Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 457]
| |
Hoofstuk XIII
| |
[pagina 458]
| |
has said of Lorca that he is ‘the incarnation of age-old essences’. For me he is, principally, the last of the great singers. If his voice can be compared to a fountain playing or a bird in its first full spate of song, this does not mean that mental processes are largely absent from his poetry. There are few poets in whose work one can find a better balance between feeling and thought or in which there is more strict control by the mind of the inspiration's fierce impetus and surge. In die sewe jaar dat hy as dramaturg kon werk, gaan Krige voort, publiseer Lorca drie volkse tragedies wat 'n blywende bydrae tot die dramaliteratuur van die wêreld is. Van hulle is Yerma die tragedie van frustated motherhood, there is no way out from her impasse. She can only conform to her own rigid code of honour. Her conscious mind cannot even envisage a possible lover. It is only her subconscious mind that fastens, with affection, on the figure of the sympathetic shepherd, Victor. Perhaps we must see in this play, amongst other things, a reflection of Lorca's own conflict between paganism and Christianity. Krige woon die dertig repetisies van Yerma by en leer daardeur nie alleen die stuk nog beter ken nie, maar doen ook waardevolle kennis vir sy eie dramatiese werk op. Hy sien daarna elkeen van die tiental opvoerings van Yerma in Kaapstad, Bellville, Paarl en Stellenbosch en skryf: Aand vir aand het ek gesien hoe Lydia Lindeque, in haar manjifieke diep-ontroerende vertolking van Yerma...haar gehoor hou in die holte van haar hand. | |
[pagina 459]
| |
tyds met die aanhoor van hierdie toneel by my opgekom het nie. Om van my gevoelens nie eens te praat nie...Een groot indruk bly egter by my: hoe die toneel oor die voetligte na ons uitgereik het, ons in 'n band van teerheid omvat en almal saamgevoeg het; hoe die verhoog, die saal, die lug bo ons koppe, die hele atmosfeer, alles as 't ware aan die bewe was van die besef van die patos van die lewe, deurhuiwer van 'n heimwee na al dié dinge wat dalk kon gewees het...Ga naar eind1. Vir die fynsinnige Spaanse kritikus Rafael Nadal kon Krige in 1955 laat weet van die groot en opwindende sukses van Yerma in Kaapstad; ‘hoe na die première die skerm nege of tien keer moes opgaan vir die aanhoudende applous en dit gelyk het asof ons dit minstens nog vyf keer kon optrek so hardnekkig het die mense aangehou met klap’.Ga naar eind2. In 'n brief aan Francisco García Lorca, broer van die digter en dramaturg, skryf hy op 2 Augustus 1962 van die enorme sukses wat hulle met die Engelse produksie van Yerma in Kaapstad en omstreke gehad het en die hoogstaande vertolking van Lydia in die titelrol. ‘I wasn't satisfied with the English translation of [certain]...parts of the play that were written in such splendid poetry, so I did my own translation of these fragments, using the American translators' version only when it was in prose.’ Wanneer sy Afrikaanse vertaling van Yerma in 1963 in boekvorm verskyn, dra Uys dit op ‘Aan Lydia Lindeque wie se Yerma ek nooit sal vergeet nie’. Reeds toe sy Yerma-vertaling in 1952 in Standpunte gepubliseer is, beskryf die toneel- en romanskrywer Ben van Eysselsteyn dit in die Haagsche Courant as 'n ‘sublieme vertaling’. In 1953, toe Uys by hulle op besoek was, voer Fred Engelen en Tine Balder fragmente daaruit met sukses in Antwerpen op. Dit was so 'n sukses dat lede van die gehoor voorgestel het dat die Koninklijke Nationale Theater van Antwerpen die Afrikaanse vertaling in plaas van die Nederlandse vertaling van Weremeus Buning op die planke moet bring.Ga naar eind3. Toe die boek in 1963 verskyn, bestempel Jozef Deleu die prosa in die waarderende naskrif in De Standaard as besittende ‘een sprankelende soepelheid, een betoverende glans, een poëtische intensiteit die de lezer eenvoudig overrompelt’.Ga naar eind4. En in Kriterium, III:2, Julie 1965 sê Rob Antonissen dit is ‘die mooiste beskouing wat my in Afrikaans oor 'n drama - enige drama - bekend is’. In die jare vyftig word Krige, nog méér as vroeër, 'n gewilde spreker | |
[pagina 460]
| |
en voorleser van sy eie poësie, al was hy nie by alle Nasionaalvoelendes ewe welkom nie. Wanneer hy geleentheid gehad het om sy eie verse op die verhoog of oor die radio voor te lees, het sy meesterlike beheer oor die ritme opgeval. Hy kon tydens die voordrag 'n swaai en 'n kadans bereik wat van 'n indiwiduele aanbieding getuig en wat die gedig in sy oorspronklike frisheid opwindend nuut vir die gehoor laat klink. Sy lesings en artikels het meestal oor aktuele aangeleenthede op die gebied van die literatuur, die toneel en soms ook die politiek gehandel en het getuig van kritiese insig, erudisie en 'n geestigheid wat die gehoor geesdriftig laat reageer het. En voor uiteenlopende gehore was hy tuis. ‘There is something’, skryf Christina van Heyningen, ‘of the ballad-monger about him - a great wanderer, he is equally at ease with a simple country audience or a sophisticated university assembly - and those who describe him, after one of his lectures, as a contemporary troubadour are not romanticizing.’Ga naar eind5. Die gevolg hiervan is dat hy in die loop van die vyftigerjare en ook later baie uitnodigings van leeskringe, kultuurgroepe en biblioteke kry om hulle te kom toespreek. Universiteite en kolleges vra hom telkens om lesings te hou of om funksies by te woon, terwyl hy herhaaldelik uitnodigings van oorsese opvoedkundige inrigtings ontvang. Hy hou ook heelparty tafelredes voor organisasies soos die Elgin Round Table, die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging, die Black Sash, die Vereniging van Joodse Vroue in Suid-Afrika en militêre verenigings soos die Moths Society. Net die versoeke van W.E.G. Louw, A.P. Grové en later Ernst van Heerden om bydraes vir Standpunte te lewer, laat hy onbeantwoord! In 1964 word hy, wonder bo wonder - en baie later as sy tydgenote -, tot lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies. Sy milde menslikheid laat hom ook, terwyl hy dit nie breed het nie, geskenke bo sy vermoë uitdeel. Wanneer die Suid-Afrikaanse Raad vir Blindes by hom vir 'n donasie aanklop, gee hy nie alleen geld nie, maar koop hy ook vir hulle 'n bandopnemer. Onder Krige se geweldig uitgebreide korrespondensie wat op Stellenbosch bewaar word, is baie bewonderaarspos, ook briewe van labiele en versteurde mense. Van dié mense, veral die vroue onder hulle, het soms in Kaapstad opgedaag om hulle groot digter van aangesig tot aangesig te sien en met hom te gesels, dalk met die hoop om iets meer van hom te ontvang. Lydia, teen hierdie tyd taamlik sat van die praatsiek Uys in hulle Rondebosse huis, was nie in die minste bekom- | |
[pagina 461]
| |
merd wanneer mense haar waarsku teen die baie vroue wat by haar man toustaan, hom bewonder en klaarblyklik verlief is op hom nie. ‘Never mind,’ was haar gelate reaksie, ‘he'll talk them out of it!’Ga naar eind6. Onder die vraagstukke wat Krige in sy lesings, praatjies en artikels aanraak en wat hy vóór die oprigting van die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) lewer, was die vraag of die Afrikaanse toneel in Kaapstad gered kan word. Dit was 'n tyd waarin soms heftige polemieke oor die stand van die Afrikaanse toneel gevoer is en waaraan mense soos W.J. du P. Erlank en Hermien Dommisse deel gehad het. Krige wys daarop dat daar 'n afname in die aktiwiteite van die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging (die KAT) ingetree het en die kontinuïteit van 'n ontwikkelende toneellewe in Afrikaans nie gehandhaaf is nie, terwyl die Engelse toneel van Kaapstad met goeie produksies jaar na jaar bestendig voortgaan, 'n ‘theatregoing habit’ onder die inwoners ontwikkel is en nuwe jong spelers kundig deur die voortreflike Departement Drama en Toneel aan die Universiteit van Kaapstad opgelei word. Terwyl ouditoriums in die tyd van die Hanekoms en Huguenet dikwels stampvol was, is daar nou net 'n handjie vol mense wat vir Afrikaanse voorstellings opdaag en 'n yskoue wintersaand trotseer om per bus en trein met heelparty oorstappe by die teater uit te kom. Hy verwys na die eerste minister, dr. D.F. Malan, se uitspraak dat Suid-Afrika by Bellville begin, 'n uitspraak waarmee Malan dan klaarblyklik die ‘blanke Afrikanerdom’, in teenstelling tot die Engelstaliges en bruin mense van die Kaapse Skiereiland, bedoel. In ten minste een opsig, meen Krige in 'n ratse uitbuiting van Malan se geografiese flater, het die eerste minister gelyk: ‘dis op die Kaapse Vlakte waar daar 'n groot, vaste en dus “skeppende” publiek vir die Afrikaanse toneel verower moet word’. By 'n voorstelling van Bruidskool in die veelrassige Klein Teater merk hy 'n derde van die gehoor bestaan uit bruin mense vir wie ‘die wonder van Molière se humor en menseliefde 'n voortdurende verrukking was’.Ga naar eind7. En by dié mense lê vir hom die toekoms van die Afrikaanse toneel, 'n toekoms wat, helaas, met die rigiede toepassing van die apartheidsbeleid wat bruin mense in haas alle teaters van bywoning weerhou het, ver in die toekoms sou lê. 'n Ander saak waarteen Krige as aanloop tot sy kritiek op John Osborne se Look back in anger waarsku, is die los en onkritiese gebruik van woorde soos ‘groot’, ‘magtig’ en ‘van wêreldformaat’ wanneer letterkundiges hulle oor die Afrikaanse letterkunde uitlaat. Op 'n | |
[pagina 462]
| |
keer moes hy van 'n letterkundige hoor dat die radio-uitsending van 'n Afrikaanse drama die ‘grootste geestelike ondervinding’ van sy lewe was, terwyl 'n gedig wat hy, indien dit in Engels, Frans of Spaans geskrywe was, nooit 'n tweede keer sou lees nie, in 'n gesaghebbende tydskrif as ‘magtig’ bestempel is. ‘Die byvoeglike naamwoord “groot”’, skryf hy is, dink ek altyd, die een groot woord wat die kritikus met die grootste, nee, die uiterste versigtigheid behoort te nader - veral waar die werk van 'n tydgenoot beoordeel word. ...[D]ie literêre geskiedenis het vir ons al oor en oor bewys hoe onontbeerlik afstand en die perspektief van die jare is vir 'n finale oordeelvelling - word daardie oordeelvelling ooit finaal? - en hoe daar by die beoordeling van 'n tydgenoot se werk by die kritikus faktore op die spel kan kom waarvan hy, die kritikus, miskien glad nie bewus is nie en wat met die intrinsieke literêre waarde van die werk wat hy bespreek, niks uit te maak het nie....Soms voel ek hierdie oorskatting van nuwe werk, waar daar geen aandag gewy word aan sy foute of leemtes nie, het by ons amper 'n soort siekte geword, 'n soort verlamming van die ware ewewigtige kritiese vermoë wat by ons gedeeltelik spruit uit 'n minderwaardigheidsgevoel, 'n voortdurende strewe (dit mag selfs onbewus wees) om ons ‘hoog op te stoot onder die volke’.Ga naar eind8. Soms, voeg hy by, vra hy hom af wanneer hy ongelowig te staan kom teenoor werke wat só hoog geroem word, of daar nie iets koppigs, dwarstrekkerigs en selfs ‘Uysagtig’ in hom is dat hy so alewig stroomop moet beur nie. Hoewel Krige in sy artikel nie vermeld watter drama die kritikus die ‘grootste geestelike ondervinding’ van sy lewe gevind het nie, is dit in die konteks duidelik 'n toespeling op Opperman se Periandros van Korinthe, wat in Oktober 1954 deur die SAUK uitgesaai is. In 'n bespreking wat hy in die Cape Times van 4 Augustus 1954 oor dié drama publiseer, het Krige dit, naas waardering, teen die paarrym. Dit word volgens hom by Opperman ‘an unsubtle, obvious medium, now tending towards monotony, then again - since it forces the poet to rhyme certain words that are intrinsically incompatible - beating on the ear like a tyre gone flat’. Dit is 'n mooi en lekker geniepsige hou teen Opperman, wat in sy bespreking van Hart sonder hawe Krige | |
[pagina 463]
| |
se verse met hulle ‘spaghetti’-reëls bestempel het as ‘brode wat oor die pan gerys het’! Hy meen ook dat Opperman telkens met hierdie ‘pap wiele’ die aandag vestig op die tegniese apparaat wat hy aanwend: ‘For surely in any work of art its technique should be concealed, unobtrusive, as upon looking at a completed building one should suspect or surmise its framework but not see it.’ Krige het wel waardering vir mooi momente soos Periandros se roerende weeklag vir Melissa, wie se dood hy veroorsaak het, en vir Arioon se beskrywing van Periandros se weldade aan die mensdom, maar, ‘taken all in all, the poet's couplet lacks poise, balance, variety, elegance, elasticity - in short, a real sustained inner music....At its worst Opperman's couplet degenerates into doggerel.’ In sy nawoord tot Yerma sê Krige dat baie dramaturge deur T.S. Eliot se voorkeur vir die versdrama op 'n dwaalspoor gelei is en dat die versvorm vir 'n skrywer soms ‘opdringerig’ kan wees. Hy verwys dan weer na Periandros van Korinthe, meer spesifiek na die berymde koeplet ‘met sy op die duur lompe gang, sy stamp en dreun en plek-plek die platheid van sy taal’, wat die aandag van die handeling aftrek.Ga naar eind9. In die vyftigerjare en ook later lewer Krige vir verskeie blaaie 'n hele aantal voortreflike en uitvoerige besprekings van nuwe werke op die gebied van die Afrikaanse en Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde. Laurens van der Post se reisroman In a province waardeer hy as ‘a venture to the interior on two levels: the interior of the dark mysterious continent that bore its author and the interior of his own innermost reactions - often subconscious and therefore equally dark and mysterious - to the wonder and prodigies of that vast continent’.Ga naar eind10. In 'n waarderende opstel oor die nou grotendeels ten onregte vergete skryfster Elizabeth Charlotte Webster se Expiring frog dui hy die geestelike vryheid waarvan die roman 'n uiting is, met goed gekose fragmente uitstekend aan. Krige, wat nooit 'n konformerende en kerklike tipe religie beoefen het nie en eerder die groot Christelike deugde op 'n eenvoudige wyse, sonder enige vertoonsug, indiwidualisties uitgeleef het, moes veel gehad het aan dié roman waarin die skynheiligheid van die kerk en die hele Christelike ‘besigheid’ by tye eksplosief aan die kaak gestel en gehekel word: The whole universe turns on the publicity system. Don't you know that? Take Christianity from the start - the prophecies in the old testament, and then the message to the shepherds, and | |
[pagina 464]
| |
the gifts of the wise men...John the Baptist was Jesus Christ's publicity manager, until He could run the show Himself. Think of the miracles. Publicity! Think of Judas' betrayal. Publicity! Think of the trial before Pilate. Publicity! Christ had every eye on Him all the time. Think of the Crucifixion and Resurrection. It was a stupendous stunt. My dear good fellow, the publicity of Almighty God has put the Church where she is.Ga naar eind11. Ewe beïndruk is hy deur die poësie van Mary Morison Webster, suster van die romanskryfster. Hy waardeer die klassieke kwaliteit van haar beste elegiese verse: the concision, precision, simplicity and clarity of her language, the inner harmony of everything that went into the making of the poem - and, as important as any of these essentials, the poet's objectivity. And by objectivity I mean her detachment from her own grief in the sense that she seems to stand a little apart from it, to be contemplating it, reflecting on it; but not to the extent of impairing in any way the freshness or spontaneity of her eventual song. Dit is opvallend dat Krige, wie se poësie, in teenstelling tot die belydende inslag van die vroeë Dertigerpoësie, gekenmerk word deur 'n wegskryf van die ek en 'n oopgesteldheid vir die wêreld, juis die sublimering van die verdriet in Mary Morison Webster se poësie waardeer. Daarmee huldig hy presies dieselfde standpunt as D.J. Opperman, wat die regstreekse belydenisse as 'n soort ‘skaamtelose geestesnaaklopery’Ga naar eind12. laak en voorkeur gee aan 'n soort ‘onpersoonlike’ poësie wat van T.S. Eliot se ‘objective correlative’ of Martinus Nijhoff se ‘fluit’Ga naar eind13. gebruik maak. Krige skryf: ‘In this way - not by pouring out her sorrow in unrestrained or raw accents but by controlling it, giving it harmonious form, shape and content - she achieves the complete sublimation of her sorrow; that balance and unity the Greeks considered the prime requisite for any work of art from the Parthenon to the smallest marble figurine of a sleeping child.’ Van groot belang vir Krige se eie opvattinge oor die poësie is die wyse waarop hy in 1954 op Anthony Delius se digterlike debuut, An unknown border, reageer. Hy het groot waardering vir Delius se werk, maar hy meen dat Delius se denke in sy poësie domineer, ‘at the ex- | |
[pagina 465]
| |
pense of the feeling or the emotion’. Dit is 'n beswaar wat hy het teen sowel baie moderne Engelse en Amerikaanse poësie as - en hier dink hy bepaald aan Opperman - ‘Afrikaans poems highly praised by our leading critics’. Dit is 'n tipe poësie waarin hy ‘a certain angularity, a certain dryness’ bespeur. Soos in Opperman se Periandros van Korinthe vind hy dat ‘the effects of (Delius')...brilliant technical gifts become so pronounced as to obtrude on me a sheer virtuosity’. Wanneer Krige oor beïnvloeding by Delius uitwei, laat hy dit voorafgaan met 'n stukkie teorie wat na 'n versweë antwoord op Opperman se Digters van Dertig en die hele procédé van 'n jag op vermeende oornames klink: Poetry, like every other art, is one long golden chain of continuity. So in a sense, each true poet is every fine poet he has ever read. Your borrowings from other poets, the influences you have undergone, are not what is important. What is important, is what you have done with those borrowings, those influences: whether you have completely absorbed them, whether they have become an intrinsic part of your own personality and character; whether, in short, your poems containing those borrowings and showing those influences, have a tonal unity and an integral oneness expressive of yourself. In die jare 1957-1959 behartig Krige 'n rubriek oor taal en literatuur in Weekblad, Kaapstadse orgaan van die Verenigde Party. Met dié rubriek oortref Weekblad by tye, sowel in gehalte as in omvang, die aandag wat Die Burger aan die letterkunde bestee. In dié artikels skryf Krige oor nuwe publikasies soos F.A. Venter se Man van Ciréne en Jan Rabie se Ons, die afgod. Hy waardeer die objektiwiteit en vertelvermoë van Venter en die wyse waarop die skrywer daarin slaag om sy karakters uit te beeld. Uit sy bespreking van Ons, die afgod is dit duidelik dat hy nie van dié roman hou nie, maar hy gooi wal teen wat hy as 'n onbillike aanval op die styl van die boek deur Aat Kaptein beskou. Daarby waardeer hy Rabie se ‘morele moed’ om te getuig van 'n ‘ope wond’ wat in hom en talle ander Afrikaners bloei, al is die boek dan eerder 'n ‘bieg’ as 'n roman.Ga naar eind14. In 'n hele paar stukke skryf hy oor ‘Die woord en sy wondere’, ‘Afrikaans se besondere trefkrag’, ‘Die vuishou van die vrye vers’ en die bekoring wat daar van plaasname, voëlname en bootname uitgaan. By die aanvaarding | |
[pagina 466]
| |
van ‘Die Stem van Suid-Afrika’ as uitsluitlike volkslied in 1957 staan hy krities teenoor die Engelse vertaling. Die Engels dra vir hom nie altyd dieselfde gevoel as die Afrikaans van Langenhoven oor nie en die grootste swakheid van die vertaling is die opvallende rymdwang wat die sêkrag van die oorspronklike ontsenu of afwater. Uit die talle vertalings wat voorgelê is, het die besluitnemende komitee 'n teks saamgestel wat dan die beste elemente uit al die weergawes sou bevat. Krige vra: Was juis dié metode nie onvermydelik bestem om Langenhoven se mooi gedig as gedig in die Engelse taal die nekslag toe te dien nie? Een van die belangrikste stukke wat Krige in Weekblad publiseer, is sy herwaardering van H.A. Fagan se Ousus, waarmee hy, téén die destydse plasing van dié werk in literêre oorsigte, die stuk sien as ‘die suiwerste en gaafste toneelwerk in ons taal’. Hy waardeer die ‘enkelvoudigheid’ of ‘afgestrooptheid’ van die spel en sê verder dat daar nooit ‘die minste aarseling of onsekerheid in die dramaturg se aanvoeling van die wesenlike aard van enigeen van sy karakters (is) nie....Alles word diensbaar gemaak aan die enkele tema of die bepaalde situasie. Elke woord tel - òf om 'n karakter te teken of te onthul òf om die handeling of gang van die stuk te ontwikkel; of, soos dikwels in 'n goeie stuk gebeur, om dié twee dinge tegelyk te bewerkstellig.’Ga naar eind16. Een van die vermaaklikste bydraes van Krige tot sy Weekblad-rubriek handel oor sy ervaring met mense wat hom uit die bloute bel of met versoeke by hom opdaag. So was daar 'n man wat hom kom vra het om 'n reeks gebede te skryf wat hy wil bemark en waaruit hulle dan saam-saam skatryk sal word. Dan is daar die ‘broederskap van die biegbroers en -susters’ wat hulle ‘dramatiese’ lewensgeskiedenis as boustof vir 'n nuwe boek vir hom wil vertel. 'n Ander groep is die ‘toeriste’ wat al gehoor het hy was in Frankryk, Spanje en Italië en wat van hom wil weet hoe hoog die lewenskoste daar is, of hy 'n goedkoop hotelletjie in Barcelona of Rome kan aanbeveel, watter klere hulle moet saamneem en of Florence ‘vrekkoud’ in die | |
[pagina 467]
| |
winter is. In 'n brief, nogal verbasend eerlik, vra iemand by geleentheid: ‘Ek verstaan u het 'n paar boeke oor Spanje geskryf....Eintlik het ek hulle nog nie gelees nie....Kan u my miskien asseblief sê of die buitewyke van Madrid 'n geskikte plek sou wees om 'n varkboerdery te begin?’ Dan is daar die ‘dwepers’, meestal van die vroulike geslag, wat hom op 'n partyjie ontmoet, hom sê hoe wonderlik sy poësie is en hoe dit die skoonhede van die Afrikaanse taal aan haar openbaar het. Toe hy op 'n keer aan een van die ‘dwepers’ vra na die werk wat so 'n blywende indruk op haar gemaak het, noem sy 'n digbundel van een van sy kollegas! Maar dan is daar die talle mense wat per brief of mondeling vir die skrywer 'n troos kan wees. Krige skryf: Ek had eenmaal 'n brief van 'n vrou uit 'n hospitaal waar sy maandelank moes lê met 'n pynlike rugsiekte. ‘U gedig het my in my siekte vertroos, my weer soveel moed gegee dat ek besluit het om aan u te skryf...’ Dikwels het Krige ook indiwidualisties teen uitsprake ingegaan van mense wat sy politieke oortuigings gedeel het. Wanneer Alan Paton in 1956 tydens 'n kongres oor die posisie van Engels in Suid-Afrika by die Universiteit van die Witwatersrand sêGa naar eind17. dat die Engelssprekende Suid-Afrikaners en die bruin mense die ware verhaalskrywers van Suid-Afrika is en dat die blanke Afrikaanse skrywers die bruin en swart mense nooit as mense in hulle werk sien nie, reageer Krige teen die eensydige blik wat uit so 'n opmerking spreek. Hy wys ook daarop dat die kleurprobleem nie die enigste vraagstuk vir Suid-Afrikaanse skrywers is nie: I want to contest emphatically the widely held theory that there is only one problem for South Africans to write about - the Na- | |
[pagina 468]
| |
tive problem. I think this is nonsense. We demand from our literature the whole of life and is this problem the whole of life? It must and will pass away in man's inevitable march forward.Ga naar eind18. Suid-Afrikaanse skrywers, gaan hy voort, word aan bande gelê deur rassegrense. Hy weet van geen oortuigende Engelse karakter in die Afrikaanse literatuur nie en van geen werklik ronde Afrikaanse karakter in die Engelse literatuur nie. Kennis van nie-Europeërs is selfs minder: To be able to write convincingly about the African we will have to know him as a human being. We may have to wait for an African himself to bring to us the great novel about the African.Ga naar eind19. Dit is 'n standpunt waarop Krige in Weekblad van 23 Januarie 1959 weer en feitlik woordeliks sal terugkom: Ons vereis van ons letterkunde, in Afrikaans sowel as in Engels, die hele lewe. En is ons kleurvraagstuk die hele Suid-Afrikaanse lewe? Hierdie versigtige en genuanseerde reaksies en Krige se onomkoopbare eerlikheid is indertyd in Afrikanergeledere nie na waarde geskat nie, ook nie wanneer hy hom oor die politiek en die rigting van die Afrikanernasionalisme uitgelaat het nie. In die brief wat hy op 7 Augustus 1951 aan die joernalis Stanley Uys skryf, sê Krige dat die nasionalisme van vroeër gruwelik ontaard het. Terwyl Hertzog en Langenhoven 'n tipe nasionalisme beoefen het wat uit 'n leemte en armoede gegroei het en wat in die strewe na menslike selfvervulling 'n verwantskap toon met die edel strewe van Italië, Pole en Duitsland in die negentiende eeu, beoog die Afrikanernasionalisme tans slegs die heil van 'n minderheid wat nou self na alle kante toe onregte pleeg of dit onkrities duld. Die hele strewe van die Nasionale Party, gaan hy voort, is 'n giftige, venynige anachronisme wat 'n | |
[pagina 469]
| |
verloëning is van die groot Europese tradisie en op selfvernietiging afstuur. Nie een van sy konserwatiewe Afrikanervriende het in die vyftigerjare enige ag geslaan op die waarskuwende geluide wat Krige van tyd tot tyd laat hoor het oor die politieke pad wat Suid-Afrika met die Nasionaliste aan bewind aan die loop was nie. Hulle het glimlaggend dié dinge afgemaak as ‘Uys se pratery’. Selfs wanneer hy met literêre aangeleenthede besig was, is dit tot 'n lelike politiekery vervlak. In Weekblad van 6 Junie 1958 waarsku hy teen 'n stylrigting en woordgebruik in die Afrikaanse literêre kritiek wat hy speels ‘Standpuntiaans’ noem. W.E.G. Louw as redaksiesekretaris van Standpunte is gou by om op 'n hooghartige wyse in die uitgawe van dié tydskrif van Mei/Junie 1958 te reageer. Ter inleiding skryf Louw oor Krige se rubriek: ‘Hoeveel Afrikaanssprekendes dit onder oë kry, is my nie bekend nie, maar selfs al sou dit minnerig wees, is dit goed dat hy ons Engelssprekende medeburgers oor Afrikaanse aangeleenthede inlig.’ Hierop reageer Weekblad in 'n hoofartikel: Ons het nie verwag dat prof. Louw in 'n tydskrif soos Standpunte van hierdie soort goedkoop propaganda teenoor 'n Afrikaanse Verenigde Party-blad gebruik sou maak nie. Weekblad is 'n koerant wat deur Afrikaners gelees word en dit het 'n beter begin gemaak as enige ander koerant in die geskiedenis van ons joernalistiek. As prof. Louw dit nie weet nie, is hy onkundig en behoort hy daaroor stil te bly. As hy dit wel weet, is hy skuldig aan swak politieke smaak wat hom as letterkundige en Standpunte onwaardig is. Dit is hierdie tipe politieke kleinlikheid van die Nasionale Party-kant wat Krige telkens in die vyftigerjare teen hom en sy aktiwiteite sou ervaar, ook van mense van wie hy geredelik ruimer denke en 'n groter beskaafdheid sou kon verwag het. En hierdie soort reaksie het keer op keer voorgekom, ten spyte van die feit dat Krige sy politieke oortuigings altyd genuanseerd aangebied het en in sy literêre aktiwiteite nooit kliekerig was nie. Miskien is die feit dat hy in baie opsigte 'n buitestander onder die Dertigers was, hom juis ten kwade gereken! | |
[pagina 470]
| |
IIMaar ook as skrywer het Krige in die vyftigerjare met groot teenstand en enorme probleme te kampe gekry. Van die kant van die akademiese letterkundiges was daar minder aandag en waardering vir sy werk as dié van tydgenote soos Van Wyk Louw en Opperman. Die akademici het weinig moeite gedoen om die goeie verse in Krige se oeuvre uit te sonder en, soos in die geval van sy twee groot tydgenote, aan noukeurige ondersoek te onderwerp, terwyl sy dramas en veral sy prosa geringskattend verbygegaan of weinig indringend gelees is. Die kritiese apparaat van letterkundiges soos Grové en die eksponente van die stilistiek op linguistiese grondslag het voorkeur gegee aan die hegte konstruksies van Van Wyk Louw en Opperman. Die kritici was onkundig oor Krige se voedingsbronne en die andersoortige poëtiese ideaal en opvattinge van die Romaanse digters by wie se werk hy aangesluit het. Hulle hele krities-literêre vorming was ontoereikend om Krige se tipe werk te evalueer en waardering te hê vir die vryer prosodie van sy losser vers. In 'n brief wat hy op 4 November 1953 aan Charles Eglington skryf, sê Krige dat die gehalte van sy dramas en sy werklike waarde as prosaskrywer nie raakgesien en waardeer word nie. Maar dit is veral sy bydrae tot die poësie wat die kritici misken. Geen Afrikaanse kritikus, skryf hy aan Eglington, het ooit 'n woord gerep oor die verskeidenheid en krag van sy ritme nie, terwyl Guy Butler op 'n keer gesê het hy beoefen ‘a bold sweeping transcontinental line’. Nie een van sy Afrikaanse kritici has ever stressed the real poetic value of some of my free verse, or how constant an oscillation between a free form and a much stricter, more orthodox form (in which I've written some excellent poems) is not only one of my most important characteristics but a sure proof of my technical capacities. Nie een kritikus het the faintest suspicion of the sound value of my poems....That music which - as I always say - goes echoing away beyond the frontiers of one's consciousness, is often tied up with the very sound itself of the poet's words when spoken aloud. In my bad | |
[pagina 471]
| |
poems my ‘sound’ is my weakness; but in my best poems it is perhaps my greatest strength. School children, any backveld audience can feel it, hear it, respond to it - that has been my experience and the experience of others time and again - but those damn pedants sitting in their slippers in front of their huge ‘lessenaars’ are tone-, or stone-, or study-deaf to it. Die irritasie wat uit hierdie laaste opmerking spreek en die teleurstelling in die ontvangs van sy werk, lei in sy brief aan Eglington tot 'n uitbarsting: Yes, Charles, I don't think you can have any idea how tired, terribly tired, I have become of this everlasting nagging, niggling denigration of my work by our so-called critics....It just goes on and on and on...My Afrikaans critics underrate me while English-speaking S.A. always overrates me. En hy kan nie van die indruk loskom dat in albei gevalle politieke oortuigings 'n rol in die waardering speel nie. Die Engelse meen hy is ‘a Sap or a Commie’, terwyl die Afrikaners sy werk krities bejeën omdat hy van tyd tot tyd 'n stem van protes laat hoor. Ook in 'n brief van 17 Junie 1960 aan Geoffrey Long van die Natalse Universiteit kla Krige oor die geringskatting van sy werk sedert hy met die uitbreek van die oorlog in 1939 uitgekom het ‘as an anti-Nazi and so also as an anti-Nationalist’. In die artikel oor die Afrikaanse drama deur Ludwig Binge, wat Die Burger in 1960 in 'n spesiale bylaag oor Uniewording publiseer,Ga naar eind20. word sy naam nie eens genoem nie. Ook in die artikel oor die prosa van die voorafgaande vyftig jaar deur Ernst van Heerden ontbreek sy naam. Vir Grové, wat die stuk oor die poësie lewer, kon hy maar net sowel nie bestaan het nie.Ga naar eind21. En in die vierde artikel, die geheeloorsig deur W.E.G. Louw, was hy weer 'n vergete man. Gerhard J. Beukes, wat in 1952 die Hertzogprys vir Drama met W.A. de Klerk gedeel het in 'n stadium dat dit aan Krige moes toekom, kon in sy doktorale proefskrif oor Die moderne eenbedryf in 1947 nie uitgepraat raak oor die besware teen eenbedrywe soos Alle paaie gaan na Rome en Die sluipskutter nie. Tog huiwer Beukes nie om by herhaling in die vyftiger- en sestigerjare te kom bakhandjie staan en van Uys se eenbedrywe vir die menigvuldige bundels vir skoolgebruik op te neem nie, 'n bedrywigheid waar- | |
[pagina 472]
| |
mee hy lekker geld verdien. Telkens moet Krige egter dinge verander wat die skoolkinders kan skaad en die bundel vir die voorskryfmark kan laat sneuwel! In Die arrestasie skrap Beukes drie dinge: ‘God, kind, bly stil’; mevrou Elberts se ‘helkat’ word ‘heks der heksen’; en ‘verdomme’ word verander na ‘vervlaks’. In 'n brief van 9 Mei 1963 vra Beukes hom om in Alle paaie gaan na Rome, wat hy vir Woord en masker beloof het, tog alles te verwyder ‘waarteen ons preutse voorskrywende liggame en sommige onderwysers beswaar kan hê’. Insluiting van dergelike dinge kan ‘die hele keurbundel verongeluk’. Die inskiklike Krige laat hom al hierdie dinge en Beukes se smousery welgeval! Hoewel heelparty resensente gunstig te spreke was oor Krige se drama Die goue kring, het die lof van kritici met groter aansien ontbreek en het hy eers veel later erkenning gekry vir die besondere wyse waarop hy hier 'n simbiose van verskillende dramatiese tradisies bereik. Ook die heruitgawe van Kentering en Rooidag, waaraan hy in 1953 in Parys gewerk het en wat hy in 1961 as Gedigte 1927-1940 publiseer, kry vir hom nie genoegsame aandag van die kritiek nie, ten spyte van die indringende wyse waarop hy sy ou verse hersien en met kundige besnoeiing en die wegwerk van swak kolle verbeter. In dié geval kan 'n mens darem teenwerp dat Ernst van Heerden en Antonissen met groot waardering oor sy hersiening geskryf het. Antonissen noem Krige trouens na aanleiding van dié ‘deurtastende hersiening’Ga naar eind22. in dieselfde asem as die Nederlander Martinus Nijhoff. Krige was egter uiters teleurgesteld toe die tweede en drasties gewysigde uitgawe van P.J. Nienaber se Perspektief en profiel in 1960 verskyn. In die plek van Charles Eglington se gunstige bydrae oor hom, wat van insig en aanvoeling vir sy werk getuig, skryf Miep Nienaber-Luitingh 'n liefdelose profiel waarin sy uiters krities teenoor sy hele oeuvre staan en weinig waardering vir selfs sy beste werk openbaar. Krige het dit as 'n komplot van die familie Nienaber teen hom geïnterpreteer en P.J. Nienaber se aktiwiteit by die Akademie en sy voortdurende bloemlesery van toe af met argwaan bejeën. Maar lank kon die mensliewende Krige nie kwaad bly nie. Toe hy in die sestigerjare deur die Departement Engels aan die Universiteit van Natal uitgenooi word om 'n hele reeks lesings te kom lewer, was Gawie Nienaber, saam met sy broer Stoffel en sy skoonsuster Miep, gou by om Uys ook voor hulle studente in Pietermaritzburg te laat optree. Gawie was die vriendelikheid self, Miep het van oor tot oor geglimlag en Stoffel het met 'n bandopnemer agter hom aan gehard- | |
[pagina 473]
| |
loop om sy elke woord op te neem. ‘En dan’, so vertel Uys later, ‘kan ek mos nie meer kwaad bly nie. Dan maak ek maar soos 'n ou bruin vrou vir my by geleentheid gesê het. Dan lag ek maar met my voortande en ek byt met my agtertande!’Ga naar eind23. Ten spyte van die negatiewe of lou reaksies het Krige met sy werk voortgegaan. 'n Digter in wie hy in dié jare geïnteresseerd raak, is die Brasiliaan Manuel Bandeira, oor wie hy in 1958 in Pietermaritzburg 'n lesing gee en uit wie se werk hy baie vertaal. Naas die poësie van die Fransman Jacques Prévert stel hy ook ander Brasiliaanse digters deur vertalings in tydskrifte bekend, soos Ronald de Carvalho, Jorge Carrera Andrade en Menotti del Picchia. Eugène N. Marais se ‘Die dans van die reën’ vertaal hy in Engels, maar met soveel uitbreidings en toevoegings in dieselfde idioom dat sy weergawe omtrent drie keer langer is as die oorspronklike! In 1960 verskyn Ballade van die groot begeer en ander gedigte, sy vyfde bundel oorspronklike verse. Die gedigte in dié bundel skryf hy binne 'n bestek van twee maande terwyl hy in 1957 by sy ouers op Onrust tuisgaan. Dit is 'n bundel waarmee hy wegswaai van die vrye vers van Die einde van die pad en Hart sonder hawe en by voorkeur gedigte in 'n balladeske en anekdotiese vorm met 'n vaster prosodie en rymskema skryf, meestal deur die Kaapse bruin mens met sy besondere taal- en spraakeie regstreeks aan die woord te stel. Die lang ‘Klopsdans’, waaroor F.I.J. van Rensburg hom later in sy monografie oor Krige gunstig uitlaat, is vir hom ingegee deur 'n reeks skilderye van die Kaapse klopse deur sy broer François. Wanneer ‘Vignette’ in Die Huisgenoot verskyn, volg 'n stroom briewe van verontwaardigde lesers wat teen woorde soos ‘pram’ en ‘tet’ beswaar maak en moet Krige in die uitgawe van 14 Februarie 1958 sy gebruik van dergelike woorde verdedig. In ‘Wieglied’, die woorde van 'n vader aan sy verwaarloosde, slapende seuntjie, word die sosiale problematiek iets skrynends deur die opstapelende verkleinings in rymvorm. In baie van die verse keer hy terug na die Franse balladevorm van François Villon, uit wie se werk hy vroeg in sy loopbaan ‘Ballade van die dames van weleer’ vertaal het, 'n vorm wat hy ook vroeg reeds in sy skitterende ‘Romanza’ aanwend. Volgens sy eie getuienis het hy by die skryf van ‘Ken jy die see...’, 'n gedig wat met sy refrein ‘Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur’ gou groot bekendheid verwerf en ook by die groot publiek ingang gevind het, nie spesifiek aan bruin mense gedink nie, maar aan alle vissers wat jaar na jaar as slagoffers deur die twee | |
[pagina 474]
| |
magtige oseane om die kwaai Kaapse kuste opgeëis word.Ga naar eind24. Wanneer hy in die sestigerjare in 'n radiopraatjie oor sy verse ‘Ken jy die see...’ voorlees, sê hy: 'n Paar jaar gelede lees ek 'n nuusberig in ons drie Kaapstadse koerante wat my diep tref. 'n Vissersboot het van Hermanus na Mosselbaai vertrek met 'n blanke skipper en nege of tien Kleurlingvissers aan boord. In 'n skielike storm in die oop see het die boot vergaan. Niemand het uitgekom nie. Ongeveer 'n week later was daar 'n begrafnisplegtigheid in die Hermanushawe. 'n Aantal blomkranse is op die see gewerp. Voor die boot se mas (al wat daar van die boot uitgespoel het) wat die vissers as 'n soort kruis in die hawe opgestel het, het hulle en die naasbestaandes bymekaar gekom. Na 'n gesang gesing is, het die Kleurlinglekeprediker ‘Ken jy die see, Meneer?’ gelees. Die reaksie wat die publikasie van Ballade van die groot begeer by sommige kritici ontlok het, was vir die digter uiters teleurstellend, al het Rob Antonissen in Standpunte 'n indringende en deeglike bespreking daaraan gewy en daarmee sy posisie bevestig as die kritikus wat die gevoeligste op die Krige-oeuvre reageer. In sy bespreking sê Antonissen dat terwyl Krige vroeër sy rymvirtuositeit veral as draer van sy himniese en elegiese stemminge ingespan het, hy dit in Ballade van die groot begeer in die teken van 'n satiriese anekdotiek aanwend. Die lewensleed van die Kaapse bruin mense word ‘onvermydelik versny met pyn, skrynende leed, aanklag, 'n nouliks verhole sarkastiese bitterheid soms. In dié versnyding, die soms byna onmerkbare verglyding van die lustige deur die aandoenlike en die ironiese heen na die grimmige tot in die makabere toe, lê trouens die besondere aard en trefkrag van die mooistes onder hierdie soort gedigte.’Ga naar eind25. Hoewel hy kritiek het op onderdele, waardeer Antonissen die bestes onder hierdie verse, soos ‘Vishoring’, ‘Lied van Lappiesdorp’, ‘Loflied’, die titelvers en ‘Skietgebed van die skollie’. In die geheel gee die bundel vir hom 'n onvergeetlike beeld van ‘die Kaapse kleurling as lewende doring-in-die-oog en onwegsyferbare “enfant terrible” van die Westerse Suid-Afrika’.Ga naar eind26. | |
[pagina 475]
| |
Hierdie hoë lof staan in skrille kontras met Ernst Lindenberg se kort en yl resensie in Die Burger van 13 Januarie 1961 onder die opskrif ‘Krige se futlose verse’. Lindenberg vind dit nie voldoende om 'n bepaalde mensegroep in die letterkunde deur 'n paar tipiese taaleienaardighede voor te stel nie. Anders as in Blum se ‘Kaapse sonnette’ leef hierdie karakters nie vir hom nie, want dit bly steeds Krige se stem wat ons hoor, wat met gebruikmaking van toutologieë die bladsye vol rym. Om kleinmenslike patos weer te gee, sê Lindenberg, vereis meer as veteraangrappe en bruin mense wat banaliteite kwytraak. Die bundel word vir hom ontsier deur 'n ‘verswelgende woordevloed’ en ‘kan Krige se reputasie as digter slegs skaad’. Uys was kwaad en verontwaardig oor dié resensie, maar met sy lenige geveerdheid darem ook nie heeltemal teen die grond nie. ‘Man, ek hoor jy's baie besorgd oor my en my sieleheil’, skryf hy op 25 Januarie 1961 aan S. Ignatius Mocke. ‘Jy dink glo 'n resensie kan my kleinkry. Jy ken my nie - of jy ken nie hierdie ou Krigetjie soos hy tot 'n sekere wysheid of rypheid gevorder het in sy veertigerjare nie’. In 'n gesprek met die skrywer Braam de Vries en die uitgewer Gerry de Melker het Uys die naam ‘Lindenbergie Blindedwergie’ vir dié venynige kritikus gemunt. Braam en Gerry het hulle byna 'n boggeltjie gelag daaroor.Ga naar eind27. Maar ook wat vergoeding deur die SAUK vir uitsendings van sy stukke betref, voel Krige hom benadeel, al meen hy dat hy eerder 'n ‘geldlammetjie’ as 'n ‘geldwolf’ is! In 'n brief van 7 Junie 1955 sê hy aan Thys van Lille van die SAUK dat hy vir Yerma slegs £8, vir Alle paaie gaan na Rome slegs £4 en vir Die ryk weduwee net £18.18.0 ontvang het, terwyl Opperman vir die uitsending van Periandros van Korinthe met £100 vergoed is. In sy antwoord wys Van Lille daarop dat Periandros van Korinthe 'n nuwe publikasie en 'n eerste uitsending was. Selfs as dít in ag geneem word, moet 'n mens geredelikerwyse met Krige akkoord gaan dat hy tereg oor die skamel vergoeding vir sy werk kon kla. En in 1956 bars 'n hewige en onverkwiklike polemiek in noordelike koerante los omdat Periandros van Korinthe en Die goue kring, werke van ‘twee skrywers uit die suide’, in Transvaal opgevoer word. André Huguenet moet namens die NTO Opperman en Krige verdedig en 'n nuwe opstuwende noord-suid-spanning besweer. Met die negatiewe gesindheid oor sy politieke oortuigings het die Suid-Afrikaaanse Akademie, selfs ná die debakel van 1952, uit sy | |
[pagina 476]
| |
pad gegaan om Krige se skeppende werk te ignoreer, al kon hulle sy belangrikheid as vertaler nie ignoreer nie. Ná die bekroning van Vir die luit en die kitaar met die Akademieprys vir Vertaalde Werk ontvang hy dié toekenning in 1956 ook vir Yerma. Vir die Hertzogprys kom kritiese prosa en essay in 1954 in aanmerking, maar geen toekenning word gemaak nie en Krige se werk word nie eens vermeld nie. In 1955, wanneer die poësie aan die beurt kom, is daar geen teruggryp na Krige se oeuvre nie. Wanneer die poësie in 1962 weer oorweeg word, bestaan die kommissie uit Grové (sameroeper), Ernst Lindenberg en F.I.J. van Rensburg. Boerneef se Krokos en Ghaap en kambro, Krige se Ballade van die groot begeer en ander gedigte en Gedigte 1927-1940 en Ernst van Heerden se Die klop word oorweeg. Na wik en weeg bly net Krige en Van Heerden oor, maar voel die lede van die kommissie dat Ballade van die groot begeer en Die klop alleen nie bekroning verdien nie. Lindenberg wou buite die bestek gaan en Peter Blum vir bekroning aanbeveel, maar in so 'n geval was Grové van mening dat 'n hele reeks onbekroonde bundels dan in aanmerking moet kom. Van Rensburg was ten gunste van 'n bekroning van Krige, terwyl Grové vir 'n verdeling van die prys tussen Krige en Van Heerden was. Tydens 'n byeenkoms van die Fakulteitsraad wys van die lede daarop dat 'n verdeelde prys niemand tevrede stel nie. Omdat die kommissie nie 'n eenstemmige verslag kon bereik nie, word die aangeleentheid verwys na 'n breë kommissie om te bepaal of Van Heerden met Die klop of Krige met Ballade van die groot begeer en ander gedigte die Hertzogprys moes ontvang. Van die breë kommissie voel Hymne Weiss, Hertzog Venter en F.V. Lategan dat nie een van die twee bekroon moet word nie. G. Dekker en T.T. Cloete was ten gunste van die bekroning van Krige op grond van sy hele digterlike oeuvre, terwyl Audrey Blignault, C.J.M. Nienaber en Elize Botha hulle ten gunste van Die klop uitspreek. Op 'n vergadering van 7 September 1962 besluit die Fakulteitsraad ten gunste van die bekroning van Die klop, met inagneming van Van Heerden se vorige werk. Die Akademieraad keur dit goed.Ga naar eind28. Krige se beste werk was, selfs ná 'n verbeterde heruitgawe van sy eerste twee bundels, dus steeds nie goed genoeg vir die Akademie nie. Die doeninge van die Akademie en die verswyging van sy werk deur die kritici was egter aangeleenthede wat Krige, hoewel morrend en gefrustreerd, van hom kon afskud. Vroeg in die vyftigerjare het hy egter in 'n onbedagte oomblik 'n onbekookte uitgewerskontrak | |
[pagina 477]
| |
aangegaan wat hom baie probleme en hoofbrekings besorg het. Hoewel Van Schaik sy boeke redelik mooi versorg het en Sol y sombra vir hom met die jare 'n goeie inkomste gelewer het, was hy nie besonder gelukkig met die ou meneer Van Schaik se krenterige houding en suinigheid nie. Die Unie-Volkspers, wat 'n hele paar van sy boeke uitgegee het, was op sterwe na dood en aan die ontbind, en by die Nasionale Boekhandel het hy om ideologiese redes nie tuis gevoel nie. Omdat 'n paar van sy publikasies by die Unie-Volkspers deur die Afrikaanse Pers-Boekhandel oorgeneem is, het hy gemeen dat 'n verdere verbintenis met dié uitgewery vir hom voordelig kon wees. In Mei 1950 sluit hy dan ook 'n kontrak met die Afrikaanse Pers-Boekhandel waarvolgens sy werk in Afrikaans uitsluitlik deur dié uitgewery gepubliseer sal word en dat hy geen manuskripte aan ander uitgewerye sal afstaan nie. Terwyl die kontrak in werking is, moet hy elke Desember en Junie van elke jaar manuskripte inlewer. As 'n voorskot op outeursaandele onderneem die uitgewers om 'n maandelikse bedrag van £40 aan Krige te betaal en om hom met 'n outeursaandeel van 15% op die vasgestelde kleinhandelspryse, minus die gebruiklike 20% handelsafslag, te vergoed. Met die maandelikse toelaag van £40 het Krige gemeen dat hy uit sy periodieke geldnood verlos sou wees en dat die kontrak hom sal inspireer om harder te werk. Hy het egter nie geweet dat hy nou met 'n maatskappy te make het wat nie in alle opsigte eerbaar teenoor hulle skrywers was nie en wat beman word deur mense aan wie 'n sekere behendigheid en sluheid op finansiële terrein nie vreemd was nie. Sarel Marais, hoof van die uitgewery, was 'n kleinsielige en geniepsige man wat homself wou verryk. Toe Topsy Smith met die eerste ses manuskripte van sy later baie gewilde Trompie-reeks by hom aankom, het hy dit net so 'n kyk gegee en gesê die ‘goed’ sal glad nie verkoop nie. Om hom ‘tegemoet’ te kom, het Marais egter ‘grootmoedig’ voorgestel om Smith £100 stuk te betaal, in ruil waarvoor Smith dan van die tantième en outeursreg moet afsien en dit aan Marais oordra. Smith het in die valstrik geloop en Marais het van die gewilde Trompie-boeke duisende laat druk en die wins in sy eie sak gesteek! Verder het Marais naby die Velskoen-inryteater 'n huis laat oprig en die swart werkers van die APB wederregtelik ingespan om soggens met die bouwerk te gaan help. Hy het dit ook so bewimpel dat sy persoonlike slagter in Linden alle vleis vir die onthale van die APB lewer, in ruil waarvoor hy dan gratis vleis van die slagter | |
[pagina 478]
| |
sou ontvang. Omdat Marais toe begin het om Saterdagaande groot vleisbraaie vir sy vriende aan te bied, was die slagter verplig om sy rekeninge vir die APB buitengewoon te laai en 'n pond wors ver bo die normale prys te bereken ten einde nie op die transaksie te verloor nie!Ga naar eind29. Dit was korrupsie van die ergste graad en dit was die kaliber mens met wie Krige nou te make gekry het. Telkens skryf Marais uiters onvriendelike en aanmatigende briewe aan Krige. Op 10 Augustus 1950 waarsku hy hom dat die manuskrip van Ver in die wêreld... volgens kontrak reeds op 30 Julie ingelewer moes gewees het. ‘As jou manuskrip nie onmiddellik opdaag nie,’ dreig hy hom, ‘sal jy die einde van hierdie maand verniet uitsien na die tjekkie.’ As Krige kla oor die landkaart-omslag van Ver in die wêreld ..., die vier of vyf steurende drukfoute in die flapteks, die feit dat 'n hele paar van François se tekeninge vir die uitgawe vaag afgedruk is en kritiek uitspreek op die lelike bruin papier waarmee Vir die luit en die kitaar begin en eindig, maak Marais dié werklik belangrike besware as niksseggendhede af. In 'n brief van 3 Februarie 1951 sê hy dat die ‘toon’ van Krige se brief ‘klaerig en ontevrede aandoen’ en dat dit 'n gees is waarin hy ‘dit moeilik vind om mee saam te werk’. Hy beveel hom feitlik om versigtig te loop: ‘Ek is groter as jy, oppas!’ Hy neem kennis dat Krige ‘erg ontevrede is met die uiterlike’ van Vir die luit en die kitaar, maar daar is ‘'n helse tekort aan papier’ en hy moet by publikasies altyd die ekonomiese aspek in gedagte hou. In elk geval het hy een troos: die inhoud vergoed vir die uiterlike! Aangesien Krige volgens hom nie by die sperdatums van hulle ooreenkoms hou nie en alles daarop dui dat hulle kontrak hom ‘opdreun’, kom Marais nou met 'n voorstel wat in werklikheid op 'n eensydige opheffing van hulle kontrak neerkom. Hy stel voor ‘dat ons die maandelikse voorskot na die einde van hierdie maand staak en jou voortaan £100 voorskot op elke manuskrip onmiddellik uitbetaal. ... Publikasie word nog ses maande na inhandiging gewaarborg en ons sal poog om elke ses maande 'n surplus aan jou uit te betaal eerder dan dat daar 'n opgehoopte voorskot moet bly. Ek dink die sakie sal vir jou en vir my beter pas.’ Ten spyte van hierdie wysiging gaan Krige nog voort om manuskripte aan Marais te lewer. Op 13 November 1951 pos hy die manuskrip van Die twee lampe. In 'n brief van 8 Januarie 1952 kla Marais oor die kragwoorde wat Krige in dié drama wil hê. ‘My magtig, kom | |
[pagina 479]
| |
wys vir my die toneelstuk, die rolprent, wat sulke kragwoorde sal duld. Maar jý wil dit hê. Die enigste hoop wat ons het om jou voorskotrekening ooit in te haal, is met voorskrywing. Wie anders koop sulke boeke? 'n Paar. Maar jy wil dit verongeluk met sulke bog argumente.’ Hy sê weer hy vind dit moeilik om met Krige saam te werk. ‘Jy eis altyd alles: beter terme, meer voorregte, die reg om die tegniese [hy bedoel tipografiese - JCK] aspekte van jou boek te bepaal.’ In 'n brief van 23 Januarie 1952 vra Marais dat Krige op die proewe van Die twee lampe alle veranderinge aanbring wat hy nodig ag. ‘Onthou, ons jeug moet rein gehou word, net die skoon en mooi dinge, die res is vir hulle uit die bose.’ In Maart 1952 vertrek Krige met die Klipfontein na Engeland. Op 2 Julie laat Marais hom weet dat die Hertzogprys vir Drama nie aan hom toegeken is nie. Marais meen Krige het sy eie prestige as skrywer geweldig geskaad deur sy onbedagsame deelname aan die politiek. ‘Jy, as denkende mens, wat die kuns dien, behoort tog te weet dat politiek, enige politiek, besoedelend is. Afgesien van reg of verkeerd, wil en moet jy tot alle seksies spreek.’ Met verwysing na die foto wat van Krige saam met Van der Post, Campbell, Paton en Enslin du Plessis in Londen geneem is waar hulle beswaar aanteken teen die Wetsontwerp op Aparte Kieserslyste wat bruin mense van stemreg sou beroof, vra Marais: ‘Waarom jy saam met die ander vier ... in Engeland daardie bl---- verklaring uitgereik het, val my moeilik te begryp. Die ander was Engelse skrywers, hulle dien die Engelse mark, maar jou geval is presies die teenoorgestelde. ... Nog dit: Ek kan niks daaraan doen as jy jou eie graf grawe nie, en ek wil nog die Afrikaanse Sap sien wat Afrikaanse boeke lees!’ En leedvermakerig sluit hy af: ‘Nouja, rus lekker, of liewer skryf lekker. Moet nou asseblief nie weer vir ons Suid-Afrikaners daar uit die buiteland vertel wat ons hier moet doen nie.’ In 'n brief van 24 April 1953 uit Parys voel Krige ontevrede oor die vertraging met die publikasie van Die ryk weduwee. Hy sê hy het herhaaldelik gevra dat die boek voor of tydens die NTO-opvoering van die stuk gepubliseer moes word. Die manuskrip is in die laaste week van Maart 1952 aan die APB gestuur en sy kontrak bepaal dat elke manuskrip binne ses maande gepubliseer moet word. Dit is nou reeds dertien maande dat die manuskrip by die uitgewers is en daar is steeds geen teken van proewe nie. Die NTO het aangekondig die opvoering van die stuk is hul grootste sukses sedert hul oprigting | |
[pagina 480]
| |
in 1947, en deur die vertraging berokken die APB nou groot finansiële skade aan hom. Hy voeg by: ‘Ek wil jou ook daaraan herinner dat ek eenkeer toe ek ongeveer 8 of 9 dae laat was met 'n manuskrip, jy my 'n brutale brief geskryf het wat my drie weke lank so omgekrap het dat ek geen steek werk kon verrig nie.’ In twee verdere briewe uit die vyftigerjare kla Krige oor wanbetalings en dat hy nie vir opnames in bloemlesings vergoed word nie. Dit laat Marais op 20 Oktober 1955 uitbars: ‘Kyk ek is moeg om siviel belaster te word as 'n bedrieër en iemand wat geld wederregtelik van jou weerhou. Ek wil 'n einde daaraan maak en my goeie naam skoonmaak van hierdie klad so vryelik deur jou verkondig. ... Laat my asseblief ook toe om jou verder reg te help: Jou saak is nie 'n saak vir 'n prokureur nie, maar wel vir die polisie - net soos myne om my te beskerm teen siviele laster. ... Gaan asseblief dadelik en lê jou klag, sodat die polisie kan optree. Ek wag daarop!’ Hierdie brutale brief bring Krige uiteindelik daartoe om die prokureursfirma Bisset, Boehmke & McBlain opdrag te gee om namens hom ontbrekende uitbetalings in te vorder. In sy antwoord aan die prokureurs word Marais nou so mak soos 'n lammetjie en word verdere skulde, ná kontrolering van state, wel aan Krige betaal. In verband met die bloemlesings vertel hy egter verontskuldigend die leuen dat dié aangeleentheid tussen Krige en die bloemleser, P.J. Nienaber, gereël moet word en hulle nie raak nie - ‘self het ons eintlik geen belang by die vergoeding nie - die outeursaandeel word deur ons uitbetaal en hoe dit tussen samesteller en bydraers verdeel word, is nie juis ons saak nie’. Die verdere briewe van Marais aan Krige is hoflik maar saaklik. Teen dié tyd het Krige egter gevoel dit is die hoogste tyd dat hy van die kontrak met die APB loskom. Intussen het die ondernemende Nederlandse uitgewer A.A. Balkema hom in Kaapstad gevestig en met sy mooi versorgde uitgawes die tipografiese gehalte van Afrikaanse boeke geweldig opgestoot. Daarom lewer Krige die manuskripte van Die goue kring en Ballade van die groot begeer en ander gedigte aan Balkema, wat albei boeke pragtig uitgee, in die geval van Die goue kring saam met sfeervolle tekeninge van François Krige. Toe J.J. Human, wat vroeër aan die Nasionale Boekhandel verbonde was, in 1958 kortstondig as bestuurder by die APB werksaam was, het hy gemerk dat die Krige-leggers, soos dié van baie ander outeurs van dié firma, 'n deurmekaarspul was en dat Krige geldelik deur gebrek | |
[pagina 481]
| |
aan uitbetalings geweldig ingeloop is. Uit dié tyd dateer Human se eerste ontmoeting met Krige, wat in dié stadium hoegenaamd nie kans gesien het om iets met die APB te make te hê nie.Ga naar eind30. Self het Human ná minder as 'n jaar gevoel dat hy vir die behoud van geestesgesondheid so gou moontlik van dié firma moes wegkom. In 1959 stig hy saam met Leon Rousseau die firma Human & Rousseau, wat later deur oornames en nuwe publikasies 'n goeie verhouding met Krige sou opbou. In Kaapstad maak Krige kennis met Gerry de Melker en later ook John Malherbe, wat agtereenvolgens hoofbestuurders van HAUM was en by wie Sout van die aarde, Éluard en die Surrealisme, The sniper and other one-act plays en Yerma sou verskyn. Vir John Malherbe, wat soos hy ook in die oorlog was en wat later sy eie uitgewery sou begin, lewer Krige die sketse en verhale wat in 1965 in Rooi opgeneem word. Tussen al die ellendes en verontregtings deur was daar vir Krige in die vyftigerjare darem ook heelparty ligpunte. In 1958 lewer hy met groot sukses in Durban en Pietermaritzburg omtrent 'n dosyn lesings, waarvan hy sommige in Johannesburg herhaal. Die jongmense reageer entoesiasties op sy bruisende geesdrif. Daarna gaan hy na Kaapstad vir die repetisies van Die goue kring en behartig self die opvoering van die Engelse vertaling van Die grootkanonne vir die winterskool van die Universiteit van Kaapstad. Die grootste vreugde wat hy in dié jare beleef, is die eredoktoraat in die letterkunde wat op 29 Maart 1958 deur die Universiteit van Natal aan hom toegeken word. By dié geleentheid wys prof. S.F. Bush, die ‘University Orator’, in sy lofspraak op die ‘flexible, lucid quality’ van Krige se Afrikaans, ‘full of the energy and ebullience of his nature’. In sy werk, sowel in sy gedigte en kortverhale as in sy sketse en dramas, ‘has gone the experience of a cosmopolitan who is nevertheless South African to the marrow’. Krige ‘uses free verse with remarkable skill, maintaining a double rhythm, the bass expressing the total movement of thought in the poem, the treble imitating (in Aristotle's sense) the detailed content, both rhythms being intrinsic to the meaning’. Aangesien daar 'n sterk verwantskap tussen literatuur en lewe by Krige bestaan, is dit in 'n waardebepaling van sy werk van pas ‘that his own ardent and generous personality should be mentioned ..., for it forms an essential part of his literary value. His work and his personality have undoubtedly exerted a liberating and invigorating influence upon South African literature. ... It is difficult | |
[pagina 482]
| |
to measure the full influence of a mind which expresses itself so much through speech both formal and impromptu, as well as through the printed word; but there can be no doubt of the great stimulus that he has given to many writers and readers, and to the development of a distinctively South African literature.’ Die gedagte van 'n eredoktoraat vir Krige deur die Universiteit van Natal is nie geïnisieer deur die dosente van Afrikaans en Nederlands nie, maar deur prof. Geoffrey Durrant en ander lede van die Engels-departement, met die heelhartige steun van die visekanselier, dr. E.G. Malherbe. Vir Krige was dit, ná die debakel met die Hertzogprys vir drama in 1952 en Opperman se invloedejag in Digters van Dertig, die tipe aanmoediging wat hy in dié stadium van sy lewe nodig gehad het. Dit sou sewentien jaar neem voordat sy eie alma mater, die Universiteit van Stellenbosch, hom op soortgelyke wyse sou vereer. | |
IIIIn die vyftigerjare het Uys se ouers ná sy vader se aftrede op Bethlehem in Claremont gewoon, maar dikwels ook vir langer of korter periodes na Onrust gegaan. Met uitsondering van Bokkie in Pretoria was al sy broers en susters in Kaapstadse woonwyke gevestig. Naas die versorging van Uys se brieweboeke was Bokkie besig met die vertaling van Antoine de Saint-Exupéry se Terre des hommes wie se Vol de nuit hy in die dertigerjare as Nagvlug gepubliseer het. Die vertaling het egter baie jare in beslag geneem en verskyn eers in 1980 as Pioniers van die wolke. Deur sy ongelukkige huwelik het hy met die jare al hoe stiller geword, in 'n strooipop vir sy verbitterde vrou verander en later deur verkalking van die are deurmekaar begin praat. Arnold was ná sy egskeiding in die veertigerjare getroud met Vera Langy van die Paarl en suksesvol in die sakewêreld. Mizzi het in die huwelik getree met die medikus Will-frid Baumann, van tyd tot tyd oor die radio toneel gespeel en ook kleiner rolle op die verhoog vertolk, terwyl Suzanne, ná 'n loopbaan in die joernalistiek, getroud is met die argitek Revel Fox. Al drie hulle kinders sou later in die rigting van die kuns en literatuur presteer: Revel (junior) as filmregisseur, Grethe as talentvolle toneelspeelster en filmaktrise, en Justin, soos sy oom Bokkie ook 'n Rhodes-student, wat 'n doktoraat in die Engelse literatuur aan Oxford verwerf en The life and art of François Krige (2000) | |
[pagina 483]
| |
skryf. Ná sy eerste mislukte huwelik is François in 1967 getroud met Sylvia Shear, 'n Vrystater van Joodse afstamming. Van tyd tot tyd het hy in Botswana en in die berge, selfs op 'n keer in die Himalaja, gaan stap en hom in 'n ou historiese huis op Montagu gevestig, waar hy verkies het om op die agtergrond te bly en hom aan sy kuns te wy.Ga naar eind31. As skilder was hy, soos sy susterskind Justin Fox opmerk, an artist of poetic reserve, of exceptional draughtsmanship, and a colourist comparable with the Post-Impressionists. His subject matter remained that of the late nineteenth century: still-lifes, portraits, landscapes and figure studies. But he is not simply a South African Post-Impressionist and no label fits entirely comfortably or consistently and none should be imposed. He was influenced by many styles and traces of artists ... But ... it is a personal vision that comes through; an honest, hard-earned ‘take’ on the world, a private relationship with paint, brush and canvass that makes a Krige work unmistakable.Ga naar eind32. Anders as die sosiale en flambojante Uys, wat voortdurend in die kalklig was, het François verkies om 'n soort askeet te wees, stil en teruggetrokke, al kon hy soms onderhoudend praat wanneer dit nie oor homself en sy werk gegaan het nie. Met al sy broers en susters het Uys 'n goeie verhouding gehad en hy het graag by sy ouers aan huis gekom, waar sy vader stil eenkant met die koerant gesit het en waar sy moeder met haar verhale of musiek besig was. Op 14 Januarie 1961 is Japie Krige, reeds 'n tyd lank afgetakel en ylend, op twee en tagtigjarige leeftyd in sy huis in die Tuine oorlede. Hoewel al die gesinslede deur sy dood geraak is, was hy reeds 'n bejaarde man en is die verlies oorskadu deurdat kanker kort ná sy afsterwe by Mizzi gediagnoseer is. Sy is geopereer, maar die siekte was reeds ver verspreid en het 'n vinnige verloop gehad. Op 10 Oktober 1961 is sy op vier en veertigjarige leeftyd oorlede. In 'n brief van 16 Oktober betuig Audrey Blignault haar meegevoel met Uys en met al die hartseer wat hom al getref het. Mizzi, gaan sy voort, was vir my so mooi, so vol lewe, so kleurryk. Eendag loop ek haar op 'n kunsuitstalling raak. Sy lyk so pragtig met 'n rooi hoed op. Ek sê vir haar: ‘Mizzi, jy is een van die vroue wat nooit oud sal | |
[pagina 484]
| |
word nie. Jy sal altyd jonk bly, want daar is 'n onvernietigbare skoonheid in jou.’ Ek dink so dikwels aan jou mooi vertaling van Machado se gedig: Sterwe is: diep in ons slaap, ons droom, skuil daar 'n blom
van kleure, geure en bloeisels, onvergelyklik.
Dan, op 'n dag wat voor ons blik
daag sonder daeraad, buig ons verwonderd, pluk ons hom.
Dit bly vir my een van die wonderlikste beelde in die hele gebied van die letterkunde. Vir Uys was Mizzi se dood 'n gevoelige verlies, want hy was besonder geheg aan dié mooi en sprankelende suster van hom. Ná haar dood het Uys se maag- en kolonprobleme, waarvan hy reeds in 1953 in Spanje begin las kry het, verder toegeneem. Waarskynlik was dit psigosomaties, want 'n tyd lank het hy hom verbeel dat hy dieselfde weg as Mizzi sou gaan. Aan sy vriend David Lytton skryf hy: I can honestly say that ever since my father's death in January I did not know a single day without anguish and acute mental suffering. We had to keep the nature of Mizzi's sickness from mother and our other sister as long as it was humanly possible - and that, too, was an awful strain. Yet the manner of Mizzi's death was the only consolation in all this misery. Instead of asking for comfort, she comforted us. She went out like a beautiful ship on a calm blue sea on a sunny spring day. My last two conversations with her was the most moving experience of my life. In die laaste gedig in sy bundel Vooraand, ‘Dat jy vir my kan sê ...’, huldig hy Mizzi:
Ek sal jou sê, ek sal jou sê
hoe ver die liefde lê ...
Nie ver, glad nie so ver
nie as die môrester.
| |
[pagina 485]
| |
Nie op die grense van die aarde,
maar nader aan ons haarde.
Nie anderkant die seë,
nader, nader geleë.
Nie anderkant die berge,
maar hier op eie erwe.
Nie oorkant daardie rand,
maar hier, byderhand.
Hier in dié sagte soete
groen kweekgras aan ons voete.
Hier onder hierdie grond
met stof, stof in jou mond.
Hier, suster, in die kilte
van jou ewige stilte.
Het ek dit nou gesê
hoe ver die liefde lê?Ga naar eind33.
Nog vóór die dood van Mizzi was Uys só uitgelewer aan sy maag en kolon dat hy in Augustus 1957 vir toetse in die Groote Schuurhospitaal opgeneem word. Behalwe 'n spastiese kolon en 'n dreigende maagseer kon die dokters egter niks verder met hom verkeerd vind nie. Die probleme met die kolon verskaf hom egter baie ongemak. Aan David Lytton skryf hy: ‘I find my colon a continual discomfort and a great energy robber. I'm sick to death of it. I want to put a fullstop to my bloody colon; but my colon seems to be a recurring Jezebel in disguise’, 'n aanduiding dat hy, ten spyte van die ellende, nie sy humorsin verloor het nie. Uys kry dit trouens reg om gou in die hospitaal te akklimatiseer, met al wat leef en beef in beddens te gesels en sy verpleging en verblyf intens te geniet. Aan 'n vriendinGa naar eind34. skryf hy dat hy in die oggend, wanneer die ligte om vyfuur aankom, rondloop om tee en koffie vir al die pasiënte te neem, ‘wisecracking all the time’. Daar is van sy medepasiënte wat hom intens interesseer, soos | |
[pagina 486]
| |
the old Norwegian sea-captain with a massive head as if chiselled out of rock who can't sleep a wink and marches around the ward all night, ‘supervising things’ and who, when he eventually dozes off, lies on his bed in a ponderous hunched up attitude face down as if even in sleep he is still powerfully and obstinately protesting against the whole stupid process of sleeping; who was torpedoed three times in the First World War and who reminds you, most of the time, of an old Viking, with a deep, almost unintelligible voice and great strong gnarled hands. Daar is ook die vyf en sewentigjarige oom Apie wat 'n ‘sweetheart’ van negentien het. Sy seuns en kleinseuns meen sy is net agter sy geld aan. Eintlik dink hy self ook so, maar vir Uys vertel hy sy is darem so 'n ‘lekker, vet, klein ding’. Hy droom voortdurend van dié liefding van hom. Maar, voeg hy by, miskien is dit nie soveel van haar as mens dat hy hou nie as dat haar ‘klein skilpadjie’ soveel bekoring vir hom het. Dit is 'n uitspraak wat vir Uys, altyd bedag op 'n besondere gebruik van 'n woord, veel vreugde verskaf. Maar die spanning en siekte waaraan Uys in hierdie jare onderwerp is, kan ook teruggevoer word na die steeds verslegtende verhouding tussen hom en Lydia. Vir haar werk as aktrise ontvang Lydia in 1956 'n toekenning van die Drie-Eeue-Stigting en met die inwyding van die Bellvillese Burgersentrum in Junie 1957 speel sy die rol van Agrippina in die eerste produksie van Van Wyk Louw se Germanicus. Dit was ook die laaste rol wat sy in Afrikaans vertolk het. Kort daarna besluit sy finaal om weg te gaan van Uys en Kaapstad vir goed te verlaat. Reeds op 16 Augustus 1956 skryf sy aan Uys dat sy dié oggend aan Tai vertel het dat hulle gaan skei. Hy was ontsteld, maar getroos toe Lydia aan hom sê dat sy pa baie vir hulle sal kom kuier. ‘Eulalia’, voeg sy by, ‘is, soos altyd, so stil soos die graf - sy sê niks nie!’ Uit haar hele brief blyk dit dat Lydia steeds 'n groot liefde vir Uys koester, maar dat die praktiese lewe saam met hom vir haar onhoudbaar geword het. Hoewel Sannie Uys begrip gehad het vir Lydia se probleme, was haar simpatie tog by haar lieflingseun en die moeilike alleenlewe wat daar nou vir hom voorgelê het. Reeds in 1948 moes sy hoor dat Lydia en Uys nie kan saamleef nie. ‘Dit is beter’, skryf sy in Augustus 1956 aan Uys, ‘dat daar 'n einde aan kom. Dit is een van die aakligste dinge in die wêreld vir 'n man om gedurig deur 'n vrou verneder te word. In so 'n huisgesin kan die kinders | |
[pagina 487]
| |
geen respek vir die vader hê nie.’ Sy praat ook van die gedurige ‘vretende gekanker oor geld’. Uys, wat teen dié tyd reeds 'n ruk lank by sy ouers gewoon het, wou dit eers nie glo dat Lydia hom nou werklik gaan verlaat nie. Hy het nog altyd, teen sy beterwete in, gemeen dat hulle huwelik kon slaag. Hy was egter wars van die burgerlike aspek van die huwelik, die vreeslik swaartillende vrou en die kinders wat beskerming vereis. Niks kon van hom 'n geslaagde pater familias maak nie, al was hy as kuddemens geheg aan sy familie en gesin en die mate van gebondenheid wat dit aan hom as swerwer verleen het. Maar die verantwoordelikhede van 'n huwelik en die verskille tussen hom en Lydia was te veel. Meer as dertig jaar tevore kon hy skryf: Maar die hart ken sy verdriet
oral, in elk landgebied,
in Kaapstad sowel as in Madrid.Ga naar eind35.
Nou het hy die gevoel van mislukking en dat hy as mens in 'n verhouding gefaal het, intens ervaar en kon hy weer vra: ‘Wat kan ek van die daeraad verwag?’Ga naar eind36. Tog duur dit tot 1958 voordat Uys sover kom om met 'n egskeiding te begin. Op 3 Junie 1958 word Lydia op grond van kwaadwillige verlating gedagvaar en herstel van huweliksregte geëis. By gebrek daaraan sal 'n egskeiding toegestaan word. Sy verkry die toesig en voogdyskap oor die twee minderjarige kinders uit die huwelik, terwyl Uys vir die onderhoud van £18 per maand vir Taillefer tot die ouderdom van agtien jaar verantwoordelik sal wees. Die huwelik word finaal op 20 Junie 1958 ontbind. Op 8 Augustus 1958 is Lydia getroud met John Mantel, hulle eertydse buurman in Johannesburg, wat sy vrou twee jaar tevore verloor het. Steeds het Lydia toneelaanbiedings gekry, maar meestal het daar dinge voorgeval of die rol het haar nie geboei nie. Stilletjies het sy van die toneel verdwyn en haar daarmee getroos dat 'n gelukkige huwelik op die lange duur belangriker is as 'n kortstondige sukses op die verhoog.Ga naar eind37. Hoewel die egskeiding 'n lang nawerking by Uys gehad het, was daar geen kwade gevoelens van sy kant teen John Mantel nie. Hulle het goeie vriende gebly. Uys was steeds soos altyd gek na familie en het altyd, wanneer hy iemand ontmoet, probeer vasstel of hulle nie | |
[pagina 488]
| |
êrens verwant is nie. Op 'n aand word hy op 'n partytjie voorgestel aan 'n tante van John. ‘Mevrou Mantel?’ vra Uys. ‘Dan is ons seker familie, want John Mantel is met my vrou getroud.’Ga naar eind38. | |
IVOp 1 September 1958 betrek Uys en die skrywer Jack Cope, vir wie hy teen dié tyd goed leer ken het, een van die houthuisies in Clifton. Uys keer dus terug na die strandoord waar hy en Lydia ook 'n tyd lank in die dertigerjare voor hulle verhuising na Johannesburg gewoon het. Vir Jack as skrywer het Uys reeds groot waardering gehad. Hy was beïndruk deur sy vriend se eerste drie romans: sy vertellende gawe, sy subtiele en sensitiewe prosa, die insig in die Zoeloes, onder wie hy grootgeword het, en sy intieme kennis van 'n groot verskeidenheid Suid-Afrikaanse tipes, hul gewoontes, gebruike en karaktereienskappe. Dit is egter op die gebied van die kortverhaal dat Cope vir Krige sy beste werk lewer. In 'n aanbeveling vir 'n beurs wat hy in dié jare vir Jack skryf, sê hy: ‘His first book of stories, The Tame Ox, ... contains, in my opinion, some of the best short stories yet written by a South African. ... I have written at length elsewhere of the South African agony or nightmare. It has found for me one of its most poignant expressions in Jack Cope's story “The Little Missionary”, which is included in The Tame Ox.’ Die huis wat Uys en Jack saam in Clifton gekoop het, was Sea-Girt op Tweede Strand, waarin ook Van Wyk en Truida Louw hulle in November 1942 gevestig het en waar Louw naas baie opstelle die versdrama Germanicus, die hoorspel Dias en van die gedigte in Nuwe verse geskryf het. Om die huis te bereik, moes 'n mens met die sementtrappies langs die destydse Clifton Hotel afstap. Met sy groot vensters in die voorkamer het die huis 'n pragtige uitsig op die see gehad. In 'n brief aan Jan Greshoff skryf Van Wyk Louw: ‘As 'n mens in die voormiddag die vensters oopgooi, is dit eenvoudig asof jy langs die see in die skadu sit.’Ga naar eind39. Behalwe Van Wyk Louw het die skilder Le Roux Smith le Roux en die skrywers I.D. du Plessis, Abraham H. Jonker, Harry Bloom, Gerald Gordon en Mary Renault korter of langer tye aan die Clifton-strande gewoon. Dit het Uys oortuig dat daar iets in die atmosfeer - die skoon en suiwer lug - moet wees wat kunstenaars aantrek. Teenoor die joernalis Carl van Wyk, wat opgemerk | |
[pagina 489]
| |
het hoe pragtig wit die sand is, sê hy: ‘Ja, dis die enigste sand ter wêreld wat blou word teen die aand.’Ga naar eind40. Teen laatmiddag kon Uys dikwels lank met sy verkyker vanuit die voorkamer na 'n aankomende skip tuur en sy bewegings dophou. In Sea-Girt het Uys, soos sy gebruik steeds was, plat op sy maag in die bed gelê en skryf, met boeke en manuskripte orals om hom gestrooi. Elke dag kon hy drie maal in die yskoue branders van die koue Atlantiese Oseaan gaan swem, ongeag of dit somer of winter is en of die son skyn en of dit knopkieries reën. Voor ontbyt al was hy in die water, net om voor middagete weer see se kant toe te stap en ná sy middagslapie opnuut in die water te gaan opfris. Op die strand het hy gelê en skryf en met almal gesels wat saam met hom daar was, veral met die meisies in hulle bikini's wat die bruingebrande digter in sy swembroekie 'n aantreklike man gevind het: Hul bra'tjies is bra skraal, kan niemand stig
(hul kan so maklik, lyk dit, hier verlore raak)
hul broekies lig, ja, ligter as dié somerlig;
hul kon nie kaler wees was hul ook poedelnaak
- en die Apostels wat oor dié waters waak,
trek haastig 'n grys py oor hul gesig.Ga naar eind41.
Ook Uys was bekoor deur die nooiens in hul eina-kleertjies wat hulle kurwes en kontoere benadruk het, al was hy veel preutser as wat hulle ooit kon vermoed en was die jare in Clifton vir hom geensins 'n ongebreidelde oorgawe aan die sensuele nie. Meestal kon dié skoonhede in hul bra'tjies en broekies nie verder kom as om sy kop, wat vinnig besig was om pan te word, te streel nie. In hierdie jare behou Uys kontak met van sy ou vriende. Met Roy Campbell in Portugal was hy steeds in aanraking, maar op 23 April 1957, nog voordat Uys hom in Clifton vestig, sterf Roy in 'n motorongeluk. Hy ervaar Roy se dood as 'n groot persoonlike verlies, lewer verskeie huldeblyke en lesings oor sy gestorwe vriend en publiseer in 1960 by Maskew Miller 'n bloemlesing getiteld Poems of Roy Campbell, met 'n kundige inleiding.Ga naar eind42. Kort ná Roy se dood skryf hy aan Mary Campbell, wat ook in die ongeluk beseer is maar volkome herstel het: | |
[pagina 490]
| |
All that Roy had meant to me and still means to me - his generosity, big heartedness, courage for life, his constant encouragement and help and guidance, the example and inspiration he had been to me for so many years, how he had been dedicated to his great task of being the fine poet that he was, his gaiety, wit, humour, love of life and human beings, the sheer bigness of him - all these things and many other things besides, came back so vividly and acutely to me, it was as if something physical had been torn from my body (I was ill for a week after Roy's death - with acute stomach aches and cramps). Ná die jare in Amsterdam is Van Wyk Louw as hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg aangestel, waar C.M. van den Heever, wat saam met Haarhoff met die publikasie van Kentering behulpsaam was, intussen oorlede is. As gevolg van die groot afstand tussen Kaapstad en Johannesburg sien Uys en Van Wyk mekaar in dié jare minder. Opperman, wat aanvanklik in Drieankerbaai en later in Tamboerskloof woon, besoek hy egter van tyd tot tyd, maar Opperman was in dié jare skeppend baie aktief en kon nie altyd die tyd inruim om met Uys te gesels nie. Wanneer Uys by tye met een van sy lang telefoongesprekke besig was, het Opperman soms die gehoorbuis neergesit, in die tuin 'n draai gaan gooi, net om by sy terugkeer te hoor Uys is nog altyd aan die praat! Vir Guy Butler, wat intussen professor in Engels aan die Rhodes-Universiteit op Grahamstad geword het, sien hy gereeld wanneer Butler vir die Departement Engels aan die Universiteit van Kaapstad as eksterne eksaminator optree of in die somervakansies die stad besoek. Jan Rabie was intussen terug in Suid-Afrika en getroud met Marjorie Wallace. Hulle het in Cheviot Place 6, Groenpunt, gewoon en die huis gedeel met die kunstenaar Erik Laubscher en sy Franse vrou, Claude Bouscharain, wat ook geskilder het.Ga naar eind44. Jan-hulle se huis was gou 'n bymekaarkomplek vir kunstenaars, skrywers, politieke dissidente en boheme, soos Jobst Grapow, Kenny Parker, Richard Rive en die jong | |
[pagina 491]
| |
Breyten Breytenbach, wat kunsstudent aan die Universiteit van Kaapstad was en 'n woonstel met sy vriendin Leentjie in Langstraat gedeel het. Van die Kaapse kring was Uys die enigste wat Breyten konsekwent as Breytie aangespreek het. Uys leer ook ander nuwe vriende ken. Hy ontmoet Peter Blum, wat met Steenbok tot poolsee en Enklaves van die lig 'n groot impak as digter maak, al was hy as gevolg van die gewaande ‘dekadente’ strekking van sommige verse in onguns by sommige, veral noordelike, literêre kringe. Van tyd tot tyd stuur Blum hom van sy nuwe verse, maar Uys is nie so beïndruk deur hulle nie en hou net van die ‘Kaapse sonnette’. Dit ontlok van Blum, wat krities staan teenoor Krige se digterskap en ‘digters met 'n fermer geestelike greep’ verkies, die reaksie dat die ‘Kaapse sonnette’ eintlik 'n maklike soort ding is om te skryf. Mense wat daardeur beïndruk word, hou meestal nie van sy belangriker en ernstiger werk nie. Wat hy in Uys se werk mis, is ‘die sin vir geestelike ernstigheid: die besef dat 'n mens terselfdertyd moet dink én voel, en dat poëtiese taal 'n sekere konsentrasie verg’. Dit is juis so 'n denksubstraat en woordekonomie wat hy tevergeefs by Uys soek. Hulle ‘beginsels van komposisie verskil’. Dit mag wees dat Uys se beginsels in dié verband ‘ewe geldig’ kan wees as syne, maar, voeg hy uitdagend by, die ‘dominante Louw-Opperman-“lyn”’ in die Afrikaanse poësie gee hom gelyk. En as Uys hom laat weet hy werk aan 'n stuk of sewe boeke wat hy gou wil klaarmaak, het Blum, gedagtig aan die Krige-kwaal om ondernemings dikwels net voornemens en beloftes te laat bly, bedenkinge of dié werk ooit sal klaarkom. Die naam ‘Uys Krige’ is vir hom waarskynlik 'n pseudoniem vir 'n komitee van drie wat sekere boeke geskryf het ... Daardie sewe boeke oor twee maande klink soos een van die Take van Herkules: sal jy dit beweldig? En watter boeke as ek mag vra? Nuwes, of vertalings en heruitgawes en adaptasies van oues? Uys, Uys, jy het jou vasgeloop!Ga naar eind45. 'n Mens kan geredelik aanvaar dat Uys nie van dié treiterende geestigheid en Blum se minagting vir sy werk sou gehou het nie! Met ander nuwe vriende kom Uys beter oor die weg. Hy ontmoet Adam Small, wie se eerste bundel, Verse van die liefde, in hierdie tyd verskyn, en hou van die beskeie digter-filosoof wat swaar gebuk gaan onder die rigiede apartheidsbeleid. Hy kom egter eers onder die in- | |
[pagina 492]
| |
druk van Small se werk toe die bundel Kitaar my kruis in 1961 gepubliseer word. Die jong Breyten Breytenbach daag dikwels by Uys en Jack Cope in Clifton op. Later sou Cope hom in 'n brief aan Uys beskryf as ‘quite a talented boy, [who] paints with imagination and (hold tight) writes poems’. Met Ingrid Jonker, wie se debuutbundel, Ontvlugting, in 1956 verskyn het, was Uys gou goed bevriend. Sy was die dogter van die skrywer en politikus Abraham H. Jonker, met wie Uys in die dertigerjare by Die Suiderstem saamgewerk het, maar van wie hy nou as gevolg van Jonker se literêre en politieke bollemakiesies vervreemd was. Ook Ingrid het 'n gestremde verhouding met haar vader gehad en Uys was vir haar 'n soort vaderfiguur. Kort ná die verskyning van Ontvlugting is Ingrid getroud met Pieter Venter. Van tyd tot tyd het sy tikwerk vir Uys gedoen, terwyl hy vir haar Frans voorgelees, in die poësie van Éluard ingelei en haar eie verse streng krities bekyk het. Uys was nie baie beïndruk deur Ontvlugting nie, maar het onmiddellik haar talent raakgesien en haar aangemoedig om haar nuwe verse aan hom voor te lê. Besware het hy dan trompop aan haar genoem. Wanneer sy 'n vers aan hom wys, het hy haar dikwels aangeraai ‘om te wag, te waak, en al wakende aan daardie gedig te werk’.Ga naar eind46. Op 28 April 1957 skryf sy byvoorbeeld aan hom dat sy haar latere so bekende gedig ‘Swanger vrou’, waarin die reël ‘Ek speel ek is kind’ voorkom, ná 'n gesprek met hom goed nagesien en reëls en woorde verander het. ‘Ek het’, skryf sy, ‘elke swak reël of woord wat jy aangedui het, ingesien en iets probeer doen, wat op sekere plekke volgens eie insiens nie onsuksesvol was nie. Dis seker die eerste keer wat ek in staat was tot “skaaf” - jy weet self hoe finaal die “klaar” vers klink, veral as 'n mens dit self geskryf het!’ Ingrid se opmerking gee 'n aanduiding van hoe krities Uys haar verse gelees en in watter mate sy sy kommentaar opgevolg het. Reeds in 1946 het Barend J. Toerien van sy gedigte aan Uys vir publikasie in Vandag gestuur. Omdat die tydskrif opgedoek is, kon hulle nie verskyn nie. Intussen is Toerien na Europa en later die VSA, waar hy 'n betrekking by die Verenigde Nasies aanvaar het. Enkele gedigte van hom is deur Tydskrif vir Letterkunde opgeneem, maar tot wrewel van Toerien verander die redakteur, Abel Coetzee, so baie, tot selfs die titels toe, dat hy daarvan afsien om verder met dié blad mee te werk. In Standpunte kon hy niks gepubliseer kry nie. Met 'n besoek aan Suid-Afrika het hy Uys op Onrust ontmoet en 'n voorlopige bundel aan hom voorgelê. Uys het die manuskrip so 'n bietjie | |
[pagina 493]
| |
geblaailees, gesê dat hy 'n keuse sal maak, dat dit beslis by Balkema sal verskyn en toe verder uit die manuskrip van Ballade van die groot begeer en ander gedigte aan Toerien begin voorlees! Terug in die VSA het Toerien egter niks verder van sy bundel en die planne met Balkema verneem nie. Hy het knaend aangehou skryf aan Uys en uiteindelik Balkema self genader, wat hom laat weet het Uys het geen manuskrip ingelewer nie! Op eie houtjie het hy toe sy verse aan die Nasionale Boekhandel voorgelê, wat dit in 1960 as Gedigte gepubliseer het.Ga naar eind47. Dat Uys geen aandag aan Toerien se bundel gegee het nie, berus gedeeltelik op 'n misverstand. Uit 'n brief van 2 Oktober 1958 aan Koos Human, tóé verbonde aan die APB in Johannesburg, skryf Uys dat hy 'n vyftigtal gedigte uit die manuskrip saamgestel en elke gedig herhaaldelik gelees het en dat dit by publikasie 'n baie mooi bundel sal uitmaak: En dis 'n veelsydige bundel: Toerien het stellig nie net een snaar tot sy lier nie. Hy is mooi liries oor sy jeug in die Boland, wend 'n hele paar aantreklike, heeltemal nuwe, lewendige ritmes aan in hierdie plaasverse; hy het ook iets van die swerwer, die uitwykeling, die Afrikaner in die vreemde wat nog altyd innig verbonde bly aan die ou, welbeminde bodem; hy behandel ook in enkele verse die naturelle-‘vraagstuk’, en nie in die politieke sin nie; sy ironie is iets bepaald verfrissend in die Afrikaanse poësie wat vir so 'n groot gedeelte, na my mening, 'n bietjie eentonig geword het in sy gebrek aan kritiek of ironie of hekeling wat ons hele lewenshouding en denkwyse betref; en in sy beste verse het Toerien ook 'n soepelheid en elegansie wat weldadig aandoen. Omdat Balkema nie belangstel nie, so gaan Uys voort, voel hy baie sleg oor die saak, amper asof hy vir die hele oponthoud verantwoordelik is. Hy vra nou of Human die publikasie sal onderneem. Op dié brief het geen antwoord bewaar gebly nie. Ná sy kortstondige draai by die APB was Human reeds aan die weggaan om sy eie uitgewery saam met Leon Rousseau op te rig. Waarskynlik het hulle as jong uitgewers met weinig finansiële middele tot hulle beskikking nie kans gesien om in daardie stadium 'n onbekende nuwe digter te publiseer nie. Later sou Human & Rousseau egter heelparty van Toerien se werke uitgee. En nog vóór die verskyning van Gedigte druk Uys in Weekblad van 6 Februarie 1959 'n hele paar van Toerien se verse | |
[pagina 494]
| |
met 'n entoesiastiese inleiding af. Onder dié verse is die later so bekende ‘Die tante’, waarvan Uys van die begin af baie gehou het. In 'n radiopraatjie wat hy op 5 Mei 1963 vir die SAUK hou,Ga naar eind48. sê hy oor dié gedig: Soos by die Franse vind ons ook in ‘Die tante’ die lang loslopende versreël wat hom sonder om sy asem of sy ritme te verloor, selfs tot vier, vyf reëls kan uitstrek. En hier het ons ook iets van die Franse ironie wat terselfdertyd glad nie sy eie karakter verloor nie, maar tipies-Afrikaans bly. Ek het gesê die ironie is onder andere kenmerkend van 'n besonder gevoelige persoon wat eintlik skrikkerig is vir sy eie gevoeligheid. Agter sy ironie steek hy sy ware gevoelens weg. In ‘Die tante’ het die digter die Afrikaanse vrou (veral dié van sy gelukkige kinderdae deurgebring op die Bolandse platteland) lief, voel hy sterk vir haar. Maar hy steek dié liefde en dié gevoel weg agter sy ironie: hy spot, skeer die gek met haar. En tog ondanks sy ironie of spot - of juis gedeeltelik omrede daarvan - kry sy Tante vir hom sin, word sy vir hom simbool, 'n toonbeeld van die vrou van Suid-Afrika. | |
VNamate sy egskeiding van Lydia vir hom 'n werklikheid begin word het, was Uys 'n ruk lank depressief. Aan sy vriend Ivan Kats in Parys skryf hy op 12 Januarie 1959 dat sy lewe die voorafgaande jaar ‘an incredible whirl’ was en dat die egskeiding nie 'n aangename ervaring was nie. Hy het ook teruggedink aan Emilia Eulalia, die Katalaanse meisie met wie hy jare tevore sy eerste ernstige liefdesverhouding begin het. Dit was indertyd sy voorneme, het hy aan Gerry de Melker gesê,Ga naar eind49. om terug te gaan Suid-Afrika toe, sy dokumentasie vir die huwelik in orde te kry en dan met haar te trou. Maar dit het nooit sover gekom nie en nou het hy wroegings beleef omdat hy haar in die steek gelaat het. Ook vir Lydia was hy steeds lief, al het hy besef hy was twaalf jaar lank aan die verkeerde kant van 'n groot liefde waarvan hy baie mokerhoue met 'n skerp stok ontvang het.Ga naar eind50. Maar dit sou Uys niks gebaat het om oor die verlede te bly pieker nie. In los verhoudings en sporadiese seks as verposings was hy teen hierdie tyd nie meer geïnteresseerd nie. In dié tyd leer hy twee baie | |
[pagina 495]
| |
intelligente en talentvolle susters, Marcelle en Madeleine du Toit, ken wat albei kort ná mekaar op hom verlief is en in hulle briewe hulle liefde vir hom openlik bely. Ná 'n selfmoordpoging vroeg in 1959 skryf Marcelle aan hom dat hulle ‘vryasie - verskoon die vulgêre woord - moet ophou’, al wil sy hom graag weer sien. Sy vra hom om haar in die verpleeginrigting, ‘hierdie tranedal’, te kom opsoek. Haar ‘melodramatiese neigings’ is nou finaal die nek ingeslaan. Sy dink steeds baie aan hom, maar sy wil nie hê dit moet 'n ‘verantwoordelikheid’ vir hom wees nie, al het sy hom ‘vreeslik lief’. Op 1 Maart 1959 skryf Madeleine aan hom: ‘Wil jy my nie maar vir jou vat nie? Ek sou nogal 'n besonderse vrou vir jou wees, weet jy. Ek het jou op presies die regte manier lief. En ek word groot: klaar met soek en swerwe, geen ruspunt vir die hart ... Ek is nou bereid - gereed - om my toekoms te maak met 'n man aan wie ek 'n warm en soliede liefde kan gee, wat ek bewonder en oor wie se werk en idees ek geesdriftig voel. (En vir wie ek terloops bietjie wil oppas.) Met jou kan ek vrede vind, en meer as vrede.’ Die verhoudings van Uys met die twee Du Toit-susters is egter weinig meer as vlinderflirtasies van talentvolle meisies wat met hulle biegbriewe en egomania 'n soort Sekelmaan-fase in hulle eie ontwikkeling beleef het. Waarskynlik het Uys maar te deeglik besef dat hulle albei, nog in hulle vroeë twintigerjare, veels te jonk vir hom is, al was hy nie ongevoelig vir die aandag wat hy van hulle ontvang het nie. Madeleine en Marcelle is weldra getroud, Marcelle met die skilder Neville Varney. In die vroeë sewentigerjare verskyn Madeleine weer in sy lewe en sien hy reikhalsend uit na haar ‘sappige druk- of wegsmeltsoene’. Veel verder as dít strek die kortstondig hernieude vriendskap egter nie. Reeds in 1958 is Uys op 'n aand, ná afloop van een van die opvoerings van Die goue kring, voorgestel aan 'n pragtige vrou wat met haar donker hare 'n Spaanse indruk op hom gemaak en hom aan Emilia Eulalia herinner het. Hierdie vrou, Irma Roth, kort tevore geskei met 'n dogtertjie uit haar huwelik, was by Uys se Krige-familie en vriende om haar bruisende, polsende Mediterreense skoonheid bekend as die ‘black panther’. Met haar sou hy sy belangrikste latere verhouding hê. Maar vir eers wou Uys meer te wete kom van die Amerikaanse teater. Daarvoor word 'n Carnegie-beurs aan hom toegeken, wat hom die geleentheid sou bied om die VSA te besoek. Altyd in staat om | |
[pagina 496]
| |
verblyf by vriende gratis te reël, sou die geld ook vir hom genoeg wees om Europa weer 'n keer te sien. En hy sou ook die vreugde beleef om Eulalia, toe een en twintig jaar oud, iets van Europa en sy vroeëre blyplekke te wys. |
|