Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser
(2004)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 31]
| |
Hoofstuk II
| |
[pagina 32]
| |
of Donderdae wanneer die spoorwegbus tussen Riversdal en Stilbaai daar stop, het die boere op hul donkiekarretjies na Samuel Bloch, die Joodse winkelier, op Droëvlakte gery om hul karige produkte - 'n bietjie plaasbotter, 'n dosyn of twee eiers, 'n skaapvel - van die hand te sit of deur 'n vorm van ruilhandel voorrade vir die huis aan te skaf. Meel of brood het hulle nie gekoop nie, maar hulle eie koring gemaal en gesif en dan hulle eie brood gebak.Ga naar eind4. Ten spyte van die klaarblyklike armoede het die mense van die vallei skoon gelewe en hoë etiese standaarde gehandhaaf. Die Kafferkuilsrivier is, soos die Britse Teems waarin daar vanaf Teddington ten weste van Londen veertien kilometer lank 'n eb en vloed merkbaar is,Ga naar eind5. 'n getyrivier wat met hoogwater tot vier en twintig kilometer kan opstoot tot by die groot kuile by Kransfontein. Langs die rivier en in die water groei papkuil en fluitjiesriet en tref 'n mens 'n menigte voëls aan: vinke, mossies, spreeus en glasogies. Die boere plant tot by die hoogwatermerk, al is die grond daar 'n bietjie souterig. Die biesies wat naby die rivier groei, is 'n harde soort, bestand teen die sout. Die ongenaakbare tipe natuur, ontdaan van alle weelderigheid, wek die indruk dat see en Karoo mekaar hier ontmoet, want die soort plante wat 'n mens aantref, is meer kenmerkend van die droë binneland as die kus. Terwyl die plase anderkant die rivier deur fonteine gevoed word, is die grond aan Riethuiskraal se kant bar, vol kalk en ysterklip. Die getye van die rivier het 'n sterk invloed op die hele ekologie van die omgewing. Anders as wat 'n mens van so 'n sterk stroom helder water verwag, is die rivier weens die soutgehalte die meeste van die tyd nie geskik vir besproeiing nie. Net ná sterk reëns bly die rivier 'n stuk of veertien dae, soms vier weke en op sy uiterste twee maande vars en kan die boere van die water op hulle landerye gebruik, anders brand dit die lusern as daarop gespuit word. Maar juis in die eb en vloed van die rivier lê die bekoring wat dit van die begin af vir Jan en die ander Rabie-kinders gehad het. In 'n kort prosastuk wat hy in Oktober 1940 in Die Stellenbosse Student publiseer, skryf hy, sonder om sy plek van herkoms by die naam te noem, oor sy grootwordjare ‘langs 'n stil rivier’ en hoe die wind saans uit die see opgewaai het, ‘met die rustige dreun van die branders nog in sy stem’. In Geen somer, wat teen die agtergrond van Riethuiskraal afspeel, beskryf hy die voortdurende eb en vloed van die rivier, ‘asof dit 'n uitgerekte arm is van die see wat hier land-in gryp en vir die landsbewoners wil wys hoe die see | |
[pagina 33]
| |
asemhaal’.Ga naar eind6 Dit is 'n beeld wat Rabie jare later, wanneer hy vir die bundel Klein koninkryk (1980) in ‘Rivier van my jeug’Ga naar eind7 oor sy jeugland skryf, weer sal gebruik. Terwyl sy geheue, so skryf hy, tot voor sy vyfde jaar soos ‘'n toegevalle tonnel (is), dalk nog vol sielkundige molle’,Ga naar eind8 het hy 'n helder herinnering aan Riethuiskraal. ‘My bewuste hartsplek’, sê hy, ‘is langs die stil, diep Kafferkuilsrivier, distrik Riversdal, waar ek my sesde tot my sestiende jaar deurgebring het, by water en waterklofies, veertien kilometer van die see af wat die rivier langsaam laat asemhaal het, elke ses uur seewaarts en elke ses uur bergwaarts. Die asemhaling van 'n rustiger moederdier.’Ga naar eind9 Wat die kinders veral besonder gefassineer het, was hoe die water van die rivier verdonker, diepbruin verkleur deur die Langeberge se turf wat van Riversdal se kant af saamkom. In die indrukke wat hy as student publiseer, praat hy van die berge wat vir altyd 'n droomsfeer behou het soos hulle ‘hul fyn mantels oor die horisonne...gooi’,Ga naar eind10 blou ‘soos 'n tuin vol ridderspore en soos die werk van 'n groot musiekmeester moet wees’.Ga naar eind11 En op die wateroppervlak, naby hulle huis, gewaar die kinders by hul aankoms ook 'n ‘groot platformding’,Ga naar eind12 die pont wat met 'n kabel oor die water beweeg en wat saam met die skuite baie lank vir mens en dier die enigste verbinding tussen die twee kante van die rivier sou wees.Ga naar eind13 Van die pont af kon hulle hul nuwe huis in die son sien staan, wit-blink met groen luike.Ga naar eind14 Vir Jan en Louw was die rivier, soos Jan dit later in Klein koninkryk sou stel, ‘'n onuitputlike bron van 'n steeds hernieude pálimpses van avonture wat soos die waterkringe van koei-kalf-en-emmer-klippies oor mekaar kring om mekaar aanvullend uit te wis’.Ga naar eind15 Die boere, wat met die voortdurende wisseling van eb en vloed en met die periodieke afkom van die rivier in tye van storms moes saamleef, kon die rivier by hulle boerdery inspan. Wanneer die water vars was, het hulle daar suipplek vir die vee en vir hul tuine gehad; wanneer hy sout was, kon die sakwater en die groeiwater - die mooi woorde wat Rabie vir hierdie proses in Geen somer gebruik - help met die vervoer van hul produkte na die stasie op Riversdal in die noorde of na Stilbaai in die suide.Ga naar eind16 Stilbaai, die naaste stranddorpie aan Riethuiskraal, was in Jan se kinderjare nog baie klein. Volgens oorlewering het die mense van Riversdal en die Klein Karoo van vroeg af, moontlik reeds in die agtiende eeu, in die somer met hul ossewaens by die mond van die Kafferkuilsrivier kom visvang. Hulle het hulle osse uitgespan by Lappiesbaai aan die oostekant van | |
[pagina 34]
| |
die mond, só genoem vanweë die gebruik om wasgoed oor die bossies te gooi om droog te word. Dikwels het van die besoekers die tog teen laatmiddae begin, teen skemeraand by die Fonteintjie op Droëvlakte aangekom, waar die osse uitgespan en kampvuur gemaak is, en eers die volgende oggend met vars diere die stywe opdraand van Skerpkoppies uit en Langhoogte af vir die eerste blik op die see aangedurf. In die twintiger- en dertigerjare was daar maar 'n enkele ry huise onder by die sandtong by Lappiesbaai en by die swemplek. Later is houthuise op pale langs die westelike strand en by die Skuitpad opgerig. Baie van dié huise, met hulle klapvensters dig, is deur die jaar gesluit gehou en net in somervakansies gebruik - ‘blinde huise’ het die kinders hulle genoem. In die vroeë jare was daar net een hotel aan die oostekant en enkele losieshuise. Die pont wat in 1932 gebou is om die twee dele van die dorp te verbind, is tot 1955 gebruik, voordat dit deur 'n brug vervang is. In 1933 is 'n vissershawe op die rotsagtige, meer beskutte kant van Stilbaai-Wes aangelê.Ga naar eind17 Wat Jan as kind veral moes geboei het, was die visvywers wat naby die hawe en verder aan langs die kus van Stilbaai-Wes sigbaar is. Hierdie visvywers is die vindingryke maaksels van die Koi om vis vas te keer. Met klippe is 'n halfmaanvormige muur gepak met die boog aan die diepkant van die strand. Wanneer die gety stoot, kom wei die vis dan by die rotse, net om met donkermaan vasgekeer te wees wanneer die gety terugtrek en die vis nie oor die gepakte muur terug see toe kan beweeg nie. Dit gebeur ook soms dat kleinvis vir roofvisse na die vlakwater vlug en in die vywers beland.Ga naar eind18 Vir Jan, wat later intens die woeste verlede van Afrika sou verken, was hierdie visvywers waarskynlik 'n eerste prikkel op dié ontdekkingstog. Die visvywers is in 1998 tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaarGa naar eind19 en met die jare is daar belangrike argeologiese ontdekkings in die omgewing van Stilbaai gemaak.Ga naar eind20 Die hele kusgebied, wes en oos van die mond, word as 'n argeologiese paradys beskou. In die twintigerjare van die twintigste eeu het dr. C.H.T.D. Heese spiespunte uit die Middelsteentydperk by Noordkappershoek, ses kilometer wes van die riviermond, ontdek en in 1972 is die ongeskonde geraamte van 'n strandloper op 'n oop erf net wes van die riviermond gevind. 'n Onlangse argeologiese vonds, skaars twee maande ná Jan se dood bekend gestel, skep die vermoede dat Afrika dalk die moderne mens se geboorteplek kan wees.Ga naar eind21 Dit is 'n merkwaardige toeval dat hierdie ontdekkings só naby aan die ‘hartsplek’ van Rabie | |
[pagina 35]
| |
gemaak is, dié Afrikaanse skrywer by uitnemendheid wat die wortels van die Afrikaner in Afrika by die Koi in sy Bolandia-boeke gaan soek het. Met die jare het talle skrywers, soos P.J. Schoeman, Karl Kielblock en Herman Steytler, op Stilbaai kom kuier en visgevang, terwyl die digter Breyten Breytenbach se ouers gereeld daar met vakansie was. In Breyten se debuutbundel, Die ysterkoei moet sweet van 1964, figureer die dorp in die huldevers ‘'n Brief van hulle vakansie’ wat hy aan sy vader opdra: In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene
in 'n kortbroek en speel krieket op die duine
en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis.Ga naar eind22
Toe Jan Rabie in die veertigerjare 'n tyd lank vir sy vader op Riethuiskraal as onderwyser waargeneem het, skryf hy 'n liedjie waarin Stilbaai figureer en wat hy vir die kinders laat sing het: Stilbaai se duine, Stilbaai se sand
is ons grootste vreugde, ons vakansieland.
Oor die rustelose waters vergeet jy al jou wee, al jou wee.
Hoe heerlik die Kafferkuils se waters
en koel die ewig-bloue see.Ga naar eind23
Waarskynlik die sterkste neerslag van Stilbaai in die Afrikaanse letterkunde is die verhaal ‘Die pontbaas van Dieprusrivier’ in Eitemal se Skaduwees teen die muur (1958). Stilbaai kry hier die naam Rusbaai en steun op 'n werklike gebeurtenis toe die skoolhoof, mnr. Bertie Barnard, op 6 Desember 1952 saam met een van die onderwyseresse, mej. Hannatjie Nortjé, in 'n ongeluk op die pont die lewe gelaat en slegs mev. Barnard die ramp oorleef het. Die drietal was omstreeks twaalfuur op pad huis toe in Stilbaai-Oos ná 'n geslaagde skoolkonsert in Stilbaai-Wes. 'n Groot vragmotor vol skoolkinders was saam met hulle op die pont. Die oorvaart het sonder voorval verloop, maar nadat die vragmotor af is, het die pont te ver van die wal gelê vir die Barnards se motor om af te kom. Die pontbaas het mnr. Barnard versoek om die motor effens terug te stoot, sodat hulle die pont kon nader trek. Mnr. Barnard het aan hierdie versoek voldoen, maar nie gemerk dat hy die motor nie weer behoorlik tot stilstand gebring het | |
[pagina 36]
| |
nie. Terwyl die pont nader na die wal getrek is, het die motor in die donkerte ongemerk stadig agteruit beweeg en oor die kant van die pont gestort. Al drie het daarin geslaag om uit die motor op die rivierbodem te kom, maar mnr. Barnard en mej. Nortjé kon nie swem nie en het verdrink. Mev. Barnard kon in die donkerte nie die wal sien nie en het geswem en rondgespartel, totdat 'n geselskap in 'n visserskuit haar geroep gehoor en haar uit die water gehelp het.Ga naar eind24 Eitemal borduur op dié gegewe voort, maar met die uitbeelding van die twee dele van die dorp en die teenstelling tussen kerk en hotel kry die verhaal 'n amper magiese inslag, met die verdieping aan die slot waar die pontbaas 'n Charon-figuur word. ‘Die storie wat ek gaan vertel,’ so begin Eitemal sy verhaal, is waar. Net die plekname en persoonsname is verander. Dit speel af by Rusbaai, een van ons mooiste kusvakansieplekkies. Eintlik is dit twéé vakansieplekkies, Rusbaai-Wes met sy kerk, en Rusbaai-Oos met sy hotel. Tussen hulle lê die Dieprusrivier, wat myle ver tussen hoë kalkbulte deur kronkel en breed tussen die twee kusdorpies uitmond in die see. Teen die hange aan weerskante staan hier en daar wit kalkkliphuisies, wat lyk of hulle vastrap in hulle fondamente om nie teen die skuinste af te skuif rivier toe nie. | |
[pagina 37]
| |
het byna stilgestaan in Rusbaai, stiller in Rusbaai-Wes met sy kerk as in Rusbaai-Oos met sy hotel.Ga naar eind26 | |
IIIn sy bydrae ‘Rivier van my jeug’ tot Klein koninkryk (1980) en in Perskor se reeks Sestigers in woord en beeld (1986) vertel Jan Rabie hoe hulle as kinders 'n heerlike onbekommerde jeug op Riethuiskraal gehad het, maar ook hoe hulle daagliks sekere takies moes verrig en met die instandhoudingswerk moes help. Hoewel hy in sy radio-onderhoud met Johan van Jaarsveld in die ‘Ons woordmense’-reeks in 1978 sê dat sy geheue sleg is en dat hy nie soos Uys Krige alles uit sy jeug wonderlik kan onthou nie, gee dié twee stukke, saam met sy onderhoud in ‘Ons woordmense’ en die outobiografiese roman Geen somer, tog 'n behoorlike beeld van sy kinderjare langs die rivier. Soggens vroeg, so vertel Jan, is hy en sy broer, Louw, met die pont oor die rivier na die weiding wat hul vader gehuur het om die koei te gaan melk. Smiddags moes hulle van tyd tot tyd skoffel in die groentetuin wat langs die huis aangelê is om in die gesin en inwonende onderwyseresse se behoeftes te voorsien. Kilometers op en af langs die rivier moes hulle stap om tolbosheuning by oom Hansie te gaan uithaal, druiwe of mandjies lemoene by die kleinboertjies te koop of wurgpatats en aartappels by oom Koos Groenkloof te kry. Wanneer die oestyd tot 'n einde kom, het hulle saam met die grootmense heelnagse mieliebôls gehou, geleenthede waarop daar gedans en baljaar is om die afhandeling van die werk te vier. By die seekoegate het hulle kurpers of platvissies gevang - 'n enkele keer by die flikkerlig van 'n vuur ook palings wat van die palinggat op Stilbaai rivierlangs opgekom het.Ga naar eind27 Van tyd tot tyd moes hulle gaan hout haal vir die gulsige ysterstoof in die kombuis, soms is hulle saam met hul vader die duinerante uit om te gaan jag, en een keer per week is hulle na Droëvlakte om by Bloch se winkel suurvye vir koffie, suiker en 'n paar lekkers te verkwansel. Uittogte waarna hulle baie uitgesien het, was wanneer hulle vader die Ford Lizzie en later die Chrysler uitgetrek het vir die skaars besoeke aan Stilbaai of Riversdal.Ga naar eind28 Hoewel hulle dus verpligtinge gehad het, was die lewe op Riethuiskraal die ene vreugde. In sy outobiografiese skets praat Jan van sy ‘droomdae | |
[pagina 38]
| |
en jonglyfdae’Ga naar eind29 langs die rivier. Met die loop van jare is daar vir die egpaar Rabie nog drie seuns gebore wat, omdat hulle in ouderdom vinnig op mekaar gevolg het en 'n hele ent jonger was as Jan en Louw, in die gesin as die ‘drieling’ bekend gestaan het. Hulle was Johannes Wilhelm (Hans) op 20 Maart 1926 gebore, Carel Wynand op 28 Januarie 1928 en Adriaan Louw (At) op 6 Oktober 1929. Die laatlam van die gesin, gebore op 25 September 1936 toe Jan al in matriek was, is Susanna Maria (Sannie). Al sewe die Rabie-kinders, wat bly leef het, veral die seuns, was sterk buitemense wat deur die heeldagse swem en speel in die water feitlik amfibies grootgeword het. By die pont het die twee groter seuns vir die ‘drieling’ garingpale of papiebondels riet gegee om tussen die bene vas te knyp, net om dit dan skielik onder hulle uit te ruk en hulle só te dwing om te swem.Ga naar eind30 At kon later onthou hoe hy eenvoudig van die vlot afgegooi is en self in die water moes regkom. Jan het sy aandeel in daardie soort marteling gehad.Ga naar eind31 By tye kon hulle ook gevaarlike dinge met slange in die veld aanvang. Wanneer die see met springgety hoog in die rivier opstoot, het van die seekrappe met hul ekstra groot knypers, wat soos roeispane lyk, by die pont beland. Jan en Louw of die ‘drieling’ het gesorg dat van die krappe in een van die pont se afskortings kom. As die pontbaas, oom Jannie, dan die vloerklappe oopmaak, het hy dikwels sy melk weggeskrik by die aanskoue van die massiewe knypers en is die Rabie-seuns geroep om die dierasie te verwyder.Ga naar eind32 Toe Jan en Louw nog klein was, het hulle soms uitgegaan om bessies in die veld te soek, om toktokkies voor hul vuurhoutdosiekarretjies met aalweeblaarwiele in te span of om met hul rekstokke voëls in vrugtebome te skiet.Ga naar eind33 Dikwels het hulle bootjies uit hout gemaak, met 'n regop pendoring bo-op waaraan 'n groot breë melkhoutblaar, driekantig gesny, geheg is. Daarmee kon hulle resies jaag tot onder by die leidam waar die water stiller loop.Ga naar eind34 Hier kon hulle langbeen-graspaddas vang om aan die speldehoekies van die rietstokkies te sit, al was die vissies meestal te rats en uitgeslape om aan die aas te byt. Op 'n dag het Jan 'n regte klein vishoek met 'n weerhakie in die hande gekry. Toe die grote onder die riete uitkom en die hoek probeer vat, ruk Jan die lyn. Die hoek vang Louw netjies in die nek en bly daar diep vassit. Jan kon die hoek nie weer uitkry nie en die seuns is in alleryl huis toe om hulp te soek. Louw loop voor, Jan agterna met die lyn en die stok. Baie bekommerd sê Jan met sy sagte hart: ‘Loukie, jy moet asseblief nie doodgaan nie.’ ‘Nee, ek sallie.’ Met 'n bietjie | |
[pagina 39]
| |
twyfel en aarseling voeg hy egter by: ‘Maar ek weet nie hoe voel 'n mens as jy doodgaan nie!’ By die huis kon mev. Rabie die hoek aanvanklik nie uitkry nie en was sy verplig om dit, sonder die medewete van haar man wat maar liewers nie van die gedoente moes weet nie, met 'n behendige operasie uit te sny.Ga naar eind35 Omdat hulle groter was, het Jan en Louw ná die koms van die ‘drieling’ dikwels afgepaar om op hul eie die veld te verken en langs die rivier hulle eie ding te doen. Jan se roman Geen somer gee van hierdie aktiwiteite 'n mooi beeld, al versluier hy die werklikheid 'n bietjie deur van Louw, wat met die karakter Hendrik ooreenstem, die ouer broer te maak.Ga naar eind36 In die skets ‘Rivier van my jeug’ in Klein koninkryk keer baie van die beskrywings en voorvalle uit Geen somer terug. Ná die daaglikse swem gaan klim hulle dikwels agter hulle huis in die groot sykloof wat al verder en dieper die kalkrante inlei. Naby die waterval hoër op in die klofie kon hulle in die melkhoutbome sit en sien hoe die sonstrale deur die openings in die kruine na onder val. In Geen somer beskryf Jan die waterval wat van 'n leibank 'n goeie tien voet na benede stort, en varings wat soos ‘nat vrouehaar’ ordeloos na benede hang om aan die met mos bedekte krans die voorkoms van hoë ouderdom te gee.Ga naar eind37 In die bydrae tot Klein koninkryk keer dié beeld, maar nou in 'n kompakter vorm, terug as Jan beskryf hoe hulle van poel tot poel tot verby ‘die swartnat waterval met groen meisiehare mos’Ga naar eind38 gespring het tot anderkant die blou gat ‘waar ek my eerste groot paling onder die modderwal sien uitkom het om met sy peuselbek my heel vissie aan die hoek te vat en proe-proe in te sluk’.Ga naar eind39 Al verder het hulle ontdekkingstogte gestrek, tot by die spelonke bo by Blomkrans waar die Boesmans lank tevore gewoon en teen die wande geteken het. Die middelpunt van die vallei was egter steeds die stil rivier, al kon hy tydens storms gevaarlik word. Op 'n keer, toe hulle ná skool aan die oorkant was om 'n vrag lusern te loop sny en met die skuit na Riethuiskraal moes terugkeer, is hulle net betyds deur 'n Du Toit-dogter bo van die bult af gewaarsku dat die rivier afkom. Gelukkig kon hulle die oorkant haal, al het die wal water hulle gegryp en die skuit in 'n vleiruigte laer af vasgesmyt.Ga naar eind40 'n Ander keer kon hulle sien hoe 'n verkluimde bobbejaan met die vloed op 'n stomp afkom.Ga naar eind41 Hoe groter hulle word, skryf Jan, ‘hoe meer het een plek ons harte vinniger laat klop: die plate voor Botterkloof se dadelpalms, halfpad see toe. Dit was die rivier se grootste uitdaging vir ons, donkernag, met sakwater op die sandplate waar die getywater versnel. Om in dié kolkende | |
[pagina 40]
| |
jaging van die skuit af te klim, te trap en te vertrap op die welsand wat steeds onder jou voete wegkalwe. Om die skuit daar dwars teen die stroom te hou. Sodat skole springers van skrik daarin kon spring, of met grieselige skokke teen jou bene kon vasswem. Rillekker. Beurend met ons nakende seunslywe, totdat die skuit uit ons hande dop en dit gevaarlik word.’Ga naar eind42 En steeds verder het hulle die rivier verken, totdat Jan, toe al ‘met stemprobleme en melkbaardjies’,Ga naar eind43 saam met die Warnichs op die langskuit see toe is. ‘Drie dae weg van die huis’, skryf hy. ‘Rivier af, douvoordag deur die monding, agt man aan die spane, een by die stuur. So 'n vyftien, twintig kilometer van die land af, by visbanke met name diep onder die groenblou seewater, daar het ons visgevang. Boesels rooivis. Al word 'n man hoe naar van die op en af van sy handlyn, al sterf hy van die gal, by sy spaan moet hy bly, sy roei moet hy roei.’Ga naar eind44 In die Rabie-huishouding was die moeder met haar sagte geaardheid, kalmte, vriendelikheid en liefdevolheid die bindende element. Op die huis se groot stoep is 'n houtkamer aangebou waar sy alle in- en uitgaande pos gehanteer het en waar 'n telefoon - die enigste van die omgewing - vir almal se gerief geïnstalleer is. In 'n rooi posbus by die hek kon die kinders hul ouers se briewe pos en op 'n vasgestelde tyd tydens die pouse het moeder Rabie die luik oopgemaak, die name uitgelees en dan kon die kinders die briewe afhaal en huis toe neem. Moeder Rabie was huisvrou, maar sy het ook soms met die skoolhou gehelp, na almal se probleme geluister en die siekes in die omgewing versorg. As gevolg van haar meelewing met ander se probleme en haar innemendheid het vader Rabie haar die bynaam ‘Saligheid’ gegee en haar soms ook op dié naam geroep. Sy was iemand wat graag die goeie in elke mens wou sien en het mense, soos haar man, wat by tye kortgebakerd kon wees, op haar stil manier laat verkrummel.Ga naar eind45 Die skool waarvan vader Rabie in 1926 as hoof aangestel is, het gestrek van die substanderds tot standerd VI en het ongeveer eenhonderd en vyftig leerlinge geakkommodeer. Die meeste kinders het kaalvoet skool toe gekom, met 'n griffel, 'n lei en 'n botteltjie water en lap om die lei van tyd tot tyd skoon te maak. Almal was altyd skoon en netjies, al was party se klere gelap en gestop. Oorspronklik is die skool gehuisves in 'n gebou wat met afskortings in drie verdeel is: 'n kamer elk vir die kindertuin en standerd I, vir standerd II tot IV en vir standerd V en VI. Vader Rabie het gesorg dat daar tydens die lang pouses elke dag eetgoed en vrugte vir die | |
[pagina 41]
| |
kinders beskikbaar was en in die wintertyd het elkeen 'n lepel mout of visolie ingekry om die gestel teen verkoue of griep te staal. Soggens is die dag se verrigtinge geopen met skriflesing en gebed. Sommige dae is tyd ingeruim vir skoonskrif, ander dae vir diktee en baie tyd is afgestaan aan kennis van die natuur. Sommige Vrydagaande is daar volkspele gespeel of tiekieaande gehou en by meer as een geleentheid is eenbedrywe deur die kinders opgevoer. In die gemeenskap was vader Rabie 'n belangrike figuur, want naas sy taak as prinsipaal moes hy dikwels vorms vir die ongeletterde boere invul, pille uitdeel, as sieketrooster optree en selfs advies gee as van die ouers huweliksprobleme het.Ga naar eind46 Tydens Pinkster en bidure het hy by gebrek aan 'n predikant self die dienste gelei en tydens die Voortrekkereeufees van 1938 'n toespraak gelewer en gereël dat 'n klipstapel ter herdenking van die Voortrekkers opgerig word. Hoewel sy toesprake, mooi met 'n vulpen uitgeskryf in 'n pragtig leesbare handskrif, sorgvuldig voorberei is, maak hy oorwegend gebruik van die geykte retoriek van die tipiese volksredenaars en predikante van die tyd en mis 'n mens 'n persoonlike styl en 'n indiwiduele aanslag. Om die kinders trots te laat voel op hulle skool, het hy liedjies geskryf wat die kinders dan gesing het: Riethuiskraal, Riethuiskraal,
dis die beste skool,
rabie is die beste prinsipaal.
Ons woon hier langs die Kafferskuil
In ons eie Riethuiskraal
En ons woon hier vrolik en tevree
En ons praat ons hart se taal.
Daar is geen beter plek te vind,
Geen plaas, geen skool so teer bemind
As ons eie Riethuiskraal.Ga naar eind47
Naas sy skoolbedrywighede en sy funksie as leier van die gemeenskap het vader Rabie as afleiding daarvan gehou om 'n bietjie te teken. In 'n sketsboek wat van hom bewaar gebly het, is daar voorbeelde van sy natuurtonele: geykte kleinkuns in die tradisie van die Engelse Pre-Rafaeliete. Groter sukses het hy gehad met die klompie stoetperde en paar Afrikanerbulle in sy besit en hy was besonder geïnteresseerd in jag en skyfskiet. Vir | |
[pagina 42]
| |
die boere van die omgewing het hy 'n skietkommando op die been gebring en jare lank was hy die skyfskietkampioen van die suidwestelike distrikte.Ga naar eind48 Tydens die gesin se gereelde vakansies in die Seweweekspoort naby Ladismith het die kinders in die poort se waterpoele gebaljaar, terwyl vader Rabie dassies geskiet het wat Jan en Louw moes afslag en waarvan hulle die derms moes verbrand.Ga naar eind49 Desembermaande is die gesin oor die stofpaaie met die Chrysler noordwaarts na Vryburg na hulle oupa Le Roux se plaas. Van daar is hulle met 'n ossewa en later 'n jeep die jagveld van die Kalahari in, vir die kinders 'n vreemde, barre land met 'n eiesoortige bekoring.Ga naar eind50 Later was hulle huis op Riethuiskraal vol horings en velle en ná 'n besoek aan die jagveld moes moeder Rabie maande lank streepsakke vol gedroogde stukke vleis regsien. Behalwe Hans, wat later in Kenia sou gaan jag, het nie een van vader Rabie se kinders sy vurige jaggees geërf nie, en een het glad 'n vegetariër geword! Hoewel hy as skoolhoof suksesvol was en die oewerboere in die omgewing van Riethuiskraal na hom vir hulp en leiding gekom het, was vader Rabie nie juis 'n geliefde persoon nie. In sy diepste wese was hy 'n militaris wat 'n goeie bevelvoerder van troepe sou uitgemaak het, maar by wie die nodige menslikheid ontbreek het om 'n intieme verhouding met sy kinders of sy bure op te bou. Hy kon goed funksioneer in 'n klein gemeenskappie wat oningelig was en vir wie hy naas onderwyser ook sommer dokter, predikant en adviseur kon wees. Dit alles het van hom 'n diktator gemaak en almal moes na sy pype dans.Ga naar eind51 Reeds uit sy manier van stap en die manier waarop hy die kierie geswaai het, kon 'n mens iets van die kortgebakerde maghebber merk. Wanneer hy die pont wou gebruik om sy gehuurde grond aan die oorkant te besoek, het hy reeds van ver af op sy fluitjie geblaas, sodat die pontbaas solank die pont gereed kon kry en daar geen tydverspilling is wanneer hy aankom nie. Hierdie outoritêre ingesteldheid en die drang om sy wil op almal af te dwing het vader Rabie gekoppel aan 'n streng en benoude Calvinisme, 'n vormgodsdiens wat almal onder sy beheer daagliks moes beoefen. In sy huis was hy onbetwisbaar in bevel. Sy vrou, wat bereid was om 'n lewe lank die onderhorige te wees, het hom altyd, wanneer daar klagtes oor sy diktatoriale optrede was, verdedig met die woorde dat hy dit darem goed bedoel. Die militaristiese inslag, die kortgebondenheid en die outoritêre manier van optrede het egter meegebring dat vader Rabie nie met een van sy kinders 'n goeie verhouding gehad het nie. Aan die begin van sy roman Geen | |
[pagina 43]
| |
somer skryf Jan oor die klein kind met sy groot liefde vir die moeder wat so teer teenoor hom optree, in teenstelling tot ‘die groot man vir wie hy baie bang was’ en wat hom ‘vreeslik seer’ slaan as hy iets verkeerds doen.Ga naar eind52 Hoewel die verdere ontwikkeling van die roman, in die besonder die botsing tussen vader en seun, nie op 'n streng outobiografiese gegewe berus nie, was die slegte verhouding tussen Jan en sy vader tog die basis vir die hele uitbeelding - 'n skrywer se manier om met 'n stuk verlede af te reken en die wrokkigheid wat hy oorgehou het, uit hom uit te skryf. Elkeen van die broers moes later, elk op sy eie manier, met hierdie saak worstel.Ga naar eind53 Die gevolg was dat die kinders van vroeg af bedenkinge gehad het oor die soort Calvinisme wat aan hulle oorgedra is. In hulle latere lewe sou hulle teen alle vorme van patriargie rebelleer. In sy outobiografiese bydrae tot die Perskor-reeks sê Jan dat hy as kind twee maal die Bybel van Genesis tot Openbaring deurgelees het en hom drie keer met trane bekeer het. Die lokstem van ander waarhede en die ‘verwildering’ wat boeke vir hom sou bring, het hom egter ‘maar steeds weer in die onbewuste rebellie’ laat verdwaal.Ga naar eind54 Dat vader Rabie veral gesteld was op sy gesag en dit op elke gebied wou afdruk, blyk uit 'n uitspraak wat hy by geleentheid teenoor Jan gemaak het. ‘Jan,’ het hy gesê, ‘as ek vir jou sê jy moet deur die vuur loop, dan moet jy dit doen, want ek is jou vader’ - 'n uitspraak wat 'n aanduiding gee van die botte en kortsigtige wyse waarop hy as vader opgetree het. In 1946, wanneer Jan in Johannesburg woon en in 'n brief sy vader versoek om nie vir hom raad te gee wat die keuse van sy vriende betref nie, reageer vader Rabie weer op 'n manier waaruit dit duidelik blyk dat hy in sy rol as vader hopeloos gefaal het. As Jan skryf: ‘Julle wéét nie die verskil tussen vriend en kennis nie’, is die gebruik van die woord ‘julle’ blykbaar vir vader Rabie krenkend en ontoelaatbaar! ‘Begryp jou aan,’ skryf hy, ‘dat 'n kind so min ordentlikheid en eerbied teenoor sy ouers betoon om sulke taal te besig! Sulke ongeëwenaarde onbeskoftheid van 'n kind teenoor sy ouers kan vertolk word dat volgens hom sy ouers verstandelik swak, of uiters onnosel moet wees en hy baie ver bokant hulle, soveel meer wysheid besit.’ In dié trant gaan die brief voort. Dat die verhouding tussen Jan en sy vader nooit juis sou verbeter nie, blyk uit 'n aantekening in Jan se dagboek toe hy van 20 Oktober tot 10 November 1974 drie weke lank in Transvaal gekuier en ook sy ouers op Lydenburg besoek het. In die telegramstyl wat hy dikwels in sy dagboeke gebruik, skryf hy: ‘My vader is | |
[pagina 44]
| |
'n monster. Op 87 dra hy nog steeds 'n fantastiese lading egotisme. Gesprek met hom is onmoontlik; tot in die grond bederf deur Mams. Word alle oumense so gejaagd haastig om te eet, haastig om te gaan slaap, om te...so gulsig altyd...vir wat? Sleg vir 'n man (as Vrou hom koning maak). Op sy ergste norse patriargale eenkennige buffel. Hoe rym dit met sy bewondering vir alles wat groots is: 'n ontsaglike dier, lorrie, 'n skatryk boer? En waarom so inhalig met alle deure gedurig toegesluit?’ Woorde soos ‘monster’ en ‘buffel’ is sterk woorde vir 'n seun om van sy vader te gebruik en is, so lank ná die kinderjare en met die vader op hoë ouderdom, 'n aanduiding van die diep kloof wat daar tussen hulle was. Ten spyte van sy onvermoë om op 'n menslike vlak met sy kinders kontak te maak en 'n gemaklike verhouding met hulle op te bou, het hulle tog 'n waardering gehad vir sy hardwerkendheid en pligsgetrouheid en die wyse waarop hy die belange van die skool en gemeenskap behartig het. In 'n onderhoud kon sy seun At byvoorbeeld sê dat hy in latere jare iets van sy vader se eensaamheid kon aanvoel en 'n sekere deernis met hom kon ontwikkel. In die veertigerjare, toe hy vir sy vader as onderwyser op Riethuiskraal waargeneem het, skryf Jan 'n gedig wat hy ‘Ons klim’ noem en ‘Aan Pappie’ opdra. As poësie is dit te geswolle en maak dit 'n sekere argaïese en bombastiese indruk, maar iets van sy vader se veggees en idealisme vat Jan wel in enkele reëls saam: Die pad was lang en swaar
Al bergwaarts op te klim
Oor krans en klowe waar
Met stille vrees en huiwering
Van val en opstaan weer
Ek gaan, alleen gelaat
Te swoeg, te leer
In eie onmag-smaad,
My oë steeds na bo te rig
Al lyk die kruin dan nog so hoog,
Want eenmaal sal die einde lig
En skyn in my vermoeide oog
As ek die bergtop eindelik raak
En agter lê die sware taak.Ga naar eind55
| |
[pagina 45]
| |
En dat vader Rabie tog by tye aandag aan sy kinders gegee het en met hulle beïndruk was, blyk uit die feit dat sy seun Louw baie jare later nog kon onthou hoe ingenome sy vader was met 'n gedig wat hy as kind geskryf het. Vader Rabie se oordeel was hier in die kol, want hoewel die gedig 'n enigsins Leipoldtiaanse inslag toon en by die tradisie van baie Afrikaanse kinderverse aansluit, is dit tog 'n merkwaardige poging vir 'n jong seun wat toe waarskynlik nog in sy vroeë jare op skool was: Kleine vliegie, domme dier,
Sê vir my wat maak jy hier?
Wil jy nou weer vir my pla,
Nou dit duld ek glad nie bra.
Gee nou pad hier by my kos
Of ek slaan jou litte los.
Soek jy nou hier vir jou brood,
Netnou netnou is jy dood.Ga naar eind56
| |
IIIAan die begin van 1933, sy standerd VII-jaar, is Jan vir sy hoërskooljare na Riversdal.Ga naar eind57 Riversdal lê aan die voet van die Langeberge met 'n prominente piek wat as gevolg van sy vorm as die Slapende Skone bekend is en van sover as Stilbaai by die see gesien kan word. Die dorp is in 1838 aangelê en die distrik het oorspronklik sover gereik as die Klein-Swartberge by Ladismith. Die naam Riversdal het niks te doen met die Vetrivier wat naby die dorp verbyvloei nie, maar is 'n vernoeming van sir Harry Rivers, indertyd die siviele kommissaris van Swellendam, wat 'n lewende aandeel gehad het aan die oprigting van die dorp.Ga naar eind58 Literêr is Riversdal onder meer van belang deurdat Louis Henri Meurant daar begrawe lê. In 1860, in 'n tyd toe daar sterk sprake was van 'n skeiding tussen die Oostelike en Westelike gebiede van die Kaapkolonie, skryf hy sy Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelyke en Westelyke Provincie. Voordat die Islamitiese geestelike geskrifte van die Bo-Kaap, wat ten doel gehad het om die skoolkinders in die Arabiese alfabet touwys te maak, | |
[pagina 46]
| |
bekend geraak het, is hierdie gewilde en geestige samespraak deur historici beskou as die eerste boek wat in Afrikaans die lig gesien het. Van Julie 1890 word die byna sewentienjarige C.J. Langenhoven by die destydse Public School for Boys toegelaat, waar hy in Junie 1892 sou matrikuleer. Hy loseer privaat by mnr. Daniel du Plessis Bland, burgemeester van Riversdal en parlementslid, in 'n huis in Langstraat wat vandag nog te sien is. Langenhoven het daar 'n lang, gesellige kamer gehad, met 'n mooi uitsig oor die vleiland na die heuwels en bergtoppe van die Langeberge. Twee tydgenote van Jan, wat op Riversdal gebore is en bekendheid sou verwerf, is die skilder en romanskrywer Johannes Meintjes wat sy belangrikste werk lewer met biografieë oor Kruger, Steyn, De la Rey en Scheepers, en die digter S.V. Petersen wat in enkele aantreklike stemmingsverse die wêreld van sy jeug sou oproep: Die heuwels rus,
een groot geweldige massa aanmekaar;
stil is die wêreld hier...
Net onder uit die vlei,
waar die Vetrivier se water vloei,
kom langsaam die sang van 'n koei
wat bulkend kraal toe gaan.
En ver in die veld
kan jy hoor
hoe 'n verdwaalde skaaplam
oor sy moeder te kere gaan...Ga naar eind59
In later jare kon Jan homself afvra wat dit in Riversdal is wat so baie boorlinge - ook latere mense soos Dalene Matthee en intrekkers soos Alba Bouwer - daar onder die Langeberge se Slapende Skone skrywers laat word het. ‘Is daar dalk iets in die aarde daar, in die palmietkuile, in die kalkrante, in suurvyduine voor die see?’ vra hy. ‘Iets in die lug van 'n distrik wat bitter aalwee met die soet tolbosheuning verbind soos die geur van dekriet ook soetbitter is?’Ga naar eind60 In Geen somer gee Jan 'n beeld van Riversdal soos hy dit as skoolkind leer ken het en wat hy in sy roman PoortenGa naar eind61 noem, waarskynlik omdat die Garciapas deur die Langeberge deurgang gee na die binneland en dus 'n natuurlike poort na die Klein Karoo vorm. Dat hy in dié stadium van sy | |
[pagina 47]
| |
lewe egter nie 'n onverdeelde bewondering vir Riversdal het nie, sien 'n mens as hy praat van die dorpie wat so ‘pretensieus’ aangelê is en tog so klein en onbelangrik onder die Langeberge lê. ‘Die hoofpad’, skryf hy, ‘kom die dorp binne oor 'n hoë, outyds geronde klipbruggie wat die KuilsrivierGa naar eind62 oorspan. Die reisiger kry 'n vlugtige indruk van bergrotse, bruin water en maer populiere oor palmietpolle voor hy die hoofstraat opry waaruit die dorp so te sê bestaan. Die huise is volgens alle soorte style gebou en staan soms onbeskaamd vlak langs die straat, sonder bekleding van heinings of tuintjies om hul naakte lelikheid weg te steek.’Ga naar eind63 Die middelpunt van die dorp is die Hollandse kerk en die Stadsaal, die poskantoor, twee hotelle, ‘'n bank of twee, 'n paar winkels en 'n magistraatskantoor’.Ga naar eind64 Jan gaan tuis in die koshuis onder in Langstraat, naby die huis waar Langenhoven geloseer het en waar die inwonende hoof die knorrige ou mnr. Karremacher was.Ga naar eind65 Aan die begin was sy ure vol, omdat daar soveel nuwe dinge en nuwe maats was wat hy moes leer ken, al het hy in die loop van die vier jaar nie hegte vriendskappe gesluit nie en eerder verkies om sy eie pad te loop.Ga naar eind66 Die skoolhoof was mnr. C.J. Pauw, knap onderwyser en goeie organiseerder, wat in sy tyd 'n leeskamer by die skool ingerig het. Die Afrikaans-onderwyser was mnr. A.F. Rall met 'n M.A. in Nederlands en Afrikaans van die Universiteit van Kaapstad, 'n ongewone hoë kwalifikasie vir 'n plattelandse skool in daardie tyd. Hy was 'n geliefde onderwyser wat die bynaam Mannetjie gehad het en bekend was vir sy talle ratse sêgoed.Ga naar eind67 Die predikant van die Ned. Geref. kerk, na wie Jan moes gaan luister as hy die naweek nie na Riethuiskraal is nie, was ds. J.H. Hugo. Hy het dikwels met 'n bulderende stem gepreek. Op 'n dag het Rooi Danie van Wyk vir Hester Manefeldt 'n toffie onder die gebed gegooi. Ds. Hugo het dit raakgesien, die gebed net daar gestop, vir Rooi Danie aan die oor beetgekry, na die preekstoel gelei en op die treetjies laat plaasneem. ‘Godsalige ouers maar kind des Duiwels, gooi lekkers vir meisies onder die gebed’, het hy gesê en toe voortgegaan met die gebed.Ga naar eind68 Op Riversdal het Jan, wat op Riethuiskraal 'n goeie leerling was, in die klas begin te dagdroom, sodat sy punte in eksamens versleg het. Hy het nie juis na die onderwysers geluister nie en eerder sy tyd gebruik om hulle gesigte te teken. Gedeeltelik het dit saamgehang met die feit dat hy die jongste en kleinste in sy klas was en almal daarop uit was om hom te boelie. Daarby kon die stof wat hy byvoorbeeld vir die Afrikaans-kursus | |
[pagina 48]
| |
moes bestudeer, hom nouliks boei, al was mnr. Rall se lesse ook hoe inspirerend. Vir die junior sertifikaat het hy Jochem van Bruggen se Op veld en rante, E.B. Grosskopf se Swart slang en ander verhale en Die purper iris van A.G. Visser voorgeskryf gehad, maar daarnaas ook 'n blote speurverhaal soos Die swart hand van Hendrik Brand, terwyl hy vir matriek naas Eugène N. Marais se Gedigte en F.E.J. Malherbe se Moderne Hollandse kortverhale ook Sanni Metelerkamp se In die dae van Van Riebeeck, Sangiro se Op safari en H.J. Schimmel se Napoleon Bonaparte moes bestudeerGa naar eind69 - boeke wat nouliks as literatuur beskou kon word. Die gevolg is dat Jan alle belangstelling verloor het. Langs die palmietseekoegate in die Vetrivier het die seuns kleigevegte gehou, hul bes gedoen om mekaar te verdrinkGa naar eind70 en verder heerlik stokkies gedraai in die salige bossieveld. Waarskynlik in navolging van sy vader se sporadiese eksperimente op dié gebied het Jan nou ook begin skilder met waterverf. Hy het, soos hy later sou vertel,Ga naar eind71 die pragtigste ou skilderytjies gemaak van herfsblare en groen boompies en wit eendjies op die water. Die eksperimente met die kwas was egter kort van duur, want Jan het gou besef dat hy nie vir dié vorm van die kuns aangelê is nie. Omdat hy byna elke naweek en in die vakansies terug was op Riethuiskraal - 'n plek wat, soos hy dit later sou stel, deur sy isolasie jong siele in boekwurms laat uitdraaiGa naar eind72 - het hy verwoed begin te lees in sy vader se boekery en in die biblioteek op Riversdal. 'n Twintigdelige Engelse ensiklopedie in besit van sy vader het hy van 'n kant af begin deurwerk. Omdat dit hom gehinder het dat daar destyds nie so 'n heerlike bron van inligting in Afrikaans bestaan nie, begin hy op dertienjarige ouderdom met sy eie ensiklopedie - 'n onderneming wat nie alleen sy algemene kennis uitbrei nie, maar hom ook leer hoe om te vertaal en dinge bevatlik in Afrikaans te stel. Twee jaar lank het hy sy regterhand en -arm lam geskryf. Toe hy by die letter D kom, het sy pennevrug reeds kniehoogte gestapel gelê.Ga naar eind73 Toe het hy dit laat vaar, omdat hy vir die eerste keer in sy lewe 'n meisie raakgesien het. Veel van 'n kennismaking kon dit nie gewees het nie, want Jan was in hierdie stadium skrikkerig vir meisies en sou dit lank bly. Hoogstens het die kennismaking tot 'n aarselende gesprek gelei of dat hy aangebied het om haar boeke tot by haar huis te dra.Ga naar eind74 In die verhaal ‘Skugter liefde’, wat hy in Oktober 1945 in Die Stellenbosse Student publiseer,Ga naar eind75 dink hy terug aan die vroeë nooientjie wat hom só bekoor het dat hy soggens met sy boeksak op 'n afstand agter haar aangestap het: | |
[pagina 49]
| |
Soms het hul mekaar op sypaadjies verbygegaan, dan het hul skugter na mekaar gekyk, maar nooit geknik of gewys dat hul van mekaar bewus is nie. Hul was albei so jonk en skaam. ‘Kalwerliefde,’ sou sy moeder dit glimlaggend bestempel het as sy daarvan geweet het, maar niemand wis daarvan nie, die twee het dan nooit met mekaar gepraat nie. Die vraag was of hul self geweet het van hul liefde. Klein en skugter het dit in hul albei wakker geword en hul hulpeloos gemaak in mekaar se teenwoordigheid. Net die oë kon praat, en dan ook net vir 'n oomblik met vreesagtige terughoudendheid. Juis daarom het hul liefde so sterk gegroei. Naas die eksperimente met die tekenkuns en die werk aan die ensiklopedie ontwikkel Jan in hierdie jare ook 'n ander belangstelling. In hulle huis op Riethuiskraal was daar 'n klavier waarop sy moeder hom leer speel het, maar sy vingers wou nie reg oor die klawers loop nie. Sy vader het soms op 'n harp gespeel, maar saans was die bietjie huismusiek beperk tot die plegtige Hollandse psalms en gesange by die boekevat en dan, as teenwig, sentimentele en romantiese goedjies soos ‘Red sails in the sunset’. In hulle huis was daar egter ook 'n ouderwetse draadloos in 'n kassie met 'n koepel. Wanneer almal in die huis slaap, draai Jan die draadloos sag aan en druk sy ore feitlik in die kassie om die wonderlike musiek van Mozart en Beethoven te hoor. Met hierdie musiek het hy gedweep, want hy kon nie glo dat dinge so mooi kon wees nie. Die ontdekking van musiek het van Jan 'n nog meer geslote jong seun gemaak as wat hy reeds was. Hy het nou besef daar bestaan iets buite sy wêreld, iets groots en wonderliks verby die oomblik waarin hy leef, iets wat hy feitlik kon aanbid of waarna hy self kon strewe.Ga naar eind76 Sy onvermoë om die klavier te bemeester, was egter reeds 'n seker aanduiding dat hy sy kreatiwiteit nie op die gebied van die musiek sou kon uitleef nie, hoewel hy later sy belangstelling in klassieke musiek steeds sou behou. In hierdie stadium het hy egter nog nie die krag van die woord as medium ontdek nie. | |
IVIn November 1936 lê Jan die senior sertifikaat-eksamen op Riversdal af. In sy outobiografiese boek in die Perskor-reeks skryf hy dat hy maar ‘swakkerig’ gevaar het. In werklikheid was sy uitslae uiters treurig, die resul- | |
[pagina 50]
| |
taat van 'n intelligente jong seun wat geen steek werk gedoen het nie. Vir Afrikaans Hoër kry hy 'n D, vir Engels Laer 'n F, vir Skeikunde 'n E en vir Latyn en Geskiedenis elk 'n D. Die ligpunt was die B vir LetterkundeGa naar eind77 wat waarskynlik daarvoor gesorg het dat hy die eksamen met 'n Dsimbool slaag.Ga naar eind78 Met sy oortuiging oor die waarde van studie was vader Rabie 'n sterk voorstander van naskoolse opleiding vir sy kinders, verkieslik aan 'n behoorlike universiteit. Hoewel Jan se finale uitslae op skool swak was, het vader Rabie met sy ervaring in die onderwys geweet dat Jan die potensiaal het om goed met naskoolse studie te vaar. Sy volgehoue werk aan die ensiklopedie oor byna twee jaar was genoeg bewys daarvan. Sy moeder wou graag dat hy vir predikant moet gaan studeer, maar daarvoor het Jan geen trek gehad nie. Hy wou 'n B.A. met Aardrykskunde en Geskiedenis as hoofvakke neem, met daarna - aangesien sy vader op 'n beroepskwalifikasie aangedring het - die Sekondêre Onderwysdiploma. Vir kinders uit 'n Afrikaanssprekende huis in Kaapland was Stellenbosch destyds die aangewese plek vir hul universiteitsopleiding. In Februarie 1937 vertrek Jan, nou darem met skoene en met sy eerste langbroek, per trein na Stellenbosch wat vir hom 'n vreemde en fassinerende wêreld ná die jare op Riversdal en Riethuiskraal sou wees. In Klein koninkryk skryf hy dat alles nou, in die tyd dat hy van groot seun tot volwassene aan die ontwikkel was, saamgespan het om hom ‘steeds verder van die rivier se nawelstring af weg te lok’.Ga naar eind79 Later sou hy in ‘Doodgeld’ en ander verhale in sy bundel Dakkamer en agterplaas (1957) pragtig inhoud en gestalte gee aan die mense van sy jeugparadys. Daarom dat hy ‘Rivier van my jeug’ kan afsluit met die seker wete: ‘niks wat goed geleef is, gaan ooit weer verlore nie...Die rivier van my jeug haal nog asem in die kronkels van my drome; die getye van daardie liefde stu nog steeds deur my skryfwerk, onverloorbaar myne.’Ga naar eind80 |
|