Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 575]
| |
VI
| |
[pagina 577]
| |
Hoofstuk XVII
| |
[pagina 578]
| |
Van sy stoep af kon hy voëls soos die visvangers en die bokmakieries sien wat sy dae met voëlmusiek vul en kon hy selfs 'n wildsbokfamilietjie op die skiereiland dophou. En twee keer per dag kon hy, sterk swemmer soos hy altyd was, die gevaarlike see ingaan, op die sandstrand met een en almal gesels of in een van sy boeke of manuskripte lê en lees. By sy aankoms kon hy sy swembroek met 'n behendige hantering van die handdoek as afskorting aantrek, net om dit weer, as hy uitkom, uit te trek en met dieselfde behendigheid sy kortbroek en hemp aan te trek - kompleet 'n wandelende aantrekhokkie! Vir huishou en veral koskook het Uys nooit 'n vaardigheid ontwikkel nie, maar sy bekwame huishulp - eers Annie Pikeur en Lidia Pietersen, toe baie jare lank die bekkige Babsie Winnaar en daarna Katy Thompson - het die orde gehandhaaf en die bietjie kos voorberei wat hy wou eet. Die huishulp, sê Jan Rabie met die ‘mengsel van wrewel en toegeneentheid’ waarmee hy dikwels oor Uys skryf, moet inwoon om alles vir hom op te tel en reg te vat agter hom aan en vir alles te sorg. ‘En ook vir haar maak hy, hulpelose, verhewe digter, naïewe kind, tot moeder wat kloek oor sy hulpelooshede.’Ga naar eind5. Sononder kon Uys op die stoep gaan sit, soms met sy huishulp 'n gesprekkie oor die ouderdom en die verlatenheid voer, oor sy maag en spastiese kolon kla en die ‘sonondersinkings’ met 'n enkele glasie brandewyn-en-gemmerbier besweer - die boustof vir die eenbedryf Die lewe is alleen draaglik as 'n mens 'n bietjie dronk is, een van die laaste stukke wat Uys nog self sou klaarmaak.Ga naar eind6. Maar meestal was die ‘fris ruik van bamboes’, die ‘flikkerende vlei’ in die laatmiddag en die ‘roue seemeeunote’ wat hy bo die ‘seegedruis’ kon hoor, vir hom as romantiese digter draers van die ‘doodeenvoudige geluk’Ga naar eind7. wat ook vir die mens weggelê is. Dít alles kon die vredige Onrust hom bied, al was die onrus in die eie gemoed by hom altyd net onder die oppervlak aanwesig. Toe Uys hom in Swartdakkies kom vestig, het die skilders Cecil Higgs en Gregoire Boonzaier reeds op Onrust gewoon. In Maart 1970 trek Jan Rabie en Marjorie Wallace ook daar naby op Vermont in, en met die jare word Onrust en sy tweelingdorpie 'n egte kunstenaarskolonie waar skeppende mense kom woon of vir hulle naweek- en vakansietuistes aanskaf. Hulle is die egpaar Klaas Steytler en Elsa Joubert, Jack Cope, Koos Human, Siebert Wiid, Bill Davis, Barend J. Toerien, Etienne Leroux, Al J. Venter en later ook die egpaar Chris | |
[pagina 579]
| |
Barnard en Katinka Heyns. Dit is hier waar Breyten Breytenbach saam met sy vrou, Yolande, hom in 1973 aanvanklik tydens sy eerste besoek ná baie jare aan Suid-Afrika in sy ouers se huis tuismaak en met Uys, Jan en Marjorie saamkuier. Uys, wat sy geselskap ‘soos 'n veeltalige eend’ strand toe lei, wek by Breytenbach 'n sekere bewondering: Ek sou graag gou 'n ou man wou wees soos Uys - al is hy so jonk! - maar darem met minder klagtes. Ons sit op sy gerieflike agterstoep. Uys met die Latynse wêreld se kultuur in hom....Hy stel nog in alles belang, is nuuskierig, pik aan alles. Alles stort ineen. Die tyd, die dood. Daardie wonderlike wete wat tussen ons bestaan - dit wat ons bind verby alle teenstrydigheid of -hede is die verganklikheid. ‘Wat uitstaan, is hoe vinnig dit verbygegaan het.’ Uys is, soos ons altyd te maklik sê, 'n groot digter. En met die tyd gaan hy nog groter word. 'n Stroom-óp digter, maar God sy dank wég uit die staats-universitêre-Germaanse digtery. 'n Mensdigter. Digters - die begenadigdes, die vervloektes.Ga naar eind8. Saam met die meeste Suid-Afrikaanse skrywers is Uys ontsteld wanneer Breytenbach in 1975 die land met 'n vals paspoort binnekom en tot nege jaar gevangenisstraf vir vermeende terroristiese bedrywighede gevonnis word. In die eerste jare op Onrust bly Uys steeds in die nuus. Pierre Volschenk maak, soos vroeër René Gretz en Nell Kaye, twee borsbeelde van hom uit keramiekklei.Ga naar eind9. In die tweede helfte van 1969 besoek hy Durban en Pietermaritzburg en lewer hy met groot sukses nie minder nie as twee en twintig lesings. Hy bly in 'n woonstel in die aantreklike Beach Hotel en kan ten spyte van die winter elke dag in die warm water van die Indiese Oseaan gaan swem. Vir 'n huldigingsbundel by die sewentigste verjaardag van G.S. Nienaber van die Pietermaritzburgse Departement Afrikaans en Nederlands skryf hy 'n artikel oor sy herinneringe aan al die Natallers wat hy geken het.Ga naar eind10. Van die Cambridge University Players, wat op 'n toneeltoer deur die land is, sien hy All's well that ends well en Peter Weiss se Marat/Sade. In April 1971 ken die Rhodes-Universiteit 'n eredoktoraat aan hom toe. Tydens die ete daarna verwys die visekanselier na Uys as ‘the glamour boy of Swellendam’, 'n opmerking wat hom rats laat antwoord: ‘Since those far-off days I've been considerably deglamourized! I know, I took a good long look at myself in the mirror this | |
[pagina 580]
| |
morning.’Ga naar eind11. Terwyl hy Grahamstad besoek, gee hy 'n aantal lesings aan die Departement Afrikaans en Nederlands en by skole. Hy wys op die vitaliteit van die Suid-Afrikaanse letterkunde, ten spyte van die remmende publikasiebeheer, en hoe sterk die belangstelling in Europa en Amerika vir ons literatuur is.Ga naar eind12. Vir die Stellenbosse Universiteitsteater vertaal hy Die huis van Bernarda Alba van Lorca, wat in Mei 1973 met groot sukses in die H.B. Thom-teater onder spelleiding van Ria Olivier opgevoer word. Dit word in 1980 deur Tafelberg-Uitgewers gepubliseer. Op 10 Desember 1975 ken ook die Universiteit van Stellenbosch 'n eredoktoraat aan Uys toe. Verbeel 'n mens jou of bespeur jy op 'n foto wat by dié geleentheid geneem is, iets van 'n renons by die kanselier, B.J. Vorster, om aan sy bête noir sedert 1939 so 'n hoë onderskeiding te verleen? By die noenmaal daarna stel D.J. Opperman, professor in die Afrikaanse letterkunde, met 'n ‘kwatryntjie’ die heildronk op Uys in en bring hy geestig hulde aan 'n skrywer en digter wat hy toenemend meer bewonder: Ten spyte van sy periodieke maagpyn
en dat hy kort-kort na die buiteland verdwyn,
trap hy tussendeur uit flonkerende korrels
telkens in ons letterkunde 'n kroonjaarwyn.Ga naar eind13.
Steeds is Uys bereid om onverskrokke politieke uitsprake te maak wanneer hy dit nodig ag. Wanneer Athol Fugard 'n paspoort geweier word, is Uys saam met W.A. de Klerk, André P. Brink, Etienne Leroux en Jan Rabie een van die skrywers wat Fugard se saak bepleit. Uys het dit veral teen die regering se swye oor die saak en sy weiering om sy redes vir die besluit openbaar te maak. ‘What kind of blind man's bluff is the Government playing with us? The Afrikaner character has always been renowned for its openness and directness.’Ga naar eind14. 'n Saak wat hom in die sestigerjare aan die hart gryp, is die veroordeling van Bram Fischer. Wanneer Fischer in 1973 sterwend is aan kanker maar steeds gevange gehou word, lewer Uys in Rapport van 6 Mei 1973 'n roerende pleidooi vir die vrylating van sy groot vriend. Hy verwys na alles wat Bram vir hom in moeilike tye gedoen het en praat van hom as iemand wie se karakter ‘'n sekere adel’ het. Iemand wat Uys tydens sy herhaalde besoeke aan Natal leer ken en met wie hy gou 'n hegte vriendskap opbou, is die politikus M.G. Buthelezi, indertyd hoof uitvoerende amptenaar van die KwaZulu-regering en | |
[pagina 581]
| |
later minister van binnelandse sake in die Mandela- en die Mbekikabinet. 'n Brief wat Buthelezi op 11 Februarie 1976 aan Uys skryf,Ga naar eind15. gee 'n aanduiding van hulle verhouding: It has been one of the greatest joys of 1976 for me to receive a letter from not just a friend whose friendship has always meant so much to me, but who is one of the greatest sons of our beloved Homeland South Africa. Thanks for giving so much joy. En steeds trek Uys ‘fan mail’ van oraloor en bly hy as bekende persoonlikheid landswyd gewild. Soms, soos vroeër, val hierdie bekendheid hom teen. Op 31 Maart 1972 skryf hy aan Chris Barnard: ‘Ek dink nie jy het die flouste benul van wat ek van my eie “beroemdheid” dink nie. Dikwels verpes en verag ek dit, voel ek dit staan dwars in die weg van my eie selfvervulling as skrywer; dit het niks, absoluut niks, met my ware wesenlike talent te doen nie. Slegs met my uitbundige, oorweldigende persoonlikheid - ai, ai, wee my, daardie persoonlikheid van my...’ Maar tog is hy erg in sy skik as hy briewe ontvang van skoolkinders wat inligting vra en in bewondering aan hom skryf. Kobus van der Merwe van die De la Bat-skool op Worcester bedank hom in 'n ongedateerde brief vir die toesending van 'n foto. ‘Ek waardeer dit baie en dis nou my kosbaarste besitting op aarde, behalwe my kettie.’ Hy skryf verder: ‘Oom het vir my geskryf | |
[pagina 582]
| |
dat oom gekonfyt is om uit meisies se hande te bly. Ek sal bly wees as oom vir my ook die kuns sal aanleer, want ek word elke keer met 'n skuifknoop gevang en uitkom is min.’ Leoni Hofmeyr, leerling aan La Rochelle Hoër Meisieskool in die Paarl, vra hom, met allerlei aanhalings uit sy verse waaruit haar kennis van sy werk blyk, om met hulle te kom praat oor enigiets - miskien oor Parys, oor hoe om krygsgevangene te wees. Party van hulle, gaan sy voort, weet hy is die digter van die voorgeskrewe mooi ‘Tram-ode’. ‘Ander wil hê u moet die knip kom oplig, die hek oopmaak en die kitaar, donker kitaar met die woord kom tokkel, hom kom laat sing. Of duisend deure kom oopsluit, of die swael se stem met die vrede self laat praat, of ons sommer net die kans gun vir “môresê mens”!’ Lesley Mackay van die Hoërskool D.F. Malan is in vervoering oor die feit dat Uys in Swartdakkies net kan gedigte skryf en swem en sluit, naas 'n foto van haarself, 'n vers in oor die digter wat sy so bewonder. Maar ook in sy familie en kinders stel hy intens belang. Uys is verheug as sy niggie Grethe Fox, dogter van sy suster Suzanne en swaer Revel, in die sewentigerjare ná haar opleiding aan die Universiteit van Kaapstad toneel en Frans in Parys studeer en daarna groot onderskeiding as aktrise vir die verhoog en film in Suid-Afrika verwerf. In later jare onthou Grethe hom as 'n wonderbaarlik lieflike mens met borrelende energie, iemand wat hulle as kinders reeds oor die ontbyt met die voorlees van verse kon meevoer.Ga naar eind17. Eulalia ontwikkel in hierdie jare tot 'n pragtige persoonlikheid, maar Uys is saam met haar ontsteld as haar seuntjie, Uysie, met 'n ‘kopmoeilikheid’Ga naar eind18. gebore word en operasies moet ondergaan om die water van die brein af te dreineer. Hy leef intens mee met Taillefer se suksesvolle loopbaan in die filmbedryf as kameraman saam met Fellini en Zeffirelli en as rugbyspeler vir Rome. Hy glo indien Tai lank genoeg by die Transvaalse span was, sou hy Springbokkleure verwerf het. Wanneer Uys 'n studiebeurs van die Italiaanse regering ontvang, gaan hy in Julie 1971 na Rome om Tai te sien. Hy vind die Italianers die malste en vinnigste bestuurders in Europa en ook Tai ry teen honderd myl per uur met hom na Sperlonga en terug. Tai kry vir Uys 'n kamer in die Grande Albergo Minerva, die bekende hotel waar hy in 1945-1946 saam met die Suid-Afrikaanse troepe gebly het en waar die kelners hom nou vererend as il professore aanspreek. Daar sluit sy moeder en Suzanne vir 'n kort besoekie by hom aan. Maar, soos tydens sy besoek van 1969, beval Europa hom nie meer nie. ‘I have come to | |
[pagina 583]
| |
the conclusion that I have become too old for Europe’, skryf hy in 'n brief aan sy moeder en ander familielede. ‘Italy is not what it was. On the surface there certainly seems nothing left of the heroic Italy coming out of its agony in the years 1943, '44. What a change! What a difference!’ Daarby keil die nou reeds bekende Krige-magie hom op en sommige nagte gooi hy tot tien of twaalf maal op. Terug in Suid-Afrika is hy bly wanneer Tai saam met sy Russiese vrou, Anya, in Augustus 1972 na Suid-Afrika terugkeer vir die geboorte van hul seun Demian en hulle in Johannesburg vestig. Uys met sy gehegtheid aan sy familie is trots daarop dat hy die enigste onder die Krige-broers met 'n nageslag is en 'n seun en kleinseun wat die Krige-naam voortdra. Hoewel hy van impulse leef en steeds iets van die Dionusiese en die Boheemse van die tipiese romantiese persoonlikheid verteenwoordig, het hy ook sterk konserwatiewe oortuigings en is hy geheg aan die bodem en sy eie mense. Steeds is hy geen tradisionele Afrikaner of pater familias nie, maar tog diep verbonde aan sy kinders en sy mense en die beste wat daar in die Afrikaner aanwesig was. | |
IINaas sy vertaling van Die huis van Bernarda Alba skryf Krige in die sewentigerjare heelparty artikels vir die kunsbladsy van Die Burger oor die poësie van digters soos Neruda, Prévert, Quasimodo, Bandeira, De Lima, Seferis en Kavafis. Steeds maak van sy kortverhale internasionaal opslae. Die Reader's Digest publiseer in 1973 ‘Death of the Zulu’ in 'n bloemlesing van Suid-Afrikaanse kortverhale, terwyl hulle ‘The coffin’ in 1977 in Great short stories of the English-speaking world insluit. En steeds word baie van sy eenbedrywe deur skool- en amateurgroepe op die verhoog gebruik. Die goue kring word in die sewentigerjare in Pretoria, Bloemfontein en Stellenbosch suksesvol opgevoer, terwyl Twee lampe ook by herhaling, sowel in Afrikaans as in Engels, aan die beurt kom. In boekvorm verskyn sy Spaans-Amerikaanse keuse (1969) en Molière se Dokter teen-wil-en-dank (1971). Krige se grootste werk in hierdie jare is egter sy vertaling van Shakespeare se King Lear, 'n werk wat hy vir KRUIK met die oog op die opening van die nuwe Nico Malan-teater in Kaapstad in 1971 onderneem. King Lear, sê hy by geleentheid, was nog altyd sy gunstelingtragedie in die Engelse letterkunde en ‘een van die aangrypendste | |
[pagina 584]
| |
en sinrykste tragedies in die hele geskiedenis van wêrelddrama’.Ga naar eind19. Toe hy, lank voordat hy King Lear vertaal het, deur die Pretoria News gevra word waarom dit vir hom so 'n groot tragedie is, antwoord hy: Because of the grandeur, the loneliness, the desolation and the pity....Despite the spread of the play in space and time, it has an intensity, a barbaric Greek quality....Then there is Lear's humility. It is an unchristian play...pre-Christian. There is no mention of God in it. And yet there is the whole Christian idea in the way of the purification of Lear.Ga naar eind20. Krige begin met die vertaling teen die einde van Januarie 1970, ongeveer 'n maand ná Kersfees nadat die besoekers wat deur Swartdakkies stroom, tot 'n einde gekom het en hy byna as gevolg van dié vertrapping begin dink het sy skrywersloopbaan is op 'n einde. Soos in die geval van Twaalfde nag het hy ook die eerste paar dae gevoel hy is besig met 'n werk wat te magtig vir hom is. Hy het die impuls gehad om die beheerraad te versoek om hom van die onderneming te bevry.Ga naar eind21. Toe hy eers aan die gang kom, het die vertaling egter vinnig maar op 'n vreemde wyse gevorder. Eers het hy die finale toneel met die dood van Lear - vir hom die mooiste sterftoneel in die Engelse letterkundeGa naar eind22. - gepak en toe, soos 'n krap wat agteruit kruie, al die klimakstonele in die drama vertaal. Die eerste bedryf is gevolglik heel laaste klaargemaak. Gewoonlik het hy vyfuur in die oggend begin werk en met onderbrekings vir ontbyt, teedrink en swem die hele oggend voortgegaan. Die moeilikste deel van die werk, so stel hy dit in 'n onderhoud,Ga naar eind23. was die ‘timmerasie’, die blote eksposisie met sy ‘gebruiks’-dialoog en die oorsetting van die verbindingstonele. Binne twee maande was die vertaling klaar, maar toe moes die afwerking, die slyp- en poleerwerk, nog gedoen word. Die taal en orkestrasie van King Lear was vir Krige só meesterlik dat hy geprobeer het om so ná as moontlik aan die oorspronklike te bly. In vergelyking met Twaalfde nag, waar hy in die komiese situasies baie kon improviseer, het hy met die vertaling van King Lear gevind dat hy nie dieselfde speelruimte het nie en dat hy, wat Logan Pearsall Smith ‘the genius of the language’Ga naar eind24. genoem het, moet eerbiedig. ‘To try to get across Shakespeare's magnificent language,’ sê Krige,Ga naar eind25. ‘I had to use Afrikaans literally. I wasn't free to improvise - except here and there with the Fool who also puns and plays the | |
[pagina 585]
| |
fool, pulling King Lear's leg, providing the comic relief and, by so doing, adding an even greater pathos to the play.’ Hy het, gedagtig aan wat Leipoldt en Van Wyk Louw bereik het, nog altyd gevoel dat Afrikaans uitnemend geskik is vir Shakespeare se rymlose verse en dat hy self die vrye vers kan hanteer. Hy is egter gekonfronteer met die intensiteit en gedrongenheid van Shakespeare se vers en die voldonge feit dat 'n vertaler die probleem met die verlede tyd in Afrikaans nie altyd met die gebruik van die historiese presens kan oplos nie. Maar die grootste probleem was om hom in te leef in Shakespeare self toe hy King Lear geskryf het.Ga naar eind26. Die première van Koning Lear, waarmee die Nico Malan-teater geopen is, was in haas alle opsigte een van die grootste fiasko's wat die Afrikaanse toneel ooit beleef het. Vir die speel van die volkslied by die binnekoms van die staatspresident is die mikrofone sag gestel en daarna nie weer verander nie, met die gevolg dat die woorde van die spelers vir die grootste deel van die produksie onhoorbaar was. Baie van die spelers is rolle toegeken waarvoor hulle duidelik nie opgewasse was nie. Die regisseur, Dieter Reible, wou 'n ‘eksperimentele’ Lear opvoer met stadig bewegende karakters wat die toneel telkens by die afgaan lang tye volkome leeg gelaat het. Daarby het hy verkies om karakters bloedig te laat sterf en lank ná hulle dood op die verhoog te laat lê. In die slottoneel was die lyke oor die verhoog gestrooi en veel meer as wat uit Shakespeare se teks blyk. Goneril, gespeel deur 'n aktrise wat toe net besig was om lyf aan te sit, het eerste gesterf en moes lank lê. Dit het van die staatspresident, mnr. Jim Fouché, die reaksie ontlok: ‘Gits, maar daar is darem nou baie lyke hier. Kyk daardie een, sy swel al glad op!’Ga naar eind27. In sy bespreking in Die Burger, wat feitlik 'n hele bladsy in beslag geneem het, beskryf W.E.G. Louw die opvoering as die ‘moord op Shakespeare se Lear’ en as ‘die duurste sirkus’ wat nog ooit na Kaapstad gekom het. Hy vind dit besonder moeilik om sy afkeer en wat hy van die produksie dink, binne die perke van parlementêre taal te formuleer.Ga naar eind28. Met die publikasie van Koning Lear deur HAUM in 1971 het lesers geleentheid gehad om die voortreflikheid van Krige se vertaling met die oorspronklike en met ander vertalings te vergelyk. In die sewende toneel van die vierde bedryf sê Lear, reeds bewus daarvan dat sy verstand aangetas is: | |
[pagina 586]
| |
Pray do not mock me.
I am a very foolish fond old man,
Four score and upward, not an hour more nor less,
And, to deal plainly,
I fear I am not in my perfect mind.Ga naar eind29.
L.A.J. Burgersdijk vertaal dit as volg in Nederlands: O, bespot mij niet:
Ik ben een kindse en versleten grijsaard,
Over de tachtig, geen uur meer of minder
En, - ja, ik meen het,
Naar 'k vrezen moet, niet wel meer bij mijn hoofd.Ga naar eind30.
A. Roland Holst se vertaling lui: O, bespot mij niet;
Ik ben een zeer dwaas, sukkelend oud man,
Over de tachtig, geen uur meer of minder;
En om ronduit te spreken,
Ik vrees, dat ik niet goed bij mijn verstand ben.Ga naar eind31.
Krige gee dit só in Afrikaans weer: Spot tog nie met my nie.
Ek is 'n ou man, dwaas, half kinds,
Ruim tagtig jaar oud, geen uur meer of minder;
En om reguit te praat,
Ek vrees ek is my sinne kwyt.Ga naar eind32.
Nie een van die vertalers behou die alliteratiewe binding van Shakespeare se tweede aangehaalde reël nie, maar albei Nederlanders bereik iets besonders: Burgersdijk met ‘versleten’ en Roland Holst met ‘sukkelend’. 'n Mens voel egter Krige bereik meer, sowel met die direktheid waarmee Lear, in aansluiting by die vierde aangehaalde reël, praat as met die dramatiese effek wat hy bereik deur die byvoeglike kwalifiserings ná ‘man’ te laat volg. By hierdie direktheid sluit ook Krige se slotreël voortreflik aan. In vergelyking daarmee is Roland Holst se slotreël ritmies horterig. | |
[pagina 587]
| |
Meer as een kritikus was dan ook hooggestem in hulle lof vir Krige. Ernst van Heerden sê in sy bespreking in Rapport van 13 Augustus 1972: ‘Wellig is geen enkele ander werk van Shakespeare in 'n ewe groot verskeidenheid van stemming en toonaard geskryf nie; in Krige se herskepping leef die hele outentieke Lear met daardie verskeidenheid....Lear gee minder geleentheid vir die soort guitigheid wat so eie is aan Uys Krige en wat Twaalfde nag so besonders maak. Maar aan die ander kant was dit waarskynlik 'n groter uitdaging.’ Op baie plekke, gaan Van Heerden voort, oortuig Krige met 'n ‘ware kragtoer’ en sy ‘besondere aanvoeling vir die timbre van die volkstaal het tot talryke gelukkige vondste gelei.’ Hy sluit af: ‘Lear is...een van die groot gefolterdes in die literatuur. Dat sy dwaasheid, lyding en boetedoening so aangrypend tot ons in ons eie taal spreek, het ons aan Uys Krige se ondernemingsgees - en sy virtuositeit - te danke.’ Dieselfde hoë lof spreek ook uit die resensie van Merwe Scholtz in Die Burger van 16 September 1972, al vind hy dat die nar-dele in Afrikaans nie ‘die epigrammatiese slaankrag van die Engels’ het nie. Wat hy waardeer, is dat Krige soms 'n brokkie annotasie in sy vertaling opneem om die Shakespeare-teks te verhelder. Hy laat ook reg geskied aan Cordelia, Goneril, Kent en Edmond en ‘aan die majesteitlike én aan die doldriftige, waansinnige Lear’. Krige kan volgens hom sowel die ‘gedrae plegstatigheid’ as die ‘opgejaagde taal-van-aksie’ oordra. | |
IIIIn 1971 moes die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns weer die Akademieprys vir Vertaalde Werk toeken. Hulle wou Krige se Spaans-Amerikaanse keuse bekroon, maar in 1969 het hy die toekenning vir Twaalfde nag van die hand gewys en gevra dat hulle maar die Akademie-Krige-lêer in die Apiesrivier gooi. Die Akademie was dus tereg bevrees dat Krige die prys weer sou weier en prominente letterkundiges binne die liggaam het begin voel dat hy reeds jare lank sleg behandel is. Daarom bel Danie van Niekerk, sekretaris van die Akademie, Krige en vra hom om tog die prys te aanvaar. Die Akademie, erken hy, het in die verlede foute gemaak, maar hulle wil hierdie saak nou regstel. Die huidige Akademie kan nie geblameer word vir sy voorgangers se foute nie. Hy vra Krige der- | |
[pagina 588]
| |
halwe om hulle 'n kans te gee, want Krige ry die Akademie in die wiele deur te weier om die toekenning te aanvaar. 'n Nuwe Krigelêer moet geopen word en Krige moet vertroue hê dat dinge nou reg sal verloop. In 'n verklaring wat in Rapport van 23 Mei 1971 verskyn, sê Krige dat hy ná Van Niekerk se telefoongesprek gevoel het hy moet nie soos die Uyse ‘altyd stroomop wees nie’. Ná Van Niekerk bel ook Meiring Naudé, die Akademievoorsitter, met wie Krige saam grootgeword het en vir wie hy as 'n briljante wetenskaplike beskou, en sê dat dit hom persoonlik sal seermaak as Krige die prys nie wil aanvaar nie. Toe bel Eben Meiring, professor in Frans op Stellenbosch, wat die commendatio moes opstel. So intelligent reageer hy op die vertalings dat Krige sterk onder die indruk kom van die sorg en toewyding waarmee Meiring sy werk gelees het. ‘Nadat hierdie drie mense my gebel het, het ek besluit om die prys te aanvaar’, sê Krige in sy onderhoud met Rapport. ‘Ek kan mos nie 'n man soos Meiring Naudé seermaak nie. Ek het Danie van Niekerk per telegram laat weet. Die telegram lui: Het besluit ná slaaplose middag om Akademie aan te moedig. Vir Anneke [Danie van Niekerk se vrou - JCK] se mooi oë en jou glimlag. Dankie vir die bedagsaamheid en vriendskap.’ In sy commendatio sê Meiring dat min vertalers die Romaanse praat- en sangvers grondig aanvoel en hul eie maak. Krige kry dit reg omdat hy dié poësie deur en deur ken, omdat hy binne selfopgelegde grense presies weet wát om te verafrikaans, hoe om te suggereer en te evokeer. Daarom kry hy dit reg ‘om so baie Romaansheid te herskep, te herdig - diep en innig en hunkerend’.Ga naar eind33. Krige se bereidwilligheid om die prys in 1971 vir Spaans-Amerikaanse keuse te aanvaar, was vir die Akademie 'n verligting, want die vanselfsprekende keuse vir bekroning in 1972 was Koning Lear en Dokter teen-wil-en-dank, wat dan ook die prys ontvang. Op 12 September 1972 word die prys aan Krige op Stellenbosch oorhandig. Die motivering word opgestel deur Rob Antonissen, Krige se vriend en indringende kommentator op sy werk, wat reeds in daardie stadium ernstig siek was aan longkanker en op 22 September sou sterf. Daarom word sy rede deur W.E.G. Louw voorgelees. In sy rede, letterlik die laaste stuk werk wat hy nog voor sy dood kon voltooi, sê Antonissen: By vertalings van Franse komedies uit die sewentiende eeu, met hul blomryke taal, gebeur dit nogal maklik dat die bewerker 'n | |
[pagina 589]
| |
(soms drastiese!) besnoeier word, in die salige waan, wellig, dat hy op dié wyse die oorspronklike verbeter, meer ‘speelbaar’ maak. So iets moet ons natuurlik juis nié van Krige-in-komieseluim verwag nie; inteendeel. In sy Dokter teen-wil-en-dank is Molière se hele Le médecin malgré lui dáár, en skitterend verafrikaans, maar bowendien met (volgens my skatting) sowat een vyfde nuwe teks uitgebrei. Dit kan wel 'n gevaarlike werkwyse word, en hier en daar, veral in die langerige rymsolo's van Sganarelle waarmee Krige elke bedryf laat eindig, kry ons inderdaad soms wel ‘des Guten zuviel’. Maar origens is dit merkwaardig hoe voortreflik oor die algemeen die ‘pure Krige’ in die ‘louter Molière’ geïntegreer is. Dit is, om so te sê, Molière self wat aan Krige se oerkomiese talent die vrye teuel gegee het. Met Krige se aanvaarding van die twee Akademiepryse was die tafel as 't ware gedek vir die uiteindelike bekroning van sy oorspronklike skeppende werk, in die besonder sy poësie. Die probleem was egter dat daar geen nuwe werk van Krige in dié genre voorhande was nie. Sommige letterkundiges het trouens vermoed dat hy op die gebied van die poësie, wat met die publikasie van Vooraand in 1964 'n sterk dalende lyn toon, dalk uitgeskryf was en nie weer die hoogtes van sy vroeëre werk, wat so by herhaling vir bekroning verbygegaan is, sou bereik nie. Van die nuwe reglemente vir die toekenning van die Hertzogprys het egter sekere skuiwergate gehad wat die bekroning van herdrukke, bloemlesings en versamelde uitgawes kon in- | |
[pagina 590]
| |
sluit. Daarom het Danie van Niekerk in 'n gesprek met Jan van Schaik, belangrikste uitgewer van Krige se bundels poësie, aangedring op 'n heruitgawe of by voorkeur 'n bloemlesing, met byvoeging van nuwe verse. Op 13 Junie 1972 skryf Van Schaik in 'n brief aan Krige dat so 'n bloemlesing vir die Hertzogprys vir Poësie in aanmerking sal kom. ‘Danie beklemtoon’, skryf Van Schaik, ‘dat daar beslis 'n afdeling in die bundel moet wees met nuwe gedigte. Hy glo nie dat jy 'n kans staan as dit net ou werke is nie.’ Dit was jare lank reeds Van Schaik se plan om, ná die suksesvolle heruitgawe van die twee eerste bundels in 1961, 'n bloemlesing uit Krige se totale poëtiese oeuvre te publiseer. Nou was daar die kans om so iets te onderneem en terselfdertyd vir Krige die Hertzogprys vir Poësie te verower. ‘Net 'n halfdosyn of wat nuwe verse in 'n bundel sal genoeg wees’, dra Roelf van Rensburg, verbonde aan die firma J.L. van Schaik, Van Niekerk se gedagte oor 'n ete aan Krige oor.Ga naar eind34. Die Akademie, so stel Van Rensburg dit, besef maar alte goed dat hulle hul hande liederlik verbrand het. Nou wil hulle graag vergoed vir die foute van die verlede. Maar dan moet daar 'n publikasie wees wat nuwe verse bevat, al is dit ook vertalings. Hoewel hy nie tydens die ete 'n mak lammetjie was nie, was Krige bereid om te luister. Terug op Onrust begin hy tydsaam met die samestelling van 'n Keur uit sy gedigte uit die ses bundels oorspronklike verse van hom wat tussen 1935 en 1964 verskyn het, maar, strydig met Danie van Niekerk se oproep, sluit hy nie een enkele nuwe ongebundelde vers in nie. Afgesien van vertalings, wat in werklikheid vertolkings is en 'n eie koers inslaan en wat in die bundels oorspronklike poësie verskyn, neem hy net een feitlik ‘letterlike’ vertaling op: Lorca se ‘Klaaglied vir Ignacio Sanchéz Mejías’, wat in Vir die luit en die kitaar verskyn het. Hierdie Keur is een van die bundels wat in 1974 aan die kommissie van die Akademie ter oorweging vir die toekenning van die Hertzogprys vir Poësie voorgele word. Die belangrikste ander mededinger vir die prys was Breyten Breytenbach op grond van sy bundels Skryt: Om 'n sinkende skip blou te verf (1972) en Met ander woorde: Vrugte van die droom van stilte (1973). Reeds in 1968 en weer in 1971 het Breytenbach vir bekroning in aanmerking gekom, maar in albei gevalle het die Akademie ‘veiliger’ keuses gemaak en op die reeds oorlede Boerneef en Elisabeth Eybers onderskeidelik besluit. Dit was aan almal bekend dat Breytenbach se politieke uitlatings en ook die | |
[pagina 591]
| |
soort politieke vers wat hy skryf, baie lede van die Akademie in besluitnemende posisies teen die bors gestuit het. Die jaar 1974 sou egter 'n toets vir die literêre integriteit van die Akademie wees. Die Letterkundige Kommissie het bestaan uit A.P. Grové (voorsitter in die plek van W.E.G. Louw, wie se Naggesprek en ander gedigte in aanmerking gekom het), Merwe Scholtz, C.J.M. Nienaber, Elize Botha (sekundus vir T.T. Cloete), Audrey Blignault, C.A. van Rooy en Ernst Lindenberg. Voor die bekroning het B.J. Vorster, wat in 1966 eerste minister geword en in 1968 sonder sukses sy gewig by D.J. Opperman rondgegooi het om Breytenbach van bekroning met die CNA-prys te weerhou,Ga naar eind35. Meiring Naudé, voorsitter van die Akademie, gebel en gewaarsku wat alles sou gebeur indien Breytenbach bekroon sou word.Ga naar eind36. Krige was, hoewel nog nie heeltemal aanvaarbaar nie, in vergelyking met Breytenbach 'n mindere euwel wat ter wille van die vrede maar geduld moes word. Naudé was onrustig oor die stand van sake en die dreigende houding van Vorster en het dadelik vir Grové gebel.Ga naar eind37. Hy was egter verniet bekommerd, want die Letterkundige Kommissie het 'n gedugte span gevorm, deurwinterde omseilaars van situasies wat vir die Akademie problematies kon wees. Die enigste vlieg in die apteker se salf was die aanwesigheid van Ernst Lindenberg, wat reeds te kenne gegee het dat hy aan Breytenbach voorkeur gee. Cloete het vooraf uit die kommissie teruggestaan, omdat Lindenberg volgens hom 'n klimaat vir 'n Breytenbach-bekroning wou skep en in die openbaar teen die aanwesigheid van drie lede van die Publikasieraad - Grové, Scholtz en Cloete - in die kommissie beswaar gemaak het. Tydens die byeenkoms besluit die Letterkundige Kommissie met 'n meerderheidstem om die Hertzogprys vir Poësie aan Uys Krige toe te ken. Lindenberg se voorstel dat Breytenbach bekroon word, kry geen sekondant nie en hy lewer vervolgens 'n minderheidsverslag in waarin hy 'n beroep op die Akademieraad doen om die aanbeveling van die Letterkundige Kommissie in hersiening te neem. Hoewel hy besware opper teen sommige verse in Breytenbach se twee bundels wat in aanmerking kom, meen hy dat bekroning op grond van dié werk, sonder inagneming van vroeëre bundels, steeds 'n waardige bekroning sal wees. Krige se Keur kan volgens hom nie daarmee kompeteer nie, want dié digter het slegs ‘'n handjie vol blywende gedigte geskryf’ en het nooit, behalwe in ‘Tram-ode’, die peil van Breytenbach se beste gedigte benader nie. Die aanbeveling vir bekroning is gebaseer op 'n bloem- | |
[pagina 592]
| |
lesing en hy moet ‘met verontwaardiging wys op die manier waarop Krige se kandidatuur as 't ware by die agterdeur ingesmokkel is’. In die verlede, sê Lindenberg, is bloemlesings nie vir die prys in aanmerking geneem nie, maar nou word ‘'n nuwe vindingryke interpretasie aan die reëls gegee waardeur dit wél gewettig word’. Lindenberg meen ook dat die verskyning van Krige se bloemlesing op 31 Desember 1973 'n ‘fiktiewe datum’ is. Omdat slegs publikasies in die jare 1971-1973 in aanmerking kon kom, skep dit die indruk ‘dat êrens gefluister is dat die verskyningsdatum belangrik mag word’.Ga naar eind38. Ten spyte van die sterk saak wat Lindenberg vir Breytenbach uitmaak, was die koeël deur die kerk. Die vraag was egter of Krige die prys sou aanvaar, veral omdat van sy naaste vriende by hom aangedring het om dit van die hand te wys. In 'n brief van 10 Maart 1974 wens Abraham H. de Vries hom geluk met die Hertzogprys, maar meen hy dat Krige polities misbruik word om die prys van Breyten weg te hou. ‘Of jy die prys gaan aanvaar, dit wil ek nog graag sien. In 'n pleidooi in Hoofstad, waarin ek gevra het dat die prys aan Breyten gegee moes word, het ek afgesluit: “Vir Uys is ek onder die omstandighede baie jammer, want hy het die prys so lank al verdien. Maar ek dink te veel van sy poësie om dit nóú aan hom te gun.” Ek het dit dan ook bedoel: jou poësie was nog nooit 'n politieke speelballetjie nie.’ En 'n dag later skryf André P. Brink: ‘Eerstens om te sê uit die diepte van die vis se buik: geluk met die Hertzog, meer as dertig jaar te laat, maar daarom des te dubbelder en dwarster verdien. Jy weet self hoeveel jare ek al my bietjie baklei bygesit het oor jy dit nog nie gekry het nie. Dis die regstel van 'n onreg, en 'n formele stukkie erkenning van jou onskatbare betekenis vir nie net die Afrikaanse literatuur nie maar vir die literatuur.’ Hy vervolg: ‘En dan tweedens, paradoksaal soos dit klink!, om te sê ek hoop jy gaan dit weier! The best of all possible worlds (amper tik ek: “words”!): jy't die erkenning gekry wat jou jare al toekom - én jy laat jou nie insleep by hulle gepolitiekery nie. Om uit die Apiegevreetjie-van-Apiesrivier, GROOT SENSOR SE OUBOET, die prys te aanvaar, lyk na 'n blerrie belediging. As dit nog 'n duisend of 'n paar duisend op die spel was, o.k., sou ek sê: dan kon jy dit darem gevat het met die minagting wat dit verdien! Maar nou verloor jy niks as jy weier nie.’ Hy gaan voort: ‘Ek hoop jy begryp my motivering: dit het niks te doen met Breyten se rol in die saak nie. Uitsluitlik met die feit dat so 'n agterna-gewitvoetjiesoekery van hulle kant jóú nie eer aandoen nie.’ | |
[pagina 593]
| |
De Vries en Brink se briewe is met die allerbeste bedoelings geskryf, maar hulle het 'n belangrike aspek in die kern van Krige se hele wese misgekyk, naamlik dat hy basies oor 'n ruim en alomvattende liefde vir die mens, selfs vir sy felste teenstander, beskik het en nie konsekwent en standhoudend kon haat nie. In hierdie opsig was hy anders as baie van sy literêre tydgenote wat wrokke oor jare en dekades heen kon vertroetel. Toe Danie van Niekerk hom bel en vra of hy die prys sal aanvaar as hulle dit aan hom toeken, was sy antwoord hy wil 'n week lank dink. Toe hy 'n week later weer gebel het, was sy antwoord: ‘Ja, ek sal hom vat.’ Aan 'n vriend het hy gesê: ‘Nou kan ek mos nie die prys weier nie; die mense sal dink ek is 'n ekshibisionis! En’, het hy bygevoeg, ‘Breytie kan die prys 'n volgende keer kry.’Ga naar eind39. Die Hertzogprys vir Poësie word op 28 Junie 1974 tydens die afsluitingsbyeenkoms van die Akademie-jaarvergadering by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria aan Krige toegeken. By dié geleentheid is Gerhard J. Beukes, die pas verkose nuwe voorsitter van die Akademie, die man wat die verrigtinge moet lei. Terwyl hy Krige vroeër in sy dissertasie oor Die moderne eenbedryf en in sy literatuurgeskiedenis Skrywers en rigtings maar bra stief behandel het, is hy nou die ene minsame vriendelikheid en klink hy salwend soos 'n predikant. Hy verwelkom die pryswenners en sê: ‘Vir die Akademie is dit 'n dankbaarheid dat hy deur sy deskundige keurkomitees goeie werk kan herken en kan bekroon.’ Wanneer hy die prys aan Krige oorhandig, spreek hy hom regstreeks aan: ‘My goeie vriend Uys, dit is vir my 'n buitengewone eer en voorreg dat juis ék vanaand die geleentheid moet hê om hierdie prys aan jou te mag oorhandig. Dit is ons almal se wens dat, al kom hierdie prys so laat, soveel later as wat ons dit graag aan jou sou wou gee, die geur hiervan, die herinnering hieraan altyd soos ou wyn altyd by jou sal bly. Ons hartlike gelukwense.’Ga naar eind40. A.P. Grové lewer die lofspraak. Hy wys op Krige se veelsydigheid en dat hy onder die Dertigers 'n aparte posisie inneem, onder meer deur sy kennismaking met ‘vreemde lande en kulture’ en die wyse waarop hy sy ervaringswêreld tydens die Tweede Wêreldoorlog verruim en verskrikking en pyn van naby leer ken het. Hy gaan voort: Maar ook in ander opsigte het Krige sy onafhanklikheid as digter gehandhaaf. Anders as sommige van sy mede-dertigers het hy | |
[pagina 594]
| |
nooit 'n profetiese mantel probeer dra of die digterskap profeties verheerlik nie. Krige is nie iemand vir poses of kultusse nie. Waar sy tydgenote die ‘mooi’ woord beoefen en besing het, het Krige hom in sy vers by voorkeur van die gewone woord bedien. Waar ander dertigers oorwegend in die poësie ‘gesing’ het, het Krige die moontlikheid van die spreekvers, die spreektaalwoord en die spreekritme verken. Waar sy mede-dertigers oorwegend hoog-ernstig was in die poësie, het Krige in sy vers meermale 'n guitige, speelse toon aangeslaan. So het hy, dikwels teen die stroom in, sy eie koers gegaan en terselfdertyd in meer as een opsig voorbereidingswerk gedoen vir digters wat sou volg.Ga naar eind41. Dit is hoë lof van 'n kritikus wat in vroeëre opstelle telkens juis sy voorkeur laat blyk het aan Krige se mededigters, ook en veral diegene onder hulle wat die ‘“mooi” woord’ beoefen het. 'n Mens vra jou af waarom hy so lank gewag het om sy waardering vir Krige se beoefening van die gewone woord en die spreekvers te betuig. In Krige se antwoord op hierdie lofspraak praat hy aanvanklik aarselend, amper verleë. Aan die begin bedank hy 'n aantal persone, onder andere Grové ‘wat sopas oor my gepraat het en wat dinge oor my gesê het wat ek nie heeltemal verdien nie, maar wat ek miskien nog eendag sal verdien’. Een van die aangenaamste gevolge van die toekenning van die Hertzogprys, sê hy, was die reaksie van mense wat hy nie geken het nie, al die briewe en telegramme wat hy ontvang het en nog moet beantwoord. ‘Ek sal nou maar wens’, gaan hy voort, ‘dat die dinge wat oor my gesê is en wat nie heeltemal juis is nie, maar wat, as die tyd, die gesondheid, die werkkrag en die energie my gegun word, dat ek hierdie toekenning en wat prof. Grové van my gesê het, sal billik en regverdig.’Ga naar eind42. Poësie, sê hy verder, is nie gedagtes, bewerings of 'n kwessie van intelligensie nie, al speel die verstand 'n beherende en kontrolerende rol by die ontstaan van 'n gedig. Die gedig is iets wat aan die digter gegee word. Soms is daar die indruk dat die gedig reeds vroeër in hom bestaan het en dat die skeppende gees dit net in homself moet ontdek. Die digter kan net kom met wat daar in hom is, maar hy moet met die jare sy tegniek soos dié van 'n uitmuntende skrynwerker verfyn. ‘Die ware digter’, sê hy aan die einde, moet woorde kan skoonmaak, hulle suiwer, reinig, donner un sens | |
[pagina 595]
| |
plus pur aux mots de la tribu, 'n suiwerder sin gee aan die woorde van die stam. Want woorde raak so maklik beduimel, vuil, onsuiwer, vertroebel. Hulle moet skoongemaak word. Ná hierdie laaste woorde het die hele gehoor in die ouditorium by die Universiteit van Suid-Afrika opgestaan om staande hulle eerbied vir Uys Krige te betuig. Dit was 'n gepaste hulde van 'n liggaam wat met hierdie toekenning 'n groot skeppende gees wou vereer, iemand wie se werk hulle jare lank skromelik verbygegaan het. Só begeesterd raak Uys ná die plegtigheid aan die praat dat hy sy Hertzogprys in die ouditorium laat lê. Die Akademie moes dit die volgende oggend by sy hotel laat aflewer! | |
IVDeur sy moeder, Sannie, leer Uys in die vroeë sewentigerjare die kunstenares Margaret Maskew ken, met wie hy gou 'n hegte vriendskap sluit. Margaret maak met die jare fyn pen- en houtskooltekeninge en etse van hom wat sy later, saam met 'n onderhoudende teks, in 1985 in A portrait of Uys Krige bundel - 'n pragtige hulde aan 'n medekunstenaar en 'n menslike mens. In die boek vertel sy hoe sy, Sannie en Uys van plan was om op 'n reis deur die Boland en die Overberg te gaan om al die plekke van moeder en seun se kinder- en jongmensjare - Caledon, Stellenbosch, Heidelberg, die Karringmelksrivier, Riversdal - te besoek. Die reis kon egter nie deurgaan nie, omdat sy en Sannie by hulle aankoms op Onrust Uys ernstig siek aan sy nou reeds bekende maag- en dermkwaal in die bed vind. Wanneer sy en Sannie drie dae later besluit om 'n entjie te gaan ry, hoor Uys, nog steeds in die bed, dit, staan hy op en wil hy opsluit saam. In die vissershawe van Hawston stap Margaret op die hawehoof uit, terwyl gevaar- | |
[pagina 596]
| |
like branders in die misweer daaroor begin te slaan. Uys, steeds 'n bietjie bewerig ná die drie dae in die bed, volg haar, terwyl Margaret haar hart vashou.Ga naar eind44. Gelukkig kon hy die branders en wind weerstaan! Sulke kitsveranderinge in sy gesondheidstoestand, het Margaret met die jare agtergekom, was kenmerkend van Uys. Telkens moes hy in die sewentigerjare, soos vroeër, vir die maag en die sy in die hospitaal opgeneem word, want met die vomering het daar die gevaar van dehidrering ontstaan. In Mei 1970 is dit só erg dat hy veertien dae teen gruwelike mislikheid en opgooiery in die Groote Schuur-hospitaal behandel word en vier en twintig kilogram verloor. Daarna is hy, steeds in die hospitaal, helder van gees en volg hy al die dramas om hom met 'n wakker belangstelling. ‘Eergister’, skryf hy aan 'n vriendin, ‘het hulle dosyne foto's, so lyk dit, van my ingewande geneem. Hulle het gaan dwaal met wie weet watter soort nuwerwetse lampe, flitse en soekligte deur die duistere doolhof van my derms. En nou hoor ek niks is daar verkeerd nie, wel die bewyse van die ou maagsweer weer, maar geen oplewing of hergeboorte van die ou sweer nie.’ In 1972 is hy in die Volkshospitaal in Kaapstad vir 'n blaasoperasie, waarvan hy betreklik gou herstel. Maar nie lank nie, of hy moet weer met die ou kwaal Groote Schuur toe. ‘Hier het dit maar woes gegaan’, skryf hy later in 1972 aan Jan en Marjorie Rabie. ‘Dit was die langste maagaanval wat ek nog ooit ondervind het. Twaalf dae lank het ek aanhou met opgooi. Ek was mislik verby. Hulle het nou drie dae lank allerlei toetse op my toegepas. Hulle het my binnegoed vandag vir lank beloer met teleskope, mikroskope, buise, pypies en die hereweet watter soort loerapparate alles nog af in my keel. En ek moes twee uur twintig minute wag voor hulle begin het. En gister het hulle drie uur lank van my sappe uitgesuig - weer daardie sappige Latynse sappe! - met 'n magdom buisies en pypies en godweetwatter suiggoeters nog. Hulle het 'n vet pyp deur my neusvleuel gesteek af in my pens in om daar op daai slymerige bodem - die slikwêreld van ou Uys - die diepgeleë sappe by te kom. En so elke nou en dan kots ek. Die geleerdes - daar is omtrent tien dokters met my geval besig - sê daar is heel waarskynlik weer 'n maagsweer en my maag kan hom nie heeltemal ontlas nie, nou sal ek bes moontlik 'n operasie moet hê.’ Gelukkig kry die tien dokters die maag en gedermte weer in orde, maar later moet Uys 'n prostaatoperasie ondergaan, wat suksesvol afloop. | |
[pagina 597]
| |
Terwyl Uys sy ellendes beleef en deur sy huishulp Babsie, soms bygestaan deur Margaret, wat dikwels uit Kaapstad op besoek kom, versorg word, het die jare vir Sannie aangestap. In die sewentigerjare het sy baie hardhorend geword en het haar sig aanmerklik verswak. Tydens haar nege en tagtigste jaar in 1975 het sy telkens teenoor Margaret opgemerk dat sy besig was om moeg te word van die lewe. ‘To me the street lights look like great faded balloons’,Ga naar eind45. het sy teenoor Margaret oor die toestand van haar oë gekla. Steeds was die binding tussen haar en Uys baie heg. Wanneer hy vroeg in 1976 - die jaar waarin Sannie negentig sou word - deur Rapport gevra word wat sy Nuwejaarsvoornemens is, antwoord Uys: ‘Man ek het dertig ongepubliseerde bundels in my laai wat ek aan die hersien is. (Hoekom skryf julle nie iets oor Mammie nie?)’ Op 9 Februarie is sy negentig jaar oud en vind daar saam met haar kinders en kleinkinders 'n vrolike partytjie plaas, al was daar 'n ondertoon van droefheid saam met die heuglike geleentheid. Dit is asof die familie besef het dit sou haar laaste verjaardag wees. Die paar dae ná haar verjaardag was Sannie nie wel nie en is sy na die hospitaal geneem. Aan haar kleindogter Eulalia, vroeër van Johannesburg, het sy op 19 Februarie gesê: ‘Eulalia van Transvalia, mooi soos 'n dahlia ...’ Aan haar seun François het sy gevra wanneer hy weer gaan uitstal. Toe hy sê hy het dit weer uitgestel, was haar antwoord: ‘Van uitstel kom afstel. Maar ek kan nie langer uitstel nie.’ Die X-strale het 'n blokkering in een van die are gewys. Indien sy die volgende oggend 'n operasie kon ondergaan, was daar die moontlikheid dat sy sou leef. Uys was die enigste wat ten gunste daarvan was. Gelukkig het dit nooit tot 'n vraagstuk ontwikkel nie, want Sannie is in die nag dood. Sannie se dood het 'n beangstigende gevoel van leegheid gelaat. Ná die begrafnis is Margaret saam met Uys Onrust toe. Hulle het van Sannie se besittings in die motor gepak. Uys het van haar medisyne saamgeneem wat hy wou drink wanneer hy weer siek is, en Margaret laat omdraai om ook sy moeder se wit wandelstok te gaan inlaai. Onderweg na Onrust het Uys aan haar gesê dat sy grootste vrees altyd die gedagte aan sy moeder se dood was. Noudat dit só ver gekom het, was dit egter vir hom moontlik om sonder haar te leef, al het hy haar verlies meer gevoel as wat hy wou erken.Ga naar eind46. In die weke ná Sannie se dood is Uys weer gepla deur 'n bloeiende maagsweer, voortdurende hikke en mislikheid. Soms moes hy | |
[pagina 598]
| |
na die Hermanus-hospitaal om as gevolg van die dehidrasie op 'n drup geplaas te word. 'n Paar maande ná Sannie se dood is hy Transvaal toe om tydens die koue en eensame maande 'n bietjie van Onrust weg te kom. ‘I missed him and worried about him’, skryf Margaret. ‘Then one day I had a horrible feeling. Was it a premonition?’Ga naar eind47. Sy het besluit om by François en sy vrou, Sylvia, op Montagu onderdak te gaan soek. Hulle het gesien sy is bedruk en het haar uitgenooi om oor te bly totdat sy beter voel. Hulle het aangesit vir 'n smaaklike ete met groente uit die tuin. Die atmosfeer was ontspanne en rustig. Margaret het François se skilderye bekyk, serenely glowing against the walls. There was a timelessness about their intrinsic beauty. My depression eased. I went to sleep in the little etching room comforted by the solid black press next to my bed, the zinc and copper plates standing on a narrow shelf all the way round the room and the canvasses stacked under the bed and against the walls.Ga naar eind48. Die volgende oggend, Woensdag, 30 Junie 1976, het sy wakker geword, onbewus daarvan dat op hierdie dag, ver weg in Transvaal, iets met Uys sou gebeur wat sy lewe ingrypend sou verander. |
|