeër in Suid-Afrika en ten spyte van al sy voornemens en voorbereidings, wegskram van 'n bloot wellustige bevrediging. Uit die briewe aan sy ouers en vriende, uit die inskrywings in sy dagboek en ook uit onderhoude en artikels wat hy jare later, ná sy terugkeer na Suid-Afrika, gevoer of geskryf het, blyk telkens hoe arm Jan in Parys was. Armoede is een van die deurlopende en konstante temas in sy Paryse dagboek, al slaag hy daarin om, soos André P. Brink in sy voorwoord opmerk, ‘selfs daarvan 'n avontuur - al is dit soms 'n wrange avontuur - te maak’.Ga naar eind43 Uit alles lei 'n mens af dat hy 'n soort sigeuner-leefstyl gehandhaaf het, ekonomies wankelrig en Boheems vrysinnig, hoewel geensins losbandig nie. Om met die karige geldjies tot sy beskikking aan die lewe te bly, het hy enige soort werk verrig wat die lede van Franse vakbonde nie graag wou doen nie. Soms vee hy tussen twee en ses snags die metro uit wanneer dit gesluit is; dan weer help hy om die maandblad van die Franse | |
[pagina 142]
| |
spoorwegwerkers te vou en in pakkies vir versending na stede soos Lyon en Marseille in te bind; of hy help tussen twaalf en vyf snags biljette opplak deur met 'n groot kwas, 'n pot gom en 'n hele bladsak biljette van lamppaal tot lamppaal te loop; hy skenk bloed teen betaling, en van tyd tot tyd gee hy by die Ecole Cinélangues lesse in Afrikaans en Engels aan voornemende immigrante na Suid-Afrika. Uit enkele artikels vir Die Brandwag verdien hy darem soms 'n karige bedraggie, maar dit help nie veel om hom van totale hongersnood weg te hou nie. In Oktober 1949 ontvang hy van 'n oom 'n lening van £60. Die lening was egter net uitbetaalbaar in Londen en hy moes £9 spandeer om na Engeland en terug te reis; daarby moes hy die geld onwettig inbring, omdat hy dit volgens Britse wet in Brittanje moes spandeer.Ga naar eind44 Ten spyte van die min geld het hy darem gesorg om aan die begin van iedere maand 'n sak steenkool en 'n sak aartappels te koop om vir die maand te hou. Met die steenkool moes hy vuur maak vir kos en in die winter moes dit help sodat hy nie van die koue sterf nie, terwyl die sak aartappels sy daaglikse stapelvoedsel was. As die honger erg byt, kon Jan darem in die nag koolblare by Les Halles gaan optel om sop van te kook. So 'n pot sop moes hy dan rek deur elke dag water, soms drie weke aanmekaar, by te voeg. 'n Lekker manier om 'n bord kos te verdien, was om laataand saam met studente of vriende na een van die nagklubs te vertrek waar die eienaars vir hulle 'n ete met 'n sjampanje-fles, gevul met 'n goedkoop witwyn, verskaf het, in ruil waarvoor hulle dan onder die ete vrolik moes lawaai om die inloerende toeriste na binne te lok.Ga naar eind45 Vir die hele duur van sy Paryse verblyf het Jan, naas reise wat hy buitekant Frankryk onderneem het,Ga naar eind46 die stad sistematies verken, films, toneelvoorstellings en musiekkonserte bygewoon en die kunsmuseums deeglik besigtig. In die sewe jaar dat hy in Parys woon, hou hy 'n dagboek wat André P. Brink later as Paryse dagboek (1998)Ga naar eind47 redigeer, met snitte vir dié gedeeltes wanneer Jan buite Parys op reis was en waar watermerke die oorspronklike manuskrip onleesbaar gemaak het. Die dagboek was vir Jan self 'n dag tot dag verslag van die totaal vreemde wêreld wat hy met sy aankoms ontdek, maar waarin hy hom met geesdrif en oorgawe indompel en wat hy met verloop van tyd vir homself verower. Met sy planmatige manier van doen, sou hy elke week besluit: dié week gaan ek hierdie paar strate in Parys verken, volgende week gaan ek weer 'n ander buurt van hoek tot kant deurloop. Elke Sondagmiddag, wanneer hy gratis toe- | |
[pagina 143]
| |
gang gehad het, is hy na die Louvre om 'n spesifieke fase in die geskiedenis van die kuns, soos die Griekse en Romeinse beeldhouers of die Hollandse skool of die werk van Da Vinci, noukeurig te bekyk. In sy dagboek teken hy dan met insiggewende kommentaar aan wat hom in die besonder getref het. Op Sondag, 24 Oktober 1948, is hy byvoorbeeld só meegevoer deur Rafael se Jeanne d'Aragon (kyk nommer 32 by die fotoseksie) dat hy die volgende Sondag, 31 Oktober, weer daarna gaan kyk. Bestaan daar, vra hy, 'n skoner skildery met meer trots en jeug en luukse, 'n nakender himne aan die aarde? Vlees, maar trotser as ateïsme. Ongelooflik dat 'n mens so iets kon skep. Raphael is 'n God. Het hy haar geskep? Wie was sy?Ga naar eind48 En veelbetekenend vir die trotse Jan met sy minagting vir vroue voeg hy by: Sy is die eerste vir wie ek sal buig. Hoe vlam sy! Weereens - ag, my God hoe mooi!Ga naar eind49 Ook Jeroen Bosch se Skip van die malles is tydens sy Sondagse Louvreritueel vir hom 'n ervaring (kyk nommer 33 by die fotoseksie): Alles is temptasie na luukse en sonde. 'n Boot, 'n mas bedek deur takke; 'n nar en vis op voorpunt. Uil bo. Mense dronk, met kruike. Alles is vreemd, 'n mistieke seksuele wêreld, alles het ronde, seksuele vorme; almal is rasend dronk, mal van die genot van die liggaam, 'n orgasme van oorgawe aan dit waaraan [lees: waarvan - JCK] Freud se onderbewuste net droom.Ga naar eind50 Wanneer hy dit enigsins kan bekostig, woon Jan ook musiekkonserte by, die ander groot belangstelling wat hy reeds sedert sy kinderjare het en wat vir hom steeds 'n vreugde bly. Op Maandag, 17 Januarie 1949, luister hy na Liszt se Klavierkonsert no. 2 in A-mol. Die komponis, teken hy aan, ‘is seker 'n pirotegnikus, maar ook kunstenaar van fonteine, ontploffings, watervalle, sterrebundels - alles waar geluid 'n bisarre elegansie kan vind’.Ga naar eind51 Op 16 Desember 1948 sien hy byvoorbeeld sir Laurence Olivier in die | |
[pagina 144]
| |
verfilming van Hamlet, 'n uitstekende vertolking. The stranger van Orson Welles vind hy swakkerig, maar Jean Gabin se Pepe le Moko is goed, met ‘skitterende fotografie en goeie natuurlike, ryk handeling’.Ga naar eind52 Hy word besonder getref wanneer hy op 31 Desember 1948 'n uitstalling van die swart Suid-Afrikaanse kunstenaar Gerard Sekoto se skilderye bywoon. In sy dagboek teken hy aan: Nie harde kleure soos Europeërs nie, maar sag, asof van rotspoeier, en tog songedrenk, warm, ryk. Hy skilder net sy mense se wêreld, arm, kleurig, en tog vrolik-lydsaam, nie direk bewus van wit oorheersing nie.... Afrikaanse son, 'n invloed van Degas. Lyn bewus as dekorasie.Ga naar eind53 Maar naas sy reaksies op die stad Parys en die kunswerke wat hy ervaar, gee Jan se Paryse dagboek 'n beeld van die selfanalises waaraan hy homself in hierdie jare onderwerp in 'n poging om homself te vind. Soms is hierdie introspeksies nog baie verward en onsamehangend en, veral as 'n mens onthou dat Jan met sy aankoms in Parys reeds sewe en twintig jaar oud was, is dit die neerslag van 'n late adolessensie en van iemand wat 'n soort hutspot van die baie lees en uiteenlopende denkrigtings met hom saamdra. Wat 'n mens egter telkens tref, is die absolute eerlikheid en integriteit wat uit hierdie inskrywings spreek. Ten spyte van die groot stad waarin hy leef en die ryk kultuur wat hy ervaar, praat hy telkens van sy eensaamheid en sy honger na mense, sy ‘diep, ryk eensaam honger’.Ga naar eind54 Die meeste van sy kennisse se lewens is vir hom oninteressant, klein en belaglik, en hy verlang na 'n vriend met wie hy werklik kan gesels, met wie hy sy idees kan deel en laat groei.Ga naar eind55 Maar so iemand vind hy nie. ‘Waar mense is, is heftige woestyne’,Ga naar eind56 teken hy aan op 24 Desember 1948. In sy uitreik na vroue is daar aanvanklik 'n dualisme wat hom verlam. Hy wil aan die een kant 'n verhouding met 'n vrou aanknoop, maar aan die ander kant vry bly en sy identiteit trots bewaar.Ga naar eind57 Hy is ‘honger vir 'n vrou’ en wil ‘(literêr) nuwe geboorte weer in haar dye...svind’,Ga naar eind58 maar hy ‘kan nie in strate en kroeë swerf soos 'n siek wolf nie’.Ga naar eind59 In die skitterende Parys, die ‘ou, jong, stralende triestige hoer’,Ga naar eind60 'n stad ‘soos nêrens [elders] waar jeug en armoede die wyn is van die honger hart’,Ga naar eind61 maak hy nie van die moontlike vriendskappe of selfs die seksuele geleenthede tot sy beskikking gebruik nie. Met 'n | |
[pagina 145]
| |
toespeling op sy herkoms en opvoeding in sy ouers se huis op Riethuiskraal sê hy: ‘En nogtans is ek 'n klein bang suinige versigtige Calvinissie en het die lente nog nie begin nie.’Ga naar eind62 En met 'n verbysterende objektiwiteit praat hy van homself in die derde persoon: ‘Jan R., 'n klein verwarde romantikus, storm nagmyle oor Parys op soek na een om te bemin.’Ga naar eind63 Van die inskrywings in Jan se Paryse dagboek is van die eerlikste introspeksies wat nog deur 'n Afrikaanse skrywer op skrif gestel is. In 'n klein dagboekie waarin hy kort ná sy aankoms in Parys, van Julie tot Oktober 1948, gedagtes aanteken,Ga naar eind64 lei 'n mens af dat hy in hierdie stadium bevrees is vir die liggaamlike kontak met 'n vrou en 'n afsku het van die seksuele aspek wat so 'n verhouding inhou. ‘Ek is fisies bevrees vir 'n vrou’,Ga naar eind65 skryf hy. Hy vind 'n vrou as seksuele wese weersinwekkend: ‘Dit is waar dat 'n vrou wat haar gereed maak om in die bed by jou in te klim,’ skryf hy, ‘afstootlik is.’Ga naar eind66 Hy besluit: ‘Selfs hier in Parys (waar ek eensaam is en honger na mense, honger) sal ek nie net met my liggaam met 'n ander praat nie.’Ga naar eind67 Enersyds wonder hy of hierdie drang na kuisheid nie voortkom uit sy trots, wesentlik 'n sonde, sy weiering om sy liggaam te besoedel nie. Die vraag ontstaan of hierdie wanbeeld wat hy van die vrou het, nie terug te voer is na die slegte verhouding wat hy as kind met sy oorheersende vader gehad het nie. In 'n moment van absolute eerlikheid vra hy hom af of die seksuele onvolgroeidheid, wat by hom tot 'n sekere vroulikheid lei en sy seksdrang onderdruk, nie voortkom uit die groot negatiewe invloed van sy vader nie: ‘Vader in my samestel, veral seks. My gedagtes is nie manlik nie, maar vroulik: gerig op die reaksie van die vrou allereers. Is dit ten bate van my ydelheid? Of is dit omdat ek [soos hy] my moeder se hart verwinter het? Seksuele puerilisme. Want dit ontneem my manlike inisiatief, dit steriliseer my seksdrang. Oor hoe 'n groot deel van my onderbewuste strek die skaduwee van my vader?’Ga naar eind68 Soms laat hierdie afwesigheid van 'n sterk manlikheid sekere homoseksuele roeringe in sy samestelling vermoed: ‘Ek het 'n gewoonte om in teenwoordigheid van ander mense my hand langsaam oor my hare te stryk, bewus dat my hande slank en mooi is, en geskik vir vertoning. Ook is dit 'n erkenning van my inherente futiele vroulikheid.’Ga naar eind69 Waarmee Jan as mens dus in hierdie jare worstel, is om die romantiese, die vroulike in hom, finaal af te lê en tot 'n volgroeide manlikheid te ontwikkel. Dit is 'n dubbele worsteling, want dit is terselfdertyd 'n uitreik na wat hy as die ideale volwasse menswees vir homself sien én die finale | |
[pagina 146]
| |
afrekening met die digterskap van sy vroeë skrywersjare, 'n digterskap wat hy nou finaal versaak. ‘Ek is werklik 'n swak, bang, nietige mensie’,Ga naar eind70 bely hy, maar hy wil die romantiese jeugdroom van skrywer-wees nou tot 'n allesoorheersende lewensdrang laat uitgroei. Dit beteken die aflegging van alles wat week is. ‘Ek wat 'n bondel papperige emosies is,’ skryf hy, ‘moet alle emosie wantrou, leer om hard en onvrugbaar soos 'n doring te leef.’Ga naar eind71 Dit is nie toevallig dat Jan in hierdie verband die woorde ‘herbore’ en ‘wedergeboorte’ telkens gebruik nie. ‘Miskien is dit 'n tyd van weergeboorte in my,’ sê hy elders, ‘maar net die finale dood van die enige persoon wat ek vol kon gewees het: 'n hoopvolle romantiese kind, gemaak om soos 'n swawel grasieus te skeer deur die helder lug van onskuld.’Ga naar eind72 Wat bring die volgroeide manlikheid, wat hy as sy ideale volwasse menswees sien, vir hom mee? Hoewel hy na Parys gaan om sy menswees te verruim en tot wêreldburger, en daardeur ook tot volwaardige skrywer, te ontwikkel, besef hy geleidelik dat hy dít alleen kan bereik as hy ook verantwoordelikheid vir sy eie land aanvaar. Wanneer hy verneem dat die Nasionale Party met die verkiesing van 26 Mei 1948 'n verrassende oorwinning behaal het en dr. D.F. Malan die nuwe eerste minister word, kan hy dit skaars glo. Tog verwelkom hy dit ‘met die bloed in my wat Afrikaans is’,Ga naar eind73 al voel hy reeds dat daar te veel in die Afrikanernasionalisme sit wat verdag voorkom.Ga naar eind74 In hierdie stadium is daar egter nog by hom 'n botsing tussen hart en rede, bloed en verstand, irrasionalisme en logika, romantiek en realisme. Baie gou neem die rede egter oor. Op 2 Oktober 1948 teken hy aan dat hy ten spyte van die komende strawwe winter in Parys gaan bly: ‘Om honger te leer is beter as om geen honger in Suid-Afrika te hê nie.’Ga naar eind75 Op 12 Oktober vind hy dat sy geboorteland ‘een van die harteloosste en wreedste...[lande] in die wêreld’Ga naar eind76 is en vra hy homself in 'n oomblik van wanhoop af of hy moet teruggaan. Maar dan breek die eerste besef van sy verantwoordelikheid deur in 'n aantekening wat hy op 30 Oktober maak, een van die helderste geformuleerde inskrywings in hierdie vroeë jare wanneer sy dagboek nog veel bevat wat troebel is: Wanneer ek terugkeer in Suid-Afrika, sal ek ons enigste probleem, ons enigste toekoms, in die oë moet kyk. Ek sal moet stelling inneem oor kleurkwessie. Kos wat dit moet. Want ek moet volgens die beginsels en asemhalinge van my siel lewe [...], al kos dit die brood van my en myne. [...] Segregasie is 'n leuen.Ga naar eind77 | |
[pagina 147]
| |
Op 27 April 1949 teken hy aan dat, terwyl hy vroeër trots was op sy land, hy nou skaam is om sy vriende in die oë te kyk wanneer Suid-Afrika ter sprake kom.Ga naar eind78 Onheilspellend sien hy dat ‘die tyd en die land...ons [gaan] uitskop’Ga naar eind79 indien die kleurprobleem nie tot 'n goeie einde gebring word nie: ‘Alles wat ons nie gee nie, sal van ons afgevat word.’Ga naar eind80 Vir die eerste keer sien hy nou duidelik die bruin mense as ons ‘taalbroers’. Wat ons dus hier kry, is die aanloop tot 'n gedagte wat later baie sentraal in Rabie se denke sal wees, naamlik dat daar aan die suidpunt van Afrika 'n volk kan ontstaan wat in huidskleur mag verskil, maar met 'n gemeenskaplike taal as bindende faktor. Daarby kom die gedagte dat hy uiteindelik verantwoordelik is vir net een enkele stukkie aarde, naamlik Suid-Afrika, en vir net een taal, naamlik Afrikaans. Later sal hy sy talente aanwend om menslike verhoudinge in Suid-Afrika uit te beeld en die taal waarin hy skryf, te koester en uit te bou. | |
IVMaar Jan het in die eerste plek na Parys gekom ter wille van die verryking en verruiming van sy skeppende werk. In dié opsig was hy soos baie ander jong kunstenaars in die stad: iemand wat geobsedeer was deur sy roeping as skrywer en vir wie geen ander manier van bestaan as deur sy kuns sinvol sou wees nie, maar vir wie dit in sy besondere stadium van ontwikkeling nie moontlik was om die barrikades wat armoede teen sy roeping opgerig het, te oorbrug nie. In 'n brief wat hy op 31 Januarie 1949 aan Hugo MaraisGa naar eind81 skryf, kla hy oor sy armoede: ‘ek het skaars geld om my daaglikse brood en aartappels te koop, ek leef van Boheemse en eensame Gode.’ Om Frans heeltemal onder die knie te kry, neem heelwat van sy tyd in beslag, en verder ‘vreet en oorvreet’ hy hom aan die rykdom van die Franse letterkunde. Parys is die ideale plek vir 'n arm man wat mooi dinge liefhet, maar ‘'n mens se taal roep jou terug en natuurlik die melktert en die sousboontjies by die Sondagse geelrys met rosyntjies’. Sy skoling het egter nog maar skaars begin en van terugkeer sonder geld vir sy passaat was daar geen sprake nie. Hy verdiep hom dus steeds in die Franse letterkunde en hy dink soms na oor sy kunsopvattinge. Soms is hy ontevrede met die werke van grootmeesters wat hy lees en in sy ongeduld meen hy dat hy dit eendag sal kan oortref.Ga naar eind82 In aansluiting by T.S. Eliot se ge- | |
[pagina 148]
| |
dagtes oor ‘Tradition and the individual talent’Ga naar eind83 meen hy dat selfs sulke radikale vernuwers soos Joyce en Proust nie soseer baanbrekers is nie, maar eerder ‘geniale saamvatters van die beste wat bestaan het’.Ga naar eind84 Voorlopig sal Jan dus in die leerskool van Parys aanbly. In die eerste jaar van sy verblyf doen hy haas geen ander skryfwerk as die inskrywings in sy dagboek nie. Hy vertaal wel in Engels sy verhaal oor Opsigter Dawids, wat op 31 Oktober 1947 in Die Huisgenoot verskyn het, en stuur dit op 29 Januarie 1949 na die Saturday Evening Post,Ga naar eind85 maar dit word nie vir publikasie aanvaar nie. Op 2 Junie 1948 teken hy aan dat hy sy mal ‘kasteroliestorie’ voltooi het. Dit is weer een van sy verhale wat in sy jeugwêreld langs die Kafferkuilsrivier afspeel. Hoewel die handeling 'n bietjie skraal is, munt die verhaal uit deur die karakters se koddige sêgoed en geestigheid. Of hy dié verhaal sonder sukses aan 'n Suid-Afrikaanse tydskrif voorgelê het, is onseker, hoewel 'n mens kan verwag dat Jan in sy knaende geldnood dit wel sou gedoen het. Nêrens uit 'n inskrywing in die dagboek blyk dit egter dat die verhaal afgewys is nie. ‘Die dag van die kasteroliebottel’ - soos hy dit uiteindelik noem - verskyn eers in 1957 in Dakkamer en agterplaas. In 'n brief van 6 Augustus 1948 aan D.J. Opperman stuur hy 'n bydrae vir plasing. In sy brief noem Jan geen titel nie, maar dui hy die verhaal aan as ‘die eerste ding wat ek skrywe hier in Parys’. Hy is nuuskierig of dit genade sal vind in oë ‘so ongenadig’ soos dié van Opperman. ‘Ek het begin’, wei hy verder uit oor sy bydrae, ‘met 'n realistiese verdoeming van sekere landgenote se gewoontes in Parys, maar die ding het die loop geneem en 'n bloedige stamoffer, 'n dans waarvan die ritme reeds ononthoubaar is, geword...Die vader weet of die resultaat goed is, maar die idee vreet my so dat ek lank sulke neurotiese obsessies sal moet voortbring.’ Waarskynlik het Opperman die verhaal - wat die titel dan ook al was - nie geskik genoeg geag vir publikasie nie. Onder Jan se dokumentasie is daar geen verhaal te vinde wat aan die strekking beantwoord wat hy in sy brief aandui nie. Ook van 'n paar ander stukke wat hy in sy Paryse dagboek vermeld, is daar geen spoor onder sy dokumentasie nie. Op 12 Oktober 1948 voltooi hy volgens die dagboek 'n verhaal met die titel ‘Die asbak’,Ga naar eind86 terwyl hy op 3 Desember besig is met die eerste hoofstuk van 'n boek wat hy Die aankoms wil noemGa naar eind87 en in 1949 'n kortverhaal met die titel ‘Sneeu’ aan Die Huisgenoot voorlê. Hy droom ook van 'n boek waarin hy sy eie fantasiewêreld sal skep,Ga naar eind88 maar aanvanklik bly dit by drome. Aan die begin van | |
[pagina 149]
| |
1949 begin hy egter met die oortik van 'n roman wat hy Helgard van die hel noem, 'n manuskrip wat hy op 26 Februarie voltooi en op 6 Maart aan die Nasionale Pers pos.Ga naar eind89 Jan het self hoë verwagting van hierdie roman gehad. In sy brief van 31 Januarie 1949 aan Hugo Marais sê hy, met 'n klaarblyklike verwysing na Helgard van die hel, dat die meeste van sy tyd in beslag geneem word deur 'n ‘groot werk’ wat voorlopig geen geld sal inbring nie. Met die hoofkarakter as 'n soort Don Quixote wou hy met Helgard van die hel 'n spotroman oor Suid-Afrika lewer.Ga naar eind90 Die keurders vind dit egter nie goed nie, want op 22 Mei 1949 ontvang hy 'n brief van die Nasionale Pers waarin die manuskrip afgewys word. Dit kan dan nie gepubliseer word nie, aangesien hy dit waag om 'n Afrikaanse onderwerp met Amerikaanse satire te hanteer. Hierdie afwysing, en veral die rede wat daarvoor aangevoer word, maak Jan woedend. In sy dagboek skryf hy: ‘As ek my land wat ek liefhet nie mag kritiseer nie, nie deur hul uitgewaste houtmeule nie, goed, goed, saagselpoppe, dan moet ek dit in 'n ander taal en by 'n ander pers doen. Voorlopig dan hongersnood en in Engels skrywe.’Ga naar eind91 Jan se satirisering van die Afrikaner se heilige koeie was waarskynlik vir die uitgewer minder aanneemlik, maar daarby was Helgard van die hel gewoon net 'n vrot roman. In Jan se gemoed was die afwysing ideologies gekleur en in sy aanvanklike woede besluit hy om dan, voorlopig ten minste, in Engels te skrywe. Met sy verknogtheid aan Afrikaans en sy liefde vir sy taal, wat hy nou reeds telkemale op skrif gestel het en wat in sy Paryse jare sou toeneem, kon 'n mens egter by voorbaat weet dat sy reaksie net uit 'n opwellende emosie voortgespruit het en dat hy nie werklik Afrikaans vir Engels sou verruil nie, al het hy om praktiese redes in Parys toenemend ook van Engels gebruik gemaak. Weldra sou Jan se skeppende werk 'n gunstige wending neem as hy begin skryf aan die boek van sy drome waaroor hy dit op 10 November 1948 in sy dagboek het. Die bietjie werk wat hy in 1948 en 1949 lewer, was egter - ten minste volgens die oordeel van mense wat dit gelees het - nie 'n gunstige belofte nie. In 1949 ontvang hy 'n brief van sy ou studentevriend Jack Steyn waarin hy saaklike mededelings doen oor die inbetaling van tantième in Jan se Kaapstadse bankrekening en waarin hy ook, met verwysing na die voorlegging van Helgard van die hel aan die Nasionale Pers en die kortverhaal ‘Sneeu’ wat deur Die Huisgenoot vir publikasie afgekeur word, by Jan se toekoms as skrywer stilstaan: | |
[pagina 150]
| |
Jan, ek wil met jou reguit en eerlik wees. Wat is jou plan vir die toekoms? Jy weet jy is nie 'n kind meer nie en dis hoog tyd dat jy 'n werk kry, 'n normale en vaste lewe begin lei en ‘get settled’. Hoewel 'n mens kan aanvaar dat Steyn sy advies met goeie bedoelings aan Jan gestuur het, is dit 'n dwase, kwaai brief aan 'n vriend wat sonder geld in die vreemde sit en hom met absolute oorgawe wy aan die een ding waarin hy hartstogtelik glo. Jan se antwoord hierop, gedateer begin Lente 1949, is hoflik, maar daaruit spreek, naas 'n gesonde eiewysheid en koppigheid, 'n oortuiging van sy eie skrywerskap wat nie debatteerbaar is nie. Hy begin deur te sê Jack se brief was vir hom ‘naïef onthullend’ en dat hyself ‘'n skryfgewoonte’ het, ‘sy dit sleg, sy dit goed’. Hy het sy taal lief en daarby moet iets oor ‘ons lelike kleurprobleem’ gedoen word: 'n Mens word ongelukkig selfs aan die krater se bek gewoond, veral as jy die Bybel en die wywater van blanke kultuur gebruik om die fantome van die blikkiesdorpe te besweer. Ek noem dit omdat die blote woord ‘my land’ onmiddellik 'n wrede kookpot van 7 verskillend gekleurde groentes, of is dit worse of dalk biltongs, voor my oproep. En omdat jy as persman so 'n bietjie by die magtige resepboek sit. Wat sy posisie in Parys betref, skryf hy: | |
[pagina 151]
| |
Ek dra geen lang hare nie en my klere val al uitmekaar. Ons had 'n week sneeu. Ek het 'n verhaal voltooi wat te sleg is vir Die Huisgenoot en wat ek dus maar hier moet bemark. My Frans is al so dat ek, met behulp van 'n Franse vriend wat my, in ruil vir 'n ete, met kommas en verlede deelwoorde help, 'n gangbare produk kan lewer. Wat Steyn se besorgdheid oor sy kunstenaarskap en toekoms betref, sê hy, in 'n passasie waaruit sy onvoorwaardelike en selfs fanatieke oorgawe blyk aan wat hy as sy missie in die lewe beskou: My pad was in S.A. al bepaal, en wat jy 'n ‘Std VI Afrikaans’ noem, sal ek waarskynlik nog verder moet afbring, waarskynlik tot by Std III, omdat in 'n dergelike klas geen kritici, geen dominees en geen vetgat voorbanksitters sal wees nie. Ek kan nie anders nie; by 28 jaar kan ek nie meer kies wat en hoe ek wil skrywe nie, - ek, en my werk, is klaar bepaal. Al wat ek kan probeer is om my werk steeds 'n beter uitdrukking van my te maak. Wees verseker dat ek dit doen; al is dit ten koste van 'n hoër skolêre status. Die enigste bedenking is natuurlik dat die ek wat ek wil uitdruk, niks werd is nie. Ek neem dié moontlike tragedie aan, en waardeer in 'n dergelike lig jou bedenkinge, vaderlik van oorsprong en wat hul eintlik moet bepaal by eie spruite. Jack Steyn was in elk geval verniet bekommerd oor Jan se toekoms as skrywer, want terwyl hierdie briefwisseling plaasvind, was daar reeds in hom sekere dinge werksaam wat binne minder as 'n jaar tot 'n kreatiewe uitbarsting sou lei en sy skeppende werk sou opstoot tot 'n peil wat dié van sy werke uit die veertigerjare ver sou verbystreef. 'n Eerste aanduiding hiervan kry 'n mens as hy in sy dagboek aantekeninge maak oor Kafka, 'n aanduiding dat hy nou met besondere aandag van die surrealisme in die literatuur begin kennis neem.Ga naar eind92 Ná die lees van N.P. van Wyk Louw se Gestaltes en diere skryf hy in sy dagboek:
Beste reëls in bundel: en ek was stil en nagtelik toe,
en soos 'n leë kamer leeg;
en eensaam kan ek luister hoe
dun slakke oor my vel beweeg.Ga naar eind93
| |
[pagina 152]
| |
Dit is verstaanbaar dat Rabie juis in hierdie tyd aan sulke surrealistiese, feitlik Kafka-agtige reëls en beelde uit ‘Die swart luiperd’ van Van Wyk Louw groot waarde sou heg, aangesien dit gespreek het tot iets wat binnein hom aan die woel was en wat weldra tot uiting sou kom. In Februarie 1950, drie maande ná sy inskrywing oor ‘Die swart luiperd’, skryf hy in ‘Baie’, wat hy in 1956 in Een-en-twintig sou opneem, oor die volksraadslid mnr. Wallis wat snags nakend, met net 'n keil op, tussen twee spieëls afwisselend oreer en hartstogtelik-paaiend met sy afwesige geliefde praat. Teen dié agtergrond kan 'n mens Jan se relaas oor twee van sy vriende in sy brief aan Jack Steyn lees as die surrealistiese voorspel tot die ‘prosas’ - soos hy hulle weldra gaan noem - waarmee hy in 1950 begin: Wat betref ek en vrou: na 'n paar ‘affêres’, een langerig, dink ek nog dieselfde as voorheen. Laak dit effens dat 'n mens min of meer gereeld vrou moet gaan soek om jou te verlig en te bevry van die ou slawe-ketting. Dis so oorverdowend logies. Een van my bure, 'n Amerikaanse skrywer (red-hair Prodigy) los die probleem beter op. Na hy 6 maande onderhou is deur 'n vrou en selfs voorsien is van juwele en parfuum, het hy moeg geword; nou trek hy gereeld - vooraf, vooruit - kwaad, koelbloedig soos 'n besigheidstransaksie, sy draad: soggens, net soos hy opstaan, en saans, net na ete, net voor hy voor sy tikmasjien gaan sit. 'n Bietjie masjinaal; miskien bevredigend en tyden geld-besparend. 'n Ander vriend van my word gereeld met meisies, sigarette en wyn voorsien (hy besit niks) sodat hy snags sy wonderlike verhale kan droom. Dan gebruik ons dit. |
|