Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 599]
| |
Hoofstuk XVIII
| |
[pagina 600]
| |
sekerlik sou gesterwe het indien 'n groep mediese dokters nie dadelik op die toneel was nie. Omdat die ongeluk voor dr. Kloppers se huis gebeur en daar 'n ete vir sy mediese vriende gereël was, kon agt dokters en spesialiste dadelik eerstehulp toepas.Ga naar eind2. Die eerste paar dae ná die ongeluk was Uys bewusteloos. Toe hy daaruit kom, kon hy niks van die ongeluk onthou nie. Ná 'n periode in die intensiewesorgeenheid is hy oorgeplaas na die ortopediese afdeling van die hospitaal, want met die ongeluk is die linkerheup ontwrig, die ligament in die linkerknie geskeur en die ligament van die regterenkel verstuit. Op 9 Julie 1976 is hy geopereer om die linkerfemur wat in die bekken ingedryf is, deur traksie uit te haal, 'n pen deur die tibia net onderkant die knie te sit en 'n skroef in die bo-ent van die femur te plaas.Ga naar eind3. Ná ses weke met 'n spalk kon hy stadig met krukke begin loop tot hy sy volle gewig kon dra, al het die hele proses met heelwat pyn en ongemak gepaardgegaan. Uiteindelik kon hy met 'n kierie oor die weg kom en later daarsonder, maar die een been was ná die ongeluk korter as die ander. Wat al die verpleegsters opgeval het, was dat hy nooit oor die ongeluk of oor sy pyn en lyding gekla het nie. Hy het net die hele tyd hoë lof gehad vir die bekwame dokters en verpleegsters en die welwillendheid van sy vriende. Tog het dit mense wat in die hospitaal by hom op besoek gekom het, opgeval dat iets in Uys verander het. Toe Koos Human hom 'n eksemplaar van die nuwe uitgawe van Die goue kring oorhandig, het hy die boek net een kyk gegee en op die bedkassie neergesit. Vroeër sou hy 'n nuwe publikasie van hom gretig deurgeblaai en aan die bladsye geruik het. Die lewensdrif was gedemp. Die romantikus wat oormoedig meen hy is onsterflik, was nou skielik gekonfronteer met die eindigheid van die menslike lewe. Kort tevore kon Uys nog spottend sê hy strewe daarna om die ouderdom van 153 - een jaar ouer as die oudste mens op aarde - te haal. Nou was daardie soort flirtasie met die dood verby. Die horisonne het nie meer eindeloos voor hom gelê en wink nie. Dit was langer as ses maande voordat Uys weer na Onrust kon terugkeer. Aan Margaret het hy by sy terugkeer gesê dat goedheid en erbarming die belangrikste kwaliteite in die lewe is en dat hy nooit weer lelike woorde met iemand wil hê nie. 'n Onverwagte gevolg van die ongeluk was dat Uys nooit weer 'n aanval van mislikheid of 'n bloeiende maagseer gehad het nie. Op een of ander wyse het die ongeluk die ou siekte genees.Ga naar eind4. Miskien het daar iets gesteek in sy huis- | |
[pagina 601]
| |
hulp, Babsie, se opmerking teenoor Margaret: ‘Die ou dink dis sy maag, maar dit sit alles in sy kop!’ | |
IIMet sy terugkeer op Onrust het dit naaste vriende soos Jan Rabie en Marjorie Wallace opgeval dat Uys neerslagtiger as vroeër was en dat hy ook by tye knorrig kon word, al kon hy steeds met een en almal gesels wat op besoek kom. By geleentheid het hy gesê: ‘Hulle (d.w.s. Mamma) het ons nooit vertel die ouderdom is so vreeslik nie!’Ga naar eind5. Bedags het hy sy ou roetine gevolg om in die oggend vroeg Die Burger en die Cape Times te lees en ontbyt in die bed te kry. Ná middagete het hy gerus en dan sy pos deurgegaan en briewe beantwoord. Teen die laatmiddag het hy graag op die stoep gaan sit om sy enkele glasie brandewyn met gemmerbier langsaam te drink. Steeds is hy in die oggend en die middag see toe om te gaan swem. Op die strand het hy graag gesels en soms 'n ou uitgespoelde sandaal opgetel, in die hoop dat hy sy maat een of ander tyd sal vind. Op 'n dag het hy met die swem in die golwe sy valstande verloor. ‘Dat die see waarvoor ek só lief is, dít nou aan my kon doen’, het hy gesug. Toe hy hoor van 'n skilder wat 'n stel tande as deel van 'n collage in sy kunswerk op 'n uitstalling in die Onrust-galery gebruik, het hy gaan kyk en was hy daarvan oortuig dit is sy tande. Dié tande was egter vas gegom en onbruikbaar. Die tandarts kon Uys, wat die tande dringend nodig gehad het, nie op kort kennisgewing help nie, maar het hom die adres gegee van iemand wat dalk van nut kon wees. By sy aankoms trek die man 'n laai vol stelle tande oop en sê Uys moet maar aanpas. Daar is sowaar een stel wat pas. Toe Uys verneem die stel sal net R5 kos, sê hy dit is heeltemal te min - geen tandemaker kan so iets vir R5 maak nie. Toe kom die antwoord: ‘Ek is nie 'n tandemaker nie, ek is 'n begrafnisondernemer.’Ga naar eind6. Drie keer het Uys en Margaret met die Tuinroete in Margaret se motor gereis: een keer na 'n skoolopvoering van Die goue kring en twee keer na Matthys Strydom se jaarlikse kunsuitstalling op George. By geleentheid het Uys aangebied, toe hulle op een van die plaaspaadjies was, om by 'n boemelaar langs die weg te gaan vra watter pad hulle na Mosselbaai moet neem. Uys het nie juis na die aanwysings geluister nie. ‘Maar wat jeuk my neus dan weer so vandag?’ | |
[pagina 602]
| |
het hy gesê, na die man se herkoms uitgevra, gewonder of hulle nie dalk familie is nie en uiteindelik oor sy gedig ‘Ken jy die see...’ begin gesels. Terug in die motor vra Margaret hom: ‘Which way must we go?’ Uys het haar verras aangestaar en aangebied om uit te klim en die man weer te gaan vra. Dit het Margaret aan Sannie se waarskuwing laat dink: ‘Never let Uys out of the car to ask the way. He doesn't remember the directions, once he starts talking to a stranger...he doesn't stop talking and sometimes he just disappears altogether.’Ga naar eind7. Maar soms, wanneer Margaret terug was by haar woonplek in die Kaap, kon die allenigheid Uys pak. Dan het hy sommer saans op Onrust enige huis waar daar 'n lig skyn, ingestap, hom tuisgemaak en na die familie en die goeie ou dae begin uitvra. En hy het baie vergeetagtig geword, want 'n week later sou hy met dieselfde vrae opdaag. So, vertel Jan Rabie, het hy die gewoonte begin ontwikkel om, wanneer hy Gregoire Boonzaier êrens raakloop, te vra waar René Gretz is, die beeldhouer wat in die dertigerjare 'n borsbeeld van hom gemaak het, net om dit by die volgende ontmoeting te herhaal. Gregoire het moeg geraak van verduidelik dat hy Gretz eeue laas gesien het omdat hy dood is en gebrom: ‘As hy my weer vra hoe gaan dit met René Gretz, dan vermoor ek hom!’ Op 'n dag toe hy weer by Gregoire kom, vra hy weer na René Gretz; Gregoire jaag weg sonder om te antwoord. 'n Ruk later daag Uys weer vir 'n besoek by Gregoire op. Toe hy die deur oopmaak, druk Gregoire, voor Uys sy mond kon oopmaak, 'n stuk hardebord in Uys se arms met die woorde groot daarop: ‘René Gretz is dood.’Ga naar eind8. Met die ouderdom het Uys, so vertel Jan verder, ook nalatig geraak met sy briefwisseling met honderde kennisse oor die hele aarde. Ook sy belastingsake was 'n onmoontlike kraaines en uiteindelik daag daar 'n aanslag met 'n dagvaarding op. Babsie bel een middag vir Marjorie: Mies Marjorie, julle moet kom help nou. Hulle wil die maaster in die tronk sit. Ja, mies Marjorie, hulle wil hom opsluit, want die belangstelling (belasting) het gekom. Dis 'n vreeslike bedrag. En die maaster hy's so kwaad as 'n slang. Hy gooi die belangstelling op die grond en hy skop dit en hy trap daarop en hy skop en hy trap en hy sê: ‘Ek sal jou nie betaal nie! Ek sal jou nie betaal nie...!’Ga naar eind9. | |
[pagina 603]
| |
En sy gaan voort: ‘as die maaster nie kyk nie, dan tel ek die belangstelling op en ek steek dit weg in 'n rak. Maar die maaster hy's nes 'n kind wat speelgoed gekry het wat hy nie wil hê nie, nou wil hy dit net breek, hy snuffel die belangstelling se pampiere weer uit en hy gooi dit weer op die grond en hy skop en hy trap dit en hy sê: “Ek sal jou nie betaal nie, ek sal jou nie betaal nie!”’Ga naar eind10. Koos Human en Jan is na Hermanus om by die staatsaanklaer verskonings vir Uys te gaan maak en te verduidelik hoe sy lewe deur die ongeluk in Pretoria ontwrig is. Toe hulle met goeie nuus by Uys wil opdaag, moes hulle hoor hy het Margaret omgepraat om met hom ver weg na Swellendam te ry. Toe hy 'n dag daarna terugkom, was hy eerder verbaas, glad nie dankbaar nie: ‘Het julle my uit die tronk gehou? Hoekom weet ek dan niks daarvan nie?’ Hy het toe betaal, met die boete daarby, maar bygevoeg: ‘Die vorige keer toe ek 'n klompie jare agterstallig was, het hulle my niks beboet nie.’Ga naar eind11. Hoewel Babsie goed vir Uys gesorg het en tydens sy siektes mooi na hom omgesien het, was sy nie ongeneë om vir haar familie op sy koste te voorsien en haarself op sy winkelrekening aan die nodige en luukses te help nie. Almal, behalwe Uys, was ontsteld hieroor. Uiteindelik lei dit tot haar ontslag en word 'n vrypostige weduwee in haar plek aangestel wat haar familie laat inwoon, haar eie klere en persoonlike artikels in Uys se badkamer laat bly en die huishouding gruwelik verwaarloos. Dit lei op Uys se twee en sewentigste verjaardag op 4 Februarie 1982 tot 'n konfrontasie met Margaret in die aanwesigheid van gaste. Die weduwee was briesend en het onmiddellik haar ontslag geëis, wat met verligting deur Margaret aanvaar is. Dit het die weduwee egter nie verhinder om nog 'n laaste keer eiegeregtig die telefoon te gebruik nie: ‘Ma!’ het sy geskreeu, ‘Ma moet dadelik die bakkie stuur. Nee, ek bly nie hier 'n oomblik langer nie. Nee! Die oubaas is nie te sleg nie. Dit is die girlfriend wat my uitgejaag het!’Ga naar eind12. Uys - hulpeloos soos altyd, en nog meer so sedert sy ongeluk - was nou sonder huishulp. In dié omstandighede het Eulalia vir Louie Lemmer, wat kort tevore van Natal gekom en haar op Onrust gevestig het, gevra of sy nie bereid sal wees om 'n ogie oor Uys te hou en hom te help totdat hy weer iemand kon kry wat inwoon nie. Louie, wat Uys reeds in daardie stadium leer ken het, was bereid om dit te onderneem en het elke oggend ingekom. Baie gou kon Uys die bekwame dienste van Katie Thompson as | |
[pagina 604]
| |
huishulp verkry, maar hy het Louie gevra om steeds in te kom en as sy ‘sekretaresse’ op te tree. Gewoonlik het Percy Coxon vroeg in die oggend sy koerante gebring en het Katie later met die ontbyt opgedaag. Wanneer Louie dan teen tienuur kom, het sy en Uys eers sy briewe beantwoord. Dikwels wou Uys dan ná afloop daarvan na die biblioteek op Hermanus toe of gaan koffie of tee drink by die Cypress Tea Garden by die Ou Hawe. Eers het sy hom aangespoor om liewers aan sy manuskripte te arbei, maar Uys was steeks vir werk en meestal het hulle twee of drie oggende per week ingery Hermanus toe. Wanneer hulle dan wél aan die werk kon kom, het hulle aan Uys se reeds voltooide vertalings van Lorca, Villon, die Brasiliaanse digters, sy ongebundelde eenbedrywe en sy Môrester oor die Abruzzi aandag gegee. Om sy aandag te kry, het Louie dikwels begin om 'n gedig te lees en te sê hoe mooi dit vir haar is. Dan het hy vlam gevat en begin hersien. Wanneer hy eers aan die gang was, het hy dit geniet. Maar Uys het langtand en met baie onderbrekings aan al hierdie manuskripte gewerk en dit het baie mooipraat van Louie gekos om hom 'n driekwartier of langer aan die sit te hou. Buitendien kon hy nie sy hand lê op al die manuskripte wat in kaste en laaie verspreid gelê het nie. Met middagete het hy sleg geëet, maar van soetgoed en lekkers het hy baie gehou. Dan het Louie vertrek. In die middag het hy radio geluister, gaan swem, weer koerant gelees of na die televisie gekyk.Ga naar eind13. Van musiek - Puccini, Mozart, Beethoven - het hy baie gehou, maar hy was te onhandig om die platespeler self aan die gang te kry. Uit Uys se onwilligheid om te skryf, is dit duidelik dat sy skeppende vermoë geleidelik tot stilstand gekom het. Steeds het hy gedurig humoristies verwys na sy twee dosyn manuskripte wat net lê en wag om gepubliseer te word, maar niemand kon iets uit hom kry nie.Ga naar eind14. Sy laaste werke - Ballades van Villon, Verse van Lorca en Drie eenbedrywe (met Interieur, Kry julle ry en Die apie) - is almal postuum in 1987 deur Human & Rousseau gepubliseer, terwyl Brasilië sing (1990) en Spaanse dans (1991) deur M.M. Walters in sy reeks Poësie uit die verre lande versorg is. Sy artikelreeks Na die Maluti's uit die dertigerjare verskyn in 1990 deur bemiddeling van Hennie Aucamp in boekvorm. Self het Uys, stuitig, na homself verwys as 'n afgetrede digter! As jy 'n afgetrede dokter of advokaat kon kry, so was sy argument, waarom dan nie ook 'n afgetrede digter nie?Ga naar eind15. Onder sy nalatenskap is daar baie aanlope tot gedigte, onvoltooide en voltooide verse - oor die algemeen latere en mindere werk. In 1984 het Uys 'n bundel van meer as | |
[pagina 605]
| |
tweehonderd gedigte aan Human & Rousseau vir publikasie voorgelê, waaronder selfs juvenalia uit De Goede Hoop! 'n Mens kry die indruk dat die romantiese vaart, veral ná die motorongeluk, by hom gestol en dat sy stem as digter veryl het. Human keur die verse vir publikasie af. In 'n brief van 12 September 1984 aan Louie Lemmer skryf hy dat die manuskrip aan twee keurders voorgelê is wat Uys as persoon en as digter baie goedgesind is en dat hulle werklik hulle eerlike literêre opinie uitgespreek het. Vir hom persoonlik lyk dit in Uys se eie belang om liewer nie dié lukrake versameling gedigte te publiseer nie. 'n Mens kan nie anders as om ten volle met die keurders en Human se beslissing akkoord te gaan nie. Die gedigte in dié manuskrip is die nawater van 'n eens sprankelende romantiese digter. En tog is enkele van hierdie laaste verse - sommige van vóór die ongeluk - juis in hulle stameling en eenvoud aangrypend, in die besonder die kort verse oor die dood, die ontkragte woord en die stilte wat by die digter ingetree het:
Tot niet
En die ou vriendskappe?
Ook hulle gaan tot niet.
Wat het in jou gesterf?
Net maar die lied.
Die niks
Maak van jou leed
en jou ellende, broer,
'n lied.
Laat hy sing, jou verdriet!
Maar klokslag middernag
staan daar uit die wit papier
die niks, die niet.
| |
[pagina 606]
| |
Op die ou end
Wat bly daar oor
van dié herinneringe?
Net die vergetelheid
van alle dinge.
Soms is 'n vers mooi beeldend:
Jou borste
Jou borste, diep en teer en naak,
is twee wit kussings vir my vaak;
en word ek wakker wyl jy waak,
roer hul soos duiwe as ek aan hul raak...
'n Enkele keer verwoord hy 'n gevoelige stemming, verwant aan die beroemde reëls wat hy uit Quasimodo vertaal:
Sononder
Die skaduwee, meteens, is koud. Ek ril.
Die groot swart nag kom soos 'n gil.
En skielik is al die sonbesies stil.Ga naar eind16.
En, gedagtig aan al sy skete skryf hy 'n vermaaklike
Grafskrif vir Uys
Jul lag jul dood, verdomp, as ek jul sê
hoe sleg ek voel, hoe mankoliek.
Maar wag, jul sal nog op my grafsteen lees:
ek het jul mos gesê ek's siek.
| |
IIIDeur die jare het Marjorie Wallace en François Krige talle skilderye van Uys gemaak en in die tagtigerjare was daar die guitige tekeninge | |
[pagina 607]
| |
van Margaret Maskew. In die jare ná sy motorongeluk bly eerbewyse vir hom instroom. In 1977 publiseer Human & Rousseau Oggendlied onder redaksie van André P. Brink vir sy verjaardag, met stukke oor hom deur Jan en Marjorie, André, Chris Barnard en Alan Paton en talle bydraes deur ander medeskrywers. 'n Onverwagte vreugde vir hom is 'n vertaling van sy verse in Russies deur Jewgeni Witkowski, met 'n inleiding deur A. Dawidson, wat in 1977 onder die titel Ballade van die groot dapperheid (Ballada o wjelikom moezjestwê) in Moskou verskyn. Dit is 'n bundel, met houtsneë by sy verse, wat hy graag aan vriende en kennisse op besoek aan Swartdakkies gewys het, maar wat hom geen enkele sent in die sak gebring het nie. Die roebels was wel beskikbaar, maar dan moes hy dit in Moskou gaan haal. En hy weet nie of hy daar sal kom nie, sê hy in Nico Roos se radioportret. Hy meen hulle moet maar 'n kommissaris met die roebels stuur. ‘Ek wil hê sy moet agtien wees, maar sy kan maar neëntien ook wees!’ sê hy.Ga naar eind17. Wanneer hy op 4 Februarie 1980 sewentig is, reël Human & Rousseau 'n ete vir Uys in die Birkenhead Hotel op Voëlklip, Hermanus. Hy was verras én bly dat Opperman, met wie hy jare lank, ten spyte van 'n sekere toegeneentheid, 'n gestremde verhouding gehad het, aanwesig was. In 'n rede by dié geleentheid spreek Opperman sy groot waardering uit vir die wyse waarop Krige sy romantiese verlange in Afrikaans verklank het: hoe hy, ná sy terugkeer uit die Tweede Wêreldoorlog, ontroerend skryf oor die skeiding wat daar tussen hom en sy volksgenote gekom het en hoe hy by die formele godsdiens en partypolitieke indelings verby die stryd van die ewige digter voer. Albei dié aspekte word pragtig verteenwoordig in ‘Verre blik’. Opperman oorhandig namens Human & Rousseau 'n spesiale uitgawe van dié gedig wat hulle met die hand laat set het en wat as geheel deur Gerhard Last, een van Suid-Afrika se top-tipograwe, ontwerp is.Ga naar eind18. Vir dié geleentheid skryf Jan Rabie 'n pryslied met die volgende mooi slotreëls: Loof hom dan só: sewentig jare lank al is Uys 'n fontein,
'n springfontein waar woorde reënboë kan klaradyn,
waar ander opregtes vonkies vuur kan kry;
Al doof 'n reënboog uit, herbore vuur sal bly.Ga naar eind19.
| |
[pagina 608]
| |
In 1981 ontvang Uys vir die sesde maal die Akademieprys vir Vertaalde Werk, dié keer vir sy oorsetting van Die huis van Bernarda Alba van Lorca. En in 1985 ken die intussen gul geworde Akademie die Hertzogprys vir Drama aan hom toe vir sy hele dramatiese oeuvre. Uys het seker al hierdie toekennings en vererings geniet, maar van die stralende, goue seun van vroeër was daar, behalwe die steeds kinderlike eenvoud, weinig oor. Steeds was hy spraaksaam en intens geïnteresseerd in familieverbintenisse. Só erg was dit dat Jan Rabie hom eenmaal geterg het: Uys, jy sal eendag ruggelings by die hemelpoort aankom. En wanneer jy vasloop in Sint Petrus, sal jy omdraai en vra: ‘Sê my, waar't ek jou al ontmoet, en sê my, sê my wat is jou mammie se nooiensvan nou weer?’Ga naar eind20. | |
IVReeds in 1982 het die televisieregisseur Pierre Marais begin met die aanloop tot 'n uur lange uitsending waarin hy onder die titel Sol y sombra 'n beeld wou gee van Uys Krige se lewe. Marais het met die navorsing baie deeglik te werk gegaan en talle dokumente uit Uys se kinderjare en sy jare as korrespondent tydens die Tweede Wêreldoorlog opgespoor, onder meer lewende beelde uit dokumentêre films waar Uys saam met die soldate in sy oorlogsuniform beweeg. Vir 'n volledige beeld was dit egter nodig om Uys na Europa te neem, sodat die televisiespan saam met hom op die spoor kon loop van al die plekke in Frankryk en Spanje waar hy in die dertigerjare was. Daarom besoek hulle dié lande op koste van die SAUK en gaan Eulalia saam as sy ‘hulp en steun’. Hulle vlieg op 8 Junie 1983 na Lissabon en Madrid en reis dan oorland na Marseille. In Portugal besoek hulle die graf van Roy Campbell en gesels hulle met die twee Campbell-dogters. Hulle doen Toledo en Barcelona aan, en in die buitewyke van Granada besoek hulle saam met 'n peinsende Uys die geboortehuis van Lorca en die huis waar hy sy groot werke geskryf het. Dan bereik hulle die Franse Riviera, waar Uys in Martigues nog die ou vervalle huis kan uitken waar hy saam met die Campbells gewoon het. In Toulon vind daar 'n reünie plaas met die agterlyn van die rugbyspan waarvan Uys 'n lid was en waarvan elke lid, aange- | |
[pagina 609]
| |
vreet deur die tyd, nog leef. Hulle gee hom sy trui, rooi erekleurebaadjie en petjie wat hy destyds nie kon bekostig nie. Per vliegtuig gaan hulle na Rome en van daar na die omgewing van Sulmona en die Abruzzi-berge vir 'n herbesoek aan Vincenzo Petrella en die Italiaanse kleinboere wat hom weggesteek en help ontvlug het. Hulle eet 'n pasta-maaltyd saam met die mense oor wie hy in The way out geskryf het. 'n Italiaanse televisiespan wat van die besoek gehoor het, is by om ook 'n opname daarvan te maak.Ga naar eind21. Uys bly in Rome agter, terwyl Pierre Marais elders in Europa 'n besoek van die Tygerbergse Kinderkoor vir die SAUK-TV moes vaslê en Eulalia saam met die res van die span terugkeer na Suid-Afrika. Maar Uys het moeite om sy weg in die groot stad te vind, kon nie die adres van sy hotel onthou nie en het deurmekaar begin praat. Uiteindelik moes die Suid-Afrikaanse ambassadeur sorg dat hy veilig op 'n vlug na Johannesburg beland. In Pretoria bly hy 'n hele tydjie by Bokkie voordat hy weer terugkeer na Onrust. In 'n onderhoud met Beeld sê hy ná sy terugkeer dat hy nooit weer die land wil verlaat nie en dat Rome vir hom 'n ‘onuitstaanbare raserny’ was. ‘Nee man, ek is nou te oud vir rondry en verder neuk ek my hele lewe lank oorsee, oorsee, terwyl ek my eie omgewing nog nie eens behoorlik ken nie.’Ga naar eind22. Op 4 Februarie 1985 word Krige se Versamelde gedigte, geredigeer deur J.C. Kannemeyer, in die Kunskamer in Kerkstraat, Kaapstad, bekend gestel, 'n gesamentlike uitgawe van J.L. van Schaik, Human & Rousseau en Perskor. En dieselfde aand word Pierre Marais se Sol y sombra op televisie gebeeldsend, 'n pragtige huldeblyk aan Uys Krige, al word 'n mens plek-plek bewus daarvan dat die bewegende hooffiguur oor die skerm 'n skaduwee geword het van wat hy eens was, nie meer die bruisende, vitale digter van die son en die goue seun wat hy vroeër was nie. Tot Uys se groot droefenis kon Pierre Marais die uitsending nie self beleef nie. Kort tevore sterf hy op jeugdige ouderdom aan 'n hartaanval. |
|