Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 381]
| |
V
| |
[pagina 383]
| |
Hoofstuk XI
| |
[pagina 384]
| |
lik uit Die Transvaler se giftige aanvalle op hom ná sy toetrede tot Smuts se kantoor. In die jare wat sou kom, sou hierdie aanvalle en bedenkinge oor sy Afrikanerskap nie afneem nie. Hy was trouens nie die tradisionele tipe Afrikanerseun nie. Reeds in die geestige lewensbesonderhede wat hy in 1937 oor homself in die aantekeninge by sy Afrikaanse versameling verstrek, sê hy dat hy die Calvinisme op etiese en estetiese gebied ‘haat’, omdat ‘dit alles wat jonk, fris, kerngesond en lewensbly is, op hardhandig kunsmatige manier ... in die kiem [wil] smoor en tot niet maak; en veral waar, vermom, dit wil deurgaan as letterkundige kritiek’.Ga naar eind2. 'n Uitspraak teen die Calvinisme was in 1937 - en nog steeds in 1946 by sy terugkeer na Suid-Afrika - nie iets wat hom by die konserwatiewe en behoudende Afrikaners gewild sou gemaak het nie. Krige se bedenkinge teen die rigting wat die Afrikanernasionalisme met sy gebrek aan duidelike kritiek op die Fascisme en die Nazi's aan die inslaan was, is deur sy ervaring van Europa voor en tydens die oorlog versterk. In die vroeë dertigerjare kon hy hom volsuig aan die ruim kultuurskatte van Europa, maar, buiten die verveelde rykes in Nice se duur hotelle en die drosters en swerwers van Barcelona se Barrio Chino, het hy in die landelike Provence en die Spaanse platteland aan die vooraand van die Burgeroorlog met min besoekers uit ander lande in aanraking gekom. Tydens die Tweede Wereldoorlog ontmoet hy saam met die Geallieerde magte in Oos- en Noord-Afrika en later in Italië, Parys en Londen 'n hele verskeidenheid nasionaliteite en mense, óók uit sy eie land, wat in huidskleur van hom verskil. Op die slagveld het hy méér kontak met swart en bruin medeburgers as wat hy as gevolg van die demografiese en maatskaplike struktuur van Suid-Afrika ooit plaaslik kon leer ken het. Hieruit, en ook uit wat hy tydens sy eerste Europese besoek aan Spanje van die aanlope tot 'n Fascistiese regime kon gadeslaan, ontwikkel sy sterk gevoel vir die broederskap van alle nasies, sy groot humanitêre beginsels en sy vryheidsideaal. Met sy terugkeer het hy besluit om sy brood net deur sy skryfwerk te verdien en om nooit weer in 'n betrekking te staan waar hy verpligtinge en verantwoordelikhede het wat soos 'n meulsteen om sy nek hang nie. In Johannesburg en later ook in Kaapstad is hy universiteitsbetrekkinge aangebied, maar hy het geen belangstelling getoon nie.Ga naar eind3. Toe hy in Maart 1946 terugkom, was daar reeds baie opgehoopte werk wat op publikasie gewag het, sowel manuskripte uit die vooroorlogse jare en die jare in die krygsgevangenekamp as dié wat hy ty- | |
[pagina *25]
| |
46. Generaal J.C. Smuts besoek sy ‘happy warriors’ in die Westelike Woestyn. (Trewella Cameron, Jan Smuts, Kaapstad, Human & Rousseau, 1994.)
47. Fort Wajier, ‘enigste oase in dié woesteny’, wat deur Krige se gedig ‘Die soldaat’ groot bekendheid verwerf het. (Harry Klein, red., Springbok record, Johannesburg, White House Printing and Publishing Company, 1946.)
| |
[pagina *26]
| |
48. Uittreksel uit die handgeskrewe manuskrip van ‘Die soldaat’.
| |
[pagina *27]
| |
49. Krige as oorlogskorrespondent.
50. Die Slag van Sidi Rezegh. (Harry Klein, red., Springbok record, Johannesburg, White House Printing and Publishing Company, 1946.)
| |
[pagina *28]
| |
51. Die hedendaagse stadsentrum van Sulmona, die Italiaanse stad waar Krige in 'n krygsgevangenekamp aangehou is. (Foto: P.E. Claassen.)
52. Die standbeeld van Ovidius, die Latynse digter, in sy geboortestad Sulmona. (Foto: P.E. Claassen.)
| |
[pagina *29]
| |
53. 'n Voorbeeld van die daaglikse kampkoerant waarvan Krige tydens sy aanhouding redakteur was.
54. Krige saam met Vincenzo Petrella, die kleinboer van die Sulmona-vallei, wat Krige se weldoener word en hom en ander ontsnapte krygsgevangenes help op hulle weg na vryheid. Hier staan hulle met die Abruzziberge in die agtergrond.
| |
[pagina *30]
| |
55. Die roete oor die Abruzzi-berge, soos voorgestel deur die kunstenares Marjorie Wallace op die omslag van Krige se Môrester oor die Abruzzi.
| |
[pagina *31]
| |
56. Saam met soldate kort ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog. Krige verskyn tweede van links. (Sol y sombra, video oor die lewe van Uys Krige, deur Pierre Marais, 1985.)
57. Saam met Lydia en hul dogter Eulalia kort ná Uys se ontsnapping.
| |
[pagina *32]
| |
58. Uys Krige spreek 'n skare in Mei 1951 in Port Elizabeth toe by 'n byeenkoms van die Fakkelkommando om te protesteer teen die wetsontwerp op afsonderlike kieserslyste.
59. In 1952 onderteken Krige in Londen saam met vier ander Suid-Afrikaanse skrywers en joernaliste 'n brief van protes teen die planne van die regering om bruin mense op 'n aparte kieserslys te plaas. Van links na regs: Alan Paton, Laurens van der Post, Enslin du Plessis, Roy Campbell en Krige. (Peter Alexander, Roy Campbell, Kaapstad, David Philip, 1982.)
| |
[pagina *33]
| |
60. Ernst Eloff, Marius Weyers en Hetty van Oordt in 'n toneel uit TRUK se 1968-produksie van Die ryk weduwee.
61. Uys saam met Marjorie Wallace en Jan Rabie. (Foto: Eulalia Krige.)
| |
[pagina *34]
| |
62. Marjorie Wallace se voorstelling van Uys Krige waarin sy hom as nar uitbeeld.
| |
[pagina *35]
| |
63. Uys Krige in Spanje in geselskap van Katalene, einde 1953.
64. Uys saam met sy gesin ná sy terugkeer uit Europa in 1954. (Foto: Eulalia Krige.)
| |
[pagina *36]
| |
65. Enkele publikasies van Krige in die veertiger-, vyftiger- en sestigerjare.
66. Gert kom besoek aflê by die Johannsen-gesin om uit te vind of Ilse gewillig sal wees om van Fransie af te sien - 'n toneel uit Die twee lampe, in 1961 opgevoer onder regie van Mari Mocke. Van links na regs: Frikkie Knoetze (Erik Johannsen), Eline Dingshof (tant Sannie), Faan van Huyssteen (Gert Beukes) en Sonja Pienaar (Ilse Johannsen).
| |
[pagina 385]
| |
dens sy oorlogsdiens in Italië geskryf het. Sy gewoonte om telkens te hersien en te herskryf, het van hom by tye 'n teësinnige publiseerder gemaak. Maar nou bundel hy die artikels wat hy in Spanje geskryf het, in Sol y sombra (1948), terwyl hy 'n tweede versameling reis- en verblyfsketse voorberei wat in 1951 onder die titel Ver in die wêreld ... verskyn en wat naas verdere sketse uit sy tyd in Frankryk en Spanje ook stukke oor sy ervarings in Noord-Afrika en Italië bevat. Twee sketse, wat ook later postuum in Na die Maluti's gebundel sou word, neem hy oor uit sy reeks artikels oor sy besoek in 1939 aan Basoetoland. Sy belangrikste vroeë vertalings uit Abu'l-Ala en uit die Franse en Spaanse poësie versamel hy in 1950 onder die titel Vir die luit en die kitaar. Dié bundel word in 1951 bekroon met die Akademieprys vir Vertaalde Werke, die eerste keer dat hy erkenning vir sy werk van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. In sy commendatio by die oorhandiging van die prys sê Meyer de Villiers dat Vir die luit en die kitaar ‘die belangrikste groep vertaalde gedigte in ons letterkunde [verteenwoordig]’ en dat die bekroning 'n blyk van waardering is ‘vir die jarelange arbeid van Krige om die kultuur van die Romaanse volke vir Suid-Afrika te vertolk’. Daarby word die waarderende opstelle gekenmerk deur ‘dieselfde geesdrif en persoonlike aanvoeling as wat ons in die gedigte vind, maar gebalanseer deur treffende kritiese insig’.Ga naar eind4. Die oorspronklike gedigte wat hy in die Italiaanse kampe skryf, versamel Krige in 1949 in die bundel Hart sonder hawe. Vir die uitgewers in Kaapstad, die Unie-Volkspers, gee hy baie spesifieke aanduidings vir die set: die band moet in blou wees met 'n goue letter; nie meer as vyf kwatryne moet op 'n bladsy verskyn en nooit meer as een gedig op 'n bladsy nie; en die naskrif aan die einde moet op 'n aparte bladsy kom. Aangesien hy ten tyde van die set in Johannesburg woonagtig was, laat weet hy die uitgewers dat dr. I.D. du Plessis so goed was om sy hulp met die rangskik van die bladsye en die druk aan te bied. Hy versoek hulle derhalwe om met Du Plessis in Kaapstad te beraadslaag. Die laaste afdeling van dié bundel bestaan uit 'n aantal verse wat Krige in Augustus 1946 tydens 'n besoek aan sy vriend Bosman de Villiers in die Laeveld skryf. Naas twee ballades en drie ander gedigte bevat dit die verse ‘Vergesig’, ‘Laeveld’ en ‘Plaashek’, waarin hy panoramiese beelde in die trant van ‘Verre blik’ gee. Oor die ontstaan van die Laeveldse verse sê Krige by geleentheid in 'n radiopraatjie: | |
[pagina 386]
| |
A few months after I had returned from the war in March 1946 I spent a month in the Lowveld, Eastern Transvaal. I was enchanted by that rugged, spacious, sun-drenched tawny landscape. Then something stirred in me, I wrote poem after poem. I come of farming stock, my family on both sides had been either wine or cattle farmers for more than 2½ centuries, I had spent many, many years in Europe, had steeped myself in the atmosphere of several great Mediterranean countries, my paths had indeed wandered far, very far not only from my own country but from simply good country people among whom I had grown up.Ga naar eind5. In hierdie gemoedstoestand skryf hy dan dié drie verse. Terwyl Krige in ‘Vergesig’ nog, ten spyte van die prag van die berge in die gloed van die son, kla oor die verlies van die ‘wonder’ en die ‘verrukking van die helder jare’,Ga naar eind6. waarmee die gedig iets van ‘Tram-ode’ eggo, is daar in ‘Laeveld’ sprake van 'n volkome harmonie tussen die ek en sy wêreld: In hierdie vrede en rus verloor
die wêreld langsaam sy gewig,
word alles in my helder,
straal ook in my dié lig,
kry eindelik die lewe weer
eenheid en maat en ewewig.Ga naar eind7.
Dieselfde harmonie vind 'n mens in ‘Plaashek’. In sy radiopraatjie skryf hy oor die ontstaan van dié gedig: Suddenly, there on top of an escarpment above that spacious sunlit world, a simple deserted gate to a farmhouse I could not even see in its folds of hills, seemed to symbolize for me the return of the native,Ga naar eind8. my reinvolvement - with faith, confidence and hope - in my own people, my own country. Yes, that rickety wooden gate that I pushed open with a slightly trembling hand, symbolized for me at that moment and under those particular circumstances a certain synthesis of all my experience and above all a certain pattern to my life.Ga naar eind9. In die gedig verwoord hy dié ervaring as volg: | |
[pagina 387]
| |
Na al die jare maak ek weer
'n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
om my hier by 'n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?
Die hek staan in die skad'wee van
'n kremetart.
Die stilte in my's volkome met
niks troebels, niks verward.
Ek lig die knip ... Ek maak
'n hek oop in my hart.Ga naar eind10.
Wat 'n mens in die verse in Hart sonder hawe, soos ook in Die einde van die pad, opval, is dat Krige as digter nie maklik etiketteerbaar is nie. Terwyl hy tradisioneel deur literatuurhistorici as 'n Dertiger saam met die Louws en Eybers ingedeel word, is sy werk 'n sprekende bewys van watter betreklike waarde dergelike periodiserings in die letterkunde het. Deur die andersoortige voedingsbodem van sy werk toon Krige weinig raakpunte met sy tydgenote en wys hy met baie van die verse in Hart sonder hawe, soos ook later met sy poësievertalings, struktureel en prosodies vooruit na Sestig. Krige was self bewus hiervan. By geleentheid het hy spottend gesê: ‘Die kritici het my 'n Dertiger genoem, maar ek beskou myself as 'n Tagtiger’, 'n uitspraak wat in die vyftigerjare van die vorige eeu na 'n literêre kategorie êrens in die verskiet verwys het, maar ook 'n toespeling was op die vernuwende Tagtigers wat die bloei van die moderne Nederlandse poësie in die laaste kwart van die negentiende eeu ingelei het.Ga naar eind11. In sy waarderende opstel oor Krige loof Charles Eglington die ‘verhoogde helderheid en oortuigingskrag’ van die verse in Hart sonder hawe, wat grotendeels te danke is aan 'n lang leerlingskap van die Spaanse digters, veral Lorca,Ga naar eind12. terwyl Guy Butler in 'n brief van 10 September 1949 sy waardering uitspreek vir die ‘liriese reinheid’ van die verse. Tog was die kritiek by die verskyning van Hart sonder hawe nie onverdeeld gunstig oor die bundel nie. Volgens A.P. Grové openbaar Krige hom hier ‘nie as 'n sterk kreatiewe digter’ nie en is die | |
[pagina 388]
| |
bundel in sy geheel ‘fragmentaries’ en tugloos. ‘Vandaar die skynbaar moeitelose versproduksie, die eindelose herhaling van klanke en rymwoorde en mooi frases. Op sy beste bereik hy met hierdie procédé 'n angsaanjaende effek; dit word 'n eentonige geklots wat die leser se weerstand totaal uitkalwer.’Ga naar eind13. Hoewel 'n mens volgens D.J. Opperman in die bundel getref word deur Krige se drif, word die leser ook bewus van die gebrek aan vormtug. In sy studie oor die Digters van Dertig sou hy later na aanleiding van veral die Italiaanse kampgedigte met hulle lang uitswaaiings praat van Krige se ‘spaghetti-versreëls’!Ga naar eind14. Krige se digterlike procédé is, volgens Opperman in sy resensie, dié van Whitman, Lawrence, Pound en Van Schagen: 'n los opeenstapeling van 'n hele reeks fyn waarnemings, verbind deur herhalings van 'n bewegende visuele beeld (seemeeu, swaeltjie, pad wat gevolg word) of van klanke (rymklank wat lank volgehou word, 'n keervers wat inkantasie wil word). Die gevolg is 'n verwaarlosing van die treffende woord, die beeld, die bou van die vers. ‘Dikwels wek die gedigte dan ook die indruk van brode wat oor die pan gerys het.’Ga naar eind15. Hierdie laaste uitspraak van Opperman, vir wie Krige 'n rukkie later in Kaapstad goed sou leer ken, was vir hom 'n stukkie venynigheid. ‘Gits, man, jou brode het glad nie eers gerys nie!’Ga naar eind16. was sy kommentaar op Opperman se laagkonstruksies. Uit hierdie tyd dateer die ‘gifpyltjie’ wat hy op die digter van Engel uit die klip in die bundel Vooraand afstuur: Goddank vir 'n paar verse, vriend
soos blomme aan 'n stengel.
Net jammer heelparty is nog
meer Klip as Engel.Ga naar eind17.
Krige was onthuts oor Grové en Opperman se negatiewe resensies op Hart sonder hawe en in 'n swakkerige spotvers steek hy later met Grové die draak.Ga naar eind18. Met hierdie soort reaksie op sy werk was daar ná sy terugkeer 'n sekere onvergenoegdheid by Krige met die Afrikaanse literêre situasie waarin hy hom bevind het. Hierdie onvrede was deels daaraan te wyte dat Krige tereg gemeen het dat sy besondere en andersoortige bydrae tot die Afrikaanse literatuur nie in dieselfde mate die erkenning kry as wat sy tydgenote Van Wyk Louw, W.E.G. Louw en weldra ook D.J. Opperman van die kritici ontvang nie. Vanaf die laat veer- | |
[pagina 389]
| |
tigerjare is die kritiek grotendeels oorheers deur akademici wat, geskoei op die beginsels van die destyds heersende Engelse en Amerikaanse literêre teorie, voorkeur gegee het aan die heg gestruktureerde tipe gedig. Met die voedingsbodem van Krige en die poëtikale opvattinge van die twintigste-eeuse Franse en Spaanse digters was die kritici haas nie vertroud nie en het die ‘oper’ tipe vers wat Krige geskryf het, dan ook minder tot hulle gespreek. Daarby was daar persoonlikheidsverskille tussen Krige en sy mededigters. Hoewel Van Wyk Louw van die begin af Krige se vriendskap op prys gestel en hom 'n aangename gespreksgenoot gevind het, was hy teleurgesteld wanneer Krige telkens oor werk praat wat hy wil afhandel en publiseer maar eers veel later daarby uitkom. Reeds in 1939 skryf hy aan Van Wyk Louw oor ‘daardie 3 of 4 boeke’ waarmee hy al so lank besig is en wat hy wil persklaar maak. In 1939 vertel Krige hom van die Spaanse sketse en die bundel vertalings wat hy byna gereed het, maar dit duur tot 1949 en 1950 onderskeidelik voordat dié twee boeke verskyn. In 1939 skryf hy ook aan Van Wyk Louw dat hy die universele, byna Griekse drama Yerma van Lorca wil vertaal, maar eers in Maart 1952 word dié vertaling in Standpunte gepubliseer. Gedurig kla hy teenoor sy vriende dat sy tyd in ‘peuterwerk’ opgaan en dat hy ‘rondvoeter met 'n boel werk ... wat alles stokou goed is’. Hierdie gepraat, wat soms in 'n ‘gekanker’ oorgaan, was vir Van Wyk Louw onbehaaglik en hy was teleurgesteld met die gehalte van baie van Krige se werk.Ga naar eind19. 'n Mens kan Van Wyk Louw se ongeduld met hierdie gepraat verstaan, maar die romantiese psige van die Dionusiese digter is nou eenmaal anders ingestel as dié van die meer sistematiese digter en denker wat Van Wyk Louw met sy opleiding in die wysbegeerte was. Daarby moet 'n mens onthou dat daar met die lang periode van Krige se oorlogsdiens en die jare as krygsgevangene in Italië 'n groot onderbreking in sy werk gekom het. Hy kon eenvoudig nie in hierdie tyd by persklaar maak en publikasies uitkom nie. En as 'n mens bedink hoe vinnig hy in 1945 The way out voltooi en hoeveel werk van hom in die vyf jaar ná sy finale terugkeer uit Europa verskyn, moet jy bewondering hê vir die groot hoeveelheid agterstallige én nuwe werk waarmee hy in dié tyd vorendag kom. Die omvang van die werk wat hy in die jare 1946-1952 produseer, loënstraf die indruk van luiheid wat Krige self graag wou kweek: dat hy alleen kan skryf wanneer hy op sy maag of by die see in die son lê. | |
[pagina 390]
| |
IIKrige se onvergenoegdheid strek egter verder as net 'n onbehae met die Afrikaanse literêre situasie. In sy onderhoud met Jan Rabie sê hy 'n mens keer uit die vreemde ‘met 'n groot vreugde’ na jou samelewing terug, maar jy voel so dikwels ‘diep, diep teleurgestel’, omdat alles vir jou ‘peuterig en kleinlik, selfs gemeen’ is en jy jou ‘ontuis en verslae en vervreemd (voel) in 'n samelewing waar mense teen mekaar opgesweep word en waar daar klassevetes is en rassevetes, kleurvetes en diehereweetalleen hoeveel ander vetes nog’.Ga naar eind20. In groot mate was hierdie onvergenoegdheid die gevolg van die politieke situasie wat hy in sy land ná sy ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog aangetref het. By baie van sy Nasionale vriende vind hy 'n onverdraagsaamheid teenoor andersdenkendes en rassistiese vooroordele, opvattinge wat hy met sy afkeer van alle vorme van Fascisme en sy geloof in die broederskap van alle mense wars van gestaan het. Hoewel hy nie aan partypolitiek meegedoen het nie, kon hy in baie groot mate die rigting en verligte denke van minister J.H. Hofmeyr steun, die politikus by uitstek wat in die veertigerjare die naaste aan sy eie siening van sake gekom het. Teenoor die Nasionaliste se ligte flirtasie met die Nazi's en hulle opportunistiese en stompsinnige etikettering van mense as ‘liberaliste’ en ‘kommuniste’ hou Hofmeyr in Maart 1946 - die maand van Krige se terugkeer uit Europa - 'n rede by die Universiteit van die Witwatersrand wat later as sy Herrenvolktoespraak bekend sou staan. Hofmeyr sê: Surely it is a mockery for us to talk of ourselves as free people, or acclaim ourselves as the inheritors of a tradition of freedom, while we are as a nation to so large an extent the slaves of prejudice, while we allow our sense of dislike of the colour of some of our fellow South Africans to stand in the way of dealing with them, while we let ourselves become victims of the anti-Semitic doctrines which were a most important part of the Nazi ideology that we have fought to destroy. By way of illustration of what prejudice means in South Africa I cannot do better than refer to the growing tendency to describe as a Communist - and therefore one who should be condemned by bell, book, and candle - anyone who asks for fair play for all races, or who suggests that non-Europeans really should be treated as equals of Europeans before the law. | |
[pagina 391]
| |
Dit was kragtige en moedige woorde waarmee Hofmeyr in baie opsigte tot die kern van die rasseprobleem in Suid-Afrika deurdring en waarmee hy 'n standpunt inneem waarmee Krige ten volle akkoord kon gaan. Dit was egter nie aan Suid-Afrika gegun om die ideologie ten grondslag van Hofmeyr se visioenêre woorde in die nabye toekoms in vervulling te laat gaan nie. Terwyl hy hierdie woorde gesê het, was daar reeds magte in die samelewing aan die werk wat Suid-Afrika twee jaar later in 'n rigting sou laat ontwikkel wat lynreg teen die nuut verworwe vryheidsideaal van die Weste indruis en die land geleidelik sou isoleer. Op die uitsprake van Hofmeyr, van wie allerweë aanvaar is dat hy ná die verwagte uittrede van generaal Smuts premier sou word, reageer Die Burger afwysend by monde van sy politieke rubriekskrywer Dawie. Hy skryf: 'n Mens vra jou af wat ... sal gebeur wanneer mnr. Hofmeyr die leierskap oorneem. Hy is teen segregasie van watter aard, teen die ‘baasskap’ van die blanke wat hy as immoreel veroordeel, ten gunste van die afskaffing van die kleurslagboom in die Parlement en in die algemeen ten gunste van 'n beleid wat onvermydelik op die politieke oorheersing van die nie-blanke oor die blanke sal afstuur. En wanneer die nie-blankes eers die politieke | |
[pagina 392]
| |
mag in hande het, dan sal die son van ons beskawing ondergaan en nooit weer verrys nie.Ga naar eind22. Klaarblyklik het dit nie by Dawie opgekom in watter morele dilemma die ‘blanke’ in Suid-Afrika uiteindelik sou beland indien hy 'n Westerse beskawing in die land sou wou handhaaf met maatreëls en middele wat wesensvreemd en strydig met die hoogste beginsels van daardie beskawing is nie. Die toenemende kritiek op Suid-Afrika se rassebeleid, wat Smuts reeds net ná die oorlog in die buiteland begin ervaar het, lei die Nasionaliste tot 'n vaste voorneme om deur 'n sistematiese toepassing van die beleid van apartheid die blanke se voortbestaan te beskerm, die maatskappy op 'n nuwe wyse te orden en die swart mense van die land in aparte politieke, kulturele, ekonomiese en territoriale bane af te sonder. Terwyl die ondersteuners van die Verenigde Party verwag dat hulle die verkiesing van 1948 met gemak sou wen, behaal die Nasionale Party, wat voor die verkiesing 'n ooreenkoms met die Afrikanerparty aangaan, op 26 Mei 'n verrassende oorwinning met 'n meerderheid van vyf setels oor die gesamentlike opposisie, al kon die Verenigde Party daarop roem dat hy die grootste getal stemme getrek het. Met die dood van eers Hofmeyr en daarna Smuts is daar 'n gebrek aan duidelike leiding en stellinginname by die parlementêre opposisie, met die gevolg dat die sterkste teenkanting teen die regeringsbeleid van buite-parlementêre organisasies kom. Binne enkele jare ná die Nasionale Party se bewindsaanvaarding onder leiding van dr. D.F. Malan loods die regering 'n reeks diskriminerende wette deur die Parlement om die beleid van apartheid in die praktyk te verwesenlik. In 1949 word alle huwelike tussen blank en nie-blank deur wetgewing verbied, terwyl die Wysigingswet op Ontug (1950) die geslagtelike verkeer tussen mense van verskillende rasse onwettig verklaar. Deur die Wette op Groepsgebiede (1950), Aparte Geriewe (1953), Hervestiging van Naturelle (1954) en die Wysigingswet op Stedelike Gebiede vir Naturelle (1955) word die grondslag vir residensiële apartheid vir die swartes gelê. Om die onrus onder die swart bevolking te onderdruk en die optrede van blanke agitators strafbaar te maak, word die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme in 1950 aangeneem, wat die propagering van Kommunistiese leerstellings tot 'n misdaad verklaar en die Kommunistiese Party verbied. Die mees omstrede wetgewing van die regering in die vyftigerjare | |
[pagina 393]
| |
is dié met betrekking tot die stemreg van die bruin mense. In 1951 loods die Nasionale Party 'n wetsontwerp deur die Parlement ingevolge waarvan stemgeregtigde ‘Kleurlinge’ op 'n aparte kieserslys geplaas word. Met sy sterk gevoel vir die regte van die bruin mense, versterk deur sy kontak met hulle en sy bewondering vir hulle vitaliteit, sorgvrye lewenshouding, moed en idiomatiese Kaapse Afrikaans, is Krige een van die mense wat hom tydens protesvergaderings teen die wetsontwerp uitspreek. Op 'n byeenkoms van meer as 22 000 mense in Port Elizabeth in Mei 1951, wat uitgaan van die Fakkelkommando, 'n beweging wat veral onder oudsoldate van die Tweede Wêreldoorlog 'n aanhang het, sê hy dat die wetsontwerp 'n moreel retrogressiewe stap is en dat die bedoeling van die regering daarmee slegs is om 'n paar meer setels in die Parlement te verower. Hy verwerp die regering se aanspraak dat sommige bruin mense ten gunste van die wetsontwerp is en hy kan ook nie insien hoedat hierdie mense met slegs 40 000 stemgeregtigdes 'n bedreiging kan wees vir die blankes wat een miljoen kiesers tel nie. ‘This new legislation’, sê hy in 'n formulering waarin Hofmeyr se woorde uit 1946 meespreek, ‘is not compatible with any man's civilisation. We are betraying our European civilisation, the basis of which is to govern by understanding and moral prestige, and not by force.’Ga naar eind23. Twee dae later praat hy by nog 'n byeenkoms van die Fakkelkommando op die Kaapstadse Parade voor 'n gehoor van meer as 50 000 mense. Die wetsontwerp, sê hy, is 'n skending van die gees van die grondwet en 'n inkorting van regte. Terselfdertyd is die regering 'n bedreiging vir ons beskawing. Sonder die bruin mense, wat net in velkleur van die wittes verskil, sal ons beskawing ineenstort. Tydens sy jare saam met die soldate op die slagveld het hy geleer dat 'n mens die man langs jou kan vertrou, al is hy 'n gekleurde. Suid-Afrikaners moet nie nou teruggewerp word in die bose kringloop van vrees en wantroue wat ten grondslag van die wetsontwerp lê nie.Ga naar eind24. Aangesien daar by die regering geen keer aan die deurloodsing van die wetsontwerp was nie, betwis die Verenigde Party die beoogde wetgewing en verklaar die Appèlhof in 1952 die wet as ongeldig. Ook dít verhinder die Nasionale Party egter nie. Deur 'n vergroting van die Senaat enkele jare later verkry die regering die vereiste tweederdemeerderheid om die grondwet te wysig en die bruin mense op 'n aparte kieserslys te plaas, maar met sy hantering van die hele aangeleentheid ontstaan daar bedenkinge oor die eerbaarheid van die | |
[pagina 394]
| |
regering en sy betroubaarheid ten opsigte van die demokratiese stelsel, selfs die beperkte demokratiese regte van destyds. Hoe wraaksugtig en beledigend die Nasionaliste werklik kon wees, ervaar Krige kort ná sy optrede in Port Elizabeth en op die Kaapstadse Parade. Terwyl die Wetsontwerp op die Onderdrukking van Kommunisme in 1951 in die Volksraad onder bespreking was en taalkwalifikasies van Suid-Afrikaners ter sprake gekom het, is die naam van Uys Krige deur 'n lid van die Verenigde Party genoem. 'n Koor Nasionaliste misbruik die privilegie wat 'n opmerking in die Volksraad hulle teen laster verleen, met die tussenwerpsel: ‘Hy is 'n Kommunis!’ So 'n uitkryting en etikettering, was hulle deeglik bewus van, kon hulle buite dié raad aan vervolging blootgestel het. Wat Hofmeyr in 1946 as die groeiende tendens genoem het om iemand wat billike en regverdige optrede teenoor alle rasse voorstaan, tot 'n Kommunis te verdoem en te veroordeel, het dus nou 'n werklikheid geword. In 'n hoofartikel op 16 Junie 1951 reageer die Cape Times hierop: Now Mr. Krige is not a Communist. He is as good, as able and as patriotic a South African as, say, Mr. Swart, Dr. Dönges, or Dr. Loock. His defect is that he happens to disagree with the political extravagances of this race-obsessed Government and he has not been afraid to say so publicly. He is a political opponent of the Nationalists and, almost by reflex action, the Nationalists stigmatize him as a Communist. As the moral courage of these Nationalists is about equalled by their statemanship, we are fairly certain that this charge will not be repeated outside the privileged walls of Parliament. Sulke ongeregverdigde en onbillike kritiek was jare lank daarvoor verantwoordelik dat Krige se werk en persoon in Afrikanerkringe met argwaan bejeën is en sy oorspronklike publikasies telkens vir bekronings verbygegaan is. Vir sy vertalings is hy wél bekroon, eenvoudig omdat negering daarvan in die lig van sy weinige mededingers te blatant sou gewees het en liggame soos die Suid-Afrikaanse Akademie hulle kon verskoon dat hulle nie Krige se oorspronklike werk met soms ‘gevaarlike’ ideologiese inhoude bekroon nie, maar sy vaardigheid as vertaler, wat niemand kon ontken nie. Wat politieke aangeleenthede betref, was sy reaksie egter dié van 'n digter, nie dié van 'n politikus nie. Terwyl tydgenote soos Opperman hulle dikwels | |
[pagina 395]
| |
van kommentaar op aktuele aangeleenthede weerhou het, was Krige se standpunt dat, terwyl dit vir 'n digter essensieel is om buite die politiek te bly indien hy werklik ware poësie wil skryf, dit soms vir hom noodsaaklik is om na die politiek terug te keer indien hy hoegenaamd met sy skryfwerk wil voortgaan. Christina van Heyningen vat hierdie standpunt van Krige, wat hy in die vyftigerjare by die Universiteit van Natal in 'n lesing uitspreek, as volg saam: A poet's work grows out of his values, not out of the policies of his party. But if, by his detachment and silence, he finds himself acquiescing in what he knows to be wrong, he may begin to undermine the integrity of his values; and, in so doing, he exhausts the very sources of his talent.Ga naar eind25. Maar naas die politieke werklikheid van Suid-Afrika waarteen hy in opstand was, het Uys kort ná sy terugkeer met persoonlike probleme te kampe, probleme wat hom soms soos die matrose in een van sy vroeë verse ‘stuurloos-dobberend’ op die seë en met 'n ‘slingervaar langs wentelende waterweë’Ga naar eind26. gelaat het. Hy het hom die probleme aangetrek waarin sy broers en ouers hulle bevind het. Reeds in 1944, toe hy ná sy ontsnapping terugkeer na Suid-Afrika, was sy broer Arnold verwyderd van sy Mexikaanse vrou, Consuelo. Uit briewe van Sannie Uys blyk dit dat Consuelo, wat volgens die familie aan 'n ligte vorm van kranksinnigheid gely het, met selfmoord dreig as Arnold haar gaan verlaat. Vir Sannie beledig Consuelo by herhaling en sy skel haar uit as ‘that bastard woman’. Uys se lieflingsbroer Bokkie was getroud met Dorothy Rattray van die destydse Rhodesië en vasgevang in 'n huwelik met 'n onplesierige vrou wat hom verskree het. Dorothy was as lekegeoloog meer in klippe as in mense geïnteresseerd en waarskynlik verbitterd omdat sy meer van haar man verwag het as wat hy haar kon gee. In 'n brief uit hierdie tyd aan Uys sê Sannie van haar: ‘The milk of human kindness het asynsuur geword in daardie vrou’, terwyl 'n ander familielid later in 'n onderhoud Dorothy blatant as ‘mean-spirited’ bestempel het, 'n vrou wat nie liefde kon gee nie. Bokkie se reaksie was om hom in sy studeerkamer te onttrek en die baie briewe van Uys aan sy familie vanaf sy vroegste jeug en deur sy jare in Europa tot in die vyftigerjare oor te tik, 'n arbeid waarmee hy bewonderenswaardige bewaringswerk verrig het maar waarmee hy as gewese Rhodes-student | |
[pagina 396]
| |
nouliks sy intellek kon bevredig. François, wat intussen, onder meer deur sy uitstallings en deur sy illustrasies van Uys se boeke, tot kunstenaar van formaat ontwikkel het, was getroud met die Belgiese Poppie Platenga, wat twee aangenome kinders gehad het, maar in 1953 word dié huwelik, soos dié van Arnold vroeër, ontbind. ‘My seuns het die wonderlikste vermoë gehad om 'n lewensmaat te kies’, skryf Sannie gelate by geleentheid aan Uys. Opvallend is die feit dat Bokkie, Arnold en François nie één kinders gehad het nie, ook nie uit hulle latere tweede huwelike nie. Van die vier broers was dit slegs Uys wat met 'n nageslag kon spog en met sy seun, Taillefer, die familienaam kon voortsit. Maar Sannie had ook haar eie bekommernisse oor haar man, Japie, se drankprobleem. In 1952 val Japie op die sement toe hy die koerant uit die posbus gaan haal en is sy boonste plaat tande flenters. ‘As hy tog nou maar sal luister’, skryf sy aan Uys, ‘en met 'n stok loop en nie 'n drankie by die pubs gaan maak maar liewer hier in die huis drink soveel as hy wil. Dit is nie die drank wat my alleen so 'n sielsiekte gee, dit is die geheim waarin dit gedaan word. Die vreeslike wegstekery (dit lyk so oneerlik).’ Gelukkig - ook vir Uys, wat haar steeds aangemoedig het - vorder Sannie in hierdie jare met haar eie verhaalkuns. Haar eerste verhaal, ‘Beatrix’, stuur sy aan Uys in die jare toe hy letterkundige redakteur van Die Suiderstem was. Só goed het hy dit gevind dat hy aan haar gesê het sy kan voortgaan. Nou was daar genoeg verhale vir publikasie in boekvorm. In 1948 verskyn 'n negetal in die bundel Vroue, terwyl sy in 1953 elf verdere verhale onder die titel Papawers en pikkewyne versamel. In 1964 verskyn 'n keuse uit dié verhale met die hulp van Uys in Engels as The nightingale sings. Daarin neem sy ook een nuwe skets, ‘Scissors’, op waarin sy 'n beeld gee van haar windverwaaide skrywerseun met sy ewigdurende knipselversameling en hoe hy voortdurend vir haar dinge voorlees en op kommentaar van haar aandring: He asks her what she thinks of his new story; what is the right form for the content of his new poem; which of two or three adjectives she considers ‘the final inevitable one’; if this isn't an example of rymdwang or forced rhyme, that not ‘tautological’ and so superfluous ... | |
[pagina 397]
| |
he instantly out of the blue needs those scissors and begins fussing and fidgeting behind flower pots, vases, beer mugs, under newspapers, magazines, manuscripts, chair cushions.Ga naar eind27. Sy moeder se sukses met hierdie publikasies was ook vir Uys 'n groot vreugde, maar andersins was hy nie gelukkig nie. Net soos sy broers met hulle vroue het hy ook baie probleme in sy huwelik met Lydia ondervind. Voor sy terugkeer in Maart 1946 het Lydia, terwyl sy gewag het dat die huurders uit haar Norwood-huisie uittrek en Eulalia by haar ma in Pretoria was, met Taillefer by Bram en Mollie Fischer gaan woon. Mollie was 'n niggie van Uys en sy en Bram was besonder liefdevol en gasvry teenoor haar en Taillefer. Nie te lank ná Uys se tuiskoms nie het die ou probleme tussen hom en Lydia weer kop uitgesteek.Ga naar eind28. Hy het besef dat hy met sy huwelik in 'n saai, burgerlike bestaan vasgeknel was wat hom begin wurg het. 'n Ruk lank het alles wel goed gegaan, maar toe begin die onplesierigheid weer. Vir Lydia was hy 'n onmoontlike mens om mee saam te leef. Hy het die gewoonte gehad om agter haar aan te loop met 'n boek in sy hand; dan moes sy luister na een of ander gedig, terwyl sy in die kombuis sukkel met kook. Sy het besluit om hom te verlaat en met Taillefer by die Steyns in Northcliff te gaan bly. Uys het haar baie keer kom sien en haar gesmeek om terug te kom na hom toe. Eindelik ná drie maande het sy maar besluit om ter wille van die kinders toe te gee. Toe dink sy: om met Uys saam te leef, is 'n groot huis nodig waar hulle net af en toe mekaar ontmoet, met 'n groot tuin vir Uys om in te sit en luister na die voëls en die wind in die bome. In 'n brief uit 1949, toe Uys vir die wintervakansie in die Kaap was, skryf Lydia aan hom: Jy vra hoe ek omtrent jou voel ... | |
[pagina 398]
| |
Sy koop toe 'n groot ou huis op twee akkers in Negende Laan, Parktown-Noord, met palmbome, jakarandas, dennebome, 'n lang roosprieel, 'n ‘lovers' lane’, 'n bamboesbos, 'n hoenderhok, vrugtebome, 'n houthuisie vir gereedskap en twee fonteintjies in die tuin. Uys het egter net 'n draai in die tuin gegooi, maar verder geen belangstelling getoon nie. Tog was Kasarm, soos hulle dit genoem het, 'n lekker groot huis met 'n stoep rondom en vier slaapkamers, 'n ideale plek ook vir die kinders. Eulalia was in die Jan Celliers-skool naby hulle en saans het Uys vir haar gedigte en van die verhale van Robert Louis Stevenson gelees. Esmé Euvrard en haar man, Gilberto, het gereeld by hulle kom kuier en mooi Spaanse liedjies gesing en kitaar gespeel. Eugenie en Flippie Burgers van die SAUK het ook kom kuier: Eugenie vol lewe en Flippie 'n bietjie stil en sedig. Cecil Higgs het by hulle kom inwoon terwyl sy in Johannesburg uitgestal het - 'n saggeaarde, liewe mens. In later jare kon Eulalia onthou hoe Cecil byna elke dag, wanneer sy van die stad af kom, 'n klein presentjie vir Tai gebring het, totdat Lydia gesê het sy moenie, dit bederf hom net. Toe Cecil alleen in haar kamer was, het Tai na haar gegaan, haar met sy pragtige oë met die lang wimpers aangekyk en in sy destyds powere Engels gesê: ‘If you réálly want to bring me a present, you can ...’Ga naar eind29. Langsaan Uys en Lydia het 'n Nederlandse egpaar, Tos en Jo Mantel, gewoon en laatmiddag het die Kriges dikwels baie aangename skemerkelkies by hulle gaan drink. Hulle oudste seun Hans, in die wandel bekend as John, was ook daar. Hy het sy opvoeding in Engeland en Switserland gehad en was vloeiend in vyf of ses tale, waaronder ook Afrikaans.Ga naar eind30. In hierdie jare leer Uys ook ander Suid-Afrikaanse skrywers soos Charles Eglington en Jack Cope ken. Cope lees in dié tyd Sol y sombra met entoesiasme en in 'n brief dra hy die ‘genial, and at the same time, intimate satisfaction’ oor wat dit aan hom verskaf. Hy vra hoe die boek met sy uitbeelding van ‘the tramps en bums in whom you take such a sympathetic interest’, deur die Nasionaal-voelende en anti-Krige-Afrikaners ontvang is. In Johannesburg ontmoet Krige Herman Charles Bosman, vir wie se werk hy gou hoë waardering het. Wanneer Sol y sombra verskyn, skryf Bosman baie gunstig daaroor in The South African Opinion. Vir Krige, wat homself beskou het as 'n eksponent van die ekstroverte, welsprekende humor van die Mediterreense wynproduserende lande, was Bosman die Suid-Afrikaanse skrywer by uitstek wat die humor van die Transvaalse Afri- | |
[pagina 399]
| |
kaner in sy werk tot uitdrukking bring.Ga naar eind31. Wanneer Mafeking Road in 1947 verskyn, gee Bosman hom 'n geskenkeksemplaar. ‘I reread it from cover to cover’, skryf Krige later aan Jack Cope en Charles Eglington wanneer hy in 1959 oor Bosman se verhale met die Amerikaners praat.Ga naar eind32. Hy gaan voort: And I was delighted, enthralled. There was hardly a page that didn't contain at least several passages of down right good writing - I mean la prose pure as the French say. I started pencilling as of old; and the pencil marks were soon running riot. One could object to the lack of construction, ... balance, ‘anecdotage’ of quite a number of the stories, to their ‘sketchiness’ and so forth - but when it comes to writing, just writing well, who of any of us during the past 10 years has done better? A feeling of contrition, almost shame, came stealing over me while I read: that I hadn't seen how good Herman really was while he was still alive. Toe Bosman in 1950 saam met Gordon Vorster 'n bloemlesing van Engelse Suid-Afrikaanse poësie sou saamstel - 'n projek wat nooit voltooi is nie -, vra hulle ook Uys se medewerking. Vorster wou Uys laat weet dat die gedig wat hy ingestuur het, wel belowend is maar nog nie op die standaard was wat hulle vir die bloemlesing beoog het nie. Omdat hy onseker was hoe 'n mens so iets in Afrikaans per brief oordra, skryf hy: ‘Geagte Meneer Krige, hiermee stuur ons u gedig terug ...’ Bosman se reaksie was: ‘Hell, you don't write a letter like that to Uys. He will never understand such Afrikaans!’Ga naar eind33. Hy gryp 'n stuk papier, dip sy pen in 'n bottel Quink en skryf: Liewe Uys, (That's how you start off a letter to Uys. Now let me see. He'll want to know how I am.) Ek het baie siek gewees met die griep. (This is about the most common form of Afrikaans you can write: real low-class stuff, but it's beautiful. Now we have to ask how he is.) Hoe gaan dit met jou? (Now to the point.) Hierdie gedig is sommer 'n klomp kak. Jou vriend, Herman.Ga naar eind34. Jan Greshoff, die Nederlandse digter wat met onderbrekings sedert 1939 in Kaapstad woon, laat Uys weet dat Opperman, wat as redaksiesekretaris vir die letterkundige tydskrif Standpunte optree, Uys se ver- | |
[pagina 400]
| |
talings uit Frans ontvang het en ‘verrukt’ daarmee is. Op 12 Desember 1949 laat hy Greshoff weet dat hy pas terug is van die platteland. In die distrik Magaliesberg het hy Jochem van Bruggen twee keer op sy plasie besoek: ‘Wat 'n lewendige, kinderlike, beminlike mens - en hy's byna 70 jaar oud!’ Hy bemiddel so 'n bietjie by Greshoff vir Butler, Delius, Cope en die Indiese digter Ashamd Osman wat in Kaapstad is en vra of Standpunte nie van hulle werk sal opneem nie. Sedert die publikasie van Afrikaanse versameling in 1937 en die gedigte wat in De Gids, De Stem en Horizon verskyn het, was Uys nog nie weer in aanraking met Nederlandse tydskrifte nie. Nou maak hy egter weer kontak met A.A.M. Stols, sy Maastrichtse uitgewer, wat hom die tydskrif Columbus toegestuur het. Hy wil van sy oorlogsverse aan dié blad voorlê, maar vra Stols hoe dit tans met Afrikaanse versameling gesteld is. Omdat die bundel intussen deur die tyd agterhaal is, moet daar in geen omstandighede 'n herdruk daarvan kom nie. Ongeveer tien jaar tevore het hy 'n enkele tjek van £10 van die uitgewery ontvang, maar as gevolg van die oorlog kon geen uitbetalings plaasvind nie. Sy gedigte ‘Vergesig’ en ‘Plaashek’ verskyn in De Nieuwe Stem van Januarie 1948. Later dieselfde jaar verskyn in De Nieuwe Stem ook sy Malelaan-ballade en ‘Skulp’, en in die uitgawe van Mei 1950 neem die redaksie sy eenbedryf Alle paaie gaan na Rome op. In Het Woord van somer 1948 verskyn sy gedig ‘Hospitaalskip’. Ook met Gerrit Borgers van Podium maak hy kontak deur van sy vertalings van Venezolaanse digters voor te lê. Maar daarmee hou die kontak met Nederland op, omdat hy agterkom dat hierdie tydskrifte moeilik tot betaling oorgaan.Ga naar eind35. Die jong Suid-Afrikaanse digter Guy Butler, wat intussen as lektor in Engels aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel is, leer Uys nou beter ken. Uys het in hierdie tyd drie keer per dag op Eulalia se fiets na die Dieretuinmeer-swembad gery om te swem en in die son te lê, en het ook die Spaanse gewoonte gehad om in die middag sy siësta te neem. By die huis het Uys op die mat gelê en skryf, iets wat vir Lydia onverkwiklik was om te aanskou en haar bloed laat kook het. Vir Guy Butler en ander vriende was dit terneerdrukkend en ontstellend om te merk dat Uys en Lydia - ‘a dark Spanish-looking beauty with a straight back and eyes that could flash and smoulder, and a wicked wit’Ga naar eind36. - nie beter met mekaar oor die weg kom nie. Gereeld het hy van haar ontsnap om sy vriende vir koffie of middagete te ontmoet by die ou East African Restaurant met sy lang swart | |
[pagina 401]
| |
kelners met hul rooi fesse en met sy spyskaart met al die kerries en piesangs, goedkoop en sentraal in die middestad van Johannesburg geleë. Daar het hy dan land en sand met mense soos Guy Butler en Herman Charles Bosman gesels.Ga naar eind37. Sowel Uys as Guy het min alkohol nodig gehad om hulle te inspireer. Uys het elke koerant gekoop wat van die pers af gekom het en met almal gepraat oor dinge wat hom verheug of kwaad gemaak het. Terwyl hulle in die biblioteektuin of in Joubertpark gesit het, kon Guy luister na 'n man wat hom volledig aan die literatuur oorgegee het, 'n vrygewige man, moedig en met 'n spottende kyk op homself, 'n man wat in staat was tot sowel welsprekende woede as aansteeklike lagbuie en pret. In die tyd dat Guy hom gereeld in Johannesburg gesien het, was Uys flink aan die vertaal. Guy skryf: Walking down Eloff Street he was expatiating on the theory and practice of translation, about which he knew a great deal. Once so engaged, he became oblivious of time or space. He would quote a resonant phrase from Pablo Neruda, then he'd stop walking and repeat it. Then he would utter, with rhetorical ease, its Afrikaans equivalent. It sounded good to me and to him. Having rolled it round his tongue twice, he started walking once more. Then suddenly he stopped me, a hand on my forearm, looking into my face. He was radiant with a sudden discovery. How could he not have made it before? It was one of those hidden things which, once observed, are for ever obvious. By geleentheid sê Uys aan Guy: ‘Hoe kan hulle sê ek werk nie? Ek het drie dramas in die laaste agtien maande voltooi.’ ‘Watter drie?’ vra Guy. Uys noem die titels, maar Guy weet nie van een van hulle wat gepubliseer is nie. Uys slaan op sy voorkop. ‘Hulle is klaar in my kop! Al wat ek moet doen, is om hulle neer te skryf!’Ga naar eind39. Uys kon steeds in hierdie stadium nie motor bestuur nie. Toe hy op 'n dag aan Lydia voorstel dat hy met hulle motor van hul vriende sou gaan haal, was haar reaksie: ‘Jy 'n kar bestuur? Jy sal nooit leer bestuur nie!’ ‘Waarom nie? Ek kan dan fietsry!’Ga naar eind40. was sy antwoord. | |
[pagina 402]
| |
Dikwels het hy dan ook op Eulalia se fiets by Guy-hulle aangery gekom. Op 'n dag kla hy oor Lydia se koudheid teenoor hom en dat sy hom, tot sy ergernis, aanbeveel het om 'n minnares te kry. Die Butlers het geweet dat Uys, ten spyte van die probleme tussen hom en Lydia, 'n kuise eggenoot was en nie aan ander meisies met die oog op amoreuse avontuurtjies gedink het nie. Op Jean Butler se spottende vraag waarom hy nie tog maar een kry nie, was sy antwoord: ‘As ek net 'n motor besit het, was ek die grootste Don Juan van die twintigste eeu. Maar, helaas, ek het geen vervoer nie.’Ga naar eind41. Dié reaksie was só aansteeklik snaaks dat Guy en Jean lekker gelag en dit by herhaling vir vriende vertel het. Van die skrywer Stuart Cloete het dit die reaksie ontlok: ‘I have heard many reasons for failure in the field of amorous adventures, but I've never heard it ascribed to the lack of transport!’Ga naar eind42. | |
IIIOp versoek van Van Wyk Louw tree Krige tydens die oorlogsjare met die papierkontroleur in verbinding om verlof vir die oprigting van 'n nuwe literêre tydskrif te kry. Wanneer Standpunte einde 1945 verskyn, vorm Van Wyk Louw, W.E.G. Louw en H.A. Mulder egter die redaksie en word Krige nie gevra om toe te tree nie. Krige het, volgens Opperman, ‘tereg gevoel (dat hy) ná die vorige gesamentlike planne om 'n blad uit te gee, oor die hoof gesien is’.Ga naar eind43. Waarskynlik het Krige dit, nog erger, as 'n mosie van wantroue ervaar. En hy kon verbitterd gevoel het dat Mulder, vir wie hy by Die Suiderstem geleenthede as kritikus geskep het, nou in sy plek in die redaksie was. Krige wou nou egter met 'n eie tydskrif begin. Die geleentheid daartoe kom as hy en Ehrhardt Planje in September 1946 Vandag oorneem en tot 'n literêre tydskrif omvorm. Dit was, soos Christina van Heyningen dit stel, 'n daad van geloof in die toekoms van die Suid-Afrikaanse literatuur.Ga naar eind44. Nog meer as wat dit die geval met Standpunte was, wou Krige graag van die tydskrif 'n tweetalige orgaan maak wat sowel die Afrikaanse as die Engelse letterkunde dien. Daarby wou hy die blad so wyd moontlik oopstel die teater, kuns, argitektuur en die politiek betrek en buitelandse korrespondente vir bydraes uit Nederland, België, Brittanje, Italië en Frankryk werf. Die opset was dus anders as algemene blaaie soos Die Huisgenoot en Trek, terwyl dit met die eenvoudiger aanslag nie soos Standpunte 'n eksklusiewe tyd- | |
[pagina 403]
| |
skrif vir die intellektuele bolaag van die bevolking wou wees nie. Dit was buitendien 'n blad wat bo nasionale en taalgrense wou uitstyg en die vervreemding tussen die Afrikaanse en die Engelse kultuur in die land wou oorbrug. Met sy werk aan Vandag word Krige, soos Hennie Aucamp dit in 'n ander verband stel, die ‘groot versoener’ wat in die Suid-Afrikaanse letterkunde die spanninge tussen Engelsen Afrikaanssprekendes probeer ontlont en die swart en bruin mense van die land as medelandgenote vereer en as skrywers probeer betrek.Ga naar eind45. In die November 1946-uitgawe gee die redakteurs 'n aanduiding van wat hulle met die tydskrif beoog. Hulle skryf: Vandag glo dat daar tans in Suid-Afrika heelwat mense is wat die verskynsels en vraagstukke van ons land in hul totaalverband sien; wat, aan welke rassegroep hulle ook behoort, daardie groep nie as enig, alleengeldig en volkome selfstandig beskou nie, maar as deel van 'n groter en ryker geheel; wat dus 'n wakker belangstelling het in wat daar onder ander seksies van die bevolking gevoel, gedink en presteer word; en vir wie dit verder nie die minste saak maak of hulle Afrikaans of wel Engels praat of lees nie. Die redakteurs voel dat die blankes in die land elke dag met swart en bruin mense in aanraking kom, maar bloedweinig van hulle weet. Van 'n goeie verhouding tussen blankes en gekleurdes, wat op kennis, begrip en insig moet berus, sal die hele toekoms van Suid-Afrika afhang. Daarom wil Vandag artikels publiseer oor die swart en bruin mense se leefwyse, folklore en kultuur en graag bydraes van hulle skrywers ontvang. Die tydskrif staan volkome onafhanklik en behoort aan geen party nie. Vandag wil dan ook ‘nie die eienaardige soort sport wat hier by ons volgens ou gewoonte vir politiek deurgaan’, speel nie. Dit wil ‘die onderliggende werklikheid van die politiek probeer blootlê, en wil dit op 'n breë humanistiese grondslag doen’. En die literatuur van Suid-Afrika moet nie in 'n soort regionale Heimat-kuns verval nie. 'n Paar jaar later sou Krige dié ideaal in 'n voordrag by die Universiteit van die Witwatersrand só verwoord: ‘Our writing can be as characteristic or typical as it likes, but if it has no universal values, it has no deep human truth, if its human content cannot at the same time apply to any other country under the sun, its peculiar flavour, its savor or goût de terroir or sabor castizo as the | |
[pagina 404]
| |
Spaniards say, falls more in the domain of folklore than of literature.’Ga naar eind46. Dit sluit aan by Van Wyk Louw, wat reeds in 1936 in sy lesing ‘Die rigting van die Afrikaanse letterkunde’ daarop gewys het dat 'n koloniale of lokale literatuurtjie geen plek vir indiwidualisme, vir die strengste persoonlike uiting van die universele belewing het nie. Hy formuleer sy ideaal vir die Afrikaanse letterkunde: ‘Alles, maar ook alles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet ook in ons literatuur sy neerslag kry.’Ga naar eind47. Krige slaag daarin om die medewerking van belangrike ouer en jonger Afrikaanse en Engelse skrywers soos Jan van Melle en Herman Charles Bosman te kry en uit die buiteland - hoofsaaklik Nederland en Brittanje - 'n hele paar bydraes te werf. A. Roland Holst, Dylan Thomas, Roy Campbell en William Plomer dra by, terwyl hy onder die Afrikaanse skrywers, naas sy eie werk, bydraes deur Elisabeth Eybers, Olga Kirsch - oor wie se werk hy 'n indringende opstel skryf - en Jan Rabie publiseer. Uit Kaapstad werk die Nederlander Jan Greshoff saam wanneer Krige hom om 'n artikel oor Arthur van Schendel nader.Ga naar eind48. Hy en Planje neem ook werk op van 'n hele aantal jongelinge en debutante wat later belangrike figure in die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur sou word: Alan Paton, Guy Butler, Jack Cope en Christina van Heyningen. Ook foto's van kunswerke deur Cecil Higgs en François Krige word afgedruk. Enslin du Plessis skryf 'n artikel oor Britse kuns, Christina van Heyningen wei in 'n artikel met baie aanhalings uit oor die denke wat in die opstelle van swart skoolkinders neerslag vind en Hesketh Pearson skryf insiggewend oor Bernard Shaw, terwyl Krige self sy eenbedryf Die grootkanonne publiseer en by die dood van Leipoldt in 1947 'n voortreflike huldeblyk lewer. En een van Sannie Uys se allerbeste verhale, ‘Die nagtegaal sing’, verskyn ook in Vandag. Een van die belangrikste skrywers wat Krige aan die Suid-Afrikaanse literêre publiek bekend stel, is die latere Nobelpryswenner Nadine Gordimer, wie se kortverhaal ‘Music teacher’ in Vandag van Desember 1946 verskyn. Jare later kon Gordimer onthou hoeveel die plasing van dié kortverhaal vir haar destyds beteken het. In haar bundel The essential gesture skryf sy: One day a poet asked me to lunch. He was co-editor of yet another little magazine that was then halfway through the dozen issues that would measure its life. He had just published a story of mine | |
[pagina 405]
| |
and, like many editors when the contributor is known to be a young girl, was curious to meet its author. He was the Afrikaans poet and playwright, Uys Krige, who wrote in English as well, had lived in France and Spain, spoke five languages, was familiar with their literature, and translated from three. He had been a swimming instructor on the Riviera, a football coach somewhere else, and a war correspondent with the International Brigade in Spain.Ga naar eind49. ... Krige spandeer baie tyd aan informele onderhoude met skrywers en joernaliste om Vandag bekendheid te gee. Hy en Planje kan egter net vier uitgawes behartig voordat die verliese te kwaai word en hulle die tydskrif moet beëindig. Dit was egter, soos Barend J. Toerien dit in 'n belangrike artikel oor Vandag in Die Burger van 10 Maart 1992 stel, 'n ‘little magazine’ wat ‘brawe dinge’ beoog het en wat met sy ‘frisse inhoud en die wye opset’ iets besonders wou bring. Ongelukkig was die tyd vir so 'n vrysinnige tydskrif in Suid-Afrika nie ryp nie. Met die komende verandering in die politieke bestel van Suid-Afrika was Vandag gou vergete, al bly die vier nommers steeds 'n voorbeeld vir latere geslagte van hoe 'n Suid-Afrikaanse kultuur oor rasse- en taalgrense heen opgebou kan word. | |
[pagina 406]
| |
IVDeur Leon Gluckman is Lydia, wat in Johannesburg weinig rolle op die verhoog kon kry en radio-uitsendings gehaat het, gevra om die vroulike hoofrol te speel in Shakespeare se Antony and Cleopatra. Toe sy een aand afbuk om Antony se liggaam op 'n hoër verhogie te help oplig, voel sy 'n ontsettende pyn skiet van haar kop langs haar rug af. Met dat sy regop kom, voel sy weer beter. Toe sy weer afbuk, kry sy dieselfde pyn. Sy steier die trappe af en Leon en 'n ander man vang haar net voordat sy val. Toe daar 'n effense verlamming aan die linkerkant van haar liggaam kom, het die dokters eers gedink dis polio. In die hospitaal het hulle egter vasgestel dit was 'n ligte beroerte en dat 'n operasie nodig sou wees. Sy was ses weke in die hospitaal en moes haar noodgedwonge aan Gluckman se produksie onttrek. Met die teater wat indertyd morsdood in Johannesburg was, besluit Uys en Lydia dat dit vir Lydia se teaterloopbaan belangrik is om meer en groter rolle te kry. Daarvoor was Kaapstad met sy talle teaters die aangewese plek. Vir Uys was dit 'n gelukkige besluit. Hoewel hy van Johannesburg gehou het, wou hy graag terugkeer na die omgewing van sy kinderjare en nader aan sy bakermat wees. In Februarie 1950 vertrek hulle dan na Kaapstad, waar hulle hulle aanvanklik in 'n huis in St James aan die Valsbaaikus en later in Rouwkoopweg, Rondebosch, vestig. Eulalia is in Bloemhof op Stellenbosch op kosskool geplaas, iets waarvan sy nie gehou het nie, terwyl Tai in Rondebosch op skool was. Van vroeg af het hy, naas sy prestasies in die klas, soos sy oupa en sy vader uitgeblink in sport en op dertienjarige ouderdom was hy die topgimnas van die hele skool. Die gasvrye huis in Rouwkoopweg was dikwels propvol gaste wat Uys van orals saamgesleep het. Hierdie vriende het dikwels aangehou gesels, of liewers, geluister na Uys, lank nadat alle openbare vervoer in die Skiereiland tot stilstand gekom het, en dan eenvoudig vir die nag in een van die dubbelkamers ingeduik. By geleentheid was Guy Butler saam met Anthony Delius twee van die baie gaste. Guy het aan die slaap geraak met die klank van Uys wat met iemand praat. Toe hy wakker word, hoor hy Uys se stem wat vir iemand onderweg na die badkamer vra: ‘En wat dink jy van Aristoteles se drie dramatiese eenhede?’Ga naar eind51. Op 'n keer het die skrywer Jack Cope se driejarige seuntjie aan sy ouma gevra: ‘Does Mister Krige stop talking when he's asleep?’Ga naar eind52. In Kaapstad ontwikkel Lydia tot een van die belangrikste drama- | |
[pagina 407]
| |
tiese aktrises wat die Suid-Afrikaanse toneel ooit gehad het. In Mei 1950 tree sy op in die Nasionale Toneelorganisasie se aanbieding van Hassan, terwyl sy in 1951 in die Klein Teater die hoofrol vertolk in Lorca se The house of Bernarda Alba. In dieselfde jaar speel sy in die Labia saam met Johann Nell in The witch, 'n aanpassing van 'n Noorweegse stuk deur John Masefield. In 1952 neem sy deel aan 'n produksie van Aristophanes se Lysistrata. Uys is in hierdie jare vrugbaar aan die skryf. Hy hou ook baie openbare voorlesings oor onderwerpe wat wissel van die oorlog en die literatuur tot die politiek. In 1951 saai hy 'n reeks praatjies uit onder die titel ‘From a writer's notebook’, wat 'n groot omvang en verskeidenheid in vorm en onderwerpe insluit. Naas kortverhale, prosasketse, reisindrukke, vertalings van Afrikaanse literatuur en praatjies oor die poësie van verskillende digters en lande lewer hy kort essays oor Suid-Afrikaanse temas, soos ‘The charm of Cape Town’, ‘The character of Johannesburg’ en ‘The beauty of the Karoo’. Hy hou die praatjies so lig, spontaan en natuurlik moontlik. Nog vóór sy vertrek uit Johannesburg verskyn van hom by die Unie-Volkspers 'n bundel met drie eenbedrywe. Daarin neem hy Fuente sagrada op, wat hy reeds in Desember 1939 in Kaapstad voltooi het, 'n spel wat, ten spyte van sy tekortkominge, voluit teater is, veral, soos André P. Brink dit stel, deur ‘die lang optog van hawelose mense wat woordeloos oor die verhoog trek’.Ga naar eind53. Die grootkanonne, wat in die November 1946-uitgawe van Vandag verskyn, is 'n geestige maar te woordryke ‘dronkemansburlesk’,Ga naar eind54. al is dit opvallend hoe Krige, tussen die baie woorde van sy dronk karakters deur, verby die beperktheid van Afrikanerwees na 'n groter menswees uitreik en só weer sy groot ideaal formuleer: Suid-Afrika...Nie twee miljoen inwoners nie...maar twaalf miljoen...nie net een ras of volk nie...maar verskeie...Daar sal 'n lig opgaan vir almal wat ons mooi land bewoon...In vrede met mekaar sal ons ons brood eet...En vir almal sal daar genoeg brood wees...So alleen kan en sal Suid-Afrika groei en bloei. ...Die hart ken geen grense nie...die liefde laat hom nie bind of boei nie...Ga naar eind55. 'n Geestige newemotief in dié stuk is hoe die twee soldate met tevredenheid terugkyk op wat hulle met hul deelname aan die Tweede | |
[pagina 408]
| |
Wêreldoorlog vir die land gedoen het, terwyl die sedige burgers van Stellenbosch - waar die stuk afspeel - voortgeslaap en vanuit sekere hoogtes - identifiseerbaar as Nasionale en Broederbond-hoogtes! - op hulle neergekyk het.Ga naar eind56. En in hulle verbeelding herleef die twee soldate weer hoe die Italiaanse kleinboere, in hulle eenvoud ‘so goed soos brood’, hulle gehelp en saam met hulle op die pleintjies van vreugde oor die afloop van die oorlog gedans het. Daar kom 'n weemoed oor hulle as hulle terugdink aan die pragtige nooiens wat hulle in Italië moes agterlaat, 'n passasie waarin die name van dié nooiens, ‘Diana...Paola...Marella...Rosamonda...’,Ga naar eind57. Krige se vertaling van Villon se ‘Ballade van die dames van weleer’ in herinnering roep. Alle paaie gaan na Rome, wat hy ook in 1946 skryf en wat hy sommer ‘voor die voet’ feitlik in een ‘asemtog’Ga naar eind58. voltooi, is een van Krige se allerbeste eenbedrywe. Dit berus op 'n ervaring van iets wat min of meer werklik ná sy terugkeer na Italië in Augustus 1944 met hom gebeur het. In sy onderhoud met Jan Rabie vertel hy: Dit was 'n ou vrou van die Abruzzi-gebergtes wat daar op die pleintjie van die verinneweerde dorpie gestaan het en ons kom verby en sy wil nog inklim in my motor en twee meisies spring voor haar in - en hier gee my bestuurder vet, want die motor is vol en ek sien hoe staan die ou vrou daar bedremmeld en alleen op die pleintjie wat 'n rooigeel glans begin kry in die sonsondergang. Kort daarna hoor ek van 'n Abruzzi-vrou wat ná die Italiaanse Wapenstilstand vyf seuns verloor het omdat hulle van ons krygsgevangenes gehelp het. En toe begin dié twee vroue spook in my gees; en toe ek 'n jaar later in Johannesburg iets oor hulle wil skrywe, word daardie twee vroue een vrou en ek plaas 'n dogtertjie langs haar op die plein sodat my eenbedryf nie dalk 'n monoloog word nie - en voor ek my kom kry, is my stuk van meer as 20 bladsye kant en klaar geskryf.Ga naar eind59. Die eenbedryf handel net oor een gebeurtenis uit die Tweede Wêreldoorlog: 'n ou vrou wat teen die einde van die oorlog in Italië saam met haar stom kleindogter langs die pad wag in die hoop dat een van die verbygaande trokke hulle sal oplaai en na Rome sal neem waar 'n dokter die kind moontlik sal kan genees. Verby hierdie enkele gebeurtenis word die geweld en leed van die oorlog verder sigbaar in | |
[pagina 409]
| |
die ou slagspreuke wat nog orals op die mure geverf is en in die verwoesting en menslike ellende wat uit die puin en vervalle huise blyk. Daarteenoor staan die ongeskonde beeld van Maria met die Christuskind en die ‘sneeupiek’ van die Apennyne, vir die mens skynbaar onbereikbaar ver. Wanneer die klokke aan die einde lui, is dit, volgens die woorde van die ou vrou, nie net in Italië nie, maar ‘oral in Europa waar daar nog kerke staan, ...oor die koue verwoeste wêreld’Ga naar eind60. [my kursivering - JCK]. Daarmee verkry die stuk 'n groter draagwydte as wat die enkele episode 'n mens aanvanklik laat vermoed. Wat 'n mens verder in die eenbedryf waardeer, is die strakheid van bou, die karakterteenstellings in die verskillende soldate se optrede en boweal die karakter van die ou vrou wat volkome onselfsugtig haar eie leed laat opgaan in haar diep gevoel van medelye met die mensdom. Opvallend telkens by Krige, soos ook hier weer, is die diepe teerheid, sonder enige element van sensualiteit, waarmee hy sy vrouekarakters uitbeeld, meestal sterk figure soos sy eie moeder. Wanneer hy die eenbedryf ná voltooiing aan Sannie Uys voorlees, is sy in vervoering daaroor en sê sy aan hom dit is die beste ding wat hy nog geskryf het.Ga naar eind61. 'n Besondere moment in Alle paaie gaan na Rome kom wanneer die vrou aan een van die soldate vertel dat al vyf haar seuns, wat hulp aan die bevryde Geallieerdes verskaf het, deur die Duitsers met 'n masjiengeweer afgemaai is. Op die uitroep van die soldaat aan sy maat of hy dit gehoor het en sy vraag: ‘En wat kan jy vir haar sê? Wat kan jy vir haar doen?’, is sy maat se antwoord: ‘Daar's niks wat jy kan doen...of sê...’Ga naar eind62. In sy abruptheid, sy bynastameling, is dit een van die aangrypendste momente in die hele Krige-oeuvre. Die gebeure in Die sluipskutter, nog 'n eenbedryf wat Krige in hierdie tyd skryf, is gebaseer op die werklike ervaring van sy vriend Gerhard Cohn, 'n Suid-Afrikaanse Duitse Jood, aan wie hy die stuk opdra.Ga naar eind63. Die presiese besonderhede het hy egter nooit aan iemand vertel nie, waarskynlik om die identiteit van die betrokke leëroffisier te beskerm. Dit is die verhaal van die ferm en konserwatiewe kolonel Venter wat, ten spyte van die teenstand wat hy van die humane kaptein Meyer kry, 'n Duitse soldaat, onder die indruk dat hy 'n sluipskutter is en een van sy manskappe doodgeskiet het, summier laat fusilleer. Aan die slot kom Elena, die Italiaanse vrou wat die Duitser verpleeg het, met verbande en handdoeke op die verhoog om haar plig te kom doen, terwyl Venter - sy plig, soos hy dit interpreteer, | |
[pagina 410]
| |
pas afgehandel - sy rewolwer bêre. Elena word bewustelik op die agtergrond gehou, net om in haar volle menslike waardigheid aan die slot te verskyn. Sy is feitlik die vergestalting van Venter se gewete, die persoon aan wie hy verantwoording sal moet doen. En met haar vraag, ‘Waar is daardie seun?’,Ga naar eind64. eindig die spel op 'n dramatiese hoogtepunt. As 'n mens kan sê dat Alle paaie gaan na Rome die leser veral meevoer met die sterk gestalte van die ou vrou en die wyse waarop sy vir die hele duur van die stuk haar menslikheid en altruïsme uitstraal, is Die sluipskutter deur die sterk spanning tussen Venter en Meyer en die jukstaponering van Venter en Elena aan die slot Krige se oortuigendste stuk dramatiek. Hoewel Elena 'n kleiner rol vertolk in Die sluipskutter as die ou vrou in Alle paaie gaan na Rome, is daar 'n opvallende ooreenkoms tussen die twee karakters. In dié verband maak Charles Eglington in sy profiel van Krige 'n boeiende uitspraak. Hy meen dat sowel J.M. Synge as Federico García Lorca invloed op Krige se eenakters uitgeoefen het. Hy noem Riders to the sea en Bodas de sangre (Bloedbruilof) as voorbeelde en skryf: ‘Die Ier en die Spanjaard het sekere dinge gemeen: albei soek hul inspirasie in die lewe en taal van eenvoudige boermense; albei sien in eenvoudige mense fundamentele waardes, wat in die meer verfynde tydgenote ontbreek; hoewel hulle hul dramas in prosa skryf..., verhoog albei die spanning van hulle figure se taal tot poësie. ...Synge se Ierse en Lorca se Spaanse vrou verkry, in die stryd met beproewing en teistering, die amper simboliese universaliteit van die oermoeder.’Ga naar eind65. In aansluiting by die masjiengeweer-dood van die seuns van die ou vrou in Alle paaie gaan na Rome skryf Krige die verhaal ‘The charcoal burners’, wat hy later in Afrikaans as ‘Die Carbonari’Ga naar eind66. vertaal. Dit is die aangrypende relaas, as 'n raamvertelling aangebied soos aan Krige vertel deur sy vriend Denis, wat deur die twee Tucci-broers na vryheid begelei is. Wanneer Denis tydens 'n besoek aan Rome ná afloop van die oorlog by die Allied Screening Commission navraag doen oor wat van sy Italiaanse vriende geword het, moet hy hoor dat die twee Tucci's onder dié was wat deur die Duitsers of Swarthemde doodgeskiet is omdat hulle hulp aan krygsgevangenes verleen het. Saam met ‘Dood van die Zoeloe’ is ‘Die Carbonari’ Krige se sterkste kortverhaal met die Tweede Wêreldoorlog as tema; saam vorm die twee verhale en die twee eenbedrywe oor die oorlog 'n indrukwekkende vierluik. Vir ‘The charcoal burners’ ontvang Krige in 1951 die eerste prys van £250 in die New York Herald Tribune se | |
[pagina 411]
| |
World Short Story Competition. Dit word in meer as twintig tale vertaal en is saam met ‘Death of the Zulu’ sy grootste internasionale sukses. Soos Krige later van sy Engelse werk in Afrikaans oorsit en in dié proses verbeter, begin hy in die jare ná sy terugkeer van Europa telkens van sy ouer werk hersien en skaaf. Met die oog op bundeling saam met Die sluipskutter in 1951 hersien hy weer Die ongeskrewe stuk, al meen Guy Butler dat dié eenbedryf, ten spyte van die goeie idee en die plek-plek skitterende dialoog, te omslagtig is en dat byna elke karakter soos Krige self praat.Ga naar eind67. Met die jare sou Krige haas al sy eenbedrywe deeglik hersien, telkens die dialoog nader aan die spraakwerklikheid bring, en opnuut in twee bundels, Vier eenbedrywe (1967) en Die wit muur en ander eenbedrywe (1973), uitgee. Alle paaie gaan na Rome ondergaan met die jare nie minder nie as agt gedaantewisselings, veral omdat Krige aanvanklik opgeskeep gesit het met die verskillende nasionaliteite van sy soldaatfigure en daarom gedeeltes van die dialoog vanaf die tweede uitgawe in Engels vertaal het. Vir die finale uitgawe van 1967 gee hy weer alles in Afrikaans. En met die jare word van sy eenbedrywe telkens deur amateurgroepe dwarsdeur die land gespeel. In 1952 voer die Belgiese regisseur Fred Engelen Die wit muur met groot sukses in die Koninklijke Nederlandsche Schouwburg in Antwerpen op, terwyl Helen Faul dit omtrent dieselfde tyd met 'n Afrikaanse groepie in Utrecht speel.Ga naar eind68. In Mei 1949 werk Krige aan 'n teks in Engels vir 'n film oor The Great Trek, waarin hy die Trek as ‘one of the epics of the world’, 'n verhaal van moed en uithouvermoë, wou sien. Hy wou nie 'n eensydige hagiografie van die Trekkers maak nie - ‘they were sinners not saints’ - en daarby regverdig wees teenoor die Zoeloe-perspektief op die gebeure. Van die teks het negentien bladsye bewaar gebly, maar blykbaar het Krige dit nooit voltooi nie. 'n Ander rigting waarin Krige nou, ná die internasionale sukses van The way out, begin te werk, is om van sy Afrikaanse verhale en eenbedrywe in Engels te vertaal en by voorkeur deur Britse of Amerikaanse firmas te laat uitgee en bemark. Reeds in 1948 vertaal hy Die arrestasie, Fuente sagrada, Die sluipskutter en Alle paaie gaan na Rome in Engels en stuur hy dit aan Jack Barkham, sy ou vriend wat indertyd in 1931 saam met hom per skip oorsee is. Maar Barkham reageer nie gunstig op dié vertalings nie. In 'n brief van 22 September 1948 sê hy dat die wêreld nie meer geïnteresseerd is in die soort problematiek | |
[pagina 412]
| |
van byvoorbeeld Die sluipskutter nie, 'n uitspraak waarby 'n mens 'n vraagteken kan stel. 'n Belangriker beswaar lê egter vir Barkham in die dialoog. Hy meen dat Krige reeds Engels merkwaardig goed skryf, maar ‘plays are meant to be spoken, and you have not yet developed that familiarity with colloquial English that will make your dialogue sound absolutely right’. Blykbaar moes Krige die geldigheid van dié beswaar ingesien het, want hy laat die Engelse vertaling van sy eenbedrywe vir eers links lê. Eers in 1962 word dit, maar dan by die plaaslike uitgewer HAUM en nadat hy die dialoog weer sorgvuldig hersien het, as The sniper and other one-act plays gepubliseer. Met 'n ander oorsetting uit Afrikaans in hierdie jare is Krige gelukkiger. Van sy beste verhale in Afrikaans, soos ‘Die doodkis’ en ‘La Miseria’ en die eenbedryf Alle paaie gaan na Rome, neem hy saam met ‘Death of the Zulu’, ‘The charcoal burners’ en ‘The dream’, wat hy vroeg in die vyftigerjare voltooi het, op in The dream and the desert, wat in 1953 by Collins in Londen verskyn en ook in die Verenigde State van Amerika versprei word. Veral in Amerika word die bundel uiters gunstig ontvang. Die New York Herald Tribune Book Review praat van Krige as ‘a mature and authoritative talent...In a sense all these stories transcend the limits of mere location and situation; in fact, they are celebrations of the human spirit responding to immediate crises or to larger fateful pressures ...’ Die Boston Sunday Post skryf: ‘Written with a tremendous sweep, full of a strange and haunting beauty, these tales are outstanding.’ Die Christian Science Monitor sê: ‘Uys Krige's message is for all men. For throughout his work there is threaded an intense love for mankind - a compassion for his fellowman in default as well as in triumph. Even when he focuses upon frailties and shortcomings, it is with the utmost gentleness and understanding that he treats his characters.’ En die Boston Sunday Herald noem die verhale ‘Superlative shorts...each of the eight episodes in this book could stand out as masterpieces of literature. The construction of all of them is polished and brilliant, their characters are brought to life truely and with lifelike colours, and the dialogue and narrative are executed with simplicity and clarity.’ Met publikasies soos The way out en The dream and the desert ontwikkel Krige tot die suksesvolste tweetalige skrywer wat die Afrikaanse letterkunde nog gehad het, al het hy telkens gesê dat die Afrikaanse weergawe van sy verhale vir hom persoonlik meer bevredig | |
[pagina 413]
| |
en dat 'n skrywer nie goeie gedigte in sy tweede taal kan skryf nie.Ga naar eind69. Sy standpunt is dat terwyl prosa die taal van die verstand en die rede is en die prosaskrywer meer objektief, beskouend en betragtend te werk gaan, is die digter meer subjektief, ‘met die vertolking, die beklemtoning van sy eie persoonlikheid, sy eie individualiteit, sy eie essensiële self’.Ga naar eind70. Krige se voorloper as tweetalige skrywer is C. Louis Leipoldt, wat sy Common sense dietetics en Bushveld doctor met groot sukses deur Britse uitgewers kon laat uitgee, maar wat tevergeefs geprobeer het om sy bellettristiese werk, sy Valley-romans en The ballad of Dick King and other poems, internasionaal te bemark.Ga naar eind71. The ballad of Dick King verskyn wel in 1949, kort ná die digter se dood. Hoewel die gedigte daarin nie die peil van Leipoldt se allerbeste Afrikaanse verse bereik nie, is daar tog enkele goeie gedigte in die bundel en kan 'n mens die vraag stel of Krige se afwysing van die moontlikheid van goeie poësie in 'n tweede taal in die lig van so 'n voorbeeld steek hou. Soos Leipoldt met romans soos Galgsalmander en Die dwergvroutjie het Krige nou ook, maar dan met groter sukses, begin om van sy beste prosawerk in Engels te vertaal. Saam met die wyse waarop hy telkens besig was om reeds gepubliseerde werk opnuut te hersien en uit te gee, het dit van Peter Blum in 'n brief aan Ernst Lindenberg die opmerking ontlok dat Krige ‘al die laaste 10 jaar boeke uit sy ouer boeke’Ga naar eind72. maak. So 'n opmerking, hoe gevat dit ook al mag wees, is net 'n gedeeltelike waarheid, want in hierdie jare is Krige naas hersienings en vertalings van eie werk ook driftig met eie nuwe skeppinge aan die gang. Daarby moet 'n mens onthou dat Krige as voltydse skrywer sy bestaan uit sy geskrifte moes maak en dat hy, naas veelvuldige bydraes tot 'n menigte koerante plaaslik en oorsee, ook sy skeppende werk moes inspan om vir hom te verdien. En wanneer die produk, soos hier, 'n geslaagde werk is wat allerweë gunstig ontvang is, kan daarteen geen beswaar wees nie en moet 'n mens Blum se opmerking maar afmaak as 'n uiting van sy sub-Donouse humor. Maar ook op 'n ander gebied raak Krige, noudat sy bundel Vir die luit en die kitaar op die pers is, weer werksaam: die vertaling van poësie. By geleentheid het hy gesê een van die redes vir sy baie vertalings is dat hy graag wil getuig van dít wat in die rykdom van ander kulture aan hom gegun is. Daarby help vertaling die digter om sy ‘gereedskap’ blink te hou en sy ‘tegniek’ te beoefen totdat hy weer gereed is om self skeppend op te tree.Ga naar eind73. Sy ervaring is dat die Afrikaanse taal so fris en lewendig, so soepel en plooibaar is, dat dit | |
[pagina 414]
| |
besonder geskik is as vertaalmedium, veral om die Spaanse welluidendheid en klankrykheid oor te dra wat so dikwels in Engelse vertalings verlore gaan.Ga naar eind74. Reeds tydens sy verblyf by die Campbells in Martigues in 1933 het Krige en Mary Campbell saam die Spaans-Amerikaanse digters uit 'n bloemlesing gelees en het hy onder die indruk gekom van hulle werk. Tydens die oorlog het Charles Eglington hom in 1945 in Kaïro weer op dié digters attent gemaak. Die meeste van die gedigte, wat hy eers in 1969 onder die titel Spaans-Amerikaanse keuse sou bundel en wat M.M. Walters ná sy dood in Spaanse dans (1991) sou versamel, vertaal hy reeds in die veertigerjare en baie van hulle verskyn op Saterdae in die byvoegsel van Die Burger en in tydskrifte. Wat Krige pakkend vind in die werk van die Chilene Vincente Huidobro en Pablo Neruda, die Peruaan César Vallejo, die Kubaan Nicolás Guillén en Jorge Carrera Andrade van Equador, is die wyse waarop hulle die tradisies van Europa absorbeer, maar dan in hulle eie verse transformeer. So byvoorbeeld is die Spaans-Amerikane geen rasegte surrealiste nie, maar maak hulle dikwels in hulle gedigte gebruik van sekere surrealistiese vondste of ‘ontblotings’ wanneer dit vir die vertolking van hulle diepste gevoelens noodsaaklik is.Ga naar eind75. Dit is duidelik, ook uit die groot aantal verse wat vertaal word, dat naas Neruda veral die poësie van Andrade baie sterk tot Krige gespreek het. Terwyl hy, ten spyte van sy groot verering vir sy moeder, self nooit tot 'n gedig oor haar kon kom nie, hoewel 'n mens haar gestalte agter 'n hele paar vrouefigure in sy werk sien verrys, kon hy haar nou deur sy vertalings uit Andrade vereer. In ‘Tweede lewe van my moeder’ is die moeder Kompas van my lang aardse soektog.
Bron van my bloed en my bestemming, fontein van my drif, my streweGa naar eind76. [,]
en in ‘Biografie vir die gebruik van die voëls’ word haar jong gestalte bewonder: My moeder, geklee in die sonsondergang,
het haar jeug bewaar in 'n diep kitaar
en slegs party aande het sy dit aan haar kinders gewys
gehul in musiek, in lig en haar sagte woorde.Ga naar eind77.
| |
[pagina 415]
| |
So sterk het hy hom ingeleef in Andrade se werk dat hy 'n gedig soos ‘Bergwêreld’Ga naar eind78. kon transponeer na 'n Overbergse ‘rûensplaas’, soos ook die mooi beeld in die derde strofe van ‘Die gars-oes’: Ook 'n ander digter wat hy eers betreklik laat ontdek en in die winter van 1949 in Kaapstad begin lees, spreek onmiddellik met 'n ‘skok van herkenning’Ga naar eind80. tot hom. Dit is die Fransman Paul Éluard. Binne drie weke vertaal hy meer as veertig van Éluard se gedigte, maar dit duur tot 1962 voordat Éluard en die Surrealisme in boekvorm verskyn. Wat hom in Éluard tref, is die frisheid, varsheid, ongereptheid en daarby die eenvoud van die poësie, al skram hy nie weg van die gruwele van sy tyd nie. Soos Krige self reageer Éluard ook op snobistiese akademici, terwyl sy kommunisme nie doktrinêr is nie, maar uit 'n diep gevoel vir die gewone mens groei. Kees Greshoff, die seun van Jan Greshoff, wat Frans aan die Universiteit van Kaapstad doseer, help Krige met sekere vertalings en om die Éluard-tekste in die hande te kry. In 'n ongedateerde brief aan Jan Greshoff skryf Krige: ‘Elke middag neem ek my siesta. So tussen waak en indut lees ek dan 'n gedig van Éluard. En dadelik glip hy dan in sy Afrikaanse gedaante in. Eers later - as ek wakker word of die dag daarna - skryf ek hom dan neer. Het 'n hele nuwe reeks klaar. Waar gaan dit ophou?’ Vir die Afrikaanse poësie was Krige se Éluard-oorsettings 'n belangrike gebeurtenis. Afgesien van die intrinsieke waarde van die vertalings self het dit jong digters bekend gestel aan 'n skat poësie waarby hulle andersins nie sou uitgekom het nie. Ingrid Jonker se poësie is byvoorbeeld ondenkbaar sonder die bevrugtende invloed van Éluard. Dit is reëls soos die volgende wat sterk tot Jonker moes gespreek het: Jou oë waarin ek reis
Het aan die gebare van die paaie
'n Koers gegee afsydig van die aarde[,]Ga naar eind81.
en: | |
[pagina 416]
| |
en: Dae wat so traag is, dae van reën,
Dae van gebroke spieëls en verlore naalde,
Dae van ooglede geslote vir die seë se einders,
Van ure wat almal eners is, dae van gevangenis[,]Ga naar eind83.
en: Die bote van jou oë raak verlore
In die kantwerk van verdwyninge
Die afgrond lê bloot aan andere om dit te oorbrug
Die skaduwees wat jy skep het geen reg nie op die nag.Ga naar eind84.
En die volgende reëls was die ingewing tot die titel van Chris Pelser se verhaalbundel Soveel nagte plotseling (1991): Hier het ek my deel aan die skaduwees
Geheime vertrek sonder slot sonder hoop
Ek klim terug in die tyd tot die ergste afwesighede
Hoeveel nagte plotseling
Sonder vertroue sonder 'n mooi dag sonder horison
Wat 'n afgeknaagde gerf[.]Ga naar eind85.
Met sy vestiging in Kaapstad keer Krige hom nou ook weer na die poësie van Lorca, wat een van sy groot liefdes bly. Hy vertaal byvoorbeeld ‘De poema de la soleá’ as ‘Dorre aarde’, wat hy omskryf as ‘een van Lorca se geslaagde pogings om op sy eie verfynde en hoogs moderne manier 'n vertolking te gee van die populêre Andalusiese volkslied en -dans, die Solear of Soledad’:Ga naar eind86. | |
[pagina 417]
| |
Dorre aarde,
stille aarde
van nagte
reusagtig
oor alle gaarde.
(Wind uit die noorde,
wind deur die boorde.)
Eeue-oue
aarde
van die lamp
en die kleed
en die angs
en die leed.
(Wind wat daar ruis
oor stal, oor huis.)
Aarde van
die eensame hutte
en die diep
diep putte.
Van die ou-ou lied
droewig geboë
oor die dood
sonder oë.
(O wind aan 't waaie
oor alle paaie ...)Ga naar eind87.
Krige se Verse van Lorca verskyn eers in 1987, enkele maande ná sy dood. Maar die tweede van Lorca se groot dramas, Yerma, die tragedie van gedwarsboomde moederskap, begin hom nou boei, 'n stuk wat hom in sy enkelvoudigheid aan die werk van die groot Grieke laat dink. Reeds in 1937 het Arnold vir hom 'n vroeë, gebrekkige Suid-Amerikaanse uitgawe van Yerma uit Santiago saamgebring en sedertdien het hy die stuk telkens herlees. Op aanbeveling van dr. F.C.L. Bosman begin hy Yerma nou vertaal. In 'n brief van 18 Februarie 1952 aan P.P. Breytenbach van die Nasionale Toneelorganisasie, wat in 'n opvoering van die stuk belanggestel het, laat weet hy dat Yerma klaar is en dat Opperman soveel daarvan hou dat hy dit in drie aflewerings | |
[pagina 418]
| |
in Standpunte wil publiseer. Enrique Jorda, dirigent van die Kaapstadse Simfonieorkes, wil spesiaal musiek daarvoor komponeer, Dulcie Howes sal die ballet doen en Leon Gluckman, wat die stuk al jare lank goed ken, wil dit afrig. Ook Leonard Schach stel belang om as regisseur op te tree. Yerma verskyn in Standpunte,Ga naar eind88. maar dit duur tot 1963 voordat Krige dit, nadat hy die vertaling weer 'n paar maal sorgvuldig deurgegaan het, in boekvorm laat verskyn. In die lang ‘Waardering’ wat hy aan die slot byvoeg, het hy veral lof vir die wyse waarop Lorca alles in sy drama tot 'n eenheid saamtrek. ‘In Yerma, soos in die meeste Griekse tragedies,’ skryf hy, ‘is alles kern en pit, toegespitsheid; het taal, karakter- en situasietekening, peripeteia en handelingsverloop, tema alles, ja, alles, selfs die twee afleidende tussenspele, 'n regstreeksheid, 'n reglynigheid wat 'n mens aan die boegspits van 'n slagskip laat dink: hy kom pylreguit op jou af, jy kan hom nie ontsnap nie.’Ga naar eind89. En dan die figuur van Yerma vir wie hy nooit moeg word nie: Steeds staan hierdie tragiese vrouefiguur in haar vertwyfeling, tweespalt en smart, in haar uiteindelike wanhoop en ontsettende verlatenheid, toringhoog in my gees. Veral, meen ek, omdat sy deur haar skepper gesien is met 'n diepe poëtiese begrip en insig en met 'n oneindige deernis. Terwyl hy in 1948 nog in Johannesburg woon, begin Krige met sy eerste vollengtedrama ná Magdalena Retief: Die twee lampe. Hy baseer dit op sy moeder se kortverhaal ‘Die vader’, wat op sy beurt steun op | |
[pagina 419]
| |
een van hulle Overbergse voorsate, Pieter ‘Rooibaard’ Swart, wat met 'n nooi Uys getroud was.Ga naar eind91. Dit is die geskiedenis van 'n outokratiese vader wat deur sy eensydige beklemtoning van harde werk en spaarsaamheid alle menslikheid en liefde uit sy lewe weer en deur sy kortsigtige optrede sy twee seuns na selfmoord dryf. Die gebeure speel af in die dae toe daar nog 'n groot hawe by die monding van die Breërivier was, 'n wêreld wat Krige in sy kinderjare goed geken het. Die gegewe van die drama is pakkend en die botsing tussen oom Gert en sy seun Frans is plek-plek aangrypend. Veral die figuur van die visserman Erik met, soos André P. Brink dit stel, ‘sy oorweldigende lewenskrag en kleurryke, ruim-menslike vermoë om voluit te lewe’,Ga naar eind92. is skitterend en een van die mooiste en oortuigendste karakters in Krige se dramatiese oeuvre. Ook die teer jong liefde tussen Frans en Ilse word sensitief uitgebeeld. Met sy vertaling van die drama as The two lamps, wat in 1964 verskyn, wen Krige die Amerikaanse Rosamund Gilder-toekenning vir een van die twee beste vertaalde toneelstukke uit die vasteland van Afrika. Met die herhaalde opvoerings deur amateurgeselskappe, sowel in Afrikaans as in Engels, kon Krige heelwat leer en baie van die haakplekke in die finale Afrikaanse uitgawe uitskakel. Dié teks dateer hy as 11 Mei 1967, maar dit word eers in 1975 deur Human & Rousseau gepubliseer. Die finale teks is 'n groot verbetering op die eerste, wat in 1951 by die Afrikaanse Pers-Boekhandel verskyn het. Die basiese probleem kon Krige egter nie met die hersiening wegwerk nie. Oom Gert het in die drama geen werklike antagonis nie en, ten spyte van die oomblik se insig ná die pleitrede van Cornelia, kom die hoofkarakter nie tot 'n werklike ommekeer in sy optrede nie, iets wat bevestig word deur die slot, waar hy onverbiddelik die naam van sy seun in die geslagsregister deurhaal. Die eerste professionele opvoering van Die twee lampe open eers op 23 September 1966, vyftien jaar ná die publikasie van die stuk, in die Bellvillese Burgersentrum wanneer die Kaaplandse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK) dit onder spelleiding van Pietro Nolte en met onder andere Ernst Eloff en Jannie Gildenhuys as spelers aanbied. Die vraag ontstaan waarom die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) nie in die vyftigerjare in 'n produksie van die stuk belanggestel het nie. Dit is wel voorgelê, maar die bestuur het beslis dat die handelingsverloop van die drama 'n te groot ooreenkoms toon met Eitemal se So praat die ou rivier, wat hulle wél opgevoer het. Dat hierdie | |
[pagina 420]
| |
uiters debatteerbare verwantskap net 'n rookskerm was vir die eintlike beswaar, word duidelik uit die verdere argumente wat die anonieme keurder verstrek. Volgens hom is die selfmoord van Sybrand nie sterk genoeg gemotiveer nie. Dat Erik twyfel aan ‘God en sy gebod’, kan 'n mens in die lig van sy oortuigend getekende karakter aanvaar. Dat Sybrand egter later ook ongelowig word, ‘gee aanleiding tot 'n hinderlike en oppervlakkige geredekawel oor die godsdiens’. En dan kom die keurder te voorskyn met sy eintlike beswaar: ‘Twee ongelowige karakters in een stuk is 'n bietjie te veel vir ons plattelandse gehore met 'n godsdienstige kern wat gerespekteer moet word. Sybrand wat dan nog so heftig uitvaar teen die God van sy vader sal beslis aanstoot gee.’Ga naar eind93. Kort ná sy aankoms in Kaapstad begin Krige ook aan 'n tweede drama in drie bedrywe te werk, hierdie keer 'n komedie wat in die distrik Wellington afspeel en waarin hy die geleentheid het om ook die natuurskoon van die Boland in die lente te betrek. Hy begin dié toneelstuk, wat hy Die ryk weduwee sou noem, in 'n tydperk wanneer hy met al die spanninge in sy huwelik nie gelukkig voel nie. Met die komedie wat hy aanpak, skryf hy hom egter uit sy onmiddellike omstandighede weg. Sy karakters begin weldra in sy verbeelding te dans en hy besef dat hulle as 't ware besig is om hulle eie rolle te skryf. Van die tonele lees hy in die eetkamer van hulle huis in Claremont aan sy vader voor, 'n stil en teruggetrokke man wat ná sy studiejare seker nie 'n halfdosyn dramas gelees het nie. Meermale het sy vader lank en lekker gelag en soms geskaterlag. Toe Krige dit op uitnodiging aan 'n groep van twintig intellektuele wou voorlees, het sy moeder hom daarteen gewaarsku. Hy het tog gegaan, net om tydens die voorlees 'n knop op sy maag te kry by die gevoel, soos hy dit later sou stel, dat hy ‘voor twintig dowe- of dooiemansdeure te staan gekom (het)’.Ga naar eind94. Van die besware teen die stuk in die bespreking wat op die voorlees gevolg het, was teen ‘al die klavierspelery’ op die verhoog. Toe hy in antwoord op 'n ander beswaar hom op die grote Molière beroep, was die antwoord: ‘Maar Molière is myns insiens 'n baie oorskatte dramaturg!’ 'n Paar weke later het hy die stuk weer voorgelees, dié keer voor 'n minder uitgesoekte groep, maar almal liefhebbers van die toneel. Ná afloop van die verrigtinge sê Audrey Blignault aan hom: ‘Maar jou stuk, Uys, is fris en vars...Dit klink asof dit deur 'n jong man geskryf is, dis so springlewendig ...’ Toe Krige Die ryk weduwee in 1951 vir die groot toneelwedstryd ty- | |
[pagina 421]
| |
dens die Van Riebeeck-fees inskryf, deel hy die tweede prys van R600 met die skilder en dramaturg Johannes Meintjes, terwyl W.A. de Klerk en Gerhard J. Beukes gesamentlik die eerste prys van R1 000 vir hulle onderskeie toneelstukke ontvang! Die landswye toer van die stuk deur die NTO begin in Januarie 1953 in die Johannesburgse Biblioteekteater. The Rand Daily Mail en Die Vaderland het die opvoering feitlik verdoem, maar die ander koerante was onmiddellik geesdriftig en het gesê die stuk sal dwarsdeur die land 'n sukses wees. Dit is inderdaad wat gebeur het. 'n Maand later kon Die Transvaler praat van Die ryk weduwee se ‘triomfreis op die platteland’. Wanneer die stuk in Kaapstad opgevoer word, het Lydia Lindeque ook die geleentheid om dit te sien. In 'n brief aan Uys, wat in daardie stadium oorsee was en die opvoering nie self kon bywoon nie, sê sy die stuk is 'n groot sukses, van watter gesigspunt ook beskou. Hy het 'n ‘comedy of manners’ geskryf wat groot byval vind by die gehoor. Elke rol gee die speler vrylik die geleentheid om sy beste na vore te bring, daar is feitlik nie 'n ondergeskikte rol in die stuk nie en die spelers het pragtig op sy uitdaging gereageer. Daar is iets vir almal in Die ryk weduwee, het Lydia bygevoeg; in die week ná die opvoering het 'n hele verskeidenheid mense - 'n regter, onderwyser, dokter, verpleegster, timmerman, joernalis en skoolkind - met haar gepraat oor die genot wat die stuk hulle verskaf het.Ga naar eind95. Ná die Kaapse periode is die stuk ook na die destydse Suidwes-Afrika. Meer as 100 000 mense het die opvoerings bygewoon en die stuk het meer as R50 000 ingeoes, die grootste inkomste wat die NTO ooit uit 'n produksie ontvang het. Wat vir Uys 'n besondere riem onder die hart was, is die waarderende briewe wat hy van Opperman en Izak van der Merwe (Boerneef) ontvang het. Uit Grahamstad laat weet Rob Antonissen hom dat hulle opvoering van Die ryk weduwee 'n groot sukses was, met 'n vol saal ‘én 'n end-uit méélewende en geesdriftige publiek’. Ten spyte van hierdie gunstige reaksie van die gehore was die meeste kritici negatief toe Die ryk weduwee in 1953 in boekvorm by die Afrikaanse Pers-Boekhandel verskyn het. In sy bespreking in Die Huisgenoot van 25 September 1953 sê A.P. Grové dat die ‘lughartigheid’ van die stuk so 'n ‘kwaal’ word dat 'n mens nie veel ‘diepgang’ moet verwag nie en dat die figure van die begin af ‘resepmatig en karikatuuragtig’ geteken is, terwyl Ernst Lindenberg in sy beknopte en veels te oppervlakkige resensie in Tydskrif vir Letterkunde, III: 3, September 1953 sê dat dit ‘suiwer vermaaklikheidslektuur’ is en by- | |
[pagina 422]
| |
val by die publiek sal vind, al is dit dan ‘nie die hoogste lof wat mens aan 'n literêre werk kan toeswaai nie’. Die uitvoerigste bespreking is dié van Rob Antonissen in Standpunte, later opgeneem in Kern en tooi. As kwaliteite van Die ryk weduwee noem Antonissen die meestal pittige dialoog, die blyspeltoon in die werklik-komiese passasies, die tipering, die ratse toneelwisselings, die vlot verloop van die handeling binne die tonele in die eerste helfte en die woordspelings. Nie alles in hierdie blyspel is egter vir hom blyspel nie, 'n opmerking waaruit 'n mens aflei dat Antonissen in sy kritiek hier ontspoor en sý verwagting van wat 'n komedie moet wees, op Die ryk weduwee wil afdruk. Anna en Swart is vir hom byvoorbeeld glad nie blyspelkarakters nie. ‘Anna is ... die hele tyd net voorwerp’, skryf hy, ‘“inset” van die komiese handeling, nooit medespeelster-in-die-komedie nie.’Ga naar eind96. Swart tree in die eerste twee bedrywe slegs in die verbygaan op; eers in die tweede helfte van die derde bedryf gryp hy in; en dan kom dit tussen hom en Anna tot 'n gesprek wat na die ontknoping voer, maar wat, ver van komies-dramaties te wees, onder ‘operette-romantiek’Ga naar eind97. tuisgebring moet word. Die ryk weduwee misluk vir hom gevolglik as blyspel: ‘Die hele ry van blyspel-moontlikhede, al die onvoltooide aanlopies-tot-die-komedie in die eerste bedryf en in die eerste deel van die tweede is, met die oog op wat volg, grotendeels nutteloos.’Ga naar eind98. Hierdie aanlope is amper álles wat daar aan blyspel in hierdie blyspel is, komiese tonele wat komiese sketse is sonder noodwendige kontinuïteit, met uitsondering van die Naudé-scènes, en wat van die beste fragmente komiese toneel in Afrikaans is. ‘Die Ryk Weduwee is,’ besluit Antonissen, ‘alle virtuose detailwerk ten spyt, as geheel 'n na die melodrama neigende variété-komedie. Sonder die melos, en met die nodige konsentrasie, kon dit 'n voortreflike komiese eenbedryf geword het.’Ga naar eind99. In 'n stuk wat hy ‘Na neëntien jaar’ noem en wat hy met die oog op die heruitgawe van Die ryk weduwee deur Human & Rousseau in 1970 skryf maar wat nie gepubliseer word nie, beantwoord Krige hierdie kritiek.Ga naar eind100. Hy gaan akkoord met wat Antonissen die ‘na die melodrama neigende’ aspek van die blyspel noem, in die besonder wat die telefoonoproep aan die einde van die tweede bedryf omtrent die selfmoord van Anna de Kock se prokureur-swaer op Worcester betref. In die tweede uitgawe van Die ryk weduwee het hy gevolglik besluit om dié flou kol uit te haal en verder alle gevalle van ‘melodramatiek’ weg | |
[pagina 423]
| |
te werk. Verder meen Krige dit is 'n mistasting van Antonissen om Anna de Kock as die sentrale of hooffiguur te beskou en gaan sy beswaar dat sy net voorwerp en ‘inset’ van die komiese handeling is, glad nie vir hom op nie. Die boeiendste karakter in die stuk tydens die skryf was Pierre Naudé, 'n figuur waarin Krige ook homself herken as hy skryf: ‘Pierre de la Motte Naudé is ek self!’Ga naar eind101. Hy gaan voort: [Pierre Naudé] is vir my onteenseglik die hoofkarakter omdat hy en hy alleen, buite al die luim en humor en geestigheid en gekskeerdery om, patos tot die stuk bring, dus erns by die luim voeg, Die Ryk Weduwee ophef bo die peil van bloot 'n bolangse ‘variéte-komedie’ soos Rob Antonissen dit bestempel, of net maar 'n oppervlakkige ‘lag-sukses’ (U.C.S. in Die Vaderland) of 'n stuk waarin (soos A.P. Grové hom in Die Huisgenoot van 25 September 1953 uitdruk) ‘die skrywer hom te veel op uiterlike snaaksighede verlaat’ en ‘aan die einde die ernstige toeskouer met leë hande (staan)’.... Met hierdie insiggewende kommentaar op sy eie drama bevestig Krige dat Antonissen, hoe indringend sy beskouing andersins ook al is en hoe juis hy sy vinger op die melodramatiese kol in die oorspronklike tweede bedryf lê, die basiese fout begaan om die ‘eise’ wat hy ekstern aan die komedie stel, op Die ryk weduwee af te dwing. Verder openbaar Krige met sy identifisering van homself as Naudé iets van sy essensiële eensaamheid in sy huwelik met Lydia, 'n sterk | |
[pagina 424]
| |
persoon en 'n groot aktrise wie se talent hy bewonder, maar met wie hy uiteindelik nie meer kan saamleef nie. In die eensaamheid en ook radeloosheid van Naudé het Krige ten voete uit 'n beeld van homself in hierdie jare gegee. | |
VMet soveel werk in die vyf jaar ná sy finale terugkeer uit Europa afgehandel, het Uys begin voel dit is die hoogste tyd vir hom om weer nuwe prikkels te vind en weer aan die bronne van Europa te gaan drink. Met sy toenemende belangstelling in die drama wou hy graag die jongste stand van die teater in Londen en Parys gaan verken. Hy wou ook graag weer sy hartland, Spanje, besoek en 'n eerste besoek bring aan Amsterdam, waar sy vriend Van Wyk Louw sedert 1950 as buitengewone hoogleraar werksaam was. Met Uys se voorneme was Lydia, wat met die kinders sou agterbly, finansieel in 'n swak toestand, al het hy beperkte fondse beskikbaar gestel om hulle tydens sy tyd in Europa, wat 'n volle twee jaar sou duur, in 'n mate te help. Hoewel Arnold en baie van hulle vriende soms met kruideniersware by hulle opgedaag het en die gesin nie juis veel ontberings gely het nie, was daar net eenvoudig nie geld om rond te gooi nie.Ga naar eind103. Uys wou hom egter met alle geweld van die daaglikse sleur en verveling losskeur en, soos Peter Blum dit gestel het, wegkom van sy vrou se ‘swaargewigtemperament’.Ga naar eind104. Daarby was die politieke situasie in Suid-Afrika met die deurloodsing van die een apartheidswet na die ander vir hom neerdrukkend. Hy is seker bly om weg te wees uit Suid-Afrika, skryf Bokkie op 24 April 1952 wanneer Uys reeds in Londen aangekom het. Die spul hier, gaan Bokkie voort, is bedonderd, ‘weggesleep deur hul eie “magsug”’, 'n nasie wat goedsmoeds besig is om selfmoord te pleeg. Hoewel Lydia mopperend maar tog met 'n sekere gelatenheid Uys se komende vertrek afgewag het, was van die egpaar se Kaapse vriende ontsteld oor die toestand van sake en hoe Lydia die praktiese probleme en die geldloosheid die hoof sou bied. Opperman was in hierdie jare lektor aan die Universiteit van Kaapstad en besig met sy groots opgesette proefskrif oor die digters van Dertig. Daarvoor het hy baie gesprekke met Uys gehad en waardevolle inligting van hom ontvang. Uys het gereeld 'n draai kom maak by die Oppermans se | |
[pagina 425]
| |
woonstel in Richmondweg in Drieankerbaai. Opperman, wat sy lewe lank 'n geestige element in sy samestelling gehad het en mense soms goedig kon spot, het by geleentheid sy dogtertjie Trienke 'n rympie geleer om Krige se ‘monotone ouditiewe spel’Ga naar eind105. te parodieer. Toe Uys op 'n dag weer opdaag, het Opperman haar aangehits om die rympie op te sê: Die reën
aaneen
aaneen
aaneen
die reën!
En in sy versdrama Periandros van Korinthe spot Opperman deur die figuur van die reisende digter Arioon goedig met sy vriend Uys. In reëls soos maar in alle lande behou die hart sy pyn en sy verlange,
in Korinthe of Tarentum, in Mutilenee of die mooi Katana,Ga naar eind106.
herken 'n mens ‘Tram-ode’: Maar die hart ken sy verdriet
oral, in elk landgebied,
in Kaapstad sowel as in Madrid.Ga naar eind107.
Ook in die drinkgelag in die derde toneel van die eerste bedryf is Uys weer herkenbaar, hierdie keer met toespelings op sy afkeer van die plaaslike politiek en die saaiheid van die alledaagse bestaan. Arioon sê: ... Korinthe word te burgerlik en vol bederf;
ek moet maar liewer in die buiteland gaan swerf[,]Ga naar eind108.
waarop Melissa, die vrou van Periandros, met 'n venynigheidjie opmerk: En wie moet dié keer na jou vrou en kinders kyk?Ga naar eind109.
| |
[pagina 426]
| |
En Opperman sluit hierdie goedige toespelings af met 'n stekie na Uys wat binnenslands vir toekennings verbygegaan word, terwyl hy in Brittanje en Frankryk die bekendste Afrikaanse literêre figuur is en bekronings ontvang. Arioon sê: Ek leer Korinthe ken en kry hom lief wanneer ek swerf
en swerwend buitelandse roem en pryse kan verwerf.Ga naar eind110.
Hoewel van sy vriende bedenkinge oor sy reisplanne en beoogde lang verblyf in die buiteland, sonder genoegsame finansiële steun vir Lydia en die kinders, gehad het, was daar aan Uys geen keer nie. Aan die begin van 1952 het hy begin om sy planne vir sy besoek aan Europa agtermekaar te kry. |
|