Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 79]
| |
Hoofstuk IV
| |
[pagina 80]
| |
'n boek oor die tuinprovinsie te skryf en ‘drie jaar lank in Johannesburg gaan woon’.Ga naar eind5 Die gegewens wat Jan hier verstrek, is oor die algemeen korrek, maar ook tergend vaag, want die volgorde is nie chronologies nie en in die meeste gevalle verskaf hy nie datums nie. Omdat die meeste van die klein skooltjies waaraan hy verbonde was, al lankal nie meer bestaan nie en gegewens oor Jan se verwisseling van poste, behalwe enkele skamele stukkies besonderhede in sy dokumentasie, verlore gegaan het, is dit besonder moeilik om sy bewegings met sekerheid te agterhaal.Ga naar eind6 'n Mens het ook die vermoede dat hy vir die eerste kwartaal van 1941 glad nie werk kon kry nie en dat sy vader as bekende onderwysman op die Overbergse platteland, bekommerd oor Jan se toekoms, vir sy oudste seun by die Onderwysdepartement vir poste bemiddel het. Indien Jan dan wel, soos hy in sy outobiografie beweer, in die Swellendamse distrik onderwys gegee het, was dit in 1941. Met dié betrekking, waaroor daar geen verdere besonderhede bestaan nie, was hy terug in die tipiese golwende landskap van die Overberg en teenaan die Langeberge wat hy ook as skoolkind op Riversdal leer ken het. Deur sy studie van geskiedenis op Stellenbosch sou Jan geweet het dat Swellendam in 1795 die toneel van politieke onrus was toe die inwoners in hul verset teen die Kaapse owerheid 'n kortstondige onafhanklike republiek uitgeroep het. Moontlik het hy ook geweet dat die burgers se halfhartige optrede om hul land later daardie jaar teen die Britse inval te verdedig, die aanleiding was tot die eerste gedig waarin taalhistorici in die van Nederlands afwykende taalgebruik die eerste proewe van Afrikaans bespeur het: die anonieme ‘Lied ter eere van de Swellendamsche en diverse andere helden bij de bloedige actie aan Muisenburg in dato 7 Aug. 1795’. Dit is egter onwaarskynlik dat Jan in hierdie stadium sou geweet het dat sy latere vriend en geesgenoot, Uys Krige, op 4 Februarie 1910 op Bontebokskloof gebore is, 'n pragtige plaas met baie melkhoutbome aan die voet van die Langeberge en ongeveer twintig kilometer van Swellendam. In die Swellendamse distrik was Jan tot hoogstens eind Augustus, want van September 1941 tot Mei 1942 was hy, volgens inligting wat hy by 'n ongepubliseerde manuskrip verse verskaf, verbonde aan 'n plaasskooltjie naby Ruigtevlei tussen die Wildernis en Sedgefield. Met dié verskuiwing was hy in die onmiddellike nabyheid van Rondevlei waar hy die eerste paar maande van sy lewe deurgebring het, voordat sy vader vir verdere | |
[pagina 81]
| |
studie met die gesin Stellenbosch toe is. Hier was hy dus weer by die skitterwit strande in die skilderagtigste deel van die Tuinroete wat hy as baba hoogstens in sy onbewuste kon opgeneem het, maar wat hy nou, steeds as buitemens, verknog aan die natuur, ten volle kon leer ken. Saam met die skoolseuns kon hy sokker speel en in die namiddag kon hy in die vleie tussen die biesies en riete of by die see gaan visvang en swem. Ruigtevlei was buitendien 'n goeie teelaarde vir sy geografiese belangstelling. In die laaste kwartaal van 1942 het Jan op Langfontein waargeneem vir 'n onderwyser wat met siekteverlof was. Dit was 'n plaasskooltjie wes van Gouritsriviermond, feitlik teenaan die see en nie ver van Riethuiskraal nie waar sy vader steeds skoolhoof was. Jan het in 'n buitekamer ingewoon by mnr. Daan Botha, grootvader van Dirk Oosthuizen wat later op verskillende plekke bemarkingsbestuurder van Sanlam was en stadsraadslid op Stellenbosch. Dirk was toe elf jaar oud en in standerd IV. In latere jare kon hy die kwartaal by Jan in die klas as sy aangenaamste tyd op laer skool onthou. Jan het in kinders belanggestel, baie vir hulle gedoen en vir hulle vertel van dinge en plekke waarvan hulle toe nog niks geweet het nie, soos hoe dit is om aan 'n universiteit te studeer en op Stellenbosch in 'n koshuis in te woon. Meestal het hy, anders as ander onderwysers, aan die begin van 'n skooldag sy baadjie uitgetrek en só 'n aangename, ontspanne atmosfeer in die klas geskep. Die kinders het gevoel hulle wil met hom saamwerk. Elke middag ná skool het hy afgesit see toe om te gaan swem of visvang, en dikwels is van die kinders op die plaas met hul bewonderde onderwyser saam.Ga naar eind7 Waarskynlik het Jan ná die kwartaal op Langfontein 'n tyd lank voltyds geskryf, maar in die wintermaande van 1943 gee hy onderwys op Jamestown in die Oos-Kaap waar hy aan die hoër skool verbonde is. Steeds het hy egter sy seunsagtige, speelsiek onnutsigheid tussen die groter kinders behou. In die skilderagtige omgewing van die Stormberge het hy, as deel van die aktiwiteite van die Voortrekkerbeweging, die seuns op skattejagte veld toe gestuur, met ingewikkelde kaarte as leidraad. In die koue bergwêreld van die Stormberge het hy altyd sy truie met die V-hals na agter en die ronde hals na voor gedra, iets wat hom so 'n bietjie na 'n Engelse predikant laat lyk het. Met die eerste sneeuval is Jan in die nag teen die rantjies uit om in die kapok te baljaar.Ga naar eind8 Die skrywer Hennie Aucamp - toe nog in standerd II op Jamestown - kon later sê dat hy sy eerste romantiese beeld van hoe 'n skrywer moet lyk, van Jan gekry het. In die paar maande | |
[pagina 82]
| |
op Jamestown het Jan op almal 'n groot indruk gemaak en niemand het vergeet dat hy daar was nie, selfs al was nie almal altyd ingenome met hom nie. Jare later kon Anna Calitz, wat saam met hom skoolgehou en geloseer het, vertel hoe mislik sy geword het as Jan sy ontbyteier sommer in sy pap geroer en so geëet het. Soms het hy saam met haar na Mozartopnames geluister, maar nooit aangebied om haar swaar tas te dra nie. Op 'n dag toe hy weer saam met haar is, het sy eenvoudig vir hom gesê: ‘Omdat jy so onbeskof is, mag jy nie saam na die musiek luister nie!’ Hoewel hy in Sestigers in woord en beeld nie 'n datum verskaf nie, moet dit in 1944 gewees het dat Jan 'n jaar lank aan 'n onderwyskollege te Clarkesbury naby Umtata in die Transkei verbonde was. As kind in die geslote wêreld van Riethuiskraal was die naaste bruin mense meer as tien kilometer van hulle af en was swart mense so te sê onbekend. Omdat hy haas geen kennis van die Xhosas gehad het nie en nuuskierig oor hulle was, het hy die geleentheid op Clarkesbury aangegryp. Daar gee hy klas in Afrikaans en aardrykskunde.Ga naar eind9 Iets van Jan se ervarings in die Transkei vind neerslag in die verhaal ‘Enkosi kakhulu’ wat in Die Naweek van 29 Augustus 1946 verskyn. Eintlik is dit meer 'n relaas oor 'n spesifieke voorval as 'n verhaal. 'n Bejaarde swart man wag 'n hele dag lank op 'n bus wat hom na die hospitaal in Umtata sal neem waar sy vrou uiters siek lê, maar omdat hy nie die regte kleingeld het nie, laat die ongevoelige bestuurder die bus sonder hom vertrek. 'n Mens bespeur in die weergawe van dié gebeurtenis 'n groeiende bewussyn by Jan vir die probleme waarmee swart mense in hul daaglikse lewe te make het en vir die botte en ruwe optrede waaraan blankes hulle soms in hulle optrede teenoor dié mense skuldig maak. Daarby gee Jan die Transkeise landskap met sy ‘rustig-groen rante, elkeen met sy versameling paddastoelhutte’, die ‘heuphoë grasstele’ en die weiende beeste en skape fyn weer. Reeds op Langfontein het Jan gevoel dat hy verder wil studeer, maar dat hy hom by voorkeur nou in die letterkunde wou bekwaam. Omdat hy Engels net op eerstejaarsvlak en Hollands op tweedejaarsvlak voltooi het, was nagraadse studie in die letterkunde egter vir hom uitgeslote by die Universiteit van Stellenbosch. Daarom skryf hy in die jare 1943-1944 in by die nie-residensiële Universiteit van Suid-Afrika en voltooi hy Engels II en Hollands III.Ga naar eind10 Hierdie verdere kwalifikasies, en die feit dat hy nou 'n bietjie geld opgegaar het, stel Jan in staat om in 1945 na Stellenbosch terug te keer en die M.A. te voltooi. Ná 'n kort tydjie op Stellenbosch en | |
[pagina 83]
| |
Simonstad ná afloop van sy studie vertrek hy in Augustus 1946 na Johannesburg waar hy voltyds skryf. Dat hy egter drie jaar daar gewoon het, soos hy in sy outobiografiese geskrif te kenne gee, is heeltemal onjuis. Waarskynlik was hy altesame nie langer as 'n jaar in Johannesburg nie, want in Maart 1947, toe koning George VI van Brittanje saam met sy gesin op besoek aan Suid-Afrika was, is Jan besig om Natal met die oog op 'n reisboek te deurkruis. Hy is by wanneer die Zoeloes op Dinsdag, 18 Maart, 'n vertoning van hul tradisionele koningsdans voor die Britse besoekers op Eshowe lewer.Ga naar eind11 In die tweede semester van 1947 neem hy as onderwyser op Riethuiskraal waar in die plek van sy vader wat met siekteverlof was. Aan die einde van die jaar is hy terug in Johannesburg. Die tydelike betrekkings as rondtrekkende onderwyser het vir Jan die voordeel ingehou dat hy verskillende dele van die land goed kon leer ken. En omdat hy soms 'n kwartaal lank of langer - uit eie keuse of weens die tekort aan vakatures - sonder 'n pos was, het dit hom die kans gegee om baie te skryf, 'n geleentheid wat hy nie onbenut gelaat het nie. | |
IIReeds in 1939 op Stellenbosch, ongeveer 'n jaar en 'n half nadat sy eerste gedig in Die Stellenbosse Student gepubliseer is, stel Jan manmoedig 'n eerste bundel verse saam waaraan hy die titel Bewuste stryd gee. 'n Jaar later skryf hy die datum 18 November 1940 by 'n tweede versameling waarin hy dié gedigte uit die eerste bundel oorhou wat nog tot hom gespreek het en waarin hy van sy nuwe verse opneem. Daar was egter geen sprake dat 'n uitgewer dié week, dikwels abstrakte en vaag romantiese verse sou publiseer nie. Daarom ook dat hy dié manuskripte vir homself hou. In sy eerste jare as onderwyser gaan Jan steeds voort om verse aan blaaie soos Die Huisgenoot en Die Landbouweekblad te stuur. Merkwaardig, omdat dié tematiek, behalwe dan by Uys Krige, haas volledig in Afrikaans ontbreek, is die gedig ‘Haat’Ga naar eind12 waarin die Tweede Wêreldoorlog figureer: Hul praat van oorlog - die rooi
vlamloop van bloed na die hoof;
is alle egte liefde dan net hoon
vir die vuur en die drifgang van die roof?
| |
[pagina 84]
| |
Dié gedig is een van die min aanduidings in Jan se werk dat die Tweede Wêreldoorlog nie ongemerk by hom verbygegaan het nie. Anders as sy latere vriend Uys Krige, wat tydens sy verblyf in Frankryk en Spanje in die jare 1931-1935 die aanlope tot die oorlog in die magswellus van die Fascistiese diktators kon waarneem en met van die uitgeweke Duitse skrywers in Sanary-sur-Mer kon gesels, was Jan in die geïsoleerde wêreld van die Overberg klaarblyklik onbewus daarvan dat Hitler se optrede nie alleen die wêreldvrede nie, maar alle norme van beskawing en kultuur in gevaar stel. Die gedig spreek hom slegs uit teen die haat wat orals heers en gee geen aanduiding van waar Jan se simpatie lê nie. Moontlik was hy in dié jare apaties wat internasionale politieke aangeleenthede betref en was sy latere sterk oortuigings en beginsels op die gebied van die politiek nog nie genuanseer genoeg om in 'n gedig verwoord te word nie. Hoewel sy vader sterk anti-Engels gesind was, is daar geen sprake daarvan dat Jan of enige lid van sy gesin, soos 'n minderheidsgroep onder die Afrikaners, pro-Duitse simpatieë gehad het nie. Eers later in die veertigerjare sou hy gevoeliger word vir kwessies van dié aard. ‘Haat’ is deur die strofeverdeling en rym op pad om 'n sonnet te word, maar die kategoriese verwagting van wat 'n sonnet behoort te wees, word verydel deur die metriese onrustigheid en die slotreëls wat met die woorde ‘stroom’ en ‘oor’ buite die rympatroon val. In vergelyking met dié wat hy as voorgraadse student op Stellenbosch geskryf het, is heelparty gedigte van Jan uit die veertigerjare losser van bou en bespeur 'n mens iets van 'n eksperiment in die rigting van die vrye vers, al buit hy die moontlikhede daarvan nie uit nie. Steeds word sy poësie, soos vroeër, ontsier deur 'n metriese dreun, argaïstiese woordgebruik, rymdwang, eksplisiete beelding, naïewe toepassings en 'n sinsbou wat soms teen die Afrikaanse grammatika ingaan; net enkele kere beïndruk hy met 'n mooi beeld of woordgebruik, soos ‘lemoen-geel Maart’ in ‘Herfsblare’.Ga naar eind13 Dit is egter 'n poësie met weinig verrassings en tematies is daar ook min vernuwing. Die meeste gedigte is vervul met 'n somberheid, hoewel hy soms, soos in ‘Somer’,Ga naar eind14 'n gedig wy aan die vreugde wat hy in die natuur vind en die wens uitspreek ‘dat alles vir ewig / so vraagloos en helder kan bly’. Sommige verse gee mooi stemminge, sommige stel vrae oor lewe en dood en in enkeles bely hy sy uiterste eensaamheid, soos in ‘Want jy sal alleen bly’: | |
[pagina 85]
| |
Alleen sal jy bly
Omdat jy anders gemaak is as al die mense;
Alleen in die skemere tent
Van jou eie, heimlike wense -
En jou eensaamheid
Sal 'n kring van blink spiese
Maar ook van agteraf haat om jou dra ...Ga naar eind15
'n Tema wat reeds in die Stellenbosse fase van Jan se ontwikkeling sy verskyning gemaak het, naamlik die onmag om as gevolg van die onrus van die eie hart volkome lief te hê, kom nou terug. Nêrens word dit duideliker verwoord as in die laaste twee strofes van ‘Ver is die rus’Ga naar eind16 nie - 'n vers wat egter, ondanks die plek-plek mooi verwoording, in 'n tersineskema sonder enige bindingsfunksie hoegenaamd ‘ingeklee’ word: My hart klop in die pyn van afskeid, lief,
En nooit kan ek een lied volkomentlik,
En nooit jou liefde myne maak.
Want in die skaduwees van alle dinge klop my hart,
En in die skemer waai die onrus rond
Wat my vir ewig swerwer maak.
In die loop van 1942 verminder Jan se voorleggings van gedigte aan tydskrifte aanmerklik. Eers teen die einde van 1944 sal hierdie stroompie weer sterker begin vloei. Die rede hiervoor is dat Jan 'n hoër waardering vir die prosa begin ontwikkel het. Die poësie het vir hom langsamerhand 'n luukse vir die persoon met 'n fyn kunssin geword, 'n vorm wat met die baie slim woorde werk,Ga naar eind17 terwyl die prosa van destyds 'n doodgewone reguit storie vereis het. Wanneer 'n mens so baie romantiese gediggies soos hy geskryf het, ontwikkel daar die behoefte om met jou voete plat op die grond te staan en 'n storie te vertel. Miskien kan hierdie wending na die prosa dus toegeskryf word aan die drang om te vertel. Die stukke wat Jan in die jare 1941-1945 in tydskrifte soos Die Huisgenoot, Die Naweek en Die Huisvrou publiseer, is almal die tipiese tydskrifverhale van die tyd. ‘Weerontmoeting’Ga naar eind18 handel oor twee jongmense, Pierre en Lenie, wie se jong liefde nie kon ontluik nie en wat | |
[pagina 86]
| |
mekaar weer vyf jaar later ontmoet wanneer Pierre op die punt staan om met 'n ander meisie te trou. Nou besef Lenie dat sy hom steeds liefhet, maar Pierre wys haar af. Sy, wat voorkeur gee aan 'n lewe in die stad, staan tussen hom en sy liefde vir die plaas wat hy nou al soveel jare bewerk en waaraan hy verknog is. Die newemotief in dié verhaal, naamlik die onvermoë tot oorgawe in die liefde, was reeds in Jan se studenteverse aanwesig, en hier word dit binne die konteks van die verhaal betrek as Lenie se broer, die verteller in die verhaal, iets van haar afwysing van vyf jaar tevore vertel. In so 'n vroeë stadium in die lewe, sê hy, ‘is alle jong mense skaam om openlik te praat oor dinge wat na aan die hart lê’. Dit is 'n skroomvalligheid wat Jan self in hierdie jare in oortreffende mate in sy verhouding tot mense van die ander geslag beleef. Ook drie ander verhale wat van Jan in dié tyd verskyn, toon die tipiese kenmerke van die tydskrifverhaal. Uit die vertelling van 'n ou vroutjie tydens 'n rit na Pretoria oor die toewyding aan haar sieklike man kom Martie in ‘Vroutjie in swart’Ga naar eind19 tot die besef van hoe sy teenoor haar geliefde Hans, wat die motor bestuur, moet optree. Dit is 'n boeiende gegewe, maar Rabie laat die verhaal eindig waar die jong paartjie, nadat hulle die ou vroutjie afgelaai het, in die motor in mekaar se arms vlieg. Vir die werklike ontknoping sien hy, waarskynlik as gevolg van dieselfde skroom, nog nie kans nie. ‘Die blou huis’Ga naar eind20 het in die tradisie van die spook- of spanningsverhaal 'n pakkende inset as 'n groep vriende in 'n strandhuis intrek en van iets onheilspellends bewus word wat hulle daaglikse lewe beïnvloed. Tydens 'n bootrit vertel die skipper hulle dan die droewige geskiedenis: van hoe die ryk eienaar van dié pragtige woning sy geliefde tydens 'n storm op see verloor het en hoe hy uiteindelik, gedryf deur selfverwyt, in 'n inrigting vir kranksinniges beland. Wanneer die besoekers na die hawe wil terugkeer, beland hulle nou self in 'n storm wat amper hulle lewens eis. Hierdie verwikkeling bring dan die nodige katarsis, want daarna is hulle ontslae van die onheilspellende wat hul lewens tydens die vakansie binnegedring het. Ongelukkig is daar geen logiese verbinding tussen hierdie katarsis en die eienaar se lot nie, sodat die verhaal die nodige eenheid mis. 'n Baie ligte verhaal is ‘Romeo en Juliet’.Ga naar eind21 Drie vriende besluit dat een van hulle, aangewys deur 'n loting, die taak sal hê om met die beeldskone nuwe onderwyseres op die dorp kontak te maak. Hy doen dit in terme van Shakespeare se liefdesdrama deur die rol van Romeo te speel, terwyl sy in die spel meespeel en Juliet word. In die restau- | |
[pagina 87]
| |
rant, waar hulle ná 'n wandeling gaan eet, stel hy voor dat hulle hul werklike identiteit openbaar. Met die noem van hulle volle tipies Afrikaanse doopname word die romantiese spel verbreek en eindig alles in 'n lawwe lagbui. Meer as 'n stukkie stuitigheid is die verhaal egter nie. Jan publiseer in die vroeë jare veertig net enkele verhale in tydskrifte, omdat hy saam met die skoolhouery ook met groter projekte besig is: sy twee eerste romans. Moontlik het die Voortrekkereeufees van 1938 hom sy eerste tema gebied, want later sou hy sê dat Nog skyn die sterre, soos hy sy debuutroman noem, die ‘neerslag [is] van my Afrikaanse bewussyn’Ga naar eind22 wat hom in dié jare by die Groot Trek laat begin het. Die verhaal neem 'n aanvang in die jaar 1834 met die vrystelling van die slawe en volg die lotgevalle van 'n groep Trekkers wat as gevolg van die probleme op die onrustige oosgrens die ou Kolonie verlaat, noordwaarts trek en by die samevloeiing van Rietspruit en die Caledon vir 'n tydelike verblyf uitspan. Uiteindelik besluit hulle om oor die Drakensberge na die ooskus te trek, maar roep die Republiek Natalia - wat hulle intussen, ná die moorde by Weenen en die Slag van Bloedrivier, gestig het - vaarwel toe wanneer die Britte dit annekseer. Die roman eindig met die trek Transvaal toe, die ‘bedoelde land’ waarvan sy medestudent op Stellenbosch, F.A. Venter, later in sy Trek-tetralogie sou praat. Rabie maak in Nog skyn die sterre dus gebruik van die historiese verloop van die Trek, maar die bekende leiersfigure, soos Retief en Potgieter, en die belangrike gebeure van die tyd verskyn hoogstens op die periferie. Die hoofkarakters in die roman is fiktiewe figure en die verhaal van 'n romantiese liefdesdriehoek word met die historiese verloop vervleg. Met die hoof- en talle newetemas en die herhaalde verskuiwings van die figure beweeg die roman broksgewys van een toneel na die ander, waarmee dit struktureel by die episodiese ouer Afrikaanse verhaalkuns aansluit. Tussendeur blyk uit talle van die beskrywings, soos die siening van die son as ‘'n swygende, wit meester’ wat ongenadig die reisiger ‘toestraal’,Ga naar eind23 die dag as ‘'n wit belofte’Ga naar eind24 en ‘die silwer fluitroepe van tallose voëls’Ga naar eind25, dat hier by tye 'n digter aan die woord is. Tog voel 'n mens dat al dié beskrywings, soos ook baie van die episodes en uitweidings, nie essensieel vir die verhaalgang is nie en dat die toeval soms, soos tydens die aanval op Johannes waar Petrus hom net betyds red,Ga naar eind26 'n te groot rol speel. Baie tonele, soos die vloed-toneel,Ga naar eind27 het eintlik geen funksie ten opsigte van die geheel nie en werk verbrokkelend in op die roman. Soms is daar ook | |
[pagina 88]
| |
hinderlike stukke didaktiek wat die verhaalgang verder versteur,Ga naar eind28 en telkens verval Rabie in mooiskrywery, veral as dit kom by liefdestonele wat hy kennelik steeds nie kan hanteer nie. Wat 'n mens egter tref, is hoe Rabie by tye die Trek-idioom mooi in sy verhaal inspan, soos ‘Ons rol swepe oop oor twee dae’.Ga naar eind29 Ook die tipiese lewe van die Trekkers, met hul gebruike en resepte, vind neerslag in die roman. Van sy slaaf Augus leer Petrus byvoorbeeld om 'n brandende stomp in die koffie te gooi om die moer gouer te laat sak en die drank 'n voller geur te gee.Ga naar eind30 Dat die roman egter meer wil wees as 'n liefdesverhaal teen die agtergrond van die Groot Trek, word duidelik uit die stukkies besinning oor die Afrikanervolk wat telkens in die loop van die verhaal ingevleg word. Dat die verteller, wat 'n mens hier met Rabie kan gelykstel, 'n hoë dunk van sy volk het, blyk uit sy oortuiging dat dit ‘seker maar een maal in duisend jaar [gebeur] dat die ratte van die tyd so 'n volk uitdraai’.Ga naar eind31 As besondere kwaliteite van die Afrikaner noem hy dan sy eenvoud, kinderlikheid en direktheid in al sy uitgangspunte tot die lewe.Ga naar eind32 Hy is hier nog vervul met die gevestigde nasionale waardes van die Afrikaner, maar dit word reeds op 'n wyse geformuleer wat, deur die afwyking van die tradisionele Calvinisme, daaraan 'n moderne aanskyn gee. As hy sy bewondering vir die Afrikaners se eerlikheid in hul verhouding tot die ewigheid uitspreek, formuleer hy dit as dié ‘ewigheid wat hulle God genoem het en nou met 'n vraaglose opregtheid hier in Sy huis kom vereer’,Ga naar eind33 'n stelwyse wat in 'n tyd van Voortrekkerfeeste en opstuwende nasionalisme verrassend aandoen. En wanneer hulle vryheid hulle ontneem word, is hierdie klein volkie bereid om weer te trek en alles op te offer ter wille van 'n grootse ideaal. Cornelius de Beer sê: ‘Ons moet Transvaal-toe trek. Dit gaan ons doen, so seker as wat ons hier swaarkry onder die hoë God se hand. Ons gaan 'n tweede Trek begin, 'n beter Trek. Ons sal die waens weer inspan, die osse weer aankeer en ons plase weer oorlaat aan die wildernis en die ongedierte om vir ons 'n vry land te gaan uitsoek.’ | |
[pagina 89]
| |
bare en deurmekaar begin praat, maar met 'n glans op die gesigte; ruwe werksmense, met bloed en sweet aan hul growwe klere; doodgewone mense, maar met 'n helder lig in hul oë en 'n grootse ideaal in hul harte. Want só is op hierdie oomblik in Natal vir Suid-Afrika die daaropvolgende eeu gebore ...Ga naar eind34 En aan die einde word die titel van die roman geaktiveer in die visioen waar die hooffiguur Johannes, in die duister vertroos deur die lig van die sterre, hoopvol wag op die daeraad, 'n slot wat 'n vergelyking uitlok met dié van J. van Melle se Bart Nel waar die hooffiguur, ten spyte van al die ellende, ‘algaande na die ruim lig’Ga naar eind35 onderweg is: Die velde was in duisternis gehul toe Johannes oor die onderdeur staar, en daar was geen horison nie. Maar daar was nog sterre aan die hemel. Tallose helder sterre om te troos deur die donker ure tot die dag sou kom.Ga naar eind36 Wat 'n mens egter opval, is dat Rabie se nasionalisme in Nog skyn die sterre taamlik tradisioneel en konvensioneel is en dat hy in hierdie fase van sy lewe in 'n groot mate onkrities staan teenoor die Afrikaner wat, gestimuleer deur die simboliese Ossewatrek van 1938, in die veertigerjare 'n opwellende nasionalisme beleef en nie altyd vry was van 'n geheul en 'n flirtasie met Nazi-ideologieë nie. Dit is moeilik om die latere selfbevryde Jan Rabie hier te bespeur, behalwe dan in die preokkupasie met die wording van 'n volk waaroor dié roman, ten spyte van die liefdesintriges en uitweidings, wesentlik handel. Dat hy in Nog skyn die sterre juis die Groot Trek as dié sentrale moment in ons volkswording uitlig, is des te meer merkwaardig in die lig van sy latere voorkeur vir 'n ander, vroeër fase: dié tydperk in die geskiedenis van die Boland toe mense van Europese herkoms met Afrikane en Oosterlinge vermeng en tot 'n nuwe volk aan die suidpunt van Afrika begin groei het. In die plek van die ossewa sou eerder die skip vir hom die simbool van die Afrikaner word, al bespeur 'n mens in so 'n voorkeur 'n bietjie aweregse, treiterende moedwil.Ga naar eind37 In die besonder val dit 'n mens op dat hy in dié roman geen empatie met die swart mense openbaar nie. Wanneer Kobus Snyman die Engelsman John Andrews met 'n karwarts twee maal deur die gesig slaan, lok dit 'n reaksie van Johannes uit: ‘'n Witman maak nie só met sy vyand as hy | |
[pagina 90]
| |
hom in sy mag het nie. Dit is 'n Kaffer se manier, nie 'n witman s'n nie.’Ga naar eind38 Die ‘Kaffers’ word beskou as wreed en primitief, al moet 'n mens toegee dat Rabie daarmee die siening van die gemiddelde Voortrekker weergee, nie noodwendig sy eie beskouing nie. Tog bou hy in sy roman geen behoorlike korrektief op hierdie en dergelike situasies in nie. Dat Jan later self ongelukkig gevoel het oor hierdie eerste roman, blyk uit 'n aantekening in een van sy dagboeke. In die lente van 1971 lees hy sy hele oeuvre vir die eerste keer deur. By Nog skyn die sterre teken hy aan: ‘Ware verkrampte volksaamdink-boek, Voortrekkers roei Kaffers en wild denkloos uit.’ In die kritiese waardering wat saam met die outobiografie in Sestigers in woord en beeld: Jan Rabie opgeneem word, sê J.C. Coetzee dat dit verreweg Rabie se ‘konvensioneelste’ roman is. Hy gaan voort: ‘Van die latere Rabie, die vernuwer, die geskiedenis-ómskrywer, die blootlegger van eie volk se onregplegings, is hier geen teken nie. [...] Die verhaal het 'n soort draaiboek-beweeglikheid, maar bevat heelwat onfunksionele elemente soos dekoratiewe natuur en doellose persoonsverhoudings. Geen van die karakters leef outonoom nie, allermins die historiese.’Ga naar eind39 Maar met die publikasie in 1943 was Jan in die sewende hemel. Hy is op Jamestown wanneer sy eerste boek verskyn, 'n gebeurtenis wat hom, soos Hennie Aucamp dit stel, ‘wonderlik “anders”’Ga naar eind40 in die gemeenskap gemaak het. Die verskyning is gepas gevier met tee, cream crackers en kaas.Ga naar eind41 Van Jamestown stuur hy in September 1943 'n eksemplaar met die volgende inskripsie: ‘Aan Pappie en Mammie - As alles eers verby is weet jy dat dit nie die ideaal is wat belangrik is nie, maar net die feit dat jy een gehad het.’ En as 'n naskrif voeg hy by: ‘Ons mense probeer mos darem almal - al is die resultaat gebrekkig.’Ga naar eind42 En voorin die boek druk die idealistiese Jan 'n opdrag af: ‘Opgedra aan die nederiges in hierdie lewe - omdat hulle so min is.’ Die enigste noemenswaardige bespreking wat van die roman verskyn, is die resensie in Ons Eie Boek, die letterkundige kwartaalblad wat Jan se Stellenbosse professor, F.E.J. Malherbe, van 1935 af redigeer.Ga naar eind43 Dit is geskryf deur sy medestudent Gerhard J. Beukes, 'n nogal geniepsige stuk as 'n mens die tydsomstandighede in ag neem. ‘Dit skyn byna onmoontlik’, begin Beukes sy bespreking, ‘dat 'n roman wat daardie dramatiesgelaaide tydperk in ons bestaan, die Voortrek, tot tema het, geskryf kan word op so 'n wyse dat dit ten spyte van 'n eerlike poging tot meelewing, gelees kan word sonder enige ontroering.’ Sy belangrikste beswaar is dat | |
[pagina 91]
| |
daar te veel episodes in die roman is wat nie met die hoofhandeling verband hou nie. Daarby word ‘die sobere historiese gegewens...van die eerste bladsy af te veel gedekoreer deur soutlose en doellose natuurbeskrywings in 'n bewuste poging om die roman op te hef tot sekere verlangde literêre waardes.’ Hierdie negatiewe ontvangs van sy debuutroman het Jan egter nie gekeer nie. Wanneer Beukes se resensie verskyn, is Jan se tweede roman, Geen somer, wat hy ‘aan Vader en Moeder’ opdra, reeds op die pers. Dit verskyn in die loop van 1944 en belewe in 1946 'n tweede druk. Dit sou die enigste van sy romans uit die veertigerjare wees waarvoor hy later self waardering gehad het. Geen somer, skryf hy, is, in teenstelling tot Nog skyn die sterre, ‘darem eg in soverre dit Riethuiskraal se landskap met kennis en liefde beskryf; terwyl die verhaal gaan om 'n seun wat hom aan 'n sterk vader ontworstel’,Ga naar eind44 al voel hy in 'n aantekening in een van sy dagboeke dat die strenge patriargale vader die emosionele vrywording van die seun te veel oorheers. Wanneer 'n mens iets weet van Jan se jeugjare, val die outobiografiese lading van die roman op, al sal dit heeltemal misleidend wees om dit in alle opsigte as 'n verhaal van sy lewe te lees. Die omgewing van Riethuiskraal kom in breë trekke ooreen met die wêreld van sy jeug; selfs plekke soos Melkbosch en karakters wat hy as kind geken het, soos Bêrend Beker en die Kleynhans- en Volschenk-gesin, is name wat werklik bestaan het, soos ook Susanna le Roux die outentieke naam van sy moeder was. Daarteenoor is daar talle versluierings, soos Stilbaai wat hier Bloubaai heet, Riversdal wat in Poorten verander is en die Kafferkuilsrivier wat tot Kuilsrivier verkort word. Volgens ouderdom moet die seuns Hendrik en Flippie met Jan en sy broer Louw onderskeidelik korrespondeer, maar vir gebruik in sy boek ruil Jan die rolle om sodat hy die jonger broer word. Die newemotief van Hendrik, wat op Mart, 'n meisie uit 'n ander stand as die Rensburgs, verlief raak, korrespondeer met iets uit die verlede, maar dit is weer 'n geval van 'n omkeer van die rolle, want in werklikheid was dit Jan se suster Martha wat op 'n bywonerseun verlief was. Dit roep 'n stadium in die geskiedenis van die Afrikaner op toe verskil in klasse nog baie sterk gevoel is. Met die verwoesting van die vallei deur die vloed en Stefaans se ‘onbeteuelde begeerte’Ga naar eind45 om die plaas wat hy verloor het, weer te besit, neem die verhaal egter 'n loop wat nie na Jan se vader herlei kan word nie, al is klein besonderhede in die gang van die verhaal tog gegrond op werklike | |
[pagina 92]
| |
gebeurtenisse. As hy tydens die vloed vertel van die ‘verkluimde bobbejaan’Ga naar eind46 wat op 'n stomp op die rivier afgespoel kom, weet die ingeligte leser uit die vermelding van dieselfde voorval in sy regstreekse outobiografiese ‘Rivier van my jeug’ in Klein koninkrykGa naar eind47 dat dit werklik gebeur het. Daarteenoor is die wedywering tussen Hendrik en Freek tydens die koringsny,Ga naar eind48 'n tweegeveg of duel met die sekel in plaas van die tradisionele swaard of pistool, 'n bekende gegewe wat met soortgelyke tonele by skrywers soos D.F. Malherbe, Jochem van Bruggen, C.M. van den Heever en Boerneef in Afrikaans reeds 'n klein literêre tradisie geword het en dus nie regstreeks op 'n persoonlike ervaring hoef te berus nie. Later sal G.A. Watermeyer met sy gedig ‘Oestyd’ hierdie tradisie voortsit en verfyn. Die uitbeelding van die Stefaans-figuur sluit ook aan by 'n lang tradisie in die Afrikaanse prosa en drama van die uitbeelding van die patriargfiguur, hoewel dié soort karakter in die Afrikaanse letterkunde nie altyd soos in Geen somer pejoratief in sy oorheersende funksie voorgestel word nie. By Jochem van Bruggen byvoorbeeld is die patriarg in werke soos ‘Bywoners’ (in die bundel Op veld en rande, 1920) en die Ampie-trilogie (1924-1942) 'n milde leenheer wat die maatskaplike nood van sy vasalle wil verlig en hulle geestelik wil opvoed, iets wat glad nie by Rabie voorkom nie. Geen somer sluit eerder met die figuur van Stefaans regstreeks aan by C.M. van den Heever se Droogte (1930) en Laat vrugte (1939). Veral die figuur van oom Sybrand in Laat vrugte, die oorheersende vader wat sy boerdery selfs ten koste van familietwis wil uitbrei, was Rabie se literêre model, terwyl iets van die romantiese verhouding tussen Henning en Johanna in die jeugliefde van Hendrik en Mart neerslag vind. Met die rubrisering van die roman in drie geledinge, agtereenvolgens aangedui as ‘Herfs’, ‘Winter’ en ‘Lente’, toon Geen somer ook iets van Van den Heever se kringloop van die seisoene. Hierdie verwantskap met Van den Heever beteken geensins dat Rabie se roman 'n stuk afgeleide literatuur is nie. Daarvoor steun die verhaal te sterk op Jan se eie problematiese verhouding met sy vader en was die roman sy manier om met 'n stuk persoonlike verlede ‘af te reken’ en hom van sy vader se oorheersing te ontworstel. Carel Rabie het by geleentheid met sy broer Jan gepraat oor sy skryfwerk en hom gevra of hy wis dat hy hul vader in Geen somer ‘beskrywe’ het. Jan se antwoord was dat hy dit tydens die skryf van die boek nie besef het nie. Vir Carel was dit 'n interessante illustrasie van hoe die onderbe- | |
[pagina 93]
| |
wuste, sonder dat die skrywer dit self besef, in die kunswerk tot uitdrukking kom.Ga naar eind49 Tog sê Jan in sy onderhoud met Johan van Jaarsveld dat sy vader as 'n donker Nemesis agter die grootwordjare op Riethuiskraal staan en dat Geen somer handel oor die opstand van 'n jongman teen sy vader, iets wat dikwels by mense van sy geslag Afrikaners voorgekom het en dus, soos hy dit enigsins vaag stel, ‘ook 'n aspek van die Afrikaner se siel is’.Ga naar eind50 Hy gaan voort (en 'n mens merk in dié aanhaling die styl van iemand wat tydens 'n radio-onderhoud nie altyd in volsinne praat nie en plek-plek sy grammatika verwaarloos): ‘Ek het dit nie direk teen hom bedoel nie, maar miskien moes ek dit doen om my vryheid, om vir 'n jongman om werklik homself te kan wees, veral as hy streng ouers het. Hy moet hom in 'n mate vry veg...En my vader het vir my gesê: “Jan, die Here se seën rus nie op hierdie boek nie, want jy het vir my daarin aangeval.” Maar ek het dit seker onbewus so bedoel, maar ek was baie ontsteld oor dié sin van hom.’ Geen somer verloop plek-plek rommelrig, die gebeure spring 'n bietjie rond en soms vleg Rabie sekere tonele in wat te wydlopig word en nie heg met die res van die roman skakel nie. 'n Voorbeeld hiervan is oom Gertjie se relaas in die tradisie van die groot liegstories oor die man wat 'n tier met 'n vislyn wou gaan vang,Ga naar eind51 op sigself 'n fraai verhaal wat egter niks met die hoofhandeling te make het nie. Nog 'n voorbeeld is die passasie oor die ‘sterre-ure’ wat as intermezzo nie alleen die verhaalgang verbreek nie, maar deur die intrede van 'n ek-spreker en die volgehoue aanspreking van die ‘nag’ as dramatiese hoorder buite die aanbod van die roman val en buitendien 'n voorbeeld van mooiskrywery is. Hierdie intermezzo begin as volg: Net soos my venster oopstaan op jou, o nag, net so staan my hart in die sterre-ure oop op die onrus wat hy heeldag in sy stilste plekkies weggebêre het. Net soos my venster weerloos is teen die duisternis, net so is ek weerloos teen jou, o nag, as jy in my hart begin praat. | |
[pagina 94]
| |
Ten spyte van hierdie besware toon Geen somer 'n groot vooruitgang op Nog skyn die sterre, iets wat P.C. Schoonees, skrywer van die omvattende Die prosa van die Tweede Afrikaanse beweging, ook in sy resensie in Ons Eie BoekGa naar eind53 waardeer. Hy vind dat die skrywer in die tekening van die jeugtonele ‘'n mooi talent’ openbaar en dat sy uitbeelding van die hooffiguur ‘fors en strak’ is. 'n Mens twyfel, volgens hom, egter aan die menslikheid van Stefaans Rensburg wat in ‘sy ongenaakbare stugheid en sy dolle werkywer...meer die beliggaming van 'n idee as 'n lewende wese [is]. Hy is bomenslik in die felheid van sy haat, en word onmenslik deur die verterende drang om die erfplaas te besit.’ Tog vind Schoonees dat dié boeiende roman...baie gunstig [vergelyk] met die tallose middelmatige verhale wat tans in eindelose reekse verskyn. Die skrywer se aanvoeling van die groot lewenskragte is dikwels treffend en eg, terwyl sy segging soms verrassend-oorspronklik is. Dat hy wel deeglik in staat is om ook die fyner menslike roersels uit te beeld word bewys deur die simpatieke figuur van die lydsame San wat so sterk is in haar begrypende liefde dat sy uiteindelik die oorwinning behaal oor haar verstokte en ontaarde man. 'n Reaksie wat Jan in hierdie tyd moes gewaardeer het, is die resensie van D.J. Opperman in Die Huisgenoot van 2 Februarie 1945. Van Opperman, indertyd onderwyser aan die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg, maar reeds as digter en kritikus met sy bydraes tot Die Huisgenoot bekend, sou binne enkele maande ná dié resensie Heilige beeste verskyn, een van die sterkste eerste bundels in die geskiedenis van die Afrikaanse poësie. Opperman skryf: By die vader is daar die hartstog om die verlore plaas van die Marais's terug te wen, maar die seun raak verlief op een van die dogters. Dit is die dramatiese gegewe vir Geen somer waarin Flip se ontwikkelingsgang en die plaaslewe langs die Kuilsrivier geteken word. Ons leer Flip en sy broer Hendrik ken veral ten opsigte van kinderpret, die liefde vir Lorraine en Mart, en die arbeid op die plaas. Die uitbeelding van hierdie jongmense en die sienings van die landstreek tref deur die idilliese. Pragtig is hfst. 18 van ‘Herfs’, roerend die beskrywing van die moeder in haar ingetoënheid, en soms sterk die tekening van | |
[pagina 95]
| |
Stefaans; soos byvoorbeeld die versoeking om die miedens aan die brand te steek. Rabie se hele strewe, meen hy, is dinamiese beelding. Hy wil dade ‘vinnig en saaklik’ teken, die verteltrant is haastig, iets wat 'n sekere ‘wydskildering en forsheid’ meebring. Ongelukkig, vind hy, is daar ‘'n opeenhoping van gebeurtenisse, geweldtonele, uitbeelding wat neig om die mens as te eensydig of skurkagtig te sien...Dit, saam met die komende beloftes van onheil ..., die handige verwydering van die erfgenaam deur 'n perdeongeluk, en Cecile Marais deur die griep, herinner te veel aan die ou avontuurroman.’ Die groot hoeveelheid boustof is vir hom nog nie fyn genoeg geselekteer en georden nie, daar is nog onnodige karakters, en stilistiese onsuiwerhede bederf Rabie se andersins heldere segging. Tog vind hy die roman 'n groot vooruitgang op Nog skyn die sterre en is daar vir hom ‘iets fris en gesonds’ in Geen somer. Jan sou, ná die verskyning van dié resensie, 'n groot waardering vir Opperman as kritikus ontwikkel, wat ná hul persoonlike ontmoeting tot verdere samewerking sou lei. | |
IIIMet 'n hele aantal gedigte, verhale in tydskrifte en twee romans op sy naam besluit Jan aan die begin van 1945, wanneer die Tweede Wêreldoorlog met die bombardement van Duitse stede sy einde nader, om na Stellenbosch terug te keer en verder te studeer. Omdat hy tydens sy jare as onderwyser Hollands III aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf het, kon hy vir die M.A. in Hollands inskryf. Soos vroeër, maar nou heelwat ouer as die ander studente, het hy weer 'n kamer in Wilgenhof. Destyds het daar op Stellenbosch nog nie, soos vandag, 'n honneurskursus as voorvereiste vir die M.A. bestaan nie en is daar vir die soort Magister waaraan Jan voorkeur gegee het, geen verhandeling vereis nie, net kursusse en werkstukke. Jan volg kursusse in die Afrikaanse letterkunde en Nederlandse prosa by die stoere, konserwatiewe E.C. Pienaar by wie hy 'n uitgebreide opstel oor die Vlaamse romanskrywer Stijn Streuvels inlewer.Ga naar eind54 By die entoesiastiese Fransie Malherbe woon hy 'n kursus in die Nederlandse poësie by wat vir hom veel meer verteerbaar was. By die | |
[pagina 96]
| |
streng vakman A.C. Bouman kry hy naas 'n kursus in die Middelnederlandse taal- en letterkunde die geleentheid om, by wyse van spesiale vergunning, 'n kursus in moderne Deens in plaas van die uitgestorwe Goties te volg.Ga naar eind55 By die ‘ironiese’Ga naar eind56 Willem Kempen - met sy Oom Taalwag-artikels, waarin hy die taalgebruik en styl van Afrikaanse skrywers ontleed, gereelde medewerker aan Ons Eie Boek - volg hy 'n kursus in Afrikaanse grammatika. Die kwasterige Kempen het daarvan gehou om sy nekspiere te oefen, terwyl hy op sy lastige vrae die antwoorde van sy dikwels verdwaasde studente afgewag het. Saam met Jan op Stellenbosch was mense soos Ina Rousseau, H.W. Truter, Berta Smit en Christopher Heywood. Al vier sou, soos hy, later op die gebied van die literatuur bekend word. Ina Rousseau sou ontwikkel tot 'n digteres wat met 'n besonder subtiele klankstruktuur en ‘vloeiende’ skakels tussen beelde daarin slaag om iets fyns, kwiksilweragtigs in haar poësie te bereik, terwyl Truter in 'n enkele bundel mymerverse (Kleinhoewe, 1972) oor die uitsigloosheid van die menslike bestaan en 'n verlore liefde skryf en Smit in enkele romans met 'n swoele simboliek iets van die Christen se stryd in hierdie wêreld gee. Heywood, later professor in Brittanje en Japan, sou as akademikus opstelle aan die Engelse literatuur van die negentiende en twintigste eeu wy en in Aspects of South African literature (1976) die werk van Alan Paton, Mazisi Kunene, Nadine Gordimer en Oswald Mtshali aan 'n internasionale publiek bekend stel. Victor Holloway, Gideon Joubert, Jack Steyn, al drie later as joernaliste werksaam, was met skryfsels in Die Stellenbosse Student besig om hul vaardighede op die gebied van die skryfkuns te toets. Joubert sou veel later, in 1997, met Die groot gedagte 'n boek oor die kosmos lewer. Hulle almal was bevriend met Jan en soms het hulle saam met hom in die bekende Stellenbosse eetplekke van destyds - die Eike, die Uitspan en die Suikerbossie - 'n koppie koffie gedrink, 'n broodjie geëet en by tye wilde dinge gepraat. Met sy woeste kuif en donker oë, ver van mekaar in sy breë gesig, was Jan 'n intelligente, ernstige man, lief om geesdriftig te argumenteer oor sake, al het hulle ook tydens die diskussies baie gelag en pret gehad. Oor naweke het Jan, as die weer daarna was, saam met een of twee vriende die Pieke gaan uitklim of in Jonkershoek gaan stap. Met sy pragtige, sportiewe liggaam was hy vir baie van die meisies aantreklik. Sy spesiale vriendin in dié tyd was Azetta van der Merwe wat later model in Londen sou word. Sy was ontsettend skraal en pynigend mooi, baie gewild onder die | |
[pagina *1]
| |
1. Die Suid-Afrikaanse weergawe van die Rabie-familiewapen. Hierin word die Europese rawe vervang met twee Kaapse kraaie wat trots voor hulle sit en uitkyk, simbool van 'n edel inbors en standvastige karakter. Die ankers op die wapen is 'n aanduiding van hulpvaardigheid teenoor ander in tye van nood. (Foto: Sannie van Heerden)
2. J.S. Rabie (1848-1945), grootvader van die skrywer, wat by tye by die Rabie-gesin kom inwoon en die kinders soms hardhandig met 'n los riem afgeransel het. (Foto: Marjorie Wallace)
3. Johannes Wilhelm Rabie en Susanna le Roux, ouers van die skrywer. (Foto: Liesl Rabie)
| |
[pagina *2]
| |
4. 'n Byeenkoms in 1984 by geleentheid van die eenhonderd en dertigste bestaansjaar van die Klein Drakenstein-skool waar Jan Rabie 'n deel van sy kleutertyd deurgebring het. Sy vrou, Marjorie Wallace, het dié byeenkoms in 'n hele paar skilderye vasgelê. (Versameling Margot Luyt; foto: Amanda Botha)
| |
[pagina *3]
| |
5. 'n Voorbeeld van die natuurtonele wat vader Rabie as afleiding geteken het: geykte kleinkuns in die tradisie van die Engelse Pre-Rafaeliete. (Foto: J.S. Gericke-biblioteek)
| |
[pagina *4]
| |
6. Die woonhuis op die plaas Riethuiskraal langs die Kafferkuilsrivier (die Goukou, veertien kilometer van Stilbaai), waar die Rabie-gesin hulle in 1926 vestig. Later sou Jan Rabie skryf: ‘Die rivier van my jeug haal nog asem in die kronkels van my drome; die getye van daardie liefde stu nog steeds deur my skryfwerk, onverloorbaar myne.’ (Foto: Sannie van Heerden)
7. Die ‘groot platformding’ naby hul huis, die pont wat met 'n kabel oor die water beweeg het en die enigste verbinding tussen die twee kante van die rivier was. Hierdie pont het tot omstreeks 1969 bly voortbestaan. (Foto: Marjorie Wallace)
8. Die ‘nuwe’ skool op Riethuiskraal waarin Jan in 1947 vir sy vader as onderwyser waargeneem het. (Foto: Sannie van Heerden)
| |
[pagina *5]
| |
9. Van die Rabie-kinders saam met hul moeder. Van links na regs: Jan, Louw, Bettie en Martha. (Foto: Marjorie Wallace)
10. Vader Rabie met 'n paar van sy ‘dooie diere’, sy trofeë as grootwildjagter. (Foto: Sannie van Heerden)
| |
[pagina *6]
| |
11. ‘Waar staan die hel verligte huis, waar gee/ die pad sy wit draai na die hart?’ Jan by die pad na Riethuiskraal, volgens sy broer Carel die agtergrond vir die gedig ‘Blinde tog’ wat D.J. Opperman en F.J. le Roux in 1946 in Stiebeuel opneem. (Foto: Liesl Rabie)
12. As eerstejaarstudent in die koshuis Wilgenhof in 1937 moes Jan tydens die dopery homself as Charlie Chaplin voorstel. Daarvoor moes hy hom klee in 'n swaelstertmanel en groot skoene verkeerd om aangetrek, en met 'n strikdas, keil en 'n snorretjie van swart politoer. (Foto: Jan Rabie)
13. Vier van die Rabie-broers in 1939, die jaar waarin Jan die B.A. aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Van links na regs: Hans, Carel, Jan en Louw. (Foto: Marjorie Wallace)
| |
[pagina *7]
| |
14. Jan in 1939 as redaksielid van Die Stellenbosse Student, waarin van sy eerste gedigte en prosastukke verskyn. Agter links staan die latere joernalis Schalk Pienaar, in die middel sit N.J. de W. Pansegrouw, die hoofredakteur, en in die tweede ry heel regs sit J.G. van der Horst, later direkteur van Ou Mutual en kanselier van die Universiteit van Stellenbosch. Jan Rabie sit voor regs. (Foto: J.S. Gericke-biblioteek)
15. Jan as lid van die bestuur van die Berg- en Toerklub in 1940. Jan sit regs voor en W.A. de Klerk links voor. (Foto: J.S. Gericke-biblioteek)
| |
[pagina *8]
| |
16. In 1945 is Jan weer lid van die redaksie van Die Stellenbosse Student wanneer hy vir die M.A. na Stellenbosch terugkeer. Heel links agter staan Victor Holloway, later kunsredakteur van Die Burger, terwyl Jan tweede van regs staan. In die middel voor sit die redakteur, Jan de Villiers, later professor in teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. (Foto: J.S. Gerickebiblioteek)
17. Jan Rabie, Gideon Joubert en Ina Rousseau in 1945 saam op Stellenbosch. (Foto: J.S. Gerickebiblioteek)
| |
[pagina *9]
| |
18. ‘'n Ware afbeelding van my fisiognomie’ - die ‘kiekie’ wat Peter Blum, vir wie Jan in 1946 in Johannesburg ontmoet, in September 1955 aan die Nasionale Boekhandel stuur vir reklamedoeleindes by die verskyning van sy Steenbok tot poolsee. (Foto: Wat het geword van Peter Blum?)
19. In 1946 maak Jan kennis met Elsa Joubert, wat toe aan Die Huisgenoot verbonde was. Wanneer sy op 8 Maart 1948, 'n paar weke voor Jan, met die City of London vir 'n vaart langs die ooskus van Afrika na Europa vertrek, neem Jan van haar afskeid in die Tafelbaaise hawe en neem hy 'n foto van haar op die dek. (Foto: Paryse dagboek)
20. Jan aan boord van die Indrapoera, waarmee hy op 4 April 1948 na Europa vertrek. (Foto: Paryse dagboek)
| |
[pagina *10]
| |
21. Tydens die vaart raak Jan smoorverlief op die sjarmante Marion Pollock saam met wie hy ná sy aankoms dae lank in Londen rondloop en later België en Nederland besoek. (Foto: Paryse dagboek)
22. In Parys leer Jan in 'n ommesientjie Frans lees en praat en verdiep hy hom in die Franse letterkunde. Tydens sy jare in Parys lees hy sistematies feitlik die hele gebied van die Franse letterkunde, sowel die klassieke skrywers as die eksponente van die avant-garde. Gereeld gaan fynkam hy die boekkraampies langs die Seine vir winskopies, net om hulle, klaar gelees, vir ander te gaan omruil. (Foto: J.C. Kannemeyer)
| |
[pagina *11]
| |
23. Kort ná Jan se aankoms in Parys kom die pianiste Betsie van Rooyen, sy vriendin uit Johannesburg, kuier. Hier staan sy by 'n boekkraampie langs die Seine. (Foto: Paryse dagboek)
24. Ginette, die Franse meisie vir wie Jan in Parys leer ken en met wie hy 'n kortstondige verhouding het. (Foto: Paryse dagboek)
| |
[pagina *12]
| |
25. Jan woon aanvanklik in 26 Rue Servandoni in die Quartier Latin vlakby die Luxembourgtuine maar vestig hom meer as 'n jaar later in 'n dakkamer op die sewende verdieping van die Avenue Parmentier, naby die metro-stop St Ambroise aan die regteroewer van die Seine. (Foto: J.C. Kannemeyer)
26. Omdat Jan in Parys brandarm is, kan hy gewoonlik net een koffietjie op 'n keer in een van die beroemde literêre kafees van Montpamasse drink, maar dit verhinder hom nie om 'n hele aand daar met vriende te sit en gesels nie. Hy besoek verskeie van dié kafees, soos: La Rotonde,
| |
[pagina *13]
| |
27. Le Sélect,
28. en La Coupole dikwels, maar sy voorkeur gaan uit na
| |
[pagina *14]
| |
29. Le Dôme, waar Ernest Hemingway in die twintigerjare sy kortverhale gesit en voorlees het vir enigiemand wat wou luister.
30. Soms drink hy ook koffie in die Café de Flore, in die Saint-Germain-des-Prés-buurt, wat Jean-Paul Sartre sy tuiste gemaak het,
| |
[pagina *15]
| |
31. maar hy kom meer dikwels in die Aux Deux Magots en die Brasserie Lipp in dieselfde buurt, waar die eksistensialistiese kliek, die akoliete van Sartre, vergader. (Foto's: 26-30 J.C. Kannemeyer; 31 Alain Baudry)
| |
[pagina *16]
| |
32. Elke Sondagmiddag, wanneer hy gratis toegang gehad het, gaan Jan na die Louvre om sistematies die werk van 'n bepaalde skilder of die werk van 'n spesifieke periode noukeurig te bestudeer. 'n Skildery wat hom besonder tref, is Jeroen Bosch se Skip van die malles. Hy vind dit ‘'n orgasme van oorgawe aan dit waarvan Freud se onderbewuste net droom’. (Charles de Tolnay, Hieronymus Bosch, Londen, Methuen, 1966)
| |
[pagina *17]
| |
33. Jan word ook meegevoer deur Rafael se Jeanne d'Aragon. ‘Bestaan daar’, vra hy in sy dagboek, ‘'n skoner skildery, met meer trots en jeug en luukse, 'n nakender himne aan die aarde?’ (Konrad Oberhuber, Raphael: The paintings, München, Prestel, 1999)
| |
[pagina *18]
| |
34. Henri Michaux, die Frans-Belgiese skrywer wat 'n groot invloed op Jan se Een-en-twintig uitoefen. (Moderne encyclopedie der wereldliteratuur, V, Hilversum, Paul Brand/ C. De Boer, 1970.)
35. Peter Abrahams, die swart Suid-Afrikaanse skrywer wat in dieselfde woonstelblok as Jan in die Quartier Latin woon. Uit hul gesprekke ontstaan Jan se belangwekkende ‘Droogte’ in Een-en-twintig. (Foto: NELM; Jürgen Schadeberg)
36. In November 1948 ontmoet Jan ‘'n Skotse skilderessie’, Marjorie Wallace, met wie hy 'n hegte verhouding begin. Hier sit hulle op 'n bank in die Luxembourg-tuin. (Foto: Marjorie Wallace)
| |
[pagina *19]
| |
37. Jan en Marjorie op een van hul veelvuldige somerreise om die son in die Mediterreense suide van Europa te gaan opsoek. (Foto: Marjorie Wallace)
38. Die ingang tot 35 Rue de la Tombe Issoire in die Paryse Montparnasse-buurt, Marjorie se ateljee en woonplek waar Jan ook weldra intrek. (Foto: J.C. Kannemeyer)
| |
[pagina *20]
| |
39. In 1948 en weer in 1954 klim Jan Mont Blanc in die Franse Alpe, maar albei kere word hy as gevolg van sneeustorms verhinder om die piek te bereik. ‘Le Boer a le mieux résisté!’ (Die Boer het die meeste weerstand gebied!) sê die Franse koerante, met 'n foto van Jan daarby. (Foto: Liesl Rabie)
40. Jan met sy rugsak teen Mont Blanc (Foto: J.S. Gericke-biblioteek)
| |
[pagina *21]
| |
41. Van Jan en Marjorie se beste vriende in Parys is die Nederlandse en Vlaamse Cobra-skilders en die groep digters en skrywers wat later as die Vijftigers bekend sou staan. Soms woon hulle van die veelvuldige feeste en gesellighede van Simon Vinkenoog by, terwyl Rudy Kousbroek in 1953 Marjorie se buurman in die Rue de la Tombe Issoire word. Hier verskyn Marjorie en Jan saam met Simon Vinkenoog (agter lesende) met Bert Schierbeek (links) en Rudy Kousbroek (regs). (Foto: Ethel Portnoy)
42. Twee Suid-Afrikaanse skrywers wat, ná Elsa Joubert, Jan in Parys besoek, is die digter Jannie Coetzee (voor links) en die dramaturg Bartho Smit (voor regs), vir wie Jan reeds in 1946 in Johannesburg leer ken het en wat later as uitgewer Mens-alleen en ander werke van Rabie sou publiseer. Saam met Jan (regs) op die foto staan Rudy Kousbroek. (Foto: Ethel Portnoy)
| |
[pagina *22]
| |
43. Jan in 1954 voor 'n muurskildery van Lucebert in Parys. (Foto: Marjorie Wallace)
44. Uys Krige ‘oorwinter oorvloediglik as causeur’ drie maande lank by Jan en Marjorie in die winter van 1952-1953. ‘Die mees geliefde, die menslikste van Suid-Afrikaanse skrywers’, noem Jan hom later in Buidel. (Foto: Marjorie Wallace)
| |
[pagina *23]
| |
45. Eers toe Uys weg was, kon Marjorie hom uitbeeld as narrefiguur. (Foto: Marjorie Wallace)
| |
[pagina *24]
| |
46. Op 4 Januarie 1955, kort voor sy vertrek terug na Suid-Afrika, trou Jan en Marjorie voor die Britse konsul in 'n besneeude Parys. Jan het Bartho se ou bruin pak klere aan, terwyl Marjorie Bartho se vrou, die toneelspeelster Kita Redelinghuys, se skoene dra. Hier is Jan en Jannie Coetzee onderweg na die troue. (Foto: Rudy Kousbroek)
47. Die huwelikseremonie. Marjorie se moeder kyk suspisieus toe. Is dié Boer die regte man vir haar dogter? (Foto: Rudy Kousbroek)
| |
[pagina 97]
| |
studente. Saam het sy en Jan dikwels gaan dans,Ga naar eind57 al het Jan steeds in sy verhouding tot meisies sy aarseling en skroomvalligheid behou en was daar van werklike intimiteit geen sprake nie. Jan was basies 'n alleenloper en introvert, iemand wat sy eie ding gedoen het, nie een van die massa of die kletsbekke nie. Baie van die studente het daarvan gehou om op 'n Sondagmiddag te gaan luister wanneer dr. Con de Villiers, professor in Dierkunde, vertaler uit die Skandinawiese tale en later skrywer van die Overbergse sketse, uit sy groot versameling plate van sangers uit die Goue Eeu van die opera vir studente voorspeel. Maar Jan, en ook Ina Rousseau, het niks gehou van opera nie en was nie deel van Con se koterie nie. Albei se voorkeur het uitgegaan na kamermusiek en veral die simfonieë en konserte van komponiste soos Bach, Mozart, Beethoven en Haydn. Baie keer het Jan plate vooruit bespreek en alleen in een van die klankdigte kamers van die Konservatorium daarna gaan luister. Soms het hy Ina genooi om saam te kom. 'n Notatjie in haar kamer sou iets sê soos: ‘2 nm. By Conserve. Eroica. Donners goeie opname. Kom luister saam.’ En altyd was dit vir Ina 'n vreugde om saam met hom só die musiek te ervaar.Ga naar eind58 Wat haar in die besonder van Jan getref het, was sy basiese goedheid, sy onkreukbaarheid. Hy wou graag in elke persoon slegs die goeie raaksien en hy was geneig om mense te idealiseer. Dit het haar telkens opgeval met hoeveel respek hy byvoorbeeld kelners - ongeag hulle kleur - behandel het.Ga naar eind59 Daar was iets van die onskuldige en die kind in hom. En vir mense wat Nog skyn die sterre met sy betreklike ongevoeligheid teenoor mense van kleur geken het, was dit duidelik dat daar by Jan 'n groeiende sosiale bewussyn oor die onreg in sy eie land aan die ontwikkel was. Soos vroeër was Jan nou weer in die subredaksie van Die Stellenbosse Student en publiseer hy baie gedigte en prosastukke in dié blad. Anders as tydens sy eerste periode op Stellenbosch klink daar uit 'n gedig soos ‘Skenker’Ga naar eind60 skielik iets van 'n opstandigheid teen die Calvinisme van sy jeugjare op. Dit is 'n aanduiding daarvan dat Geen somer nie net 'n ‘afrekening’ met sy vader was nie, maar ook met sekere waardes wat hy in sy jare op Riethuiskraal en selfs later in sy eerste fase op Stellenbosch aangehang het. Daarby is dié verset nie literêr gekleur in die trant van sy onmiddellike voorgangers, die Louws, nie. In ‘Skenker’ praat hy van die ‘kinderagtige God / wat woon in die klein malhuis van die kop’, 'n voorspel op die pragtige beeld van die ‘sel / agter die grense / van die vel / en die hoë / vensters van die oë’ in S.J. Pretorius se ‘Die kranksinnige’ wat | |
[pagina 98]
| |
egter eers in 1948 in die bundel Inkeer sal verskyn.Ga naar eind61 Ook die liefdesverse is nou swoeler en dikwels meer eroties, terwyl die wisseling in die lengte van die versreël vir die nodige verskeidenheid en die parallelisme in die strofebou vir die nodige hegtheid sorg. Dit is byvoorbeeld die geval in ‘Meisie nou’:Ga naar eind62 Die lis van jou heupe
en jou oë se snel verraad
het stiller sin
dan die heilige breek van die daeraad.
Die peins van jou hande
en jou loop se môre-verhaal
bring wilder kramp
dan 'n stukkende stad waarin vlamme maal.
En jou borste, jou mond en jy
as jy heeltemal malkop is,
is die witte son
wat my juigende ruk uit die duisternis.
Dat Jan in hierdie tyd waarskynlik die poësie van die Nederlandse digter H. Marsman by Fransie Malherbe bestudeer en goed leer ken het, blyk uit meer as een gedig. In 1943, toe Nederlandse boeke in Suid-Afrika as gevolg van die Duitse besetting haas nie verkrygbaar was nie, verskyn 'n keuse uit Marsman se poësie en prosa in die reeks Nederlandse Boekerij by die firma J.L. van Schaik met 'n kundige inleiding deur N.P. van Wyk Louw. Moontlik het Rabie hierdie bloemlesing reeds tydens sy jare as onderwyser gelees. 'n Gedig soos ‘Vir jou’,Ga naar eind63 met sy voorstelling van die vrou met haar ‘wrede klein mond’ en haar hande koel om die minnaar se hoof, is tipies Marsman, terwyl ook ‘Die rooi perde van Frans Marc’,Ga naar eind64 die eerste gedig van Rabie waarin die invloed van die skilderkuns merkbaar is, in die bruising, die hartstog en die kosmiese selfvergroting iets van die Nederlandse digter opvang, al word die gedig deur die eksplisiete beelding ontsier: | |
[pagina 99]
| |
Ons sal ons hoon uitspoeg oor die aarde,
'n kreet uitspoeg oor die aarde,
en jaag oor die rotse van swartblou gif,
vir die laaste maal jaag uit die aarde -
Ons sal die perde van Frans Marc vang
en jaag, jaag, jaag, jaag
uit die aarde.
In hierdie tyd publiseer Jan ook twee vertalings, die eerstes van vele later: Stephen Spender se ‘Ultima ratio regum’Ga naar eind65 en W.H. Auden se ‘Musée des Beaux Arts’. 'n Mens merk hier reeds 'n sekere bedrewenheid met die oorsetting van Auden, al het Rabie nie goed geweet hoe om ‘there always must be / Children’ bevredigend te vertaal nie. By Auden lui dit: About suffering they were never wrong,
The Old Masters: how well they understood
Its human position; how it takes place
While someone else is eating or opening a window or just walking dully along;
How, when the aged are reverently, passionately waiting
For the miraculous birth, there always must be
Children who did not specially want it to happen, skating
On a pond at the edge of the wood:
They never forgot
That even the dreadful martyrdom must run its course
Anyhow in a corner, some untidy spot
Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse
Scratches its innocent behind on a tree.
In Brueghel's Icarus, for instance: how everything turns away
Quite leisurely from the disaster; the ploughman may
Have heard the splash, the forsaken cry,
But for him it was not an important failure; the sun shone
As it had to on the white legs disappearing into the green
Water; and the expensive delicate ship that must have seen
Something amazing, a boy falling out of the sky,
Had somewhere to get to and sailed calmly on.Ga naar eind66
| |
[pagina 100]
| |
By Rabie word dit: Omtrent lyding was hul nooit verkeerd,
Die Ou Meesters: hoe goed het hul verstaan
Sy menslike posisie; hoe dit plaasvind
Terwyl iemand anders eet of 'n venster oopmaak
Of doodgewoon dof aanloop;
Hoe, as die gryses eerbiedig, hartstogtelik wag
Vir die wond're geboorte, daar altyd moet wees
Kinders wat dit nie eintlik begeer nie, skaatsend
Op 'n dam aan die grens van die woud.
Hul het nooit vergeet
Dat selfs die gevreesde martelaarskap sy koers moet gaan
Sommerso in 'n hoekie, enige vuil plek
Waar die honde hul hondelewe lewe
En die pyniger se perd
Sy onskuldige agterend skuur teen 'n boom.
Soos in Brueghel se Icaros, hoe draai alles heeltemal
Tydsaam weg van die ongeluk, die ploegman mag
Die plons gehoor het, die verlate skreeu,
Maar vir hom was dit geen belangrike mislukking;
Die son het geskyn
Soos dit moes op die wit bene verdwynend in die groen
Water; en die dure en fyne skip wat iets verbasend
Moes gesien het, 'n seun wat val uit die lug,
Moes elders heen gaan en het kalmweg aangeseil.Ga naar eind67
Met sy terugkeer na Stellenbosch was Jan, veel meer as vroeër, opstandig, 'n stroomop denker wat nie gehuiwer het om die heilige koeie van die Afrikaner aan te durf nie. Ook die Stellenbosse studentegemeenskap wou hy wakker skud. In 'n stuk wat hy ‘Stellenbosche gewete’Ga naar eind68 noem, beskuldig hy sy medestudente van vlakheid, doelloosheid en kleinburgerlikheid. Honend wys hy hulle op die eng politieke en godsdienstige weg wat hulle as volgelinge van God en Malan (indertyd die leier van die opposisie en die Nasionale Party) bewandel: ‘Asof God paaie gemaak het vir die onmeetlike vryheid van die heelal-siel; asof Malan paaie mág maak!’ Hy | |
[pagina 101]
| |
laak die neiging om ‘persone te klassifiseer in vir die benepe burger-brein begrypbare indelings’. Die deursnee Stellenbosser is vir hom ‘so onoorspronklik soos 'n renosterbossie en so vlak soos 'n Vrystaatse soutpan’. In baie opsigte is hierdie stuk 'n bietjie verward omdat hy na verskillende kante wild slaan, maar dit gee 'n aanduiding van wat in die onstuimige Jan, nou vier en twintig jaar oud, aan die woel was. Daarby illustreer dit sy moed en die onverskrokke wyse waarop hy bereid was om teen gevestigde opvattinge en waardes in te gaan. In enkele stukke wat van Jan in die loop van 1945 in Die Stellenbosse Student verskyn, probeer hy 'n soort kunsprosa skryf, soos ‘Kafees’Ga naar eind69 en ‘Geboorte in droom’.Ga naar eind70 Dit is egter, in die tradisie van die Engelse ‘on something on nothing’-essay, 'n bewustelike wil tot literatuur en van sy swakste werk. Besonder mooi is egter ‘Teer verhaal’,Ga naar eind71 wat hy later goed genoeg ag vir publikasie in Die Naweek waar dit in die uitgawe van 23 Mei 1946 verskyn. 'n Jong visser, só eenvoudig dat van die ander vissers hom as simpel beskou, raak verlief op die dogter van 'n onderwyser en bring elke nag in die geheim vir haar 'n vis as geskenk. Wanneer sy hom egter een nag betrap en uit medelye 'n soen gee, hardloop hy in angs weg en verdwyn van die vissersdorpie waar hy woon. Die hele verhaal het iets van 'n sprokie in die trant van De kleine Johannes van Frederik van Eeden, terwyl die slot, waar verskillende moontlikhede vir wat van die visserseun kon geword het, in die sfeer van die romantiek bly: ‘Miskien het hy koning van 'n vreemde land geword, miskien is hy nou 'n skuitbaas met 'n rooi baard, in 'n strandplek waar elke man 'n fabelagtige visser is.’ Ook ‘Skugter liefde’,Ga naar eind72 later in Die Naweek van 22 November 1945, bly in die sfeer van die romantiek. Dit is die verhaal van die herontmoeting van twee mense wat, ná 'n aarselende uitreik na mekaar tydens hulle skooljare, mekaar weer ontmoet, maar steeds moeite het om, by hulle ingeboude skroomvalligheid verby, by mekaar uit te kom. Terwyl Jan met sy M.A.-studie besig was, het hy uiteraard minder tyd vir sy skeppende werk gehad. Daarom is die enigste ander prosa wat hy in dié tyd publiseer, die verhaal ‘Die skêr’,Ga naar eind73 die taamlik ligte en lawwe storie van 'n man en meisie wat, agtereenvolgens uit jaloesie en wraaksug, mekaar se hare afsny, sodat hulle hulle tydens hul strandvakansie tot die hotel moet beperk, iets wat darem 'n gelukkige afloop het. Van die gedigte wat Jan na Die Naweek stuur, is ‘En droom ...’Ga naar eind74 en ‘Variasie op 'n herfstema’Ga naar eind75 van sy swakste gepubliseerde poësie. Teenoor die vae romantiese | |
[pagina 102]
| |
verse van vroeër probeer hy nou meer kripties en kompak skryf, maar sy poging om van die romantiese weekheid weg te kom, lei tot 'n gedrongenheid waarin die logika deur die spronge meer as wenslik ontbreek. In dié stadium het Jan egter reeds oor een gedig beskik wat bo al die romantiese vaaghede van vroeër uitstaan. Dit is ‘Die vriend’ wat in Die Huisgenoot van 3 September 1943 verskyn en wat hy na alle waarskynlikheid reeds in sy tyd as onderwyser op Jamestown geskryf het. In die afgesonderdheid van die Stormberge lees Jan nou verder aan die poësie van A. Roland Holst en T.S. Eliot en maak hy kennis met die werk van Oscar Wilde en die Naughty Nineties, terwyl hy ook in die geskrifte van die psigoloë Sigmund Freud en C.G. Jung verdiep raak. Dit is uit hierdie sfeer dat ‘Die vriend’ ontstaan: ‘Vriendskap is nie meer
as sigarette rook en pantserlose woorde hê,’
vertel hy en beskryf
die hart en noem
begeertes en nuanses uit 'n boek van Freud.
Ek glimlag net en druip my hand
af na die brons-asbak
waar naakte man en vrou
steeds bo die kladpapiere soen.
Hy grinnik ru: ‘Ook jy het niks vir my.’
En harder sweer hy dat die woord
sy glans verloor het soos die eeu sy God
en nie meer bloed en name bind -
Toe het hy stug gefluistersê:
‘Sien, Troje het 'n dom verhaal geword.’
Maar ek het woede in sy hand sien beef
toe hy die deur
uitskuifel en vooroor gebuig
die straat vol wind,
papier en piesangskille binnegaan.
| |
[pagina 103]
| |
Die gedig roep deur sy verwantskap met Wilde en sy tydgenote duidelik die wêreld van die dandy en die dekadent, met die sfeer van homoërotiek, op, terwyl 'n reël soos ‘Sien, Troje het 'n dom verhaal geword’ uit Roland Holst kon gekom het. In die slotstrofe herken 'n mens iets van Eliot se ‘Preludes’: The winter evening settles down
With smell of steaks in passageways.
Six o'clock.
The burnt-out ends of smoky days.
And now a gusty shower wraps
The grimy scraps
Of withered leaves about your feet
And newspapers from vacant lots.Ga naar eind76
Die gedig handel oor 'n poging tot kommunikasie, 'n mens wat in sy eensaamheid na 'n ander mens uitreik en met openhartige gesprekke (‘pantserlose woorde’) kontak probeer maak, maar wat uiteindelik in onmag besef dat ook dié ‘vriend’ niks vir hom het nie, dat die poging tot kontak futiel was (‘'n dom verhaal’, soos die hele beleg van Troje). Aan die slot vertrek hy. Dit is nie bekend of ‘Die vriend’ op 'n spesifieke persoon slaan nie, maar sekere heenwysings, veral die naakfigure van die tweede strofe, laat 'n mens dink aan die skilderye, tekeninge en verhale van Johannes Meintjes. Meintjes, drie jaar jonger as Jan, woon in hierdie jare afwisselend in Kaapstad en Stellenbosch, maar besoek ook van tyd tot tyd die distrik Molteno, naby Jamestown, waar die Meintjes-familie 'n plaas besit. In die Stellenbosse skilder Siegfried Hahn het hulle 'n gemeenskaplike vriend gehad. 'n Paar jaar later sal Jan se latere vriend Peter Blum in 'n brief entoesiasties skryf oor die verhale van Meintjes wat in Die Huisgenoot verskyn, in hulle aktualiteit en koelbloedige wreedheid so anders en verfrissend ná die plaasromantiek en die stadsweemoed wat die prosa van dié tyd oorheers.Ga naar eind77 'n Mens kan aanvaar dat Rabie Blum se geesdrif vir Meintjes se verhale gedeel het. Terwyl Jan hom in 1945 vir sy eksamens voorberei, peusel hy steeds aan gedigte, al moet hy nou die meeste van sy tyd aan sy studie bestee. Hy stel weer 'n keurbundel van sy gedigte saam, nou 'n keuse uit wat hy in die jare 1938-1945 geskryf het. Hy noem dit Sommer maar sing en verdeel die | |
[pagina 104]
| |
gedigte in twee rubrieke: ‘Van die nag’ en ‘Van die dag’. Maar ook dié versameling met sy hopelose indeling en titel vorder nie tot by 'n uitgewer nie. | |
IVIn November 1945 lê Jan die eksamen vir die M.A. suksesvol af en daarmee kom sy akademiese jaar op Stellenbosch tot 'n einde. Hy was nou begerig om voltyds te skryf en het geen sin meer gehad om na die onderwys terug te keer nie. Om voor 'n klas te staan, het hom begin verveel, veral as hy kinders van dinge soos aardrykskunde, geskiedenis en letterkunde moet leer terwyl hulle belangstelling elders lê. Wanneer hy byvoorbeeld met hulle oor die romantiek praat, kon hy in die verlede merk hoe 'n paar meisies se oë ‘skaapagtig’ begin glinster en het hy ‘met verveling vermoed watter maanagtige beelde voor hulle oë swewe’.Ga naar eind78 Hy wou alleen wees, nie gebonde aan tydskedules of ander mense nie. En veral wou hy, as iemand wat van jongs af daagliks met die buitelewe in aanraking was, hom op 'n plek vestig waar hy kon gaan swem en lang ente stap. Daarom kry Jan aan die begin van Desember vir hom 'n kamer in Simonstad. Omdat hy nou uit sy geskrifte 'n bestaan moes maak, begin hy verwoed skrywe. Aan die begin is hy nog besig met gedigte, maar weldra konsentreer hy veral op kortverhale en 'n nuwe roman wat hy Vertrou op môre noem en wat hy volgens afspraak vir die Môrester-Biblioteek, 'n boekskema van die Afrikaanse Pers-Boekhandel, sou lewer. Dit word die tipiese soort liefdesroman wat die intekenaars op die boekskemas in hierdie tyd as hulle maandelikse aflewering ontvang. Die gebeure speel af in Kaapstad en Rabie werk mooi met die geheimsinnige verlede van Helené Rens wat nie 'n ‘oop’ verhouding met Jan le Roux, die verteller in die verhaal, durf hê nie. Eers later word hierdie stuk verlede onthul. Die brand aan die einde van die roman moet dien as 'n soort suiwering in die tradisie van Emily Brontë se Wuthering heights, maar dit word weinig meer as 'n stukkie melodrama. Ten spyte van onnodige uitweidings en tonele wat nie by die hoofgebeure inskakel nie, is Vertrou op môre egter 'n vlot geskrewe ligte roman, sonder enige literêre pretensie. Wat 'n mens opval, is hoe Rabie nog verder as in Geen somer in dié roman tot geestelike onafhanklikheid ontwikkel het. Wanneer die verteller in Vertrou op môre die plaas - duidelik gemodelleer | |
[pagina 105]
| |
op Riethuiskraal - besoek, verneem hy van 'n skandaal in die buurt: 'n bywonersdogter het met 'n man omgegaan en sit nou met 'n babatjie opgeskeep. In die verteller se reaksie hierop blyk duidelik 'n rebellie teen die Calvinisme van Rabie se jeug: ‘'n Man mag net 'n vrou ten volle liefhê ná 'n ander man 'n paar seremoniële woorde daaroor gesê het; was die seremonie nie daar nie, is dit 'n saak van skande. Die liefde is nie belangrik nie, die seremonie is; dit is nie die een man wat met haar moet saamwoon nie, dit is die hele gemeenskap. So is ons geleer om te dink.’Ga naar eind79 Omdat hy nou baie bydraes regstreeks aan tydskrifte lewer, gaan Jan sommige oggende met die trein in na Kaapstad om die kantore van Die Naweek by die Unie-Volkspers en Die Huisgenoot in Keeromstraat te besoek. Die Huisgenoot is destyds as die beste weekblad in Afrikaans beskou. Markus Viljoen, die redakteur, het met sy behartiging van die blad vir sowel die gemiddelde as die meer ontwikkelde leser probeer sorg en deur die hoë peil van die belangrikste prosaskrywers en digters na sy blad gelok. Dit was dus vir Jan 'n eer om van sy werk in Die Huisgenoot te sien, al het hy ter wille van die inkomste ander tydskrifte nie versmaai nie. In die redaksiekantore van Die Huisgenoot maak Jan nou kennis met die jong Elsa Joubert wat pas daar as vroueredaktrise begin werk het. Sy het geweet Jan was op Stellenbosch bevriend met haar neef Gideon Joubert, dat hy reeds 'n paar romans gepubliseer het en nou voltyds aan die skryf was. Omdat sy nuuskierig was na sy nuwe werk, gee hy haar die manuskrip van Vertrou op môre wat hy in 'n baie kort tydjie voltooi het. Wanneer hy haar in haar kamer in Mowbray kom opsoek, spreek sy haar bedenkinge oor die manuskrip uit. Moet hy regtig so 'n ligte roman publiseer? Hulle gaan stap 'n ent en by die posbussie op die hoek van Rhodeslaan en Hoofweg gaan Jan staan, manuskrip in die hand. ‘Moet ek hom pos of moet ek nie?’ vra hy. Elsa huiwer. Jan plak die koevert met die manuskrip binne-in toe, rig hom kamma tot die posbus: ‘Dè, vat hom’, en skuif die koevert in. ‘Daar loop jy!’ sê hy wanneer hulle terugdraai na Elsa se kamer.Ga naar eind80 Deur Elsa maak Jan nou kennis met die digter D.J. Opperman wat ook aan die begin van 1946 by Die Huisgenoot begin werk het en vir die beoordeling van verhale en gedigte verantwoordelik was. Jan lê van sy verhale voor en word een van Opperman se drukste medewerkers. Met ‘Simpel Sefie’,Ga naar eind81 'n karakter in die tradisie van die ‘village idiot’, lewer hy 'n verhaal teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog, terwyl die liefdesgeskiedenis van ‘Wildeboer’Ga naar eind82 teen dieselfde agtergrond aan die slot tot le- | |
[pagina 106]
| |
gende verdig. ‘Sigaret-rook’Ga naar eind83 is gebaseer op 'n driehoeksverhouding wat op 'n motorongeluk uitloop. ‘Liefde’Ga naar eind84 handel oor die romantiese verhouding tussen twee skoolkinders wat as gevolg van hul ouers se verbod nie by mekaar kan uitkom nie en wie se boodskappe oorgedra word deur 'n vriendin wat algaande tot intrigant ontwikkel: die werklike meisie wie se liefde nie beantwoord word nie.Ga naar eind85 Hoewel Opperman dankbaar was vir die kortverhale, het sy belangstelling as digter in die eerste plek uitgegaan na die poësie en het hy na geleenthede gesoek om iets vir jong digters te doen. In 'n dagboek wat hy in 1946 hou, skryf hy dat jong digters wat nog nie gebundel het nie, 'n lang tydperk van onsekerheid deurgaan of oorhaastig debuteer. Hy meen daar moet voorlopige publikasies wees om jong digters te help deur kritiek te lewer en te sif en om deur plasing 'n mate van erkenning te gee. Opperman vra Fred le Roux, sy kollega by Die Huisgenoot, se medewerking en saam nooi hulle twintig jong digters om verse vir opname in 'n bundel voor te lê waaraan hulle op voorstel van Jan Greshoff die titel Stiebeuel gee.Ga naar eind86 Rabie is een van die veertien digters van wie bydraes aanvaar word. Aan Opperman en Le Roux sê hy hy weet van die jong, skaam, teruggetrokke Ina Rousseau op Stellenbosch vir wie hy reken hy sou kon aanpor om ook verse in te stuur.Ga naar eind87 Tydens 'n gesprek oor 'n koppie koffie word Opperman en Le Roux deur Rabie voorgestel aan H.W. Truter van wie ook gedigte opgeneem word.Ga naar eind88 Binne enkele weke ontvang die twee samestellers verder gedigte van G.A. Watermeyer, Bartho Smit, Sheila Cussons en Barend J. Toerien van wie almal gedigte in Stiebeuel sou verskyn en wat almal later bekende name in die Afrikaanse letterkunde sou word. Rabie se eie gedigte was vir Opperman in hierdie stadium nog baie ongelyk, al was daar vir hom mooi reëls wat op 'n eie verssoort wys. Hy het gevoel Rabie moet eers die romantiese res in hom uitskryf voordat hy groter werk aanpak.Ga naar eind89 Wanneer Stiebeuel later in 1946 gepubliseer word, verskyn daar drie gedigte van Jan in. Opperman en Le Roux neem ‘Die vriend’ uit 1943 op. 'n Gedig wat Jan nooit in 'n tydskrif publiseer nie, maar wat, volgens 'n aantekening in een van sy skryfboeke uit April 1943 dateer, is ‘Simfonie’ wat hy eers ‘Maestro’ wou noem. Daarin spreek Rabie sy groot verering vir die meesters van die klassieke musiek uit. Dit is amper asof 'n mens in dié gedig Beethoven as die skepper van die magtige derde, vyfde of negende simfonie herken:Ga naar eind90 | |
[pagina 107]
| |
Hy is 'n stugge vreemdeling eers,
dan spreek
hy elke woord vir my.
Dan staan sy groot stem bo my
en slaan,
en ek is klein -.
Hy gryp my in my hart
soos vuur sou vat,
en ek verlang na smart -.
Hy pluk die sorge uit my ek
en smyt
hul teen 'n veertig winde om te dans!
Nou snik hy saam met my en bid
dat eenmaal tog
die wit wals van viole weer moet kom.
Waarom 't hy my verlaat soos 'n voël?
Want ek is sonder vlerke
en woorde skommel in die straat.
Opperman en Le Roux kies ook 'n derde gedig van Jan wat oorspronklik in Die Huisgenoot van 21 Desember 1945 gepubliseer word. Dit is ‘Blinde tog’, die enigste gedig van Jan wat Opperman later in die eerste uitgawes van sy bloemlesing Groot verseboek sou opneem, al het hy dit, toe hy sien Jan word 'n ‘prosaman’ en hy ‘verraai’ die saak van die poësie, uit latere uitgawes weggelaat:Ga naar eind91 Voete loop op duister see
van skaduwees en wee
van agteloos vergooide sigaret.
Praat is leeg gebrand en net
die lampe flikker nog.
| |
[pagina 108]
| |
O donker ongewenste tog
oor hierdie blinde en verdwaalde see.
Wat moet ons nog aan bang vertroue gee,
aan needrigheid en swakke skynlag voor
die kimme van ons vreugde snel sal gloor?
Tot nuwe horison?...'n Berg van bloue vuur
brand strenge wette in een uur.
O blinde tog oor donker see.
Waar staan die hel verligte huis, waar gee
die pad sy wit draai na die hart?
Opvallend is dat Rabie in dié gedig, in teenstelling tot die betreklik vrye gang van ‘Die vriend’, na die gebonde paarrym terugkeer (en dit selfs in een geval oor die strofe-einde kontinueer), al breek die rymlose slotreël uit dié skema los - iets wat klankmatig die onrus in die gemoed van die spreker suggereer. Die gedig praat van die lewe as 'n onseker tog en vaart in die duister, met 'n uitreik na die ‘hel verligte huis’ wat iets van 'n sekerheid en tuiskoms wil voorstel. Die wêreld van Simonstad vind neerslag in die ‘blinde en verdwaalde see’, al word dit doelbewus nie nader gelokaliseer nie. In vergelyking met sy vroeëre romantiese verse het 'n mens met die afgekapte reëls van ‘Blinde tog’ 'n veel meer lapidêre poësie wat weer aan die afgemetenheid van Eliot se ‘Preludes’ herinner. Mooi is die subtiele skakeling tussen die weggegooide brandende sigaret en die leë gepraat. In 'n brief sou Jan se jonger broer Carel later sê dat wanneer 'n mens op die skoolterrein van Riethuiskraal staan en na die kloof se kant toe kyk, sien jy die wit kalkpad 'n draai maak voordat dit in die niet verdwyn. In 'n gesprek het Jan by geleentheid aan Carel gesê die slotreël van die gedig verwys na hierdie pad en die ‘hel verligte huis’ dus na die ouerhuis op Riethuiskraal.Ga naar eind92 By geleentheid het Uys Krige gesê dat die reëls oor die ‘hel verligte huis’ en die ‘wit draai na die hart’ vir hom een van die mooiste beelde in die Afrikaanse poësie bevat.Ga naar eind93 Wanneer Stiebeuel verskyn, noem Ernst van Heerden die twee slotreëls van dié gedig 'n ‘skitterende vonds’.Ga naar eind94 En in 'n gesprek het Hennie Aucamp, kenner van die kabaretkuns, die opmerking gemaak dat die ‘wit draai na die hart’ 'n beeld is uit die wêreld van die chanson.Ga naar eind95 Terwyl hy nog in Simonstad woon en werk, skryf Jan 'n vyftal verse | |
[pagina 109]
| |
wat ná sy vertrek na Johannesburg in Die Huisgenoot van 9 Mei 1946 verskyn, meestal gedigte oor 'n vae soeke met onhelder beelding. ‘O vriend’ uit dié groep praat van 'n man met moeë oë en 'n sagte, smal mond, 'n armsalige mens wat by 'n ander, net so sonder ‘wapens en vlerke’, kom skuiling soek, 'n voorstelling wat aan dié in ‘Die vriend’ herinner. Die indrukwekkendste gedig uit dié tyd is ‘Mia’.Ga naar eind96 Dit is 'n vers wat Jan vir sy Simonstadse geliefde met dieselfde naamGa naar eind97 skryf. Opvallend is die feit dat daar geen sweem van enige erotiek in die gedig merkbaar is nie. Daar is geen sug om seksuele verowering nie, slegs 'n behoefte aan bemoedering: Vou jou hare se donker laning om my
dat ons kan drywe op ons bloed tot rus,
Spoel jou oë se klare water oor my
dat van wilde verweer ons eindelik rus.
Laat jou hande se sneeu oor my slape gaan
en moeder en liefste vir my trillende lippe wees,
In erbarming van liefde en gemeensame vrees
word die eensame hart van sy koors genees.
O, en geen woorde, maar sagtheid en stilte,
Geen verklaring of vrae of skugter getas.
Laat volkome dit kom, laat sink, laat daal
soos maanlig tot vrede in dou en gras.
Niks meer as alles moet ek vra, want by jou
word my vlamme en storme simpel verstil
tot die prewel van jou sagte naam,
en wil ek niks meer dan jou oë wil.
| |
VOmdat hy meer van sy land en die wêreld wou sien en Simonstad en die Kaap vir hom te rustig begin raak het, pak Jan sy goedjies en klim hy op die trein na die noorde. In hierdie stadium van sy lewe het hy reeds in verskillende dele van Kaapland gewoon, maar die ander drie provinsies nog | |
[pagina 110]
| |
glad nie besoek nie. Hy was nuuskierig na die onbekende. Op 'n vroeë oggend sien hy, terwyl die Kaapse trein deur die Wes-Randse voorstede jaag, hoe die eerste rooi lig agter die mynhope met belofte van skoonheid gloei. By Parkstasie stap hy uit in die polsende stuk lewe van Johannesburg. Hy voel soos 'n Voortrekker wat 'n nuwe wêrelddeel binnetrek.Ga naar eind98 In die iets meer as 'n jaar dat hy in Johannesburg woon, lewer Jan - soos hy dit enigsins oordrewe self stel - ‘vragte gedigte’ en baie kortverhale vir al wat tydskrif in die land is, meestal swakkerige verse en ‘soetsappige’ en al te ‘treurige’Ga naar eind99 stories wat die pot aan die kook moes hou. Waarskynlik onder invloed van Opperman se Heilige beeste en sommige van sy mededigters in Stiebeuel is sy verse nou kompakter met die gebruik van alliterasies as klankbinding. ‘Skip’Ga naar eind100 toon, soos 'n hele paar vroeëre verse, steeds die nawerking van Marsman: Dis nie genoeg om elke kus
te ken, en nêrens soet te rus.
En tog is dit die een trots boot
wat enduit vaar tot in die dood.
Die ander, kleiner skuite stryk
hul seile in 'n baai, beswyk
voor rotse van Sirene-sang.
Hul sal aan vreugde-kruise hang.
Maar jy, jou wit seil hoog gehys
vaar reeds verby hul paradys.
Daar is geen kus, geen land so skoon
dat jy dit waag om daar te woon.
Meestal word die verse egter steeds, soos vroeër, ontsier deur vae, onhelder beelding, 'n problematiese woordkeuse of 'n lomp sinsbou. Soms, soos in ‘Herfs’,Ga naar eind101 beoefen hy 'n soort literêre impressionisme wat enkele kere tot mooi beelding lei (‘Die lug is 'n grys duif se veer - /die bome soos grate / aan die dun lyf van water’), sonder dat hy die gedig egter tot 'n hegte eenheid kan snoer. 'n Mens vra jou trouens dikwels af wat Rabie met sy willekeurige beeldspraak presies wil sê: | |
[pagina 111]
| |
In ‘Vrou’Ga naar eind103 wil hy te kenne gee dat hy uiteindelik rus gevind het by die plek waar die geliefde woon en dat sy ‘arbeid’ (sy skeppende werk?) daarmee 'n ‘droom’ geword het wat ‘dryf/na die sterke en klare gebied/van 'n vrou’. Arbeid word 'n droom wat dryf na die gebied van 'n vrou - hoe presies stel Rabie dit vir homself voor? Ook in ‘Serenada vir die ou manne’Ga naar eind104 praat hy van 'n sekere rus wat hy gevind het, maar die beelding bly verward soos in ‘Vrou’: Kyk terug en onthou, en laat
ons dit eindelik nugter sê:
Soos water moet liefde en haat
vroeër of later platvloerig gaan lê.
Ons het gedink ons sou sterf
of beswym in die uur van die maan;
Geskreeu om in bloed uit te verf
die swart van 'n haatlike naam.
Bedink, ons promenadeer
deur die strate van dieselfde stad,
En glimlag bedaard en filosofeer
oor dwaasheid en dit en dat,
Kyk terug en onthou en wil
ons vrede nie anders dan so.
Alles word ryp, alles word stil.
Laat ons dit glo.
Met die publikasie van dié vers kom Jan se digterskap tot 'n vroeë einde, want hierna sou hy, behalwe vir 'n enkele geleentheidsvers by een van Uys Krige se verjaarsdae, nooit weer 'n enkele gedig skryf nie. As 'n mens sy poësie vanaf sy studentejare tot 1948 - 'n stuk of tagtig gepubliseerde verse in totaal - bekyk, word dit duidelik dat Jan huiwer tussen 'n tradisionele vormvaste gedig en 'n rymlose vers met 'n vryer struktuur. Tussen dié twee het hy egter nooit 'n eie vorm of styl vir homself gevind nie, sodat | |
[pagina 112]
| |
sy totale poëtiese produksie tastend en onseker bly. Verse soos ‘Mia’ in die meer gebonde vorm en ‘Die vriend’ met 'n vryer loop is van die enkele gelukkige uitsonderings waar hy iets moois bereik, terwyl hy in die Afrikaanse poësie steeds bekend staan vir die mooi beeld van die ‘wit draai na die hart’ in ‘Blinde tog’. Dikwels vind 'n mens by hom spore van rymdwang, ritmiese onsuiwerhede en vreemd verslete argaïsmes en woordverwringings wat aan 'n vroeë fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie herinner, 'n tyd toe daar gemeen is dat 'n dergelike ‘digterlike vryheid’ in orde is. Die grootste beswaar teen hierdie poëtiese oeuvre is egter die beeldloosheid van so baie verse aan die een kant en die dikwels verwarde beeldspraak aan die ander kant.Ga naar eind105 In 'n ongepubliseerde stuk wat hy baie jare later onder die titel ‘Hoe ek begin het’ as lesing lewer en wat by sy dokumente op Stellenbosch bewaar word, mymer Jan terug: ‘En tog: Tog dink ek nog soms dat ek dalk eerder digter moes gebly het.’ Dit is 'n futiele tipe oefening, want as digter het Jan nooit die idioom gevind wat van sy beste prosa 'n waardige en by tye groot bydrae tot ons literatuur maak nie. Met Jan se enigsins uitgerekte afskeid van die poësie begin hy veel meer verhale vir tydskrifte stuur. In ‘Sondag op die plaas’Ga naar eind106 keer hy terug na die wêreld van Riethuiskraal waar daar in die seun Arno, pas terug van universiteit, iets van 'n opstandigheid teen die Calvinisme te bespeur is. ‘Poinsettias’Ga naar eind107 handel weer oor die onvermoë van 'n man om sy verhouding met 'n vrou weens die gebrek aan kommunikasie tot iets sinvols te verdiep. Dieselfde motief, nou aangebied as 'n ‘liefde sonder hoop of weerliefde’ weens die afwesigheid van enige kontak, kom voor in ‘Naamlose brief’.Ga naar eind108 Veel sterker, met belangrike aanduidings van Jan se psige in hierdie jare, is ‘Die roos’,Ga naar eind109 die verhaal van 'n skrywer wat probeer om die geluk in sy skryfwerk te vind, nie in die vrou wat sy eensaamheid sou kan ophef nie. ‘In die winter’, so begin hierdie verhaal, het hy in vervoering gewerk en in die verhaal wat hy deur die koue, druppende dae en nagte geskrywe het, het die teerheid van sy drome gestalte gevind in die liefde van 'n jongman vir 'n skone vrou. Maar toe die lente kom, het hy sy eensaamheid besef en toe kon hy nie meer werk nie...[H]oe verder die lente in lewe en jubelende krag toegeneem het, het [hy] sy eie verskriklike eensaamheid besef naas sy behoefte, sy blinde drif om lief te hê...Terwyl die lente en die nuwe | |
[pagina 113]
| |
lewe buite toeneem en nie te ontsê was nie, het 'n aand gekom waarin hy siek, bitter trane van hunkering na 'n vriend of 'n meisie gehuil het. Dit was asof die hele wêreld in voltooide en geluksalige warmte verbygaan en hom alleen laat agterbly in 'n klein, nou kamertjie. Heeltemal anders in toon en besonder vermaaklik is ‘Oom Kaspaas kom terug’,Ga naar eind110 die verhaal van 'n groep oewerboere wat T.O. Honiball se Oom Kaspaas en Nefie-wedervaringe só boeiend vind dat hulle gereeld Woensdagaande van oorkant die rivier kom om oor die enigste radio in die kontrei na die vervolgverhaal te kom luister en later glo dat die twee karakters werklik bestaan.Ga naar eind111 Vir Kersfees 1946 skryf Jan twee verhale: ‘Die Kersfeesgeheim’Ga naar eind112 oor 'n dogtertjie se verrassingsgeskenk vir haar wewenaarvader, en ‘Die Kersfeesnag’Ga naar eind113 wat teen die agtergrond van die Groot Griep van 1918 afspeel. In die onbeholpenheid van 'n standerd IX-seun wat in ‘In die begin’Ga naar eind114 'n liefdesbrief ontvang, herken 'n mens iets van die teruggetrokke Riversdalse skoolkind wat Jan was, terwyl ‘Vernietigers’Ga naar eind115 oor 'n alleenkind handel wat, tot spot van die bende lummels wat saam met hom op skool is, voor sy meisie se venster viool speel. In ‘Die goue son’Ga naar eind116 wil hy 'n seun wat deur sy meisie verwerp is, in sy lyding uitbeeld, maar die simboliek aan die slot raak verward. Daarteenoor soen die bergklimmer in ‘Wilde gras’Ga naar eind117 wel die meisie van sy liefde en word 'n soort vereniging aan die slot gesuggereer. Die verhaal eindig egter net met die woorde: ‘Toe het die see van vlammende gras hom na haar gevoer.’ Van die twee bymekaar word niks vertel nie, want klaarblyklik was Jan steeds onmagtig om sulke intimiteite op skrif te hanteer. Enkele verhale, soos ‘Mallemeule’Ga naar eind118 oor oppervlakkige vermaak by 'n dobbelplek en ‘Die laaste trem’Ga naar eind119 oor dronkies in die stad se strate, gee die neerslag van Jan se ervarings en waarnemings van Johannesburg. ‘Groter as die dood’Ga naar eind120 is gebaseer op 'n ware voorval uit 1855 oor die botsing tussen die boere en die Xhosas aan die oosgrens, 'n verhaal wat nog uit die sfeer van Nog skyn die sterre kom. Dit word in 1947 deur Sarel Marais in sy bloemlesing Twaalf Afrikaanse kortverhale opgeneem en by die Afrikaans Pers-Boekhandel gepubliseer. Teenoor die flouerige ‘Blou skoentjies’,Ga naar eind121 oor 'n man wat op die blou skoentjies van 'n meisie in plaas van op die meisie self verlief raak, handel ‘Nagvuur’ oor 'n man wat deur brandstigting ook sy liefde wil laat ontvlam, 'n verhaal wat, hoewel nog onbeholpe, Jan se surrealistiese ‘prosas’ van die vyftigerjare in die vooruitsig stel. Dat hy in hierdie jare reeds | |
[pagina 114]
| |
op die gebied van die prosa aan die eksperimenteer is, blyk, ná die stukkies swak kunsprosa wat hy in 1945 in Die Stellenbosse Student gepubliseer het, uit die drie sketse wat in Die Brandwag van 1 November 1946 van hom verskyn: ‘Vryheid’, wat hy 'n ‘prosagedig’ noem, ‘Lente is soos 'n laggende vrou’ en ‘Agtergrond vir geluk’. 'n Passasie uit ‘Agtergrond vir geluk’ klink na die verre voorloper van ‘Drie kaalkoppe eet tesame’ uit Een-en-twintig: Terwyl hy eet, luister hy wat die Griek en sy vriende sê, sodat hy self nie hoef te dink nie. Daar is drie mans wat vis en aartappelskyfies sit en eet, en 'n paar ander wat om hulle staan en heftig redeneer soos hulle elke aand gewoond is om te doen. Een groot dik man stoot sy ken uitdagend uit na 'n skraal, bruin kêrel in sakkerige klere...Die elektriese lig maak 'n wit dammetjie op die Griek se kaalkop. 'n Mens merk hierdie drang om op die gebied van die prosa met iets nuuts te kom, ook in ‘Drie portrette’,Ga naar eind122 saam met die gedig ‘Beeldhouer’ die enigste bydrae van Jan in Vandag, die tweetalige tydskrif wat Uys Krige en Ehrhardt Planje kortstondig in 1947 redigeer.Ga naar eind123 Die geslaagdste van die drie sketse is ‘Portret van 'n vrou’ waarin Rabie 'n negatiewe maar geestige beeld gee van 'n vrou oor wie hy deur sy vriend die versekering gekry het dat sy in haar ‘twyfelagtige brein’ tog films en romans kan verwerk. Soms voel ‘sy ook soms 'n krieweling in die buurt van haar kliere...en dan droom [sy] van 'n baba wat snuffel [my kursivering - JCK] aan haar bors’, 'n woordgebruik wat vir dié tyd nogal gewaagd was. In sy tekening sluit Rabie aan by die ou tradisie om die vrou in haar afstootlikheid uit te beeld, iets wat teruggaan na Shakespeare (‘My mistress' eyes are nothing like the sun’):Ga naar eind124 Ten spyte van haar cretonne-bloeses en slagpaal-lipsel, ruik sy na muise en muwwe poeier. Haar gesig is bros, melerig, 'n skurwe, gekreukelde lap, en laat 'n mens in twyfel oor watter velsiekte haar verteer. Haar neus staan soos 'n fort teen alle liefde; haar hare rond die verdediging met doringdraad-krulle af. Afstootlik is haar frikkadelstem, haar gewoonte om elke woord wat sy sê, soos ronde, vetterige korrels uit haar mond te laat glip. | |
[pagina 115]
| |
Geen wonder nie dat hy dié vrou liefhet juis omdat sy hom tot ‘walging en medelye’ inspireer! Maar in Johannesburg was Jan darem nie net met verhale en gedigte besig nie. Wanneer hy op 'n aand in Augustus 1946 by die Universiteit van die Witwatersrand 'n lesing deur C. Louis Leipoldt bywoon, is Bartho Smit, ook 'n medewerker aan Stiebeuel, in die gehoor en maak hulle kennis met mekaar.Ga naar eind125 Nog dieselfde aand is Bartho saam met Jan na sy kamer in Brixton om na plaatopnames te luister. Bartho se ‘loopbaan’ as bokser het in dié tyd pas in duie gestort en hy het sy toevlug geneem tot die digkuns wat hy met klakkelose oornames in die idioom van Dertig beoefen het, al werk hy die belydende inslag teen met die gebruik van gestaltes en wyk hy met 'n dikwels rare maar potsierlike beeldspraak af van die Louws se modewoorde. Baie gou het Jan en Bartho hegte maats geword en besluit om, ter wille van kostebesparing met die oog op 'n besoek aan Europa waaraan albei ernstig aan die dink was, die kamer van Jan te deel. Dikwels is hulle saam na die ou Duitse Klub, wat in 'n jeugsentrum omskep is waar jongmense vir 'n appel en 'n ei kon eet en waar hulle naweke 'n bietjie uitbundig kon raak. Bartho het 'n half skamerige maar terselfdertyd skelm glimlaggie gehad wat vir meisies onweerstaanbaar was. By die Duitse Klub leer Jan en Bartho nou ook die eksotiese en skerp intelligente Peter Blum ken. Peter was van Duits-Joodse afkoms, 'n immigrant uit Oostenryk wat saam met sy ouers uit Europa via die hawestad Trieste ontvlug het aan die opmars van Hitler, maar hy was vreemd geheimsinnig oor sy jeug in verskeie Alpe-lande en oor sy vader, 'n psigiater van beroep, wat in 'n kranksinnigegestig in Johannesburg opgeneem is. Ná sy skoolopleiding in Natal het hy op Stellenbosch van alle moontlike vakkeuses 'n landboukursus gevolg, maar uit verveling weggedros om deeltyds by die Duitse Klub as sekretaris te gaan werk en snags lang uitgerekte verse in Engels te skryf wat hy preludes en fugas genoem het. Snags stap die drie vriende saam kruis en dwars deur die stad, van die middestad deur Fordsburg tot by Aucklandpark en Brixton. Peter het geweet waar die beste roomys in die stad gemaak word en het Jan en Bartho met 'n ompad na dié plek in Doornfontein gelei, van waar hulle dan, ná die ‘soet orgie’,Ga naar eind126 verby die Berea-hoogte na Braamfontein moes loop. In daardie jare, toe naggevare nog nie sulke bekende verskynsels was nie, het hulle onder die straatligte rondgeswerf en die groot probleme wat 'n jongmens in 'n domonnosele wêreld besig hou, van lamppaal tot lamppaal moeggepraat. | |
[pagina 116]
| |
Gereeld het hulle egter in Jan en Bartho se kamertjie bymekaargekom om na musiek te luister of poësie voor te lees. Peter, wat met sy growwe bou en sy reeds aankomende gewig nie juis soos 'n Don Juan daar uitgesien het nie, was 'n bietjie afgunstig wanneer Bartho van die week liefdesverse, wat hy in 1949 in sy bundel Mure sou insluit, met sy gulle mond voorlees. ‘Bartho verwar die poësie met moedersmelk’, was sy kommentaar.Ga naar eind127 Bartho het hulle, tot wrewel van Peter wat soms snedig op ander mense kon reageer en vroue gelaak het, vertel hoe die muse baie nagte in sy kamer deurbring en hoe hy bedags met stukke van sy epos oor die Vlieënde Hollander in sy baadjiesak rondloop. Oor sy meisie, die toneelspeelster Kita Redelinghuys met wie hy later sou trou, skryf hy by geleentheid aan Jan dat haar oë nog donker is, ‘wêrelde van aardse blyheid’ en dat hy die liefde in hom dra ‘soos 'n vrou haar kind dra’.Ga naar eind128 As Bartho boonop in 'n gedig wat hy ‘Vrou’ noem, skryf: Jou bloed is veilig om my soos 'n kraal,
En bo-oor hang ons duistere geslag -
'n wolk waardeur geen sterre straal;
ek rus in jou soos beeste in die nag.Ga naar eind129 [,]
is dit vir die siniese Peter eens te erg. Bartho was vir hom besig om te ontwikkel in wat hy 'n ‘huwelikkewaan’Ga naar eind130 noem en later sou hy altyd van ‘Bartho Beeste-in-die-Nag Smit’Ga naar eind131 praat. Vir hom het Bartho met sy droewige gesig daar uitgesien soos 'n ‘waardige ou kolliehond’ en hy het gemeen dat Kita se ‘pragtige oë, temperament en boude’Ga naar eind132 iets beters verdien. Self het Peter 'n uiters siniese blik op vroue gehad. In 'n brief aan Jan uit hierdie tyd skryf hy dat ‘enige omgang met vroumense wat op 'n huwelik uitloop of 'n gebroke hart in plaas van 'n naaiery’Ga naar eind133 blote tydmors is. Peter is in hierdie tyd besonder aangetrokke tot Jan en het 'n bewondering vir sy fisieke gestalte. In 'n brief wat hy, soos dikwels in dié jare, gedeeltelik in Engels skryf, praat hy van Jan se neiging om by tye te poseer, ‘a necessity to play up to’. Dit is ‘that playing up to which is the characteristic of the female, and which makes you seem effeminate at times’. Een maanligoggend om twee-uur, terwyl hulle op 'n bank bo Brixton sit en uitkyk na die stadsligte - so vertel Jan in sy herinneringstuk oor Blum - stel Peter voor dat hulle, omdat hulle dan alles moet beproef, wedersydse minnaars word.Ga naar eind134 ‘Sies, jou vark!’ was Jan se reaksie.Ga naar eind135 | |
[pagina 117]
| |
Jan was in hierdie tyd bevriend met die klavierstudent Betsie van Rooyen, wat ook deel was van die kring waartoe hy, Bartho en Peter behoort het. Dikwels was hulle saam in die Duitse Klub waar Betsie soms klavieruitvoerings gegee het. Wanneer André Huguenet die rol van Hamlet in L.I. Coertze se beroerde Afrikaanse vertaling van dié Shakespeare-drama vertolk, sit Jan in 'n aandpak langs Betsie in die voorste ry van die His Majesty's Theatre en hou hulle die hele aand duim vas ‘dat die boggerse André Huguenet nie dalk 'n krater van hom maak of sy woorde verkeerd opsê nie’.Ga naar eind136 Vir Peter is die opvoering ‘absoluut goor’; die spul ‘pansies’ misbruik toneelspeel, wat ‘nie 'n medium van selfuitdrukking’ is nie, ‘om ontslae te raak van hulle verwyfde gebare’.Ga naar eind137 Betsie skryf in die vyftal oorgelewerde briewe van haar aan Jan dikwels oor werke van bekende komponiste en dit is duidelik dat musiek die raakpunt tussen hulle is. Uit die briewe - meestal maar vaal en onvolwasse - is dit duidelik dat sy smoorverlief op Jan is, maar dat die liefde nie beantwoord word nie. In een van die briewe vra sy magteloos waarom hy haar nie liefhet nie. Klaarblyklik het Jan neergesien op haar liefde vir Tsjaikofski. Wanneer hulle vriendskap, 'n verhouding kan 'n mens dit nie noem nie, tot 'n einde kom, vra sy hom om nie sy Tsjaikofski-plate te verpletter nie. ‘En gaan nou terug na Peter en sê vir hom: “Ja, jy was altyd reg! Vroumens se bah!!” En eendag as julle twee ellendig en alleen ronddwaal tussen julle nuttelose teorieë oor vroumense, (hoogste dier van die beskawing), troos maar vir mekaar. Lewe maar by mekaar en probeer 'n voorsmakie kry van wat julle s'n kon gewees het...Ek hoop jy vind 'n Beethoven-aanbidder eendag wat 'n sterk muur om haarself het en moontlik sal sy jou gelukkig maak. Wie weet!!’ Peter, met sy afkeer van vroue, was bewus daarvan dat Jan in sy verhoudings van intimiteite wegskram en vir sy gevoel te geïnhibeerd is. Later sou hy spottend sê dat Jan in sy verhouding met vroue net tot by die ‘voorportale’ vorder, sonder om by die binnedeure in te gaan.Ga naar eind138 In 'n brief van 1947 sê hy dat hy Jan aangeraai het om na Europa toe te gaan, hoofsaaklik ‘om verlei te word - of sê julle vir so 'n onafrikaanse ding maar “sedjoes”?’ Hy het egter sterk vermoedens ‘dat wat jy in JHB en CT en Soebattersvlakte nie kan leer nie, jy in Parys en Londen...ook nie sal leer nie...As jy gewillig is om 'n konyn te wees sal enige land 'n hok vir jou wees’. En in 'n passasie uit dié brief merk 'n mens Peter se sinisme oor die politieke bestel in Suid-Afrika, 'n sinisme wat Jan waarskynlik in hierdie stadium reeds gedeel het. ‘Dik Daan en sy trawante’, skryf hy - 'n toespeling op D.F. Malan | |
[pagina 118]
| |
en sy Nasionaliste - ‘stel net belang in jou stembriefie. Wat help al daardie gesanik oor wêreldkultuur en internasionalisme en die groot Europese verlede en geesteswêreld as julle bokkers by elke verkiesing, soos selfmoordlustige lemmings geestesverlore die see instorm, juis vir daardie Christelike Nasionaliste stem wat daarop uit is om jul geeste aan bande te lê en jul dinkvermoë in te span tot die groter glorie van volkswankultuur en eiegeregtige breinvervetting? Europa en seduksie oftenot - jou plig lê hier, waar jy moet help sorg dat die land vry bly vir vry geeste.’Ga naar eind139 Veral die verskriklike waarheid van hierdie laaste woorde sal Jan later besef wanneer hy in Parys woon en nie van sy verantwoordelikhede teenoor Suid-Afrika kan loskom nie. Tydens sy tydjie saam met Peter en Bartho het Jan steeds voorkeur gegee daaraan om sy geld op grammofoonplate in plaas van op meisies te spandeer en het hy 'n groot versameling 78-plate van die klassieke meesters besit wat hy op 'n opwen-draaitafel kon speel. Wanneer 'n simfonie van Beethoven of Haydn aan die speel was, het Peter gereeld met staccato, lomp gebare gedirigeer terwyl hy op en af luid, tot ergernis van die hospita, deur die kamer trap. Bartho het ontroerd met sy hande voor sy oë na die musiek sit en luister en hard probeer om nie deur Peter ontstig te word nie. Maar soms, soos by die laaste beweging van Beethoven se vyfde simfonie, kon Bartho dit nie meer hou nie. Hy het opgespring om ook te dirigeer en saam te dreun. Uit vrees vir die hospita wat sulke klanke nie kon waardeer nie, was Jan dikwels verplig om die musiek af te sluit. Wanneer Jan 'n jaar later nie meer in Johannesburg woon nie, skryf Peter aan hom briewe waaruit 'n mens 'n indruk kry van hoe hulle gesprekke oor die musiek verloop het. In 'n brief van 2 Julie 1947 sê Blum byvoorbeeld dat hy sowel Schubert as Beethoven se sewende simfonieë gekoop het en dat dit interessant is vir hom om te sien ‘hoedat Schubert dié skakel uitmaak tussen Beethoven en Tchaikovsky, net soos Beethoven self die skakel vorm tussen Mozart en Wagner’. In 'n brief van 8 Julie 1947 sê hy verder dat hy ook Beethoven se vierde klavierkonsert en Bach se ‘Wise virgins’ in 'n vertolking deur Walton aangekoop het, 'n vertolker wat ‘die hele pre-Mozartiaanse musiek deur die bril van Purcell (beskou)’ en die musiek gevolglik baie ‘onbachtig’ laat klink. Dit is uitsprake wat van 'n deeglike kennis van die musiek getuig en 'n mens kan aanneem dat dergelike interpretasies, dikwels téén gekanoniseerde uitsprake in, in hul gesprekke opgeduik het. Anders as die meeste kommentators vind Blum | |
[pagina 119]
| |
Beethoven se agtste simfonie ‘nouliks ernstige musiek’, maar hy begin om Brahms te ‘bemin’ en hy vind die Klavierkonsert in D Mineur ‘sonder 'n sweempie van 19de eeuse paranoia’. Schubert se sewende simfonie ‘is groots in die eerste twee bewegings’, maar ‘flop’ daarna met 'n ‘(l)awaaierige einde’. Op 19 Augustus 1947 vind hy Beethoven se vierde klavierkonsert ‘groter en wesenlikerGa naar eind140...as die 'Keiser'’, en hy glo dat Beethoven se ‘progressiewe paranoia’ tog iets moois in hom ‘gebreek’ het.Ga naar eind141 Omdat Jan bydraes vir Uys Krige en Ehrhardt Planje se tydskrif Vandag wou gaan inlewer, ontmoet hy Uys Krige by die redaksiekantore nog voor hy Johannesburg in Maart 1947 verlaat. Soos gebruiklik met nuwe vriende het Uys dadelik begin uitvra na ouers en grootouers se herkoms en nooiensvanne in 'n poging om vas te stel of hy en Jan nie dalk familie van mekaar is nie. Sonder kennisgewing aan Lydia Lindeque, met wie Uys in dié stadium nog 'n verbrokkelende huwelik probeer handhaaf het, gaan hulle by geleentheid saam na Kasarm, die naam wat Uys aan sy ou, karig gemeubileerde huis in Parktown-Noord gegee het. Toe hulle opdaag, gooi die vurige Lydia woedend 'n broodkors na hulle toe, iets wat Uys met 'n ‘reënboog’ onskuldige trooswoorde beantwoord.Ga naar eind142 Jan kon Uys later onthou as 'n kort, borrelende, romantiese figuur met 'n wilde hane-kuif wat hom aan Napoleon laat dink het, 'n man met wakker gebare en begeesterde woorde. Uys het hom die adres gegee van Vincenzo Petrella, die Italiaanse kleinboer van die Sulmona-vallei wat hom tydens die Tweede Wêreldoorlog ná sy ontsnapping uit 'n krygsgevangenekamp onderdak verskaf het. Indien Jan, soos sy plan was, na Europa gaan, het Uys gesê, moet hy beslis Vincenzo opsoek en die groete oordra. Vir mense van sy geslag skrywers, so kon Jan later getuig, het Uys nuwe horisonne aangeroep en vir Afrikaans die ‘verwonderlike suidelike vensters’Ga naar eind143 op die Mediterreense literature oopgegooi. Hy het gehou van die wyse waarop Uys feitlik sonder geld of vaste inkomste in Frankryk en Spanje soos 'n troebadoer kon leef en swerf. Heimlik het hy begin hoop dat hy binne die afsienbare toekoms dieselfde kon doen. | |
VIMaar vir eers het Jan ander planne en verpligtinge gehad. Sarel Marais, uitgewer van die Afrikaanse Pers-Boekhandel en samesteller van Twaalf | |
[pagina 120]
| |
Afrikaanse kortverhale, waarin Jan se verhaal ‘Swart Kersfees’ opgeneem is, het by hulle kennismaking gesien Jan is 'n energieke mens wat met ondernemingsgees graag nuwe dinge aanpak. Met die oog op 'n reisverhaal wat vir voorskryf op skole geskik sou wees, stel hy nou voor dat die Afrikaanse Pers-Boekhandel Jan vir 'n omvattende reis van drie maande deur Natal betaal en dat hy ná afloop daarvan 'n boek oor sy ervarings skryf. Jan was ingenome met die opdrag, want dit sou hom die geleentheid gee om Natal, wat hy nog nooit besoek het nie, goed te leer ken. Hy begin sy reis per trein vanaf die noorde by Majuba en daal dan, afwisselend te voet en per bus, via St. Lucia af na Durban en die suidkus tot die Oribi en van daar deur Pietermaritzburg na die Drakensberge en Mont-aux-Sources tot by Zoeloeland. Hy slaap buite en groot ente stap hy met sy rugsak, terwyl die subtropiese plantegroei - vir hom, gewoond aan die betreklike barheid van die vallei naby Stilbaai waar hy grootgeword het - in sy swoel geilte 'n oorweldigende ervaring is. Soos die waterval naby Riethuiskraal is die gras naby die Howick vir hom ‘lank soos vrouehare’Ga naar eind144 en wanneer hy oor die krans kyk, moet hy 'n oomblik duiselig terugstaan. Wat hom veral bybly, is die oorweldigende stilte van die Drakensberge: ‘'n diepgrypende stilte, 'n geluidlose suising van stilte,... 'n verskriklike stilte soms. Dan kry jy 'n waansin om dit uit te skreeu en die afgronde van niks te vul met die geluid van jou stem, om na die bergrand te hardloop, ontsenu deur jou eie nietigheid, en af te klim, af, af, af na onder waar mense en stemme en beweging om jou sal wees.’Ga naar eind145 In vergelyking met Nog skyn die sterre is daar nou by Rabie 'n gevoeligheid vir die komplekse rasseverhoudings in die land en vir onregte wat hy waarneem, soos wanneer 'n man 'n pennie vir een van die ‘bedelklonkies’ langs die trein aanbied maar dit met 'n gelag terugtrek as die seuntjie sy hand gretig daarna uitsteek.Ga naar eind146 ‘Laat ons nie die bietjie respek wat die naturel nog vir ons het, ondermyn nie’,Ga naar eind147 skryf hy. By geleentheid, wanneer hy per bus reis, word hy ontsteld en later woedend oor 'n insident: Net buite Mapumulo het ek opgestaan om die Indiër wat voorheen opgestaan het om vir my plek te maak, weer 'n sitkans te gee. Hy bedank en met 'n skewe glimlag verduidelik [hy]: ‘'n Indiër kan mos heelpad staan.’ | |
[pagina 121]
| |
Maar dan word hy vervul met hoop vir die toekoms wanneer hy tydens sy besoek aan die Nkandhlabos die menslikheid van 'n swart man leer ken: Mavundhla en ek het op 'n graswal gesit en in die groeiende skemering sigarette gerook terwyl ek 'n les in Soeloe ontvang en geleer het om ‘Hambagahle’ (totsiens) uit te spreek. Ek het gesit en luister na sy lae, langsame stem met die suiwere uitspraak van die woorde selfs as hy Engels praat en na die sterk profiel van sy gesig teen die aandlug gekyk. Terselfdertyd besef Jan - wanneer hy St. Lucia besoek en deur die ‘tropiese, verraderlike Afrika’, wat vir hom ‘'n kloppende koorswond agter die donker, gekromde bome’Ga naar eind150 is - dat hy in hierdie stadium van sy ontwikkeling as mens ‘'n Europeaan, 'n ys-noorderling’,Ga naar eind151 is en dat hy 'n heimwee het na sneeu en ryp, ‘kristalwit water en koel, hoë plekke en berge’.Ga naar eind152 Met sy swerflus deur die Natalse reis aangewakker, wou hy nou opsluit na Europa om te gaan kyk hoe die wêreld anderkant die Suid-Afrikaanse horisonne lyk. En hy wou nie na die stoere Nederland of die Angel-Saksiese Brittanje gaan nie, lande wat deur sy studie en sy lewe in Suid-Afrika betreklik bekend en deur landgenote vóór hom platgereis was. Hy wou die feit bevestig dat daar ook Romaanse bloed in ons are vloei en soos Uys Krige voor hom die Mediterreense lande besoek. Uys was vir hom 'n rigsnoer, nie net as digter wat die suidelike vensters van Europa vir die Afrikaanse literatuur oopgemaak het nie, maar ook as wêreldburger. In 'n artikel in Die Brandwag van 20 September 1946 sien Jan dit reeds as die taak van die Afrikaner om nou, ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog, as wordende wêreldburger sy deel by te dra tot die ‘broederskap en samewerking en die redding van die mensdom’. Maar vir die ideaal van 'n reis na Europa moes hy geld hê en Groen reise, soos hy sy reisverslag deur Natal - wat hy in die wintermaande van 1947 voltooi - noem, sou eers in 1950 gepubliseer word en vir hom 'n inkomste | |
[pagina 122]
| |
genereer.Ga naar eind153 Die hoofstuk oor die Zoeloes se koningsdans voor koning George VI wat Die Huisgenoot van 13 Junie 1947 afdruk, sou intussen darem 'n bietjie geld inbring. Maar op 'n bestendige inkomste uit dié boek kon hy sy hoop nie vestig nie. Ten spyte van 'n tweede druk in 1952 en al was Jan se vriendin Ina Rousseau so vriendelik om dit in haar bespreking in Ons Eie Boek, XVII: 4, 1951 vir skole aan te beveel, sou dit nie voorgeskryf word nie; waarskynlik was dit, in vergelyking met Uys Krige se reissketse, te ‘Baedekeragtig’, soos Rob Antonissen dit in sy bespreking in Standpunte, VII: 2, Desember 1952 sou bestempel. Om verdere geld vir 'n Europese reis in die hande te kry, hou Jan ná afloop van sy reis deur Natal in die tweede semester van 1947 skool op Riethuiskraal terwyl sy vader met siekteverlof was en vir sy aftrede aan die einde van die jaar klaargemaak het.Ga naar eind154 Die gebou waarin hy kom klasgee het, was nie dieselfde as dié waarin hy sy onderrig in die laer standerds ontvang het nie. In 1935, toe hy al in standerd IX op Riversdal was, is 'n nuwe skoolgebou ingewy met veel beter geriewe as dié waarin hy sy opleiding ontvang het. Dit het bestaan uit drie klaskamers, 'n portaal met hokke waar die kinders hul baadjies, reënjasse, sambrele en persoonlike besittings kon bêre en waar daar ook twee wasbakke met krane was. Daar was ook 'n stoor waarin voorrade vir die skool bewaar is en waarin 'n kragopwekker met batterye geïnstalleer is.Ga naar eind155 Juis in hierdie tyd was sy jongste suster, Sannie, by Jan op skool. In latere jare kon sy hom onthou as iemand wat 'n gemoedelike aanslag met die kinders gehad het, as onderwyser minder streng as hul vader, maar wat tog, deur net met sy groot bruin oë na jou te kyk en niks te sê nie, gesag afgedwing het.Ga naar eind156 As deel van die programme vir die landsdiens was hy so ondernemend om die kinders op uitstappies na die Kango-grotte en die Kammanassie te neem en hulle op dié wyse in 'n beter kennis van die natuur in te lei.Ga naar eind157 Jan se jonger broer At was toe in matriek op Riversdal en kon oor naweke op Riethuiskraal sy oudste broer beter leer ken. Jan se eerlike deernis het vir hom geblyk uit sy besorgdheid oor die jong onderwyseres wat in die plaashuis by hulle ingewoon het en wat, so het hy gevrees, uit pure eensaamheid in die afgesonderdheid van Riethuiskraal op hom verlief kon raak. ‘Jan’, skryf At in 'n bydrae tot die liber amicorum wat by die skrywer se sewentigste verjaardag in 1990 saamgestel word, ‘het ingetrek in die konsistorie van die kerksaal so 100 tree van ons huis af. Die konsistorie was toegerus met 'n groot ouderlingstafel waarop die doodskiste met begrafnisse gepryk het, harde | |
[pagina 123]
| |
houtstoele en katel. Op die tafel: boeke, maar vir my oë die belangrikste - Jan se opwengrammofoon, 'n Franse Paillard, en 78-spoed plate! Saans het ek in vreugde gehuil en gedans met die klanke van Eine kleine Nachtmusik, Andante Cantabile, Die liefde van die Drie Lemoene, Bolero en Isoldes Liebestod. Wat 'n wêreld het ek nie skielik in die 78-plate ontdek nie!! Ek, wat toe tweevinger gesukkel het met Minuet in G en nou klanke hoor wat vlieg, so anders as die sentimentele ritme van die kitaar en konsertina van die kontrei. Dit het my siel begin oopmaak tot 'n pad van musiekontdekking.’ Dit is 'n ontdekking wat At aan Jan te danke gehad het en waarvoor hy hom 'n lewe lank sou dankbaar bly.Ga naar eind158 Terwyl hy op Riethuiskraal in die onderwys staan, skryf Jan 'n paar van sy beste verhale van die tydperk vóór sy vertrek na Europa: ‘Doodgeld’ en ‘Die bed’, wat hy albei in 1957 in sy bundel Dakkamer en agterplaas sou opneem en ‘Opsigter Dawids en die skilder Jacopi’ wat in Die Huisgenoot van 31 Oktober 1947 verskyn. ‘Opsigter Dawids en die skilder Jacopi’ is die goed geboude, knap verhaal, sonder simpatie of patos maar met fyn intellektuele humor, oor 'n eenvoudige opsigter in 'n kunsmuseum by wie die vrees vir moontlike beskadiging van 'n skildery die oorhand kry wanneer hy 'n beroemde kunstenaar met 'n paletmessie in die hand as 'n moontlike ‘dader’ aansien. ‘Die bed’, wat met 'n vendusie-toneel by 'n tradisionele gegewe uit die ou Afrikaanse verhaalkuns (soos in Jochem van Bruggen se Ampie) aansluit en met 'n meer ingetoë maar nog ruwe realisme werk, speel af teen die agtergrond van die Kafferkuilsrivier en maak mooi gebruik van tipiese Afrikaanse woorde (die dogter wat op sewentien net mooi ‘bekwaam’ is, Groot Kerneels wat 'n ‘opskud’ gaan gee, ‘die kitaar tongel sy hoogste note agter die swiere van die konsertina aan’). Rabie slaag daarin om die verhaal mooi op te bou, al is die slot op die rand van moralisering. Die beste van hierdie drie verhale - en een van die hoogtepunte in die hele Rabie-oeuvre - is ‘Doodgeld’ oor die skoenmakerboer Basie Bouwer wie se seun Sampie in die patatlandjie langs die rivier van Jan se kinderjare werk en berig kry dat sy ander seun in die fabriek in Kaapstad verongeluk het. Die skadevergoeding wat Basie as gevolg hiervan ontvang, lei tot 'n periode van intense genot en uitspattigheid met voortdurende partytjies, brasserye, kopery en besoeke aan die stad. Dit is 'n verhaal oor 'n ruwe leefwyse met 'n sterk stuk boere-realisme. Wanneer al die geld op is, stel Basie, in 'n byna groteske ontknoping aan die slot wat aan Maupassant herinner, voor dat sy oorlewende seun met die laaste | |
[pagina 124]
| |
geldjies 'n treinkaartjie koop om ook in die stad te gaan werk. Jan lê hierdie voortreflike verhaal voor aan Die Huisgenoot, maar die tydskrifredakteur, Opperman, laat weet hom, om redes wat vandag onbegryplik en nie meer agterhaalbaar is nie, dat dit vir die Afrikaanse mark nie aanneemlik sal wees nie.Ga naar eind159 Reeds in 'n brief van 1947 laat Peter Blum Jan weet dat hy baie ingenome met die verhaal oor Opsigter Dawids was. Wanneer Ernst Lindenberg ná die verskyning van Dakkamer en agterplaas nie so beïndruk met ‘Doodgeld’ en ‘Die bed’ is nie, skryf Blum in 'n brief van 23 Januarie 1958 dat sowel hy as sy vrou Hetta hulle ‘wonderlik komies’ gevind het.Ga naar eind160 Tydens Jan se termyn op Riethuiskraal verskyn Die pad na mekaar, nog 'n skemaboek - sy vierde roman - wat hy vir die Môrester-Biblioteek van die Afrikaanse Pers-Boekhandel lewer.Ga naar eind161 Hoewel die verhaal in Kaapstad begin en in dié opsig by die destydse stadsromans van Willem van der Berg en W.A. de Klerk aansluit, roep die hoofkarakter, Herman, reminisserend sy mooiste Desembervakansie op toe hy en sy broer, albei indertyd studente, op 'n staptoer langs die kus gegaan het. Aanvanklik hou Rabie die milieu vaag, maar uit sekere aanduidings kan 'n mens die Suid-Kaapse kus en later die vallei van die Kafferkuilsrivier herken, terwyl die ingeligte leser weet dat die hele beskrywing op Jan en sy broer Louw se staptog tydens hulle studentedae gebaseer is.Ga naar eind162 In die tweede deel van die roman, wat Rabie ‘Blou see’ noem, is die milieu, naas die aanvanklike vaagheid, duidelik herkenbaar. Die hoofkarakter reis per trein vanaf Kaapstad oor die Hottentots-Hollandberge verby Caledon tot by Saaiplaas waar hy die bus kry na Stilbaai met sy pont en sy Seesig-losieshuis. In baie opsigte is die uitbeelding van die hoofkarakter wat in die eerste deel (‘Stad’) flink deur die strate stap, geesdriftig na die mooi dinge van die lewe gryp, soos 'n kind na blink dinge, en wat die stryd tussen liggaam en gees sterk in hom voel, 'n selfportret. Daarteenoor is die karakter Louw met sy koue grys oë, sy spitse intellektuele gesig, sy dik brilglase en sy humorlose lang filosofieë en abstraksies 'n beeld van Peter Blum - iemand wat met 'n bek vol groot woorde en ontevrede deur die lewe beweeg, 'n proefskrif op twee pote, hoogs tevrede met homself.Ga naar eind163 By tye kan van die karakters in dié roman sekere ‘liberale’ idees verkondig wat Rabie se eie oortuigings van dié jare oordra. Wanneer Toos praat van die onbenydenswaardige posisie van die jongmens wat die Bybel van sy voorvaders afgesweer en alles tot betreklikheid gereduseer het,Ga naar eind164 herken 'n mens daarin die oortuigings, of | |
[pagina 125]
| |
gebrek daaraan, waartoe Rabie op die vooraand van sy vertrek na Europa gekom het. Dit is amper asof 'n mens in die woorde van die karakter Louw 'n eksistensialis uit Parys hoor praat: ‘ek glo in niks nie. Ek glo net in my eie integriteit, my eie absolute vryheid, my reg om te beskik oor my lewe, en vry en sterk, gebonde aan niks, en daarom onbevrees in my eie dood in te gaan.’Ga naar eind165 In die woorde van die hoofkarakter Herman hoor ons die kunsopvattinge van die skrywer en latere Sestiger Jan Rabie: ‘al wat van 'n mens verwag word, is om met oop oë deur die lewe te gaan. Jy moet 'n eerlike reisiger wees, jy moet jou oë vir niks toemaak nie en tog getrou bly aan jouself. Lelik of mooi, net niks verwerp nie. Miskien is dit die pad tot 'n ryk lewe, tot liefde.’Ga naar eind166 En in die toneelGa naar eind167 waar Herman by Leda toenadering soek maar deur sy eerlikheid en onbeholpenheid gestrem word, herken 'n mens die Jan Rabie van hierdie jare, die absolute idealis, die man wat verby die vleeslike na iets hoërs reik: ‘Ek sweer daar is vroue en mans wat nie seks alleen aanbid nie. Manne en vroue wat die hele wêreld vir mekaar is, die sonlig, die blou op die berge, alles, alles. En daar is liefde. Ek weet daar is liefde en ek gaan dit soek tot ek dit kry. Ek sweer, sweer.’Ga naar eind168 | |
VIIKersfees 1947 vier Jan saam met sy ouers en sy broers en susters op Riethuiskraal van waar sy ouers weldra na 'n plasie op Alexandria sou verhuis. Jan self vertrek op 26 Desember na Johannesburg waar hy die volgende dag aankom en in 'n kamer tuisgaan wat Peter Blum vir hom bespreek het. Hy wou 'n tyd lank in Johannesburg navorsing doen met die oog op 'n roman oor die geskiedenis van die Afrikaner. Met sy besoek sien hy weer sy vriendin Ina Rousseau wat by haar ouers in Roodepoort met vakansie was. Sy is teenwoordig toe 'n opsiener van 'n museum Jan kwaai berispe omdat hy in 'n perdekoets gaan sit het om uit te vind hoe dit moes gevoel het om in een te ry. Tydens 'n tremrit is hy ontsteld oor die lang rye en rye swart mense wat ná drie-uur op 'n Saterdagmiddag nog steeds op vervoer na die lokasies wag. Sy bitter woorde hieroor was: ‘Hier in Johannesburg het ek die swart man wragtig geleer jammer kry.’Ga naar eind169 In Februarie 1948 is Jan terug op Stellenbosch en gaan hy tuis in 'n buitekamer wat hy gehuur het van mnr. en mev. Murdoch. Die kamer het twee deure gehad, een na die agterplaas en een na 'n smal stegie agter in | |
[pagina 126]
| |
die eiendom. Om homself te dwing om te werk, het hy soms albei die deure gesluit en die twee sleutels dan deur 'n reet tussen die een deur en die kosyn uitgegooi in die steeg sodat hy slegs ‘bevry’ kon word indien daar 'n besoeker opdaag.Ga naar eind170 Waarskynlik het Jan die historiese roman oor Johannesburg, wat hy Die stad wou noem en waarmee hy tot p. 154 gevorder het, laat links lê en gewerk aan 'n roman waaraan hy die titel Die begin wou gee.Ga naar eind171 Hy was nou ontevrede met die werk wat hy tot sover gepubliseer het en later sou hy oor sy eerste romans, in navolging van Honoré de Balzac, praat van ‘jeugsondes begaan voor my geboorte’.Ga naar eind172 Hy het gemeen dié nuwe roman sou 'n nuwe begin wees. Soos die historiese roman laat hy egter ook Die begin onvoltooid en later het hy nie meer geweet wat van die manuskrip geword het nie. Reeds op 3 Januarie 1948, kort ná sy aankoms in Johannesburg, skryf Jan aan dr. Fransie Malherbe 'n brief waarin hy sê dat hy voornemens is om na Europa te gaan. Die skepe is egter baie vol, maar hy sal plek kry indien hy 'n brief van Malherbe in verband met sy voorgenome studie aan die skeepvaartmaatskappye kan toon. ‘Gereelde studie aan 'n universiteit gaan ek nie volg nie (vir grade ens.)’, skryf hy, ‘maar seer sekerlik 3 maande aan die Paryse universiteit om die Franse taal en letterkunde te leer. Miskien ook elders, en natuurlik met literêre groepe in aanraking kom. Vir my is dit verdere studie. Ek weet nie of dit vir u klink daarna nie. Die brief bring egter geen enkele verpligting vir u mee nie.’ Hy sal bly wees indien Malherbe kans sien om die briefie te skrywe en daarmee 'n groot guns aan hom, ‘en indirek vir die Afrikaanse letterkunde’, te bewys. In 'n belangrike, hoewel enigsins blomryke, passasie in die brief sê hy, aansluitend by die lae dunk wat hy nou van sy gepubliseerde werk het: ‘Want u moet ook weet, Professor, dat ek niks dink van ons land se prosa nie, nie respek het vir bloed en bodem wat nie natgelei of versier word met grasievolle Franse en Italiaanse plante nie...[E]k het vlerkies nodig om die heuning te gaan soek, en u kan my die vlerkies 'n paar maande spoediger besorg. Eendag sal u miskien kan vertel dat ek u student was. Nou is ek 'n leerjonge wat, in Suid-Afrika altans, nie meer leermeesters besit nie.’ Waarop Jan hier sinspeel, is die agterstand van die Afrikaanse prosa waaroor letterkundiges reeds in die veertigerjare hul bekommernis begin uitspreek het. Nog vóór Jan se vertrek wys Jan Greshoff in 'n artikel in Die Huisgenoot van 10 Mei 1946 daarop dat die Afrikaanse romankuns nie die Afrikaanse lewe in sy volle omvang en in al sy skakerings en in sy mees | |
[pagina 127]
| |
verborge drifte verbeeld nie. Die Afrikaanse lewe van die verlede en hede is met ander woorde ryker, bonter, dieper, belangriker en heftiger as die Afrikaanse romankuns. In 'n reeks wat Die Huisgenoot vanaf 24 Oktober tot 28 November 1952, wanneer Jan in Parys woon, sou publiseer, kla kritici pertinent oor hierdie stilstand in ons prosa. In 'n passasie wat later baie bekend sou word, sê W.E.G. Louw in sy bydrae dat die meeste romannetjies in die na-oorlogse Afrikaans vir 'n gewilde mark en met variasie van enkele tematjies en volgens 'n resep gelewer word. ‘Ons enigste hoop’, gaan hy voort, ‘is dus dié skrywers wat wel tot goeie werk in staat is, en die nuwe skrywers wat miskien nog gebore moet word.’Ga naar eind173 In 'n artikel in Ons Eie Boek, XVIII: 2, 1952, wat by dié reeks aansluit, wys Rob Antonissen op die ‘skamel skouspel’ wat die Afrikaanse prosa bied. In 'n gedeelte waarin hy baie soos die latere André P. Brink klink, pleit Antonissen: ‘[O]ns vra net: “engagement” in die lewe; inlewing in jou onderwerp, wat jou (móét) obsedeer, met jou héle wese, jou héle menslikheid; suiwere inlewing; wys én met passie; en bowenal met volkome waaragtigheid en eenvoud des harten.’ Vyf jaar later vra die SAUK 'n twaalftal skrywers en kritici om te besin oor die vraag Wat van ons letterkunde? In hierdie reeks, wat in brosjurevorm gepubliseer word, oorheers die klagtes oor die gehalte van die Afrikaanse prosa. N.P. van Wyk Louw wys op die gemis aan romans wat ons ‘groot’ en ‘groots’ kan noem, wat ‘iets van die eindelose rykdom van die werklikheid...gee, iets van die ellende, die grootsheid en die verskrikking van die lewe, iets van die mens in sy bietjie deug en sy groter sondigheid’. Volgens Rob Antonissen lê die gebrek onder meer ‘in die amper volslae afwesigheid van die roman wat die angswekkende probleme van ons bestaan in hierdie land en van ons bestaan-sonder-meer pakkend in beeld sou bring’. Daarby is hy bekommerd oor die geesteshouding wat tot sensuur kan lei: die ‘“taboe”-skreeuende welvoeglikheidsprofete en kultuurleiers wat...hemel en aarde wil beweeg om daardie afwesigheid te bestendig’. Miskien het Jan hom later, toe die Beweging van Sestig reeds 'n voldonge feit was, as een van die ‘ongeborenes’ gesien op wie die hoop van die Afrikaanse prosa gevestig is en wat in sy werk ook iets van die grootsheid én veral die ellende van Suid-Afrika onder woorde moes bring. Miskien was W.E.G.Louw se uitspraak die kiem vir sy latere siening van sy vroeëre werke as ‘sondes van voor my geboorte’. Hoe dan ook, Jan was bekommerd oor die stand van die Afrikaanse prosa | |
[pagina 128]
| |
en van die werk wat hy tot op datum gelewer het. Aangesien daar vir hom, soos hy dit in sy brief aan Fransie Malherbe stel, geen leermeesters meer in Suid-Afrika was nie, wou hy nou met alle geweld weg om hom aan die harde stene van Europa te gaan slyp. Hy het nou reeds die groot Russiese en Franse prosateurs in vertaling gelees en hy was versot op die kortverhale van Guy de Maupassant, maar hy wou meer weet en meer lees. Hy was in rebellie teen die patriargie en die Calvinisme wat, soos hy dit in sy onderhoud met Elsa Joubert stel, ‘uit die dennewoude van Europa en die moerasse...in ons sonnige landskap [oorgeplant is]’.Ga naar eind174 Daarom was dit van die begin af sy voorneme om hom so gou as moontlik in Parys te vestig. Juis in hierdie tyd sou Jan se vriendin Elsa Joubert op 'n reis langs die ooskus vertrek en deur die warm hart van Afrika opreis na die koue van Europa. Vroeg in Maart soek Jan haar op by haar ouers in die Paarl waar hy haar in die kombuis help om skottelgoed te was, 'n voorsmakie van die baie los werkies wat hy uit broodnood in Parys sou moes verrig. Op 8 Maart 1948 sien hy haar weg wanneer sy met die City of London vir 'n vaart langs die ooskus vertrek.Ga naar eind175 Om hom op sy verblyf in die onherbergsame en voedselarme Europa van ná die oorlog voor te berei, koop hy 'n voorraad kos, onder meer 'n klomp blokke sjokolade. So breek 4 April 1948 dan aan. Met net £150 in sy sak, maar met sy reiskaartjie betaal en met 'n kamera, tikmasjien en woordeboeke by hom, vertrek Jan met die Indrapoera. Anders as Elsa sou hy langs die weskus van Afrika reguit na Europa vaar. |
|